Saturday, June 23, 2012

ANTIPAS HEROUT No.10 : HEILIGMAKING : WATERMERK VAN CHRISTELIKE EGTHEID - Die aanvang en vervolmaking daarvan

    Heiligmaking is die proses waarin God Sy uitverkorenes verander vanuit hulle natuurlike    sondeverdorwe toestand tot gelykvormigheid aan die verheerlikte mensheid van Jesus Christus.
   

In sowel die Ou as die Nuwe Testament dra die begrip "heilig" die idee van afsondering  -  om eenkant te wees of geplaas te word vir gebruik of bevoorregting. Hieruit vloei dan die verdere idee van morele reinheid.

Aanvanklike heiligmaking

Tradisioneel beklemtoon Christelike lering, heeltemal tereg, die lewenslange en progressiewe karakter van heiligmaking. Maar 'n ewe belangrike aspek daarvan word dikwels verwaarloos. Dis 'n faset wat na vore kom as die gebruik van die begrip in die Nuwe Testament bestudeer word.
    Dikwels word na heiligmaking verwys as iets wat afgehandeld en onherhaalbaar in die verlede gebeur het. Hierdie aspek van heiligmaking het ten minste 'n ewe sterk klem in die Skrif as die progressiewe aspek daarvan.

•    In Hd 20:32; 26:18; Rm 15:16; 1Kor 1:2 en Hb 10:10 word die gelowiges "geheiligdes" (Passiewe Verlede Deelwoord) genoem (sien OAV). Die werkwoorde is passief (dit is dus iets wat aan hulle gedoen is  -  deur die Heilige Gees, volgens Rm 15:16) en dui op 'n gebeurtenis in die verlede met steeds geldende gevolge.

•    In 1Kor 6:11 sê die apostel van die gelowiges dat hulle "geheilig" is (OAV) en hy gebruik 'n gewone verlede tyd. Dis weer 'n passief, met die Gees as die handelende. Dit is twyfelagtig of te veel waarde geheg moet word aan die orde waarin die begrippe ingespan is; en indien wel intensioneel, is opinies uiteenlopend oor wat dit beteken.

•    Die Selfstandige Naamwoord (heiligheid; heiligmaking) verwys ook soms na hierdie gebeurtenis, soos duidelik uit die sinsverbande blyk (1Kor 1:30; 2Ts 2:13; 1Pt 1:2).

•    Dis o.g.v. hierdie heiligmaking wat Nuwe Testamentiese gelowiges "heiliges" (meervoud byvoeglike naamwoord) genoem word (Rm 1:7; 1Kor 1:2; 2Kor 1:1; Ef 1:1; Fl 1:1; Kol 3:12 - vgl. meer as een vertaling).

Oor wat hierdie aanvanklike, afgehandelde heiligmaking presies beteken, het teoloë verskillende idees. Almal aanvaar dat dit ten minste 'n posisionele betekenis het. En dis die beste om daarmee te volstaan.
    Aanvanklike heiligmaking dui dan op die werk van die Heilige Gees wanneer Hy op 'n persoon beslag lê en hom of haar afsonder, as 't ware "eenkant neersit" vir God se besondere genade en diens. Dis wanneer Hy iemand "uit Adam uithaal" en met Christus as die Laaste Adam (1Kor 15:45) verenig ten einde hom deel te maak van God se nuwe mensheid; wanneer Hy hom vanuit die duisternis oorbring na God se wonderbare lig (1Pt 2:9; Hd 26:18); wanneer Hy van hom 'n ware Christen maak. Dis dan bykans sinoniem aan ander uitdrukkings wat op dieselfde saak wys ("Ek is in 1973 gered"'; "Hy het vanuit Islam tot bekering gekom").
    Tog wil die begrip steeds die idee van afskeiding, van afsondering onderstreep  -  besonderlik die voorregte, verantwoordelikhede en praktiese implikasies daaraan verbonde. Dit is dus 'n sambreelterm wat al die elemente  van die heilsorde saamvat wat ter sprake is wanneer iemand 'n Christen word (roeping, wedergeboorte, geloof, bekering, regverdiging en aanneming).
    As die Woord vir gelowiges sê dat hulle reeds geheilig is, en daarom heiliges is, wil dit beklemtoon dat hulle, toe hulle Christene geword het, deur die Drie-enige God van 'n sondige wêreld onder Sy toorn afgesonder is vir Homself  -  en daarom vir onuitspreeklike voorregte, verhewe dienswerk en 'n welgeluksalige toekoms. Dit wil dus 'n innerlike vastigheid in hulle vestig, oorstelpte aanbidding uit hulle laat ontspring, 'n gewigtige verantwoordelikheidsbesef in hulle laat neerslag vind en 'n permanente dankbaarheidslewe by hulle ontlok.

'n Fundamentele en belangrike waarheid

Dit is uiters belangrik dat Christene die waarheid van aanvanklike, afgehandelde heiligmaking behoorlik in hulle denke verreken. Die wydverspreide verwaarlosing daarvan laat gelowiges beslis armer. Afgesien daarvan dat sekere sleutel Skrifuitsprake nie daarsonder verstaan kan word nie, is hierdie waarheid  -  hoewel nie noodwendig by die naam genoem nie  -  grondliggend aan die apostels se oproepe tot 'n heilige lewe. Vergelyk bv. Fl 2:1 (OAV) se 4 maal "as" (ekwiwalent aan "aangesien" in die Grieks) en wat daarop volg. Ook Kol 3:1-4 is insiggewend, veral die "aangesien" waarmee v.1 begin en die "daarom" waarmee v.5 dan aangaan.
    Die Nuwe Testament werk sterk met die waarheid dat dit ondenkbaar is dat mense wat geheilig is (met alles wat dit beteken en impliseer), sonder meer maar net met sonde kan voortgaan. Afgesien daarvan dat so iets onmoontlik is vanuit hulle lewenseenheid met Christus en die nuwe hart wat daarmee gepaard gaan, sou dit op veragtelike ondankbaarheid, skreiende inkonsekwentheid en 'n skokkende gebrek aan integriteit neerkom.
    Rom 6 is waarskynlik die mees uitvoerige ontvouing van hierdie fundamentele Bybelse motivering vir 'n heilige lewe.
    Die heerlike waarheid van aanvanklike, afgehandelde heiligmaking vorm die vaste fondament van die leerstuk en najaging van progressiewe heiligmaking. Dit, meer as enigiets anders, verleen aan die gelowige die wete dat hy die stryd vanuit 'n posisie van krag en oorwinning aanpak. Hy is selfs meer as die "oorweldigende gunsteling", hy is die sekere oorwinnaar.
    'n Welbekende illustrasie word ontleen aan die Tweede Wêreldoorlog. Die geallieerde magte het in die helfte van 1944 (D-dag) op die strande van Normandië geland. Elke oorlogstrateeg het toe geweet wie die oorlog gaan wen, want die Duitse magte was nou onomkeerbaar op die agtervoet. Tog het dit nog elf maande geduur en van die bloedigste gevegte van die oorlog gekos voordat Berlyn geval het (V-dag). Maar, en dis die punt, tydens hierdie veeleisende tydperk was die geallieerdes in 'n posisie van krag en was daar vir hulle net een pad  -  vorentoe! Hoe belangrik is dit nie vir Christene om hulle eie heil, ja, met vrees en bewing, maar op die voorvoet uit te werk nie  -  wetende dat God self in hulle werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae (Fl 2:12-13, OAV)!

Die wedergeboorte

    Heiligmaking groei in die bedding van die wedergeboorte.

Dit is die daarstelling van Christus se natuur in 'n mens en is uiteraard voorvereiste vir die vorming van Sy beeld in 'n sondaar.
    Die Ou Testament kyk meermale vooruit na die wedergeboorte. Veral twee Skrifgedeeltes is vir ons van belang: Jer 31:31-34 en Eseg 36:24-28.
    Laasgenoemde hoofstuk is een van die duidelikste Ou Testamentiese hoofstukke oor die aard en rykdomme van die Nuwe Verbond, besonderlik die wedergeboorte.   In v.25 belowe God dat Hy Sy volk met water van hulle sonde sal reinig en in v.27 belowe Hy die groot gawe van die eindtyd, die Heilige Gees. As die Here Jesus met Nikodemus oor die wedergeboorte praat, verwys Hy spesifiek na hierdie twee elemente in Jh 3:5: water en Gees.
    Tussen die twee beloftes in Eseg 36 is 'n vers wat van die allergrootste belang is vir ons onderwerp. V.26 belowe 'n 'nuwe hart' - een van vleis wat die ou hart van klip vervang. Die Bybelse begrip 'hart' dui op die sentrum van 'n mens se persoonlikheid. Dit is dus die 'beheerkamer' wat sy hele lewe bepaal (Spreuke 4:23). 'n Feit wat vasstaan, is dat elke mens onder die dwang van sy eie hart leef. Wat in sy hart aangaan, dit is hy.
    'n Illustrasie hiervan is te vinde in die gedrag van trekvoëls. Waarom vlieg hulle noordwaarts in die herfs en kom elke lente weer terug? Die antwoord lê in hulle aangebore natuur. Aan hierdie genetiese trekinstink móét hulle gehoorsaam wees; hulle kán nie anders nie. Só is elke mens onontkombaar aan sy eie hart gehoorsaam.
    'n Hartsverandering sal dus onvermydelik 'n gedragsverandering meebring. So sal die Here "maak" (OAV) dat ons volgens Sy voorskrifte leef (v.27). In Jer 31 word 'n ander beeld gebruik om dieselfde belofte te dra: Hy sal Sy wette op mense se harte skryf (v.33).
    Eseg 36 se ou hart is van klip. Dit is dood vir die Here en Sy dinge. Dit is koud en hard, dus belangeloos en gevoelloos teenoor God, Sy eer, Sy wil en Sy Koninkryk. Die nuwe hart, daarenteen, is van vleis. Dit is lewend vir die Here en Sy dinge. Dit is warm en sag, dus ywerig en vormbaar met betrekking tot God, Sy eer en Sy koninkryk.
    Hierdie hartsverandering, wat die Nuwe Testament 'n geboorte uit God, oftewel die wedergeboorte noem, bring dus 'n nuwe lewensbeginsel, 'n nuwe geaardheid, 'n nuwe geneigdheid, 'n nuwe ingesteldheid. Dit bring nuwe prioriteite, nuwe ambisies, nuwe verlangens, nuwe hartstogte. Daarom bring dit 'n totaal nuwe lewe  -  'n lewe wat gedring word deur die begeerte om God Drie-enig te ken, om soos Hy te word en om baie vrug tot eer van Sy Naam te dra.
    Presies dit het die Apostel Paulus proefondervindelik verstaan: "Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk dit het alles nuut geword." (2Kor 5:17, OAV).

Gevolge van die wedergeboorte

Die eerste brief van Johannes gee baie aandag aan die gevolge en dus merktekens van wedergeboorte. Veral een vers is vir ons doel insiggewend: 1Joh 3:9. Let op die struktuur (vgl. OAV, wat die Grieks letterlik weergee):

      uit God gebore
          doen nie sonde nie
              want God se saad bly in hom
          doen nie sonde nie
      uit God gebore


Sonder om nou aandag daaraan te gee, moet net gemeld word dat Johannes nie hier van sondeloosheid praat nie (vgl bv.1:8-2:20). Wat hy waarskynlik bedoel (die werkwoordsvorm dui daarop), is dat so 'n persoon nie meer met sonde as 'n lewenswyse voortgaan nie. En wat is die geheim? God se saad is in hom geplant! Die Here het dus 'n nuwe lewensbeginsel in hom ingeskape deur die wedergeboorte  -  wat wil klaarkry met sonde en wat niks méér begeer as om God te behaag nie.

Slotsom

In die lig van alles wat hierbo gesê is, is dit glashelder dat wedergeboorte van die allergrootste belang vir heiligmaking is. Dis die begin van 'n morele verandering in 'n mens en as sodanig die bron waaruit heiligmaking voortvloei.

    Wedergeboorte in 'n persoon se lewe is God se soewereine en diep-ingrypende lewendmakende werk deur Sy Heilige Gees, waardeur so 'n persoon verander word vanuit 'n toestand van geestelike dood (en 'n gevolglik God-vermydende hartsgesteldheid) tot 'n toestand van geestelike lewe (en 'n gevolglik God-soekende hartsgesteldheid).
Heerlikmaking


As wedergeboorte die aanvang is, is heerlikmaking die voltooiing, afron-ding, vervolmaking van die proses waarin Christus se volmaakte en verheerlikte menslike aard aan God se kinders toebedeel word. Dis waarheen al God se verlossingswerk in hulle lewens op pad is. Hy het hulle uitverkies en bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders  (en natuurlik susters) (Rm 8:28-30). En gelowiges het die heerlike versekering dat God self die proses tot vervolmaking sal voer. Luister na die apostel: "Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom' (Fil 1:6, NAV).
    In sowel die Ou as die Nuwe Testament is heerlikmaking die hart van gelowiges se salige hoop (Ps 17:15; 73:24-25; Rm 8:18; 2Kor 4:16-18; Fl 3:7-14; Tit 2:13; 1Pt 5:1,4). Die apostels het dwarsdeur die dood en die graf gekyk  -  en hulle oë op die heerlikmaking vasgenael.
    Hierdie vervolmaking geskied in twee momentele stappe. Eerstens, as skeiding tussen liggaam en gees plaasvind tydens die fisiese dood. Finaal, as liggaam en gees weer verenig word wanneer eersgenoemde uit die dood opgewek word tydens die wederkoms van Jesus Christus. Normaalweg word lg. eintlik die heerlikmaking genoem, maar soos hieronder getoon sal word, is dit 'n effense verskraling van die begrip.
    Diegene wat in Christus ontslaap het (in sowel die OT as die NT), die liggaamlose heiliges, is nou in die teenwoordigheid van die Here (Fl 1:23). Hoewel nog voor die opstanding, noem die Skrif hulle "die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is" (Hb 12:23). Hulle is vry van die beperkinge van die aardse bestaan, vry van die "liggaam van hierdie dood" (Rm 7:24, OAV), vry van sonde, vry van lyding  -  en hulle is by die Here. Dis inderdaad 'n toestand van heerlikheid  -  maar dis tog nog 'n voorlopige toestand.
    Uiteindelike heerlikmaking het verskillende fasette. Dit sal ons finale aanneming as kinders van God wees, en die verlossing van ons liggame (Rm 8:23). Dit sal die besitname van ons volledige en ewige erfenis in Christus wees (Ef 1:13-14; 1Pt 1:3-5). Dit sal die formele en openlike bekragtiging van ons regverdigverklaring wees en, as sodanig, die verlossing van God se toorn, wat net daarna oor 'n ou en verdorwe skepping uitgegiet sal word (Mt 25:31-46; Rm 5:9-10; 8:33-34; 1Ts 1:10).

•    Finale heerlikmaking sal vlekkelose morele vervolmaking vir die individu bring (1Kor 1:8; Ef 1:4; Fl 1:9-11; Kol 1:22; Jud 24). Dit sal ook 'n volheid van kennis bring (1Kor 13:12; 1Jh 3:2).

•    Die verloste, wat tydens die tussentoestand geestelik bestaan het, sal met die uiteindelike heerlikmaking 'n volmaakte en verheerlikte liggaam ontvang (1Kor 15:35-50; 2Kor 5:1-5; Fl 3:20-21).
    1Kor 15 stel in grafiese taal die kontras tussen die huidige liggaam en die verheerlikte. Tans is dit verganklik (onderworpe dus aan siekte, veroudering en dood); maar eendag sal dit onverganklik wees (42). Tans is my liggaam swak en gering; maar dit sal in krag en heerlikheid opgewek word (43). Tans is dit 'n natuurlike liggaam; maar dan 'n geestelike (bo-natuurlik, geskik vir bestaan in 'n lewensfeer wat deur God se Gees beheers word, volmaak toegerus vir gemeenskap met God, wat gees is) (44).
    Hierdie 'bekleding met die onverganklike en onsterflike', hierdie vernietiging van en oorwinning oor die dood, sal in 'n oogwink gebeur (1Kor 15:51-54).

•    Nie alleen sal die individu verheerlik word nie, maar ook sy omgewing en woonplek. Die skepping wat a.g.v. die sondeval verwring is (Gn 3:14-19), sal van sy "verydeling en verslawing aan die verganklikheid bevry word tot 'n staat wat hoort by die heerlikheid van die kinders van God" (Rm 8:19-22). In Op  21:1-2 word dit "die nuwe hemel en die nuwe aarde" genoem.
    Voor die sondeval het die mens 'n heerlike woonplek, die Tuin van Eden gehad. Sonder twyfel sal 'n nog heerliker woonplek  -  deur die Hemelse Bruidegom vir Sy bruid voorberei (Jh 14:1-3)  -  'n wesentlike bydrae lewer tot die nuwe mensheid se ewig-welgeluksalige staat.

Wat die toebedeling van Christus se volmaakte menslike natuur aan die uitverkorenes betref, is dit nou duidelik dat dit drieërlei uiteenval.

•    Eerstens word "die saad van God", die embrio van Sy natuur en heiligheid deur die wedergeboorte ingeplant. Hiersonder sou daar geen sprake van heiligmaking kon wees nie.

•    Dan volg heiligmaking  -  die groei van hierdie nuwe lewensbeginsel -  tydens die gelowige se lewe op aarde. Dit is nie 'n proses wat wasdom bereik nie, nie naastenby nie. Dit benodig 'n verdere dramatiese ingrype van God.

•    Laastens is daar dan die heerlikmaking, wat die uitverkorene se wesentlike staat uiteindelik in ooreenstemming bring met die juridiese status wat hy sedert sy regverdigmaking (toe hy die eerste maal waarlik geglo het) in God se boeke geniet het! Dit verlos hom, enersyds, finaal van die "liggaam van die dood" en die sonde, en maak hom, andersyds, oor die volle spektrum van sy menswees gelykvormig aan die verheerlikte mensheid van "die mens, Christus Jesus" (1Tm 2:5)  -  die Hoof van God se nuwe skepping.

    Heiligmaking is dus 'n proses tussen twee krisisse  -  twee dramatiese ingrypings van God:  Wedergeboorte, die groeibodem, die bron, die embrio daarvan, en heerlikmaking, die afronding en vervolmaking daarvan.
                                                                Nico van der Walt

                                                                               -o0o-

No comments:

Post a Comment