Friday, August 5, 2011

ANTIPAS HEROUT No.30 : GOD SE FINALE SPREKE - 'n Bespreking van Hb 1:1-3

DIE SKRYWER SE DOEL MET HIERDIE BRIEF IS PASTORAAL VAN AARD. Sy lesers is Joodse Christene wat besig is om moeg te word in die geloofswedloop en oorweeg om weg te draai van Christus af, terug na die Ou Testamentiese seremoniële godsdiens.
Wat hy met sy skrywe aan hulle wil toon, is dat so 'n ommekeer nie net onsinnig is nie, maar inderdaad fataal. Die Ou Testament is vervul in Christus - wat beteken dat hulle wil terugdraai na iets wat eintlik nie meer bestaan nie. Wat meer is, aangesien al die Ou Testamentiese seremonies vooruit gewys het na die komende Messias, sal so ‘n besluit neerkom op ‘n skreiende belediging vir Christus. Dit sal ‘n versaking wees van die Middelaar van die genadeverbond - en sonder Hom is daar geen verlossing nie. Hierdie waarskuwing word oor en oor in die res van die brief herhaal - en in taal wat mens laat sidder.
In hierdie eerste verse val die skrywer met die deur in die huis. Wat ons moet verstaan, sê hy, is dat die koms en optrede van Jesus Christus nie maar net nog ‘n stap in die ontwikkeling van God se raadsplan is nie - met die gevolg dat mens bloot een tree agter raak as jy terugkeer na die Ou Testamentiese bedeling. Nee, jy verpas geheel en al alles waaroor dit gaan!
God se verlossingsplan en Sy openbaring aan die mens het in Sy Seun tot afrondende klimaks gekom. Daarom troon die Nuwe Verbond ver bo die Ou Verbond uit. Mens kan mos nie terugdraai na die voetheuwels toe, as die pieke vir jou wink nie!
In die verse onder ons vergrootglas vergelyk die skrywer die Ou en Nuwe Testamente. En in die allerduidelikste taal beklemtoon hy dan dat God se openbaring met die koms en optrede van Jesus Christus tot finale en kulminerende klimaks gekom het. Hy het opgehou om een na die ander profeet te stuur om oor Hom te praat. Nee, nou het Hy self gekom en alles wat nodig is om oor Hom en Sy plan te weet, persoonlik aan ons gewys. Dis soos die skerp spits van ‘n piramiede. Al die lyne van die Ou Testament loop na hierdie punt toe. En ‘n hoër openbaring as wat in die Seun gekom het, is net nie moontlik nie.
Nie alleen lê die Hebreërskrywer só die fondament vir die hele boek nie; wat hy sê, het enorme teologiese en praktiese implikasies.

'n Bietjie sinsontleding

Die eerste sin in die Grieks (Hb 1:1-2a) is swaar gelaai met betekenis van groot belang.
Dit bestaan uit twee dele: 'n voorafgaande bysin, gevolg deur 'n hoofsin. Deur hierdie twee gedeeltes op dieselfde manier te bou, belig die skrywer die kontras tussen die twee testamente.

• Die bysin: God het gespreek. Hoe? Baiekeer en op baie maniere. Dit was dus fragmentaries. Wanneer? In die verlede (in die tyd van die Ou Verbond). Tot wie? Tot die voorvaders. Deur wie? Deur die profete.
Die hoofsin: God het gespreek. Hoe? Eenmalig. Wanneer? In hierdie laaste dae. Tot wie? Tot ons. Deur wie? Deur die Seun.

'n Aantal fundamentele waarhede

God het tot ons gespreek.

Laat ons nooit die wonder daarvan vergeet nie dat die allerhoogste en enige God van hemel en aarde nie die veraf en onbekende God gebly het nie, maar dat Hy na ons toe afgebuig en Homself aan ons geopenbaar het.

Ou en Nuwe Testament is God se spreke.

Daardie deel van Sy openbaring wat God aan ál Sy kinders deur die eeue wou bekendmaak, het Hy deur die inspirasie van die Heilige Gees in die geskrifte van beide Testamente laat vaslê.

* Daar is 'n kontinuïteit of deurlopendheid tussen Ou en Nuwe Testament. Aangesien beide Testamente God se spreke is, kan ons verwag dat hulle mekaar nie sal weerspreek nie, maar dat die Nuwe op die verlenging van die Oue sal lê.

* Daar is 'n diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Testament. Die skrywer impliseer onmiskenbaar 'n onderskeid tussen die twee Testamente: die Nuwe styg ver bo die Oue uit - soveel as wat die Seun heerliker is as die profete.
Só stel die Hebreërskrywer dit in sy agste hoofstuk (7-13): "As daar aan die eerste verbond niks kortgekom het nie, sou 'n tweede nie nodig gewees het nie." Uiteindelik sluit hy af: "Deur van 'n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn."

* God se openbaring het 'n progressiewe of kumulatiewe karakter. Die teenstelling tussen die Testamente is dus nie 'n kontras tussen dit wat gedeeltelik vals is, enersyds, en dit wat volledig waar is, andersyds, nie. Dit gaan om beloftes wat vervul word, om die voorlopige wat gefinaliseer word, om die onvoltooide wat tot vervolmaking kom, om skaduwees wat tot substansie oorgaan. Die Nuwe Testament is in die Oue verborge; die Oue word in die Nuwe belig.
Herhaaldelik kom die woord “beter” in Hebreërs voor. Christus is beter as die engele (1:4), Hy bied 'n beter hoop (7:19) en waarborg 'n beter verbond (7:22). Dit alles is gegrond op beter beloftes (8:6) en 'n beter offer (9:23). Die verskil tussen Ou en Nuwe verbond is die verskil tussen dit wat goed is en dit wat beter is.

Die Nuwe Testamentiese openbaring het deur (lett. in) die Seun gekom, en as sodanig is Hy God se hoogste openbaring aan die mens.

Só stel Johannes dit in sy evangelie: "Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het Sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. ...Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak." (1:14, 18).
Waarlik, Jesus Christus is die hoogtepunt, die piek, die afronding, die kulminering, die vervolmaking van God se openbaring aan ons. Wie wil, wie durf, wie kan iets by Hom voeg!

* Dit moet altyd onthou word dat God Homself primêr in Sy Seun aan ons geopenbaar het - in Sy persoon, lering en werk. Waar kom die Bybel dan in die prentjie? Daarin vind ons die neerslag van God se openbaring in Sy Seun.
Reg van die begin af antisipeer die Ou Testament die koms van die Seun. In talle gevalle kan dit eers in die lig van die Nuwe Testament raakgesien word. Maar as jy eers gelowig só na die Ou Testament kyk, sien jy Hom orals.
Tog is dit die Nuwe Testament wat by uitnemendheid Christusgefokus is. Dit was die apostels se taak om hierdie openbaring in Christus vir ons neer te skryf. In die Evangelies beskryf hulle dit; in die res van die Nuwe Testament vertolk en ontvou hulle dit.

* As gesê word dat God met ons gepraat het "deur die Seun", is dit die vertaling van die Grieks wat bloot sê "in Seun" (sonder die lidwoord). Dit dra die idee: in so 'n persoon soos die Seun. Dit gaan dus vir die skrywer oor meer as net wat die Seun gesê het, dit gaan ook oor wat Hy was, sowel as oor wat Hy gedoen het.

Die Nuwe Testamentiese openbaring is God se finale openbaring aan die mens in hierdie lewe.

Hy hét in Christus gespreek (afgehandelde verlede tyd). En Hy spreek stééds in die "laaste dae". Laasgenoemde uitdrukking dui op die hele bedeling tussen die eerste en die wederkoms van Jesus Christus.

* Die woord vertaal met "in" (hierdie laaste dae) dui op 'n tydperk waarbinne iets gebeur. Dus: God hét gespreek; dit bly Sy spreke; dwarsdeur hierdie bedeling spreek Hy op net een manier - deur Sy Seun.

* Nog 'n woord wat die Hebreërskrywer dikwels gebruik, is "ewig". In Christus het ons nou reeds die ewige saligheid (5:9), 'n ewige verlossing (9:12), 'n ewige erfenis (9:15). Daar kom dus nie 'n beter bedeling in die toekoms nie. Wat ons nou in Christus het, is God se finale gawe - in terme van 'n ewige verbond (13:20). Dus, as die Nuwe Verbond die Oue by verre oortref, is daar eweseer niks wat ooit bo die Nuwe sal uitstyg nie. Dis die finale en ewige reëling van die verhouding tussen God en Sy uitverkorenes.

God se openbaring in Sy Seun is genoegsaam.

As die Here dit onnodig ag om meer aan ons te openbaar, het ons sekerlik nie meer nodig nie. Ons het dus alle openbaring wat vir hierdie bedeling nodig is - om godvrugtig volgens Sy wil en tot Sy eer te lewe, om alles te doen wat Hy van ons verg om uiteindelik salig te sterf.

Nie afgeskeep nie, maar uitnemend begenadig

As ons eers regtig begin verstaan wie die Een is deur wie God Sy laaste woord tot die mensheid gespreek het - en steeds spreek - sal ons besef waarom ons in geen opsig afgeskeep hoef te voel omdat daar nie verdere openbaring van God se troon na ons toe kom nie. Hierdie finale en glasheldere woord van God - gespreek toe Sy eie Seun, Jesus Christus, mens geword het en onder ons kom woon het - is reeds 2000 jaar oud. Tog is dit tot vandag toe meer as genoegsaam. Diegene wat hierdie spreke verstaan, word lewenslank daardeur gefassineer, leer gou dat ‘n leeftyd van studie nie genoeg is om dit te deurgrond nie, en is totaal vergenoegd daarmee. Behalwe vir vleeslike nuuskierigheid, kan hulle aan geen openbaring dink wat hulle nog verder van God sou wou ontvang nie, behalwe om die Seun net nóg beter te leer ken. Want hulle weet, Hý is die helderste venster - eintlik die enigste - deur wie hulle die lewende God kan sien. En aangesien dit die summum bonum van hierdie lewe is om die lewende God te ken (Jh 17:3), lê God se spreke in Christus in die middelpunt van hulle lewens en hartstogte.
Min het hierdie waarheid beter verstaan as die Hebreërskrywer. En hy weet dat sy lesers, tot die mate wat hulle dit ook begryp, alle geneigdheid sal verloor om terug te draai na Ou Testamentiese seremonies. Dis waarom hy onmiddellik voortgaan om die duiselingwekkende heerlikheid van Jesus Christus te besing. Die res van hierdie brief is tewens ‘n voortsetting daarvan, maar hier in 1:2-3 word dit in ekstrakvorm vir ons gegee. En omdat die Heilige Gees uiteraard ook weet hoe dit werk, het Hy in Sy goedheid verseker dat dit in die tydlose Bybel vir ons opgeteken en vasgelê word.

Die heerlikheid van die Seun (Hb 1:2-3)

In die lig van wie en wat Jesus Christus is, vervaag een na die ander Ou Testamentiese lig tot 'n dowwe skaduwee. Die openbaring wat deur Iemand só verhewe kom, kan mos nie anders as om onbetwisbaar gesaghebbend, algeheel betroubaar, en onberekenbaar waardevol te wees nie. Vergelyk Hom met die profete ‒ en dis so duidelik soos daglig dat die rykdomme van die Nuwe Testamentiese openbaring soos 'n hoë bergpiek bokant die Ou Testament uittroon. Meer nog, die gevolgtrekking is onontkombaar: op geen wyse kon God ons méér begunstig, as om so ‘n verhewe woord in so ‘n verhewe Persoon tot ons te spreek nie.
Luister dus aandagtig, sê die skrywer vir sy lesers - en ook vir ons - en gee puntenerig gehoor!
Wie is dan die Een deur wie God nou spreek?

God het Hom die erfgenaam van alles gemaak.

Hy ontvang hierdie erfenis in Sy hoedanigheid as die Middelaar en Hoof van die nuwe skepping - as die mens Christus Jesus (1Tm 2:5). Dit is reeds aan Hom toegesê in die ewige raad van God en in die verlossingsverbond tussen die drie persone van die Goddelike Drie-eenheid. As die “laaste Adam” (1Kor 15:45) is Hy nie net wetlike eienaar van alles nie (Kol 1:16), Hy het ook regeringsvolmag daaroor (Mt 28:18).
Die Messiaanse Psalm 2:8 is betekenisvol: “Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting." Sy erfenis uit die Vader se hand is dus in die eerste instansie 'n volk - ‘n bruid - vanuit alle volke, nasies en tale (Hb 2:8-13; Op 11:15).

Deur Hom het God die wêreld gemaak.

Die Seun was God se agent deur wie die heelal geskep is. “Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie” (Jh 1:3). En: “God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep” (Kol 1:16).
Die spesifieke woord wat hier in Hb 1:2 met “wêreld” vertaal word (Gr. aion), is in die meervoud en dra ook die idee van tyd. Dit moet dus bes moontlik eerder met eeue of bedelinge vertaal word (vgl. Ampl). Christus is inderdaad die Here van die geskiedenis, die Een deur wie God Sy raadsplan uitwerk. Hy is “die Koning van die eeue” (1Tm 1:17, OAV).

Uit Hom straal die heerlikheid van God.

Soos die son se ligstrale, is die mensgeworde Seun die uitstraling van God (2Kor 4:6). Die geheimenisvolle en wonderlike eenheid en samewerking tussen die Vader en Jesus Christus kan beswaarlik beter beskryf word. Net soos daar geen strale sonder die son sou wees nie, net so is die Seun ondenkbaar sonder Sy Vader. En net soos die son geen waarde vir ons sou hê as dit nie vir sy lewegewende strale was nie, net so sou ons bloedweinig van God die Vader kon weet, en sou Sy liefde niks vir ons beteken het, as dit nie vir die Seun was nie.
Tog is die son en die strale nie dieselfde nie - net soos die Vader en die Seun onderskei moet word as twee verskillende Persone (Jh 5:17; 8:42).
Christus is dus die sigbare, heerlike verskyning van God in Sy majesteit. Sonder die son se uitstraling sou ons nie daarvan geweet het nie; sonder Christus was ons in die duisternis oor wie en wat God is. In die Seun openbaar God Homself.

Hy is die ewebeeld van die wese van God.

Die woord wat met "ewebeeld" vertaal word, dui op die afgedrukte merk van 'n stempel of ring in seëllak. Al sien mens self nie die stempel nie, is die afdruksel 'n baie getroue weergawe daarvan. In Jesus Christus kan ons dus die essensiële elemente van God se wese sien - van wie en wat Hy werklik is.
Volgens 1Tm 6:16 woon God in 'n ontoeganklike lig. Geen mens kan Hom sien en bly lewe nie. Maar volgens Kol 1:15 is die Seun die beeld van die onsigbare God. Ons kan nie na God toe opklim om Hom te bestudeer nie; ons is totaal afhanklik van Sy selfopenbaring aan ons. En dit hét Hy gegee ‒ in Sy Seun, Jesus Christus!
En let op, dis van die mensgeworde Seun wat hierdie dinge gesê word! As ons hoogste roeping dan is om God te ken, behoort ons met alles daaraan te werk dat die Here Jesus meer en meer van ons blikveld vul.

Hy hou alle dinge deur Sy magswoord in stand.

Die Seun was nie net God se agent tydens die skepping nie, Hy is ook die Een wat alles in stand hou (Kol 1:17).
Die werkwoord dui op dinamiese handeling. Dit gaan dus nie net oor 'n passiewe en statiese verlening van steun nie, maar ook oor beweging, voortgang en doelgerigtheid [1]. Die Seun handhaaf nie net die status quo nie, Hy is aktief, dinamies en progressief besig. Hy dra die heelal voort op sy koers ‒ soos God dit verordineer het.
Dit alles doen Hy deur Sy magswoord; Hy dra alles deur Sy spreke. En nooit is hierdie spreke heerliker en kragtiger as in die vorm van die Evangeliewoord nie. Want hierdie woord skep nie net uit niks nie, dit skep vanuit die dood! Is die evangelie nie 'n "krag van God tot redding vir elkeen wat glo" nie (Rm 1:16)? Waarlik, God het "in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo" (1Kor 1:21) En is ware prediking nie die verkondiging van Christus nie? Daarom skryf Jakobus: God het ons "deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring" (1:18); en Petrus: "Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God" (1Pt 1:23).
Deur alle eeue word die ganse skepping, en in die besonder hierdie wêreld met al sy woelinge, voortgestu deur die wil en woord van sy Erfgenaam.

Hy het die reiniging van sondes bewerkstellig.

Die werkwoord is in ‘n vorm wat beklemtoon dat die Seun sélf ons sondes gereinig het [2]; Hy het geen minderwaardige plaasvervanger gebruik nie.
Verbysterend is dit dat Iemand so onuitspreeklik verhewe en heerlik, Sy lewe neerlê sodat verwerplike sondaars gered kan word! Meer as in enigiets anders sien ons hierin God se essensiële karaktertrekke: Sy onkreukbare geregtigheid wat kompromieloos daarop aandring dat alle sonde gestraf word; Sy onbeskryflike liefde wat dit moontlik maak dat Sy haters die teendeel kry van wat hulle verdien, naamlik genade; Sy onpeilbare wysheid wat Sy geregtigheid en Sy liefde so volmaak met mekaar kon versoen. Want in Christus se Golgota-offer sien ons God se geregtigheid en Sy liefde in intieme omhelsing.

Hy het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.

Die Een wat in sulke dieptes van vernedering afgedaal het, wat Homself verneder het deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem, en tot in die dood gehoorsaam was, is deur God tot die hoogste eer verhef, en ‘n Naam gegee wat bo elke naam is. Elkeen in die hemel en op aarde en onder die aarde sal die knie voor Hom buig. En elke tong sal erken dat Hy Jesus Christus, die Here is (Fl 2:6-11).

* Dat Hy gaan "sit" het, dui op die afhandeling van Sy werk. As die Here Jesus aan die kruis uitroep, "Dit is volbring!" (Jh 19:30), proklameer Hy triomfantelik dat die regsbasis vir sondaars se redding onbeweeglik en vir ewig in posisie geplaas is. Hy gaan sit dus in triomfantelike waardigheid. Die stryd is afgehandel, die prys is volledig betaal.

* Dat Hy aan die "regterhand" van die Majesteit, die Vader, in die hoë hemel sit, dui op Sy uitvoerende gesag. Daarom, tot vandag toe, as ‘n foto geneem word van ‘n kabinet met sowel ‘n seremoniële as ‘n uitvoerende hoof (soos byvoorbeeld ‘n Staatspresident en ‘n Eerste Minister), sal laasgenoemde altyd aan die regterkant sit. Hy is immers die een wat van dag tot dag regeer.
Die Seun is tans dus die aktiewe regeerder. Deur die eeue ná Sy kruisoorwinning, werk Hy die implikasies daarvan uit. Hulle wat die Vader aan Hom toevertrou het, word kop vir kop vanuit die nasies gaan haal. En Sy vyande word een na die ander onderwerp - in hierdie genadetyd met herskeppingskrag. En as God se raadsplan sy volle loop geneem het, sal Christus weer die koningskap aan Sy Vader oordra. “So sal God alles wees vir alles” (1Kor 15:24, 28).

Slot

Kom ons sluit af met ‘n aanhaling van John Owen, die prins van Puriteinse teoloë: “Met betrekking tot die manifestasie van Christus se heerlikheid, moet drie dinge in ag geneem word: die skaduwee, die volmaakte beeld, en die uiteindelike substansie. Diegene in die Ou Testament kon slegs die skaduwee van Christus se heerlikheid sien. Ons wat die evangelie het, het die volmaakte beeld. Maar die genieting van die substansie van Christus se rykdomme en heerlikheid, moet wag vir die hiernamaals - want dan sal ons by Hom wees en self die heerlikheid sien wat die Vader vir Hom gegee het, omdat Hy Hom al voor die skepping van die wêreld liefgehad het." [3]
As die beeld so wonderlik is, hoedanig sal die substansie nie wees nie!

Naskrif

Ek vertrou dis nie voorbarig nie, maar graag dra ek hierdie Herout op aan die nagedagtenis van wyle Prof. Christi Coetzee - gewese professor in Nuwe Testament aan die Potchefstroomse Teologiese Skool. In sy skitterende klasse het ek meer as twintig jaar gelede vir die eerste maal kennis gemaak met die eksegese van Hb 1:1-3. Wat ‘n dosent was hy nie! Ek is meer dank aan hom verskuldig as wat ek ooit onder woorde kan bring.
Helaas het ek destyds nie die volle implikasies van die afgeslotenheid en genoegsaamheid van die Godsopenbaring in Christus begryp nie. Dit het my ‘n dekade in die teologiese en kerklike woestyn gekos. Maar tot vandag toe loof ek nog gereeld die Here dat my oë in die tweede helfte van 1990 vir hierdie waarheid oopgegaan het. Dit het - sonder om te oordryf - lewensveranderende gevolge gehad.
Mei 2003

[1] Fritz Rienecker & Cleon Rogers, Linguistic Key to the New Testament, Zondervan, 1976, p.664.

[2] Aoristus medium partisipium van poieo; Rienecker & Rogers, p.664.

[3] Vry vertaal uit I.D.E. Thomas, A Puritan Golden Treasury, The Banner of Truth Trust, p.44-45.

Nico van der Walt

Monday, August 1, 2011

ANTIPAS HEROUT No.48 : AS DIE KERK MAAR WAARLIK KERK SAL WEES - 'n Aantal gedagtes oor Handelinge 20:17-38

SOOS DIE KRAAI VLIEG, WAS EFESE OMTRENT 50 KM VAN MILETE AF. Dit was egter 'n moeilike pad en dit het 3 dae se harde stap geverg om dit af te lê. Vir Efese se ouderlinge was dit dus groot moeite om by Paulus uit te kom. Maar hulle het dit met vreugde gedoen, want hulle het geweet dat kontak met die Here se apostel altyd wonderlike dividende opgelewer het. En so het dit ook geblyk - en in die proses het óns 'n stuk Skrifopenbaring gekry wat boordevol betekenis is.
Dit is sekerlik betekenisvol dat ons hier die enigste rede in Handelinge het wat tot Christene gerig is. Die ander toesprake is óf evangelisties van aard - 3 maal teenoor die Jode (2:14vv; 3:12vv; 13:16vv) en 3 maal teenoor nie-Jode (10:34vv; 14:14vv; 17:22vv); óf dis stukke regsverdediging - 3 maal voor die Sanhedrin in die vroeë dae (4:8vv; 5:29vv; 7:1vv) en 5 maal voor Joodse en Romeinse owerhede teen die einde van die boek (h.22-26).
Die leiers van Efese word op 3 maniere genoem: "ouderlinge" ('n woord wat dui op ouer en meer ervare manne) (17); "opsieners" (regeerders) (28, OAV); "herders" (oppassers van die Here se kudde) (28, OAV). Hierdie benaminge is konsekwent in die meervoud. So is dit regdeur die Nuwe Testament. Elke volwaardige gemeente moet deur 'n span ouderlinge gelei en versorg word - nie net deur een persoon nie.

'n Oorsig oor die gedeelte

'n Terugblik (20:18-21).
Die dinge wat die apostel noem, suig hy nie uit sy duim uit nie. Die Efesiërs "weet" dat dit wat hy sê die waarheid is (18, 34). Hy het hard onder hulle gewerk - sy hele lewe in hulle ingestort.
Paulus onderstreep veral 5 dinge:

* Wat hy vir die Efesiërs gedoen het, was eerstens en ten diepste vir die Here (19).

* Hy het hom nie oor die Efesiërs verhef nie, maar sy werk in nederigheid gedoen (19).

* Dit was nie maklik nie, maar het met baie hartseer en swaarkry gepaard gegaan (19).

* Hy het die volle raad van God onvermoeid, toegewyd en getrou vir hulle geleer (20).

* Hy was nie net pastoraal besig nie, maar het ook voortdurend geëvangeliseer (21).

'n Voortblik (20:22-27)
Die Heilige Gees het aan Paulus gewys dat swaarkry en gevangenskap op hom wag (23). Tog kan - en wil - hy dit nie vermy nie. Die Gees dring hom Jerusalem toe, hoewel hy weet dís waar hy probleme gaan kry (22).

* Beheersend hier is Paulus se oortuiging dat hy die Efesiërs nie weer gaan sien nie. Kennelik verwag hy dat sy lewe spoedig tot 'n einde kan kom (25).
Dit laat sy gedagtes loop na Eseg 3 en 33, en die gewigtige vooruitsig van verantwoording aan God oor die rentmeesterskap van sy lewe en bediening hier op aarde. Maar alles wat hy kon, het hy gedoen - sy gewete is skoon. Daarom kan hy in vrymoedigheid vir die Efesiërs sê dat hy "rein is van die bloed van almal" (26, OAV).

* Waarom kan hy so 'n oortuigde stelling maak? Vers 27 gee die rede: "want ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie." As daar dus van die Efesiërs verlore gaan, is dit nie sy skuld nie.

'n Oproep (20:28-35)
Paulus het agtertoe en vorentoe gekyk. Nou maak hy in die lig daarvan 'n appèl op sy mede-gelowiges: volhard in getrouheid en waaksaamheid! (28-31).

* In die eerste instansie moet die ouderlinge hulleself oppas (28a). Per slot van rekening is ook hulle net skape, wat niks vir die kudde kan beteken as hulle self geestelik veragter nie.

* Tweedens moet hulle na die Here se kudde omsien. Dis 'n gewigtige opgawe, want die kudde is oneindig kosbaar. Met Sy eie bloed het Christus hulle gekoop (28b).

* 'n Groot rede waarom Efese se ouderlinge waaksaam moes wees, was dat "wrede wolwe" na Paulus se vertrek onder hulle sou indring (29).
Hierdie gewetenlose en leuenagtige dwaalleraars sou selfs uit hulle eie geledere na vore kom - en "die gelowiges agter hulle aan ... probeer verlei" (30).
Tot vandag toe is dit 'n belangrike lakmoestoets vir die egtheid al dan nie van herders: bind hulle die Here se kudde aan Hóm of aan hulleself vas?

'n Hartseer afskeid (20:36-38)
Uiteindelik dra Paulus die gemeente aan God op en aan die woord van Sy genade (32).

* Ten slotte herinner hy hulle weer aan sy voorbeeld (33-35). En wat was die essensie van sy dienswerk onder hulle? Hy het geen teenprestasie of kompensasie van hulle verlang nie. Finansiële vergoeding wou hy geensins van hulle ontvang nie. Hy was soos 'n slaaf onder hulle. Ja, hy was húlle slaaf, maar ten diepste Jesus Christus s’n!
Duidelik het Paulus 'n hoë premie geplaas op so 'n bedieningsbenadering (vgl. ook (1Kor 4:12; 9:12b, 15-19; 2Kor 7:2; 11:7-12; 1Ts 2:8-12; 2Ts 3:7-9). Dit is die heel laaste ding wat op die Efesiërs se harte gedruk word, en 3 verse word daaraan gewy. Die implikasie is onmiskenbaar. Paulus wil vir die Efesiërs sê - en Lukas vir ons - volg hierdie voorbeeld na! Dis immers hoe die Here Jesus geleef het (Lk 8:3). En dis hoe Hy Sy dissipels geleer het (Mt 10:9-10; Mk 6:8-9; Lk 9:3; 10:4).

* Onmiskenbaar duidelik is die wonderlike liefde tussen apostel en ouderlinge as hulle groet. Onder trane neem hulle vir die laaste maal afskeid.

Die merkwaardige Woord

# Vers 32 bevat 'n besondere uitspraak. As Paulus op die punt staan om finaal van die Efesiërs afskeid te neem, vertrou hy hulle nie net aan God toe nie, maar ook aan die "woord van sy genade". Sonder twyfel verwys hy hier na die besondere openbaring van God. Die Ou Testament was reeds op skrif. En die Nuwe Testament was in die proses om op skrif gestel te word. Vir alle praktiese doeleindes het die apostel dus dit wat ons vandag as die Bybel ken hier in gedagte.
Hierdie is 'n gewigtige geleentheid. Paulus weet, in hierdie lewe gaan hy hierdie geliefde broers nie weer sien nie. Dis soos sterfbedwoorde. Hy bepaal hom in sy uitspraak net by die wesentlike. Elke woord is geweeg en gelaai.

# Waarom vertrou Paulus hierdie mense nie net aan God toe nie? In respek gevra, kan die Here nie op Sy eie na hulle omsien nie? Moet die Woord Hom help?

* Ons is hier by 'n kardinaal belangrike beginsel. God werk middellik! Hy gebruik instrumente! En as dit gaan oor die instandhouding en opbou van 'n gemeente, is geen instrument belangriker as die Woord nie. Die Gees werk deur die Woord! Tot so 'n mate is dit waar, dat die kerk deur die eeue 'n beginsel geformuleer het: Woord en Gees moet onderskei word, maar nooit mag mens die twee skei nie.

* Maar, let op, Paulus kwalifiseer die Woord. Dis die Woord van God se "genade". Die Griekse konstruksie wil sê: die woord met as inhoud God se genade. Paulus het dus die Evangeliewoord in gedagte (20:24) - die Woord wat die goeie nuus oor God se genade in Christus dra. Te veel mense dink aan prediking as bloot moralistiese vermaning. 'n Duisend maal nee! Ware prediking is Godgesentreerde en Christusgefokusde proklamering van God se vrye genadeheil vir sondaars - met natuurlik die implikasies daarvan. Prediking wat nie Christosentries is nie, is geen prediking nie - en dit doen meer kwaad as goed.

* Van hierdie Woord sê Paulus dat dit "magtig" is. Dit kan twee dinge vir die Efesiërs doen - en sekerlik ook vir ander mense:
Eerstens is die Woord magtig om hulle "op te bou". 'n Lewende gemeente is soos 'n groot gebou wat onder konstruksie is. Die uitdagings is elke dag nuut. Nuwe mense word gedurig bygevoeg. Elkeen in die kudde se omstandighede is verskillend en verander voortdurend. Altyd is daar sowel ryp gelowiges as dié wat nog met die eerste beginsels worstel. En deurgaans is een van die belangrikste oogmerke dat elkeen toeneem in kennis van God en Sy werke en weë, in gelykvormigheid aan Christus, en in bruikbaarheid as werker in die wingerd. En hierin speel bediening van die Woord 'n sentrale rol.
Tweedens is die Woord magtig om hulle te laat deel in die kinders van God se erfenis. Die Woord, veral die prediking daarvan, is dié instrument om die gelowiges deur te dra tot by die wenpaal. Te veel Christene verwaarloos hierdie beginsel. Dan is hulle verbaas dat hulle in die geloof veragter as hulle nie gereeld met die Woord omgaan en onder waarheidsprediking sit nie.

* Let verder op dat hierdie primêr 'n opdrag aan die ouderlinge van Efese is. Soos hy, Paulus, in die verlede met onvermoeide ywer en hartstogtelike erns by elke geleentheid en plek die heilsplan van God in sy volle omvang verkondig het (27, 31), so moet hierdie herders dit ook doen. Waarom is dit so belangrik? Omdat dit die één waarborg is dat hulle nie tevergeefs sal arbei nie. En so is dit tot vandag toe. Die Here se werkswyse en gereedskap het nie verander nie.

Enkele praktiese opmerkings

1. Die krag van die Evangeliewoord word sigbaar op talle maniere

# Die Woord werk op talle maniere.
Soms werk dit stadig en diep, ander kere blitssnel soos 'n pyl. Maar altyd is dit onweerstaanbaar en onfeilbaar effektief as die Gees dit laat tref. Waarom? Dit werk in jou hart, in die sentrum van jou persoonlikheid - daar waar alles wat jy is en glo bepaal word.

# Alle soorte mense word daardeur geraak.
Deur die eeue het tallose magtiges en invloedrykes laag voor die Woord van God en die God van die Woord gebuig. Hooggeleerdes het soos kindertjies geglo. Eenvoudiges wat maar min van hierdie wêreld en sy dinge begryp, het wys en verstandig geword wanneer dit gegaan het oor wat regtig saak maak. Die mees verdorwe mense in die samelewing is keer op keer onherkenbaar deur die evangeliewoord omgedop.

# Die krag van die Woord word sigbaar in die effekte daarvan op mense.
As die Woord regtig diep werk, verander mense se persoonlikhede dikwels só dat hulle haas onherkenbaar is. Muise word mans; geitjies word dames; ape word wys; jakkalse, buffels en varke is nooit weer dieselfde nie. Aan eie lyf het Paulus dit self beleef: "Die man deur wie ons vroeër vervolg is, verkondig nou die geloof wat hy destyds probeer uitroei het" (Gl 1:23).
Ook word mense se prioriteite alles behalwe onaangeraak gelaat deur die Woord. Hoeveel wat eers rykdom, eer en plesier nagejaag het, het nie deur die geskiedenis hoon of armoede of selfs die dood ter wille van Christus en Sy evangeliewoord omhels nie! En ken óns wat deur God se genade herskep is, nie die ervaring nie? Ons wat eens eindeloos geïrriteer is deur ware Christene, kan nou nie wegbly waar die dissipels van Jesus vergader nie.

2. Die krag van die Woord het 'n baie spesifieke oorsprong.

# Die krag sit nie in die Woord self nie.
Die Bybel het nie magiese krag nie. Op sigself kan dit niks bereik nie. Nee, die Woord is soos die bad van Betesda se waters - dit het nét genesende krag as 'n engel by wyse van spreke dit kom roer (Jh 5).

# Die krag sit nie in die instrument wat dit bedien nie.
Hulle wat plant en nat maak is niks nie (1Kor 3:7). Natuurlik is hulle nodig - want God werk middellik (Rm 10:14-17) - maar op sigself het hulle geen krag nie. En dis 'n groot genade, want indien predikers in beheer was van die Woord se effekte, sou die bloed van elkeen wat onder hulle bediening verlore gegaan het, van hulle hand ge-eis kon word.
Vroeër jare het die sendelinge wat in Wellington opgelei is, hulleself "die donkies" genoem. Hulle het hulleself bloot as die pakdiere beskou wat die kragtige evangelie die wêreld moes indra.

# Die Woord het net krag wanneer die Heilige Gees daardeur werk.
As die Gees die Woord bekragtig, is dit magtig, maar ook net dán.
Soewerein bepaal die Heilige Gees watter Skrifgedeelte Hy wil gebruik in die bekering of opbou van 'n persoon of persone. Hy bepaal watter mense daardeur geraak word. En Hy besluit oor die geleenthede en seisoene van krag.
Laat dit egter vir ons tot wonderlike bemoediging wees om te weet dat die Gees vreugde daarin het om die Woord te bekragtig. En dit hoef ons nie te verbaas nie. Hy word immers genoem: "die Gees van die waarheid" - en die Woord van God is waarheid. Hy is "die Gees van die oes" - en dis die evangeliewoord wat sondaars red, opbou en bewaar. Les bes is Sy basiese taak om Christus te verheerlik (Jh 16:14) - en Hý is die Hoofkarakter van die Woord.

3. Hóé herders in 'n kudde werk, is van die allergrootste belang.

# Wat is die ouderlinge se taak in 'n gemeente?
Mens sou minstens 7 dinge kon beklemtoon:
Hulle moet die heiliges met die Woord van God voed; pastoraal en geestelik na hulle as individue omsien; die volle waarheid van God vir hulle leer; hulle toerus om dienswerk in die gemeente en daarbuite te doen; hulle beskerm teen wolwe en dié se dwaalleer; leiding in die gemeente gee; en (helaas is dit ook soms nodig) daardie skape wat hulle soos bokke gedra, of inderdaad bokke is, dissiplineer - soos die situasie dit mag vereis.

# Die Opperherder gee drie stukke gereedskap aan Sy onderherders - en net drie.
Eerstens het hulle die Woord as kragtige instrument.
Tweedens het hulle gebed - dus inspraak by die almagtige Heerser van hemel en aarde (Hd 6:4).
Derdens is daar die invloed van hulle voorbeeld. In 1Pt 5:3 sê die apostel vir die ouderlinge dat hulle nie moet baas speel oor diegene wat God aan hulle sorg toevertrou het nie, maar dat hulle ’n voorbeeld vir die kudde moet wees. En in 1Kor 11:1 roep Paulus die gelowiges op om sy voorbeeld te volg, soos hy die voorbeeld van Jesus navolg.

# Die ouderlinge se gesindheid in hulle dienswerk is van die allergrootste belang.
Ten minste vyf dinge is onmisbaar:
Liefde vir elke lidmaat.
Begrip en verdraagsaamheid, want dis bloot "skape" waarmee die herders werk.
Respek vir elke broer en suster, aangesien elkeen só kosbaar deur die Here geag word dat Hy Sy lewe vir hom of haar afgelê het.
Diensbaarheid, omdat die grootste in die koninkryk diegene is wat dien.
Vertroue in elke gelowige se integriteit, erns en toewyding aan die Here.

# Laasgenoemde gesindheid van die onderherders vereis 'n opmerking of twee.
Die Skrif leer onmiskenbaar dat die Here deur Sy Gees gawes of spesiale bekwaamhede vir Sy liggaam gee. En elke lid van die liggaam het deel daaraan. Ouderlinge moet dus vertroue hê in die Gees se werkinge in die liggaam. Hulle moet erns maak met die priesterskap van die gelowiges. Nog meer, as mense nie die geleentheid gebied word om hulle gawes te oefen nie, sal hulle nooit gekonfyt raak daarmee nie.
Maar voordat hulle so 'n vertroue in mense kan hê, vereis dit dat ouderlinge, sover dit menslik moontlik is, seker sal maak dat voornemende lidmate inderdaad skape is, en nie bokke wat hulle as skape voordoen nie.
Niks lê 'n gemeente so lam soos 'n klomp mense in sy midde wat die Here nie regtig ken nie. Dit is waarom volkskerke in 'n samelewing onbeskryflike skade doen aan die kerk en evangelie se goeie getuienis, asook die Here se eer. Hier is ons dalk by die grootste enkele rede waarom die Afrikaanse samelewing teen 'n ysingwekkende tempo besig is om oor die afgelope jare sy rug op die kerk te draai. Presies dieselfde verskynsel het hom in Europa met sy volkskerke afgespeel.
Maar 'n verdere en balanserende opmerking is nodig. In reaksie teen kerke wat vol onwedergebore mense sit, is daar ander kerke wat súlke hoë standaarde vir toetrede verg, dat hulle amper eksklusiewe klubs raak. Nie alleen is so 'n mentaliteit onbybels nie, dit veroorsaak 'n skadelike en Godonterende fariseïsme. G'n wonder dat sulke gemeentes in hulleself gekeer, en jaar in en jaar uit net 'n handjievol bly nie.
Nee! As iemand regtig tot bekering kom, kwalifiseer hy of sy dadelik vir lidmaatskap. So 'n persoon is immers onmiddellik in Christus en deel van Sy liggaam. Dan moet hy uiteraard geleer word "om alles te onderhou" wat die Here Jesus beveel het (Mt 28:19). Maar dit moet ín die gemeente geskied. Die kerk is 'n werkswinkel, nie 'n museum nie.

# Wat die gesindheid van herders betref, móét ek verwys na 'n anekdote wat my eie hart op 'n stadium deurboor het:
Oor een van die grootste predikers en pastors van alle tye, C.H. Spurgeon, vertel sy seun ná sy dood: hy en sy pa was vir 'n lang tyd uit die gemeente weg. Met hulle terugkoms is 'n geselligheid gehou, omdat die mense vol uitbundige vreugde was dat hulle herder terug is. Terwyl die seun die mense se blydskap so gadeslaan, sê hy toe vir homself: "Hulle het hom baie, baie lief - amper so lief soos hy hulle het!" Sekerlik was hierdie een van die sleutels tot Spurgeon se bedieningsukses.

# In sy dienswerk was Paulus die toonbeeld van deeglikheid. Hy het alle moontlike waarheid aan alle moontlike mense op elke moontlike wyse verkondig. Met al sy krag het hy die hele evangelie aan die hele stad gebring.
G’n wonder dat hy 'n inspirasie vir Efese se ouderlinge was nie. En, natuurlik, is hy tot vandag toe 'n voorbeeld vir alle pastors en predikers - en Christene in die algemeen.

* Hy was deeglik in die lering wat hy gegee het.
Hy het "die evangelie van God se genade" gepreek (24); hy het die "koninkryk van God" verkondig (25); oor die noodsaak van bekering en geloof het hy nie geswyg nie (21); niks wat vir die gemeente voordelig was, het hy teruggehou nie (20); en hy het die heilsplan van God in sy volle omvang vir die gemeente geleer (27).

* Paulus was deeglik in sy werkswyse.
Hy het in die openbaar en in huise gepreek en geleer (20). Hy het dag en nag gewerk, by wyse van spreke. Hy het hom dus nie aan werksure gesteur nie. Hy het baie keer met trane vermaan en bemoedig (31).

# Oor sy eie prediking het die ou Puritein, Richard Baxter, gesê: "I preach as never sure to preach again - as a dying man to dying men!"

4. Vals herders en dwaalleraars is 'n werklikheid.

Oor en oor waarsku die Nuwe Testament teen diesulkes. Die Here Jesus noem hulle roofsugtige wolwe in skaapklere (Mt 7:15). Hulle was destyds aktief; hulle was deur die eeue bedrywig; hulle is vandag steeds met ons.
Predikers moet in die eerste instansie positief die wondere van God se genade-evangelie verkondig, vir seker. Maar oor die wolwe mag hulle ook nie vir baie lank swyg nie.

5. Om Sy heiliges in gemeentes saam te bind, is in die hart van die Here se verlossingsplan.

# Só sentraal is die gemeente in God se ordes en raadsplan, dat al drie persone van die Drie-eenheid betrokke is by die heiliges se redding en versorging in gemeenteverband. Dit is God se gemeente. Christus het hulle met Sy eie bloed gekoop. Die Heilige Gees stel herders aan om hulle as die Here se medewerkers te versorg (28).
Waarlik, om deel van 'n egte en lewende gemeente van die Here Jesus te wees, is een van die grootste voorregte wat enigeen in hierdie lewe kan smaak.

# Ontstellend baie mense wat hulleself as Christene beskou, is traak-my-nieagtig oor die deelhê aan 'n ware en lewende gemeente. Sulke mense verstaan nie die ordes van God nie. Bybels-gesproke is eiesinnige, alleenloper Christenskap ondenkbaar. Lees mens die Nuwe Testament, besef jy baie gou dat dit deurgaans ons Christenskap in die konteks van 'n liggaamslewe plaas. Let net op hoeveel van die opdragte aan dissipels te doen het met verhoudings met mede-gelowiges. Só veronderstel die mekaar-tekste, waarvan daar talle is, ons lewens as ingeweef in 'n liggaam van broers en susters.
Mense wat op hierdie punt God se ordes minag, moet verwag dat hulle geloofslewe ernstige skade gaan kry. [Dis natuurlik ás hulle geloof hoegenaamd eg is, want liefde vir die broers en susters is sonder uitsondering 'n uitvloeisel van die wedergeboorte (1Jh 3:14-20; 4:7-21)]. En, ewe erg, mense wat hulle Christenskap buite gemeente-verband probeer uitleef, maak - menslik gesproke - amper altyd seker dat hulle kinders eendag kerklos en ongelowig sal wees.

# Natuurlik is nie álle gelowiges bevoorreg om 'n aktiewe deel van 'n lewende gemeente te wees nie. Soms leef sendelinge baie afgesonderd. En sommige mense moet in omgewings woon en werk buite bereik van 'n gemeente. Vir Sy gunsgenote wat hulle buite hul beheer in sulke omstandighede bevind, het die Here egter spesiale genade. Wat meer is, die roeping rus dalk op hulle om instrumenteel te wees in die vorming van 'n gemeente in die uithoek waar hulle hul bevind. En natuurlik, as troos en noodmaatreël, stel moderne tegnologie ons vandag in staat om ten minste altyd toegang te hê tot klank- en video-opnames van goeie prediking.

# In die bespreking hierbo moet ons die begrip kerk of gemeente nie verkeerd verstaan nie. 'n Geïnstitusionaliseerde vertakking van 'n denominasie is nie noodwendig 'n gemeente in die Bybelse sin nie. As die Skrif van 'n gemeente praat, praat dit van 'n groep dissipels van Jesus Christus wat doelbewus by mekaar ingehaak het in hulle toewyding om Hom gesamentlik volgens Sy opdragte te dien. En hulle sal ten minste 'n premie plaas op waarheidsprediking, op aanbidding en beoefening van die sakramente in gees en waarheid, en op dissipline volgens Nuwe Testamentiese standaarde (Nederlandse Geloofsbelydenis art.29).
'n Handjievol mense kan so 'n gemeente vorm, selfs net 'n gesin, as dit régtig nie anders kan nie.

Nico van der Walt