Friday, July 15, 2011

ANTIPAS HEROUT No.4 : DIE ERFSONDE - Die waarheid waarsonder die Evangelie nie verstaan kan word nie

Die feit en oorsprong van sonde

# Sonde is 'n universele feit. Elke mens ervaar dit - dwarsoor die wêreld en deur alle eeue. Daar is geen uitsondering nie. Die Skrif leer dit; ervaring en waarneming bevestig dit. Daarom sterf mense, "want die loon van die sonde is die dood ..." (Rom 6:23). [Bybels is 'die dood' natuurlik méér as fisiese dood].

# Hoe moet ons dit verklaar? Waar kom dit vandaan? Die rede lê opgesluit in wat die teologie 'Die Erfsonde' ('original sin') noem.


# Talle Skrifgedeeltes bevestig hierdie leerstuk. Miskien is Rom 3:9-20 en 5:12-19 die duidelikste. Maar vergelyk ook Gen 6:5-6, 11; 8:21; 1Kon 8:46; Ps 14; 51:7; 53; 143:2; Pred 7:20; Jer 17:9; Mark 7:21; 1Kor 15:21-22; Gal 3:22 (NAV); Ef 2:1-3; 1Joh 5:19.

Die erfskuld

# Dit gaan hier oor die mens se skuld ('guilt') voor God - en dus oor sy strafwaardigheid. Een manier om die verband tussen Adam se sonde en sy nageslag se skuld te verduidelik, is om aan hulle te dink as synde 'in sy lendene' toe hy gesondig het. Miskien is dit nog makliker as onthou word dat Adam as verbondshoof die mensheid voor God verteenwoordig het. Hy het dus een en elkeen van ons verteenwoordig.
Al Adam se nakomelinge is gevolglik saam met hom 'verantwoordelik' vir die sondeval - hulle is ewe skuldig en net so strafbaar.

# Ons ken soortgelyke situasies in die lewe. Hitler se optrede in die dertigs en veertigs het die Duitse volk in chaos gedompel. Onsedelike ouers kan veroorsaak dat hulle kinders HIV-positief gebore word. Dit is eenvoudig 'n alledaagse feit van die lewe dat mense in ellende ingebore kan word, sonder dat hulle direk by die oorsaak daarvan betrokke was.

# Netso word elke mens in 'n verskriklike toestand ingebore - as deel van 'n mensheid onder die toorn van God (Ef 2:3). Niemand hou hiervan nie, baie probeer dit ontken, ignoreer, wegredeneer - maar presies dit is wat die Bybel leer, sonder blik of bloos!


# Elkeen wat deur bg. geaffronteer word, moet twee maal dink, omdat God se hele reddingsplan op die beginsel van toerekening berus: Adam se sonde word aan my toegereken; my sonde word aan Christus toegereken; Sy geregtigheid word aan my toegereken.

Die erfsmet

# Dit gaan hier oor die mens se verdorwenheid ('corruption'). Elke nakomeling van Adam word met 'n verwronge morele natuur gebore.
Hy het dus 'n ingebore geneigdheid tot sonde, tot oortreding van God se Wet en wil. Dit maak hom 'n rebel voor God. Maar meer: hy het nie die vermoë om aan God se wil en standaarde te voldoen nie. Dit maak van hom 'n mislukking voor God.

# Hierdie is 'n onomstootlike lewensfeit. Dit geld universeel deur alle eeue. Sien ons dit nie in élke babatjie nie? 'Myne!' 'Nee!' 'Gee!' 'Sal nie!'
Dis soos 'n negatiewe eienskap wat geneties van geslag tot geslag oorgedra word. Jy word eenvoudig en onontkombaar daarmee gebore.


Persoonlike sondes

# Van kleins af is persoonlike sondes die onvermydelike uitvloeisel van die erfsmet, die verdorwe natuur (Ps 58:4). Naas die erfskuld, is daar dus ook steeds toenemende persoonlike sondeskuld.
Hierdie persoonlike sondes manifesteer oor die volle spektrum van die persoonlikheid en lewe: in gedagtes, spraak en dade; in emosies, motiewe en gesindhede; in dade en nalatings.

Radikale verdorwenheid

# Die mens is dus radikaal verdorwe ('totally depraved'). Daarmee word nie bedoel hy is so verdorwe as wat hy kán wees nie, maar wel dat geen area van sy persoon en lewe uitgesluit is van die effekte van die sondeval nie. Die beeld van God is nie totaal vernietig nie (Gen 9:6b), maar dis van hoek tot kant gekraak en verwring.
Ergste van alles is dat hy geestelik doof en blind is. Hy hoor en sien nie die dinge van die Here nie (1Kor 2:14). Hy het geen behoefte daaraan nie, maar ervaar veel eerder 'n weersin daarin. Sonder 'n genadewerk van die Heilige Gees het hy nie ware sondebesef nie (Joh 16:8-11) en sal hy nooit tot ware geloof in Christus kom nie (Hand 16:14). Hy is geestelik dood (Ef 2:1).

# Is Rom 3:10vv nie té meedoënloos in sy beoordeling van die mens nie? (L.W. 'niemand'; 'selfs nie een nie'; 'almal').
Hierteenoor sou 'n tipiese reaksie wees: 'Daar is tog baie wonderlik-goeie mense!' 'Natuurlik is niemand volmaak nie, maar selfs in die slegstes sit 'n stuk goed!'
Die mens vind die Bybel se lae dunk van hom afstootlik. Daarom sê Luther van hom: "Sy finale sonde is onwilligheid om te erken hy is 'n sondaar." Tog is dit nodig om te verstaan waarom God se Woord die mens so vernietigend beoordeel.

* Wat is die grootste sonde? Diefstal, moord, egbreuk, afgodery, laster, ongeloof? Wel, wat is die grootste gebod? Die samevatting van die Tien Gebooie stel dit duidelik: jy moet God liefhê met jou hele hart, siel, verstand en krag; en jou naaste soos jouself (Deut 6:4-5; Mark 12:28-31). Nou is dit voor die hand liggend dat oortreding van die grootste gebod meteen die grootste sonde moet wees.
Wat is dus die grootste oortreding? Om God nié met jou alles en jou naaste soos jouself lief te hê nie. En hierin slaag niemand nie. Nooit nie!
Of, om dit positief te benader, vir enige 'goeie werk', om volkome voor God te wees, moet dit uit 'n hart vloei wat God en die naaste volkome liefhet (1Kor 13:1-3). Daarom lê die Bybel se aksent so sterk op die gesteldheid van die hart. Presies dít is wat Jesus in die Bergpredikasie tuisbring (Matt 5:21vv).
Maar, omdat niemand ooit 'n volkome hart het nie, doen niemand ooit 'n volkome daad nie.

* Dit beteken nie dat 'n mens God nie kan behaag nie. Die gelowige kán inderdaad - wanneer iets vanuit 'n ware geloof gedoen word, volgens Bybelse voorskrifte en met die doel om Hom te verheerlik.
Maar om God te behaag (en vanuit bg. is dit duidelik dat net iemand in Christus dit kan doen) is één saak; om volmáák te wees iets anders.
God se 'slaagsyfer' vir volmaaktheid is altyd 100%. En wie nie slaag nie, dop! God is volmaak en Sy standaarde is volmaak.

Enkele opmerkings en implikasies

# J.I. Packer is reg: "The subject of sin is vital knowledge. To say that our first need in life is to learn about sin may sound strange, but in the sense intended it is profoundly true. If you have not learned about sin, you cannot understand yourself, or your fellow-men, or the world you live in, or the Christian faith. And you will not be able to make head or tail of the Bible. For the Bible is an exposition of God's answer to the problem of human sin ...." (God's Words, p.71).

# Inderdaad is die middelaarswerk van Jesus Christus, en dit alleen, die antwoord op hierdie onontkombare en noodlottige ellende van die mens. Presies dít maak van die evangelie die beste nuus op aarde.
Wie die erfsonde nie verstaan nie, kan gevolglik nie die evangelie begryp nie - in elk geval nie behoorlik nie. Wie nie die wurggreep van hierdie universele morele kanker herken en erken en daarmee worstel nie, se hart sal nooit gloei van dankbaarheid oor God se liefde nie. Alleen teen die pikswart dekor van die natuurlike mens se radikale verdorwenheid en volslae onvermoë, kan die noodsaak en wonder van God se soewereine genade vir sondaars na waarde geskat word.
Sonder twyfel is ons hier by een van die worteloorsake van die kontemporêre kerk se lusteloosheid: oppervlakkige sondebegrip en -besef. Per slot van sake, wie 'baie' vergewe is, het baie lief; wie 'min' vergewe is, het min lief (Luk 7:47).
Een van die kosbaarste woorde in die ganse Skrif, is 'maar'. Om hierdie woordjie skarnier die ganse heilsgeskiedenis! Verskeie kere, as die Apostel Paulus die grootse genade van God omskryf, word dit hierdeur ingelei. Dit druk kontras uit: die heerlike genade van God in die lewe van herskepte mense teenoor die hopelose en skrikwekkende verdorwenheid van die natuurlike mens.

* Rom 3:9-20: Die natuurlike mens is in 'n ellendige situasie. Maar: Rm 3:21-31!

* Ef 2:1-3: Die natuurlike mens is geestelik 'dood' (v.1); hy is 'n 'slaaf' van die wêreld, die duiwel en die vlees (v.2-3a); hy is onder die 'toorn' van God (v.3b). Maar: Ef 2:4-10!

* Kol 1:21: Die natuurlike mens is in vyandskap met God. Maar: Kol 1:22!

* Tit 3:3: Die natuurlike mens is magteloos in 'n morsige moeras van sonde. Maar: Tit 3:4-7!

# Min dinge onderstreep die waarheid van die Bybel meer as die universaliteit van sonde. Waar anders is 'n bevredigende verduideliking vir hierdie tragiese lewensrealiteit te vinde?
Tog is die leerstuk van erfsonde en die radikale verdorwenheid van die natuurlike mens 'n verleentheid, selfs 'n aanstoot vir baie Christene. Dit bly helaas 'n tipiese neiging van die sondige mens om God minder te wil maak as wat Hy is, en van homself meer as wat hy is.
Maar miskenning of verwaarlosing van hierdie leerstuk lê aan die wortel van 'n duisend dwalinge.

* Een van die mees God-onterende en noodlottige gevolge van die miskenning van die mens se radikale verdorwenheid, masel uit in die wyse waarop vandag so dikwels geëvangeliseer word. Omdat, strydig met die Bybel, aanvaar word dat die gevalle mens in homself die vermoë het om vir of teen Christus te besluit, word allerlei tegnieke gebruik om sondaars tog net sover te kry om 'n 'hoed-in-die-hand-here' aan te neem. Dis soos 'n verkoopsman wat enigiets sal doen om sy klant te oorreed. Wat meer is, daardie aspekte van die evangelie wat aanstoot gee, word verswyg, terwyl die 'blink kant' daarvan beklemtoon word. So word die struikelblok van die kruis (Gal 5:11) uitgerangeer en 'n goedkoop evangelie saamgeflans wat die kerk vul met wêreldlinge wat net entoesiasties bly op 'n dieet van 'gospel show-biz'.
Natuurlik moet ons ernstig by sondaars aandring om hulle te bekeer en Christus aan te neem; natuurlik mag hulle verantwoordelikheid hierin nooit onderspeel word nie; natuurlik moet 'n appél ook op hulle wil gemaak word. Maar dit moet altyd geskied in die wete dat nét die Heilige Gees hulle deur die evangelie daartoe kan bring. Alleen dán kan die slaggat van 'n versuikerde 'evangelie' vermy word. Trouens, nou kan die evangelie onverwaterd en radikaal verkondig word, want 'almal wat vir die ewige lewe bestem is, sal gelowig word' (Hd 13:48).

* 'n Ander baie onrusbarende en wêreldwye tendens die afgelope paar dekades, is om die Bybelse evangelie subtiel te vervang met 'n 'gekerstende' sielkunde wat die oorsprong van persoonlikheids- en gedragsprobleme op 'n simplistiese wyse terugvoer na veral traumatiese ervaringe, gewoonlik in die kinderjare. Die gevolg is dat vir 'n sondaar gesê word, nie dat hy hom moet bekeer nie, maar dat hy 'n slagoffer van omstandighede en besonderlik ander se wanoptrede teen hom is. Hierdie onvanpaste simpatie suggereer dan dat sy optrede maar in orde is; trouens, dat dit eintlik onvermydelik is. In plaas van die Bybelse aksent op sonde, word daar dus gefokus op wonde. En die resultaat? Geen sondebesef, geen bekering, geen genesing, geen dankbaarheid, geen gehoorsaamheid - geen redding nie!

# Vanweë die ervaringsrealiteit van sonde, wonder die mens noodwendig oor die kuur daarvoor. En hierdie soeke lê aan die wortel van die universele verskynsels van menslike moraliteit en religie ('religion').
Mensgemaakte godsdiens kom tipies tot uitdrukking in menslike pogings om bo hulle morele verdorwenheid uit te styg deur religieuse moets en moenies. In die proses hoop die mens dan om sy skepper tevrede te stel en om uiteindelik die ewige lewe te beërf. Dit het deur die eeue gelei tot die verskriklike gebondenheid van biljoene, wat in kerkers van vrees vir die hiernamaals, hulle lewenslank afsloof op trapmeulens van godsdienstige verdienste.
Maar die gevalle mensheid het net eenvoudig nie die vermoë in homself om sy sonde-gebrokenheid te ontworstel nie. Niemand kan homself aan sy eie skoenveters optel nie.
Alleen die Evangelie dra die ware boodskap van bevryding: Die antwoord op die mens se verskriklike dilemma lê nie daarin dat hy na God toe moet opklim nie. Mensgemaakte godsdiens is 'n leer wat nêrens heen lei nie. Nee, daar is maar één hoop - dat God na die mens toe afbuig. En presies dit het Hy gedoen - in Christus Jesus, Sy eie Seun!
Hier, net hier, lê die diepste en wesentlike verskil tussen die ware evangelie en die godsdienste van die wêreld - insluitende 'churchianity' (wat deur Christelike moralisme die saligheid wil beërf). Hierdie onderskeid mag subtiel lyk, maar dit maak al die verskil in die wêreld - en in die hemel!

# Die waarheid van die erfsonde is dus glashelder: daar is geen finale hoop in vredespogings, demokrasie, ekonomiese hervormings, opvoeding en navorsing nie. Terwyl hierdie dinge op sigself goed mag wees, sal dit nooit die Utopia bring waarna die mensheid sedert die sondeval soek nie.
Christus voorsien geen morele ontwikkeling deur die geskiedenis nie, want, sê Hy, wanneer Hy terugkom sal dit maar nog net so gaan soos in die dae van Noag en Lot (Luk 17:26-30).

# Sonder die besondere openbaring van God kan ons sonde nóóit ken vir wat dit werklik is nie. Sonde word deur die Skepper gedefinieer, en nie deur die skepsel nie.

* Sonde is status en aard, voordat dit handeling of versuim is. Dit gaan dus om iets veel diepers as die probleem van 'geweld' of 'misdaad' of 'dwelmmisbruik'.
Allereers is sonde 'n status voor ons Skepper: die mens, nee, ék, is voor my eerste asemteug skuldig voor 'n heilige God. Dan is sonde 'n aard: 'n natuurlike geneigdheid, 'n aangebore onvermoë - 'n onontkombare 'genetiese hartdefek' oorgedra van geslag tot geslag.
Eers dán word dit óf 'n daad óf 'n versuim.


* Sonde sit allereers in mense; eers daarna in strukture. Ek, ja ék, is 'n groter probleem in hierdie wêreld as enige samelewingsiekte, ekonomiese beleid, of politieke stelsel. Samelewingstrukture bestaan immers uit mense. En die aard daarvan word deur daardie mense bepaal - deur individue. As die mense nie verander nie, is enige verandering aan die struktuur beswaarlik meer as kosmeties. En mense? Hoe verander hulle? Daar is net één manier: hulle hárte moet verander.
Tragies daarom, onuitspreeklik, dat die kerk (uitsonderings daar gelaat) die heerlikste van alle roepings verruil het vir 'n pot lensiesop - verkondiging van die Evangelie vir struktuurtakelary. Nét die Evangelie verander mense - een vir een, kop vir kop (Rom 1:16-17; 1Kor 1:21; 2Tess 2:14; Jak 1:18; 1Pet 1:23). Struktuurtakelary kan nie genees nie, dit vervorm net - want dit verander nie menseharte nie.
Omdat die apostels dít verstaan het, het hulle beswaarlik tyd gevind vir die 'goeie'; hulle het hulle alles gegee vir die 'uitnemende'. Presies dít is waarom hulle die evangelie verkondig het. En presies dít is waarom hulle net één boodskap gehad het - Jesus Christus, die Gekruisigde! (1Kor 1:23; 2:2).

No comments:

Post a Comment