Thursday, June 21, 2012

ANTIPAS HEROUT No.8 : DIE CHRISTENSOLDAAT SE SKOENE - 'n Bespreking van Efesiërs 6:15 en Filippense 4:1-9

    "en as skoene aan julle voete die bereidheid van die evangelie van vrede" (Ef 6:15, eie vertaling)

Sonder twyfel is dit 'n onuitspreeklike voorreg om in hierdie wêreld as 'n kind van God te leef. Tog het egte Christenskap altyd 'n komponent van stryd  -  teen die vlees, die wêreld en die Duiwel. Hulle wat deur God gered is, leef enduit as vreemdelinge in vyandelike gebied.
    Die bekende Ef 6:10-20 oor die Christen se wapenrusting is van die allergrootste belang om in hierdie stryd oorwinnend te bly. Ongelukkig is daar beswaarlik 'n Skrifgedeelte waaroor meer onsin verkondig word. Gevolglik heers baie verwarring oor hierdie lewensbelangrike waarhede. Een vers waaroor daar veral onsekerheid bestaan, is v.15  -  wat handel oor die Christensoldaat se skoene. Die verskillende opinies het grootliks te doen met twee uiteenlopende vertalingsmoontlikhede. Die Afrikaanse vertalings is wel eenstemmig, maar bykans al die standaard Engelse vertalings kies die ander opsie.
    Kom ons bekyk hierdie vers van naderby. Per slot van rekening, wat is meer nikswerd as 'n kaalvoet soldaat?

Efesiërs 6:15 van naderby

•    Die Griekse werkwoord kan letterlik soos volg vertaal word: "hebbende beskoen jouself". Uiteraard is behoorlike skoene vir 'n soldaat van lewensbelang. In die Romeinse kryger se geval was dit 'n soort sandaal met soolknoppe (amper soos 'n rugbystewel). Afgesien van skoene se ander funksies, het dit hom dus gehelp om vas te staan as hy handgemeen met die vyand was. Dis waarskynlik wat die apostel in die eerste instansie hier in gedagte het, want die hele gedeelte word beheers deur die noodsaak om staande te bly in die geestelike stryd (11, 13, 14).
    Let verder daarop dat dit die Christensoldaat se eie verantwoordelikheid is om die skoene aan te trek en voortdurend te dra.
   
•    Die woord wat ons Afrikaanse Bybels met "bereidheid" vertaal (Gr. hetoimasia), kom net een maal in die Nuwe Testament voor.
    In klassieke Grieks beteken hierdie selfstandige naamwoord vastigheid of fondament. Dit het egter geleidelik 'n betekenisverskuiwing ondergaan, sodat dit in Nuwe Testamentiese Grieks "gereedheid" beteken. ["Gereedmaking" en "toerusting" is ook mindere moontlikhede]. Die gesaghebbende woordeboek van Louw en Nida stel dit só: "a state of being ready for action".

•    Die kwalifikasie, "van vrede", wil sê dat die evangelie vrede as inhoud het. Dit dui op die goeie nuus van versoening in Christus tussen God en sondaars (2Kor 5:18-21).

•    Die verband tussen "gereedheid" en "die evangelie van vrede" is in die Grieks dubbelsinnig . Dit kan dus op twee maniere vertaal word: óf gereedheid vir die evangelie; óf gereedheid van die evangelie. Eg. praat dus van 'n gereedheid om die evangelie te verkondig. Lg. praat van 'n gereedheid, 'n paraatheid, wat die evangelie van vrede verleen om die aanslae van die vyand af te weer.
    Presies hier loop vertalings uiteen.
    Sekerlik is verkondiging van die evangelie die manier waarop die Here die koninkryk van Satan oorwin en mense uit die mag van die bose red (Hd 26:18). Vraag is egter of dít is waarom dit hier gaan? In geval van so 'n onsekerheid, moet die konteks altyd dikteer. So bekyk, pas die tweede moontlikheid perfek in, terwyl die eerste net nie sy lê wil kry nie.
    Dit gaan hier om vas staan teen die aanslae van die vyand. Presies dít wil die tweede moontlikheid tuisbring: die idee van paraatheid en stabiliteit onder aanslae.
    Ook is die klem deurgaans op die defensiewe, nie op die offensiewe nie.
    Verder pas so 'n vertolking by die ander stukke van die wapenrusting. Dié dui op verskillende, maar nou-verwante aspekte van ons erfenis in en verhouding met Christus. Nie wat ek vir die Here doen nie, maar wat Hy vir my doen, is waaroor dit gaan (ek moet die wapenrusting wel aantrek, toe-eien, ja). Eintlik is die wapenrustig niks anders as verskillende fasette van my erfenis in Christus nie! En hierby pas die tweede moontlikheid weereens perfek in.
    Les bes, hoe kan blote bereidwilligheid om die evangelie te verkondig (dus nie verkondiging self nie) veel effek hê in hierdie oorlog?

•    As ons dan die tweede moontlikheid aanvaar, ontstaan die vraag: hoe trek mens hierdie skoene aan? Hoe realiseer so 'n gereedheid in my lewe? Die evangelie vertel van 'n vrede wat bewerkstellig is. Maar dit het buite my gebeur (objektief). Om my toe te rus en gereed te kry vir die aanslae van die bose, vereis tog dat iets ook binne-in my moet gebeur (subjektief). Dit gebeur as ek die objektiewe feit van vrede met God in die geloof omhels en vashou. Die gevolg daarvan is dan dat die vrede van God binne-in my vestig. En dis hierdie innerlike vrede wat my in staat stel om vas te staan in die dag van onheil. Niks is beter om die aanslae van die vyand te 'kussing', as presies dit nie.

•    Die evangelie, die boodskap van versoening met God, en besonderlik die innerlike vrede, sekuriteit en gevestigdheid wat dit vir gelowiges bring, gee die verankering wat mens voorberei om onwankelbaar vas te staan in die dag van onheil (v.13)  -  as die vyand met alle mag aanval. Om die skoene van die wapenrusting aan te hê, is om die boodskap van die evangelie, die boodskap van vrede mét God te ken, te omhels en dan in Christus te rus - en om die vrede ván God wat daaruit spruit as 'n kosbare kleinood te koester.

Praktiese riglyne n.a.v. Filippense 4:1-9 

Sonder twyfel dink Paulus aan die Christen-soldaat se skoene as hy Fl 4:1-9 skryf. Die verband tussen die twee Skrifgedeeltes is onmiskenbaar.
    Ook hier begin hy met die idee van "vas staan" (v.1).
    En die Christelike vrede is prominent (v.7, 9). Dis 'n vrede wat "alle verstand te bowe gaan" en wat oor gelowiges se "harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus" (lett. bewaking deur 'n militêre garnisoen).
    In hierdie 9 verse gee die apostel 5 praktiese riglyne, wat almal in diens staan van belewing van die vrede van die Here. As sodanig werp dit betekenisvolle lig op hoe die gelowige sy skoene dra. Kom ons bekyk elkeen van hierdie riglyne.

1.    Verbly jou voortdurend in die Here (v.4)

•    Fl 4:1 begin met "daarom", wat op 'n verband met hoofstuk 3 dui. Inderdaad beveel die apostel reeds in 3:1 dat gelowiges hulle in die Here moet verbly. Dit gee sekerheid (Gr. asfales: struikel of kantel, met 'n negatiewe voorvoegsel). Verblyding in die Here bring dus stabiliteit, vastigheid, sekerheid. En dís waaroor dit gaan!

•    Wat beteken dit om jou in die Here te verbly?
    In 3:3 begin Paulus met "want". Hy gaan dit nou verduidelik. In die volgende verse sit hy dan die essensie van die Evangelie uiteen (veral v. 3 en 9): nie mý godsdienstige verdienste nie, maar die toegerekende geregtigheid van Christus, is die grond van my versoening met God. En dís die grond en inhoud van Christelike blydskap.
    Maar hier mag dit nie ophou nie  -  in die finale instansie gaan dit om verblyding in Hom persoonlik en die avontuur om Hom te ken (10).

•    Verlustiging in die Persoon en werk van Christus bring dus 'n vastigheid, 'n sekuriteit in my lewe. Só besorg die Evangelie van vrede die skoene waarmee die gelowige kan vas staan, sodat die vyand hom nie oorrompel of terugdryf nie. Om jou in die Here en Sy volmaakte versoeningswerk te verbly, is die heel eerste geheim van geestelike oorlogvoering! [Vergelyk ook in hierdie verband Op 12:10-12].
    Let op, dit gaan nie hier om blydskap sondermeer nie, maar om blydskap spesifiek in die Here. Wat meer is, dis blydskap wat begripvolle waarheidsinhoud het. Te veel mense vergeet hierdie kwalifikasies, en uiteindelik is daar min te onderskei tussen hulle "joy" en die entoesiasme van 'n intervarsity-paviljoen.

2.    Waak oor jou menseverhoudinge (v. 2-3; 5)

•    Let op hoe die apostel se gedagtes loop. In v.1 beveel hy sy lesers om vas te staan. Dan dink hy onmiddellik aan 'n situasie wat dit ondermyn  -  daar is onvrede in die gemeente van Filippi (v.2). Vrede is immers die skoene waarmee vas gestaan moet word. Ja, dit gaan primêr om die vrede met God, en die vrede van God wat dit bring. Maar daar is min dinge wat hierdie 'vertikale' vrede vinniger versteur as onvrede met my naaste, besonderlik my broers en susters in die Here.
    Satan maak amok in 'n gemeente waar verdeeldheid heers. Voortdurende restitusie, vergiffenis en versoening is só belangrik dat weiering betrokkenes tugwaardig maak (Mt 18:17). Trouens, mense wat in hierdie sonde volhard, gee aan die vyand so 'n houvas, dat hy hulle uiteindelik die ewige verdoemenis insleep (Mt 18:21-35).

•    Teenoor die negatiewe stel Paulus dan die positiewe in v.5: hy beveel sy lesers om "inskiklik" te wees teenoor "alle mense". Hierdie is 'n ryk begrip wat dui op vriendelikheid, welwillendheid, soepelheid, sagtheid. Dis om nie 'n moeilike mens te wees wat altyd op sy regte staan nie. Dis die gesindheid van Christus, soos in Fl 2:1-8 beskryf.
    Dis hoe 'n Christen, en 'n gemeente gesamentlik, die geestelike skoene dra.
   
3.    Bid gedurig oor alle nood en behoeftes (v. 6)

•    Daar is dosyne beloftes in die Woord dat die Vader in alle opsigte na Sy kinders omsien. En daar is talle uitnodigings, selfs bevele, dat hulle tot Hom moet nader  -  met "alles" (v.6). Dit is goed en reg en nodig  -  trouens, 'n moet dat hulle dit doen. Die Bybel laat geen twyfel dat die Vader 'n behae daarin het nie.
    Hierdie wonderlike voorreg is myne deur Christus wat vrede met God vir my bewerkstellig het. Daarom kan ek weer en weer met die grootste vrymoedigheid na die Vader se genadetroon gaan (Heb 4:16; 10:19-21). En dis een van dié maniere om die skoene waaroor ons praat, te dra.
    Daarenteen maak 'n gebrek aan vrymoedigheid van my 'n kaalvoet-soldaat. Dit lei tot allerlei kwellinge en speel in die hand van die vyand, omdat dit my innerlike vrede ondermyn, my aandag van Christus aftrek en my dus in die geestelike stryd destabiliseer.

•    Kleingeloof en wantroue is egter ons probleem. 'n Wonderlike kuur hiervoor is om die Bybel se beloftes oor die Vader se versorging van Sy kinders weer en weer te bepeins en te omhels  -  en om dan daarvolgens te lewe. Vergelyk byvoorbeeld hierdie twee heerlike beloftes in verband met ons materiële versorging: 2Kor 9:8 (met sy 5 positiewe beklemtonings - 5 maal 'alle') en Hb 13:5 (met sy 5 negatiewe versekerings in die Grieks). Lg. vers is só oorweldigend dat meeste vertalings nie eers probeer om reg daaraan te laat geskied nie (die Amplified Bible probeer, maar oordryf darem 'n bietjie). Die vyf negatiewe sou só weergegee kon word: Ek sal jou nie loslaat nie! Nooit! Nee! Nooit en op geen wyse sal Ek jou in die steek laat nie!

•    Ek moet die Vader ook vir Sy getroue voorsiening dank (6). Afgesien daarvan dat ek dit aan Hom verskuldig is, herinner dit aan Sy goedheid, en bou sodoende my geloof en vrymoedigheid voor Sy genadetroon.

•    Hierdie is 'n saak wat Paulus goed onder die knie gehad het. Die verse wat onmiddellik volg, Fl 4:10-14, is insiggewend. Die gedeelte word beheers deur v.10, waarin hy sy lesers bedank vir materiële gawes. Hy getuig egter dat hy in elk geval vergenoegdheid (OAV) in alle omstandighede ervaar. Wat is vergenoegdheid? Dis die afwesigheid van innerlike onrus. Dis niks anders nie as innerlike vrede.
    Omdat hy geleer het om sy Hemelse Vader in alles te vertrou, leef hy geestelik gesteweld en gespoor! En dit, let wel, stel hom in staat om selfs in die moeilikste omstandighede die mas op te kom (v.13). Dit stel hom dus in staat om in die geestelike oorlog te seëvier.

4.    Bepeins voortdurend die dinge van die Here (v. 8)

•    Die vyand rig sy voortdurende aanslae onder andere op ons gedagtes. Die Christen moet dit herken en weerstaan. Hoe vinnig verdryf sondige en negatiewe gedagtes nie ons vrede nie! Wat steel ons skoene vinniger as kritiese, siniese, suspisieuse, pessimistiese, hebsugtige, wellustige, naywerige, wraakgierige gedagtes?

•    Nee, beveel die apostel, bedink dit wat Bybels-positief is. Dissiplineer jouself, en vul jou denke met die dinge van die Here en die Here van die dinge.
    Hy praat ook elders hieroor: "bedink die dinge daarbo" (Kol 3:2) en "laat die Woord van Christus ryklik in julle woon" (Kol 3:16).

•    Geseënd is die gelowige wat die kuns van v.8 bemeester. Die geur van Christus hang soos 'n wolk om hom, hy beleef die vrede van die Here wat alle verstand te bowe gaan, en hy is 'n rots in 'n wêreld so onstabiel soos die water in die see.
    Om ons denke en lewensinstelling reg te rig, kom nie maklik nie  -  veral nie vir party nie. Maar ons móét eenvoudig waak oor dit waarmee ons ons gedagtes voed. Die Puriteinse spreekwoord is waar: Die vrede van die Here kom te voet en dit wyk te perd. Daarom moet mens versigtig wees om jou goedsmoeds bloot te stel aan enige fliek, TV-program, tydskrif, plek of geselskap.

5.    Lewe getrou aan die apostoliese leer en voorbeeld (v. 9)

•    Paulus verwys hier na dit wat die Filippense by die apostels geleer, en gevolglik as opdragte van die Here aanvaar het. Eintlik het hy dit in gedagte wat hulle by hóm gehoor en gesien het. Veral in die beginstadium was die apostels grootliks verantwoordelik vir die herderlike funksie in die vroeë kerk. As sodanig was hulle lering en lewensvoorbeeld van die allergrootste belang (vgl. 1Kor 11:1).
    Die vraag is nou, watter rol het dit gespeel in die geestelike stryd van individuele gelowiges? Die antwoord lê voor die hand. Niks bring meer innerlike vrede, verankerdheid en sekuriteit, as 'n duidelike greep op waarheid, as vaste gedragsnorme, as diepliggende oortuigings nie. Daarbenewens verleen dit 'n koersvastheid en onderskeidingsvermoë wat jou bewaar van die dwalinge en versoekinge van die vader van die leuen (Jh 8:44). As bedienaars van die God se Nuwe Testamentiese openbaring, wat die praktiese implikasies daarvan in hulle lewens gedemonstreer het, het die apostels uiteraard 'n onberekenbare rol gespeel in die gelowiges se heilige toewyding aan die Here.

•    Hoewel hulle 'n veel mindere rol as die apostels vervul, het gemeentelike voorgangers steeds hierdie funksie. Hulle moet die volle raad van God aan die gemeente bedien, dit met godvrugtige lewens demonstreer en die gemeente daarin lei (Hb 13:7,17; Hd 20:25-32; 1Pt 5:2-4). Geseënd is die kudde met sulke ouderling-herders. Dit bring vergenoegdheid, onderlinge vrede, sekuriteit en standvastigheid vir sowel individu as gemeente.

•    Dit verduidelik ook 2Ts 3:6 se opdrag dat gelowiges hulle moet onttrek aan elkeen in die gemeente wat leeglê en hom nie hou aan die apostels se opdragte nie. Sulke mense is "vrot appels in die kis", wat die onderlinge vrede kort voor lank met los tonge versteur. Hulle is die vyand se "vyfde kolonne" binne die stadsmure en maak die poorte skelm vir hom oop.

'n Laaste trooswoord

Bogenoemde vyf riglyne bied eintlik alles wat nodig is om te verseker dat die Christensoldaat as individu, en die gemeente gesamentlik, die skoene van vrede dra en sodoende onwankelbaar vas staan teen die aanslae van die bose.
    Maar Fl 4:9b het nog verdere troos vir diegene wat bogenoemde uitleef: Die God van vrede gee nie net aan Sy krygers die skoene wat nodig is om vas te staan nie; Hy trek saam op in die oorlog!
                                                               Nico van der Walt

                                                                               -o0o-

No comments:

Post a Comment