Friday, February 14, 2020

SKRIFTUUR EN NATUUR - BEIDE REG VERSTAAN - IS ALTYD IN HARMONIE [2]


Skriftuur en Natuur
— beide reg verstaan —
is altyd in harmonie

'n Getuienis

Nico van der Walt


Hoofstuk 2


'n Klompie moeitewerd boeke, webwerwe en skrywers om te raadpleeg

Soos reeds gemeld, het ek wyer gelees as onderstaande boeke en artikels. En soos ek tyd kry sal ek seker nie ophou lees nie. Ek noem nie eintlik teologiese kommentare en woordeboeke nie. Elkeen moet maar raadpleeg wat hy of sy beskikbaar het. En moenie die internet vergeet nie. Uiteraard is nie alles wat mens dáár kry betroubaar nie. En vir seker moet mens ook nie elke skrywer vir soetkoek opeet nie (natuurlik ook nie elke teoloog nie!). Maar daar is wel op die internet 'n ontsaglike bron van kennis wat mens ernstig kan opneem.
            Ek sou heelwat kon noem, maar enkele "ou-skepping-skrywers" en webwerwe het my veral baie gehelp in my soeke na meer begrip oor die verhouding tussen God se Besondere Openbaring en sy Algemene Openbaring, asook oor my verstaan van Gen 1-2.
            Ek noem net 'n paar:

#          Paul Copan; Tremper Longman III; Christopher L. Reese; Michael G. Strauss (General Editors): Dictionary of Christianity and Science; Zondervan; 2017; 691pp.
            'n Ensiklopedie en skitterende naslaanwerk. Dis sy aansienlike gewig in goud werd en 'n móét vir elkeen wat meer wil insak in hierdie onderwerp. Dit bevat meer as 450 artikels, geskryf deur 140 vooraanstaande en internasionale geleerdes — sowel teoloë as natuurwetenskaplikes.
            Wat besonder waardevol is, is dat, waar daar uiteenlopende standpunte in die liggaam van Christus is, 'n skrywer van elke beskouing dan sy besondere standpunt uiteensit — kernagtig maar duidelik. Dit geld sowel ou as jong-skepping standpunte en stel elke leser in staat om behoorlik ingelig te wees, te vergelyk, en self te besluit wat hy of sy aanvaar en glo. En dit stuur mens weg van almal van ons se neiging om pypiekykers te wees.
            Dis ongelukkig 'n duur boek (amper R1000), maar wel beduidend goedkoper by Good Neighbours Bookshop in Johannesburg (T: 011-704 1857; www.goodneighbours.org.za), asook by Augustine Bookroom in Pretoria (T: 012-9934606; www.augustine.co.za).

#          C. John Collins: Science and Faith - Friends or Foes?; Crossway Books; 2003; 448pp. Nog 'n waardevolle boek van hom is: Genesis 1-4 — A Linguistic, Literary, and Theological Commentary; P&R Publishing, 2006; 318p.
            Collins is 'n Ou Testament professor aan die Covenant Theological Seminary in St. Louis, VSA. Hy het ook 'n meestersgraad in elektriese ingenieurswese aan die wêreldwyd-geagte Massachusetts Institute of Technology behaal. Sy doktorsgraad het hy in Hebreeus verwerf.
            Collins is nie 'n liggewig teoloog nie. Wat hierdie boeke besonder waardevol maak, is die Bybels-eksegetiese uitgangspunt. Ook Collins is van 'n ou-skepping oortuig, maar benader die Bybelteks van Gen 1-2 met groot teologiese vaardigheid en integriteit. Die boeke is nie altyd ewe maklik om te verstaan nie (dis hier en daar taamlik tegnies), maar ek het baie daaruit geput.

#          Wayne Grudem: Systematic Theology; Inter-Varsity Press; 1994. Hoofstuk 15; p.262-314. Ongelukkig is die boek al 26 jaar gelede gepubliseer. Maar die inhoud bly nogtans waardevol.

#          John C. Lennox: God's Undertaker - Has Science buried God?; Lion Books; 2009
            John C. Lennox: Seven Days that Divide the World; Zondervan; 2011.
            Díé emeritus-professor in Wiskunde aan die Universiteit van Oxford is al vir meer as 60 jaar 'n toegewyde Christen. Hy het heelwat méér as net bg. boek geskryf (dit sluit Bybeluitleg in). Sy aanslag is redelik populêr en verteerbaar.
            Hy het in onlangse tye bekend geraak a.g.v. talle televisie-debatte met veral ongelowiges. Google hom, jy sal hom geniet — soos ek.

#          Norman L. Geisler & Frank Turek; I don't have enough faith to be an Atheist; Crossway; 2004. Die boek is stimulerend en insiggewend. Dis populêr geskryf en lees gevolglik relatief maklik.

#          Prof. S. du Toit: Bybel, Skepping Evolusie, Voortrekkerpers, 1964
            Die boekie is 50 jaar gelede geskryf deur 'n baie geagte Ou Testament professor aan die Gereformeerde Kerk se Teologiese Skool in Potchefstroom. Ook hy verdedig op Bybelse gronde 'n ou skepping. Sy eksegetiese perspektiewe is steeds waardevol. Daarbenewens verwys ek hier na 'n skrywer wie se regsinnigheid bo alle verdenking was, om sekere lesers wat dalk nog bedenkinge mag hê oor my regsinnigheid, gerus te stel. Sover ek kan vasstel, is dit bes moontlik die eerste teologiese werk in Afrikaans met hierdie standpunt.
            Uiteraard is die boekie al vir dekades uit druk. Ek het dit 45 jaar gelede uit my pa se boekery gegaps nadat hy oorlede is.

#          John Gilchrist; Designed for a Purpose; Christian Resource Ministries, 2012.
            Hierdie Suid-Afrikaner bring interessante perspektiewe na vore, en is beslis die moeite werd om te lees (dis nie moeilik nie). Bogenoemde boek kan by hom persoonlik bekom word: Kleinstraat 28, Lakefield, Benoni, 1500; Tel 011 894 1830.

#          J.B. Stump: Creation, Four views on Evolution and Intelligent Design; Zondervan; 2017.
            Hoewel die boek soms taamlik tegnies is, is dit 'n goeie inleiding en oorsig oor vier verskillende beskouinge oor ons tema. Dis 'n boek vir diegene wat die onderwerp meer in diepte wil bestudeer.
            Leidende figure oor elkeen van vier beskouinge sit sy betrokke standpunt kortliks uiteen, dit word dan deur die ander drie bydraers gekritiseer en uiteindelik lewer die inleier weer sy repliek. Die vier debatsvoerders is Ken Ham (jong aarde skepping); Hugh Ross (progressiewe skepping); Deborah B. Haarsma (ewolusionêre skepping) en Stephen C. Meyer (intelligente ontwerp). Ingeligtes sal hierdie vier dadelik herken as who's who-figure in die hele debat wat die afgelope klompie jare hoog brand.
            Die 4 bydraers is almal natuurwetenskaplikes (Ross is wel ook 'n pastor) en mens moet dus nie te veel teologie verwag nie. Al vier is Christene.
            Die boek is ook digitaal op internet teen 'n redelike prys beskikbaar.

#          Wat webwerwe betref, bevat die onderstaandes meer kos as wat mens in 'n leeftyd kan verteer. Let op dat nie al die bydraers uitgesproke Christelik is nie (hulle aanvaar wel die feit van 'n Skepper en verwerp Darwinistiese ewolusionisme). Mens moet dus met onderskeiding daarna kyk. As 'n bepaalde webwerf jou nie aanstaan nie, groet hom dan gewoon. Baie mense sal die inhoud van meeste of selfs álmal te uitdagend vind. Laat dit jou vir geen oomblik kwel nie en vergeet van die webwerwe. Nie almal van ons hoef ons oor hierdie dinge druk te maak nie. Al wat immers in die finale analise nodig is, is om met 'n kinderlike geloof end-uit in Christus te skuil. Maar as jy nie redelik kundig oor ons tema is nie, bly dan tog maar beskeie en moenie te vinnig praat nie. Om te luister en te beoordeel, is gewoonlik meer wys as om te praat.

            +          network.asa3.org .: American Scientific Affiliation. Hier is honderde artikels met 'n Christelike uitgangspunt, party weliswaar effens verouderd. En hou in gedagte dat nie almal dieselfde vertrekpunte het nie (weliswaar huldig almal 'n ou skepping).

            +          www.biologos.org  :  The Biologos Foundation. Hierdie organisasie aanvaar dat God onder meer teïstiese ewolusie (te onderskei van ateïstiese of Darwinistiese ewolusionisme) gebruik het in die skepping van die heelal. Dit beteken egter nie dat die van ons wat nie daarmee saamstem nie (ek is een van hulle), nie tog ook op so 'n webwerf iets kan vind wat insiggewend is nie. Gaan kuier gerus daar; daar is baie interessanthede.
            Persoonlik het ek 'n sagte plek vir die stigter van hierdie organisasie, Francis S. Collins, gewese hoof van die Human Genome Project, wat beskou word as een van die wêreld se leidende wetenskaplikes. Hy is 'n toegewyde Christen. Sy baie bekende boek, The Language of God, is die moeite werd om te lees.

            +          www.cis.org.uk  :   Christians in Science

            +          www.veritas.org  :   The Veritas Forum

            +          www.discovery.org :   The Discovery Institute — Where Science and Faith converge.

            +          www.reasons.org :  Reasons to believe
           

Belangrikste Bybeluitsprake oor die skepping

Ou Testament                                            Nuwe Testament
Gen 1-2; 9:1-17                                                                     Luk 8:22-25
Job 38:1-42:17                                                                      Joh 1:1-18
Ps 8; 19; 104; 148                                                                 Hand 17:16-34
Spr 8:22-36                                                                           Rom 1:18-20; 8:18-30
Jes 40:9-31; 65:17-25                                                           Kol 1:15-20
                                                                                              Heb 1:1-14; 11:1-
                                                                                              2Pet 3:3-16
                                                                                              Op 21:1-8


'n Nadere kyk na Genesis 1:1-2:3


Wat van die verstaan van enige Skrifgedeelte geld, is ook waar van Gen 1-2. Daar is ten minste 4 elemente wat mens in ag moet neem: eerstens, die historiese konteks, tweedens, die genre of literatuursoort, derdens, die uitleg of struktuur van die teks; vierdens, wat sê dit vir ons, mense van die een-en-twintigste eeu?
      Ons is baie geneig om die eerste twee elemente af te skeep en direk met nommers drie en vier aan te gaan. Maar dit sal baie maklik die gevolg hê dat ons verklaring onverstaanbaar sou wees vir die oorspronklike lesers. Sekerlik sou dit antieke Israel nie toegerus het om die heidense mitologieë van hulle dag te ontkom nie.
      Of eenvoudiger gestel, eerstens moet ons die vraag vra, wat het die teks destyds vir die lesers beteken? Maar vir seker moet ons dan voortgaan met die vraag, wat beteken dit vir ons?


Eerstens, die historiese konteks

Wie het die Pentateug geskryf — en dus Gen 1-2?

#   Dit word algemeen aanvaar dat hierdie eerste 5 boeke van die Bybel in ongeveer die jaar 1440 voor Christus geskryf is, en wel tydens die uitog uit Egipte. Daar is wel ook mense wat dink in terme van 1260 vC.

#   Sowel die Joodse geloof as die Christelike kerk glo dwarsdeur die kerkgeskiedenis, van die eerste eeue af, dat Moses die pentateug geskryf het. Dit word algemeen aanvaar dat dit ook Gen 1-3 insluit.
      Die vanselfsprekende uitsondering is ten minste Deutronomium 34, wat oor Moses se dood en begrafnis handel, waar dit ook verklaar word dat God self hom in 'n onbekende graf begrawe het. Dit sluit ook nie uit nie dat Moses, ten minste vir sommige gedeeltes, van bronne en oorgelewerde tradisies gebruik gemaak het; ons kan dit trouens bo enige twyfel aanvaar. Maar, en hierdie kwalifikasie staan vas vir 'n Bybelgelowige, dit het onder die verligtende en inspirerende leiding van die Heilige Gees geskied.
      In 'n antieke geskrif word gesê dat God die spreker was en dat Moses dit bloot neergeskryf het. Dis 'n té ongekwalifiseerde uitspraak. Persoonlik sou ek dalk wel so 'n siening van Gen 1-3 kon aanvaar. Sekerlik moet soiets min of meer geld van Gen 1:1-2, asook die gedeelte oor die skeppingsdae — toe daar nie menslike getuies was nie. Sou mens dít nie aanvaar nie, moet jy noodwendig aanneem dat die Bybel se skeppingsbeskrywing net oorgelewerde volksfantasieë en -legendes was. En dis vir Bybelgelowiges onaanvaarbaar — en wat my betref, sou dit 'n studie soos hierdie feitlik geheel-en-al irrelevant maak. Dan vegeet jy gewoon van die Bybel en luister nét na die natuurwetenskappe.
      Daar is inderdaad sterk Bybelse getuienis dat Moses die outeur van die pentateug was. Niemand in daardie tyd was meer kundig en dus gekwalifiseerd om dit te skryf nie. Sekerlik was hy, te danke aan die voorregte van sy opvoeding in Egipte, die mees geleerde man onder die Israeliete — wat die vermoë om te skryf ingesluit het (Hand 7:22). En die inhoud van Eksodus tot Deutronomium sou hy alles vanuit eie ervaring kon beskryf.
     Daar is heelwat teksgetuienis in die pentateug dat Moses dikwels oor ervaringe en gebeure geskryf het (Eks 17:14; 24:4; 34:27; Num 33:2; Deutr 31:19; 31:24-26). Dat hy ten minste sekere dinge opgeteken het, word reeds deur Joshua bevestig (Jos 1:7; 8:30-31).
     Ook die Nuwe Testament aanvaar Moses se outeurskap sonder meer (Joh 1:17; Rom 10:5; 2 Kor 3:14-15).


Onthou vir wie Moses geskryf het — vir hulle én vir ons.

Vir die mense van sy tyd

#        Genesis is geskryf vir mense met 'n lewensuitkyk en kultuur van daardie tyd. Calvyn het dit korrek gesien. Hy skryf iewers: "Die Bybel is 'n boek toeganklik vir elkeen, en Moses het daarom sy skryfwerk by algemene gebruik aangepas."
          Wie dit nie voortdurend voor oë hou nie, dwaal onvermydelik kort voor lank in sy verstaan van Gen 1-2.

#        As die klomp Israeliete die woestyntog aanpak na die land toe wat aan Abraham beloof is, het hulle reeds 400 lang jare in Egipte agter die rug. Al Godsopenbaring wat hulle het, sover ons weet, is mondelinge oorleweringe van dit wat die aartsvaders eeue vantevore ontvang het — ook maar uiters beperk in vergelyking met wat ons vandag het. Voeg daarby dat hulle waarskynlik grootliks ongeletterd en ongeleerd is — eintlik net 'n slawegespuis. Daar kan min twyfel wees dat hulle lewenstyl min verskil van die heidenvolkere om hulle. Van die lewende Verbondsgod weet hulle bloedweinig. Selfs die geleerde Moses moet weer en weer lewensveranderende ontmoetings met Jahweh ervaar — om hom voor te berei om sy mense te leer, as 't ware van voor af.
          Maar dit het nie net oor begrip gegaan nie. Bes moontlik het die Israeliete al grootliks verval in die heidense aanbidding van die Egiptenare. Mens sien dit byvoorbeeld in die insident van die goue kalf, wat soortgelyk was aan die praktyke van die vrugbaarheidskultusse in Egipte (Eks 32:1-6).
          As die Israeliete by Horeb aankom verskil hulle wêreldbeeld, lewenstyl en aanbidding
beswaarlik dus van díé van die heidenvolkere rondom hulle. Die vyf boeke van Moses moes instrumenteel wees om die Hebreërs 'n volk van God te maak, met 'n Godgegewe Godsbeeld en aanbiddingskultuur.
          Dis vir hierdie mense wat Gen 1-2 in die eerste instansie geskryf is!
          As ons dit uit die oog verloor, gaan ons ons hoofstukke verkeerd vertolk — dinge daarin lees wat dit nooit wou sê nie.

#        Daar het 'n formidabele taak op Moses gewag. Die volk moes radikale veranderings ondergaan. Godsdienstig moes daar 'n totaal nuwe gerigtheid en Godsbegrip gevestig word. 'n Nuwe roepingsbewustheid moes by hulle posvat, en 'n gans nuwe kultuur. Hulle sou ware aanbidding en moraliteit moes aanleer. Hulle is uit Egipte gehaal, maar Egipte moes nog uit hulle gehaal word.
          Die 11 maande en 5 dae wat Israel by Sinai gestaan het hierin 'n sentrale rol gespeel. Dit moes daar in die afsondering van die woestyn gebeur. In Gosen met sy rugbrekende slawediens en al sy afgodery en ander invloede sou die vestiging van so 'n radikaal nuwe ingesteldheid menslik gesproke onmoontlik gewees het. In elk geval moes Egipte en alles waarvoor dit gestaan het eens en vir altyd in vergetelheid agter hulle gelaat word.
          Maar méér was nodig. Die radikale verstellings wat by Sinai plaasgevind het, moes ook in stand gehou word. En presies dit was die funksie van die pentateug. Moses se vyf boeke moes van die Israeliete die volk van God maak en hulle die volk van God hou.

Vir ons wat in die 21ste eeu leef

Laat ons dit nooit vergeet nie: die Bybel is óók vir alle geslagte geskryf. Dis nie net tydgebonde nie; dis ook tydloos. Die Bybel is nie net deur 'n gewone mens, Moses van destyds, geskryf nie; dit is ook bonatuurlik deur die Heilige Gees geïnspireer, sodat dit steeds relevant bly vir mense wat 'n duisend maal meer van die skepping weet as destyds se Israeliete. Die Here God het vir seker geweet dat mense van die een-en-twintigste eeu óók die skeppingsverhaal gaan lees en sal wonder hoe dit versoenbaar is met wat húlle van die skepping weet.

Dis noodsaaklik om beide bogenoemde waarhede vas te hou!


Tweedens, die literatuursoort van Gen 1-2

#        Die boek is oorspronklik in Hebreeus geskryf en die heel eerste woord daarvan is meteen ook die naam van die boek — die enkele Hebreeuse woord wat ons vertaal, "In die begin". Die naam "Genesis" is gegee deur die eerste vertalers van die Ou Testament in Grieks — dis Grieks vir "oorsprong".
          Dit sinspeel reeds daarop dat wat gaan volg geskiedenis is wat regtig gebeur het. Maar ek sal poog om te toon dat dit betroubare en werklike geskiedenis is wat veral in die twee hoofstukke waarna ons kyk tot 'n groot mate in poëtiese taal vertel word.

#        Watter literatuursoort tref ons in Gen 1-2 aan? Prosa of poësie? Geskiedenis of gelykenis?
          Probeer mens hierdie vraag antwoord, bespeur jy onmiskenbaar 'n dubbele karakter, veral in hoofstuk 1. Dis prosa — dis geskiedskrywing. Maar dis eweneens poësiedaar is beeldspraak en simboliek.

          +          Die twee hoofstukke vertoon duidelik die trekke van prosa en geskiedskrywing. Dis iets wat regtig gebeur het. Sien ons dit nie steeds dag en nag rondom ons nie?
          Dit lê byvoorbeeld in die tydsaanduidings: "en dit was aand en dit was môre". Dis te sien in die stelselmatige voortgang van gebeure: "die eerste dag", "die tweede dag" ensovoorts. Mens sien dit in die herhaalde, "En dit was so."
          Mens sien die kronologiese ook in die feit dat Gen 1:1-2 duidelik voorafgaande is aan die ses skeppingsdae wat in Gen 1:3-31 beskryf word (hierdie orde word vorentoe gemotiveer).
          Duidelik loop die skeppingsgebeure ook uit op 'n klimaks — die skepping van die mens, waaraan verreweg die meeste aandag gegee word.
          Sonder twyfel volg dag 7 na dae 1-6.
          C. John Collins skryf daarom: "Genesis is offering us the true story of mankind's past."[1]

          +          Tog is dit nie nét prosa nie. Die twee hoofstukke vertoon meteen onmiskenbare poëtiese trekke. In hoofstuk 1 is daar alliterasie en 'n patroonmatige manier om die gebeure te beskryf. Neem as voorbeeld die oor-en-oor refreine, "en dit was so"; en "toe sien God dat dit goed was"; "Laat daar ...". Ensovoorts.
          Mens vind ook antropomorfismes (segwyses wat God voorstel asof Hy 'n mens is). God praat, sien, werk, rus. Dit geld ook hoofstuk 2 waar Hy 'n tuin aanlê, asook hoofstuk 3 waar Hy in die tuin wandel.
          Ek sê meer oor die poëtiese karakter hieronder.

#        Vir 'n verantwoordelike vertolking van die gedeelte is bogenoemde dubbele karakter, die van prosa én poësie, van die allergrootste belang.

          +          Aan die een kant bewaar die historiese van 'n miskenning dat God self, persoonlik en bo-natuurlik — en régtig — in die geskiedenis geskep het (Eng. hands-on). Dit bewaar ons van 'n algehele versimbolisering wat die historiese en God se persoonlike en praktiese betrokkenheid grootliks uit die prentjie haal.
          'n Ontkenning van die historiese is 'n halftree weg van die aanvaarding dat Gen 1-2 net 'n fabel is. Dan kan mens wel wonder of skriftuur en natuur hoegenaamd iets vir mekaar te sê het. Dan trek dit die mat onder my basiese uitgangspunt uit — naamlik dat skriftuur en natuur, vir soverre dit wel oorvleuel — veral hier in Gen 1-2 in volkome harmonie is. Dan word hierdie harmonie al dan nie heeltemal irrelevant.
          Nee, aan die historiese karakter van Gen 1-2 móét 'n Bybelgelowige vashou!
         
          +          Aan die ander kant bewaar die poëtiese en beeldspraak van 'n enkelvoudige, simplistiese en letterlike vertolking van die skeppingsgebeure wat die lesers laat vasloop teen teenstrydighede (soos byvoorbeeld die skepping van lig op die eerste dag, en die skepping van die son, die maan en die sterre op die vierde dag).
          'n Letterlike 24-uur vertolking hou ook nie rekening met al die gebeure nie. Dit word op sy duidelikste gesien as mens na die sesde dag kyk (hieroor meer hieronder).
          En les bes wil so 'n letterlike vertolking eenvoudig nie rym met die getuienis van die algemene openbaring nie — soos reeds vroeër geskryf is. Daarenteen bring 'n aanvaarding van die poëtiese in Gen 1 die skeppingsbeskrywing gemaklik in harmonie met die getuienis van die skepping om ons.

#        Ongelukkig kom enkelvoudige versimbolisering en enkelvoudige miskenning van die historiese wydverspreid voor in die wêreld van kerk en teologie van ons tyd. Nie een van die twee sienings is na my mening getrou aan die Skrifopenbaring nie.

Nadere aandag aan die poëtiese elemente in Gen 1

#        Die Ou Testament is boordevol van die simboliese en die poëtiese. Dit hoef geen verassing te wees nie. Die Hebreeuse taal — enige taal tot vandag toe — is ryk in beeldspraak en keer op keer word simbole en metafore gebruik om die boodskap oor te dra.
          Laat ons nie in die slaggat trap nie om te dink dat prosa feite oordra, en poësie beeldspraak en dus fiksie. Ons vind hierdie twee skryfwyses selfs hand-aan-hand om dieselfde boodskap oor te dra. Vergelyk Eseg 16 en Eseg 22 as voorbeelde.
          As mens in gedagte hou dat die Israeliete eenvoudige mense was, verstaan jy dat so 'n dubbel-loop aanslag baie effektief kon wees. Dit is meermale steeds die geval. Inderdaad is beeldspraak soms vandag nog die beste manier om iets oor te dra.

#        Hoewel dit steeds in die letterkunde van ons dag voorkom dat 'n storie nie altyd letterlik en kronologiese vertel word nie, het ons baie gewoond geraak aan 'n formele manier van skryf in wetenskaplike artikels, juridiese verklarings, historiese beskrywings en ander formele dokumente. Ons is gewoond daaraan om 'n storie kronologies oor te dra — gewoonlik met 'n streng logiese ontwikkelingsgang.
          Maar die Bybel is in 'n radikaal ander wêreld geskryf. Logika en kronologie was nie altyd só belangrik nie. Ons sien dit selfs in die Nuwe Testament. So byvoorbeeld word die Evangelie van Johannes gekenmerk deur die afwisseling tussen verbandhoudende wondertekens en stukke lering van die Here Jesus. Kronologie is nie voorop nie. Die evangelie is logies geskryf, nie kronologies nie.
          En dalk is die beste voorbeelde die gelykenisse wat Jesus vertel het, juis ter wille van sy eenvoudige luisteraars. Al was dit stories, het dit diepsinnige waarhede oorgedra.

#        'n Kennelik doelbewuste en merkwaardige poëtiese struktuur is onderskeibaar in die beskrywing van die sewe dae. Aan onderstaande is dit duidelik dat die skrywer nie net noukeurig aandag gegee het aan die inhoud van wat hy geskryf het nie, maar vir seker ook aan die vorm of struktuur daarvan. Sonder twyfel spreek dit van volwasse nadenke en letterkundige vaardigheid.

          +          In Gen 1 word agt keer beklemtoon dat God met sy woord tot stand gebring het.[2] Elke keer is dit die inleiding tot 'n sukkie vier- of driereël poësie — gesamentlik die skeppingsgedig. Sonder twyfel is die "skeppingsverhaal" doelbewus so geskryf. Die uitleg word in Tabel 2 hieronder uiteengesit.

          +          Tweedens is die simboliese syfers, 3 en 10 prominent. Daar is 3 "probleme" op die aarde van Gen 1-2 wat aangespreek moet word ('n aarde wat woes en leeg is; duisternis; diep waters). Dit word reggestel tydens twee stelle van 3 dae elk (sien hieronder).
          Die werkwoord "om te skep" word op 3 plekke gebruik en die derde keer 3 maal (v.1, 21, 27, 27, 27).
          Die uitdrukking, "volgens hulle soorte", word 10 keer gebruik (v. 11, 12, 12,  21, 21, 24, 24, 25, 25, 25).

          +          Derdens is 'n sekere simmetrie bespeurbaar as mens aandagtig na die ses skeppingsdae kyk. Die herhaling van die lig-tema op dae 1 en 4 suggereer dit reeds.        Vroeg in die kerkgeskiedenis het Augustinus al hierdie raamwerk raakgesien. En twee eeue gelede het 'n sekere J.G. von Herder op die betekenisvolle simmetrie tussen die twee drielinge van dae gewys (dag 1-3 en dag 4-6). Hierdie simmetrie word baie algemeen aanvaar, hoewel verskillende kommentatore dit op verskillende maniere bewoord — maar elke keer kom dit maar op dieselde neer. Die uitleg word in Tabel 1 hieronder uiteengesit.
:
                      =          Dae 1-3: Skepping van die aarde as woonplek.

                      =          Dae 4-6: Skepping van die bewoners van die aarde (bewegende ligdraers gepersonifiseer — onthou, dis 'n gedig).

#        So 'n verdeling word waarskynlik bevestig deur Gen 2:1 —: "So is dan voltooi die hemel en die aarde (die woonplek) met hulle ganse leërmag (die bewoners)."


Tabel 1
Die struktuur van Gen 1:3-23: Woonplek en Bewoners

                      Die woonplek                                          Die bewoners
Dag Geskep           Wat geskep                          Dag Geskep             Wat geskep
          1                      Lig en Donker                                     4                      Ligdraers
          2                      See en Lug                                          5                      Seediere, Voëls
          3                      Land, See, Plante                                6                      Diere, Mense
                            Dag 7: God se voortgaande rus van sy skeppingswerk


Tabel 2
Die agt "gediggies" van Gen 1

      Gedig   Dag                      Gedig                                             Vers      Aantal Reëls     Oop
          1          1          (a)  God het gesê: laat ...                                 3
                                  (b)  en daar was / en dit was so                       3             4                    
                                  (c)  toe sien God dit is goed                            4
                                  (d)  dit was aand en môre, die eerste dag        5         
                                                         
          2          2          (a)  God het gesê: laat ...                                 6
                                  (b)  en daar was / en dit was so                       7             3                      c
                                  (c)                                                                   --
                                  (d) dit was aand en môre, die tweede dag       8
                                                         
          3          3a        (a)  God het gesê: laat ...                                 9
                                  (b)  en daar was / en dit was so                       9             3                      d
                                  (c)  toe sien God dit is goed                           10
                                  (d)                                                                   --

          4          3b        (a)  God het gesê: laat ...                                 11
                                  (b)  en daar was / en dit was so                       11            4                   
                                  (c)  toe sien God dit is goed                            12
                                  (d) dit was aand en môre, die derde dag         13       
                                                         
          5          4          (a)  God het gesê: laat ...                                 14
                                  (b)  en daar was / en dit was so                       15            4                   
                                  (c)  toe sien God dit is goed                            18
                                  (d) dit was aand en môre, die vierde dag        19       

          6          5          (a)  God het gesê: laat ...                                 20
                                  (b)                                                                     --             3                    b
                                  (c)  toe sien God dit is goed                            21
                                  (d) dit was aand en môre, die vyfde dag         23

          7          6a        (a)  God het gesê: laat ...                                 24
                                  (b)  en daar was / en dit was so                       24             3                    d
                                  (c)  toe sien God dit is goed                            25
                                  (d)                                                                    --

          8          6b        (a)  God het gesê: laat ...                                 26
                                  (b)  en daar was / en dit was so                       26             4                  
                                  (c)  toe sien God dit is goed                            31
                                  (d)  dit was aand en môre, die sesde dag        31

Die struktuur is onmiskenbaar. Dis poësie! Ja, dis geskiedenis, maar dis nie letterlik nie. Dis geskiedenis in digterlike vorm.

          Dae                                   1   2   3a   3b      4   5   6a   6b
          Aantal reëls                             4  3  3  4       4  3  3  4
          Oop reël                              c   d               b   d  

#        Opmerking: Dit mag die leser pla dat die ligdraers in Tabel 1 as "bewoners" geklassifiseer word. Ek begryp die beswaar. Maar miskien lê die antwoord in die feit dat die hemelliggame meermale in die antieke wêreld gepersonifiseer is. Mens kan dit verstaan as jy daaraan dink dat mense sekerlik gefassineer was deur die feit dat veral die son en die maan, maar ook die sterre, voortdurend beweeg. Onthou, hulle het nie ons gesofistikeerde sterrekundige kennis gehad nie.

-o0o-



[1]           C John Collins: Genesis 1-4, p.243, goedkeurend aangehaal deur Lennox: Seven Days that divide the World; Zondervan. 2011. p.127.
[2]           In vers 22 is die Hebreeus ietwat verskillend (vgl ESV). Maar dit verwys steeds na God se spreke.

No comments:

Post a Comment