Saturday, July 9, 2011

ANTIPAS HEROUT No.40 : 'N KAMEEL KÁN DEUR DIE OOG VAN 'N NAALD - 'n Bespreking van Jesus se ontmoeting met die ryk jongman

DIE HERE JESUS SE ONTMOETING MET DIE RYK JONGMAN KOM IN AL DRIE SINOPTIESE EVANGELIES VOOR: Mt 19:16-30; Mk 10:17-31; Lk 18:18-30 [1].

# Hierdie jongman toon wonderlike Koninkrykspotensiaal: Hy is ywerig - hy hardloop na Jesus toe. Hy is nederig - hy val op sy knieë. Hy is moedig - hy kom nie in die donker soos Nikodemus nie. Hy is "geestelik" - hy verlang oënskynlik opreg na die ewige lewe. Hy is moreel - hy probeer met toewyding van kleins af die Wet onderhou.
Hier het ons dus 'n model van 'n jongman. Voor ons sien ons leierskapmateriaal, 'n trofee vir elke gemeente.

# En hy is 'n evangelis se droom. Enige hedendaagse sielewenner sou binne minute van hom 'n Christen kon maak. Hoe lank vat dit immers om 'n kort sondaarsgebed te herhaal?
Maar Jesus laat hom tussen Sy vingers deurglip!

# Hier is lesse wat ons nie moet miskyk nie. Kom ons kyk vir eers deur Markus se lens.

Die evangelie begin by God

# Die eerste sleutel is in v.18. Jesus stel die jongman dadelik voor God. Voor mens oor die ewige lewe kan praat, sê Hy effektief vir hom, moet jy eers rekening hou met die algoeie en heilige God en alles wat dit impliseer.
Die evangelie begin met God. Dit kan slegs na behore verstaan word as mens die skitterglans van Sy volmaaktheid en die tragedie van menslike verdorwenheid teenoor mekaar stel.

# Mense het baie probleme. Maar die oomblik as jy God sien, raak jy in 'n oogwink daarvan ontslae. Dan besef jy hoe gering en tydelik dit alles is.
Maar onmiddellik kry jy 'n nuwe las, duisend maal swaarder - die las van die ewigheid en ons aanspreeklikheid voor God.
Al wat hierdie las kan verlig, is die evangelie en jou omhelsing van Christus.
As jy nie eers die las van God se geregtigheid, enersyds, en jou doemwaardigheid, andersyds, ervaar het nie, bly Christus vir jou bloot van akademiese belang. Reddende geloof is immers wesentlik iets anders as 'n bloot intellektuele opinie oor God. Ja, geloof begin met kennis en oortuiging, maar word afgerond deur 'n desperate en persoonlike vlugtog in Christus in.

# Vir te veel goeie kerkmense is God beswaarlik meer as 'n welwillende en saghartige oupa.
Ja, duisend maal, ja - Hy is 'n barmhartige God van vergiffenis en genade. Maar Hy is ook 'n God van heiligheid en geregtigheid.
Onthou, en vergeet dit nooit nie, as jy 'n denkbeeldige God dien, sal jy tevrede moet wees met 'n denkbeeldige redding.

Die Wet - 'n Kragtige stuk gereedskap in Jesus se evangelisering

# Die volgende sleutel kry ons in v.19-21. Vir die meeste moderne evangeliste is dit 'n baie vreemde verwikkeling in hierdie verhaal.
Mens sou verwag dat Jesus sal begin praat oor regverdiging deur geloof alleen, en dat jy Hom net as persoonlike Saligmaker moet aanneem.
Maar Jesus beweeg in presies die teenoorgestelde rigting: van alle dinge praat Hy oor die wet!

# Twee maal lees ons in die evangelies dat iemand Jesus kom vra hoe mens die ewige lewe kan beërf. Benewens hier, vra 'n wetgeleerde die vraag - wat dan tot die gelykenis van die barmhartige Samaritaan lei (Lk 10:25).
Nou kan dit nie anders as uiters betekenisvol wees nie: in beide gevalle vat Jesus die vraagsteller na die wet toe. Waarom? Elders in die Nuwe Testament kry ons die antwoord: "Deur die wet leer 'n mens wat sonde is" (Rm 3:20). "Sonde is immers oortreding van die wet van God" (1Jh 3:4).
Wat sê dit vir ons? Die konsep van sonde is inhoudloos sonder God se wet. En die man of vrou wat sonde nie kan verstaan nie, kan die kruis nie verstaan nie - en daarom ook nie die evangelie nie, want redding is vir die desperates en slegs vir hulle (Mt 5:3).

# Té dikwels is die hedendaagse aanbieding van die evangelie mensgesentreerd. Die verlossingsplan word aangebied as ten diepste ter wille van die mens: "Glimlag, God het jou lief en het 'n wonderlike plan vir jou lewe. Hy wil jou seën en gelukkig en welvarend sien. Soek jy vrede en 'n vriend? Kom na Jesus toe - Hy brand om jou behoeftes te vervul."
Natuurlik ervaar ware gelowiges baie van hierdie dinge. Maar in die reddingsplan gaan dit ten diepste oor God en Sy eer. En natuurlik word baie mense op so 'n skewe manier gered. Maar, tensy die Here hulle op gesonder paaie lei, ontgroei hulle nooit hul doeke nie. En meeste verdwaal langs die pad.

# In 'n neutedop kan hierdie tweede sleutel só saamgevat word: die wet toon mens jou sonde; en tot die mate wat jy jou sonde sien, tot daardie mate sien jy jouself as van God vervreemd.
Dikwels lei dit dan eers tot 'n periode van godsdienstige inspanning en vroomheid. Maar omdat niemand die wet sonder God se genade naastenby kan uitleef nie, lei dit al hoe meer tot wanhoop. Algaande maak dit van jou 'n bedelaar om God se genade. En só kwalifiseer dit jou vir die koninkryk van God. Uiteindelik wys die Heilige Gees jou dan Jesus Christus die Gekruisigde.
Die ou Puriteine het dit verstaan: "Die skerp naald van die Wet maak 'n pad vir die rooi garingdraad van die evangelie."

# Die ryk jongman het egter 'n baie oppervlakkige siening van die wet: dit alles onderhou ek sedert my jeug! (Mk 10:20).
Daarom vind die Here Jesus dit nodig om die wet toe te pas. En in die proses skiet hy op die man se Achilleshiel. Hy pas die hele tweede tafel van die wet toe, en veral die tiende gebod. Want die man is baie materialisties. "Gaan verkoop ... gee vir die armes!"
Die ryke is hartseer daar weg, maar helaas nie oor sy sonde nie. Dis omdat hy besef hy moet 'n keuse maak, en hy sien nie kans om van sy besittings afstand te doen nie.
Die jongman is nog nie gereed vir die koninkryk nie. Die ploeg van die lewe en van God se standaarde het nog werk om te doen - sy harde pad, sy klipbanke, sy doringvelde moet nog omgedolwe word.

# Let wel, die Here Jesus hardloop nie agter die man aan nie. Hy weet sekere dinge in die lewe neem tyd. Miskien sal die ploeg hom gereed maak vir 'n volgende keer.
Jesus laat hom met ander woorde rustig oor aan die oortuigingswerk van die Heilige Gees. Hy weet dat hierdie werk van die Gees 'n einde maak aan alle selfvoldaanheid en argumente. As Hý eers in diepte met jou gewerk het - jou oortuig het van sonde, geregtigheid en oordeel (Jh 16:8-11, OAV) - is selfregverdiging en rasionalisering iets van die verlede.

Evangelisering behels 'n oproep tot bekering

# 'n Volgende sleutel kry ons in v.21. Die Here het die man voorberei deur hom te konfronteer met God se standaarde. Nou praat Hy reguit met hom: "Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!"
Wat Jesus dus vir hom sê, is dit: Jy vra My hoe om by die ewige lewe uit te kom? Ek is die enigste pad en die enigste gids. Kom val by My in. Daar is egter nog afgode wat jou vashou. Raak eers daarvan ontslae.

# Weer en weer spel die Here Jesus die voorwaardes vir egte dissipelskap uit. Hy doen dit nie in fyndruk nie. Inteendeel, Hy doen dit openlik en reguit: verloën jouself, neem jou kruis op, en volg My.
God se genade is gratis; maar dis nooit goedkoop nie. 'n Mens neem Hom tevergeefs aan as jy Hom net as Verlosser wil hê, maar jou nie volkome aan Sy koningskap onderwerp nie.
Dit kom dus hierop neer: onderwerp jou aan My voorwaardes, of gaan terug en geniet jou lewe voluit - want daar wag 'n baie lang, lang ewigheid.

# Waarom sukkel soveel goeie kerkmense om te verstaan dat diepgaande bekering 'n ononderhandelbare Bybelse noodsaaklikheid is. Bekering red nie, maar sonder bekering is daar geen redding nie. Die koninkryk van die hemele is steeds 'n skat in die saailand waarvoor mens alles moet verkoop om dit in besit te kry.

Evangelisering behels 'n oproep tot die navolging van Jesus Christus.

# Hierna is reeds heelwat verwys, maar dis nodig om dit spesifiek uit te lig. As 'n negatiewe wegdraai van sonde noodsaaklik is vir egte Christenskap, is 'n positiewe heendraai na en navolging van Christus ewe onmisbaar. Dis twee kante van dieselfde munt. Die een kan nie sonder die ander nie.

# Waartoe roep Jesus hierdie man en elkeen van ons? Kom, sê Hy, gee my jou hart, emosies, verstand en liggaam - jou hele lewe. Gee My jou lojaliteite, jou energie, jou toewyding, jou drome, jou ambisies, jou potensiaal. Gee My jou besittings, jou geleerdheid, jou gawes, jou verlede en jou toekoms. Kom dan, dien My onvoorwaardelik. En Ek sal jou verliese honderdvoudig kompenseer. En daarbenewens sal jy die ewige lewe kry (29-31).
Wat 'n opwindende uitnodiging! Wat 'n skrikwekkende opdrag!

# Elkeen van ons gaan eendag voor die Regterstoel van die Allerhoogste staan. Volgens die Bybel sal die Regter nie bloot konsentreer op my regte verstaan van en geloof in die waarheid nie - noodsaaklik soos dit is. Nee, dit sal gaan oor die uitlewing van Sy opdragte! Onder die loep sal geneem word my gehoorsaamheid terwyl ek in hierdie lewe was. Ons gaan volgens ons werke geoordeel word! [2].
Maklik en dikwels word so erg oorreageer teen die dodelike dwaling van redding deur werke, dat in die slagyster van die ewe bedenklike kettery van redding sonder werke getrap word!

# Besef ons hoe belangrik hierdie saak is? Navolging van Christus is ononderhandelbaar. Luister net wat skryf Johannes: "Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het" (1Jh 2:6).
Destyds kon die Here Jesus nie dubbelhartiges verduur nie. Waarom sou dit nou anders wees? Hy spoeg steeds die louwarmes uit.
Nie een van ons het die gesag om Sy standaarde te verlaag nie. Tog word dit so dikwels gedoen. Die ryk jongman sou hom gemaklik kon tuismaak in feitlik elke gemeente van ons dag - en spoedig sou hy dalk nog in die kerkraad ook gedien het.
Maar Jesus Christus kan ons nie kry nie, as ons nie die wêreld versaak nie.

# Iemand het Jesus gevra: "Sal min gered word?" (Lk 13:23vv). Wat antwoord Hy? "Span al jul kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie."
Sonder vrees vir teëspraak kan mens sê dat baie min kerkgangers afsydig staan teenoor hul ewige lot. Maar dit beteken nie dat hulle sonder meer gered is nie. Want benewens hulle wat gered is, en hulle wat duidelik ongered is, is daar 'n derde kategorie - 'n baie groot kategorie. Dit is die "baie" wat sal probeer ingaan, maar dit nie regkry nie.

Die kameel en die naald

# Tot nou toe het ons gekonsentreer op Jesus se hantering van hierdie jongman, en op die implikasies daarvan vir ons evangelisering. Kom ons kyk nou na wat voortspruit uit hierdie ontmoeting en wat dit prakties vir ons inhou (24vv).
Die man is nou weg, en nou is dit 'n gesprek tussen die Here Jesus en Sy dissipels.

# Jesus sê weliswaar hier dat dit vir 'n ryk man baie moeilik is om die koninkryk in te gaan. Maar Hy kon net sowel gepraat het van 'n bitter en onvergewensgesinde persoon - of van 'n egbreker en wellusteling, of van 'n ongehoorsame kind, of van 'n oneerlike en 'n leuenaar. Hier gaan dit spesifiek oor hebsug, maar die beginsels geld vir enige sonde.

# Nou gaan die Here voort om te beklemtoon hóé moeilik dit vir 'n ryk man is om gered te word. 'n Kameel gaan makliker deur die oog van 'n naald, sê Hy!
Deur die eeue was daar meer as een poging om hierdie verskriklike stelling van Jesus af te water, maar nie een daarvan het nog ooit werklik oortuig nie.
In elk geval verstaan die dissipels Jesus letterlik. "Wie kan dan gered word?", vra hulle. Dit kan hulle wel vra, want die illustrasie wat die Here gebruik, dui op iets wat algeheel onmoontlik is. Daar is egter een, en net een uitsondering: as die almagtige God dit doen, kan dit wel gebeur!

'n Heerlike belofte

# Waarskynlik verstaan die dissipels bloedweinig van wat Jesus presies bedoel, maar hulle aanvaar wat Hy sê. En dan dink hulle met groot verligting daaraan dat húlle al hulle besittings agter gelaat het, al was dit nie veel nie.
Hoewel Jesus nie direk op hulle aanspraak reageer nie, erken Hy per implikasie dat hulle reg is. Want Hy gee in respons vir hulle een van die wonderlikste en rykste beloftes in die Skrif.

# Dis betekenisvol dat Jesus nou nie meer net van besittings praat nie, maar veral van dierbares wat agter gelaat word. Die implikasie is duidelik: dit gaan oor meer as materiële besittings. Enige opregte opoffering ter wille van die Here, Sy evangelie (Mk 10:29), Sy koninkryk en Sy eer, sal ryklik beloon word.

# Daar sit groot troos in hierdie belofte. In hierdie lewe reeds sal dissipels baie keer soveel terug ontvang. Die dividende is uitmuntend! Honderdvoudig - met ander woorde baie, baie meer! (Mt, Mk). En dis nie iets totaal anders as wat hulle opgegee het nie. Volgens Markus is die kompensasie dieselfde soort dinge as dit wat hulle agter gelaat het - en indien nie identies dieselfde nie, ten minste soortgelyk.
Om alles te kroon sal die loon tot sy hoogtepunt kom in die ontvangs van die ewige lewe. Kan die prysgee van enigiets hierteen opweeg? Wat kan belangriker wees as die ewige lewe? Wat kan meer waterdigte sin maak as Jesus se oproep om jou hand af te kap of jou oog uit te ruk as dit dreig om jou die ewige lewe te kos? (Mt 18:8-9). Want daar is niks, maar niks hoër en heerliker as dit nie!
Hierdie wonderlike belofte hou egter één verrassing in: saam met al die heerlikhede kom ook vervolging! (Mk 10:30). Terwyl die dinge wat ons opgee op 'n manier na ons toe sal terugkom, selfs honderdvoudig, is dit nie 'n geval van quid pro quo nie. Dis nie tit for tat nie. Dis nie 'n transaksie nie. Ek het geen aanspraak op die Here se kompensasies nie. Trouens, as dít is waaroor dit vir jou gaan, is jou motiewe nie suiwer genoeg nie.
Laat ons nooit vergeet nie: die Here Jesus het nooit iemand probeer omkoop om Hom te volg en dien nie. En so is dit tot vandag toe. Jy val agter Hom in op Sy terme, of jy loop jou eie pad. En soos in die geval van die ryk jongman, sal Hy nie agter jou aan hardloop nie. Hy is oor niemand verleë nie!
Nee, Jesus het nie mense omgekoop om Hom te volg nie - Hy het hulle uitgedaag. Ja, ja, het Hy gesê, daar is loon, maar dit gaan jou alles kos om dit in besit te kry. Die koninkryk is nie vir lafharte en opportuniste nie. Nee, "bestormers gryp dit met geweld" (Mt 11:12, OAV); "forceful men lay hold of it" (NIV).

Wat sê dit alles vir ons?

1. 'n Hele morsige lewe van sonde is nie nodig om verlore te gaan nie; nee, 'n enkele, net één, boesemsonde waaraan mens vasklou, kan jou en my in die ewige verdoemenis laat beland.
Alles dui daarop dat hierdie jongman 'n uitnemende morele lewe gelei het. Dis net dat hy baie lief was vir sy goed. Só verknog was hy aan sy besittings dat dit vir hom belangriker was as om die Here Jesus as Verlosser te omhels, en gevolglik radikaal, enkelhartig en lewenslank as Koning te dien. Baie, baie mense is werklik opreg en ernstig bereid om alles op te gee vir Jesus, behalwe één boesemsonde, wat dit ook al mag wees. Maar daardie één ding kos hulle dan die ewige lewe.
Ons lees dat Herodus 'n ontsag vir Johannes die Doper gehad het, sy woorde en vermaninge ernstig opgeneem het, en gereeld in 'n tweestryd was wanneer hy na die prediker geluister het - maar dat hy nie kans gesien het om afstand te doen van Herodias, sy broer se vrou nie. Saam met hierdie vrou is hy die ewige verdoemenis in (Mk 6:20).
Ons is geneig om te dink as ons vroomheid darem net 'n bietjie swaarder weeg as ons verkleefdheid aan die wêreld, sal ons dit maak hemel toe. Maar nee, een lekkasie, net één, is nodig om 'n groot skip te laat sink. Een sonde, net één, waarvan ek my nie wil bekeer nie, kan my my siel kos. Laat ek vlymskerp eerlik met myself wees!
Let wel, die Bybel sê nie dat mense wat waarlik gered is, nie 'n stryd teen sonde sal hê nie. Inteendeel, die Skrif leer dat hulle elke dag in 'n intense en meedoënlose oorlog teen die vlees, die wêreld en die duiwel gewikkel sal wees. Die Bybel leer ook nie dat hulle nie meermale in hierdie stryd die onderspit sal delf nie. Maar wat die Bybel wel leer, is dat hulle die sonde met 'n felle haat sal haat, dit nooit sal goedpraat nie, en tog as 'n reël daaroor sal heers.

2. In hierdie verse sien ons die almag van God se genade in Christus.
As dit makliker vir 'n kameel is om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die hemel te kom, is dit inderdaad onmoontlik vir 'n ryk man om gered te word. En presies dieselfde geld vir enige mens met 'n boesemsonde waarvan hy of sy weier om afstand te doen.
Maar as dit dan vir 'n mens onmoontlik is, is dit wel vir God moontlik om so iemand te red. Dis maklik om te verstaan, sê jy. God is die Regter, en Hy is soewerein. Al wat Hy hoef te doen, is om so iemand kwyt te skeld - om die sonde nie teen hom of haar te hou nie. Wie sal Hom beskuldig as Hy die ewige lewe gee vir wie Hy wil?
Iets hiervan is natuurlik waar. Maar heeltemal só eenvoudig is dit nie - verre daarvandaan. God red niemand ten spyte van sy sonde nie. Hy red niemand in sy sonde nie. Nee, as Hy jou red, loop dit altyd uit op 'n felle haat teen sonde in jou lewe - alle sonde. Sonder uitsondering word dit een van jou grootste begeertes om eens en vir altyd klaar te kry met elke kriesel sonde. Presies dit is waarom jy so 'n voortgaande stryd voer teen die sonde in jou.
In die geval van die ryk jongman is sy boesemsonde hebsug. In net die volgende hoofstuk van Lukas lees ons hoe die Here nóg 'n ryk man van hebsug verlos. Ons praat van Saggeus (Lk 19:1-10). Presies hóé dit gebeur het, word nie aan ons geopenbaar nie, maar ons sien hoe hierdie skelm tollenaar totaal strydig met sy persoonlikheid tot nou toe, hom voorneem om restitusie te doen teenoor almal wat hy al in die verlede ingeloop het. Nie alleen wil hy dit veel deegliker doen as wat die Ou Testamentiese wet vereis nie (hy wil vierdubbel teruggee); hy wil die helfte van sy goed vir die armes gee.
As die Here Jesus dan sien dat die doodsgreep van hebsug in Saggeus gebreek is, herken Hy die herskeppende werk van die Heilige Gees in hom: redding het gekom; ook hý is 'n kind van Abraham! Siedaar, die kameel is dwarsdeur die naald se oog!
Sien jy? Al weet ons dat ons deur God se genade alleen gered word, op grond van Christus se verdienste alleen, deur die geloof alleen, neem die Here se redding altyd 'n bepaalde vorm aan. Dit word sigbaar in bekering en 'n opregte standpunt-inneming teen die sonde wat tot nou toe jou lewe beheers het.
Dit beteken egter nie dat hierdie sonde nie meer vir jou gevaar inhou nie. Dis soos 'n slang waarvan jy die rug gebreek het met jou kierie. Bly jy op 'n veilige afstand, is hy magteloos. Maar speel jy met hom, kan hy jou steeds noodlottig pik. Mense wat wedergebore is, ervaar so 'n afsku van sonde dat hulle niks meer te doen wil hê nie met daardie sondes waarmee hulle eens so hand om die lyf geloop het.
Dis omdat die wedergeboorte 'n hartsverandering is. En die hart is die sentrum van jou persoonlikheid. Word jy in jou hart - die beheerkamer van jou lewe - verander, moet en sal jou lewensuitinge ook verander. Dis 'n nuwe lewensbeginsel wat in jou geplant word. Alles verander (2Kor 5:17, OAV). Jy het 'n nuwe lewensgerigtheid, nuwe hartstogte, nuwe belangstellings, nuwe voorkeure en afkeure.
Sien jy? Redding en wedergeboorte kan nie onder 'n maatemmer weggesteek word nie. Sonder uitsondering word dit sigbaar in bekering en heiligmaking [3].

3. Die geskiedenis van die ryk jongman en Saggeus leer ons die wonder van God se genade.
Wie kan dan gered word?, vra die dissipels. Vir God is alles moontlik, antwoord Jesus. En inderdaad, selfs die opperste bedrieër, Saggeus, word 'n nuwe skepsel.
Onthou, die Woord vertel ons van baie ryk mense wat kinders van God was: Abraham, Job, Dawid en talle meer. Maar hulle het een en almal die Here enkelhartig gedien. In geen geval was hulle geld en besittings hulle baas nie. Dink maar aan hoe die Skrif hulle vir ons skets. Is hulle rykdom ooit voorop in hulle lewens? Nee, veel eerder was hulle mense wat met beide hande uitgedeel het - omdat die Here hulle harte bevry het van die wurggreep van hebsug, en dit vervang het met 'n allesoorheersende liefdesempatie vir diegene wat gebrek ly.
En wat hier vir hebsug geld, geld netso vir enige ander sonde waaraan jy in hierdie oomblik mag dink.
O, niemand, maar niemand is buite bereik van God se herskeppende genade nie. Geen sonde kan jou vashou as die Here jou eenmaal gegryp het nie.
Sit jy dus tans nog met 'n doodsonde wat jou magteloos in sy greep het? Maak nie saak wat dit is nie: hebsug, wellus en onsedelikheid, woede en bitterheid, jaloesie, verslawing, luiheid, trots, ongeloof, liefdeloosheid, of wat ook al - vat dit nou in nederigheid en eerlikheid na die Here toe. Verootmoedig jou in opregte gebrokenheid voor Hom. Draai jou rug met beslistheid op jou sonde - neem standpunt in daarteen. Bely dit sonder om terug te hou. En vra Hom dan om jou te vergewe, en om jou te verlos uit die wurggreep. En Hy sal dit doen, al verg dit ook van jou 'n lang en uitgerekte stryd. Want niks behaag en verheerlik Hom meer as om sondaars te red nie.


[1] In die eerste helfte van hierdie Herout loop ek in pas met Walter Chantry se Today's Gospel. Ek is oortuig dis die enigste manier om hierdie stukkie geskiedenis reg te verstaan.

[2] Mt 16:27; 25:31-46; Rm 2:5-11; 2Kor 5:10; Op 19:8; 20:12-13; 22:12-15.
Sien AH 2 en 3 vir 'n bespreking van die verband tussen redding deur geloof alleen, enersyds, en die noodsaaklikheid van gehoorsaamheid en goeie werke, andersyds.

[3] Vergelyk die merktekens van wedergeboorte soos Johannes dit in sy eerste brief beskryf. Lees die OAV: 5:1; 3:9; 2:29; 4:7 (3:14-17); 5:4.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment