Christelike gehoorsaamheid, en in die besonder goeie werke, is ons tema. Kom ons kyk daarna aan die hand van 'n fassinerende vers in Efesiërs.
"Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel." (Ef 2:10. Die OAV is meer letterlik vertaal)
Die konteks
In die voorafgaande verse, van die begin van die brief af, gee die Heilige Gees van die mees verbysterende openbaring in die ganse Bybel. Paulus skryf, soos dalk nêrens anders nie, oor God se alleen-inisiatief in 'n Christen se redding, en oor sy duiselingwekkende erfenis in Christus.
In 2:8-10 kom die Apostel tot 'n slotsom. Die punt wat hy wil tuisbring, is dat alles die genadegawe van God is. Dit volg dus noodwendig dat geen Christen enigiets het om in te roem nie. God alleen moet alle eer kry. Dis natuurlik die eenstemmige getuienis van die hele Nuwe Testament (vgl. bv. 2Tm 1:9). Wie dit loën, loën 'n wesenselement van die waarheid.
Dan antisipeer Paulus blykbaar 'n vraag in die gemoedere van sy lesers: "Goed, ons aanvaar dit. Maar sedert ons wedergebore, herskep is deur die Heilige Gees, is die bal sekerlik in ons baan. Nou is dit vir ons om gehoorsaam te lewe. Sou mens nie kon sê dat dit ons býdrae tot ons redding is nie?"
Vers 10 is dan sy antwoord. Volstrek nie, sê hy, selfs ons goeie werke is genadegawes van die Here! So draai hy dan enige verwarring oor hierdie saak eens en vir altyd nek-om. As die Drie-enige God 'n geestelik-dooie sondaar (2:1-3) red, is daar selfs van so 'n mespunt aandeel in sy eie redding en uiteindelike loon, nie die minste sprake nie!
Ef 2:10 nader bekyk
• Eerstens sê die apostel: "Sý maaksel is ons" (letterlik). Die begrip "maaksel" (Gr. poi-ema) herinner sterk aan die Engelse begrip "poem". (gedig). Waarskynlik dra dit iets van die betekenis van 'n kunswerk. Tweedens sê hy dat elke Christen deur God "geskape" is. Paulus gebruik hierdie twee woorde, sowel as sy beklemtoning in die Grieks, om 'n belangrike punt tuis te bring. Waarskynlik het hy die tipies Bybelse beeld van die pottebakker en die klei in gedagte. Net so min as wat 'n erdepot enige eer met sy maker kan deel, net so min het 'n Christen iets om oor te spog.
Verse 1-6 beskryf 'n sondaar se redding as opstanding uit die dood, as bevryding uit slawerny en as verlossing vanuit oordeel. Hier word dit beskryf as 'n skepping vanuit niks (vgl. ook 2Kor 4:6, waar wedergeboorte direk met Gn 1 verbind word).
• Voorts, dis 'n skepping "tot goeie werke". Die Griekse konstruksie is kategories: dis 'n skepping met die oog op goeie werke, met die doel dat goeie werke sal volg. Soos 'n wingerdstok geskape is om druiwe te dra, en 'n voël om te vlieg, so het God die Christen herskep om goeie werke te doen! Dis sy skeppingsdoel; dis 'n noodwendigheid.
Dis nie net bepaal dát die gelowige goeie werke sal doen nie, maar (verstommend!), die werke self is vooraf gereed gemaak. Dit is voorberei - die aard en besonderhede daarvan, die wanneer en hoe en wat daarvan.
• Dit is gedoen "sodat ons daarin kan wandel". God het 'n baie definitiewe doel met ons herskepping en die voorbereiding van die werke gehad: Sy kinders moes dit tydens hulle lewens op aarde kom doen - en Hom so verheerlik, medewerkers wees in die uitwerk van Sy raadsplan, en die egtheid van hulle redding manifesteer.
• Die algemene karakter van hierdie werke is vooraf vasgelê. Inderdaad het dit deur die eeue nooit verander nie. Maar, en dis belangrik, dit is ook verordineer presies hoe dit in elke individu se lewe tot uitdrukking sou kom. Dis nodig om hierdie saak te verindividualiseer - anders hou Paulus se argument nie water nie. Sou dit hier bloot gaan om die algemene bepaling van wat goeie werke is, berus daar nog 'n wêreld se keuses en inisiatiewe by die individu, en sou Paulus se lesers goeie grond hê om sy ontkenning van enige eer vir die Christen te bevraagteken.
• Om seker te maak sy lesers verval nie nou in die teenoorgestelde dwaasheid nie, naamlik passiwiteit en verantwoordelikheids-ontduiking, sê die Apostel dis nodig om in hierdie goeie werke te "wandel". Die woord beteken gewoon om te stap, te loop, en word in die Nuwe Testament gebruik om op 'n lewenswyse te dui (vgl. 4:17; 5:2, 8, 15). Dit het ten minste twee uiters belangrike praktiese implikasies:
Eerstens: In elke individu se uitleef van hierdie goeie werke, is daar dinamika, opeenvolging, voortgang. Dis mos presies soos ons dit beleef: een ding lei tot 'n ander - daar is 'n begin en dan 'n ontwikkelingsgang. En elke individu het sy eie pad. Hiermee werk ons later meer.
Tweedens: Ek is bewustelik en aktief by die uitleef van hierdie goeie werke betrokke. Die mens is meer, baie meer as 'n wingerstok of 'n voël. Hy is beelddraer van God - des te meer as herskepte in Christus. Die werke kom dus nie maar vanself, outomaties, meganies nie. Nee! My hele mens is daarby betrokke: wil, emosies, denke, vermoëns, ervaring, opleiding, gebrokenheid, kleivoete. Dis bewustelik, besluitnemend, inspannend, verantwoordelik, aanspreekbaar. God beledig nie die kroon van Sy skepping deur hom soos 'n masjien te behandel nie - Hy gee hom verantwoordelikheid!
'n Onfeilbare lakmoes-toets
In hierdie vers redeneer Paulus so: God se herskepping van 'n sondaar bring 'n maaksel voort; en hierdie maaksel bring goeie werke voort. Is dit afwesig, is daar eenvoudig geen redding nie.
Ware redding word altyd sigbaar in goeie werke!
Goeie werke red nie, maar daarsonder is daar geen redding nie.
Hier het ons 'n Nuwe Testamentiese aksioma. Presies dit is wat Jakobus in sy tweede hoofstuk sê: daar is baie soorte geloof, maar net een wat redding bring - die soort wat met goeie werke gepaard gaan.
Jh 3:36 is veelseggend. Dit word eers positief gestel: geloof in die Seun bring die ewige lewe. Dan verras die negatiewe teenstelling: nie "ongeloof" soos mens sou verwag nienie, maar "ongehoorsaamheid".
Oor en oor beklemtoon die Woord van God: nét diegene wie se lewens gekenmerk en beheers word deur gehoorsaamheid aan Christus, sal die Koninkryk beërf. En die omgekeerde staan net so vas: hulle wie se lewens gekenmerk word deur ongehoorsaamheid en sonde sal die ewige lewe nooit smaak nie. Vergelyk byvoorbeeld Mt 5:20; 25:31-46; Mk 10:23-31; Lk 6:46-49; 9:23-26; 13:23-28; 1Kor 6:9-10; Gl 5:19-21; Hb 12:14; 1Jh 2:29; 3:9-10; Op 21:7-8.
Dis die begronding vir een van die Reformatore se wekroepe:
Sola fides justificat, sed non fides sola est!
(Alleen geloof regverdig, maar nie geloof wat alleen is nie).
Hierdie waarheid volg vanuit die onverbreekbare geïntegreerdheid van God se verlossingswerk in Sy uitverkorenes se lewens (sien AH 1). Dis 'n proses wat konsekwent 'n sekere aantal elemente bevat, waaronder altyd, sonder uitsondering, ook heiligmaking en volharding in gehoorsaamheid en goeie werke.
Kom ons sê dit reguit: hier is 'n onfeilbare lakmoestoets vir ware redding, vir outentieke Christenskap. Laat ons elkeen homself maar weer en weer toets; eerlik, nugter, volwasse (2Kor 13:5).
Charles Hodge was reg: "Die enigste bewys van ewige uitverkiesing is 'n heilige en gehoorsame lewe."
Word die belangrikheid van goeie werke as 'n sine qua non vir redding nie dalk hierbo oordryf nie? Die teendeel is waar!
Niks in God se raadsplan onderstreep die gewigtige belangrikheid en prominente plek van gehoorsaamheid en goeie werke beter nie, as die feit dat ons eendag voor die regterstoel daarvolgens geoordeel gaan word.
Niemand minder nie as die Here self gaan ons werke gebruik as die maastaf vir redding al dan nie!
Let op die besondere Skrifbeklemtoning daarvan: Mt 16:27; 24: 45-51; 25: 14-30; 31-46; Jh 5:28-29; Rm 2:6-11; 2Kor 5:10; 1Pt 1:17; Op 19:7-8; 20:12-13; 22:12-15. Al die gelykenisse in Mt 24-25 (ook 'Die tien meisies') word beheers deur 24:42-44. Die boodskap van hierdie uiters belangrike rede van die Here Jesus Christus is dit: lewe gehoorsaam en getrou - in die lig van die ewigheid!
Hoe moet ons dit verstaan? Word die gelowige dan nie op grond van Christus se verdienste alleen geregverdig nie? Verseker! Dis die hart van die evangelie! Maar, soos regverdiging, is ook heiligmaking een van die onmisbare elemente in die geïntegreerde verlossingsproses. Omdat dit waar is, volg dit noodwendig dat regverdigmaking deur heiligmaking (en dus goeie werke) gevolg sal word. Laasgenoemde is dus die bewys dat eersgenoemde inderdaad plaasgevind het. En dis hierdie bewys - heiligmaking - wat voor die regterstoel gesoek sal word. Só onverbreekbaar is hierdie band, dat die Groot Regter eendag net een saak in ag sal neem wanneer Hy uitspraak moet gee oor iemand se ewige lot: Het hy of sy 'n lewe van heilige gehoorsaamheid en goeie werke gelei? Dit sal die onfeilbare bewys wees van saligmakende geloof, van innerlike herskepping, van eenheid met Christus - en, dus, van regverdigmaking.
Goeie werke is die watermerk van egtheid!
Die wêreldwyd-geagte skrywer van die negentiende eeu, J.C. Ryle, het dit só gestel:
"Evidence, evidence, evidence, will be the one thing wanted when the great white throne is set ... I can find no evidence that will be admitted in that day, except sanctification." (Holiness, p.23)
Baie mense het die idee dat net die ongelowiges geoordeel gaan word en dat ander standaarde vir gelowiges sal geld. Dis nie wat die Bybel leer nie! Kyk na Rm 2:11 en 1Pt 1:17 in soveel vertalings moontlik. Sonder aanneming van die persoon! Onpartydig! God trek niemand voor nie! 'No favouritism!' Almal op dieselfde manier! Geen witbroodjies nie! Nie dubbele standaarde nie!
Moet nooit vergeet dat verlossing in Christus nie net van die skuld van sonde red nie, maar ook van die krag daarvan. Een rede waarom 'n gelowige normaalweg nog 'n tydlank na sy bekering lewe, voordat hy hemel toe gaan, is om "die watermerk" kans te gee om te groei, om die trourok klaar geweef te kry (Op 19:7-8). Die Heilige Gees gebruik my pelgrimstog om my vir die regterstoel gereed te kry. En nooit sal ek meer dankbaar daarvoor wees as op daardie dag nie!
Dis waarom Petrus sê: "... wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap." (1Pt 1:17, OAV).
Twee noodlottige evangelies
Die vraag ontstaan nou: Sit hier nie 'n stuk onregverdigheid in nie? Dat God se uitverkorenes nie eendag voorgetrek sal word nie, maar aan presies dieselfde maatstaf gemeet sal word as alle mense, is een saak. Maar is dit regverdig dat die miljoene wat God se Woord en Wet nooit ontvang het nie - wat nie so begenadig is nie - daaraan gemeet sal word?
Onthou, nie almal ontvang genoeg openbaring om tot saligheid te lei nie, maar álmal ontvang wel genoeg om toerekeningsvatbaar te wees voor die regterstoel. (Die moeilike kwessie van babas, ens., daar gelaat).
God openbaar Homself immers as die Almagtige in die skepping (Rm 1:19-20; Hd 14:15). Daarbenewens openbaar Hy Homself as die Algoeie Versorger in Sy algemene genade oor almal (Hd 14:17; Mt 5:45; Lk 6:35). Les bes is die eise van God se morele wet in die harte van alle mense geskryf. Dit mag tragies verdof en verwring wees deur die sondeval, maar die werklikheid daarvan blyk duidelik uit die universele realiteit van die gewete. Dit is hierdie fakulteit in mense wat hulle die dinge van die wet laat doen en die innerlike tweestryd m.b.t. goed en kwaad in hulle veroorsaak (Rm 2:14-15).
Dit bring nou mee dat 'n vreeslike verantwoordelikheid op elke ouderling en prediker; trouens, op elke Christen rus. Onthou, die Opperherder van die kudde sal van elkeen van ons verantwoording eis (Hd 20:25-28; 1Kor 3:9-15; Hb 13:17; Jk 3:1; 1Pt 5:1-4). Aan die hart van ons taak lê die opdrag om "... die heilsplan van God in sy volle omvang ... te verkondig ..." (Hd 20:27). Waarom is dit so belangrik? Die wat genoeg openbaring ontvang het om toerekeningsvatbaar te wees, moet meer openbaring ontvang sodat hulle tot saligmakende geloof kan kom.
Slotsom
Redding is uit genade; op grond van Christus se middelaarswerk alleen; deur geloof; tot en daarom volgens werke.
Enige evangelie wat minder preek as dit, is minder as die volle en dus ware evangelie. Sowel die Vader (uit wie se genade redding vloei), as die Seun (wat die Middelaar is), en die Heilige Gees (wat gelowiges roep, heilig en toerus), se werk is noodsaaklik en moet as sodanig geëer word. Verwaarloos hierdie volle raad van God, en die kerk vermank en verword spoedig totaal.
Twee ander evangelies en die ware een
Twee dwalinge van ons dag, twee noodlottige "ander evangelies", kan nou maklik ontmasker word.
• "Easy-believism", oftewel goedkoop genade, teister die kerk wêreldwyd. Ons praat hier van 'n wetteloosheid, wat leer dat selfs geloof sonder werke kan red
• Die oorreaksie op bogenoemde is 'n radikalistiese "dífficult-believism", oftewel duur genade. Hier praat ons van 'n wettisisme, wat aandring op allerlei verpligtinge by Christus se volmaakte werk
Nie een hiervan is Bybels nie; nie naastenby nie. Nee, die ware evangelie is, kom ons noem dit maar "impossible-believism". Niemand kan vanself glo as hy nie wederbaar word nie; en selfs sy geloof is 'n gawe (Ef 2:8; Fl 1:29; 2Pt 1:1); trouens, selfs sy gehoorsaamheid wat daarop volg. God se Woord weet niks van goedkoop of duur genade nie; dit dra net een boodskap: gratis genade!
Máár, dis 'n genade wat, as dit op 'n lewe beslag lê, onmiskenbare, diep-ingrypende en lewenslange Godvererende gevolge het!
Wat kwalifiseer die goeie werke wat die regterstoel se toets sal slaag?
In enigeen wat hoegenaamd verantwoordelik is, wat hoegenaamd erns maak met sy Christenskap, sal nou 'n vraag brand: Wat is 'n goeie werk?
Die Reformatoriese vaders het goed begryp hoe lewensbelangrik die saak is - vandaar die feit dat al die groot belydenisskrifte behoorlike, eenstemmige en Bybels-korrekte aandag daaraan gee (1689 Baptistebelydenis 16; Westminster 16; NGB 24; HK 91).
Maar dis nie nodig om menslike geskrifte te raadpleeg om die antwoord te kry nie; die Woord van God, trouens ons vers, is duidelik daaroor.
Ef 2:10 sê ten minste twee dinge om ons te antwoord:
Een, Gód self het die werke voorberei. Dit was dus Sy inisiatief, en Hý het die aard daarvan bepaal. Omdat óns dit moet doen (as mense, nie as masjiene nie), moes Hy dit aan ons openbaar - wat Hy inderdaad in Sy Woord gedoen het.
Twee, dis nodig dat 'n mens herskep word, voordat hy so 'n werk kan doen. En wat onderskei 'n wedergeborene van iemand wat nog geestelik dood is?
• Eerstens het hy 'n nuwe hart (Jer 24:7; 31:33; Eseg 11:19-20; 36: 26-27; 2Kor 3:3; 4:6; Hb 8:9-13; 10:16). Uit hierdie hart, hierdie sentrum van sy hele persoonlikheid, bring hy nou vrug voort wat geen natuurlike mens, per definisie, hom kan namaak nie. En dis noodwendig góéie werke, want God se wette is op die tafels van die nuwe hart gegrafeer. Hierdie werke het dus 'n bepaalde bron. Dit kom uit 'n hart vol dankbaarheid vir die Here se reddingsgenade, 'n hart vol vertroue dat Hy dit sal aanvaar en beloon.
• Tweedens het hy 'n nuwe lewensdoel. Hy leef nie meer vir homself nie, maar God se eer is die hartstog van sy bestaan. Dit sal noodwendig die gerigtheid van sy werke bepaal.
Hierdie uiteensetting is presies wat Jesus in Jh 4:19-24 vir die Samaritaanse vrou sê. Die Vader soek aanbidders wat (met hulle hele lewe) Hom aanbid in gees (vanuit hulle harte) en in waarheid (volgens Sy Woord) .
En die genoemde belydenisskrifte is ook presies in pas hiermee.
Goeie werke, wat eendag sal dien as watermerk van egtheid, is dus iets baie unieks. En dis baie spesifiek gekwalifiseerd.
• Eerstens: Om God se toets te slaag, moet 'n goeie werk wees wát Hy beveel, en gedoen word sóós Hy beveel. Dit moet "in waarheid" geskied.
• Tweedens: Om God se toets te slaag, moet 'n goeie werk uit 'n herskepte hart kom. Dit moet dus "in gees" geskied - die mens se gees. Enersyds sal dit dus vanuit innerlike geloof en dankbaarheid ontspring. Andersyds sal dit gedring word deur 'n hartstog vir die Drie-enige God se eer - vir die koms van Sy koninkryk, die verbreiding van Sy evangelie, die welsyn van Sy kerk.
Dis nou onmiskenbaar duidelik dat ongelowiges baie goeie dinge kan doen, en ons moet hulle daarvoor respekteer - en die Here dank, want dit geskied in Sy algemene genade. Maar 'n goeie werk, soos ons nou daaroor praat, kan hy nooit doen nie - per definisie nie.
Veel belangriker vir ons egter, is die feit dat 'n Christen oor 'n lang tydperk baie aktief kan wees - in die naam van Christus - sonder om iets te doen wat in terme van Bybelse standaarde voor die regterstoel aanvaarbaar sal wees (vgl. bv. Mt 7:21-23). Hoeveel "vreemde vuur" het die kerk nie deur die eeue aan die Here gebied nie! Hoeveel offers wat Hy nooit beveel het nie, word nie vandag gebring nie! (Lev 10:1-6, OAV). Hoe gereeld word die ark nie op 'n nuwe wa gelaai nie (soos die Filistyne), in plaas daarvan dat die Leviete dit met draaghoute dra! (2Sam 6:1-23; 1Kron 13:1-14; 15:1-16).
Dis ontstellend moontlik dat skrywer en lesers hulle besig kan hou met dinge waarin "die gees" is, maar wat nie "in waarheid" geskied nie. Ywer en opregtheid is nie sonder meer genoeg nie; die vraag is of die Woord van God dit beveel. Of ons kan besig wees met dit wat Bybels is, sonder dat dit uit die hart kom. Dooie ortodoksie weeg niks voor die Here nie, inteendeel. Of, nog meer tragies, ons kan onsself afsloof met dit waarin ons harte nie is nie, én wat die Here net so min beveel het.
Dis nodig, baie nodig, om gereeld voorraad op te neem!
Uit bg. volg die sg. Regulatiewe Beginsel, wat die kerk al vir eeue as norm gebruik vir die reëling van veral sy gesamentlike aanbidding. Eenvoudig gestel, sê hierdie beginsel dat slegs dít in die diens van God (en by uitstek in die erediens) aanvaarbaar is wat God uitdruklik beveel het. Daarenteen is die benadering vandag algemeen dat enigiets aanvaarbaar is wat God nie eksplisiet verbied het nie. 'n Oomblik se nadenke moet enigeen oortuig dat dit 'n reuse verskil maak!
Hoe kan my onvolmaakte werke vir 'n volmaakte God aanvaarbaar wees?
Hoe kan ek ooit sê my werke sal vir God aanvaarbaar wees? Ja, dis Bybels; ja, dit kom uit my hart - maar dis so verskriklik onvolmaak!
Ef 2:10 bevat nog een uitdrukking: "... in Christus ...". Die Vader begenadig ons "... in die Geliefde ..." (Ef 1:6, OAV). Ek word dus nie God se kind indien my werke aanvaarbaar is nie; my werke is aanvaarbaar omdat ek Sy kind is! Hy het immers self die werke voorberei - wetende dat ons, selfs as herskeptes, van stof gemaak is.
Omdat gehoorsaamheid en goeie werke nie die basis van regverdigmaking is nie, maar in die konteks van (onvolmaakte) heiligmaking geskied, hoef dit nie volmaak te wees vir redding nie. Solank dit genoemde merktekens van egtheid dra, ongeag hoe onvolmaak ookal in ander opsigte, behaag dit ons hemelse Vader tóg.
Elke ouer kan dit verstaan. Hoe sag is jou hart nie vir jou eie nie! Hoe geniet 'n pa nie sy kleuter se lomp pogings om hom te help nie!
Hoe wandel mens in goeie werke?
Die vraag kan meer of minder ruim vertolk word: Wat is Christene in die algemeen se verantwoordelikheid om te verseker dat hulle lewe soos God wil? Wat is my persoonlike verantwoordelikheid om te verseker dat ek in die goeie werke wat vir my as individu voorberei is, sal wandel?
Veral laasgenoemde is 'n worstelvraag vir baie - die kwessie van persoonlike leiding ("guidance").
• Laat ons die vraag eers algemeen en in die breë benader. Ons kyk net na enkele riglyne (die mees basiese, vertrou ek). Daar is uiteraard talle maniere om dit te benader, maar ons hoef nie verder as ons onmiddellikee konteks, die brief aan die Efesiërs, te gaan nie.
Die Apostels het feitlik sonder uitsondering hulle briewe op 'n bepaalde manier geskryf. Agter dit sit 'n wesensbelangrike beginsel. Nadat hulle gegroet het, het hulle altyd begin met die Drie-enige God en Sy groot verlossingsdade in Christus. Hierdie gedeeltes stel dus die heilsfeite en is leerstellig ("doctrinal") van aard. Die teologie praat daarvan as die indikatiewe gedeeltes.
Daarmee klaar, het hulle dan voortgegaan met praktiese oproepe of bevele. Op grond van God se inisiatiefnemende en genadige ingrype in hulle lewens, rus daar immers 'n groot verantwoordelikheid op gelowiges om gehoorsaam en in heilige toewyding diensbaar aan die Here te leef. Hoe om dit te doen, word dan in die tweede helfte van die briewe beskryf. Hierdie is die imperatiewe gedeeltes.
Kyk byvoorbeeld na Romeine. Die eerste 11 hoofstukke is een stuk diepsinnige "doctrine", wat met 'n verhewe lofuiting afgesluit word. Onmiddellik gaan die apostel dan in hoofstuk 12 voort met praktiese oproepe - "... op grond van die groot ontferming van God ..."
Die opmerksame leser sal begryp hoe absoluut noodsaaklik hierdie orde is. Keer dit om, en onmiddellik berus redding op menslike meriete. Presies hier lê die verskil tussen die Christelike evangelie en al die vals godsdienste (insluitende "churchianity"), wat op menslike religieuse verdienste berus.
Die imperatiewe gedeelte van Efesiërs bied insiggewende riglyne, wat die ruimer vraag betref.
Paulus beoog kennelik om met die imperatiewe gedeelte in 3:1 te begin (sien veral die NIV), maar dwaal dan af in nog 'n stuk indikatiewe lering oor die heidene. Hy probeer wéér in 4:1-3, maar dwaal nogeens af - oor eenheid in die kerk. Uiteindelik begin die volwaardige imperatiewe gedeelte dan vanaf 4:17. Let op die woord "wandel/leef" (4:1; 17; 5:2; 8; 15), wat dui op iemand se lewenstyl.
Dat Nuwe Testamentiese imperatiewe bloot ontvouings van die Tien Gebooie is, is duidelik in 4:25-6:9. Let op hoe Paulus die gebooie een na die ander aansny: die vierde gebod (6:5-9); die vyfde (6:1-4); die sesde (4:26-27; 29-32); die sewende (5:3,5,22-33); die agste (4:28); die negende (4:25); en die tiende (5:3).
Die gedeelte 4:17-5:14 word gekonkludeer met 5:15-17, veral v.17b: "... verstaan wat die wil van die Here is." (Die NAV mis die punt).
V.18 gee dan die sleutel tot 'n lewe volgens die wil van die Here: die heerskappy en bekragtiging van die Heilige Gees. 5:18-6:9 word hierdeur beheers. Dit beskryf hoe 'n lewe vol van die Gees lyk.
V.18-21 is één sin wat begin met 2 bevelswerkwoorde in v.18 (een positief, een negatief), wat dan gevolg word deur 5 teenwoordige deelwoorde in v.19-21. Lg. verse beskryf m.a.w. 'n Geesvervulde lewe.
Dit is verder betekenisvol dat v.22 nie 'n werkwoord het nie, maar v.21 s'n veronderstel. Dit impliseer dat 5:22-6:9 illustreer hoe wedersydse onderdanigheid (v.21), wat die gevolg is van die volheid van die Heilige Gees, in die praktyk lyk - 'n lewe in belang van ander in die huis en werksplek.
Die antwoord op die ruimer vraag is dus voor die hand liggend:
Wie volgens die wil van die Here wil leef, moet in die volheid van die Gees gehoorsaam wees aan die morele wet van God - soos dit in die Tien Gebooie in ekstrakvorm beskryf is, en elders in die Skrif, veral in die Nuwe Testament, oopgevou en ontwikkel word.
• Nou die meer persoonlike vraag: Wat is my verantwoordelikheid om seker te maak ek wandel in die goeie werke wat God spesifiek vir mý voorberei het?
Psalm 1 skets twee paaie: die goddelose pad, oftewel lewenswyse, volgens die waardes van die God-vyandiggesinde wêreld, eendersyds; en die pad volgens die Wet van die Here, andersyds. Lg. pad is kennelik die pad wat die Here behaag, want Sy seën rus daarop (die antwoord op die ruimer vraag hierbo). Maar die NAV se v.6 gaan 'n stap verder en werp belangrike lig op ons tweede vraag: die regverdiges (m.a.w. diegene wat die pad van God se Wet bewandel) word dan gelei - sodat hulle húl pad kan vind.
Mens sien hierdie waarheid ook in Ps 25:9. En let in Jes 58:6-14 op hoe "as jy" gevolg word deur "dan sal".
Handelinge is vol gebeure wat hierdie beginsel demonstreer.
Kyk byvoorbeeld na die tweede sendingreis. In Hand 15:36 doen Paulus wat voor die hand liggend is in terme van die Here Jesus se opdragte: hy stel voor dat hulle weer die gemeentes gaan besoek wat tydens die eerste sendingreis gestig is. A.g.v. 'n onderonsie gaan hy toe uiteindelik sonder Barnabas (v.37-40). Volgens 16:6-10 gryp die Here egter in (let op, Hý inisieer en doen dit). Die sendelinge word op 'n pad gelei wat hulle allermins voorsien het. En die gang van die geskiedenis skarnier!
Die Apostels het hulle lewens volgens die Here se opdragte ingerig, en gedoen wat hulle moes en wat voor hande was. Hulle het in rustige Godsvertroue geweet, en dit ook so ervaar, dat Hy sou ingryp wanneer en soos Hy wil (selfs deur hulle eie mislukkings, dwaashede en sonde), ten einde hulle op die pad te lei wat Sy voorsienigheid vir hulle uitgemeet het.
Hierdie ingrypings, op watter wyse ook al, het hulle nooit strydig met Jesus se opdragte gelei nie. Dit het gegaan oor die persoonlike, detail-toepassing daarvan in hulle lewens - binne die grense van die Here se algemene wil.
Hier is dus die tweede vraag se antwoord:
God se leiding ('guidance') neem gestalte aan in my lewe soos ek lewenslank, biddend Sy Woord bestudeer; deur die implikasies daarvan dink; dit my eie maak; en met beslistheid en volharding my lewe daarvolgens inrig. Dit gaan om beginselvaste gehoorsaamheid; 'n lewe volgens waarheidsoortuigings.
Ek ontdek God se wil vir mý lewe deur gehoorsaamheid aan Sy wil vir álle gelowiges!
Moenie in die eerste instansie vra nie: 'Wat is God se wil vir mý lewe?' Vra: 'Wat is God se wil?' - en leef dan daarvolgens. Wie dit as lewenswyse doen, sal as 't ware binne-in die goeie werke wat God vir hom of haar spesifiek voorberei het - inloop!
Hierdie beginsel is nie al wat daar oor leiding te sê is nie. Maar dis basies en die belangrikheid daarvan kan nie oorbeklemtoon word nie. Wie dit uitleef, sal 'n duisend slaggate vermy. En dit sal hom neem op 'n waardige pad van beginselvastheid. 'n Innerlike vrede sal in hom vestig, hy sal koersvas volhard, en hy sal God verheerlik - deur te wandel in die goeie werke wat ook vir hom voorberei is!
Die beheptheid om 'God se stem te hoor' en 'Sy wil vir my lewe' buite die geopenbaarde Skrifwaarheid om te soek, neem vandag epidemiese afmetings aan. Dit gee aanleiding tot sieklike subjektivisme, patetiese naïwiteit, pastorale ellendes en God-onterende skandes sonder tal - en dit lei die kerk weg van die Woord en die historiese geloof. Dit doen onbeskryflike skade!
Slotwoord
Die Woord! Wy jou lewe daaraan om dit in die voetspore van Jesus uit te leef - biddend, nugter, toegewyd, opreg, volhardend - en kyk wat gebeur!
"Vertrou op die Here, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, en verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart. Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom; en Hý sal dit uitvoer; en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag. Swyg voor die Here en verwag Hom ..." (Ps 37:3-7, OAV).
Nico van der Walt
-o0o-
Skryfwerk van Nico van der Walt ter wille van Godgesentreerde, Christusgefokusde en Bybelgefundeerde waarheid, oortuiging en praktyk
Thursday, June 21, 2012
Tuesday, May 29, 2012
ANTIPAS HEROUT No.2 : 'N TEENSTRYDIGHEID IN DIE BYBEL?
Twee dodelike vyande
'n Teenstrydigheid?
"Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof, sonder die werke van die wet." (Rm 3:28)
".... ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus ...." (Gal 2:16)
"Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?" (Jk 2:24)
Is Paulus en Jakobus in stryd met mekaar? Is daar leertwis in die vroeë kerk? Weerspreek die Bybel homself?
Die antwoord is 'n besliste nee! Dit mag so lyk, maar as mens verstaan waaroor dit hier gaan, laat dit jou in verwondering oor die balanse en rykdomme van die Skrifopenbaring.
Nie vyande nie, maar bondgenote
Paulus en Jakobus verskil nie van mekaar nie, maar veg rug aan rug teen twee dodelike vyande wat die kerk van verskillende kante af aanval. Dis 'n aanslag wat steeds voortduur en is vandag so intens en meedoënloos soos ooit. Beide vyande is dwaalleringe met afwykende standpunte oor die vraagstuk van goeie werke en gehoorsaamheid in 'n Christen se lewe.
Die een wil werke by die verdienste van Christus voeg as grond van redding. Die ander argumenteer dat, aangesien Christus 'n volmaakte soenoffer gebring het, goeie werke, al dan nie, in beginsel nie ter sake is in 'n persoon se redding nie. Die Bybel stel dit egter onomwonde: beide leringe is verdoemende leuens!
Paulus beveg wettisisme. Jakobus het dit teen wetteloosheid (ook 'losbandigheid' of 'antinomianisme' genoem). Beide is dodelike dwalinge waarteen elke Christen moet waak.
Wettisisme
In die vroeë kerk is hierdie dwaling veral deur die Judaïste gedra. Hulle was Joodse 'Christene' wat gepreek het dat mense gered word deur geloof in Christus plus werke (die seremoniële wet, veral die besnydenis).
Meermale, veral in Galasiërs, bestry Paulus hulle met alles in sy vermoë. Nee, sê hy, redding kom deur geloof alléén! Christus se verdienste alléén is die grond vir regverdigmaking. Enige werke, van watter aard ook al, wat as addisionele verdienste noodsaaklik geag word vir redding, is niks minder nie as 'n mosie van wantroue in die algenoegsaamheid van Jesus Christus se versoeningswerk.
Wettisisme is 'n veel ernstiger dwaling as wat meeste dink. Luister wat skryf die apostel: "Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou. Julle wat van julle sonde vrygespreek (lett. 'geregverdig') wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur." (Gl 5:2-4. Vgl. ook Rm 4:4-5; 11:6)
Hierdie is skrikwekkende woorde! Let op, dit gaan om meer as die onnodigheid om iets by die volmaakte werk van Christus te voeg; die apostel leer hier, onder inspirasie van die Heilige Gees, dat ware wettisisme diskwalifiserend en verdoemend is.
Waarom is hierdie saak so belangrik in die oë van die Here? Die antwoord is eenvoudig: ons dien 'n jaloerse God. Hy en Hy alleen sal alle roem kry vir elke sondaar wat gered word. Jesus Christus is óf volkome alleen-redder, óf Hy red gladnie. Geen mens sal ooit 'n aandeel in sy eie saligheid hê nie; nie 'n greintjie nie. God deel Sy lof met niemand nie!
Presies hierdie saak het aan die hart van die sestiende eeuse Reformasie gelê. Rome leer geloof plus die sakramente (en 'n rits ander dinge) - en dis niks anders nie as geloof plus werke. Daarenteen het die reformatore die Woord van God skaamteloos gepreek: regverdiging is deur geloof alléén. Sola fides (geloof alleen) was dan ook een van hulle wekroepe.
Maar ten spyte daarvan loop wettisisme steeds breëbors orals in die kerk rond. Weliswaar neem die verdienste-trapmeul 'n duisend gestaltes aan, maar die fundamentele dwaling bly deurgaans dat dit menslike meriete wil voeg by Christus se volmaakte middelaarswerk. Gewoonlik lyk dit in vroeë stadiums van ontwikkeling baie regsinnig, omdat gewerk word met dinge wat uitdruklike Bybelse opdragte is. Maar die ywer kom nie uit harte vol dankbaarheid vir God se vrye verlossingsgenade nie. Na 'n subtiele begin, verwring wettisisme egter algaande - tot 'n mindere of meerdere mate. Soms ontaard dit selfs tot groteske en kultiese afmetings.
Hoe diagnoseer mens dit; watter simptome is tipies?
Eerstens is die wettisis se godsdiens op die uiterlike ingestel. Deurgaans, maar veral in die Nuwe Testament, het die Bybel 'n baie sterk klem daarop dat gehoorsaamheid slegs vir God aanvaarbaar is indien dit uit die hart kom (vgl. Mt 5:21 e.vv.). Omdat die wettisis egter nie 'n wedergebore hart het nie, weet hy nie wat dit beteken om God in gees en in waarheid' te dien nie (Jh 4:21-24). Hy kom dus nooit verder as uiterlike godsdienstigheid nie. Die vórm is waarom dit vir hom gaan, maar vir die innerlike krag van ware redding is hy 'n vreemdeling. Uiterlik kan hy indrukwekkend vroom voorkom - hy klim immers 'n leer hemel toe - maar innerlik is hy geestelik dood.
Tweedens vul die wettisis die morele wet van God aan. Sonder die verligtende werk van die Gees kan hy nie die innerlike karakter, omvang en diepgang van God se Wet verstaan nie. Omdat hy met die oog op die dag van afrekening besig is met die opgaar van godsdienstige verdienste, bevredig dit hom nie. Méér moet tog nodig wees as net 'n klompie 'onthoudings', is sy argument. En net hier begin hy sy eie uitdrukkings van gehoorsaamheid ontwikkel. Hy verval in 'n eiewillige godsdiens en hou hom besig met dit wat God nooit beveel het nie. Elke geslag en kultuur, elke individu en groep het eie dinge. Soms is dit negatief: 'Raak nie! Eet nie!' (Kol 2:21); soms positief: 'Doen dit! Doen dat!' Gou-gou verdring dit Christus as fokuspunt van ywer. En feitlik altyd word dit voorwaardes, sjibollette (Rigt 12:6), vir aanvaarding en toelating in 'n bepaalde kring.
Wetteloosheid
Hierdie dwaling is deur verskeie groepe in die vroeë kerk gedra. Hulle argument was heel eenvoudig en klink waterdig: as God in genade, op grond van Jesus Christus se volmaakte versoeningswerk, sondaars regverdig verklaar sónder enige verdienste aan hulle kant, is goeie werke, gehoorsaamheid en 'n heilige lewe op sigself mos irrelevant in die reddingsproses. Net geloof maak saak .
Onvermydelik lei so 'n beskouing spoedig tot etiese slordigheid in Christene se lewens (selfs tot wêreldgelykvormigheid en sonde tot 'n skokkende mate). Dis waarteen Jakobus dit het. Dis reg, sê hy, geloof alleen is nodig. Maar daar is geloof én geloof. Geloof sónder werke is dooie geloof. So 'n geloof is vals, dit kan niemand red nie. Selfs duiwels het dit. Saligmakende geloof, daarenteen, gaan altyd gepaard met goeie werke.
As wettisisme vandag duisende vel, vel wetteloosheid tienduisende. Verwaarlosing van die noodsaak van heilige gehoorsaamheid - en volharding daarin tot die einde toe - is nie maar 'n onskuldige mistasting nie; dit is dodelike dwaling! Sonder 'n heilige lewe, sê die Bybel, sal niemand God sien nie (Hb 12:14).
Soos wettisisme, manifesteer wetteloosheid op tipiese maniere.
Eerstens word dit gesien in die beskouing dat die Tien Gebooie irrelevant is vir ons dag, omdat Chistene 'onder genade is en nie onder die wet nie'. Dit lei dan tot sg. 'situasie-etiek', wat liefde as die enigste etiese beginsel sien. Solank jy dus in liefde optree, is enigiets wat jy doen reg. Of dit in lyn met die Tien Gebooie is, is nie régtig ter sake nie. Die probleem met hierdie beskouing is dat elkeen maar self moet besluit wat liefde is en hoe dit tot uitdrukking kom. God se Woord verlos ons egter uit hierdie moeras van subjektiwisme en willekeur deur te leer dat die liefde ook vir die Nuwe Testamentiese Christen in 'tien kanale' vloei (Mt 5:17 e. vv.; Mk 12:28 e. vv.; 1Jh 5:2-3).
Tweedens word dit gesien in 'n 'goedkoop evangelie' wat mense van redding verseker bloot op grond daarvan dat hulle 'Jesus aangeneem' het - of daar nou vrug volg of nie. Omdat jy jóú kant gebring het, sê hierdie 'ander evangelie', sal die Here jou red. Natuurlik is dit goed, word gesê, as jy daarna gehoorsaam en Geesvervuld lewe. Maar indien nie, is dit nie noodwendig diskwalifiserend nie - jy is net 'n stóút kind, 'n 'vleeslike Christen'. Hierdie lering se 'eenmaal gered, altyd gered', verskil wesentlik van die Bybelse leer van die volharding van die heiliges - wat júís beklemtoon dat elkeen wat waarlik gered is, heilig volhard tot die einde toe.
Die wortelprobleem van beide dwalinge
Waar lê die wortelprobleem van wettisisme en wetteloosheid presies? Daar is immers baie Skrifuitsprake wat beide strominge ter ondersteuning van hul standpunte aanhaal. Is daar nie tog maar 'n diep teenstrydigheid wat regdeur die Bybel loop nie?
Die probleem met hierdie mistastings is dat die verhouding tussen regverdigmaking en heiligmaking nie verstaan word nie. Wettisisme verwar dit, terwyl dit noodsaaklik is om te onthou dat dit twee verskillende sake is. Wetteloosheid skei dit, terwyl dit onlosmaaklik verbonde is.
Dis noodsaaklik dat die Christen die begrippe 'regverdigmaking' en 'heiligmaking' goed verstaan en weet wat die verband tussen hulle is.
Regverdigmaking
Regverdigmaking is 'n juridiese handeling van God (en van Hom alleen) met die doel om sondaars in terme van Sy volmaakte geregtigheid te laat kwalifiseer vir die ewige saligheid. Dit geld slegs vir diegene wat in Jesus Christus glo - wat Hom m.a.w. vanuit hulle eie geestelike bankrotskap in algehele afhanklikheid as enigste en persoonlike Saligmaker omhels en vashou. Dit berus net op wat Christus gedoen het en die betrokke persoon se godsdienstige meriete, al dan nie, speel geen rol nie (geloof is net die hande waarmee God se gawe vasgegryp word).
Aan die hart van regverdigmaking (daarom aan die hart van die evangelie en van verlossing in Christus) lê twee beginsels, oftewel begrippe.
Die eerste is 'plaasvervanging'. Jesus Christus het as ware mens gekom om as Hoof van God se nuwe skepping, in die besonder die nuwe mensheid, voor God te staan. As sulks verteenwoordig Hy dan plaasvervangend, as die 'laaste Adam', die 'tweede mens' (1Kor 15:45-47), diegene wat deur geloof met Hom verenig is. Redding is dus om oorgebring te word vanuit die gevalle skepping in Adam, tot die nuwe skepping in Christus (Rm 5:12-21).
Die Puritein, Thomas Goodwin (1600-1680), het dit kostelik gestel: "There are but two men standing before God, Adam and Christ, and these two men have all other men hanging on their girdles."
'Toerekening' is die tweede begrip. So fundamenteel is dit dat Romeine 4 dit 11 keer gebruik. Dis 'n boekhou-begrip en dui op 'n inskrywing in 'n rekeningboek; dus om te debiteer of te krediteer. Dit het te doen met die twee mees basiese probleme van die sondaarmens. Enersyds het sy sonde hom in skuld by God gedompel. Diegene wat glo se skuld word egter aan Christus toegereken (Hy word dus daarmee gedebiteer). Die som-totaal van hierdie skuld betaal Hy natuurlik in Sy vernedering, maar veral op Golgota. Andersyds moet die mens aan God se volmaakte geregtigheid voldoen, dus aan die eise van die Wet, om die ewige lewe te beërf. Hiervoor maak Christus se middelaarswerk ook voorsiening. As mens op aarde het Hy in volmaakte gehoorsaamheid aan Sy hemelse Vader geleef. En hierdie gehoorsaamheid, oftewel geregtigheid, word dan aan gelowiges toegereken (gekrediteer) - sodat hulle in 'God se boeke' skatryk is aan geregtigheid en as sulks kwalifiseer om van die boom van die lewe te eet (Gn 2:9; 3:22, 24; Op 2:7; 22:2, 14).
Regverdigmaking is dus 'n dubbelkuur! Dis 'n dubbele inskrywing in God se boeke wanneer iemand glo! Christus word gedebiteer met die sondaar se skuld; en die sondaar word gekrediteer met Sy betaling. Dis vryspraak. Maar daar is meer! En dit is eintlik waar die klem van regverdigmaking lê. Ter wille van die nodige 'geregtigheidskapitaal' wat nodig is om vir ewig in God se heilige teenwoordigheid te leef, word so 'n sondaar nog verder gekrediteer vanuit die onuitputlike skat van sy Verlosser se volmaakte gehoorsaamheid aan Sy hemelse Vader. Gister onder God se toorn; vandag die status van volkome wetsgehoorsaamheid in God se boeke!
Leser in Christus, vergeet dit nooit: jou redding lê in die eerste instansie buite jouself - in God se boeke!
Heiligmaking
Heiligmaking is 'n genadewerk van God in elkeen wat Hy regverdig verklaar het. Dit het ten doel om die beeld van Jesus Christus in hom of haar te vorm. Dit is 'n progressiewe proses en gaan lewenslank voort.
Anders as in regverdigmaking, speel die gelowige 'n volledig-aktiewe rol in sy eie heiligmaking - bewustelik, inspannend en lewenslank-volhardend. 'n Vers wat hierdie dubbele betrokkenheid, dié van God en dié van die mens, pragtig na vore bring, is Fl 2:12-13: " .... werk julle eie heil uit met vrees en bewing, want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae." (OAV).
Onderskei - sonder om te skei
As die verhouding tussen regverdigmaking en heiligmaking nie reg verstaan word nie, lei dit tot allerlei teologiese en praktiese ellendes.
Waarin verskil die twee begrippe? Waarom móét dit onderskei word? Wat verstaan wettisisme nie?
• Regverdigmaking het te doen met objektiewe toerekening (my skuld aan Christus, Sy geregtigheid aan my). Heiligmaking het te doen met subjektiewe toebedeling (die vorming van Christus se beeld in my).
• Die geregtigheid wat ek deur regverdigmaking verkry, is nie my eie nie, maar Christus s'n (en daarom is dit volmaak). Die geregtigheid wat ek deur heiligmaking verkry, hoewel deur die Heilige Gees gewerk, is inderdaad my eie (en daarom onvolmaak).
• In regverdigmaking is daar geen plek vir my eie werke nie. In heiligmaking is my eie werke sentraal en onmisbaar - en daarom beveel die Woord ons om te hardloop, te veg, te waak, te arbei, te vlug, te volhard ens.
• Regverdigmaking is 'n afgehandelde en volmaakte werk (tot in ewigheid sal ek nie méér regverdig wees as met die eerste oomblik van geloof nie). Heiligmaking is altyd relatief en onvolmaak. Dis weliswaar progressief-toenemend, maar kom eers met heerlikmaking tot vervolmaking.
• Regverdigmaking het te doen met my objektiewe juridiese status voor God; heiligmaking met my subjektiewe morele toestand.
• Regverdigmaking gee my die reg tot die ewige heerlikheid; heiligmaking maak my daarvoor gereed en is, as sulks, die watermerk van ware redding.
Wat het regverdigmaking en heiligmaking gemeen? Waarom mag dit nie geskei word nie? Wat verstaan wetteloosheid nie?
• Beide vloei uit God se genade in Christus (1Kor 1:30).
• Beide is onmisbaar deel van God se geïntegreerde verlossingswerk in my lewe.
• Beide sal dus altyd saam teenwoordig wees in elkeen wat werklik gered is. 'If you have it at all, you have it all'.
Slotsom
Die ware Christen loop op die snykant van 'n mes, met wettisisme en wetteloosheid as afgronde weerskante!
Dis teen hierdie twee afgronde wat die apostels met soveel dringendheid waarsku: Paulus teen wettisisme, wat leer dat redding deur geloof plus werke kom; Jakobus teen wetteloosheid, wat leer dat redding selfs deur 'n geloof sonder werke kom.
Laat ons dit ten slotte positief stel. Paulus antwoord die vraag, "hoe kry ek redding?". Jakobus antwoord die vraag, "hoe kom redding tot uitdrukking in iemand se lewe, hoe word dit herken?".
Nico van der Walt
-o0o-
Friday, August 5, 2011
ANTIPAS HEROUT No.30 : GOD SE FINALE SPREKE - 'n Bespreking van Hb 1:1-3
DIE SKRYWER SE DOEL MET HIERDIE BRIEF IS PASTORAAL VAN AARD. Sy lesers is Joodse Christene wat besig is om moeg te word in die geloofswedloop en oorweeg om weg te draai van Christus af, terug na die Ou Testamentiese seremoniële godsdiens.
Wat hy met sy skrywe aan hulle wil toon, is dat so 'n ommekeer nie net onsinnig is nie, maar inderdaad fataal. Die Ou Testament is vervul in Christus - wat beteken dat hulle wil terugdraai na iets wat eintlik nie meer bestaan nie. Wat meer is, aangesien al die Ou Testamentiese seremonies vooruit gewys het na die komende Messias, sal so ‘n besluit neerkom op ‘n skreiende belediging vir Christus. Dit sal ‘n versaking wees van die Middelaar van die genadeverbond - en sonder Hom is daar geen verlossing nie. Hierdie waarskuwing word oor en oor in die res van die brief herhaal - en in taal wat mens laat sidder.
In hierdie eerste verse val die skrywer met die deur in die huis. Wat ons moet verstaan, sê hy, is dat die koms en optrede van Jesus Christus nie maar net nog ‘n stap in die ontwikkeling van God se raadsplan is nie - met die gevolg dat mens bloot een tree agter raak as jy terugkeer na die Ou Testamentiese bedeling. Nee, jy verpas geheel en al alles waaroor dit gaan!
God se verlossingsplan en Sy openbaring aan die mens het in Sy Seun tot afrondende klimaks gekom. Daarom troon die Nuwe Verbond ver bo die Ou Verbond uit. Mens kan mos nie terugdraai na die voetheuwels toe, as die pieke vir jou wink nie!
In die verse onder ons vergrootglas vergelyk die skrywer die Ou en Nuwe Testamente. En in die allerduidelikste taal beklemtoon hy dan dat God se openbaring met die koms en optrede van Jesus Christus tot finale en kulminerende klimaks gekom het. Hy het opgehou om een na die ander profeet te stuur om oor Hom te praat. Nee, nou het Hy self gekom en alles wat nodig is om oor Hom en Sy plan te weet, persoonlik aan ons gewys. Dis soos die skerp spits van ‘n piramiede. Al die lyne van die Ou Testament loop na hierdie punt toe. En ‘n hoër openbaring as wat in die Seun gekom het, is net nie moontlik nie.
Nie alleen lê die Hebreërskrywer só die fondament vir die hele boek nie; wat hy sê, het enorme teologiese en praktiese implikasies.
'n Bietjie sinsontleding
Die eerste sin in die Grieks (Hb 1:1-2a) is swaar gelaai met betekenis van groot belang.
Dit bestaan uit twee dele: 'n voorafgaande bysin, gevolg deur 'n hoofsin. Deur hierdie twee gedeeltes op dieselfde manier te bou, belig die skrywer die kontras tussen die twee testamente.
• Die bysin: God het gespreek. Hoe? Baiekeer en op baie maniere. Dit was dus fragmentaries. Wanneer? In die verlede (in die tyd van die Ou Verbond). Tot wie? Tot die voorvaders. Deur wie? Deur die profete.
Die hoofsin: God het gespreek. Hoe? Eenmalig. Wanneer? In hierdie laaste dae. Tot wie? Tot ons. Deur wie? Deur die Seun.
'n Aantal fundamentele waarhede
God het tot ons gespreek.
Laat ons nooit die wonder daarvan vergeet nie dat die allerhoogste en enige God van hemel en aarde nie die veraf en onbekende God gebly het nie, maar dat Hy na ons toe afgebuig en Homself aan ons geopenbaar het.
Ou en Nuwe Testament is God se spreke.
Daardie deel van Sy openbaring wat God aan ál Sy kinders deur die eeue wou bekendmaak, het Hy deur die inspirasie van die Heilige Gees in die geskrifte van beide Testamente laat vaslê.
* Daar is 'n kontinuïteit of deurlopendheid tussen Ou en Nuwe Testament. Aangesien beide Testamente God se spreke is, kan ons verwag dat hulle mekaar nie sal weerspreek nie, maar dat die Nuwe op die verlenging van die Oue sal lê.
* Daar is 'n diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Testament. Die skrywer impliseer onmiskenbaar 'n onderskeid tussen die twee Testamente: die Nuwe styg ver bo die Oue uit - soveel as wat die Seun heerliker is as die profete.
Só stel die Hebreërskrywer dit in sy agste hoofstuk (7-13): "As daar aan die eerste verbond niks kortgekom het nie, sou 'n tweede nie nodig gewees het nie." Uiteindelik sluit hy af: "Deur van 'n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn."
* God se openbaring het 'n progressiewe of kumulatiewe karakter. Die teenstelling tussen die Testamente is dus nie 'n kontras tussen dit wat gedeeltelik vals is, enersyds, en dit wat volledig waar is, andersyds, nie. Dit gaan om beloftes wat vervul word, om die voorlopige wat gefinaliseer word, om die onvoltooide wat tot vervolmaking kom, om skaduwees wat tot substansie oorgaan. Die Nuwe Testament is in die Oue verborge; die Oue word in die Nuwe belig.
Herhaaldelik kom die woord “beter” in Hebreërs voor. Christus is beter as die engele (1:4), Hy bied 'n beter hoop (7:19) en waarborg 'n beter verbond (7:22). Dit alles is gegrond op beter beloftes (8:6) en 'n beter offer (9:23). Die verskil tussen Ou en Nuwe verbond is die verskil tussen dit wat goed is en dit wat beter is.
Die Nuwe Testamentiese openbaring het deur (lett. in) die Seun gekom, en as sodanig is Hy God se hoogste openbaring aan die mens.
Só stel Johannes dit in sy evangelie: "Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het Sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. ...Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak." (1:14, 18).
Waarlik, Jesus Christus is die hoogtepunt, die piek, die afronding, die kulminering, die vervolmaking van God se openbaring aan ons. Wie wil, wie durf, wie kan iets by Hom voeg!
* Dit moet altyd onthou word dat God Homself primêr in Sy Seun aan ons geopenbaar het - in Sy persoon, lering en werk. Waar kom die Bybel dan in die prentjie? Daarin vind ons die neerslag van God se openbaring in Sy Seun.
Reg van die begin af antisipeer die Ou Testament die koms van die Seun. In talle gevalle kan dit eers in die lig van die Nuwe Testament raakgesien word. Maar as jy eers gelowig só na die Ou Testament kyk, sien jy Hom orals.
Tog is dit die Nuwe Testament wat by uitnemendheid Christusgefokus is. Dit was die apostels se taak om hierdie openbaring in Christus vir ons neer te skryf. In die Evangelies beskryf hulle dit; in die res van die Nuwe Testament vertolk en ontvou hulle dit.
* As gesê word dat God met ons gepraat het "deur die Seun", is dit die vertaling van die Grieks wat bloot sê "in Seun" (sonder die lidwoord). Dit dra die idee: in so 'n persoon soos die Seun. Dit gaan dus vir die skrywer oor meer as net wat die Seun gesê het, dit gaan ook oor wat Hy was, sowel as oor wat Hy gedoen het.
Die Nuwe Testamentiese openbaring is God se finale openbaring aan die mens in hierdie lewe.
Hy hét in Christus gespreek (afgehandelde verlede tyd). En Hy spreek stééds in die "laaste dae". Laasgenoemde uitdrukking dui op die hele bedeling tussen die eerste en die wederkoms van Jesus Christus.
* Die woord vertaal met "in" (hierdie laaste dae) dui op 'n tydperk waarbinne iets gebeur. Dus: God hét gespreek; dit bly Sy spreke; dwarsdeur hierdie bedeling spreek Hy op net een manier - deur Sy Seun.
* Nog 'n woord wat die Hebreërskrywer dikwels gebruik, is "ewig". In Christus het ons nou reeds die ewige saligheid (5:9), 'n ewige verlossing (9:12), 'n ewige erfenis (9:15). Daar kom dus nie 'n beter bedeling in die toekoms nie. Wat ons nou in Christus het, is God se finale gawe - in terme van 'n ewige verbond (13:20). Dus, as die Nuwe Verbond die Oue by verre oortref, is daar eweseer niks wat ooit bo die Nuwe sal uitstyg nie. Dis die finale en ewige reëling van die verhouding tussen God en Sy uitverkorenes.
God se openbaring in Sy Seun is genoegsaam.
As die Here dit onnodig ag om meer aan ons te openbaar, het ons sekerlik nie meer nodig nie. Ons het dus alle openbaring wat vir hierdie bedeling nodig is - om godvrugtig volgens Sy wil en tot Sy eer te lewe, om alles te doen wat Hy van ons verg om uiteindelik salig te sterf.
Nie afgeskeep nie, maar uitnemend begenadig
As ons eers regtig begin verstaan wie die Een is deur wie God Sy laaste woord tot die mensheid gespreek het - en steeds spreek - sal ons besef waarom ons in geen opsig afgeskeep hoef te voel omdat daar nie verdere openbaring van God se troon na ons toe kom nie. Hierdie finale en glasheldere woord van God - gespreek toe Sy eie Seun, Jesus Christus, mens geword het en onder ons kom woon het - is reeds 2000 jaar oud. Tog is dit tot vandag toe meer as genoegsaam. Diegene wat hierdie spreke verstaan, word lewenslank daardeur gefassineer, leer gou dat ‘n leeftyd van studie nie genoeg is om dit te deurgrond nie, en is totaal vergenoegd daarmee. Behalwe vir vleeslike nuuskierigheid, kan hulle aan geen openbaring dink wat hulle nog verder van God sou wou ontvang nie, behalwe om die Seun net nóg beter te leer ken. Want hulle weet, Hý is die helderste venster - eintlik die enigste - deur wie hulle die lewende God kan sien. En aangesien dit die summum bonum van hierdie lewe is om die lewende God te ken (Jh 17:3), lê God se spreke in Christus in die middelpunt van hulle lewens en hartstogte.
Min het hierdie waarheid beter verstaan as die Hebreërskrywer. En hy weet dat sy lesers, tot die mate wat hulle dit ook begryp, alle geneigdheid sal verloor om terug te draai na Ou Testamentiese seremonies. Dis waarom hy onmiddellik voortgaan om die duiselingwekkende heerlikheid van Jesus Christus te besing. Die res van hierdie brief is tewens ‘n voortsetting daarvan, maar hier in 1:2-3 word dit in ekstrakvorm vir ons gegee. En omdat die Heilige Gees uiteraard ook weet hoe dit werk, het Hy in Sy goedheid verseker dat dit in die tydlose Bybel vir ons opgeteken en vasgelê word.
Die heerlikheid van die Seun (Hb 1:2-3)
In die lig van wie en wat Jesus Christus is, vervaag een na die ander Ou Testamentiese lig tot 'n dowwe skaduwee. Die openbaring wat deur Iemand só verhewe kom, kan mos nie anders as om onbetwisbaar gesaghebbend, algeheel betroubaar, en onberekenbaar waardevol te wees nie. Vergelyk Hom met die profete ‒ en dis so duidelik soos daglig dat die rykdomme van die Nuwe Testamentiese openbaring soos 'n hoë bergpiek bokant die Ou Testament uittroon. Meer nog, die gevolgtrekking is onontkombaar: op geen wyse kon God ons méér begunstig, as om so ‘n verhewe woord in so ‘n verhewe Persoon tot ons te spreek nie.
Luister dus aandagtig, sê die skrywer vir sy lesers - en ook vir ons - en gee puntenerig gehoor!
Wie is dan die Een deur wie God nou spreek?
God het Hom die erfgenaam van alles gemaak.
Hy ontvang hierdie erfenis in Sy hoedanigheid as die Middelaar en Hoof van die nuwe skepping - as die mens Christus Jesus (1Tm 2:5). Dit is reeds aan Hom toegesê in die ewige raad van God en in die verlossingsverbond tussen die drie persone van die Goddelike Drie-eenheid. As die “laaste Adam” (1Kor 15:45) is Hy nie net wetlike eienaar van alles nie (Kol 1:16), Hy het ook regeringsvolmag daaroor (Mt 28:18).
Die Messiaanse Psalm 2:8 is betekenisvol: “Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting." Sy erfenis uit die Vader se hand is dus in die eerste instansie 'n volk - ‘n bruid - vanuit alle volke, nasies en tale (Hb 2:8-13; Op 11:15).
Deur Hom het God die wêreld gemaak.
Die Seun was God se agent deur wie die heelal geskep is. “Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie” (Jh 1:3). En: “God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep” (Kol 1:16).
Die spesifieke woord wat hier in Hb 1:2 met “wêreld” vertaal word (Gr. aion), is in die meervoud en dra ook die idee van tyd. Dit moet dus bes moontlik eerder met eeue of bedelinge vertaal word (vgl. Ampl). Christus is inderdaad die Here van die geskiedenis, die Een deur wie God Sy raadsplan uitwerk. Hy is “die Koning van die eeue” (1Tm 1:17, OAV).
Uit Hom straal die heerlikheid van God.
Soos die son se ligstrale, is die mensgeworde Seun die uitstraling van God (2Kor 4:6). Die geheimenisvolle en wonderlike eenheid en samewerking tussen die Vader en Jesus Christus kan beswaarlik beter beskryf word. Net soos daar geen strale sonder die son sou wees nie, net so is die Seun ondenkbaar sonder Sy Vader. En net soos die son geen waarde vir ons sou hê as dit nie vir sy lewegewende strale was nie, net so sou ons bloedweinig van God die Vader kon weet, en sou Sy liefde niks vir ons beteken het, as dit nie vir die Seun was nie.
Tog is die son en die strale nie dieselfde nie - net soos die Vader en die Seun onderskei moet word as twee verskillende Persone (Jh 5:17; 8:42).
Christus is dus die sigbare, heerlike verskyning van God in Sy majesteit. Sonder die son se uitstraling sou ons nie daarvan geweet het nie; sonder Christus was ons in die duisternis oor wie en wat God is. In die Seun openbaar God Homself.
Hy is die ewebeeld van die wese van God.
Die woord wat met "ewebeeld" vertaal word, dui op die afgedrukte merk van 'n stempel of ring in seëllak. Al sien mens self nie die stempel nie, is die afdruksel 'n baie getroue weergawe daarvan. In Jesus Christus kan ons dus die essensiële elemente van God se wese sien - van wie en wat Hy werklik is.
Volgens 1Tm 6:16 woon God in 'n ontoeganklike lig. Geen mens kan Hom sien en bly lewe nie. Maar volgens Kol 1:15 is die Seun die beeld van die onsigbare God. Ons kan nie na God toe opklim om Hom te bestudeer nie; ons is totaal afhanklik van Sy selfopenbaring aan ons. En dit hét Hy gegee ‒ in Sy Seun, Jesus Christus!
En let op, dis van die mensgeworde Seun wat hierdie dinge gesê word! As ons hoogste roeping dan is om God te ken, behoort ons met alles daaraan te werk dat die Here Jesus meer en meer van ons blikveld vul.
Hy hou alle dinge deur Sy magswoord in stand.
Die Seun was nie net God se agent tydens die skepping nie, Hy is ook die Een wat alles in stand hou (Kol 1:17).
Die werkwoord dui op dinamiese handeling. Dit gaan dus nie net oor 'n passiewe en statiese verlening van steun nie, maar ook oor beweging, voortgang en doelgerigtheid [1]. Die Seun handhaaf nie net die status quo nie, Hy is aktief, dinamies en progressief besig. Hy dra die heelal voort op sy koers ‒ soos God dit verordineer het.
Dit alles doen Hy deur Sy magswoord; Hy dra alles deur Sy spreke. En nooit is hierdie spreke heerliker en kragtiger as in die vorm van die Evangeliewoord nie. Want hierdie woord skep nie net uit niks nie, dit skep vanuit die dood! Is die evangelie nie 'n "krag van God tot redding vir elkeen wat glo" nie (Rm 1:16)? Waarlik, God het "in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo" (1Kor 1:21) En is ware prediking nie die verkondiging van Christus nie? Daarom skryf Jakobus: God het ons "deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring" (1:18); en Petrus: "Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God" (1Pt 1:23).
Deur alle eeue word die ganse skepping, en in die besonder hierdie wêreld met al sy woelinge, voortgestu deur die wil en woord van sy Erfgenaam.
Hy het die reiniging van sondes bewerkstellig.
Die werkwoord is in ‘n vorm wat beklemtoon dat die Seun sélf ons sondes gereinig het [2]; Hy het geen minderwaardige plaasvervanger gebruik nie.
Verbysterend is dit dat Iemand so onuitspreeklik verhewe en heerlik, Sy lewe neerlê sodat verwerplike sondaars gered kan word! Meer as in enigiets anders sien ons hierin God se essensiële karaktertrekke: Sy onkreukbare geregtigheid wat kompromieloos daarop aandring dat alle sonde gestraf word; Sy onbeskryflike liefde wat dit moontlik maak dat Sy haters die teendeel kry van wat hulle verdien, naamlik genade; Sy onpeilbare wysheid wat Sy geregtigheid en Sy liefde so volmaak met mekaar kon versoen. Want in Christus se Golgota-offer sien ons God se geregtigheid en Sy liefde in intieme omhelsing.
Hy het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.
Die Een wat in sulke dieptes van vernedering afgedaal het, wat Homself verneder het deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem, en tot in die dood gehoorsaam was, is deur God tot die hoogste eer verhef, en ‘n Naam gegee wat bo elke naam is. Elkeen in die hemel en op aarde en onder die aarde sal die knie voor Hom buig. En elke tong sal erken dat Hy Jesus Christus, die Here is (Fl 2:6-11).
* Dat Hy gaan "sit" het, dui op die afhandeling van Sy werk. As die Here Jesus aan die kruis uitroep, "Dit is volbring!" (Jh 19:30), proklameer Hy triomfantelik dat die regsbasis vir sondaars se redding onbeweeglik en vir ewig in posisie geplaas is. Hy gaan sit dus in triomfantelike waardigheid. Die stryd is afgehandel, die prys is volledig betaal.
* Dat Hy aan die "regterhand" van die Majesteit, die Vader, in die hoë hemel sit, dui op Sy uitvoerende gesag. Daarom, tot vandag toe, as ‘n foto geneem word van ‘n kabinet met sowel ‘n seremoniële as ‘n uitvoerende hoof (soos byvoorbeeld ‘n Staatspresident en ‘n Eerste Minister), sal laasgenoemde altyd aan die regterkant sit. Hy is immers die een wat van dag tot dag regeer.
Die Seun is tans dus die aktiewe regeerder. Deur die eeue ná Sy kruisoorwinning, werk Hy die implikasies daarvan uit. Hulle wat die Vader aan Hom toevertrou het, word kop vir kop vanuit die nasies gaan haal. En Sy vyande word een na die ander onderwerp - in hierdie genadetyd met herskeppingskrag. En as God se raadsplan sy volle loop geneem het, sal Christus weer die koningskap aan Sy Vader oordra. “So sal God alles wees vir alles” (1Kor 15:24, 28).
Slot
Kom ons sluit af met ‘n aanhaling van John Owen, die prins van Puriteinse teoloë: “Met betrekking tot die manifestasie van Christus se heerlikheid, moet drie dinge in ag geneem word: die skaduwee, die volmaakte beeld, en die uiteindelike substansie. Diegene in die Ou Testament kon slegs die skaduwee van Christus se heerlikheid sien. Ons wat die evangelie het, het die volmaakte beeld. Maar die genieting van die substansie van Christus se rykdomme en heerlikheid, moet wag vir die hiernamaals - want dan sal ons by Hom wees en self die heerlikheid sien wat die Vader vir Hom gegee het, omdat Hy Hom al voor die skepping van die wêreld liefgehad het." [3]
As die beeld so wonderlik is, hoedanig sal die substansie nie wees nie!
Naskrif
Ek vertrou dis nie voorbarig nie, maar graag dra ek hierdie Herout op aan die nagedagtenis van wyle Prof. Christi Coetzee - gewese professor in Nuwe Testament aan die Potchefstroomse Teologiese Skool. In sy skitterende klasse het ek meer as twintig jaar gelede vir die eerste maal kennis gemaak met die eksegese van Hb 1:1-3. Wat ‘n dosent was hy nie! Ek is meer dank aan hom verskuldig as wat ek ooit onder woorde kan bring.
Helaas het ek destyds nie die volle implikasies van die afgeslotenheid en genoegsaamheid van die Godsopenbaring in Christus begryp nie. Dit het my ‘n dekade in die teologiese en kerklike woestyn gekos. Maar tot vandag toe loof ek nog gereeld die Here dat my oë in die tweede helfte van 1990 vir hierdie waarheid oopgegaan het. Dit het - sonder om te oordryf - lewensveranderende gevolge gehad.
[1] Fritz Rienecker & Cleon Rogers, Linguistic Key to the New Testament, Zondervan, 1976, p.664.
[2] Aoristus medium partisipium van poieo; Rienecker & Rogers, p.664.
[3] Vry vertaal uit I.D.E. Thomas, A Puritan Golden Treasury, The Banner of Truth Trust, p.44-45.

Mei 2003

Monday, August 1, 2011
ANTIPAS HEROUT No.48 : AS DIE KERK MAAR WAARLIK KERK SAL WEES - 'n Aantal gedagtes oor Handelinge 20:17-38
SOOS DIE KRAAI VLIEG, WAS EFESE OMTRENT 50 KM VAN MILETE AF. Dit was egter 'n moeilike pad en dit het 3 dae se harde stap geverg om dit af te lê. Vir Efese se ouderlinge was dit dus groot moeite om by Paulus uit te kom. Maar hulle het dit met vreugde gedoen, want hulle het geweet dat kontak met die Here se apostel altyd wonderlike dividende opgelewer het. En so het dit ook geblyk - en in die proses het óns 'n stuk Skrifopenbaring gekry wat boordevol betekenis is.
Dit is sekerlik betekenisvol dat ons hier die enigste rede in Handelinge het wat tot Christene gerig is. Die ander toesprake is óf evangelisties van aard - 3 maal teenoor die Jode (2:14vv; 3:12vv; 13:16vv) en 3 maal teenoor nie-Jode (10:34vv; 14:14vv; 17:22vv); óf dis stukke regsverdediging - 3 maal voor die Sanhedrin in die vroeë dae (4:8vv; 5:29vv; 7:1vv) en 5 maal voor Joodse en Romeinse owerhede teen die einde van die boek (h.22-26).
Die leiers van Efese word op 3 maniere genoem: "ouderlinge" ('n woord wat dui op ouer en meer ervare manne) (17); "opsieners" (regeerders) (28, OAV); "herders" (oppassers van die Here se kudde) (28, OAV). Hierdie benaminge is konsekwent in die meervoud. So is dit regdeur die Nuwe Testament. Elke volwaardige gemeente moet deur 'n span ouderlinge gelei en versorg word - nie net deur een persoon nie.
'n Oorsig oor die gedeelte
'n Terugblik (20:18-21).
Die dinge wat die apostel noem, suig hy nie uit sy duim uit nie. Die Efesiërs "weet" dat dit wat hy sê die waarheid is (18, 34). Hy het hard onder hulle gewerk - sy hele lewe in hulle ingestort.
Paulus onderstreep veral 5 dinge:
* Wat hy vir die Efesiërs gedoen het, was eerstens en ten diepste vir die Here (19).
* Hy het hom nie oor die Efesiërs verhef nie, maar sy werk in nederigheid gedoen (19).
* Dit was nie maklik nie, maar het met baie hartseer en swaarkry gepaard gegaan (19).
* Hy het die volle raad van God onvermoeid, toegewyd en getrou vir hulle geleer (20).
* Hy was nie net pastoraal besig nie, maar het ook voortdurend geëvangeliseer (21).
'n Voortblik (20:22-27)
Die Heilige Gees het aan Paulus gewys dat swaarkry en gevangenskap op hom wag (23). Tog kan - en wil - hy dit nie vermy nie. Die Gees dring hom Jerusalem toe, hoewel hy weet dís waar hy probleme gaan kry (22).
* Beheersend hier is Paulus se oortuiging dat hy die Efesiërs nie weer gaan sien nie. Kennelik verwag hy dat sy lewe spoedig tot 'n einde kan kom (25).
Dit laat sy gedagtes loop na Eseg 3 en 33, en die gewigtige vooruitsig van verantwoording aan God oor die rentmeesterskap van sy lewe en bediening hier op aarde. Maar alles wat hy kon, het hy gedoen - sy gewete is skoon. Daarom kan hy in vrymoedigheid vir die Efesiërs sê dat hy "rein is van die bloed van almal" (26, OAV).
* Waarom kan hy so 'n oortuigde stelling maak? Vers 27 gee die rede: "want ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie." As daar dus van die Efesiërs verlore gaan, is dit nie sy skuld nie.
'n Oproep (20:28-35)
Paulus het agtertoe en vorentoe gekyk. Nou maak hy in die lig daarvan 'n appèl op sy mede-gelowiges: volhard in getrouheid en waaksaamheid! (28-31).
* In die eerste instansie moet die ouderlinge hulleself oppas (28a). Per slot van rekening is ook hulle net skape, wat niks vir die kudde kan beteken as hulle self geestelik veragter nie.
* Tweedens moet hulle na die Here se kudde omsien. Dis 'n gewigtige opgawe, want die kudde is oneindig kosbaar. Met Sy eie bloed het Christus hulle gekoop (28b).
* 'n Groot rede waarom Efese se ouderlinge waaksaam moes wees, was dat "wrede wolwe" na Paulus se vertrek onder hulle sou indring (29).
Hierdie gewetenlose en leuenagtige dwaalleraars sou selfs uit hulle eie geledere na vore kom - en "die gelowiges agter hulle aan ... probeer verlei" (30).
Tot vandag toe is dit 'n belangrike lakmoestoets vir die egtheid al dan nie van herders: bind hulle die Here se kudde aan Hóm of aan hulleself vas?
'n Hartseer afskeid (20:36-38)
Uiteindelik dra Paulus die gemeente aan God op en aan die woord van Sy genade (32).
* Ten slotte herinner hy hulle weer aan sy voorbeeld (33-35). En wat was die essensie van sy dienswerk onder hulle? Hy het geen teenprestasie of kompensasie van hulle verlang nie. Finansiële vergoeding wou hy geensins van hulle ontvang nie. Hy was soos 'n slaaf onder hulle. Ja, hy was húlle slaaf, maar ten diepste Jesus Christus s’n!
Duidelik het Paulus 'n hoë premie geplaas op so 'n bedieningsbenadering (vgl. ook (1Kor 4:12; 9:12b, 15-19; 2Kor 7:2; 11:7-12; 1Ts 2:8-12; 2Ts 3:7-9). Dit is die heel laaste ding wat op die Efesiërs se harte gedruk word, en 3 verse word daaraan gewy. Die implikasie is onmiskenbaar. Paulus wil vir die Efesiërs sê - en Lukas vir ons - volg hierdie voorbeeld na! Dis immers hoe die Here Jesus geleef het (Lk 8:3). En dis hoe Hy Sy dissipels geleer het (Mt 10:9-10; Mk 6:8-9; Lk 9:3; 10:4).
* Onmiskenbaar duidelik is die wonderlike liefde tussen apostel en ouderlinge as hulle groet. Onder trane neem hulle vir die laaste maal afskeid.
Die merkwaardige Woord
# Vers 32 bevat 'n besondere uitspraak. As Paulus op die punt staan om finaal van die Efesiërs afskeid te neem, vertrou hy hulle nie net aan God toe nie, maar ook aan die "woord van sy genade". Sonder twyfel verwys hy hier na die besondere openbaring van God. Die Ou Testament was reeds op skrif. En die Nuwe Testament was in die proses om op skrif gestel te word. Vir alle praktiese doeleindes het die apostel dus dit wat ons vandag as die Bybel ken hier in gedagte.
Hierdie is 'n gewigtige geleentheid. Paulus weet, in hierdie lewe gaan hy hierdie geliefde broers nie weer sien nie. Dis soos sterfbedwoorde. Hy bepaal hom in sy uitspraak net by die wesentlike. Elke woord is geweeg en gelaai.
# Waarom vertrou Paulus hierdie mense nie net aan God toe nie? In respek gevra, kan die Here nie op Sy eie na hulle omsien nie? Moet die Woord Hom help?
* Ons is hier by 'n kardinaal belangrike beginsel. God werk middellik! Hy gebruik instrumente! En as dit gaan oor die instandhouding en opbou van 'n gemeente, is geen instrument belangriker as die Woord nie. Die Gees werk deur die Woord! Tot so 'n mate is dit waar, dat die kerk deur die eeue 'n beginsel geformuleer het: Woord en Gees moet onderskei word, maar nooit mag mens die twee skei nie.
* Maar, let op, Paulus kwalifiseer die Woord. Dis die Woord van God se "genade". Die Griekse konstruksie wil sê: die woord met as inhoud God se genade. Paulus het dus die Evangeliewoord in gedagte (20:24) - die Woord wat die goeie nuus oor God se genade in Christus dra. Te veel mense dink aan prediking as bloot moralistiese vermaning. 'n Duisend maal nee! Ware prediking is Godgesentreerde en Christusgefokusde proklamering van God se vrye genadeheil vir sondaars - met natuurlik die implikasies daarvan. Prediking wat nie Christosentries is nie, is geen prediking nie - en dit doen meer kwaad as goed.
* Van hierdie Woord sê Paulus dat dit "magtig" is. Dit kan twee dinge vir die Efesiërs doen - en sekerlik ook vir ander mense:
Eerstens is die Woord magtig om hulle "op te bou". 'n Lewende gemeente is soos 'n groot gebou wat onder konstruksie is. Die uitdagings is elke dag nuut. Nuwe mense word gedurig bygevoeg. Elkeen in die kudde se omstandighede is verskillend en verander voortdurend. Altyd is daar sowel ryp gelowiges as dié wat nog met die eerste beginsels worstel. En deurgaans is een van die belangrikste oogmerke dat elkeen toeneem in kennis van God en Sy werke en weë, in gelykvormigheid aan Christus, en in bruikbaarheid as werker in die wingerd. En hierin speel bediening van die Woord 'n sentrale rol.
Tweedens is die Woord magtig om hulle te laat deel in die kinders van God se erfenis. Die Woord, veral die prediking daarvan, is dié instrument om die gelowiges deur te dra tot by die wenpaal. Te veel Christene verwaarloos hierdie beginsel. Dan is hulle verbaas dat hulle in die geloof veragter as hulle nie gereeld met die Woord omgaan en onder waarheidsprediking sit nie.
* Let verder op dat hierdie primêr 'n opdrag aan die ouderlinge van Efese is. Soos hy, Paulus, in die verlede met onvermoeide ywer en hartstogtelike erns by elke geleentheid en plek die heilsplan van God in sy volle omvang verkondig het (27, 31), so moet hierdie herders dit ook doen. Waarom is dit so belangrik? Omdat dit die één waarborg is dat hulle nie tevergeefs sal arbei nie. En so is dit tot vandag toe. Die Here se werkswyse en gereedskap het nie verander nie.
Enkele praktiese opmerkings
1. Die krag van die Evangeliewoord word sigbaar op talle maniere
# Die Woord werk op talle maniere.
Soms werk dit stadig en diep, ander kere blitssnel soos 'n pyl. Maar altyd is dit onweerstaanbaar en onfeilbaar effektief as die Gees dit laat tref. Waarom? Dit werk in jou hart, in die sentrum van jou persoonlikheid - daar waar alles wat jy is en glo bepaal word.
# Alle soorte mense word daardeur geraak.
Deur die eeue het tallose magtiges en invloedrykes laag voor die Woord van God en die God van die Woord gebuig. Hooggeleerdes het soos kindertjies geglo. Eenvoudiges wat maar min van hierdie wêreld en sy dinge begryp, het wys en verstandig geword wanneer dit gegaan het oor wat regtig saak maak. Die mees verdorwe mense in die samelewing is keer op keer onherkenbaar deur die evangeliewoord omgedop.
# Die krag van die Woord word sigbaar in die effekte daarvan op mense.
As die Woord regtig diep werk, verander mense se persoonlikhede dikwels só dat hulle haas onherkenbaar is. Muise word mans; geitjies word dames; ape word wys; jakkalse, buffels en varke is nooit weer dieselfde nie. Aan eie lyf het Paulus dit self beleef: "Die man deur wie ons vroeër vervolg is, verkondig nou die geloof wat hy destyds probeer uitroei het" (Gl 1:23).
Ook word mense se prioriteite alles behalwe onaangeraak gelaat deur die Woord. Hoeveel wat eers rykdom, eer en plesier nagejaag het, het nie deur die geskiedenis hoon of armoede of selfs die dood ter wille van Christus en Sy evangeliewoord omhels nie! En ken óns wat deur God se genade herskep is, nie die ervaring nie? Ons wat eens eindeloos geïrriteer is deur ware Christene, kan nou nie wegbly waar die dissipels van Jesus vergader nie.
2. Die krag van die Woord het 'n baie spesifieke oorsprong.
# Die krag sit nie in die Woord self nie.
Die Bybel het nie magiese krag nie. Op sigself kan dit niks bereik nie. Nee, die Woord is soos die bad van Betesda se waters - dit het nét genesende krag as 'n engel by wyse van spreke dit kom roer (Jh 5).
# Die krag sit nie in die instrument wat dit bedien nie.
Hulle wat plant en nat maak is niks nie (1Kor 3:7). Natuurlik is hulle nodig - want God werk middellik (Rm 10:14-17) - maar op sigself het hulle geen krag nie. En dis 'n groot genade, want indien predikers in beheer was van die Woord se effekte, sou die bloed van elkeen wat onder hulle bediening verlore gegaan het, van hulle hand ge-eis kon word.
Vroeër jare het die sendelinge wat in Wellington opgelei is, hulleself "die donkies" genoem. Hulle het hulleself bloot as die pakdiere beskou wat die kragtige evangelie die wêreld moes indra.
# Die Woord het net krag wanneer die Heilige Gees daardeur werk.
As die Gees die Woord bekragtig, is dit magtig, maar ook net dán.
Soewerein bepaal die Heilige Gees watter Skrifgedeelte Hy wil gebruik in die bekering of opbou van 'n persoon of persone. Hy bepaal watter mense daardeur geraak word. En Hy besluit oor die geleenthede en seisoene van krag.
Laat dit egter vir ons tot wonderlike bemoediging wees om te weet dat die Gees vreugde daarin het om die Woord te bekragtig. En dit hoef ons nie te verbaas nie. Hy word immers genoem: "die Gees van die waarheid" - en die Woord van God is waarheid. Hy is "die Gees van die oes" - en dis die evangeliewoord wat sondaars red, opbou en bewaar. Les bes is Sy basiese taak om Christus te verheerlik (Jh 16:14) - en Hý is die Hoofkarakter van die Woord.
3. Hóé herders in 'n kudde werk, is van die allergrootste belang.
# Wat is die ouderlinge se taak in 'n gemeente?
Mens sou minstens 7 dinge kon beklemtoon:
Hulle moet die heiliges met die Woord van God voed; pastoraal en geestelik na hulle as individue omsien; die volle waarheid van God vir hulle leer; hulle toerus om dienswerk in die gemeente en daarbuite te doen; hulle beskerm teen wolwe en dié se dwaalleer; leiding in die gemeente gee; en (helaas is dit ook soms nodig) daardie skape wat hulle soos bokke gedra, of inderdaad bokke is, dissiplineer - soos die situasie dit mag vereis.
# Die Opperherder gee drie stukke gereedskap aan Sy onderherders - en net drie.
Eerstens het hulle die Woord as kragtige instrument.
Tweedens het hulle gebed - dus inspraak by die almagtige Heerser van hemel en aarde (Hd 6:4).
Derdens is daar die invloed van hulle voorbeeld. In 1Pt 5:3 sê die apostel vir die ouderlinge dat hulle nie moet baas speel oor diegene wat God aan hulle sorg toevertrou het nie, maar dat hulle ’n voorbeeld vir die kudde moet wees. En in 1Kor 11:1 roep Paulus die gelowiges op om sy voorbeeld te volg, soos hy die voorbeeld van Jesus navolg.
# Die ouderlinge se gesindheid in hulle dienswerk is van die allergrootste belang.
Ten minste vyf dinge is onmisbaar:
Liefde vir elke lidmaat.
Begrip en verdraagsaamheid, want dis bloot "skape" waarmee die herders werk.
Respek vir elke broer en suster, aangesien elkeen só kosbaar deur die Here geag word dat Hy Sy lewe vir hom of haar afgelê het.
Diensbaarheid, omdat die grootste in die koninkryk diegene is wat dien.
Vertroue in elke gelowige se integriteit, erns en toewyding aan die Here.
# Laasgenoemde gesindheid van die onderherders vereis 'n opmerking of twee.
Die Skrif leer onmiskenbaar dat die Here deur Sy Gees gawes of spesiale bekwaamhede vir Sy liggaam gee. En elke lid van die liggaam het deel daaraan. Ouderlinge moet dus vertroue hê in die Gees se werkinge in die liggaam. Hulle moet erns maak met die priesterskap van die gelowiges. Nog meer, as mense nie die geleentheid gebied word om hulle gawes te oefen nie, sal hulle nooit gekonfyt raak daarmee nie.
Maar voordat hulle so 'n vertroue in mense kan hê, vereis dit dat ouderlinge, sover dit menslik moontlik is, seker sal maak dat voornemende lidmate inderdaad skape is, en nie bokke wat hulle as skape voordoen nie.
Niks lê 'n gemeente so lam soos 'n klomp mense in sy midde wat die Here nie regtig ken nie. Dit is waarom volkskerke in 'n samelewing onbeskryflike skade doen aan die kerk en evangelie se goeie getuienis, asook die Here se eer. Hier is ons dalk by die grootste enkele rede waarom die Afrikaanse samelewing teen 'n ysingwekkende tempo besig is om oor die afgelope jare sy rug op die kerk te draai. Presies dieselfde verskynsel het hom in Europa met sy volkskerke afgespeel.
Maar 'n verdere en balanserende opmerking is nodig. In reaksie teen kerke wat vol onwedergebore mense sit, is daar ander kerke wat súlke hoë standaarde vir toetrede verg, dat hulle amper eksklusiewe klubs raak. Nie alleen is so 'n mentaliteit onbybels nie, dit veroorsaak 'n skadelike en Godonterende fariseïsme. G'n wonder dat sulke gemeentes in hulleself gekeer, en jaar in en jaar uit net 'n handjievol bly nie.
Nee! As iemand regtig tot bekering kom, kwalifiseer hy of sy dadelik vir lidmaatskap. So 'n persoon is immers onmiddellik in Christus en deel van Sy liggaam. Dan moet hy uiteraard geleer word "om alles te onderhou" wat die Here Jesus beveel het (Mt 28:19). Maar dit moet ín die gemeente geskied. Die kerk is 'n werkswinkel, nie 'n museum nie.
# Wat die gesindheid van herders betref, móét ek verwys na 'n anekdote wat my eie hart op 'n stadium deurboor het:
Oor een van die grootste predikers en pastors van alle tye, C.H. Spurgeon, vertel sy seun ná sy dood: hy en sy pa was vir 'n lang tyd uit die gemeente weg. Met hulle terugkoms is 'n geselligheid gehou, omdat die mense vol uitbundige vreugde was dat hulle herder terug is. Terwyl die seun die mense se blydskap so gadeslaan, sê hy toe vir homself: "Hulle het hom baie, baie lief - amper so lief soos hy hulle het!" Sekerlik was hierdie een van die sleutels tot Spurgeon se bedieningsukses.
# In sy dienswerk was Paulus die toonbeeld van deeglikheid. Hy het alle moontlike waarheid aan alle moontlike mense op elke moontlike wyse verkondig. Met al sy krag het hy die hele evangelie aan die hele stad gebring.
G’n wonder dat hy 'n inspirasie vir Efese se ouderlinge was nie. En, natuurlik, is hy tot vandag toe 'n voorbeeld vir alle pastors en predikers - en Christene in die algemeen.
* Hy was deeglik in die lering wat hy gegee het.
Hy het "die evangelie van God se genade" gepreek (24); hy het die "koninkryk van God" verkondig (25); oor die noodsaak van bekering en geloof het hy nie geswyg nie (21); niks wat vir die gemeente voordelig was, het hy teruggehou nie (20); en hy het die heilsplan van God in sy volle omvang vir die gemeente geleer (27).
* Paulus was deeglik in sy werkswyse.
Hy het in die openbaar en in huise gepreek en geleer (20). Hy het dag en nag gewerk, by wyse van spreke. Hy het hom dus nie aan werksure gesteur nie. Hy het baie keer met trane vermaan en bemoedig (31).
# Oor sy eie prediking het die ou Puritein, Richard Baxter, gesê: "I preach as never sure to preach again - as a dying man to dying men!"
4. Vals herders en dwaalleraars is 'n werklikheid.
Oor en oor waarsku die Nuwe Testament teen diesulkes. Die Here Jesus noem hulle roofsugtige wolwe in skaapklere (Mt 7:15). Hulle was destyds aktief; hulle was deur die eeue bedrywig; hulle is vandag steeds met ons.
Predikers moet in die eerste instansie positief die wondere van God se genade-evangelie verkondig, vir seker. Maar oor die wolwe mag hulle ook nie vir baie lank swyg nie.
5. Om Sy heiliges in gemeentes saam te bind, is in die hart van die Here se verlossingsplan.
# Só sentraal is die gemeente in God se ordes en raadsplan, dat al drie persone van die Drie-eenheid betrokke is by die heiliges se redding en versorging in gemeenteverband. Dit is God se gemeente. Christus het hulle met Sy eie bloed gekoop. Die Heilige Gees stel herders aan om hulle as die Here se medewerkers te versorg (28).
Waarlik, om deel van 'n egte en lewende gemeente van die Here Jesus te wees, is een van die grootste voorregte wat enigeen in hierdie lewe kan smaak.
# Ontstellend baie mense wat hulleself as Christene beskou, is traak-my-nieagtig oor die deelhê aan 'n ware en lewende gemeente. Sulke mense verstaan nie die ordes van God nie. Bybels-gesproke is eiesinnige, alleenloper Christenskap ondenkbaar. Lees mens die Nuwe Testament, besef jy baie gou dat dit deurgaans ons Christenskap in die konteks van 'n liggaamslewe plaas. Let net op hoeveel van die opdragte aan dissipels te doen het met verhoudings met mede-gelowiges. Só veronderstel die mekaar-tekste, waarvan daar talle is, ons lewens as ingeweef in 'n liggaam van broers en susters.
Mense wat op hierdie punt God se ordes minag, moet verwag dat hulle geloofslewe ernstige skade gaan kry. [Dis natuurlik ás hulle geloof hoegenaamd eg is, want liefde vir die broers en susters is sonder uitsondering 'n uitvloeisel van die wedergeboorte (1Jh 3:14-20; 4:7-21)]. En, ewe erg, mense wat hulle Christenskap buite gemeente-verband probeer uitleef, maak - menslik gesproke - amper altyd seker dat hulle kinders eendag kerklos en ongelowig sal wees.
# Natuurlik is nie álle gelowiges bevoorreg om 'n aktiewe deel van 'n lewende gemeente te wees nie. Soms leef sendelinge baie afgesonderd. En sommige mense moet in omgewings woon en werk buite bereik van 'n gemeente. Vir Sy gunsgenote wat hulle buite hul beheer in sulke omstandighede bevind, het die Here egter spesiale genade. Wat meer is, die roeping rus dalk op hulle om instrumenteel te wees in die vorming van 'n gemeente in die uithoek waar hulle hul bevind. En natuurlik, as troos en noodmaatreël, stel moderne tegnologie ons vandag in staat om ten minste altyd toegang te hê tot klank- en video-opnames van goeie prediking.
# In die bespreking hierbo moet ons die begrip kerk of gemeente nie verkeerd verstaan nie. 'n Geïnstitusionaliseerde vertakking van 'n denominasie is nie noodwendig 'n gemeente in die Bybelse sin nie. As die Skrif van 'n gemeente praat, praat dit van 'n groep dissipels van Jesus Christus wat doelbewus by mekaar ingehaak het in hulle toewyding om Hom gesamentlik volgens Sy opdragte te dien. En hulle sal ten minste 'n premie plaas op waarheidsprediking, op aanbidding en beoefening van die sakramente in gees en waarheid, en op dissipline volgens Nuwe Testamentiese standaarde (Nederlandse Geloofsbelydenis art.29).
'n Handjievol mense kan so 'n gemeente vorm, selfs net 'n gesin, as dit régtig nie anders kan nie.

Subscribe to:
Posts (Atom)