Thursday, July 19, 2012

ANTIPAS HEROUT No.30 - GOD SE FINALE SPREKE - 'n Bespreking van Hb 1:1-3

In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die majesteit in die hoë hemel (Hb 1:1-3, NAV).

Die skrywer se doel met hierdie brief is pastoraal van aard. Sy lesers is Joodse Christene wat besig is om moeg te word in die geloofswedloop en oorweeg om weg te draai van Christus af, terug na die Ou Testamentiese seremoniële godsdiens.
    Wat hy met sy skrywe aan hulle wil toon, is dat so 'n ommekeer nie net onsinnig is nie, maar inderdaad fataal. Die Ou Testament is vervul in Christus  -  wat beteken dat hulle wil terugdraai na iets wat eintlik nie meer bestaan nie. Wat meer is, aangesien al die Ou Testamentiese seremonies vooruit gewys het na die komende Messias, sal so 'n besluit neerkom op 'n skreiende belediging vir Christus. Dit sal 'n versaking wees van die Middelaar van die genadeverbond  -  en sonder Hom is daar geen verlossing nie. Hierdie waarskuwing word oor en oor in die res van die brief herhaal  -  en in taal wat mens laat sidder.
    In hierdie eerste verse val die skrywer met die deur in die huis. Wat ons moet verstaan, sê hy, is dat die koms en optrede van Jesus Christus nie maar net nog 'n stap in die ontwikkeling van God se raadsplan is nie  -  met die gevolg dat mens bloot een tree agter raak as jy terugkeer na die Ou Testamentiese bedeling. Nee, jy verpas geheel en al alles waaroor dit gaan!
    God se verlossingsplan en Sy openbaring aan die mens het in Sy Seun tot afrondende klimaks gekom. Daarom troon die Nuwe Verbond ver bo die Ou Verbond uit. Mens kan mos nie terugdraai na die voetheuwels toe, as die  pieke vir jou wink nie!
    In die verse onder ons vergrootglas vergelyk die skrywer die Ou en Nuwe Testamente. En in die allerduidelikste taal beklemtoon hy dan dat God se openbaring met die koms en optrede van Jesus Christus tot finale en kulminerende klimaks gekom het. Hy het opgehou om een na die ander profeet te stuur om oor Hom te praat. Nee, nou het Hy self gekom en alles wat nodig is om oor Hom en Sy plan te weet, persoonlik aan ons gewys. Dis soos die skerp spits van 'n piramiede. Al die lyne van die Ou Testament loop na hierdie punt toe. En 'n hoër openbaring as wat in die Seun gekom het, is net nie moontlik nie.
    Nie alleen lê die Hebreërskrywer só die fondament vir die hele boek nie; wat hy sê, het enorme teologiese en praktiese implikasies.

'n Bietjie sinsontleding

Die eerste sin in die Grieks (Hb 1:1-2a) is swaar gelaai met betekenis van groot belang.
    Dit bestaan uit twee dele: 'n voorafgaande bysin, gevolg deur 'n hoofsin. Deur hierdie twee gedeeltes op dieselfde manier te bou, belig die skrywer die kontras tussen die twee testamente.
    Die bysin: God het gespreek. Hoe? Baiekeer en op baie maniere. Dit was dus fragmentaries. Wanneer? In die verlede (in die tyd van die Ou Verbond). Tot wie? Tot die voorvaders. Deur wie? Deur die profete.
    Die hoofsin: God het gespreek. Hoe? Eenmalig. Wanneer? In hierdie laaste dae. Tot wie? Tot ons. Deur wie? Deur die Seun.

'n Aantal fundamentele waarhede

God het tot ons gespreek.

Laat ons nooit die wonder daarvan vergeet nie dat die allerhoogste en enige God van hemel en aarde nie die veraf en onbekende God gebly het nie, maar dat Hy na ons toe afgebuig en Homself aan ons geopenbaar het.


Ou en Nuwe Testament is God se spreke.

Daardie deel van Sy openbaring wat God aan ál Sy kinders deur die eeue wou bekendmaak, het Hy deur die inspirasie van die Heilige Gees in die geskrifte van beide Testamente laat vaslê.

•     Daar is 'n kontinuïteit of deurlopendheid tussen Ou en Nuwe Testament. Aangesien beide Testamente God se spreke is, kan ons verwag dat hulle mekaar nie sal weerspreek nie, maar dat die Nuwe op die verlenging van die Oue sal lê.

•    Daar is 'n diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Testament. Die skrywer impliseer onmiskenbaar 'n onderskeid tussen die twee Testamente: die Nuwe styg ver bo die Oue uit  -  soveel as wat die Seun heerliker is as die profete.
    Só stel die Hebreërskrywer dit in sy agste hoofstuk (7-13): "As daar aan die eerste verbond niks kortgekom het nie, sou 'n tweede nie nodig gewees het nie." Uiteindelik sluit hy af: "Deur van 'n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn."

•    God se openbaring het 'n progressiewe of kumulatiewe karakter. Die teenstelling tussen die Testamente is dus nie 'n kontras tussen dit wat gedeeltelik vals is, enersyds, en dit wat volledig waar is, andersyds, nie. Dit gaan om beloftes wat vervul word, om die voorlopige wat gefinaliseer word, om die onvoltooide wat tot vervolmaking kom, om skaduwees wat tot substansie oorgaan. Die Nuwe Testament is in die Oue verborge; die Oue word in die Nuwe belig.
    Herhaaldelik kom die woord "beter" in Hebreërs voor. Christus is beter as die engele (1:4), Hy bied 'n beter hoop (7:19) en waarborg 'n beter verbond (7:22). Dit alles is gegrond op beter beloftes (8:6) en 'n beter offer (9:23). Die verskil tussen Ou en Nuwe verbond is die verskil tussen dit wat goed is en dit wat beter is.

Die Nuwe Testamentiese openbaring het deur (lett. in) die Seun gekom, en as sodanig is Hy God se hoogste openbaring aan die mens.

Só stel Johannes dit in sy evangelie: "Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het Sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. ...Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak." (1:14, 18).
    Waarlik, Jesus Christus is die hoogtepunt, die piek, die afronding, die kulminering, die vervolmaking van God se openbaring aan ons. Wie wil, wie durf, wie kan iets by Hom voeg!

•     Dit moet altyd onthou word dat God Homself primêr in Sy Seun aan ons geopenbaar het  -  in Sy persoon, lering en werk. Waar kom die Bybel dan in die prentjie? Daarin vind ons die neerslag van God se openbaring in Sy Seun.
    Reg van die begin af antisipeer die Ou Testament die koms van die Seun. In talle gevalle kan dit eers in die lig van die Nuwe Testament raakgesien word. Maar as jy eers gelowig só na die Ou Testament kyk, sien jy Hom orals.
    Tog is dit die Nuwe Testament wat by uitnemendheid Christusgefokus is. Dit was die apostels se taak om hierdie openbaring in Christus vir ons neer te skryf. In die Evangelies beskryf hulle dit; in die res van die Nuwe Testament vertolk en ontvou hulle dit.

•    As gesê word dat God met ons gepraat het "deur die Seun", is dit die vertaling van die Grieks wat bloot sê "in Seun" (sonder die lidwoord). Dit dra die idee: in so 'n persoon soos die Seun. Dit gaan dus vir die skrywer oor meer as net wat die Seun gesê het, dit gaan ook oor wat Hy was, sowel as oor wat Hy gedoen het.

Die Nuwe Testamentiese openbaring is God se finale openbaring aan die mens in hierdie lewe.

Hy hét in Christus gespreek (afgehandelde verlede tyd). En Hy spreek stééds in die "laaste dae". Laasgenoemde uitdrukking dui op die hele bedeling tussen die eerste en die wederkoms van Jesus Christus.

•     Die woord vertaal met "in" (hierdie laaste dae) dui op 'n tydperk waarbinne iets gebeur. Dus: God hét gespreek; dit bly Sy spreke; dwarsdeur hierdie bedeling spreek Hy op net een manier  -  deur Sy Seun.

•     Nog 'n woord wat die Hebreërskrywer dikwels gebruik, is "ewig". In Christus het ons nou reeds die ewige saligheid (5:9), 'n ewige verlossing (9:12), 'n ewige erfenis (9:15). Daar kom dus nie 'n beter bedeling in die toekoms nie. Wat ons nou in Christus het, is God se finale gawe  -  in terme van 'n ewige verbond (13:20). Dus, as die Nuwe Verbond die Oue by verre oortref, is daar eweseer niks wat ooit bo die Nuwe sal uitstyg nie. Dis die finale en ewige reëling van die verhouding tussen God en Sy uitverkorenes.

God se openbaring in Sy Seun is genoegsaam.
                                       
As die Here dit onnodig ag om meer aan ons te openbaar, het ons sekerlik nie meer nodig nie. Ons het dus alle openbaring wat vir hierdie bedeling nodig is  -   om godvrugtig volgens Sy wil en tot Sy eer te lewe, om alles te doen wat Hy van ons verg om uiteindelik salig te sterf.

Nie afgeskeep nie, maar uitnemend begenadig

As ons eers regtig begin verstaan wie die Een is deur wie God Sy laaste woord tot die mensheid gespreek het  -  en steeds spreek  -  sal ons besef waarom ons in geen opsig afgeskeep hoef te voel omdat daar nie verdere openbaring van God se troon na ons toe kom nie. Hierdie finale en glasheldere woord van God  -  gespreek toe Sy eie Seun, Jesus Christus, mens geword het en onder ons kom woon het  -  is reeds 2000 jaar oud. Tog is dit tot vandag toe meer as genoegsaam. Diegene wat hierdie spreke verstaan, word lewenslank daardeur gefassineer, leer gou dat 'n leeftyd van studie nie genoeg is om dit te deurgrond nie, en is totaal vergenoegd daarmee. Behalwe vir vleeslike nuuskierigheid, kan hulle aan geen openbaring dink wat hulle nog verder van God sou wou ontvang nie, behalwe om die Seun net nóg beter te leer ken. Want hulle weet, Hý is die helderste venster  -  eintlik die enigste  -  deur wie hulle die lewende God kan sien. En aangesien dit die summum bonum van hierdie lewe is om die lewende God te ken (Jh 17:3), lê God se spreke in Christus in die middelpunt van hulle lewens en hartstogte.
    Min het hierdie waarheid beter verstaan as die Hebreërskrywer. En hy weet dat sy lesers, tot die mate wat hulle dit ook begryp, alle geneigdheid sal verloor om terug te draai na Ou Testamentiese seremonies. Dis waarom hy onmiddellik voortgaan om die duiselingwekkende heerlikheid van Jesus Christus te besing. Die res van hierdie brief is tewens 'n voortsetting daarvan, maar hier in 1:2-3 word dit in ekstrakvorm vir ons gegee. En omdat die Heilige Gees uiteraard ook weet hoe dit werk, het Hy in Sy goedheid verseker dat dit in die tydlose Bybel vir ons opgeteken en vasgelê word.

Die heerlikheid van die Seun (Hb 1:2-3)

In die lig van wie en wat Jesus Christus is, vervaag een na die ander Ou Testamentiese lig tot 'n dowwe skaduwee. Die openbaring wat deur Iemand só verhewe kom, kan mos nie anders as om onbetwisbaar gesaghebbend, algeheel betroubaar, en onberekenbaar waardevol te wees nie. Vergelyk Hom met die profete  -  en dis so duidelik soos daglig dat die rykdomme van die Nuwe Testamentiese openbaring soos 'n hoë bergpiek bokant die Ou Testament uittroon. Meer nog, die gevolgtrekking is onontkombaar: op geen wyse kon God ons méér begunstig, as om so 'n verhewe woord in so 'n verhewe Persoon tot ons te spreek nie.
    Luister dus aandagtig, sê die skrywer vir sy lesers  -  en ook vir ons  -  en gee puntenerig gehoor!
    Wie is dan die Een deur wie God nou spreek?
   
God het Hom die erfgenaam van alles gemaak.

Hy ontvang hierdie erfenis in Sy hoedanigheid as die Middelaar en Hoof van die nuwe skepping  as die mens Christus Jesus (1Tm 2:5). Dit is reeds aan Hom toegesê in die ewige raad van God en in die verlossingsverbond tussen die drie persone van die Goddelike Drie-eenheid. As die "laaste Adam" (1Kor 15:45) is Hy nie net wetlike eienaar van alles nie (Kol 1:16), Hy het ook regeringsvolmag daaroor (Mt 28:18).
    Die Messiaanse Psalm 2:8 is betekenisvol: "Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting." Sy erfenis uit die Vader se hand is dus in die eerste instansie 'n volk  -  'n bruid  -  vanuit alle volke, nasies en tale (Hb 2:8-13; Op 11:15).

Deur Hom het God die wêreld gemaak.

Die Seun was God se agent deur wie die heelal geskep is. "Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie" (Jh 1:3). En: "God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep" (Kol 1:16).
    Die spesifieke woord wat hier in Hb 1:2 met "wêreld" vertaal word (Gr. aion), is in die meervoud en dra ook die idee van tyd. Dit moet dus bes moontlik eerder met eeue of bedelinge vertaal word (vgl. Ampl). Christus is inderdaad die Here van die geskiedenis, die Een deur wie God Sy raadsplan uitwerk. Hy is "die Koning van die eeue" (1Tm 1:17, OAV).

Uit Hom straal die heerlikheid van God.

Soos die son se ligstrale, is die mensgeworde Seun die uitstraling van God (2Kor 4:6). Die geheimenisvolle en wonderlike eenheid en samewerking tussen die Vader en Jesus Christus kan beswaarlik beter beskryf word. Net soos daar geen strale sonder die son sou wees nie, net so is die Seun ondenkbaar sonder Sy Vader. En net soos die son geen waarde vir ons sou hê as dit nie vir sy lewegewende strale was nie, net so sou ons bloedweinig van God die Vader kon weet, en sou Sy liefde niks vir ons beteken het, as dit nie vir die Seun was nie.
    Tog is die son en die strale nie dieselfde nie  -  net soos die Vader en die Seun onderskei moet word as twee verskillende Persone (Jh 5:17; 8:42).
    Christus is dus die sigbare, heerlike verskyning van God in Sy majesteit. Sonder die son se uitstraling sou ons nie daarvan geweet het nie; sonder Christus was ons in die duisternis oor wie en wat God is. In die Seun openbaar God Homself.

Hy is die ewebeeld van die wese van God.

Die woord wat met "ewebeeld" vertaal word, dui op die afgedrukte merk van 'n stempel of ring in seëllak. Al sien mens self nie die stempel nie, is die afdruksel 'n baie getroue weergawe daarvan. In Jesus Christus  kan ons dus die essensiële elemente van God se wese sien  -  van wie en wat Hy werklik is.
    Volgens 1Tm 6:16 woon God in 'n ontoeganklike lig. Geen mens kan Hom sien en bly lewe nie. Maar volgens Kol 1:15 is die Seun die beeld van die onsigbare God. Ons kan nie na God toe opklim om Hom te bestudeer nie; ons is totaal afhanklik van Sy selfopenbaring aan ons. En dit hét Hy gegee  -  in Sy Seun, Jesus Christus!
    En let op, dis van die mensgeworde Seun wat hierdie dinge gesê word! As ons hoogste roeping dan is om God te ken, behoort ons met alles daaraan te werk dat die Here Jesus meer en meer van ons blikveld vul.

Hy hou alle dinge deur Sy magswoord in stand.

Die Seun was nie net God se agent tydens die skepping nie, Hy is ook die Een wat alles in stand hou (Kol 1:17).
    Die werkwoord dui op dinamiese handeling. Dit gaan dus nie net oor 'n passiewe en statiese verlening van steun nie, maar ook oor beweging, voortgang en doelgerigtheid. Die Seun handhaaf nie net die status quo nie, Hy is aktief, dinamies en progressief besig. Hy dra die heelal voort op sy koers  -  soos God dit verordineer het.
    Dit alles doen Hy deur Sy magswoord; Hy dra alles deur Sy spreke. En nooit is hierdie spreke heerliker en kragtiger as in die vorm van die Evangeliewoord nie. Want hierdie woord skep nie net uit niks nie, dit skep vanuit die dood! Is die evangelie nie 'n "krag van God tot redding vir elkeen wat glo" nie (Rm 1:16)? Waarlik, God het "in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo" (1Kor 1:21). En is ware prediking nie die verkondiging van Christus nie? Daarom skryf Jakobus: God het ons "deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring" (1:18); en Petrus: "Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God" (1Pt 1:23).
    Deur alle eeue word die ganse skepping, en in die besonder hierdie wêreld met al sy woelinge, voortgestu deur die wil en woord van sy Erfgenaam.

Hy het die reiniging van sondes bewerkstellig.

Die werkwoord is in 'n vorm wat beklemtoon dat die Seun sélf ons sondes gereinig het; Hy het geen minderwaardige plaasvervanger gebruik nie.
    Verbysterend is dit dat Iemand so onuitspreeklik verhewe en heerlik, Sy lewe neerlê sodat verwerplike sondaars gered kan word! Meer as in enigiets anders sien ons hierin God se essensiële karaktertrekke: Sy onkreukbare geregtigheid wat kompromieloos daarop aandring dat alle sonde gestraf word; Sy onbeskryflike liefde wat dit moontlik maak dat Sy haters die teendeel kry van wat hulle verdien, naamlik genade; Sy onpeilbare wysheid wat Sy geregtigheid en Sy liefde so volmaak met mekaar kon versoen. Want in Christus se Golgota-offer sien ons God se geregtigheid en Sy liefde in intieme omhelsing.

Hy het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.

Die Een wat in sulke dieptes van vernedering afgedaal het, wat Homself verneder het deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem, en tot in die dood gehoorsaam was, is deur God tot die hoogste eer verhef, en 'n Naam gegee wat bo elke naam is. Elkeen in die hemel en op aarde en onder die aarde sal die knie voor Hom buig. En elke tong sal erken dat Hy Jesus Christus, die Here is (Fl 2:6-11).

•     Dat Hy gaan "sit" het, dui op die afhandeling van Sy werk. As die Here Jesus aan die kruis uitroep, "Dit is volbring!" (Jh 19:30), proklameer Hy triomfantelik dat die regsbasis vir sondaars se redding onbeweeglik en vir ewig in posisie geplaas is. Hy gaan sit dus in triomfantelike waardigheid. Die stryd is afgehandel, die prys is volledig betaal.

    •     Dat Hy aan die "regterhand" van die Majesteit, die Vader, in die hoë hemel sit, dui op Sy uitvoerende gesag. Daarom, tot vandag toe, as 'n foto geneem word van 'n kabinet met sowel 'n seremoniële as ‘n uitvoerende hoof (soos byvoorbeeld ‘n Staatspresident en ‘n Eerste Minister), sal laasgenoemde altyd aan die regterkant sit. Hy is immers die een wat van dag tot dag regeer.
    Die Seun is tans dus die aktiewe regeerder. Deur die eeue ná Sy kruisoorwinning, werk Hy die implikasies daarvan uit. Hulle wat die Vader aan Hom toevertrou het, word kop vir kop vanuit die nasies gaan haal. En Sy vyande word een na die ander onderwerp  -  in hierdie genadetyd met herskeppingskrag. En as God se raadsplan sy volle loop geneem het, sal Christus weer die koningskap aan Sy Vader oordra. "So sal God alles wees vir alles" (1Kor 15:24, 28).

Slot

Kom ons sluit af met 'n aanhaling van John Owen, die prins van Puriteinse teoloë:

    "Met betrekking tot die manifestasie van Christus se heerlikheid, moet drie dinge in ag geneem word: die skaduwee, die volmaakte beeld, en die uiteindelike substansie. Diegene in die Ou Testament kon slegs die skaduwee van Christus se heerlikheid sien. Ons wat die evangelie het, het die volmaakte beeld. Maar die genieting van die substansie van Christus se rykdomme en heerlikheid, moet wag vir die hiernamaals  -  want dan sal ons by Hom wees en self die heerlikheid sien wat die Vader vir Hom gegee het, omdat Hy Hom al voor die skepping van die wêreld liefgehad het."
   
As die beeld so wonderlik is, hoedanig sal die substansie nie wees nie!

Naskrif

Ek vertrou dis nie voorbarig nie, maar graag dra ek hierdie Herout op aan die nagedagtenis van wyle Prof. Christi Coetzee  -  gewese professor in Nuwe Testament aan die Potchefstroomse Teologiese Skool. In sy skitterende klasse het ek amper drie dekades gelede vir die eerste maal kennis gemaak met die eksegese van Hb 1:1-3. Wat 'n dosent was hy nie! Ek is meer dank aan hom verskuldig as wat ek ooit onder woorde kan bring.
    Helaas het ek destyds nie die volle implikasies van die afgeslotenheid en genoegsaamheid van die Godsopenbaring in Christus begryp nie. Dit het my ‘n dekade in die teologiese en kerklike woestyn gekos. Maar tot vandag toe loof ek nog gereeld die Here dat my oë in die tweede helfte van 1990 vir hierdie waarheid oopgegaan het. Dit het  -  sonder om te oordryf  -  lewensveranderende gevolge gehad.
                                                                                                                         Nico van der Walt




                                     

No comments:

Post a Comment