Friday, July 20, 2012

ANTIPAS HEROUT No.49 - CHRISTUS SE REGTERSTOEL - Lig uit die Korintiërbriewe

God se Woord is baie duidelik: óók diegene wat in Christus sterf, sal die eindoordeel moet deurgaan. En hulle sal aan presies dieselfde norme gemeet word as die ongelowiges. "God trek immers niemand voor nie" (Rm 2:11). Hy het nie witbroodjies nie. Hy meet nie met dubbele standaarde nie.
    In 'n sin is die Christelike lewe hier en nou niks anders nie as die Here God se gereedmaking van Sy kinders vir daardie dag van afrekening. Hy werk nou heiligmakend só in die uitverkorenes dat nie 'n enkele een van hulle op daardie dag verleë sal staan nie. Selfs diegene wat verwerp word  -  ook die duiwel  -  sal op daardie dag geen fout kan vind met die feit dat miljoene ewige loon ontvang nie. God se vyande sal moet toegee: elkeen  -  gered en ongered  -  ontvang presies in ooreenstemming met die lewe wat hy of sy in hierdie lewe geleef het.

        Laat ons nooit die volle evangelie vergeet nie: Ja, ons word gered uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, en deur geloof alleen. En oor hierdie mees fundamentele kant van ons verlossing sal ons nooit kan ophou juig nie. Maar ons mag nie hier stop nie. Ons word eweneens gered tót heiligheid, goeie werke en gehoorsaamheid  -  en daarom uiteindelik ook vólgens die lewe van geregtigheid waartoe die Heilige Gees ons in staat gestel het, nadat Hy ons geroep en wederbaar het vanuit 'n God-vermydende hartsgesteldheid en 'n selfgesentreerde lewe, tot 'n God-soekende lewe van die najaging van Sy eer.

Die inhoud van hierdie hoofstuk word, wat hierdie skrywer betref, skreiend verwaarloos in prediking vandag, en heelwat lesers mag dus geskok wees as hulle dit lees. Dit word egter nie verwag dat enigeen dit vir soetkoek moet opeet nie. Toets die inhoud hiervan dus krities aan die hand van die Bybelboodskap as geheel.
    Ekself het nie die vaagste benul van hierdie waarheid gehad nie, maar toe ek die Bybel ernstig na my wedergeboorte as volwassene begin lees het, het ek spoedig tot hierdie oortuiging gekom  -  en dit het lewensveranderende effekte op my gehad.

Die eindoordeel het twee komponente

•    Eerstens praat die Skrif oor die skeiding van diegene wat gered is en diegene wat nie gered is nie  -  soos byvoorbeeld in Mt 25:31-46, waar die skape en bokke van mekaar afgekeer word. Onmiskenbaar duidelik geskied dit op grond van die lewens wat die mense geleef het (vgl. Rm 2:6-11). Omdat hierdie twee groepe radikaal verskillende bestemmings het, kan hulle nie langer deurmekaar loop nie.

•    Tweedens praat die Skrif dan van 'n beoordeling van gelowiges se lewens met die oog op hulle ewige loon (Mt 10:42; Mk 9:41; Lk 14:12-14; 1Kor 3:10-15; Ef 6:8; 2Jh 8). Let op dat hierdie mense se saligheid nie nou op die spel is nie. Ons praat immers van diegene wat deur 'n ware geloof vir tyd en ewigheid met Christus verenig is.
    Ons sal die res van hierdie studiestuk aan hierdie tweede aspek van die eindoordeel wy. In die proses sal ons konsentreer op uitsprake in die Korintiërbriewe.

2 kor 5:10 : Basiese beginsels

Hierdie vers sny meeste van die beginsels aan wat ter sprake is as ons 'n Bybelse perspektief op die eindoordeel van Christene wil bekom.

•    Die vers begin met "want" (OAV) of "immers" (NAV). Dit verduidelik dus die voorafgaande vers 9.
    Ook v.9 hou verband met die voorafgaande ("Daarom", OAV). Paulus skryf na aanleiding van die komende dood en die implikasies daarvan (1-8).

•    As die apostel sê hy het net een wens (9, NAV), naamlik om te lewe soos die Here wil, gebruik hy 'n woord wat beteken om ambisieus te wees. Dit is dus sy brandende hartstog om in alles wat hy doen die Here te behaag.

•    Ons "almal" moet voor die regterstoel verskyn  -  selfs Paulus en die ander apostels. Vir een en elkeen sal daar dus 'n dag van afrekening kom.
    Ons wat in Christus is, kan en moet ons verheug in die wonder van onomkeerbare regverdiging en die sekere vooruitsig op ons komende heerlikmaking. Maar dit onthef ons nie van die gewigtige verantwoordelikheid om lewenslank en puntenerig in die lig van Christus se komende regterstoel te leef nie.
    Sekerlik is dankbaarheid vir die Here se groot verlossingsdade genoegsame rede vir 'n lewe wat dit najaag om Hom te behaag en te verheerlik. Maar daar is nóg 'n rede:

My lewe hier en nou bepaal my loon, al dan nie, in die hiernamaals!

•    As die apostel skryf dat ons voor Christus sal "verskyn", gebruik hy 'n sterk woord: ons sal blootgelê word, gestroop van elke fasade van ordentlikheid  -  om totaal en volledig geopenbaar te word vir wie en wat ons was.
    Die beoordeling sal dus baie deeglik wees. Alles sal in ag geneem word.

•    "Elkeen sal ontvang" volgens wat hy of sy tydens hierdie aardse lewe gedoen het. Eintlik wil die Grieks sê dat 'n mens dit sal terug ontvang. Dit sinspeel op onpartydige en regverdige beoordeling.

•    Voorts bied 'n versigtige lees van die teks nog 'n belangrike perspektief  -  op twee maniere.
    Eerstens, die werkwoord "gedoen" is 'n eenvoudige verlede tyd. Vanaf die regterstoel word dus teruggekyk op iemand se lewe as 'n eenheid, as 'n geheel. Dit gaan oor wat jy tipies gedoen het.
    Tweedens, Paulus skryf, letterlik, ons sal die dinge (meervoud) terug ontvang wat in die liggaam gedoen is, of dit (enkelvoud) goed was of kwaad.
    Hierdie oorgang van die meervoud na die enkelvoud is verrassend en sprekend. Wat dit wil tuisbring, is dat, hoewel niks die beoordeling sal ontglip nie (dinge, meervoud), sal ons lewens en dade as 'n geheel beskou word (enkelvoud).
    Opgesom: geen enkele daad of versuim kan met sekerheid uitwys of iemand genade ontvang het, al dan nie. Nee, al die besonderhede van ons lewens gesamentlik  -  ons tipiese gedrag  -  wys uit wie ons werklik in ons diepste wese is.
    Ons lewe, nadat ons met Christus verenig is, sal dus as 'n geheel beoordeel word  -  en dit sal nie net uitwys of ek inderdaad deur die Gees van God herskep is nie, maar dit sal ook my loon bepaal.

•    Die "kwaad", wat die teendeel van "goed" is, beteken eintlik waardeloos. Dit bevestig die res van die Nuwe Testament se getuienis dat die regterstoel vir die Here se kinders nie 'n strafbank sal wees om 'n vonnis uit te meet nie. Nee, dis 'n waardebepaling om uitspraak te gee oor die loon wat elke dissipel van Jesus moet kry.
   
1korintiërs 3:10-15 : moet ten alle koste nie vir ewig na rook ruik nie!

Elke ware gelowige bou uiteraard op Jesus Christus  -  die fondament wat reeds gelê is (11). Hier is nogeens 'n herinnering dat ons nie bloot oor ewige redding, al dan nie, praat nie.
    Maar elkeen "moet mooi kyk hoe hy verder bou" (10b). Ons werk gaan immers "aan die lig kom" (13). Dis dieselfde begrip as wat ons in 2Kor 5:10 raakgeloop het: ons werk sal blootgelê word; dit sal gesien word vir presies wat dit was.
    Ons bouwerk sal deur vuur getoets word  -  dus deur en deur. Slegs as ons kwaliteitsmateriaal gebruik, sal ons loon kry. Verbrand ons werk egter, sal ons nie beloon word nie  -  hoewel ons self gered sal word (15).
    In vers 13 skryf die apostel dat die gehalte van elkeen se werk "getoets" sal word  -  dit sal op die proef gestel word (OAV).
    Daar is veral twee woorde in Grieks wat dui op die aanlê van 'n toets (Gr. dokimazo en peirazo). Laasgenoemde woord dui op 'n toets wat óf met geen verwagting oor die uitkoms nie, óf dikwels met die verwagting van 'n negatiewe resultaat, aangelê word. Maar dis eersgenoemde woord wat hier gebruik word. En dikwels dui dit op 'n toets wat optimisties aangelê word  -  dat die uitkoms positief sal wees.
    In Lk 14:19 en Jh 6:6 word die betekenis van die woorde goed uitgebring.
    Johannes 6:6 gebruik die negatiewe begrip, peirazo. Dis 'n toets wat die Here Jesus op Filippus aanlê om sy kleingeloof uit te wys.
    Wat gebeur, is dat daar 'n skare is wat moet kos kry. Dan sê Jesus vir Sy dissipel, "Waar sal ons gaan kos koop?" Al waaraan Filippus kan dink, is dat hulle nie genoeg geld het vir al die kos wat nodig is nie. As hy egter geloof gehad het, sou hy gesê het dat daar vyf broodjies en twee vissies is, en dat die Here dit sekerlik kan vermeerder. Maar Jesus weet hy het nié hierdie geloof nie en wil dit sagkens vir hom aan die verstand bring.
    Daarenteen vertel Lk 14 van 'n man wat osse gekoop het en hulle dan wil uitprobeer. Hier word die positiewe begrip, dokimazo gebruik. Die suggestie is dus dat hy nie kan wag om te sien hoe goed sy nuwe aanwas gaan vaar nie. Sy verwagting is positief.

    •    Die vuurtoets, eendag, sal dus nie daarop ingestel wees om alles wat sleg was in ons lewens uit te wys nie. Inteendeel, dit sal juis die goeie wil uitwys! Dit sal niks wat beloon kan word, wil oorslaan nie.
    Vir God se kinders, ten spyte van die skrikwekkende gewigtigheid van die geleentheid, sal die eindoordeel tog ook 'n blye oomblik wees. Nee, meer nog:

 Die eindoordeel sal vir hulle wat in Christus gered is, gepaard gaan met onbeskryflike vreugde oor die wonderlike loon wat toegeken word  -  'n welgeluksalige lewe, onbeskryflik in sy heerlikheid, wat tot in alle ewigheid nie sal verbygaan nie.


Terwyl elkeen wat iets verstaan van die gewigtigheid van daardie ontmoeting met Christus nie anders kan as om dit in die vrese van die Here tegemoet te gaan nie (2Kor 5:11, OAV), is dit dus ook so dat ons met positiewe verwagtinge daarna kan en moet uitsien.
    Dis soos 'n student wie se maag gespanne ineentrek as hy aan sy naderende finale eksamen dink. Maar dis 'n goeie ding, want dit spoor hom des te meer aan om hard te werk. Tog gaan hy die eksamen ook met opgewonde afwagting tegemoet. Hy het alle rede om te glo dat hy goed sal slaag  -  en dat dit die behaling van sy graad sal beteken.
    Gelowiges kan en moet die eindoordeel dus positief en vol verwagting benader, nie negatief nie. Wat hier beskryf word, is die prysuitdeling!

Die apostel se gesindheid

Die apostel Paulus het dit waarna ons tot nou toe gekyk het, met alle ywer uitgeleef. Hy wou ten alle koste met goud, silwer en edelstene bou. In 1Kor 9 skryf hy dat hy sy Christelike wedloop voluit hardloop.
    As hy in v.24 sê dat net één die prys kry, bedoel hy nie dat net een persoon eendag beloon sal word nie. Dis sy manier om te sê, aangesien net een in 'n gewone wedloop die wenprys kry, is alle atlete wat ernstig is, ingestel op die eerste plek. En dieselfde gesindheid van toewyding moet ons geestelike wedlope kenmerk. Ons moet dus "gaan vir goud"!
    Vergelyk mens v.27 in die OAV en die NAV, kom jy 'n verskil agter. Die NAV is 'n beter weergawe van Paulus se bedoeling. Hy sê nie dat hy bang is om verwerp te word nie. Hy is nie bevrees dat hy verlore sal gaan nie. Daarvoor is hy té gevestig in Christus, té oortuig van die onomkeerbaarheid van sy regverdiging. Wat hy sê, is dat hy alles in die stryd werp sodat hy nie vir die prys gediskwalifiseer sal word nie (NIV). Hy wil nie loon inboet te wyte aan laksheid nie. Ten alle koste wil hy verhoed dat sy lewenswerk  -  of 'n deel daarvan  -  in rook opgaan.
    Wat het Paulus se wedloop ingehou? Per slot van rekening het elkeen van ons 'n eie roeping en eie gawes. In Paulus se geval moet hy die evangelie op skrif stel en dit so ver en wyd as moontlik verkondig.
    Dis in die uitvoering van híérdie taak wat hy al sy kragte inspan (v.23). En hy maak geen geheim daarvan dat sy oë op die loon vasgenael is nie, want hy sê: "sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê" (vgl. ook v.23 in die NIV en ESV).
    Weer en weer word dit duidelik in die Nuwe Testament hoe ernstig die apostel Paulus oor hierdie saak was, selfs tot in die fynste besonderhede.
    Hy skryf in 1Kor 4:5 dat die Here die dinge wat in die duisternis verborge is, aan die lig sal bring en die bedoelings van die hart sal blootlê. Hy neem dus die Here Jesus se waarskuwing in Lk 12:1-3 baie ernstig op: daar is niks geheim wat nie bekend sal word nie.
    Woorde soos hierdie wil 'n mens se keel laat toetrek, nie waar nie. Maar kyk hoe sluit die apostel v.5 af. Voorop in sy gedagtes is nie verleentheid en verlies wat sal volg op blootlegging nie, maar lof  -  lof!
    Dus, hier kom die positiewe al wéér na vore!


Wat sê dit onder meer vir ons?

1.    Sien jy die kontinuïteit, die deurlopenheid tussen hierdie lewe en die lewe hierna?
As die graad van jou heerlikheid eendag afhang van jou getrouheid en toewyding hier en nou, moet jý as persoon en individu mos bly voortbestaan. Jy sal dus jou identiteit behou  -  net soos die Here Jesus nadat Hy opgestaan het.
    In antwoord op sekere dwaalleraars wat beweer het dat 'n ander liggaam as my huidige eendag sal opstaan, sê die ou kerkvader, Chrisostomus: "Hoe so? Sê my, sal één sondig en 'n ander gestraf word; sal één goed doen en 'n ander gekroon word?"

2.    Sien jy die noodsaak van wedergeboorte?
Wedergeboorte is 'n hartsverandering  -  jou diepste wese word herskep. En dit alleen kan 'n sondegevalle mens se verdorwenheid só verander dat geregtigheid die tipiese van sy lewe word.
    Nooit mag ons vergeet dat die wedergeboorte 'n absolute voorvereiste is vir 'n outentieke Christelike lewe nie. In 2Kor 5:17 skryf die apostel: "Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk dit het alles nuut geword" (OAV). Voordat hierdie herskepping nie met 'n sondaarmens gebeur nie, is dit vir hom onmoontlik om 'n lewe te leef wat as geheel eendag die toetse van Christus se regterstoel sal slaag.
    As Johannes in sy eerste brief die merktekens van die wedergeboorte behandel, is twee daarvan, oorwinning oor sonde en die doen van geregtigheid (1Jh 3:9; 2:29; vgl. OAV). En in beide gevalle gebruik die apostel 'n werkwoordsvorm wat dui op voortgaande en tipiese handeling (ongelukkig mis ons Afrikaanse vertalings die punt, maar vgl. NIV; ESV). Presies dít is wat Christus eendag sal soek as Hy loon uitdeel.

3.    Laat ons goed kennis neem van die maatstawwe wat eendag op ons aangelê sal word.
Die apostel Paulus het presies geweet waaroor dit gaan en wat sy lewenstaak was. Hy het die reëls van die geloofswedloop geken. Hy het geweet wat beloon gaan word en wat waardeloos is. Sy teiken was vlymskerp voor hom afgeëts (1Kor 9:26). En tyd en energie het hy nie op beuselagtighede verspil nie.
    Nou sal talle sê, dis juis my probleem, ek weet nie wat my roeping is nie. Wat is die Here se wil vir my lewe?
    Wel, dis 'n baie groot seën as mens jou nis in die koninkryk gevind het  -  en hoe vroeër hoe beter. Maar gewoonlik kom dit eers met toenemende ervaring en ouderdom.
    Maar, sal jy dalk sê, wat moet ek intussen doen? Moet ek bloot maar wag? Allermins!
    As mens die Bybel versigtig lees, sien jy dat die beoordeling op daardie dag veral sekere dinge in ag sal neem. Laat ons daarvolgens leef, en ons kan verseker wees dat die regterstoel van Christus 'n wonderlike prysuitdeling vir ons sal wees.
    Op grond van die Skrif kan ons met sekerheid sê dat die volgende dinge in ag geneem sal word deur die Groot Beoordelaar.

•    Ons getrouheid en gehoorsaamheid.
In die gelykenis van die talente sê die eienaar vir die slawe wat hy beloon: "Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel" (Mt 25:21, 23).
    Hierdie slawe het hulle baas se opdragte ernstig opgeneem en puntenerig uitgeleef. Sý belange was vir hulle voorop, nie hulle eie gerief of voordeel nie.
    Dis waarom Jesus in Jh 12:48 sê dat Sy woorde op daardie dag die ongehoorsames sal oordeel. Ons sal volgens die Here se opdragte beoordeel word!

•    Ons motiewe en gerigthede.
By meer as een geleentheid bring die Here Jesus ons motiewe hier en nou, en ons ewige loon, in direkte verband met mekaar (Mt 6:1; Lk 12:1-3). Gaan dit vir jou vandag oor die goedkeuring en eer van mense, sal jy alle loon eendag verbeur. Speel jy nóú vir die pawiljoene, sal jy dán bedroë daarvan afkom.
    Hier is die beginsel: ek en jy moet besluit waar en wanneer ons ons loon wil hê: hier of daar, nou of dan. Die wêreld is bereid om dadelik uit te betaal. Maar as jy in die hemel belê sal jy in geloof moet wag. Maar, al is dit 'n langtermyn belegging, verseker God se Woord ons dat die dividende meer as die moeite werd sal wees.
    Vir seker is dit nie sonder betekenis nie dat die Woord van God in hierdie verband 'n besondere klem laat val op die belangrikheid van materiële uitdeling. Dít is een van die uitnemende maniere om skatte in die hemel te vergader (Mt 6:19-20; Lk 12:31-33; Lk 18:22; 1Tm 6:17-19).
    Daar is dus twee beleggingsalternatiewe voor ons. Die een se dividende betaal nog in hierdie lewe uit, maar die sekuriteit is bedenklik. Die ander se sekuriteit is absoluut en die opbrengs duiselingwekkend. Maar mens moet in die geloof daarvoor wag, soms baie lank.

•    Ons lig en geleenthede.
In die gelykenis van die waaksame slaaf, sê die Here Jesus dat die slaaf wat goed weet wat sy baas wil hê, maar dit nie doen nie, 'n swaar straf sal kry. Daarenteen sal die een wat te wyte aan onkunde nie doen wat die baas wil hê nie, 'n veel ligter straf kry. Híér is dus die beginsel: "Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word" (Lk 12:47-48).

•    Ons gesindhede.
In 1Kor 9 skryf Paulus oor die feit dat hy die evangelie uit eie keuse verkondig. Daarom doen hy dit kosteloos. Hy weet immers dat die loon wat hy nóú van die hand wys, wel eendag in die hiernamaals aan hom uitbetaal sal word (9:14-18).
    In 2Kor 9 gaan dit nogeens oor geld en ewige loon. Wie volop saai, sal volop maai. En in die besonder is dit belangrik om blymoedig en vrywillig te saai  -  want by uitstek is dit súlke uitdelers vir wie God lief is, wat Hy in hierdie lewe sal versorg, en wat eendag volop sal oes (9:6-8).

4.    Let op die hartsgesteldheid wat die feit van die komende regterstoel in Paulus verwek.
Soos gesien, gaan Paulus in 2Kor 5:11 voort: "Omdat ons dan die vrees van die Here ken" (OAV). Omdat daar 'n onontkombare wetmatigheid is, naamlik dat baie vereis word van diegene wat baie ontvang het  -  is die vooruitsig op die regterstoel vir 'n Christen enorm gewigtig. Hoeveel het ons nie ontvang nie! Hoeveel ontvang ons nie steeds nie!
    Laat die volle gewig hiervan lewenslank op jou hart druk:

Wat ek in hierdie lewe saai, sal ek tot in alle ewigheid maai; die kwaliteit van die saad wat ek nou saai, bepaal vir ewig die kwaliteit van my loon!

5.    Van alle mense is ons die allerlaastes wat kan kla dat ons beoordeel gaan word.
Is ons nie herskep sodat ons heilig en godvrugtig kan lewe nie? Is God se wette nie op die tafels van ons harte gegrafeer nie? Werk die Gees van die Here nie nou só in ons dat ons eendag vir die loon kan kwalifiseer nie?
    Waarlik, niks is meer redelik as die oproepe en imperatiewe van die Nuwe Testament nie. "Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is" (Rm 12:1). "Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik" (1Kor 6:19-20).

6.    Al is dit ék wat beloon sal word, is dit die Here alleen wat die eer daarvoor moet kry.
In Op 4:8-11 lees ons van die vier-en-twintig ouderlinge wat hulle krone voor die troon van die Here terugplaas. Dis hulle stefanoi (Gr.), oftewel lourierkranse, simbool van die prys wat oorwinnaars in die Christelike wedloop ontvang. En dan breek hulle in 'n wonderlike lofuiting uit: "U is waardig ..."
    Waarom gee hulle hul krone terug? Omdat hulle besef dat hulle die prys en loon wat hulle vir hierdie lewe se getroue volharding ontvang het, hoegenaamd nie self verdien het nie. Dit is Gód se werk in hulle wat beloon is. Was elke oorwinnaarstree van hulle wedloop nie 'n genadegawe nie?
    Laat ons dus altyd onthou: elke stukkie godsvrug in my lewe is ten diepste  werk van Christus in my. Onthou, dis ten diepste nie ék wat gekroon gaan word nie, maar Christus in my.
    Wat leer dit dan vir jou en vir my? As mens die wenpaal seëvierend wil bereik, moet jy leer om gelowig in die krag van God se Gees te leef en te werk.

God gee die oorvloed van Sy gawes by die wenpaal, omdat ons in die geloof Sy gawes op die baan aangeneem het.

Ten slotte
As mens na die maatstawwe kyk wat God se Woord stel, is dit duidelik dat baie "Christene" nie die toets sal slaag nie. Hoe is dit dan dat Paulus, as hy oor die eindoordeel praat, soos klokslag die klem laat val op die sekerheid van beloning?
    Die antwoord is eenvoudig. Sy versekeringe oor ewige loon skryf hy aan wedergebore mense. En hy weet dat die hartsverandering wat die wedergeboorte bewerkstellig, só diepgaande is dat élke wedergeborene, ten spyte van baie oorblywende gebrokenheid, tog tot 'n mindere of meerdere mate aan die maatstawwe vir beloning voldoen.
    'n Laaste gedagte oor hierdie saak: wat die Here Jesus in ag gaan neem tydens Sy evaluering met die oog op ons ewige loon, is nie net ons dade nie, maar ook ons geleenthede; nie net wat ons was nie, maar ook wat ons kon gewees het; nie net wat ons bereik het nie, maar ook wat ons nagejaag het; nie net wat ons gedoen het nie, maar ook wat ons nagelaat het; nie net die getal van ons goeie werke nie, maar ook die gewig daarvan.
    UIteindelik sal dít die vraag wees: tot watter mate was ek gelykvormig aan Christus se beeld  -  in my hartsgesindhede en in my dade?
                                                                                                                            Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment