Skriftuur en Natuur
— beide reg verstaan —
is nooit in disharmonie nie
Nico van der Walt
Deel 1
Romeine
1:17-21
Want die
geregtigheid van God word daarin geopenbaar, uit geloof met die oog op geloof,
soos geskryf is: "En hy wat uit die geloof geregverdig is, sal lewe."
Want die toorn van God word uit die hemel geopenbaar oor alle goddeloosheid en
ongeregtigheid van mense wat die waarheid in ongeregtigheid onderdruk, omdat
dit wat van God geken kan word, vir hulle bekend is, want God het dit onder
hulle bekend gemaak. Want sy onsienlike dinge word van die skepping van die
wêreld af in dit wat gemaak is, begryp en raakgesien, sowel sy ewige mag as sy
goddelikheid, sodat hulle sonder verontskuldiging is, omdat, alhoewel hulle God
geken het, hulle Hom nie as God geëer of gedank het nie, maar dwaas was in
hulle redenasies en hulle insiglose hart
verduister is.
Inleiding
Oor baie geslagte heen in ons
westerse wêreld is teologie as die "koningin van die wetenskappe"
beskou. Dit was díé bron van gesag en die maatstok waarmee min of meer alles
gemeet is. Die Bybel was nie net in die wakis nie, dit is gelees en was die
fondament van geloof en die hart van lewensoortuiging en -gerigtheid van baie.
Maar in die moderne era het die natuurwetenskappe
sewe-myl-treë vooruit gegee. Geleidelik het dit oorgeneem as die sentrale
riglyn vir meeste mense se lewens- en wêreldbeskouing. Beheersend oor amper die
volle spektrum van filosofie en skeppingsleer is die leer van ateïstiese
evolusionisme. En in die gesekulariseerde wêreld van ons dag gee dit steeds
die toon aan.
Dit
alles het meegebring dat daar tragiese verwarring onder selfs Christene
ontwikkel het oor die betroubaarheid van die Woord van God. Want, so word
gedink, reeds deur die heel eerste twee van die Bybel se 1189 hoofstukke trek
die "alwetende en almagtige" wetenskap van ons dag 'n minagtende en
grynslaggende swart streep: die Bybel is 'n fabel! Ons kry die boodskap
in die media, in die skole, in die universiteite — noem maar op.
Hoe
hanteer ware Christene dit? Hoe maak hulle hul kinders groot? Wat sê hulle vir
jongmense wat na hulle eerste universiteitsjaar nie meer wil saamgaan kerk toe
nie? Wat maak hulle van Jan Publiek se skeptiese oë en meewarige glimlaggies as
hulle probeer evangeliseer?
Uiteraard
moes ek ook maar met hierdie vrae worstel. En in wat volg deel ek met
beskeidenheid my oortuigings oor hoe ek die verhouding tussen die Boek van
die Skriftuur en die Boek van die Natuur verstaan. Party geleerdes —
selfs dalk Christene — sal my aanslag en argumente soms as naïef en oningelig
afmaak. En baie konserwatiewe Bybelgelowiges sal my as Bybelkrities afmaak.
Maar dit weet ek, ek hoef nóg in die kring van Christengelowiges, nóg midde-in
die mees bitsig-ongelowige wêreld, my hoed oor my oë te trek.
Laat
ek sommer dadelik met die deur in die huis val. Vir baie jare reeds is ek
oortuig van 'n ou skepping — met ander woorde veel, veel ouer as 6000 jaar. Ek
kon sien dat dit heeltemal versoenbaar is met die Skrif, spesifiek ook met Gen
1-2. Maar my insig was nog naïef, nie eksegeties behoorlik begrond nie. In 'n
baie vol en bedrywige lewe het 'n behoorlike bestudering van die saak net nooit
vóór genoeg in die prioriteitstou gestaan nie. My omstandighede het egter
verander. Meer tyd vir so 'n fassinerende studie het gekom. En spyt is ek nie!
Dalk is dit wat ek vorentoe skryf voortydig. Baie meer studie is nodig en lê
nog voor, gegee lewe en gesondheid. Maar om te skryf help my om my gedagtes te
orden. En, wie weet, dalk, net dalk, kan dit nou al party mense help.
Drie aanhalings, 'n belydenis, 'n
verduideliking en 'n getuienis
'n Eerste aanhaling
Die groot Nederlandse geleerde en
staatsman, Abrahan Kuyper (1837-1920), het gesê (ek kwoteer dit asof my eie
woorde): "Al die skrywers van die Bybel is beweeg en gestuur deur die
Heilige Gees sodat elke bladsy van God se Woord só onveranderlik en foutloos
neergeskryf is dat dit so goed soos 'n direkte skepping van God is. ... Die
Skrif is God se Woord, sowel in sy geheel as in sy dele. Dit is woordeliks
geïnspireer, nie meganies deur 'n influistering in 'n mense-oor nie, maar
organies — deur die woorde te laat ontspring vanuit die betrokke skrywer se eie
bewussyn en deur gebruik te maak van daardie woorde wat voorhande was in die skrywer
se denke en gees." (Uit 'n toespraak van Kuyper: "De hedendaagsche
Schriftcritiek in hare bedenkelijke strekking voor de Gemeente des
levenden" — Litterarische Fantasieen and
Kritieken XV, 167).
'n Belydenis
As ek na die natuur kyk, des te meer in die lig van die
nuutste natuurwetenskaplike ontdekkings, sien ek tot só 'n oorbluffende mate
die vingerafdrukke van 'n ewige, onveroorsaakte Oorsaak en almagtige
Skeppergod, dat, as dit sou blyk dat die Drie-enige wat Hom in Jesus Christus
aan ons geopenbaar het, níé die ware Outeur is nie (ondenkbaar!), sal ek van
voor af na 'n ánder Skepper begin soek. Want dis oorweldigend en onontkombaar
seker dat Hy ís!
'n Verduideliking
Ek het geen ambisie om nuwe dinge te sê nie. Dit probeer
nie om 'n geleerde studiestuk, 'n akademiese verhandeling te wees nie. Dis
bloot 'n uiteensetting van hoe ek dinge verstaan; van hoe ek die Skriftuur en
die Natuur met mekaar rym. Dis 'n getuienis, 'n belydenis, 'n credo. Dis 'n
beskrywing van hoe ek vrede in my gemoed verkry het, en van hoe ek vrymoedig
met sowel gewone Christengelowiges (en baie geleerde teoloë), asook met
natuurwetenskaplikes (gelowig én ongelowig) kan gesels.
'n Tweede aanhaling
"Op hierdie terrein (die van die natuur) moet nie te
haastig iets in stryd met die Skrif geag word nie, en moet 'n mens nie
saampraat, voordat jy nie ernstige studie gemaak het nie — anders kan jy jouself
deur jou onkunde belaglik maak in die oë van die ongelowige wetenskap."
(Aurelius Augustinus, 354-430 nC: De genesi ad litteram).
As dit 1500
jaar gelede woorde van groot wysheid was, is dit vandag 'n honderd maal meer
die geval.
'n Derde aanhaling
Vir seker sal party van my Bybelgelowige broers en susters
wat lees wat ek vorentoe skryf, bekommerd raak oor my geloofsregsinnigheid.
Daarom haal ek 'n paar sinne aan uit Charles Hodge (1797-1878) se
drie-volume Systematic Theology (gepubliseer in 1872/73). Hodge was een
van die heel grootste teoloë in die geskiedenis van die kerk. Hy was 'n
onkreukbaar regsinnige Bybelgelowige en was reeds 'n eeue-en-'n-half gelede vas
oortuig dat wetenskap en Bybel, reg verstaan, nie in disharmonie is nie.
Vanselfsprekend was hy gekonfronteer deur Charles Darwin se On the
Origen of Species (1859) en het baie duidelik daarmee geworstel. Dit het
hy, anders as sovele ander, met groot intellektuele en akademiese integriteit
gedoen. So het hy, in 'n tyd toe amper deur die bank geglo is dat die aarde net
'n paar duisend jaar oud is, nooit paniekerig of selfs venynig gereageer toe
geoloë, byvoorbeeld, begin verkondig het dat die aarde baie, baie ouer is nie.
So skryf Hodge dan: "It will (one day)[1]
be found that the first chapter of Genesis is in full accord with the facts,
and that the last results of science are embodied on the first page of the
Bible. It may cause the church a severe struggle to give up one interpretation
and adopt another, as it did in the seventeenth century[2],
but no evil need be apprehended. The Bible has stood, and still stands in the
presence of the whole scientific world with its claims unshaken"
(Hodge 1872, p.171).
'n Getuienis
Hierdie studie was en bly vir my 'n wonderlike bydrae tot
my groei in Godskennis. Om te dink dat hierdie aarde wat iewers op die rand van
die heelal lê — 'n stoffie in die sonnestelsel, wat 'n stoffie in die melkweg
is, wat 'n stoffie in die heelal is, wat 'n stoffie in die ewig-ongeskape
Skepper se handpalm is — in die hart is van sy plan om Homself te verheerlik!
Kan dit wees dat ek, 'n stoffie op hierdie stoffie wat ons aarde noem,
bevoorreg is om Hom te ken en lief te hê en te verheerlik!
Die
ontdekkingstog waaroor ek hier met stamelende woorde probeer skryf, het my
geloof in, my lof vir, en my aanbidding van die Drie-enige God wonderlik verryk
— want al drie Persone van die Godheid is betrokke by die skepping en
instandhouding van die heelal. Keer op keer droog my woorde op as ek in
oorstelpte verwondering en liefdesaanbidding in sy teenwoordigheid verkeer.
Ek het
allermins in hierdie ontdekkingstog gearriveer, inteendeel. As ek die lewe en
gesondheid behou, hoop ek om nog talle kere verras en verryk te word met nuwe
insigte. Daarom is dit wat ek vorentoe skryf nie in beton gegiet nie. Daar sal
seker nog baie aanpassings, regstellings en byvoegings kom — en selfs dalk
belydenisse.
Les bes, wat
volg mag dalk net 'n paar mede-gelowiges help in húlle soeke na klarigheid oor
'n saak wat baie aktueel geword het. Dalk mag dit studerende jongmense help om
perspektief te behou onder die geklank van ongeloofskateders. Mag dit 'n
hupstoot verleen aan ons roeping om lig en sout te wees in 'n ontnugterde
samelewing waarin die kerk meermale die pad byster is — en soms ook skuldig is
aan dit waarteen Augustinus hierbo waarsku. Dalk mag dit ouers help in die
koersgewing van hulle kinders in 'n gesekulariseerde wêreld (sommige wat hier
lees sal dalk dink dit sal 'n hulp vanaf die wal tot in die sloot wees. Maar ek
verstout my om eerder te hoop dat dit 'n hulp vanuit die sloot tot bo-op die
wal sal wees.)
Persoonlike geloof, oortuigings en
uitgangspunte
Ek gee onderstaande paragrawe nommers
ten einde vorentoe maklik te kan terugverwys.
1. Wat
ek skryf, skryf ek skaamteloos, vanuit sterk oortuigings — Christelike en
Bybelse oortuigings. Maar ek weet ook dat daar oor dit wat ek vorentoe gaan
aanspreek, uiteenlopende oortuiginge bestaan. En dikwels word hierdie
standpunte gerugsteen deur sterk en vurige opinies. Ongelukkig is dit dikwels
niks méér as net 'n opinie nie.
Maar
elke leser moet in die finale analise self besluit wat hy of sy maak van wat ek
probeer oordra. Dis immers elkeen se prerogatief en verantwoordelikheid —
onontkombaar.
2. Maar
dit gaan oor meer as oortuigings. Dit gaan oor méér as die intellektuele. Ek is
'n Christen, 'n dissipel van die Here Jesus Christus. In Hom alleen skuil ek
vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid. Al vir amper vyftig jaar. Dis die hart
van my bestaan. Niks is belangriker nie. Dit hou uiteraard in dat ek 'n Bybelgelowige
is. Ek glo die Bybel is die geïnspireerde Woord van God — van Gen 1:1 af tot en
met Op 22:21. En uiteraard het dit enorme en lewensbepalende implikasies vir my.
3. Vir
Christene is waarheid uiters belangrik. Ons is mense van die waarheid. Geen
waarheid kan ons daarom ooit bedreig nie. Nóóit hoef ons waarheid te vrees nie!
Nooit nie!
As ons dan inderdaad in Christus is,
is ons veranker in Hom wat die weg die waarheid en die lewe is. En as
dit wat navorsing in die natuurwetenskappe aan die lig bring dan inderdaad die
waarheid is (dit bly natuurlik altyd die vraag), kan dit ons en ons geloof in
die Skeppergod en sy waarheidswoord nóóit bedreig nie — net verryk. En dit kan
ons net dieper inlei in die summum bonum van ons bestaan: om God
steeds beter te ken — sodat ons Hom steeds meer lief kan hê — sodat ons Hom
steeds meer kan verheerlik!
Een stel waarhede kan nooit 'n ander
stel waarhede kanselleer of verplaas nie — net bevestig en ondersteun. Waarheid
én waarheid is altyd in harmonie. Christene hoef die natuurwetenskappe nooit te
vrees nie — nie as dit die geskapene reg verstaan nie!
4. Nog
iets speel noodwendig 'n groot rol in my lewe.
Ek
het meer as 'n dekade se universiteitstudie agter die blad, min of meer gelykop
verdeel tussen die natuurwetenskappe en ingenieurswese, enersyds, en die
klassieke tale (so 'n blerts daarvan) en teologie, andersyds. Nou mag dit vir
party mense klink of ek 'n geleerde man is. Glad nie! Daarvoor is daar nog
veels te veel wat ek nie weet of verstaan nie. Daar is baie wat ek só graag
beter wil begryp, maar keer op keer vind dat ek eenvoudig verstandelik nie
bykom nie.
Ek
is egter nuuskierig en ek hou van verstaan. En ek het 'n passie vir die
waarheid. Ek het veral 'n hartstog vir die regte verstaan van God se
selfopenbaring aan ons. Ten alle koste wil ek nie 'n pypiekyker wees nie! Dit
kon ek nog nooit regkry nie. Ek raak maklik benoud as dinge te eng en bekrompe
raak (dit het my al meermale ernstig in die moeilikheid laat beland!).
Les
bes het die Here Jesus Christus my baie jare gelede geroep om Hom en sy
waarheid so goed ek kan te ken en te verstaan en om dit dan so wyd moontlik te
verkondig — óf deur die gesproke óf deur die geskrewe woord.
Gegee
my agtergrond en my nuuskierigheid, is dit seker nie verbasend dat ek
gefassineer is deur die skepping nie (die makroskepping meer as die
mikroskepping, moet ek sê). My heel diepste hartstog is die Woord van God —
nee, eintlik die Gód van die Woord. Daarom wy ek my al vir dekades aan die
verkondiging van Bybelwaarheid — deur sowel prediking as skryfwerk.
5. Ek
is absoluut oortuig daarvan dat God se besondere openbaring in die
Heilige Skrif en Sy algemene openbaring in die mikro- en makroskepping,
mekaar nie weerspreek nie. As ons beide reg verstaan, sal die twee openbaringe
in volkome harmonie wees. As skriftuur en natuur nog uit pas is in ons verstaan
daarvan, is dit omdat ons óf die een óf die ander óf beide nog nie reg begryp
nie. Dit staan vir my aksiomaties vas! Waarom? Vir my lyk die antwoord
voor die hand liggend en onontkombaar. Dis omdat die enige, ware, lewende en
almagtige God die Maker en Gewer van beide is!
Ek
stel dit hierbo doelbewus negatief. Want die twee openbaringe se aard is
verskillend en hulle het grootliks uiteenlopende gerigthede. Hulle praat
grootliks oor verskillende sake. Daar is nie baie oorvleueling nie. En tóg is
daar wel raakpunte. Dis met die eerste oogopslag maar gering, maar soos mens
meer daaroor nadink, meer daaroor oplees en meer insig verkry, kom jy agter dat
die oorvleuelings kardinaal belangrike sake aansny — wesentlike en lewensbelangrike
sake.
Dis
waarom dit so belangrik is om Gen 1-2 reg te verstaan!
6. Hierdie harmonie tussen skriftuur en
natuur het ten diepste te doen met die verheerliking van ons Skeppergod (die summum
bonum van ons bestaan), die egtheid, meer nog, die gespierdheid van ons
Bybelgeloof, en die outentisiteit van ons getuienis in 'n grootliks
Godvervreemde samelewing. 'n Verkeerde verstaan van hierdie verhouding tussen
skriftuur en natuur — weerspreking in plaas van omhelsing — het al derduisende
verlei om die Woord as onbetroubaar te verwerp (want dis uiters dwaas om die
oorweldigende, oorkruis-bevestigende, en 'n duisend keer oorgetoetse bevindinge
van die natuurwetenskappe sommer so maklik-maklik af te maak as verkeerd). En
dit dwing my om by te voeg dat die skuld dikwels gedebiteer moet word teen die
rekening van fundamentalistiese Christene wat die Bybel deur 'n
halstarrig-konserwatiewe bril lees, daarop aandring om omtrent alles in die
Bybel letterlik te verstaan en weier om óók na die wonderskone en
Godverheerlikende musiek van die algemene openbaring te luister. Dis niks
anders nie as 'n volstruisbenadering. En dit doen baie skade!
Wat ek in die vorige paragraaf sê,
gaan al hoe meer belangrik raak. Ons beleef 'n ontploffing van die mens se
verstaan van die mikro- en makrokosmos. Soos ek reeds hierbo gesê het (en
Charles Hodge lank voor my) hoef hierdie nuwe insigte in die algemene
openbaring Bybelgelowiges nie te bedreig nie. God se besondere openbaring staan
vaster as die berge. Waarheid is waarheid, klaar gepraat!
Wat die skeppingsmusiek steeds mooier
en aangrypender maak as ooit vantevore, is die huidige ontdekking ná
ontdekking van die natuurwetenskappe wat die lewende Skepper se lof al hoe
duideliker besing. En elke keer word nóg 'n spyker ingeslaan in die doodskis
van ateïstiese Darwinistiese ewolusionisme. Waarlik, om 'n gelowige in hierdie
dae te wees, is 'n uitnemende voorreg. Na baie jare se intimiderende en
intellektuele aggressie teen Christene se Bybelgeloof, word van die mees
gesofistikeerde en verstommende ontdekkings in ons dae kragtige bondgenote van
ons geloofsgetuienis.
As 'n ouer kan jy egter jou
kop op 'n blok sit dat jou kinders wat in die natuurwetenskappe en filosofiese
dissiplines gaan studeer met ongelowige Darwinisme van baie slim dosente te
doen gaan kry. As sulke kinders op hoogte is met die wonderlike harmonie tussen
skriftuur en natuur — en veral met ontwikkelinge hieroor die afgelope paar
dekades — sal dit hulle harnas in die geloof wat hulle in die huis geleer het
(dit mag hulle dalk ook ongewild maak by wetenskaponderwysers en -dosente wat
nog vasgeval rondmaal in dit wat hulle dertig jaar gelede geleer het). En
uiteraard moet ons kinders en kleinkinders alreeds so gespierd móóntlik wees as
hulle grootoë op kampusse aankom.
Tragiese
skade word gedoen aan talle jongmense wat opgevoed word in tradisionele
Christenwaardes, maar dan gekonfronteer word met allerlei geleerde en
indrukwekkende ongeloofstandpunte as hulle die ouerhuis verlaat. Dit lei
daartoe dat talle die geloof versaak.
Maar
nie almal draai hulle rug op die Here en sy Woord nie; hulle raak net
ontnugter. Hulle begin waggel tussen geloof en twyfel. En 'n onsekere Christen
word 'n louwarm Christen. En oor diesulkes spreek die Here homself in geen
onduidelike terme uit nie (Op 3). En uiteindelik doen sulke
"Christene" meer skade aan die eer van die Here en die welsyn van die
kerk as selfs die uitgesproke godloënaars. En kerke sit vol sulke lidmate.
Waarlik,
baie nodig het ons ouers, dosente en onderwysers wat die harmonie tussen
skriftuur en natuur behoorlik en met wysheid, takt en insig aan hulle kinders,
leerlinge en studente kan oordra. Dis 'n wonderlike manier om 'n deur vir die
evangelie oop te maak.
+ Ek
het onlangs te doen gehad met twee gelowige en begaafde jongmanne
wat soos feitlik almal van ons groot geword
het met die tipiese verstaan van Genesis 1 — 'n skepping in sewe kalenderdae —
en dis dit! Hulle gaan studeer toe in die natuurwetenskappe — en word
onmiddellik gekonfronteer met dosente wat Darwinistiese ewolusionisme voorstaan
en doseer — in elk geval 'n kosmos van dermiljoene jare. Dit was nie net 'n
dilemma vir hulle nie, maar het hulle in iets van 'n geloofskrisis gedompel.
'n Regte verstaan van Genesis sou hulle
bewaar het van die probleem. Hulle sou ook mede-studente met dieselfde probleem
kon help. En dit sou vir hulle 'n deur wyd oopgemaak het om vir die
Bybelwaarheid te getuig.
Ek glo graag dat die
vorige paragraaf nou 'n werklikheid is in hulle lewens.
7. Teenoor
bogenoemde is die situasie anders in meeste gevorderde akademiese kringe, veral
natuurwetenskaplike kringe. Dáár dink ek persoonlik ek
hoor die doodsklok vir Darwinistiese ewolusionisme lui. Al hoe meer top
wetenskaplikes kom tot die oortuiging en verklaar dit openlik dat ontdekkings
oor die afgelope dekade of twee, drie soos klokslag daarop dui dat daar sonder
enige twyfel 'n onbeskryflik magtige en intelligente Ontwerper en Skepper vir
die ontstaan van sowel die mikro-kosmos as die makro-kosmos verantwoordelik is.
Eintlik het die proses al, baie stadig, 'n honderd jaar gelede begin met
Einstein se formulering van sy relatiwiteitsteorie, en ander ontwikkelings kort
daarna. Dit het onteenseglik bewys dat die kosmos nie ewig is nie (soos
vantevore geglo is in meeste ongelowige natuurwetenskaplike kringe), maar 'n
ontstaan gehad het En dit is natuurlik net 'n halftree weg van die vrae: Wie
het dan die kosmos geskep? Hoe is dit veroorsaak? Waar kom dit vandaan?
Maar soos dit maar met dié soort ding gaan, vat dit lank om deur te suur tot op
straatvlak. Want fanatiese Darwinistiese ewolusioniste doen alles in hul vermoë
om die proses te stuit.
Dit beteken nie dat alle ateïstiese
wetenskaplikes dadelik tot 'n Bybels-Christelike geloof begin kom nie. Maar die
nuwe insigte is bloot 'n skeurploeg wat in God se genade party denkers se ongeloofsharte
begin omdolwe het. En inderdaad het heel party top wetenskaplikes reeds die
ateïsme afgesweer en die Christelike geloof omhels. Maar helaas kom baie nie
verder as die Deïsme[3]
of agnostisisme[4]
nie. Dit was volgens aanduidings die geval met Einstein. En in ons dag verklaar
Michael Denton, die bekende skrywer van die grondbrekende boek, "Evolution
— A Theory in Crisis" (waarin hy "Intelligent Design" verdedig),
dat hy steeds 'n teruggeglye Christen en op die rand van agnostisisme is.
Maar ek wil graag glo en vertrou dat
meer van hierdie mense uiteindelik wél tot 'n Bybelse en evangeliese geloof sal
kom. Sommige het al. Waarom nie meer nie?
8. Uiteenlopende, selfs vurige oortuigings
oor die verstaan van veral Genesis 1-2 waarna ons wil kyk — en ook die
natuurwetenskaplike aanhangsels later — is aan die orde van die dag onder
Christene. En dikwels kry mens die indruk wanneer daaroor gedebatteer word dat
daar meer hitte as lig is. Ek praat van "hitte", want meermale
ontaard 'n gesprek oor die saak in 'n onverkwiklike, bitsige en Godonterende
gestry. So hoort dit nie tussen Christene nie! Daarmee wil ek egter nie sê dat
ons tema 'n eenvoudige en onbelangrike saak is nie, allermins.
9. Wat ek vorentoe skryf, skryf ek in
nederigheid. Dit beteken nie ek sal tentatiewe opinies aan die leser voorhou
nie. Indien wel, sal ek dit sê. Want alles is nie klinkklaar nie — allermins in
my gemoed, maar ook nie in ons verstaan van die skriftuur en die natuur nie.
Maar wat ek skryf is my oortuigings. Ek is oud genoeg om te weet dat, soos meer
lig op mens daag, oortuigingverstellings soms onafwendbaar is. Soms is dit nie
maklik nie, maar wanneer dit wel gebeur, staan jou voete op hoër grond. In my
lewe is sulke "reformasies" nie onbekend nie — en vir seker nie
sonder dankbare vrug nie.
Wat ek daarom vorentoe gaan skryf,
giet ek nie in beton nie. Want benewens mens se begrip en wysheid wat hopelik
voortdurend toeneem, raak natuurwetenskaplike ontdekkings al hoe meer
verbysterend. En die tempo daarvan neem toe. Sou die Here talm om te kom, gaan
mense oor vyf, ses dekades in 'n wêreld leef waarvan ons oueres tans geen benul
het nie (dink maar vyf, ses dekades terug!). Wetenskap en tegnologie gaan
grootliks daarvoor verantwoordelik wees. En laat ons nie té seker wees dit gaan
nie verdere copernikaanse omwentelings bring nie. Dit waarby die wetenskaplike
wêreld vandag staan en val, mag nog weer radikale verstellings ondergaan. En
ons kleinkinders sal meewarig glimlag oor oupa en ouma se naïwiteit.
Maar ek sê weer. Moenie vrees dat dit
God se Woord van die tafel sal afvee nie. Ek is oortuig daarvan dat dit net die
waarheid van die Woord meer en meer sal bevestig. Dit mag wel ons nageslag laat
teruggaan Bybel toe om te kontroleer of oupa en ouma dinge reg verstaan het
(hier dink ek spesifiek aan die dubiis et nonneccessariis, want ek glo
die neccessariis staan so vas soos die berge!)[5].
Sou hulle dan vind dat ons opinies nie heeltemal in fokus was nie, sal die
onder hulle wat wysheid het vir mekaar sê: húlle mag dalk nie al ons insig
gehad het nie, maar laat ons steeds onthou, óns staan op hulle skouers — en ons
het die voordeel van verdere wetenskaplike ontwikkeling!
10. Dit is helaas so dat ons as mense dikwels maar
té geneig is om klippe te gooi oor sake wat ons nooit werklik deurdink of
nagevors het nie. My waarneming is dat die meeste gelowiges nog nooit in diepte
oor ons onderwerp nagedink of nagevors het nie. Ek was al meermale in gesprek met gelowige en gevorderde
natuurwetenskaplikes oor ons onderwerp, maar min van hulle het 'n ingeligte, verantwoordelike
en gewortelde standpunt oor die verhouding tussen die wetenskap en die geloof.
En ek is bevrees, dieselfde geld ook van té veel teoloë.
En vir baie van die wat wel al daaroor
gewonder het, is 'n volstruisbenadering uiteidelik die beste oplossing waartoe
hulle kan kom. Hulle besluit om hulle liewers nie moeg te maak oor kwessies wat
hulle grysstof te veel uitdaag nie. Dis soveel makliker om sulke dinge maar so
gou as moontlik te vergeet. "Ek het besluit wat ek sal glo — moenie my
deurmekaarmaak met 'n klomp feite nie!
Natuurlik,
ek verstaan dit goed, nie alle Christene het 'n aptyt vir die dinge waarmee ek
stoei nie. Dis goed so. Maar moet jou dan nie aanmatig om vurige standpunte uit
te spreek oor dit wat jy nie behoorlik onder die knie het nie. Nederigheid is
deel van die vrug van die Gees. Nog meer, ek het 'n oom geken wat altyd gesê
het: 'n toe bek is 'n heel bek! As jou pypie leeg is, hou maar jou teppie
toe.
Maar nadat
alles hierbo gesê is, bly ek oortuig daarvan: dis belangrik, baie belangrik, dat Christengelowiges
(en -wetenskaplikes) hulle eendjies in 'n ry moet kry.
11. Let op my aanslag in wat volg. As Christen,
maar ook as Bybelleraar, is dit vir my belangrik om eerste met die Skriftuur te
begin. Ek is geen Hebraïkus nie — nie eers naastenby nie — maar ek sal my bes
probeer om so verantwoordelik moontlik met die teks van Gen 1-2 en met die
talle fundamentele vertolkingsvrae om te gaan.
'n Eksegese van Gen 1-2 word nie maar
so tjoef-tjaf onder die knieë gekry nie. Onder meer moet mens duidelikheid
probeer kry oor vrae soos díé hieronder:
Wat is die verhouding tussen Gen 1:1
en 1:2? Hoe moet dit vertaal word? En wat is die verhouding tussen hierdie twee
verse en die "dag-verse" in 1:3-2:3? Praat dit van 'n bedeling vóór
die eerste skeppingsdag, of is dit net die inleiding?
Wat is die "uitspansel"
(OAV), die "gewelf" (NAV), die "expanse" of
"canopy" (ESV) in 1:6? Waarom word die verskillende uitdrukkings
gebruik?
Wat moet mens maak oor die skepping
van lig op die eerste dag (1:3-5) én die "ligte" eers op die vierde
dag?
Hoe moet ons die refreine, "dit
was aand en dit was môre, die soveelste dag" vertolk? Wat moet ons maak
van die afwesigheid van hierdie frase op die sewende dag? Praat ons van
24-uur-dae, of van beeldspraak vir lang tydperke?
Ek sal poog om van hierdie kwessies so
goed ek kan aan te spreek — natuurlik met die hulp van Bybels (ook Hebreeus en
Grieks), kommentare, woordeboeke, konkordansies en dik en geleerde ander boeke,
waarvan ek helaas nie altyd alles verstaan nie. Dis met die skryf hiervan gestapel
op my lessenaar ('n agt-stoel eetkamertafel), op die vloer om my, en op 'n
gemakstoel agter my. En die internet sal geen geringe rol speel nie — hoewel
mens dit met versigtige onderskeiding moet lees, en dikwels met 'n knippie
sout.
As ek dan uiteindelik tevrede is dat
ek 'n verantwoordelike Bybelse begrip het van Gen 1-2, sal ek enkele
fundamentele natuurwetenskaplike perspektiewe probeer aanspreek — perspektiewe
waaroor daar min of meer universele en verantwoordelike konsensus in geleerde
kringe bestaan.
Die leser moet maar oordeel hoe goed
ek in my doel slaag. Ekself hou maar my hart vas oor jou opinie — veral as jy
'n geleerde is!
12. Onthou asseblief, hierdie wil nie 'n
wetenskaplike referaat wees nie, al sal ons sake aansny wat talle en talle
proefskrifte kan vul (natuurlik baie meer diepsinnig as waartoe ek in staat
is). Daarom gee ek min dokumentêre verwysings (waaroor ek nou spyt is, maar om
sulke dokumentêre inligting weer op te spoor na baie opleeswerk oor 'n lang
tyd, is te veel gevra vir my. Ek het nie meer 'n benul waar ek alles gelees het
nie). Ek beveel wel hieronder 'n paar baie goeie boeke en webwerwe aan wat weer
en weer lig vir my gegee het.
-oOo-
Nico van der Walt onderskryf die historiese,
internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis (soos meeste
Gereformeerde Baptiste wêreldwyd), asook die Belydenis van Sola 5, 'n
assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges en gemeentes in meer as 'n
halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar.
# Gereeld
word 'n preek of studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans en
meermale in Engels per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie:
Postnet Suite No. 148, Privaatsak X1, Northcliff,
2115, Suid-Afrika;
E: nico.vanderwalt@reformed.org.za;
Tel. 082 848 9396.
Blogs:
www.e-preke.blogspot.com (plus
nog 4 blogs - adresse by genoemde adres)
# Hy het
aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en daarna vir 'n dekade as
Siviele Ingenieur gewerk (as konstruksieingenieur en universiteitsdosent). Na
'n radikale Christelike bekering en daaropvolgende teologiese studie aan die
Potchefstroomse Universiteit, was hy vir ongeveer drie dekades veral
stigterspredikant van twee gemeentes in die Vaaldriehoek en Pretoria. Hy was
ook vir 'n stuk of twaalf, dertien jaar 'n dosent aan die Lynnwoodrif
Bybelskool. Die afgelope paar jaar wy hy meeste van sy tyd aan skryfwerk en
prediking waar hy ook al uitgenooi word.
-oOo-
[2] Hodge
verwys hier na Copernicus wat in 1543, en Galileo wat in 1632 getoon het dat
die son nie om 'n plat aarde roteer nie, maar dat 'n bolvormige en roterende
aarde om die son roteer. Hierdie nuwe insigte was natuurlik strydig met wat vir
eeue vers en kapittel op grond van 'n letterlike vertolking van 'n hele klompie
Bybelverse geglo is. Vandag weet ons dit is poëtiese uitdrukkings, oftewel
beeldspraak.
Lees maar die geskiedenis, en jy sal
sien dat die genoemde twee manne nie baie gewild was in die kerk van destyds
nie. 'n Letterlike vertolking van poëtiese Skrifgedeeltes doen nog
steeds skade!
[3] Deïsme
is die geloof in 'n oppermagtige, maar onbekende en afsydige wese wat wel
geskep het, maar wat nie werklik betrokke is by hierdie wêreld en die gebeure
daarin nie. Hy is wel die Skepper, maar nie die Bestuurder van die heelal nie.
Dis bloot 'n filosofiese skepping.
[4] Naby
verwant aan Deïsme. Die beskouing dat, as daar dalk 'n God is, ons niks oor Hom
of die hiernamaals weet nie.
[5] Daar is 'n eeu-oue beginsel en
spreekwoord wat deur die jare sóveel vir my beteken het. Dis so oud dat dit
eerste in Latyn gesê is — waarskynlik in die sestiende eeu (vroeër is dit
waarskynlik verkeerdelik aan Augustinus toegeskryf): in necessariis, unitas;
in dubiis et nonnecessariis, libertas; in omnibus, caritas. Ons kan dit so
vertaal: in die noodsaaklike dinge, eenheid; in die twyfelagtige en
nie-noodsaaklike dinge, vryheid; in alles liefde. Wat dit wil sê, is dat
daar Bybelwaarhede is wat ononderhandelbaar deel is van reddende geloof. Maar
daar is ander dinge waarvan dit nie geld nie. Wat hierdie dinge betref is daar
vryheid en ons moet andere wat van ons verskil nie verketter nie. En deurgaans
moet daar liefde onder ons heers.
Hoewel
ek baie oortuig is dat ons huidige onderwerp baie belangrik is, glo ek nie dat
ons standpunt daaroor bepalend vir ons saligheid is nie. Die regte verstaan
daarvan mag egter wel — ek is oortuig daarvan — bydraend instrumenteel wees in
die redding van mense. En, helaas, mag 'n verkeerde verstaan daarvan aanleiding
wees — hiervan is ek ewe oortuig — dat talle 'n wantroue en selfs 'n weersin in
die Bybel ontwikkel.
No comments:
Post a Comment