Friday, March 22, 2013

DIE HEILIGHEID VAN GOD - Attribuut van attribute

Van al God se attribute wat in die Skrif genoem word, is Sy heiligheid die enigste een wat, by wyse van spreke, tot die mag drie verhef word. In sowel Jes 6:3 as Op 4:8 roep hemelwesens van God uit dat Hy "heilig, heilig, heilig" is.
    Dwarsdeur die Skrif vind mens dat God se heiligheid as 't ware Sy ander karaktertrekke versier. Van elke attribuut kan mens sê dat dit heilig is. Dit sou gesê kan word dat dit meer as enigiets anders die skoonheid van die Here se wese is.

❏     Keer op keer as mense in die Bybel 'n besondere ervaring van God se persoon en karakter beleef het, was hulle oorwegende indruk die van Sy heiligheid. Weliswaar word Sy heiligheid nie altyd eksplisiet genoem nie, maar lees mens die Bybelgeskiedenis, tref jy dit weer en weer aan. Dink maar aan Moses, Job, Jesaja, Esegiël, Paulus en Johannes se ervaringe.
    Dit word bevestig deur die ondervindings van derduisende mans en vrouens deur die kerkgeskiedenis ‒ veral die wat die voorreg gehad het om herlewings te beleef.

❏     Mens ken God dus tot die mate wat jy Hom in Sy heiligheid ken ‒ nie meer nie.

DIE BEGRIP "HEILIG" IN DIE BYBEL

❏     Geleerdes is nie honderd persent eenstemmig nie oor die betekenis van die Hebreeuse woord (qadosh) wat ons met "heilig" of "heiligheid" vertaal.

    •     Sommige meen dit kom van 'n Babiloniese wortel wat beteken om te skyn. Dit sou dan die verband tussen God se heiligheid en Sy heerlikheid beklemtoon ‒ en veral sal dit beklemtoon dat God se morele volmaaktheid voorop is in Sy heiligheid.
    Uiteraard is so 'n vertolking van die begrip volledig in pas met wat die Skrif oor God leer.

    •     Waarskynlik is dit egter korrek om soos die meeste teoloë die begrip eerder in verband te bring met 'n Semitiese wortel wat dui op sny, skei, afsonder, eenkant sit.

        ~    Kyk mens hoe die begrip in die Ou Testament gebruik word, bevestig dit eerder die vertolking dat heiligheid op afsondering of afskeiding dui. So word die woord dan gebruik om onder meer kledingstukke (Eks 28:2), plekke (Eks 29:31), aanbiddingstoebehore (1Kon 8:4) en instrumente (Num 31:6) te beskryf. Die begrip kwalifiseer ook dae en feeste. Uiteraard het hierdie dinge se heiligheid niks te doen met morele reinheid nie. Dit beteken gewoon dat dit toegewy of afgesonder is.

        ~    Hierdie vertolking word voorts bevestig as mens daarop let dat die begrip dwarsdeur die Bybel dui op die teenoorgestelde van die gewone en die alledaagse. So byvoorbeeld sê die Here in Lev 20:26 dat Hy Sy volk afgesonder het van die heidenvolkere om hulle. En in Eseg 22:26 word die priesters verwyt dat hulle die heilige dinge ontwy deur geen onderskeid te maak tussen dit wat gewyd en dit wat nie gewyd is nie.

❏     Dit lyk dus asof ons in lyn is met die Bybelse openbaring as ons sê dat God se heiligheid dui op Sy afsondering, Sy transendensie, Sy verhewenheid bo Sy skepping, Sy gansandersheid. God is dus vergelykbaar met niks of niemand anders nie. Hy is in 'n klas van Sy eie ‒ volkome uniek. Hy leef buite die sfeer van die menslik-gewone en begryplike. Hy is verhewe en onpeilbaar.
    God is volkome in Homself, van niemand afhanklik nie, ver bo alles in ewige, oneindige heerlikheid en majesteit. Hy is heilig, heilig, heilig!
    Jes 40:25: "Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige."

❏     Bogenoemde beteken nie dat die begrip nie ook morele ondertone het nie ‒ inderdaad het dit. Positief dui dit op etiese suiwerheid en volmaaktheid, en negatief dui dit op die afwesigheid van enige sonde. Hy is die somtotaal van alle morele skoonheid en volmaaktheid in karakter, motiewe, gesindhede, woorde en dade. Hy is van ewigheid tot ewigheid volkome en absoluut vry van enige morele onsuiwerheid.

❏     Terwyl die Skrif 'n baie sterk beklemtoning van God se heiligheid aan ons voorhou, mag ons dit nie eensydig ten koste van ander waarhede aksentueer nie. Veral is dit belangrik dat ons aan sowel God se transendensie as Sy immanensie sal vashou. God is nie net bokant ons nie, Hy leef ook tussen Sy kinders, tewens in hulle. Jes 57:15 bring dit mooi na vore: "So sê Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is: Ek woon in ’n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes."

    •     As God se transendensie ten koste van Sy immanensie oorbeklemtoon word, lei dit tot 'n amper deïstiese Godsbeeld. Dan beleef mense Hom as 'n veraf en onbetrokke God.

    •     As God se immanensie ten koste van Sy transendensie oorbeklemtoon word, lei dit tot 'n sondige familiariteit met Hom. Spoedig begin mense dan met Hom omgaan asof Hy ons lakei is.

WESENSTREKKE VAN GOD SE HEILIGHEID

❏     God se heiligheid is intrinsiek. Hy is heilig in Sy wese, in Sy natuur. Hy kan nooit minder heilig wees nie; ook nie meer heilig nie. Sou Hy oor ‘n duisend jaar meer heilig wees, beteken dit dat Hy nie nou volmaak heilig is nie.
    Sy Woord, Sy spreke is heilig. Dit dra die stempel van heiligheid; adem dit; en bevorder dit (Ps 119:140; 12:7).
    Sy dade is heilig (Ps 145:17).

❏     God se heiligheid is oorspronklik. God het Sy heiligheid nêrens anders gekry nie. Hy slaag nie ‘n volmaaktheidstoets wat van buite af op Hom aangelê word nie. Hy en Hy alleen is van ewigheid af die norm. Wat God is, is per definisie heilig.
    As sodanig is God die oorsprong van alle ander uitdrukkings van heiligheid (Lev 20:8; Jk 1:17).

❏     God se heiligheid is uniek. Geen skepsel kan ooit die dimensies van God se heiligheid bereik nie (1Sam 2:2).
    Sy heiligheid is verhewe bo die van die engele. Hulle kan hulle heiligheid verloor — soos die gevalle engele. God kan nooit val nie.
    Wat die morele aspek van heiligheid betref, is dit selfs in die heiligstes van die Here se heiliges onvolmaak en vermeng met sonde. En in ‘n bepaalde individu wissel dit steeds in graad. Maar in God bly dit vir ewig onveranderlik volmaak.
    Dit is so dat die Skrif ons leer dat die verlostes in hulle verheerlikte staat aan Jesus Christus gelyk sal wees (1Jh 3:2). Dit geld egter net Sy menslike volmaaktheid (Fl 3:20-21). Hy is egter ook volkome God, maar die verlostes bly tot in ewigheid geskape mense.

TEOLOGIESE IMPLIKASIES VAN GOD SE HEILIGHEID

God kan nie afsydig staan teenoor sonde nie, en moet dit straf.

❏     Sonde is algeheel onversoenbaar met God se persoon en karakter. As Hy sou ophou om sonde te haat, sou Hy ophou om heilig te wees. Afsydigheid teenoor sonde sou neerkom, aangesien Hy alwetend en almagtig is, op kondonering daarvan. Dit sou morele onvolmaaktheid beteken.
    Heiligheid en sonde is per definisie onversoenbaar.

❏      Aangesien geen mens algeheel vry van sonde is nie, kan niemand God sien en bly lewe nie. Ja, as jy baie toegewyd lewe, mag jy dalk begenadig word om soos Moses Hom “van agter” te sien, maar, sê Hy vir Sy dienskneg: “Niemand mag my gesig sien nie” (Eks 33:20-23).

    •     Daar was al mense wat iets van die driemaal heilige God gesien het. Vir almal van hulle was dit ‘n amper vernietigende ervaring wat ‘n onuitwisbare indruk gelaat het. Moses maak Sy gesig toe (Eks 3:6); Jesaja word oorweldig deur sy eie onreinheid (Jes 6:5); Job verag homself (Job 42:6); Esegiël stort in duie (Eseg 1:28); Daniël val bewusteloos op sy gesig (Dn 10:9); Johannes sak soos ‘n dooie neer (Op 1:17). Vergelyk ook Eks 24:10.

❏     God se toorn is ‘n noodwendige uitvloeisel van Sy heiligheid; dit is trouens onlosmaaklik verbonde daaraan. Wat is dit? Ons sou dit só kon definiëer: God se toorn is, eerstens, Sy ewige en absolute afkeur van alle ongeregtigheid en sonde — van alles strydig met Sy persoon en karakter. En, tweedens, Sy handelinge om uitdrukking te gee aan hierdie afsku.
     Eenvoudig gestel: God se toorn is Sy heiligheid in aksie teen alle sonde. Omdat God heilig is, haat Hy alle sonde; en omdat Hy sonde haat, brand Sy toorn teen die sondaar.

    •     God se toorn, laat ons dit nooit vergeet nie, is meer as net ‘n emosie — dit kom noodwendig tot uitdrukking in Sy oordeelshandelinge. Die skrikwekkende oordele waarvan die Ou Testament so vol is, en die verskriklike oordele waarteen die Nuwe Testament in sulke duidelike en dringende taal waarsku, is alles manifestasies van God se toorn.

❏     Die Bybel gebruik verskillende beelde om God se heiligheid en afsku van sonde te onderstreep.

    •     Die idee van hoogte. Dikwels word God in die Skrif die “Allerhoogste” genoem. Hierdie verhewenheid van Hom wil ten minste twee dinge beklemtoon: Sy soewereine regering oor die nasies en die geskiedenis; en Sy onbereikbaarheid vir sondaars. Weliswaar is Sy troon ‘n troon van genade, maar slegs vir hulle wat die onbeskryflike voorreg van regverdiging en toegang as ‘n genadegawe verkry het. Nee, Hy bly die hoë, verhewe Een, wat die hemele as Sy troon het, en die aarde as Sy voetbank.

    •     Die idee van afstand. God is ook ver van ons af. Ons mag nie te naby aan Hom kom nie. Toe Hy by Sinaï afgekom het om Hom en Sy wil aan die volk te openbaar, moes Moses die berg afsper om die volk op ‘n afstand te hou.
    Nooit word dit sterker beklemtoon as deur die voorhangsel in die tempel nie. Die ark, simbool van God se heilige teenwoordigheid in die midde van Sy volk, was totaal ontoeganklik. Net die Hoëpriester kon eenmaal per jaar toetree — en dan slegs met die offerbloed by hom.
    En toe Israel die Beloofde Land binnegegaan het, moes hulle agter die verbondsark aantrek — maar nie nader as ‘n duisend tree daaraan kom nie (Jos 3:4).
    Die doel van al hierdie voorskrifte was om by die volk in te prent dat God heilig is en dat Hy die sonde wat aan mense kleef geensins sal duld nie.

    •     God word as lig en vuur voorgestel. “God is lig” en “‘n verterende vuur”. Ook hierdie twee beelde moes mense herinner dat sonde nie naby God kan bestaan nie. ‘n Skerp lig ontbloot alle onreinheid; ‘n vuur laat vuilheid verskrompel as dit te naby kom.

    •     God spoeg dit uit wat Hom aanstoot gee. Vir ons as verfynde westerlinge is hierdie seker die mees dramatiese beeld van God se afsku van sonde. Want eintlik gebruik die oorspronklike tale die woord vir braking. Om op te gooi is waarskynlik ons liggame se heel sterkste reaksie teen iets wat ons verwerp.
    Israel word gewaarsku om heilig voor die Here te leef sodat die land hulle nie ook uitspoeg (lett. braak) nie, soos dit die Kanaäniete voor hulle uitgespoeg het. En, natuurlik, wat hier aan die land toegeskryf word, is eintlik die Here se handeling (Lev 18:25-28; 20:22).
    Dan is daar die bekende Nuwe Testamentiese geval van Op3:16 waar die Here Jesus die gemeente van Laodisea waarsku dat Hy hulle sal uitspoeg (lett. uitbraak) as hulle hul nie van hulle louheid bekeer nie.
    Die boodskap is dus duidelik: God kan sonde en huigelagtigheid hoegenaamd nie verteer nie — Hy kan dit as ‘t ware nie inhou nie.

❏     God se toorn is net soveel een van die volmaakthede van Sy karakter as Sy liefde, trou en genade. In Sy wese is daar geen skaduwee van sonde nie, maar ongeërgtheid en afsydigheid teenoor sonde sou getuig het van morele onvolmaaktheid in Hom.

    •     Laat ons dus verstaan: soos die ewige saligheid van regverdiges vanuit God se volmaaktheid vloei; net soveel is die onverganklikheid van helse smarte vir sondaars ook die gevolg daarvan.
    Net soos elke mens in die saligheid hierna tot in ewigheid sal verkondig: “God is heilig, heilig, heilig!”, sal die teenwoordigheid van elke mens in die verdoemenis van hom tot in ewigheid ‘n getuie maak: “God is heilig, heilig, heilig!”

❏      As hierdie aspek van God se karakter vir ons skokkend is; as ons dalk aanstoot daaraan neem — laat ons onthou dat daar meer verwysings in die Bybel na God se toorn en oordele is, as na Sy liefde en genade. As die Skrif dan God se selfopenbaring aan ons is, wil Hy kennelik hê dat ons ook goed van Sy toorn sal kennis neem — en Hom daarvoor verheerlik.

❏     Ons moet erns maak met God se heiligheid en toorn. Dis nie net noodsaaklik om vrede te maak met Sy toorn nie, maar ook om dit gereeld te bepeins. Ag, as die erns van sonde maar dieper ingegrafeer kan word in ons gemoedere. Maar selfs ons wat herskep is, is en bly so tragies stiksienig.
    Tot die mate wat ons onder die indruk is van God se heiligheid, sal die vrese van die Here in ons vestig, en sal ons ‘n heilige lewe najaag. Dit sal ons ook help om die genade van ons volkome verlossing in Christus des te beter te begryp en te waardeer. As sodanig sal dit ons dankbaarheid laat groei en van ons beter aanbidders maak.

    •     Die gevaar van afgodery staar ons steeds in die gesig. Want as ons vir onsself ‘n God volgens ons eie onheilige voorkeure optower — en nooit sal dit ‘n heilige God van toorn wees nie — begin ons ‘n God volgens óns beeld aanbid. En dis rou afgodery!

    •     Só gesien, pak die skrik jou beet oor die toestand van groot dele van dit wat deurgaan as die kerk. Want baie min “goeie Christenmense” hou vandag nog werklik rekening met God se toorn. Tot so ‘n mate neem mense, trouens, aanstoot hieraan — omdat hulle Godsbeeld dié is van ‘n bloot goedige oupa — dat baie predikers nie meer kans sien om die feit en implikasies daarvan te preek nie (dis nou as hulle dit self nog glo).

God kan nooit tevrede wees met die eie, onafhanklike pogings van mense om Hom te behaag nie.

❏     Geen menslike poging, hoe edel en opreg ook al, kan aan ‘n heilige God se standaarde voldoen nie. Dit kan nie ons skuld uitdelg nie. En dit kan nie die afstootlikheid van sonde voor Hom bedek nie.

    •     Jes 64:6: “... ons beste dade is soos vuil klere ...” (Letterlik, die doeke wat ‘n vrou een maal per maand weggooi).

    •     Hd 10:2; 11:14: Kornelius se uitsonderlike vroomheid word só beskryf: “Hy was godsdienstig en godvresend, hy en sy hele huisgesin. Hy het baie gedoen om die armes onder die Joodse volk te help en het gereeld tot God gebid.” Maar hy was op die trapmeul van eie verdienste; hy het Jesus Christus nie geken nie. Want die Skrif sê dat hy nie gered was nie. Daarvoor was dit nodig dat Petrus eers die evangelie van God se vrye genade in Christus vir hom moes gaan verkondig.

    •     Fl 3: As Fariseër het Paulus weergalose godsdienstige ywer gehad (4-6). Tog beskou hy dit na sy bekering tot Christus as “drek” (8, OAV), omdat dit bloot sy eie inspanning en pogings was. Nee, sê hy, al wat saak maak, is “om in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met die wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof” (9, OAV). Óns, sê hy, “is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie” (3, OAV).

❏     Uit bogenoemde volg dat ‘n godsdiens van gepoogde verlossing deur eie werke nie net onaanvaarbaar vir God is nie, maar inderdaad afstootlik. Dit stink van menslike selfbedrog en arrogansie. En dit skat God se heiligheid gering — want dit maak daarop aanspraak dat dit dalk aan Sy standaarde kan voldoen.

    •     Dwarsdeur die Skrif verwerp God sonder meer alle selftevrede godsdienstige praktyke (bv. Jes 1:11-18; 58; Amos 5:21-24). Die goeie werke waarop Hy elke keer aandring, is die uitvloeisels van nederige harte wat deur Hom herskep is, wat diep dankbaar is vir Sy groot verlossing, en wat Sy eer bo alles soek.

    •     Nêrens word dit met groter erns beklemtoon as in die Galasiërbrief nie. Selfs ‘n mespunt eie verdienste wat daarop aanspraak maak dat dit Christus se middelaarswerk aanvul — soos seremoniële besnydenis (Hd 15:1) — is diskwalifiserend (Gl 5:2-4).

    •     Hier is ons ook by die ware rede vir Jesus se veroordeling van die huigelagtige godsdienstigheid van Sy dag. Hy kon rustig saam met prostitute en tollenaars eet (hulle het per slot van rekening geweet hulle is sondaars), maar nooit was Hy skerper in Sy woorde as in Sy talle konfrontasies met die Fariseërs en Skrifgeleerdes nie (vgl. Mt 23. Let o.a. op v.8-12 binne die geheel en die ongeëwenaarde opeenstapeling van weë-uitsprake).

❏     Die Christelike geloof verskil dus wesentlik van alle godsdienste. Die evangelie is die goeie nuus dat God in Christus afbuig om sondaars te red. Alle godsdienste se boodskap is dat die mens teen die leer van menslike verdienstye na God toe moet opklim — teen die leer van moraliteit en seremonies. Waarskynlik die grootste van die godsdienste is Churchianity. Hoe opreg mense se religieuse pogings ook al is, God se oordele rus op al hulle pogings.

Net ‘n volmaakte Middelaar kan God se heiligheid bevredig en ons met Hom versoen

❏     God oorbrug die kloof tussen Sy heiligheid en die mens se sondigheid deur ‘n Middelaar en Plaasvervanger in die Persoon van Sy Seun Jesus Christus te voorsien. Enersyds het Hy Homself volkome kom identifiseer met die sondegevalle mens (sonder om self te sondig); andersyds het Hy volkome heilig voor Sy Hemelse Vader geleef.

❏     Wat beklemtoon God se ononderhandelbare en kompromielose agting vir Sy eie heilige karakter en standaarde méér as die prys wat Hy bereid was om vir die handhawing daarvan te betaal?

❏     Eers as dit teen die agtergrond van God se heiligheid en toorn verstaan word, word Christus-prediking wat dit moet wees.
    Dit is so dat ons saam met Paulus moet uitroep: “Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde” (1Kor 2:2). Maar te veel predikers verstaan onder Christus-prediking ‘n bloot eensydige en simplistiese verkondiging van God se aanneming van sondaars in Christus — sonder om die agtergrond en motivering vir die kruis te verreken. Dan word hulle boodskap onvermydelik ‘n goedkoop evangelie: “Moenie bekommerd wees nie; Jesus het vir ons almal gesterf; alles sal wonderlik uitwerk!”

    •     As vergiffenis in die normale gang van sake een van die maklikste van ons pligte is, is vergiffenis — in respek gestel — sekerlik God se heel grootste probleem. Hoe kry Hy die sondaars gered wat Hy van voor die grondlegging van die aarde af innig lief het, sonder om Sy heiligheid en toorn geweld aan te doen?  In die woorde van Jes 45:21: hoe kan Hy terselfdertyd ‘n regverdige én reddende God wees?

    •     Ons ken die antwoord goed. Maar mag dit nooit vir ons ‘n gemeenplaas word nie. God — in die persoon van Sy geliefde Seun — het self Sy onmeetlike aanstoot en woede teen ons sonde kom verduur. Jesus Christus het as ons strafdraende Plaasvervanger op Golgota gesterf. In daardie paar uur het die volle intensiteit van God se toorn oor die sonde van miljoene mense deur die eeue op Hom ingebrand! En só sien ons op Golgota God se wonderlike liefde en Sy skrikwekkende toorn in ‘n intieme omhelsing.
    Al kan ons bloedweinig van Sy lyding verstaan en al laat die ontsaglike grootsheid van wat aan die kruis gebeur het ons denke duisel, laat ons ten minste soveel moontlik daarvan in die geloof vasvat. En laat ons onsself weer en weer herinner aan wat dit God gekos het om ons te red. Hoe meer ons daarvan begryp en hoe dieper dit in ons harte insny, hoe inniger sal ons liefde vir Hom word, hoe intenser ons dankbaarheid, hoe radikaler ons gehoorsaamheid.

    •     Wat ‘n verskriklike ewigheid wag nie op diegene buite Christus nie! Laat ons voorbidding doen!

    •     Les bes, laat ons steeds by Golgota skuil — God se voorbrand.

DIE VRESE VAN DIE HERE

❏     Om God in Sy heiligheid te leer ken, het ingrypende effekte op ‘n mens. Tot die mate wat ons Hom proefondervindelik só leer ken, verander dit ons lewe. En dit raak mens emosioneel baie diep — 'n geheimenisvolle en paradoksale simbiose van belewinge.
    Eendersyds is daar 'n respek en ontsag vir God, selfs soms 'n verskrikking wat van Hom af wil wegvlug.
    Andersyds is daar 'n onweerstaanbare en heilige gefassineerdheid met God, 'n intense aangetrokkenheid wat nooit ophou verlang om nader aan Hom te leef nie.
      Vir hom of haar wat God enigsins ken, is Hy dus terselfdertyd angswekkend in Sy verhewe heiligheid én onweerstaanbaar aantreklik in Sy glansende heerlikheid.
    Waarskynlik is daar nie 'n enkele begrip wat dit beter uitdruk nie as die Engelse “awe” nie.

❏     Hierdie belewing noem die Bybel “die vrese van die Here” - 'n begrip wat oor en oor in sowel Ou Testament as Nuwe Testament voorkom (die NAV se “om die Here te dien” is hoogs onbevredigend). Miskien sou “liefdesontsag” 'n goeie vertaling kon wees.
    Sommige mense (noodwendig diegene wat God net van hoorsê ken) neem aanstoot aan die idee dat mens vir die Here báng moet wees. Die Puriteine se kwalifikasie in hierdie verband is nuttig: dis 'n “filial fear” (die van 'n seun vir sy vader), en nie 'n “servile fear” nie (die van 'n slaaf vir 'n meedoënlose baas).

❏     Die vrese van die Here word duidelik in die lewe van Moses gesien. Hy “sidder van angs” (Hb 12:21) vir God, maar begeer tog intens om God se heerlikheid te sien, al weet hy niemand kan Hom sien en bly leef nie (Eks 33:18,20).
    Waarskynlik het die Psalmdigter dit ook verstaan: “Dien die Here met vrees, en juig met bewing” (Ps2:11).

❏     Nooit word die vrese van die Here sterker ervaar as tydens herlewings nie. Wat is herlewing? Die kortste definisie is dat dit plaasvind wanneer God in Sy heilige heerlikheid in die midde van Sy volk kom woon (Jh 14:23). Hy stuur dus nie herlewing nie, Hy kom self!     Hd 5:11-16 (onder andere) beskryf soiets in die vroeë kerk: “Die hele gemeente en al die ander mense wat hiervan gehoor het (Ananias en Saffira), het baie bang geword. ... maar van die ander mense het niemand dit gewaag om by hulle aan te sluit nie al het die volk hulle hoog geag.Tog is baie mense wat in die Here geglo het, mans sowel as vrouens, algaande by hulle getal gevoeg.”
    Waarlik, die grootste nood van die kerk is die Here se heerlike teenwoordigheid.

❏     Die poging van teoloë en digters om die vrese van die Here te beskryf, is interessant en insiggewend:

    •    Charles Bridges: “The fear of the Lord is that affectionate reverence by which the child of God bends himself humbly and carefully to his Father's law. God's wrath is so bitter, and His love is so sweet, that hence springs an urgent desire to please Him. And because of the danger of coming short, due to own weaknesses and temptations, there is a holy watchfulness and fear in order not to sin against Him.”

    •     T.V. Moore: “It is the fear of a love that is always tremblingly alive to the possible alienation of the Object that is loved.”

    •     William Bates: “It is that sanctified affection whereby the soul does solemnly and reverently reflect on God's perfections, and hence is moved in all things to promote God's honour.”

    •     F.W. Faber het die paradoksale in die vrese van die Here dalk beter as enigeen beskryf:
“My fear of Thee, o Lord, exults / like life within my veins;
a fear which rightly claims to be / one of love's sacred pains.

There is no joy the soul can meet / upon life's various road;
like the sweet fear that sits and shrinks / under the eye of God.

A special joy is in all love / for objects we revere;
thus joy in God will always be / proportioned to our fear.

Oh, Thou art greatly to be feared / Thou art so prompt to bless!
The dread to miss such love as Thine / makes fear but love's excess.

But fear is love, and love is fear / and in and out they move;
but fear is an intenser joy / than mere unfrightened love.

When most I fear Thee, Lord, then most / familiar I appear;
and I am in my soul most free / when I am most in fear.

I feel Thee most a Father, when / I fancy Thee most near;
and Thou comest not so nigh in love / as Thou comest, Lord, in fear.

They love Thee little, if at all / who do not fear Thee much;
if love is Thine attraction, Lord / fear is Thy very touch”

❏     Daar is beswaarlik iets in die lewe van ‘n man of vrou van God waarop die Skrif ‘n hoër premie plaas, as die vrese van die Here. Waarom? Die liefdesontsag vir God wek in my ware nederigheid en 'n hartstog vir Sy eer. Dit laat my intens begeer om te doen wat Hom behaag en vereer. Dit laat my ten alle koste vermy wat Hom bedroef en onteer.
    Kan daar iets wees wat God meer behaag as so 'n hartsgesindheid?

❏     Die vrese van die Here is die “begín van kennis en wysheid” (Ps 111:10; Spr 1:7; 9:10; 15:33). Het ek en jy al begín?

❏     Die Nuwe Testament koppel meermale die vrese van die Here en heiligmaking.

    •     2 Kor 5:10-11 (OAV): “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad. Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig ...”.

    •     2 Kor 7:1 (OAV): “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.”

    •     Fl 2:12-13 (OAV): “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”

    •     1Pt 1:17 (OAV): “En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap ...”.

    •     Let op dat diegene wat God ken, die vrese van die Here beleef — nie ten spyte van die volmaakte versoeningswerk van Christus nie, maar juis op grond daarvan! Dit is dus 'n genadegawe vir diegene in Christus.

❏     Hoe onmisbaar is die kennis van God, die vrese van die Here en die wysheid wat dit bring, nie vir elkeen wat Sy wil wil ken, verstaan en gehoorsaam nie! Kán God hoegenaamd behaag word daarsonder?

EFFEKTE VAN DIE KENNIS VAN GOD SE HEILIGHEID EN DIE VRESE VAN DIE HERE

❏     Kyk mens in die Bybel na diegene wat ‘n besondere openbaring van God se heiligheid ervaar het, was dit gewis ‘n verkrummelende ervaring. Die lig van God se heerlikheid het as ‘t ware in elke kraak van hulle persoonlikhede ingedring. Selftevredenheid is verplaas deur ‘n vernietigende bewussyn van sondigheid en geringheid. Diep en blywende verskuiwings het in sulke mense se binneste plaasgevind.
    Die effekte hiervan is duidelik sigbaar in diegene in die Bybel wat die heiligheid van God geken het, sowel as in honderde biografieë vanuit die kerkgeskiedenis. En deurgaans is die getuienis hieroor eenstemmig. Wat is hierdie effekte?

❏     Tot die mate wat ons God in Sy heiligheid ken, tot daardie mate is ons ware aanbidders.
    Dit kom veral in vier areas tot uitdrukking:

    •     ‘n Mens se gebedslewe.
    Dit beheers hóé en wát mens bid. Jou gebede raak al hoe meer Godgesentreerd.
    Voorop in jou gebede is jou verlange om Hóm beter te leer ken. Jy soek heel eerste die Gewer; eers daarna Sy gawes.
    En jou gebede word toenemend gekenmerk deur verering, lof en dank. Jy bid nie “met skoene aan nie”.

        ~     Daar is ‘n hemelsbreë verskil tussen vrymoedige en voorbarige gebed. Voorbarige gebed is mensgesentreerd, familiêr, en aanvaar die voorreg om voor die troon van genade te verskyn amper as ‘n vanselfsprekendheid. Vrymoedige gebed, daarenteen, is inderdaad openlik, nie bang of beskeie of terughoudend nie — maar tog diep bewus daarvan dat die voorreg daarvan volledig berus op die verdienste van die Plaasvervanger. En in elke gebed kom dit eers werklik tot uitdrukking as die Koning “Sy septer uitsteek” (Ester 5:2).

    •     ‘n Mens se gesindheid teenoor God se Woord.
    Jy “bewe” vir God se Woord en waarheid (Jes 66:2). Dit is vir jou belangrik om die Woord te verstaan soos dit verstaan moet word. Jy matig jou nie aan om dit te kritiseer nie. Jy vat dit kinderlik-gelowig soos dit kom.
    Iemand wat God in Sy heiligheid ken, het geen geduld met mensgesentreerde prediking en Skrifverdraaiing nie. Die suiwer leer is nie vir hom of haar onderhandelbaar nie — nie ter wille van die suiwer leer op sigself nie, maar ter wille van die Here wie se Woord dit is.

    •     ‘n Mens se hartstog vir God se eer.
    Hiervan is Pinehas, wat vir die Here geywer het, ‘n uitnemende voorbeeld (Num 25:1-13).

    •     Die trant waarop mens oor en met God praat.
    Party “Christene” is vandag meer familiêr met God as wat die Here Jesus, Sy eie Seun, dit ooit gewaag het.

❏     Tot die mate wat ons God in Sy heiligheid ken, tot daardie mate is ons waarlik nederig.

    •     Om God in Sy heiligheid te ken, is om jouself in jou nietigheid en sondegeneigdheid te ken. In die Bybel val bykans elkeen wat die Here “sien” op sy gesig. Jesaja se eerste gewaarding is die van eie onreinheid (Jes 6:5).

    •     Ware nederigheid is om laag voor God te wees. Maar as mens dan weet wie jou God is, vrees jy mense al hoe minder. En Sý eer sal jy met alles in jou verdedig. Dis waarom Moses meteen die sagmoedigste man op aarde kon wees (Num 12:3), en terselfdertyd keer op keer soos ‘n rots voor die agressie van die hele volk kon bly staan. Dit laat mens ook dink aan Dn 11:32: “... die mense wat hulle God ken, sal vasstaan.” (Vgl. ook Dn 3:17-18).

    •     ‘n Vloermat, ‘n papperd, ‘n ja-broer, is dus alles behalwe nederig en sagmoedig. Veeleerder is dit ‘n aanduiding dat hy God nie in Sy heiligheid ken nie — in elk geval nie as sý God nie.
    Wat egter wel waar is, is dat diegene wat God ken, en hulle posisie in Christus, en hulle hoë en verhewe roeping, keer op keer en onbedreig die voorskoot van diensbaarheid kan aantrek (Jh 13:3-5). En hulle doen dit spontaan, amper onbewus daarvan. Ware nederigheid gaan gepaard met ‘n sekere afwesigheid van selfbewustheid. So ‘n persoon ontvang ‘n koppie tee en die Nobelprys met dieselfde grasie en dankbaarheid. Alle goeie gawes kom immers uit die hand van ‘n algoeie en liefdevolle hemelse Vader.

    •     Beklemtoning van die voorregte van ‘n Christen se erfenis in Christus, sonder gepaardgaande lering oor die verhewe persoon en karakter van God, lei feitlik sonder uitsondering tot arrogansie en voorbarigheid voor Hom. Hiervan is die huidige ligsinnigheid en selfgesentreerdheid in talle kerklike en pseudo-kerklike kringe simptomaties.

❏     Tot die mate wat ons God in Sy heiligheid ken, tot daardie mate sal ons harte brandende van dankbaarheid en liefde teenoor Hom wees.

    •     Niemand kan God in Sy heiligheid ken, sonder om ook iets van Sy toorn te verstaan nie. As hy dan begryp dat hy nie sy verdiende loon nie, maar God se genade ontvang het, is diep dankbaarheid en liefde ‘n noodwendige gevolg. Vanuit hierdie liefde vloei dan die diep verlange om God beter te ken: “Toon my U heerlikheid.”

    •     Dankbaarheid en liefde teenoor God is die groeibodem van alle ware godsvrug. Goeie werke waarvan dit nie gesê kan word nie, is wetties en formalisties — dooie werke in God se oë.

❏     Tot die mate wat ons God in Sy heiligheid ken, tot daardie mate sal ons dit najaag om heilig voor Hom te leef.

    •     Hoe kan iemand die skoonheid van die Here se heiligheid sien, sonder om die res van sy of haar lewe daarna te verlang — ook om dit in jou eie lewe toenemend te ervaar?
    •     Dit laat mens sonde toenemend haat, omdat dit die Here, en besonderlik Sy Gees, bedroef; omdat dit Sy Naam oneer aandoen en die koms van Sy Koninkryk belemmer; omdat dit mense vernietig wat na Sy beeld geskape is; en omdat dit gemeenskap met Hom vertroebel.
    Spr 8:13: “Die vrees van die Here is om te haat wat sleg is ...”.

    •     Dit laat mens geregtigheid najaag, omdat dit die Here behaag en verbly; omdat dit Sy Naam verheerlik; en omdat dit gemeenskap met Hom bevorder.
    So ‘n persoon se lewe word dus gekenmerk deur gehoorsaamheid en ywer om die Here te behaag. Jesaja: “Hier is ek! Stuur my!” (Jes 6:8).
    Gn 22:12: “... nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.” Abraham het die sonde van ongehoorsaamheid meer gehaat as wat hy sy seun liefgehad het.

❏     Tot die mate wat ons God in Sy heiligheid ken, tot daardie mate sal besorgdheid oor die verlorenheid van mense, die welsyn van die kerk, en die verkondiging van die ware evangelie ons lewens kenmerk.

    •     Spesifiek was Jesaja gretig om die Here se Woord aan die in sonde gevalle volk te gaan verkondig (Jes 6:5, 8).
    Omdat hy God se heiligheid gesien het, het hy iets van Sy toorn teen sonde begryp. Traak-my-nie-agtigheid oor die volk se ewige staat, sou neergekom het op hardvogtigheid — en vir ‘n gebrokene is dit nie meer moontlik nie.
    2Kor 5:11: “Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig ...” (OAV).

    •     Vir iemand wat iets van die Here se heiligheid verstaan, is dit onhoudbaar dat Hy nie verheerlik word nie. En aangesien God se eer ten nouste gekoppel is aan die welsyn van Sy kerk, brand so ‘n persoon se ywer dat die kerk waarlik kerk moet wees.

    •     Waar ‘n gemeente die Here eer en vrees, is Hy in hulle midde, en kom mense tot bekering (vgl. 1Kor 14:24-25; Hd 5:11vv). Hier lê een rede waarom soveel mense tydens herlewings tot bekering kom.
    A.W. Tozer: “The popular notion that the first obligation of the church is to spread the Gospel to the uttermost parts — is false. Her first obligation is to be spiritually worthy to spread it!”.

TEN SLOTTE

❏     Mal 3:16-4:2 (OAV): “Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ’n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer. En hulle sal My tot ’n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos ’n man medelyde het met sy seun wat hom dien. Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie. ... Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal.”

❏     1Pt 1:13-25 (OAV): “... soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig. ... wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap ... omdat julle weet dat julle ... losgekoop is ... deur die kosbare bloed van Christus ...”.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment