Saturday, March 23, 2013

ANTIPAS HEROUT No.1 - WAT ELKE CHRISTEN MOET WEET - 'n Bespreking van Rm 8:28-30

Dit is opvallend dat die apostel Paulus, as hy vir die gemeentes bid, soos klokslag vir Geesgewerkte begrip en geheiligde kennis bid (Ef 1:17-18; Fil 1:9-10; Kol 1:9-10). En as hy ná die fundamentele lering van die eerste elf hoofstukke, in Romeine 12 begin met sy praktiese oproepe, "op grond van die groot ontferming van God", beklemtoon hy onmiddellik die absolute noodsaaklikheid van waarheidsbegrip vir 'n lewe wat God behaag (Rom 12:2). 'Ware waarheid' is nie 'n randsaak nie, dit is lewensbelangrik vir 'n godvrugtige lewe en ware kerkwees. Dit is waarom die apostels, naas sonde, niks met meer felheid weerstaan het as dwaalleer nie.
    Die Skrifgedeelte onder ons vergrootglas begin dus uiters betekenisvol: "Ons weet ...". Hy aanvaar elke Christen weet en verstaan die dinge waarvan hy praat. En inderdaad is die waarhede wat in ekstrakvorm in hierdie drie verse saamgeknoop is, deel van die ABC van die Christelike geloof - nie omdat dit so maklik is nie, maar omdat dit so fundamenteel is. Hy in wie se hart dit gegraveer is, het greep op van die belangrikste hoekpenne van God se heilsopenbaring. Hy het 'n lopersleutel wat een na die ander Skrifgedeelte oopsluit. Hy het 'n kompas wat keer op keer koers gee deur die doolhof van hedendaagse leringe. Hy het 'n onuitputlike bron van innerlike sekuriteit, vrede en vreugde wat hom deur 'n duisend storms dra.
    Dr. Martyn Lloyd-Jones sê oor hierdie verse: "We are considering here one of the most remarkable statements that even this apostle ever made. It is also one of the most comforting statements in the whole range of Scripture. We are surely entitled to say that in respect of the statement of exalted doctrine there is really nothing higher than this. Here is ultimate doctrine." (The Final Perseverance of the Saints, p.159). Hy gaan dan voort en wy 208 bladsye aan die behandeling van verse 28-30 (17 van sy preke op skrif).

DIE KONTEKS
   
    In hierdie hoofstuk wil die apostel diegene wat deur geloof geregverdig is, verseker van hulle uiteindelike redding. Al is daar dus nog baie worstelinge met sonde (7:7 e.vv.) en baie lyding (8:17 e.vv.), moet hulle weet dat die almagtige en ewig-soewereine God self onfeilbaar besig is om hulle verlossing in hulle uit te werk. Daar is dus hoegenaamd níks wat hulle tot in ewigheid van Sy liefde kan skei nie. Hierin, in die finale analise, lê hulle sekuriteit - en nie in hulle eie vermoëns nie.
    Dit is waarom Paulus, wanneer hy in v. 28-30 vyf van die hoofelemente van die reddingsproses noem (hieronder een vir een behandel), hom beperk tot dinge wat God alléén doen. [Daar is uiteraard ook elemente van die reddingsproses waarby die mens wel aktief betrokke is (soos geloof, bekering, heiligmaking, volharding). Maar daarin is op sigself geen grond vir sekuriteit te vind nie, aangesien dit vanweë die mens se betrokkenheid altyd gebrekkig en feilbaar is. Gevolglik werk die apostel nie nou daarmee nie. Nadat hy egter die spyker van 'die groot ontferming van God' behoorlik ingeslaan het, laat hy wel vanaf Hoofstuk 12 die aksent op die mens se verantwoordelikheid en rol val.]

STAP VIR STAP DEUR DIE VERSE

❏    Die gelowige se hele lewe, "alles", moet gesien word in die lig van wat die apostel hier sê. Dit geld dus alles wat or sy pad kom, sonder uitsondering - ook die lyding en gebrokenheid (v. 17 e.vv.) wat sy lewe nou nog kenmerk.

❏    Die Grieks van "ten goede meewerk" dui op 'n samewerking 'na die goeie toe'. Wat is hierdie goeie? Vers 29 is duidelik: gelykvormigheid aan die beeld van die Seun (Vgl. Heb 2:10 e.vv.). God is besig om vir Homself 'n huisgesin te skep en Hy gebruik alle lewensomstandighede en -gebeure as instrumente in die proses. Daar is dus planmatigheid, koers, bestemming in die lewe van elkeen wat deel het aan hierdie proses! En vanuit die konteks (v. 31 e.vv.) is dit duidelik dat die Here God self sal toesien dat dit uiteindelik volmaak-suksesvol uitwerk.

❏    Maar dit geld nie van alle mense nie. Dit is net waar van diegene wat (vir) "God liefhet".
    Wat beteken dit om Hom lief te hê? Hoe kom dit tot uitdrukking? 1Joh 5:3 gee die antwoord: liefde vir God is om Sy gebooie te bewaar. En om Jesus lief te hê, beteken ook presies dieselfde (Joh 14:21, 23-24; 15:9-10).

❏    Waarom het net sekere mense Hom lief? Omdat hulle "volgens Sý besluit geroep" is! Hier is géén sprake van menslike inisiatief, willekeur of meriete nie. Agter diegene wie se lewens gekenmerk word deur innige verlange, inspanning, worsteling en trane om hulle liefde vir die Here in gehoorsaamheid tot uitdrukking te bring, sit die uitverkiesende en herskeppende genade van 'n soewereine God.

❏    Vers 29 begin met "want" (Gr.). Hy motiveer dus sy stelling in die vorige vers. Waarom is v. 28 van hulle waar? Omdat hulle opgeneem is in God se ewige verlossingsplan! En oor hierdie plan gaan die apostel nou in  v. 29-30 wonderlike dinge sê.

❏    Die mense van wie hier gepraat word, is "vantevore geken" (die NAV se "lank tevore verkies" is 'n parafrase, maar teologies in orde). Die idee is nie dat God vooraf bloot van hulle geweet het nie, maar dat Hy hulle liefgehad het en hulle dus uitgekies het - dat Hy 'Sy hart op hulle gesit het'.
    'Om te ken' dui in die Bybel ten diepste op liefhê, eerder as op verstandelike kennis. [Gen 4:1: "die mens het sy vrou, Eva, bekén"]. Ander gedeeltes waarin dit duidelik blyk, is o.m. Eks 2:25; Amos 3:2; Jer 1:5; Matt 7:22-23 (Jesus sê nie Hy het nie van hulle geweet nie; Hy het juis 'te veel' van hulle geweet); 1Kor 8:3; 2Tim 2:19. Vgl. Joh 17:3.
    Die bepaalde begrip, 'vooraf ken', word ook op vier ander plekke in die N.T. met God as subjek gebruik: Hand 2:23 en 1Pet 1:20 (Jesus Christus as objek); Rom 11:2 (Jode as objek); 1Pet 1:2 (uitverkorenes as objek). Duidelik beteken dit meer as om bloot vooraf van iets of iemand kennis te dra - dit dui op liefhê, op verkiesing.

❏    Nie alleen het God hierdie mense lief nie, Hy het hulle ook "verordineer" of "bestem". Hy het dus 'n plan met hulle. Die Engelse predestine (NIV) vat die idee goed vas: om 'n 'destinasie' of bestemming vooraf vas te maak.
    Hierdie eindbestemming word dan eksplisiet deur die apostel genoem: "om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun".

❏    Tydens hulle lewe word hulle dan deur God "geroep". Hoewel die Bybel soms van 'n 'algemene roeping' praat as dit verwys na die Evangelie-uitnodiging wat tot alle mense gerig word (vgl. Matt 20:16; 22:14), dui 'roeping' in die Nuwe Testament meestal, soos ook hier, op 'effektiewe roeping'. Dit is God se skeppende en lewendmakende spreke wat die wedergeboorte in 'n sondaar bewerkstellig en hom so uit sy geestelike dood opwek tot die ewige lewe in Christus. Presies hier begin die toepassing, die verwerkliking van redding in 'n sondaar se lewe. Só skep God immers altyd - deur sy gesagvolle spreke. Reeds in Gen 1 kom dit nege maal soos 'n refrein: "God het gesê: Laat ... ". Vgl. ook Rom 4:17.
    Ander Skrifgedeeltes waar 'roeping' so gebruik word, is o.a.: Rom 1:6-7; 1Kor 1:9,26; Gal 1:15; Ef 1:18; Fil 3:14; 2Tim 1:8-9; Heb 3:1; 2Pet 1:10.
    Hierdie lewendmakende werk van God geskied, wanneer en soos dit Hom behaag, deur die verkondiging van die Evangelie (Rom 1:16; 10:13-15; 1Kor 1:21; 2Tess 2:14). Die 'effektiewe roeping' werk dus deur die 'algemene roeping' - deur die lewende (1Pet 1:23) waarheidswoord (Jak 1:18).

❏    Geestelik lewend gemaak, stel hierdie mense nou hulle geloofsvertroue in Christus en word hulle deur God "geregverdig" (die NAV se "vrygespreek" laat nie reg geskied aan die ryk en positiewe inhoud van hierdie begrip nie, soos hieronder sal blyk).
    Regverdiging (ook regverdigmaking genoem) moet gesien word teen die agtergrond van die feit dat die gevalle mens 'n dubbele probleem voor God het. 'n 'Dubbelkuur' is dus nodig om 'n sondaar te red. Enersyds moet die vloek van sy skuld voor God uitgedelg word; andersyds moet sy onvermoë om God te behaag, aangespreek word.
    Regverdiging is dus 'n dubbele juridiese uitspraak van God t.o.v. alle mense wat waarlik in Christus as Saligmaker glo. [As uitvloeisel van God se lewendmakende roeping, is selfs hierdie geloof 'n gawe van Hom (Ef 2:8-9; Fil 1:29; 2Pet 1:1)]. Agter hierdie uitspraak lê die beginsels van plaasvervanging en toerekening (Vgl. Rom 4 en 5). Die Seun van God, as Hoof van die nuwe mensheid, het in die plek van God se uitverkorenes kom staan. Negatief is hulle sondeskuld aan Hom toegereken, 'teen Sy rekening afgeskryf'. Hy is dus met hulle skuld 'gedebiteer'. Dit is egter nie al nie! Positief word Sy onuitputlike rykdom (Sy volmaakte geregtigheid, Sy gehoorsaamheid aan die Vader) aan hulle toegereken, 'na hulle rekening oorgeboek'. Hulle word dus met Sy gehoorsaamheid 'gekrediteer'. Regverdiging is iets wat 'in God se boeke' gebeur!
    As God hierdie opgestapelde sondeskuld aan Sy Seun straf, sterf Hy daaronder - maar in die proses bewerkstellig Hy vryspraak vir sondaars, sodat hulle onskuldig voor God staan (Matt 20:28; Rom 3:25; 2Kor 5:21; Gal 3:13; Kol 2:13-15; 1Tim 2:5-6; 1Pet 2:24). Dis egter net die helfte van die wonder van regverdiging. Christus se toegerekende geregtigheid maak óók dat hulle in God se boeke die status het van mense wat Sy wet volkome gehoorsaam het (Rom 1:16-17; 3:21-28; 8:33-34; 10:3-4; Fil 3:9) - en wat, as sulks, kwalifiseer vir die ewige lewe!
    Jesus se passiewe gehoorsaamheid red sondaars dus van die ewige verdoemenis; en Sy aktiewe gehoorsaamheid verwerf vir hulle die ewige saligheid.

❏    Uiteindelik word hierdie mense dan deur God "verheerlik". Dit verwys na die opstanding uit die dood, wanneer hulle verlossing in Christus tot volmaakte afronding sal kom. Die lang proses van redding kulmineer dan in volkome gelykvormigheid aan die beeld van die Seun (vgl.1Joh 3:2-3).
    Die 'profetiese verlede tyd' word, soos hier, gebruik om te beklemtoon dat iets, hoewel dit nog nie plaasgevind het nie, in God se ewige raadsplan vasgelê is en daarom verseker sal gebeur. Só seker sal dit gebeur, dat dit so goed as reeds gebeur het.

TEOLOGIESE IMPLIKASIES
   
❏     Paulus se sinsbou maak dit duidelik dat hierdie vyf elemente van verlossing soos die skakels van 'n onbreekbare ketting is: diegene vir wie God vantevore geken het, hulle (en nét hulle, maar inderdaad hulle álmal) word vantevore verordineer; en hulle wat vantevore verordineer is, hulle (en nét hulle, maar inderdaad hulle álmal) word geroep, ens. Hieruit volg 'n paar waarhede van onberekenbare teologiese belang - waarhede wat orals in die Skrif geleer word.

❏    As God Drie-enig 'n mens verlos, is dit iets wat Hý alléén soewerein inisiëer en deurvoer. Soos reeds gesê, is daar wel elemente in 'n persoon se verlossing waarby hy volledig betrokke is, maar hierdie vyf handelinge van God vorm die raamwerk waarbinne al die res plaasvind.

❏    In God se verlossingswerk gaan dit om spesifieke mense.

❏    'n Uitverkorene se verlossing is 'n ewige verlossing: dit strek vanuit die ewige verlede en vloei in die ewige toekoms in.

❏    So 'n verlossing is onverbreekbaar geïntegreerd: as jy dit hoegenaamd ontvang, ontvang jy alles, sonder uitsondering. Met 'alles' word al die elemente van die 'heilsorde' bedoel: uitverkiesing (as 'n sambreelterm), roeping en wedergeboorte, geloof en bekering, regverdigmaking, aanneming, heiligmaking, volharding en heerlikmaking. Om dit in Engels te stel: "It is a package deal - if you have it at all, you have it all"!

TWEE SOORTE WAARHEID
   
❏    Seersekerlik beleef ons die realiteite van ons eie geloofslewe en van wat om ons aangaan meestal anders. Ware gelowiges is pynlik bewus van die gebrokenheid van hulle lewens en van die stryd om op die pad te volhard. En as ons om ons kyk, hoe mense links en regs 'tot bekering kom', net om na verloop van tyd weer terug te val in wêreldgelykvormigheid - dan maak die gelykenis van die saaier veel meer sin as die verse waarna ons kyk.
    Dit is uiters belangrik om te begryp dat Skrifwaarheid op twee vlakke aan ons gegee word. Enersyds is daar 'belewingswaarheid' - soos ons dit beleef. Andersyds is daar 'wesenswaarheid' - dit wat regtig 'agter God se skerms gebeur'. En hoewel lg. dikwels strydig met die gelowige se belewing is, aanvaar hy dit in die geloof, wetende dat die twee vlakke van waarheid mekaar nie uitsluit nie - omdat beide deur die Heilige Gees geopenbaar is.
    'n Alledaagse voorbeeld mag help. As ons sê, 'die son gaan onder', is dit 'n belewingswaarheid. Tog weet ons 'die storie agter die storie', die wesenswaarheid, is eintlik dat die aardbol roteer en die horison tussen my en die son inskuif.
    Die gelykenis van die saaier is belewingswaarheid; Rom 8:28-30 is wesenswaarheid. Trouens, die eerste elf hoofstukke van Romeine (soos ook die eerste gedeeltes van die meeste van sy ander briewe) is grootliks wesenswaarheid. Dis die wonderlike geheimenisse van God se raadsplan en heil wat Hy met Sy kinders deel om hulle tot oorstelpte aanbidding te dring en tot dankbare gehoorsaamheid te bemoedig.
    Waarom sukkel Christene tog so om God se openbaring oor Sy uitverkiesingsliefde te glo? Ander wesenswaarhede, dikwels op dieselfde bladsy geskryf en wat eweneens net in geloof aangeneem kan word (soos dat God hulle regverdig verklaar op grond van Sy Seun se Middelaarswerk), aanvaar hulle dan sondermeer!

PASTORALE EFFEKTE
   
❏    Sodra 'n gelowige die geïntegreerdheid van God se verlossingsplan begryp, dit werklik in die geloof aanneem en vir homself toe-eien, bring dit 'n innerlike sekuriteit, vreugde en dankbaarheid wat geen geld kan koop nie.
    Hy (of sy) weet dat die voortgang en ontwikkeling van sy lewe veilig verpak is in God se ewige en onfrustreerbare raadsplan. Rom 8:31-39 word dan vir hom nie net objektiewe waarheid nie, maar inderdaad belewingswerklikheid. Níks, dit weet hy, kan hom van God se liefde skei nie!
    Hierdie vertroostende waarheid maak mens vry om die Here te dien op die enigste manier wat Hom behaag - in dankbare vrede en liefdesvertroue volgens Sy wil, soos duidelik in die Bybel beskryf.
     Soveel Christene is gedurig rampagtig op soek na 'die Here se wil' (gewoonlik buite die Skrif om), omdat hulle bang is hulle sal 'God se wil vir hul lewens' mis en teëspoed kry as hulle nie in die 'sentrum van God se wil', die 'veiligste plek', bly nie. Watter vrymaking hou gelowige omhelsing van Rom 8:28-30 nie vir hulle in nie!
    Maar, mag sommige nou wonder, sal dit nie 'n traak-my-nie-agtigheid oor gehoorsaamheid en volharding veroorsaak nie? Sal mense nie dan maar terugsit in die waan dat God alles moet doen nie?
    Die ervaring van derduisende deur die eeue is presies die teenoorgestelde. Waarhede soos dié van ons verse sus nie wáre gelowiges nie, dit lanseer hulle! Dis immers waarom die Heilige Gees dit geopenbaar het. Baseer die apostel sy oproep tot heilige toewyding aan die Here nie júís op "die groot ontferming van God" nie? Is 'vernuwing van denke' nie júís die sleutel tot 'n lewe volgens God se wil nie? (Rom 12:1-2)
    Leser, het jy die Here waarlik lief? Bevestig jou lewe van daaglikse, intelligente, bewustelike en verantwoordelike gehoorsaamheid dit? Werk jy jou eie heil uit - "met vrees en bewing"? Weet dan, dis omdat God in jou "werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae" (Fil 2:12-13). En Hy doen dit, omdat Hy jou van ewigheid af liefhet en sal toesien dat jy in gelykvormigheid aan die beeld van Sy Seun tot in ewigheid deel van Sy huisgesin sal wees!
    Dien dan die Here met 'n onverdeelde hart!
                                                                                                                Nico van der Walt

ANTIPAS HEROUT No.19 - GOD SE SOEWEREINE REGERING

Is daar sin in die lewe? Is daar koers in die geskiedenis? Alle denkende mense het deur die eeue hiermee geworstel.

'N GOD VAN ORDE HET 'N PLAN

❏    Dit is ondenkbaar dat 'n ewige God van onbeperkte wysheid, kennis en vermoë 'n heelal sou skep sonder 'n uitgewerkte plan en doel daarmee.
    Dat so 'n plan en doel 'n werklikheid is, word in die allerduidelikste taal in die Bybel geleer.

    •    Selfs die mens, in al sy beperktheid, beplan voordat hy handel en bou. Iemand van wie dit nie waar is nie, is dwaas. Enige intelligente wese besluit éérs oor sy doelwit, oor wat hy wil bereik, en dán besin hy oor wat hy moet doen en hoe hy te werk moet gaan om dit te bewerkstellig. En, uiteraard, hoe groter die saak ter sprake, hoe belangriker is deeglike beplanning.

    •    Enige mens, soveel te meer enige natuurwetenskaplike, weet dat daar verbysterende ontwerp, orde en planmatigheid dwarsdeur die geskape werklikheid is. Sover ons mikroskope en teleskope ook al kan tuur, is die indruk onontkombaar dat 'n onbeskryflik geniale, almagtige en sistematiese Skepper vir alles verantwoordelik is. Só waar is dit dat ons, tot die mate wat ons die wetmatighede verstaan en matematies kan formuleer, in staat is om met verstommende akkuraatheid die kragte en prosesse van die skepping te antisipeer en te harnas.
    Die standpunt dat die makro- en mikrokosmos toevallig ontstaan het, verg veel meer geloof - en 'n geloof is dit inderdaad - as dat 'n almagtige en alwyse God alles geskape het.
    Nee, wie chaos soek, sal dit nie in God se handewerk vind nie! Waar daar wel wanorde is, is dit die bitter vrug van sondegevallenheid.

❏    God se Woord leer dat Sy rol nie tot die ontwerp en skepping van die heelal beperk is nie - Hy reguleer ook volledig die instandhouding en voortgang daarvan. Anders as die Deïsme, wat bloot 'n onpersoonlike en onbetrokke Eerste Oorsprong erken, leer die Skrif dat God dag na dag aktief regeer.

    •    Hierdie planmatigheid en betrokkenheid van God geld nie net die natuur nie, maar besonderlik ook die verloop van die geskiedenis. God se plan het 'n spesifieke einddoel (Ef 1:9-11). Die historiese gang van ons wêreld het dus 'n lineêre karakter, eerder as 'n sikliese. Daar is voortgang en gerigtheid.

        ~    Die Spreukedigter het hierdie waarheid duidelik verstaan: "Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here; soos 'n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies" (Spr 21:1).

    •    Nog meer verstommend is die Skrifopenbaring dat God se plan en heerskappy nie net die globale raak nie, maar ook intens persoonlik is. Elke mens se lewensloop is daarby inbegrepe.

    •    En dis nie al nie. Sonder blik of bloos leer die Skrif dat God se plan die fynste besonderhede bestryk: "Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel." (Mt 10:29-30. Vgl. ook Ps 135:5-7; Spr 16:33).

    •    Selfs sonde, asook die tragedie en lyding wat daarop volg, is inbegrepe in God se raadsplan. Vergelyk bv. die volgende Skrifgedeeltes:

        ~    Gen 45:7-8 en 50:19-20.

        ~    Eks 7:2-5, 9:12, 9:16 en Rom 9:17.

        ~    2Sam 24:1, 24:10-15 en 1Kron 21:1.

        ~    Klaagl 2:11 en 3:37-38.

        ~    Deut 2:30; Rig 14:4; 1Sam 2:25b; 1Kon 22:19-23; Jes 45:7; Amos 3:6; Op 17:16-17.

    •    By die lees van bogenoemde Skrifgedeeltes ontstaan die vraag of God dan nie die Outeur van die betrokke mense se sonde is nie?
    Die sleutel tot die antwoord lê in die radikaliteit van die mens se sonde. Dit is net God se algemene genade - te onderskei van Sy besondere of reddende genade - wat elke mens daarvan weerhou om tot die dieptepunt van sonde te versink. As God ons nie vasgehou het nie, sou niks ons daarvan weerhou het om so boos soos die demone te word nie. Dis soos 'n klip wat aan 'n tou van 'n skip af hang. Laat skiet die tou en dit sink al hoe dieper. Los die tou en dit sink bodem toe. En vanself kom dit nooit na die oppervlak nie (vgl. Rm 1:24, 26, 28).
    As van bogenoemde Skrifgedeeltes dan sê dat God sondaars verhard het om nog meer te sondig, sou ons kon dink in terme van aktiewe verharding, of van passiewe verharding. Indien Farao, byvoorbeeld, se natuurlike neiging was om goed te doen, maar die Here dan só in hom gewerk het dat hy al hoe meer sondig, sou dit 'n aktiewe verharding gewees het. En dit sou God die Outeur van sy sonde gemaak het - 'n ondenkbare en lasterlike gedagte. Maar Farao was radikaal verdorwe - soos alle onwedergebore mense - en die neiging van sy hart was om al hoe dieper in sonde in te graviteer. Al wat dus gebeur het, is dat God hom meer aan sy sonde oorgegee het. Hy het as 't ware sy tou ietwat laat skiet. En dis 'n passiewe verharding - wat God nie die Outeur van Farao se sonde maak nie. Die Egiptiese vors het self gesondig - omdat hy self wou en self so gekies het.

        ~    Die uitsprake in 2Sam en 1Kron oor Dawid se sonde moet net so verklaar word. God wou die volk straf omdat die vólk sondig was. Maar Dawid het kennelik ook 'n groeiende trots en ambisie oor sy mag in hom omgedra. God laat dan 'sy tou skiet'. Maar eers laat Hy Satan 'se tou skiet' - sodat dié vir Dawid kan verlei (vgl. Job se ervaring).
    Twee belangrike waarhede kom hier na vore: Eerstens, God werk normaalweg middellik - Hy gebruik instrumente. Tweedens, Satan is nie God se opponent in 'n kosmiese skaakspel nie - hy is 'n pion op die skaakbord.

    •    Van die mees dramatiese en sprekende Skrifuitsprake oor God se allesomvattende regering word in Handelinge aangetref - in enkele verse wat oor die kruisiging van Jesus Christus gaan. Golgota was nie net 'n skarnier waarop die wêreldgeskiedenis gedraai het nie, dit was meteen die verskriklikste sonde van alle tye:

        ~     "Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring ..." (2:23, OAV).

        ~    "Nou weet ek, broers, dat julle net soos julle leiers in onkunde gehandel het. Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur." (3:17-18).

        ~     "Die konings van die aarde het in opstand gekom, en die heersers het saamgespan teen die Here en teen sy Gesalfde. Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het." (4:26-28).
    Herodus én Pilatus én die Jode én die Romeine het as verantwoordelike mense opgetree. Hulle was skuldig en sal daarvoor gestraf word. Máár die kruisiging was van voor die tyd af vasgelê in God se raadsplan.
    Lk 22:22 stel dit so: "Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is, maar wee die man deur wie Hy verraai word!"

        ~    Nou volg dit onontkombaar, as die kruisiging van Sy Seun verordineer is in God se ewige raadsplan, geld dit ook van die sondeval! Die kruisiging se doel was tog om die effekte van die sondeval op te hef.
    Ook ander Skrifgedeeltes impliseer hierdie diepsinnige waarheid: "... julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus ... Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem ..." (1Pt 1:19-20). Vgl. ook Ef 1:4; 2Tm 1:9.
    Meer kan ons nie sê nie. Ons durf nie probeer indring in wat God besluit het om nié aan ons te openbaar nie.

❏     Het God dan nie soms berou gekry (NAV: 'bedroef geraak') oor wat Hy gedoen het nie?
    Inderdaad is daar talle Skrifuitsprake wat dit so stel (vgl. o.a. Gen 6:5-6).
    Die Bybel praat dikwels oor God asof Hy 'n mens is. So, byvoorbeeld, word Hy beskryf as iemand met hande, oë ensovoorts. Dit beteken nie dat Hy werklik 'n liggaam soos ons het nie, maar Hy is só gansanders dat Hy dit nodig vind om in Sy selfopenbaring beelde te gebruik wat ons in ons tyd-ruimtelike beperktheid kan verstaan. Hy praat dus met ons asof Hy self 'n mens is.
    God se 'berou' is so 'n antropomorfisme. Dit beteken bloot dat sekere van Sy handelinge vir ons lyk na die van 'n mens wat hom bekeer.

    •    1Sam 15 is wonderlik verhelderend oor hierdie saak.
    Eers sê v.10-11: "Toe het die woord van die Here tot Samuel gekom: Ek is bedroef daaroor dat Ek vir Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai ..." (vgl. ook v.35).
    Maar dan sê een en dieselfde hoofstuk - as 't ware in dieselfde asem - in v. 29: "Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie." (Num 23:19).
    In v.11 en 35 gee die Bybel vir ons belewingswaarheid (fenomenologiese waarheid). Dis soos die mens dit ervaar; dis hoe God dit op 'n menslik-bevatlike wyse aan ons meedeel. In v.29 het ons wesenswaarheid (ontologiese waarheid). Dit is "die storie agter die storie".
    Hierdie twee maniere om waarheid te formuleer is goed bekend aan ons. As ek teen laatmiddag sê dat die son onder gaan, sal niemand my beskuldig van 'n leuen nie. Dis belewingswaarheid. Maar die feit van die saak is dat dit eintlik nie die son is wat sak nie, maar die aarde wat draai. En dis die wesenswaarheid.

WAT BEHELS GOD SE PLAN?

❏    Die vraag ontstaan nou onwillekeurig: Het ons 'n idee waaroor hierdie plan van God gaan? In 'n sin is dít die tema van die Bybel.

    •    Te min Christene lees die Bybel soos dit moet. Almal weet dat mens nie finaal kan sê jy verstaan die boodskap van 'n boek voordat jy dit nie van hoek tot kant deurgelees het nie. Tog is dit alles behalwe hoe die tipiese gelowige van ons dag met die Bybel omgaan. Iewers het die ellendige idee ontstaan dat die Bybel nie 'n eenheid is nie, maar 'n onsamehangende versameling van stories, profesieë, gedigte, oordenkings en gesegdes. Die gevolg is dat dit lukraak en selektief gelees word - hier 'n stukkie, dan weer daar 'n stukkie. Groot gedeeltes word nooit aangeraak nie. En die huidige stortvloed 'Bybelse' dagboeke help beswaarlik om die probleem op te los.
    Nee, die Bybel is nie 'n kardoes vol Allsorts-lekkers waaruit mens soms 'n trosie kan opdiep nie! Dit het één Outeur, één tema, één boodskap. En dis gerig tot rasionele wesens, mense met verstand. Daarom is dit 'n boodskap wat niemand ooit sal verstaan as hy nie 'n poging aanwend om die geheelbeeld onder die knie te kry nie - en allermins as hy te lui is om daaroor na te dink.

    •    In hierdie verband geld 'n wonderlike paradoks: Enersyds is die Bybel so allesomvattend, so diepsinnig, so verhewe, dat niemand dit kan verstaan sonder die verligtende werk van die Heilige Gees nie. Selfs dan is 'n leeftyd nie genoeg om by die bodem van die skatte uit te kom nie. Andersyds is dit gerig tot alle soorte mense - ook die eenvoudigstes. Trouens, as jy nie kinderlik gelowig is nie, kan jy dit nie begryp nie.
    'n Ou kerkvader het dit min of meer so gestel: "Die Woord van God is soos 'n groot rivier. In die middel kan die reuse swem; in die vlak watertjies kan die kinders speel." En die merkwaardige is dat die essensie van die Bybelboodskap - dit wat nodig is om godvrugtig te lewe en salig te sterwe - so eenvoudig is dat selfs 'n kind dit kan verstaan.

❏    Wat vind mens as jy die Bybel as 'n eenheid lees? Allereers dat God - en nie die mens nie - die Hoofkarakter is. Dit gaan oor Hom. Dis 'n wonderlike kroniek van Sy werk in hierdie wêreld - verlede, hede en toekoms - met verduidelikende kommentaar deur geïnspireerde profete en apostels. En die hooftema is nie die redding van mense nie, maar Sý grootse plan en handele om Sy wil te volbring - naamlik dat Hy tot in alle ewigheid in en voor Sy skepsele verheerlik sal word (Rm 9:22-24; Ef 1:6,12,14, OAV).
    Ja, die evangelie - dat God sondaars red - lê aan die hart van hierdie grootse plan. Maar Hy doen dit ten diepste nie ter wille van hulle nie, maar ter wille van Homself en Sy eie eer (Ef 2:7).

❏    Hoewel hierdie plan soewerein deur God verordineer is en onstuitbaar deur Hom voortgestuur word, geskied dit nie sonder die mens se verantwoordelike, bewustelike en inspannende betrokkenheid nie. Die mens se rol is op 'n wonderlike en grootliks geheimenisvolle wyse ingeweef in God se raadsplan. Dit is, tewens, nie oordrewe nie om te sê dat God tot 'n baie groot mate Sy kosmiese projek van selfverheerliking uitsal dit nie in God se handewerk id van Sy kinders en die dwase rebellie van Sy vyande.

    •    Vervleg met die hooftema is die boodskap aan die sondegevalle mens dat hy uit pas is met God se plan. Deurgaans weerklink die oproep: vlug vir die komende toorn, soek God, roep Hom aan om Sy genade. En in die Nuwe Testament word dit dan glashelder dat hierdie genade in Christus gegee word. In Hom, en in Hom alleen, werk God Sy plan uit. Slegs in Hom is die betekenis en sin van hierdie lewe te vind. Net hulle wat met Hom verenig is - en dit geskied deur die geloof alleen - kan regtig in pas wees met God se plan.

GOD SE SOEWEREINITEIT

❏    Die soewereine heerskappy van God is die onderliggende uitgangspunt van die Bybelse boodskap. Gelowige omhelsing hiervan is 'n lopersleutel om die Bybel te verstaan.

God se soewereiniteit dui op Sy reg én vermoë om as Skepper, Onderhouer - en dus onbetwisbare Eienaar - die ganse heelal en al Sy skepsele (in die hemel en op aarde) te regeer net soos Hy wil, sonder enige aanspreeklikheid hoegenaamd aan iemand anders.

❏    Dis belangrik om te onthou dat God oor alle kennis en mag beskik om dit wat Hy besluit het tot in die fynste besonderhede uit te voer. Niks kan Hom stuit of pla of verras nie. Hy gaan onverstoorbaar voort.
    Wie nog oor God se almag twyfel, moet vir 'n slag goed na die ontsagwekkende skepping rondom hom kyk. 'n Mens is 'n stoffie op die aarde, wat 'n stoffie in die sonnestelsel is, wat 'n stoffie in die melkweg is, wat 'n stoffie in die heelal is - wat 'n stoffie in die palm van God se hand is.

❏    Hoewel God se soewereiniteit universeel en absoluut is, is dit nie bloot 'n blinde krag nie. Dit is gekoppel en funksioneer altyd in volle harmonie met al Sy ander attribute - Sy volmaakte heiligheid, wysheid, liefde, alwetenheid, almag, onveranderlikheid, ensomeer.
    Vir die gelowige sit daar dus geen bedreiging in God se soewereine regering nie; inteendeel, hy put wonderlike troos daaruit. Dat só 'n God mý liefdevolle Vader is! Ek vertrou Hom 'n duisend maal meer as myself!

❏    Elke mens moet een ding baie duidelik verstaan en hom aan die onontkombaarheid daarvan onderwerp: As Skepper is God sy Eienaar - met die gevolglike reg en vermoë om met hom te maak net soos Hy wil. Om 'n bekende Bybelse beeld te gebruik: God is die Pottebakker; ek is die klei. En "het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?" (Rm 9:21).

❏    Dit is God se soewereine prerogatief om te skep - of om nié te skep nie.

    •    Elke geboorte is die gevolg van 'n bepaalde vroulike eiersel wat deur 'n bepaalde manlike spermsel bevrug is.
    My genetiese samestelling hang deels af van wátter spermsel my moeder bevrug het. So 'n bevrugting vind nie elke keer plaas nie, maar as dit wel gebeur, is dit deur een van die miljoene spermselle wat by 'n gegewe geleentheid teenwoordig is - en elkeen van hulle sou dit eweneens kon doen. Dink daaraan: as dit 'n ander sperm was, het iemand anders met 'n ander genetika ontstaan!

    •    In 'n proses van ongelooflike presisie word 'n bevrugte eiersel d.m.v. chromosome en gene van 'n chemiese bloudruk voorsien wat die verdere ontwikkeling van daardie mens vorentoe grootliks beheer. Dit bepaal hoe die selle sal verdeel en vermenigvuldig, hoe hulle in weefsel, bene, ledemate, organe en sintuie sal ontwikkel. Dit bepaal of so 'n mens manlik of vroulik sal wees, wit of swart, groot of klein, slim of dom, atleties of lomp. Dit bepaal die persoonlikheidstrekke, besondere aanlegte en temperamentele geneigdhede. Dit maak van so 'n persoon die unieke, unieke, unieke mens wat hy of sy is!

    •    Wat meer is, wie en wat ek is word nie slegs bepaal deur die fyn en eksakte detail van my bevrugting nie. Dink net aan alles wat dit moes vooraf gaan sodat ek die mens kan wees wat ek is! As groot-oupagrootjie sy verlowing met groot-oumagrootjie verbreek het om met 'n ander jeugliefde te trou, het ék nie vandag bestaan nie. En niemand sou my gemis het nie!

    •    Elke keer as een bepaalde spermsel 'n bepaalde eiersel bevrug, ontstaan 'n mens wat tot in ewigheid sal bestaan. Dit geld nie net die onuitspreeklik bevoorregtes wat die ewige saligheid sal beërf nie; dit geld ook (oorweldigend!) alle ander mense (Jh 5:28-29). By hierdie skepping van 'n mens is ander mense as medewerkers betrokke - die ouers (en voorouers!). Hoe hierdie menslike medewerking ook al geskied - in heiligheid of in sondige wellus - God regeer onverstoorbaar soewerein bo-oor alles!
    Op laasgenoemde werp die Here Jesus se geslagsregister in Matt 1 insiggewende lig. Slegs vier vrouens (voor Maria) word genoem, en oor elkeen hang 'n vraagteken van behoorlikheid: Tamar (Gen 38); Ragab (Jos 2); Rut (darem net 'n heiden); Batseba ("die vrou van Urija", sodat ons nie vergeet nie) (2Sam 11).

❏    Dit staan so vas soos die berge: óf God is volledig in beheer van alles, tot in die fynste besonderhede; óf Hy moet met 'krisisbestuur' poog om die geskiedenis te stuur volgens Sy wil.
    Per definisie kan die verloop van die geskiedenis net vasgelê wees indien één Soewerein regeer. Die oomblik as 'n tweede onafhanklik begin werk - wat staan nog miljoene - het selfs God nie absolute beheer oor die verloop van sake nie. En dan kan ook Hy nie presies weet waar en wanneer alles gaan eindig nie.

    •    Baie mense aanvaar dat God inderdaad die groot, histories-bepalende gebeure beheers. Dat Hy egter by die nietige betrokke is, kan hulle nie aanvaar nie. Maar uit bogenoemde volg dit onontkombaar: as God nie die geringe beheers nie, het Hy ook nie volkome beheer oor die groot dinge nie. Iets so infinitesimaals klein soos die bymekaarbring van 'n bepaalde spermsel en 'n bepaalde eiersel kan immers enorme historiese betekenis hê.

        ~    Dink net: as in Adolf Hitler se geval 'n ander van die miljoene spermselle die bepaalde eiersel bevrug het, het ons bes moontlik nie 'n Tweede Wêreldoorlog gehad nie. Hoe anders sou die geskiedenis nie verloop het nie!

    •    Nog meer duiselingwekkend: God se verbysterende detail-regering strek terug oor die ontvangenis en lewens van al my voorsate - regdeur tot by Sy uitverkiesende raadsbesluit voor die grondlegging van die aarde!

❏    Hierdie dinge gaan ons verstand te bowe. In die finale analise is dit 'n kwessie van geloof. Óf ek aanvaar die Skrifgetuienis kinderlik-gelowig, óf ek verwerp dit. Maar as ek dit verwerp, bly daar maar 'n enkele alternatief oor - om my knieë voor die god van toeval en noodlot te buig.

    •    Laat ons onthou wie ons is - skepsele, nie klein godjies nie. God se gedagtes is nie ons gedagtes nie (Jes 55:9). Daarbenewens het Hy ook nie alles aan ons geopenbaar nie (Deut 29:29). Ja, Hy het alles geopenbaar wat nodig is om gered te word en tot Sy eer te lewe - en in hierdie sin is die Bybel genoegsaam - maar van Sy raadsplan en redes daarvoor weet ons bloedweinig.

    •    Die boek Job is hier 'n ligpunt. Terwyl Job ly, is hy totaal onbewus van die drama wat in die hemelse sfere afspeel (Job 1:6-12; 2:1-6). Wat sy krisis betref, het hy net belewingswaarheid, nie wesenswaarheid nie - in elk geval nie volledig nie. Hy weet wel dat God liefdevol, regverdig en getrou is. En daaraan hou hy vir lewe en dood vas. Maar van die eintlike intrige agter die skerms het hy geen benul nie.

❏    In Sy soewereine alwysheid het God besluit om die mens as 'n denkende en verantwoordelike wese met 'n wil te skep. Die feit dat die sondeval hom in elke opsig 'verbuig' het, hef nie sy aanspreeklikheid voor sy Skepper op nie.

Die Woord van God leer twee waarhede wat altyd in balans gehou moet word: God is soewerein, enersyds. Die mens is verantwoordelik, andersyds. Eensydige beklemtoning van enige van hierdie twee waarhede ten koste van die ander het katastrofiese gevolge -  teologies, pastoraal en prakties.

    •    Hier lê die verskil tussen die Bybelse waarheid oor die soewereiniteit van God en fatalisme. Lg. ontken dat die mens 'n vrye agent is wat kan kies wat hy wil. Dit misken dus menslike verantwoordelikheid.

    •    Die Christen het 'n addisionele verantwoordelikheid. Hy is immers geestelik lewend gemaak, hy is wedergebore, hy is herskep. En deur God se genade verstaan hy dit. Daarom sien hy sy lewe as 'n stuk rentmeesterskap uit die hand van die Here. En wie dit regtig verstaan, se lewe word daardeur beheers. Presies dit is wat die gelykenisse van die muntstukke in Mt 25:14-30 en Lk 19:11-28 wil beklemtoon. Daarmee wil die Here Jesus op ons hart druk hoe noodsaaklik dit is om in die lig van die ewigheid te leef - want ons sal aan ons Skepper en Herskepper moet verantwoording doen oor wat ons met hierdie rentmeesterskap gedoen het.

❏    Wat God se soewereine heerskappy in die lewens van die kroon van Sy skepping betref, beklemtoon die Bybel Sy volmag in veral drie areas:

    •    Hy is soewerein in die betoning van Sy barmhartigheid - Sy algemene, versorgende en instandhoudende liefde vir alle mense. Sommige kry meer daarvan as ander. Party is ryk, ander arm; party is begaafd, ander maar dom; party leef lank, ander baie kort, ensovoorts.

    •     Hy is soewerein in die betoning van Sy genade - Sy besondere, reddende liefde vir die uitverkorenes. Of ons nou daarvan hou of nie, dit is 'n onontkombare feit dat niemand gered kan word sonder God se inisiatiefnemende bemoeienis nie. Alle Christene weet dit. Dis waarom ons almal min of meer só bid vir 'n dierbare wat nog nie gered is nie: "Ag, Here, red hom asseblief! Per slot van sake kan net U dit doen!"

    •    Hy is soewerein in sy roepinge tot diens. Hý meet ons lewensbaan uit; Hý gee bekwaamhede en geleenthede; Hý het die goeie werke voorberei waarin elkeen van ons moet wandel (Ef 2:10).

DIE FINALE DOEL: GOD SE EER

❏    Daar kan geen twyfel wees nie: die Woord van God leer ondubbelsinnig dat God alles geskape het, alles regeer en alles toelaat vir net een uiteindelike rede: die verheerliking van Homself. Dit is Sy doel met absoluut alles - voor die tyd, in die tyd, en na die tyd. Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge (Rm 11:36). Hy bestaan nie ter wille van ons nie; ons bestaan ter wille van Hom.

    •    Ons vind dit nie maklik om hierdie allesoorheersende prioriteit van God te aanvaar nie. Is dit Hom nie onwaardig nie? Is selfgerigtheid in mense dan nie afstootlik nie? Sulke vrae is egter kortsigtig.
    Dit is wel so dat dit sonde is as 'n mens vir homself lewe. Maar hy is 'n skepsel en nie God nie. In God se geval is dit anders. Hy en net Hy is God - en daar is niks of niemand hoër as Hy wie se eer Hy kan najaag nie. Daarom is dit reg, trouens onvermydelik, dat Hy Sy eie eer moet en sal soek.
    As dit rég is vir 'n mens om God se eer as hoogste ambisie te hê, kan dit mos nie verkeerd wees as dit ook God se gerigtheid is nie. En as dit verkeerd is as 'n mens 'n mindere saak as God se eer najaag, moet dit mos vir God ook verkeerd wees.

❏    Die Hebreeuse woord heerlikheid het oorspronklik gewig beteken. Op 'n persoon van toepassing gemaak, beteken dit dat hy gewigtig is in ander se oë. Hy het status en aansien. So word die woord gebruik om van Jakob se rykdom te praat (Gen 31:1) en van Josef se mag in Egipte (Gen 45:13) - dit was gewigtig.

    •    Die woord het op twee maniere betrekking op God:

        ~    In Sy selfopenbaring toon God aan ons Sy heerlikheid. So sien ons Sy majesteit in die skepping (Ps 19:1; Jes 6:3); in Goddelike verskynings in Bybelse tye (Eks 40:34; Eseg 1:28 ens.); in Jesus Christus (2Kor 4:6); in Sy magtige dade in die geskiedenis; in Sy attribute in aksie in ons lewens.

        ~     In ons godsdiensbeoefening gee ons aan God heerlikheid. Dit geskied in reaksie op die selfopenbaring van Sy heerlikheid. Dit gebeur as ons Hom loof (Ps 50:23; 96:8; Rm 15:9); as ons Sy Woord glo en Sy beloftes vertrou (Rm 4:20); as ons Christus  as Here bely (Fl 2:11); as ons die Here gehoorsaam (Fl 1:11) - as ons in liefdevolle onderwerping met ons hele lewe dit najaag om Hom groot te maak.

    •    Nou kan ons verstaan wat dit beteken dat God Sy eie eer soek.

God wil tot in ewigheid die gewig en heerlikheid van Sy karakter en dade aan Sy rasionele skepsele toon - sodat hulle Hom kan ken en gevolglik ewig sal verheerlik met vererende, dankbare en lojale liefde, lof, vertroue en gehoorsaamheid.

❏     Op geen wyse word hierdie allesoorheersende doel van God - naamlik om Homself te verheerlik - meer uitnemend bereik as in Sy reddingsplan nie. Hierin word van Sy attribute gedemonstreer wat ons nie op 'n ander manier sou kon ken nie. Wat het Adam per slot van sake vóór die sondeval van God se genade geken - of van Sy toorn, of van verskeie ander van sy karaktertrekke? Genade is immers iets wat net aan mense betoon kan word wat die teendeel verdien - aan sondaars.
    Hier gaan daar dus tog 'n skrefie oop waardeur ons iets van die sondeval se sin kan begryp.

    •    Paulus stel dit onomwonde: die soewereine God het die reg om in sowel redding as toorn Homself te verheerlik. En Hy doen dit inderdaad!

        ~    "Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: 'Waarom het jy my so gemaak?' Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie? En as God dieselfde wou doen? Hy wou sy toorn laat sien en sy mag bekend maak. Daarom het Hy die voorwerpe van sy toorn, die mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra. So sou Hy ook die rykdom van sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van sy ontferming, die mense wat Hy vantevore voorberei het om aan sy heerlikheid deel te hê." (Rm 9:20-23).

        ~    Ook Ef 2:7 is besonder insiggewend: God se groot verlossing in Christus (Ef 2:4-6) het 'n besondere doel - "sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het."
    Vergelyk ook Ef 1:6,12,14 (OAV); 1Kor 1:26-31 en 2Kor 4:7.

    •    Sonder 'n sondeval sou ons niks begryp het van God se barmhartigheid, liefde, genade en verbondstrou nie. Selfs die eenvoudigste Christen verstaan vandag meer daarvan as Adam en Eva voordat hulle uit die tuin van Eden geban is - nie net teoreties nie, maar veral proefondervindelik. En wat sou ons geweet het van God se geregtigheid en Sy heilige toorn teen sonde? Kortom, sonder die sondeval sou ons God steeds nie geken het soos dit moet nie - in elk geval sou ons niks van Sy kosbaarste en mees verhewe attribute begryp het nie. En gevolglik sou ons Hom nie naastenby verheerlik het soos ons moet nie.

    •    Bostaande geld nie net vir ons nie, maar ook vir die engele-wêreld:

        ~    "Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring." (Ef 3:10-11).

        ~    In 1Pt 1:12 skryf die apostel dat die engele begerig is om insig te kry in God se groot verlossingsdade. Sy Grieks is baie ryk en beskrywend: hulle leun intens-geïnteresseerd en stip-starend vooroor om meer te wete te kom van die Here se genade en verbondstrou in die lewens van Sy geliefdes hier op aarde. Waar anders sou hulle iets oor God se genade kon leer? Soos die ou Puriteine gesê het: die kerk is God se universiteit vir die engele - dit rus hulle toe om Hom tot in ewigheid te verheerlik soos dit hoort!

SLOTWOORD

Geagte leser, is jou lewe in pas met wat God besig is om te doen in hierdie wêreld en sy geskiedenis? Is jy oor die volle spektrum van jou bestaan onderworpe aan Sy geopenbaarde wil? Is die speerpunt van dit alles - naamlik Sy verheerliking deur middel van Sy Seun se volmaakte middelaarswerk - die sentrale hartstog van jou lewe? Is jy deur 'n ware geloof met Christus verenig? Word die egtheid daarvan deur 'n polsende dankbaarheidslewe vertoon?
    Wat van diegene wat verkies om God se roeping te ignoreer? Hulle Skepper respekteer hul keuse. Hy gee hulle presies wat hul kies - 'n lewe, 'n dood, 'n ewigheid sonder God!
    Diegene wat in pas met God leef se lot is radikaal anders: Hulle het 'n sinvolle lewensdoel, die eer van God; 'n vreugdevolle lewensreël, die wet van God; 'n onfeilbare Vriend in lewe en dood, die Seun van God; 'n wonderlike troos in beproewing, die wete dat God besig is om Christus se beeld in hulle te vorm; 'n onwankelbare sekuriteit, God se beloftes van die ewige lewe.
    Kortom, hulle het die lewe wat ware lewe is - tot in alle ewigheid!
                                                                                                             Nico van der Walt

Friday, March 22, 2013

DIE HEILIGHEID VAN GOD - Attribuut van attribute

Van al God se attribute wat in die Skrif genoem word, is Sy heiligheid die enigste een wat, by wyse van spreke, tot die mag drie verhef word. In sowel Jes 6:3 as Op 4:8 roep hemelwesens van God uit dat Hy "heilig, heilig, heilig" is.
    Dwarsdeur die Skrif vind mens dat God se heiligheid as 't ware Sy ander karaktertrekke versier. Van elke attribuut kan mens sê dat dit heilig is. Dit sou gesê kan word dat dit meer as enigiets anders die skoonheid van die Here se wese is.

❏     Keer op keer as mense in die Bybel 'n besondere ervaring van God se persoon en karakter beleef het, was hulle oorwegende indruk die van Sy heiligheid. Weliswaar word Sy heiligheid nie altyd eksplisiet genoem nie, maar lees mens die Bybelgeskiedenis, tref jy dit weer en weer aan. Dink maar aan Moses, Job, Jesaja, Esegiël, Paulus en Johannes se ervaringe.
    Dit word bevestig deur die ondervindings van derduisende mans en vrouens deur die kerkgeskiedenis ‒ veral die wat die voorreg gehad het om herlewings te beleef.

❏     Mens ken God dus tot die mate wat jy Hom in Sy heiligheid ken ‒ nie meer nie.

DIE BEGRIP "HEILIG" IN DIE BYBEL

❏     Geleerdes is nie honderd persent eenstemmig nie oor die betekenis van die Hebreeuse woord (qadosh) wat ons met "heilig" of "heiligheid" vertaal.

    •     Sommige meen dit kom van 'n Babiloniese wortel wat beteken om te skyn. Dit sou dan die verband tussen God se heiligheid en Sy heerlikheid beklemtoon ‒ en veral sal dit beklemtoon dat God se morele volmaaktheid voorop is in Sy heiligheid.
    Uiteraard is so 'n vertolking van die begrip volledig in pas met wat die Skrif oor God leer.

    •     Waarskynlik is dit egter korrek om soos die meeste teoloë die begrip eerder in verband te bring met 'n Semitiese wortel wat dui op sny, skei, afsonder, eenkant sit.

        ~    Kyk mens hoe die begrip in die Ou Testament gebruik word, bevestig dit eerder die vertolking dat heiligheid op afsondering of afskeiding dui. So word die woord dan gebruik om onder meer kledingstukke (Eks 28:2), plekke (Eks 29:31), aanbiddingstoebehore (1Kon 8:4) en instrumente (Num 31:6) te beskryf. Die begrip kwalifiseer ook dae en feeste. Uiteraard het hierdie dinge se heiligheid niks te doen met morele reinheid nie. Dit beteken gewoon dat dit toegewy of afgesonder is.

        ~    Hierdie vertolking word voorts bevestig as mens daarop let dat die begrip dwarsdeur die Bybel dui op die teenoorgestelde van die gewone en die alledaagse. So byvoorbeeld sê die Here in Lev 20:26 dat Hy Sy volk afgesonder het van die heidenvolkere om hulle. En in Eseg 22:26 word die priesters verwyt dat hulle die heilige dinge ontwy deur geen onderskeid te maak tussen dit wat gewyd en dit wat nie gewyd is nie.

❏     Dit lyk dus asof ons in lyn is met die Bybelse openbaring as ons sê dat God se heiligheid dui op Sy afsondering, Sy transendensie, Sy verhewenheid bo Sy skepping, Sy gansandersheid. God is dus vergelykbaar met niks of niemand anders nie. Hy is in 'n klas van Sy eie ‒ volkome uniek. Hy leef buite die sfeer van die menslik-gewone en begryplike. Hy is verhewe en onpeilbaar.
    God is volkome in Homself, van niemand afhanklik nie, ver bo alles in ewige, oneindige heerlikheid en majesteit. Hy is heilig, heilig, heilig!
    Jes 40:25: "Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige."

❏     Bogenoemde beteken nie dat die begrip nie ook morele ondertone het nie ‒ inderdaad het dit. Positief dui dit op etiese suiwerheid en volmaaktheid, en negatief dui dit op die afwesigheid van enige sonde. Hy is die somtotaal van alle morele skoonheid en volmaaktheid in karakter, motiewe, gesindhede, woorde en dade. Hy is van ewigheid tot ewigheid volkome en absoluut vry van enige morele onsuiwerheid.

❏     Terwyl die Skrif 'n baie sterk beklemtoning van God se heiligheid aan ons voorhou, mag ons dit nie eensydig ten koste van ander waarhede aksentueer nie. Veral is dit belangrik dat ons aan sowel God se transendensie as Sy immanensie sal vashou. God is nie net bokant ons nie, Hy leef ook tussen Sy kinders, tewens in hulle. Jes 57:15 bring dit mooi na vore: "So sê Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is: Ek woon in ’n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes."

    •     As God se transendensie ten koste van Sy immanensie oorbeklemtoon word, lei dit tot 'n amper deïstiese Godsbeeld. Dan beleef mense Hom as 'n veraf en onbetrokke God.

    •     As God se immanensie ten koste van Sy transendensie oorbeklemtoon word, lei dit tot 'n sondige familiariteit met Hom. Spoedig begin mense dan met Hom omgaan asof Hy ons lakei is.

WESENSTREKKE VAN GOD SE HEILIGHEID

❏     God se heiligheid is intrinsiek. Hy is heilig in Sy wese, in Sy natuur. Hy kan nooit minder heilig wees nie; ook nie meer heilig nie. Sou Hy oor ‘n duisend jaar meer heilig wees, beteken dit dat Hy nie nou volmaak heilig is nie.
    Sy Woord, Sy spreke is heilig. Dit dra die stempel van heiligheid; adem dit; en bevorder dit (Ps 119:140; 12:7).
    Sy dade is heilig (Ps 145:17).

❏     God se heiligheid is oorspronklik. God het Sy heiligheid nêrens anders gekry nie. Hy slaag nie ‘n volmaaktheidstoets wat van buite af op Hom aangelê word nie. Hy en Hy alleen is van ewigheid af die norm. Wat God is, is per definisie heilig.
    As sodanig is God die oorsprong van alle ander uitdrukkings van heiligheid (Lev 20:8; Jk 1:17).

❏     God se heiligheid is uniek. Geen skepsel kan ooit die dimensies van God se heiligheid bereik nie (1Sam 2:2).
    Sy heiligheid is verhewe bo die van die engele. Hulle kan hulle heiligheid verloor — soos die gevalle engele. God kan nooit val nie.
    Wat die morele aspek van heiligheid betref, is dit selfs in die heiligstes van die Here se heiliges onvolmaak en vermeng met sonde. En in ‘n bepaalde individu wissel dit steeds in graad. Maar in God bly dit vir ewig onveranderlik volmaak.
    Dit is so dat die Skrif ons leer dat die verlostes in hulle verheerlikte staat aan Jesus Christus gelyk sal wees (1Jh 3:2). Dit geld egter net Sy menslike volmaaktheid (Fl 3:20-21). Hy is egter ook volkome God, maar die verlostes bly tot in ewigheid geskape mense.

TEOLOGIESE IMPLIKASIES VAN GOD SE HEILIGHEID

God kan nie afsydig staan teenoor sonde nie, en moet dit straf.

❏     Sonde is algeheel onversoenbaar met God se persoon en karakter. As Hy sou ophou om sonde te haat, sou Hy ophou om heilig te wees. Afsydigheid teenoor sonde sou neerkom, aangesien Hy alwetend en almagtig is, op kondonering daarvan. Dit sou morele onvolmaaktheid beteken.
    Heiligheid en sonde is per definisie onversoenbaar.

❏      Aangesien geen mens algeheel vry van sonde is nie, kan niemand God sien en bly lewe nie. Ja, as jy baie toegewyd lewe, mag jy dalk begenadig word om soos Moses Hom “van agter” te sien, maar, sê Hy vir Sy dienskneg: “Niemand mag my gesig sien nie” (Eks 33:20-23).

    •     Daar was al mense wat iets van die driemaal heilige God gesien het. Vir almal van hulle was dit ‘n amper vernietigende ervaring wat ‘n onuitwisbare indruk gelaat het. Moses maak Sy gesig toe (Eks 3:6); Jesaja word oorweldig deur sy eie onreinheid (Jes 6:5); Job verag homself (Job 42:6); Esegiël stort in duie (Eseg 1:28); Daniël val bewusteloos op sy gesig (Dn 10:9); Johannes sak soos ‘n dooie neer (Op 1:17). Vergelyk ook Eks 24:10.

❏     God se toorn is ‘n noodwendige uitvloeisel van Sy heiligheid; dit is trouens onlosmaaklik verbonde daaraan. Wat is dit? Ons sou dit só kon definiëer: God se toorn is, eerstens, Sy ewige en absolute afkeur van alle ongeregtigheid en sonde — van alles strydig met Sy persoon en karakter. En, tweedens, Sy handelinge om uitdrukking te gee aan hierdie afsku.
     Eenvoudig gestel: God se toorn is Sy heiligheid in aksie teen alle sonde. Omdat God heilig is, haat Hy alle sonde; en omdat Hy sonde haat, brand Sy toorn teen die sondaar.

    •     God se toorn, laat ons dit nooit vergeet nie, is meer as net ‘n emosie — dit kom noodwendig tot uitdrukking in Sy oordeelshandelinge. Die skrikwekkende oordele waarvan die Ou Testament so vol is, en die verskriklike oordele waarteen die Nuwe Testament in sulke duidelike en dringende taal waarsku, is alles manifestasies van God se toorn.

❏     Die Bybel gebruik verskillende beelde om God se heiligheid en afsku van sonde te onderstreep.

    •     Die idee van hoogte. Dikwels word God in die Skrif die “Allerhoogste” genoem. Hierdie verhewenheid van Hom wil ten minste twee dinge beklemtoon: Sy soewereine regering oor die nasies en die geskiedenis; en Sy onbereikbaarheid vir sondaars. Weliswaar is Sy troon ‘n troon van genade, maar slegs vir hulle wat die onbeskryflike voorreg van regverdiging en toegang as ‘n genadegawe verkry het. Nee, Hy bly die hoë, verhewe Een, wat die hemele as Sy troon het, en die aarde as Sy voetbank.

    •     Die idee van afstand. God is ook ver van ons af. Ons mag nie te naby aan Hom kom nie. Toe Hy by Sinaï afgekom het om Hom en Sy wil aan die volk te openbaar, moes Moses die berg afsper om die volk op ‘n afstand te hou.
    Nooit word dit sterker beklemtoon as deur die voorhangsel in die tempel nie. Die ark, simbool van God se heilige teenwoordigheid in die midde van Sy volk, was totaal ontoeganklik. Net die Hoëpriester kon eenmaal per jaar toetree — en dan slegs met die offerbloed by hom.
    En toe Israel die Beloofde Land binnegegaan het, moes hulle agter die verbondsark aantrek — maar nie nader as ‘n duisend tree daaraan kom nie (Jos 3:4).
    Die doel van al hierdie voorskrifte was om by die volk in te prent dat God heilig is en dat Hy die sonde wat aan mense kleef geensins sal duld nie.

    •     God word as lig en vuur voorgestel. “God is lig” en “‘n verterende vuur”. Ook hierdie twee beelde moes mense herinner dat sonde nie naby God kan bestaan nie. ‘n Skerp lig ontbloot alle onreinheid; ‘n vuur laat vuilheid verskrompel as dit te naby kom.

    •     God spoeg dit uit wat Hom aanstoot gee. Vir ons as verfynde westerlinge is hierdie seker die mees dramatiese beeld van God se afsku van sonde. Want eintlik gebruik die oorspronklike tale die woord vir braking. Om op te gooi is waarskynlik ons liggame se heel sterkste reaksie teen iets wat ons verwerp.
    Israel word gewaarsku om heilig voor die Here te leef sodat die land hulle nie ook uitspoeg (lett. braak) nie, soos dit die Kanaäniete voor hulle uitgespoeg het. En, natuurlik, wat hier aan die land toegeskryf word, is eintlik die Here se handeling (Lev 18:25-28; 20:22).
    Dan is daar die bekende Nuwe Testamentiese geval van Op3:16 waar die Here Jesus die gemeente van Laodisea waarsku dat Hy hulle sal uitspoeg (lett. uitbraak) as hulle hul nie van hulle louheid bekeer nie.
    Die boodskap is dus duidelik: God kan sonde en huigelagtigheid hoegenaamd nie verteer nie — Hy kan dit as ‘t ware nie inhou nie.

❏     God se toorn is net soveel een van die volmaakthede van Sy karakter as Sy liefde, trou en genade. In Sy wese is daar geen skaduwee van sonde nie, maar ongeërgtheid en afsydigheid teenoor sonde sou getuig het van morele onvolmaaktheid in Hom.

    •     Laat ons dus verstaan: soos die ewige saligheid van regverdiges vanuit God se volmaaktheid vloei; net soveel is die onverganklikheid van helse smarte vir sondaars ook die gevolg daarvan.
    Net soos elke mens in die saligheid hierna tot in ewigheid sal verkondig: “God is heilig, heilig, heilig!”, sal die teenwoordigheid van elke mens in die verdoemenis van hom tot in ewigheid ‘n getuie maak: “God is heilig, heilig, heilig!”

❏      As hierdie aspek van God se karakter vir ons skokkend is; as ons dalk aanstoot daaraan neem — laat ons onthou dat daar meer verwysings in die Bybel na God se toorn en oordele is, as na Sy liefde en genade. As die Skrif dan God se selfopenbaring aan ons is, wil Hy kennelik hê dat ons ook goed van Sy toorn sal kennis neem — en Hom daarvoor verheerlik.

❏     Ons moet erns maak met God se heiligheid en toorn. Dis nie net noodsaaklik om vrede te maak met Sy toorn nie, maar ook om dit gereeld te bepeins. Ag, as die erns van sonde maar dieper ingegrafeer kan word in ons gemoedere. Maar selfs ons wat herskep is, is en bly so tragies stiksienig.
    Tot die mate wat ons onder die indruk is van God se heiligheid, sal die vrese van die Here in ons vestig, en sal ons ‘n heilige lewe najaag. Dit sal ons ook help om die genade van ons volkome verlossing in Christus des te beter te begryp en te waardeer. As sodanig sal dit ons dankbaarheid laat groei en van ons beter aanbidders maak.

    •     Die gevaar van afgodery staar ons steeds in die gesig. Want as ons vir onsself ‘n God volgens ons eie onheilige voorkeure optower — en nooit sal dit ‘n heilige God van toorn wees nie — begin ons ‘n God volgens óns beeld aanbid. En dis rou afgodery!

    •     Só gesien, pak die skrik jou beet oor die toestand van groot dele van dit wat deurgaan as die kerk. Want baie min “goeie Christenmense” hou vandag nog werklik rekening met God se toorn. Tot so ‘n mate neem mense, trouens, aanstoot hieraan — omdat hulle Godsbeeld dié is van ‘n bloot goedige oupa — dat baie predikers nie meer kans sien om die feit en implikasies daarvan te preek nie (dis nou as hulle dit self nog glo).

God kan nooit tevrede wees met die eie, onafhanklike pogings van mense om Hom te behaag nie.

❏     Geen menslike poging, hoe edel en opreg ook al, kan aan ‘n heilige God se standaarde voldoen nie. Dit kan nie ons skuld uitdelg nie. En dit kan nie die afstootlikheid van sonde voor Hom bedek nie.

    •     Jes 64:6: “... ons beste dade is soos vuil klere ...” (Letterlik, die doeke wat ‘n vrou een maal per maand weggooi).

    •     Hd 10:2; 11:14: Kornelius se uitsonderlike vroomheid word só beskryf: “Hy was godsdienstig en godvresend, hy en sy hele huisgesin. Hy het baie gedoen om die armes onder die Joodse volk te help en het gereeld tot God gebid.” Maar hy was op die trapmeul van eie verdienste; hy het Jesus Christus nie geken nie. Want die Skrif sê dat hy nie gered was nie. Daarvoor was dit nodig dat Petrus eers die evangelie van God se vrye genade in Christus vir hom moes gaan verkondig.

    •     Fl 3: As Fariseër het Paulus weergalose godsdienstige ywer gehad (4-6). Tog beskou hy dit na sy bekering tot Christus as “drek” (8, OAV), omdat dit bloot sy eie inspanning en pogings was. Nee, sê hy, al wat saak maak, is “om in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met die wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof” (9, OAV). Óns, sê hy, “is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie” (3, OAV).

❏     Uit bogenoemde volg dat ‘n godsdiens van gepoogde verlossing deur eie werke nie net onaanvaarbaar vir God is nie, maar inderdaad afstootlik. Dit stink van menslike selfbedrog en arrogansie. En dit skat God se heiligheid gering — want dit maak daarop aanspraak dat dit dalk aan Sy standaarde kan voldoen.

    •     Dwarsdeur die Skrif verwerp God sonder meer alle selftevrede godsdienstige praktyke (bv. Jes 1:11-18; 58; Amos 5:21-24). Die goeie werke waarop Hy elke keer aandring, is die uitvloeisels van nederige harte wat deur Hom herskep is, wat diep dankbaar is vir Sy groot verlossing, en wat Sy eer bo alles soek.

    •     Nêrens word dit met groter erns beklemtoon as in die Galasiërbrief nie. Selfs ‘n mespunt eie verdienste wat daarop aanspraak maak dat dit Christus se middelaarswerk aanvul — soos seremoniële besnydenis (Hd 15:1) — is diskwalifiserend (Gl 5:2-4).

    •     Hier is ons ook by die ware rede vir Jesus se veroordeling van die huigelagtige godsdienstigheid van Sy dag. Hy kon rustig saam met prostitute en tollenaars eet (hulle het per slot van rekening geweet hulle is sondaars), maar nooit was Hy skerper in Sy woorde as in Sy talle konfrontasies met die Fariseërs en Skrifgeleerdes nie (vgl. Mt 23. Let o.a. op v.8-12 binne die geheel en die ongeëwenaarde opeenstapeling van weë-uitsprake).

❏     Die Christelike geloof verskil dus wesentlik van alle godsdienste. Die evangelie is die goeie nuus dat God in Christus afbuig om sondaars te red. Alle godsdienste se boodskap is dat die mens teen die leer van menslike verdienstye na God toe moet opklim — teen die leer van moraliteit en seremonies. Waarskynlik die grootste van die godsdienste is Churchianity. Hoe opreg mense se religieuse pogings ook al is, God se oordele rus op al hulle pogings.

Net ‘n volmaakte Middelaar kan God se heiligheid bevredig en ons met Hom versoen

❏     God oorbrug die kloof tussen Sy heiligheid en die mens se sondigheid deur ‘n Middelaar en Plaasvervanger in die Persoon van Sy Seun Jesus Christus te voorsien. Enersyds het Hy Homself volkome kom identifiseer met die sondegevalle mens (sonder om self te sondig); andersyds het Hy volkome heilig voor Sy Hemelse Vader geleef.

❏     Wat beklemtoon God se ononderhandelbare en kompromielose agting vir Sy eie heilige karakter en standaarde méér as die prys wat Hy bereid was om vir die handhawing daarvan te betaal?

❏     Eers as dit teen die agtergrond van God se heiligheid en toorn verstaan word, word Christus-prediking wat dit moet wees.
    Dit is so dat ons saam met Paulus moet uitroep: “Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde” (1Kor 2:2). Maar te veel predikers verstaan onder Christus-prediking ‘n bloot eensydige en simplistiese verkondiging van God se aanneming van sondaars in Christus — sonder om die agtergrond en motivering vir die kruis te verreken. Dan word hulle boodskap onvermydelik ‘n goedkoop evangelie: “Moenie bekommerd wees nie; Jesus het vir ons almal gesterf; alles sal wonderlik uitwerk!”

    •     As vergiffenis in die normale gang van sake een van die maklikste van ons pligte is, is vergiffenis — in respek gestel — sekerlik God se heel grootste probleem. Hoe kry Hy die sondaars gered wat Hy van voor die grondlegging van die aarde af innig lief het, sonder om Sy heiligheid en toorn geweld aan te doen?  In die woorde van Jes 45:21: hoe kan Hy terselfdertyd ‘n regverdige én reddende God wees?

    •     Ons ken die antwoord goed. Maar mag dit nooit vir ons ‘n gemeenplaas word nie. God — in die persoon van Sy geliefde Seun — het self Sy onmeetlike aanstoot en woede teen ons sonde kom verduur. Jesus Christus het as ons strafdraende Plaasvervanger op Golgota gesterf. In daardie paar uur het die volle intensiteit van God se toorn oor die sonde van miljoene mense deur die eeue op Hom ingebrand! En só sien ons op Golgota God se wonderlike liefde en Sy skrikwekkende toorn in ‘n intieme omhelsing.
    Al kan ons bloedweinig van Sy lyding verstaan en al laat die ontsaglike grootsheid van wat aan die kruis gebeur het ons denke duisel, laat ons ten minste soveel moontlik daarvan in die geloof vasvat. En laat ons onsself weer en weer herinner aan wat dit God gekos het om ons te red. Hoe meer ons daarvan begryp en hoe dieper dit in ons harte insny, hoe inniger sal ons liefde vir Hom word, hoe intenser ons dankbaarheid, hoe radikaler ons gehoorsaamheid.

    •     Wat ‘n verskriklike ewigheid wag nie op diegene buite Christus nie! Laat ons voorbidding doen!

    •     Les bes, laat ons steeds by Golgota skuil — God se voorbrand.

DIE VRESE VAN DIE HERE

❏     Om God in Sy heiligheid te leer ken, het ingrypende effekte op ‘n mens. Tot die mate wat ons Hom proefondervindelik só leer ken, verander dit ons lewe. En dit raak mens emosioneel baie diep — 'n geheimenisvolle en paradoksale simbiose van belewinge.
    Eendersyds is daar 'n respek en ontsag vir God, selfs soms 'n verskrikking wat van Hom af wil wegvlug.
    Andersyds is daar 'n onweerstaanbare en heilige gefassineerdheid met God, 'n intense aangetrokkenheid wat nooit ophou verlang om nader aan Hom te leef nie.
      Vir hom of haar wat God enigsins ken, is Hy dus terselfdertyd angswekkend in Sy verhewe heiligheid én onweerstaanbaar aantreklik in Sy glansende heerlikheid.
    Waarskynlik is daar nie 'n enkele begrip wat dit beter uitdruk nie as die Engelse “awe” nie.

❏     Hierdie belewing noem die Bybel “die vrese van die Here” - 'n begrip wat oor en oor in sowel Ou Testament as Nuwe Testament voorkom (die NAV se “om die Here te dien” is hoogs onbevredigend). Miskien sou “liefdesontsag” 'n goeie vertaling kon wees.
    Sommige mense (noodwendig diegene wat God net van hoorsê ken) neem aanstoot aan die idee dat mens vir die Here báng moet wees. Die Puriteine se kwalifikasie in hierdie verband is nuttig: dis 'n “filial fear” (die van 'n seun vir sy vader), en nie 'n “servile fear” nie (die van 'n slaaf vir 'n meedoënlose baas).

❏     Die vrese van die Here word duidelik in die lewe van Moses gesien. Hy “sidder van angs” (Hb 12:21) vir God, maar begeer tog intens om God se heerlikheid te sien, al weet hy niemand kan Hom sien en bly leef nie (Eks 33:18,20).
    Waarskynlik het die Psalmdigter dit ook verstaan: “Dien die Here met vrees, en juig met bewing” (Ps2:11).

❏     Nooit word die vrese van die Here sterker ervaar as tydens herlewings nie. Wat is herlewing? Die kortste definisie is dat dit plaasvind wanneer God in Sy heilige heerlikheid in die midde van Sy volk kom woon (Jh 14:23). Hy stuur dus nie herlewing nie, Hy kom self!     Hd 5:11-16 (onder andere) beskryf soiets in die vroeë kerk: “Die hele gemeente en al die ander mense wat hiervan gehoor het (Ananias en Saffira), het baie bang geword. ... maar van die ander mense het niemand dit gewaag om by hulle aan te sluit nie al het die volk hulle hoog geag.Tog is baie mense wat in die Here geglo het, mans sowel as vrouens, algaande by hulle getal gevoeg.”
    Waarlik, die grootste nood van die kerk is die Here se heerlike teenwoordigheid.

❏     Die poging van teoloë en digters om die vrese van die Here te beskryf, is interessant en insiggewend:

    •    Charles Bridges: “The fear of the Lord is that affectionate reverence by which the child of God bends himself humbly and carefully to his Father's law. God's wrath is so bitter, and His love is so sweet, that hence springs an urgent desire to please Him. And because of the danger of coming short, due to own weaknesses and temptations, there is a holy watchfulness and fear in order not to sin against Him.”

    •     T.V. Moore: “It is the fear of a love that is always tremblingly alive to the possible alienation of the Object that is loved.”

    •     William Bates: “It is that sanctified affection whereby the soul does solemnly and reverently reflect on God's perfections, and hence is moved in all things to promote God's honour.”

    •     F.W. Faber het die paradoksale in die vrese van die Here dalk beter as enigeen beskryf:
“My fear of Thee, o Lord, exults / like life within my veins;
a fear which rightly claims to be / one of love's sacred pains.

There is no joy the soul can meet / upon life's various road;
like the sweet fear that sits and shrinks / under the eye of God.

A special joy is in all love / for objects we revere;
thus joy in God will always be / proportioned to our fear.

Oh, Thou art greatly to be feared / Thou art so prompt to bless!
The dread to miss such love as Thine / makes fear but love's excess.

But fear is love, and love is fear / and in and out they move;
but fear is an intenser joy / than mere unfrightened love.

When most I fear Thee, Lord, then most / familiar I appear;
and I am in my soul most free / when I am most in fear.

I feel Thee most a Father, when / I fancy Thee most near;
and Thou comest not so nigh in love / as Thou comest, Lord, in fear.

They love Thee little, if at all / who do not fear Thee much;
if love is Thine attraction, Lord / fear is Thy very touch”

❏     Daar is beswaarlik iets in die lewe van ‘n man of vrou van God waarop die Skrif ‘n hoër premie plaas, as die vrese van die Here. Waarom? Die liefdesontsag vir God wek in my ware nederigheid en 'n hartstog vir Sy eer. Dit laat my intens begeer om te doen wat Hom behaag en vereer. Dit laat my ten alle koste vermy wat Hom bedroef en onteer.
    Kan daar iets wees wat God meer behaag as so 'n hartsgesindheid?

❏     Die vrese van die Here is die “begín van kennis en wysheid” (Ps 111:10; Spr 1:7; 9:10; 15:33). Het ek en jy al begín?

❏     Die Nuwe Testament koppel meermale die vrese van die Here en heiligmaking.

    •     2 Kor 5:10-11 (OAV): “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad. Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig ...”.

    •     2 Kor 7:1 (OAV): “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.”

    •     Fl 2:12-13 (OAV): “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”

    •     1Pt 1:17 (OAV): “En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap ...”.

    •     Let op dat diegene wat God ken, die vrese van die Here beleef — nie ten spyte van die volmaakte versoeningswerk van Christus nie, maar juis op grond daarvan! Dit is dus 'n genadegawe vir diegene in Christus.

❏     Hoe onmisbaar is die kennis van God, die vrese van die Here en die wysheid wat dit bring, nie vir elkeen wat Sy wil wil ken, verstaan en gehoorsaam nie! Kán God hoegenaamd behaag word daarsonder?

EFFEKTE VAN DIE KENNIS VAN GOD SE HEILIGHEID EN DIE VRESE VAN DIE HERE

❏     Kyk mens in die Bybel na diegene wat ‘n besondere openbaring van God se heiligheid ervaar het, was dit gewis ‘n verkrummelende ervaring. Die lig van God se heerlikheid het as ‘t ware in elke kraak van hulle persoonlikhede ingedring. Selftevredenheid is verplaas deur ‘n vernietigende bewussyn van sondigheid en geringheid. Diep en blywende verskuiwings het in sulke mense se binneste plaasgevind.
    Die effekte hiervan is duidelik sigbaar in diegene in die Bybel wat die heiligheid van God geken het, sowel as in honderde biografieë vanuit die kerkgeskiedenis. En deurgaans is die getuienis hieroor eenstemmig. Wat is hierdie effekte?

❏     Tot die mate wat ons God in Sy heiligheid ken, tot daardie mate is ons ware aanbidders.
    Dit kom veral in vier areas tot uitdrukking:

    •     ‘n Mens se gebedslewe.
    Dit beheers hóé en wát mens bid. Jou gebede raak al hoe meer Godgesentreerd.
    Voorop in jou gebede is jou verlange om Hóm beter te leer ken. Jy soek heel eerste die Gewer; eers daarna Sy gawes.
    En jou gebede word toenemend gekenmerk deur verering, lof en dank. Jy bid nie “met skoene aan nie”.

        ~     Daar is ‘n hemelsbreë verskil tussen vrymoedige en voorbarige gebed. Voorbarige gebed is mensgesentreerd, familiêr, en aanvaar die voorreg om voor die troon van genade te verskyn amper as ‘n vanselfsprekendheid. Vrymoedige gebed, daarenteen, is inderdaad openlik, nie bang of beskeie of terughoudend nie — maar tog diep bewus daarvan dat die voorreg daarvan volledig berus op die verdienste van die Plaasvervanger. En in elke gebed kom dit eers werklik tot uitdrukking as die Koning “Sy septer uitsteek” (Ester 5:2).

    •     ‘n Mens se gesindheid teenoor God se Woord.
    Jy “bewe” vir God se Woord en waarheid (Jes 66:2). Dit is vir jou belangrik om die Woord te verstaan soos dit verstaan moet word. Jy matig jou nie aan om dit te kritiseer nie. Jy vat dit kinderlik-gelowig soos dit kom.
    Iemand wat God in Sy heiligheid ken, het geen geduld met mensgesentreerde prediking en Skrifverdraaiing nie. Die suiwer leer is nie vir hom of haar onderhandelbaar nie — nie ter wille van die suiwer leer op sigself nie, maar ter wille van die Here wie se Woord dit is.

    •     ‘n Mens se hartstog vir God se eer.
    Hiervan is Pinehas, wat vir die Here geywer het, ‘n uitnemende voorbeeld (Num 25:1-13).

    •     Die trant waarop mens oor en met God praat.
    Party “Christene” is vandag meer familiêr met God as wat die Here Jesus, Sy eie Seun, dit ooit gewaag het.

❏     Tot die mate wat ons God in Sy heiligheid ken, tot daardie mate is ons waarlik nederig.

    •     Om God in Sy heiligheid te ken, is om jouself in jou nietigheid en sondegeneigdheid te ken. In die Bybel val bykans elkeen wat die Here “sien” op sy gesig. Jesaja se eerste gewaarding is die van eie onreinheid (Jes 6:5).

    •     Ware nederigheid is om laag voor God te wees. Maar as mens dan weet wie jou God is, vrees jy mense al hoe minder. En Sý eer sal jy met alles in jou verdedig. Dis waarom Moses meteen die sagmoedigste man op aarde kon wees (Num 12:3), en terselfdertyd keer op keer soos ‘n rots voor die agressie van die hele volk kon bly staan. Dit laat mens ook dink aan Dn 11:32: “... die mense wat hulle God ken, sal vasstaan.” (Vgl. ook Dn 3:17-18).

    •     ‘n Vloermat, ‘n papperd, ‘n ja-broer, is dus alles behalwe nederig en sagmoedig. Veeleerder is dit ‘n aanduiding dat hy God nie in Sy heiligheid ken nie — in elk geval nie as sý God nie.
    Wat egter wel waar is, is dat diegene wat God ken, en hulle posisie in Christus, en hulle hoë en verhewe roeping, keer op keer en onbedreig die voorskoot van diensbaarheid kan aantrek (Jh 13:3-5). En hulle doen dit spontaan, amper onbewus daarvan. Ware nederigheid gaan gepaard met ‘n sekere afwesigheid van selfbewustheid. So ‘n persoon ontvang ‘n koppie tee en die Nobelprys met dieselfde grasie en dankbaarheid. Alle goeie gawes kom immers uit die hand van ‘n algoeie en liefdevolle hemelse Vader.

    •     Beklemtoning van die voorregte van ‘n Christen se erfenis in Christus, sonder gepaardgaande lering oor die verhewe persoon en karakter van God, lei feitlik sonder uitsondering tot arrogansie en voorbarigheid voor Hom. Hiervan is die huidige ligsinnigheid en selfgesentreerdheid in talle kerklike en pseudo-kerklike kringe simptomaties.

❏     Tot die mate wat ons God in Sy heiligheid ken, tot daardie mate sal ons harte brandende van dankbaarheid en liefde teenoor Hom wees.

    •     Niemand kan God in Sy heiligheid ken, sonder om ook iets van Sy toorn te verstaan nie. As hy dan begryp dat hy nie sy verdiende loon nie, maar God se genade ontvang het, is diep dankbaarheid en liefde ‘n noodwendige gevolg. Vanuit hierdie liefde vloei dan die diep verlange om God beter te ken: “Toon my U heerlikheid.”

    •     Dankbaarheid en liefde teenoor God is die groeibodem van alle ware godsvrug. Goeie werke waarvan dit nie gesê kan word nie, is wetties en formalisties — dooie werke in God se oë.

❏     Tot die mate wat ons God in Sy heiligheid ken, tot daardie mate sal ons dit najaag om heilig voor Hom te leef.

    •     Hoe kan iemand die skoonheid van die Here se heiligheid sien, sonder om die res van sy of haar lewe daarna te verlang — ook om dit in jou eie lewe toenemend te ervaar?
    •     Dit laat mens sonde toenemend haat, omdat dit die Here, en besonderlik Sy Gees, bedroef; omdat dit Sy Naam oneer aandoen en die koms van Sy Koninkryk belemmer; omdat dit mense vernietig wat na Sy beeld geskape is; en omdat dit gemeenskap met Hom vertroebel.
    Spr 8:13: “Die vrees van die Here is om te haat wat sleg is ...”.

    •     Dit laat mens geregtigheid najaag, omdat dit die Here behaag en verbly; omdat dit Sy Naam verheerlik; en omdat dit gemeenskap met Hom bevorder.
    So ‘n persoon se lewe word dus gekenmerk deur gehoorsaamheid en ywer om die Here te behaag. Jesaja: “Hier is ek! Stuur my!” (Jes 6:8).
    Gn 22:12: “... nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.” Abraham het die sonde van ongehoorsaamheid meer gehaat as wat hy sy seun liefgehad het.

❏     Tot die mate wat ons God in Sy heiligheid ken, tot daardie mate sal besorgdheid oor die verlorenheid van mense, die welsyn van die kerk, en die verkondiging van die ware evangelie ons lewens kenmerk.

    •     Spesifiek was Jesaja gretig om die Here se Woord aan die in sonde gevalle volk te gaan verkondig (Jes 6:5, 8).
    Omdat hy God se heiligheid gesien het, het hy iets van Sy toorn teen sonde begryp. Traak-my-nie-agtigheid oor die volk se ewige staat, sou neergekom het op hardvogtigheid — en vir ‘n gebrokene is dit nie meer moontlik nie.
    2Kor 5:11: “Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig ...” (OAV).

    •     Vir iemand wat iets van die Here se heiligheid verstaan, is dit onhoudbaar dat Hy nie verheerlik word nie. En aangesien God se eer ten nouste gekoppel is aan die welsyn van Sy kerk, brand so ‘n persoon se ywer dat die kerk waarlik kerk moet wees.

    •     Waar ‘n gemeente die Here eer en vrees, is Hy in hulle midde, en kom mense tot bekering (vgl. 1Kor 14:24-25; Hd 5:11vv). Hier lê een rede waarom soveel mense tydens herlewings tot bekering kom.
    A.W. Tozer: “The popular notion that the first obligation of the church is to spread the Gospel to the uttermost parts — is false. Her first obligation is to be spiritually worthy to spread it!”.

TEN SLOTTE

❏     Mal 3:16-4:2 (OAV): “Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ’n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer. En hulle sal My tot ’n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos ’n man medelyde het met sy seun wat hom dien. Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie. ... Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal.”

❏     1Pt 1:13-25 (OAV): “... soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig. ... wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap ... omdat julle weet dat julle ... losgekoop is ... deur die kosbare bloed van Christus ...”.
Nico van der Walt