Saturday, September 1, 2012

ANTIPAS HEROUT No.26 - PINKSTER [1 van 3] - Hd 2:1-36 - Die betekenis

In baie kerklike kringe word die belangrikheid van die pinkstergebeure grootliks onderskat. Maar die ware kerk, soos ons dit in Handelinge aantref, soos dit deur die eeue oorleef, soos dit vandag daar uitsien, is ondenkbaar sonder die koms en voortgaande teenwoordigheid van die Heilige Gees. Daar is natuurlik sektore van die kerk wat die werk van die Gees baie sterk beklemtoon  -  selfs oorbeklemtoon. Maar helaas gaan dit meermale gepaard met allerlei skewe beklemtonings en selfs Godonterende uitwasse.
    Dit is dus baie nodig om met alle erns gereeld terug te gaan na die Bybel om seker te maak jou pneumatologie (jou leer oor die Heilige Gees) is in pas met die Skrifopenbaring.

Die Christo-sentriese karakter van Pinkster

 
As mense na die Pinkstergebeure kyk, word daar dikwels op die verskynsels en gevolge gekonsentreer. Die Christosentriese karakter daarvan word grootliks misgekyk. Dit lei dan tot allerlei skeeftrekkings. Die  oorbeklemtoning van die talewonder in sommige kringe is 'n voorbeeld daarvan.
    Maar Pinkster moet reg benader word, anders loop jy skeef.  Sekerlik kan mens nie beter doen nie as om te vra hoe Petrus self, die prediker op daardie merkwaardige dag, die gebeure vertolk het. Sy rede is immers onder meer 'n antwoord op die skare se vraag: "Wat kan dit tog beteken?" (Hd 2:12).
    In die Pinksterhoofstuk word 23 verse aan sy preek gewy, wat ons in staat stel om agter die kap van sy geïnspireerde byl te kom (Hd 2:14-36).
    Die Pinkstergebeure word gewis beheers deur die Here Jesus se belofte net voor Sy hemelvaart: "Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne 'n paar dae met die Heilige Gees gedoop word" (Hd 1:5. Vgl. ook Mt 3:11; Mk 1:8; Lk 3:16; 24:49 en Jh 1:33). Dit is die verheerlikte Here Jesus Christus persoonlik wat Sy dissipels op die Pinksterdag met die Gees oorspoel.
    Petrus begin deur die Here se belofte in Joël 2:28-32a aan te haal, naamlik dat Hy in die laaste dae Sy Gees op "alle mense" sou uitstort. Petrus twyfel nie dat hulle ervaring op daardie oomblik die (aanvanklike?) vervulling van hierdie profesie is nie: "hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het" (2:16).
    Die apostel gaan dan voort in die res van sy preek om aan te toon dat die uitstorting van die Gees 'n manifestasie is van Jesus Christus se soewereine Koningskap. Sy argumentasie kom tot 'n konkluderende klimaks in 2:36: "Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!".
    Onmiddellik na die aanhaling van sy teks herinner Petrus sy luisteraars aan die kragtige dade, wonders en tekens wat Jesus in hulle midde gedoen het  -  en dat dit God se manier was om Sy Seun se Goddelike sending en gesag te waarmerk en te bekragtig (2:22).
    Verse 24-32 word dan gewy aan die feit en betekenis van Jesus se opstanding uit die dood. Waarom het God Hom opgewek? "Omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word" (OAV). En waarom was dit onmoontlik? "Want Dawid sê van Hom"  -  en dan haal Petrus aan uit Ps 16:8-11 (25-28). Hier het Dawid geprofeteer (30), beslis nie oor homself nie, aangesien hy gesterf en sy liggaam vergaan het (29), dat die Messias sou opstaan uit die dood (31). So het God dit immers aan Dawid met 'n eed belowe (30). Dit is dus duidelik dat Christus nie net gekruisig is volgens God se "bepaalde raad en voorkennis" (23, OAV) nie, maar inderdaad ook opgewek is daarvolgens. En presies dit is die rede waarom dit vir die dood onmoontlik was om Hom vas te hou.
    Wat ons moet raaksien, is Petrus se beklemtoning dat Christus opgewek is met 'n doel: om as die Seun van Dawid op sy heerserstroon te sit (2:30).
    In Hd2:34-35 werk Petrus met nog 'n Ou Testamentiese aanhaling, die keer uit Ps 110:1: "Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het." Ook in hierdie geval is dit duidelik dat dit nie op Dawid self betrekking het nie, aangesien hy nooit na die hemel opgevaar het nie (2:34a). Nee, dit het onteenseglik vooruit gewys na Christus.
    Weereens moet ons raaksien waarom Petrus spesifiek hierdie profesie aanhaal. Dit beklemtoon Christus se verhewe Koningskap na Sy hemelvaart. Hy "sit"  -  ten diepste is Sy werk afgehandel. Al wat oorbly is die konsolidasie van Sy oorwinning. Hy sit aan God se "regterkant"  -  die posisie van uitvoerende gesag. En daar sal Hy bly totdat al Sy vyande onderwerp en die chaos van die sondeval opgeruim is.
    En wat is die verheerlikte Koning Jesus se heel eerste optrede na Sy hemelvaart as Hy op Sy troon gaan sit? Wat is die eerste ding wat Hy doen in die konstruksie van die nuwe skepping? Wat is Sy eerste tree onderweg na die onderwerping van Sy vyande?  Hy vra en verkry die mandaat van Sy Vader om volgens die eeu-oue belofte die Heilige Gees op Sy gemeente uit te stort (2:33).
    Hierdie voorreg het Christus volledig verdien. Sy koms na hierdie wêreld toe was immers 'n geregtigheidstriomf. Hoe weet ons dit? Die Vader het Hom opgewek en daarmee verklaar dat Hy volkome tevrede was met Sy Seun se volmaakte offer! En van hierdie opstanding is al die apostels getuies (2:32; 1Kor 15:3-8).
 

Daar kan geen twyfel wees nie: die punt wat Petrus in Sy hoorders se gemoedere wil ingraveer, is dat Jesus Christus God se groot Messiaanse Koning is. En die uitstorting van die Heilige Gees  -  dit wat elkeen in hierdie groot skare met sy eie oë en ore kan waarneem  -  is nie net bewys daarvan nie, maar ook die eerste tree in Sy opmars na 'n nuwe mensheid, asook 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde.
   
Vir Petrus lê die primêre betekenis van Pinkster dus nie in die koms van die Heilige Gees op sigself nie, maar in die feit dat Jesus Christus inderdaad verheerlik en verhoog is, en dat Sy onstuitbare heerskappy vanuit die hemel 'n historiese realiteit geword het.
    Soos altyd, is ook hier die Heilige Gees nie voorop nie, maar verheerlik Hy Christus deur Hóm sentraal te plaas.
 

Pinkster is in die eerste instansie 'n Christologiese gebeurtenis!

Die koms van die Gees is bewys van Jesus Christus se troonsbestyging, net soveel as wat die opstanding bewys is van die effektiwiteit van Sy dood en versoeningswerk. Pinkster is op sigself net so min herhaalbaar as die kruis of die oop graf of die hemelvaart. Dit is trouens onlosmaaklik deel van daardie één pakket openbarings-historiese Christus-gebeure: kruis, opstanding, hemelvaart, Pinkster. Die boek Handelinge beskryf dus nie soseer die handelinge van die Heilige Gees nie, maar die voortgaande handelinge van Jesus Christus. Hd 1:1-5 (OAV) is duidelik: die Here Jesus gaan voort om te doen en te leer, maar op 'n nuwe manier  -  deur Sy Heilige Gees.
    Ook die verdere uitkringings of deurbrake van die Heilige Gees in Handelinge  -  volgens die raamwerk wat die boek self vir ons voorsien in 1:8  -  moet so gesien word (Hd 8:14-17; 10:44-46; 19:6). Dis elke keer 'n manifestasie van die feit dat Koning Jesus besig is met wêreldonderwerping en -herskepping  -  en dat Hy Sy dissipels toerus om grens na grens oor te steek.
    Om die Christusverheerlikende karakter van Pinkster tot sy piek te voer, sinspeel hierdie gedeelte op meer as een manier op Jesus se goddelikheid.

•     Die feit dat Jesus aan die regterkant van die Vader gaan sit, suggereer dit. Die mees verhewe en heilige engele geniet die voorreg om in God se teenwoordigheid te staan  -  soos Gabriël (Lk 1:19, OAV)  -  maar geeneen van hulle word ooit uitgenooi om op die plek van unieke eer aan God se regterkant te sit nie. So stel Hb 1:13 dit eksplisiet: "Van watter engel het Hy ooit gesê: 'Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het'?"

•     In die aanhaling uit Joël is dit God wat belowe om Sy Gees op Sy diensknegte uit te stort (2:17). En in 2:33 is dit die Here Jesus wat dit doen. Petrus stel dus effektief 'n gelykteken tussen die God van Joël 2 en die verhoogde Jesus Christus.

•     As Petrus die mense beveel om in die Naam van Jesus Christus gedoop te word, spoor hy hulle aan om die reddingspad te loop waarvan Joël gepraat het: "elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word" (2:21). Nogeens stel hy dus 'n gelykteken tussen die verheerlikte Jesus en die Here van Joël 2 (Rm 10:9-13).

•     Petrus vind dit in orde om Mt 28 se trinitariese doopformule te verkort tot 'n doop "in die Naam van Jesus Christus" (38). Dis as 't ware nog 'n gelykteken.

Die Pinksterfees (Hd 2:1)

In God se raadsplan móés Christus  tydens Paasfees gekruisig word. Het die bloed van die paasrammetjies teen die Israeliete se deurkosyne in Egipte nie vooruit gewys na Sy soenoffer nie? (Eks 12). Ewe min kan dit toevallig wees dat die Heilige Gees tydens die Pinksterfees uitgestort is. Dit móés so wees!
    Pinkster was die middelste van 3 landboufeeste wat die Israeliete jaarliks gevier het (Eks 23:14-17; 34:22; Num 28:26-31; Dt 16:9-12). Dit was na Paasfees en voor die Huttefees.

•    Dit is die "Pinksterfees" of die "Fees van die Weke" genoem, want dit het 7 weke, oftewel 50 dae ná die Paasfees plaasgevind (Gr. pentekostos: vyftig).

•    Dit is ook die "Fees van die Oes" of die "Fees van die Insameling" genoem (Eks 23:16)  -  wanneer die eerste opbrengs van die graanoes in die vorm van 'n eerstelinggerf aan die Here geoffer is. Daarmee is bely: die hele oes kom van U; die hele oes behoort aan U.

Pinkster was dwarsdeur Bybelse tye essensieel 'n oesfees. Waarskynlik is dit dan ook die oorspronklike en oudste benaming daarvan.
    Waarom is die Heilige Gees op die Pinksterdag  -  die Fees van die Oes  -  uitgestort? Daar is minstens twee redes:

•     Eerstens is die Heilige Gees die Here  se "eerste gawe" aan Sy gemeente (Rm 8:23)  -  en as sodanig is dit die waarborg dat ons uiteindelik ons volle erfenis in Christus sal ontvang.

•     Tweedens het die Gees ter wille van die "oes" gekom.

Meer as een keer verwys die Nuwe Testament na God se uitverkorenes wat vanuit die gevalle mensheid gered word as die oes. As Johannes die Doper vooruit kyk na die Here Jesus se verlossingswerk, sê hy onder meer dat Christus Sy oes in Sy skure sal versamel (Mt 3:12, ens.). In Mt 9:37-38 sê Jesus: "Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes." En as Hy wil beklemtoon dat die wêreldwye uitdra van die evangelie op hande is en dat die volkere daarvoor gereed is, sê Hy in Jh 4:35 vir Sy dissipels: "Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes."


Die Gees het in 'n baie besondere sin gekom met die oog op die insameling van die oes.
As die Here Jesus Sy dissipels beveel om die evangelie tot aan die uiterste van die aarde te gaan verkondig, belowe Hy telkens in dieselfde asem dat die Heilige Gees hulle daarvoor sal toerus. Hy stuur hulle uit  -  net soos die Vader Hom gestuur het  -  en blaas oor hulle (as 'n handelingsprofesie) met die woorde: "Ontvang die Heilige Gees!" (Jh 20:21-23). In Hd 1:8 belowe Hy net voor Sy hemelvaart: "Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld." En volgens Lukas beveel Hy uitdruklik, onmiddellik na Sy groot sendingopdrag, dat hulle eers in Jerusalem op die koms van die Gees moet wag voordat hulle met hulle uitreiking begin: "En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is" (Lk 24:49).
 

Sonder die Heilige Gees se toerustende werk in die gemeente sou daar tot vandag toe hoegenaamd niks gekom het van die oes se insameling nie.
   
Die Gees het ook gekom met die oog op die bewaring van die oes.
    Oor en oor leer die Nuwe Testament dat die Heilige Gees se toerustende werk nie net gaan oor ons getuieniskrag nie, maar ook oor ons dienswerk in die gemeente. Voorts bewerkstellig Hy nie net die aanvang van redding nie, maar ook die voortgang en ontwikkeling daarvan. Sonder die Gees sou ons niks gegroei het in die kennis van die Here en gelykvormigheid aan Sy beeld nie.

Die Pinksterverskynsels (Hd 2:2-13)

Hd 2 beskryf nie net die feit van die Heilige Gees se koms nie, maar ook die implikasies daarvan. Sonder twyfel is dit die doel van die drie uitsonderlike tekens of verskynsels wat plaasvind. En die mense verstaan dit, want hulle vra: "Wat kan dit tog beteken?" (12).
    Die drie tekens lyk na natuurlike verskynsels (wind, vuur en spraak), maar in sowel oorsprong as aard is hulle bonatuurlik. Wat hulle hoor is nie 'n wind nie, maar is soos 'n geweldige stormwind (2). Wat hulle sien is nie vuur nie, maar is soos vuur, wat in tonge verdeel (3). Wat hulle praat, is nie natuurlike spraak nie, maar ander tale soos die Gees dit aan hulle gee (4).
    Hoewel die tekens vooruit wys, moet ons die betekenis daarvan in die Ou Testament gaan soek.
    Lukas gebruik 'n betekenisvolle woord in v.1: "Toe die dag van die pinksterfees aanbreek ..." (Gr. sumpleroo: vol word). Dit kom net 3 maal in die Nuwe Testament voor  -  elke keer uit Lukas se pen. In Lk 8:23 word dit gebruik vir 'n skuit wat vol word van water en dreig om te sink. En in Lk 9:51 word dit gebruik om te sê dat die tyd vir Jesus se hemelvaart vol geword het.
    Die Septuaginta (die voor-Christelike Griekse vertaling van die Ou Testament) gebruik dit om te praat van die vol word van Juda se ballingskap van sewentig jaar (Jer 25:12).
    Hierdie woord in Hd 2:1 impliseer dus 'n reeks voorafgaande gebeure wat alles moes plaasvind voordat die Gees uitgestort kon word. Dit wys op die geprofeteerde klimaks na verloop van 'n tydsperiode. Afgesien daarvan dat dit die gewigtigheid van die gebeurtenis onderstreep, wil hierdie woord dit daarom onder ons aandag bring dat die voorafgaande geskiedenis  -  dus die Ou Testament  -  belangrike leidrade inhou as ons die gebeure wil verstaan.
    Les bes is dit van die allergrootste belang om raak te sien, soos getoon sal word, dat elkeen van hierdie tekens sowel 'n positiewe as 'n negatiewe kant het  -  'n heilsdimensie en 'n oordeelsdimensie. Christus se regering deur Sy Gees bring nie net verlossing nie, maar ook vernietiging.
    Hierdie twee kante van die Christusregering word soos klokslag beklemtoon op verskeie gewigtige openbarings-historiese momente.
    Reeds in die profesie van Joël 2:28-32  -  die teks wat Petrus volledig aanhaal op die Pinksterdag  -  kry beide dimensies ewe veel aandag. In God se verbondstrou word Sy Heilige Gees op Sy gemeente uitgestort (Joël 2:28-28, 32; Hd 2:17-18, 21), maar in dieselfde asem word skrikwekkende beelde van oordeel oor die Here se vyande óók beskryf (Joël 2:30-31; Hd 2:19-20).
    Johannes die Doper profeteer oor die regering van die komende Koning, dat Hy sal doop met sowel die Heilige Gees as met vuur. En vanuit die konteks is dit duidelik verwys hy na oordeelsvuur (Mt 3:11 ens.).

•    Wat die "geweldige stormwind" betref, moet ons onthou dat sowel die Ou Testament in Hebreeus as die Nuwe Testament in Grieks die onderskeie woorde vir asem of wind (ruach en pneuma) gebruik om van die Heilige Gees te praat. En daar is goeie rede voor: die beweging van lug is 'n wonderlike beeld van sentrale aspekte van die Heilige Gees se Persoon en werk (vgl. Jh 3:8).
    Positief spreek die stormwind op die Pinksterdag van die nuwe lewe wat Christus deur Sy Heilige Gees sou bring. Koning Jesus het immers met Sy herskeppingswerk begin!
    Palestina se mense was baie bewus van die effekte van die wind. Vanaf die weste en die Middellandse See het dit lewegewende reën gebring. Jesaja bring dit in verband met die Gees se werk: "Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge" (Jes 44:3).
    Vanuit 'n ander hoek gesien, is ons net so afhanklik van die Heilige Gees vir ons geestelike lewe, as wat ons fisies afhanklik is van die asem in ons longe. Die mens het eers 'n lewende wese geword toe God die lewensasem in sy neus geblaas het (Gn 2:7). En in Eseg 37 word die beendere eers lewend as die profeet tot die Gees roep en Hy Sy asem in die dooies inblaas (v.9-10). Na aanleiding daarvan belowe die Here dan: "Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe ..." (v.14).
    Negatief spreek die stormwind van die oordele wat Christus deur Sy Heilige Gees sou voltrek. Koning Jesus het immers begin om Sy vyande te onderwerp!
    In Palestina waai ook dorre oostewinde. Dit kom oor die droë en warm woestyn en verskroei die oeste. Ook hiermee werk Jesaja: "Iemand sê: 'Roep!' En ek vra: 'Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos 'n veldblom: gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind (= Gees) daaroor laat waai.' Dit ís so, die volk is soos gras" (Jes 40:6-8). Die asem van die Here gee nie net lewe nie; dit verskroei ook.

•    Wat die "tonge van vuur" betref, gee die Ou Testament nogeens die antwoord.
    Positief wys die Pinksterdag se vuur op Christus se heerlike teenwoordigheid deur Sy Gees in Sy gemeente  -  en spesifiek op die reinigende en heiligmakende effek wat dit sal hê. Koning Jesus se regering word immers deur volkome geregtigheid gekenmerk!
    Dwarsdeur die Ou Testament wys vuur op die Here se heiligheid en heerlike teenwoordigheid. Aan Moses verskyn die Engel van die Here "in 'n vlam" binne-in 'n brandende doringbos (Eks 3:2). Die Here kom "in vuur" af na die Sinaiberg (Eks 19:18). Die "magtige teenwoordigheid" van die Here het snags as 'n "vuur" bokant die tabernakel gemanifesteer (Eks 40:34-38). Nog Ou Testamentiese voorbeelde sou kon vermenigvuldig word.
    Die feit dat die vuur verdeel en soos tonge op elke dissipel gaan rus, is baie betekenisvol. Dit individualiseer die betekenis van die vuur. Nie net sou Christus se gemeente korporatief deur die Gees bewoon word nie; elke gelowige sou vir Sy Gees 'n tempel wees (1Kor 6:19). Miskien dink Petrus baie jare later aan die Pinkstergebeure as hy vir vervolgde gelowiges skryf: "Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is 'n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly"(1Pt 4:14). Vervolging en swaarkry is nie noodwendig 'n teken dat die Here Hom aan ons onttrek het nie; dis dikwels juis 'n teken van Sy Gees se heerlike teenwoordigheid.
    Negatief wys die Pinksterdag se vuur ook op die oordele wat Christus deur Sy Gees oor Sy vyande gaan voltrek. Sy heerskappy sal nie net deur heil gekenmerk word nie, maar ook deur oordeel oor sonde en sondaars. Van die Koning se vyande sal niks oorbly nie!
    Talle kere is vuur simbool van God se toorn en straf in die Ou Testament (Dt 4:24; 32:22; Jer 4:4; Eseg 22:21; Sef 1:18; Nah 1:6). Nêrens is dit duideliker as in die offerdiens nie. En God se oordele kom dikwels in die vorm van vuur (Gen 19:24; Num 16:35; Jos 7:25). As die Hebreërskrywer sê dat ons God 'n verterende vuur is (Hb 12:29), haal hy Dt 4:24 aan.
    Johannes die Doper profeteer dat die komende Koning gaan skeiding maak tussen die egte en die valse in die Godsvolk. Hoe gaan Hy dit doen? Hy gaan sowel seën as veroordeel  -  deur onderskeidelik met die Heilige Gees en met vuur te doop. Op die Pinksterdag sien ons hoe Christus deur Sy Gees Sy gemeente seën. Minder as 4 dekades later sien ons in die vernietiging van Jerusalem en sy tempel  -  en die gepaardgaande oordele oor die Joodse volk  -  'n dramatiese voorbeeld van oordeel oor Sy vyande.
    Hoe duidelik profeteer Maleagi nie oor hierdie dubbele reiniging van die komende Koning nie! As die Here  -  die Engel van die Verbond  -  na Sy tempel kom, sal Hy soos die vuur van die smelters wees en Sy Leviete suiwer "sodat hulle aan die Here 'n offer kan bring wat bestaan uit regdoen" (Mal 3:1-5). Maar dis nie al nie. Maleagi gaan voort: "Die dag kom en hy brand soos 'n oond. Dié wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie 'n wortel, nie 'n tak oorbly nie" (4:1).

•    Wat die "ander tale" betref, is dit in die eerste instansie belangrik om te verstaan wat presies gebeur het.
    Dit was nie 'n hoor-wonder nie, maar 'n praat-wonder (4). Dit word voorts duidelik gesê dat die Heilige Gees hulle daartoe in staat gestel het (4). Ons kan dus aanvaar dat die dissipels hierdie tale nie vantevore kon praat nie. Of hulle dit verstaan het terwyl hulle dit gepraat het, kan ons nie met sekerheid sê nie. En of hulle dit daarna steeds kon praat, weet ons ewemin.
    Dit was ook nie ekstatiese spraak of sogenaamde engeletaal nie. Dieselfde woord wat in v.4 gebruik word (Gr. glossa), word ook in v.11 gebruik waar die mense dit gebruik om van hulle moedertale te praat. Nee, dit was gewone tale wat in die wêreld van toentertyd gepraat is (Gr. dialektoi; 6, 8). Mense van amper 'n dosyn en 'n half streke (9-11) hoor hoe God se groot dade (11) verkondig word in die tale wat hulle aan moedersknie geleer het.
    Weereens gee die Ou Testament belangrike perspektiewe op die betekenis van hierdie glossolalie (n.a.v. die Griekse woord, "glossa", wat tong beteken). En nogeens is daar 'n positiewe en 'n negatiewe implikasie.
    Positief wys die Pinksterdag se tale op Christus se herstel- en versoeningswerk deur Sy Heilige Gees in hierdie gevalle wêreld. Koning Jesus maak daarmee Sy agenda bekend: wat die sonde vernietig en verstrooi het, gaan Hy heelmaak en byeenbring! (Ef 1:10).
    By Babel het die Here die mens se trots en rebellie gestraf deur verwarring te bring in hulle taal (Septuaginta: glossa), sodat hulle mekaar nie kon verstaan nie en gevolglik oor die aarde verstrooi is (Gn 11:1-9). Die Pinkstertale is egter 'n vooruitwysing dat hierdie straf  -  verwarring, verstrooiing en onderlinge vyandskap tussen nasies as gevolg van misverstande  -  omgekeer gaan word. Dit wil sê dat die Here Jesus die verbrokkeling, gebrokenheid, frustrasie en konflik wat die volkeresee kenmerk, gaan regstel.
    Die Efesiërbrief maak baie hiervan (2:11-22). Christus versamel Sy nuwe mensheid vanuit alle nasies  -  nie om 'n monument van eie trots soos by Babel op te rig nie, maar om die Here te loof vir Sy groot verlossingsdade. Hy het die skeidingsmuur tussen die Jode en die nasies gesloop, "sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep" (2:15, OAV). Let wel, want dis kardinaal belangrik, dit gaan hier oor die liggaam van Christus, en nie oor mense in die algemeen nie.
    Hoe bewerkstellig die Here Jesus en Sy Gees hierdie grootse proses van versameling en heelmaking? En hoe hou Hy Sy nuwe mensheid in stand? Ook dit wil die taleverskynsel vir ons sê.
    Soos altyd gaan die Here deur die gesproke woord werk. Sy instrument sal die verkondiging van die "groot dade van God" (11, OAV) wees (Rm 10:11-17). Die evangeliewoord gaan die krag wees tot redding vir elkeen wat glo (Rm 1:16). Hy gaan sondaars wat geestelik dood is tot lewe bring deur "die woord van die waarheid" (Jk 1:18). Hy gaan hulle wederbaar "uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God" (1Pt 1:23). Die geloof kom "deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus" (Rm 10:17). Vergelyk ook Jh 17:17, 20; 1Kor 1:21; 2Ts 2:14  -  en natuurlik Eseg 37:1-14.
    En hoe gaan die Here die "groot dade van God" onder die nasies verkondig kry? Dit word nie vanuit die hemele rondom die aarde gebasuin nie. God gebruik nie legioene engele om dit te proklameer nie. Nee, dis Sy dissipels wat in vreemde tale praat! Sekerlik sou Hyself in 'n oogwink die evangelie rondom die aarde kon laat weerklink. Sekerlik sou Sy engele nie so gesukkel het soos ons nie. Maar in Sy soewereine wysheid het Hy besluit om óns Sy medewerkers te maak!
    Dit is belangrik om daarop te let dat bogenoemde nie net die Here se manier is om sondaars tot die geloof te bring nie, maar ook om hulle in die geloof te hou. Dit gaan dus nie net oor die daarstelling van die nuwe mensheid nie, maar ook oor die instandhouding daarvan. As Paulus in Hd 20 die ouderlinge van Efese vir die laaste keer groet, vertrou hy hulle en die gemeente toe aan God en "aan die woord van sy genade". Hy gaan dan voort deur te sê: "Die woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het" (Hd 20:32).
    Om op te som: die Pinksterverskynsel van ander tale sê vir ons ten minste 3 dinge oor Koning Jesus se agenda en werkswyse in die daarstelling en instandhouding van die nuwe mensheid:
    Eerstens, dat Hy hierdie nuwe mensheid vanuit alle nasies en tale gaan versamel.
    Tweedens, dat Hy die evangelie as instrument daarvoor gaan gebruik.
    Derdens, dat Hy Sy dissipels  -  gebroke soos hulle ook al mag wees  -  as medewerkers gaan gebruik om hierdie evangelie tot aan die uiteindes van die aarde te verkondig.
    Die ander tale van die Pinksterdag het egter ook 'n negatiewe funksie. Dit wys na die Here se oordele wat op hande is ‒ veral vir die Joodse volk en hulle godsdienstige sisteem. Koning Jesus heers in die hemel nie net om te seën nie, maar ook om te oordeel. Hy sal Sy vyande onderwerp; Hy gaan ook doop met vuur!
    Hierdie perspektief word deur die apostel Paulus in 1Kor 14:21-22 onder ons aandag gebring (let op dat hy in hierdie hoofstuk juis oor glossolalie praat): "In die wet staan daar geskrywe dat die Here sê: 'Deur andertaliges en deur die mond van vreemde mense sal Ek met hierdie volk praat, en selfs dan sal hulle na My nie luister nie.' So is die gebruik van ongewone tale of klanke dan 'n teken vir ongelowiges en nie vir gelowiges nie."
    Paulus haal hier aan uit Jes 28:11. Wat Jesaja daar in die agste eeu voor Christus vir die verbondsvolk sê, is dat hulle moet besef dat God se oordele op hulle rus wanneer hulle die onverstaanbare taal van die Babiloniërs hoor. Die vreemde taal sal dus vir hulle 'n teken wees dat hulle straf op hande is.
    Moses profeteer al in die vyftiende eeu voor Christus dat die vloek van die verbond só sal kom indien die volk in sonde sou volhard: "Die Here sal van ver af 'n nasie teen jou laat opruk. Hy sal van die uithoeke van die aarde af kom, vinnig soos 'n arend wat vlieg. Dit sal 'n nasie wees wie se taal jy nie verstaan nie, 'n wrede nasie deur wie niemand, oud of jonk, ontsien word nie, 'n nasie sonder genade" (Dt 28:49-50).
    En Jeremia, wat 'n ballingskapsprofeet in die sesde eeue voor Christus is, en die vervulling van hierdie oordeelsdreigement voor sy oë (en ore!) sou sien afspeel, verwys weer daarna as hy die volk tot hulle sinne probeer bring: "Kyk, mense van Israel, Ek laat 'n nasie uit 'n ver land teen julle optrek, sê die Here, 'n nasie wat lankal bestaan, van die ou tyd af, 'n nasie wie se taal julle nie ken nie, wie se woorde julle nie verstaan nie" (Jer 5:15).
    Die geïnspireerde apostel Paulus hoor dus in hierdie ander tale ook die skrikaanjaende gedreun van naderende oordeel. Maar hy weet die Here se getroue dissipels hoef nie te vrees nie. Dis oor Koning Jesus se vyande wat dit gaan kom. Hierdie ander tale is dus "'n teken vir ongelowiges en nie vir gelowiges nie" (1Kor 14:22).
    Inderdaad sou die Here se oordele in die jaar 70 n.C. oor Jerusalem en die Jode voltrek word. Hulle godsdienstige infrastuktuur sou vernietig word en hulleself  -  die oorlewendes  -  sou onder die nasies verstrooi word.


Reg vertolk, was al drie Pinksterverskynsels boordevol perspektiewe op die soewereine en onweerstaanbare regering van die verheerlikte en verhoogde Jesus Christus deur Sy Heilige Gees. Meer nog, elkeen van hierdie verskynsels het sowel positief gespreek van wonderlike verlossingsheil, as negatief van die skrikwekkende oordele wat Hy sou bring.
    Voorts, as hierdie tekens met die nodige Bybelse verantwoordelikheid in hulle openbarings-historiese konteks vertolk word, bring dit gans ander beklemtonings as die simplistiese en mensgesentreerde hantering daarvan deur mense vir wie dit bloot oor opwinding, belewinge en sensasie gaan.

Slot

 
Laat ons begryp dat Jesus Christus méér is as die redder van ons siele  -  onuitspreeklik wonderlik soos dit is. Laat ons ook Sy kosmiese en universele regering raaksien wat alle nasies en eeue oorspan.
    Laat ons begryp dat Jesus Christus méér is as die liefdevolle en sagmoedige Verlosser van hopelose sondaars  -  onuitspreeklik wonderlik soos dit is. Laat ons ook Sy verskriklike toorn raaksien wat een en elkeen van Sy vyande sal verdelg.
    En laat ons altyd die nodige dankbaarheid en ontsag handhaaf met betrekking tot die groot gawe van die eindtyd  -  die Gees, die Heilige Gees.     Les bes, laat ons altyd onthou: Hy het gekom om Christus te verheerlik. En as Hy in en deur ons werk, dan is dit sodat ons Koning Jesus sal dien en verheerlik.

                                                                                                                              Nico van der Walt