Thursday, June 21, 2012

ANTIPAS HEROUT No.3 : GOEDKOOP GENADE OF DUUR GENADE OF GRATIS GENADE - Die Christen en goeie werke

Christelike gehoorsaamheid, en in die besonder goeie werke, is ons tema. Kom ons kyk daarna aan die hand van 'n fassinerende vers in Efesiërs.

    "Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel." (Ef 2:10. Die OAV is meer letterlik vertaal)

Die konteks

In die voorafgaande verse, van die begin van die brief af, gee die Heilige Gees van die mees verbysterende openbaring in die ganse Bybel. Paulus skryf, soos dalk nêrens anders nie, oor God se alleen-inisiatief in 'n Christen se redding, en oor sy duiselingwekkende erfenis in Christus.
    In 2:8-10 kom die Apostel tot 'n slotsom. Die punt wat hy wil tuisbring, is dat alles die genadegawe van God is. Dit volg dus noodwendig dat geen Christen enigiets het om in te roem nie. God alleen moet alle eer kry. Dis natuurlik die eenstemmige getuienis van die hele Nuwe Testament (vgl. bv. 2Tm 1:9). Wie dit loën, loën 'n wesenselement van die waarheid.
    Dan antisipeer Paulus blykbaar 'n vraag in die gemoedere van sy lesers: "Goed, ons aanvaar dit. Maar sedert ons wedergebore, herskep is deur die Heilige Gees, is die bal sekerlik in ons baan. Nou is dit vir ons om gehoorsaam te lewe. Sou mens nie kon sê dat dit ons býdrae tot ons redding is nie?"
    Vers 10 is dan sy antwoord. Volstrek nie, sê hy, selfs ons goeie werke is genadegawes van die Here! So draai hy dan enige verwarring oor hierdie saak eens en vir altyd nek-om. As die Drie-enige God 'n geestelik-dooie sondaar (2:1-3) red, is daar selfs van so 'n mespunt aandeel in sy eie redding en uiteindelike loon, nie die minste sprake nie!

Ef 2:10 nader bekyk

•    Eerstens sê die apostel: "Sý maaksel is ons" (letterlik). Die begrip "maaksel" (Gr. poi-ema) herinner sterk aan die Engelse begrip "poem". (gedig). Waarskynlik dra dit iets van die betekenis van 'n kunswerk. Tweedens sê hy dat elke Christen deur God "geskape" is. Paulus gebruik hierdie twee woorde, sowel as sy beklemtoning in die Grieks, om 'n belangrike punt tuis te bring. Waarskynlik het hy die tipies Bybelse beeld van die pottebakker en die klei in gedagte. Net so min as wat 'n erdepot enige eer met sy maker kan deel, net so min het 'n Christen iets om oor te spog.
    Verse 1-6 beskryf 'n sondaar se redding as opstanding uit die dood, as bevryding uit slawerny en as verlossing vanuit oordeel. Hier word dit beskryf as 'n skepping vanuit niks (vgl. ook 2Kor 4:6, waar wedergeboorte direk met Gn 1 verbind word).

•    Voorts, dis 'n skepping "tot goeie werke". Die Griekse konstruksie is kategories: dis 'n skepping met die oog op goeie werke, met die doel dat goeie werke sal volg. Soos 'n wingerdstok geskape is om druiwe te dra, en 'n voël om te vlieg, so het God die Christen herskep om goeie werke te doen! Dis sy skeppingsdoel; dis 'n noodwendigheid.
    Dis nie net bepaal dát die gelowige goeie werke sal doen nie, maar (verstommend!), die werke self is vooraf gereed gemaak. Dit is voorberei -  die aard en besonderhede daarvan, die wanneer en hoe en wat daarvan.

•    Dit is gedoen "sodat ons daarin kan wandel". God het 'n baie definitiewe doel met ons herskepping en die voorbereiding van die werke gehad: Sy kinders moes dit tydens hulle lewens op aarde kom doen  -  en Hom so verheerlik, medewerkers wees in die uitwerk van Sy raadsplan, en die egtheid van hulle redding manifesteer.

•    Die algemene karakter van hierdie werke is vooraf vasgelê. Inderdaad het dit deur die eeue nooit verander nie. Maar, en dis belangrik, dit is ook verordineer presies hoe dit in elke individu se lewe tot uitdrukking sou kom. Dis nodig om hierdie saak te verindividualiseer  -  anders hou Paulus se argument nie water nie. Sou dit hier bloot gaan om die algemene bepaling van wat goeie werke is, berus daar nog 'n wêreld se keuses en inisiatiewe by die individu, en sou Paulus se lesers goeie grond hê om sy ontkenning van enige eer vir die Christen te bevraagteken.

•    Om seker te maak sy lesers verval nie nou in die teenoorgestelde dwaasheid nie, naamlik passiwiteit en verantwoordelikheids-ontduiking, sê die Apostel dis nodig om in hierdie goeie werke te "wandel". Die woord beteken gewoon om te stap, te loop, en word in die Nuwe Testament gebruik om op 'n lewenswyse te dui (vgl. 4:17; 5:2, 8, 15). Dit het ten minste twee uiters belangrike praktiese implikasies:
    Eerstens: In elke individu se uitleef van hierdie goeie werke, is daar dinamika, opeenvolging, voortgang. Dis mos presies soos ons dit beleef: een ding lei tot 'n ander  -  daar is 'n begin en dan 'n ontwikkelingsgang. En elke individu het sy eie pad. Hiermee werk ons later meer.
    Tweedens: Ek is bewustelik en aktief by die uitleef van hierdie goeie werke betrokke. Die mens is meer, baie meer as 'n wingerstok of 'n voël. Hy is beelddraer van God  -  des te meer as herskepte in Christus. Die werke kom dus nie maar vanself, outomaties, meganies nie. Nee! My hele mens is daarby betrokke: wil, emosies, denke, vermoëns, ervaring, opleiding, gebrokenheid, kleivoete. Dis bewustelik, besluitnemend, inspannend, verantwoordelik, aanspreekbaar. God beledig nie die kroon van Sy skepping deur hom soos 'n masjien te behandel nie - Hy gee hom verantwoordelikheid!

'n Onfeilbare lakmoes-toets

In hierdie vers redeneer Paulus so: God se herskepping van 'n sondaar bring 'n maaksel voort; en hierdie maaksel bring goeie werke voort. Is dit afwesig, is daar eenvoudig geen redding nie.

    Ware redding word altyd sigbaar in goeie werke!

    Goeie werke red nie, maar daarsonder is daar geen redding nie.

Hier het ons 'n Nuwe Testamentiese aksioma. Presies dit is wat Jakobus in sy tweede hoofstuk sê: daar is baie soorte geloof, maar net een wat redding bring  -  die soort wat met goeie werke gepaard gaan.
    Jh 3:36 is veelseggend. Dit word eers positief gestel: geloof in die Seun bring die ewige lewe. Dan verras die negatiewe teenstelling: nie "ongeloof" soos mens sou verwag nienie, maar "ongehoorsaamheid".
    Oor en oor beklemtoon die Woord van God: nét diegene wie se lewens gekenmerk en beheers word deur gehoorsaamheid aan Christus, sal die Koninkryk beërf. En die omgekeerde staan net so vas: hulle wie se lewens gekenmerk word deur ongehoorsaamheid en sonde sal die ewige lewe nooit smaak nie. Vergelyk byvoorbeeld Mt 5:20; 25:31-46; Mk 10:23-31; Lk 6:46-49; 9:23-26; 13:23-28; 1Kor 6:9-10; Gl 5:19-21; Hb 12:14; 1Jh 2:29; 3:9-10; Op 21:7-8.
    Dis die begronding vir een van die Reformatore se wekroepe:

Sola fides justificat, sed non fides sola est!
(Alleen geloof regverdig, maar nie geloof wat alleen is nie).


Hierdie waarheid volg vanuit die onverbreekbare geïntegreerdheid van God se verlossingswerk in Sy uitverkorenes se lewens (sien AH 1). Dis 'n proses wat konsekwent 'n sekere aantal elemente bevat, waaronder altyd, sonder uitsondering, ook heiligmaking en volharding in gehoorsaamheid en goeie werke.
    Kom ons sê dit reguit: hier is 'n onfeilbare lakmoestoets vir ware redding, vir outentieke Christenskap. Laat ons elkeen homself maar weer en weer toets; eerlik, nugter, volwasse (2Kor 13:5).
    Charles Hodge was reg: "Die enigste bewys van ewige uitverkiesing is 'n heilige en gehoorsame lewe."
    Word die belangrikheid van goeie werke as 'n sine qua non vir redding nie dalk hierbo oordryf nie? Die teendeel is waar!

    Niks in God se raadsplan onderstreep die gewigtige belangrikheid en prominente plek van gehoorsaamheid en goeie werke beter nie, as die feit dat ons eendag voor die regterstoel daarvolgens geoordeel gaan word.

Niemand minder nie as die Here self gaan ons werke gebruik as die maastaf vir redding al dan nie!
    Let op die besondere Skrifbeklemtoning daarvan: Mt 16:27; 24: 45-51; 25: 14-30; 31-46; Jh 5:28-29; Rm 2:6-11; 2Kor 5:10; 1Pt 1:17; Op 19:7-8; 20:12-13; 22:12-15. Al die gelykenisse in Mt 24-25 (ook 'Die  tien meisies') word beheers deur 24:42-44. Die boodskap van hierdie uiters belangrike rede van die Here Jesus Christus is dit: lewe gehoorsaam en getrou  -  in die lig van die ewigheid!
    Hoe moet ons dit verstaan? Word die gelowige dan nie op grond van Christus se verdienste alleen geregverdig nie? Verseker! Dis die hart van die evangelie! Maar, soos regverdiging, is ook heiligmaking een van die onmisbare elemente in die geïntegreerde verlossingsproses. Omdat dit waar is, volg dit noodwendig dat regverdigmaking deur heiligmaking (en dus goeie werke) gevolg sal word. Laasgenoemde is dus die bewys dat eersgenoemde inderdaad plaasgevind het. En dis hierdie bewys  -  heiligmaking  -  wat voor die regterstoel gesoek sal word. Só onverbreekbaar is hierdie band, dat die Groot Regter eendag net een saak in ag sal neem wanneer Hy uitspraak moet gee oor iemand se ewige lot: Het hy of sy 'n lewe van heilige gehoorsaamheid en goeie werke gelei? Dit sal die onfeilbare bewys wees van saligmakende geloof, van innerlike herskepping, van eenheid met Christus  -  en, dus, van regverdigmaking.

    Goeie werke is die watermerk van egtheid!

Die wêreldwyd-geagte skrywer van die negentiende eeu, J.C. Ryle, het dit só gestel:

    "Evidence, evidence, evidence, will be the one thing wanted when the great white throne is set ... I can find no evidence that will be admitted in that day, except sanctification." (Holiness, p.23)

Baie mense het die idee dat net die ongelowiges geoordeel gaan word en dat ander standaarde vir gelowiges sal geld. Dis nie wat die Bybel leer nie! Kyk na Rm 2:11 en 1Pt 1:17 in soveel vertalings moontlik. Sonder aanneming van die persoon! Onpartydig! God trek niemand voor nie! 'No favouritism!' Almal op dieselfde manier! Geen witbroodjies nie! Nie dubbele standaarde nie!
    Moet nooit vergeet dat verlossing in Christus nie net van die skuld van sonde red nie, maar ook van die krag daarvan. Een rede waarom 'n gelowige normaalweg nog 'n tydlank na sy bekering lewe, voordat hy hemel toe gaan, is om "die watermerk" kans te gee om te groei, om die trourok klaar geweef te kry (Op 19:7-8). Die Heilige Gees gebruik my pelgrimstog om my vir die regterstoel gereed te kry. En nooit sal ek meer dankbaar daarvoor wees as op daardie dag nie!
    Dis waarom Petrus sê: "... wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap." (1Pt 1:17, OAV).

Twee noodlottige evangelies

Die vraag ontstaan nou: Sit hier nie 'n stuk onregverdigheid in nie? Dat God se uitverkorenes nie eendag voorgetrek sal word nie, maar aan presies dieselfde maatstaf gemeet sal word as alle mense, is een saak. Maar is dit regverdig dat die miljoene wat God se Woord en Wet nooit ontvang het nie  -  wat nie so begenadig is nie  -  daaraan gemeet sal word?
    Onthou, nie almal ontvang genoeg openbaring om tot saligheid te lei nie, maar álmal ontvang wel genoeg om toerekeningsvatbaar te wees voor die regterstoel. (Die moeilike kwessie van babas, ens., daar gelaat).
God openbaar Homself immers as die Almagtige in die skepping (Rm 1:19-20; Hd 14:15). Daarbenewens openbaar Hy Homself as die Algoeie Versorger in Sy algemene genade oor almal (Hd 14:17; Mt 5:45; Lk 6:35). Les bes is die eise van God se morele wet in die harte van alle mense geskryf. Dit mag tragies verdof en verwring wees deur die sondeval, maar die werklikheid daarvan blyk duidelik uit die universele realiteit van die gewete. Dit is hierdie fakulteit in mense wat hulle die dinge van die wet laat doen en die innerlike tweestryd m.b.t. goed en kwaad in hulle veroorsaak (Rm 2:14-15).
    Dit bring nou mee dat 'n vreeslike verantwoordelikheid op elke ouderling en prediker; trouens, op elke Christen rus. Onthou, die Opperherder van die kudde sal van elkeen van ons verantwoording eis (Hd 20:25-28; 1Kor 3:9-15; Hb 13:17; Jk 3:1; 1Pt 5:1-4). Aan die hart van ons taak lê die opdrag om "... die heilsplan van God in sy volle omvang ... te verkondig ..." (Hd 20:27). Waarom is dit so belangrik? Die wat genoeg openbaring ontvang het om toerekeningsvatbaar te wees, moet meer openbaring ontvang sodat hulle tot saligmakende geloof kan kom.

Slotsom

    Redding is uit genade; op grond van Christus se middelaarswerk alleen; deur geloof; tot en daarom volgens werke.

Enige evangelie wat minder preek as dit, is minder as die volle en dus ware evangelie. Sowel die Vader (uit wie se genade redding vloei), as die Seun (wat die Middelaar is), en die Heilige Gees (wat gelowiges roep, heilig en toerus), se werk is noodsaaklik en moet as sodanig geëer word. Verwaarloos hierdie volle raad van God, en die kerk vermank en verword spoedig totaal.

Twee ander evangelies en die ware een

Twee dwalinge van ons dag, twee noodlottige "ander evangelies", kan nou maklik ontmasker word.

•    "Easy-believism", oftewel goedkoop genade, teister die kerk wêreldwyd. Ons praat hier van 'n wetteloosheid, wat leer dat selfs geloof sonder werke kan red

•    Die oorreaksie op bogenoemde is 'n radikalistiese "dífficult-believism", oftewel duur genade. Hier praat ons van 'n wettisisme, wat aandring op allerlei verpligtinge by Christus se volmaakte werk

Nie een hiervan is Bybels nie; nie naastenby nie. Nee, die ware evangelie is, kom ons noem dit maar "impossible-believism". Niemand kan vanself glo as hy nie wederbaar word nie; en selfs sy geloof is 'n gawe (Ef 2:8; Fl 1:29; 2Pt 1:1); trouens, selfs sy gehoorsaamheid wat daarop volg. God se Woord weet niks van goedkoop of duur genade nie; dit dra net een boodskap: gratis genade!
    Máár, dis 'n genade wat, as dit op 'n lewe beslag lê, onmiskenbare, diep-ingrypende en lewenslange Godvererende gevolge het!

Wat kwalifiseer die goeie werke wat die regterstoel se toets sal slaag?

In enigeen wat hoegenaamd verantwoordelik is, wat hoegenaamd erns maak met sy Christenskap, sal nou 'n vraag brand: Wat is 'n goeie werk?
    Die Reformatoriese vaders het goed begryp hoe lewensbelangrik die saak is  -  vandaar die feit dat al die groot belydenisskrifte behoorlike, eenstemmige en Bybels-korrekte aandag daaraan gee (1689 Baptistebelydenis 16; Westminster 16; NGB 24; HK 91).
    Maar dis nie nodig om menslike geskrifte te raadpleeg om die antwoord te kry nie; die Woord van God, trouens ons vers, is duidelik daaroor.
    Ef 2:10 sê ten minste twee dinge om ons te antwoord:
    Een, Gód self het die werke voorberei. Dit was dus Sy inisiatief, en Hý het die aard daarvan bepaal. Omdat óns dit moet doen (as mense, nie as masjiene nie), moes Hy dit aan ons openbaar  -  wat Hy inderdaad in Sy Woord gedoen het.
    Twee, dis nodig dat 'n mens herskep word, voordat hy so 'n werk kan doen. En wat onderskei 'n wedergeborene van iemand wat nog geestelik dood is?

    Eerstens het hy 'n nuwe hart (Jer 24:7; 31:33; Eseg 11:19-20; 36: 26-27; 2Kor 3:3; 4:6; Hb 8:9-13; 10:16). Uit hierdie hart, hierdie sentrum van sy hele persoonlikheid, bring hy nou vrug voort wat geen natuurlike mens, per definisie, hom kan namaak nie. En dis noodwendig góéie werke, want God se wette is op die tafels van die nuwe hart gegrafeer. Hierdie werke het dus 'n bepaalde bron. Dit kom uit 'n hart vol dankbaarheid vir die Here se reddingsgenade, 'n hart vol vertroue dat Hy dit sal aanvaar en beloon.

    Tweedens het hy 'n nuwe lewensdoel. Hy leef nie meer vir homself nie, maar God se eer is die hartstog van sy bestaan. Dit sal noodwendig die gerigtheid van sy werke bepaal.
    Hierdie uiteensetting is presies wat Jesus in Jh 4:19-24 vir die Samaritaanse vrou sê. Die Vader soek aanbidders wat (met hulle hele lewe) Hom aanbid in gees (vanuit hulle harte) en in waarheid (volgens Sy Woord) .
    En die genoemde belydenisskrifte is ook presies in pas hiermee.
    Goeie werke, wat eendag sal dien as watermerk van egtheid, is dus iets baie unieks. En dis baie spesifiek gekwalifiseerd.

    Eerstens: Om God se toets te slaag, moet 'n goeie werk wees wát Hy beveel, en gedoen word sóós Hy beveel. Dit moet "in waarheid" geskied.

    Tweedens: Om God se toets te slaag, moet 'n goeie werk uit 'n herskepte hart kom. Dit moet dus "in gees" geskied  -  die mens se gees. Enersyds sal dit dus vanuit innerlike geloof en dankbaarheid ontspring. Andersyds sal dit gedring word deur 'n hartstog vir die Drie-enige God se eer  -  vir die koms van Sy koninkryk, die verbreiding van Sy evangelie, die welsyn van Sy kerk.
    Dis nou onmiskenbaar duidelik dat ongelowiges baie goeie dinge kan doen, en ons moet hulle daarvoor respekteer  -  en die Here dank, want dit geskied in Sy algemene genade. Maar 'n goeie werk, soos ons nou daaroor praat, kan hy nooit doen nie  -  per definisie nie.
    Veel belangriker vir ons egter, is die feit dat 'n Christen oor 'n lang tydperk baie aktief kan wees  -  in die naam van Christus  -  sonder om iets te doen wat in terme van Bybelse standaarde voor die regterstoel aanvaarbaar sal wees (vgl. bv. Mt 7:21-23). Hoeveel "vreemde vuur" het die kerk nie deur die eeue aan die Here gebied nie! Hoeveel offers wat Hy nooit beveel het nie, word nie vandag gebring nie! (Lev 10:1-6, OAV). Hoe gereeld word die ark nie op 'n nuwe wa gelaai nie (soos die Filistyne), in plaas daarvan dat die Leviete dit met draaghoute dra! (2Sam 6:1-23; 1Kron 13:1-14; 15:1-16).
    Dis ontstellend moontlik dat skrywer en lesers hulle besig kan hou met dinge waarin "die gees" is, maar wat nie "in waarheid" geskied nie. Ywer en opregtheid is nie sonder meer genoeg nie; die vraag is of die Woord van God dit beveel. Of ons kan besig wees met dit wat Bybels is, sonder dat dit uit die hart kom. Dooie ortodoksie weeg niks voor die Here nie, inteendeel. Of, nog meer tragies, ons kan onsself afsloof met dit waarin ons harte nie is nie, én wat die Here net so min beveel het.
    Dis nodig, baie nodig, om gereeld voorraad op te neem!
    Uit bg. volg die sg. Regulatiewe Beginsel, wat die kerk al vir eeue as norm gebruik vir die reëling van veral sy gesamentlike aanbidding. Eenvoudig gestel, sê hierdie beginsel dat slegs dít in die diens van God (en by uitstek in die erediens) aanvaarbaar is wat God uitdruklik beveel het. Daarenteen is die benadering vandag algemeen dat enigiets aanvaarbaar is wat God nie eksplisiet verbied het nie. 'n Oomblik se nadenke moet enigeen oortuig dat dit 'n reuse verskil maak!


 Hoe kan my onvolmaakte werke vir 'n volmaakte God aanvaarbaar wees?

Hoe kan ek ooit sê my werke sal vir God aanvaarbaar wees? Ja, dis Bybels; ja, dit kom uit my hart  -  maar dis so verskriklik onvolmaak!
     Ef 2:10 bevat nog een uitdrukking: "... in Christus ...". Die Vader begenadig ons "... in die Geliefde ..." (Ef 1:6, OAV). Ek word dus nie God se kind indien my werke aanvaarbaar is nie; my werke is aanvaarbaar omdat ek Sy kind is! Hy het immers self die werke voorberei  -  wetende dat ons, selfs as herskeptes, van stof gemaak is.
    Omdat gehoorsaamheid en goeie werke nie die basis van regverdigmaking is nie, maar in die konteks van (onvolmaakte) heiligmaking geskied, hoef dit nie volmaak te wees vir redding nie. Solank dit genoemde merktekens van egtheid dra, ongeag hoe onvolmaak ookal in ander opsigte, behaag dit ons hemelse Vader tóg.
    Elke ouer kan dit verstaan. Hoe sag is jou hart nie vir jou eie nie! Hoe geniet 'n pa nie sy kleuter se lomp pogings om hom te help nie!

Hoe wandel mens in goeie werke?

Die vraag kan meer of minder ruim vertolk word: Wat is Christene in die algemeen se verantwoordelikheid om te verseker dat hulle lewe soos God wil? Wat is my persoonlike verantwoordelikheid om te verseker dat ek in die goeie werke wat vir my as individu voorberei is, sal wandel?
    Veral laasgenoemde is 'n worstelvraag vir baie  -  die kwessie van persoonlike leiding ("guidance").

•    Laat ons die vraag eers algemeen en in die breë benader. Ons kyk net na enkele riglyne (die mees basiese, vertrou ek). Daar is uiteraard talle maniere om dit te benader, maar ons hoef nie verder as ons onmiddellikee konteks, die brief aan die Efesiërs, te gaan nie.
    Die Apostels het feitlik sonder uitsondering hulle briewe op 'n bepaalde manier geskryf. Agter dit sit 'n wesensbelangrike beginsel. Nadat hulle gegroet het, het hulle altyd begin met die Drie-enige God en Sy groot verlossingsdade in Christus. Hierdie gedeeltes stel dus die heilsfeite en is leerstellig ("doctrinal") van aard. Die teologie praat daarvan as die indikatiewe gedeeltes.
    Daarmee klaar, het hulle dan voortgegaan met praktiese oproepe of bevele. Op grond van God se inisiatiefnemende en genadige ingrype in hulle lewens, rus daar immers 'n groot verantwoordelikheid op gelowiges om gehoorsaam en in heilige toewyding diensbaar aan die Here te leef. Hoe om dit te doen, word dan in die tweede helfte van die briewe beskryf. Hierdie is die imperatiewe gedeeltes.
    Kyk byvoorbeeld na Romeine. Die eerste 11 hoofstukke is een stuk diepsinnige "doctrine", wat met 'n verhewe lofuiting afgesluit word. Onmiddellik gaan die apostel dan in hoofstuk 12 voort met praktiese oproepe - "... op grond van die groot ontferming van God ..."
    Die opmerksame leser sal begryp hoe absoluut noodsaaklik hierdie orde is. Keer dit om, en onmiddellik berus redding op menslike meriete. Presies hier lê die verskil tussen die Christelike evangelie en al die vals godsdienste (insluitende "churchianity"), wat op menslike religieuse verdienste berus.
    Die imperatiewe gedeelte van Efesiërs  bied insiggewende riglyne, wat die ruimer vraag betref.
    Paulus beoog kennelik om met die imperatiewe gedeelte in 3:1 te begin (sien veral die NIV), maar dwaal dan af in nog 'n stuk indikatiewe lering oor die heidene. Hy probeer wéér in 4:1-3, maar dwaal nogeens af - oor eenheid in die kerk. Uiteindelik begin die volwaardige imperatiewe gedeelte dan vanaf 4:17. Let op die woord "wandel/leef" (4:1; 17; 5:2; 8; 15), wat dui op iemand se lewenstyl.
    Dat Nuwe Testamentiese imperatiewe bloot ontvouings van die Tien Gebooie is, is duidelik in 4:25-6:9. Let op hoe Paulus die gebooie een na die ander aansny: die vierde gebod (6:5-9); die vyfde (6:1-4); die sesde (4:26-27; 29-32); die sewende (5:3,5,22-33); die agste (4:28); die negende (4:25); en die tiende (5:3).
    Die gedeelte 4:17-5:14 word gekonkludeer met 5:15-17, veral v.17b: "... verstaan wat die wil van die Here is." (Die NAV mis die punt).
    V.18 gee dan die sleutel tot 'n lewe volgens die wil van die Here: die heerskappy en bekragtiging van die Heilige Gees. 5:18-6:9 word hierdeur beheers.  Dit beskryf hoe 'n lewe vol van die Gees lyk.
    V.18-21 is één sin wat begin met 2 bevelswerkwoorde in v.18 (een positief, een negatief), wat dan gevolg word deur 5 teenwoordige deelwoorde in v.19-21. Lg. verse beskryf m.a.w. 'n Geesvervulde lewe.
    Dit is verder betekenisvol dat v.22 nie 'n werkwoord het nie, maar v.21 s'n veronderstel.  Dit impliseer dat 5:22-6:9 illustreer hoe wedersydse onderdanigheid (v.21), wat die gevolg is van die volheid van die Heilige Gees, in die praktyk lyk  -  'n lewe in belang van ander in die huis en werksplek.
    Die antwoord op die ruimer vraag is dus voor die hand liggend:

    Wie volgens die wil van die Here wil leef, moet in die volheid van die Gees gehoorsaam wees aan die morele wet van God  - soos dit in die Tien Gebooie in ekstrakvorm beskryf is, en elders in die Skrif, veral in die Nuwe Testament, oopgevou en ontwikkel word.

•    Nou die meer persoonlike vraag: Wat is my verantwoordelikheid om seker te maak ek wandel in die goeie werke wat God spesifiek vir mý voorberei het?
     Psalm 1 skets twee paaie: die goddelose pad, oftewel lewenswyse, volgens die waardes van die God-vyandiggesinde wêreld, eendersyds; en die pad volgens die Wet van die Here, andersyds. Lg. pad is kennelik die pad wat die Here behaag, want Sy seën rus daarop (die antwoord op die ruimer vraag hierbo). Maar die NAV se v.6 gaan 'n stap verder en werp belangrike lig op ons tweede vraag: die regverdiges (m.a.w. diegene wat die pad van God se Wet bewandel) word dan gelei - sodat hulle húl pad kan vind.
    Mens sien hierdie waarheid ook in Ps 25:9. En let in Jes 58:6-14 op hoe "as jy" gevolg word deur "dan sal".
    Handelinge is vol gebeure wat hierdie beginsel demonstreer.
    Kyk byvoorbeeld na die tweede sendingreis. In Hand 15:36 doen Paulus wat voor die hand liggend is in terme van die Here Jesus se opdragte: hy stel voor dat hulle weer die gemeentes gaan besoek wat tydens die eerste sendingreis gestig is. A.g.v. 'n onderonsie gaan hy toe uiteindelik sonder Barnabas (v.37-40). Volgens 16:6-10 gryp die Here egter in (let op, Hý inisieer en doen dit). Die sendelinge word op 'n pad gelei wat hulle allermins voorsien het. En die gang van die geskiedenis skarnier!
    Die Apostels het hulle lewens volgens die Here se opdragte ingerig, en gedoen wat hulle moes en wat voor hande was. Hulle het in rustige Godsvertroue geweet, en dit ook so ervaar, dat Hy sou ingryp wanneer en soos Hy wil (selfs deur hulle eie mislukkings, dwaashede en sonde), ten einde hulle op die pad te lei wat Sy voorsienigheid vir hulle uitgemeet het.
    Hierdie ingrypings, op watter wyse ook al, het hulle nooit strydig met Jesus se opdragte gelei nie. Dit het gegaan oor die persoonlike, detail-toepassing daarvan in hulle lewens  -  binne die grense van die Here se algemene wil.
    Hier is dus die tweede vraag se antwoord:

    God se leiding ('guidance') neem gestalte aan in my lewe soos ek lewenslank, biddend Sy Woord bestudeer; deur die implikasies daarvan dink; dit my eie maak; en met beslistheid en volharding my lewe daarvolgens inrig. Dit gaan om beginselvaste gehoorsaamheid; 'n lewe volgens waarheidsoortuigings.


    Ek ontdek God se wil vir mý lewe deur gehoorsaamheid aan Sy wil vir álle gelowiges!

    Moenie in die eerste instansie vra nie: 'Wat is God se wil vir mý lewe?' Vra: 'Wat is God se wil?' - en leef dan daarvolgens. Wie dit as lewenswyse doen, sal as 't ware binne-in die goeie werke wat God vir hom of haar spesifiek voorberei het - inloop!


Hierdie beginsel is nie al wat daar oor leiding te sê is nie. Maar dis basies en die belangrikheid daarvan kan nie oorbeklemtoon word nie. Wie dit uitleef, sal 'n duisend slaggate vermy. En dit sal hom neem op 'n waardige pad van beginselvastheid. 'n Innerlike vrede sal in hom vestig, hy sal koersvas volhard, en hy sal God verheerlik - deur te wandel in die goeie werke wat ook vir hom voorberei is!
    Die beheptheid om 'God se stem te hoor' en 'Sy wil vir my lewe' buite die geopenbaarde Skrifwaarheid om te soek, neem vandag epidemiese afmetings aan. Dit gee aanleiding tot sieklike subjektivisme, patetiese naïwiteit, pastorale ellendes en God-onterende skandes sonder tal  -  en dit lei die kerk weg van die Woord en die historiese geloof. Dit doen onbeskryflike skade!

Slotwoord

Die Woord! Wy jou lewe daaraan om dit in die voetspore van Jesus uit te leef  -  biddend, nugter, toegewyd, opreg, volhardend  -  en kyk wat gebeur!
    "Vertrou op die Here, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, en verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart. Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom; en Hý sal dit uitvoer; en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag. Swyg voor die Here en verwag Hom ..." (Ps 37:3-7, OAV).
                                                               Nico van der Walt

                                                                          -o0o-

No comments:

Post a Comment