Saturday, May 28, 2011

ANTIPAS HEROUT No.37 : GOD SE HOOGSTE OPENBARING [5 van 5] - 'n Bespreking van Jh 1:14: Vol genade en waarheid

GOD HET SY ENIGSTE EN INNIG-GELIEFDE SEUN GESTUUR OM SY HOOGSTE EN FINALE OPENBARING AAN ONS TE WEES. In hierdie openbaring sien ons absoluut betroubaar en akkuraat die essensie van wie en wat God is. Wat sien ons as ons na die Seun kyk? Ons sien dat Hy "vol genade en waarheid" is. En daarom kan ons met absolute sekerheid weet dat ook die Vader vol genade en waarheid is; trouens, dat dit die wesenstrekke is van wie en wat Hy is. Per slot van rekening kies Johannes, van die duisend karaktertrekke van God wat hy sou kon gebruik, híérdie twee.

# Hierdie deel van v.14 moet ons nie los van v.16-17 verklaar nie. Beide hierdie twee verse begin in die Grieks met die redegewende voegwoord, "want", wat uiteraard met die voorafgaande koppel.
Vers 16 sê dat ons uit Christus se volheid genade op genade ontvang het (kennelik Sy volheid van genade en waarheid volgens v.14).
Let ook op die verlede tyd wat gebruik word. Dit het reeds afgehandeld plaasgevind.
En v.17 stel hierdie genade en waarheid wat deur Hom gekom het naas die Ou Testamentiese wet van Moses - en dalk selfs daar teenoor.

# Dit is betekenisvol dat die woord "genade" (Gr. charis) - ten spyte daarvan dat dit aan die hart van die Nuwe Testamentiese boodskap lê - slegs 4 maal in die hele evangelie voorkom, en wel in die drie genoemde verse. Presies wat Johannes bedoel moet ons dus eerstens hieruit aflei, en tweedens uit die res van die Skrif.

# Die woord "waarheid" daarenteen is een van die uitstaande begrippe in hierdie evangelie. Johannes gebruik dit 25 keer, en daarbenewens is dit swaar gelaai met betekenis.

# Voorts moet ons hierdie twee begrippe, "genade" en "waarheid", nie los van mekaar probeer verklaar nie. Kennelik loop hulle hand-om-die-lyf, en dra hulle saam-saam één boodskap.

Ou Testamentiese wortels

# In ons teks gaan dit oor God se selfopenbaring aan ons in die Persoon van die Woord, en oor die vertoning van Sy heerlikheid in wonderlike liefde, nederigheid en diensbaarheid. Dit laat onontkombaar mens se gedagtes loop na een van die mees uitstaande momente in die ganse Ou Testament: Eks 33-34.
Dit is ná die tragedie van die goue kalf. Moses begeer dan om God beter te leer ken (33:13). In die besonder wil hy God se heerlikheid sien (33:18). Uiteindelik lei dit dan daartoe dat die Here afkom na Moses toe en oor Homself uitroep: " Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag" (34:6-7).

# Hoewel die Here ook oor Sy toorn teen sonde praat, is dit Sy onbeskryflike liefde wat voorop is in hierdie aangrypende stuk selfopenbaring. En uitstaande hierin is dat Hy Homself "vol liefde en trou" noem.
Hier is ons by twee begrippe wat óók saam-saam weer en weer in die Ou Testament gebruik word (Hb. chesed en emet). Vergelyk mens nou hierdie twee Hebreeuse begrippe met die twee woorde in ons teks - "genade" en "waarheid" - sien jy dat ons vir alle praktiese doeleindes sinonieme het. Dit word dan ook deur talle Skrifverklaarders aanvaar dat Johannes in 1:14 op Eks 34:6 sinspeel.
Wat beteken hierdie twee Ou Testamentiese woorde?
Kom ons benader dit só: ons kyk eers redelik uitvoerig na die eerste Hebreeuse begrip (chesed) - asook sy Nuwe Testamentiese ekwiwalent ("genade"). Daarna kyk ons ietwat meer oorsigtelik na die tweede begrip (emet) en sy Griekse ekwiwalent ("waarheid"). En uiteindelik besin ons dan oor 'n paar praktiese implikasies daarvan dat ons in Christus God se genade en waarheid by uitnemendheid sien.

God se verbondsliefde en ontfermingsgenade

# Chesed is een van die skitter-begrippe in die woordeskat van die Ou Testament (240x). Dit word as 'n eienskap van menslike godsvrug genoem, maar veral is dit een van God se uitstaande karaktertrekke. Ps 136, wat as sentrale tema het dat daar aan Jahweh se liefde geen einde is nie, sê in elkeen van sy 26 verse dat die Here se chesed tot in ewigheid is.
Die OAV vertaal met "goedertierenheid", en die NAV en NIV gewoon met "liefde". Maar hierdie is 'n baie bepaalde soort liefde.

* Hierdie is nie maar 'n onpersoonlike soort liefde nie - liefde op 'n afstand nie. Dis verhoudingsliefde. Dit word ten nouste geassosiëer met die idee van verbond. In die geval van God is dit dus Sy verbondsliefde vir Sy geroepe en uitverkore volk - en vir diegene daarin wat erns maak met die verbondsbepalinge.

* Die begrip impliseer persoonlike betrokkenheid en toewyding wat bo die eise van plig, konvensie of wet uitstyg. Een woordeboek beklemtoon dat dit 'n liefde is wat gepaard gaan met krag en volharding (1) - krag om die aandrange van die liefde te gehoorsaam; volharding om ten spyte van watter struikelblokke ook al daarmee vol te hou.

* Verder toon 'n studie van hierdie Hebreeuse begrip dat dit veral ook die idee van God se genade dra (2). Vandaar, waarskynlik, dat Johannes die Griekse woord vir "genade" in ons teks gebruik (3). En wie kan ontken dat die begrip "genade" aan die hart lê van die res van die Nuwe Testament? Tewens, haal genade uit die evangelie uit, en alles stort in duie.

# Chesed dui dus op God se onwankelbare en vasbeslote toewyding aan die mense met wie Hy in 'n verbondsverhouding staan. J.I. Packer stel dit só: "it is essentially a matter of faithfulness to the covenant promise whereby He bound Himself to be Israel's God and to use all the resources of deity to bless them" (4). Waarskynlik is die beste vertaling dus "verbondsliefde" of "ontfermingsgenade".

Genade

# Soos reeds gesê, is "genade" nie 'n woord wat Johannes dikwels gebruik nie. Dis by uitstek Paulus se woord. Ruimte laat ons nie naastenby toe om op hierdie wonderlike en ryk begrip in te sak nie. Laat ons dus met 'n definisie volstaan:
God se genade is Sy vrye en ongedwonge liefdesguns in die gawe van die ewige lewe aan skuldige sondaars - wat nie alleen dit nié verdien nie, maar wat presies die teenoorgestelde daarvan verdien, naamlik die ewige oordeel.
God se genade is dus Sy soewereine en spontane goedheid en reddende guns teenoor sondaars, wat daarin tot uitdrukking kom dat Hy (op grond van die versoeningsdood van Christus) hulle red van Sy toorn - en wel só dat Hy afstootlikes liefhet, hulle sondes vergewe, hulle aanneem as Sy kinders, Homself aan hulle openbaar, hulle in Sy volheid inlei, en alle struikelblokke in Sy pad oorkom om dit te bereik. (5)

Genade op genade

# Nou moet ons terugkeer na Jh 1. In v.15 val Johannes homself as 't ware in die rede. Die verbysterende stellings wat hy in v.14 maak, is nie oordrewe nie. Die gerespekteerde Johannes die Doper het soortgelyke dinge oor die mensgeworde Woord gesê, naamlik dat Hy van ewigheid af waarlik God was!

# En indien die lesers steeds wonder of hulle nie dalk te doen het met 'n klompie wilde stellings van twee eksentrieke mans nie, herinner Johannes hulle dan in v.16 dat alle ware gelowiges proefondervindelik verstaan waarvan hy praat: want (Gr.) uit hierdie volheid drink hulle gedurig. En hy praat nie van 'n soebatstroompie nie; nee, hulle kry "genade op genade".

* Hierdie uitdrukking is vol betekenis. Letterlik beteken dit genade in die plek van genade. Die beeld is die van branders wat onophoudelik een na die ander uitrol op 'n strand. Nooit droog die oorvloed van God se genade in Christus op nie. En vir elke situasie is daar meer as genoeg genade - keer op keer.

# Voordat Johannes die duiselingwekkende wonder van God se selfopenbaring in Sy Seun in v.18 met 'n opsommende stelling saamvat, maak hy 'n finale stelling oor die genade en waarheid wat deur Christus gekom het: hoewel die heiliges van die Ou Verbond reeds al God se ontfermingsliefde (Sy chesed) en Sy waarheid geken het, was dit soos 'n flou vlammetjie in vergelyking met die oorweldigende helder lig van Sy genade en waarheid wat nou uit Christus skyn.

Vir 'n oomblik terug op ons spore

# Ons het gesien dat die Woord, oftewel God die Seun, as God se hoogste en finale selfopenbaring na ons as mense toe gekom het. En wat is die hart van wat Hy aan ons kom wys het? Hy was vol genade en waarheid! Nader aan wie en wat God in Sy wese is, kan ons nie kom nie.

# Ons het voorts gesien dat Johannes waarskynlik sinspeel op die Ou Testamentiese woordpaar wat oor en oor gebruikword om God te beskryf, chesed en emet.

# En toe het ons in hierdie lig na die eerste van hierdie twee begrippe gekyk en gesien dat die Here se chesed-genade Sy verbondsliefde en ontfermingsguns is.
Waarop dui Sy "waarheid" (Hb. emet) dan?

God is waarheid

# In die Griekse denke was waarheid (Gr. aletheia) 'n intellektuele kwaliteit wat dui op werklikheid en egtheid teenoor valsheid, onrealiteit of blote skyn. Die Hebreeuse idee van waarheid, soos vervat in die begrip emet, is egter baie ryker.

* Sekerlik sluit dit die Griekse idee van die feitelike in. In die regspleging van Israel was dit byvoorbeeld kardinaal belangrik om seker te maak van die waarheid (die emet) voordat ‘n oordeel gefel is (Dt 13:14; 22:20; ens.).

* Maar meestal het die woord ook 'n morele betekenis gedra - die van betroubaarheid en lojaliteit. So kon dit byvoorbeeld gebruik word vir 'n getuie, ‘n vriend, 'n slaaf, 'n eggenoot. Iemand wat met emet optree, is iemand wat vertrou kan word - hy is eerlik en lojaal; jy kan op hom staat maak (Gn 24:49; 42:16; Jos 2:14). Op 'n emeth-getuie kan jy peil trek (Spr 14:25).

# As die Bybel dus oor en oor van God sê dat Hy waarheid is, wil dit tuisbring dat Hy vertrou kan word. Sy optrede is nie onvoorspelbaar nie. Hy handel altyd in ooreenstemming met Sy karakter en beloftes. Mens weet presies waar jy met Hom staan. Sy ondernemings is vaster as die berge!
Emet praat van God se verbondsbetroubaarheid, Sy verbondslojaliteit!

# Nou kan ons verstaan waarom Johannes die begrip "waarheid" so oor en oor gebruik. Sy Hoofkarakter is Jesus Christus - en hoe kan hy oor Hom praat sonder om aanmekaar te wys op die waarheid wat in Hom te vinde is. Nie alleen is Hyself eg en algeheel betroubaar nie; Hy openbaar God wat nie kan lieg nie. Trouens, Hy is bewys van God se betroubaarheid - want Hy was en is die vervulling van God se beloftes deur die eeue.

* Luister na Johannes: Hy is "die ware lig" (1:9) - wat mens in Hom sien, wat Hy openbaar, stem absoluut ooreen met die werklikheid en onderstreep God se onkreukbare betroubaarheid. Hy is "die ware brood uit die hemel" (6:32) - wie Hom eet, wie in Hom invlug, kan sonder 'n sweem van twyfel daarop peil trek dat al God se beloftes in Hom ja en amen is.
En luister na die Here Jesus self: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe" (14:6). "Ek is die ware wingerdstok" (15:1).

Wat sê die feit van God se ontfermingsgenade en verbondsbetroubaarheid vir ons?

1. Niks is meer eie aan God se karakter as om genade in waarheid te betoon nie.
Van alles wat waar is oor God, kies Hy twee karaktertrekke om by uitnemendheid oor Homself aan ons te openbaar: Sy ontfermingsgenade en Sy absolute verbondsbetroubaarheid. Hierin sit die wonderlikste troos en aanmoediging vir ons, Sy kinders Hierin moet ek en jy onsself weer en weer verbly.

# God self het vreugde in die bewaring van diegene aan wie Hy liefdesgenade betoon het, asook in die waarmaking van Sy beloftes in hulle lewens.
Om die Here aan te roep, sowel in tye van voorspoed as van nood, is nie om lastig en opdringerig te wees nie. Dis om Sy selfopenbaring aan ons ernstig op te neem. Te dikwels is ons bang om die Here te vertrou, omdat ons voel ons verdien nie Sy goedheid nie. Te maklik dink ons ons pla Hom met nietighede. Maar as die Here se verbondstrou van ons verdienste moes afhang, sou nie een van ons ooit iets van Hom ontvang het nie. Nee, goedheid en getrouheid vloei spontaan uit Hom uit. Ons is immers Sy geliefde kinders. En dis nie ons wat onsself aan Hom opgedring het nie; dis Hy wat die inisiatief geneem het. Wat sê Jesus vir Sy dissipels? "Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee" (Lk 12:32).

# Ons hele wandel met die Here moet deurweek wees met hierdie waarhede. Laat ons nie tevrede wees met 'n afgewaterde en derderangse Christenskap nie, maar die Here in gebed bly vasgryp sodat Sy verbondsliefde elke dag soos branders oor ons rol.
Ons hemelse Vader het vreugde daarin as ons op grond van Sy Seun se verdienste onsself met die grootste vrymoedigheid weer en weer knuppeldik drink uit Sy fonteine van heil. Niks verheerlik Hom meer nie. Niks versier die evangelie meer nie. Niks maak die kerk meer aantreklik nie.
Mag die trapmeul van godsdienstige verdienste nooit in ons harte en lewens 'n staanplek kry nie. Nee, laat dit buite staan en roes; laat dit stof vergader, omdat niemand ooit daarop klim nie!

# Kan jy dus sien: vrees vir die toekoms, benoudheid oor jou versorging, en angs vir die dood, is mosies van wantroue in die Here. Dis om Sy selfopenbaring in Christus te bevraagteken. Dis ten minste kleingeloof, en baie dikwels rou ongeloof. Waarlik, almal van ons het rede om ons hieroor voor die Here te verootmoedig.

# Laat ons nie moeg word om mekaar aan hierdie dinge te herinner nie.

# Nou kan ons dalk beter as ooit verstaan waarom die Here kompromieloos daarop aandring dat ons verlossing van A tot Z van Hom moet kom - sonder enige menslike verdienste hoegenaamd.

2. Nooit en nêrens kom God se genade en waarheid tot hoër uitdrukking as in die stuur van Sy Seun na hierdie wêreld toe nie.
Elkeen van ons het ‘n eie aard wat ons eenvoudig móét bevredig en tot uitdrukking bring. Skrywers skryf, vrouens druk babatjies vas, en seuntjies klim boom.
So het God ook ‘n wesensaard wat eie aan Hom is, en wat Hy tot uitdrukking móét bring. In respek gestel: God kan Homself as ‘t ware nie help nie - Hy móét eenvoudig in genade en waarheid optree. Niks is meer eie aan Sy wese en karakter nie. Niks gee Hom groter vreugde en vervulling nie.
Nooit kom hierdie wesensaard van God heerliker tot uitdrukking as in Christus se sending en versoeningswerk nie. En die voortgaande uitwerk van die implikasies daarvan - deur die eeue en tot in ewigheid - is ‘n voortsetting daarvan.
Dit moet ons egter nie verlei om die gestrenge kant van God se verbondstrou te vergeet nie. Die Bybel is vol daarvan dat die Here ook in Sy getrouheid die vloek van die verbond oor Sy volk bring indien hulle volhardend bly sondig. Ook dit is verbondstrou.

3. Laat ons in tye van swaarkry soos drenkelinge aan God se chesed-genade hang.
Laat ons in tye van krisis nie paniekerig van God se verbondsgenade en -trou vergeet nie. Onthou die verlede tyd in v.16 - ons het dit reeds afgehandeld ontvang! Hy sal ons deurdra. Male sonder tal het Hy dit trouens reeds gedoen; Hy sal dit weer en weer doen.
Selfs as ons hande dan tog gly, sal Hy ons nie in die steek laat nie. Want die Here se wese en die uitlewing daarvan is nie afhanklik van mý getrouheid nie. Dis van niks afhanklik nie! Hy het belowe, en daarby staan Hy. Mý ontrou kan Hom nie van hierdie wesenskaraktertrek beroof nie. Daarom kan Paulus vir Timoteus verseker: "as ons ontrou is - Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie" (2Tm 2:13).

4. Ons moet die Here navolg in die betoning van chesed-genade.
Hoewel in die eerste instansie karaktertrekke van God, beteken dit nie dat liefdesontferming en verbondstrou tot Hom beperk is nie. Op ons, oor wie Sy troue guns soos branders spoel, rus daar ‘n onontkombare verantwoordelikheid om dit deurgaans aan andere te betoon. Hoe lieflik beoefen Dawid dit nie op grond van sy verbond met Jonatan in die lewe van Mefiboset nie! (5)
En soos die Here ons God, moet ook ons die menslik-onmoontlike beoefen: ook mý trou moenie afhang van andere se prestasie nie. Hoe sal ek dit regkry? Die Here se chesed-genade sal my daarvoor toerus - as ek Hom waarlik daarvoor vertrou.

# Mense wat God vrees, is mense van emet (Eks 18:21; Neh 7:2). En talle kere word Israel opgeroep om in waarheid en trou te leef. In Jos 24:14 maak die Here hierdie appél op die volk wat pas in die Beloofde Land gevestig het: "Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou (Hb. Emet)."

# Laat ons dus standvastige mense wees; mense op wie staat gemaak kan word; mense van onkreukbare integriteit; mense wie se "ja" inderdaad "ja" is, wie se "nee" vir seker "nee" is.

5. Hoe dieper die feit van God se genade en waarheid in ons harte wortel skiet, hoe meer vrymakend is dit.
In Jh 8:31-32 sê die Here Jesus: "As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak."
Ken ons dit nie uit ervaring nie, hierdie vrymaking? Maak Godgesentreerdheid, Godsverankerdheid, Godskennis nie gesond nie? Bring dit nie toenemende oorwinning en sekuriteit nie? Dis omdat dit ons oë van onsself wegneem. Dis omdat dit ons vestig in die wese van geloof, naamlik om jou oë op die Here vas te nael.
Selfbeheptheid en geloof is wedersyds uitsluitend. En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag!

# Baie predikers dink hulle moet meer moets en moenies preek as hulle 'n gemeente wil laat groei in heiligheid. Nee! Die teendeel is waar! Niks het die opheffende effekte van Godgesentreerde en Christusgefokusde prediking nie. Niks laat gelowiges so groei nie. Niks bring soveel standvastigheid nie.

6. Hoeveel aanmoediging sit daar nie in die karakter van God vir sondaars nie.
Laat sondaars weet dat die God van genade 'n vreugde daarin het om mislukkings en rebelle te red. Sy Woord leer uitdruklik dat Hy geen behae in die dood van sondaars het nie. Hy wil hê dat hulle hul moet bekeer en lewe - nie dat hulle hul verhard en gevolglik verlore gaan nie (Eseg 18:23, 30-32, OAV).
Daarom kan mens met volle Skrifmandaat elke sondaar oproep om hom of haar op grond van die Here se verbondsbeloftes op Jesus Christus te werp: "Erken dat jy 'n sondaar is wat die ewige verdoemenis verdien. Neem standpunt in teen jou sonde, bely dit teenoor die Here en pleit by Hom om jou op grond van Christus se middelaarswerk te vergewe - en om jou te verlos van die krag en gevolge daarvan!"
Niks gee die Here méér vreugde, en niks verheerlik Hom meer, as om die vuilste sondaars te red nie! Laat sondaars dus weer en weer die boodskap hoor: "Kom na Hom toe en weet vir seker: Sy chesed-genade sal jou soos die verlore seun se pa omhels!"

7. Hoe meer mens God se genade en waarheid sien, hoe meer fassineer dit jou.
Wat sien mens as jy lank en diep na God in Sy selfopenbaring kyk? Wat sien jy as Jesus Christus voortdurend jou blikveld vul? Wat sien jy as jy weer en weer kyk? Hoe langer jy kyk, en hoe dieper, hoe meer sien jy dit: Ontfermingsgenade! Verbondstrou!
En hoe duideliker jy dit sien, hoe meer fassineer dit jou. En hoe meer dit jou aanspreek, hoe meer kry jy Hom lief. Ja, die Bybel praat oor 'n geweldige verskeidenheid van sake, maar algaande lees jy alles al hoe meer in die lig van hierdie wesenstrekke van God. Preke waarvan dit nie die hart is nie, bevredig jou net nie behoorlik nie. En as jy self 'n prediker is, is dít wat jy wil preek - oor en oor. So het ook die apostels dit beleef. Dis hoekom Paulus kan sê dat hy niks anders as Christus wil preek nie (1Kor 2:2).
Moet dit ons verbaas? Hoegenaamd nie! As ons met God se genade en waarheid besig is, is ons besig met die hart van wie en wat Hy is. En het die essensie van ons heiligmaking nie te doen met 'n steeds dieper kennis van God nie? Is dit nie ons hoogste roeping nie? En is dit nie die wese van die ewige lewe nie (Jh 17:3)?

Ten slotte

Sagaria 8:3 is 'n wonderlike vers. As God na Sion terugkeer om in die midde van Sy mense te woon, sal Jerusalem genoem word: "Stad van Trou (Hb. Emet), Berg van die Here die Almagtige, Heilige Berg."
O Here, maak elke gemeente wat regtig aan U behoort tog meer en meer 'n "stad van trou"!

-o0o-

1. Nelson's Expository Dictionary of the Old Testament (Editors Unger & White), Thomas Nelson, 1980, p.232.

2. D.A. Carson, The Gospel according to John, Eerdmans, 1991, p.129.

3. Dit is wel so dat, met een uitsondering (Ester 2:9), chesed nooit in die Septuaginta ('n voor-Christelike Griekse vertaling van die Ou Testament) met charis, oftewel genade, vertaal word nie, maar veral met eleos (barmhartigheid). Maar bes moontlik het Johannes direk vanuit die Hebreeuse Ou Testament aangehaal en vertaal.

4. J.I. Packer, God's Words, IVP, 1981, p.97.

5. J.I. Packer formuleer dit min of meer so in sy boek, God's Words, p.97.

6. Vergelyk 2Sam 9:1, 7 (die woord "guns" in die OAV is 'n vertaling van chesed). Om hierdie punt na behore te waardeer, moet die hele geskiedenis van Dawid, Jonatan en Mefiboset verreken word.
Nico van der Walt

ANTIPAS HEROUT No.36 : GOD SE HOOGSTE OPENBARING [4 van 5] - 'n Bespreking van Jh 1:14: Die enigste Seun se heerlikheid

AS ONS DIE WOORD "HEERLIKHEID" HOOR, DINK ONS ONMIDDELLIK AAN GLANS EN MAG, AAN LUISTER EN MAJESTEIT. En dis nie verkeerd nie, aangesien die Bybel dikwels só daaroor praat. Begin mens egter nadink oor wat Johannes presies hiér bedoel, wonder jy of dit is wat hy in gedagte het.
Johannes bied immers "heerlikheid" in hierdie vers aan as aan die hart van wie Jesus was, maar in sy evangelie, anders as Matteus, Markus en Lukas, maak hy geen melding nie van die één en sekerlik onvergeetlike geleentheid waar hulle Jesus wel in glans en majesteit gesien het - op die berg van verheerliking.
Voorts is dit so dat die Here Jesus se lewe veeleerder gekenmerk is deur eenvoud en nederigheid as deur luister en vertoon. Dís trouens wat die apostels oor en oor beklemtoon.
Laat ons daarom deeglik na ons teks kyk.

Hy het onder ons gewoon

# Johannes se werkwoord, "Hy het gewoon", is 'n insiggewende sleutel. Basies beteken dit om tent op te slaan, of in 'n tent te bly. Hy sê dus dat die Woord by ons in 'n tent kom uitkamp het.

# Nou dink baie mense dat Johannes met hierdie woordkeuse wil sê dat Jesus net vir 'n kort tydjie by ons gebly het. Natuurlik was Hy net tydelik hier op aarde. Maar Johannes gebruik ook hierdie woord om van permanente bewoning te praat - spesifiek in die hemel. En wat is meer permanent as dit? (vgl. Op 7:15; 12:12; 13:6; 21:3).

God se "shekina"

# Johannes se manier van sê sou die tipiese Jood nie laat dink het aan 'n tent nie, maar aan die tent. Voor die tyd van die tempel het die tabernakel 'n sentrale rol gespeel in die godsdiens van Israel. En hierdie tabernakel was basies 'n tent wat op- en afgeslaan kon word. Trouens, daar is dikwels na verwys as die "tent van samekoms" (OAV) of "ontmoeting" (NAV) (Eks 40:34-38).

# Die heerlikheid van die Here het die tabernakel sigbaar gevul toe dit in gebruik geneem is. Daarna het dit meermale gebeur (Lev 9:23; Num 14:10). In die Joodse gemoed was die tent van ontmoeting - en later die tempel (1Kon 8:10-11) - die plek waar die Here se heerlikheid gewoon het. Tot so 'n mate was die twee idees vir hulle onlosmaaklik verbonde dat daar in die buite-Bybelse Joodse wêreld 'n woord ontstaan het wat beide in 'n enkele idee saamvat. Dis die woord "Shekina". Dit is enersyds nóú verwant aan die Hebreeuse woord vir tent, en dui andersyds op die heerlikheid van God soos aan mense gemanifesteer.

# Presies hierdie twee begrippe word deur Johannes in v.14 saamgebind: "tent" en "heerlikheid". Daarmee sê hy dit: die heilige heerlikheid van die Here wat meermale in Ou Testamentiese tye in die tabernakel en tempel aan die volk getoon is, het ten volle oopgeblom in die persoon, lewe en werk van Jesus.

Die heerlikheid van nederigheid

# Hoe sien ons God se heerlikheid in Christus? Wat het die dissipels beleef? Dit is wat Johannes in sy evangelie beskryf. En anders as wat mens dalk sou verwag, skets hy nie vir ons 'n magtige en glansryke vors van heerlikheid wat meedoënloos vyand na vyand onderwerp nie. Nee, hy (en ook die ander 3 evangeliste) teken vir ons 'n nederige man wat na jare van handearbeid in die armoedige platteland van Gallilea, Sy lewe in algehele selflose diensbaarheid neerlê vir Sy medemens.

* Wat sien ons in die evangelie van Johannes? Ons sien hoe Jesus vreugde bring vir 'n klomp eenvoudige en arm arbeiders tydens 'n troue in Kana. Ons sien hoe Hy tyd deurbring om 'n veragtelike en onsedelike Samaritaanse vrou die pad na die ewige lewe te leer. Ons sien hoe Hy 'n sterwende seuntjie gesond maak, hoe Hy 'n blinde man laat sien, hoe Hy die dooie Lasarus weer lewendig maak. Ons sien hoe Hy kos gee vir duisende hongerige armes. En so kan ons aangaan.

* Wanneer mense hulp nodig het, help Hy hulle. As hulle siek is, maak Hy hulle gesond. As hulle onkundig is, leer Hy hulle. As hulle honger is, gee Hy vir hulle kos.
Deurgaans soek Hy mense in nood - die wat weet hoe algeheel afhanklik hulle van God se genade is, die wat honger en dors na dit wat reg is. Deurgaans tref ons Hom tussen hulle aan. In paleise kry ons Hom nie. En die drumpels van selfvoldane rykes trap Hy nie deur nie. Nee, soos Lukas dit stel: Hy het "gekom om te soek en te red wat verlore is" (Lk 19:10. Vgl. ook Mt 18:11).

* En reg aan die einde van Sy lewe gee Hy vir Sy dissipels 'n aanskouingsles wat hulle nooit weer sou vergeet nie. Die aand voor Sy kruisiging was Hy in die bovertrek hulle voete. Hy doen wat die geringste van 'n huishouding se slawe moes doen as daar gaste vir 'n maaltyd gekom het. Hierdie aand is daar nie so 'n slaaf nie, en die Here staan vir hom in. Maar dit gaan nie oor vuil voete nie - Jesus se eie voete is oënskynlik nie gewas nie - dit gaan oor nederigheid en selfaflegging en diensbaarheid. Só stel hy dit vir Sy volgelinge: "Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. Dít verseker Ek julle: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en 'n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen" (Jh 13:12-17).

Die hoogste verheerliking

# Dis hoogs betekenisvol dat die Here Jesus ten minste by twee geleenthede in Johannes na Sy komende kruisdood as Sy verheerliking verwys. In Jh 12:23 sê Hy: "Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word." En in Sy Hoëpriesterlike gebed bid Hy: "Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik" (Jh 17:1). Hoe moet ons dit verstaan?

# Destyds is die kruis met afsku bejeen.
Die Romeine het slegs in uitsonderlike gevalle van hoogverraad hulle eie burgers op hierdie heel wreedste manier tereggestel. En wat heidene betref, het hulle dit beperk tot moordenaars, rebelle en gewapende rowers.
Die Jode het geen onderskeid gemaak tussen 'n boom en 'n kruis nie. Hulle het dus geglo dat die vloek van Dt 21:23 op elkeen rus wat gekruisig word: "wie opgehang word, is deur God vervloek." Dit verklaar waarom hulle nie kon aanvaar dat die Messias só sou sterf nie.
Nou is dit duidelik: nooit het die Here Jesus Sy mense met groter oorgawe en meer diepgaande effekte gedien as toe Hy Homself ter wille van hulle aan hierdie ergste van alle verskrikkinge oorgegee het nie.

Sien u dit? Die heerlikheid wat die apostels in Jesus se lewe gesien het, was die heerlikheid van selflose liefde en diensbaarheid. Die kruis is dus nie 'n vloekhout nie; dis 'n verheerlikingstroon!

Wat sê dit vir ons?

# Die boodskap is duidelik, die roeping onontkombaar. Ons word gered uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, deur geloof alleen. Maar ware, reddende geloof moet, nee, sal altyd uitmond in goeie werke. En as ons hierdie goeie werke in een woord moet saamvat, dan is dit die woord "liefdesdiens".

* Hierdie waarheid is op die tafels van Johannes se hart gegrafeer. Hy het dit nooit vergeet nie. In sy eerste brief skryf hy: "Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het" (1Jh 2:6). Óf jy leef dit uit in integriteit, óf jy is 'n huigelaar - en jou geloof is tevergeefs. Trouens, ons praat van meer as plig; ons praat hier oor 'n noodwendige merkteken van wedergeboorte: "Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood... Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê" (1Jh 3:14-16).

# Dis waarom ons as Nuwe Testamentiese gelowiges nie meer die wolk van God se Shekina-heerlikheid sien nie. As Sy gemeente is ons nou die tabernakel in wie Hy in heerlikheid woon. En as Hy inderdaad in ons midde woon, sal ons gemeente-wees en ons lewens as lidmate by uitnemendheid gekenmerk word deur nederige diensbaarheid en selfaflegging. Beswaarlik is daar 'n meer betroubare merkteken vir ware kerkwees. Daarenteen, waar selfsug, faksies en allerlei onderstrominge nog heers, het jy nie 'n gemeente nie, maar 'n rowerspelonk.
Waarom sien ons Sy heerlikheid in so 'n gemeente? Waarom verheerlik so 'n gemeente Hom? Omdat net Hý die wonder van wonders kan doen: om 'n klomp selfsugtige sondaars só te herskep dat hulle hul lewens in liefde aflê vir mekaar.

# Baie dikwels, as mense van "die bediening" praat, dink hulle in terme van status, geleerdheid, titels en ampsdrag. Maar as die Here iemand roep om 'n voorganger in Sy gemeente te word, bedoel Hy dat so 'n persoon sy lewe vrywillig moet slyt in slawerny - 'n begrip wat dikwels in die Nuwe Testament gebruik word vir Christelike diensbaarheid. En laat ons onthou, slawe het nie regte, of byvoordele nie. En allermins het hulle status. En nog minder is hulle heersers.

# Laat dit in jou hart gegraveer wees: nooit kan jy tot hoër hoogtes uitstyg, as wanneer jy in die dieptes van nederige dienswerk insak nie. Ware heerlikheid word nie gevind in glans, vertoon en luister nie, maar in nederigheid en dienswerk.

'n Jong ouderling se voortvarendheid

# Die woord wat die Nuwe Afrikaanse Vertaling met “enigste seun” vertaal, het vir baie drama in die geskiedenis gesorg.
Vroeg in die 4de eeu was 'n sekere Alexander biskop van Alexandria, die leidende gemeente in Egipte. Per geleentheid was Alexander besig met 'n lesing oor die leerstuk van die Drie-eenheid. Skielik is hy in die rede geval deur een van die jong ouderlinge, Arius. Hy het die ouer man daarvan beskuldig dat hy die onderskeid tussen die drie Persone onderspeel, en het aangevoer dat die Seun deur die Vader geskep is - weliswaar voor die begin van die tyd. Maar ewig is Hy nie. Hy was heeltemal bereid om toe te gee dat die Seun ver verhewe bo die mens is, maar hy het daarop gestaan dat Hy van 'n mindere orde as die Vader is (min of meer die standpunt van die Jehowa Getuies).
Arius het onmiddellik sy standpunte begin versprei, en spoedig het hy 'n sterk gevolg gehad.

Die Eniggeborene?

# Elke ketter het sy letter.
Sentraal in hierdie nuwe beskouing was die begrip waarna ons kyk, die Griekse woord monogenes. [Uiteraard het Arius ook ander argumente vanuit die Bybel aangevoer. Onder meer het hy (verkeerdelik) gewerk met die begrip prototokos, veral soos Kol 1:15 dit gebruik]. In baie Bybels, tot vandag toe, word dit vertaal met "Eniggeborene" (OAV), of "only begotten" (KJV; NKJ; NASB; Ampl ens.). Dis 'n goeie voorbeeld van hoe mens verkeerd kan loop as jy jou primêr deur 'n woord se etimologie laat lei, en nie deur die gebruik daarvan in die res van die Bybel nie. Mono beteken, heeltemal korrek, "enig". Maar die probleem het ingesluip by die res van die woord. Dis aangeneem dat dit teruggevoer moet word na gennao (voortbring of verwek) - vandaar "eniggeborene" - terwyl dit in werklikheid ontwikkel het uit genos (tipe of soort). Johannes wil dus sê dat Jesus die enigste van Sy klas of soort is; nie dat Hy deur die Vader verwek is nie.

# Gaan kyk mens hoe die begrip elders in die Skrif gebruik word, bevestig dit bg. verstaan daarvan.

* Die woord word 4 keer gebruik vir gewone mense. Dis belangrik, want dit werp besondere lig op die betekenis daarvan - en dus op die Here Jesus se unieke seunskap.
Elke keer word dit gebruik om die innige liefdesverhouding tussen ouers en 'n bepaalde kind te beklemtoon - 'n oogappel-verhouding. Daar is die weduwee van Nain wat op pad was om haar enigste seun te gaan begrawe toe Jesus hom opwek (Lk 7:12); Jesus wat Jaïrus se enigste dogtertjie lewend maak uit die dood (Lk 8:42); en die man wat by Jesus pleit om sy enigste seun van demoniese besetting te bevry (Lk 9:38). Les bes word dit gebruik vir Abraham wat sy enigste moes offer (Hb 11:17).
Laasgenoemde gebruik van die woord wys dat dit nie noodwendig praat van 'n enigste kind nie, aangesien Abraham nóg 'n seun gehad het - Ismael. Maar Ísak was die appel van sy oog.
Dit laat mens dink aan Gn 22:2 waar Abraham beveel word om sy seun, "sy enigste" te gaan offer (vgl. v.12). Die Hebreeuse woord, yachid, dra die idee van innige vertedering en gehegtheid (vgl. Spr 4:3; Jer 6:26; Amos 8:10; Sag 12:10). Dis kennelik die Hebreeuse ekwiwalent van monogenes.

* Nou kan mens terugkeer na die 5 keer wat die woord vir die Here Jesus gebruik word, elke keer deur Johannes (Jh 1:14, 18; 3:16, 18; 1Jh 4:9). Veral in Jh 3:16 en 1Jh 4:9, waar gepraat word oor God se liefde vir sondaars, maak bg. verstaan van die woord 'n wonderlike nuwe perspektief oop: só lief het God sondaars, só belangrik is hulle redding vir Hom, dat Hy bereid was om Sy monogenes - die innig-geliefde appel van Sy oog - vir hulle as losprys op te offer. Wat is meer verstommend as dit?

# Hierdie woord beklemtoon dus Christus se unieke seunskap. Baie ander mag ook kinders van God word, maar Jesus se seunskap is wesentlik anders. Die Seun, hoewel waarlik mens, bly ook waarlik God. Hy bly Skepper en die res van God se kinders skepsele. Dis net híér waar Arius die bal misgeslaan het.

God se man vir die oomblik

# Algaande het die Arianisme soveel onrus in die kerk veroorsaak - en gedreig om dit uitmekaar te ruk - dat Keiser Konstantyn in 325 'n sinode in Nicea (naby Konstantinopel) byeengeroep het om eens en vir altyd klarigheid oor die kwessie te kry.

# Alexander het 'n briljante jong diaken, Atanasius, as sekretaris saamgeneem - iemand wat 'n reus in die kerkgeskiedenis sou word. Hoewel sonder spreekreg op die sinode, was hy eintlik die denker agter Alexander se kragtige vertoë.
Uiteindelik is 'n sterk besluit teen Arius-hulle se beskouing geneem. Reeds in hierdie eerste formulering van die bekende belydenis van Nikea is die Godheid van Christus baie sterk beklemtoon. Later sou die Sinode van Konstantinopel die belydenis in 381 finaliseer.

'n Enkele lettertjie

# 'n Sleutelbeklemtoning in die belydenis is dat die Seun "van dieselfde wese" as die Vader is. Agter dit sit 'n hele stuk intrige. Die stryd met Arius het gegaan oor 2 Griekse woorde wat beroemd geraak het in die dogmageskiedenis: homoousios (van dieselfde natuur) en homoiousios (van 'n soortgelyke natuur). Die verskil sit in die twee voorvoegsels: homo- (dieselfde) en homoi- (soortgelyk). Al verskil tussen die twee woorde is die Griekse letter, iota, oftewel 'n enkele vertikale strepie - die kleinste lettertjie in die Griekse alfabet [Jesus praat van die iota in Mt 5:18 as Hy beklemtoon dat hoegenaamd niks van die Wet ooit sal wegval nie].
Arius was heeltemal bereid om te sê dat die Seun homoiousios aan die Vader is (soortgelyk), maar nie dat Hy homoousios is nie (van dieselfde natuur). Maar Nicea het begryp hoe belangrik die verskil is. Want as Christus nie presies van dieselfde natuur as die Vader is nie, is Hy nie waarlik God nie. Die aanslag van Arius is egter afgeweer en homoousios is aanvaar.

'n Meedoënlose stryd

# Dit was helaas nie die einde van Arianisme nie. Eintlik het die stryd toe eers begin.
Drie jaar later, in 328, het Atanasius die nuwe biskop van Alexandrië geword. En so het hy die speerpunt geraak in die felle stryd teen die Arianisme; trouens, dit sou sy lewe grootliks oorheers. Die stryd van die volgende amper 5 dekades lees soos 'n riller. Verskeie kere het dit gelyk asof Arianisme die oorhand gekry het. En steeds was Atanasius die onvermoeide stryder vir waarheid. Daarvoor het hy 'n duur prys betaal. Onder meer was hy etlike kere in ballingskap, en een keer moes hy vir 5 jaar in die woestyn voor die keiser se soldate vlug. Maar steeds het hy die ware evangelie tydig en ontydig verkondig.

# Uiteindelik, 8 jaar na Atanasius se dood in 373, is Arianisme finaal die nek ingeslaan deur die Sinode van Konstantinopel (381 n.C.). Niemand het 'n groter rol daarin gespeel as die Biskop van Alexandrië nie. Trouens, dit word algemeen aanvaar dat Arianisme die botoon sou gevoer het as dit nie vir Atanasius was nie.

Lewensbelangrik

# Waarom is hierdie so 'n belangrike saak? Waarom het Atanasius sy alles gegee om iets te verdedig wat in elk geval vir ons grootliks 'n geheimenis is? Hy het verstaan wat op die spel was - die suiwerheid van die evangelie; die realiteit van ons redding! Presies wie en wat Christus is, is fundamenteel en lewensbelangrik. Slegs iemand wat waarlik en in die volste sin van die woord én God én mens is, kan 'n Verlosser van sondaars wees! Arius se Christus is nie waarlik God nie, en kan gevolglik nie ons sondeskuld dra sonder om self onder te gaan nie. 'n Tweederangse God kan net 'n tweederangse verlossing bewerkstellig.
Dwarsdeur sy lewe het dit vir Atanasius oor een saak gegaan: die eer en die heerlikheid van Christus. En hy het geweet die evangelie staan en val by die goddelikheid van Jesus Christus.

Wat sê dit vir ons?

# Laat ons nie die dwase napraat wat sê dat 'n suiwer, puntenerige en eksakte formulering van waarheid onbelangrik is nie. Te dikwels kry mens die standpunt dat dit moontlik is om 'n wonderlike en volwasse Christen te wees sonder doktrine. As 'n organisasie of kerk vir my sê dat hulle hul nie besig hou met doktrine nie, sê hulle vir my hulle het nie die vaagste benul waaroor dit regtig gaan nie.
Geloof het inhoud, en ware geloof het waarheid as inhoud. En soms kan 'n klein vertikale strepie die verskil tussen lewe en dood beteken. Dan is dit nie onheilig om hand en tand daarvoor te baklei nie; inteendeel. By Nicea het dit gegaan oor die ware leer van die Drie-eenheid, teenoor 'n Godonterende en sielsvernietigende verwatering. Atanasius het dit verstaan. Daarom het hy sy lewe aan hierdie stryd gewy. Laat ons hom altyd dankbaar bly hiervoor.
Dis oor dinge soos hierdie dat die Nuwe Testament so oor en oor teen dwaalleraars waarsku.

# As ons teks (Jh 1:14) leer dat Christus God se hoogste openbaring aan ons is, het ons nie 'n dowwe openbaring in Hom nie. Die Woord wat mens geword het, was in die volste sin die ewige Seun van God, self God. Wat ons in Hom sien, is presies hoe God is. Weliswaar het Hy nie alles aan ons geopenbaar nie, maar wat Hy geopenbaar het, is absoluut suiwer en betroubaar.
Dink vir 'n oomblik na oor die Christus wat die Bybel vir ons teken - besonderlik die evangelies. Wie sien jy? Wat sien jy? Was daar iemand so aangenaam, so bekoorlik, so beminlik? Was daar ooit 'n liefde soos Syne? Presies só is God! Presies só tot in ewigheid!

# Hoe duidelik sien ons nie in die Here Jesus se lewe die liefdesverhouding tussen Hom en die Vader nie!
Mens kan nie die Evangelies lees nie, veral Johannes, sonder om onder die indruk te kom dat niks in Jesus se lewe 'n groter rol gespeel het as Sy verhouding met Sy Vader nie.
Die Vader praat twee keer uit die hemel met Sy Seun. En elke keer is dit 'n liefdesverklaring. As Jesus gedoop word, kom 'n stem uit die hemel: "Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My" (Mk 1:11; Mt 3:17; Lk 3:22). Eweneens op die berg van verheerliking sê 'n stem: "Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom" (Mt 17:5; Mk 9:7; Lk 9:35).
Hierdie liefde tussen Vader en Seun is 'n ewige en onbeskryflik intieme liefde. Die slotvers van Johannes se proloog sê dat die Seun "in die boesem van die Vader is" (Jh 1:18). In Spr 8, wat algemeen aanvaar word as 'n poëtiese beskrywing van die Seun in Sy ewige bestaan, word dit aangrypend mooi gestel: "Ek het my kennis by Hom gekry, ek was elke dag Sy vreugde; die hele tyd het ek dit by Hom geniet" (30).

# Ten slotte, in die Vader se liefdesverklaring op die berg van verheerliking, sê Hy uitdruklik vir ons wat ons moet doen om Hom te behaag: ons moet na die Séún luister; ons moet die appel van Sy oog gehoorsaam. Dis mos hoe ware liefde is: dit soek altyd maar weer die eer van die een wat jy liefhet. Selfs die Vader beleef Sy liefde so. Daarom, as Sy Seun die middelpunt van ons lewens is, is dit die Vader se hoogste genoegdoening.
Nico van der Walt

ANTIPAS HEROUT No.35 : GOD SE HOOGSTE OPENBARING [3 van 5] - 'n Bespreking van Jh 1:14: En God en mens

TYDENS DIE EERSTE TWEE EEUE was die stryd tussen die waarheid en die leuen van 'n algemene aard. Tydens die 3de en 4de eeue het die konflik meer spesifiek geraak: oor die Drie-enigheid van God. Uiteindelik het die Sinodes van Nicea (325) en Konstantinopel (381) klarigheid gebring deur die ortodokse geloof hieroor akkuraat te formuleer.
Die volgende aanslag van die bose het oor die Persoon van Jesus Christus gegaan - besonderlik oor Sy twee nature, die Goddelike en die menslike. Hoewel die hoofstroom van die kerk onseker was oor die samehang van die twee nature van Christus, was daar min twyfel oor die feit dat Hy sowel ten volle God as ten volle mens is.

Vroeë worstelinge

# Die stryd oor die aard van Christus se persoon het in die vierde eeu begin. Daar was veral 3 dwalinge wat die kerk bedreig het: ()

# Appolinarianisme.
'n Biskop van Laodisea, Appolinarius (310-390), het na vore gekom met 'n teorie oor die samehang van Christus se twee nature. Ten einde Sy goddelikheid behoorlik te beklemtoon, het hierdie biskop Sy menslike natuur onderspeel - tot so 'n mate dat hy Christus voorgestel het as minder as menslik. Hy het aanvaar dat Jesus 'n normale liggaam en siel gehad het, maar dat Sy verstand die van God was.
Die sinode van Konstantinopel (381 n.C.) het hierdie beskouing as onbybels verwerp. Die Skrif leer immers duidelik dat die Here se mensheid volkome is. Behalwe my liggaam en siel, word ook my verstand deur Hom as Plaasvervanger eers vernuwe (Rm 12:1-2), en daarna volkome verlos.

# Nestorianisme.
Die regsinnige beskouing oor Christus, wat eintlik al grootliks gevestig was, hoewel nog nie amptelik geformuleer nie, moes in die vyfde eeu nog 'n aanslag afweer. Nestorius (hy het iewers tussen 350 en 450 n.C. geleef), patriarg van Konstantinopel, het effektief begin leer dat Christus eintlik twee onderskeie Persone is, die een goddelik, en die ander menslik. Maar die Skrif leer dat Hy één geïntegreerde persoon is, hoewel Sy twee nature onvermeng is. Nêrens suggereer die Bybel enige skisofrenie in Christus nie. Jesus praat konsekwent van "Ek", nie van "Ons" nie, terwyl Hy wel, as Hy oor Homself en die Vader praat, "Ons" gebruik.
Na 'n lang stryd, het die Sinode van Efese Nestorius se dwaling uiteindelik in 431 n.C. veroordeel.

# Eutigianisme, oftewel, Monofisitisme.
Hiervoor was 'n leraar van Konstantinopel, Eutiges (378-454 n.C.) verantwoordelik. Hy was so in reaksie teen die Nestorianisme, dat hy die twee nature van Christus ineen laat vloei het. Hy het geleer het dat Christus nie ware mens is nie, maar dat Hy slegs een natuur het, die goddelike. Die menslike natuur sou hierin opgelos het, wat Christus dan streng gesproke met 'n derde soort natuur sou laat. Dis soos 'n druppel ink wat in 'n glas water val. Maar ook hierdie beskouing sou die Here Jesus diskwalifiseer as ons Plaasvervanger.
Die grootste sinode tot op daardie tydstip (520 biskoppe), die van Galsedon (451 n.C.), het Eutigianisme nek ingeslaan en uiteindelik die ortodokse geloof in die bekende Belydenis van Galsedon geformuleer.
Hierdie uiteensetting kry ons presies weer terug in die groot belydenisskrifte van die 16de eeuse Reformasie.()

'n Kort bespreking van die regsinnige beskouing oor Christus se twee nature

# Van die vroegste tye af was die ware kerk gegrondves in die feit dat Christus sowel God as mens is. Daar is dus enersyds verstaan dat Hy waarlik en ten volle van ewigheid af God was - en dat Hy steeds God is en dit tot in ewigheid sal bly; en andersyds dat Hy waarlik en ten volle mens geword het - en tot in ewigheid volkome mens sal bly.
Die probleem was om die verhouding tussen Christus se twee nature, die Goddelike en die menslike, te verstaan en te formuleer.

# Teen die tyd is dit sekerlik gevestig in ons gemoedere dat die vleeswording nie die ontstaan van ons Verlosser was nie. As die Woord was Hy van ewig af, en was Sy geboorte dus nie die begin van Sy persoonlike bestaan nie. Nee, Hy wat geen begin gehad het nie, het nie opgehou om te wees wat Hy van ewigheid af was nie. Maar Hy het begin om vir die ewigheid daarna te wees wat Hy nooit vantevore was nie.

# Die vleeswording is iets oorweldigends, aangesien dit die samevoeging in één Persoon beteken van alles wat eie is aan die Godheid, én alles wat eie is aan volkome mens-wees. Die Man wat gekruisig is, was die ewige Woord! Die skrynwerker van Nasaret was waarlik God! Die baba in die krip was die Een wat alles geskape het!

# Dit sou 'n onbegryplike vernedering vir die Seun gewees het om selfs net 'n volmaakte mens te word, soos die mens voor die sondeval. Maar dit is nie wat gebeur het nie; die werklikheid is veel meer drasties. Die Woord is na 'n wêreld van sonde en ellende en dood gestuur! En daarmee moes Hy Hom volkome kom identifiseer. Hy het presies soos een van die mense in hierdie wêreld geword, onderworpe aan hartseer, pyn, lyding en selfs die dood. Daar is een, en net een uitsondering - Hy het nie sonde gehad nie.

# As ons sê dat die Seun vlees geword het, sê ons onder meer dat die Een wat van ewig af bo-tyds was die tyd binnegekom het en Hom onderwerp het aan die beperkinge daarvan. Ons sê dat die Onveranderlike veranderlik geword het, dat die Onsigbare sigbaar geword het, dat alles se Onderhouer afhanklik geword het, dat die Almagtige onderworpe geword het aan swakheid, dat die Onsterflike sterflik geword het.

# Die Sinode van Galsedon het tot 'n formulering gekom wat tot vandag toe as die regsinnige beskouing oor die twee nature van Christus aanvaar word. Daarom het ook die belydenisskrifte van die 16de eeuse Reformasie versigtig in hierdie spore bly loop.

# As ons oor die verhouding tussen die goddelike en menslike nature van die Here Jesus praat, verwys ons na die hupostatiese eenheid van Christus (). Kom ons probeer iets meer daarvan verstaan:

* Die Here Jesus is sowel volkome God as volkome mens. Galsedon formuleer die eenheid van Sy persoon en die individualiteit van Sy twee nature só: die twee nature is onvermeng, onverander, ongedeel en ongeskeie.
Die twee nature van Christus mag dus nie verstaan word as 'n samevoeging tot 'n derde soort God-menslike natuur nie - dis onvermeng en onverander.
Maar dis ook nie 'n losse saambestaan van twee nature wat die eenheid van Christus se persoon in die gedrang bring nie - dis ongedeel en ongeskeie.

* Kom ons by die Reformasie, word dieselfde waarheid net effens anders gestel: twee hele, ware en afsonderlike nature is onafskeidelik in Sy Persoon saamgevoeg, sonder verandering, vermenging of verwarring. Hierdie Persoon is dus ware God en ware mens, en tog is Hy net een Christus (vgl. NGB'19).
Die goddelike word dus nie vermenslik nie; en die menslike word nie vergoddelik nie - daar is nie verandering nie.
Voorts: die goddelike en die menslike vervloei ook nie so dat 'n derde soort natuur gevorm word nie - daar is nie vermenging nie.
Derdens: die goddelike en die menslike nature wissel mekaar nie bloot af nie, sodat die een natuur die een oomblik voorop is, en die ander die volgende oomblik - daar is geen verwarring nie.

# Waarlik, die twee nature van die Here Jesus is 'n diep en onpeilbare geheimenis. Verstáán sal ons dit nooit volkome nie; gló moet en wil ons dit egter, omdat God dit so in Sy Woord openbaar.
Daar is meer sulke onbegryplike waarhede in die Woord. Neem byvoorbeeld die drie-enigheid van God: een God, drie Persone. Wat is meer ondeurgrondelik as dit? Ook worstel ons om die samehang van God se algehele soewereiniteit en die mens se verantwoordelikheid te verstaan.
In die logika is daar 'n woord vir hierdie verskynsel. Ons praat van 'n antinomie. Dis wanneer ons twee (of meer) feite het wat elkeen onbetwyfelbaar vas staan, maar wat tog vir ons begrip mekaar oor en weer uitsluit. As die een waar is, kan die ander logies nie waar wees nie, en as die ander waar is, kan die een logies nie waar wees nie - en tog staan beide vaster as die berge.
Die samehang van Christus se twee nature is so 'n onbegryplike antinomie. Tog moet ons, sover dit binne ons vermoë is, suiwer daaroor dink. Want skeeftrekkings lei sonder uitsondering tot God-onterende en pastoraal vernietigende dwalinge - soos die kerkgeskiedenis oor en oor bevestig.

# In 'n neutedop: Jesus Christus is waarlik God en waarlik mens - één Persoon, maar twee nature, sonder verandering, vermenging of verwarring.

Wat sê dit vir ons?

# Die Seun se vleeswording verklaar al die ander wonders in die Nuwe Testament.
Derduisende wil baie mededelings in die Nuwe Testament nie glo nie: die wonderwerke, die opstanding van Christus, die hemelvaart, ensomeer. Maar as Jesus van Nasaret inderdaad die tweede Persoon van die goddelike Drie-eenheid is wat mens geword het, verval alle besware teen die bonatuurlike in Sy lewe. Kan daar iets té wonderbaar wees vir die lewende God?
Die vleeswording is waarlik 'n ondeurgrondelike geheimenis - maar dit maak sin van alle ander wonders in die Nuwe Testament.

# Jesus Christus se mensheid is 'n voorvereiste vir die volheid en rykdom van ons redding.
Hebreërs werk dit uit in die tweede hoofstuk.

* Hb 2:5-8: Twee dinge is waar:
Eerstens, tydens die skepping is die heerskappy oor hierdie aarde aan die mens gegee.
Tweedens, ons sien egter niks van hierdie heerskappy nie.

* Hb 2:9-10: Dit beteken nie dat God se belofte misluk het nie. Nee, die belofte ís vervul! Die mens heers wel oor alles. Hoe dan so?
Sekerlik is die mensheid nog nie met eer en heerlikheid gekroon nie. Maar ons het 'n Hoof - volkome mens - wat volmaak aan God se eise voldoen het. Hy het rééds alle gesag in die hemel en op aarde. En Hy verteenwoordig ons.
In Hóm sit die waarborg dat ook ons wat met Hom verenig is, uiteindelik volmaakte heerlikheid en heerskappy sal geniet.
Ons sonde het ons gediskwalifiseer om met eer en heerlikheid gekroon te word. Voordat dit kon gebeur, sou ons eers weer in heiligheid voor God herstel moes word. Maar hoe? Self sou ons tot in ewigheid nie ons skuld kon betaal nie. Waarlik, ons het 'n Plaasvervanger nodig gehad.
Die enigste aanvaarbare plaasvervanger vir die mens, was nóg 'n mens - sondeloos, sodat hy nie nodig gehad het om vir sy eie sonde te sterf nie. Uit Adam se nageslag het niemand, helaas, hiervoor gekwalifiseer nie. Almal was vol sonde. En in elk geval is geen mens in staat om miljoene ander se sondeskuld te betaal nie.
Dis waarom God die Seun mens moes word! As mens kon en kan Hy vir ons instaan; as God kon Hy die straf namens miljoene verduur.

* Hb 2:11-15: Die nuwe mensheid in Christus is een groot familie van broers en susters - met die Seun as oudste broer.

* Hb 2:16-18: Laat ons goed verstaan: die Seun móés een van ons word om namens ons voor God te kan staan.

# Is die voortgaande en ewige mensheid van Christus onuitwisbaar in jou gemoed gegraveer?
Verreken jy ten volle die ewige mensheid van die Here Jesus in jou verhouding met Hom? Ons verval maklik in 'n oorreaksie teen die ongeloofsteologie van ons dag - wat Jesus as bloot 'n wonderlike mens beskou - en vergeet dat Hy, benewens waarlik God, inderdaad ook volkome mens is.
Baie Christene dink dat Hy destyds Sy mensheid hier op aarde agtergelaat het. Nee, daar is 'n verheerlikte, begripvolle en simpatieke Mens wat liefdevol in die hemelse troonkamers na ons belange omsien! (1Tm 2:5). Ons hemelse Hoëpriester is een van ons!

# Jý is tot in ewigheid volkome mens.
As dit dan vir God so onuitspreeklik belangrik is dat die Verlosser ware mens sal wees en bly, is mý mensheid kennelik ook vir Hom van die allergrootste belang.
Is dit 'n sentrale aspek van jou salige hoop dat jy - indien jy inderdaad dan deur 'n ware geloof met Christus verenig is - onderweg is om dieselfde verheerlikte staat as Hy te geniet? Kyk na Hom, veral nadat Hy opgestaan het, en sien hoe jy tot in alle ewigheid gaan wees!
Besef jy deeglik dat jy steeds en vir ewig volkome mens sal wees soos Hy? Ons sal as mense - weliswaar verheerlik, maar tog waarlik mense - op hierdie aarde saam met Christus vir ewig heers.
En die aarde - weliswaar herskep - sal steeds volkome aarde wees, nie soveel anders as wat baie van ons dink nie. 'n Volmaakte woonplek sal dit vir ons wees - selfs heerliker as die blyplek wat God oorspronklik vir die mens geskape het.
En bo-oor alles, in glimmende goue letters, sal geskryf staan: "Die Here is daar!" (Eseg 48:35).

Nico van der Walt

ANTIPAS HEROUT No.34 : GOD SE HOOGSTE OPENBARING [2 van 5] - 'n Bespreking van Jh 1:14: Ten volle mens

HOE KAN ONS OOIT GEMEENSKAP HÊ MET DIE ALLERHOOGSTE, DRIEMAAL HEILIGE EN EWIGE GOD VAN HEMEL EN AARDE? Voor die sondeval, ja, toe kon dit dalk nog. Maar ons is so gering, sondig en verwerplik - sukkelende mislukkings.
As ons Hom net kon sien. Maar Hy is die verskuilde God. Al wat ons van Hom kan sien, is Sy werke.
Of is dit?
Presies hier is ons by die wonderlike goeie nuus van Jh 1:14. God het mens geword in Sy Seun, Jesus Christus! En met Hóm kan ons identifiseer. Want Hy was soos een van ons. En dis nie net die rykes en magtiges wat Hom kan waardeer nie, want Hy het nie gekom soos mens sou verwag nie. Hy het nie in glans en majesteit geleef - soos dit vir ons gevoel eintlik gehoort het nie. Hy het nie aangedring op allerlei gunste en gawes nie. Inteendeel! Hy was soos 'n liefdesslaaf tot alle mense se beskikking. Ja waarlik, Hóm kan elkeen van ons verstaan. Met Hóm kan ek gemeenskap hê!
Maar hoe kan mens iemand verstaan wat 2000 jaar gelede geleef het? Dink vir 'n oomblik daaroor. Hy is die één Persoon in die Nuwe Testament wat bo die tyd uitstyg. Waarom? Omdat Hy die essensiële Mens is. Hy is universeel en tydloos. Sekerlik was Hy 'n Jood, maar die Heilige Gees het Hom laat beskryf op 'n wyse wat deur almal verstaan kan word - ongeag kultuur, geslag, ouderdom en intellek. O, heerlike waarheid: Hy was soos een van ons!

'n Lewensbelangrike en troosryke waarheid

# "Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie ..." (1Jh 4:2-3; vgl. ook 2Jh 9-10).
Die erns van dwaling oor die leerstuk van Christus kan beswaarlik oorskat word.

# Die stelling "die Woord het vlees geword" is uniek in die Bybel. Daar is ander uitsprake wat min of meer dieselfde sê, maar hier is daar 'n bondigheid en 'n balans wat dit die klassieke uitspraak maak.
Hierdie stelling bestaan in die Griekse teks van Jh 1:14 uit net twee woorde. Omdat ons beide woorde maklik verkeerd kan verstaan, moet ons voortdurend die res van die Skrifgetuienis in ag neem as ons dit vertolk.
Ander uitsprake in hierdie verband, is onder meer: Rm 1:3: Hy is gebore "na die vlees uit die geslag van Dawid". Gl 4:4: Hy is "gebore uit 'n vrou, gebore onder die wet." Fl 2:7 sê dat Hy Homself ontledig het en aan die mense gelyk geword het. 1Tm 3:16 sê dat Hy geopenbaar is in die vlees. Hb 2:14 sê dat Hy vlees en bloed deelagtig geword het. En 1Jh 4:2 sê dat Christus in die vlees gekom het.

# Die eerste woord is "vlees" (OAV), of "mens" (NAV). In 'n sin is dit tog jammer dat die vertaling "vlees" in die OAV vervang is met "mens" in die NAV. Johannes sê nie bloot dat die Woord mens geword het nie; ook nie dat Hy bloot 'n liggaam aangeneem het nie. Nee, hy gebruik 'n Griekse woord wat amper skokkend is, amper té kru om van toepassing te maak op die ewige Woord: Hy het "vlees" geword, of as jy wil, "vleis". Die woord dui op menslikheid in sy swakheid, afhanklikheid en sterflikheid. Die Skepper van hemel en aarde het die fisiese en mundane lewe van gewone sterflinge binnegekom. Hy het een van ons geword!

# Die tweede woord is "geword". Hierdie is 'n gewone woord en die werkwoord dui op 'n spesifieke gebeurtenis in die verlede. Bloot na v.14 gekyk, sou hierdie uitspraak verkeerd verstaan kon word.

* Mens sou kon aflei dat die Woord nie vantevore bestaan het nie. Maar so 'n misverstand het Johannes reeds ondervang in v.1: die Woord bestaan van ewigheid af.

* Dit sou ook verstaan kon word as dat die Woord opgehou het om te wees wat Hy vantevore was. Mens sou dus kon dink aan vermindering of uitruiling - dat die Seun Sy goddelike karakter verruil het vir 'n menslike, dat Hy Sy goddelike attribute en soewereine prerogatiewe afgestaan het. Maar Johannes gaan onmiddellik voort: "ons het Sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom" (14c). En in v.18 noem hy Hom "die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is". En die res van die Bybel verseker ons oor en oor dat Hy in elke opsig God was, en tot in ewigheid sal bly.

* Nee, die enigste manier om hierdie proloog van Johannes te verstaan, is in terme van byvoeging en samevoeging. Die Seun het niks van Sy goddelikheid afgestaan of ingeboet nie, maar het 'n menslike natuur bygekry. Wat Hy van ewigheid af was, is Hy steeds. Hy het egter bygekry wat Hy nooit vantevore was nie, en sal dit nooit weer verloor nie. Atanasius het dit 1500 jaar gelede só gestel: "Hy het geword wat Hy nooit vantevore was nie; en Hy het voortgegaan om te wees wat Hy altyd was."
Kompromieloos moet ons dus vashou: Jesus is sowel volkome God as volkome mens, sonder enige aantasting van óf die goddelike óf die menslike. Hy is nie goddelike mens, of menslike God nie.

# Baie van die wroeginge om die Persoon van Christus behoorlik te verstaan, mag vir ons na haarklowery klink. Maar 'n helder begrip van en geloof oor die fundamentele waarhede met betrekking tot die Persoon van Christus is noodsaaklik om die fyn balanse van ortodoksie en ortopraksie te handhaaf. Die geskiedenis lê besaai met die wrakke van mense en kerke wat hier die spoor byster geraak het. En onthou, wie die geskiedenis ignoreer, val maar net weer in die slaggate van die vaders.

# Ons praat van die maagdelike geboorte. Dis in orde so, maar laat ons onthou dat net die Seun se verwekking bonatuurlik was - nie die swangerskap of geboorte self nie. Die Kind is gebore toe Maria se tyd gekom het (Lk 2:6), waarskynlik na 'n normale 40 weke.

* Die bo-natuurlike van die maagdelike geboorte sit in 3 waarhede - en daarin alleen:
Eerstens, die verwekking was bonatuurlik. Geen manlike saad is in Maria se moederskoot gestort nie. Die Gees het die lewe verwek (Mt 1:20; Lk 1:35). Maar ewe belangrik is dat Maria in elke opsig Jesus se biologiese moeder was. Dit is háár eiersel wat bevrug is.
Tweedens, die Baba wat verwek is, was bonatuurlik. Dit was nie bloot 'n gewone baba wat net bonatuurlik verwek is nie. Dit was die ewige Seun van God, die tweede Persoon van die Goddelike Drie-eenheid, die Woord - reg van die eerste oomblik van swangerskap af. Die fetus wat ontwikkel het, was vandat Hy net mikroskopies klein was, waarlik God. Dit was God wat deur al die ontwikkelingsfases gegaan het, en wat bebloed, weerloos en doodnatuurlik gebore is.
Derdens, die baba is bonatuurlik bewaar van enige sondebesoedeling vanaf die baarmoeder. Of hierdie bewaring volledig tydens verwekking plaasgevind het, en of dit dwarsdeur die 40 weke van swangerskap geduur het, weet ons nie. Maar dat dit bonatuurlik en volkome was, staan vas.

* Talle van die stuk of 300 Ou Testamentiese profesieë oor die komende Messias maak dit duidelik dat Hy 'n mens sou wees.
Hy sou 'n menslike geboorte hê (Jes 7:14; 9:6), vanuit die stam van Juda en die familie van Dawid (Jer 23:5-6). Hy sou onderworpe wees aan God se wet en dit volmaak gehoorsaam (Ps 40:7-11). Hy sou sterf, begrawe word en vir 'n tyd lank in die greep van die dood verkeer (Jes 53; Ps 16:9-11; 22; 118:17-23). Hy sou geslaan, gemartel en bespuug word (Jes 50:6). Ensovoorts.

* Nooit moet ons toelaat dat die bonatuurlike aard van Christus se ontvangenis in die moederskoot ons verlei om te dink dat Hy nie 'n ware menslike natuur gehad het nie. Uitgesonderd die sonde, het Hy waarlik een van ons geword. Die Hebreërskrywer stel dit só: "Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. ...Dit is duidelik dat dit vir Hom nie om die engele gaan nie, maar om die nageslag van Abraham. Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word ..." (2:14-17).
Ja, Hy was meer as mens, maar óók volkome mens - met 'n menslike liggaam, innerlike en verstand.

# Ons sien Jesus Christus se menslikheid veral in vier areas:

* Sy fisies-liggaamlike lewe. Hy is normaal uit 'n normale vrou gebore. Op agt dae is Hy soos enige Joodse seuntjie besny. Hy het op 'n normale wyse gegroei en ontwikkel (Lk 2:40, 52). Lukas 2 beskryf Jesus agtereenvolgens as 'n baba (16), 'n kind (40) en 'n seun (43) (vgl. NIV). Hy het honger geword en geëet; Hy het moeg geword en geslaap.
Dis omdat Hy volkome mens was dat die inwoners van Nasaret, tussen wie Hy groot geword het, in verdwasing oor Sy gesag en wonders gesê het: "Is hy dan nie 'n timmerman, 'n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?" (Mk 6:3).

* Sy emosionele lewe. Jesus het nie net 'n menslike liggaam gehad nie, maar ook 'n menslike psige. As sodanig het Hy tipiese menslike emosies beleef. Hy het lief gehad (Jh 11:3, 5); kwaad geword (Mk 3:5; Jh 11:33); hartseer geword (Jh 11:35; Lk 19:41); vreugde ervaar (Lk 10:21). Oor en oor word Sy empatie met ellendiges beskryf. En in Getsemane het Hy skok, vrees, verwarring en emosionele pyn ervaar.

* Sy natuurlike lewe. Hoewel Hy nie ons sondegeneigdheid gehad het nie, was Hy onderworpe aan al ons natuurlike beperkinge. Toe Hy gebore is, kon Hy nie staan nie. Hy kon nie 3m hoog spring nie; sy vel was nie teen spykers bestand nie. Daar was dinge wat Hy nie geweet het nie: "Wie het aan my klere geraak?" (Mk 5:30; vgl. Mk 6:38).
In Jh 11:34 vra Hy vir Marta en Maria: "Waar het julle hom begrawe?" Tog wek Hy Lasarus enkele oomblikke later uit die dood op! Hy was dus gelyktydig beperk en onbeperk, onkundig en alwetend, kragteloos en almagtig.
Wanneer Jesus bonatuurlik opgetree het, was dit in die krag van die Gees, en net as dit die Vader se wil was - en dan altyd om Sy goddelike sending en mandaat te bevestig, nooit in eiebelang nie.

* Sy geestelike lewe. Hy is versoek. Hy het gebid, die Skrif bestudeer, gevas, God vertrou.

# Die Here het dikwels na Homself as "die Seun van die mens" verwys (dis 'n stuk of 80 keer so opgeteken). Wat het Hy daarmee bedoel? Die antwoord is in die Ou Testament. In Ps 8:5 en 146:3 onderstreep die uitdrukking menslike nietigheid. In Esegiël word die profeet oor en oor so aangespreek - waarmee God hom aan sy geringheid herinner. En in Dn 7:13 verskyn iemand "soos die Seun van die mens" voor "die Oue van dae" (OAV). Dis 'n Messiaanse profesie wat vooruit kyk na Christus se ontvangs van alle gesag in die hemel en op aarde - maar wat beklemtoon dat dit in Sy hoedanigheid as die mens Christus Jesus is wat dit met Hom gebeur.
Met die benaming "die Seun van die mens" wil die Here Jesus dus Sy menslikheid onderstreep.

# In Rm 8:3 maak Paulus 'n skokkende stelling: Christus het in die gelykheid van die sondige vlees gekom (OAV). Sekerlik kan die apostel dit sagter stel, maar hy wil nie. Hy wil 'n punt tuisbring. Hy het nie met 'n sondige vlees gekom nie, dit het net so gelyk. Die Seun se menswording was dus beperk - maar net op een punt: Hy het geen sonde gehad nie.
Maar waarom gebruik Paulus dan hoegenaamd die woorde, "sondige vlees"? Omdat hy wil beklemtoon dat Jesus op 'n manier gekom het wat van Hom 'n volkome mens gemaak het. Sy identifisering en solidariteit met ons is so te sê absoluut. Hy het so na aan die sondige mensheid gekom soos wat moontlik was - sonder om self 'n sondaar te wees. Dis soos die Hebreërskrywer sê: "Want ons het nie =n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde" (Hb 4:15).

# Laat ons vier dinge verstaan:

* Ten einde ons volkome Plaasvervanger te wees, moes Hy in elke opsig word wat ons is. Was daar elemente van ons mens-wees nie in Hom teenwoordig nie, was dit uitgesluit van Sy verlossingswerk. Maar God wil ons volkome red. Niks, maar niks, van ons ware mens-wees mag agterbly nie.

* Maar wat dan van ons sonde? Dis so 'n integrale deel van ons! Nee, nee! Sonde is ten diepste níé deel van ons mens-wees nie. Ons was nie oorspronklik so nie. Dit het later bygekom. Dis in werklikheid heeltemal onnatuurlik. En dis my oorspronklike menswees wat Jesus verlos en herstel!

* Wat dan wel van ons sonde? Dis juis om ons, wat waarlik met Hom verenig is, van hierdie vreemde en onnatuurlike kanker te genees, dat Hy dit alles op Homself geneem het - om dit volkome, finaal en vir ewig te vernietig.

* Les bes, onthou dat Jesus ten diepste as die eerste mens, Ádam, se Plaasvervanger en Opvolger gekom het. Dis waarom Hy die "laaste Adam" genoem word (1Kor 15:45-47). Hy is die Hoof van 'n nuwe mensheid en skepping.
O, wat 'n Verlosser, wat 'n Verlosser! En met Hóm kan ons gemeenskap hê!

# Laat ons dus reg dink oor ons Here Jesus. Dis lewensbelangrik!
Vir baie naïewe en sentimentele kerkmense is Hy steeds die babatjie in die krip. Wat beteken so 'n Christus vir sondaars soos ek en jy?
Vir miljoene godsdienstiges hang Hy steeds aan die kruis. Maar dan bly Hy 'n patetiese en hulpbehoewende Christus. Dan is Hy allermins in staat om jou te help - nóg in hierdie lewe, nóg eendag. Is dit verbasend dat diegene wat Hom steeds aan die kruis voorstel, uiteindelik toe maar op Maria as middelaar begin staat maak het?
Nee, tussen ons en God is daar 'n volmaakte Middelaar - die mens Christus Jesus (1Tm 2:5).
As ons groot Profeet lei Hy ons steeds as waarlik God en mens in die paaie van waarheid - wat Hy self so puntenerig bewandel het.
As ons groot Priester het Hy as waarlik God en mens Homself vir ons geoffer, en tree Hy voortdurend vir ons by die Vader in.
As ons groot Koning sal Hy ons verlossing vervolmaak, al Sy vyande onder Sy voete werp, en vir ewig na ons omsien.
Nico van der Walt

ANTIPAS HEROUT No.33 - GOD SE HOOGSTE OPENBARING (1 van 5) - 'n Bespreking van Jh 1:14 : Ten volle God

SONDER TWYFEL IS JH 1:14 EEN VAN DIE MERKWAARDIGSTE VERSE IN DIE GANSE BYBEL. Dit breek verbysterende waarhede vir ons oop. Só ryk is die vers dat ons meer as een Herout daaraan moet wy - vyf om presies te wees. Kom ons begin dan van 'n kant af en werk stapsgewyse deur die vers. Ek wil die leser verseker, om versigtig en aandagtig deur hierdie 5 Heroute te werk - al vat dit hóé lank - is werklik die moeite werd. Dit sal jou insig in God se raadsplan baie verryk; dit sal jou geloof versterk; dit sal jou Christelike volwassenheid 'n sewemyl-tree vooruit laat gee.
Eerstens kyk ons na die begrip, "die Woord".

Die Woord : waarlik en ten volle God

# Ons kan nie v.14 verstaan as ons nie ook met v.1 rekening hou nie - veral met die uiters belangrike begrip "die Woord".
Beskou mens v.2-13 by wyse van spreke as tussen hakies, sien jy die apostel se gedagtegang baie duidelik: "In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God ... en die Woord het vlees geword."

# Volgens Jh 20:30-31 wil Johannes met hierdie geskrif van hom sowel Jode as nie-Jode tot die geloof lei, sodat hulle deur te glo die lewe kan hê. Die Jode wil hy oortuig dat Jesus die Christus is - die beloofde Messias, God se Gesalfde. En by die heidene wil hy tuisbring dat Jesus die Seun van God is en God die Seun.

# Die apostel wil sy grootse tema onmiddellik aan die orde stel. Maar hy sit met 'n yslike dilemma. Die uitdrukkings "Christus" en "Seun van God" is vir sy lesers gelaaide begrippe. En allermins wil hy hulle reeds hier aan die begin verloor, of skewe idees by hulle vestig.
Ja, die Jode sal sekerlik die ene ore wees as hulle lees dat hy oor die Christus skryf. Hulle wag immers al eeue vir die Christus, of die Messias, soos hulle Hom in Hebreeus of Aramees sou genoem het. Die probleem is egter dat hulle 'n bloot menslike Messias, met 'n gewoon binne-wêreldse missie verwag. Maar Johannes weet dat dit lewensbelangrik is dat hulle besef Hy is nie net volkome mens nie, maar ook waarlik God.
En wat die heidene betref, gaan hulle in terme van die Griekse mitologie dink as hulle hoor hy praat oor "die Seun van God". Waarskynlik sal hulle dink aan iemand wat kwansuis gebore is uit gemeenskap tussen een van hulle gode en 'n menslike vrou. En wat kan meer godslasterlik wees as dit!
Nee, Johannes wil seker maak sy lesers moet reg van die begin af baie goed verstaan dat die Een oor wie hy skryf absoluut uniek en verhewe is - dat Hy nie net nóg een van baie is nie. Daar mag geen misverstand wees nie: Hy is nie net nóg 'n messias nie; Hy is nie net nóg 'n christus nie. En allermins is Hy net nóg 'n heidense afgod.

# Daarom, voordat die apostel begin verduidelik dat die Here Jesus die Christus en die Seun van God is, wil hy eers die spyker goed en diep inslaan: die Persoon oor wie hy skryf, is volkome en van ewig af waarlik en ten volle God!
Daarom moet hy, ten einde alle misverstande te vermy, eers 'n ander naam vir sy Hoofkarakter gebruik - iets anders as "Christus" en "Seun van God". En op hierdie punt lei die Heilige Gees Johannes dan tot 'n briljante woordkeuse. Hy noem sy hoofkarakter "die Woord" (Gr. Logos). Waarom is hierdie woordkeuse dan so briljant? Dis omdat ook hierdie begrip vir sowel Jood as heiden bekend en swaar gelaai is. Maar oor die Logos het beide groepe die mees verhewe idees.

* Wat die heidene betref, was die Logos algemeen bekend. Die Griekse filosoof, Heraklitus (sesde eeu v.C.) het geleer dat die Logos die siel van die heelal is - die skeppende energie waaruit alles ontstaan het, wat alles orden, en wat alles in stand en in balans hou.
En vir die latere Stoïsyne was die Logos die alomteenwoordige wysheid waardeur alles geskep en gestuur word.
Die heidene het die Logos dus met die allerhoogste God geassosieer. Johannes weet daarom dat hy met hierdie woordkeuse verseker dat sy heidense lesers verstaan dat hy vir hulle skryf oor die algenoegsame eerste oorsprong van alles - die onveroorsaakte oorsaak van alle dinge.

* Die Jode het eintlik nog sterker assosiasies met die idee van die Logos gehad.
Johannes se openingswoorde sou hulle onmiddellik herinner aan Gn 1:1: "In die begin ..." En natuurlik sou die begrip Logos hulle laat dink aan die skeppingsgebeure. Die uitdrukking "En God het gesê" kom immers 9 maal in Gn 1 voor. Trouens, vir die Jode het Logos inderdaad gestaan vir God se almagtige, skeppende woord.
Ps 33:6, 9 sê: "Deur die woord van die Here is die hemele gemaak, deur sy bevel al die hemelliggame. ...want Hy het gepraat en dit was so, Hy het beveel en dit was daar." En Jes 55:11: "So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het."
As God dus spreek, doen Hy iets. En so het die begrip Logos ook vir die Jode gesinspeel op 'n Goddelike handeling.
Nog meer, vir die Jood was die begrippe "woord", "wysheid" en "wet" baie na aan mekaar. Sulke swaar gelaaide idees was dit, dat dit soms gepersonifiseer is in die Ou Testament. 'n Klassieke voorbeeld tref ons in Spreuke 8 aan, waar die wysheidwoord so verpersoonlik word: "Die Here het my geskep, Hy het met my begin; ek is die eerste wat Hy gemaak het, lank, lank gelede. Ek is lankal daar, van die begin af, voor die aarde daar was ... Daarom, kinders, luister na my, dit sal goed gaan met dié wat op my pad bly. Luister na wat ek julle leer, moet dit nie verontagsaam nie, dan sal julle ook wysheid hê ... Wie my vind, vind die lewe self ..." (22-23; 32-33; 35).
Les bes, uit respek vir God wou die Jode nie die Godsnaam gebruik nie. As hulle na Hom verwys het, het hulle veel eerder gepraat van "die Heilige", of "die Naam", of "die Woord".
Met sy woordkeuse sê Johannes dus vir die Jode: dis oor Hóm wat ek skryf - oor die almagtige en heilige Skepper van hemel en aarde.

Die verhewenheid van die Woord

# In die verse voor v.14 maak Johannes ten minste 8 stellings oor die Woord se verhewenheid. En met elkeen kon denkende Jode en Grieke saamstem. Per slot van rekening is dit oor die Logos, die Woord, wat Johannes skryf.
Wat ons moet raaksien, is dat Johannes die goddelike verhewenheid van sy Hoofkarakter baie diep en stewig in sy lesers se gemoedere wil vasbeton. Eers as hy tevrede is dat hy dit bereik het, sal hy sy bom in die Joods-godsdienstige en Grieks-filosofiese wêrelde laat ontplof: hierdie Woord, niemand anders nie, net Hý, het mens geword en tussen ons kom woon!

* In die begin was die Woord (1). Die werkwoord is in 'n vorm wat dui op tydsverloop in die verlede (die imperfektum in Grieks). Met ander woorde, toe die tyd en alles wat bestaan, begin het, was Hy reeds daar. Hy was van alle ewigheid af altyd daar.

* Die Woord was by God (1) (weer die imperfektun). Die Woord was maar altyd by God. Daar is van ewigheid af 'n intieme verbintenis en gemeenskap tussen die Woord en God.

* Die Woord was God (1) (nogeens die imperfektum; dus tydsverloop in die verlede). Ja, die Woord is onderskeie van God, maar tog is Hy nie 'n skepsel nie; trouens, Hy is van ewigheid af self ook God. Hier stel Johannes die geheimenis van persoonlike onderskeide binne die eenheid van die Godheid aan die orde. Vir sommige van sy lesers sou dit dalk 'n nuwe gedagte wees. Maar dit sou hulle eerder fassineer as aanstoot gee.

* Alles het deur Hom tot stand gekom (3, 10). Ook die feit dat Hy Skepper van die heelal was, sou Jode en Grieke nie gepla het nie. Presies dit is wat die Ou Testament leer; dit is wat hulle wyse manne nog altyd sê.

* In Hom was daar lewe (4). As lewegewende krag en bron is daar niks binne die skepping wat nie lewe van Hom ontvang nie. "Juis, juis", sou Johannes se lesers mompel.

* Dié lewe was die lig vir die mense (4, 9). Hier sinspeel Johannes reeds op die Woord as openbaarder van God. Maar die heidene sou dit filosofies verstaan, en die Jode i.t.v. Spr 8 se personifisering van die wysheid.

* Baie mense neem Hom nie aan nie (11). Ja, sou die lesers dink, daar is altyd die stiksienige dwase wat nooit iets begryp nie.

* Daar is wel diegene wat Hom aanneem (12). "Inderdaad!", sou die lesers hulleself op die skouer klop.

# Waarlik, geen skrywer kan sy hoofkarakter meer subtiel en tog in meer verhewe terme aan sy lesers voorstel nie!

Wat sê dit vir ons?

# Laat ons nie die Skrif se sterk beklemtoning van Jesus Christus se goddelikheid miskyk nie.
Té maklik is ons geneig om slegs aan Hom as die wonderlike man van Nasaret te dink. Té dikwels is Hy met Sy liefdevolle lewe slegs maar vir ons die uitnemende voorbeeld. Ja, die Woord hét vlees geword, en Hy was en bly volkome mens, maar sonder hierdie eerste en sterk aksent van Johannes verwater ons Christologie tot 'n humanistiese karikatuur wat onversoenbaar is met die Bybelse openbaring.
Laat ons onthou dat die bleek en verwyfde Jesus van die kuns, en die sentimentele Jesus van sóveel kontemporêre prediking, niemand kan red nie. En vir seker is Hy nie die Koning van die konings en die Here van die here in een van Johannes se ander geskrifte nie.

# Die volle raad van God is altyd waarheid in balans. So is Hy én God én mens.
Wat ons onderwerp betref, is daar nog 'n balans wat ons versigtig moet vashou. Die Nuwe Testamentiese skrywers hou die Here Jesus nie net as ware God aan ons voor nie, maar ook as 'n lewende Persoon. In die geskiedenis was daar mense wat so opgegaan het in Sy goddelikheid, dat hulle Hom effektief gereduseer het tot bloot 'n onpersoonlike beginsel of krag. En so het hulle in 'n duisternis verval wat net so erg is as dié van Johannes se heidense geadresseerdes.

* Ook Lukas noem Jesus "die Woord". Van die apostels word gesê dat hulle "van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord" was (Lk 1:2). 'n Vraag ontstaan nou: gaan dit oor Christus, of gaan dit oor die evangeliewoord? Die NAV het 'n hoofletter "W", en die OAV 'n kleinlettertjie.
As Lukas die apostels "ooggetuies" van die Woord noem, lyk dit asof hy van Jesus Christus self praat. Maar die feit dat hulle "dienaars" (of bedienaars) daarvan is, kan dalk op die evangelie sinspeel.
Vir die vroeë Christene was dit egter nie 'n kwessie nie. Vir hulle was daar eintlik nie 'n onderskeid nie. Die inhoud van die evangelie was meteen die persoon van Christus!
Dis presies wat Paulus bedoel: "Die Jode vra wondertekens, en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is" (1Kor 1:22-23). En: "... ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde" (1Kor 2:2, OAV). Les bes: "Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as 't ware aan die kruis kon sien hang!" (Gl 3:1).
Die apostels het nie oor Christus gepreek nie; hulle het Hóm gepreek!

* Een van die grootste avonture in elke ware Christen se lewe, veral in die van predikers, is om Jesus Christus al hoe duideliker te sien. Laat ons dit voortdurend van die Here afbid, dan sal Hy ons gewis voetjie vir voetjie deur die newels van ons stiksienigheid lei. En so sal ons ons al hoe meer in Hom verlustig. En om Hom te verkondig, sal 'n steeds groter avontuur en vreugde word.
Op hierdie pad van ontdekking is daar geen terminus, geen versadigingspunt nie. Want Christus is soos 'n volmaak geslypte diamant met ontelbaar baie fasette.
Ken jy iets van hierdie ervaring? Sekerlik is dit een van die sekerste bewyse dat jy op die regte pad is - dat die Heilige Gees besig is om in jou te werk. Want is Sy primêre funksie dan nie om Jesus Christus te verheerlik nie? (Jh 16:14). Die bekende teoloog en skrywer, J.I. Packer, stel dit iewers min of meer só: die Gees staan as 't ware skuins agter my en lig met 'n kollig oor my skouer op die Here Jesus. Dan fluister Hy in my oor: "Sien jy Hom? Gaan na Hom toe; glo in Hom; luister na Hom; ken, dien en eer Hom; verheerlik Hom!"
Waarlik, waar die Heilige Gees werk, sal Jesus Christus as Profeet, Priester en Koning steeds meer en meer in die middelpunt skuif - in ons denke, oortuigings, emosies, toewyding, gehoorsaamheid en getuienis.

Christenskap is nie in die heel eerste instansie 'n manier van lewe nie; dis 'n heilige beheptheid met 'n Persoon - die Woord van God, die eerste oorsprong van alles, die hoogste openbaring van God aan ons, die Seun van God en God die Seun.

Nico van der Walt