Friday, August 31, 2012

ANTIPAS HEROUT No.27 - PINKSTER (2 van 3) - Hd 2:37-41 - Kardinaal belangrike evangeliseringsbeginsels

Op die pinksterdag word die groot belofte van die Ou Testament 'n werklikheid. Die verhoogde Here Jesus Christus ontvang van Sy Hemelse Vader die mandaat om die Heilige Gees uit te stort op die patetiese gemeentetjie wat Hy op aarde agtergelaat het. Een van die wat die Gees ontvang, is die apostel Petrus. Hy neem leiding en begin preek vir die skare wat daar saamdrom na aanleiding van die vreemde gebeure.
    Dis 'n besondere preek  -  vol oortuigende krag. Dit bring dan mee dat talle vir die apostels kom vra wat hulle te doen staan. Petrus se antwoord is boordevol gewigtige betekenis. En dis na hierdie antwoord wat ons nou gaan kyk (Hd 2:37-41).

Die effek van Petrus se prediking op sy luisteraars (37)
 

Daar is 'n dramatiese reaksie op Petrus se prediking. Vers 37 sê dat die hoorders "diep in die hart getref" is (OAV). Met hierdie beskrywing wil Lukas twee dinge tuisbring:

•     Wat met die mense gebeur, is nie bloot iets oppervlakkigs nie. Dit vind in hulle harte plaas  -  in die sentrum van hulle persoonlikhede en oortuigings. Kennelik is dit 'n werk van die Heilige Gees, met ingrypende, egte en blywende effekte.

•     Dit het gepaard gegaan met diep belewinge. Die werkwoord (Gr. katanusso) is 'n samestelling van die woord "om te steek" plus 'n intensiferende voorvoegsel. Wat dus gebeur, is dat die Heilige Gees vir Petrus bekragtig om só te preek dat die waarheidsevangelie oor Christus dwarsdeur sy hoorders se harte steek. Dit deurpriem hulle harte  -  met hulle bekering tot gevolg.
    Die Gees se innerlike oortuigingswerk laat die mense besef dat hulle skuldig staan voor God. Vandaar hulle vraag oor wat hulle moet doen. Dat dit oor versoening met die Here gaan, is nie eksplisiet in hulle vraag nie, maar volg duidelik uit Petrus se antwoord.

Petrus se antwoord (38-39)

'n Tweeledige bevel
Petrus gee 'n dubbele opdrag:

•     Die mense moet hulle bekeer.
    Die begrip (Gr. metanouo) dui ten diepste op 'n verandering van oortuiging. Dit impliseer 'n radikale paradigma-verskuiwing, 'n kopswaai, 'n nuwe bril waardeur gekyk word. Vantevore het ook Johannes die Doper (Mt 3:2) en die Here Jesus self (Mt 4:17) 'n oproep tot bekering gepreek. Kennelik het die apostels ook ná Pinkster dit as 'n integrale deel van evangelieverkondiging beskou (Hd 3:19; 8:22; 17:30; 20:21; 26:20).
    Maar omdat ons nie anders kan as om volgens ons oortuigings te handel nie, kom Bybelse bekering noodwendig tot uitdrukking in 'n lewensommekeer. Hierdie 180 grade omdraai het twee kante:
    Negatief sal iemand wat hom of haar bekeer altyd wegdraai van sonde af. Daar sal dus 'n rugkeer wees op die vlees se aandrange, die wêreld se suigkragte en die Duiwel se verleidinge.
    Positief sal so 'n persoon altyd heendraai na Christus toe. En dit het ten minste drie komponente: hy (of sy) sal homself vanuit sy geestelike bankrotskap algeheel aan Christus en Sy volmaakte middelaarswerk toevertrou; hy sal die beloftes wat God belowe aan almal wat in Sy Seun in vlug vir homself persoonlik toe-eien; hy sal homself enkelhartig en ongekwalifiseerd aan Christus persoonlik as Koning toewy.
    Bybels gaan hierdie lewensommekeer ook gepaard met hartseer en verootmoediging oor jou sondemislukkings en -rebellie van die verlede. Dit is meer as net interessant dat metanouo amper konsekwent in die Septuaginta (die voor-Christelike Griekse vertaling van die Ou Testament) gebruik word om die Hebreeuse woord te vertaal wat beteken om jouself te vertroos.

•     Die mense moet hulle laat doop.
    Vantevore het hulle Jesus Christus verwerp. Nou moet hulle hulself verneder deur hulle formeel, openlik en onomkeerbaar as dissipels aan Hom toe te wy.
    Hulle moet hulle laat doop in die Naam van Jesus Christus. Wat beteken dit om in Sy Naam gedoop te word? Ten minste vier dinge: dit geskied in gehoorsaamheid aan Sy opdrag en dus op Sy gesag; dis 'n onderskrywing van Sy leer; dis 'n vertroue in Sy verdienste; dis 'n oorgawe aan Sy eise.

'n Tweeledige belofte
Vir diegene wat aan die dubbele opdrag gehoorsaam is, is daar 'n dubbele belofte: sondevergiffenis en ontvangs van die Heilige Gees.
    Die voorsetsel wat in die OAV met "tot" (... vergewing van sondes) vertaal word (Gr. eis) beteken in hierdie konteks: met die oog op; met as gevolg.  Basies dui die woord op beweging in iets in  -  min of meer ekwivalent aan die Engelse woord, "into".
    Hierdie twee beloftes is gekoppel aan beide opdragte: bekering en doop. Nêrens suggereer die Nuwe Testament dat die bloot uiterlike ondergaan van die doopsakrament op sigself sondevergiffenis en ontvangs van die Gees tot gevolg het nie. Maar net so min het ons die reg om aanspraak te maak op die beloftes as ons die doopopdrag geringskat. Die Bybel met Verklarende Aantekeninge  stel dit só: "Die hoofverskil tussen die doop van Johannes, Hd. 18:25; 19:3, en dié van Pinkster was dat laasgenoemde verbonde was aan die Naam van Jesus en die gawe van die Gees, wat in onlosmaaklike verband daarmee gestaan het. Johannes se doop was tot vergiffenis van sonde, maar het eintlik vooruitgewys na Christus, en het buite werking getree ná Jesus se openbare optrede en die instelling van Sý doop. Die Christelike doop volg op die geloof in Christus, 16:31, was verbonde aan Sy Naam, 2:38; 8:16, wat aangeroep is deur die dopeling, 22:16. Die aanroeping van Sy Naam beteken die aanvaarding van Hom as Here en Meester."
    Die "belofte" (OAV)  is nie net vir die groep mense op wie die Heilige Gees geval het nie (39). Petrus doen besondere moeite om te beklemtoon dat dit 'n historiese en universele trefwydte het. Dit is vir ál sy luisteraars (wat aan die voorwaardes voldoen), en vir hulle "kinders" (komende geslagte deur die geskiedenis), en "vir almal wat daar ver is" (nie net Jode nie, maar ook vir die heidene). Die belofte geld dus sonder onderskeid. Maar dit geld nie sonder uitsondering nie, want Petrus gaan onmiddellik voort met 'n uiters belangrike kwalifikasie: dit geld vir "almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep." En die roeping waarvan hy hier praat, is nie bloot die algemene roeping van die evangelie nie ("baie is geroep maar min is uitverkies"); dis die besondere, onweerstaanbare en lewendmakende roeping wat die wedergeboorte tot gevolg het. So gebruik die Nuwe Testament verreweg meestal die begrip.

Die Here se nuwe gemeenskap (40-41)

In v.40 sê Lukas dat bogenoemde nie al was wat Petrus gesê het nie. Hy het "nog baie ander woorde" gepraat  -  woorde van intense erns en aansporing (vgl. verskillende vertalings). En wat was die essensie van sy oproep? "Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit."
    Dis belangrik om raak te sien dat Petrus nie bloot pleit vir 'n simplistiese en individualistiese bekering  -  iets wat sommer gou-gou en stil-stil afgehandel word in die privaatheid van my eie wêreldjie nie.
    Hy pleit vir 'n emigrasie vanuit die ou mensheid in Adam. Hy dring aan op 'n losmaak van en 'n rugkeer op die gevalle mensheid wat erg verbuig is ná die sondeval. Dis dus 'n oproep om te vlug vanuit die mensheid onder God se toorn.
    Dit impliseer noodwendig die immigrasie in 'n ander mensheid in. [En laat ons onthou, voor God is daar net twee menshede  -  die ou mensheid in Adam, en die nuwe mensheid in Christus.] Onderwerping aan Koning Jesus hou baie spesifiek ook in dat ek my toewy aan Sy
volk  -  Sy ware bruidsgemeente.
    Daar is 'n verstommende respons op Petrus se pleidooi (41). Drieduisend mense neem die evangelieboodskap aan. Hulle kom tot geloof, ondergaan 'n kopswaai, laat hulle doop, en voeg hulle by die Jerusalemse gemeente.

Enkele gevolgtrekkings en implikasies

Elke ware prediker en gemeente begeer om dieselfde respons as Petrus op hulle uitdra van die evangelie te ervaar. Ons durf egter nie die uniekheid van die gebeurtenis miskyk nie. Nêrens in die res van die Nuwe Testament lees mens weer van sulke triomfe nie.
    Sekerlik was daar herlewings in die kerkgeskiedenis waartydens evangeliedeurbrake plaasgevind het waarvan mens net kan droom. Maar nooit weer was daar iets vergelykbaar met Pinkster nie. Normaalweg het die voortgang van die evangelie moeisaam en met baie volharding en lyding gepaard gegaan. Veel eerder het dit ooreengestem met die wel en weë wat mens in die sewe briewe van Op 2-3 aantref  -  waar die volheidsgetal, sewe, daarop sinspeel dat verskillende fasette van die universele kerk deur die eeue geskets word.
    Die uniekheid van Pinkster beteken nie dat daar geen lesse vir ons in die Pinkstergebeure sit nie; inteendeel. Afgesien van uiters belangrike openbaringshistoriese perspektiewe, moet Petrus se verkondiging en aanslag op die Pinksterdag in vele opsigte vir ons as normatiewe evangeliseringsriglyn dien.
    Die fundamentele beginsel wat ons in Petrus se aanslag vind, is sy Christus-gesentreerdheid. Hy begin sy preek só (na sy inleiding en teks-aankondiging): "Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus ..." (22). Mens kan per definisie nie die evangelie preek as jy nie Christus preek nie. Hóé doen mens dit? In Hd 2 vind ons 'n vierledige struktuur wat vir ons van die grootste waarde is.

•     Eerstens skets Petrus die evangeliegebeure, veral Christus se kruisiging en opstanding.
    Hy verwys na Jesus se lewe en bediening (22), asook na Sy verhoging (33). En meermale het die apostels dit in hulle prediking gedek, asook Sy terugkeer as Regter. Maar soos klokslag konsentreer hulle op die kruis en opstanding (23-24)  -  op sowel die gebeure se detail, as die reddende implikasies daarvan.

•     Tweedens beklemtoon Petrus die historiese feitelikheid en openbarings-historiese sentraliteit van Christus se kruis en opstanding.
    Hy beroep hom op 'n dubbele getuienis dat hierdie twee gebeure inderdaad plaasgevind het en van enorme betekenis is. Twee getuies laat die waarheid immers vasstaan.
    Eerstens is daar die getuienis van die Ou Testament. Kruis en opstanding was vervulling van talle profesieë. Petrus beroep hom op Ps 16, Ps 110 en Joël 2 om die historisiteit en implikasies daarvan te bekragtig.
    Tweedens is daar die getuienis van die apostels. Weer en weer sê Petrus: "ons is getuies" (Hd 2:32; 3:15; 5:32; 10:39-41). Tewens, die vermoë tot oog- en oorgetuienis was 'n noodsaaklike kwalifikasie vir apostelskap (1:21-22).
    Ook óns moet die historiese feitelikheid en openbaringshistoriese sentraliteit van Christus se kruis en opstanding verkondig. Maar omdat ons nie oog- en oorgetuies is nie, is ons algeheel afhanklik van die apostels se getuienis  -  die Nuwe Testamentiese openbaring. Ons het eenvoudig geen vryheid om eie opinies te preek nie. Ons mag niks meer wees as net eggo's van die apostels nie. Prediking  -  alle prediking  -  is Woordverkondiging.

    •     Derdens preek Petrus die goeie nuus van Koning Jesus se beloftes vir diegene wat enkelhartig na Hom toe kom.
    Die evangelie is goeie nuus, nie net oor wat Jesus gedoen het nie, maar ook oor wat Hy op grond daarvan bly doen en wat Hy uiteindelik nog gaan doen. Die Here belowe hier deur Petrus aan diegene wat in geloof na Hom toe kom vergewing van sondes (negatief, uitwissing van die sondaar se mislukkings en rebellie), asook die gawe van die Heilige Gees (positief, bekragtiging om godvrugtig te lewe). Saam stel hierdie twee gawes van Christus ons in staat om alles te doen en te wees wat nodig is.
    Prakties is dit belangrik dat ons nie van die belofte van die Heilige Gees vergeet wanneer ons evangeliseer nie. Baie mense besef hulle nood aan vergiffenis, maar is bang om 'n oorgawe aan Christus se koningskap te maak, aangesien hulle hulself nie vertrou nie. "Ja", sal hulle sê, "ek kan nou so 'n oorgawe maak, maar binne dae sal ek weer pateties misluk. Nie alleen sal dit 'n bespotting van alles maak nie; dit sal my met soveel ontnugtering laat dat dit vir my nóg moeiliker in die toekoms sal wees om 'n Christen te word." Wat sulke mense egter moet weet, is dat die Here hulle nie aan hulself oorlaat as hulle na Hom toe vlug nie  -  Hy gee vir hulle die Heilige Gees as bekragtiging om in toewyding te volhard!

•    Vierdens spel Petrus Koning Jesus se evangelie-voorwaardes uit.
    Die Here verwerklik nie Sy gawes sonder ons betrokkenheid nie. Aan ons kant is 'n wilsbesluit en 'n handelingsrespons noodsaaklik. Innerlik dring Hy aan op verootmoediging en bekering. En uiterlik is daar die vereiste van die doop. En sáám is die twee dinge die uitdrukking van ons geloof  -  die geloof wat ons vanuit die ou mensheid onder God se toorn verplaas na die nuwe heilsgemeenskap van die Here Jesus Christus.
    Bekering en doop het enorme implikasies. Dis die aanneem van 'n nuwe Koning, 'n nuwe volk, 'n nuwe burgerskap, 'n nuwe kultuur. Dis 'n besliste en ingrypende verplasing van lojaliteit, trou en toewyding. Dis om jou openlik te skaar by Jesus se dissipels. Dit is om vanuit dit wat oud en korrup is (NIV), oor te gaan na dit wat nuut en in die proses van redding is (vgl. 2:47).
    Die doop is soos eedaflegging tydens naturalisasie. Dis 'n publieke en formele identifisering met Christus en met Sy gemeente.
    Die dopeling moet dus weet dat hy of sy van daardie oomblik af 'n vreemdeling en 'n bywoner in hierdie wêreld is. Dis waarom dit 'n algemene en tipiese ervaring van gelowiges deur die eeue is: solank jy ongedoop is, word jy op 'n manier geduld, maar die oomblik as jy volgens Jesus se voorskrif formeel en publiek jou trou aan Hom bely en jou lojaliteit na Sy gemeente verplaas, bars verwerping en selfs vervolging in felheid los. Dis asof mense aanvoel dat jy voor die tyd nog op twee gedagtes hunker, nog nie die omdraaipunt verbygesteek het nie. Maar die oomblik as jy jou laat doop, weet hulle jy het die stuk niemandsland na die ander kant van die linies finaal oorgesteek.

Saamgevat
    

Op die Pinksterdag preek Petrus 'n viervoudige boodskap. Dit behels twee gebeurtenisse (Christus se dood en opstanding), soos bekragtig deur twee getuies (die profete en die apostels), op grond waarvan die Here twee beloftes maak (sondevergiffenis en die gawe van die Heilige Gees), op voorwaarde dat ons twee opdragte gehoorsaam (bekering en doop).
    Ons het geen reg om hierdie viervoudige apostoliese evangelie te versnipper nie. Wat God saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. God se heilsboodskap is 'n geïntegreerde eenheid en 'n geheel.
    Ons durf nie die kruis en die opstanding van mekaar lossny nie. Sonder die eerste kon die laaste nie plaasvind nie; sonder die laaste was die eerste tevergeefs.

    Ons durf nie die Ou en die Nuwe Testamentiese getuienis van mekaar lossny nie. Sonder die eerste is die laaste onverankerd; sonder die laaste loop die eerste op niks uit nie.

 
   Ons durf nie sondevergiffenis en die gawe van die Heilige Gees van mekaar lossny nie. Sonder die eerste is die laaste onmoontlik; sonder die laaste kan ons nie die voorregte van die eerste in besit neem nie.

 
   Ons durf nie bekering en doop van mekaar lossny nie. Sonder die eerste is die laaste nie legitiem nie; sonder die laaste is die eerste nog nie voltooi nie.

Ons mag nie 'n enkele komponent van die apostoliese proklamering oorboord gooi of selfs verwaarloos nie. Die ware evangelie  -  die volle raad van God  -  is 'n historiese boodskap (dit handel oor feitelike gebeure in die verlede); dis 'n teologiese boodskap (soos deur die héle Woord van God verduidelik); dis 'n heilsboodskap (dit dra die heerlikste beloftes van verlossing); dis 'n gesagvolle boodskap (dit vereis van ons enkelhartige en onvoorwaardelike gehoorsaamheid).
                                                                                                                             Nico van der Walt

ANTIPAS HEROUT No.28 - PINKSTER (3 van 3) - Hd2:42-47 - Merktekens van 'n Geesvervulde gemeente

In Hd 2:42-47 beskryf Lukas die eerste gemeente in Jerusalem nét na die uitstorting van die Heilige Gees. Ons kan aanvaar dat hy die wesenstrekke daarvan onderstreep  -  die dinge waaroor dit essensieel gegaan het. Dis 'n neutedopbeskrywing van 'n Geesvervulde gemeente. As sodanig hou dit vir ons uiters belangrike lesse in. Wat kenmerk dus 'n gemeente waarin die Heilige Gees heers? Wat is die merktekens van 'n kerk wat Jesus Christus behaag? Hier is die antwoord.

Die gemeente in Jerusalem het unieke kentrekke gehad

In jou vertolking van Pinkster kan jy maklik skeef loop as jy nie die uniekheid van die gebeure genoegsaam in ag neem nie. Veral twee dinge moet ons onthou as ons die eerste hoofstukke van Handelinge reg wil verstaan:

•     Die apostels, met hulle unieke roeping as oog- en oorgetuies van die Here Jesus se lering en werk, het 'n enorme en sentrale rol gespeel. Daarbenewens is hulle met krag uit die hoogte toegerus om merkwaardige wonders te doen ten einde die Goddelike mandaat en betroubaarheid van hulle unieke apostoliese getuienis te bevestig. In 2Kor 12:12 noem Paulus dit  -  die "tekens en wonders en kragtige dade"  -  "die dinge wat 'n apostel kenmerk" (vgl. ook Mk 16:20; Hd 14:3; Rm 15:18-19; 1Kor 2:4-5; Hb 2:3-4).

•     Samehangend hiermee het die Heilige Gees in die algemeen op 'n besondere wyse gewerk. Deur die eeue was daar meermale soortgelyke seisoene  -  herlewingstye  -  waartydens dinge gebeur het wat gelowiges van meer normale tye eenvoudig verstom.

Maar hulle het ook baie kentrekke gehad wat tipies was van elke Geesvervulde gemeente deur die eeue

Tog word die basiese karaktertrekke van die Jerusalemse gemeente weer en weer deur die eeue gesien wanneer dit goed gaan met die kerk  -  wanneer die kerk waarlik kerk is. Met vertroue kan gesê word dat iets van v.42-47 altyd weer beleef sal word in elke Geesvervulde gemeente.
     Wat sien ons in die verse onder ons vergrootglas?

•     Ons sien 'n merkwaardige gemeente wat deur niemand geïgnoreer kan word nie; inteendeel, die hele volk is hulle goedgesind (47).

•     Ons sien 'n gemeente waarin die Heilige Gees onteenseglik aan 't werk is.

•     Ons sien talle verdoemende aanklagte teen soveel uitdrukkings van kerkwees in ons dag.

•     Ons sien 'n stel lakmoestoetse waaraan enige gemeente homself kan en moet meet.

Wat sien ons, meer spesifiek, in hierdie gemeente? Wat bewerkstellig die Heilige Gees in elke gemeente waarin Hy heers? Ons sien ten minste vier dinge:

•     Dis 'n gemeente wat die Woord van God liefhet.
    "Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels" (42).
    Selfs die "wonders en tekens" (43) het ten diepste met die Woord te doen, aangesien dit gedien het as bevestiging van die gesag waarmee die apostels getuig het.

•     Dis 'n gemeente vol liefde vir mekaar.
    Hulle het hulle heelhartig toegelê op "die onderlinge verbondenheid" (OAV: "gemeenskap") (42).
    Hulle "was eensgesind en het alles met mekaar gedeel" (44-45).

•     Dis 'n gemeente wat die Here liefhet, eer en aanbid.
    Hulle het hulle heelhartig toegelê op "die gemeenskaplike maaltyd (die nagmaal) en die gebede" (42; 46).
    Met harte vol "diep ontsag" (43) het hulle "God geprys" (47).
    Hulle het nie net nou en dan voor die aangesig van die Here geleef nie, maar "elke dag"  -  sowel by "die tempel" as "van huis tot huis" (46).
    Dit alles het uit gelowige en vergenoegde harte gekom, want "blydskap" en "alle eenvoud" het hulle lewe as gemeente gekenmerk (46).

•     Dis 'n gemeente wat onvermoeid evangeliseer.
    Sekerlik is dit die Here wat dag na dag mense red en by die gemeente voeg. Maar ons weet uit die Woord en uit ervaring dat Hy middellik werk  -  dat Hy Sy dissipels en hulle evangelisering medewerkend met Hom gebruik (47).

•    Die feit dat die hele volk hulle goedgesind was, dui voorts daarop dat die gelowiges hulle nie afgeskei het nie. Hulle was betrokke by die wêreld om hulle (47).

'n Geesvervulde gemeente het die Woord van God lief

Die eerste ding wat Lukas noem, is dat die Jerusalemse gemeente "volhard het in die leer van die apostels" (OAV).
    Baie letterlik beteken "volhard" om sterk te wees na iets toe. Hulle was dus nie net baie gereeld besig met lering nie; hulle het doelgerig en gedissiplineerd daarmee volgehou. Kennelik het hulle 'n knaende aptyt vir die waarheid gehad en hulle daarin verlustig. Hulle was oortuig van die belangrikheid daarvan.
    Hierdie gemeente sou niks verstaan het van vandag se weersin in die gesonde leer en diepsinnige nadenke oor die Skrifopenbaring nie. Nee, hulle was leergierig; hulle wou verstaan  -  en sekerlik wou hulle weet hoe die beginsels van God se nuwe ryk in die praktyk uitgeleef word.
    Geesvervulde mense  -  altyd weer  -  het God se Woord innig lief. Hulle bestudeer dit, put daaruit, onderwerp hulle daaraan, leef dit uit, dra dit uit.
    Laat dit ons nie verbaas dat hierdie 'n eerste merkteken van Geesvervuldheid in 'n gemeente is nie. Het Jesus nie die aand voor Sy kruisiging ten minste drie keer na die Helper as "die Gees van die waarheid" verwys nie?
    Hoe betekenisvol is Hd 20:32 nie! Paulus groet die ouderlinge van Efese se gemeente. Hy weet hy gaan hulle nooit weer sien nie. Wat gaan van hulle word? Wie gaan na hulle omsien? God sal hulle bewaar  -  natuurlik! Maar Paulus vertrou hulle nie net aan God toe nie, maar ook aan Sy Woord  -  die Woord wat magtig is om hulle op te bou en hulle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het. Waarom óók die Woord? Die apostel weet dat dit, meer as enigiets anders, die instrument is wat die Here in die opbou en bewaring van Sy gemeente gebruik. Tot vandag toe is dit so. 'n Gemeente wat toelaat dat getroue en gereelde Skrifverklaring en -prediking uit die middelpunt van sy lewe verdwyn, het sy eie doodsvonnis geteken.

'n Geesvervulde gemeente is vol onderlinge liefde
 

Hulle het volhard "in die gemeenskap" (OAV). Hier is die tweede ding waarmee die gemeente volgens v.42 doelgerig en gedissiplineerd volhou: die "koinonia". Dit skets die dissipels se gemeenskaplikheid en gesamentlikheid. Die woord dui op iets wat mense saam en oor-en-weer beleef en doen.
    "Koinonia" kom in die Skrif veral op twee maniere tot uitdrukking:

•    Ware Christene het 'n gesamentlike deelgenootskap in die Drie-enige God.
    "En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus" (1Jh 1:3).
    'n Geesvervulde gemeente oefen hulle hierin. Maar hulle doen dit nie net as individue nie  -  hulle doen dit ook gesamentlik, en deel met mekaar wat hulle as individue hiervan ervaar. En so groei hulle nie net in kennis van God nie, maar ook in die onderlinge liefde. Alle ware gelowiges ken die ervaring! Ja, ons moet alle mense liefhê, maar as ons "die Here deel", kom daar 'n wonderlike verdieping in ons verhoudinge.

•     Ons gemeenskap kom ook tot uitdrukking in wat ons onder mekaar deel  -  in wat ons aan mekaar uitdeel en van mekaar ontvang.
    Paulus gebruik hierdie woord as hy verwys na die kollekte onder die Griekssprekende gemeentes vir die arm Christene in Judea (2Kor 8:4; 9:13).
    Die ooreenstemmende byvoeglike naamwoord (Gr. koinonikos) beskryf gulhartigheid en vrygewigheid.

Dis op hierdie tweede uitdrukking van gemeenskap wat Lukas uitbrei: hulle het hul besittings verkoop en die opbrengs onder mekaar verdeel volgens elkeen se behoefte (44-45).
    Hierdie gebeure in die Jerusalemse kerk het deur die eeue groot stryd in baie Christengemoedere veroorsaak. Hoe moet ons dit verstaan? Moet ons dit navolg  -  en indien wel, hoe?
    Eers is 4 kwalifikasies nodig:

•    Al drie Griekse werkwoorde in v.45 is in 'n vorm wat tydsverloop in die verlede beklemtoon (Gr. Imperfektum). Dit het dus per geleentheid plaasgevind  -  soos die nood van elke situasie dikteer het.

•    Dit was nie 'n totale ontslae raak van besittings nie. Hulle het immers nog huise gehad om in te vergader (46).

•    Hierdie offers van die gelowiges was heeltemal vrywillig. Dit sê Petrus baie duidelik aan Ananias in Hd 5:4.
    Die verskil tussen Jerusalem se gemeente en Kommunisme is dat laasgenoemde sê, "Joune is myne", terwyl Christene sê, "Myne is joune." En dit is geen geringe verskil nie!

•    Dit het nie gegaan oor gelykheid nie. Uitdeling het geskied "volgens elkeen se behoefte." Paulus stel dit so in 2Kor 8:15: "Dié met baie, het nie te veel gehad nie, en dié met 'n bietjie, nie te min nie."

    Maar ons mag nie by hierdie kwalifikasies vassteek nie. Sekerlik spreek hierdie verse ons selfsugtige en materialistiese lewens aan.
    Geen gelowige kan die verantwoordelikheid ontkom om homself en sy prioriteite ernstig in die lig van hierdie verse te ondersoek nie. En as dit nie lei tot diepgaande verstellings nie, laat dit rooi ligte flikker oor ons liefde vir ons broers en susters, en ons toewyding aan Jesus Christus. Waarlik, min dinge sal eendag so meedoënloos teen ons getuig as ons baie besittings en ons gemaksugtige en uitspattige lewenstyl.
    Tot die mate wat ons Geesvervuld is, tot daardie mate sal ons onderlinge liefde oopblom. En tot die mate wat ons mekaar liefhet, tot daardie mate sal ons ons goed met mekaar deel. Tot die mate wat ons deel, tot daardie mate sal dit ons liefde stimuleer en voed. En tot die mate wat ons liefde funksioneer, tot daardie mate sal die Heilige Gees kragtig in ons midde werk.
    Hd 4:32-37 praat ook oor hierdie saak. Vers 34 begin dan baie betekenisvol  -  met die redegewende voegwoord, "want" (Gr. "gar", vgl. OAV). Die Heilige Gees het kragtig in die gemeente gewerk, want in liefde het hulle ook materieel na mekaar omgesien. As ons maar hierdie les kan leer, sal dit beter gaan met die kerk van ons dag!
    Baie kerkmense redeneer dat hierdie 'n opsionele saak is. Dis nie waar nie. Johannes sê uitdruklik dat uitdelingsliefde een van die noodwendige merktekens van wedergeboorte is (1Jh 4:7; 3:14-18). Vrywilligheid is een saak, willekeur iets anders.

'n Geesvervulde gemeente aanbid die Here in gees en waarheid

In v.42c&d suggereer die lidwoord ("die") voor beide uitdrukkings dat Lukas van meer amptelike, formele geleenthede praat. Dit word algemeen aanvaar dat hy van die gemeentelike nagmaal en gebedsbyeenkomste praat.
    Hoe gereeld Jerusalem die nagmaal gevier het, weet ons nie (daar is geen eksplisiete Nuwe Testamentiese opdrag nie  -  vgl. 1Kor 11:25). Maar wat wel duidelik uit hierdie vers na vore kom, is dat hulle hul gesamentlike deelgenootskap aan die erfenis van die Nuwe Verbond oor en oor bevestig het. Sonder twyfel het hulle 'n baie hoë premie op gebed en die nagmaal gestel.
    Wat aanbidding betref, bring hierdie verse twee belangrike balanse na vore:

•     Die gemeente se byeenkomste was van sowel 'n formele as 'n informele aard  -  hulle het by die tempel én in huise bymekaar gekom. Vir 'n gesonde gemeentelewe is sowel meer waardige as meer spontane uitdrukkings van aanbidding goed en nodig. Die beheersende beginsel bly egter deurgaans dat dit "in gees" (in opregtheid, vanuit die hart) en "in waarheid" (in volle harmonie met die Skrifopenbaring) geskied (Jh 4:19-24).

•     Die gemeente se aanbidding was sowel blymoedig as vol respek. Hulle aanbidding was vol blydskap en eenvoud (46b), dus vrolik en onopgesmuk. Maar dit het ook in die vrese van die Here geskied (43a).
    Ons eredienste moet waardig verloop, maar "dooierigheid" is onverskoonbaar. Dis reg dat ons byeenkomste vol spontane blydskap is, maar ligsinnigheid hoort gladnie.
    Die hart van hulle aanbidding vind ons in v.47a: hulle het God geprys. Dit was Godgesentreerd  -  op Hom persoonlik gerig, vererend en vol dank.

'n Geesvervulde gemeente evangeliseer die wêreld om hom

As ons sou vassteek by v.42, laat ons 'n wesensbelangrike element van kerkwees buite rekening: uitreiking. Die gemeente in Jerusalem was nie so behep met mekaar dat hulle van die wêreld om hulle vergeet het nie.
    Hierdie evangeliseringsywer moet ons nie verbaas nie. Die Heilige Gees is nie net die Gees van die waarheid nie, Hy is ook die Gees van die oes. Is Hy nie op die Pinksterfees  -  die oesfees  -  uitgestort nie? Daarom is die uitdra van die Goeie Nuus die dominante tema van Handelinge. Sonder twyfel het die Heilige Gees die vroeë kerk uitgedryf om die evangelie wyer en wyer te verkondig.
    Vers 47 leer drie belangrike lesse:

•     Dis die verheerlikte Here Jesus Christus wat bekeerlinge bygevoeg het.
    Nooit mag ons vergeet nie dat dit die Hoof van die gemeente se alleen-prerogatief is om by Sy gemeente te voeg. Dit waarsku teen twee dwalinge:
    Eerstens moet ons menslike metodes en manipulering in ons evangelisering vermy. Die vermaaklikheidskultuur wat vandag so aan die orde is, moet ernstig bevraagteken word. Bloot omdat dit 'n skaretrekker is, beteken nie dat dit die toets van God se Woord slaag nie. Dis tragies dat groot dele van die institusionele kerk ten koste van Skrifbeginsels voor die aanslag van pragmatisme swig.
    Ook emosionele opsweping en manipulering het geen plek in 'n gemeente wat onder beheer van die Heilige Gees leef nie. Eerder bekeringsdroogte as kunsmatigheid en valsheid! Nee, volwasse en Geesvervulde gemeentes het geleer dat mens getrou jou kant bring  -  en dan op die Here wag.
    'n Tweede dwaling wat nie mag nie, is kieskeurigheid oor wie deel van die gemeente mag word. Natuurlik moet die herders van 'n gemeente daarteen waak om bokke in Christus se kudde op te neem. Maar geestelike snobisme moet hulle hand en tand beveg. Die Here roep Sy bruid uit elke kategorie van die samelewing. Trouens, hoe groter en meer uiteenlopend die verskeidenheid van mense wat in 'n gemeente as eenheid funksioneer, hoe meer word die Here verheerlik, en hoe meer beïndruk dit 'n wêreld wat so iets nooit kan namaak nie (Jh 17:21-23).
    Hoewel dit Christus is wat byvoeg by die gemeente, werk Hy middellik  -  Hy gebruik instrumente.
    Eerstens gebruik Hy die gebede, getuienis en prediking van Sy gemeente. Daarvan is Handelinge boordevol. Hierbenewens gebruik Hy die lewens van Sy dissipels om 'n appél op die omringende wêreld te maak. Dis waarop Lukas sinspeel as hy sê dat die hele volk die gemeente goedgesind was (47). Wat, kan mens vra, het die volk dan so beïndruk? Sonder twyfel was dit dinge soos die Christene se vriendelikheid, integriteit, liefdeswerke, ensovoorts.

•     Toe Hy mense by die gemeente gevoeg het, het die Here twee dinge gelyktydig gedoen:
    Die Here het geredde mense by die gemeente gevoeg. Hy het hulle dus nie by die gemeente gevoeg sonder om hulle te red nie. Nominale lidmaatskap  -  die verskynsel dat wêreldlinge se name bloot "op die boeke is", sonder dat hulle hart en siel deel van die gemeente is  -  is lynreg strydig met die Bybel. Die Nuwe Testament ken net één soort lidmaatskap: die van entoesiastiese, toegewyde dissipels.
    Voorts het die Here geredde mense by die gemeente gevoeg. Hy het hulle dus nie gered sonder om hulle in Sy kerk in te plant nie. Die Bybel ken nie so iets soos alleenloper-Christenskap nie. Nee, ware Christenskap het 'n sterk groepsdimensie. Die helfte van die genademiddele  -  daardie dinge waardeur die Here Sy instandhoudings- en vorderingsgenade in ons lewens laat invloei  -  hou verband met ons deelhê aan 'n liggaam: die gemeenskap van die heiliges, deelname aan die sakramente, gesamentlike gebed, die gereelde sit onder Bybelprediking, die bediening deur godvrugtige ouderlinge, ensovoorts.

•     Die Here het daagliks bygevoeg. Die beginsel lê nie in die feit dat dit dag na dag gebeur het nie, maar in die voortgaandheid daarvan (onthou, Jerusalem beleef "herlewing"). Dit wil vir ons twee dinge sê:
    Evangelisasie is nie beperk tot spesiale veldtogte of Sondae nie. Dit is elke dag se ding.
    Tweedens, 'n gemeente wat nie gereelde bekerings beleef nie, het rede om homself voor die Here te verootmoedig. Dit is so dat die grond waarin ons die evangelie moet saai soms baie hard is  -  en dat bekerings net drupsgewyse plaasvind. Maar onthou, selfs 'n druppende kraan drup aanmekaar. 'n Gemeente wat is wat hy moet wees, móét eenvoudig bekerings sien. Ons moet dit verwag, en bly verwag. Ons moet onvermoeid daarom bid. Só behaag dit die Here.

                                                                                                                            Nico van der Walt

Wednesday, August 22, 2012

ANTIPAS HEROUT No.29 - Jh 5:39-40 - JESUS SE SKRIFBESKOUING

Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig. Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie (Jh 5:39-40).    

Dit was seker maar wêreldwyd en deur die eeue aan die orde, maar tans is daar veral baie dinge wat die kerk in ons land tot in sy fondamente skud. En wat dit betref, is niks belangriker en meer dieperliggend en fundamenteel as die stryd oor Skrifbeskouing nie. Want die vyand van ons siele en die vyande van die waarheid weet dat hulle die stryd wen tot die mate wat hulle die gesag en betroubaarheid van die Bybel in mense se gemoedere ondermyn. Tot die mate wat die kerk ongeloofsteologie akkommodeer, tot daardie mate sal dit verkrummel en uiteindelik in duie stort. Sonder 'n kinderlik-gelowige oortuiging dat die Bybel God se spreke tot ons is, kan daar geen sprake van gespierde Christenskap wees nie.
    Die stryd woed op talle fronte en die kompleksiteit daarvan is sodanig dat dit nie met die aanhaling van 'n paar tekste en een of twee preke besweer kan word nie. Tog bied Jh 5:39-40 enkele perspektiewe wat van die allergrootste belang is in hierdie verband  -  waarhede wat stewig in plek moet wees in ons gemoedere.
    Natuurlik praat die Bybel op baie ander plekke oor homself, en vir 'n volledige prentjie moet mens sekerlik alles in ag neem. So iets is egter onmoontlik in 'n studiestuk van hierdie formaat. Hierdie twee verse (en hulle konteks) bring egter 'n paar kardinaal belangrike aangeleenthede skerp in fokus, en aangesien dit in volkome harmonie is met wat die Skrif elders leer, is dit sekerlik legitiem om vir die oomblik uitsluitlik op hierdie uitspraak van die Here Jesus te konsentreer.
    Hierdie twee verse spreek veral vier sake aan: die oorsprong, die gesag, die fokus, asook die regte en verkeerde gebruik van die Skrif  -  besonderlik van die Ou Testament.

Hierdie is 'n uitspraak van die Here Jesus Christus self  -  en verwoord kennelik Sy eie          Skrifbeskouing.

En let dan ook met die nodige erns daarop dat daar beswaarlik enige integriteit kan sit in iemand se aanspraak op Christenskap as hy Jesus nie ook in hierdie mees fundamentele en bepalende oortuiging navolg nie (1Jh 2:6).

Die konteks

Hierdie uitspraak van ons Here Jesus kan slegs na behore verstaan word as ons dit saam met die voorafgaande verse lees. Jh 5 het grootliks te doen met die gesag waarmee Jesus gepraat en gedoen het  -  en met die gronde vir Sy aansprake op die Goddelike oorsprong daarvan.
    Die hoofstuk begin met die Here se genesing van 'n siek man by die bad van Betesda (1-15). Dit was 'n Sabbatdag, wat die Jode laat aanstoot neem het  -  aan die man, omdat hy sy beddegoed opgetel en gedra het; en aan Jesus, omdat Hy die man genees het.
    In Jesus se reaksie maak Hy daarop aanspraak dat Hy en die Vader saamwerk (17). En die werk wat die Vader aan Hom toevertrou het, is tweeledig:
    Eerstens moet Hy lewe gee aan die dooies (21), sodat elkeen wat hoor en glo, die ewige lewe kan ontvang (24).
    Tweedens moet Hy God se oordele voltrek (22).
    Vanaf v.25 ontwikkel die Here Sy tema dan verder. Die proses van skeiding tussen hulle wat lewe ontvang en hulle wat geoordeel word, is reeds aan die gang. Hy, as Seun van die mens, beoefen al reeds die mandaat en gesag wat Hy van die Vader gekry het (26-27). Die geestelik dooies hoor immers reeds Sy stem en begin lewe (25). En dis alles net 'n voorspel vir wat op die laaste dag gaan gebeur. Dan sal die skeidingsproses onder die mensdom finaal voltrek word  -  wanneer almal die Seun se stem sal hoor en sal opstaan, óf tot die lewe, óf tot die oordeel (28-29).
    Jesus se twee aansprake  -  dat Hy kan lewe gee, en dat Hy mag oordeel  -  is dinge wat net by God berus. G'n wonder dat die ongelowige Jode Hom oor Godslastering wil teregstel nie (18).
    Noodwendig kom die begronding vir Sy aansprake nou ter sprake, en dis waaroor Hy verder praat (30-38).
    Omdat Hy wil seker maak dat daar geen misverstande is nie, word Sy drie positiewe stellings elkeen voorafgegaan deur 'n negatiewe een:

•    Sy optrede en aansprake is nie Sy eie inisiatief nie  -  dit berus op die Vader se roeping en bekragtiging (30a).

•    Hy is nie op 'n selfsugtige sending nie  -  Hy wil net die Vader se wil doen (30b).

•    Hy bou nie Sy saak op Sy eie of ander mense se getuienis nie  -  selfs nie op dié van Johannes die Doper nie. Nee, God die Vader getuig oor en vir Hom (31-37a).
    Hoe getuig die Vader oor Jesus? Op twee maniere: deur werke en deur woorde.
    Dis die Vader wat aan Jesus die krag gee om al die wonders te doen (36).
    Die Vader het self ook oor Sy Seun getuig (die Griekse werkwoord praat van iets wat in die verlede gebeur het, maar steeds geldig is) (37a).
    Waarna verwys Jesus hier? Nie na 'n hoorbare stem nie, want wie van die Jode het Sy stem gehoor? Hy praat ook nie van 'n visioen nie, want niemand het Sy gestalte gesien nie (37b). Die Here verwys hier na die geskrifte van die Ou Testament. Hy gaan immers voort om dadelik oor die Skrif te begin praat (39).
    Helaas slaan die Jode nie ag op die Vader se getuienis oor Sy Seun nie. En die groot rede is dat die Woord nie in hulle lewe nie. Hoe kan Jesus dit sê? As die Woord in hulle geleef het, sou hulle geglo het in die Een wat die Vader gestuur het (38).
    Is dit nie te erg om skrifgeleerdes so te beledig nie? Wel, die Skrifte wat hulle so ywerig bestudeer, getuig oor die Here Jesus  -  en tog kom hulle nie na Hom toe om die ewige lewe te ontvang nie (39-40).

Hoe Jesus die Ou Testament sien

Bogenoemde onderstreep twee aspekte van die Here Jesus se Skrifbeskouing  -  wat nog altyd baie belangrik was, maar veral in ons dag.

•    Eerstens beskou Hy die Ou Testament as van Goddelike oorsprong  -  as God se getuienislewering.

•    Tweedens dring Hy daarop aan dat die Ou Testament oor Hom as die Christus getuig.

Van Goddelike oorsprong

Wat die Goddelike oorsprong van die Ou Testament betref, is die Here Jesus se standpundinname nie tot hierdie verse beperk nie, inteendeel. Hy het dit konsekwent geleer en daarvolgens geleef. Altyd het Hy 'n gesindheid van respek en onderwerping daaroor gehandhaaf  -  dwarsdeur Sy lewe tot ná Sy opstanding.
    Nooit het Jesus die Ou Testament se uitsprake bevraagteken nie. Tewens, in Mt 5:18 sê Hy dat nie een letter of letterstrepie van die wet sal wegval nie. En in Jh 10:35 leer Hy dat die Skrif nie gebreek kan word nie (OAV).
    Lank voordat bepaalde dinge met Hom gebeur het, het Hy dit op grond van die Ou Testamentiese profesieë voorsien. Male sonder tal het Hy Sy dissipels verseker van Sy komende verwerping, lyding, dood en opstanding  -  bloot op grond daarvan dat die Ou Testament dit voorspel (Mk 8:31; 14:21). Teen die einde van Sy openbare optrede sê Hy dan ook vir Sy dissipels: "Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe, en alles wat die profete oor die Seun van die mens geskryf het, sal daar bewaarheid word" (Lk 18:31). En as Petrus Sy arrestasie wil verhoed, gaan Jesus hom teen: "Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?" (Mt 26:53-54).
    Wat Hyself geglo en uitgeleef het met betrekking tot die geskrifte van die Ou Testament, het Jesus ook van andere verwag.
    In Sy twisgesprekke met die Joodse leiers was dit vir Hom 'n onbevraagtekenbare uitgangspunt dat die Skrif die finale seggenskap het. En Sy groot klagte teen die skrifgeleerdes was: "Het julle dan nie gelees nie?"
    En as die Emmausgangers nie die voorafgaande dae se gebeure in Jerusalem kan begryp nie, sê Hy vir hulle: "Wat 'n gebrek aan begrip en wat 'n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?" (Lk 24:25-26).
    Waarom het Jesus die Ou Testamentiese geskrifte so hoog aangeslaan?

 Hy het van harte geglo dat wat die Woord sê, is wat God sê.

Hoewel ons teks dit nie direk aanspreek nie, is 'n voor die hand liggende vraag op hierdie punt: wat van die Nuwe Testamentiese geskrifte? Baie duidelik leer die Here Jesus in die bovertrek die aand voor Sy kruisiging dat een van die Heilige Gees se belangrikste take sou wees om die apostels en hulle medewerkers te lei in die vertolking, ordening en vaslegging van die klimaks van God se besondere openbaring  -  soos dit in die mensgeworde Seun gekom het. Hulle moes dus die Nuwe Testament op skrif stel (Jh 14:26; 15:26-27; 16:12-15). Sonder twyfel het Jesus geglo en geleer dat die komende geskrifte van die Nuwe Testament in elke opsig gelyk sou wees aan dié van die Ou Testament wat inspirasie, betroubaarheid en gesag betref.

Een van die belangrikste redes (dalk die heel belangrikste) waarom ons as navolgers van Jesus die inspirasie, betroubaarheid en gesag van die Bybel aanvaar, is omdat Hý dit so aanvaar en geleer het.

Die Ou Testament getuig oor en oor van die Christus wat sou kom

As ons praat oor die Here Jesus se oortuigings oor die Ou Testamentiese geskrifte, het Hy in die tweede instansie daarop aangedring dat die Ou Testament oor Hom as die Christus getuig. Hy sê dit uitdruklik in Jh 5:39: "En dit is juis die Skrif wat oor My getuig."
    Die Ou Testament is 'n boek van hoop en onvervulde verwagtinge. Van begin tot einde tuur dit vooruit na die koms van Christus. Die talle en talle beloftes aan Adam en Eva, aan Abraham, aan Moses, aan Dawid, aan die profete, gaan almal in Christus in vervulling. In 2Kor 1:20 staan daar: "Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom (dit is Christus) is hulle ja en in Hom amen ..." (OAV).

•    Die Ou Testamentiese wet in sy meedoënlose gestrengheid, was niks anders nie as die "kinderoppasser" (Gr. lett.) van die verbondsvolk tot en met die koms van die vrymakende Christus (Gl 3:24-25 en konteks). Die wet moes hulle op die spoor hou  -  totdat die koms van Christus en die Gees wat Hy sou stuur hulle volwasse genoeg sou maak om sonder gevaar te leef in die vryheid wat hoort by God se kinders (Gl 4:1-7).

•    Die Ou Testamentiese offerstelsel het dit dag na dag uitbasuin dat daar geen versoening met God kan plaasvind sonder 'n strafdraende plaasvervanger nie.

•    Die Ou Testamentiese ampte het elkeen op sy manier vooruit gewys na Christus.
    Die profete en hulle profesieë het oor en oor vertel van die komende Messias. Hy is die saad van die vrou wat die slang se kop sou verbrysel (Gn 3:15). Hy is die nageslag van Abraham deur wie al die nasies geseën sou word (Gn 12:1-3). Hy is die ster wat uit Jakob sou verskyn; Hy is die septer wat uit Israel sou verrys (Num 24:17).
    Die priesters het oor honderde jare vooruitgewys na die Groot Hoëpriester wat Homself vir sondaars sou kom offer.
    Die konings, in al hulle onvolmaaktheid, was 'n voorafskaduwing van die Messias se volmaakte regering van vrede en geregtigheid.

•    Jesus Christus sou die priester volgens die orde van Melgisedek wees (Ps 110:4); die koninklike afstammeling van Dawid (Jer 23:5); die kneg van die Here wat in gehoorsaamheid vir die Godsvolk sou sterf (Jes 52:13-53:12); die Seun van God wat die nasies sou beërf (Ps 2:7-9); die Seun van die mens wat op die wolke sou kom en aan wie gesag oor die nasies gegee is (Dn 7:13-14).

•    Waarlik, Jesus Christus is die sentrale tema van die Ou Testament. Hy is die goue draad wat van die begin af regdeur alles loop. Is dit 'n wonder dat die opgestane Jesus die hele evangelie aan die Emmausgangers vanuit die Ou Testament kan verduidelik: "Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê." (Lk 24:27). Later kan ook Filippus die Etiopiër so na Christus toe lei  -  sonder die Nuwe Testament: "Filippus het by hierdie Skrifgedeelte (Jes 53) begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig."

Die Nuwe Testament is deurtrek van Christus

As Christus die hart is van die Ou Testament, is Hy dit des te meer van die Nuwe. Wie kan dit betwyfel?

•    Hy is die evangelies se hoofkarakter. Hulle skryf oor die tyd van Sy vernedering; van Sy ontvangenis en geboorte tot en met Sy kruisiging, opstanding en hemelvaart. Hulle vertel van Sy groot dade, Sy wonderlike woorde, Sy reddende werke.

•    Handelinge beskryf hoe Hy dan voortgaan om te doen en te leer deur Sy Gees wat in en deur Sy dissipels werk.

•    Die apostoliese briewe ontvou sistematies die betekenis van Sy persoon, Sy lering, Sy werk  -  en hoe ons dan as Sy dissipels in die lig van hierdie waarheid moet leef.

•    Die Openbaringboek lig ons oë die hoogtes in  -  om iets te sien van Koning Jesus se majesteit en heerskappy oor die geskiedenis en die nasies.

Waarlik, die prediker wat Christus nie weer en weer verkondig nie, verkondig nie die Woord van God nie. Sy oë is nog geslote soos dié van die Joodse skrifgeleerdes.
        Met bloot moralistiese prediking en mooi storetjies mag Sy dissipels geen, maar geen, geduld hê nie. Vra jouself gereeld af of jou dominee se prediking Sondag na Sondag deurtrek is van Christus. Indien nie, maak jouself so vinnig as moontlik uit die voete  -  want so 'n wolf in skaapklere gaan jou bietjie-bietjie vergiftig en jou dalk uiteindelik die ewige saligheid kos.

Die regte en verkeerde gebruik van die Bybel

Selfs al het jy 'n baie hoë agting vir die Bybel, kan jy dit totaal verkeerd gebruik  -  met katastrofiese gevolge. Ons teks werp besondere lig op die regte en verkeerde gebruik van die Woord. Dis tewens waaroor dit uiteindelik in hierdie twisgesprek van die Here Jesus met die skrifgeleerdes gaan.
    Die Jode het óók gehuldig dat die Skrif van Goddelike oorsprong is. Maar hulle het die funksie daarvan verkeerd verstaan. Hulle sou die gesag daarvan met hulle lewens verdedig het, maar hulle het die doel daarvan verkeerd verstaan. En die gevolge is tot vandag toe een van die grootste tragedies van alle tye.
    Wat was die Jode se fout? Hulle het van die Skrif 'n doel op sigself gemaak, en nie 'n middel tot 'n groter doel nie  -  naamlik om God en besonderlik Sy Seun te ken. Daarom het hulle nie die Messias herken nie. En in die proses het hulle die ewige lewe gemis.
    Hierna moet ons nader kyk.

Die Joodse mistasting

"Julle ondersoek die Skrif", sê Jesus (39a).
    Die werkwoord dui op noukeurige en volhardende deursoeking. Dit word byvoorbeeld in 1 Kor 2:10 gebruik: "... die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God". En in Op 2:23 sê die Here Jesus dat Hy die Een is "wat niere en harte deursoek" en elkeen dus volgens sy werke sal beloën (OAV).
    Die Jode was deeglik bewus van hulle voorreg om God se Woord te hê. Paulus sê in Rm 3:2, as hy oor die voordele van Jood-wees praat: "Die belangrikste is dat God sy woorde aan die Jode toevertrou het." Die Ou Testament het gevolglik talle uitsprake oor die onberekenbare waarde van die Skrif.
    Dit het meegebring dat die skrifgeleerdes die inhoud daarvan met ongeëwenaarde en pynlike versigtigheid nagevors het. En om seker te maak dat hulle die Hebreeuse manuskripte  -  wat een vir een met die hand oorgeskryf moes word  -  akkuraat kopieer, het hulle selfs die letters in elke Bybelboek getel, die middelste woord daarvan bepaal en allerlei ander statistiese data daaroor versamel.
    Is so 'n benadering verkeerd? Is dit waaroor Jesus die Joodse leiers verwyt? Absoluut nie! Ons moet dit tewens respekteer dat hulle met soveel sorg wou verseker dat die Woord suiwer oorgelewer word.
    Tog was hulle agting vir die Skrif misplaas. Is so iets moontlik? Inderdaad. Dit word duidelik as mens na die tweede deel van Jesus se uitspraak kyk: "omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry" (39a).
    Jesus verwyt die Jode nie omdat hulle die Skrif ondersoek nie, maar omdat hulle meen dat hul puntenerige navorsing op sigself godsdienstige verdienste het. Hulle meen dat dit 'n beduidende bydrae tot hulle beërwing van die ewige lewe sal maak. Hulle gaan dus met God se Woord om as 'n doel op sigself, sonder om te verstaan dat dit 'n middel tot 'n groter doel is.

Die Jode was inderdaad yweraars vir die gewigtigheid en suiwerheid van die Skrifte  -  maar het die noodlottige fout gemaak om dit as 'n doel op sigself te beskou en nie as die wegwyser na Christus toe nie.

Die funksie van die Bybel

Die Bybel het op sigself nie reddende kragte nie. Tog het die Nuwe Testament talle uitsprake wat mens onder dié indruk kan bring. Neem byvoorbeeld die volgende:

•    Hd 20:32: "Maar nou vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy genade. Die woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het."

•    Rm 1:16: Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is 'n krag van God tot redding ..."

•    Jk 1:18: "Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring ..."

•    1 Pt 1:23: "... julle is wedergebore ... deur die lewende woord van God ..." (OAV).

Hoe moet ons die kloutjie by die oor kry? Die Here verskaf die antwoord in ons teks. Al het die Skrif nie reddende krag in homself nie, speel dit tog 'n onmisbare rol in die proses van redding. Dit lewer getuienis oor Jesus Christus. Dit werp die kollig op Hom  -  sodat mense na Hóm toe sal gaan ten einde by Hóm die ewige lewe te ontvang (39b-40).
    Al het ons hoe 'n hoë agting vir die Woord  -  en dit móét  -  moet ons verstaan en kompromieloos bly verkondig dat hy of sy wat bloot by die Bybel vassteek, sonder om na Christus deur te steek, nog nie die lewe het nie.
    As Johannes verduidelik waarom hy sy evangelie geskryf het, sê hy presies dit: "... hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Jh 20:31).
    Ook Paulus bevestig dit: "jy ken van kleins af die heilige Skrif" [vir Timoteus die Ou Testament]. "Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus" (2Tm 3:15).

Wat sê dit alles vir ons?

1.    Om 'n Bybel te hê, is op sigself nie genoeg nie  -  dit moet bestudeer word.
Dis verstommend hoe bygelowig mense oor die Bybel kan wees. Mense gryp dit vas as hulle bang is. Soldate dra dit saam op die slagveld, in die vertroue dat dit hulle sal beskerm. Ampsdraers  -  selfs totaal ongelowiges  -  lê hulle hande daarop as hulle hul ede van getrouheid aflê. Om verse in die Bybel met pen of potlood te merk word as oneerbiedig beskou. Dit alles is basies dieselfde afgodery as dié van Israel toe hulle die verbondsark laat haal het om hulle teen die Filistyne te help (1Sam 4).
    Vir talle het die Skrif nie veel meer as simboliese waarde nie. Indien jy die Bybel op jou bedtafel of kantoorlessenaar lees en uitleef, is dit totaal in orde. Maar as dit bloot 'n vertoonstuk is, is jy waarskynlik 'n huigelaar van dieselfde stoffasie as die Fariseërs.

Ons moet Bybelse aanbidders wees, nie Bybelaanbidders nie.

Nee, die Bybel het 'n inhoud wat van die grootste intellekte in die geskiedenis lewenslank besig gehou het. Dit is God se besondere selfopenbaring wat net soveel gekonsentreerde aandag verg om na behore te begryp, as God se algemene openbaring. Dit moet bestudeer word!

2.    Om die Bybel te bestudeer, is op sigself nie genoeg nie  -  dit moet oor Jesus Christus gaan.
Daar is tienduisende Bybelstudente wat die lewensbelangrike les van ons teks vergeet.

•    Diegene wat opgaan in die soeke na allerlei geheimsinnige kodes in die Bybel, toon daarmee dat hulle waarskynlik weinig verstaan van die eintlike doel waarmee God dit vir ons gegee het.
    Laat ons nie vergeet nie:  bestudering van die Skrif met  enige ander doel as om God in Christus beter te ken, te dien en te verheerlik, is ernstig onder verdenking  -  en bes moontlik ook futiel.

•    Kinders wat aan die einde van die jaar hulle Sondagskool se beker wen, bloot omdat hulle in die Bybeleksamen geweet het wie Israel se vyfde koning was en hoeveel vrouens Salomo gehad het, se onderwysers het hulle na alle waarskynlikheid op noodlottige paaie gelei.

•    "Bybelstudente" wat eenogig besig is met allerlei troetel-temas wat min te make het met Jesus Christus en die lewe wat Hy gee, mis die punt. Sekere mense kan beswaarlik oor iets anders praat as die gesin, of die kerk, of allerlei wederkoms-detail, of moraliteit  -  maar oor Christus die Gekruisigde hoor jy hulle selde opgewonde raak.

•    Hoeveel geleerdes is daar nie wat bloot teologie ter wille van teologie beoefen nie. Die innerlike aandrang om God beter in Christus te leer ken en Hom te verheerlik, is grootliks of totaal by soveel van hulle afwesig. Teologie as blote "wetenskapbeoefening", sonder 'n ywer vir Christus se eer; teologiese opleiding wat nie daarop gerig is om herders en leraars toe te rus om Christus se kudde te versorg en Sy evangelie te verkondig nie; teologiese fakulteite wat saam met al die ander uit 'n sekulêre staat se hand leef sonder om hulle oë vas te nael op die Vader in Christus se versorging  -  al hierdie dinge het Bybels gesproke geen bestaansreg nie.

•    Te veel ouers en onderwysers kweek by kinders die idee dat Christenskap bloot oor moraliteit gaan: "Dit doen 'n kindjie van Jesus nie!".  So word hulle as fariseërs groot  -  geïmmuniseer teen die ware evangelie. Soos die ryk jongman sal ook hulle eendag sê: "Al hierdie dinge het ek van my kinderdae af onderhou".
    Nee, ons moet ons kinders van kleins af inlei in die Skrifopenbaring oor wie God is  -  nie net Sy liefde nie, maar ook Sy geregtigheid. Hulle moet van kleins af die erfsonde verstaan en die verskriklike realiteit daarvan in hulle eie lewens herken en erken. Hulle moet van kindsbeen af weet dat hulle net so min soos Kornelius deur goeie werke gered kan word (Hd 10:2; 11:14). Saam met hulle moedersmelk moet hulle die waarheid inkry dat daar maar één oplossing vir sondaars se verskriklike verlorenheid is  -  redding in Jesus Christus alleen.

•    Bybelonderrig en die vak Bybelkunde gaan dus oor meer  -  baie meer  -  as feitekennis en die wen van Bybelvasvrae en die volstop van 'n BA-leergang.

3.    Om die Bybel Christosentries te verstaan, is op sigself nie genoeg nie  -  dit moet gehoorsaam word.
Die geloof sonder die werke is dood. En die eerste "werk" van 'n ware geloof is om in Christus in te vlug en in Hom te bly skuil vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid.
    Die Jode het 'n dubbele fout gemaak:
    In hulle ongeloof het hulle Jesus Christus in die Skrifte misgekyk. In hulle blindheid het hulle gedink (39a)  -  maar helaas verkeerd gedink.
    In hulle halsstarrigheid het hulle geweier om na Hom toe te gaan ten einde die lewe te kry. Hulle wou nie (40).
    Hierdie woorde van die Here is baie insiggewend. Dit toon dat daar twee dinge is wat ons gedrag beheers: ons rede en ons wil.
    Presies hier sien ons waarom soveel mense die evangelie hoor  -  die evangelie wat so logies, so aantreklik, so gratis is  -  sonder om dit aan te neem. Hulle dink verkeerd daaroor. Of as hulle dit na behore verstaan, is dit rebellie wat hulle weerhou om na Christus en Sy lewe toe te gaan  -  hulle wil eenvoudig nie. Of hulle maak hulleself wys hulle het in Hom ingevlug, maar hulle lewens vertoon bykans geen dissipelskap, selfverloëning, diensbaarheid en gehoorsaamheid nie. Hulle gaan miskien kerk toe  -  dalk tweemaal 'n Sondag  -  maar tydens die week leef hulle wêreldgelykvormig en vir hulle self. Die Bybel is duidelik oor hulle tragiese lot in die hiernamaals, nie waar nie!

Die Bybel is soos die foto van sy verloofde wat 'n soldaat op sy hart dra. Die foto is vir hom baie kosbaar  -  maar slegs omdat dit hom aan sy geliefde herinner. Dis soos 'n verkyker  -  jy kyk daardeur, nie daarna nie. Dis soos 'n doktersvoorskrif  -  nie 'n doel op sigself nie, maar 'n middel tot 'n groter doel.
                                                                                                                             Nico van der Walt

Thursday, August 16, 2012

ANTIPAS HEROUT No.32 - GOD SE BEELD IN DIE MENS AS MAN EN VROU - Liefdesgemeenskap, statusgelykheid, rol- en gesagsonderskeid

God het die mens na Sy beeld geskep. Hierdie beeld is ernstig deur die sondeval verwring, maar nie heeltemal vernietig nie (Gn 1:26-27; 5:1; 9:6). God los dit egter nie so nie, maar deur Sy verlossingswerk in Christus herstel Hy die mens na Sy beeld.

God se beeld

Wat behels God se beeld in die mens?
    Allereers moet gesê word dat dit nie in die mens se liggaamlikheid sonder meer sit nie. God is gees (Jh 4:24) en het as sodanig nie 'n liggaam nie.
    Die mens is as rentmeester in 'n unieke gesagsposisie op aarde geplaas. Hy moes vrugbaar wees, die aarde bewoon en bewerk, en oor die res van die skepping heers (Gn 1:28). Hy het dus 'n duidelike opdrag en doel gehad. Dit beteken dat hy nie net gehoorsaam moes wees nie, maar ook inisiatief moes neem. Hiervoor is die mens met 'n wil geskape  -  'n wil wat ná die sondeval helaas nie meer in harmonie met God was nie. Die herskepping in Christus het dit egter reggestel.
     Twee Nuwe Testamentiese uitsprake gee verdere lig. In beide gevalle het dit te doen met die herstel van God se beeld in die gevalle mens.

•    Aan die Efesiërs word geskryf dat hulle hul "... met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid" (4:24, OAV). Die mens is 'n morele wese, en voor die sondeval het dit in volmaakte harmonie met God se wil en standaarde tot uitdrukking gekom. Die sondeval het dit egter tragies bederf. Maar in die mens se herskepping word dit reggestel.

•    Aan die Kolossense word gesê: "Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper ..." (3:9-10, OAV). Die mens is 'n rasionele wese, met die vermoë om te dink en te verstaan. Deur die sondeval is hierdie vermoë helaas ernstig verbuig. Maar ook dit word deur die herskepping in Christus herstel.

•    'n Vierde aspek van die mens se skepping na die beeld van God sit in sy geslagtelikheid. Die mens is as man en vrou geskape.
    Dis die tema van hierdie studiestuk.
    "En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape." (Gn 1:27, OAV).
    "Toe God die mense geskep het, het Hy hulle gemaak as beeld van Homself. Man en vrou het Hy hulle geskep en Hy het hulle geseën en hulle mens genoem toe hulle geskep is" (Gn 5:1-2).

Die beeld van God in die mens sit dus in sy wil, sy moraliteit, sy kennis en sy geslagtelikheid.
    Die Westminster Shorter Catechism (Vr. 10) som bogemelde só op: "God created man male and female, after His own image, in knowledge, righteousness, and holiness, with dominion over the creatures."

God se beeld in ons geslagtelikheid

Die feit dat God, toe Hy die mens na Sy beeld geskape het, nie net een persoon gemaak het nie, maar twee afsonderlike en verskillende persone  -  man en vrou  -  bring 'n baie besondere aspek van God se beeld en wese na vore: die Drie-eenheid.
    In Gen 1:26, onmiddellik voordat vertel word van die mens se skepping na God se beeld, vind ons die eerste sinspeling op die Drie-eenheid: "Toe het God gesê: 'Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld ...".
    Die mens se skepping as man en vrou vertoon die drie-enige God se beeld op ten minste drie maniere:

•    Eerstens kom dit tot uitdrukking in die man en vrou se verhouding, veral in die intimiteit binne die huwelik.

•    Tweedens sit dit in hulle persoons- en statusgelykheid voor God.    

•    Derdens word dit gesien in die verskillende rolle wat hulle Skepper aan hulle toeken, en in die gepaardgaande gesagsonderskeid tussen hulle.

Eerstens: Liefdesgemeenskap
    Net soos daar van ewigheid af gemeenskap, kommunikasie en samewerking tussen die drie persone van die Goddelike Drie-eenheid is, so is man en vrou ook geskep en vir mekaar gegee met die oog op liefdesgemeenskap, onderlinge kommunikasie en samewerking.
    God het die mens nie geskape om 'n geïsoleerde bestaan te voer nie. Nie alleen is hy in staat tot interpersoonlike menseverhoudinge nie; hy het 'n onversadigbare behoefte daaraan. Veral in familie- en gemeenteverband kan hierdie verhoudinge baie sterk beleef word. Nooit kom dit egter tot intenser uitdrukking as in die verhouding tussen man en vrou nie  -  tot so 'n mate dat hulle "een word" (Gn 2:24). Hulle eenheid is nie net fisiek nie, dis ook emosioneel en geestelik  -  veral natuurlik in die geval van Christene.
    Hierdie eenheid word op talle maniere in die Woord onderstreep en beklemtoon. Man en vrou is deur God saamgevoeg (Mt 19:6). Seksuele eenheid met iemand anders as jou eggenoot is 'n besonder afstootlike oortreding teen jou eie liggaam (1Kor 6:16, 18-20)  -  met ander woorde teen jou huweliksmaat wat één is met jou. Binne die huwelik het die man nie alleenseggenskap oor sy liggaam nie; hy deel dit met sy vrou  -  en natuurlik omgekeerd (1Kor 7:3-5). Mans moet hulle vrouens so lief hê soos hulle eie liggame (Ef 5:28). Die eenheid tussen man en vrou is lewenslank (Mal 2:14-16; Rm 7:2).
    Teen hierdie voor die hand liggende vertolking van Skrifgegewens word beswaar aangeteken vanuit feministiese kringe. Waarom bestaan die huwelik dan uit net twee partye, as daar drie persone in die Godheid is, word gesê. Daar is ten minste drie moontlike verklarings  -  en al drie is bes moontlik geldig.

•     Dit wil ons bes moontlik herinner dat die verhouding tussen man en vrou 'n flou afskynsel is van dit wat in die Godheid bestaan.

•     Die eenheid binne die huwelik is onvolmaak as dit nie 'n eenheid in die Here is nie. Wanneer man en vrou egter gesamentlik met God wandel, is daar inderdaad drie partye.

•     Nog 'n verklaring werk ook met drie partye. In die geval van 'n gesin is die liefdesgemeenskap tussen vader, moeder en kinders iets van 'n vergestalting van die verhouding tussen die Vader, die Seun en die Gees.

Tweedens: Statusgelykheid
    Van ewigheid af  -  wat belangrikheid en goddelikheid betref  -  is daar volkome gelykheid tussen die drie Persone van die Goddelike Drie-eenheid. Netso is daar geen statusverskil tussen man en vrou voor hulle Skepper nie. Beide is eweveel na Sy beeld geskape; en hierdie beeld is sedert die sondeval nie in een méér verwring as in die ander nie. Tot in alle ewigheid is nie een vir Hom meer belangrik of waardevol as die ander nie. Die Bybel bied dus geen grond vir enige manlike of vroulike geslagshoogmoed nie.
    Hierdie statusgelykheid van mans en vrouens vereis dat hulle mekaar moet respekteer en hulle onderlinge afhanklikheid altyd onthou.
    Paulus word meermale as manlike chauvinis uitgekryt. Maar dis ten onregte: "Tog het die Here bepaal dat die vrou nie sonder die man sal bestaan nie, en die man nie sonder die vrou nie, want soos die vrou uit die man geneem is, so kom die man deur die vrou in die wêreld, maar alles is uit God" (1Kor 11:11-12).
    Veel meer as enige kultuur, filosofie of godsdiens in die geskiedenis, bring die nuwe bedeling in Christus die gelyke waarde van man en vrou na vore.
    In 'n antieke wêreld van skokkende diskriminasie teen vrouens, profeteer Joël reeds dat die Messias Sy Gees sal uitstort op sowel seuns as dogters, op sowel diensknegte as diensmaagde (2:28-29, OAV). En op die Pinksterdag verklaar Petrus dat die profesie vervul is (Hd 2:17-18).
    Die gelykheid van man en vrou voor God word onmiskenbaar in die Nuwe Testamentiese gemeente onderstreep as beide geslagte gedoop word. Teenoor die Ou Verbond, waartydens net mans die verbondsteken ontvang het, wil die Heilige Gees ook hiermee kragtig getuig dat God nou in Christus begin het met die herstel van God se beeld in die mens  -  ná die verwringing wat met die sondeval ingetree het.
    Statusgelykheid tussen man en vrou word onontkombaar duidelik gestel in Galasiërs: "... want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één" (3:27-28). Die apostel beklemtoon hier dat daar geen meerder- of minderwaardige kategorie mense in die gemeente is nie. Net so min as wat Jode die reg gehad het om op Grieke as tweederangse lidmate neer te sien, net so min kon mans op vrouens neersien. Hierdie Nuwe Testamentiese gelykheidsbeginsel het 'n rewolusie begin  -  waaraan vrouegelykheid in die moderne wêreld grootliks te danke is.

Derdens: Funksionele onderskeid
    Terwyl daar van ewigheid af volkome gelykheid tussen die Persone van die Drie-eenheid bestaan, was daar ook nog altyd verskille in funksie en gesag tussen hulle.
    Hoewel al drie Persone gelyk is in hulle goddelikheid, het die Vader groter gesag. Hy het 'n leierskaprol wat die ander twee Persone nie het nie. So was die Vader byvoorbeeld nog altyd die Váder in Sy verhouding met die Seun.
    In feitlik alles wat in God se raadsplan gebeur, is al drie Persone betrokke. Maar sonder uitsondering het hulle verskillende rolle. Wat meer is, daar is ook 'n onmiskenbare orde te bespeur. Die Vader is altyd die inisiatiefnemer. Die Seun neem dan as 't ware oor om die Vader se besluite te implementeer en te vervolmaak. En les bes is die Heilige Gees baie dikwels die agent wat alles verwerklik en finaliseer.
    In die skepping spreek die Vader inisiërend, die Seun skep, en die Heilige Gees onderhou deur Sy voortgaande teenwoordigheid (Gn 1:1-2; Jh 1:1-3; 1Kor 8:6; Kol 1:16-17; Hb 1:2).
    In die herskepping verordineer die Vader sondaars tot die ewige lewe (Jh 6:37-39; Ef 1:3-6). Hy stuur die Seun om alles te doen wat nodig is vir hulle redding (Lk 22:42; Jh 6:38-40; Fl 2:6-8). En as die Seun na die hemel terugkeer, word die Heilige Gees deur beide die Vader en die Seun gestuur om die kerk te bou en toe te rus (Jh 16:7; Hd 1:8; 2:33).
    God het soortgelyke funksionele en gesagsverskille tussen man en vrou daargestel. Ook hierin word iets van die Drie-eenheid se wondere weerspieël.
    1Kor 11:3 stel dit so: "Ek wil egter hê julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en ’n man die hoof van sy vrou, en God die hoof van Christus."

'n Skeppingsverordening: Nie die sondeval se gevolg nie


Sommige voer aan dat die rol- en gesagsonderskeid tussen man en vrou ingestel is as straf ná die sondeval  -  en dus in Christus opgehef word. Dit het begin, word gesê, met die vloekuitspraak oor Eva: "Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring. Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers" (Gn 3:16).
    Dis egter glashelder dat die rol- en gesagsonderskeid tussen man en vrou reeds vóór die sondeval volledig gevestig was. Sewe feite  -  wat almal reeds vóór die sondeval in plek was  -  bevestig dit.

Adam is eerste geskep; Eva eers daarna (Gn 2:7; 18-23)
    Hierdie skeppingsorde was uniek. Geen dier is so geskep nie. Duidelik het God 'n spesifieke doel gehad.
    Dat dit te doen gehad het met 'n rol- en gesagsonderskeid, word deur die geïnspireerde apostel bevestig as hy hierdie feit gebruik as begronding vir sy verbod op vroulike leierskap in die gemeente. Hy skryf in 1Tm 2:12-13: "Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva."

Eva is as helper vir Adam geskep (Gn 2:18, 20)
    God het Eva in die eerste instansie vir Adam gemaak, nie Adam vir Eva nie. "Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n hulp maak wat by hom pas" (Gn 2:18, OAV).
    Ook hierdie feit word deur die apostel gebruik as hy die noodsaak van 'n onderskeid tussen man en vrou tydens gemeentelike aanbidding motiveer: "Die man is ook nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man" (1Kor 11:9).

Adam het vir Eva haar naam gegee (Gn 2:23)
    In die onmiddellik voorafgaande verse gee Adam name aan die diere (Gn 2:19-20)   -  en oefen so sy heerskappy oor hulle uit. Dwarsdeur die Ou Testament impliseer die reg om iemand te benaam ook gesag oor hom. So was dit God se prerogatief om Abram en Sarai se name na Abraham en Sara te verander (Gn 17:5, 15). En uiteraard is dit steeds ouers se reg.
    Wat meer is, dit was altyd die idee dat 'n Hebreeuse naam iets moes sê oor 'n persoon se karakter en funksie in die lewe. Toe Adam dus die diere benaam het, het hy eintlik hulle karakter en funksie vasgemaak. Dis betekenisvol dat hy, as hy Eva "vrou" of "mannin" noem, sy reg daartoe begrond op die feit dat sy uit hom voortgekom het: "Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem" (Gn 2:23, OAV).

God noem die menslike geslag "Adam" (Gn 5:2)
    "Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle "mens" (Hb. Adam) genoem, die dag toe hulle geskape is" (Gn 5:2, OAV). Die Skepper gebruik nie 'n geslags-neutrale naam nie, maar die manlike vorm. Dit impliseer dat Adam die leierskaprol sou vervul. Dis steeds so dat 'n vrou haar man se van aanneem wanneer sy trou. Sodoende onderwerp sy haar aan sy gesag, word sy in 'n baie besondere sin deel van sy familie, en moeder van sy nageslag (wat sý van dra).

Die slang het sy verleiding op Eva toegespits (Gn 3:1)
    In sy slinksheid het Satan geweet die vrou sou minder bestand wees teen sy versoeking. Waarom? God het haar nie geskape om in die voorste loopgrawe te veg nie. Sy is by uitnemendheid toegerus vir 'n ondersteuningsrol.
    Ook hierna verwys Paulus as hy die vrou van lering en regering in die gemeente uitsluit: "Dit is ook nie Adam wat verlei is nie, dit is die vrou wat haar laat verlei het en die gebod oortree het." (1Tm 2:14).

God het Adam aanspreeklik gehou vir die sondeval ‒ hoewel Eva eerste voor die duiwel geswig het (Gn 3:9; 17).
    "En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie  -  vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe" (Gn 3:17, OAV). Hoewel alles by Eva begin het, word Adam verantwoordelik gehou. Waarom? Sonder uitsondering loop gesag en toerekeningsvatbaarheid saam.

Adam, nie Eva nie, het die menslike ras verteenwoordig
    Eva het eerste gesondig. Maar die mensheid is aan erfsonde onderworpe  -  nie vanweë Eva se se sonde nie, maar as gevolg van Adam s'n. Dis in Ádam dat almal sterf. "Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word" (1Kor 15:22. Vgl. ook Rm 5:15).

Wat sê dit vir ons?

Ons fokus net op twee sake:

1.    Die mens se skepping as man en vrou na God se beeld, is die hoeksteen-beginsel van die huwelik.
    As die huwelik daarin slaag om die drie pilare  -  gemeenskap, gelykheid en funksionele onderskeid  -  in jukstaposisie staan te maak, is dit een van God se wonderlikste gawes aan die mens. En as afskynsel van God se wese, verheerlik dit Hom uitnemend.
    Die sondeval het egter hierdie God-verheerlikende instelling ernstig beskadig. En deur die geskiedenis het min dinge meer pyn vir miljoene der miljoene gebring, as juis die huwelik wat God se skeppingsverordeninge geweld aandoen.
    Die sondeval het meegebring dat die verhouding tussen man en vrou, asook hul onderskeie rolle, ernstig verwring is.
    In God se afkondiginge van oordeel in Gen 3  -  onder meer oor die huwelik  -  het Hy nie nuwe rolle ingestel nie, maar verklaar dat die uitvoering van bestaande rolle vorentoe met smarte gepaard sou gaan.

•    As broodwinner sou Adam steeds die aarde moes bewerk, maar "in die sweet van sy aangesig" (OAV) sou hy met "dorings en dissels" moes worstel (3:18-19).

•    As moeder sou Eva steeds kinders baar en grootmaak, maar nou sou dit met baie pyn gepaard gaan (3:16). 

Die man en die vrou sou steeds saamleef, maar nou sou hulle verhouding vol konflik en hartseer wees. As God in v.16 vir Eva sê dat sy na haar man sal "hunker", gebruik Hy 'n Hebreeuse woord wat eerder op begeerte na oorheersing dui,  as op seksuele begeerte. Immers was laasgenoemde na alle waarskynlikheid reeds vóór die sondeval teenwoordig.
    En as God vir die vrou sê dat haar man oor haar gaan "heers", gebruik Hy 'n sterk begrip wat gewoonlik gebruik is om onderdrukkende regerings te beskryf.  Die man sou dus sy krag en gesag misbruik om die vrou te onderdruk.
     Verlossing in Christus bring egter 'n opheffing van die vloek en 'n terugkeer na die oorspronklike ordes mee. In plaas van naywer en rebellie, word die vrou in Christus beveel om haar man in blymoedige en lojale onderwerping te steun (Ef 5:22-24; Kol 3:18; 1Pt 3:1-6). In plaas van gevoellose onderdrukking van sy vrou, word die man in Christus opgeroep tot liefdevolle en koesterende regering in die huwelik (Ef 5:25-33; Kol 3:19; 1Pt 3:7). So word die Christelike huwelik nie net 'n afskynsel van die Goddelike Drie-eenheid nie, maar ook van die verhouding tussen Christus en Sy gemeente. Die vrou se rol in die huwelik is soos díé van die gemeente in sy verhouding met Christus. En die man moet vir sy vrou wees soos Christus vir Sy kerk.
    Maar nooit mag ons die rolverdeling in die huwelik en die man se hoofskap beklemtoon nie, sonder om ook te onthou dat man en vrou "mede-erfgename van die genade van die lewe is" (1Pt 3:7, OAV). Daar is geen statusverskille tussen hulle nie, net soos nie een Persoon in die Goddelike Drie-eenheid minderwaardig is in vergelyking met die ander nie.

2.    Die mens se skepping as man en vrou na God se beeld is die diepste rede waarom die Nuwe Testament nie die vrou toelaat om in die gemeente te regeer nie.    Vir diegene wat oppervlakkig met Nuwe Testamentiese gegewens omgaan, lyk dit asof die apostel Paulus homself weerspreek: enersyds beklemtoon hy die gelykheid tussen man en vrou in die gemeente (Gl 3:26-29); andersyds maak hy baie van die verskille tussen manlike en vroulike lidmate (1Kor 11:2-16), en in die besonder lê hy 'n swyggebod op die vrou in gemeentelike byeenkomste (1Kor 14:34-36; 1Tm 2:9-15).
    Maar die apostel het homself allermins weerspreek. Hy verstaan gewoon die fundamentele beginsel waarna ons in hierdie studiestuk kyk. En hy weet hoe lewensbelangrik is God se skeppingsverordeninge. Net so min as wat daar 'n innerlike teenstrydigheid in die drie-enigheid van God sit, net so min geld dit vir Nuwe Testamentiese voorskrifte oor die verhouding tussen man en vrou in die gemeente.
    Waarin lê die funksionele verskil tussen man en vrou in die gemeente? Die vrou is 'n volwaardige lidmaat, en mag aan alles deelneem  -  behalwe om in die gemeente te regeer.
    Amptelike en formele Woordverkondiging is 'n regeringsfunksie in die gemeente. Vandaar dat die apostels nie vrouens toelaat om te preek nie.
    Let op dat regering  -  en dus amptelike prediking  -  ál is waarvan die apostels die vrou uitgesluit het. Volgens 1Kor 11:5 kon sy profeteer en bid. En sy kon lering gee vir jonger vrouens (Titus 2:3-5)  -  en sekerlik vir kinders.

    Funksionele en gesagsverskille tussen man en vrou  -  ook in die gemeente  -  is 'n ewige beginsel wat tydens die skepping, vóór die sondeval, in die diepste wese van die mens ingegraveer is. En hier het ons met een van God se skeppingsverordeninge te doen.
   
As begronding vir sy standpunt beroep Paulus hom konsekwent op God se skeppingsverordeninge. Hiermee beklemtoon hy dat sy voorskrifte nie kultuurbepaald is nie, maar dat dit ewige, universele en ononderhandelbare beginsels is. En soos dit met al hierdie beginsels gaan, betaal ons 'n baie, baie duur prys as ons daarvan afwyk.
    Hierdie is geen geringe saak nie. Só kom God se beeld, en Sy gepaardgaande verheerliking, al hoe duideliker in 'n gemeente tot uitdrukking. Só word die realiteite van die herskepping sigbaar in ons. Só gedy die kerk onder die seënende hand van die Here, want die uitnemende pad vir die mens is binne die grense van hulle Skepper se ordes en voorskrifte.
    Kom ons sê dit reguit:

    Die aftakeling van die rol- en gesagsonderskeid tussen man en vrou in die kerk is nie 'n sekondêre saak nie. Dis nie maar bloot ‘n kwessie van kulturele aanpassing nie. Nee, dis lynreg in stryd met God se skeppingsordes en wil  -  en dus 'n ernstige sonde!

Waarlik, die kerk wat met betrekking tot hierdie sake wegbreek van die pad van die historiese Christelike geloof, loop ‘n wesentlike gevaar om die geloof mettertyd heeltemal te versaak.
    Wat moet daardie kerke doen wat 'n ernstige tekort ervaar aan mans om die wa te trek?
    Hulle moet hulleself afvra waarom hulle so 'n probleem het. Baie dikwels het dit te doen met die sentimentalistiese en mensgesentreerde aanslag en boodskap wat vandag in talle kerke aan die orde is. Mans sukkel om te identifiseer met verwyfde predikante en 'n "pienk" evangelie. Die oplossing lê dus in 'n terugkeer na die robuuste en Godgesentreerde evangelie van die Nuwe Testament. Dan sal die mans spoedig weer hulle opwagting maak.
    En allermins sal dit help om pragmaties te kapituleer deur maar voort te gaan om vrouens in te druk in ampte waar hulle nie hoort nie, en waar hulle ook nie regtig wil wees nie. Dit sal die kerk net nog méér na reukwater laat ruik.
    Nee, die kerk moet weer Paulus se oproep in 1Kor 16:13 leer verstaan: "Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk" (OAV).

Slot

Ons het nie ruimte om daaraan aandag te gee nie, maar enige onderskeidende leser sal verstaan dat ons in hierdie studiestuk by die diepste begronding was van die Bybelse veroordeling van dinge soos voorhuwelikse seks, egbreek, homoseksualisme, en so meer.
    Mag die Here ons help om Sy ordes te verstaan  -  en dit dan kompromieloos uit te leef.

                                                                                                                         Nico van der Walt