Tuesday, July 24, 2012

ANTIPAS HEROUT No.9 - DIE GEMEENTE AS LAMPSTAANDER - Enkele perspektiewe op die sewe briewe van Openbaring 2-3

    Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê (2:7, 11, 17, 29, 3:6, 13, 22).

Dis verstommend hoeveel Christene hulle beswaarlik steur aan die Nuwe Testamentiese openbaring oor die kerk. Hoe min verstaan regtig waarom dit gaan in die gemeente  en wat sy grootse roeping is in die uitwerk van God se raadsplan. Wat het tog geword van die hartstog dat die kerk waarlik kerk sal wees!
    Daar is seker min Skrifgedeeltes wat meteen meer bekend én meer verwaarloos is, as die sewe briewe in Op 2-3. Elke brief regverdig uiteraard 'n dieptestudie, maar daar sit ook waarde in 'n oorsigtelike benadering ten einde die gesamentlike boodskap van die briewe te bekyk  -  soos ons nou gaan doen. Trouens, die waarhede wat hierdie kort studie aansny, het 'n onuitwisbare en lewensbepalende indruk op die skrywer hiervan gemaak. En hy glo dat talle nadenkende lesers dieselfde sal ondervind.

Sewe fasette van die kerk

Die tema van Die Openbaring is Jesus Christus se oorlog teen en uiteindelike triomf oor die Bose. Dit woed hom uit in die stryd tussen die kerk en die Godvyandiggesinde wêreldstelsel. Die boek bevat daarom blywende lesse vir die kerk van alle eeue. Van Hoofstukke 1- 3 geld dit by uitnemendheid.
    Die boek is 'n openbaring van die verheerlikte Jesus Christus aan die Apostel Johannes teen die einde van die eerste eeu. Dis geadresseer aan sewe spesifieke gemeentes in Klein-Asië (1:4). Hulle word in die eerste instansie aangespreek.
    Tog is die volheidsgetal, sewe, betekenisvol. Dit dui daarop dat hierdie gemeentes as 't ware die kerk van die hele bedeling tussen die eerste koms van Christus en Sy wederkoms verteenwoordig. Ons het hier sewe fasette van die universele kerk. Elkeen was keer op keer maar weer, tot 'n mindere of meerdere mate, sigbaar in die wêreldwye kerk deur die eeue.
    In hierdie briewe vind mens dus die wel en wee van die kerkgeskiedenis in embrionale vorm. Enersyds is daar die tragiese, die skandelike, die sonde en mislukkings. Andersyds is daar die triomfe, die heroïese getrouheid, die onwrikbare volharding. Die waarskuwings is dus gerig teen die tipiese gevare wat oor die eeue eintlik nie veel verander het nie. Hier is raad vir elke krisis, troos in elke beproewing, bemoediging vir elke desperate moment. Dis liefdesbriewe hierdie  -  uit die hart van die hemelse Bruidegom aan Sy geliefde bruid, Sy pelgrimskerk deur die eeue.
    As daar een ding is wat hierdie briewe tuisbring, dan is dit dat elke plaaslike gemeente van die allergrootste belang is vir die Here Jesus Christus. Per slot van sake is elke brief 'n puntenerige ontleding van elkeen se toestand.

Die Koning se prioriteite

Wat Christus prys

Dis 'n eenvoudige oefening om deur die briewe te lees, ten einde vas te stel waarop die Here Jesus 'n hoë premie plaas  -  wat Hy as belangrik ag:

•    Christelike liefde  -  teenoor die Drie-enige God en die medemens, veral broeders en susters in die geloof.

•    Diensbaarheid en goeie werke.

•    Geloof, geduld en volharding in 'n vyandiggesinde omgewing.

•    Kompromielose  leersuiwerheid en verwerping van valse leraars.

•    Haat, vermyding en uitroeiing van sonde.

•    Ywer vir die suiwerheid van die gemeente, asook die gepaardgaande dissipline en tug in diens daarvan.

•    Getrouheid in die gemeente se roeping om die waarheidsevangelie uit te dra.

Laat daar geen illusies hieroor wees nie: dis waaroor dit in gemeente-wees gaan; dis wat die Here in Sy gemeente soek. En dit geld ononderhandelbaar vir elke gemeente, ongeag van tyd, kultuur of omstandighede.

Wat Christus veroordeel

Ewe duidelik kom in hierdie briewe na vore wat die Here in Sy gemeentes verag en veroordeel  -  en waarteen ons met alles in ons vermoë moet waak:

•    Liefdeloosheid teenoor God en mens.

•    Die duld van dwaalleer en diegene wat dit verkondig.

•    Slap gemeentelike dissipline en verdraagsaamheid teenoor sowel sonde as sondaars in eie midde.

•    Vormgodsdiens en geestelike louheid.

•    Godsdienstige gearriveerdheid en selftevredenheid.

Wat Christus oënskynlik as onbelangrik ag

Dis baie betekenisvol om te let op dit waarna die Here Jesus gladnie in hierdie briewe verwys nie. Sekerlik is dit redelik om af te lei dat Hy dit nie as van primêre belang ag nie.

•    Lidmaatskapgetalle en -groei.

•    Die gemeente se finansiële begroting en fasiliteite.

•    Kwalifikasies en begaafdheid van personeel en voorgangers.

•    Organisasie, programme, akti-witeite, gesagstrukture.

•    Betrokkenheid by plaaslike of nasionale politiek en kultuur.

Goddelike en menslike beoordeling

Twee van die gemeentes kry net goedkeurende waardering van die Here. Smirna (2:8-11) en Filadelfia (3:7-13) kry as 't ware A-simbole.
    Daarenteen kry twee gemeentes net kritiek en bestraffing. Sardis (3:1-6) en Laodisea (3:14-22) kry F-simbole. In eersgenoemde is daar darem nog 'n paar wat heilig lewe (3:4). Laodisea is egter al so ver heen dat dit onseker is of daar nog diesulkes is (3:20).
    As hierdie vier briewe deurgewerk word, kom enkele sake na die oppervlak. Dit ruk elkeen wat die kerk se hoë roeping verstaan en die Here se eer op die hart dra, tot stilstand:

•    Die twee A-gemeentes is beide maar sukkelaars. Smirna is armoedig en verdruk (2:9-10). Filadelfia het min krag (3:8). In terme van hedendaagse idees is beide eintlik mislukkings  -  maar van die Hoof van die kerk kry hulle net lof.

•    Die twee F-gemeentes is op die oog af modelle. Sardis het selfs buite sy eie kring 'n reputasie van lewe (3:1). Waarskynlik dui dit op allerlei aktiwiteite. Laodisea is skatryk en reken dat hulle oor alles beskik wat 'n gemeente nodig mag hê (3:17). Vandag sou hulle as suksesvolle gemeentes geag word  -  maar Jesus Christus het nie 'n enkele goeie woord vir een van hulle nie!
    Besef ons hoegenaamd tot watter mate vandag se idees oor gemeentelike sukses en mislukking verskil van Bybelse norme? Dis lewensbelangrik dat elke gemeente homself voortdurend beoordeel in Skriflig. Sommige "mislukkings" mag dalk baie bemoedig anderkant uitkom; en party "suksesse" sal verseker geskud word tot in hulle fondamente! Gestel jou gemeente moes vandag so 'n brief van die Hoof van die kerk ontvang  -  wat sou die inhoud wees? Wat sou julle simbool wees?
    En laat ons maar versigtig wees om nie te vinnig met 'n opinie te kom nie. 'n Verdere waarneming toon hoe verskriklik maklik dit is om die bal totaal mis te slaan as jy wel die kerk beoordeel.

    Tweemaal sien ons in hierdie briewe hoe menslike evaluering lynreg strydig is met Christus s'n.

Buitestaanders reken dat Sardis lewe, maar die Here Jesus verklaar hulle dood (3:1)! Die gemeente in Laodisea klop hulleself op die skouer, maar die Here lewer vernietigende kritiek: hulle is ellendig, beklaens-waardig, arm, blind en kaal!
    Voorwaar is dit genade as 'n gemeente weier om sy ore uit te leen vir andere se lofsange, omdat hulle weet hoe totaal onbetroubaar menslike opinie is. En baie, baie wys is die plaaslike kerk wat, diep bewus van sy geneigdheid tot selfbedrog, homself weer en weer met meedoënlose eerlikheid in die Woord van God spieël.
    Die Reformatoriese vaders het hierdie dinge verstaan. Vandaar hulle wekroep:

    Semper Reformanda! (Voortdurende Reformasie). Maar, let noukeurig op, reformasie is nie om nuwe dinge te ontdek nie; dis om eeue-oue dinge opnuut weer te ontdek.

Hy wat God nie gereeld dank vir die ewig-vasstaande, universeel-gesagvolle, immer-betroubare Woord nie, begryp nog maar baie min van God se gansandersheid en die menslike verdorwenheid!

Die lampstaander

In die eerste drie hoofstukke van Openbaring word 'n baie sprekende simbool vir die plaaslike kerk gebruik: "die lampstaander" (1:12, 13, 20; 2:1, 5). Let ook op die Here se intieme betrokkenheid by elke gemeente: Hy stap tussen hulle rond  -  volgens die Grieks, heen en weer (1:13; 2:1).
    Dit is van besliste belang dat die Griekse woord wat in die Afrikaanse Bybels met "kandelaar" (OAV) en "lamp" (NAV) vertaal word, inderdaad reg verstaan en vertaal sal word. Die bepaalde woord is lugnia, en word 12 keer in die Nuwe Testament gebruik (Mt 5:15; Mk 4:21; Lk 8:16; 11:33; Hb 9:2; Op 1:12, 13, 20 (2x); 2:1, 5; 11:4).
    Gesaghebbende woordeboeke is eenstemmig:

    Die woord dui op 'n staander waarop een of meer lampe neergesit is, sodat die lig so wyd as moontlik kon skyn.

Dis met ander woorde nie die lamp self nie  -  daarvoor is daar ander woorde in Grieks. Die eerste 4 verse wat hierbo genoem is, bring die onderskeid tussen die lamp (Gr. lugnos) en die staander (Gr. lugnia) duidelik na vore. Hierdie onderskeid is veral hier van kardinale belang.
    Die beste Afrikaanse vertaling is dus "lampstaander". Omtrent alle moderne Engelse vertalings gebruik dan ook deurgaans "lampstand".
    Wat is die punt? In hierdie laaste en verhewe stuk openbaring wat die verheerlikte Christus aan Sy kerk gee, word onmiskenbaar en oor en oor duidelik gesê:

    Een van die wesenstake van elke gemeente (indien nie díé wesenstaak nie) is om 'n lampstaander in hierdie wêreld te wees.


Hieruit volg noodwendig die vraag: wat is dan die lamp, die lig, wat bo van die lampstaander af moet skyn?

     Christus is die Lig van die wêreld (Joh 8:12)!

Wat anders kan hier bedoel word as dat verkondiging van die Christus-gesentreerde evangelie elke gemeente se sentrale roeping is! So 'n afleiding is volledig in pas met die res van die Nuwe Testament. Fil 2:15-16 spel dieselfde roeping uit: "Tree ... op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra." En Paulus wil niks anders doen nie as om Christus, die Gekruisigde, te verkondig (1Kor 2:2).
    Iemand mag nou sê hy is nog altyd geleer die "kandelaar" staan vir die Heilige Gees. Almiskie. In elk geval maak dit min verskil, want die Heilige Gees het juis gekom om Christus te verheerlik (Jh 15:26; 16:8-11; 16:14).

Verwydering van die lampstaander

Die gemeente in Efese word gewaarsku dat die Here hulle lampstaander sal verwyder indien hulle hul nie bekeer nie (2:5).
    Wat beteken dit? Hoe verwyder Christus dit? Wat presies gebeur in 'n gemeente as die lampstaander verwyder word?
    Die Bybel gee nie eksplisiete antwoorde op hierdie vrae nie. Maar ervaring het ons talle lesse geleer. Die kerkgeskiedenis (ook ons land, helaas) is propvol voorbeelde van wat gebeur as 'n gemeente se lampstaander verwyder word.

•    Geestelike blindheid begin stadigaan intree. Lidmate begin geleidelik sig verloor op die wonder van hulle redding (selfs al is dit inderdaad nog die geval, wat geensins 'n uitgemaakte saak is nie). Die gevolg is dat Christus se glansryke heerlikheid algaande verdof. En, onvermydelik,raak die mense se getuienis oor die Here se Naam en groot verlossingsdade al hoe stiller.

•    'n Klemverskuiwing vind toenemend plaas. Die mens en sy dinge begin sentraal raak. 'n Mensgesentreerde boodskap begin van die kansel af verkondig word. En mettertyd hou die prediking niks meer as sedelessies in nie.
    Voorts ontstaan daar 'n beheptheid om die kerk lekkerder en meer sosiaal te maak. En om van hierdie wêreld 'n beter plek te maak, staan al hoe meer voorop.

Die tragiese gevolg is dat "die Lig van die wêreld" nie meer vanuit so 'n gemeente skyn nie. Christus word nie meer na 'n sterwende wêreld uitgehou nie. En Hy is nie meer die lidmate se wysheid, geregtigheid, heiligmaking en verlossing nie - daar word net nie meer in Hom geroem nie, in elk geval nie meer uit die harte en met nat wange nie (1Kor 1:30-31, OAV).

•    Christus word nie meer as God se Groot Profeet gepreek nie. Sy verbysterend grootste openbaring oor die persoon en karakter van God, Sy radikale leringe en Sy oproepe tot dissipelskap word afgewater en mense se ore word gestreel. Die Woord word gevolglik nie behoorlik uitgelê nie, maar allerlei binne-wêredse, sogenaamde praktiese temas word behandel. Christus en Sy apostels se ontvouing van God se wet in die Nuwe Testament skuif in die agtergrond. Dat hierdie wêreld net ons tydelike woning is, vervaag al hoe meer in lidmate se gemoedere.

•    Christus word nie meer as God se Groot Hoëpriester gepreek nie. Die verskriklike prys wat Hy in Sy menswording en kruisiging aan die vloekhout en onder Sy Vader se toorn betaal het vir die mense wat aan Hom toevertrou is, word al hoe meer verwater. En die sentiment dat Hy vir alle mense betaal het, lei noodwendig, al word dit nie uitdruklik gesê nie, tot die konklusie dat almal tog maar op die ou end gered sal word. Per slot van rekening sal mense se sonde mos nie dubbeld gestraf word nie  -  eers aan die Seun en dan aan die sondaar self. Radikale dissipelskap en gehoorsame volharding tot die einde toe word dus 'n rariteit in gemeentes.
    En van Christus se voortgaande priesterlike voorspraak vir Sy mense by die Vader  -  as hulle enigste hoop om tot die einde toe te volhard  -  weet die meeste kerkmense gladnie meer nie.

•    Christus word nie meer as God se Groot Koning gepreek nie. Jy gaan tevergeefs na so 'n gemeente toe om van Sy soewereine seggenskap, beslaglegging en regering in Christene se lewens te hoor. Die noodsaak van selfaflegging en kruisdra in Sy voetspore is vervang met die eensydige beklemtoning van al die hier-en-nou-voordele van Christenwees. Van Sy vermoë om sondaars bonatuurlik toe te rus tot 'n heilige lewe, word bloedweinig gesê; en van Hom as toekomstige Regter nog minder.

Normaalweg word so 'n gemeente nou gewild. Waarom? 1Kor 1:23 gee die antwoord. Die "struikelblok" (OAV) is verwyder en huigelaars voel tuis. En die prediking bevat nie meer "onsin" nie, met die gevolg dat vleeslike ongelowiges nie aanstoot neem en uitwyk nie.
    Selfvoldaanheid volg nou. As God se Wet en heilige standaarde nie gepreek word nie, wat hou die mense nederig? Voeg hierby gewildheid en getalle wat toestroom  -  en gearriveerdheid is onvermydelik.

    Die afwesigheid van Christus-gesentreerdheid in 'n gemeente is nie die oorsaak waarom 'n gemeente die lampstaander verloor nie  -  dis die bewys dat dit alreeds verwyder is!

Dis meer as tragies, maar 'n kerk kan vir eeue so lampstaander-loos voortbestaan. Al wat nodig is, is om genoeg institusionele stutte in te bou, en dit staan vanself  -  'n ruïne, opgetooi in prag en praal. En niemand binne die mure besef dit nie, want almal wat in die lig wandel, het lank vantevore reeds vertrek. Waar die Here Jesus is, daar is Sy dienaars immers saam met Hom (Jh 12:26).

'n Lotsbepalende keuse

Deur al die eeue staan daar steeds 'n vlymskerp keuse voor elke gemeente (asook elke prediker en lidmaat):

    Kies jy getrouheid, of kies jy sukses?

Wat is getrouheid? Om in God se oë te slaag. Wat is sukses? Om in mense se oë te slaag.
    Natuurlik kan mens getrouheid kies, en ook suksesvol wees (in die Here se genade). En mens kan sukses kies, en tog in mense se oë misluk.

    Maar dis onmoontlik om sukses te kies  -  en terselfdertyd in God se oë te slaag.

O, as ons maar kon onthou: daar is twee paaie voor elke gemeente. En dit vereis 'n keuse  -  onontkombaar, radikaal, intens-bewustelik, lotsbepalend.

    Dit gaan óf om mense se eer (sodat óns verheerlik kan word), óf om God se eer (sodat Hý verheerlik kan word).
                                                                                                                             Nico van der Walt










                              

Friday, July 20, 2012

ANTIPAS HEROUT No.49 - CHRISTUS SE REGTERSTOEL - Lig uit die Korintiërbriewe

God se Woord is baie duidelik: óók diegene wat in Christus sterf, sal die eindoordeel moet deurgaan. En hulle sal aan presies dieselfde norme gemeet word as die ongelowiges. "God trek immers niemand voor nie" (Rm 2:11). Hy het nie witbroodjies nie. Hy meet nie met dubbele standaarde nie.
    In 'n sin is die Christelike lewe hier en nou niks anders nie as die Here God se gereedmaking van Sy kinders vir daardie dag van afrekening. Hy werk nou heiligmakend só in die uitverkorenes dat nie 'n enkele een van hulle op daardie dag verleë sal staan nie. Selfs diegene wat verwerp word  -  ook die duiwel  -  sal op daardie dag geen fout kan vind met die feit dat miljoene ewige loon ontvang nie. God se vyande sal moet toegee: elkeen  -  gered en ongered  -  ontvang presies in ooreenstemming met die lewe wat hy of sy in hierdie lewe geleef het.

        Laat ons nooit die volle evangelie vergeet nie: Ja, ons word gered uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, en deur geloof alleen. En oor hierdie mees fundamentele kant van ons verlossing sal ons nooit kan ophou juig nie. Maar ons mag nie hier stop nie. Ons word eweneens gered tót heiligheid, goeie werke en gehoorsaamheid  -  en daarom uiteindelik ook vólgens die lewe van geregtigheid waartoe die Heilige Gees ons in staat gestel het, nadat Hy ons geroep en wederbaar het vanuit 'n God-vermydende hartsgesteldheid en 'n selfgesentreerde lewe, tot 'n God-soekende lewe van die najaging van Sy eer.

Die inhoud van hierdie hoofstuk word, wat hierdie skrywer betref, skreiend verwaarloos in prediking vandag, en heelwat lesers mag dus geskok wees as hulle dit lees. Dit word egter nie verwag dat enigeen dit vir soetkoek moet opeet nie. Toets die inhoud hiervan dus krities aan die hand van die Bybelboodskap as geheel.
    Ekself het nie die vaagste benul van hierdie waarheid gehad nie, maar toe ek die Bybel ernstig na my wedergeboorte as volwassene begin lees het, het ek spoedig tot hierdie oortuiging gekom  -  en dit het lewensveranderende effekte op my gehad.

Die eindoordeel het twee komponente

•    Eerstens praat die Skrif oor die skeiding van diegene wat gered is en diegene wat nie gered is nie  -  soos byvoorbeeld in Mt 25:31-46, waar die skape en bokke van mekaar afgekeer word. Onmiskenbaar duidelik geskied dit op grond van die lewens wat die mense geleef het (vgl. Rm 2:6-11). Omdat hierdie twee groepe radikaal verskillende bestemmings het, kan hulle nie langer deurmekaar loop nie.

•    Tweedens praat die Skrif dan van 'n beoordeling van gelowiges se lewens met die oog op hulle ewige loon (Mt 10:42; Mk 9:41; Lk 14:12-14; 1Kor 3:10-15; Ef 6:8; 2Jh 8). Let op dat hierdie mense se saligheid nie nou op die spel is nie. Ons praat immers van diegene wat deur 'n ware geloof vir tyd en ewigheid met Christus verenig is.
    Ons sal die res van hierdie studiestuk aan hierdie tweede aspek van die eindoordeel wy. In die proses sal ons konsentreer op uitsprake in die Korintiërbriewe.

2 kor 5:10 : Basiese beginsels

Hierdie vers sny meeste van die beginsels aan wat ter sprake is as ons 'n Bybelse perspektief op die eindoordeel van Christene wil bekom.

•    Die vers begin met "want" (OAV) of "immers" (NAV). Dit verduidelik dus die voorafgaande vers 9.
    Ook v.9 hou verband met die voorafgaande ("Daarom", OAV). Paulus skryf na aanleiding van die komende dood en die implikasies daarvan (1-8).

•    As die apostel sê hy het net een wens (9, NAV), naamlik om te lewe soos die Here wil, gebruik hy 'n woord wat beteken om ambisieus te wees. Dit is dus sy brandende hartstog om in alles wat hy doen die Here te behaag.

•    Ons "almal" moet voor die regterstoel verskyn  -  selfs Paulus en die ander apostels. Vir een en elkeen sal daar dus 'n dag van afrekening kom.
    Ons wat in Christus is, kan en moet ons verheug in die wonder van onomkeerbare regverdiging en die sekere vooruitsig op ons komende heerlikmaking. Maar dit onthef ons nie van die gewigtige verantwoordelikheid om lewenslank en puntenerig in die lig van Christus se komende regterstoel te leef nie.
    Sekerlik is dankbaarheid vir die Here se groot verlossingsdade genoegsame rede vir 'n lewe wat dit najaag om Hom te behaag en te verheerlik. Maar daar is nóg 'n rede:

My lewe hier en nou bepaal my loon, al dan nie, in die hiernamaals!

•    As die apostel skryf dat ons voor Christus sal "verskyn", gebruik hy 'n sterk woord: ons sal blootgelê word, gestroop van elke fasade van ordentlikheid  -  om totaal en volledig geopenbaar te word vir wie en wat ons was.
    Die beoordeling sal dus baie deeglik wees. Alles sal in ag geneem word.

•    "Elkeen sal ontvang" volgens wat hy of sy tydens hierdie aardse lewe gedoen het. Eintlik wil die Grieks sê dat 'n mens dit sal terug ontvang. Dit sinspeel op onpartydige en regverdige beoordeling.

•    Voorts bied 'n versigtige lees van die teks nog 'n belangrike perspektief  -  op twee maniere.
    Eerstens, die werkwoord "gedoen" is 'n eenvoudige verlede tyd. Vanaf die regterstoel word dus teruggekyk op iemand se lewe as 'n eenheid, as 'n geheel. Dit gaan oor wat jy tipies gedoen het.
    Tweedens, Paulus skryf, letterlik, ons sal die dinge (meervoud) terug ontvang wat in die liggaam gedoen is, of dit (enkelvoud) goed was of kwaad.
    Hierdie oorgang van die meervoud na die enkelvoud is verrassend en sprekend. Wat dit wil tuisbring, is dat, hoewel niks die beoordeling sal ontglip nie (dinge, meervoud), sal ons lewens en dade as 'n geheel beskou word (enkelvoud).
    Opgesom: geen enkele daad of versuim kan met sekerheid uitwys of iemand genade ontvang het, al dan nie. Nee, al die besonderhede van ons lewens gesamentlik  -  ons tipiese gedrag  -  wys uit wie ons werklik in ons diepste wese is.
    Ons lewe, nadat ons met Christus verenig is, sal dus as 'n geheel beoordeel word  -  en dit sal nie net uitwys of ek inderdaad deur die Gees van God herskep is nie, maar dit sal ook my loon bepaal.

•    Die "kwaad", wat die teendeel van "goed" is, beteken eintlik waardeloos. Dit bevestig die res van die Nuwe Testament se getuienis dat die regterstoel vir die Here se kinders nie 'n strafbank sal wees om 'n vonnis uit te meet nie. Nee, dis 'n waardebepaling om uitspraak te gee oor die loon wat elke dissipel van Jesus moet kry.
   
1korintiërs 3:10-15 : moet ten alle koste nie vir ewig na rook ruik nie!

Elke ware gelowige bou uiteraard op Jesus Christus  -  die fondament wat reeds gelê is (11). Hier is nogeens 'n herinnering dat ons nie bloot oor ewige redding, al dan nie, praat nie.
    Maar elkeen "moet mooi kyk hoe hy verder bou" (10b). Ons werk gaan immers "aan die lig kom" (13). Dis dieselfde begrip as wat ons in 2Kor 5:10 raakgeloop het: ons werk sal blootgelê word; dit sal gesien word vir presies wat dit was.
    Ons bouwerk sal deur vuur getoets word  -  dus deur en deur. Slegs as ons kwaliteitsmateriaal gebruik, sal ons loon kry. Verbrand ons werk egter, sal ons nie beloon word nie  -  hoewel ons self gered sal word (15).
    In vers 13 skryf die apostel dat die gehalte van elkeen se werk "getoets" sal word  -  dit sal op die proef gestel word (OAV).
    Daar is veral twee woorde in Grieks wat dui op die aanlê van 'n toets (Gr. dokimazo en peirazo). Laasgenoemde woord dui op 'n toets wat óf met geen verwagting oor die uitkoms nie, óf dikwels met die verwagting van 'n negatiewe resultaat, aangelê word. Maar dis eersgenoemde woord wat hier gebruik word. En dikwels dui dit op 'n toets wat optimisties aangelê word  -  dat die uitkoms positief sal wees.
    In Lk 14:19 en Jh 6:6 word die betekenis van die woorde goed uitgebring.
    Johannes 6:6 gebruik die negatiewe begrip, peirazo. Dis 'n toets wat die Here Jesus op Filippus aanlê om sy kleingeloof uit te wys.
    Wat gebeur, is dat daar 'n skare is wat moet kos kry. Dan sê Jesus vir Sy dissipel, "Waar sal ons gaan kos koop?" Al waaraan Filippus kan dink, is dat hulle nie genoeg geld het vir al die kos wat nodig is nie. As hy egter geloof gehad het, sou hy gesê het dat daar vyf broodjies en twee vissies is, en dat die Here dit sekerlik kan vermeerder. Maar Jesus weet hy het nié hierdie geloof nie en wil dit sagkens vir hom aan die verstand bring.
    Daarenteen vertel Lk 14 van 'n man wat osse gekoop het en hulle dan wil uitprobeer. Hier word die positiewe begrip, dokimazo gebruik. Die suggestie is dus dat hy nie kan wag om te sien hoe goed sy nuwe aanwas gaan vaar nie. Sy verwagting is positief.

    •    Die vuurtoets, eendag, sal dus nie daarop ingestel wees om alles wat sleg was in ons lewens uit te wys nie. Inteendeel, dit sal juis die goeie wil uitwys! Dit sal niks wat beloon kan word, wil oorslaan nie.
    Vir God se kinders, ten spyte van die skrikwekkende gewigtigheid van die geleentheid, sal die eindoordeel tog ook 'n blye oomblik wees. Nee, meer nog:

 Die eindoordeel sal vir hulle wat in Christus gered is, gepaard gaan met onbeskryflike vreugde oor die wonderlike loon wat toegeken word  -  'n welgeluksalige lewe, onbeskryflik in sy heerlikheid, wat tot in alle ewigheid nie sal verbygaan nie.


Terwyl elkeen wat iets verstaan van die gewigtigheid van daardie ontmoeting met Christus nie anders kan as om dit in die vrese van die Here tegemoet te gaan nie (2Kor 5:11, OAV), is dit dus ook so dat ons met positiewe verwagtinge daarna kan en moet uitsien.
    Dis soos 'n student wie se maag gespanne ineentrek as hy aan sy naderende finale eksamen dink. Maar dis 'n goeie ding, want dit spoor hom des te meer aan om hard te werk. Tog gaan hy die eksamen ook met opgewonde afwagting tegemoet. Hy het alle rede om te glo dat hy goed sal slaag  -  en dat dit die behaling van sy graad sal beteken.
    Gelowiges kan en moet die eindoordeel dus positief en vol verwagting benader, nie negatief nie. Wat hier beskryf word, is die prysuitdeling!

Die apostel se gesindheid

Die apostel Paulus het dit waarna ons tot nou toe gekyk het, met alle ywer uitgeleef. Hy wou ten alle koste met goud, silwer en edelstene bou. In 1Kor 9 skryf hy dat hy sy Christelike wedloop voluit hardloop.
    As hy in v.24 sê dat net één die prys kry, bedoel hy nie dat net een persoon eendag beloon sal word nie. Dis sy manier om te sê, aangesien net een in 'n gewone wedloop die wenprys kry, is alle atlete wat ernstig is, ingestel op die eerste plek. En dieselfde gesindheid van toewyding moet ons geestelike wedlope kenmerk. Ons moet dus "gaan vir goud"!
    Vergelyk mens v.27 in die OAV en die NAV, kom jy 'n verskil agter. Die NAV is 'n beter weergawe van Paulus se bedoeling. Hy sê nie dat hy bang is om verwerp te word nie. Hy is nie bevrees dat hy verlore sal gaan nie. Daarvoor is hy té gevestig in Christus, té oortuig van die onomkeerbaarheid van sy regverdiging. Wat hy sê, is dat hy alles in die stryd werp sodat hy nie vir die prys gediskwalifiseer sal word nie (NIV). Hy wil nie loon inboet te wyte aan laksheid nie. Ten alle koste wil hy verhoed dat sy lewenswerk  -  of 'n deel daarvan  -  in rook opgaan.
    Wat het Paulus se wedloop ingehou? Per slot van rekening het elkeen van ons 'n eie roeping en eie gawes. In Paulus se geval moet hy die evangelie op skrif stel en dit so ver en wyd as moontlik verkondig.
    Dis in die uitvoering van híérdie taak wat hy al sy kragte inspan (v.23). En hy maak geen geheim daarvan dat sy oë op die loon vasgenael is nie, want hy sê: "sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê" (vgl. ook v.23 in die NIV en ESV).
    Weer en weer word dit duidelik in die Nuwe Testament hoe ernstig die apostel Paulus oor hierdie saak was, selfs tot in die fynste besonderhede.
    Hy skryf in 1Kor 4:5 dat die Here die dinge wat in die duisternis verborge is, aan die lig sal bring en die bedoelings van die hart sal blootlê. Hy neem dus die Here Jesus se waarskuwing in Lk 12:1-3 baie ernstig op: daar is niks geheim wat nie bekend sal word nie.
    Woorde soos hierdie wil 'n mens se keel laat toetrek, nie waar nie. Maar kyk hoe sluit die apostel v.5 af. Voorop in sy gedagtes is nie verleentheid en verlies wat sal volg op blootlegging nie, maar lof  -  lof!
    Dus, hier kom die positiewe al wéér na vore!


Wat sê dit onder meer vir ons?

1.    Sien jy die kontinuïteit, die deurlopenheid tussen hierdie lewe en die lewe hierna?
As die graad van jou heerlikheid eendag afhang van jou getrouheid en toewyding hier en nou, moet jý as persoon en individu mos bly voortbestaan. Jy sal dus jou identiteit behou  -  net soos die Here Jesus nadat Hy opgestaan het.
    In antwoord op sekere dwaalleraars wat beweer het dat 'n ander liggaam as my huidige eendag sal opstaan, sê die ou kerkvader, Chrisostomus: "Hoe so? Sê my, sal één sondig en 'n ander gestraf word; sal één goed doen en 'n ander gekroon word?"

2.    Sien jy die noodsaak van wedergeboorte?
Wedergeboorte is 'n hartsverandering  -  jou diepste wese word herskep. En dit alleen kan 'n sondegevalle mens se verdorwenheid só verander dat geregtigheid die tipiese van sy lewe word.
    Nooit mag ons vergeet dat die wedergeboorte 'n absolute voorvereiste is vir 'n outentieke Christelike lewe nie. In 2Kor 5:17 skryf die apostel: "Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk dit het alles nuut geword" (OAV). Voordat hierdie herskepping nie met 'n sondaarmens gebeur nie, is dit vir hom onmoontlik om 'n lewe te leef wat as geheel eendag die toetse van Christus se regterstoel sal slaag.
    As Johannes in sy eerste brief die merktekens van die wedergeboorte behandel, is twee daarvan, oorwinning oor sonde en die doen van geregtigheid (1Jh 3:9; 2:29; vgl. OAV). En in beide gevalle gebruik die apostel 'n werkwoordsvorm wat dui op voortgaande en tipiese handeling (ongelukkig mis ons Afrikaanse vertalings die punt, maar vgl. NIV; ESV). Presies dít is wat Christus eendag sal soek as Hy loon uitdeel.

3.    Laat ons goed kennis neem van die maatstawwe wat eendag op ons aangelê sal word.
Die apostel Paulus het presies geweet waaroor dit gaan en wat sy lewenstaak was. Hy het die reëls van die geloofswedloop geken. Hy het geweet wat beloon gaan word en wat waardeloos is. Sy teiken was vlymskerp voor hom afgeëts (1Kor 9:26). En tyd en energie het hy nie op beuselagtighede verspil nie.
    Nou sal talle sê, dis juis my probleem, ek weet nie wat my roeping is nie. Wat is die Here se wil vir my lewe?
    Wel, dis 'n baie groot seën as mens jou nis in die koninkryk gevind het  -  en hoe vroeër hoe beter. Maar gewoonlik kom dit eers met toenemende ervaring en ouderdom.
    Maar, sal jy dalk sê, wat moet ek intussen doen? Moet ek bloot maar wag? Allermins!
    As mens die Bybel versigtig lees, sien jy dat die beoordeling op daardie dag veral sekere dinge in ag sal neem. Laat ons daarvolgens leef, en ons kan verseker wees dat die regterstoel van Christus 'n wonderlike prysuitdeling vir ons sal wees.
    Op grond van die Skrif kan ons met sekerheid sê dat die volgende dinge in ag geneem sal word deur die Groot Beoordelaar.

•    Ons getrouheid en gehoorsaamheid.
In die gelykenis van die talente sê die eienaar vir die slawe wat hy beloon: "Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel" (Mt 25:21, 23).
    Hierdie slawe het hulle baas se opdragte ernstig opgeneem en puntenerig uitgeleef. Sý belange was vir hulle voorop, nie hulle eie gerief of voordeel nie.
    Dis waarom Jesus in Jh 12:48 sê dat Sy woorde op daardie dag die ongehoorsames sal oordeel. Ons sal volgens die Here se opdragte beoordeel word!

•    Ons motiewe en gerigthede.
By meer as een geleentheid bring die Here Jesus ons motiewe hier en nou, en ons ewige loon, in direkte verband met mekaar (Mt 6:1; Lk 12:1-3). Gaan dit vir jou vandag oor die goedkeuring en eer van mense, sal jy alle loon eendag verbeur. Speel jy nóú vir die pawiljoene, sal jy dán bedroë daarvan afkom.
    Hier is die beginsel: ek en jy moet besluit waar en wanneer ons ons loon wil hê: hier of daar, nou of dan. Die wêreld is bereid om dadelik uit te betaal. Maar as jy in die hemel belê sal jy in geloof moet wag. Maar, al is dit 'n langtermyn belegging, verseker God se Woord ons dat die dividende meer as die moeite werd sal wees.
    Vir seker is dit nie sonder betekenis nie dat die Woord van God in hierdie verband 'n besondere klem laat val op die belangrikheid van materiële uitdeling. Dít is een van die uitnemende maniere om skatte in die hemel te vergader (Mt 6:19-20; Lk 12:31-33; Lk 18:22; 1Tm 6:17-19).
    Daar is dus twee beleggingsalternatiewe voor ons. Die een se dividende betaal nog in hierdie lewe uit, maar die sekuriteit is bedenklik. Die ander se sekuriteit is absoluut en die opbrengs duiselingwekkend. Maar mens moet in die geloof daarvoor wag, soms baie lank.

•    Ons lig en geleenthede.
In die gelykenis van die waaksame slaaf, sê die Here Jesus dat die slaaf wat goed weet wat sy baas wil hê, maar dit nie doen nie, 'n swaar straf sal kry. Daarenteen sal die een wat te wyte aan onkunde nie doen wat die baas wil hê nie, 'n veel ligter straf kry. Híér is dus die beginsel: "Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word" (Lk 12:47-48).

•    Ons gesindhede.
In 1Kor 9 skryf Paulus oor die feit dat hy die evangelie uit eie keuse verkondig. Daarom doen hy dit kosteloos. Hy weet immers dat die loon wat hy nóú van die hand wys, wel eendag in die hiernamaals aan hom uitbetaal sal word (9:14-18).
    In 2Kor 9 gaan dit nogeens oor geld en ewige loon. Wie volop saai, sal volop maai. En in die besonder is dit belangrik om blymoedig en vrywillig te saai  -  want by uitstek is dit súlke uitdelers vir wie God lief is, wat Hy in hierdie lewe sal versorg, en wat eendag volop sal oes (9:6-8).

4.    Let op die hartsgesteldheid wat die feit van die komende regterstoel in Paulus verwek.
Soos gesien, gaan Paulus in 2Kor 5:11 voort: "Omdat ons dan die vrees van die Here ken" (OAV). Omdat daar 'n onontkombare wetmatigheid is, naamlik dat baie vereis word van diegene wat baie ontvang het  -  is die vooruitsig op die regterstoel vir 'n Christen enorm gewigtig. Hoeveel het ons nie ontvang nie! Hoeveel ontvang ons nie steeds nie!
    Laat die volle gewig hiervan lewenslank op jou hart druk:

Wat ek in hierdie lewe saai, sal ek tot in alle ewigheid maai; die kwaliteit van die saad wat ek nou saai, bepaal vir ewig die kwaliteit van my loon!

5.    Van alle mense is ons die allerlaastes wat kan kla dat ons beoordeel gaan word.
Is ons nie herskep sodat ons heilig en godvrugtig kan lewe nie? Is God se wette nie op die tafels van ons harte gegrafeer nie? Werk die Gees van die Here nie nou só in ons dat ons eendag vir die loon kan kwalifiseer nie?
    Waarlik, niks is meer redelik as die oproepe en imperatiewe van die Nuwe Testament nie. "Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is" (Rm 12:1). "Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik" (1Kor 6:19-20).

6.    Al is dit ék wat beloon sal word, is dit die Here alleen wat die eer daarvoor moet kry.
In Op 4:8-11 lees ons van die vier-en-twintig ouderlinge wat hulle krone voor die troon van die Here terugplaas. Dis hulle stefanoi (Gr.), oftewel lourierkranse, simbool van die prys wat oorwinnaars in die Christelike wedloop ontvang. En dan breek hulle in 'n wonderlike lofuiting uit: "U is waardig ..."
    Waarom gee hulle hul krone terug? Omdat hulle besef dat hulle die prys en loon wat hulle vir hierdie lewe se getroue volharding ontvang het, hoegenaamd nie self verdien het nie. Dit is Gód se werk in hulle wat beloon is. Was elke oorwinnaarstree van hulle wedloop nie 'n genadegawe nie?
    Laat ons dus altyd onthou: elke stukkie godsvrug in my lewe is ten diepste  werk van Christus in my. Onthou, dis ten diepste nie ék wat gekroon gaan word nie, maar Christus in my.
    Wat leer dit dan vir jou en vir my? As mens die wenpaal seëvierend wil bereik, moet jy leer om gelowig in die krag van God se Gees te leef en te werk.

God gee die oorvloed van Sy gawes by die wenpaal, omdat ons in die geloof Sy gawes op die baan aangeneem het.

Ten slotte
As mens na die maatstawwe kyk wat God se Woord stel, is dit duidelik dat baie "Christene" nie die toets sal slaag nie. Hoe is dit dan dat Paulus, as hy oor die eindoordeel praat, soos klokslag die klem laat val op die sekerheid van beloning?
    Die antwoord is eenvoudig. Sy versekeringe oor ewige loon skryf hy aan wedergebore mense. En hy weet dat die hartsverandering wat die wedergeboorte bewerkstellig, só diepgaande is dat élke wedergeborene, ten spyte van baie oorblywende gebrokenheid, tog tot 'n mindere of meerdere mate aan die maatstawwe vir beloning voldoen.
    'n Laaste gedagte oor hierdie saak: wat die Here Jesus in ag gaan neem tydens Sy evaluering met die oog op ons ewige loon, is nie net ons dade nie, maar ook ons geleenthede; nie net wat ons was nie, maar ook wat ons kon gewees het; nie net wat ons bereik het nie, maar ook wat ons nagejaag het; nie net wat ons gedoen het nie, maar ook wat ons nagelaat het; nie net die getal van ons goeie werke nie, maar ook die gewig daarvan.
    UIteindelik sal dít die vraag wees: tot watter mate was ek gelykvormig aan Christus se beeld  -  in my hartsgesindhede en in my dade?
                                                                                                                            Nico van der Walt

Thursday, July 19, 2012

ANTIPAS HEROUT No.30 - GOD SE FINALE SPREKE - 'n Bespreking van Hb 1:1-3

In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die majesteit in die hoë hemel (Hb 1:1-3, NAV).

Die skrywer se doel met hierdie brief is pastoraal van aard. Sy lesers is Joodse Christene wat besig is om moeg te word in die geloofswedloop en oorweeg om weg te draai van Christus af, terug na die Ou Testamentiese seremoniële godsdiens.
    Wat hy met sy skrywe aan hulle wil toon, is dat so 'n ommekeer nie net onsinnig is nie, maar inderdaad fataal. Die Ou Testament is vervul in Christus  -  wat beteken dat hulle wil terugdraai na iets wat eintlik nie meer bestaan nie. Wat meer is, aangesien al die Ou Testamentiese seremonies vooruit gewys het na die komende Messias, sal so 'n besluit neerkom op 'n skreiende belediging vir Christus. Dit sal 'n versaking wees van die Middelaar van die genadeverbond  -  en sonder Hom is daar geen verlossing nie. Hierdie waarskuwing word oor en oor in die res van die brief herhaal  -  en in taal wat mens laat sidder.
    In hierdie eerste verse val die skrywer met die deur in die huis. Wat ons moet verstaan, sê hy, is dat die koms en optrede van Jesus Christus nie maar net nog 'n stap in die ontwikkeling van God se raadsplan is nie  -  met die gevolg dat mens bloot een tree agter raak as jy terugkeer na die Ou Testamentiese bedeling. Nee, jy verpas geheel en al alles waaroor dit gaan!
    God se verlossingsplan en Sy openbaring aan die mens het in Sy Seun tot afrondende klimaks gekom. Daarom troon die Nuwe Verbond ver bo die Ou Verbond uit. Mens kan mos nie terugdraai na die voetheuwels toe, as die  pieke vir jou wink nie!
    In die verse onder ons vergrootglas vergelyk die skrywer die Ou en Nuwe Testamente. En in die allerduidelikste taal beklemtoon hy dan dat God se openbaring met die koms en optrede van Jesus Christus tot finale en kulminerende klimaks gekom het. Hy het opgehou om een na die ander profeet te stuur om oor Hom te praat. Nee, nou het Hy self gekom en alles wat nodig is om oor Hom en Sy plan te weet, persoonlik aan ons gewys. Dis soos die skerp spits van 'n piramiede. Al die lyne van die Ou Testament loop na hierdie punt toe. En 'n hoër openbaring as wat in die Seun gekom het, is net nie moontlik nie.
    Nie alleen lê die Hebreërskrywer só die fondament vir die hele boek nie; wat hy sê, het enorme teologiese en praktiese implikasies.

'n Bietjie sinsontleding

Die eerste sin in die Grieks (Hb 1:1-2a) is swaar gelaai met betekenis van groot belang.
    Dit bestaan uit twee dele: 'n voorafgaande bysin, gevolg deur 'n hoofsin. Deur hierdie twee gedeeltes op dieselfde manier te bou, belig die skrywer die kontras tussen die twee testamente.
    Die bysin: God het gespreek. Hoe? Baiekeer en op baie maniere. Dit was dus fragmentaries. Wanneer? In die verlede (in die tyd van die Ou Verbond). Tot wie? Tot die voorvaders. Deur wie? Deur die profete.
    Die hoofsin: God het gespreek. Hoe? Eenmalig. Wanneer? In hierdie laaste dae. Tot wie? Tot ons. Deur wie? Deur die Seun.

'n Aantal fundamentele waarhede

God het tot ons gespreek.

Laat ons nooit die wonder daarvan vergeet nie dat die allerhoogste en enige God van hemel en aarde nie die veraf en onbekende God gebly het nie, maar dat Hy na ons toe afgebuig en Homself aan ons geopenbaar het.


Ou en Nuwe Testament is God se spreke.

Daardie deel van Sy openbaring wat God aan ál Sy kinders deur die eeue wou bekendmaak, het Hy deur die inspirasie van die Heilige Gees in die geskrifte van beide Testamente laat vaslê.

•     Daar is 'n kontinuïteit of deurlopendheid tussen Ou en Nuwe Testament. Aangesien beide Testamente God se spreke is, kan ons verwag dat hulle mekaar nie sal weerspreek nie, maar dat die Nuwe op die verlenging van die Oue sal lê.

•    Daar is 'n diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Testament. Die skrywer impliseer onmiskenbaar 'n onderskeid tussen die twee Testamente: die Nuwe styg ver bo die Oue uit  -  soveel as wat die Seun heerliker is as die profete.
    Só stel die Hebreërskrywer dit in sy agste hoofstuk (7-13): "As daar aan die eerste verbond niks kortgekom het nie, sou 'n tweede nie nodig gewees het nie." Uiteindelik sluit hy af: "Deur van 'n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn."

•    God se openbaring het 'n progressiewe of kumulatiewe karakter. Die teenstelling tussen die Testamente is dus nie 'n kontras tussen dit wat gedeeltelik vals is, enersyds, en dit wat volledig waar is, andersyds, nie. Dit gaan om beloftes wat vervul word, om die voorlopige wat gefinaliseer word, om die onvoltooide wat tot vervolmaking kom, om skaduwees wat tot substansie oorgaan. Die Nuwe Testament is in die Oue verborge; die Oue word in die Nuwe belig.
    Herhaaldelik kom die woord "beter" in Hebreërs voor. Christus is beter as die engele (1:4), Hy bied 'n beter hoop (7:19) en waarborg 'n beter verbond (7:22). Dit alles is gegrond op beter beloftes (8:6) en 'n beter offer (9:23). Die verskil tussen Ou en Nuwe verbond is die verskil tussen dit wat goed is en dit wat beter is.

Die Nuwe Testamentiese openbaring het deur (lett. in) die Seun gekom, en as sodanig is Hy God se hoogste openbaring aan die mens.

Só stel Johannes dit in sy evangelie: "Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het Sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. ...Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak." (1:14, 18).
    Waarlik, Jesus Christus is die hoogtepunt, die piek, die afronding, die kulminering, die vervolmaking van God se openbaring aan ons. Wie wil, wie durf, wie kan iets by Hom voeg!

•     Dit moet altyd onthou word dat God Homself primêr in Sy Seun aan ons geopenbaar het  -  in Sy persoon, lering en werk. Waar kom die Bybel dan in die prentjie? Daarin vind ons die neerslag van God se openbaring in Sy Seun.
    Reg van die begin af antisipeer die Ou Testament die koms van die Seun. In talle gevalle kan dit eers in die lig van die Nuwe Testament raakgesien word. Maar as jy eers gelowig só na die Ou Testament kyk, sien jy Hom orals.
    Tog is dit die Nuwe Testament wat by uitnemendheid Christusgefokus is. Dit was die apostels se taak om hierdie openbaring in Christus vir ons neer te skryf. In die Evangelies beskryf hulle dit; in die res van die Nuwe Testament vertolk en ontvou hulle dit.

•    As gesê word dat God met ons gepraat het "deur die Seun", is dit die vertaling van die Grieks wat bloot sê "in Seun" (sonder die lidwoord). Dit dra die idee: in so 'n persoon soos die Seun. Dit gaan dus vir die skrywer oor meer as net wat die Seun gesê het, dit gaan ook oor wat Hy was, sowel as oor wat Hy gedoen het.

Die Nuwe Testamentiese openbaring is God se finale openbaring aan die mens in hierdie lewe.

Hy hét in Christus gespreek (afgehandelde verlede tyd). En Hy spreek stééds in die "laaste dae". Laasgenoemde uitdrukking dui op die hele bedeling tussen die eerste en die wederkoms van Jesus Christus.

•     Die woord vertaal met "in" (hierdie laaste dae) dui op 'n tydperk waarbinne iets gebeur. Dus: God hét gespreek; dit bly Sy spreke; dwarsdeur hierdie bedeling spreek Hy op net een manier  -  deur Sy Seun.

•     Nog 'n woord wat die Hebreërskrywer dikwels gebruik, is "ewig". In Christus het ons nou reeds die ewige saligheid (5:9), 'n ewige verlossing (9:12), 'n ewige erfenis (9:15). Daar kom dus nie 'n beter bedeling in die toekoms nie. Wat ons nou in Christus het, is God se finale gawe  -  in terme van 'n ewige verbond (13:20). Dus, as die Nuwe Verbond die Oue by verre oortref, is daar eweseer niks wat ooit bo die Nuwe sal uitstyg nie. Dis die finale en ewige reëling van die verhouding tussen God en Sy uitverkorenes.

God se openbaring in Sy Seun is genoegsaam.
                                       
As die Here dit onnodig ag om meer aan ons te openbaar, het ons sekerlik nie meer nodig nie. Ons het dus alle openbaring wat vir hierdie bedeling nodig is  -   om godvrugtig volgens Sy wil en tot Sy eer te lewe, om alles te doen wat Hy van ons verg om uiteindelik salig te sterf.

Nie afgeskeep nie, maar uitnemend begenadig

As ons eers regtig begin verstaan wie die Een is deur wie God Sy laaste woord tot die mensheid gespreek het  -  en steeds spreek  -  sal ons besef waarom ons in geen opsig afgeskeep hoef te voel omdat daar nie verdere openbaring van God se troon na ons toe kom nie. Hierdie finale en glasheldere woord van God  -  gespreek toe Sy eie Seun, Jesus Christus, mens geword het en onder ons kom woon het  -  is reeds 2000 jaar oud. Tog is dit tot vandag toe meer as genoegsaam. Diegene wat hierdie spreke verstaan, word lewenslank daardeur gefassineer, leer gou dat 'n leeftyd van studie nie genoeg is om dit te deurgrond nie, en is totaal vergenoegd daarmee. Behalwe vir vleeslike nuuskierigheid, kan hulle aan geen openbaring dink wat hulle nog verder van God sou wou ontvang nie, behalwe om die Seun net nóg beter te leer ken. Want hulle weet, Hý is die helderste venster  -  eintlik die enigste  -  deur wie hulle die lewende God kan sien. En aangesien dit die summum bonum van hierdie lewe is om die lewende God te ken (Jh 17:3), lê God se spreke in Christus in die middelpunt van hulle lewens en hartstogte.
    Min het hierdie waarheid beter verstaan as die Hebreërskrywer. En hy weet dat sy lesers, tot die mate wat hulle dit ook begryp, alle geneigdheid sal verloor om terug te draai na Ou Testamentiese seremonies. Dis waarom hy onmiddellik voortgaan om die duiselingwekkende heerlikheid van Jesus Christus te besing. Die res van hierdie brief is tewens 'n voortsetting daarvan, maar hier in 1:2-3 word dit in ekstrakvorm vir ons gegee. En omdat die Heilige Gees uiteraard ook weet hoe dit werk, het Hy in Sy goedheid verseker dat dit in die tydlose Bybel vir ons opgeteken en vasgelê word.

Die heerlikheid van die Seun (Hb 1:2-3)

In die lig van wie en wat Jesus Christus is, vervaag een na die ander Ou Testamentiese lig tot 'n dowwe skaduwee. Die openbaring wat deur Iemand só verhewe kom, kan mos nie anders as om onbetwisbaar gesaghebbend, algeheel betroubaar, en onberekenbaar waardevol te wees nie. Vergelyk Hom met die profete  -  en dis so duidelik soos daglig dat die rykdomme van die Nuwe Testamentiese openbaring soos 'n hoë bergpiek bokant die Ou Testament uittroon. Meer nog, die gevolgtrekking is onontkombaar: op geen wyse kon God ons méér begunstig, as om so 'n verhewe woord in so 'n verhewe Persoon tot ons te spreek nie.
    Luister dus aandagtig, sê die skrywer vir sy lesers  -  en ook vir ons  -  en gee puntenerig gehoor!
    Wie is dan die Een deur wie God nou spreek?
   
God het Hom die erfgenaam van alles gemaak.

Hy ontvang hierdie erfenis in Sy hoedanigheid as die Middelaar en Hoof van die nuwe skepping  as die mens Christus Jesus (1Tm 2:5). Dit is reeds aan Hom toegesê in die ewige raad van God en in die verlossingsverbond tussen die drie persone van die Goddelike Drie-eenheid. As die "laaste Adam" (1Kor 15:45) is Hy nie net wetlike eienaar van alles nie (Kol 1:16), Hy het ook regeringsvolmag daaroor (Mt 28:18).
    Die Messiaanse Psalm 2:8 is betekenisvol: "Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting." Sy erfenis uit die Vader se hand is dus in die eerste instansie 'n volk  -  'n bruid  -  vanuit alle volke, nasies en tale (Hb 2:8-13; Op 11:15).

Deur Hom het God die wêreld gemaak.

Die Seun was God se agent deur wie die heelal geskep is. "Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie" (Jh 1:3). En: "God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep" (Kol 1:16).
    Die spesifieke woord wat hier in Hb 1:2 met "wêreld" vertaal word (Gr. aion), is in die meervoud en dra ook die idee van tyd. Dit moet dus bes moontlik eerder met eeue of bedelinge vertaal word (vgl. Ampl). Christus is inderdaad die Here van die geskiedenis, die Een deur wie God Sy raadsplan uitwerk. Hy is "die Koning van die eeue" (1Tm 1:17, OAV).

Uit Hom straal die heerlikheid van God.

Soos die son se ligstrale, is die mensgeworde Seun die uitstraling van God (2Kor 4:6). Die geheimenisvolle en wonderlike eenheid en samewerking tussen die Vader en Jesus Christus kan beswaarlik beter beskryf word. Net soos daar geen strale sonder die son sou wees nie, net so is die Seun ondenkbaar sonder Sy Vader. En net soos die son geen waarde vir ons sou hê as dit nie vir sy lewegewende strale was nie, net so sou ons bloedweinig van God die Vader kon weet, en sou Sy liefde niks vir ons beteken het, as dit nie vir die Seun was nie.
    Tog is die son en die strale nie dieselfde nie  -  net soos die Vader en die Seun onderskei moet word as twee verskillende Persone (Jh 5:17; 8:42).
    Christus is dus die sigbare, heerlike verskyning van God in Sy majesteit. Sonder die son se uitstraling sou ons nie daarvan geweet het nie; sonder Christus was ons in die duisternis oor wie en wat God is. In die Seun openbaar God Homself.

Hy is die ewebeeld van die wese van God.

Die woord wat met "ewebeeld" vertaal word, dui op die afgedrukte merk van 'n stempel of ring in seëllak. Al sien mens self nie die stempel nie, is die afdruksel 'n baie getroue weergawe daarvan. In Jesus Christus  kan ons dus die essensiële elemente van God se wese sien  -  van wie en wat Hy werklik is.
    Volgens 1Tm 6:16 woon God in 'n ontoeganklike lig. Geen mens kan Hom sien en bly lewe nie. Maar volgens Kol 1:15 is die Seun die beeld van die onsigbare God. Ons kan nie na God toe opklim om Hom te bestudeer nie; ons is totaal afhanklik van Sy selfopenbaring aan ons. En dit hét Hy gegee  -  in Sy Seun, Jesus Christus!
    En let op, dis van die mensgeworde Seun wat hierdie dinge gesê word! As ons hoogste roeping dan is om God te ken, behoort ons met alles daaraan te werk dat die Here Jesus meer en meer van ons blikveld vul.

Hy hou alle dinge deur Sy magswoord in stand.

Die Seun was nie net God se agent tydens die skepping nie, Hy is ook die Een wat alles in stand hou (Kol 1:17).
    Die werkwoord dui op dinamiese handeling. Dit gaan dus nie net oor 'n passiewe en statiese verlening van steun nie, maar ook oor beweging, voortgang en doelgerigtheid. Die Seun handhaaf nie net die status quo nie, Hy is aktief, dinamies en progressief besig. Hy dra die heelal voort op sy koers  -  soos God dit verordineer het.
    Dit alles doen Hy deur Sy magswoord; Hy dra alles deur Sy spreke. En nooit is hierdie spreke heerliker en kragtiger as in die vorm van die Evangeliewoord nie. Want hierdie woord skep nie net uit niks nie, dit skep vanuit die dood! Is die evangelie nie 'n "krag van God tot redding vir elkeen wat glo" nie (Rm 1:16)? Waarlik, God het "in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo" (1Kor 1:21). En is ware prediking nie die verkondiging van Christus nie? Daarom skryf Jakobus: God het ons "deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring" (1:18); en Petrus: "Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God" (1Pt 1:23).
    Deur alle eeue word die ganse skepping, en in die besonder hierdie wêreld met al sy woelinge, voortgestu deur die wil en woord van sy Erfgenaam.

Hy het die reiniging van sondes bewerkstellig.

Die werkwoord is in 'n vorm wat beklemtoon dat die Seun sélf ons sondes gereinig het; Hy het geen minderwaardige plaasvervanger gebruik nie.
    Verbysterend is dit dat Iemand so onuitspreeklik verhewe en heerlik, Sy lewe neerlê sodat verwerplike sondaars gered kan word! Meer as in enigiets anders sien ons hierin God se essensiële karaktertrekke: Sy onkreukbare geregtigheid wat kompromieloos daarop aandring dat alle sonde gestraf word; Sy onbeskryflike liefde wat dit moontlik maak dat Sy haters die teendeel kry van wat hulle verdien, naamlik genade; Sy onpeilbare wysheid wat Sy geregtigheid en Sy liefde so volmaak met mekaar kon versoen. Want in Christus se Golgota-offer sien ons God se geregtigheid en Sy liefde in intieme omhelsing.

Hy het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.

Die Een wat in sulke dieptes van vernedering afgedaal het, wat Homself verneder het deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem, en tot in die dood gehoorsaam was, is deur God tot die hoogste eer verhef, en 'n Naam gegee wat bo elke naam is. Elkeen in die hemel en op aarde en onder die aarde sal die knie voor Hom buig. En elke tong sal erken dat Hy Jesus Christus, die Here is (Fl 2:6-11).

•     Dat Hy gaan "sit" het, dui op die afhandeling van Sy werk. As die Here Jesus aan die kruis uitroep, "Dit is volbring!" (Jh 19:30), proklameer Hy triomfantelik dat die regsbasis vir sondaars se redding onbeweeglik en vir ewig in posisie geplaas is. Hy gaan sit dus in triomfantelike waardigheid. Die stryd is afgehandel, die prys is volledig betaal.

    •     Dat Hy aan die "regterhand" van die Majesteit, die Vader, in die hoë hemel sit, dui op Sy uitvoerende gesag. Daarom, tot vandag toe, as 'n foto geneem word van 'n kabinet met sowel 'n seremoniële as ‘n uitvoerende hoof (soos byvoorbeeld ‘n Staatspresident en ‘n Eerste Minister), sal laasgenoemde altyd aan die regterkant sit. Hy is immers die een wat van dag tot dag regeer.
    Die Seun is tans dus die aktiewe regeerder. Deur die eeue ná Sy kruisoorwinning, werk Hy die implikasies daarvan uit. Hulle wat die Vader aan Hom toevertrou het, word kop vir kop vanuit die nasies gaan haal. En Sy vyande word een na die ander onderwerp  -  in hierdie genadetyd met herskeppingskrag. En as God se raadsplan sy volle loop geneem het, sal Christus weer die koningskap aan Sy Vader oordra. "So sal God alles wees vir alles" (1Kor 15:24, 28).

Slot

Kom ons sluit af met 'n aanhaling van John Owen, die prins van Puriteinse teoloë:

    "Met betrekking tot die manifestasie van Christus se heerlikheid, moet drie dinge in ag geneem word: die skaduwee, die volmaakte beeld, en die uiteindelike substansie. Diegene in die Ou Testament kon slegs die skaduwee van Christus se heerlikheid sien. Ons wat die evangelie het, het die volmaakte beeld. Maar die genieting van die substansie van Christus se rykdomme en heerlikheid, moet wag vir die hiernamaals  -  want dan sal ons by Hom wees en self die heerlikheid sien wat die Vader vir Hom gegee het, omdat Hy Hom al voor die skepping van die wêreld liefgehad het."
   
As die beeld so wonderlik is, hoedanig sal die substansie nie wees nie!

Naskrif

Ek vertrou dis nie voorbarig nie, maar graag dra ek hierdie Herout op aan die nagedagtenis van wyle Prof. Christi Coetzee  -  gewese professor in Nuwe Testament aan die Potchefstroomse Teologiese Skool. In sy skitterende klasse het ek amper drie dekades gelede vir die eerste maal kennis gemaak met die eksegese van Hb 1:1-3. Wat 'n dosent was hy nie! Ek is meer dank aan hom verskuldig as wat ek ooit onder woorde kan bring.
    Helaas het ek destyds nie die volle implikasies van die afgeslotenheid en genoegsaamheid van die Godsopenbaring in Christus begryp nie. Dit het my ‘n dekade in die teologiese en kerklike woestyn gekos. Maar tot vandag toe loof ek nog gereeld die Here dat my oë in die tweede helfte van 1990 vir hierdie waarheid oopgegaan het. Dit het  -  sonder om te oordryf  -  lewensveranderende gevolge gehad.
                                                                                                                         Nico van der Walt




                                     

ANTIPAS HEROUT No.7 - DIE OPSTANDING VAN JESUS CHRISTUS - Persoonlik, Histories, Fisies

"Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie." (Mk 16:6)


Bogemelde vers is een van die mees triomfantelike Skrifuitsprake in die ganse Bybel. As daar een waarheid is wat die Nuwe Testament in sy lesers se harte wil ingrafeer, is dit dat Christus persoonlik, liggaamlik  en histories opgestaan het uit die dood.
    Al vier die Evangelies beskryf dit uitvoerig. In Handelinge is dit reg van die begin af keer op keer aan die hart van die apostels se prediking (vgl. o.a. Hd 2:29-32; 3:15; 5:30). Dis geen wonder nie, want hulle het uitdruklik opdrag gehad om daarvan te getuig (Lk 24:46-48) en het dit duidelik as 'n absolute prioriteit verstaan. Toe 'n opvolger vir Judas Iskariot aangewys moes word, is sy taak en kwalifikasie in soveel woorde uitgespel: hy moes 'n oog- en oorgetuie van Jesus se lewe en werk wees; en van alles wat hy beleef het, moes hy veral van die opstanding gaan getuig (Hd 1:21-22).
    In die apostoliese briewe kom die opstanding weer en weer ter sprake en die heilsbetekenis daarvan word puntenerig uitgewerk.

    Sonder twyfel het die apostels van 'n persoonlike, liggaamlike en historiese opstanding getuig  -  en dit saam met kruis en pinkster as die essensie van die evangelie beskou.

Modernistiese beskouings

Ten spyte van die Nuwe Testament se klinkklare getuienis, herdefinieer talle ongeloofsteoloë vandag die opstanding van Christus  -  alles in 'n poging om van die bonatuurlike in die Christelike geloof te ontkom. Volgens hulle het Hy nie persoonlik, liggaamlik en histories opgestaan nie, maar bloot in die harte, herinneringe en toegewyde lewens van die vroeë kerk. Dit is, sê hulle, soos 'nVerdi wat steeds op die operaverhoë van die wêreld "voortleef".
     Hierdie standpunt neem ook onrusbarend in Suid-Afrika toe en word al hoe meer openlik verkondig, soos talle denominasies die begeerte en vermoë om leertug toe te pas, verloor. Tog is die "man in die bank" dikwels beswaarlik daarvan bewus, omdat hierdie mense steeds Bybelse woorde gebruik en naïewe kerkgangers nie besef dat 'n ander inhoud daaraan gegee word nie. Op die oor af klink alles dus regsinnig, maar iemand wat weet waarna om te luister, kan die slang in die gras bespeur deur te let op wat nié gepreek word nie.

Waarom so belangrik?

Daar is veral drie redes waarom dit lewensbelangrik is dat Jesus Christus persoonlik, liggaamlik en histories opgestaan het  -  en ons dit so preek en glo.

•    Eerstens is die opstanding die onomstootlike bevestiging van Jesus Christus se persoonlike aansprake terwyl Hy hier op aarde was.
Sonder blik of bloos het Hy in die dae van Sy vernedering talle verbysterende aansprake gemaak. Hoeveel maal het Hy nie gesê dat Hy die Seun van God en God die Seun is nie; dat Hy die Messias en vervulling van die Ou Testamentiese profesieë is; dat Hy die Regter van die wêreld is?
    Sou hierdie aansprake nie wáár wees nie, is niks wat Hy gesê het betroubaar nie, allermins Sy beloftes. Trouens, dit sou moeilik wees om Hom nie as 'n versteurde te beskou nie.
    Op aarde was Sy aansprake inderdaad deur talle asemrowende tekens en wonders bevestig. Maar dan word Hy gekruisig  -  en almal twyfel. Was dit die einde van net nog 'n versteurde man se grootheidswaan? Sekerlik was dit van die Emmausgangers se worstelgedagtes: "Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos" (Lk 24:21).
    Maar op die derde dag het die grootste en finaalste van alle tekens waar geword! Dit is presies wat Hy lank tevore belowe het (Jh 2:18-22). Sy opstanding was die absolute bevestiging van Sy hemelse gesag en sending. Presies dit is wat die Emmausgangers verstaan het en waarom hulle die hele 12 kilometer terug Jerusalem toe gehardloop het: "Die Here het regtig opgestaan ...!" (Lk 24:34). Hulle het die implikasies verstaan: Hy is presies wie en wat Hy gesê het Hy is!

•    Tweedens is die opstanding die onfeilbare waarborg dat Jesus Christus se middelaarswerk ter wille van sondaars volkome deur die Vader aanvaar is.
Is daar regtig vir my versoening gedoen? Kan ek regtig die dood en wat daarop volg met vertroue tegemoet gaan? Die Nuwe Testament se antwoord is onomwonde: As jy in Christus ingevlug het, inderdaad! Waarom? Christus het opgestaan! Die Hoof is reeds by die Vader; die liggaam sal vir seker volg!
    Die Jode het eeue gewag vir die Messias, "... die uitverkorene van God ..." (Lk 23:35). Ten spyte van die volk se aanvanklike opgewondenheid oor Jesus van Nasaret, het hulle algaande ontnugter geraak, omdat Hy nie 'n nuwe politieke bedeling volgens hulle verwagtinge gebring het nie. Die kruisiging, as teken van God se vervloeking (Deut 21:23), is dan vir hulle die laaste strooi. Tog, as hulle Hom spottend uitdaag om van die kruis af te kom (Lk 23:35-36), sit daar waarskynlik tog 'n sprankie hoop ook in. Sou Hy nie dalk op hierdie dramatiese oomblik met 'n goddelike kragtoer kom nie? Maar Hy sterf!
    Die opstanding is egter God se uitverkiesende handeling. Dit, meer as enigiets anders, is die Vader se proklamering dat die Seun Sy reddingsmissie na hierdie wêreld volmaak voltooi het (Rm 1:4; Hd 17:31). Alle eise van geregtigheid is bevredig  -  die uitverkorenes is onomkeerbaar losgekoop!

    Sonder die opstanding het ons geen versekering dat Christus se werk enige gewig by God dra nie, maar as Hy dan inderdaad opgestaan het, het ons alle grond om die ewigheid met groot en opgewonde verwagting tegemoet te gaan!

•    Derdens is die opstanding Jesus Christus se toetrede tot 'n volgende, absoluut noodsaaklike fase van Sy verlossingswerk.
Terwyl die regsbasis vir gelowiges se verlossing finaal afgehandel daargestel is aan die kruis, sal die uitwerk daarvan eers met hulle heerlikmaking voltooi wees. Met laasgenoemde werk bly Christus in Sy verheerlikte staat steeds besig.
    Hoe werk Hy dit uit wat hier op aarde uitstaande is? Hy doen dit deur die werk van die Heilige Gees! (Hd 2:32-36). Die Nuwe Testament is vol hiervan.
    Christus is in al Sy hoedanighede met hierdie werk besig. As Profeet is Hy Here van die oes, wat werkers in die oes uitstuur om die evangelie aan alle nasies te verkondig (Mt 9:36-38). As Priester tree Hy vir die gelowiges by die Vader in, ten einde hulle "in volkomenheid in" (Grieks) te red (Hb 7:25. Vgl. ook Jes 53:12; Rm 8:34; Hb 9:24; 1Jh 2:1). As Koning onderwerp Hy Sy vyande en oordeel Hy hulle eendag (Hd 17:30-31; 1Kor 15:24-28; Ef 1:20-23).

    Elke Christen weet die Here moes sterf sodat mense gered kan word, maar hoeveel besef dat dit net so noodsaaklik was dat Hy weer moes léwe!
   
Sonder die opstanding is alles tevergeefs

In 1 Kor 15:12-19 werk Paulus die implikasies uit indien Christus nie sou opgestaan het nie (14,17). In die lig van bogemelde is sy skokkende gevolgtrekkings waterdig. Alles draai hier om: het Christus régtig opgestaan?

•    Die apostels se prediking sou sonder inhoud en gevolglik tevergeefs gewees het (14).
Hulle bekeerlinge het dan 'n leuen geglo, en 'n dooie verlosser vertrou  -  met alle prediking sedertdien ewe misleidend en futiel.

•    Ons geloof sou tevergeefs gewees het (14).
Die hand waarmee ek na Christus gegryp het, het dan net lug gegryp. Die anker wat ek in Hom beleef, was dan net 'n illusie; die wedergeboorte en regverdiging waarvan ek getuig, net bluf; die heerlikmaking waarop ek hoop, bloot 'n lugspieëling; my kruisdra en self-aflegging, totaal futiel!

•    Ons sou nog gevangenes van ons sondes gewees het (17).
Al roem ek in Ef 2:4-10, sou verse 1-3 steeds my toestand skets  -  geestelik dood; in slawerny van my vlees, die wêreld en die duiwel; onder die toorn van God. Ek sou net sowel in Plato of Ghandi kon glo!

•    Die apostels sou vals getuies gewees het (15).
Christus se opstanding was aan die hart van hulle verkondiging. Was hulle verkeerd, stort alles in duie  -  en is die Nuwe Testament die grootste bedrogspul van alle eeue.

•    Diegene van wie ons glo dat hulle in Christus gesterf het, sou verlore wees (18).
Waarom? Omdat die Vader dan nooit Christus se middelaarswerk aanvaar het nie!

"Wag", sê iemand, "ons het darem Sy inspirerende lering en voorbeeld. Hoeveel armer sou ons nie gewees het sonder die veredelende invloed van die bergpredikasie nie! Al sou Hy nie opgestaan het nie, leef Hy ten minste in ons harte, ons herinneringe, ons medemenslikheid voort."
    So 'n argument hou egter geen troos vir Paulus in nie, en sy respons is eenvoudig: "As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense" (19). Waarom? Vir hom (onthou, hy skryf onder inspirasie van die Gees) verdwerg die behoefte aan 'n beter wêreld voor sy allesoorheersende nood  -  verlossing van sondes, vrywaring van God se toorn, beërwing van die ewige saligheid!
    Die apostel kan tot net een slotsom kom: "As die dooies nie opgewek word nie, laat ons eet en drink, want môre sterf ons" (32).

    Kennelik het Paulus se Christenskap nie oor 'n beter wêreld gegaan nie, maar oor 'n salige hiernamaals!

Die historisiteit van die opstanding

Ons móét dus weet! Het Hy régtig opgestaan  -  persoonlik, liggaamlik, histories? Hoe kan ons vasstel, waar kan ons uitvind?
    Daar is onweerlegbare historiese bewyse. 'n Historiese feit word normaalweg deur enigeen van die volgende vier dinge bevestig: ooggetuies se getuienis, institusionele instellings wat daaruit spruit, gebruike en tradisies wat daarheen teruggevoer kan word, en fisiese oorblyfsels soos bouvalle en dies meer. Eersgenoemde drie staan vas m.b.t. die opstanding. En dis goed dat geen fisiese oorblyfsels bestaan nie, want afgodery sou beslis die gevolg gewees het (vgl. die koperslang, Num 21:9; 2Kon 18:4).

•    Daar was baie getuies. Presies dit is Paulus se punt in 1Kor 15:5-8. Die hart van die apostels se roeping was om van die opstanding te getuig. En talle ander het ook die opgestane Christus gesien  -  selfs meer as vyfhonderd tegelyk (15:6). Enige regter sou sonder huiwering uitspraak gee op grond van mindere getuienis. Natuurlik leef die apostels nie meer nie, maar ons het hulle geskrifte  -  en 'n verskeidenheid onderling-bevestigende dokumente van verskillende skrywers maak 'n historiese feit vas.

•    As institusionele instelling bestaan die kerk (met die opstanding as sentrale element van geloof) al vir meer as twintig eeue  -  groeiend, onvernietigbaar en florerend onder vervolging.

•    En die nagmaal, die doop en die Sondag was nog altyd gebruike waar die kerk ook al is  -  en in elkeen word die opstanding onder meer herdenk.

Persoonlike ontmoeting

Bogemelde is alles goed en wel. Maar 'n mens soek meer as bloot intellektuele argumente, nie waar nie. Ons het behoefte aan 'n diepere wete. 'n Tomas sit in elkeen van ons.

    Dis nog steeds so dat niemand régtig glo, tensy hy die opgestane Christus persoonlik ontmoet het nie!

In Sy goedheid maak die Here voorsiening vir ons probleem. Dis wat Jesus in Jh 20:29 belowe as Hy sê dat mense sal glo, sóós Tomas, maar sonder dat hulle sien. En na die hemelvaart het mense dit presies so ervaar. Daarom kon Petrus in sy eerste brief skryf: "Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap" (1:8-9).
    Op 'n geheimenisvolle wyse werk die Heilige Gees deur die Woord om die gawe van geloof en die innerlike wete te vestig dat Christus alles is wat die evangelie oor Hom getuig  -  ook dat Hy opgestaan het uit die dood. En wie kan ontken dat dermiljoene deur die eeue, uit alle lae van bykans elke samelewing, dit lewensveranderend só ervaar het? En was derduisende nie bereid om die hoogste tol te betaal nie  -  omdat hulle op geen manier bereid was om hierdie oortuiging te versaak nie?

Wat beteken die opstanding vir my lewe hier en nou?

Ongeloofsteoloë sê dat Jesus net in die herinneringe van die vroeë kerk opgestaan het.
    Daar was wel 'n tyd toe Jesus se dissipels nét herinneringe aan Hom gehad het, niks meer nie. Dit het drie dae geduur  -  tussen kruis en opstanding. En tydens hierdie drie dae was hulle die mees moedelose en uitsiglose mense in Palestina. Die oomblik toe hulle egter besef Hy het waarlik opgestaan, het alles verander. Hulle is gelanseer om onstuitbaar doelgerig van die mees dinamiese en invloedrykste lewens ooit te leef.

    Let wel, herinneringe kon hulle nie troos of inspireer nie  -  dit was die wete dat Hy régtig opgestaan het!

Presies hier is die rede waarom kerke begin sterf sodra hulle die bewussyn van 'n opgestane, lewende, heersende, komende Koning verloor. Stroop 'n kerk van sy "salige hoop" (Tit 2:13)  -  en dadelik raak hy traag en koersloos. En kort voor lank sterf en fossileer hy. Die vernietigende effekte van ongeloofsteologie is daar vir almal om te sien. Sien ons dit nie tans in ons land nie?
    Die opstanding is egter nie net, sê maar, van emosioneel-inspirerende waarde nie. Dit gaan om veel, veel meer. In Fil 3:10 sê die apostel dat "die krag van Christus se opstanding" een van die dinge is wat hy in sy lewe najaag. Die Skrif leer dat daar 'n onlosmaaklike band bestaan tussen die Here se opstanding (en gevolglik die opgestane Here) en my geestelike lewe hier en nou. Die opgestane Christus heers in hulle wat aan Hom behoort  -  met ingrypende, ervaarbare, waarneembare effekte!
    Wat is die aard van hierdie effekte? Paulus werk dit o.a. in Rm 6 en Ef 1:19-2:7 uit.
    In Rm 6 sê hy dat die gelowige nie net saam met Christus gekruisig is nie, maar dat hy ook saam met Hom opgestaan het. Dis net 'n ander manier van sê dat die opgestane Christus 'n opstandingslewe in hom werk. En wat is die gevolg? Hy kán eenvoudig nie in sonde volhard nie, maar lei 'n nuwe lewe (4)  -  'n lewe van heerskappy oor die sonde.

Wat beteken die opstanding vir my in die hiernamaals?

As Christus se opstanding sentraal is in my geloof en ek die krag daarvan in my lewe ervaar, het ek alle rede om seker te wees van ook mý toekomstige opstanding en onsterflikheid!
    Volgens 2Tm 1:10 het Christus deur Sy opstanding die mag van die dood verbreek en die onverganklike lewe aan die lig gebring. En 1Kor 15:20-23 verseker ons dat daar 'n onbreekbare band is tussen Sy opstanding en die opstanding van diegene in Hom. Vgl. ook Rm 8:11.
    Sy opstanding en ons opstanding is bloot twee fases van een en dieselfde proses  -  die vervolmaking van God se nuwe mensheid. Hy is die Eersteling, en niks kan verhoed dat Sy gemeente mettertyd volg nie!
    C.S. Lewis het dit iewers só gestel: "Deur Sy opstanding het Hy 'n deur oopgedwing wat gesluit was sedert die dood van die eerste mens. Hy het met die Koning van die Dood geveg en oorwin  -  en sedertdien is alles anders."
    As Christus se opstanding sentraal is in my geloof en ek die krag daarvan in my lewe ervaar, het ek alle rede om seker te wees dat die Vader my met dieselfde aanvaarding sal aanvaar as waarmee Hy Sy Seun aanvaar het.
    Almal sal opstaan en vir ewig leef (Jh 5:28-29), maar nie almal sal aanváár word nie. Vir diegene in Christus is daar egter geen veroordeling nie, maar heerlike liefdesaanvaarding!
    In Rm 8:31-34 daag Paulus as 't ware die hele wêreld uit om Saulus die moordenaar skuldig te bewys. Vanwaar sy vrymoedigheid? Hy put dit uit God se genade-inisiatiewe en Sy Seun se versoeningswerk. Die apostel se argument kom hierop neer: Wie sal my veroordeel met só 'n Middelaar? Ek het in Hom ingevlug; ek skuil in Hom; ek is met Hom verenig deur die geloof. Wat van Hom waar is, is van my waar! Wie my skuldig wil bevind, moet Hóm eers skuldig bevind. Laat die hele wêreld my verwerp, maar vir God se verwerping vrees ek nie. Hy het my Plaasvervanger se offer aanvaar; Hy het dit bekragtig deur Hom op te wek  -  Hy sal my ook aanvaar!

    Is Christus se opstanding sentraal in jou diepste oortuigings (net soveel soos die kruis)?
Is Sy opstanding die hoeksteen van jou salige hoop?
    Nico van der Walt