Friday, July 29, 2011

ANTIPAS HEROUT No.6 : GROTER WERKE AS JESUS - Hoe op aarde moet Johannes 14:12 verstaan word?

WANNEER LAAS HET JY GROTER WERKE AS JESUS GEDOEN? 'n Skokkende vraag, sê jy. Wel, dis na aanleiding van 'n baie uitdruklike belofte van die Here Jesus Christus aan Sy dissipels:
"Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo - die werke wat Ek doen,
sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit,
omdat Ek na my Vader gaan."
(Joh 14:12, OAV)
Deur die eeue het hierdie vers baie verwarring en verskille binne die kerk veroorsaak. Dit het onsekerheid en twyfel in ontelbaar baie harte laat heers. En, ergste van alles, dit is misbruik as fondamentsteen vir misleidings en ketterye sonder tal.
Tog staan dit geskryf in die Woord van God - swart op wit. Die egtheid daarvan in die oorspronklike manuskripte is bo verdenking. En oor die vertaling daarvan is daar nie twyfel nie.

Die verbysterende belofte van nader bekyk

# Hoe moet ons hierdie raaiselagtige woorde verstaan? Per slot van rekening, as 'n belofte van die Here Jesus met "voorwaar, voorwaar" begin, moet ons op aandag spring. Sonder uitsondering lei hierdie twee woorde ("amen, amen" in die oorspronklike taal) van die mees gewigtige en diepsinnige uitsprake van die Here in. Dit wil beklemtoon dat al die gesag van die Seun van God daaragter sit. Ongetwyfeld sal dit dus die moeite loon om die belofte goed te bekyk.

# Dit word gegee aan "wie in My glo". Johannes gebruik hier sy eie unieke manier (in Grieks) om spesifiek van reddende geloof te praat - om in Christus in te glo. Dit gaan dus nie om die uitsonderlike geloof van geestelike reuse nie. Nee, dis die geloof van alle ware Christene - reddende geloof.

# Die belofte word aan elke individuele Christen gegee. Die enkelvoud word deurgaans gebruik. Dit is dus nie 'n belofte aan die kerk gesamentlik nie.

# "Groter" in Grieks (megas), dui op 'n graadverskil, nie 'n getalverskil nie (daarvoor het Grieks 'n ander woord, polus). Die verduideliking dat die Here eintlik bedoel dat Sy dissipels méér werke as Hy gaan doen, hou dus ook nie water nie.

# Die brandende vraag is natuurlik wat Jesus met die woord "werke" bedoel. Die woord kom nog 26 maal in die Evangelie van Johannes voor. In 8 gevalle word dit gebruik vir die handelinge van mense in die algemeen. Maar die ander 18 gevalle gaan oor handelinge van die Here Jesus self - 2 keer is die geheel van Sy werk op aarde ter sprake (4:34; 17:4), en 16 keer die wonderwerke wat Hy gedoen het. Dit lei tot die volgende slotsom:

* Die "werke" wat Jesus se dissipels sal doen, kan nie maar gewone menslike dade wees nie, soos in die 8 gevalle hierbo, aangesien dit vergelyk word met Sy "werke" en duidelik van dieselfde aard is.

* Dit kan ook nie vergelyk word met die geheel van Sy werk op aarde nie, aangesien dit uniek is.

* Die Here vergelyk die "werke" wat hulle sal doen met Sy eie wonderwerke. Dit word deur die konteks bevestig. In die voorafgaande twee verse praat Hy sonder twyfel van Sy eie wonderwerke.

# Die sleutel tot hierdie verbysterende belofte is die Here Jesus se vertrek na Sy Vader. Dit was voorvereiste vir die uitstorting van die Heilige Gees op die Pinksterdag (Hd 2:33). Die dissipels sou dus nie hierdie "werke" in hulle eie krag doen nie, maar deur die bekragtiging van die Heilige Gees, o.g.v. Christus se afgehandelde werk hier op aarde.

# Geen deeglike, verantwoordelike en eerlike Skrifuitleg kan die slotsom ontkom nie dat die Here hier aan alle ware gelowiges belowe dat hulle, soos Hy, deur die bekragtiging van die Heilige Gees wonderwerke sal doen. Trouens, Hy belowe so duidelik soos daglig dat hierdie werke selfs gróter sal wees as die wat Hý op aarde gedoen het!

Wat van die belofte se vervulling?

# Die uitstorting van die Heilige Gees het dinge in die vroeë kerk laat gebeur wat totaal nuut was in die ervaringe van gelowiges. Handelinge beskryf 'n aantal verstommende wonderwerke. Dit lyk dus logies om hierin die vervulling van ons belofte te sien. Presies dit is die standpunt van talle gelowiges. En sekerlik het hulle 'n stewige saak. Sou hulle reg wees, is daar beswaarlik 'n vers in die Bybel wat meer praktiese implikasies vir die hedendaagse kerk het: waar is die wonderwerke?

# As hierdie standpunt egter getoets word aan die Woord van God, asook aan die kerkgeskiedenis, kom ernstige tekortkominge daarin dadelik na vore. Dit verkrummel voor twee onontkombare realiteite:

* Die belofte word kennelik aan elke individuele gelowige gemaak, maar wonderwerke, soos wat die belofte volgens hierdie standpunt sou impliseer, was eenvoudig op geen stadium in die geskiedenis die tipiese belewing van Christene nie - ook nie in Handelinge nie.

* Op geen wyse kan dit aangevoer word dat enige van die wonderwerke wat wel plaasgevind het, hetsy in Handelinge, hetsy in die geskiedenis daarna, groter was as die van Christus nie - inteendeel!

# Beteken dit dan dat daar van die Here se belofte tot 'n groot mate niks gekom het nie? Helaas is daar duisende Christene wat met hierdie suspisie in hulle harte rondloop. Trouens, verydelde verwagtinge, ontnugtering en die geestelike lamheid wat daarmee saamhang, is oraloor aan die orde van die dag.
Maar, en dit wil ek hieronder vir u aantoon, die belofte is sedert die Pinksterdag miljoene kere vervul - selfs in die lewens van die Here Jesus se eenvoudigste dissipels!

Die struktuur van Johannes

# Die sleutel wat die raaisel ontsluit, lê in die struktuur van Johannes se Evangelie. Dit kan eenvoudig soos volg voorgestel word:

VOORWOORD (1:1-18)

HOOFDEEL (1:19 - 20:29)
Inleiding (1:19-52)
Johannes se tema (2:1-20:18):
Jesus is die Seun van God, die Christus! Glo in Hom en jy sal die ewige lewe hê!
Afsluiting (20:19-29)

DOEL (20:30-31)

SLOTWOORD (21:1-25)

Die doel van die evangelie [20:30-31]

# Hierdie twee verse verduidelik die metode wat Johannes gebruik om sy boodskap oor te bring.
Die Apostel sê dat hy versigtig 'n aantal van die Here se wonderwerke of -tekens uitgesoek en beskryf het, sodat sy lesers kan glo dat Jesus die Christus is en sodoende die ewige lewe kan beërf.

# Wat uiters belangrik vir ons doel is, is om te begryp dat die Evangelie noukeurig gestruktureer is - soos 'n gedig. Watter student van hierdie Bybelboek sal ontken dat dit 'n wonderlike kunswerk is? Verder moet ons verstaan dat sewe sulke wonderwerke die skelet vorm van die Hoofgedeelte. Die vleis is weliswaar die oneindig kosbare stukke lering tussenin (wat met die werke verband hou, wat die betekenis daarvan verduidelik), maar dis die wérke wat die boodskap dra.

Die inleiding en afsluiting van die hoofgedeelte [1:19-52 & 20:19-29]

# In die Inleiding tree Jesus die kollig binne. Hy neem by die Wegbereider, Johannes die Doper oor. In die laaste gedeelte van hierdie inleiding (1:44-52) lei Jesus die skeptiese Natanael tot geloof en belydenis (50), deur aan hom 'n baie persoonlike teken te gee (49). Dan maak Hy 'n aankondiging oor wat vorentoe gaan volg: "Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien." Sonder twyfel sinspeel Jesus hier op die talle wondertekens wat vorentoe Sy Messiasskap sou bevestig (52). En gewis beskryf Johannes hierdie insident om sy lesers voor te berei vir sy werkswyse, soos hierbo uiteengesit. Trouens, hy begin al in die volgende verse daarmee.

# In die Afsluiting verskyn die opgestane Christus aan Sy dissipels. Dan gee Hy hulle werksopdrag vir die toekoms: "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook" (20:21). Van nou af gaan die aksie en verantwoordelikheid by die dissipels berus. Dan gebeur iets merkwaardigs. Soos in die Inleiding, lei Jesus weer 'n skeptiese man tot geloof en belydenis - Tomas (28). Weer gee Hy aan hom 'n baie persoonlike teken (27). En weereens maak Hy 'n aankondiging oor wat vorentoe gaan gebeur (29). Tomas het tot geloof gekom deur met sy eie oë die opgestane Christus te sien. Maar hoe sou toekomstige geslagte óóit tot geloof kom na die Here se vertrek? Heerlik troosryk is Jesus se antwoord: Tomas, jy het gesien en geglo, en dis geen geringe saak nie, want só verkry jy die ewige saligheid. Van nou af sal iets groters egter gebeur. Mense sal soos jy glo - maar sonder dat hulle enige tekens gesien het!

# Die ooreenstemming tussen Natanael en Tomas se onderskeie ontmoetings met die Here is onmiskenbaar. Vir beide word gesê: "Ons het Hom gekry" (1:45), "Ons het die Here gesien" (20:25). Beide reageer skepties (1:46; 20:25). Beide ontvang 'n persoonlike teken (1:47-48; 20:27). Beide glo dan en maak 'n verhewe belydenis (1:49; 20:28). Beide ontvang 'n openbaring oor wat sou volg: dit is goed dat jy glo, maar baie merkwaardiger dinge gaan volg, groter dinge (1:50-51; 20:29).
Dit is belangrik om raak te sien dat hierdie twee ontmoetings op twee van die belangrikste oorgange in die ganse openbaringsgeskiedenis plaasvind. Die eerste vind plaas op die drumpel van die Here Jesus se openbare bediening; die tweede op die drumpel van die dissipels, die kerk, se wêreldwye sending.

Díé wonderwerk van die laaste dae

# Die antwoord op Joh 14:12 se raaisel is skielik so helder soos daglig! Wat is die "groter werke" wat die dissipels sou doen? Na Pinkster sou hulle mense tot saligmakende geloof in Jesus Christus lei - 'n geloof, nie gebaseer op sintuiglike waarneming of enige ander vir die natuurlike mens aanvaarbare getuienis nie, maar 'n geloof wat voortspruit uit 'n bonatuurlike, goddelike hartsverandering!

# Natuurlik het die Here Jesus nie bedoel dat hulle dit in eie krag sou doen nie. Net die Gees kan iemand tot redding bring. Maar Hy doen dit déúr die dissipels. Hulle is dus as Christus se medewerkers volledig daarby betrokke - tot so 'n mate dat met reg gesê kan word dat húlle dit doen (vgl. Hd 26:18).

# Hierdie belofte is wonderlik vervul. Daarom kon Petrus ongeveer dertig jaar later skryf: "Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid ..." (1Pet 1:8-9).
En vir amper tweeduisend jaar al ervaar miljoene hierdie goot wonderwerk van die laaste dae! Geestelike blindes ontvang sig om die Onsienlike te sien (Hb 11:27). Wat meer is, ander met wie dieselfde gebeur het, op wie die herskeppende vingerafdrukke van die Heilige Gees nog vars is, bedien hierdie genesing van alle genesings aan hulle!
Dít is waarvan die Here gepraat het!

'n Laaste probleem

# Een vraag bly nog oor: Is dit régtig so, as iemand tot reddende geloof gelei word, dat dit iets groters is as die wonderwerke van die Here?

# Ons moet dit vanaf twee kante bekyk.

* Eerstens, dink vir 'n oomblik na oor wat in die ontvanger van die geloofswonder gebeur. 'n Groot deel van die hedendaagse kerk het die sondeverdorwenheid van die mens, oftewel die leer van die erfsonde, tot so 'n mate verwater, dat bekering beskou word as bloot die optrek van jou godsdienstige sokkies. Maar die Bybel leer duidelik (vgl. Ef 2:1-10) dat die gevalle mens geestelik dood is (1), dat hy onder God se toorn is (3), en dat hy 'n slaaf van die wêreld, die Duiwel en sy eie sondige natuur is (2-3). As so 'n persoon dan die gawe van geloof ontvang (8), word hy geestelik lewend gemaak (5), word hy opgewek tot 'n geregverdigde lewe (6), en word hy laat sit in die hemele in 'n posisie van gesag oor die wêreld, die Duiwel en sy sondige natuur (6).
Is so 'n verandering 'n geringe saak? Niemand met enige insig in die radikale verdorwenheid van die gevalle mens, en die verbysterende voorregte van iemand wat met Christus verenig is, kan ooit so dink nie! Trouens, diegene wat regtig hierdie herskeppingswerk ondergaan het, kan nooit anders as in verwondering daaroor nadink nie. En die grootste ontdekkingsreis van hulle lewens is om die rykdomme van hulle redding steeds beter te leer ken.
Die grootheid van hierdie groter werk moet daarom nie primêr in getalle gesoek word nie. Die wonder is dat selfs net één glo, sonder dat hy ooit gesien het. Dis soos 'n hoogspringer. Die ongelooflike is nie dat hy al 42 keer hoër as twee meter gespring het nie, maar dat hy hoegenaamd so hoog kan spring.

* Tweedens, dink vir 'n oomblik na oor die gevolge van so 'n geloofswonder vir die ontvanger. Jesus het siekes genees en dooies opgewek, en dis verbysterend. Maar al daardie mense het later weer fisies gesterf. En sonder God se reddende genade, sal elkeen die ewigheid in die verdoemenis deurbring. Daarenteen, as die Gees se lewendmakende roeping maar eenkeer deur my bediening werk, sal daardie persoon die ewigheid welgeluksalig in God se teenwoordigheid deurbring. Hy sal in so 'n verheerlikte staat wees, dat ek beswaarlik die versoeking sal kan weerstaan om hom te aanbid, sou ek hom nou kon sien soos hy dan sal wees.

# Is dit nodig om meer te sê? 'n Sondaar wat tot reddende geloof kom, is 'n groter wonderwerk as Lasarus se opwekking uit die dood! Om dit te beklemtoon, is nie om die Here Jesus se wonderlike bediening op aarde te verkleineer nie (dit mag nóóit nie!). Dis om die duiselingwekkende grootsheid van die Drie-enige God se genadige herskeppingswerk in 'n sondaar te beklemtoon. Dis om die aksent te plaas waar God se Woord dit plaas! Dis om die heerlike waarheid te besing dat Hy patetiese mense as medewerkers gebruik in Sy majestieuse herskeppingswerk van geestelik-dooie sondaars.
O, heerlik is die voorreg om saam met Paulus te sê dat die Here hiérdie roeping op ons gelê het: "Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van Satan tot God kan bekeer. Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God" (Hand 26:18).

Is jou prioriteite reg?

# Leser, toets jouself. Gestel jy het 'n keuse. Óf jy kan van nou af 'n genesingsbediening hê soos Jesus; en die vermoë om op water te loop, voedsel te vermeerder en dooies op te wek. Óf jy kan die voorreg kry om voor jou dood één persoon tot reddende geloof te lei. Wat sal jy kies?

# Joh 14:12 is 'n belofte - 'n duiselingwekkende belofte. Maar dis méér. Dis 'n implisiete opdrag - wat elders in die Heilige Skrif keer op keer bevestig word. Laat ons dus nie verslap in ons gehoorsaamheid aan hierdie gewigtige, verhewe, dringende en opwindende roeping nie. Solank die Koning nog nie terug is nie, is die hele oes nog nie in nie! En totdat dit gebeur, moet ons voortgaan met die grootste van alle wonderwerke!
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment