Antipas Heroute
Skryfwerk van Nico van der Walt ter wille van Godgesentreerde, Christusgefokusde en Bybelgefundeerde waarheid, oortuiging en praktyk
Wednesday, February 19, 2020
Friday, February 14, 2020
SKRIFTUUR EN NATUUR - BEIDE REG VERSTAAN - IS ALTYD IN HARMONIE [2]
Skriftuur en Natuur
— beide reg verstaan —
is altyd in harmonie
'n Getuienis
Nico van der Walt
Hoofstuk 2
'n Klompie moeitewerd boeke, webwerwe
en skrywers om te raadpleeg
Soos
reeds gemeld, het ek wyer gelees as onderstaande boeke en artikels. En soos ek
tyd kry sal ek seker nie ophou lees nie. Ek noem nie eintlik teologiese
kommentare en woordeboeke nie. Elkeen moet maar raadpleeg wat hy of sy
beskikbaar het. En moenie die internet vergeet nie. Uiteraard is nie alles wat
mens dáár kry betroubaar nie. En vir seker moet mens ook nie elke skrywer vir
soetkoek opeet nie (natuurlik ook nie elke teoloog nie!). Maar daar is wel op
die internet 'n ontsaglike bron van kennis wat mens ernstig kan opneem.
Ek sou heelwat kon noem, maar enkele
"ou-skepping-skrywers" en webwerwe het my veral baie gehelp in my
soeke na meer begrip oor die verhouding tussen God se Besondere Openbaring en
sy Algemene Openbaring, asook oor my verstaan van Gen 1-2.
Ek noem net 'n paar:
# Paul Copan; Tremper Longman III;
Christopher L. Reese; Michael G. Strauss (General Editors): Dictionary of
Christianity and Science; Zondervan; 2017; 691pp.
'n Ensiklopedie en skitterende
naslaanwerk. Dis sy aansienlike gewig in goud werd en 'n móét vir elkeen wat
meer wil insak in hierdie onderwerp. Dit bevat meer as 450 artikels, geskryf
deur 140 vooraanstaande en internasionale geleerdes — sowel teoloë as
natuurwetenskaplikes.
Wat besonder waardevol is, is dat,
waar daar uiteenlopende standpunte in die liggaam van Christus is, 'n skrywer
van elke beskouing dan sy besondere standpunt uiteensit — kernagtig maar
duidelik. Dit geld sowel ou as jong-skepping standpunte en stel elke leser in
staat om behoorlik ingelig te wees, te vergelyk, en self te besluit wat hy of
sy aanvaar en glo. En dit stuur mens weg van almal van ons se neiging om
pypiekykers te wees.
Dis ongelukkig 'n duur boek (amper
R1000), maar wel beduidend goedkoper by Good Neighbours Bookshop in
Johannesburg (T: 011-704 1857; www.goodneighbours.org.za), asook by Augustine
Bookroom in Pretoria (T: 012-9934606; www.augustine.co.za).
# C.
John Collins: Science and Faith - Friends or Foes?; Crossway Books; 2003;
448pp. Nog 'n waardevolle boek van hom is: Genesis 1-4 — A Linguistic,
Literary, and Theological Commentary; P&R Publishing, 2006; 318p.
Collins is 'n Ou Testament professor
aan die Covenant Theological Seminary in St. Louis, VSA. Hy het ook 'n
meestersgraad in elektriese ingenieurswese aan die wêreldwyd-geagte Massachusetts
Institute of Technology behaal. Sy doktorsgraad het hy in Hebreeus
verwerf.
Collins is nie 'n liggewig teoloog
nie. Wat hierdie boeke besonder waardevol maak, is die Bybels-eksegetiese
uitgangspunt. Ook Collins is van 'n ou-skepping oortuig, maar benader die
Bybelteks van Gen 1-2 met groot teologiese vaardigheid en integriteit. Die boeke
is nie altyd ewe maklik om te verstaan nie (dis hier en daar taamlik tegnies),
maar ek het baie daaruit geput.
# Wayne Grudem: Systematic Theology;
Inter-Varsity Press; 1994. Hoofstuk 15; p.262-314. Ongelukkig is die boek
al 26 jaar gelede gepubliseer. Maar die inhoud bly nogtans waardevol.
# John
C. Lennox: God's Undertaker - Has Science buried God?; Lion Books; 2009
John C. Lennox: Seven Days that
Divide the World; Zondervan; 2011.
Díé
emeritus-professor in Wiskunde aan die Universiteit van Oxford is al vir meer
as 60 jaar 'n toegewyde Christen. Hy het heelwat méér as net bg. boek geskryf
(dit sluit Bybeluitleg in). Sy aanslag is redelik populêr en verteerbaar.
Hy het in onlangse tye bekend geraak
a.g.v. talle televisie-debatte met veral ongelowiges. Google hom, jy sal
hom geniet — soos ek.
# Norman
L. Geisler & Frank Turek; I don't have enough faith to be an Atheist;
Crossway; 2004. Die boek is stimulerend en insiggewend. Dis populêr geskryf
en lees gevolglik relatief maklik.
# Prof.
S. du Toit: Bybel, Skepping Evolusie, Voortrekkerpers, 1964
Die boekie is 50 jaar gelede geskryf
deur 'n baie geagte Ou Testament professor aan die Gereformeerde Kerk se
Teologiese Skool in Potchefstroom. Ook hy verdedig op Bybelse gronde 'n ou
skepping. Sy eksegetiese perspektiewe is steeds waardevol. Daarbenewens verwys
ek hier na 'n skrywer wie se regsinnigheid bo alle verdenking was, om sekere
lesers wat dalk nog bedenkinge mag hê oor my regsinnigheid, gerus te stel.
Sover ek kan vasstel, is dit bes moontlik die eerste teologiese werk in
Afrikaans met hierdie standpunt.
Uiteraard is die boekie al vir
dekades uit druk. Ek het dit 45 jaar gelede uit my pa se boekery gegaps nadat
hy oorlede is.
# John Gilchrist; Designed for a
Purpose; Christian Resource Ministries, 2012.
Hierdie Suid-Afrikaner bring
interessante perspektiewe na vore, en is beslis die moeite werd om te lees (dis
nie moeilik nie). Bogenoemde boek kan by hom persoonlik bekom word: Kleinstraat
28, Lakefield, Benoni, 1500; Tel 011 894 1830.
# J.B. Stump: Creation, Four views on
Evolution and Intelligent Design; Zondervan; 2017.
Hoewel die boek soms taamlik tegnies
is, is dit 'n goeie inleiding en oorsig oor vier verskillende beskouinge oor
ons tema. Dis 'n boek vir diegene wat die onderwerp meer in diepte wil
bestudeer.
Leidende figure oor elkeen van vier
beskouinge sit sy betrokke standpunt kortliks uiteen, dit word dan deur die
ander drie bydraers gekritiseer en uiteindelik lewer die inleier weer sy
repliek. Die vier debatsvoerders is Ken Ham (jong aarde skepping); Hugh Ross
(progressiewe skepping); Deborah B. Haarsma (ewolusionêre skepping) en Stephen
C. Meyer (intelligente ontwerp). Ingeligtes sal hierdie vier dadelik herken as who's
who-figure in die hele debat wat die afgelope klompie jare hoog brand.
Die 4 bydraers is almal
natuurwetenskaplikes (Ross is wel ook 'n pastor) en mens moet dus nie te veel
teologie verwag nie. Al vier is Christene.
Die boek is ook digitaal op internet
teen 'n redelike prys beskikbaar.
# Wat
webwerwe betref, bevat die onderstaandes meer kos as wat mens in 'n leeftyd kan
verteer. Let op dat nie al die bydraers uitgesproke Christelik is nie (hulle
aanvaar wel die feit van 'n Skepper en verwerp Darwinistiese ewolusionisme).
Mens moet dus met onderskeiding daarna kyk. As 'n bepaalde webwerf jou nie
aanstaan nie, groet hom dan gewoon. Baie mense sal die inhoud van meeste of selfs álmal te
uitdagend vind. Laat dit jou vir geen oomblik kwel nie en vergeet van die
webwerwe. Nie almal van ons hoef ons oor hierdie dinge druk te maak nie. Al wat
immers in die finale analise nodig is, is om met 'n kinderlike geloof end-uit
in Christus te skuil. Maar as jy nie redelik kundig oor ons tema is nie, bly
dan tog maar beskeie en moenie te vinnig praat nie. Om te luister en te
beoordeel, is gewoonlik meer wys as om te praat.
+ network.asa3.org .: American Scientific Affiliation.
Hier is honderde artikels met 'n Christelike uitgangspunt, party weliswaar
effens verouderd. En hou in gedagte dat nie almal dieselfde vertrekpunte het
nie (weliswaar huldig almal 'n ou skepping).
+ www.biologos.org : The
Biologos Foundation. Hierdie organisasie aanvaar dat God onder meer teïstiese
ewolusie (te onderskei van ateïstiese of Darwinistiese ewolusionisme)
gebruik het in die skepping van die heelal. Dit beteken egter nie dat die van
ons wat nie daarmee saamstem nie (ek is een van hulle), nie tog ook op so 'n
webwerf iets kan vind wat insiggewend is nie. Gaan kuier gerus daar; daar is
baie interessanthede.
Persoonlik het
ek 'n sagte plek vir die stigter van hierdie organisasie, Francis S. Collins,
gewese hoof van die Human Genome Project, wat beskou word as een van die wêreld
se leidende wetenskaplikes. Hy is 'n toegewyde Christen. Sy baie bekende boek, The
Language of God, is die moeite werd om te lees.
+ www.cis.org.uk :
Christians in Science
+ www.veritas.org : The
Veritas Forum
+ www.discovery.org
: The Discovery Institute — Where
Science and Faith converge.
+ www.reasons.org
: Reasons to believe
Belangrikste Bybeluitsprake oor die
skepping
Ou
Testament Nuwe
Testament
Gen
1-2; 9:1-17 Luk
8:22-25
Job
38:1-42:17 Joh
1:1-18
Ps
8; 19; 104; 148 Hand
17:16-34
Spr
8:22-36 Rom
1:18-20; 8:18-30
Jes
40:9-31; 65:17-25 Kol
1:15-20
Heb
1:1-14; 11:1-
2Pet
3:3-16
Op
21:1-8
'n Nadere kyk na Genesis 1:1-2:3
Wat
van die verstaan van enige Skrifgedeelte geld, is ook waar van Gen 1-2. Daar is
ten minste 4 elemente wat mens in ag moet neem: eerstens, die historiese
konteks, tweedens, die genre of literatuursoort, derdens, die uitleg
of struktuur van die teks; vierdens, wat sê dit vir ons, mense van
die een-en-twintigste eeu?
Ons is baie geneig om die eerste twee
elemente af te skeep en direk met nommers drie en vier aan te gaan. Maar dit
sal baie maklik die gevolg hê dat ons verklaring onverstaanbaar sou wees vir
die oorspronklike lesers. Sekerlik sou dit antieke Israel nie toegerus het om
die heidense mitologieë van hulle dag te ontkom nie.
Of eenvoudiger gestel, eerstens moet ons
die vraag vra, wat het die teks destyds vir die lesers beteken? Maar vir
seker moet ons dan voortgaan met die vraag, wat beteken dit vir ons?
Eerstens,
die historiese konteks
Wie het die Pentateug geskryf — en dus Gen 1-2?
# Dit word algemeen aanvaar dat hierdie eerste
5 boeke van die Bybel in ongeveer die jaar 1440 voor Christus geskryf is, en
wel tydens die uitog uit Egipte. Daar is wel ook mense wat dink in terme van
1260 vC.
# Sowel die Joodse geloof as die Christelike
kerk glo dwarsdeur die kerkgeskiedenis, van die eerste eeue af, dat Moses die
pentateug geskryf het. Dit word algemeen aanvaar dat dit ook Gen 1-3 insluit.
Die
vanselfsprekende uitsondering is ten minste Deutronomium 34, wat oor Moses se
dood en begrafnis handel, waar dit ook verklaar word dat God self hom in 'n
onbekende graf begrawe het. Dit sluit ook nie uit nie dat Moses, ten minste vir
sommige gedeeltes, van bronne en oorgelewerde tradisies gebruik gemaak het; ons
kan dit trouens bo enige twyfel aanvaar. Maar, en hierdie kwalifikasie staan
vas vir 'n Bybelgelowige, dit het onder die verligtende en inspirerende
leiding van die Heilige Gees geskied.
In 'n
antieke geskrif word gesê dat God die spreker was en dat Moses dit bloot
neergeskryf het. Dis 'n té ongekwalifiseerde uitspraak. Persoonlik sou ek dalk
wel so 'n siening van Gen 1-3 kon aanvaar. Sekerlik moet soiets min of meer
geld van Gen 1:1-2, asook die gedeelte oor die skeppingsdae — toe daar nie
menslike getuies was nie. Sou mens dít nie aanvaar nie, moet jy noodwendig
aanneem dat die Bybel se skeppingsbeskrywing net oorgelewerde volksfantasieë en
-legendes was. En dis vir Bybelgelowiges onaanvaarbaar — en wat my betref, sou
dit 'n studie soos hierdie feitlik geheel-en-al irrelevant maak. Dan vegeet jy
gewoon van die Bybel en luister nét na die natuurwetenskappe.
Daar
is inderdaad sterk Bybelse getuienis dat Moses die outeur van die pentateug
was. Niemand in daardie tyd was meer kundig en dus
gekwalifiseerd om dit te skryf nie. Sekerlik was hy, te danke aan die voorregte
van sy opvoeding in Egipte, die mees geleerde man onder die Israeliete — wat
die vermoë om te skryf ingesluit het (Hand 7:22). En die inhoud van Eksodus tot
Deutronomium sou hy alles vanuit eie ervaring kon beskryf.
Daar
is heelwat teksgetuienis in die pentateug dat Moses dikwels oor ervaringe en
gebeure geskryf het (Eks 17:14; 24:4; 34:27; Num 33:2; Deutr 31:19; 31:24-26). Dat
hy ten minste sekere dinge opgeteken het, word reeds deur Joshua
bevestig (Jos 1:7; 8:30-31).
Ook
die Nuwe Testament aanvaar Moses se outeurskap sonder meer (Joh 1:17; Rom 10:5;
2 Kor 3:14-15).
Onthou
vir wie Moses geskryf het — vir hulle én vir ons.
Vir die mense van sy tyd
# Genesis
is geskryf vir mense met 'n lewensuitkyk en kultuur van daardie tyd. Calvyn het
dit korrek gesien. Hy skryf iewers: "Die Bybel is 'n boek toeganklik vir
elkeen, en Moses het daarom sy skryfwerk by algemene gebruik aangepas."
Wie
dit nie voortdurend voor oë hou nie, dwaal onvermydelik kort voor lank in sy
verstaan van Gen 1-2.
# As
die klomp Israeliete die woestyntog aanpak na die land toe wat aan Abraham
beloof is, het hulle reeds 400 lang jare in Egipte agter die rug. Al
Godsopenbaring wat hulle het, sover ons weet, is mondelinge oorleweringe van
dit wat die aartsvaders eeue vantevore ontvang het — ook maar uiters beperk in
vergelyking met wat ons vandag het. Voeg daarby dat hulle waarskynlik grootliks
ongeletterd en ongeleerd is — eintlik net 'n slawegespuis. Daar kan min twyfel
wees dat hulle lewenstyl min verskil van die heidenvolkere om hulle. Van die
lewende Verbondsgod weet hulle bloedweinig. Selfs die geleerde Moses moet weer
en weer lewensveranderende ontmoetings met Jahweh ervaar — om hom voor te berei
om sy mense te leer, as 't ware van voor af.
Maar
dit het nie net oor begrip gegaan nie. Bes moontlik het die Israeliete al
grootliks verval in die heidense aanbidding van die Egiptenare. Mens sien dit
byvoorbeeld in die insident van die goue kalf, wat soortgelyk was aan die
praktyke van die vrugbaarheidskultusse in Egipte (Eks 32:1-6).
As
die Israeliete by Horeb aankom verskil hulle wêreldbeeld, lewenstyl en
aanbidding
beswaarlik dus van díé van die
heidenvolkere rondom hulle. Die vyf boeke van Moses moes instrumenteel wees om
die Hebreërs 'n volk van God te maak, met 'n Godgegewe Godsbeeld en
aanbiddingskultuur.
Dis
vir hierdie mense wat Gen 1-2 in die eerste instansie geskryf is!
As
ons dit uit die oog verloor, gaan ons ons hoofstukke verkeerd vertolk — dinge
daarin lees wat dit nooit wou sê nie.
# Daar
het 'n formidabele taak op Moses gewag. Die volk moes radikale veranderings
ondergaan. Godsdienstig moes daar 'n totaal nuwe gerigtheid en Godsbegrip
gevestig word. 'n Nuwe roepingsbewustheid moes by hulle posvat, en 'n gans nuwe
kultuur. Hulle sou ware aanbidding en moraliteit moes aanleer. Hulle is uit
Egipte gehaal, maar Egipte moes nog uit hulle gehaal word.
Die
11 maande en 5 dae wat Israel by Sinai gestaan het hierin 'n sentrale rol
gespeel. Dit moes daar in die afsondering van die woestyn gebeur. In Gosen met
sy rugbrekende slawediens en al sy afgodery en ander invloede sou die vestiging
van so 'n radikaal nuwe ingesteldheid menslik gesproke onmoontlik gewees het.
In elk geval moes Egipte en alles waarvoor dit gestaan het eens en vir altyd in
vergetelheid agter hulle gelaat word.
Maar
méér was nodig. Die radikale verstellings wat by Sinai plaasgevind het, moes
ook in stand gehou word. En presies dit was die funksie van die pentateug. Moses
se vyf boeke moes van die Israeliete die volk van God maak en hulle die volk
van God hou.
Vir ons wat in die 21ste eeu leef
Laat ons dit nooit vergeet nie: die
Bybel is óók vir alle geslagte geskryf. Dis nie net tydgebonde nie; dis ook
tydloos. Die Bybel is nie net deur 'n gewone mens, Moses van destyds, geskryf nie;
dit is ook bonatuurlik deur die Heilige Gees geïnspireer, sodat dit steeds
relevant bly vir mense wat 'n duisend maal meer van die skepping weet as
destyds se Israeliete. Die Here God het vir seker geweet dat mense van die
een-en-twintigste eeu óók die skeppingsverhaal gaan lees en sal wonder hoe dit
versoenbaar is met wat húlle van die skepping weet.
Dis noodsaaklik om beide bogenoemde
waarhede vas te hou!
Tweedens, die literatuursoort van Gen
1-2
# Die
boek is oorspronklik in Hebreeus geskryf en die heel eerste woord daarvan is
meteen ook die naam van die boek — die enkele Hebreeuse woord wat ons vertaal,
"In die begin". Die naam "Genesis" is gegee deur die eerste
vertalers van die Ou Testament in Grieks — dis Grieks vir
"oorsprong".
Dit
sinspeel reeds daarop dat wat gaan volg geskiedenis is wat regtig gebeur het.
Maar ek sal poog om te toon dat dit betroubare en werklike geskiedenis is wat
veral in die twee hoofstukke waarna ons kyk tot 'n groot mate in poëtiese taal
vertel word.
# Watter
literatuursoort tref ons in Gen 1-2 aan? Prosa of poësie? Geskiedenis of gelykenis?
Probeer
mens hierdie vraag antwoord, bespeur jy onmiskenbaar 'n dubbele karakter, veral
in hoofstuk 1. Dis prosa — dis geskiedskrywing. Maar dis eweneens
poësie — daar is beeldspraak en simboliek.
+ Die twee hoofstukke vertoon duidelik
die trekke van prosa en geskiedskrywing. Dis iets wat regtig gebeur het.
Sien ons dit nie steeds dag en nag rondom ons nie?
Dit
lê byvoorbeeld in die tydsaanduidings: "en dit was aand en dit was
môre". Dis te sien in die stelselmatige voortgang van gebeure: "die
eerste dag", "die tweede dag" ensovoorts. Mens sien dit in die
herhaalde, "En dit was so."
Mens
sien die kronologiese ook in die feit dat Gen 1:1-2 duidelik voorafgaande is
aan die ses skeppingsdae wat in Gen 1:3-31 beskryf word (hierdie orde word
vorentoe gemotiveer).
Duidelik
loop die skeppingsgebeure ook uit op 'n klimaks — die skepping van die mens,
waaraan verreweg die meeste aandag gegee word.
Sonder
twyfel volg dag 7 na dae 1-6.
C.
John Collins skryf daarom: "Genesis is offering us the true story of
mankind's past."[1]
+ Tog is dit nie nét prosa nie. Die twee
hoofstukke vertoon meteen onmiskenbare poëtiese trekke. In hoofstuk 1 is
daar alliterasie en 'n patroonmatige manier om die gebeure te beskryf. Neem as
voorbeeld die oor-en-oor refreine, "en dit was so"; en "toe sien
God dat dit goed was"; "Laat daar ...". Ensovoorts.
Mens
vind ook antropomorfismes (segwyses wat God voorstel asof Hy 'n mens is). God
praat, sien, werk, rus. Dit geld ook hoofstuk 2 waar Hy 'n tuin aanlê, asook
hoofstuk 3 waar Hy in die tuin wandel.
Ek
sê meer oor die poëtiese karakter hieronder.
# Vir
'n verantwoordelike vertolking van die gedeelte is bogenoemde dubbele karakter,
die van prosa én poësie, van die allergrootste belang.
+ Aan die een kant bewaar die historiese
van 'n miskenning dat God self, persoonlik en bo-natuurlik — en régtig — in die
geskiedenis geskep het (Eng. hands-on). Dit bewaar ons van 'n algehele
versimbolisering wat die historiese en God se persoonlike en praktiese
betrokkenheid grootliks uit die prentjie haal.
'n
Ontkenning van die historiese is 'n halftree weg van die aanvaarding dat Gen
1-2 net 'n fabel is. Dan kan mens wel wonder of skriftuur en natuur hoegenaamd
iets vir mekaar te sê het. Dan trek dit die mat onder my basiese uitgangspunt
uit — naamlik dat skriftuur en natuur, vir soverre dit wel oorvleuel — veral
hier in Gen 1-2 in volkome harmonie is. Dan word hierdie harmonie al dan nie
heeltemal irrelevant.
Nee,
aan die historiese karakter van Gen 1-2 móét 'n Bybelgelowige vashou!
+ Aan die ander kant bewaar die poëtiese
en beeldspraak van 'n enkelvoudige, simplistiese en letterlike vertolking van
die skeppingsgebeure wat die lesers laat vasloop teen teenstrydighede (soos
byvoorbeeld die skepping van lig op die eerste dag, en die skepping van die
son, die maan en die sterre op die vierde dag).
'n
Letterlike 24-uur vertolking hou ook nie rekening met al die gebeure nie. Dit
word op sy duidelikste gesien as mens na die sesde dag kyk (hieroor meer
hieronder).
En
les bes wil so 'n letterlike vertolking eenvoudig nie rym met die getuienis van
die algemene openbaring nie — soos reeds vroeër geskryf is. Daarenteen bring 'n
aanvaarding van die poëtiese in Gen 1 die skeppingsbeskrywing gemaklik in
harmonie met die getuienis van die skepping om ons.
# Ongelukkig
kom enkelvoudige versimbolisering en enkelvoudige miskenning van die historiese
wydverspreid voor in die wêreld van kerk en teologie van ons tyd. Nie een van
die twee sienings is na my mening getrou aan die Skrifopenbaring nie.
Nadere aandag aan die poëtiese
elemente in Gen 1
# Die
Ou Testament is boordevol van die simboliese en die poëtiese. Dit hoef geen
verassing te wees nie. Die Hebreeuse taal — enige taal tot vandag toe — is ryk
in beeldspraak en keer op keer word simbole en metafore gebruik om die boodskap
oor te dra.
Laat
ons nie in die slaggat trap nie om te dink dat prosa feite oordra, en poësie
beeldspraak en dus fiksie. Ons vind hierdie twee skryfwyses selfs hand-aan-hand
om dieselfde boodskap oor te dra. Vergelyk Eseg 16 en Eseg 22 as voorbeelde.
As
mens in gedagte hou dat die Israeliete eenvoudige mense was, verstaan jy dat so
'n dubbel-loop aanslag baie effektief kon wees. Dit is meermale steeds die
geval. Inderdaad is beeldspraak soms vandag nog die beste manier om iets oor te
dra.
# Hoewel
dit steeds in die letterkunde van ons dag voorkom dat 'n storie nie altyd letterlik
en kronologiese vertel word nie, het ons baie gewoond geraak aan 'n formele
manier van skryf in wetenskaplike artikels, juridiese verklarings, historiese
beskrywings en ander formele dokumente. Ons is gewoond daaraan om 'n storie
kronologies oor te dra — gewoonlik met 'n streng logiese ontwikkelingsgang.
Maar
die Bybel is in 'n radikaal ander wêreld geskryf. Logika en kronologie was nie
altyd só belangrik nie. Ons sien dit selfs in die Nuwe Testament. So
byvoorbeeld word die Evangelie van Johannes gekenmerk deur die afwisseling
tussen verbandhoudende wondertekens en stukke lering van die Here Jesus.
Kronologie is nie voorop nie. Die evangelie is logies geskryf, nie kronologies
nie.
En
dalk is die beste voorbeelde die gelykenisse wat Jesus vertel het, juis ter
wille van sy eenvoudige luisteraars. Al was dit stories, het dit diepsinnige
waarhede oorgedra.
# 'n
Kennelik doelbewuste en merkwaardige poëtiese struktuur is onderskeibaar in die
beskrywing van die sewe dae. Aan onderstaande is dit duidelik dat die skrywer
nie net noukeurig aandag gegee het aan die inhoud van wat hy geskryf het
nie, maar vir seker ook aan die vorm of struktuur daarvan. Sonder twyfel
spreek dit van volwasse nadenke en letterkundige vaardigheid.
+ In Gen 1 word agt keer beklemtoon dat
God met sy woord tot stand gebring het.[2]
Elke keer is dit die inleiding tot 'n sukkie vier- of driereël poësie —
gesamentlik die skeppingsgedig. Sonder twyfel is die
"skeppingsverhaal" doelbewus so geskryf. Die uitleg word in Tabel 2
hieronder uiteengesit.
+ Tweedens is die simboliese syfers, 3
en 10 prominent. Daar is 3 "probleme" op die aarde van Gen 1-2 wat
aangespreek moet word ('n aarde wat woes en leeg is; duisternis; diep waters).
Dit word reggestel tydens twee stelle van 3 dae elk (sien hieronder).
Die
werkwoord "om te skep" word op 3 plekke gebruik en die derde keer 3
maal (v.1, 21, 27, 27, 27).
Die
uitdrukking, "volgens hulle soorte", word 10 keer gebruik (v. 11, 12,
12, 21, 21, 24, 24, 25, 25, 25).
+ Derdens is 'n sekere simmetrie
bespeurbaar as mens aandagtig na die ses skeppingsdae kyk. Die herhaling van
die lig-tema op dae 1 en 4 suggereer dit reeds. Vroeg in die kerkgeskiedenis het Augustinus al hierdie
raamwerk raakgesien. En twee eeue gelede het 'n sekere J.G. von Herder op die
betekenisvolle simmetrie tussen die twee drielinge van dae gewys (dag 1-3 en
dag 4-6). Hierdie simmetrie word baie algemeen aanvaar, hoewel verskillende
kommentatore dit op verskillende maniere bewoord — maar elke keer kom dit maar op
dieselde neer. Die uitleg word in Tabel 1 hieronder uiteengesit.
:
= Dae 1-3: Skepping van die aarde as woonplek.
= Dae 4-6: Skepping van die bewoners
van die aarde (bewegende ligdraers gepersonifiseer — onthou, dis 'n
gedig).
# So
'n verdeling word waarskynlik bevestig deur Gen 2:1 —: "So is dan voltooi die
hemel en die aarde (die woonplek) met hulle ganse leërmag (die
bewoners)."
Tabel 1
Die struktuur van Gen 1:3-23: Woonplek en Bewoners
Die
woonplek Die
bewoners
Dag Geskep Wat geskep Dag Geskep Wat geskep
1 Lig
en Donker 4 Ligdraers
2 See
en Lug 5 Seediere, Voëls
3 Land,
See, Plante 6 Diere, Mense
Dag 7: God se voortgaande rus van sy
skeppingswerk
Tabel 2
Die agt "gediggies" van Gen
1
Gedig
Dag Gedig Vers
Aantal Reëls Oop
1 1 (a)
God het gesê: laat ... 3
(b) en daar was / en dit was so 3 4 —
(c) toe sien God dit is goed 4
(d) dit was aand en môre, die eerste dag 5
2 2 (a)
God het gesê: laat ... 6
(b) en daar was / en dit was so 7 3 c
(c) --
(d) dit was
aand en môre, die tweede dag 8
3 3a (a)
God het gesê: laat ... 9
(b) en daar was / en dit was so 9 3 d
(c) toe sien God dit is goed 10
(d) --
4 3b (a)
God het gesê: laat ... 11
(b) en daar was / en dit was so 11 4 —
(c) toe sien God dit is goed 12
(d) dit was
aand en môre, die derde dag 13
5 4 (a)
God het gesê: laat ... 14
(b) en daar was / en dit was so 15 4 —
(c) toe sien God dit is goed 18
(d) dit was
aand en môre, die vierde dag 19
6 5 (a)
God het gesê: laat ... 20
(b) -- 3 b
(c) toe sien God dit is goed 21
(d) dit was
aand en môre, die vyfde dag 23
7 6a (a)
God het gesê: laat ... 24
(b) en daar was / en dit was so 24 3 d
(c) toe sien God dit is goed 25
(d) --
8 6b (a)
God het gesê: laat ... 26
(b) en daar was / en dit was so 26 4 —
(c) toe sien God dit is goed 31
(d) dit was aand en môre, die sesde dag 31
Die
struktuur is onmiskenbaar. Dis poësie! Ja, dis geskiedenis, maar dis nie
letterlik nie. Dis geskiedenis in digterlike vorm.
Dae 1
2 3a 3b 4
5 6a 6b
Aantal reëls 4
3 3 4 4
3 3 4
Oop reël —
c d —
— b
d —
# Opmerking: Dit mag die leser pla dat die ligdraers in Tabel 1 as "bewoners" geklassifiseer word. Ek begryp die beswaar. Maar miskien lê die antwoord in die feit dat die hemelliggame meermale in die antieke wêreld gepersonifiseer is. Mens kan dit verstaan as jy daaraan dink dat mense sekerlik gefassineer was deur die feit dat veral die son en die maan, maar ook die sterre, voortdurend beweeg. Onthou, hulle het nie ons gesofistikeerde sterrekundige kennis gehad nie.
-o0o-
[1] C
John Collins: Genesis 1-4, p.243, goedkeurend aangehaal deur Lennox:
Seven Days that divide the World; Zondervan. 2011. p.127.
[2] In vers 22 is die Hebreeus ietwat verskillend (vgl ESV). Maar dit verwys
steeds na God se spreke.
Subscribe to:
Posts (Atom)