Monday, June 27, 2011

ANTIPAS HEROUT No.17 : DIE VERHOUDING TUSSEN OU EN NUWE VERBOND - Enkele perspektiewe en implikasies

IEMAND HET EENKEER GESÊ: "MY SEUN, DIE DAG AS JY DIE VERHOUDING TUSSEN OU EN NUWE VERBOND VERSTAAN, MAG JY JOUSELF 'N TEOLOOG NOEM."
Dit was wyse woorde. Want talle van die grootste en ernstigste dwalinge in teologie en kerk deur die eeue was te wyte aan 'n gebrekkige begrip van die verhouding tussen die twee fases van die genadeverbond [1]. Dis 'n toestand wat ongelukkig voortduur - met talle ernstige ellendes in die kerk tot gevolg.
Hierdie studiestuk maak nie aanspraak op volledigheid nie; inteendeel. Dit bied bloot 'n paar fundamentele perspektiewe.

Die genadeverbond

# God se genadeverbond met die gevalle mens loop soos 'n ruggraat dwarsdeur Sy Woord. Begrip en verrekening van hierdie verbond is nodig om die boodskap van die Heilige Skrif reg te verstaan, om God behoorlik te ken, om die evangelie te begryp en reg te verkondig, en om die Christelike lewe te leef soos dit moet.

# 'n Verbond kan in die algemeen soos volg gedefinieer word: Dis 'n onderlinge en baie gewigtige ooreenkoms tussen twee partye, wat hulle absoluut en gewoonlik permanent verbind om sekere dinge vir mekaar te wees en te doen.

* Die Skrif bevat talle beskrywings van sulke verbonde tussen mense (Gen 21:22-34; 31:44-55; Jos 9; 1Sam 18:3; 2Sam 3:6-21; 5:3; 1Kon 5).

# God het hierdie algemene begrip in die antieke wêreld geneem om Sy ewige en onverbreekbare verhouding met diegene wat Hy na die sondeval as nuwe mensheid sou red, te omskryf en te reguleer. Die verbond is dus die 'konstitusie' van God se reddingsplan.

# Die genadeverbond het 'n sterk ontwikkelingsgang in die Ou Testament; trouens, in die hele Skrif.
Embrionaal is dit reeds in die moederbelofte (Gen 3:15) teenwoordig. Dan kry dit verdere gestalte in die verbond met Noag (Gen 9:1-17).
Veral in God se verbondsluiting met Abraham kom dit behoorlik na die oppervlak (Gen 12:1-3; 15; 17; 22:1-19). Hierdie verbond word herbevestig met Abraham se nageslag, Isak (Gen 26:2-5) en Jakob (Gen 28:10-22).
Verder word die verbond herbevestig en -bekragtig met Dawid, maar veral met Moses tydens die uittog, oftewel met die volk wat uit Egipte gered is. Dit gebeur by Sinaï en word ongeveer veertig jaar later herbevestig, net voordat Israel Kanaän inneem. Laasgenoemde gebeurtenis is vervat in die Deuteronomiumboek, wat die struktuur vertoon van 'n tipiese verbondsdokument. Die Sinaïtiese verbond, naas die verbond met Abraham, is van die allergrootste belang en oorheers die lewe van die verbondsvolk daarna.

# Die daarstelling van die verbond is eensydig. God, en Hy alleen, neem die soewereine inisiatief daarin, en bepaal die aard van die verhouding eensydig. Die uitvoering of instandhouding van die verbond is egter tweesydig. Beide partye, God en mens, is dus aktief betrokke by die uitlewing daarvan. Die Here beloof immers sekere dinge aan die mens as voorregte (iets wat Hy doen), terwyl Hy ander dinge as verantwoordelikhede voorskryf (iets wat die mens moet doen).

# Volgens die verbondsvoorskrifte is die verhouding tussen die twee partye nie bloot onpersoonlik, formeel en juridies nie. Dis 'n verhouding van eenheid en gemeenskap, gekenmerk deur wedersydse bande van intieme liefde en lojale trou. Veral twee alledaagse en baie sprekende beelde word gebruik om dit te beklemtoon: die verhouding tussen man en vrou binne die huwelik (Jes 54:5; Jer 31:31-32; Eseg 16:1-14; Hos 1:2; 3:1; Ef 5:24-25, 32; Op 21:9); en die verhouding tussen ouer en kind (Eks 4:22; Deut 1:31; 8:5; Hos 11:1; Rm 8:15; 2Kor 6:18; 1Jh 3:1).

* Die tipiese verbondsformule, "Ek sal vir julle 'n God wees, en julle moet vir My 'n volk wees", bring hierdie heerlike waarheid uitnemend na vore. Dit kom regdeur die Bybel voor en geld tot in ewigheid (onder meer Gen 17:8; Jer 24:7; 31:33; 32:38; Eseg 11:20; 14:11; 36:28; 37:23, 27; 2Kor 6:16; Hb 8:10; Op 21:3).

# 'n Paar verdere sake oor die genadeverbond is ter sake:

* Aan die hart van God se verbond met Abraham is die uitspraak van Gen 15:6: "En hy het in die Here geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken" (OAV). Dit, sê die Nuwe Testament oor en oor, toon dat regverdiging alleen deur geloof kom - en dat dit van die begin af so was (Rm 4:3, 9, 22; Gl 3:6; Jk 2:23).

* Hoewel God se morele wet, soos in die Tien Gebooie gekonsentreer, aan die hart van die Sinaïtiese verbond was, gee Hy daar ook 'n massa seremoniële voorskrifte wat die Israelitiese godsdiens daarna oorheers. Die Nuwe Testament beklemtoon dat die morele wet, as uitlewingsriglyn vir die verbondsvolk se dankbaarheidsliefde en gehoorsaamheids-trou, ewig geldig bly (Mt 5:17-20). Daarenteen dring dit daarop aan dat die seremoniële wette met die koms van Christus vervul is en nie meer betrekking op die verbondsvolk het nie. Veral Galasiërs en Hebreërs onderstreep dit - as ernstig gewaarsku word teen 'n voortgaande handhawing daarvan. Dis nie net onnodig nie; dis dodelik sondig (vgl. o.a. Gl 5:1-10; Hb 6:4-8; 10:26-31).

* In Gl 3 en 4 verduidelik Paulus dat God reeds 430 jaar voor Sinaï, tydens die verbondsluiting met Abraham, die fundamentele en onveranderlike verbondsbeginsel van regverdiging deur die geloof alleen vasgelê het (Gl 3:15-18). Die seremoniële wet was bloot gegee as 'n kinderoppasser (die sin van die Grieks in 3:24) wat die Godsvolk en die verbondsopenbaring moes bewaar totdat die geloof gekom het (3:23-25) - die volle openbaring van God in Christus. Israel was dus soos klein kindertjies wat nie na hulleself kon omsien nie - maar die seremoniële wet het hulle opgepas en deur die eeue begelei. Met die aanbreek van die volheid van die Nuwe Verbond, en die volwassenheid wat dit vir God se verbondsvolk meebring, het die noodsaak daarvoor egter verval (4:1-7).
Die seremoniële wet het dus die funksie van steierwerk gehad tydens die oprigting van God se verbondsgebou. Dit was nooit doel op sigself nie, maar bloot middel tot 'n doel. En toe die doel bereik is, moes die steierwerk weg.

* Die besnydenis was in die sentrum van Israel se seremoniële verbondsverpligtinge. Dit was teken van die verbond, en ongehoorsaamheid was 'n uiters ernstige oortreding (Gen 17:14). Wat het dit beteken?

~ Soos tipies by verbond-sluitings, was dit 'n selfveroordelingseed: as ek my nie hou aan hierdie verbond nie, mag ook my bloed vloei en ek afgesny word uit die volk van God.

~ Waarom is spesifiek die manlike geslagsorgaan besny? Sekerlik het dit daarop gedui dat verbondsaanwas primêr deur natuurlike geboorte sou plaavind. Nasionale Israel was immers die verbondsvolk (in die ruim sin). Mens is destyds in die verbond in gebore. Dat dit al vereiste was, is duidelik uit die feit dat die teken al op die ouderdom van agt dae aangebring is.

~ Dit was waarlik 'n verbond van genade, want wie het enige beheer oor wie sy ouers is en watter volk hy in gebore word? Soos hieronder aangetoon, was dit wel genoegsaam vir heerlike voorregte in hierdie lewe, maar die ewige lewe het nie sondermeer gevolg nie.

~ Die besnydenis was deel van die steierwerk wat met die koms van Christus afgetakel is. Niemand wat Paulus se briewe lees, kan daaroor twyfel nie. Maar dat dit al eeue voor Sinaï ingestel is, is sekerlik nie sonder betekenis nie. Waarom? God het dit as teken ingestel om Sy volk van die heidene af te sonder. Kennelik het Hy 'n verbondsmerk as uiters belangrik geag. Daarom is dit nie verbasend nie dat ook die Nuwe Testament voortgaan met 'n uiterlike teken van verbondstoetrede - die doop.

* Dit is van die allergrootste belang om te verstaan dat God net een genadeverbond het. Gl 3:16 is in hierdie verband 'n sleutel: "God het sy beloftes aan Abraham en aan sy nakomeling gegee. Daar staan nie 'aan nakomelinge', meer as een nie, maar: 'en aan jou nakomeling', net een, en hierdie nakomeling is Christus." Ten diepste is die verbond dus 'n verbond tussen God die Vader en God die Seun - en wel in Sy hoedanigheid as die mens Christus Jesus (1Tm 2:5), die Adam en Verbondshoof van die nuwe mensheid (1Kor 15:45,47).

~ Hoe kry 'n sondaarmens dan deel aan hierdie verbond? As hy deur die geloof met Christus verenig word - en sodoende ook 'n kind van Abraham word (Gl 3:6-7, 29). Deur die geloof word hy dus uit die ou Adam uitgehaal en in die laaste Adam ingeplant (vgl. Rm 5:12-21).

~ Dis belangrik om te verstaan dat ook Ou Testamentiese gelowiges deur die geloof alleen gered is (Rm 4). Wat sê dit? Ook húlle moes met Christus verenig word ten einde deel te kry aan die verbond! Hulle moes glo in wat Hy sou doen; soos ons moet glo in wat Hy gedoen het. Wat het hulle geloof behels? Dit het tot uitdrukking gekom in onderhouding van die seremoniële wette - begripvol (volgens God se openbaring tot op daardie stadium), nederig (in die bewussyn van eie sondigheid), opreg (meer as bloot uiterlike ritueel) en gelowig (in die vertroue dat die Lam wat Gód sou voorsien uiteindelik as finale offer vir sondaars sou sterf). En dit alles moes verpak wees in bekeerde en bekerende lewens voor die aangesig van hulle Verbondsgod - as bewys van die egtheid van hulle geloof.

~ Sedert die sondeval was daar gevolglik nog nooit sprake van enige redding, anders as deur geloof in Christus nie - die Hoof van God se nuwe skepping en mensheid. In Ou Testamentiese tye het hierdie geloof tot uitdrukking gekom in 'n vasgryp van God se beloftes oor Hom. Om met Hom deur die geloof verenig te word, was dus nog altyd die enigste manier om te ontvlug vanuit die gevalle mensheid in Adam en gevolglike veroordeling deur God (Rm 5:12-21; 1Kor 15:21-22).
Die ou Puritein, Thomas Goodwin (1600-1680), het dit kostelik gestel: "There are but two men standing before God, Adam and Christ, and these two men have all other men hanging on their girdles."

* Samehangend met God se openbaring in die Woord, het Sy heilshandele met Sy verbondsvolk 'n progressiewe, of ontwikkelende karakter gehad - totdat dit uiteindelik in die koms en werk van Jesus Christus gekulmineer het. Afgesien van gereelde verbondsvernuwing en -ontwikkeling in die Ou Testament, is vir ons doel veral belangrik dat dit in twee duidelike fases uiteenval: die Ou Verbond (of Testament) en die Nuwe Verbond (of Testament). In hierdie verband is twee samehangende waarhede van die allergrootste belang:

~ Daar is net één genadeverbond. Dit is onteenseglik duidelik uit wat hierbo verduidelik is. Diegene wat voor Sy koms deur geloof met Christus verenig is, en diegene met wie dit daarna gebeur, sal uiteindelik sáám die vervolmaking van hulle verbondserfenis ontvang (Heb 11:39-40). Die kardinale punt is dit: daar is 'n onverbreekbare eenheid, 'n onmiskenbare kontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.

~ Tog praat die Bybel ook in eksplisiete terme van die Ou Verbond en van die Nuwe Verbond (Heb 8, veral v.13). Kennelik is daar 'n verskil tussen die twee. Die volgende kardinale punt is dit: daar is 'n onderskeid, 'n diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.

# Die kontinuïteit en eenheid tussen Ou en Nuwe Verbond is reeds beklemtoon en verduidelik. Nou moet nader gekyk word na die ander kant van die saak: die diskontinuïteit, oftewel die onderskeid.

Die dubbele karakter van die Ou Verbond

# Hierdie dubbele karakter kom tweërlei tot uitdrukking. Enersyds het dit in die aard van sowel die verbondsvoorregte as die verbondsverpligtinge gelê. Andersyds het dit tot 'n tweedeling van die verbondsvolk self gelei.

# Eerstens het die verbondsvoorregte en -verpligtinge 'n dubbele karakter gehad. Dis op meer as een manier te sien:

* Vanuit die tydelike en voorlopige aard van die Ou Verbond het sekere van die volk se voorregte en verpligtinge na vore gewys. Ware geloof het dus in 'n toekomsgerigtheid tot uitdrukking gekom.

~ As voorreg het hulle die beloofde land, Kanaan, ontvang. Dit was egter ook 'n voorafskaduing van die ewige Kanaan wat hulle wat waarlik geglo het, sou ontvang (Heb 11:8-10; 13-16).

~ As verpligting moes hulle die offerdiens in stand hou. Dit was egter ook 'n voorafskaduing van die groot en finale offer van die Lam van God, aan Wie elkeen sou deel kry wat waarlik glo.

* Vanuit die hoofsaaklik uiterlike aard van die Ou Verbond, het sekere aspekte daarvan na binne gewys. Ware geloof het dus ook in hartsopregtheid tot uitdrukking gekom.

~ Die offer van 'n dier moes die mense daaraan herinner dat dit eintlik húlle was wat moes sterf. Hierdie handeling moes dus veel meer as 'n blote ritueel wees. Ten einde vir God aanvaarbaar te wees, moes die offeraar se handeling met innerlike verootmoediging en berou gepaard gaan. En die egtheid daarvan sou blyk uit 'n bekeerde en bekerende lewe volgens God se Wet.

~ Die besnydenis was iets uiterliks, aan die manlike geslagsorgaan. Maar dit het ook na binne gewys en moes die volk herinner aan die noodsaak van die besnydenis van die hart (Deut 10:16; 30:6; Jer 4:4 ens.). Wat mense dus eintlik vir God aanvaarbaar gemaak het, was 'n heilige hartsgesteldheid - wat noodwendig tot 'n bekeerde en bekerende lewe lei.

# Tweedens het gehoorsaamheid aan bogenoemde - al dan nie - 'n tweedeling in die volk te weeg gebring.

* Die Ou Testament self maak toenemend duidelik dat net die gelowiges en opregtes (dus die bekeerdes en bekerendes - die besnedenes van hart) eintlik die ware verbondsvolk is en dus aan God behoort en die ewige lewe sal beërf. Regverdiging was immers van die begin af deur geloof alleen. Hierdie mense is die oorblyfsel, die seweduisend wat Baäl nie aanbid nie (1Kon 18:18).
Dis sekerlik ook nie sonder betekenis nie dat hierdie tema al hoe meer aandag kry soos die Ou Testamentiese Godsopenbaring vorder. Vergelyk byvoorbeeld Deut 4:23-31; Jes 6:13; 10:20-22; Eseg 5:1-4.

* Die Nuwe Testament is duidelik: die oorgrote meerderheid van die Ou Testamentiese verbondsvolk is nooit gered nie, maar het onder God se toorn gesterf (1Kor 10:1-5; Hb 3:7-9; Jud 5). Waarom? Van die toekomstige en innerlike aspekte van die verbond het hulle niks verstaan nie! Anders as die oorblyfsel, God se uitverkorenes en gunsgenote, was hulle ongelowig, onopreg en ongehoorsaam!

Romeine 9 : die ware Israel

# Die Nuwe Testament bevestig hierdie dubbele karakter van die Ou Verbond in duidelike taal. Rom 9:6 en konteks is veral eksplisiet in hierdie verband:

* In die eerste verse van Rom 9 antwoord Paulus 'n vraag wat hy by sy lesers antisipeer. In Rom 8 gee hy die versekering dat die volharding en redding van God se uitverkorenes gewaarborg is, want dit is in God se ewige raadsplan gewortel. Die vraag kom nou asof vanself: Wat dan van die Jode? Was hulle nie God se uitverkore verbondsvolk nie? Tog het hulle Christus verwerp en is hulle gevolglik onder God se toorn (v.4-5).

* Dit beteken egter nie dat God se verlossingsplan en genadeverbond verydel is nie. Hoe so? "Immers nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie ..." (v.6). Daar is dus 'n ware en ewige Israel binne die uiterlike en tydelike Israel (nasionale Israel). En die verbondsbeloftes waarvan Rom 8 praat, is net van toepassing op hierdie ware Israel.

* In v.7-13 verduidelik en illustreer die apostel sy skokkende stelling in v.6. Hy gebruik twee voorbeelde: in v.7-9 die van Ismael en Isak, Abraham se kinders; en in v.10-13 die van Esau en Jakob, Isak en Rebekka se kinders.

~ V.7-9: Daar is soiets soos 'n nageslag én 'n nageslag; kinders én kinders. En daar is die wêreld se verskil tussen die twee. Daar is 'n nageslag in die natuurlike sin; maar dan is daar 'n nageslag deur wie God se verbond voortgedra word. Daar is die kinders van die vlees; en daar is die kinders van die belofte - die kinders van God. As dit dus by die verbond kom, is net sekeres kinders. Ismael het geen deel aan die genadeverbond gehad nie; Isak egter wel - en in hom, as God se uitverkorene en deel van die oorblyfsel, word die plan van God voortgedra.

~ V.10-13: Paulus antisipeer 'n beswaar. Ja, maar Ismael en Isak het twee verskillende ma's gehad. En in Ismael se geval het Abraham 'in die vlees' opgetree.
Goed, sê Paulus, kom ons kyk na Esau en Jakob. Hulle het dieselfde pa en ma gehad; trouens, hulle was 'n tweeling. Tog, toe hulle nog in die moederskoot was, het God al 'n keuse uitgeoefen! Net Jakob sou deel hê aan die genadeverbond. In hóm word die plan van God voortgedra.

* Dus, daar was 'n ware, uitverkore Israel binne die volk Israel. Almal was volledig betrokke by die tydelike en uiterlike aspekte van die verbond, maar nét die ware Israel was gunsgenote van die verbond.

# Ander Nuwe Testamentiese Skrifgedeeltes wat op dieselfde waarheid sinspeel, is Rom 2:28-29 en Fil 3:3.

Johannes die Doper

# Johannes was die Messias se wegbereider. Hy het as 't ware met die een voet in die Ou Testament gestaan, en met die ander in die Nuwe. As sulks is sy prediking van die allergrootste openbaringshistoriese belang. Tewens, dit bevat die sleutel om die verhouding tussen die twee Testamente te verstaan. Matt 3:1-12 is gevolglik wonderlik verhelderend.

* V.2-3: Bekeer julle! Waarom? Die Koninkryk van die hemele het naby gekom! 'n Nuwe bedeling is op hande - die regering van die Messias.

* V.5-6: Diegene wat hierdie profesie in die geloof omhels, word deur hom gedoop - met sondebelydenis.

* V.7-9: Die eiegeregtige Fariseërs en ongelowige Sadduseërs wil ook gedoop word. As kwalifikasie hiervoor beroep hulle hul op afstamming van Abraham. Maar dis nie voldoende nie. Daar is maar één kwalifikasie: bekeringsvrug!

* V.10 en 12: Die ou bedeling se einde is op hande. Nie langer gaan die dubbelslagtigheid van die Ou Testamentiese verbondsvolk voortduur nie! Die Koning gaan 'n skeiding bring!

~ Israel was tot nou toe soos 'n vrugteboord met twee soorte bome: die wat goeie vrugte dra en die wat niks dra nie. Maar hieraan gaan die Koning nou 'n einde bring. Sy byl is reeds in Sy hand. Élke boom wat nie vrug dra nie (bekeringsvrug, vanuit die konteks) gaan uitgekap en verbrand word. Van nou af sal daar in die Koning se boord nét bome wees wat vrug dra!

~ Om seker te maak die punt word nie gemis nie, herhaal Johannes dit aan die hand van 'n ander beeld. Israel was tot nou toe soos 'n dorsvloer waarop sowel koring as kaf lê. Aan hierdie vermenging gaan die Koning nou 'n einde bring. Sy skop is reeds in Sy hand. Die koring gaan Hy bewaar en die kaf verbrand. Daar sal géén vermenging meer wees nie - Hy gaan die vloer deur en deur skoonmaak.

* V.11: Presies hóé gaan die Koning die skeiding te weeg bring? Ten einde dit volkome en finaal te maak, gaan hy dubbeld te werk gaan - negatief en positief. Wat meer is, die nuwe bedeling gaan baie heerliker as die oue wees.

~ Die bloot tydelike en uiterlike elemente van die Ou Verbond, asook diegene wie se verbondsonderhouding niks verder as dit gekom het nie, sal deur die vuur [2] van Sy oordeel vernietig word [3].

~ Die ware Israel, diegene wat deur geloof met Hom verenig is, sal deur die Koning oorspoel word met die oorvloedige werk van die Heilige Gees - ten einde die Ou Testamentiese beloftes oor die Nuwe Verbond in hulle te verwerklik (onder meer Deut 30:6; Jer 24:7; 31:31-34; Eseg 11:19-20; 36:22-32; Hos 2:13-22; Joël 2:28-32).

# Die skeiding sou dus dramaties en totaal wees. Diegene vir wie dit in die Ou Testament net om die uiterlike en tydelike gegaan het, sou finaal verwyder word uit God se verbondsopset. En diegene wat inderdaad aan Hom behoort, sou deur veel ryker begenadiging ver bo die belewinge van die Ou Testament se ware Israel uitgelig word.

Hebreërs

# In die Hebreërboek rig die geïnspireerde skrywer hom tot Joodse Christene wat lam in die knieë is. Die eise van dissipelskap het te veel begin raak en hulle oorweeg dit om terug te keer na Ou Testamentiese seremoniële godsdiens.

# Hebreërs se waarskuwings teen so 'n omkeer kom met 'n dringendheid en 'n heilige verontwaardiging wat beswaarlik elders in die Nuwe Testament geëwenaar word. Dit word op elke denkbare manier verduidelik dat die seremonies van die Joodse godsdiens in Jesus Chrisus vervul is. Die geadresseerdes wil dus terugkeer na iets wat nie meer bestaan nie!

* Die ses pastorale waarskuwings in die boek vul enige Christen met die vrese van die Here (2:1-4; 3:7-4:13; 5:11-6:12; 10:26-39; 12:14-17; 12:25-29). So 'n terugdraai, word onmiskenbaar duidelik gesê, kom neer op 'n miskenning van wat God finaal en volmaak in Christus gedoen het. Dit word in skokkende sterk taal gesê. Dis so goed soos om die Seun van God weer te kruisig en te verag; om Hom openlik te bespot; om die bloed van die verbond te minag (Heb 6:6: 10:29). Só 'n ernstige saak is dit, dat diegene wat hulle daaraan skuldig maak, net een uiteinde het - die verskriklike toorn van God.

# Hebreërs se hele argument is gebaseer op die onderskeid tussen Ou en Nuwe Verbond - en besonderlik op die feit dat Ou Testamentiese seremonies in Jesus Christus vervul is.
Die skrywer werk sterk met die Messiaanse belofte van Jer 31 (Heb 8:8-13; 10:15-18) om te toon dat die koms van die Nuwe Verbond 'n einde gebring het aan die uiterlike en skaduagtige elemente van die Ou Verbond (8:13). Diegene wat aan die Nuwe Verbond deel het, het nou die morele Wet in hulle denke en harte (8:10). Hulle is vrygespreek en almal ken die Here [4] (8:11-12).

Gevolgtrekkings

# God het net een genadeverbond, en net een ewige Godsvolk - waaraan mens deel kry deur geloof in Christus, die Verbondshoof en Adam van die nuwe mensheid. Hierin lê die samebindende van God se raadsplan, van Sy verlossingsplan, en van die Woord as Sy besondere openbaring aan die mens.
Daar is dus 'n kontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.

# Tog is daar 'n dramatiese en uiters betekenisvolle onderskeid tussen Ou en Nuwe Verbond - en daarom tussen die dubbelslagtige Ou Testamentiese verbondsvolk en die Nuwe Testamentiese gemeente van toegewyde gelowiges. Hierdie twee verbondsbedelinge word geskei deur die vleeswording en werk van Christus, en die daarmee gepaardgaande uitstorting van die Heilige Gees.
Daar is dus 'n diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.

* Die Ou Verbond het in die teken van verwagting gestaan; die Nuwe staan in die teken van vervulling.

* Mense het deur natuurlike geboorte deel gekry aan die Ou Verbond - maar dit het op sigself nie die ewige saligheid beteken nie. Daarvoor was besnydenis van die hart nodig. Aan die Nuwe Verbond kry mens egter deel, nie deur natuurlike geboorte nie, maar deur die wedergeboorte - en dit waarborg terselfdertyd die ewige saligheid.

* Die Nuwe Verbond is kwalitatief baie ryker as die Oue. Hierdie feit lê aan die hart van die Ou Testamentiese beloftes. Die Heilige Gees, as groot gawe van die eindtyd (die tydperk tussen Christus se eerste en tweede koms), het dit kom realiseer. Die Nuwe Verbond laat dus geen ruimte meer vir die dubbele karakter van die Ou Verbond nie.

# As dit gaan oor die verhouding tussen Ou en Nuwe Verbond, staar twee gevare ons in die gesig - gevare wat teologies verwringend is, en daarom katastrofies vir prediking, pastoraat en praktyk:

* 'n Verwaarlosing van die kontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.
Diegene wat die wonderlike geïntegreerdheid van God se verlossingsplan en Woord miskyk, betaal 'n duur teologiese en pastorale prys daarvoor. Hulle kan geringskatting van die Ou Testament beswaarlik vermy, en mis sodoende groot stukke Godsopenbaring wat noodsaaklik is vir volwasse Christenskap. Ergste van alles is dat uiters belangrike aspekte van God se karakter en wese, wat net in die Ou Testament geopenbaar word, by hulle verbygaan. Uiteindelik masel hierdie dwaling uit in 'n eensydige beklemtoning van God se goedheid - ten koste van die ewe belangrike belewing van Sy strengheid, en die gepaardgaande vrese van die Here (Rom 11:22).

* 'n Verwaarlosing van die diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.
Hierdie is geen ligtelike teologiese mistasting nie. Dit bring 'n subtiele veroutestamentisering van talle Nuwe Testamentiese waarhede mee. Nêrens het dit gevaarliker en meer Godonterende gevolge as in die soteriologie (verlossingsleer) en die ekklesiologie (die leer oor die kerk) nie.

Drie praktiese implikasies

# Waar die verhouding tussen Ou en Nuwe Verbond reg verstaan word, sal die noodsaak van wedergeboorte - en dit wat daarmee saamhang - uiteraard sterk beklemtoon word (Jh 3:3-8). Die volle evangelie sal nie net na buite verkondig word nie, maar ook binne die gemeente. Gelowiges sal hulleself gereeld ondersoek of hulle in die geloof lewe (2Kor 13:5); hulle sal hulle heil uitwerk met vrees en bewing (Fl 2:12-13; 2Pt 1:10-11, OAV). Die prediking sal huigelaars vir hulleself ontbloot. En gemeentekinders sal weet dat hulle nie op hulle ouers se geloof kan staatmaak vir redding nie, maar dat hulle self voor die Here aanspreeklik is.
Waar die verskil tussen Ou en Nuwe verbond egter verwaarloos word, sal dit amper sonder uitsondering gepaard gaan met susprediking - en dikwels met dodelike dwalings soos die wederbarende werking van die doop (baptismal regeneration), en die veronderstelde wedergeboorte van verbondskinders. En talle wat onderweg is na die ewige verdoemenis, sal hulleself wysmaak dat hulle met God versoen is!

# Beide Ou en Nuwe Verbond het 'n verbondsteken wat volg op die deelkry daaraan: die besnydenis en die doop onderskeidelik. Wat die besnydenis vir die Ou Verbond was, is die doop vir die Nuwe. Die doop het dus in die plek van die besnydenis gekom.
As die diskontinuïteit tussen Oue en Nuwe egter verwaarloos word, word hierdie analogie verskraal tot 'n simplistiese gelykstelling - met die kinderdoop tot gevolg.
As die verhouding egter reg verstaan word, lei dit glashelder duidelik tot die Nuwe Testamentiese doop - die doop van gelowiges, oftewel die belydenisdoop. Waar mens Ou Testamenties deel gekry het aan die Genadeverbond (in die ruimer sin) deur geboorte, kry jy immers nou daaraan deel deur die wedergeboorte. Dít is die kwalifikasie wat die analogie tussen doop en besnydenis beheers.

# Die Nuwe Testament praat in die mees verhewe terme oor die sentrale en Godverheerlikende rol van die ware gemeente in die Here se raadsplan (vgl. onder meer Jh 17:20-23; 2Kor 11:2-4; Ef 1:23; 3:9-11, 20-21; 4:1-16; 5:25-27, 32; Op 1-3; 19:7-8). Die uitlewing van hierdie grootse roeping hang egter ten nouste af van die kerk se suiwerheid en getrouheid. Wat bring méér oneer oor die Here se Naam as 'n wêreldgelykvormige instituut wat homself die kerk van Christus noem?
As die diepgaande verskille tussen die Ou en Nuwe Verbond verwaarloos word, bring dit noodwendig 'n veroutestamentisering van die kerk mee. Gou-gou lyk die gemeente dan soos Ou Testamentiese Israel - met 'n groot komponent (dikwels die meerderheid!) ongeredde lidmate. As dit eers die geval is, is ware kerkwees per definisie onmoontlik - want mense sonder die Gees kan nie eers begin om Nuwe Testamentiese standaarde te haal nie.
As die verhouding tussen Ou en Nuwe Verbond egter reg verstaan word, word begryp dat die ware kerk 'n uit-die-wêreld-geroepte gemeente van gelowiges is. Nog meer, dan word begryp hoe kardinaal belangrik ware kerkwees is vir effektiewe evangelisering, vir die opbou van gelowiges, en vir die eer van God.

1. Daar is sprake van 3 groot verbonde in die Bybel. Eerstens is daar die Verlossingsverbond tussen die drie persone van die Goddelike Drie-eenheid - om tot hulle selfverheerliking saam te werk in die verlossing van sondaars (ook soms die Vredesraad genoem). Tweedens is daar die Werkverbond tussen God en Adam, asook daarna tussen God en die Laaste Adam - dat die mens deur gehoorsaamheid sy beloofde erfenis moes verwerf. Derdens is daar die Genadeverbond tussen God en die gevalle mens - dat elke sondaar wat hom bekeer en in algehele afhanklikheid sy geloofsvertroue in die verdienste van Christus alleen stel, deur God regverdig verklaar sal word. Hierdie Genadever-bond het 2 fases of komponente: die Ou Verbond en die Nuwe Verbond.
Die begrippe verbond en testament is in werklikheid alternatiewe vertalings van 'n enkele woord in sowel Hebreeus as Griekse. Mens kan dus, i.p.v. Ou en Nuwe Verbond, om 't ewe praat van Ou en Nuwe Testament.

2. Vanuit die konteks wys vuur duidelik op oordeel (v.10, 12).

3. Die vernietiging van die bloot uiterlike en seremoniële komponent van die Ou Verbond word dramaties gedemonstreer en verseël as God die voorhangsel tydens die kruisiging skeur (Mt 27:51). En histories is dit finaal bekragtig toe Jerusalem en die tempel in 70 nC deur die Romeine vernietig is.

4. Afrikaans vertaal 'klein en groot', en Engels 'gering en belangrik'. Taalkundig is beide moontlik.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment