Friday, July 29, 2011

ANTIPAS HEROUT No.6 : GROTER WERKE AS JESUS - Hoe op aarde moet Johannes 14:12 verstaan word?

WANNEER LAAS HET JY GROTER WERKE AS JESUS GEDOEN? 'n Skokkende vraag, sê jy. Wel, dis na aanleiding van 'n baie uitdruklike belofte van die Here Jesus Christus aan Sy dissipels:
"Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo - die werke wat Ek doen,
sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit,
omdat Ek na my Vader gaan."
(Joh 14:12, OAV)
Deur die eeue het hierdie vers baie verwarring en verskille binne die kerk veroorsaak. Dit het onsekerheid en twyfel in ontelbaar baie harte laat heers. En, ergste van alles, dit is misbruik as fondamentsteen vir misleidings en ketterye sonder tal.
Tog staan dit geskryf in die Woord van God - swart op wit. Die egtheid daarvan in die oorspronklike manuskripte is bo verdenking. En oor die vertaling daarvan is daar nie twyfel nie.

Die verbysterende belofte van nader bekyk

# Hoe moet ons hierdie raaiselagtige woorde verstaan? Per slot van rekening, as 'n belofte van die Here Jesus met "voorwaar, voorwaar" begin, moet ons op aandag spring. Sonder uitsondering lei hierdie twee woorde ("amen, amen" in die oorspronklike taal) van die mees gewigtige en diepsinnige uitsprake van die Here in. Dit wil beklemtoon dat al die gesag van die Seun van God daaragter sit. Ongetwyfeld sal dit dus die moeite loon om die belofte goed te bekyk.

# Dit word gegee aan "wie in My glo". Johannes gebruik hier sy eie unieke manier (in Grieks) om spesifiek van reddende geloof te praat - om in Christus in te glo. Dit gaan dus nie om die uitsonderlike geloof van geestelike reuse nie. Nee, dis die geloof van alle ware Christene - reddende geloof.

# Die belofte word aan elke individuele Christen gegee. Die enkelvoud word deurgaans gebruik. Dit is dus nie 'n belofte aan die kerk gesamentlik nie.

# "Groter" in Grieks (megas), dui op 'n graadverskil, nie 'n getalverskil nie (daarvoor het Grieks 'n ander woord, polus). Die verduideliking dat die Here eintlik bedoel dat Sy dissipels méér werke as Hy gaan doen, hou dus ook nie water nie.

# Die brandende vraag is natuurlik wat Jesus met die woord "werke" bedoel. Die woord kom nog 26 maal in die Evangelie van Johannes voor. In 8 gevalle word dit gebruik vir die handelinge van mense in die algemeen. Maar die ander 18 gevalle gaan oor handelinge van die Here Jesus self - 2 keer is die geheel van Sy werk op aarde ter sprake (4:34; 17:4), en 16 keer die wonderwerke wat Hy gedoen het. Dit lei tot die volgende slotsom:

* Die "werke" wat Jesus se dissipels sal doen, kan nie maar gewone menslike dade wees nie, soos in die 8 gevalle hierbo, aangesien dit vergelyk word met Sy "werke" en duidelik van dieselfde aard is.

* Dit kan ook nie vergelyk word met die geheel van Sy werk op aarde nie, aangesien dit uniek is.

* Die Here vergelyk die "werke" wat hulle sal doen met Sy eie wonderwerke. Dit word deur die konteks bevestig. In die voorafgaande twee verse praat Hy sonder twyfel van Sy eie wonderwerke.

# Die sleutel tot hierdie verbysterende belofte is die Here Jesus se vertrek na Sy Vader. Dit was voorvereiste vir die uitstorting van die Heilige Gees op die Pinksterdag (Hd 2:33). Die dissipels sou dus nie hierdie "werke" in hulle eie krag doen nie, maar deur die bekragtiging van die Heilige Gees, o.g.v. Christus se afgehandelde werk hier op aarde.

# Geen deeglike, verantwoordelike en eerlike Skrifuitleg kan die slotsom ontkom nie dat die Here hier aan alle ware gelowiges belowe dat hulle, soos Hy, deur die bekragtiging van die Heilige Gees wonderwerke sal doen. Trouens, Hy belowe so duidelik soos daglig dat hierdie werke selfs gróter sal wees as die wat Hý op aarde gedoen het!

Wat van die belofte se vervulling?

# Die uitstorting van die Heilige Gees het dinge in die vroeë kerk laat gebeur wat totaal nuut was in die ervaringe van gelowiges. Handelinge beskryf 'n aantal verstommende wonderwerke. Dit lyk dus logies om hierin die vervulling van ons belofte te sien. Presies dit is die standpunt van talle gelowiges. En sekerlik het hulle 'n stewige saak. Sou hulle reg wees, is daar beswaarlik 'n vers in die Bybel wat meer praktiese implikasies vir die hedendaagse kerk het: waar is die wonderwerke?

# As hierdie standpunt egter getoets word aan die Woord van God, asook aan die kerkgeskiedenis, kom ernstige tekortkominge daarin dadelik na vore. Dit verkrummel voor twee onontkombare realiteite:

* Die belofte word kennelik aan elke individuele gelowige gemaak, maar wonderwerke, soos wat die belofte volgens hierdie standpunt sou impliseer, was eenvoudig op geen stadium in die geskiedenis die tipiese belewing van Christene nie - ook nie in Handelinge nie.

* Op geen wyse kan dit aangevoer word dat enige van die wonderwerke wat wel plaasgevind het, hetsy in Handelinge, hetsy in die geskiedenis daarna, groter was as die van Christus nie - inteendeel!

# Beteken dit dan dat daar van die Here se belofte tot 'n groot mate niks gekom het nie? Helaas is daar duisende Christene wat met hierdie suspisie in hulle harte rondloop. Trouens, verydelde verwagtinge, ontnugtering en die geestelike lamheid wat daarmee saamhang, is oraloor aan die orde van die dag.
Maar, en dit wil ek hieronder vir u aantoon, die belofte is sedert die Pinksterdag miljoene kere vervul - selfs in die lewens van die Here Jesus se eenvoudigste dissipels!

Die struktuur van Johannes

# Die sleutel wat die raaisel ontsluit, lê in die struktuur van Johannes se Evangelie. Dit kan eenvoudig soos volg voorgestel word:

VOORWOORD (1:1-18)

HOOFDEEL (1:19 - 20:29)
Inleiding (1:19-52)
Johannes se tema (2:1-20:18):
Jesus is die Seun van God, die Christus! Glo in Hom en jy sal die ewige lewe hê!
Afsluiting (20:19-29)

DOEL (20:30-31)

SLOTWOORD (21:1-25)

Die doel van die evangelie [20:30-31]

# Hierdie twee verse verduidelik die metode wat Johannes gebruik om sy boodskap oor te bring.
Die Apostel sê dat hy versigtig 'n aantal van die Here se wonderwerke of -tekens uitgesoek en beskryf het, sodat sy lesers kan glo dat Jesus die Christus is en sodoende die ewige lewe kan beërf.

# Wat uiters belangrik vir ons doel is, is om te begryp dat die Evangelie noukeurig gestruktureer is - soos 'n gedig. Watter student van hierdie Bybelboek sal ontken dat dit 'n wonderlike kunswerk is? Verder moet ons verstaan dat sewe sulke wonderwerke die skelet vorm van die Hoofgedeelte. Die vleis is weliswaar die oneindig kosbare stukke lering tussenin (wat met die werke verband hou, wat die betekenis daarvan verduidelik), maar dis die wérke wat die boodskap dra.

Die inleiding en afsluiting van die hoofgedeelte [1:19-52 & 20:19-29]

# In die Inleiding tree Jesus die kollig binne. Hy neem by die Wegbereider, Johannes die Doper oor. In die laaste gedeelte van hierdie inleiding (1:44-52) lei Jesus die skeptiese Natanael tot geloof en belydenis (50), deur aan hom 'n baie persoonlike teken te gee (49). Dan maak Hy 'n aankondiging oor wat vorentoe gaan volg: "Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien." Sonder twyfel sinspeel Jesus hier op die talle wondertekens wat vorentoe Sy Messiasskap sou bevestig (52). En gewis beskryf Johannes hierdie insident om sy lesers voor te berei vir sy werkswyse, soos hierbo uiteengesit. Trouens, hy begin al in die volgende verse daarmee.

# In die Afsluiting verskyn die opgestane Christus aan Sy dissipels. Dan gee Hy hulle werksopdrag vir die toekoms: "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook" (20:21). Van nou af gaan die aksie en verantwoordelikheid by die dissipels berus. Dan gebeur iets merkwaardigs. Soos in die Inleiding, lei Jesus weer 'n skeptiese man tot geloof en belydenis - Tomas (28). Weer gee Hy aan hom 'n baie persoonlike teken (27). En weereens maak Hy 'n aankondiging oor wat vorentoe gaan gebeur (29). Tomas het tot geloof gekom deur met sy eie oë die opgestane Christus te sien. Maar hoe sou toekomstige geslagte óóit tot geloof kom na die Here se vertrek? Heerlik troosryk is Jesus se antwoord: Tomas, jy het gesien en geglo, en dis geen geringe saak nie, want só verkry jy die ewige saligheid. Van nou af sal iets groters egter gebeur. Mense sal soos jy glo - maar sonder dat hulle enige tekens gesien het!

# Die ooreenstemming tussen Natanael en Tomas se onderskeie ontmoetings met die Here is onmiskenbaar. Vir beide word gesê: "Ons het Hom gekry" (1:45), "Ons het die Here gesien" (20:25). Beide reageer skepties (1:46; 20:25). Beide ontvang 'n persoonlike teken (1:47-48; 20:27). Beide glo dan en maak 'n verhewe belydenis (1:49; 20:28). Beide ontvang 'n openbaring oor wat sou volg: dit is goed dat jy glo, maar baie merkwaardiger dinge gaan volg, groter dinge (1:50-51; 20:29).
Dit is belangrik om raak te sien dat hierdie twee ontmoetings op twee van die belangrikste oorgange in die ganse openbaringsgeskiedenis plaasvind. Die eerste vind plaas op die drumpel van die Here Jesus se openbare bediening; die tweede op die drumpel van die dissipels, die kerk, se wêreldwye sending.

Díé wonderwerk van die laaste dae

# Die antwoord op Joh 14:12 se raaisel is skielik so helder soos daglig! Wat is die "groter werke" wat die dissipels sou doen? Na Pinkster sou hulle mense tot saligmakende geloof in Jesus Christus lei - 'n geloof, nie gebaseer op sintuiglike waarneming of enige ander vir die natuurlike mens aanvaarbare getuienis nie, maar 'n geloof wat voortspruit uit 'n bonatuurlike, goddelike hartsverandering!

# Natuurlik het die Here Jesus nie bedoel dat hulle dit in eie krag sou doen nie. Net die Gees kan iemand tot redding bring. Maar Hy doen dit déúr die dissipels. Hulle is dus as Christus se medewerkers volledig daarby betrokke - tot so 'n mate dat met reg gesê kan word dat húlle dit doen (vgl. Hd 26:18).

# Hierdie belofte is wonderlik vervul. Daarom kon Petrus ongeveer dertig jaar later skryf: "Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid ..." (1Pet 1:8-9).
En vir amper tweeduisend jaar al ervaar miljoene hierdie goot wonderwerk van die laaste dae! Geestelike blindes ontvang sig om die Onsienlike te sien (Hb 11:27). Wat meer is, ander met wie dieselfde gebeur het, op wie die herskeppende vingerafdrukke van die Heilige Gees nog vars is, bedien hierdie genesing van alle genesings aan hulle!
Dít is waarvan die Here gepraat het!

'n Laaste probleem

# Een vraag bly nog oor: Is dit régtig so, as iemand tot reddende geloof gelei word, dat dit iets groters is as die wonderwerke van die Here?

# Ons moet dit vanaf twee kante bekyk.

* Eerstens, dink vir 'n oomblik na oor wat in die ontvanger van die geloofswonder gebeur. 'n Groot deel van die hedendaagse kerk het die sondeverdorwenheid van die mens, oftewel die leer van die erfsonde, tot so 'n mate verwater, dat bekering beskou word as bloot die optrek van jou godsdienstige sokkies. Maar die Bybel leer duidelik (vgl. Ef 2:1-10) dat die gevalle mens geestelik dood is (1), dat hy onder God se toorn is (3), en dat hy 'n slaaf van die wêreld, die Duiwel en sy eie sondige natuur is (2-3). As so 'n persoon dan die gawe van geloof ontvang (8), word hy geestelik lewend gemaak (5), word hy opgewek tot 'n geregverdigde lewe (6), en word hy laat sit in die hemele in 'n posisie van gesag oor die wêreld, die Duiwel en sy sondige natuur (6).
Is so 'n verandering 'n geringe saak? Niemand met enige insig in die radikale verdorwenheid van die gevalle mens, en die verbysterende voorregte van iemand wat met Christus verenig is, kan ooit so dink nie! Trouens, diegene wat regtig hierdie herskeppingswerk ondergaan het, kan nooit anders as in verwondering daaroor nadink nie. En die grootste ontdekkingsreis van hulle lewens is om die rykdomme van hulle redding steeds beter te leer ken.
Die grootheid van hierdie groter werk moet daarom nie primêr in getalle gesoek word nie. Die wonder is dat selfs net één glo, sonder dat hy ooit gesien het. Dis soos 'n hoogspringer. Die ongelooflike is nie dat hy al 42 keer hoër as twee meter gespring het nie, maar dat hy hoegenaamd so hoog kan spring.

* Tweedens, dink vir 'n oomblik na oor die gevolge van so 'n geloofswonder vir die ontvanger. Jesus het siekes genees en dooies opgewek, en dis verbysterend. Maar al daardie mense het later weer fisies gesterf. En sonder God se reddende genade, sal elkeen die ewigheid in die verdoemenis deurbring. Daarenteen, as die Gees se lewendmakende roeping maar eenkeer deur my bediening werk, sal daardie persoon die ewigheid welgeluksalig in God se teenwoordigheid deurbring. Hy sal in so 'n verheerlikte staat wees, dat ek beswaarlik die versoeking sal kan weerstaan om hom te aanbid, sou ek hom nou kon sien soos hy dan sal wees.

# Is dit nodig om meer te sê? 'n Sondaar wat tot reddende geloof kom, is 'n groter wonderwerk as Lasarus se opwekking uit die dood! Om dit te beklemtoon, is nie om die Here Jesus se wonderlike bediening op aarde te verkleineer nie (dit mag nóóit nie!). Dis om die duiselingwekkende grootsheid van die Drie-enige God se genadige herskeppingswerk in 'n sondaar te beklemtoon. Dis om die aksent te plaas waar God se Woord dit plaas! Dis om die heerlike waarheid te besing dat Hy patetiese mense as medewerkers gebruik in Sy majestieuse herskeppingswerk van geestelik-dooie sondaars.
O, heerlik is die voorreg om saam met Paulus te sê dat die Here hiérdie roeping op ons gelê het: "Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van Satan tot God kan bekeer. Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God" (Hand 26:18).

Is jou prioriteite reg?

# Leser, toets jouself. Gestel jy het 'n keuse. Óf jy kan van nou af 'n genesingsbediening hê soos Jesus; en die vermoë om op water te loop, voedsel te vermeerder en dooies op te wek. Óf jy kan die voorreg kry om voor jou dood één persoon tot reddende geloof te lei. Wat sal jy kies?

# Joh 14:12 is 'n belofte - 'n duiselingwekkende belofte. Maar dis méér. Dis 'n implisiete opdrag - wat elders in die Heilige Skrif keer op keer bevestig word. Laat ons dus nie verslap in ons gehoorsaamheid aan hierdie gewigtige, verhewe, dringende en opwindende roeping nie. Solank die Koning nog nie terug is nie, is die hele oes nog nie in nie! En totdat dit gebeur, moet ons voortgaan met die grootste van alle wonderwerke!
Nico van der Walt

Friday, July 15, 2011

ANTIPAS HEROUT No.4 : DIE ERFSONDE - Die waarheid waarsonder die Evangelie nie verstaan kan word nie

Die feit en oorsprong van sonde

# Sonde is 'n universele feit. Elke mens ervaar dit - dwarsoor die wêreld en deur alle eeue. Daar is geen uitsondering nie. Die Skrif leer dit; ervaring en waarneming bevestig dit. Daarom sterf mense, "want die loon van die sonde is die dood ..." (Rom 6:23). [Bybels is 'die dood' natuurlik méér as fisiese dood].

# Hoe moet ons dit verklaar? Waar kom dit vandaan? Die rede lê opgesluit in wat die teologie 'Die Erfsonde' ('original sin') noem.


# Talle Skrifgedeeltes bevestig hierdie leerstuk. Miskien is Rom 3:9-20 en 5:12-19 die duidelikste. Maar vergelyk ook Gen 6:5-6, 11; 8:21; 1Kon 8:46; Ps 14; 51:7; 53; 143:2; Pred 7:20; Jer 17:9; Mark 7:21; 1Kor 15:21-22; Gal 3:22 (NAV); Ef 2:1-3; 1Joh 5:19.

Die erfskuld

# Dit gaan hier oor die mens se skuld ('guilt') voor God - en dus oor sy strafwaardigheid. Een manier om die verband tussen Adam se sonde en sy nageslag se skuld te verduidelik, is om aan hulle te dink as synde 'in sy lendene' toe hy gesondig het. Miskien is dit nog makliker as onthou word dat Adam as verbondshoof die mensheid voor God verteenwoordig het. Hy het dus een en elkeen van ons verteenwoordig.
Al Adam se nakomelinge is gevolglik saam met hom 'verantwoordelik' vir die sondeval - hulle is ewe skuldig en net so strafbaar.

# Ons ken soortgelyke situasies in die lewe. Hitler se optrede in die dertigs en veertigs het die Duitse volk in chaos gedompel. Onsedelike ouers kan veroorsaak dat hulle kinders HIV-positief gebore word. Dit is eenvoudig 'n alledaagse feit van die lewe dat mense in ellende ingebore kan word, sonder dat hulle direk by die oorsaak daarvan betrokke was.

# Netso word elke mens in 'n verskriklike toestand ingebore - as deel van 'n mensheid onder die toorn van God (Ef 2:3). Niemand hou hiervan nie, baie probeer dit ontken, ignoreer, wegredeneer - maar presies dit is wat die Bybel leer, sonder blik of bloos!


# Elkeen wat deur bg. geaffronteer word, moet twee maal dink, omdat God se hele reddingsplan op die beginsel van toerekening berus: Adam se sonde word aan my toegereken; my sonde word aan Christus toegereken; Sy geregtigheid word aan my toegereken.

Die erfsmet

# Dit gaan hier oor die mens se verdorwenheid ('corruption'). Elke nakomeling van Adam word met 'n verwronge morele natuur gebore.
Hy het dus 'n ingebore geneigdheid tot sonde, tot oortreding van God se Wet en wil. Dit maak hom 'n rebel voor God. Maar meer: hy het nie die vermoë om aan God se wil en standaarde te voldoen nie. Dit maak van hom 'n mislukking voor God.

# Hierdie is 'n onomstootlike lewensfeit. Dit geld universeel deur alle eeue. Sien ons dit nie in élke babatjie nie? 'Myne!' 'Nee!' 'Gee!' 'Sal nie!'
Dis soos 'n negatiewe eienskap wat geneties van geslag tot geslag oorgedra word. Jy word eenvoudig en onontkombaar daarmee gebore.


Persoonlike sondes

# Van kleins af is persoonlike sondes die onvermydelike uitvloeisel van die erfsmet, die verdorwe natuur (Ps 58:4). Naas die erfskuld, is daar dus ook steeds toenemende persoonlike sondeskuld.
Hierdie persoonlike sondes manifesteer oor die volle spektrum van die persoonlikheid en lewe: in gedagtes, spraak en dade; in emosies, motiewe en gesindhede; in dade en nalatings.

Radikale verdorwenheid

# Die mens is dus radikaal verdorwe ('totally depraved'). Daarmee word nie bedoel hy is so verdorwe as wat hy kán wees nie, maar wel dat geen area van sy persoon en lewe uitgesluit is van die effekte van die sondeval nie. Die beeld van God is nie totaal vernietig nie (Gen 9:6b), maar dis van hoek tot kant gekraak en verwring.
Ergste van alles is dat hy geestelik doof en blind is. Hy hoor en sien nie die dinge van die Here nie (1Kor 2:14). Hy het geen behoefte daaraan nie, maar ervaar veel eerder 'n weersin daarin. Sonder 'n genadewerk van die Heilige Gees het hy nie ware sondebesef nie (Joh 16:8-11) en sal hy nooit tot ware geloof in Christus kom nie (Hand 16:14). Hy is geestelik dood (Ef 2:1).

# Is Rom 3:10vv nie té meedoënloos in sy beoordeling van die mens nie? (L.W. 'niemand'; 'selfs nie een nie'; 'almal').
Hierteenoor sou 'n tipiese reaksie wees: 'Daar is tog baie wonderlik-goeie mense!' 'Natuurlik is niemand volmaak nie, maar selfs in die slegstes sit 'n stuk goed!'
Die mens vind die Bybel se lae dunk van hom afstootlik. Daarom sê Luther van hom: "Sy finale sonde is onwilligheid om te erken hy is 'n sondaar." Tog is dit nodig om te verstaan waarom God se Woord die mens so vernietigend beoordeel.

* Wat is die grootste sonde? Diefstal, moord, egbreuk, afgodery, laster, ongeloof? Wel, wat is die grootste gebod? Die samevatting van die Tien Gebooie stel dit duidelik: jy moet God liefhê met jou hele hart, siel, verstand en krag; en jou naaste soos jouself (Deut 6:4-5; Mark 12:28-31). Nou is dit voor die hand liggend dat oortreding van die grootste gebod meteen die grootste sonde moet wees.
Wat is dus die grootste oortreding? Om God nié met jou alles en jou naaste soos jouself lief te hê nie. En hierin slaag niemand nie. Nooit nie!
Of, om dit positief te benader, vir enige 'goeie werk', om volkome voor God te wees, moet dit uit 'n hart vloei wat God en die naaste volkome liefhet (1Kor 13:1-3). Daarom lê die Bybel se aksent so sterk op die gesteldheid van die hart. Presies dít is wat Jesus in die Bergpredikasie tuisbring (Matt 5:21vv).
Maar, omdat niemand ooit 'n volkome hart het nie, doen niemand ooit 'n volkome daad nie.

* Dit beteken nie dat 'n mens God nie kan behaag nie. Die gelowige kán inderdaad - wanneer iets vanuit 'n ware geloof gedoen word, volgens Bybelse voorskrifte en met die doel om Hom te verheerlik.
Maar om God te behaag (en vanuit bg. is dit duidelik dat net iemand in Christus dit kan doen) is één saak; om volmáák te wees iets anders.
God se 'slaagsyfer' vir volmaaktheid is altyd 100%. En wie nie slaag nie, dop! God is volmaak en Sy standaarde is volmaak.

Enkele opmerkings en implikasies

# J.I. Packer is reg: "The subject of sin is vital knowledge. To say that our first need in life is to learn about sin may sound strange, but in the sense intended it is profoundly true. If you have not learned about sin, you cannot understand yourself, or your fellow-men, or the world you live in, or the Christian faith. And you will not be able to make head or tail of the Bible. For the Bible is an exposition of God's answer to the problem of human sin ...." (God's Words, p.71).

# Inderdaad is die middelaarswerk van Jesus Christus, en dit alleen, die antwoord op hierdie onontkombare en noodlottige ellende van die mens. Presies dít maak van die evangelie die beste nuus op aarde.
Wie die erfsonde nie verstaan nie, kan gevolglik nie die evangelie begryp nie - in elk geval nie behoorlik nie. Wie nie die wurggreep van hierdie universele morele kanker herken en erken en daarmee worstel nie, se hart sal nooit gloei van dankbaarheid oor God se liefde nie. Alleen teen die pikswart dekor van die natuurlike mens se radikale verdorwenheid en volslae onvermoë, kan die noodsaak en wonder van God se soewereine genade vir sondaars na waarde geskat word.
Sonder twyfel is ons hier by een van die worteloorsake van die kontemporêre kerk se lusteloosheid: oppervlakkige sondebegrip en -besef. Per slot van sake, wie 'baie' vergewe is, het baie lief; wie 'min' vergewe is, het min lief (Luk 7:47).
Een van die kosbaarste woorde in die ganse Skrif, is 'maar'. Om hierdie woordjie skarnier die ganse heilsgeskiedenis! Verskeie kere, as die Apostel Paulus die grootse genade van God omskryf, word dit hierdeur ingelei. Dit druk kontras uit: die heerlike genade van God in die lewe van herskepte mense teenoor die hopelose en skrikwekkende verdorwenheid van die natuurlike mens.

* Rom 3:9-20: Die natuurlike mens is in 'n ellendige situasie. Maar: Rm 3:21-31!

* Ef 2:1-3: Die natuurlike mens is geestelik 'dood' (v.1); hy is 'n 'slaaf' van die wêreld, die duiwel en die vlees (v.2-3a); hy is onder die 'toorn' van God (v.3b). Maar: Ef 2:4-10!

* Kol 1:21: Die natuurlike mens is in vyandskap met God. Maar: Kol 1:22!

* Tit 3:3: Die natuurlike mens is magteloos in 'n morsige moeras van sonde. Maar: Tit 3:4-7!

# Min dinge onderstreep die waarheid van die Bybel meer as die universaliteit van sonde. Waar anders is 'n bevredigende verduideliking vir hierdie tragiese lewensrealiteit te vinde?
Tog is die leerstuk van erfsonde en die radikale verdorwenheid van die natuurlike mens 'n verleentheid, selfs 'n aanstoot vir baie Christene. Dit bly helaas 'n tipiese neiging van die sondige mens om God minder te wil maak as wat Hy is, en van homself meer as wat hy is.
Maar miskenning of verwaarlosing van hierdie leerstuk lê aan die wortel van 'n duisend dwalinge.

* Een van die mees God-onterende en noodlottige gevolge van die miskenning van die mens se radikale verdorwenheid, masel uit in die wyse waarop vandag so dikwels geëvangeliseer word. Omdat, strydig met die Bybel, aanvaar word dat die gevalle mens in homself die vermoë het om vir of teen Christus te besluit, word allerlei tegnieke gebruik om sondaars tog net sover te kry om 'n 'hoed-in-die-hand-here' aan te neem. Dis soos 'n verkoopsman wat enigiets sal doen om sy klant te oorreed. Wat meer is, daardie aspekte van die evangelie wat aanstoot gee, word verswyg, terwyl die 'blink kant' daarvan beklemtoon word. So word die struikelblok van die kruis (Gal 5:11) uitgerangeer en 'n goedkoop evangelie saamgeflans wat die kerk vul met wêreldlinge wat net entoesiasties bly op 'n dieet van 'gospel show-biz'.
Natuurlik moet ons ernstig by sondaars aandring om hulle te bekeer en Christus aan te neem; natuurlik mag hulle verantwoordelikheid hierin nooit onderspeel word nie; natuurlik moet 'n appél ook op hulle wil gemaak word. Maar dit moet altyd geskied in die wete dat nét die Heilige Gees hulle deur die evangelie daartoe kan bring. Alleen dán kan die slaggat van 'n versuikerde 'evangelie' vermy word. Trouens, nou kan die evangelie onverwaterd en radikaal verkondig word, want 'almal wat vir die ewige lewe bestem is, sal gelowig word' (Hd 13:48).

* 'n Ander baie onrusbarende en wêreldwye tendens die afgelope paar dekades, is om die Bybelse evangelie subtiel te vervang met 'n 'gekerstende' sielkunde wat die oorsprong van persoonlikheids- en gedragsprobleme op 'n simplistiese wyse terugvoer na veral traumatiese ervaringe, gewoonlik in die kinderjare. Die gevolg is dat vir 'n sondaar gesê word, nie dat hy hom moet bekeer nie, maar dat hy 'n slagoffer van omstandighede en besonderlik ander se wanoptrede teen hom is. Hierdie onvanpaste simpatie suggereer dan dat sy optrede maar in orde is; trouens, dat dit eintlik onvermydelik is. In plaas van die Bybelse aksent op sonde, word daar dus gefokus op wonde. En die resultaat? Geen sondebesef, geen bekering, geen genesing, geen dankbaarheid, geen gehoorsaamheid - geen redding nie!

# Vanweë die ervaringsrealiteit van sonde, wonder die mens noodwendig oor die kuur daarvoor. En hierdie soeke lê aan die wortel van die universele verskynsels van menslike moraliteit en religie ('religion').
Mensgemaakte godsdiens kom tipies tot uitdrukking in menslike pogings om bo hulle morele verdorwenheid uit te styg deur religieuse moets en moenies. In die proses hoop die mens dan om sy skepper tevrede te stel en om uiteindelik die ewige lewe te beërf. Dit het deur die eeue gelei tot die verskriklike gebondenheid van biljoene, wat in kerkers van vrees vir die hiernamaals, hulle lewenslank afsloof op trapmeulens van godsdienstige verdienste.
Maar die gevalle mensheid het net eenvoudig nie die vermoë in homself om sy sonde-gebrokenheid te ontworstel nie. Niemand kan homself aan sy eie skoenveters optel nie.
Alleen die Evangelie dra die ware boodskap van bevryding: Die antwoord op die mens se verskriklike dilemma lê nie daarin dat hy na God toe moet opklim nie. Mensgemaakte godsdiens is 'n leer wat nêrens heen lei nie. Nee, daar is maar één hoop - dat God na die mens toe afbuig. En presies dit het Hy gedoen - in Christus Jesus, Sy eie Seun!
Hier, net hier, lê die diepste en wesentlike verskil tussen die ware evangelie en die godsdienste van die wêreld - insluitende 'churchianity' (wat deur Christelike moralisme die saligheid wil beërf). Hierdie onderskeid mag subtiel lyk, maar dit maak al die verskil in die wêreld - en in die hemel!

# Die waarheid van die erfsonde is dus glashelder: daar is geen finale hoop in vredespogings, demokrasie, ekonomiese hervormings, opvoeding en navorsing nie. Terwyl hierdie dinge op sigself goed mag wees, sal dit nooit die Utopia bring waarna die mensheid sedert die sondeval soek nie.
Christus voorsien geen morele ontwikkeling deur die geskiedenis nie, want, sê Hy, wanneer Hy terugkom sal dit maar nog net so gaan soos in die dae van Noag en Lot (Luk 17:26-30).

# Sonder die besondere openbaring van God kan ons sonde nóóit ken vir wat dit werklik is nie. Sonde word deur die Skepper gedefinieer, en nie deur die skepsel nie.

* Sonde is status en aard, voordat dit handeling of versuim is. Dit gaan dus om iets veel diepers as die probleem van 'geweld' of 'misdaad' of 'dwelmmisbruik'.
Allereers is sonde 'n status voor ons Skepper: die mens, nee, ék, is voor my eerste asemteug skuldig voor 'n heilige God. Dan is sonde 'n aard: 'n natuurlike geneigdheid, 'n aangebore onvermoë - 'n onontkombare 'genetiese hartdefek' oorgedra van geslag tot geslag.
Eers dán word dit óf 'n daad óf 'n versuim.


* Sonde sit allereers in mense; eers daarna in strukture. Ek, ja ék, is 'n groter probleem in hierdie wêreld as enige samelewingsiekte, ekonomiese beleid, of politieke stelsel. Samelewingstrukture bestaan immers uit mense. En die aard daarvan word deur daardie mense bepaal - deur individue. As die mense nie verander nie, is enige verandering aan die struktuur beswaarlik meer as kosmeties. En mense? Hoe verander hulle? Daar is net één manier: hulle hárte moet verander.
Tragies daarom, onuitspreeklik, dat die kerk (uitsonderings daar gelaat) die heerlikste van alle roepings verruil het vir 'n pot lensiesop - verkondiging van die Evangelie vir struktuurtakelary. Nét die Evangelie verander mense - een vir een, kop vir kop (Rom 1:16-17; 1Kor 1:21; 2Tess 2:14; Jak 1:18; 1Pet 1:23). Struktuurtakelary kan nie genees nie, dit vervorm net - want dit verander nie menseharte nie.
Omdat die apostels dít verstaan het, het hulle beswaarlik tyd gevind vir die 'goeie'; hulle het hulle alles gegee vir die 'uitnemende'. Presies dít is waarom hulle die evangelie verkondig het. En presies dít is waarom hulle net één boodskap gehad het - Jesus Christus, die Gekruisigde! (1Kor 1:23; 2:2).

Monday, July 11, 2011

ANTIPAS HEROUT No.5 : SALIGMAKENDE GELOOF - Die egte en die namaaksel

Christelike gehoorsaamheid, en in die besonder goeie werke, is ons tema. Kom ons kyk daarna aan die hand van 'n fassinerende vers in Efesiërs.

"Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel." (Ef 2:10. Die OAV is meer letterlik vertaal)


Die konteks

In die voorafgaande verse, van die begin van die brief af, gee die Heilige Gees van die mees verbysterende openbaring in die ganse Bybel. Paulus skryf, soos dalk nêrens anders nie, oor God se alleen-inisiatief in 'n Christen se redding, en oor sy duiselingwekkende erfenis in Christus.
    In 2:8-10 kom die Apostel tot 'n slotsom. Die punt wat hy wil tuisbring, is dat alles die genadegawe van God is. Dit volg dus noodwendig dat geen Christen enigiets het om in te roem nie. God alleen moet alle eer kry. Dis natuurlik die eenstemmige getuienis van die hele Nuwe Testament (vgl. bv. 2Tim 1:9). Wie dit loën, loën 'n wesenselement van die waarheid.
    Dan antisipeer Paulus blykbaar 'n vraag in die gemoedere van sy lesers: 'Goed, ons aanvaar dit. Maar sedert ons wedergebore, herskep is deur die Heilige Gees, is die bal sekerlik in ons baan. Nou is dit vir ons om gehoorsaam te lewe. Sou mens nie kon sê dat dit ons býdrae tot ons redding is nie?'
    Vers 10 is dan sy antwoord. Volstrek nie, sê hy, selfs ons goeie werke is genadegawes van die Here! So draai hy dan enige verwarring oor hierdie saak eens en vir altyd nek-om. As die Drie-enige God 'n geestelik-dooie sondaar (2:1-3) red, is daar selfs van so 'n mespunt aandeel in sy eie redding en uiteindelike loon, nie die minste sprake nie!


EF 2:10 NADER BEKYK


    Sý maaksel is ons, staan daar letterlik. Elke Christen is deur God geskape. Paulus gebruik hierdie twee begrippe, sowel as die beklemtoning, om sy punt tuis te bring. Waarskynlik het hy die tipies Bybelse beeld van die pottebakker en die klei in gedagte. Trouens, die Griekse woord vir 'maaksel' kan dalk selfs met 'kunswerk' vertaal word. In elk geval: net so min as wat 'n erdepot enige eer met sy maker kan deel, net so min het 'n Christen iets om oor te spog.
    Verse 1-6 beskryf 'n sondaar se redding as opstanding uit die dood, as bevryding uit slawerny en as verlossing vanuit oordeel. Hier word dit beskryf as 'n skepping vanuit niks (vgl. ook 2Kor 4:6, waar wedergeboorte direk met Gen 1 verbind word).
   Dis 'n skepping "tot goeie werke". Die Griekse konstruksie is kategories: dis 'n skepping met die oog op goeie werke, met die doel dat goeie werke sal volg. Soos 'n wingerdstok geskape is om druiwe te dra, en 'n voël om te vlieg, so het God die Christen herskep om goeie werke te doen! Dis sy skeppingsdoel; dis 'n noodwendigheid.
   Dis nie net bepaal dát die gelowige goeie werke sal doen nie, maar (verstommend!), die werke self is vooraf gereed gemaak. Dit is voorberei - die aard en besonderhede daarvan, die wanneer en hoe en wat daarvan.
    Dit is gedoen sodat ons daarin kan wandel. God het 'n baie definitiewe doel met ons herskepping en die voorbereiding van die werke gehad: Sy kinders moes dit tydens hulle lewens op aarde kom doen - en Hom so verheerlik, medewerkers wees in die uitwerk van Sy raadsplan, en die egtheid van hulle redding manifesteer.
    Die algemene karakter van hierdie werke is vooraf vasgelê. Inderdaad het dit deur die eeue nooit verander nie. Maar, en dis belangrik, dit is ook verordineer presies hoe dit in elke individu se lewe tot uitdrukking sou kom. Dis nodig om hierdie saak te verindividualiseer - anders hou Paulus se argument nie water nie. Sou dit hier bloot gaan om die algemene bepaling van wat goeie werke is, berus daar nog 'n wêreld se keuses en inisiatiewe by die individu, en sou Paulus se lesers goeie grond hê om sy ontkenning van enige eer vir die Christen te bevraagteken.
     Om seker te maak sy lesers verval nie nou in die teenoorgestelde dwaasheid nie, naamlik passiwiteit en verantwoordelikheids-ontduiking, sê die Apostel dis nodig om in hierdie goeie werke te wandel. Die woord beteken gewoon om te stap, te loop, en word in die Nuwe Testament gebruik om op 'n lewenswyse te dui (vgl. 4:17; 5:2, 8, 15). Dit het ten minste twee uiters belangrike praktiese implikasies:
    Eerstens: In elke individu se uitleef van hierdie goeie werke, is daar dinamika, opeenvolging, voortgang. Dis mos presies soos ons dit beleef: een ding lei tot 'n ander - daar is 'n begin en dan 'n ontwikkelingsgang. En elke individu het sy eie pad. Hiermee werk ons later meer.
    Tweedens: Ek is bewustelik en aktief by die uitleef van hierdie goeie werke betrokke. Die mens is meer, baie meer as 'n wingerstok en 'n voël. Hy is beelddraer van God - des te meer as herskepte in Christus. Die werke kom dus nie maar vanself, outomaties, meganies nie. Nee! My hele mens is daarby betrokke: wil, emosies, denke, vermoëns, ervaring, opleiding, gebrokenheid, kleivoete. Dis bewustelik, besluitnemend, inspannend, verantwoordelik, aanspreekbaar. God beledig nie die kroon van Sy skepping deur hom soos 'n masjien te behandel nie - Hy gee hom verantwoordelikheid!


'N ONFEILBARE LAKMOES-TOETS

    In hierdie vers redeneer Paulus so: God se skepping bring 'n maaksel voort; en hierdie maaksel bring goeie werke voort. Ware redding word dus altyd sigbaar in goeie werke! Is dit afwesig, is daar eenvoudig geen redding nie.         Goeie werke red nie, maar daarsonder is daar geen redding nie.
    Hier het ons 'n Nuwe Testamentiese aksioma. Presies dit is wat Jakobus in sy tweede hoofstuk sê: daar is baie soorte geloof, maar net een wat redding bring - die soort wat met goeie werke gepaard gaan.
    Joh 3:36 is veelseggend. Dit word eers positief gestel: geloof in die Seun bring die ewige lewe. Dan verras die negatiewe teenstelling: nie 'ongeloof' nie, maar ongehoorsaamheid.
    Oor en oor beklemtoon die Woord van God: nét diegene wie se lewens gekenmerk en beheers word deur gehoorsaamheid aan Christus, sal die Koninkryk beërf. En die omgekeerde staan net so vas: hulle wie se lewens gekenmerk word deur ongehoorsaamheid en sonde sal die ewige lewe nooit smaak nie. Vergelyk byvoorbeeld Matt 5:20; 25:31-46; Mark 10:23-31; Luk 6:46-49; 9:23-26; 13:23-28; 1Kor 6:9-10; Gal 5:19-21; Heb 12:14; 1Joh 2:29; 3:9-10; Op 21:7-8.
    Dis die begronding vir een van die Reformatore se wekroepe: 'Sola fides justificat, sed non fides sola est!' (Alleen geloof regverdig, maar nie geloof wat alleen is nie).
    Hierdie waarheid volg vanuit die onverbreekbare geïntegreerdheid van God se verlossingswerk in Sy uitverkorenes se lewens (sien AH 1). Dis 'n proses wat konsekwent 'n sekere aantal elemente bevat, waaronder altyd, sonder uitsondering, ook heiligmaking en volharding in gehoorsaamheid en goeie werke.

    *    Kom ons sê dit reguit: hier is 'n onfeilbare lakmoestoets vir ware redding, vir outentieke Christenskap. Laat ons elkeen homself maar weer en weer toets; eerlik, nugter, volwasse (2Kor 13:5).
    Charles Hodge was reg: 'Die enigste bewys van ewige uitverkiesing is 'n heilige en gehoorsame lewe.'
    Word die belangrikheid van goeie werke as 'n sine qua non vir redding nie dalk hierbo oordryf nie? Die teendeel is waar! Niks onderstreep die gewigtige belangrikheid en prominente plek daarvan in God se raadsplan beter nie, as die feit dat ons eendag voor die regterstoel daarvolgens geoordeel gaan word. Niemand minder nie as die Here self gaan ons werke gebruik as die maastaf vir redding al dan nie!
    Let op die besondere Skrifbeklemtoning daarvan: Matt 16:27; 24: 45-51; 25: 14-30; 31-46; Joh 5:28-29; Rom 2:6-11; 2Kor 5:10; 1Pet 1:17; Op 19:7-8; 20:12-13; 22:12-15. Al die gelykenisse in Matt 24-25 (ook 'Die  tien meisies') word beheers deur 24:42-44. Die boodskap van hierdie uiters belangrike rede van die Here Jesus Christus is dit: lewe gehoorsaam en getrou - in die lig van die ewigheid!
    Hoe moet ons dit verstaan? Word die gelowige dan nie op grond van Christus se verdienste alleen geregverdig nie? Verseker! Dis die hart van die evangelie! Maar, soos heiligmaking, is ook regverdigmaking een van die onmisbare elemente in die geïntegreerde verlossingsproses (sien AH 2 vir 'n bespreking van hierdie begrippe). Omdat dit waar is, volg dit noodwendig dat regverdigmaking deur heiligmaking (en dus goeie werke) gevolg sal word. Laasgenoemde is dus die bewys dat eersgenoemde inderdaad plaasgevind het. En dis hierdie bewys wat voor die regterstoel gesoek sal word. Só onverbreekbaar is hierdie band, dat die Groot Regter eendag net een saak in ag sal neem wanneer Hy uitspraak moet gee oor iemand se ewige lot: Het hy of sy 'n lewe van heilige gehoorsaamheid en goeie werke gelei? Dit sal die onfeilbare bewys wees van saligmakende geloof, van innerlike herskepping, van eenheid met Christus - en, dus, van regverdigmaking. Goeie werke is die watermerk van egtheid!
    Die wêreldwyd-geagte skrywer van die negentiende eeu, J.C. Ryle, het dit só gestel: "Evidence, evidence, evidence, will be the one thing wanted when the great white throne is set ... I can find no evidence that will be admitted in that day, except sanctification." (Holiness, p.23)

    Baie mense het die idee dat net die ongelowiges geoordeel gaan word en dat ander standaarde vir gelowiges sal geld. Dis nie wat die Bybel leer nie! Kyk na Rom 2:11 en 1Pet 1:17 in soveel vertalings moontlik. Sonder aanneming van die persoon! Onpartydig! God trek niemand voor nie! 'No favouritism!' Almal op dieselfde manier! Geen witbroodjies nie! Nie dubbele standaarde nie!
    Moet nooit vergeet dat verlossing in Christus nie net van die skuld van sonde red nie, maar ook van die krag daarvan. Een rede waarom 'n gelowige normaalweg nog 'n tydlank na sy bekering lewe, voordat hy hemel toe gaan, is om 'die watermerk' kans te gee om te groei, om die trourok klaar geweef te kry (Op 19:7-8). Die Heilige Gees gebruik my pelgrimstog om my vir die regterstoel gereed te kry. En nooit sal ek meer dankbaar daarvoor wees as op daardie dag nie!
    Dis waarom Petrus sê: "... wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap." (1Pet 1:17, OAV).

    *    Die vraag ontstaan nou: Sit hier nie 'n stuk onregverdigheid in nie? Dat God se uitverkorenes nie eendag voorgetrek sal word nie, maar aan presies dieselfde maatstaf gemeet sal word as alle mense, is een saak; maar is dit regverdig dat die miljoene wat God se Woord en Wet nooit ontvang het nie, wat nie so begenadig is nie, daaraan gemeet sal word? 
    Nie almal ontvang genoeg openbaring om tot saligheid te lei nie, maar álmal ontvang wel genoeg om toerekeningsvatbaar te wees. (Die moeilike kwessie van babas, ens., daar gelaat).
    God openbaar Homself as die Almagtige in die skepping (Rom 1:19-20; Hand 14:15).      
    Ook openbaar Hy Hom as die Algoeie Versorger in Sy algemene genade oor almal (Hand 14:17; Matt 5:45; Luk 6:35).
    Verder is die eise van God se morele wet in die harte van alle mense geskryf. Dit mag tragies verdof en verwring wees deur die sondeval, maar die werklikheid daarvan blyk duidelik uit die universele realiteit van die gewete. Dit is daardie fakulteit in mense wat hulle die dinge van die wet laat doen en die innerlike tweestryd m.b.t. goed en kwaad in hulle veroorsaak (Rom 2:14-15).

❏    'n Vreeslike verantwoordelikheid rus op elke ouderling en prediker. Die Opperherder van die kudde sal van elkeen verantwoording eis (Hand 20:25-28; 1Kor 3:9-15; Heb 13:17; Jak 3:1; 1Pet 5:1-4). Aan die hart van hulle taak lê die opdrag om "... die heilsplan van God in sy volle omvang ... te verkondig ..." (Hand 20:27).

Redding is uit genade; op grond van Christus se middelaarswerk alleen; deur geloof; tot en daarom volgens werke.

    *    Enige evangelie wat minder preek as dit, is minder as die volle en dus ware evangelie. Sowel die Vader (uit wie se genade redding vloei), as die Seun (wat die Middelaar is), en die Heilige Gees (wat gelowiges roep, heilig en toerus), se werk is noodsaaklik en moet as sulks geëer word. Verwaarloos hierdie 'volle raad' van God, en die kerk vermank en verword spoedig totaal.

❏    Twee dwalinge van ons dag, twee noodlottige 'ander evangelies', kan nou maklik ontmasker word.

    *    'Easy-believism', oftewel 'goedkoop genade', teister die kerk wêreldwyd. Die oorreaksie daarop is radikalistiese (noem dit maar) 'dífficult-believism', oftewel 'duur genade'. Nie een hiervan is Bybels nie; nie naastenby nie. Die eerste een is 'wetteloosheid', wat leer dat selfs geloof sonder werke kan red. Die ander is 'wettisisme', wat aandring op allerlei verpligtinge by Christus se volmaakte werk (sien AH2).

    *    Die ware evangelie is 'impossible-believism'. Niemand kan glo as hy nie wederbaar word nie; en selfs sy geloof is 'n gawe (Ef 2:8; Fil 1:29; 2Pet 1:1); trouens, selfs sy gehoorsaamheid wat daarop volg. God se Woord weet niks van goedkoop of duur genade nie; dit dra net een boodskap: 'gratis genade'!
    Máár, dis 'n genade wat, as dit op 'n lewe beslag lê, onmiskenbare, diep-ingrypende en lewenslange Godvererende gevolge het!


WAT KWALIFISEER DIE GOEIE WERKE WAT DIE REGTER-STOEL SE TOETS SAL SLAAG?

❏    In enigeen wat hoegenaamd verantwoordelik is, wat hoegenaamd erns maak met sy Christenskap, sal nou 'n vraag brand: Wat is 'n goeie werk?
    Die Reformatoriese vaders het goed begryp hoe lewensbelangrik die saak is - vandaar die feit dat al die groot belydenisskrifte behoorlike, eenstemmige en Bybels-korrekte aandag daaraan gee (1689 Baptistebelydenis 16; Westminster 16; NGB 24; HK 91).
    Maar dis nie nodig om menslike geskrifte te raadpleeg om die antwoord te kry nie; die Woord van God, trouens ons vers, is duidelik daaroor.

❏    Ef 2:10 sê ten minste twee dinge om ons te antwoord:

    *    Gód self het die werke voorberei. Dit was dus Sy inisiatief, en Hý het die aard daarvan bepaal. Omdat óns dit moet doen (as mense, nie as masjiene nie), moes Hy dit aan ons openbaar - wat Hy inderdaad in Sy Woord gedoen het.

    *    Dis nodig dat 'n mens herskep word, voordat hy so 'n werk kan doen. En wat onderskei 'n wedergeborene van iemand wat nog geestelik dood is?
    Eerstens het hy 'n nuwe hart (Jer 24:7; 31:33; Eseg 11:19-20; 36: 26-27; 2Kor 3:3; 4:6; Heb 8:9-13; 10:16). Uit hierdie hart, hierdie sentrum van sy hele persoonlikheid, bring hy nou vrug voort wat geen natuurlike mens, per definisie, hom kan namaak nie. En dis noodwendig góéie werke, want God se wette is op die tafels van die nuwe hart gegrafeer. Hierdie werke het dus 'n bepaalde bron. Dit kom uit 'n hart vol dankbaarheid vir die Here se reddingsgenade, 'n hart vol vertroue dat Hy dit sal aanvaar en beloon.
    Tweedens het hy 'n nuwe lewensdoel. Hy leef nie meer vir homself nie, maar God se eer is die hartstog van sy bestaan. Dit sal noodwendig die gerigtheid van sy werke bepaal.

    *    Hierdie uiteensetting is presies wat Jesus in Joh 4:19-24 vir die Samaritaanse vrou sê. Die Vader soek aanbidders wat (met hulle hele lewe) Hom aanbid in gees (vanuit hulle harte) en in waarheid (volgens Sy Woord).     En die genoemde belydenisskrifte is ook presies in pas hiermee.

    *    Goeie werke, wat eendag sal dien as watermerk van egtheid, is dus iets baie unieks. En dis baie spesifiek gekwalifiseerd.
    Eerstens: Om God se toets te slaag, moet 'n goeie werk wees wát Hy beveel, en gedoen word sóós Hy beveel. Dit moet 'in waarheid' geskied.
    Tweedens: Om God se toets te slaag, moet 'n goeie werk uit 'n herskepte hart kom. Dit moet dus 'in gees' geskied. Enersyds sal dit dus vanuit innerlike geloof en dankbaarheid ontspring. Andersyds sal dit gedring word deur 'n hartstog vir die Drie-enige God se eer - vir die koms van Sy koninkryk, die verbreiding van Sy evangelie, die welsyn van Sy kerk.

❏    Dis nou onmiskenbaar duidelik dat ongelowiges baie goeie dinge kan doen, en ons moet hulle daarvoor respekteer - en die Here dank, want dit geskied in Sy algemene genade. Maar 'n goeie werk, soos ons nou daaroor praat, kan hy nooit doen nie - per definisie nie.

    *    Veel belangriker vir ons egter, is die feit dat 'n Christen oor 'n lang tydperk baie aktief kan wees - in die naam van Christus - sonder om iets te doen wat in terme van Bybelse standaarde voor die regterstoel aanvaarbaar sal wees (vgl. bv. Matt 7:21-23). Hoeveel 'vreemde vuur' het die kerk nie deur die eeue aan die Here gebied nie! Hoeveel offers 'wat Hy nooit beveel het nie', word nie vandag gebring nie! (Lev 10:1-6, OAV). Hoe gereeld word die ark nie op 'n 'nuwe wa' gelaai nie (soos die Filistyne), in plaas daarvan dat 'die Leviete dit met draaghoute dra'! (2Sam 6:1-23; 1Kron 13:1-14; 15:1-16).

    *    Dis ontstellend moontlik dat skrywer en lesers hulle besig kan hou met dinge waarin die 'gees' is, maar wat nie in 'waarheid' geskied nie. Ywer en opregtheid is nie sondermeer genoeg nie; die vraag is of die Woord van God dit beveel. Of ons kan besig wees met dit wat Bybels is, sonder dat dit uit die hart kom. Dooie ortodoksie weeg niks voor die Here nie, inteendeel. Of, nog meer tragies, ons kan onsself afsloof met dit waarin ons harte nie is nie, én wat die Here net so min beveel het.
    Dis nodig, baie nodig, om gereeld voorraad op te neem!

❏    Uit bg. volg die sg. Regulatiewe Beginsel, wat die kerk al vir eeue as norm gebruik vir die reëling van veral sy gesamentlike aanbidding. Eenvoudig gestel, sê hierdie beginsel dat slegs dít in die erediens aanvaarbaar is wat God uitdruklik beveel het. Daarenteen is die benadering vandag eerder dat enigiets aanvaarbaar is wat God nie eksplisiet verbied het nie. 'n Oomblik se nadenke moet enigeen oortuig dat dit 'n reuse verskil maak!

❏    Hoe kan ek ooit sê my werke sal vir God aanvaarbaar wees? Ja, dis Bybels; ja, dit kom uit my hart - maar dis so verskriklik onvolmaak!
    Ef 2:10 bevat nog een uitdrukking: "... in Christus ...". Die Vader begenadig ons "... in die Geliefde ..." (Ef 1:6, OAV). Ek word dus nie God se kind indien my werke aanvaarbaar is nie; my werke is aanvaarbaar omdat ek Sy kind is! Hy het immers self die werke voorberei - wetende dat ons, selfs as herskeptes, van stof gemaak is.
    Omdat gehoorsaamheid en goeie werke nie die basis van regverdig-making is nie, maar in die konteks van (onvolmaakte) heiligmaking geskied, hoef dit nie volmaak te wees vir redding nie. Solank dit genoemde merktekens van egtheid dra, ongeag hoe onvolmaak ookal in ander opsigte, behaag dit ons hemelse Vader tóg.
    Elke ouer kan dit verstaan. Hoe sag is jou hart nie vir jou eie nie! Hoe geniet 'n pa nie sy kleuter se lomp pogings om hom te help nie!


HOE WÁNDEL MENS IN GOEIE WERKE?

❏    Die vraag kan meer of minder ruim vertolk word: Wat is Christene in die algemeen se verantwoordelikheid om te verseker dat hulle lewe soos God wil? Wat is my persoonlike verantwoordelikheid om te verseker dat ek in die goeie werke wat vir my as individu voorberei is, sal wandel?
    Veral laasgenoemde is 'n worstelvraag vir baie - die kwessie van persoonlike leiding ('guidance').

❏    Laat ons die vraag eers algemeen en in die breë benader. Ruimte laat net toe om enkele riglyne aan te sny (die mees basiese, vertrou ek). Daar is uiteraard talle maniere om dit te benader, maar ons hoef nie verder as ons onmiddellikee konteks, die brief aan die Efesiërs, te gaan nie.

    *    Die Apostels het feitlik sonder uitsondering hulle briewe op 'n bepaalde manier geskryf. Agter dit sit 'n wesensbelangrike beginsel. Nadat hulle gegroet het, het hulle altyd begin met die Drie-enige God en Sy groot verlossingsdade in Christus. Hierdie gedeeltes stel dus die heilsfeite en is leerstellig ('doctrinal') van aard. Die teologie praat daarvan as die 'indikatiewe' gedeeltes.
    Daarmee klaar, het hulle dan voortgegaan met praktiese oproepe of bevele. Op grond van God se inisiatiefnemende en genadige ingrype in hulle lewens, rus daar immers 'n groot verantwoordelikheid op gelowiges om in heilige toewyding diensbaar aan die Here te leef. Hoe om dit te doen, is waarom die tweede helfte van die briewe dan gaan. Hierdie is die 'imperatiewe' gedeeltes.
    Kyk byvoorbeeld na Romeine. Die eerste 11 hoofstukke is een stuk diepsinnige 'doctrine', wat met 'n verhewe lofuiting afgesluit word. Onmiddellik gaan die apostel dan in hoofstuk 12 voort met praktiese oproepe - "... op grond van die groot ontferming van God ..."
    Die opmerksame leser sal begryp hoe absoluut noodsaaklik hierdie orde is. Keer dit om, en onmiddellik berus redding op menslike meriete. Presies hier lê die verskil tussen die Christelike evangelie en al die valse godsdienste (insluitende 'churchianity'), wat op menslike religieuse verdienste berus.

    *    Die imperatiewe gedeelte van Efesiërs  bied insiggewende riglyne, wat die ruimer vraag betref.
    Paulus beoog kennelik om met die imperatiewe gedeelte in 3:1 te begin (sien veral die NIV), maar 'dwaal dan af' in nog 'n stuk indikatiewe lering oor die 'heidene'. Hy probeer wéér in 4:1-3, maar 'dwaal nogeens af' - oor eenheid in die kerk. Uiteindelik begin die volwaardige imperatiewe gedeelte dan vanaf 4:17. Let op die woord "wandel/leef" (4:1; 17; 5:2; 8; 15), wat dui op iemand se lewenstyl.
    Dat Nuwe Testamentiese imperatiewe bloot ontvouings van die Tien Gebooie is, is duidelik in 4:25-6:9. Let op hoe Paulus die gebooie een na die ander aansny: die vierde gebod (6:5-9); die vyfde (6:1-4); die sesde (4:26-27; 29-32); die sewende (5:3,5,22-33); die agste (4:28); die negende (4:25); en die tiende (5:3).
    Die gedeelte 4:17-5:14 word gekonkludeer met 5:15-17, veral v.17b: "... verstaan wat die wil van die Here is." (Die NAV mis die punt).
    V.18 gee dan die sleutel tot 'n lewe volgens die wil van die Here: die heerskappy en bekragtiging van die Heilige Gees. 5:18-6:9 word hierdeur beheers.  Dit beskryf hoe 'n lewe vol van die Gees lyk.
    V.18-21 is één sin wat begin met 2 bevelswerkwoorde in v.18 (een positief, een negatief), wat dan gevolg word deur 5 teenwoordige deelwoorde in v.19-21. Lg. verse beskryf m.a.w. 'n Geesvervulde lewe.
    Dit is verder betekenisvol dat v.22 nie 'n werkwoord het nie, maar v.21 s'n veronderstel.  Dit impliseer dat 5:22-6:9 illustreer hoe wedersydse onderdanigheid (v.21), wat die gevolg is van die volheid van die Heilige Gees, in die praktyk lyk - 'n lewe in belang van ander in die huis en werksplek.

    *    Die antwoord op die ruimer vraag is dus voor die hand liggend: Wie volgens die wil van die Here wil leef, moet in die volheid van die Gees gehoorsaam wees aan die morele wet van God - soos dit in die Tien Gebooie in ekstrakvorm beskryf is, en elders in die Skrif, veral in die Nuwe Testament, oopgevou en ontwikkel word.

❏    Nou die meer persoonlike vraag: Wat is my verantwoordelikheid om seker te maak ek wandel in die goeie werke wat God spesifiek vir mý voorberei het?

    *    Psalm 1 skets twee paaie: die goddelose pad, oftewel lewenswyse, volgens die waardes van die God-vyandiggesinde wêreld, eendersyds; en die pad volgens die Wet van die Here, andersyds. Lg. pad is kennelik die pad wat die Here behaag, want Sy seën rus daarop (die antwoord op die ruimer vraag hierbo). Maar die NAV se v.6 gaan 'n stap verder en werp belangrike lig op ons tweede vraag: die regverdiges (m.a.w. diegene wat die pad van God se Wet bewandel) word dan gelei - sodat hulle húl pad kan vind.
    Mens sien hierdie waarheid ook in Ps 25:9. En let in Jes 58:6-14 op hoe 'as jy' gevolg word deur 'dan sal'.

    *    Handelinge is vol gebeure wat hierdie beginsel demonstreer.
    Kyk byvoorbeeld na die tweede sendingreis. In Hand 15:36 doen Paulus wat voor die hand liggend is in terme van die Here Jesus se opdragte: hy stel voor dat hulle weer die gemeentes gaan besoek wat tydens die eerste sendingreis gestig is. A.g.v. 'n onderonsie gaan hy toe uiteindelik sonder Barnabas (v.37-40). Volgens 16:6-10 gryp die Here egter in (let op, Hý inisieer en doen dit). Die sendelinge word op 'n pad gelei wat hulle allermins voorsien het. En die gang van die geskiedenis skarnier!
    Die Apostels het hulle lewens volgens die Here se opdragte ingerig, en gedoen wat hulle moes en wat voor hande was. Hulle het in rustige Godsvertroue geweet, en dit ook so ervaar, dat Hy sou ingryp wanneer en soos Hy wil (selfs deur hulle eie mislukkings, dwaashede en sonde), ten einde hulle op die pad te lei wat Sy voorsienigheid vir hulle uitgemeet het.
    Hierdie ingrypings, op watter wyse ook al, het hulle nooit strydig met Jesus se opdragte gelei nie. Dit het gegaan oor die persoonlike, detail-toepassing daarvan in hulle lewens - binne die grense van die Here se algemene wil.

    *    Hier is die tweede vraag se antwoord: God se leiding ('guidance') neem gestalte aan in my lewe soos ek lewenslank, biddend Sy Woord bestudeer; deur die implikasies daarvan dink; dit my eie maak; en met beslistheid en volharding my lewe daarvolgens inrig. Dit gaan om beginselvaste gehoorsaamheid; 'n lewe volgens waarheidsoortuigings.
    Ek ontdek God se wil vir mý lewe deur gehoorsaamheid aan Sy wil vir álle gelowiges!
    Moenie in die eerste instansie vra nie: 'Wat is God se wil vir mý lewe?' Vra: 'Wat is God se wil?' - en leef dan daarvolgens. Wie dit as lewenswyse doen, sal as 't ware binne-in die goeie werke wat God vir hom of haar spesifiek voorberei het - inloop!

*    Hierdie beginsel is nie al wat daar oor leiding te sê is nie. Maar dis basies en die belangrikheid daarvan kan nie oorbeklemtoon word nie. Wie dit uitleef, sal 'n duisend slaggate vermy. En dit sal hom neem op 'n waardige pad van beginselvastheid. 'n Innerlike vrede sal in hom vestig, hy sal koersvas volhard, en hy sal God verheerlik - deur te wandel in die goeie werke wat ook vir hom voorberei is!

*    Die beheptheid om 'God se stem te hoor' en 'Sy wil vir my lewe' buite die geopenbaarde Skrifwaarheid om te soek, neem vandag epidemiese afmetings aan. Dit gee aanleiding tot sieklike subjektivisme, patetiese naïwiteit, pastorale ellendes en God-onterende skandes sonder tal - en dit lei die kerk weg van die Woord en die historiese geloof. Dit doen onbeskryflike skade!


SLOTWOORD

    Die Woord! Wy jou lewe daaraan om dit in die voetspore van Jesus uit te leef - biddend, nugter, toegewyd, opreg, volhardend - en kyk wat gebeur!
    "Vertrou op die Here, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, en verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart. Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom; en Hý sal dit uitvoer; en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag. Swyg voor die Here en verwag Hom ..." (Ps 37:3-7, OAV).
Nico van der Walt

-oOo-

Saturday, July 9, 2011

ANTIPAS HEROUT No.40 : 'N KAMEEL KÁN DEUR DIE OOG VAN 'N NAALD - 'n Bespreking van Jesus se ontmoeting met die ryk jongman

DIE HERE JESUS SE ONTMOETING MET DIE RYK JONGMAN KOM IN AL DRIE SINOPTIESE EVANGELIES VOOR: Mt 19:16-30; Mk 10:17-31; Lk 18:18-30 [1].

# Hierdie jongman toon wonderlike Koninkrykspotensiaal: Hy is ywerig - hy hardloop na Jesus toe. Hy is nederig - hy val op sy knieë. Hy is moedig - hy kom nie in die donker soos Nikodemus nie. Hy is "geestelik" - hy verlang oënskynlik opreg na die ewige lewe. Hy is moreel - hy probeer met toewyding van kleins af die Wet onderhou.
Hier het ons dus 'n model van 'n jongman. Voor ons sien ons leierskapmateriaal, 'n trofee vir elke gemeente.

# En hy is 'n evangelis se droom. Enige hedendaagse sielewenner sou binne minute van hom 'n Christen kon maak. Hoe lank vat dit immers om 'n kort sondaarsgebed te herhaal?
Maar Jesus laat hom tussen Sy vingers deurglip!

# Hier is lesse wat ons nie moet miskyk nie. Kom ons kyk vir eers deur Markus se lens.

Die evangelie begin by God

# Die eerste sleutel is in v.18. Jesus stel die jongman dadelik voor God. Voor mens oor die ewige lewe kan praat, sê Hy effektief vir hom, moet jy eers rekening hou met die algoeie en heilige God en alles wat dit impliseer.
Die evangelie begin met God. Dit kan slegs na behore verstaan word as mens die skitterglans van Sy volmaaktheid en die tragedie van menslike verdorwenheid teenoor mekaar stel.

# Mense het baie probleme. Maar die oomblik as jy God sien, raak jy in 'n oogwink daarvan ontslae. Dan besef jy hoe gering en tydelik dit alles is.
Maar onmiddellik kry jy 'n nuwe las, duisend maal swaarder - die las van die ewigheid en ons aanspreeklikheid voor God.
Al wat hierdie las kan verlig, is die evangelie en jou omhelsing van Christus.
As jy nie eers die las van God se geregtigheid, enersyds, en jou doemwaardigheid, andersyds, ervaar het nie, bly Christus vir jou bloot van akademiese belang. Reddende geloof is immers wesentlik iets anders as 'n bloot intellektuele opinie oor God. Ja, geloof begin met kennis en oortuiging, maar word afgerond deur 'n desperate en persoonlike vlugtog in Christus in.

# Vir te veel goeie kerkmense is God beswaarlik meer as 'n welwillende en saghartige oupa.
Ja, duisend maal, ja - Hy is 'n barmhartige God van vergiffenis en genade. Maar Hy is ook 'n God van heiligheid en geregtigheid.
Onthou, en vergeet dit nooit nie, as jy 'n denkbeeldige God dien, sal jy tevrede moet wees met 'n denkbeeldige redding.

Die Wet - 'n Kragtige stuk gereedskap in Jesus se evangelisering

# Die volgende sleutel kry ons in v.19-21. Vir die meeste moderne evangeliste is dit 'n baie vreemde verwikkeling in hierdie verhaal.
Mens sou verwag dat Jesus sal begin praat oor regverdiging deur geloof alleen, en dat jy Hom net as persoonlike Saligmaker moet aanneem.
Maar Jesus beweeg in presies die teenoorgestelde rigting: van alle dinge praat Hy oor die wet!

# Twee maal lees ons in die evangelies dat iemand Jesus kom vra hoe mens die ewige lewe kan beërf. Benewens hier, vra 'n wetgeleerde die vraag - wat dan tot die gelykenis van die barmhartige Samaritaan lei (Lk 10:25).
Nou kan dit nie anders as uiters betekenisvol wees nie: in beide gevalle vat Jesus die vraagsteller na die wet toe. Waarom? Elders in die Nuwe Testament kry ons die antwoord: "Deur die wet leer 'n mens wat sonde is" (Rm 3:20). "Sonde is immers oortreding van die wet van God" (1Jh 3:4).
Wat sê dit vir ons? Die konsep van sonde is inhoudloos sonder God se wet. En die man of vrou wat sonde nie kan verstaan nie, kan die kruis nie verstaan nie - en daarom ook nie die evangelie nie, want redding is vir die desperates en slegs vir hulle (Mt 5:3).

# Té dikwels is die hedendaagse aanbieding van die evangelie mensgesentreerd. Die verlossingsplan word aangebied as ten diepste ter wille van die mens: "Glimlag, God het jou lief en het 'n wonderlike plan vir jou lewe. Hy wil jou seën en gelukkig en welvarend sien. Soek jy vrede en 'n vriend? Kom na Jesus toe - Hy brand om jou behoeftes te vervul."
Natuurlik ervaar ware gelowiges baie van hierdie dinge. Maar in die reddingsplan gaan dit ten diepste oor God en Sy eer. En natuurlik word baie mense op so 'n skewe manier gered. Maar, tensy die Here hulle op gesonder paaie lei, ontgroei hulle nooit hul doeke nie. En meeste verdwaal langs die pad.

# In 'n neutedop kan hierdie tweede sleutel só saamgevat word: die wet toon mens jou sonde; en tot die mate wat jy jou sonde sien, tot daardie mate sien jy jouself as van God vervreemd.
Dikwels lei dit dan eers tot 'n periode van godsdienstige inspanning en vroomheid. Maar omdat niemand die wet sonder God se genade naastenby kan uitleef nie, lei dit al hoe meer tot wanhoop. Algaande maak dit van jou 'n bedelaar om God se genade. En só kwalifiseer dit jou vir die koninkryk van God. Uiteindelik wys die Heilige Gees jou dan Jesus Christus die Gekruisigde.
Die ou Puriteine het dit verstaan: "Die skerp naald van die Wet maak 'n pad vir die rooi garingdraad van die evangelie."

# Die ryk jongman het egter 'n baie oppervlakkige siening van die wet: dit alles onderhou ek sedert my jeug! (Mk 10:20).
Daarom vind die Here Jesus dit nodig om die wet toe te pas. En in die proses skiet hy op die man se Achilleshiel. Hy pas die hele tweede tafel van die wet toe, en veral die tiende gebod. Want die man is baie materialisties. "Gaan verkoop ... gee vir die armes!"
Die ryke is hartseer daar weg, maar helaas nie oor sy sonde nie. Dis omdat hy besef hy moet 'n keuse maak, en hy sien nie kans om van sy besittings afstand te doen nie.
Die jongman is nog nie gereed vir die koninkryk nie. Die ploeg van die lewe en van God se standaarde het nog werk om te doen - sy harde pad, sy klipbanke, sy doringvelde moet nog omgedolwe word.

# Let wel, die Here Jesus hardloop nie agter die man aan nie. Hy weet sekere dinge in die lewe neem tyd. Miskien sal die ploeg hom gereed maak vir 'n volgende keer.
Jesus laat hom met ander woorde rustig oor aan die oortuigingswerk van die Heilige Gees. Hy weet dat hierdie werk van die Gees 'n einde maak aan alle selfvoldaanheid en argumente. As Hý eers in diepte met jou gewerk het - jou oortuig het van sonde, geregtigheid en oordeel (Jh 16:8-11, OAV) - is selfregverdiging en rasionalisering iets van die verlede.

Evangelisering behels 'n oproep tot bekering

# 'n Volgende sleutel kry ons in v.21. Die Here het die man voorberei deur hom te konfronteer met God se standaarde. Nou praat Hy reguit met hom: "Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!"
Wat Jesus dus vir hom sê, is dit: Jy vra My hoe om by die ewige lewe uit te kom? Ek is die enigste pad en die enigste gids. Kom val by My in. Daar is egter nog afgode wat jou vashou. Raak eers daarvan ontslae.

# Weer en weer spel die Here Jesus die voorwaardes vir egte dissipelskap uit. Hy doen dit nie in fyndruk nie. Inteendeel, Hy doen dit openlik en reguit: verloën jouself, neem jou kruis op, en volg My.
God se genade is gratis; maar dis nooit goedkoop nie. 'n Mens neem Hom tevergeefs aan as jy Hom net as Verlosser wil hê, maar jou nie volkome aan Sy koningskap onderwerp nie.
Dit kom dus hierop neer: onderwerp jou aan My voorwaardes, of gaan terug en geniet jou lewe voluit - want daar wag 'n baie lang, lang ewigheid.

# Waarom sukkel soveel goeie kerkmense om te verstaan dat diepgaande bekering 'n ononderhandelbare Bybelse noodsaaklikheid is. Bekering red nie, maar sonder bekering is daar geen redding nie. Die koninkryk van die hemele is steeds 'n skat in die saailand waarvoor mens alles moet verkoop om dit in besit te kry.

Evangelisering behels 'n oproep tot die navolging van Jesus Christus.

# Hierna is reeds heelwat verwys, maar dis nodig om dit spesifiek uit te lig. As 'n negatiewe wegdraai van sonde noodsaaklik is vir egte Christenskap, is 'n positiewe heendraai na en navolging van Christus ewe onmisbaar. Dis twee kante van dieselfde munt. Die een kan nie sonder die ander nie.

# Waartoe roep Jesus hierdie man en elkeen van ons? Kom, sê Hy, gee my jou hart, emosies, verstand en liggaam - jou hele lewe. Gee My jou lojaliteite, jou energie, jou toewyding, jou drome, jou ambisies, jou potensiaal. Gee My jou besittings, jou geleerdheid, jou gawes, jou verlede en jou toekoms. Kom dan, dien My onvoorwaardelik. En Ek sal jou verliese honderdvoudig kompenseer. En daarbenewens sal jy die ewige lewe kry (29-31).
Wat 'n opwindende uitnodiging! Wat 'n skrikwekkende opdrag!

# Elkeen van ons gaan eendag voor die Regterstoel van die Allerhoogste staan. Volgens die Bybel sal die Regter nie bloot konsentreer op my regte verstaan van en geloof in die waarheid nie - noodsaaklik soos dit is. Nee, dit sal gaan oor die uitlewing van Sy opdragte! Onder die loep sal geneem word my gehoorsaamheid terwyl ek in hierdie lewe was. Ons gaan volgens ons werke geoordeel word! [2].
Maklik en dikwels word so erg oorreageer teen die dodelike dwaling van redding deur werke, dat in die slagyster van die ewe bedenklike kettery van redding sonder werke getrap word!

# Besef ons hoe belangrik hierdie saak is? Navolging van Christus is ononderhandelbaar. Luister net wat skryf Johannes: "Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het" (1Jh 2:6).
Destyds kon die Here Jesus nie dubbelhartiges verduur nie. Waarom sou dit nou anders wees? Hy spoeg steeds die louwarmes uit.
Nie een van ons het die gesag om Sy standaarde te verlaag nie. Tog word dit so dikwels gedoen. Die ryk jongman sou hom gemaklik kon tuismaak in feitlik elke gemeente van ons dag - en spoedig sou hy dalk nog in die kerkraad ook gedien het.
Maar Jesus Christus kan ons nie kry nie, as ons nie die wêreld versaak nie.

# Iemand het Jesus gevra: "Sal min gered word?" (Lk 13:23vv). Wat antwoord Hy? "Span al jul kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie."
Sonder vrees vir teëspraak kan mens sê dat baie min kerkgangers afsydig staan teenoor hul ewige lot. Maar dit beteken nie dat hulle sonder meer gered is nie. Want benewens hulle wat gered is, en hulle wat duidelik ongered is, is daar 'n derde kategorie - 'n baie groot kategorie. Dit is die "baie" wat sal probeer ingaan, maar dit nie regkry nie.

Die kameel en die naald

# Tot nou toe het ons gekonsentreer op Jesus se hantering van hierdie jongman, en op die implikasies daarvan vir ons evangelisering. Kom ons kyk nou na wat voortspruit uit hierdie ontmoeting en wat dit prakties vir ons inhou (24vv).
Die man is nou weg, en nou is dit 'n gesprek tussen die Here Jesus en Sy dissipels.

# Jesus sê weliswaar hier dat dit vir 'n ryk man baie moeilik is om die koninkryk in te gaan. Maar Hy kon net sowel gepraat het van 'n bitter en onvergewensgesinde persoon - of van 'n egbreker en wellusteling, of van 'n ongehoorsame kind, of van 'n oneerlike en 'n leuenaar. Hier gaan dit spesifiek oor hebsug, maar die beginsels geld vir enige sonde.

# Nou gaan die Here voort om te beklemtoon hóé moeilik dit vir 'n ryk man is om gered te word. 'n Kameel gaan makliker deur die oog van 'n naald, sê Hy!
Deur die eeue was daar meer as een poging om hierdie verskriklike stelling van Jesus af te water, maar nie een daarvan het nog ooit werklik oortuig nie.
In elk geval verstaan die dissipels Jesus letterlik. "Wie kan dan gered word?", vra hulle. Dit kan hulle wel vra, want die illustrasie wat die Here gebruik, dui op iets wat algeheel onmoontlik is. Daar is egter een, en net een uitsondering: as die almagtige God dit doen, kan dit wel gebeur!

'n Heerlike belofte

# Waarskynlik verstaan die dissipels bloedweinig van wat Jesus presies bedoel, maar hulle aanvaar wat Hy sê. En dan dink hulle met groot verligting daaraan dat húlle al hulle besittings agter gelaat het, al was dit nie veel nie.
Hoewel Jesus nie direk op hulle aanspraak reageer nie, erken Hy per implikasie dat hulle reg is. Want Hy gee in respons vir hulle een van die wonderlikste en rykste beloftes in die Skrif.

# Dis betekenisvol dat Jesus nou nie meer net van besittings praat nie, maar veral van dierbares wat agter gelaat word. Die implikasie is duidelik: dit gaan oor meer as materiële besittings. Enige opregte opoffering ter wille van die Here, Sy evangelie (Mk 10:29), Sy koninkryk en Sy eer, sal ryklik beloon word.

# Daar sit groot troos in hierdie belofte. In hierdie lewe reeds sal dissipels baie keer soveel terug ontvang. Die dividende is uitmuntend! Honderdvoudig - met ander woorde baie, baie meer! (Mt, Mk). En dis nie iets totaal anders as wat hulle opgegee het nie. Volgens Markus is die kompensasie dieselfde soort dinge as dit wat hulle agter gelaat het - en indien nie identies dieselfde nie, ten minste soortgelyk.
Om alles te kroon sal die loon tot sy hoogtepunt kom in die ontvangs van die ewige lewe. Kan die prysgee van enigiets hierteen opweeg? Wat kan belangriker wees as die ewige lewe? Wat kan meer waterdigte sin maak as Jesus se oproep om jou hand af te kap of jou oog uit te ruk as dit dreig om jou die ewige lewe te kos? (Mt 18:8-9). Want daar is niks, maar niks hoër en heerliker as dit nie!
Hierdie wonderlike belofte hou egter één verrassing in: saam met al die heerlikhede kom ook vervolging! (Mk 10:30). Terwyl die dinge wat ons opgee op 'n manier na ons toe sal terugkom, selfs honderdvoudig, is dit nie 'n geval van quid pro quo nie. Dis nie tit for tat nie. Dis nie 'n transaksie nie. Ek het geen aanspraak op die Here se kompensasies nie. Trouens, as dít is waaroor dit vir jou gaan, is jou motiewe nie suiwer genoeg nie.
Laat ons nooit vergeet nie: die Here Jesus het nooit iemand probeer omkoop om Hom te volg en dien nie. En so is dit tot vandag toe. Jy val agter Hom in op Sy terme, of jy loop jou eie pad. En soos in die geval van die ryk jongman, sal Hy nie agter jou aan hardloop nie. Hy is oor niemand verleë nie!
Nee, Jesus het nie mense omgekoop om Hom te volg nie - Hy het hulle uitgedaag. Ja, ja, het Hy gesê, daar is loon, maar dit gaan jou alles kos om dit in besit te kry. Die koninkryk is nie vir lafharte en opportuniste nie. Nee, "bestormers gryp dit met geweld" (Mt 11:12, OAV); "forceful men lay hold of it" (NIV).

Wat sê dit alles vir ons?

1. 'n Hele morsige lewe van sonde is nie nodig om verlore te gaan nie; nee, 'n enkele, net één, boesemsonde waaraan mens vasklou, kan jou en my in die ewige verdoemenis laat beland.
Alles dui daarop dat hierdie jongman 'n uitnemende morele lewe gelei het. Dis net dat hy baie lief was vir sy goed. Só verknog was hy aan sy besittings dat dit vir hom belangriker was as om die Here Jesus as Verlosser te omhels, en gevolglik radikaal, enkelhartig en lewenslank as Koning te dien. Baie, baie mense is werklik opreg en ernstig bereid om alles op te gee vir Jesus, behalwe één boesemsonde, wat dit ook al mag wees. Maar daardie één ding kos hulle dan die ewige lewe.
Ons lees dat Herodus 'n ontsag vir Johannes die Doper gehad het, sy woorde en vermaninge ernstig opgeneem het, en gereeld in 'n tweestryd was wanneer hy na die prediker geluister het - maar dat hy nie kans gesien het om afstand te doen van Herodias, sy broer se vrou nie. Saam met hierdie vrou is hy die ewige verdoemenis in (Mk 6:20).
Ons is geneig om te dink as ons vroomheid darem net 'n bietjie swaarder weeg as ons verkleefdheid aan die wêreld, sal ons dit maak hemel toe. Maar nee, een lekkasie, net één, is nodig om 'n groot skip te laat sink. Een sonde, net één, waarvan ek my nie wil bekeer nie, kan my my siel kos. Laat ek vlymskerp eerlik met myself wees!
Let wel, die Bybel sê nie dat mense wat waarlik gered is, nie 'n stryd teen sonde sal hê nie. Inteendeel, die Skrif leer dat hulle elke dag in 'n intense en meedoënlose oorlog teen die vlees, die wêreld en die duiwel gewikkel sal wees. Die Bybel leer ook nie dat hulle nie meermale in hierdie stryd die onderspit sal delf nie. Maar wat die Bybel wel leer, is dat hulle die sonde met 'n felle haat sal haat, dit nooit sal goedpraat nie, en tog as 'n reël daaroor sal heers.

2. In hierdie verse sien ons die almag van God se genade in Christus.
As dit makliker vir 'n kameel is om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die hemel te kom, is dit inderdaad onmoontlik vir 'n ryk man om gered te word. En presies dieselfde geld vir enige mens met 'n boesemsonde waarvan hy of sy weier om afstand te doen.
Maar as dit dan vir 'n mens onmoontlik is, is dit wel vir God moontlik om so iemand te red. Dis maklik om te verstaan, sê jy. God is die Regter, en Hy is soewerein. Al wat Hy hoef te doen, is om so iemand kwyt te skeld - om die sonde nie teen hom of haar te hou nie. Wie sal Hom beskuldig as Hy die ewige lewe gee vir wie Hy wil?
Iets hiervan is natuurlik waar. Maar heeltemal só eenvoudig is dit nie - verre daarvandaan. God red niemand ten spyte van sy sonde nie. Hy red niemand in sy sonde nie. Nee, as Hy jou red, loop dit altyd uit op 'n felle haat teen sonde in jou lewe - alle sonde. Sonder uitsondering word dit een van jou grootste begeertes om eens en vir altyd klaar te kry met elke kriesel sonde. Presies dit is waarom jy so 'n voortgaande stryd voer teen die sonde in jou.
In die geval van die ryk jongman is sy boesemsonde hebsug. In net die volgende hoofstuk van Lukas lees ons hoe die Here nóg 'n ryk man van hebsug verlos. Ons praat van Saggeus (Lk 19:1-10). Presies hóé dit gebeur het, word nie aan ons geopenbaar nie, maar ons sien hoe hierdie skelm tollenaar totaal strydig met sy persoonlikheid tot nou toe, hom voorneem om restitusie te doen teenoor almal wat hy al in die verlede ingeloop het. Nie alleen wil hy dit veel deegliker doen as wat die Ou Testamentiese wet vereis nie (hy wil vierdubbel teruggee); hy wil die helfte van sy goed vir die armes gee.
As die Here Jesus dan sien dat die doodsgreep van hebsug in Saggeus gebreek is, herken Hy die herskeppende werk van die Heilige Gees in hom: redding het gekom; ook hý is 'n kind van Abraham! Siedaar, die kameel is dwarsdeur die naald se oog!
Sien jy? Al weet ons dat ons deur God se genade alleen gered word, op grond van Christus se verdienste alleen, deur die geloof alleen, neem die Here se redding altyd 'n bepaalde vorm aan. Dit word sigbaar in bekering en 'n opregte standpunt-inneming teen die sonde wat tot nou toe jou lewe beheers het.
Dit beteken egter nie dat hierdie sonde nie meer vir jou gevaar inhou nie. Dis soos 'n slang waarvan jy die rug gebreek het met jou kierie. Bly jy op 'n veilige afstand, is hy magteloos. Maar speel jy met hom, kan hy jou steeds noodlottig pik. Mense wat wedergebore is, ervaar so 'n afsku van sonde dat hulle niks meer te doen wil hê nie met daardie sondes waarmee hulle eens so hand om die lyf geloop het.
Dis omdat die wedergeboorte 'n hartsverandering is. En die hart is die sentrum van jou persoonlikheid. Word jy in jou hart - die beheerkamer van jou lewe - verander, moet en sal jou lewensuitinge ook verander. Dis 'n nuwe lewensbeginsel wat in jou geplant word. Alles verander (2Kor 5:17, OAV). Jy het 'n nuwe lewensgerigtheid, nuwe hartstogte, nuwe belangstellings, nuwe voorkeure en afkeure.
Sien jy? Redding en wedergeboorte kan nie onder 'n maatemmer weggesteek word nie. Sonder uitsondering word dit sigbaar in bekering en heiligmaking [3].

3. Die geskiedenis van die ryk jongman en Saggeus leer ons die wonder van God se genade.
Wie kan dan gered word?, vra die dissipels. Vir God is alles moontlik, antwoord Jesus. En inderdaad, selfs die opperste bedrieër, Saggeus, word 'n nuwe skepsel.
Onthou, die Woord vertel ons van baie ryk mense wat kinders van God was: Abraham, Job, Dawid en talle meer. Maar hulle het een en almal die Here enkelhartig gedien. In geen geval was hulle geld en besittings hulle baas nie. Dink maar aan hoe die Skrif hulle vir ons skets. Is hulle rykdom ooit voorop in hulle lewens? Nee, veel eerder was hulle mense wat met beide hande uitgedeel het - omdat die Here hulle harte bevry het van die wurggreep van hebsug, en dit vervang het met 'n allesoorheersende liefdesempatie vir diegene wat gebrek ly.
En wat hier vir hebsug geld, geld netso vir enige ander sonde waaraan jy in hierdie oomblik mag dink.
O, niemand, maar niemand is buite bereik van God se herskeppende genade nie. Geen sonde kan jou vashou as die Here jou eenmaal gegryp het nie.
Sit jy dus tans nog met 'n doodsonde wat jou magteloos in sy greep het? Maak nie saak wat dit is nie: hebsug, wellus en onsedelikheid, woede en bitterheid, jaloesie, verslawing, luiheid, trots, ongeloof, liefdeloosheid, of wat ook al - vat dit nou in nederigheid en eerlikheid na die Here toe. Verootmoedig jou in opregte gebrokenheid voor Hom. Draai jou rug met beslistheid op jou sonde - neem standpunt in daarteen. Bely dit sonder om terug te hou. En vra Hom dan om jou te vergewe, en om jou te verlos uit die wurggreep. En Hy sal dit doen, al verg dit ook van jou 'n lang en uitgerekte stryd. Want niks behaag en verheerlik Hom meer as om sondaars te red nie.


[1] In die eerste helfte van hierdie Herout loop ek in pas met Walter Chantry se Today's Gospel. Ek is oortuig dis die enigste manier om hierdie stukkie geskiedenis reg te verstaan.

[2] Mt 16:27; 25:31-46; Rm 2:5-11; 2Kor 5:10; Op 19:8; 20:12-13; 22:12-15.
Sien AH 2 en 3 vir 'n bespreking van die verband tussen redding deur geloof alleen, enersyds, en die noodsaaklikheid van gehoorsaamheid en goeie werke, andersyds.

[3] Vergelyk die merktekens van wedergeboorte soos Johannes dit in sy eerste brief beskryf. Lees die OAV: 5:1; 3:9; 2:29; 4:7 (3:14-17); 5:4.
Nico van der Walt