Tuesday, May 29, 2012

ANTIPAS HEROUT No.2 : 'N TEENSTRYDIGHEID IN DIE BYBEL?

Twee dodelike vyande 

'n Teenstrydigheid?

"Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof, sonder die werke van die wet." (Rm 3:28)
    ".... ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus ...." (Gal 2:16)
    "Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?" (Jk 2:24)

Is Paulus en Jakobus in stryd met mekaar? Is daar leertwis in die vroeë kerk? Weerspreek die Bybel homself?
    Die antwoord is 'n besliste nee! Dit mag so lyk, maar as mens verstaan waaroor dit hier gaan, laat dit jou in verwondering oor die balanse en rykdomme van die Skrifopenbaring.

Nie vyande nie, maar bondgenote

Paulus en Jakobus verskil nie van mekaar nie, maar veg rug aan rug teen twee dodelike vyande wat die kerk van verskillende kante af aanval. Dis 'n aanslag wat steeds voortduur en is vandag so intens en meedoënloos soos ooit. Beide vyande is dwaalleringe met afwykende standpunte oor die vraagstuk van goeie werke en gehoorsaamheid in 'n Christen se lewe.
    Die een wil werke by die verdienste van Christus voeg as grond van redding. Die ander argumenteer dat, aangesien Christus 'n volmaakte soenoffer gebring het,  goeie werke, al dan nie, in beginsel nie ter sake is in 'n persoon se redding nie. Die Bybel stel dit egter onomwonde: beide leringe is verdoemende leuens!
    Paulus beveg wettisisme. Jakobus het dit teen wetteloosheid (ook 'losbandigheid' of 'antinomianisme' genoem). Beide is dodelike dwalinge waarteen elke Christen moet waak.

Wettisisme
   
In die vroeë kerk is hierdie dwaling veral deur die Judaïste gedra. Hulle was Joodse 'Christene' wat gepreek het dat mense gered word deur geloof in Christus plus werke (die seremoniële wet, veral die besnydenis).
    Meermale, veral in Galasiërs, bestry Paulus hulle met alles in sy vermoë. Nee, sê hy, redding kom deur geloof alléén! Christus se verdienste alléén is die grond vir regverdigmaking. Enige werke, van watter aard ook al, wat as addisionele verdienste noodsaaklik geag word vir redding, is niks minder nie as 'n mosie van wantroue in die algenoegsaamheid van Jesus Christus se versoeningswerk.
    Wettisisme is 'n veel ernstiger dwaling as wat meeste dink. Luister wat skryf die apostel: "Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou. Julle wat van julle sonde vrygespreek (lett. 'geregverdig') wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur." (Gl 5:2-4. Vgl. ook Rm 4:4-5; 11:6)
    Hierdie is skrikwekkende woorde! Let op, dit gaan om meer as die onnodigheid om iets by die volmaakte werk van Christus te voeg; die apostel leer hier, onder inspirasie van die Heilige Gees, dat ware wettisisme diskwalifiserend en verdoemend is.
    Waarom is hierdie saak so belangrik in die oë van die Here? Die antwoord is eenvoudig: ons dien 'n jaloerse God. Hy en Hy alleen sal alle roem kry vir elke sondaar wat gered word. Jesus Christus is óf volkome alleen-redder, óf Hy red gladnie. Geen mens sal ooit 'n aandeel in sy eie saligheid hê nie; nie 'n greintjie nie. God deel Sy lof met niemand nie!
    Presies hierdie saak het aan die hart van die sestiende eeuse Reformasie gelê. Rome leer geloof plus die sakramente (en 'n rits ander dinge) - en dis niks anders nie as geloof plus werke. Daarenteen het die reformatore die Woord van God skaamteloos gepreek: regverdiging is deur geloof alléén. Sola fides (geloof alleen) was dan ook een van hulle wekroepe.
    Maar ten spyte daarvan loop wettisisme steeds breëbors orals in die kerk rond. Weliswaar neem die verdienste-trapmeul 'n duisend gestaltes aan, maar die fundamentele dwaling bly deurgaans dat dit menslike meriete wil voeg by Christus se volmaakte middelaarswerk. Gewoonlik lyk dit in vroeë stadiums van ontwikkeling baie regsinnig, omdat gewerk word met dinge wat uitdruklike Bybelse opdragte is. Maar die ywer kom nie uit harte vol dankbaarheid vir God se vrye verlossingsgenade nie. Na 'n subtiele begin, verwring wettisisme egter algaande - tot 'n mindere of meerdere mate. Soms ontaard dit selfs tot groteske en kultiese afmetings.
    Hoe diagnoseer mens dit; watter simptome is tipies?
    Eerstens is die wettisis se godsdiens op die uiterlike ingestel. Deurgaans, maar veral in die Nuwe Testament, het die Bybel 'n baie sterk klem daarop dat gehoorsaamheid slegs vir God aanvaarbaar is indien dit uit die hart kom (vgl. Mt 5:21 e.vv.). Omdat die wettisis egter nie 'n wedergebore hart het nie, weet hy nie wat dit beteken om God in gees en in waarheid' te dien nie (Jh 4:21-24). Hy kom dus nooit verder as uiterlike godsdienstigheid nie. Die vórm is waarom dit vir hom gaan, maar vir die innerlike krag van ware redding is hy 'n vreemdeling. Uiterlik kan hy indrukwekkend vroom voorkom - hy klim immers 'n leer hemel toe - maar innerlik is hy geestelik dood.
    Tweedens vul die wettisis die morele wet van God aan. Sonder die verligtende werk van die Gees kan hy nie die innerlike karakter, omvang en diepgang van God se Wet verstaan nie. Omdat hy met die oog op die dag van afrekening besig is met die opgaar van godsdienstige verdienste, bevredig dit hom nie. Méér moet tog nodig wees as net 'n klompie 'onthoudings', is sy argument. En net hier begin hy sy eie uitdrukkings van gehoorsaamheid ontwikkel. Hy verval in 'n eiewillige godsdiens en hou hom besig met dit wat God nooit beveel het nie. Elke geslag en kultuur, elke individu en groep het eie dinge. Soms is dit negatief: 'Raak nie! Eet nie!' (Kol 2:21); soms positief: 'Doen dit! Doen dat!' Gou-gou verdring dit Christus as fokuspunt van ywer. En feitlik altyd word dit voorwaardes, sjibollette (Rigt 12:6), vir aanvaarding en toelating in 'n bepaalde kring.

Wetteloosheid

Hierdie dwaling is deur verskeie groepe in die vroeë kerk gedra. Hulle argument was heel eenvoudig en klink waterdig: as God in genade, op grond van Jesus Christus se volmaakte versoeningswerk, sondaars regverdig verklaar sónder enige verdienste aan hulle kant, is goeie werke, gehoorsaamheid en 'n heilige lewe op sigself mos irrelevant in die reddingsproses. Net geloof maak saak .
    Onvermydelik lei so 'n beskouing spoedig tot etiese slordigheid in Christene se lewens (selfs tot wêreldgelykvormigheid en sonde tot 'n skokkende mate). Dis waarteen Jakobus dit het. Dis reg, sê hy, geloof alleen is nodig. Maar daar is geloof én geloof. Geloof sónder werke is dooie geloof. So 'n geloof is vals, dit kan niemand red nie. Selfs duiwels het dit. Saligmakende geloof, daarenteen, gaan altyd gepaard met goeie werke.
    As wettisisme vandag duisende vel, vel wetteloosheid tienduisende. Verwaarlosing van die noodsaak van heilige gehoorsaamheid - en volharding daarin tot die einde toe - is nie maar 'n onskuldige mistasting nie; dit is dodelike dwaling! Sonder 'n heilige lewe, sê die Bybel, sal niemand God sien nie (Hb 12:14).
    Soos wettisisme, manifesteer wetteloosheid op tipiese maniere.
    Eerstens word dit gesien in die beskouing dat die Tien Gebooie irrelevant is vir ons dag, omdat Chistene 'onder genade is en nie onder die wet nie'. Dit lei dan tot sg. 'situasie-etiek', wat liefde as die enigste etiese beginsel sien. Solank jy dus in liefde optree, is enigiets wat jy doen reg. Of dit in lyn met die Tien Gebooie is, is nie régtig ter sake nie. Die probleem met hierdie beskouing is dat elkeen maar self moet besluit wat liefde is en hoe dit tot uitdrukking kom. God se Woord verlos ons egter uit hierdie moeras van subjektiwisme en willekeur deur te leer dat die liefde ook vir die Nuwe Testamentiese Christen in 'tien kanale' vloei (Mt 5:17 e. vv.; Mk 12:28 e. vv.; 1Jh 5:2-3).
    Tweedens word dit gesien in 'n 'goedkoop evangelie' wat mense van redding verseker bloot op grond daarvan dat hulle 'Jesus aangeneem' het - of daar nou vrug volg of nie. Omdat jy jóú kant gebring het, sê hierdie 'ander evangelie', sal die Here jou red. Natuurlik is dit goed, word gesê, as jy daarna gehoorsaam en Geesvervuld lewe. Maar indien nie, is dit nie noodwendig diskwalifiserend nie - jy is net 'n stóút kind, 'n 'vleeslike Christen'. Hierdie lering se 'eenmaal gered, altyd gered', verskil wesentlik van die Bybelse leer van die volharding van die heiliges - wat júís beklemtoon dat elkeen wat waarlik gered is, heilig volhard tot die einde toe.

Die wortelprobleem van beide dwalinge

Waar lê die wortelprobleem van wettisisme en wetteloosheid presies? Daar is immers baie Skrifuitsprake wat beide strominge ter ondersteuning van hul standpunte aanhaal. Is daar nie tog maar 'n diep teenstrydigheid wat regdeur die Bybel loop nie?
    Die probleem met hierdie mistastings is dat die verhouding tussen regverdigmaking en heiligmaking nie verstaan word nie. Wettisisme verwar dit, terwyl dit noodsaaklik is om te onthou dat dit twee verskillende sake is. Wetteloosheid skei dit, terwyl dit onlosmaaklik verbonde is.
    Dis noodsaaklik dat die Christen die begrippe 'regverdigmaking' en 'heiligmaking' goed verstaan en weet wat die verband tussen hulle is.

Regverdigmaking

Regverdigmaking is 'n juridiese handeling van God (en van Hom alleen) met die doel om sondaars in terme van Sy volmaakte geregtigheid te laat kwalifiseer vir die ewige saligheid. Dit geld slegs vir diegene wat in Jesus Christus glo - wat Hom m.a.w. vanuit hulle eie geestelike bankrotskap in algehele afhanklikheid as enigste en persoonlike Saligmaker omhels en vashou. Dit berus net op wat Christus gedoen het en die betrokke persoon se godsdienstige meriete, al dan nie, speel geen rol nie (geloof is net die hande waarmee God se gawe vasgegryp word).
    Aan die hart van regverdigmaking (daarom aan die hart van die evangelie en van verlossing in Christus) lê twee beginsels, oftewel begrippe.
    Die eerste is 'plaasvervanging'. Jesus Christus het as ware mens gekom om as Hoof van God se nuwe skepping, in die besonder die nuwe mensheid, voor God te staan. As sulks verteenwoordig Hy dan plaasvervangend, as die 'laaste Adam', die 'tweede mens' (1Kor 15:45-47), diegene wat deur geloof met Hom verenig is. Redding is dus om oorgebring te word vanuit die gevalle skepping in Adam, tot die nuwe skepping in Christus (Rm 5:12-21).
    Die Puritein, Thomas Goodwin (1600-1680), het dit kostelik gestel: "There are but two men standing before God, Adam and Christ, and these two men have all other men hanging on their girdles."
    'Toerekening' is die tweede begrip. So fundamenteel is dit dat Romeine 4 dit 11 keer gebruik. Dis 'n boekhou-begrip en dui op 'n inskrywing in 'n rekeningboek; dus om te debiteer of te krediteer. Dit het te doen met die twee mees basiese probleme van die sondaarmens. Enersyds het sy sonde hom in skuld by God gedompel. Diegene wat glo se skuld word egter aan Christus toegereken (Hy word dus daarmee gedebiteer). Die som-totaal van hierdie skuld betaal Hy natuurlik in Sy vernedering, maar veral op Golgota. Andersyds moet die mens aan God se volmaakte geregtigheid voldoen, dus aan die eise van die Wet, om die ewige lewe te beërf. Hiervoor maak Christus se middelaarswerk ook voorsiening. As mens op aarde het Hy in volmaakte gehoorsaamheid aan Sy hemelse Vader geleef. En hierdie gehoorsaamheid, oftewel geregtigheid, word dan aan gelowiges toegereken (gekrediteer) - sodat hulle in 'God se boeke' skatryk is aan geregtigheid en as sulks kwalifiseer om van die boom van die lewe te eet (Gn 2:9; 3:22, 24; Op 2:7; 22:2, 14).
    Regverdigmaking is dus 'n dubbelkuur! Dis 'n dubbele inskrywing in God se boeke wanneer iemand glo! Christus word gedebiteer met die sondaar se skuld; en die sondaar word gekrediteer met Sy betaling. Dis vryspraak. Maar daar is meer! En dit is eintlik waar die klem van regverdigmaking lê. Ter wille van die nodige 'geregtigheidskapitaal' wat nodig is om vir ewig in God se heilige teenwoordigheid te leef, word so 'n sondaar nog verder gekrediteer vanuit die onuitputlike skat van sy Verlosser se volmaakte gehoorsaamheid aan Sy hemelse Vader. Gister onder God se toorn; vandag die status van volkome wetsgehoorsaamheid in God se boeke!
    Leser in Christus, vergeet dit nooit: jou redding lê in die eerste instansie buite jouself  -  in God se boeke!

Heiligmaking

Heiligmaking is 'n genadewerk van God in elkeen wat Hy regverdig verklaar het. Dit het ten doel om die beeld van Jesus Christus in hom of haar te vorm. Dit is 'n progressiewe proses en gaan lewenslank voort.
    Anders as in regverdigmaking, speel die gelowige 'n volledig-aktiewe rol in sy eie heiligmaking - bewustelik, inspannend en lewenslank-volhardend. 'n Vers wat hierdie dubbele betrokkenheid, dié van God en dié van die mens, pragtig na vore bring, is Fl 2:12-13: " .... werk julle eie heil uit met vrees en bewing, want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae." (OAV).

Onderskei  -  sonder om te skei

As die verhouding tussen regverdigmaking en heiligmaking nie reg verstaan word nie, lei dit tot allerlei teologiese en praktiese ellendes.

Waarin verskil die twee begrippe? Waarom móét dit onderskei word? Wat verstaan wettisisme nie?

•     Regverdigmaking het te doen met objektiewe toerekening (my skuld aan Christus, Sy geregtigheid aan my). Heiligmaking het te doen met subjektiewe toebedeling (die vorming van Christus se beeld in my).

•     Die geregtigheid wat ek deur regverdigmaking verkry, is nie my eie nie, maar Christus s'n (en daarom is dit volmaak). Die geregtigheid wat ek deur heiligmaking verkry, hoewel deur die Heilige Gees gewerk, is inderdaad my eie (en daarom onvolmaak).

•     In regverdigmaking is daar geen plek vir my eie werke nie. In heiligmaking is my eie werke sentraal en onmisbaar - en daarom beveel die Woord ons om te hardloop, te veg, te waak, te arbei, te vlug, te volhard ens.

•     Regverdigmaking is 'n afgehandelde en volmaakte werk (tot in ewigheid sal ek nie méér regverdig wees as met die eerste oomblik van geloof nie). Heiligmaking is altyd relatief en onvolmaak. Dis weliswaar progressief-toenemend, maar kom eers met heerlikmaking tot vervolmaking.

•    Regverdigmaking het te doen met my objektiewe juridiese status voor God; heiligmaking met my subjektiewe morele toestand.

•     Regverdigmaking gee my die reg tot die ewige heerlikheid; heiligmaking maak my daarvoor gereed en is, as sulks, die watermerk van ware redding.

Wat het regverdigmaking en heiligmaking gemeen? Waarom mag dit nie geskei word nie? Wat verstaan wetteloosheid nie?

•     Beide vloei uit God se genade in Christus (1Kor 1:30).

•     Beide is onmisbaar deel van God se geïntegreerde verlossingswerk in my lewe.

•     Beide sal dus altyd saam teenwoordig wees in elkeen wat werklik gered is. 'If you have it at all, you have it all'.

Slotsom

Die ware Christen loop op die snykant van 'n mes, met wettisisme en wetteloosheid as afgronde weerskante!
    Dis teen hierdie twee afgronde wat die apostels met soveel dringendheid waarsku: Paulus teen wettisisme, wat leer dat redding deur geloof plus werke kom; Jakobus teen wetteloosheid, wat leer dat redding selfs deur 'n geloof sonder werke kom.
    Laat ons dit ten slotte positief stel. Paulus antwoord die vraag, "hoe kry ek redding?". Jakobus antwoord die vraag, "hoe kom redding tot uitdrukking in iemand se lewe, hoe word dit herken?".  
Nico van der Walt

-o0o-