Tuesday, July 24, 2012

ANTIPAS HEROUT No.9 - DIE GEMEENTE AS LAMPSTAANDER - Enkele perspektiewe op die sewe briewe van Openbaring 2-3

    Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê (2:7, 11, 17, 29, 3:6, 13, 22).

Dis verstommend hoeveel Christene hulle beswaarlik steur aan die Nuwe Testamentiese openbaring oor die kerk. Hoe min verstaan regtig waarom dit gaan in die gemeente  en wat sy grootse roeping is in die uitwerk van God se raadsplan. Wat het tog geword van die hartstog dat die kerk waarlik kerk sal wees!
    Daar is seker min Skrifgedeeltes wat meteen meer bekend én meer verwaarloos is, as die sewe briewe in Op 2-3. Elke brief regverdig uiteraard 'n dieptestudie, maar daar sit ook waarde in 'n oorsigtelike benadering ten einde die gesamentlike boodskap van die briewe te bekyk  -  soos ons nou gaan doen. Trouens, die waarhede wat hierdie kort studie aansny, het 'n onuitwisbare en lewensbepalende indruk op die skrywer hiervan gemaak. En hy glo dat talle nadenkende lesers dieselfde sal ondervind.

Sewe fasette van die kerk

Die tema van Die Openbaring is Jesus Christus se oorlog teen en uiteindelike triomf oor die Bose. Dit woed hom uit in die stryd tussen die kerk en die Godvyandiggesinde wêreldstelsel. Die boek bevat daarom blywende lesse vir die kerk van alle eeue. Van Hoofstukke 1- 3 geld dit by uitnemendheid.
    Die boek is 'n openbaring van die verheerlikte Jesus Christus aan die Apostel Johannes teen die einde van die eerste eeu. Dis geadresseer aan sewe spesifieke gemeentes in Klein-Asië (1:4). Hulle word in die eerste instansie aangespreek.
    Tog is die volheidsgetal, sewe, betekenisvol. Dit dui daarop dat hierdie gemeentes as 't ware die kerk van die hele bedeling tussen die eerste koms van Christus en Sy wederkoms verteenwoordig. Ons het hier sewe fasette van die universele kerk. Elkeen was keer op keer maar weer, tot 'n mindere of meerdere mate, sigbaar in die wêreldwye kerk deur die eeue.
    In hierdie briewe vind mens dus die wel en wee van die kerkgeskiedenis in embrionale vorm. Enersyds is daar die tragiese, die skandelike, die sonde en mislukkings. Andersyds is daar die triomfe, die heroïese getrouheid, die onwrikbare volharding. Die waarskuwings is dus gerig teen die tipiese gevare wat oor die eeue eintlik nie veel verander het nie. Hier is raad vir elke krisis, troos in elke beproewing, bemoediging vir elke desperate moment. Dis liefdesbriewe hierdie  -  uit die hart van die hemelse Bruidegom aan Sy geliefde bruid, Sy pelgrimskerk deur die eeue.
    As daar een ding is wat hierdie briewe tuisbring, dan is dit dat elke plaaslike gemeente van die allergrootste belang is vir die Here Jesus Christus. Per slot van sake is elke brief 'n puntenerige ontleding van elkeen se toestand.

Die Koning se prioriteite

Wat Christus prys

Dis 'n eenvoudige oefening om deur die briewe te lees, ten einde vas te stel waarop die Here Jesus 'n hoë premie plaas  -  wat Hy as belangrik ag:

•    Christelike liefde  -  teenoor die Drie-enige God en die medemens, veral broeders en susters in die geloof.

•    Diensbaarheid en goeie werke.

•    Geloof, geduld en volharding in 'n vyandiggesinde omgewing.

•    Kompromielose  leersuiwerheid en verwerping van valse leraars.

•    Haat, vermyding en uitroeiing van sonde.

•    Ywer vir die suiwerheid van die gemeente, asook die gepaardgaande dissipline en tug in diens daarvan.

•    Getrouheid in die gemeente se roeping om die waarheidsevangelie uit te dra.

Laat daar geen illusies hieroor wees nie: dis waaroor dit in gemeente-wees gaan; dis wat die Here in Sy gemeente soek. En dit geld ononderhandelbaar vir elke gemeente, ongeag van tyd, kultuur of omstandighede.

Wat Christus veroordeel

Ewe duidelik kom in hierdie briewe na vore wat die Here in Sy gemeentes verag en veroordeel  -  en waarteen ons met alles in ons vermoë moet waak:

•    Liefdeloosheid teenoor God en mens.

•    Die duld van dwaalleer en diegene wat dit verkondig.

•    Slap gemeentelike dissipline en verdraagsaamheid teenoor sowel sonde as sondaars in eie midde.

•    Vormgodsdiens en geestelike louheid.

•    Godsdienstige gearriveerdheid en selftevredenheid.

Wat Christus oënskynlik as onbelangrik ag

Dis baie betekenisvol om te let op dit waarna die Here Jesus gladnie in hierdie briewe verwys nie. Sekerlik is dit redelik om af te lei dat Hy dit nie as van primêre belang ag nie.

•    Lidmaatskapgetalle en -groei.

•    Die gemeente se finansiële begroting en fasiliteite.

•    Kwalifikasies en begaafdheid van personeel en voorgangers.

•    Organisasie, programme, akti-witeite, gesagstrukture.

•    Betrokkenheid by plaaslike of nasionale politiek en kultuur.

Goddelike en menslike beoordeling

Twee van die gemeentes kry net goedkeurende waardering van die Here. Smirna (2:8-11) en Filadelfia (3:7-13) kry as 't ware A-simbole.
    Daarenteen kry twee gemeentes net kritiek en bestraffing. Sardis (3:1-6) en Laodisea (3:14-22) kry F-simbole. In eersgenoemde is daar darem nog 'n paar wat heilig lewe (3:4). Laodisea is egter al so ver heen dat dit onseker is of daar nog diesulkes is (3:20).
    As hierdie vier briewe deurgewerk word, kom enkele sake na die oppervlak. Dit ruk elkeen wat die kerk se hoë roeping verstaan en die Here se eer op die hart dra, tot stilstand:

•    Die twee A-gemeentes is beide maar sukkelaars. Smirna is armoedig en verdruk (2:9-10). Filadelfia het min krag (3:8). In terme van hedendaagse idees is beide eintlik mislukkings  -  maar van die Hoof van die kerk kry hulle net lof.

•    Die twee F-gemeentes is op die oog af modelle. Sardis het selfs buite sy eie kring 'n reputasie van lewe (3:1). Waarskynlik dui dit op allerlei aktiwiteite. Laodisea is skatryk en reken dat hulle oor alles beskik wat 'n gemeente nodig mag hê (3:17). Vandag sou hulle as suksesvolle gemeentes geag word  -  maar Jesus Christus het nie 'n enkele goeie woord vir een van hulle nie!
    Besef ons hoegenaamd tot watter mate vandag se idees oor gemeentelike sukses en mislukking verskil van Bybelse norme? Dis lewensbelangrik dat elke gemeente homself voortdurend beoordeel in Skriflig. Sommige "mislukkings" mag dalk baie bemoedig anderkant uitkom; en party "suksesse" sal verseker geskud word tot in hulle fondamente! Gestel jou gemeente moes vandag so 'n brief van die Hoof van die kerk ontvang  -  wat sou die inhoud wees? Wat sou julle simbool wees?
    En laat ons maar versigtig wees om nie te vinnig met 'n opinie te kom nie. 'n Verdere waarneming toon hoe verskriklik maklik dit is om die bal totaal mis te slaan as jy wel die kerk beoordeel.

    Tweemaal sien ons in hierdie briewe hoe menslike evaluering lynreg strydig is met Christus s'n.

Buitestaanders reken dat Sardis lewe, maar die Here Jesus verklaar hulle dood (3:1)! Die gemeente in Laodisea klop hulleself op die skouer, maar die Here lewer vernietigende kritiek: hulle is ellendig, beklaens-waardig, arm, blind en kaal!
    Voorwaar is dit genade as 'n gemeente weier om sy ore uit te leen vir andere se lofsange, omdat hulle weet hoe totaal onbetroubaar menslike opinie is. En baie, baie wys is die plaaslike kerk wat, diep bewus van sy geneigdheid tot selfbedrog, homself weer en weer met meedoënlose eerlikheid in die Woord van God spieël.
    Die Reformatoriese vaders het hierdie dinge verstaan. Vandaar hulle wekroep:

    Semper Reformanda! (Voortdurende Reformasie). Maar, let noukeurig op, reformasie is nie om nuwe dinge te ontdek nie; dis om eeue-oue dinge opnuut weer te ontdek.

Hy wat God nie gereeld dank vir die ewig-vasstaande, universeel-gesagvolle, immer-betroubare Woord nie, begryp nog maar baie min van God se gansandersheid en die menslike verdorwenheid!

Die lampstaander

In die eerste drie hoofstukke van Openbaring word 'n baie sprekende simbool vir die plaaslike kerk gebruik: "die lampstaander" (1:12, 13, 20; 2:1, 5). Let ook op die Here se intieme betrokkenheid by elke gemeente: Hy stap tussen hulle rond  -  volgens die Grieks, heen en weer (1:13; 2:1).
    Dit is van besliste belang dat die Griekse woord wat in die Afrikaanse Bybels met "kandelaar" (OAV) en "lamp" (NAV) vertaal word, inderdaad reg verstaan en vertaal sal word. Die bepaalde woord is lugnia, en word 12 keer in die Nuwe Testament gebruik (Mt 5:15; Mk 4:21; Lk 8:16; 11:33; Hb 9:2; Op 1:12, 13, 20 (2x); 2:1, 5; 11:4).
    Gesaghebbende woordeboeke is eenstemmig:

    Die woord dui op 'n staander waarop een of meer lampe neergesit is, sodat die lig so wyd as moontlik kon skyn.

Dis met ander woorde nie die lamp self nie  -  daarvoor is daar ander woorde in Grieks. Die eerste 4 verse wat hierbo genoem is, bring die onderskeid tussen die lamp (Gr. lugnos) en die staander (Gr. lugnia) duidelik na vore. Hierdie onderskeid is veral hier van kardinale belang.
    Die beste Afrikaanse vertaling is dus "lampstaander". Omtrent alle moderne Engelse vertalings gebruik dan ook deurgaans "lampstand".
    Wat is die punt? In hierdie laaste en verhewe stuk openbaring wat die verheerlikte Christus aan Sy kerk gee, word onmiskenbaar en oor en oor duidelik gesê:

    Een van die wesenstake van elke gemeente (indien nie díé wesenstaak nie) is om 'n lampstaander in hierdie wêreld te wees.


Hieruit volg noodwendig die vraag: wat is dan die lamp, die lig, wat bo van die lampstaander af moet skyn?

     Christus is die Lig van die wêreld (Joh 8:12)!

Wat anders kan hier bedoel word as dat verkondiging van die Christus-gesentreerde evangelie elke gemeente se sentrale roeping is! So 'n afleiding is volledig in pas met die res van die Nuwe Testament. Fil 2:15-16 spel dieselfde roeping uit: "Tree ... op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra." En Paulus wil niks anders doen nie as om Christus, die Gekruisigde, te verkondig (1Kor 2:2).
    Iemand mag nou sê hy is nog altyd geleer die "kandelaar" staan vir die Heilige Gees. Almiskie. In elk geval maak dit min verskil, want die Heilige Gees het juis gekom om Christus te verheerlik (Jh 15:26; 16:8-11; 16:14).

Verwydering van die lampstaander

Die gemeente in Efese word gewaarsku dat die Here hulle lampstaander sal verwyder indien hulle hul nie bekeer nie (2:5).
    Wat beteken dit? Hoe verwyder Christus dit? Wat presies gebeur in 'n gemeente as die lampstaander verwyder word?
    Die Bybel gee nie eksplisiete antwoorde op hierdie vrae nie. Maar ervaring het ons talle lesse geleer. Die kerkgeskiedenis (ook ons land, helaas) is propvol voorbeelde van wat gebeur as 'n gemeente se lampstaander verwyder word.

•    Geestelike blindheid begin stadigaan intree. Lidmate begin geleidelik sig verloor op die wonder van hulle redding (selfs al is dit inderdaad nog die geval, wat geensins 'n uitgemaakte saak is nie). Die gevolg is dat Christus se glansryke heerlikheid algaande verdof. En, onvermydelik,raak die mense se getuienis oor die Here se Naam en groot verlossingsdade al hoe stiller.

•    'n Klemverskuiwing vind toenemend plaas. Die mens en sy dinge begin sentraal raak. 'n Mensgesentreerde boodskap begin van die kansel af verkondig word. En mettertyd hou die prediking niks meer as sedelessies in nie.
    Voorts ontstaan daar 'n beheptheid om die kerk lekkerder en meer sosiaal te maak. En om van hierdie wêreld 'n beter plek te maak, staan al hoe meer voorop.

Die tragiese gevolg is dat "die Lig van die wêreld" nie meer vanuit so 'n gemeente skyn nie. Christus word nie meer na 'n sterwende wêreld uitgehou nie. En Hy is nie meer die lidmate se wysheid, geregtigheid, heiligmaking en verlossing nie - daar word net nie meer in Hom geroem nie, in elk geval nie meer uit die harte en met nat wange nie (1Kor 1:30-31, OAV).

•    Christus word nie meer as God se Groot Profeet gepreek nie. Sy verbysterend grootste openbaring oor die persoon en karakter van God, Sy radikale leringe en Sy oproepe tot dissipelskap word afgewater en mense se ore word gestreel. Die Woord word gevolglik nie behoorlik uitgelê nie, maar allerlei binne-wêredse, sogenaamde praktiese temas word behandel. Christus en Sy apostels se ontvouing van God se wet in die Nuwe Testament skuif in die agtergrond. Dat hierdie wêreld net ons tydelike woning is, vervaag al hoe meer in lidmate se gemoedere.

•    Christus word nie meer as God se Groot Hoëpriester gepreek nie. Die verskriklike prys wat Hy in Sy menswording en kruisiging aan die vloekhout en onder Sy Vader se toorn betaal het vir die mense wat aan Hom toevertrou is, word al hoe meer verwater. En die sentiment dat Hy vir alle mense betaal het, lei noodwendig, al word dit nie uitdruklik gesê nie, tot die konklusie dat almal tog maar op die ou end gered sal word. Per slot van rekening sal mense se sonde mos nie dubbeld gestraf word nie  -  eers aan die Seun en dan aan die sondaar self. Radikale dissipelskap en gehoorsame volharding tot die einde toe word dus 'n rariteit in gemeentes.
    En van Christus se voortgaande priesterlike voorspraak vir Sy mense by die Vader  -  as hulle enigste hoop om tot die einde toe te volhard  -  weet die meeste kerkmense gladnie meer nie.

•    Christus word nie meer as God se Groot Koning gepreek nie. Jy gaan tevergeefs na so 'n gemeente toe om van Sy soewereine seggenskap, beslaglegging en regering in Christene se lewens te hoor. Die noodsaak van selfaflegging en kruisdra in Sy voetspore is vervang met die eensydige beklemtoning van al die hier-en-nou-voordele van Christenwees. Van Sy vermoë om sondaars bonatuurlik toe te rus tot 'n heilige lewe, word bloedweinig gesê; en van Hom as toekomstige Regter nog minder.

Normaalweg word so 'n gemeente nou gewild. Waarom? 1Kor 1:23 gee die antwoord. Die "struikelblok" (OAV) is verwyder en huigelaars voel tuis. En die prediking bevat nie meer "onsin" nie, met die gevolg dat vleeslike ongelowiges nie aanstoot neem en uitwyk nie.
    Selfvoldaanheid volg nou. As God se Wet en heilige standaarde nie gepreek word nie, wat hou die mense nederig? Voeg hierby gewildheid en getalle wat toestroom  -  en gearriveerdheid is onvermydelik.

    Die afwesigheid van Christus-gesentreerdheid in 'n gemeente is nie die oorsaak waarom 'n gemeente die lampstaander verloor nie  -  dis die bewys dat dit alreeds verwyder is!

Dis meer as tragies, maar 'n kerk kan vir eeue so lampstaander-loos voortbestaan. Al wat nodig is, is om genoeg institusionele stutte in te bou, en dit staan vanself  -  'n ruïne, opgetooi in prag en praal. En niemand binne die mure besef dit nie, want almal wat in die lig wandel, het lank vantevore reeds vertrek. Waar die Here Jesus is, daar is Sy dienaars immers saam met Hom (Jh 12:26).

'n Lotsbepalende keuse

Deur al die eeue staan daar steeds 'n vlymskerp keuse voor elke gemeente (asook elke prediker en lidmaat):

    Kies jy getrouheid, of kies jy sukses?

Wat is getrouheid? Om in God se oë te slaag. Wat is sukses? Om in mense se oë te slaag.
    Natuurlik kan mens getrouheid kies, en ook suksesvol wees (in die Here se genade). En mens kan sukses kies, en tog in mense se oë misluk.

    Maar dis onmoontlik om sukses te kies  -  en terselfdertyd in God se oë te slaag.

O, as ons maar kon onthou: daar is twee paaie voor elke gemeente. En dit vereis 'n keuse  -  onontkombaar, radikaal, intens-bewustelik, lotsbepalend.

    Dit gaan óf om mense se eer (sodat óns verheerlik kan word), óf om God se eer (sodat Hý verheerlik kan word).
                                                                                                                             Nico van der Walt










                              

No comments:

Post a Comment