Thursday, August 2, 2012

ANTIPAS HEROUT 54 - Rm 11:22 - DIE TOORN EN DIE GENADE VAN GOD - 'n Lewensnoodsaaklike balans

Wie ook al die Ou Testament eerlik lees, kry noodwendig stryd met die verskrikkinge van God se oordele. Dit vul jou meermale met skok en afsku. En daar is nie net één geval waarna ons kan verwys nie; daar is talle. Dink maar aan die volgende voorbeelde. Keer op keer skud dit mens as jy dit lees  -  veral as jy besef dat God agter alles is.
    Dink maar aan Nadab en Abihu wat ongeoorloof offer en met vuur verteer word (Lev 10). Dink aan Korag, Datan en Abiram, en hulle families, wat onder God se toorn sterf as gevolg van hulle rebellie. Dink aan die 14 700 mense wat oor dieselfde sonde net 'n dag of wat later sterf (Num 16). Onthou jy Ussa wat langs die verbondsark dood neerslaan, omdat hy die verbod van die Here oortree het deur aan die ark te vat (2Sam 6)? Kom die vuur wat oor Sodom en Gomorra reën nie van die Here af nie (Gn 19)? Onthou jy die 450 Baälprofete wat in die tyd van Elia op Karmel dood gemaak word, omdat hulle die volk tot afgodery verlei het (1Kon 18)? Wat van die herhaalde uitoefening van die banvloek op God se bevel tydens die inname van Kanaän? Onthou jy die 70 000 mense wat sterf nadat Dawid die volk getel het (2Sam 24)?
    Waarlik, daar word in die Ou Testament net soveel oor God se toorn en oordele geskryf as oor Sy liefde en genade.
 

Is die Ou Testamentiese God dieselfde Een oor Wie die Nuwe Testament skryf  -  die Een wat ons "Vader" noem? Was Jesus van Nasaret ook betrokke by hierdie Ou Testamentiese verskrikkinge?

Ons kan die probleem ignoreer soos baie. Maar 'n volstruis-benadering los geen probleem op nie. Of ons kan dink in terme van twee gode. Maar dit kán tog nie! Dan moet ons die hele Bybel oorboord gooi.
    Waarlik, as ons eerlik is, is dit 'n gewigtige probleem. En ons moet dit vierkantig in die oë kyk.
    Dit vra durf. Dis nie vir sentimenteles en oppervlakkiges nie. Want in die proses moet ons probeer intuur in die duiselingwekkende dieptes van God, die verskriklike.
    Ten minste sal ons nader moet kyk na God se karakter. Híér moet ons begin! Voordat jy nie iets verstaan van wie en wat God is nie, sal jy tevergeefs probeer om die probleem op te los.
    Dis een van die grootste dilemmas van die kontemporêre kerk: mense ken God nie! 'n Groot deel van die kerk is vandag gebou op mensgesentreerde sentimentaliteit, sensasie, opwinding en blote belewing. En helaas immuniseer niks teen die waarhede van God se Woord soos hierdie dinge nie. Daarom sit tienduisende vandag op kerkbanke met allerlei gebrekkige en verwronge idees oor God. Hulle ken God nie!

God se heiligheid

Die begrip "heiligheid" in die Skrif dui ten diepste op afgesonderdheid. Toegepas op God dui dit op Sy transendensie  -  die feit dat Hy ver bo Sy skepping verhewe is. Hy is die Gansandere!
     Hieruit volg dan die feit van Sy etiese volmaaktheid  -  want hierin, dalk meer as enigiets anders, verskil Hy van die mens. Hy is die somtotaal van alle morele skoonheid en suiwerheid. Wie en wat Hy is, is meteen die definisie van wat reg en heilig is.
    Sonde is daarom algeheel onversoenbaar met God se persoon en karakter. En aangesien geen mens algeheel vry van sonde is nie, kan niemand God sien en bly lewe nie. Ja, as jy baie toegewyd lewe, mag jy dalk begenadig word om, soos Moses, Hom "van agter" te sien. Maar selfs vir Moses sê Hy dan: "Niemand mag my gesig sien nie" (Eks 33:20-23).
    Daar was al mense wat iets van die driemaal heilige God gesien het. Vir almal van hulle was dit 'n amper vernietigende ervaring wat 'n onuitwisbare indruk op hulle gelaat het. Moses maak Sy gesig toe (Eks 3:6). Jesaja word oorweldig deur sy eie onreinheid (Jes 6:5). Job verag homself (Job 42:6). Esegiël stort in duie (Eseg 1:28). Daniël val bewusteloos op sy gesig (Dn 10:9). Johannes sak soos 'n dooie neer (Op 1:17).

God se toorn

God se toorn is 'n noodwendige uitvloeisel van Sy heiligheid; dit is, trouens, onlosmaaklik verbonde daaraan. Ons sou dit só kon definieer:
 

God se toorn is, eerstens, Sy ewige en absolute afkeur van alle ongeregtigheid en sonde  -  van alles strydig met Sy persoon en karakter. En, tweedens, is dit Sy handelinge om uitdrukking te gee aan hierdie afsku.

 Eenvoudig gestel:

 God se toorn is Sy heiligheid in aksie teen alle sonde.
 

Omdat God heilig is, haat Hy alle sonde; en omdat Hy sonde haat, brand Sy toorn teen die sondaar.

God se toorn is net soveel een van die volmaakthede van Sy karakter as Sy liefde, trou en genade. In Sy wese is daar geen skaduwee van sonde nie. Maar ongeërgdheid, apatie, afsydigheid teenoor sonde, sou getuig het van morele onvolmaaktheid in Hom.
    Laat ons dus verstaan:
 

Soos die ewige saligheid van regverdiges vanuit God se volmaaktheid vloei, net soveel is die onverganklikheid van ewige helse smarte vir sondaars ook die gevolg daarvan.

Daar is meer verwysings in die Bybel na God se toorn en oordele, as na Sy liefde en genade. As die Skrif dan God se selfopenbaring aan ons is, wil Hy kennelik hê dat ons ook goed van Sy toorn sal kennis neem  -  en Hom daaroor sal verheerlik.
    Geen mens hou van nature hiervan nie, maar presies só hou die Bybel God aan ons voor!
    Laat ons nie net vrede maak met hierdie feit nie, maar dit ook dikwels bepeins. Dan sal ons die erns van sonde verstaan; dan sal die noodsaaklike en heilige vrese van die Here in ons harte kom vestig  -  en dan sal ons die wondere van ons verlossing des te meer waardeer (indien ek dan inderdaad gered is).
    Een van die heel grootste gevare wat ons in die gesig staar, is om 'n eensydige en verwronge beeld van God in ons gedagtes op te tower  -  'n beeld volgens ons eie onheilige geneigdhede en begeerlikhede. Nie alleen is dit die toppunt van selfmisleiding nie; dis ook die wese van afgodery.

Die God van onuitspreeklike genade

 
In die Ou Testament was daar meer as 40 sondes waarvoor volgens wet die doodstraf opgelê moes word. Ons praat onder meer van sondes soos die slaan of vloek van ouers, ontvoering, okkultiese praktyke, homoseksuele praktyke, die beoefening van vals profesie, afgodery, oortreding van die Sabbat, laster, ensovoorts.
    Vir ons klink dit vandag kras, brutaal, afstootlik. Maar tog verteenwoordig die Ou Testamentiese lys van doodsondes 'n verstommende verslapping van God se oorspronklike verordening. Trouens, dit dui op die ongelooflike genade van God!
    Om hierdie stelling te verstaan, moet ons teruggaan na die begin toe. In die paradys, voor die sondeval, spreek God in die duidelikste terme die doodsvonnis uit oor die mens indien hy van die boom van kennis van goed en kwaad sou eet (Gn 2:17 en 3:3). Ten spyte daarvan eet die mens. En hoewel hy geestelik sterf, bly hy onder God se verdraagsaamheid fisies lewe  -  in elk geval nog vir baie jare. Die punt is, die mens is glashelder duidelik gewaarsku  -  en met sy sonde het hy alle aanspraak op lewe verbeur. God is geen lewe aan hom verskuldig nie.
    Gesien in die lig van bogenoemde, is die diepste geheimenis van sonde, níé dat die sondaar verdien om te sterf nie, maar die feit dat die deursnee sondaar so lank bly leef. Die vraag is nie waarom God sonde straf nie, maar waarom Hy die mens se voortslepende rebellie so toelaat? Watter aardse vors sou dit doen?
    Nou word dit duidelik: die Ou Testament is nie in die eerste instansie die geskiedenis van 'n vertoornde God nie  -  verre daarvandaan. Dis die geskiedenis van God wat geduldig en genadig is in die oortreffende trap! Die Ou Testament is die trompetgeskal van God se onbegryplike genade!
    Waarom is God so geduldig? Waarom hou Hy die valbyl van Sy toorn terug? Die Bybel se antwoord is duidelik: sodat sondaars geleentheid kry om hulle te bekeer. Sê Hy nie uitdruklik in onder meer Eseg 18 dat Hy geen behae het in die dood van 'n sondaar nie? Was die offerstelsel nie 'n tydelike bedekking van die volk se sonde totdat Christus daarmee sou kom werk maak nie? Per slot van rekening beteken die woord "versoening" (Hb. kaphar) om te bedek.

Nog twee probleemvrae

Ons kan maklik aantoon dat al die mense wat op so 'n verskriklike wyse in die Ou Testament gesterf het, inderdaad skuldig was in terme van God se standaarde. Maar twee probleme bly staan.

•    Vraag 1: Waarom, wat die uitstorting van God se toorn betref, ervaar ons so 'n groot verskil tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament?
Eerstens moet mens verstaan dat daar geen verskil in wese is nie. Jesus noem die God van die Ou Testament "Vader". Dis die God van Abraham, Isak en Jakob van wie Jh 3:16 sê dat Hy Sy Seun gestuur het, omdat Hy die wêreld so lief het. Die ywer wat in God was toe Nadab en Abihu gesterf het, is presies dieselfde ywer wat in Jesus gebrand het toe Hy die tafels in die tempel omgekeer het.
    Tweedens moet ons verstaan dat ons net met 'n verskil van graad te doen het. Ons sien soveel méér van God se genade in die Nuwe Testament. Maar ewe waar is dit dat ons ook soveel meer van God se toorn in die Nuwe Testament sien. Lees die boek Openbaring, en dit laat God se toorn in die Ou Testament na 'n Sondagskoolpiekniek lyk. Dink maar aan die seëls en die trompette en die bakke.
    Al verskil tussen Ou en Nuwe Testament is dus gewoon dat die Nuwe die persoon en karakter van God net soveel duideliker in fokus vir ons plaas.

•    Vraag 2: Waarom sterf net sommige, terwyl meeste bly lewe?
Die mens is geneig om genade mettertyd as vanselfsprekend te aanvaar. En na 'n tyd dring hy daarop aan. Daarom vind God dit nodig om van sekere mense voorbeelde te maak  -  om ons te herinner dat Hy heilig is, en sonde haat, en dat genadetyd niks anders as bekeringstyd is nie.
    Omdat God se normale handelswyse dié van geduld en genade is, neem mense aanstoot as Sy toorn net vir 'n oomblik flits. Die probleem is dat genade ons nie meer beïndruk nie. Ons het gewoond geraak daaraan. Ons maak, trouens, daarop aanspraak.
    In plaas van hulle te bekeer, misbruik mense genadetyd deur in sonde te volhard en uitdagend grens na grens oor te steek.
    Die grootste wonder van ons dag is God se geduld. Die toppunt van dwaasheid is om te dink jy sal met jou sonde wegkom. Mense glo steeds Satan se leuen: "Julle sal beslis nie sterf nie" (Gn 3:4).

Die Here se oproepe tot bekering

 
Die Woord van God is vol dringende oproepe tot bekering, solank dit nog genadetyd is. Ook óns in hierdie moderne tyd, moet die Here se stem daarin hoor.

•    2Pt 3:9: "Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dink nie, maar Hy is geduldig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom."

•    2Kor 5:20: "Ons bid julle om Christus wil: laat julle met God versoen."

•    2Kor 6:2: "Kyk, nou is dit die tyd van welbehae; kyk, nou is dit die dag van heil."

•    Jes 55:6: "Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is."

•    Jes 55:1-3: "Kom, almal wat dors is, kom na die water toe ... kom koop ... sonder geld ... wyn en melk ... Ek wil My troue liefde aan julle betoon."

Lk 13:1-5 : Niemand is onskuldig nie

Mense is geneig om genade as vanselfsprekend te aanvaar. Dis omdat hulle dink dat God eintlik vergiffenis en guns aan die mens verskuldig is. Hulle reken die mens is nie regtig só strafwaardig nie. Ja, niemand is volmaak nie, maar enige ouer aanvaar dat sy kinders sekere blindekolle en ondeundhede het. Dis tog normaal!
    In Lk 13 gebruik Jesus twee tragedies om hierdie saak in die regte perspektief te stel.
    Soos vandag het daar ook destyds allerlei skokkende rampe plaasgevind. Ook tóé het mense gevra hoe God dit kan toelaat  -  as Hy dan 'n goeie, liefdevolle en soewereine God is?

•    Terwyl mense in Galilea geoffer het, het Pilatus hulle laat vermoor  -  goeie, godsdienstige mense wat nie 'n vlieg sou skade aandoen nie.

•    Terwyl mense heel onskuldig in die straat afstap, tuimel die toring van Siloam op hulle ineen, en agtien is dood. Waarskynlik was dit ordentlike, wetsgehoorsame en gewone mense wat van die winkel af gekom het. Hulle het niemand gemolesteer of 'n bank beroof nie. Só 'n skokkende dood het hulle allermins verdien. Heel moontlik was daar nog onskuldige kinders ook onder hulle.
    Waar was 'n God van liefde in hierdie tragedies? Dis die vraag waarmee die mense Jesus heel waarskynlik konfronteer.
    Let eerstens op wat Jesus níé sê nie.

•    Hy het nie 'n filosofiese benadering nie. Hy trek nie Sy skouers op, en sê hulle was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek nie. Hy sê nie Hy is vreeslik jammer om dit te hoor, maar dat dié soort ding maar gebeur nie.

•    Ook maak Jesus nie jakkalsdraaie nie. Ewe min poog Hy om Sy Vader se kastaiings uit die vuur te krap. "Ek weet Ek leer julle van die mossies en die hare wat nie op die grond val sonder God se wil nie. Maar julle moenie alles so letterlik opneem nie."

Nee, die Here Jesus kom met 'n onverwagse, trouens, skokkende respons: "... as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom!" En om dit by Sy hoorders tuis te bring, herhaal Hy die stelling (3, 5).
    Wat die Here vir Sy omstanders sê, is dat hulle die verkeerde vrae vra. Eintlik moet hulle vra: "Waarom het die toring nie op mý kop geval nie? Ek verdien dit immers net soveel!"
    Een van die mens se mees tartende sondes is sy mentaliteit van self-verontskuldiging: "Ek is onskuldig! Nou ja, ek is nie 'n engeltjie nie. 'n Mens bly mos maar 'n mens. Maar ek weet vir seker dat 'n God van liefde my nie sal kwaad aandoen nie  -  nie mý God nie!"
    Wat die Here wil tuisbring, is dat alle mense in Adam sondaars is en onder God se toorn verkeer  -  selfs die mees ordentlikes. En hulle is die dood skuldig. Daar is geen uitsondering nie. En dis nie bloot 'n Ou Testamentiese perspektief nie. Dis deur en deur 'n Nuwe Testamentiese beklemtoning.

Die ergste uitgieting van God se toorn

Daar is reeds daarop gewys dat die uitstorting van God se toorn in die Openbaringboek selfs die mees skokkende flits van Sy oordeel in die Ou Testament na 'n Sondagskoolpiekniek laat lyk. In die Nuwe Testament lees ons egter van 'n nóg erger uitstorting van  God se toorn  -  baie, baie erger! Ek praat van Golgota!
    Wat het aan die kruis gebeur?
 

Die sondeskuld van miljoene mense is op die één Mens gelaai wat deur die eeue werklik onskuldig was. Dáár het die ewige verdoemenis van ontelbaar baie mense gekonsentreerd op Hom in gebrandglas.

Ja, Sy fisiese lyding was onbeskryflik erg. Maar derduisende ander het dit ook verduur. Ergste van alles was gewis Sy geestelike lyding. Ons praat van die ewige helse smarte van die dermiljoene mense vir wie Hy gesterf het, wat Hy moes verduur. Aan die kruis het Hy immers Sy Vader se regverdige toorn oor die sondes van een en elke uitverkorene volkome gedra.
    Onthou, geen sonde bly ongestraf nie. Óf dit word aan die sondaar self gestraf  -  met ewige smarte in die hel die gevolg. Óf dit word aan Christus gestraf.

Indien daar ooit 'n man was wat kon kla oor die behandeling wat hy van God gekry het, was dit sekerlik Jesus van Nasaret. Hy was immers volkome onskuldig. 

As jou sentimentele siel aanstoot neem aan God se toorn in die Ou Testament, moet Golgota vir jou afstootlik wees! As jy gril vir Sodom en Gomorra, moet Golgota jou blind van woede maak!

Inderdaad sou God Sy Seun onregverdig behandel het as Jesus Christus nie vrywillig ons oordeel op Homself geneem het nie. Maar gedring deur Sy liefde vir Sy Vader en Sy liefde vir diegene wat die Vader aan Hom toevertrou het, het Hy met 'n hart van volkome oorgawe onder ons sondeskuld ingeklim (Jh 10:11, 15, 17, 18; Ef 5:2; Fl 2:6-8).
    Só het Hy sonde vir ons geword; só het Hy sonde voor God geword.
 

God se toorn het genadeloos  -  golf na woedende golf  -  met meedoënlose intensiteit oor Hom gespoel.

Golgota was ten diepste die Vader se inisiatief. Dis Hý wat Sy Seun daar "gegee" het (Rm 3:25). Letterlik sê die betrokke werkwoord dat die Vader Sy Seun op Golgota voor Homself neergesit het.
    Hoe aangrypend voorsien Jesaja dit nie! "... ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom ... Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly." (53:4-5, 10).
    Waarlik, die geregtigheid van God het vereis dat nie ligtelik met sonde gewerk word nie!

Die kroon van God se genade

Op Golgota sien ons nie net God se toorn in aksie teen menslike sonde nie; ons sien ook die helderste uitdrukking van Sy genade. Ons sien Sy geregtigheid en toorn, enersyds, en Sy guns en liefde, andersyds, in die mees intieme omhelsing. Want ons kan verseker weet: elke kriesel skuld van elke uitverkorene deur alle eeue is volkome daar betaal!
    Sal ons tot in ewigheid kan ophou om verwonderd te staan oor só 'n liefde? Vir diegene wat vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid, waarlik in Hom skuil, het Jesus Christus die toorn teen ál hulle sondes eens en vir altyd gedra  -  volkome!
    Iewers definieer J.I. Packer God se genade min of meer só:

 "Dit is God se soewereine en spontane goedheid en Sy reddende guns teenoor sondaars, wat daarin tot uitdrukking kom dat Hy, op grond van die versoeningswerk van Christus , sondaars red van Sy toorn  -  en só afstootlikes liefhet, hulle sonde vergewe, hulle aanneem as Sy kinders, Homself aan hulle openbaar, hulle in al Sy volheid inlei, en alle struikelblokke in Sy pad oorkom om dit te bereik."

God se genade red nie net nie; dit dam ook sy toorn vir 'n tyd lank op

Laat ons baie goed verstaan: nie 'n enkele van God se attribute is uit pas met enige van Sy ander attribute nie. Daarom staan dit so vas soos die berge: God se genade hef nooit Sy toorn op nie. Dit is per slot van rekening waarom Sy Seun moes sterf. Nee, uiters dam Sy genade Sy toorn vir 'n tyd lank op.
    Maar soos enige dam net sóveel kan vat voor dit breek, gaan ook God se genadetyd verby. Die dag kom onafwendbaar dat Sy toorn op 'n ongeëwenaarde wyse oor die bewoners van hierdie wêreld sal spoel. Die vuur en swael oor Sodom en Gomorra sal soos 'n kersvlammetjie wees in vergelyking daarmee.
Só word dit in die Openbaringboek beskryf: "In daardie tyd sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; hulle sal verlang om te sterwe, maar die dood sal hulle ontwyk" (9:6). Al die mense " ... het in die grotte en onder die kranse ... weggekruip. Hulle het vir die berge en die kranse gesê: Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?" (6:15-17).
    Soos witwarm lawa sal God se toorn elke grot en skeur onkeerbaar binnespoel. Elkeen wat volhardend in ongeloof, en in sonde en rebellie geleef het, sal verswelg word. Maar niemand sal sterf en só die oordeel ontkom nie. Trouens, tot in ewigheid sal dit die grootste enkele versugting wees  -  om tog te kan sterf. Maar dit sal 'n tevergeefse begeerte wees.
    Is dit nie te sterk gestel nie? Is dit nie naïewe bangmaakstories nie?
    Kom ons antwoord dit met 'n teenvraag. Leer God se Woord dit, ja of nee? Die Bybel is mos daar vir een en elkeen van ons om te lees, nie waar nie?
    Dit help nie om ons koppe in die sand van wensdenkery weg te steek nie. Laat ons die morele moed hê om volgens ons belydenis die Woord van God ernstig op te neem  -  sonder om by te voeg, sonder om weg te neem.
    Sal daar wel iemand vrykom? Ja, ja! Baie!
    Wie is hulle? Diegene wat in die voorbrand skuil  -  daar waar God se toorn reeds vantevore gebrand het. En waar is dit? Golgota, Golgota!
    Diegene wat in die tyd van genade in Christus ingevlug het, sal op daardie dag  -  en tot in ewigheid  -  veilig en beskerm en onbedreig wees. Onomkeerbaar geborg! Welgeluksalig vergenoegd! Knus in die Here se omhelsing!

Hoe vlug ek in Christus in?

Die Nuwe Testament het net één antwoord: deur die geloof in Christus alleen!
    Christus, Christus, Christus! Hy en Hy alleen! Vertrou Hom. Nael jou oë op Hom vas. Werp jouself met alles wat jy is en het op Hom. Jy moet Hom en Sy verdienste toe-eien; jy moet jouself aan Hom toevertrou; jy moet jouself aan Hom toewy.

Jy sê jou geloof is te swak. Die Here beloof Hy sal die geknakte riet nie breek nie, die rokende lamppit nie uitblus nie (Mt 12:20). Sy beloftes word nie slegs aan sterk geloof gegee nie. Nee, dit word aan egte geloof gegee.

 Die krag van ware geloof lê juis in sy swakheid, sy afhanklikheid, sy bankrotskap!
Wat moet mens dan doen om gered te word? Allereers moet ons saamstem.

     Stem jy saam dat jy 'n sondaar is wat hoegenaamd nie aan God se standaarde kan voldoen nie?
    Stem jy saam dat jou beste godsdienstige en morele pogings jou nooit vir God aanvaarbaar kan maak nie?
    Stem jy saam dat Christus jou enigste hoop is?
    Stem jy saam dat die Bybel 'n oop en ongekwalifiseerde uitnodiging rig aan elke sondaar om hom of haar met God te laat versoen?
    Stem jy saam dat jy nie maar op jou hande kan sit en wag dat iets gebeur nie  -  dat jy dus iets moet doen?
    Stem jy saam dat jy 'n kwaliteitsbesluit sal moet neem?
    Stem jy saam dat die Here alle sondaars oproep om hulle te bekeer en die evangelie te glo?
    Stem jy saam dat dit huigelagtig is om te sê jy vertrou Christus as Verlosser, terwyl jy Hom nie as Koning dien nie?
    Stem jy dus saam dat integriteit van jou sal vereis om jouself lewenslank aan Christus se regering te onderwerp?
    Stem jy saam dat niemand die vermoë het om hierdie dinge te glo, te doen en te bly uitleef, as die Here hom nie help nie?
    Stem jy dus saam dat elke tree vorentoe in biddende afhanklikheid van die Heilige Gees gegee sal moet word?
 

Hier is dan nou die wonderlikste van alle uitnodigings  -  die Bybel se vyfde laaste vers: "Die Gees en die bruid sê: 'Kom!' En elkeen wat dit hoor, moet sê: 'Kom!' En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!" (Op 22:17).

                                                                                                                               Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment