Wednesday, June 25, 2014

ANTIPAS HEROUT No. 22 : DIE ONVERGEEFLIKE SONDE - Wat is dit? Wat is dit nie?


Die Bybel is vol ernstige waarskuwings. Een waarskuwing is egter meer angswekkend as al die ander: daar is 'n sonde wat God nie vergewe nie!

In Mt 12:31-32; Mk 3:28-30 en Lk 12:10 sê die Here dat lastering teen die Heilige Gees nie
vergewe sal word nie.

•     Matteus en Markus se uitsprake is in 'n ander konteks as die van Lukas. In eersgenoemde geval beskuldig die Fariseërs en skrifgeleerdes Jesus dat die duiwel Hom bekragtig om die genesings en bevrydings te doen. In Lukas gaan dit egter oor openlike verloëning van Christus, veral tydens vervolging.
     Die sonde teen die Heilige Gees is dus nie bloot om Sy werk aan Satan toe te dig, soos baie mense dink nie. So 'n verklaring sou nie die uitspraak in Lukas verklaar nie. Kennelik is iets diepers hier ter sprake.

• In al drie Skrifgedeeltes is dit eintlik sonde wat direk teen Jesus self gerig is. Dis immers
teen Hóm wat die Jode dit het. Tog noem die Here dit 'n lastering teen die HeiligeGees. En om dit verder te kompliseer, sê Hy spesifiek dat sonde teen die Seun van die mens wél vergewe kan word.

In 1Jh 5:16-17 moedig die apostel sy lesers aan om vir mede-gelowiges te bid wat sondig. Hy maak egter een uitsondering: vir die "sonde wat tot die dood lei" sê hy nie hulle moet bid nie.

•     Hierdie sonde was kennelik onderskeibaar deur ingeligte Christene.

•     Die apostel aanvaar sy lesers weet waarvan hy praat. Die vroeë kerk het dus hieroor
geleer en gewaarsku.

•     Uit die konteks is dit duidelik dat dit hier gaan oor die ewige dood. Die teenoorgestelde
begrip, "lewe" dui immers in v. 11, 12, 13 en 16 beslis op die ewige lewe.

Volgens 2Pt 2:20-22 is mense wat Christus as Saligmaker leer ken en die besmettinge van die wêreld ontkom, maar tog weer daarin teruggesuig raak, uiteindelik slegter daaraan toe as voor die tyd. Dit sou, tewens, vir hulle beter gewees het as hulle die wil van die Here nooit leer ken het nie  -  eerder as dat hulle dit wel leer ken, maar dan die rug toekeer.

•     Hoewel hier nie gesê word dat sulke mense nie vergewe kan word nie, word dit wel
onderstreep dat dit vir hulle beter sou gewees het as hulle eerder nooit die evangelie gehoor het nie. Waarom? Die feit dat hulle die Here se goedheid beleef het en met kennis verlig is, tel ernstig teen hulle.

Bogenoemde bied nie genoeg inligting om tot 'n besliste antwoord te lei op die vraag wat hierdie sonde dan is nie. Hiervoor sal ons ons na die brief aan die Hebreërs moet wend.

HEBREËRS SE WAARSKUWINGS

Die Hebreërbrief word geskryf aan Christene wat lank tevore vanuit die Jodendom tot bekering gekom het, maar nou moeg word in die geloofswedloop en oorweeg om na Ou Testamentiese seremonies terug te keer. Die skrywer probeer met alles waaroor hy beskik om hulle van sulke dwase, trouens, fatale geloofsversaking te laat afsien.

•     Positief sing hy die skoonste liedere oor die volmaakte en genoegsame verhewenheid
van Jesus Christus. Hy toon aan dat Jesus die Ou Testamentiese beloftes en seremonies finaal vervul het en ver daarbo uitstyg. Sy lesers wil dus terugkeer na iets wat geen bestaansreg meer het nie.

• Negatief rig die skrywer van die dringendste en mees angswekkende pastorale
waarskuwings in die Skrif. Daar is vyf van hierdie waarskuwings teen geloofsversaking:

Hb 2:1-4 : Omdat Christus so verhewe is, moet ons puntenerig ag slaan op God se openbaring deur Hom (1:1-3). As die openbaring wat engele afgelewer het (by Sinai, Dt 33:2; Ps 68:18) soveel gewig gedra het, hoe sal ons God se oordele ontkom as ons Sy openbaring deur Jesus en Sy apostels verontagsaam  -  soveel te meer aangesien God dit met wonders en tekens bekragtig het.

•      Wat beklemtoon die Hebreërskrywer hier? Die evangelie is algeheel betroubaar, die
Hebreërs het geen verskoning vir geloofsversaking nie en die oordele daarvoor is gewis.

3:7 - 4:13 : Israel se ongeloof en ongehoorsaamheid in die woestyn, veral toe hulle nie kans gesien het om die beloofde land in te neem nie, het verhoed dat hulle God se rus kon ingaan. As die Hebreërs nou hulle rug sou draai op die Een deur wie God se finale Woord gekom het  -  die Een in wie die ou orde vervang is  -  sal ook húlle God se rus nie ingegaan nie. Nou gaan dit egter oor baie meer as Kanaän  -  dit gaan oor die ewige rus.

•     Soos in die geval van hulle voorvaders, is die evangelie ook aan die Hebreërs verkondig
(4:2, 6). Ook hulle het dus die Here se stem gehoor (3:7). Net so seker as wat die Israeliete God se groot dade gesien het (3:9), so seker ken hierdie lesers die Here se waarheid. Die Woord dring immers 'nmens se diepste wese binne (4:12) en God weet wat in ons harte aangaan (4:13).

•     Israel se probleem was hulle verdorwe harte (3:10). Aangesien dit alle mense se
probleem is, moet ook die Hebreërs hulle harte bewaar (3:12). Die probleem is ten diepste ongeloof (3:12; 19; 4:2). Dit lei tot ongehoorsaamheid en sonde (3:18; 4:6, 11)  -  en uiteindelik tot verharding (3:8, 13, 15; 4:7, OAV).
     Hierteen moet ons met alles waak en mekaar daarin bystaan (3:12-13; 4:1, 11). Dag na dag moet ons in geloof volhard en die genadetyd se voorregte uitkoop (3:7, 13, 15; 4:7).

• Die Hebreërs moet hulleself nie wysmaak dat geloofsversaking sommer maklik weer
reggestel kan word indien hulle sou besef dat dit 'n fout was nie. God het immers in Israel se geval 'n eed afgelê dat die volk nie Sy rus sou ingaan nie (3:11; 4:3, 5). Sou die lesers dus oorweeg om die evangelie te versaak, speel hulle met vuur.

5:11 - 6:12 : So min het die Hebreërs in hulle geloof gegroei, dat hulle beswaarlik in staat is om stewige lering te verteer. Maar aangesien van hulle gevaar loop om te verval tot 'n staat vanwaar dit onmoontlik is om iemand te bekeer, moet nou reguit gepraat word. Hulle het immers wonderlike genadewerkinge van die Here beleef en sal geen verskoning hê as hulle Christus die rug toekeer nie. Tog is die skrywer vol vertroue dat hulle inderdaad die saligheid ontvang het en gevolglik op die geloofspad sal volhard.

•     Nogeens word baie daarvan gemaak dat die lesers wéét wat die waarheid is.Weliswaar
word die dinge in 6:4-5 van denkbeeldige mense gesê. Maar dit sinspeel tog duidelik op die Hebreërs se belewinge. Oor en oor het hulle onweerlegbare getuienis oor Christus ontvang  -  om hulle en in hulle.
     Vyf diep en onmiskenbare belewinge word in 6:4-5 genoem: hulle het op 'n
stadium innerlike verligting ontvang, die hemelse gawe geproe, deel gekry aan die Heilige Gees, die goeie woord van God geproe en die kragte van die toekomstige wêreld geproe (lett.).

•     Sou hulle terugdraai na die Joodse geloof toe, sal dit 'n verwerping en minagting van
Christus wees (6:6).

•     Dan sal dit onmoontlik wees om weer tot bekering gebring te word (6:6).

•     Nogeens word die noodsaak van geloofsvolharding beklemtoon (6:11-12).

10:26-39 : In die voorafgaande verse word Christene se heerlike erfenis beskryf: vrye
gemeenskapmetGod op grond van Christus se volmaakte en afgehandelde middelaarswerk.Hierin moet ons volhard, wetende hoe belangrik dit is vir die uiteindelike verwerkliking van dit waarop ons hoop. En dis nie maar bloot 'n persoonlike saak nie; ons moet mekaar in die wedloop bystaan (10:19-25).
     Wie egter hierdie erfenis minag deur willens en wetens sy rug op die evangelie te draai, sal vind dat daar nie verdere vergiffenis vir sy sonde is nie. Hy het immers God se onuitspreeklik kosbare gawe in Christus vertrap. Al wat dan oorbly, is die ewige verdoemenis.
     Daarom, sê die skrywer, moenie julle vrymoedigheid  -  om in die heiligdom in te gaan  -  weggooi nie (10:35 lett.). Volhard in geloof en gehoorsaamheid op die pad van Christus. God het immers niks aan mense wat terugdraai nie.
     Ten spyte van die dringende waarskuwing, word die vertroue nogeens uitgespreek dat die Here inderdaad 'n genadewerk in sy lesers gedoen het  -  en dat hulle dus sal volhard (10:39).

•      Weer word dit beklemtoon dat die betrokke sonde gepleeg word nadat kennis van die
waarheid ontvang is. Dit word dus opsetlik  -  willens en wetens  -  gepleeg (10:26). En sekerlik sal die Hebreërs nie kan sê dat hulle nie geweet het nie. In 10:32-34 word hulle herinner dat hulle beslis sulke kennis ontvang het, aangesien dit ingrypende effekte op hulle gehad het. Sodanig was hulle oortuigings, dat hulle bereid was om 'n geweldige prys daarvoor te betaal.

12:14-29 : Moenie voor die versoeking van tydelike en sinlike voordele swig nie. Onthou Esau. Hy was 'n eersgeborene, maar het dit verag en verkwansel vir 'n enkele bord kos. En regstel kon hy dit nie weer nie, selfs al het hy onder trane daarna verlang.
     Voorts word die lesers herinner dat húlle nie by Sinai aangekom nie (12:18-21). Hulle is
erfgename van die nuwe verbond en het die Sionstad van Nuwe Testamentiese vervulling en volheid in Christus ontvang (12:22-24)!
     Dus moet hulle God, wat eens en vir altyd uit die hemel gespreek het, nie afwys nie. As
ongehoorsames tydens die Ou Verbond nie ontkom het nie, hoeveel te minder diegene wat God se finale openbaring in Christus minag! Nee, hulle moet dankbaar en in die vrese van die Here volhard in die geloofswedloop. God is immers 'n verterende vuur!

•     Die eersgeboortereg was 'n groot saak met enorme implikasies in die Ou Verbond  -  iets wat Esau sekerlik goed geweet het.
      In 12:23 word die gemeente genoem: "die vergadering van eersgeborenes wie
se name in die hemel opgeteken is." Deelgenootskap aan die liggaam van Christus is 'n onuitspreeklike voorreg waarteen niks opweeg nie. En die lesers weet dit.

•     Die Hebreërs se versoeking om terug te draai op die geloofspad het grootliks gegaan oor tydelike en wêreldse voordele. Eerstens is godsdienstige rituele minder veeleisend as dissipelskap in gees en waarheid. Tweedens word hulle as Christene bedreig deur vervolging, terwyl die Joodse geloof wettig was. Derdens was hulle kultureel geïsoleerd, aangesien meeste Jode Christus verwerp het.

• Nogeens word die onomkeerbaarheid van hierdie sonde beklemtoon (12:17).

Die sonde waarteen so dringend in Hebreërs gewaarsku word  -  die sonde wat onomkeerbaar op die ewige verdoemenis afstuur  -  het duidelik uitgekristalliseer. Ons kan dit só stel:

Die vernietigende sonde waarteen die boek Hebreërs waarsku, is die bewustelike en berekende
verwerping van waarheidsgetuienis oor Jesus Christus S wat nie net oor 'n tydperk om jou en in jou eie
lewe onweerlegbaar was nie, maar wat ook duidelik deur die Gees in jou hart bevestig is.
     Dis 'n verloëning van en verharding teen 'n diepliggende wete aangaande Christus  -  Sy Persoon en werk, asook die praktiese implikasies daarvan vir jou lewe.

PRAAT JESUS EN SY APOSTELS VAN DIESELFDE SONDE?

Die vraag is nou of die sonde waarteen Hebreërs waarsku, dieselfde sonde is as wat die Here Jesus en sy apostels aanspreek? Daar is net een manier om dit vas te stel: ons moet ons slotsom vanuit Hebreërs op húlle vermaninge gaan pas en kyk of dit rym. En in die proses kan ons ook sommer 'n paar los punte vasknoop.

Om die Here Jesus se waarskuwings aan die skrifgeleerdes en Fariseërs oor die onvergeeflike sonde te begryp, moet 'n paar perspektiewe in fokus wees:


•     Die Jode, en veral hulle godsdienstige leiers, was in besonderhede op hoogte met die
Ou Testamentiese Messiaanse profesieë. Tog het hulle hul oë gesluit vir die onmiskenbare vervulling daarvan in hulle midde.
     Wat meer is, Christus se optrede, lering en aansprake is keer op keer kragtig bevestig deur Sy wonderwerke  -  presies soos voorspel is (Jes 29:18-19; 35:5-6; 61:1-2; Lk 4:18-19; 7:22). Die Joodse leiers het egter geweier om God hieroor te verheerlik en het hul verhard teen die Lig wat in die wêreld gekom het (Jh 1:6-11).

•     Jesus van Nasaret het soos enige ander mens gelyk. Dit was dus baie maklik om Hom
te sien, na Hom te luister  -  en om dan onbeïndruk jou rug op Hom te draai. Hy was immers nie spoggerig aangetrek soos die rabbi's nie. En sy vereelte hande en bruingebrande gesig het eerder die indruk gegee dat Hy 'n werksman is as 'n leraar.
     So 'n verwerping van Jesus sou sonde teen die Seun van die mens wees  -  teen die Here in Sy vernederde staat. En daarvoor is daar vergiffenis. Die misdadiger aan die kruis is 'n tipiese voorbeeld: een oomblik het hy nog gespot, en die volgende oomblik was hy met God versoen (Lk 23:39-43).

•     Die Heilige Gees  -  anders as Jesus, die Seun van die mens  -  is nie sintuiglik
waarneembaar nie, maar werk innerlik en oortuigend in mense. Voorts is Sy getuienis altyd 'n variasie op dieselfde tema: die heerlikheid van Jesus Christus! Hoewel die sonde waarvan die Here in Mt 12 en Mk 3 praat, dus as verwerping van Hóm manifesteer, lê die Jode se sonde eintlik daarin dat hulle hul teen die Heilige Gees verhard  -  teen Sy onomstootlike getuienis oor Christus in hulle harte, en Sy onbetwisbare bevestiging daarvan deur die tekens en wonders waartoe Hy Jesus bekragtig. Dis waarom die Here Jesus van lastering teen die Heilige Gees praat.

•     Alles dui daarop dat die Gees inderdaad in die Joodse leiers se harte getuig het dat Jesus die Messias is. Dis waarna Stefanus verwys as hy die Jode beskuldig dat hulle, net soos hulle voorvaders, hardnekkig en onbesnede van hart en ore is  -  en altyd die HeiligeGees weerstaan (Hd 7:51-53, OAV). Letterlik wil die woord sê dat hulle teen die Heilige Gees ingebeur het.
     Hd 7:54 is insiggewend. Letterlik staan daar dat die Jode se harte middeldeur gesaag of gesny word as hulle die Geesvervulde prediking van Stefanus hoor. Eerder as om hulle te bekeer, stenig hulle egter die prediker. Die Gees werk dus kragtig en oortuigend  -  tot in hulle diepste wese  -  in mense wat nooit gered gaan word nie!
     Op die Pinksterdag was daar nog 'n Geesvervulde preek. En weereens is mense in hulle harte getref. Hd 2:37 sê letterlik dat hulle dwarsdeur hulle harte gesteek is. Maar hier is die respons anders - lotsbepalend anders!
     Essensiëel was die prediking dus in beide gevalle dieselfde. Altwee kere is die hoorders se diepste wese bereik.Waarom dan die uiteenlopende reaksies? Dit het alles te doen met twee verskillende soorte harte! As die hart van klip nie met 'n hart van vlees vervang word nie (Eseg 36:26), as innerlike herskepping nie eers plaasvind nie, kom niemand ooit tot bekering nie!

•     Opgesom: die Here waarsku die Joodse leiers teen die onvergeeflike sonde. Hulle is
besig om Hom willens en wetens te verwerp ten spyte van onweerlegbare getuienis en veral die Heilige Gees se innerlike getuienis dat Hy inderdaad die beloofde Messias is.

Wat dan van Jesus se waarskuwing aan Sy dissipels in Lk 12:10?
     Soos gesien, gaan dit in die konteks oor die gevaar vir dissipels van Jesus om Hom tydens vervolging te verloën en die geloof sodoende die rug toe te keer.

•     Mense wat oor hulle geloof voor die gereg moet verskyn, het noodwendig 'n voorafgeskiedenis van radikale dissipelskap. Hulle het kennelik oor 'n tydperk die bemoeienis en goedheid van die Here om hulle gesien, dit in hulle eie lewens ervaar, die innerlike getuienis van die Gees oor Christus beleef en hulle toewyding aan Hom bely en uitgeleef. Net súlke mense word immers vervolg.
     As hulle dan tog onder die druk van vervolging swig, en ter wille van tydelike en wêreldse
voordele die rug op Christus draai, is dit duidelik dat hulle 'n wesenlike gevaar loop om die onvergeeflike sonde te pleeg. Ook hier het mense oor 'n lang tyd die Here se goedheid ervaar. Ook hier verloën hulle Christus bewustelik teen hul beter wete. Ook hier is daar geen verskoning nie (uiters versagtende omstandighede).

Daar kan min twyfel wees dat 2Pt 2:20-22 op dieselfde saak slaan.
      1Jh 5 se opmerking oor die sonde tot die dood bevat nie genoeg inligting om met sekerheid te sê dat dit dieselfde sonde as Hebreërs aanspreek nie. 'n Paar dinge dui egter wel daarop: hierdie sonde is ook waarneembaar; die mense het ook
daaroor lering gekry; en dis ook 'n sonde wat tot die dood lei.

WAT IS HIERDIE SONDE DAN?

Dit is eintlik reeds duidelik wat die onvergeeflike sonde is. Maar aangesien misverstande en dwalings oor ons tema aan die orde van die dag is, is dit nodig om dit maar goed te deurtrap.
     Deeglike lering oor hierdie saak  -  anders as in die Nuwe Testamentiese kerk  -  kry ongelukkig nie die aandag wat dit moet nie. Enersyds is dit die oorsaak van baie onnodige pastorale ellende; andersyds maak dit die deur oop vir allerlei sielsvernietigende dwalings.

•     Baie opregte soekers na God se genade word gefolter deur die vermoede dat hulle
skuldig aan hierdie sonde, en dus finaal verlore is  -  ongeag hoe grondig hulle hul ook al tot die Here mag bekeer. As hulle egter die presiese aard van die onvergeeflike sonde begryp het, sou hulle geweet het dat hulle allermins daaraan skuldig is.

•     Derduisende Christene glo dat hulle finaal gered is as hulle eenmaal 'n sondaarsgebed
gebid en 'n oorgawe aan Christus gemaak het. Hulle maak van die uitdrukking "eenmaal gered, altyd gered" 'n vrypas hemel toe, ongeag hoe hulle ook al ná hulle "bekering" mag lewe. Enige ernstige leser van die Nuwe Testament sal weet dat dit allermins is wat die Skrif leer.

Die onvergeeflike sonde het drie fokuspunte:

•     Eerstens word hierdie sonde gepleeg deur mense wat diep in hulle harte waarlik weet
dat Christus presies is wat die evangelie van Hom getuig. Hulle het rondom hulle onbetwisbare bewyse daarvan gesien. En innerlik het hulle 'n diep oortuigingswerk van die Gees daaroor ervaar. Meestal was hulle ook vir 'n korter of langer tydperk deel van 'n lewende gemeente waar hulle die Here se genadewerkinge beleef het.

• Tweedens word hierdie sonde dan gepleeg deur mense wat, ten spyte van die Gees se
bemoeienis, Jesus Christus willens en wetens verwerp.

     Hierdie versaking hoef nie noodwendig openlik te wees nie. Dit kan ook meer
subtiel gebeur  -  bloot deur op te hou hardloop in die geloofswedloop.
     En dit vind nie noodwendig as 'n skielike ommeswaai plaas nie (Hb 2:1).

•     Derdens is dit onmoontlik om so 'n persoon weer tot bekering te bring. Sondevergiffenis
is nie meer moontlik nie. Dit loop noodwendig uit op God se verskriklike oordele.
     Uiteraard bedoel die Skrif nie dat dit vir die Gees onmoontlik is om so 'n persoon
tot inkeer te bring nie. Maar diegene wat hom (of haar) probeer bearbei, vind dat hulle niks uitrig nie. Waarom? Die Here gee nie meer bekeringsgenade nie, tewens, Hy het hom oorgegee aan sy eie verdorwenheid.
     Self het so 'n persoon geen begeerte na redding nie. Dit pla hom nie en welmenende gelowiges se pastorale besorgdheid laat hom koud. Dit kan hom, tewens, erg irriteer.
     Wat dan van Esau wat onder trane begeer het om sy dwaasheid reg te stel  -  maar tevergeefs (Hb 12:17)? Soos in Saul en Judas Iskariot se geval (1Sam 15; Mt 27:3-10), was dit nie egte berou nie, maar hartseer oor die seën wat hy deur sy vingers laat glip het.

BYBELSE VOORBEELDE

‘ Talle tragiese karakters in die Bybel het waarskynlik hierdie sonde gepleeg.

•     Ou Testamenties is daar onder meer Saul en Bileam (Num 22-24).
     Bileam het sekerlik geweet dat hy met die ware God te doen het. Hy het Hom persoonlik as die lewende, genadige en verlossende Een ontmoet (Num 24:15-19). Tog draai hy sy rug op Hom en adviseer Balak om die verbondsvolk tot afgodery en onsedelikheid te verlei. Uiteindelik sterf hy onder God se toorn (Num 31:8, 16).
     Die Nuwe Testament verwys drie keer na hom as die klassieke dwaalleraar. Vir
wêreldse loon het hy die waarheid geweld aangedoen (2Pt 2:15-16; Jud 11; Op 2:14).

•     In die Nuwe Testament lees mens ook van enkeles wat dalk aan hierdie sonde skuldig
was: Kajafas (Jh 11:49-53); Simon die Towenaar (Hd 8:13, 18-24); die Jode in Efese (Hd 19:8-9); Feliks (Hd 24:22, 24-27); Himeneus en Aleksander (1Tm 1:19-20); Demas (2Tm 4:10).
     Die uitstaande voorbeeld is egter Judas Iskariot. As een van die Twaalf was hy vir drie jaar in die binnekring. Hy het alles gehoor, alles gesien, alles beleef. Sekerlik het hy presies geweet wie Jesus was. Daarbenewens het die Heilige Gees waarskynlik kragtig deur hom gewerk toe ook hy uitgestuur is met die nodige mag en gesag om duiwels uit te dryf, siekes te genees en dooies op te wek (Mt 10:8; Mk 6:7, 13; Lk 9:1-2, 6). Tog het hy die Here verraai. En ten spyte van berou (Mt 27:3-4), sterf hy 'n allerverskriklike en hopelose dood.
Die feit dat die ander apostels voor die tyd nie besef het Judas is 'n huigelaar nie, stem mens tot diepe nadenke.

WAT IS HIERDIE SONDE DUS NIE?

‘Ten einde alle moontlike misverstande uit die weg te ruim, is dit ook nodig om hard en duidelik te sê wat die onvergeeflike sonde nié is nie.

Hierdie sonde word nie onbewustelik gepleeg nie.
     Op ten minste twee plekke in die Nuwe Testament, waar die onvergeeflike sonde beslis 'n moontlikheid was, is vergiffenis ter sprake op grond van die sondaars se onkunde. In Lk 23:34 bid Jesus, "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie." En in 1Tm 1:13 skryf Paulus dat die Here hom in Sy diens gestel het, "al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig.Maar God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek gedoen het nie."
     Hierdie was al 'n Ou Testamentiese beginsel. Voorsiening word in Num 15:22-29 gemaak vir die vergiffenis van onopsetlike sondes. V.30-31 gaan egter voort: "Maar die landsburger of vreemdeling wat moedswillig sondig, doen My, die Here, oneer aan en hy ... moet ... doodgemaak word; hy moet die straf vir sy sonde dra."

Mense wat in angs lewe dat hulle die onvergeeflike sonde gepleeg het,maar opreg  -  vanuit hulle harte  -  begeer na vrede met God en sekerheid van saligheid, het feitlik vir seker nie hierdie sonde gepleeg nie. Die onvergeeflike sonde lei tot 'n hardheid van hart en 'n ongeërgdheid oor die Here.

Mense wat die evangelie hoor  -  selfs oor en oor en baie duidelik in waarheid  -  maar Christus steeds nie aanneem nie, het nie sonder meer hierdie sonde gepleeg nie. Natuurlik leef diesulkes in sonde, maar as hulle nie 'n lang en diep oortuigingswerk van die Gees in hulle harte ervaar het nie, is hulle sonde waarskynlik nie "teen die Gees" nie, maar "teen die Seun van die mens"  -  waarvoor daar wel vergiffenis is. Laat elkeen wat Christus tot nou toe verwerp het en bang is dat hy (of sy) hierdie sonde gepleeg het, homself waarlik bekeer  -  en Hy sal sekerlik vind dat die Here hom aanneem (Jh 6:37).
     Ons lees van talle Christus-verwerpers in die Bybel wat later wel tot bekering gekom het: onder meer Paulus (Hd 26:9; 1Tm 1:13), Jesus se broers (Mk 3:21; Jh 7:5) en sekere Joodse priesters (Hd 6:7).
     Kinders wat in Christelike huise groot word, het dikwels na jare se blootstelling aan die evangelie alles behalwe 'n diepte-insig daarin. Baie van hulle breek dan weg van die waarhede waarin hulle opgegroei het  -  net om later radikaal tot geloof te kom.

Mense wat in die onkunde en dwaasheid van hulle ongeloof onverantwoordelike, selfs lasterlike dinge teen die Heilige Gees gesê het, het verskriklik gesondig  -  maar dit is nie die onvergeeflike sonde nie.

Die Skrif waarsku dat ons met ons sonde die Heilige Gees bedroef (Ef 4:30), en dat ons Sy werk in ons midde kan uitblus (1Ts 5:19, OAV). Beide waarskuwings moet baie ernstig opgeneem word  -  maar nie een daarvan is die onvergeeflike sonde nie.

As God se Woord teen die onvergeeflike sonde waarsku, wil dit nie leer dat ware kinders van God weer verlore kan gaan nie.
     In Jh 10:27-30 leer die Here Jesus baie uitdruklik dat die skape wat deur die Vader aan Hom as Goeie Herder gegee is (29), nooit weer kan verlore gaan nie. Hy gee aan hulle "die ewige lewe" (28); niks kan hulle uit Sy of die Vader se hand ruk nie (28-29); en dus sal hulle "in alle ewigheid nooit verlore gaan nie" (28). Hier en op talle ander plekke leer die Skrif dat nie 'n enkele uitverkorene ooit verlore sal gaan nie. Die Seun sal elkeen wat die Vader aan Hom toevertrou het uit die dood opwek (Jh 6:33-58).

•     Leer Hb 6:4-6 nie die teendeel nie? Die mense wat hier beskryf word, is immers
wedergebore  -  of is hulle? Nee, die Hebreërskrywer dink nie aan hulle as mense wat eens deur God herskep is nie.
     Eerstens wil die skrywer nie in hierdie waarskuwings leerstellige lering gee nie. Hierdie is pastorale oproepe, wat steeds in enige gemeentelike situasie kan en moet plaasvind. Alle
mense, ware gelowiges en huigelaars, moet dit hoor  -  in hulle hoedanigheid as verantwoordelike en aanspreeklike mense. Die Heilige Gees werk immers deur die Woord en gebruik juis sulke oproepe om die uitverkorenes in hulle wedloop aan te spoor.
     Tweedens is Heb 6:7-8 'n kort gelykenis wat aan die voorafgaande verse met "want" (OAV) verbind word. Dit bied dus 'n verduideliking daarvoor.
     Die reën wat gereeld val, is 'n tipiese beeld in die Bybel vir God se seën. Hier dui dit op die ervaringe in v.4-5. Maar reën val op alle soorte grond. En solank die grond nog kaal is, weet mens nie wat daar gaan opkom nie  -  bruikbare gewasse of onkruid.
     Die verskil lê dus nie in die reën wat val nie, maar in die soort grond.
     Diegene wat hier beskryf word, bring onkruid voort  -  ten spyte van die reën van God se seën op hulle lewens. Dis wat ná die Here se goedheid volg, wat die aard en gesteldheid van 'n mens se hart uitwys.
     Waarmee die skrywer dus hier werk, is die algemene Bybelse beklemtoning dat daar 'n
onverbreekbare verband is tussen hart en uitlewing, tussen boom en vrug (Mt 7:15-20; 12:33-37). Sy punt met hierdie gelykenis is dus duidelik: geloofsversaking is eenvoudig bewys dat die hart nog nooit herskep is nie.
     Hb 6:9-12 bevestig ons slotsom. Die skrywer glo, ten spyte van sy dringende waarskuwings, dat sy lesers wel gered is en gevolglik die geloof nie sal versaak nie: "... geliefdes, ons is aangaande julle van beter dinge oortuig ..." (OAV). Wat is die "beter dinge"?
     V.10-12 begin weer met "want" (OAV), en verduidelik dus v.9. Die "beter dinge" is die lesers se liefde en goeie werke. Beter as wat is dit? Dis beter as die belewinge van v.4-5! En waarom is dit beter? Omdat dit "saamhang met die saligheid" (v.9b, OAV). Die merktekens van wedergeboorte en ware redding is dus al vir jare onmiskenbaar! En daarom, so glo die skrywer, sál sy lesers volhard.
     Is dit dan moontlik dat onwedergebore mense die belewinge van Hb 6:4-5 kan
hê? Inderdaad! 'n Studie van Hb 6:4-5 se vyf uitdrukkings in die res van die Skrif, toon dat hierdie belewinge (afsonderlik en gesamentlik) ook deur ongeredde mense ondervind kan word. Wanneer mens se oë daarvoor oopgaan, is dit skokkend om in die Skrif te sien tot watter mate die Heilige Gees in en deur mense kan werk  -  alles duskant die wedergeboorte (vgl. Mt 7:21-23).
     In sy bekende boek, Redemption - accomplished and applied, skryf die vermaarde teoloog, Prof. John Murray (en as daar een teoloog was vir wie ek 'n enorme respek het, dan is dit die kliphard Calvinistiese John Murray): "Die Skrif self leer ons dus dat dit moontlik is om 'n opwindende, lewensveranderende, veredelende ervaring van die krag en waarheid van die evangelie te hê  -  sonder om werklik saligmakende geloof te hê. Dit is moontlik om so naby te kom aan die bonatuurlike kragte wat in God se koninkryk van genade werksaam is, dat dit effekte op jou het wat beswaarlik onderskeibaar is van dit wat God se wederbarende en heiligmakende genade voortbring  -  sonder om 'n deelgenoot van Christus en 'n erfgenaam van die ewige lewe te wees.
     'n Leerstuk van geloofsvolharding wat nie deeglik rekening hou met die moontlikheid en realiteit van sulke gevalle nie, moedig 'n laksheid aan wat volharding alles behalwe bevorder. Trouens, dit is hoegenaamd nie die Bybelse leer van die volharding van die heiliges nie" (p.153, vry vertaal).

VOLHARDING VAN DIE HEILIGES

Volgens die Skrif is dit 'n verskriklike moontlikheid om vir 'n tyd lank (dit kan jare wees) in die kring van die gemeente, en dus in die sfeer van God se genadewerkinge te beweeg  -  en tog uiteindelik vals blyk te wees. Dis waarom Johannes kan praat van mense wat eens in die gemeente was, maar hulle dan afgeskei het, omdat hulle nooit werklik deel van Christus se liggaam was nie (1Jh 2:19). Dis waarom Paulus gelowiges oproep om hulleself op die proef te stel of hulle in die geloof is (2Kor 13:5, OAV). Dis waarom die Hebreërskrywer sy lesers so dringend waarsku. Dis waarom hierdie dinge steeds gepreek moet word.

Volharding van die heiliges is egter steeds 'n heerlike Bybelse waarheid. Maar dan moet dit reg verstaan word: diegene wat God vir Homself geheilig het (oftewel afgesonder het) sal Hy bekragtig om heilig te volhard tot die einde toe.
     En 'n heilige lewe het maar één watermerk van egtheid: gehoorsaamheid aan God se Woord, vanuit 'n hart vol geloof in Christus, en gedring deur 'n hartstog vir Sy eer.


Nico van der Walt