Thursday, July 19, 2012

ANTIPAS HEROUT No.7 - DIE OPSTANDING VAN JESUS CHRISTUS - Persoonlik, Histories, Fisies

"Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie." (Mk 16:6)


Bogemelde vers is een van die mees triomfantelike Skrifuitsprake in die ganse Bybel. As daar een waarheid is wat die Nuwe Testament in sy lesers se harte wil ingrafeer, is dit dat Christus persoonlik, liggaamlik  en histories opgestaan het uit die dood.
    Al vier die Evangelies beskryf dit uitvoerig. In Handelinge is dit reg van die begin af keer op keer aan die hart van die apostels se prediking (vgl. o.a. Hd 2:29-32; 3:15; 5:30). Dis geen wonder nie, want hulle het uitdruklik opdrag gehad om daarvan te getuig (Lk 24:46-48) en het dit duidelik as 'n absolute prioriteit verstaan. Toe 'n opvolger vir Judas Iskariot aangewys moes word, is sy taak en kwalifikasie in soveel woorde uitgespel: hy moes 'n oog- en oorgetuie van Jesus se lewe en werk wees; en van alles wat hy beleef het, moes hy veral van die opstanding gaan getuig (Hd 1:21-22).
    In die apostoliese briewe kom die opstanding weer en weer ter sprake en die heilsbetekenis daarvan word puntenerig uitgewerk.

    Sonder twyfel het die apostels van 'n persoonlike, liggaamlike en historiese opstanding getuig  -  en dit saam met kruis en pinkster as die essensie van die evangelie beskou.

Modernistiese beskouings

Ten spyte van die Nuwe Testament se klinkklare getuienis, herdefinieer talle ongeloofsteoloë vandag die opstanding van Christus  -  alles in 'n poging om van die bonatuurlike in die Christelike geloof te ontkom. Volgens hulle het Hy nie persoonlik, liggaamlik en histories opgestaan nie, maar bloot in die harte, herinneringe en toegewyde lewens van die vroeë kerk. Dit is, sê hulle, soos 'nVerdi wat steeds op die operaverhoë van die wêreld "voortleef".
     Hierdie standpunt neem ook onrusbarend in Suid-Afrika toe en word al hoe meer openlik verkondig, soos talle denominasies die begeerte en vermoë om leertug toe te pas, verloor. Tog is die "man in die bank" dikwels beswaarlik daarvan bewus, omdat hierdie mense steeds Bybelse woorde gebruik en naïewe kerkgangers nie besef dat 'n ander inhoud daaraan gegee word nie. Op die oor af klink alles dus regsinnig, maar iemand wat weet waarna om te luister, kan die slang in die gras bespeur deur te let op wat nié gepreek word nie.

Waarom so belangrik?

Daar is veral drie redes waarom dit lewensbelangrik is dat Jesus Christus persoonlik, liggaamlik en histories opgestaan het  -  en ons dit so preek en glo.

•    Eerstens is die opstanding die onomstootlike bevestiging van Jesus Christus se persoonlike aansprake terwyl Hy hier op aarde was.
Sonder blik of bloos het Hy in die dae van Sy vernedering talle verbysterende aansprake gemaak. Hoeveel maal het Hy nie gesê dat Hy die Seun van God en God die Seun is nie; dat Hy die Messias en vervulling van die Ou Testamentiese profesieë is; dat Hy die Regter van die wêreld is?
    Sou hierdie aansprake nie wáár wees nie, is niks wat Hy gesê het betroubaar nie, allermins Sy beloftes. Trouens, dit sou moeilik wees om Hom nie as 'n versteurde te beskou nie.
    Op aarde was Sy aansprake inderdaad deur talle asemrowende tekens en wonders bevestig. Maar dan word Hy gekruisig  -  en almal twyfel. Was dit die einde van net nog 'n versteurde man se grootheidswaan? Sekerlik was dit van die Emmausgangers se worstelgedagtes: "Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos" (Lk 24:21).
    Maar op die derde dag het die grootste en finaalste van alle tekens waar geword! Dit is presies wat Hy lank tevore belowe het (Jh 2:18-22). Sy opstanding was die absolute bevestiging van Sy hemelse gesag en sending. Presies dit is wat die Emmausgangers verstaan het en waarom hulle die hele 12 kilometer terug Jerusalem toe gehardloop het: "Die Here het regtig opgestaan ...!" (Lk 24:34). Hulle het die implikasies verstaan: Hy is presies wie en wat Hy gesê het Hy is!

•    Tweedens is die opstanding die onfeilbare waarborg dat Jesus Christus se middelaarswerk ter wille van sondaars volkome deur die Vader aanvaar is.
Is daar regtig vir my versoening gedoen? Kan ek regtig die dood en wat daarop volg met vertroue tegemoet gaan? Die Nuwe Testament se antwoord is onomwonde: As jy in Christus ingevlug het, inderdaad! Waarom? Christus het opgestaan! Die Hoof is reeds by die Vader; die liggaam sal vir seker volg!
    Die Jode het eeue gewag vir die Messias, "... die uitverkorene van God ..." (Lk 23:35). Ten spyte van die volk se aanvanklike opgewondenheid oor Jesus van Nasaret, het hulle algaande ontnugter geraak, omdat Hy nie 'n nuwe politieke bedeling volgens hulle verwagtinge gebring het nie. Die kruisiging, as teken van God se vervloeking (Deut 21:23), is dan vir hulle die laaste strooi. Tog, as hulle Hom spottend uitdaag om van die kruis af te kom (Lk 23:35-36), sit daar waarskynlik tog 'n sprankie hoop ook in. Sou Hy nie dalk op hierdie dramatiese oomblik met 'n goddelike kragtoer kom nie? Maar Hy sterf!
    Die opstanding is egter God se uitverkiesende handeling. Dit, meer as enigiets anders, is die Vader se proklamering dat die Seun Sy reddingsmissie na hierdie wêreld volmaak voltooi het (Rm 1:4; Hd 17:31). Alle eise van geregtigheid is bevredig  -  die uitverkorenes is onomkeerbaar losgekoop!

    Sonder die opstanding het ons geen versekering dat Christus se werk enige gewig by God dra nie, maar as Hy dan inderdaad opgestaan het, het ons alle grond om die ewigheid met groot en opgewonde verwagting tegemoet te gaan!

•    Derdens is die opstanding Jesus Christus se toetrede tot 'n volgende, absoluut noodsaaklike fase van Sy verlossingswerk.
Terwyl die regsbasis vir gelowiges se verlossing finaal afgehandel daargestel is aan die kruis, sal die uitwerk daarvan eers met hulle heerlikmaking voltooi wees. Met laasgenoemde werk bly Christus in Sy verheerlikte staat steeds besig.
    Hoe werk Hy dit uit wat hier op aarde uitstaande is? Hy doen dit deur die werk van die Heilige Gees! (Hd 2:32-36). Die Nuwe Testament is vol hiervan.
    Christus is in al Sy hoedanighede met hierdie werk besig. As Profeet is Hy Here van die oes, wat werkers in die oes uitstuur om die evangelie aan alle nasies te verkondig (Mt 9:36-38). As Priester tree Hy vir die gelowiges by die Vader in, ten einde hulle "in volkomenheid in" (Grieks) te red (Hb 7:25. Vgl. ook Jes 53:12; Rm 8:34; Hb 9:24; 1Jh 2:1). As Koning onderwerp Hy Sy vyande en oordeel Hy hulle eendag (Hd 17:30-31; 1Kor 15:24-28; Ef 1:20-23).

    Elke Christen weet die Here moes sterf sodat mense gered kan word, maar hoeveel besef dat dit net so noodsaaklik was dat Hy weer moes léwe!
   
Sonder die opstanding is alles tevergeefs

In 1 Kor 15:12-19 werk Paulus die implikasies uit indien Christus nie sou opgestaan het nie (14,17). In die lig van bogemelde is sy skokkende gevolgtrekkings waterdig. Alles draai hier om: het Christus régtig opgestaan?

•    Die apostels se prediking sou sonder inhoud en gevolglik tevergeefs gewees het (14).
Hulle bekeerlinge het dan 'n leuen geglo, en 'n dooie verlosser vertrou  -  met alle prediking sedertdien ewe misleidend en futiel.

•    Ons geloof sou tevergeefs gewees het (14).
Die hand waarmee ek na Christus gegryp het, het dan net lug gegryp. Die anker wat ek in Hom beleef, was dan net 'n illusie; die wedergeboorte en regverdiging waarvan ek getuig, net bluf; die heerlikmaking waarop ek hoop, bloot 'n lugspieëling; my kruisdra en self-aflegging, totaal futiel!

•    Ons sou nog gevangenes van ons sondes gewees het (17).
Al roem ek in Ef 2:4-10, sou verse 1-3 steeds my toestand skets  -  geestelik dood; in slawerny van my vlees, die wêreld en die duiwel; onder die toorn van God. Ek sou net sowel in Plato of Ghandi kon glo!

•    Die apostels sou vals getuies gewees het (15).
Christus se opstanding was aan die hart van hulle verkondiging. Was hulle verkeerd, stort alles in duie  -  en is die Nuwe Testament die grootste bedrogspul van alle eeue.

•    Diegene van wie ons glo dat hulle in Christus gesterf het, sou verlore wees (18).
Waarom? Omdat die Vader dan nooit Christus se middelaarswerk aanvaar het nie!

"Wag", sê iemand, "ons het darem Sy inspirerende lering en voorbeeld. Hoeveel armer sou ons nie gewees het sonder die veredelende invloed van die bergpredikasie nie! Al sou Hy nie opgestaan het nie, leef Hy ten minste in ons harte, ons herinneringe, ons medemenslikheid voort."
    So 'n argument hou egter geen troos vir Paulus in nie, en sy respons is eenvoudig: "As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense" (19). Waarom? Vir hom (onthou, hy skryf onder inspirasie van die Gees) verdwerg die behoefte aan 'n beter wêreld voor sy allesoorheersende nood  -  verlossing van sondes, vrywaring van God se toorn, beërwing van die ewige saligheid!
    Die apostel kan tot net een slotsom kom: "As die dooies nie opgewek word nie, laat ons eet en drink, want môre sterf ons" (32).

    Kennelik het Paulus se Christenskap nie oor 'n beter wêreld gegaan nie, maar oor 'n salige hiernamaals!

Die historisiteit van die opstanding

Ons móét dus weet! Het Hy régtig opgestaan  -  persoonlik, liggaamlik, histories? Hoe kan ons vasstel, waar kan ons uitvind?
    Daar is onweerlegbare historiese bewyse. 'n Historiese feit word normaalweg deur enigeen van die volgende vier dinge bevestig: ooggetuies se getuienis, institusionele instellings wat daaruit spruit, gebruike en tradisies wat daarheen teruggevoer kan word, en fisiese oorblyfsels soos bouvalle en dies meer. Eersgenoemde drie staan vas m.b.t. die opstanding. En dis goed dat geen fisiese oorblyfsels bestaan nie, want afgodery sou beslis die gevolg gewees het (vgl. die koperslang, Num 21:9; 2Kon 18:4).

•    Daar was baie getuies. Presies dit is Paulus se punt in 1Kor 15:5-8. Die hart van die apostels se roeping was om van die opstanding te getuig. En talle ander het ook die opgestane Christus gesien  -  selfs meer as vyfhonderd tegelyk (15:6). Enige regter sou sonder huiwering uitspraak gee op grond van mindere getuienis. Natuurlik leef die apostels nie meer nie, maar ons het hulle geskrifte  -  en 'n verskeidenheid onderling-bevestigende dokumente van verskillende skrywers maak 'n historiese feit vas.

•    As institusionele instelling bestaan die kerk (met die opstanding as sentrale element van geloof) al vir meer as twintig eeue  -  groeiend, onvernietigbaar en florerend onder vervolging.

•    En die nagmaal, die doop en die Sondag was nog altyd gebruike waar die kerk ook al is  -  en in elkeen word die opstanding onder meer herdenk.

Persoonlike ontmoeting

Bogemelde is alles goed en wel. Maar 'n mens soek meer as bloot intellektuele argumente, nie waar nie. Ons het behoefte aan 'n diepere wete. 'n Tomas sit in elkeen van ons.

    Dis nog steeds so dat niemand régtig glo, tensy hy die opgestane Christus persoonlik ontmoet het nie!

In Sy goedheid maak die Here voorsiening vir ons probleem. Dis wat Jesus in Jh 20:29 belowe as Hy sê dat mense sal glo, sóós Tomas, maar sonder dat hulle sien. En na die hemelvaart het mense dit presies so ervaar. Daarom kon Petrus in sy eerste brief skryf: "Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap" (1:8-9).
    Op 'n geheimenisvolle wyse werk die Heilige Gees deur die Woord om die gawe van geloof en die innerlike wete te vestig dat Christus alles is wat die evangelie oor Hom getuig  -  ook dat Hy opgestaan het uit die dood. En wie kan ontken dat dermiljoene deur die eeue, uit alle lae van bykans elke samelewing, dit lewensveranderend só ervaar het? En was derduisende nie bereid om die hoogste tol te betaal nie  -  omdat hulle op geen manier bereid was om hierdie oortuiging te versaak nie?

Wat beteken die opstanding vir my lewe hier en nou?

Ongeloofsteoloë sê dat Jesus net in die herinneringe van die vroeë kerk opgestaan het.
    Daar was wel 'n tyd toe Jesus se dissipels nét herinneringe aan Hom gehad het, niks meer nie. Dit het drie dae geduur  -  tussen kruis en opstanding. En tydens hierdie drie dae was hulle die mees moedelose en uitsiglose mense in Palestina. Die oomblik toe hulle egter besef Hy het waarlik opgestaan, het alles verander. Hulle is gelanseer om onstuitbaar doelgerig van die mees dinamiese en invloedrykste lewens ooit te leef.

    Let wel, herinneringe kon hulle nie troos of inspireer nie  -  dit was die wete dat Hy régtig opgestaan het!

Presies hier is die rede waarom kerke begin sterf sodra hulle die bewussyn van 'n opgestane, lewende, heersende, komende Koning verloor. Stroop 'n kerk van sy "salige hoop" (Tit 2:13)  -  en dadelik raak hy traag en koersloos. En kort voor lank sterf en fossileer hy. Die vernietigende effekte van ongeloofsteologie is daar vir almal om te sien. Sien ons dit nie tans in ons land nie?
    Die opstanding is egter nie net, sê maar, van emosioneel-inspirerende waarde nie. Dit gaan om veel, veel meer. In Fil 3:10 sê die apostel dat "die krag van Christus se opstanding" een van die dinge is wat hy in sy lewe najaag. Die Skrif leer dat daar 'n onlosmaaklike band bestaan tussen die Here se opstanding (en gevolglik die opgestane Here) en my geestelike lewe hier en nou. Die opgestane Christus heers in hulle wat aan Hom behoort  -  met ingrypende, ervaarbare, waarneembare effekte!
    Wat is die aard van hierdie effekte? Paulus werk dit o.a. in Rm 6 en Ef 1:19-2:7 uit.
    In Rm 6 sê hy dat die gelowige nie net saam met Christus gekruisig is nie, maar dat hy ook saam met Hom opgestaan het. Dis net 'n ander manier van sê dat die opgestane Christus 'n opstandingslewe in hom werk. En wat is die gevolg? Hy kán eenvoudig nie in sonde volhard nie, maar lei 'n nuwe lewe (4)  -  'n lewe van heerskappy oor die sonde.

Wat beteken die opstanding vir my in die hiernamaals?

As Christus se opstanding sentraal is in my geloof en ek die krag daarvan in my lewe ervaar, het ek alle rede om seker te wees van ook mý toekomstige opstanding en onsterflikheid!
    Volgens 2Tm 1:10 het Christus deur Sy opstanding die mag van die dood verbreek en die onverganklike lewe aan die lig gebring. En 1Kor 15:20-23 verseker ons dat daar 'n onbreekbare band is tussen Sy opstanding en die opstanding van diegene in Hom. Vgl. ook Rm 8:11.
    Sy opstanding en ons opstanding is bloot twee fases van een en dieselfde proses  -  die vervolmaking van God se nuwe mensheid. Hy is die Eersteling, en niks kan verhoed dat Sy gemeente mettertyd volg nie!
    C.S. Lewis het dit iewers só gestel: "Deur Sy opstanding het Hy 'n deur oopgedwing wat gesluit was sedert die dood van die eerste mens. Hy het met die Koning van die Dood geveg en oorwin  -  en sedertdien is alles anders."
    As Christus se opstanding sentraal is in my geloof en ek die krag daarvan in my lewe ervaar, het ek alle rede om seker te wees dat die Vader my met dieselfde aanvaarding sal aanvaar as waarmee Hy Sy Seun aanvaar het.
    Almal sal opstaan en vir ewig leef (Jh 5:28-29), maar nie almal sal aanváár word nie. Vir diegene in Christus is daar egter geen veroordeling nie, maar heerlike liefdesaanvaarding!
    In Rm 8:31-34 daag Paulus as 't ware die hele wêreld uit om Saulus die moordenaar skuldig te bewys. Vanwaar sy vrymoedigheid? Hy put dit uit God se genade-inisiatiewe en Sy Seun se versoeningswerk. Die apostel se argument kom hierop neer: Wie sal my veroordeel met só 'n Middelaar? Ek het in Hom ingevlug; ek skuil in Hom; ek is met Hom verenig deur die geloof. Wat van Hom waar is, is van my waar! Wie my skuldig wil bevind, moet Hóm eers skuldig bevind. Laat die hele wêreld my verwerp, maar vir God se verwerping vrees ek nie. Hy het my Plaasvervanger se offer aanvaar; Hy het dit bekragtig deur Hom op te wek  -  Hy sal my ook aanvaar!

    Is Christus se opstanding sentraal in jou diepste oortuigings (net soveel soos die kruis)?
Is Sy opstanding die hoeksteen van jou salige hoop?
    Nico van der Walt

Saturday, June 23, 2012

ANTIPAS HEROUT No.10 : HEILIGMAKING : WATERMERK VAN CHRISTELIKE EGTHEID - Die aanvang en vervolmaking daarvan

    Heiligmaking is die proses waarin God Sy uitverkorenes verander vanuit hulle natuurlike    sondeverdorwe toestand tot gelykvormigheid aan die verheerlikte mensheid van Jesus Christus.
   

In sowel die Ou as die Nuwe Testament dra die begrip "heilig" die idee van afsondering  -  om eenkant te wees of geplaas te word vir gebruik of bevoorregting. Hieruit vloei dan die verdere idee van morele reinheid.

Aanvanklike heiligmaking

Tradisioneel beklemtoon Christelike lering, heeltemal tereg, die lewenslange en progressiewe karakter van heiligmaking. Maar 'n ewe belangrike aspek daarvan word dikwels verwaarloos. Dis 'n faset wat na vore kom as die gebruik van die begrip in die Nuwe Testament bestudeer word.
    Dikwels word na heiligmaking verwys as iets wat afgehandeld en onherhaalbaar in die verlede gebeur het. Hierdie aspek van heiligmaking het ten minste 'n ewe sterk klem in die Skrif as die progressiewe aspek daarvan.

•    In Hd 20:32; 26:18; Rm 15:16; 1Kor 1:2 en Hb 10:10 word die gelowiges "geheiligdes" (Passiewe Verlede Deelwoord) genoem (sien OAV). Die werkwoorde is passief (dit is dus iets wat aan hulle gedoen is  -  deur die Heilige Gees, volgens Rm 15:16) en dui op 'n gebeurtenis in die verlede met steeds geldende gevolge.

•    In 1Kor 6:11 sê die apostel van die gelowiges dat hulle "geheilig" is (OAV) en hy gebruik 'n gewone verlede tyd. Dis weer 'n passief, met die Gees as die handelende. Dit is twyfelagtig of te veel waarde geheg moet word aan die orde waarin die begrippe ingespan is; en indien wel intensioneel, is opinies uiteenlopend oor wat dit beteken.

•    Die Selfstandige Naamwoord (heiligheid; heiligmaking) verwys ook soms na hierdie gebeurtenis, soos duidelik uit die sinsverbande blyk (1Kor 1:30; 2Ts 2:13; 1Pt 1:2).

•    Dis o.g.v. hierdie heiligmaking wat Nuwe Testamentiese gelowiges "heiliges" (meervoud byvoeglike naamwoord) genoem word (Rm 1:7; 1Kor 1:2; 2Kor 1:1; Ef 1:1; Fl 1:1; Kol 3:12 - vgl. meer as een vertaling).

Oor wat hierdie aanvanklike, afgehandelde heiligmaking presies beteken, het teoloë verskillende idees. Almal aanvaar dat dit ten minste 'n posisionele betekenis het. En dis die beste om daarmee te volstaan.
    Aanvanklike heiligmaking dui dan op die werk van die Heilige Gees wanneer Hy op 'n persoon beslag lê en hom of haar afsonder, as 't ware "eenkant neersit" vir God se besondere genade en diens. Dis wanneer Hy iemand "uit Adam uithaal" en met Christus as die Laaste Adam (1Kor 15:45) verenig ten einde hom deel te maak van God se nuwe mensheid; wanneer Hy hom vanuit die duisternis oorbring na God se wonderbare lig (1Pt 2:9; Hd 26:18); wanneer Hy van hom 'n ware Christen maak. Dis dan bykans sinoniem aan ander uitdrukkings wat op dieselfde saak wys ("Ek is in 1973 gered"'; "Hy het vanuit Islam tot bekering gekom").
    Tog wil die begrip steeds die idee van afskeiding, van afsondering onderstreep  -  besonderlik die voorregte, verantwoordelikhede en praktiese implikasies daaraan verbonde. Dit is dus 'n sambreelterm wat al die elemente  van die heilsorde saamvat wat ter sprake is wanneer iemand 'n Christen word (roeping, wedergeboorte, geloof, bekering, regverdiging en aanneming).
    As die Woord vir gelowiges sê dat hulle reeds geheilig is, en daarom heiliges is, wil dit beklemtoon dat hulle, toe hulle Christene geword het, deur die Drie-enige God van 'n sondige wêreld onder Sy toorn afgesonder is vir Homself  -  en daarom vir onuitspreeklike voorregte, verhewe dienswerk en 'n welgeluksalige toekoms. Dit wil dus 'n innerlike vastigheid in hulle vestig, oorstelpte aanbidding uit hulle laat ontspring, 'n gewigtige verantwoordelikheidsbesef in hulle laat neerslag vind en 'n permanente dankbaarheidslewe by hulle ontlok.

'n Fundamentele en belangrike waarheid

Dit is uiters belangrik dat Christene die waarheid van aanvanklike, afgehandelde heiligmaking behoorlik in hulle denke verreken. Die wydverspreide verwaarlosing daarvan laat gelowiges beslis armer. Afgesien daarvan dat sekere sleutel Skrifuitsprake nie daarsonder verstaan kan word nie, is hierdie waarheid  -  hoewel nie noodwendig by die naam genoem nie  -  grondliggend aan die apostels se oproepe tot 'n heilige lewe. Vergelyk bv. Fl 2:1 (OAV) se 4 maal "as" (ekwiwalent aan "aangesien" in die Grieks) en wat daarop volg. Ook Kol 3:1-4 is insiggewend, veral die "aangesien" waarmee v.1 begin en die "daarom" waarmee v.5 dan aangaan.
    Die Nuwe Testament werk sterk met die waarheid dat dit ondenkbaar is dat mense wat geheilig is (met alles wat dit beteken en impliseer), sonder meer maar net met sonde kan voortgaan. Afgesien daarvan dat so iets onmoontlik is vanuit hulle lewenseenheid met Christus en die nuwe hart wat daarmee gepaard gaan, sou dit op veragtelike ondankbaarheid, skreiende inkonsekwentheid en 'n skokkende gebrek aan integriteit neerkom.
    Rom 6 is waarskynlik die mees uitvoerige ontvouing van hierdie fundamentele Bybelse motivering vir 'n heilige lewe.
    Die heerlike waarheid van aanvanklike, afgehandelde heiligmaking vorm die vaste fondament van die leerstuk en najaging van progressiewe heiligmaking. Dit, meer as enigiets anders, verleen aan die gelowige die wete dat hy die stryd vanuit 'n posisie van krag en oorwinning aanpak. Hy is selfs meer as die "oorweldigende gunsteling", hy is die sekere oorwinnaar.
    'n Welbekende illustrasie word ontleen aan die Tweede Wêreldoorlog. Die geallieerde magte het in die helfte van 1944 (D-dag) op die strande van Normandië geland. Elke oorlogstrateeg het toe geweet wie die oorlog gaan wen, want die Duitse magte was nou onomkeerbaar op die agtervoet. Tog het dit nog elf maande geduur en van die bloedigste gevegte van die oorlog gekos voordat Berlyn geval het (V-dag). Maar, en dis die punt, tydens hierdie veeleisende tydperk was die geallieerdes in 'n posisie van krag en was daar vir hulle net een pad  -  vorentoe! Hoe belangrik is dit nie vir Christene om hulle eie heil, ja, met vrees en bewing, maar op die voorvoet uit te werk nie  -  wetende dat God self in hulle werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae (Fl 2:12-13, OAV)!

Die wedergeboorte

    Heiligmaking groei in die bedding van die wedergeboorte.

Dit is die daarstelling van Christus se natuur in 'n mens en is uiteraard voorvereiste vir die vorming van Sy beeld in 'n sondaar.
    Die Ou Testament kyk meermale vooruit na die wedergeboorte. Veral twee Skrifgedeeltes is vir ons van belang: Jer 31:31-34 en Eseg 36:24-28.
    Laasgenoemde hoofstuk is een van die duidelikste Ou Testamentiese hoofstukke oor die aard en rykdomme van die Nuwe Verbond, besonderlik die wedergeboorte.   In v.25 belowe God dat Hy Sy volk met water van hulle sonde sal reinig en in v.27 belowe Hy die groot gawe van die eindtyd, die Heilige Gees. As die Here Jesus met Nikodemus oor die wedergeboorte praat, verwys Hy spesifiek na hierdie twee elemente in Jh 3:5: water en Gees.
    Tussen die twee beloftes in Eseg 36 is 'n vers wat van die allergrootste belang is vir ons onderwerp. V.26 belowe 'n 'nuwe hart' - een van vleis wat die ou hart van klip vervang. Die Bybelse begrip 'hart' dui op die sentrum van 'n mens se persoonlikheid. Dit is dus die 'beheerkamer' wat sy hele lewe bepaal (Spreuke 4:23). 'n Feit wat vasstaan, is dat elke mens onder die dwang van sy eie hart leef. Wat in sy hart aangaan, dit is hy.
    'n Illustrasie hiervan is te vinde in die gedrag van trekvoëls. Waarom vlieg hulle noordwaarts in die herfs en kom elke lente weer terug? Die antwoord lê in hulle aangebore natuur. Aan hierdie genetiese trekinstink móét hulle gehoorsaam wees; hulle kán nie anders nie. Só is elke mens onontkombaar aan sy eie hart gehoorsaam.
    'n Hartsverandering sal dus onvermydelik 'n gedragsverandering meebring. So sal die Here "maak" (OAV) dat ons volgens Sy voorskrifte leef (v.27). In Jer 31 word 'n ander beeld gebruik om dieselfde belofte te dra: Hy sal Sy wette op mense se harte skryf (v.33).
    Eseg 36 se ou hart is van klip. Dit is dood vir die Here en Sy dinge. Dit is koud en hard, dus belangeloos en gevoelloos teenoor God, Sy eer, Sy wil en Sy Koninkryk. Die nuwe hart, daarenteen, is van vleis. Dit is lewend vir die Here en Sy dinge. Dit is warm en sag, dus ywerig en vormbaar met betrekking tot God, Sy eer en Sy koninkryk.
    Hierdie hartsverandering, wat die Nuwe Testament 'n geboorte uit God, oftewel die wedergeboorte noem, bring dus 'n nuwe lewensbeginsel, 'n nuwe geaardheid, 'n nuwe geneigdheid, 'n nuwe ingesteldheid. Dit bring nuwe prioriteite, nuwe ambisies, nuwe verlangens, nuwe hartstogte. Daarom bring dit 'n totaal nuwe lewe  -  'n lewe wat gedring word deur die begeerte om God Drie-enig te ken, om soos Hy te word en om baie vrug tot eer van Sy Naam te dra.
    Presies dit het die Apostel Paulus proefondervindelik verstaan: "Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk dit het alles nuut geword." (2Kor 5:17, OAV).

Gevolge van die wedergeboorte

Die eerste brief van Johannes gee baie aandag aan die gevolge en dus merktekens van wedergeboorte. Veral een vers is vir ons doel insiggewend: 1Joh 3:9. Let op die struktuur (vgl. OAV, wat die Grieks letterlik weergee):

      uit God gebore
          doen nie sonde nie
              want God se saad bly in hom
          doen nie sonde nie
      uit God gebore


Sonder om nou aandag daaraan te gee, moet net gemeld word dat Johannes nie hier van sondeloosheid praat nie (vgl bv.1:8-2:20). Wat hy waarskynlik bedoel (die werkwoordsvorm dui daarop), is dat so 'n persoon nie meer met sonde as 'n lewenswyse voortgaan nie. En wat is die geheim? God se saad is in hom geplant! Die Here het dus 'n nuwe lewensbeginsel in hom ingeskape deur die wedergeboorte  -  wat wil klaarkry met sonde en wat niks méér begeer as om God te behaag nie.

Slotsom

In die lig van alles wat hierbo gesê is, is dit glashelder dat wedergeboorte van die allergrootste belang vir heiligmaking is. Dis die begin van 'n morele verandering in 'n mens en as sodanig die bron waaruit heiligmaking voortvloei.

    Wedergeboorte in 'n persoon se lewe is God se soewereine en diep-ingrypende lewendmakende werk deur Sy Heilige Gees, waardeur so 'n persoon verander word vanuit 'n toestand van geestelike dood (en 'n gevolglik God-vermydende hartsgesteldheid) tot 'n toestand van geestelike lewe (en 'n gevolglik God-soekende hartsgesteldheid).
Heerlikmaking


As wedergeboorte die aanvang is, is heerlikmaking die voltooiing, afron-ding, vervolmaking van die proses waarin Christus se volmaakte en verheerlikte menslike aard aan God se kinders toebedeel word. Dis waarheen al God se verlossingswerk in hulle lewens op pad is. Hy het hulle uitverkies en bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders  (en natuurlik susters) (Rm 8:28-30). En gelowiges het die heerlike versekering dat God self die proses tot vervolmaking sal voer. Luister na die apostel: "Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom' (Fil 1:6, NAV).
    In sowel die Ou as die Nuwe Testament is heerlikmaking die hart van gelowiges se salige hoop (Ps 17:15; 73:24-25; Rm 8:18; 2Kor 4:16-18; Fl 3:7-14; Tit 2:13; 1Pt 5:1,4). Die apostels het dwarsdeur die dood en die graf gekyk  -  en hulle oë op die heerlikmaking vasgenael.
    Hierdie vervolmaking geskied in twee momentele stappe. Eerstens, as skeiding tussen liggaam en gees plaasvind tydens die fisiese dood. Finaal, as liggaam en gees weer verenig word wanneer eersgenoemde uit die dood opgewek word tydens die wederkoms van Jesus Christus. Normaalweg word lg. eintlik die heerlikmaking genoem, maar soos hieronder getoon sal word, is dit 'n effense verskraling van die begrip.
    Diegene wat in Christus ontslaap het (in sowel die OT as die NT), die liggaamlose heiliges, is nou in die teenwoordigheid van die Here (Fl 1:23). Hoewel nog voor die opstanding, noem die Skrif hulle "die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is" (Hb 12:23). Hulle is vry van die beperkinge van die aardse bestaan, vry van die "liggaam van hierdie dood" (Rm 7:24, OAV), vry van sonde, vry van lyding  -  en hulle is by die Here. Dis inderdaad 'n toestand van heerlikheid  -  maar dis tog nog 'n voorlopige toestand.
    Uiteindelike heerlikmaking het verskillende fasette. Dit sal ons finale aanneming as kinders van God wees, en die verlossing van ons liggame (Rm 8:23). Dit sal die besitname van ons volledige en ewige erfenis in Christus wees (Ef 1:13-14; 1Pt 1:3-5). Dit sal die formele en openlike bekragtiging van ons regverdigverklaring wees en, as sodanig, die verlossing van God se toorn, wat net daarna oor 'n ou en verdorwe skepping uitgegiet sal word (Mt 25:31-46; Rm 5:9-10; 8:33-34; 1Ts 1:10).

•    Finale heerlikmaking sal vlekkelose morele vervolmaking vir die individu bring (1Kor 1:8; Ef 1:4; Fl 1:9-11; Kol 1:22; Jud 24). Dit sal ook 'n volheid van kennis bring (1Kor 13:12; 1Jh 3:2).

•    Die verloste, wat tydens die tussentoestand geestelik bestaan het, sal met die uiteindelike heerlikmaking 'n volmaakte en verheerlikte liggaam ontvang (1Kor 15:35-50; 2Kor 5:1-5; Fl 3:20-21).
    1Kor 15 stel in grafiese taal die kontras tussen die huidige liggaam en die verheerlikte. Tans is dit verganklik (onderworpe dus aan siekte, veroudering en dood); maar eendag sal dit onverganklik wees (42). Tans is my liggaam swak en gering; maar dit sal in krag en heerlikheid opgewek word (43). Tans is dit 'n natuurlike liggaam; maar dan 'n geestelike (bo-natuurlik, geskik vir bestaan in 'n lewensfeer wat deur God se Gees beheers word, volmaak toegerus vir gemeenskap met God, wat gees is) (44).
    Hierdie 'bekleding met die onverganklike en onsterflike', hierdie vernietiging van en oorwinning oor die dood, sal in 'n oogwink gebeur (1Kor 15:51-54).

•    Nie alleen sal die individu verheerlik word nie, maar ook sy omgewing en woonplek. Die skepping wat a.g.v. die sondeval verwring is (Gn 3:14-19), sal van sy "verydeling en verslawing aan die verganklikheid bevry word tot 'n staat wat hoort by die heerlikheid van die kinders van God" (Rm 8:19-22). In Op  21:1-2 word dit "die nuwe hemel en die nuwe aarde" genoem.
    Voor die sondeval het die mens 'n heerlike woonplek, die Tuin van Eden gehad. Sonder twyfel sal 'n nog heerliker woonplek  -  deur die Hemelse Bruidegom vir Sy bruid voorberei (Jh 14:1-3)  -  'n wesentlike bydrae lewer tot die nuwe mensheid se ewig-welgeluksalige staat.

Wat die toebedeling van Christus se volmaakte menslike natuur aan die uitverkorenes betref, is dit nou duidelik dat dit drieërlei uiteenval.

•    Eerstens word "die saad van God", die embrio van Sy natuur en heiligheid deur die wedergeboorte ingeplant. Hiersonder sou daar geen sprake van heiligmaking kon wees nie.

•    Dan volg heiligmaking  -  die groei van hierdie nuwe lewensbeginsel -  tydens die gelowige se lewe op aarde. Dit is nie 'n proses wat wasdom bereik nie, nie naastenby nie. Dit benodig 'n verdere dramatiese ingrype van God.

•    Laastens is daar dan die heerlikmaking, wat die uitverkorene se wesentlike staat uiteindelik in ooreenstemming bring met die juridiese status wat hy sedert sy regverdigmaking (toe hy die eerste maal waarlik geglo het) in God se boeke geniet het! Dit verlos hom, enersyds, finaal van die "liggaam van die dood" en die sonde, en maak hom, andersyds, oor die volle spektrum van sy menswees gelykvormig aan die verheerlikte mensheid van "die mens, Christus Jesus" (1Tm 2:5)  -  die Hoof van God se nuwe skepping.

    Heiligmaking is dus 'n proses tussen twee krisisse  -  twee dramatiese ingrypings van God:  Wedergeboorte, die groeibodem, die bron, die embrio daarvan, en heerlikmaking, die afronding en vervolmaking daarvan.
                                                                Nico van der Walt

                                                                               -o0o-

Friday, June 22, 2012

ANTIPAS HEROUT No.53 - ROMEINE 13:1-7: DIE KERK EN DIE STAAT - 'n Eeu-lange stryd met ontsaglik belangrike implikasies

Oor ons onderwerp is geen gedeelte in die Nuwe Testament meer belangrik as Rm 13 nie. Ten minste 4 uiters belangrike beginsels kom na vore in v.1-7.
    Maar voordat ons daarna kyk, kan 'n historiese inleiding baie betekenisvol wees  -  juis omdat die verhouding tussen kerk en staat so 'n  kardinaal belangrike rol gespeel het in die ontwikkeling van die kerkgeskiedenis. Dit was deur die eeue 'n intense stryd, en een van die mees invloedryke faktore in die vorming van die kerk (en sekerlik die staat) soos ons dit vandag ken.
    Tot vandag toe heers daar baie verwarring in Christengemoedere oor hierdie saak. Spesifiek hier in ons land was skewe sieninge voor 1994 aan die orde van die dag, en sedertdien gaan die kerke  -  veral onder die Afrikaners  -  deur 'n moeilike identiteitskrisis in hul soeke na hulle plek in 'n nuwe Suid-Afrika.
    'n Historiese voëlvlug oor die verhouding tussen kerk en staat, klaar egter baie vrae op.

'n Radikaal nuwe verstaan van die verhouding tussen kerk en staat 

Deur die eeue was daar twee uiterste posisies wat hierdie verhouding betref  -  en nie een het gehelp om die verwarring op te klaar nie; inteendeel:

    •    'n Verwarring en oorvleueling van die rolle van kerk en staat in die ordes van God. Dit lei dan baie maklik tot iets van 'n identifisering van kerk en nasie  -  soos in die stelling: "die Afrikaners is 'n Christennasie."

    •    'n Radikale skeiding tussen die staat en die kerk, wat tot 'n groot mate neerkom op 'n skeiding tussen die staat en God. Hiervolgens het Christene niks met politiek te doen nie (piëtisme) en die staat heers outonoom met sy gesag gebaseer op die wil van die volk  -  die vox populi (humanistiese sekularisme).

#     Alle voor-Christelike gemeenskappe was sakraal van aard. Dit is wanneer 'n volk saamgebind word deur 'n gemeenskaplike religieuse lojaliteit  -  wanneer almal toegewy is aan dieselfde godsdiens.
    Babilon was 'n voorbeeld hiervan. In Dn 3 lees ons hoe een en elkeen koning Nebukadnesar se goue beeld moes aanbid. Daar was geen sprake van 'n keuse nie.
    Ook die Ou Testamentiese verbondsvolk was so 'n monolitiese, sakrale gemeenskap. Weereens, wat die godsdiens betref, was daar geen sprake van 'n vrye keuse nie.
    Dis waarom die Jode van Jesus se dag hulle nie daarmee kon versoen om belasting aan die Romeinse keiser te betaal nie. Toe hulle Jesus in 'n strik wou lei, het hulle hom gevra of Hy dink dis geoorloof om dit te doen (Mt 22:15-22). Maar die Here se antwoord is vol betekenis: "Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort." Die implikasie is duidelik: hier is twee afsonderlike lewenssfere wat mens uitmekaar moet hou; trouens, jy moenie dit laat vervloei nie.
     Die Nuwe Testament, in die besonder die Here Jesus, het dus 'n radikaal nuwe idee in die wêreld van destyds ingedra. Wat vandag vir ons voor die hand liggend en alledaags is, was tóé rewolusionêr. Niemand het ooit vantevore godsdiens en owerheid só van mekaar geskei nie.

#     Die gemeenskap is dus 'n samestelling van verskillende belangegroepe en lewenssfere. Dit is dus nie homogeen nie, maar heterogeen. Almal hoef nie in dieselfde tempel te aanbid nie. En al verskil twee mense religieus soos dag en nag, kan hulle rustig en in vrede op die markplein met mekaar handel dryf.
    Die Nuwe Testament voer dus iets radikaals nuut in die wêreld van destyds in: 'n gemeenskap waarin keuse ingebou is. Die voor-Christelike wêreld was voor die voet feitlik keuseloos.
    Die Here Jesus leer oor en oor:

    •    Die samelewing bestaan uit 2 groepe mense: hulle wat aan Hom behoort, en die res. So praat Mt 7 byvoorbeeld van 2 poorte, 2 paaie, 2 huise, 2 fondasies, 2 bestemmings.

    •     Sy dissipels is ín, maar nie ván die wêreld nie.

    •    Sy dissipels is die sout van die aarde. Sout is totaal anders as die vleis wat dit moet bewaar; en tog werk dit net as daar intieme kontak is.

    •    In die gelykenis van die onkruid tussen die koring (Mt 13:24-30) groei die onkruid tot en met die oesdag sy aan sy met die koring.

    •    Die onderskeide in die saamgestelde samelewing loop soms regdeur gesinne en families: "Ek het gekom om tweedrag te bring tussen 'n man en sy vader en tussen 'n dogter en haar moeder, tussen 'n skoondogter en haar skoonmoeder; ja, 'n man se huismense sal sy vyande wees" (Mt 10:35-36).

#    Waarlik, die Here Jesus het gekom om 'n nuwe mensheid midde-in die ou mensheid te skep  -  vreemdelinge, bywoners en pelgrims in hierdie wêreld.
    Die vroeë kerk het dit verstaan. Diognetus skryf oor Christene: "Hulle bewoon die land van hulle geboorte, maar as bywoners en reisigers; hulle neem aan alles as burgers deel, maar beleef dit tog soos besoekers. Elke vreemde land is vir hulle soos 'n vaderland, en elke vaderland soos 'n vreemde land. Hulle woon op aarde, maar hulle burgerskap is in die hemel."
     Die grootste enkele rede vir die vervolging van Christene in die eerste eeue deur die Jode en die Romeine, is die feit dat sakrale stelsels geen vreemde boodskap kan duld nie  -  want dit bedreig die kulturele en godsdienstige homogeniteit.
    Die idee agter al die godsdienste wat vanuit die mens ontwikkel, is "do ut des": ek gee sodat jy sal gee. Mens dien dus die gode sodat hulle na jou sal omsien, word geglo.
    Nou volg dit noodwendig: godsdienstige afvalligheid vertoorn die gode en lei gevolglik tot straf. Katastrofes beteken daarom dat die gode kwaad is. Volgens die Romeine het die Christene  -  "ateïste" deur hulle genoem  -  die gode uitgedaag. En as sodanig was hulle godsdienstige jukskeibrekery die oorsaak van min of meer alle rampe. Om sulke mense te vervolg, is geglo, paai die gode en het as sodanig versoeningswaarde.

Die kerk se "sondeval"

Die vierde eeu het radikale veranderinge gebring. Ten spyte van felle vervolging het die kerk tydens die voorafgaande eeue met rasse skrede gegroei. Daarteenoor het dit al hoe slegter met die Romeinse Ryk gegaan. Sommige denkers het gevolglik só begin redeneer: aangesien die Christene se God kennelik sterker is as die Romeine se gode, moet die tradisionele gode dalk plek maak vir húlle God. Dan sal dit weer beter gaan met die Ryk.
    Ongelukkig het sommige naïewe Christenleiers hierin 'n geleentheid gesien  -  sonder om die Here Jesus se woorde in ag te neem, "My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie." Wat hulle betref, sou dit 'n wonderlike koninkryksdeurbraak wees as die Ryk húlle geloof sou aanneem.
    Reeds in 250 n.C. het Origines voorbrand hiervoor begin maak: "As die hele Romeinse Ryk sou verenig in aanbidding van die ware God, sal Hý vir hulle veg." Christelike sakralisme het sy lelike kop begin optel!
     En inderdaad het Christelike sakralisme in die vierde eeue, in die tyd van keiser Konstantyn, 'n werklikheid geword.
    As Konstantyn (274-337) keiser word, erf hy groot probleme. Die Ryk was besig om uit mekaar te val. Maar dan kry Konstantyn volgens oorlewering sy baie bekende visioen: 'n kruis in die wolke. En hy hoor hierdie woorde: "In hoc signo vinces" (oorwin in hierdie teken!).
    Hieruit is dit duidelik dat Konstantyn min van die evangelie verstaan het, aangesien hierdie sg. visioen 'n radikaal onbybelse betekenis in die kruis inlees.
    Konstantyn het homself wysgemaak dat die evangelie die kuur is wat die Ryk sou red. Daarvoor was dit egter nodig dat die ganse bevolking die evangelie aanneem  -  almal moes in die kerk wees. Religieuse konsensus  -  al was dit onder dwang  -  was die antwoord. Dis mos hoe hulle sakralistiese koppe gewerk het.
    Hoe gemaak? Die kinderdoop (wat sedert die begin van die derde eeu tot nou toe op 'n baie beperkte skaal in sekere kringe voorgekom het) sou die instrument word om een en elkeen tot die institusionele kerk toe te voeg. Per slot van rekening is dit makliker om iemand water toe te dra, as om hom self soontoe te laat loop. Van nou af sou elke nuwe aankomeling in die Romeinse Ryk só deel van die kerk word. Spoedig sou die hele bevolking, kop vir kop, deel daarvan wees  -  en die Romeinse Ryk sou die heilige Romeinse Ryk word! En hierdie ryk sou 'n nuwe god hê om na hom om te sien.
    Teen die einde van die 300's, onder Theodosius I, het die proses sy volle gang geloop. Die Christelike geloof het die enigste wettige godsdiens van die ryk word  -  tipies van 'n sakralistiese stelsel.

#     Die wiel draai, word gesê. En inderdaad. Want die vervolging wat die Christene altyd gely het, het nou op die aanhangers van die tradisionele heidense godsdienste neergekom. Skielik het die vervolgdes die vervolgers geword, en omgekeerd. Soos altyd, het sakralisme min geduld gehad met jukskeibrekers.
    Ware Christene, wat geweet het waaroor dit regtig gaan, kon die nuwe bedeling met sy vermenging van wêreld en kerk hoegenaamd nie aanvaar nie. En so het die Donatisme ontstaan. Dit was 'n protesbeweging teen die huwelik tussen staat en kerk, asook die tragiese vervlakking wat as gevolg daarvan binne die institusionele kerk ontstaan het.
    Die brandende vraag was nou: wat is die aard van die ware kerk? En in watter verhouding staan dit teenoor die wêreld om hom? Die antwoorde hierop het uiteengeval in twee wedersyds uitsluitende antwoorde.

    •    Die "Corpus Christianum"-standpunt het gedink in terme van 'n liggaam van Christelikes  -  'n Christelike samelewing, met 'n kerk wat almal voor die voet insluit. Dit was die standpunt van die owerhede en die staatskerk, oftewel volkskerk.

    •    Die "Corpus Christi"-standpunt het gedink in terme van die liggaam van Christus  -  wat as kleiner gemeenskap van ware gelowiges (en net hulle) binne die breëre en ongelowige samelewing bestaan. Dit was die standpunt van die Donatiste en andere wat soos hulle as sektaries gebrandmerk is.

#     Donatisme is uiteindelik onderdruk, en die Rooms Katolieke Kerk is gebore. Van nou af sou Christelike sakralisme en die Corpus Christianum-idee in Europa die septer swaai.

Die sestiende eeuse Reformasie

'n Duisend jaar later sou die eerste Reformatore gekonfronteer word met die sakralisme wat steeds in Europa die botoon gevoer het.
    Aan die begin wou die vroeë Hervormers, Luther en Zwingli, die huwelik tussen kerk en staat ontbind. Ook is dit gedokumenteer dat hulle aanvanklik wou ontslae raak van dit wat sakralisme in stand hou, naamlik die kinderdoop.
     Die staat het egter onmiddellik met 'n ysterhand ingegryp. Só maklik sou hy nie sy greep op die volk afstaan nie. Want die owerhede het geweet dat jy 'n samelewing beheer as jy sy godsdienstige sentimente beheer. En hierdie beheer sou spoedig uit hulle hande glip as die belydenisdoop algemene praktyk sou word. 'n Groot meerderheid van die samelewing sou hulle immers nie laat doop nie, en hulleself gevolglik nie as gelowiges en deel van die kerk ag nie.
    Voorts het die owerhede geweet dat jy een groot instituut  -  die staatskerk  -  kan beheer, maar dat dit onmoontlik word in die geval van veel kleiner groepe mense wat hulle in afsonderlike en onafhanklike gemeentes bevind. Voeg daarby dat sulke gelowiges  -  anders as die massas in die volkskerk wat skaapagtig agter hulle leiers aanstap  -  as 'n reël mense van oortuiging is wat vir hulleself dink, en jy verstaan waarom destyds se staatsowerhede die belydenisdoop met die swaard vervolg het.
    Die Reformatore was dus vasgevang in 'n verskriklike dilemma. Óf hulle moes sterf vir kardinaal belangrike waarheid, óf hulle moes bly lewe om 'n nog meer fundamentele waarheid te verkondig aan 'n Europa in stikdonkerte. Anders as die Anabaptiste (wederdopers), het hulle gekies om die kinderdoop te behou, te bly lewe en voort te gaan met die prediking van regverdiging deur die geloof alleen. En dit sou hulle onder die beskermende vlerke van moedertjie staat doen.

#    Noodwendig het daar op hierdie punt 'n skeuring in die geledere van die pasgebore reformasiebeweging ontstaan. Die Anabaptiste het die Reformatore van skreiende kompromie beskuldig. Hulle standpunt was dat dit van lewensbelang is dat die kerk waarlik kerk moet wees, en dat dissipels van die Here Jesus bloot die roeping het om Hom te gehoorsaam, terwyl hulle die gevolge in Sy hande laat. In beginsel is hulle natuurlik reg, maar wie van ons sien kans om die Reformatore te veroordeel? Mens het immers begrip vir hulle verskriklike dilemma.
    Inderdaad is tienduisende Anabaptiste in die volgende jare vermoor  -  deur veral die staat en die Rooms-Katolieke Kerk. Maar helaas was die Reformatore en hulle medewerkers se hande nie heeltemal sonder bloed nie. Want kompromie bring altyd insekuriteit, en insekuriteit bring hardvogtigheid.
    Natuurlik moes die Reformatore hulle besluit en standpunt regverdig. Die Ou Testament  -  sakraal in sy boodskap en praktyk as jy hom sonder die Nuwe Testament lees  -  is sonder behoorlike in ag neming van die openbaringsgeskiedenis se ontwikkeling, hiervoor ingespan. Om die kinderdoop te regverdig, is die kontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond oorbeklemtoon, terwyl die diskontinuïteite verwaarloos is. En gou-gou het Christelike sakralisme en die kinderdoop meer aansien as ooit geniet.

#    Die Reformatore het spoedig begin om belydenisskrifte te skryf  -  waarvoor die kerk van alle eeue hulle innig dankbaar moet wees. Een probleem het egter soos 'n seer duim uitgestaan: sakralisme en die gepaardgaande kinderdoop. En omdat ons van formele belydenisskrifte praat, beteken dit dat die probleem in beton gegiet is.
    Vergelyk die Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 36.
    Hierteenoor staan die Baptiste van die begin af vir die skeiding tussen kerk en staat. Vandag geld dit natuurlik vir baie ander ook.

Die geskiedenis help ons om vandag te verstaan

Hier het ons die historiese redes vir die hardnekkige vashou aan die kinderdoop  -  'n praktyk wat net eenvoudig nie die toets van 'n nugtere Skrifondersoek kan slaag nie. En hier is die historiese redes vir die sakralisme wat vir soveel jare die Afrikaner se denke oorheers het en verantwoordelik was vir soveel ellende in die Afrikanerpolitiek. En hier is die historiese redes vir baie van die (onnodige) wroeginge waardeur Afrikaner Christene sedert 1994 gaan. Laat ons onthou dat wat ware Christene tans in ons land ervaar, tipies is van die vreemdelingskap wat die ware kerk deur die eeue orals ter wêreld ervaar; tewens, dit gaan met ons nog baie, baie goed.

Ons het nou na die kerkgeskiedenis gekyk. Nou kyk ons na 4 beginsels uit Rm 13 voordat ons 'n paar konkluderende opmerkings maak.

Alle regerende gesag word deur die soewereine God daargestel (Rm 13:1)


God is die oorsprong van alle menslike gesag. Dit geld ook vir staatsgesag.
    Hierdie is 'n hoogs betekenisvolle stelling van God se Woord, veral as mens in ag neem vir wie dit geskryf is. Die Romeinse Christene was onder die hiel van 'n goddelose en heidense regering  -  wat deur gewelddadige verowering en onderwerping aan bewind gekom en gebly het, en diktatoriaal sy onderdane op hulle plek gehou het. Hulle was korrup, en het almal vervolg wat van hulle verskil het  -  in die besonder die gemeente van Christus. 
      Die vraag is dus nie of die regering onder wie ons ons bevind "de jure", oftewel wettig is nie. Die Bybel praat van alle "de facto" regerings, diegene wat op 'n gegewe moment aan die stuur van sake is.
    Beteken dit dat Christene 'n klomp ruggraatlose papperds moet wees wat maar passief alles aanvaar wat oor hulle kom. Inteendeel! Dit gaan hier daaroor dat Christene weet dat die koninkryk waaraan hulle behoort nie van hierdie wêreld is nie, en dat die uitlewing van hulle roeping hier op aarde grootliks onafhanklik is van wie op 'n gegewe moment op die wêreldse troon sit. Die Here gebruik wie Hy wil om die gevalle mensheid in bedwang te hou en te stuur soos Hy wil. En Sy gemeente gaan onverstoord voort met hulle diens aan God  -  onder meer om sout te wees in 'n samelewing wat wil verrot en veral ook om die evangelie uit te dra.
     Baie gelowiges dink dat Christene daarom hoegenaamd nie by politiek betrokke behoort te raak nie. Nee, die Here gebruik orals getuies en instrumente, en Hy lei van Sy kinders om ook daar hulle lig te laat skyn. Wat wel waar is, is dat 'n Christen tweemaal sal dink voor hy hom in die politiek begewe. Dit is per slot van rekening 'n gevaarlike omgewing vir die gelowige, en 'n lewe van dissipelskap kan daar baie kompleks wees.
    Dit is baie betekenisvol dat die vroeë Baptiste, wat baie swaar gekry het onder die hiel van die owerhede, ronduit bely dat dit in orde is vir 'n Christen om ‘n "magistraat" te wees  -  'n term wat alle politieke ampte dek (1689 Baptistebelydenis, h.24, par. 2).

Die taak van 'n regering is om behoorlike orde te handhaaf daar waar hy verantwoordelik is (Rm 13:3, 4, 6) 

Elke ingestelde outoriteit het uiteraard sy eie gesagsfeer. Daar is hy verantwoordelik, nie wyer nie. Gesag en toerekeningsvatbaarheid loop altyd hand aan hand, en noodwendig kan niemand aanspreeklik gehou word vir dit wat buite sy grense gebeur nie. Dit geld orals, of dit nou die werksplek is, of die gesin, of die gemeente, of die samelewingsowerhede.
     Diegene wat in ons teks ter sprake is, moet sosiale en burgerlike geregtigheid, vrede en orde handhaaf. Hierdie taak het twee kante. Positief moet hulle dit wat sosiaal en burgerlik goed en reg is, bevorder en verdedig. Negatief moet hulle ongeregtigheid, misdaad en geweld bekamp.
    In Rm 13 is daar 'n sterker beklemtoning van die negatiewe. Terwyl 'n regering vryheid en lewensruimte vir sy burgers moet verseker, doen hy dit grootliks deur die kragte van selfvernietiging en wanorde in 'n gevalle wêreld te bedwing. Dit is dus in Sy algemene genade dat God regerings instel.
     Soos wat regerings hulle opdrag uitvoer, skep hulle 'n konteks waarin die raadsplan van God sy loop kan hê, stel hulle 'n kanaal daar waarin die koms van die koninkryk kan vloei (1Tm 2:1-2). 
     Uiteraard het 'n regering baie geld nodig om sy taak te verrig. En aangesien die owerhede in God se diens staan, beveel Hý ons om ons belastings getrou te betaal  -  nie net inkomstebelasting nie, maar ook alle ander vorms daarvan, soos B.T.W., lisensies, eiendomsbelasting, ens.
    Dit word spesifiek deur ons teks (6, 7), asook ander gedeeltes in die Nuwe Testament  beklemtoon (Mt 22:15-22; Mk 12:13-17; Lk 20:19-26).

Die mag van die swaard word aan regerings verleen sodat hulle goeie orde kan handhaaf (Rm 13:4) 

Aan die fondasie van elke staat lê sy Godgegewe reg om dwang te gebruik. Die Here weet dat hy in 'n sondegevalle wêreld sy taak moet volbring.
    Die voorwaarde vir goeie orde in 'n samelewing is onderlinge respek en konsiderasie, maar die gevalle mens is ongeneeslik hebsugtig en selfsugtig. Helaas, wat baie mense betref, is méér dus nodig as opvoeding en suggestie. 'n Ferm en sterk hand van afdwinging is noodsaaklik.
     Wanneer nodig kan die staat se mag van dwang tot uiterste maatreëls strek. Die "swaard" in v.4 is meer as 'n simbool van gesag; dit dui op die mag van lewe en dood. Die algemene manier destyds om die doodstraf te voltrek, was onthoofding met 'n swaard (nogal ironies dat die skrywer hiervan só gesterf het).

Dit is God se opdrag dat alle mense hulle moet onderwerp aan die owerhede wat oor hulle gestel is (Rm 13: 1, 5b)

Die woord "onderwerp" impliseer dat die verantwoordelikheid vir 'n ordelike samelewing in die eerste instansie by elke individuele burger lê  -  en wel daarin dat hy "homself onder die owerheid plaas" (Gr. letterlik). Christene neem hierdie roeping uiteraard ernstig op.
     As 'n Christen homself, sover dit enigsins moontlik is, aan selfs 'n heidense owerheid onderwerp, impliseer dit ten minste 2 dinge:
    Eerstens sê dit dat hy 'n respek het vir God se instelling. As sodanig bring hy hulde aan die groot en soewereine Wetgewer.
    Tweedens lewer dit 'n getuienis teen die wetteloosheid en gevallenheid van hierdie wêreld.
    Dit beteken nie dat 'n Christen se gehoorsaamheid aan die owerheid ongekwalifiseerd is nie. Soos alle menslike gesag, is ook hierdie gesag relatief. Daar is bepaalde grense wat regerings nie mag oorsteek nie. Wanneer is burgerlike ongehoorsaamheid geregverdig? As die regering iets beveel wat God in Sy Woord verbied; en as hy iets verbied wat God in Sy Woord beveel. (Hd 4:19; 5:29, 40-42).
    Die Bybelse aksent is egter op onderwerping, eerder as op die reg tot ongehoorsaamheid.
    Les bes moet ons gesindheid teenoor die owerhede nie net passief wees nie, maar ook aktief: ons word beveel om vir hulle te bid (1Tm 2:1-2).

'n Aantal konkluderende opmerkings

1.    Sowel kerk as staat is instellings van God.

2.    Kerk en staat word egter geroep om in verskillende sfere in God se diens te wees.
Die kerk werk in die area van God se besondere genade: evangelieverkondiging en die redding van sondaars, aanbidding, pastorale sorg, ensomeer.
    Die staat werk in die area van God se algemene genade. Dit moet sover moontlik menslike verdorwenheid weerhou om tot totale ontbinding te ontaard. En dit moet goeie orde in die samelewing handhaaf, sodat dit leefbaar bly in 'n gevalle wêreld.

3.    Beide instellings het van God 'n swaard ontvang om sy taak te verrig.
Die staat het 'n swaard van staal; die kerk die swaard van die Gees.
    Die kerk moet hom by sy roeping hou. Nooit mag hy die swaard van staal hanteer nie. As die kerk hierdie swaard opneem, is dit altyd tot oneer van God. Geen uiterlike dwang kan immers 'n ware Christen voortbring nie. Die swaard van staal kan oor 'n mens se liggaam heers, nooit oor sy gees nie.
    En sou die staat die swaard van die Gees probeer hanteer, lei dit altyd tot chaos in die kerk. Wat weet die ongelowiges van God se ordes en weë en waarheid? (1Kor 2:6-16). Aanbidding, om vir God aanneemlik te wees, moet uit die mens se hart kom. Gedwonge verering sal Hom tot in ewigheid nie behaag nie. Meer nog, die kerk verloor sy essensie  -  hy raak tewens antagonisties daarteen  -  as sy voorskrifte tot wette verhef word vir hulle wat net gebore en nie ook wedergebore is nie.
    Slegs die Gees van God kan die mens se hart verander en beheer  -  en Hy doen dit deur die Woord van God. En die staat moet dit respekteer. Daarom mag die regering mense se gewetens en godsdiensbeoefening nooit probeer beheer nie  -  ongeag hoe verwronge en vals dit ook al mag wees. Hy moet bloot die ruimte daarvoor daarstel.

4.    Die ware kerk het geen behoefte aan 'n vennootskap met die staat nie. Hy vermy dit trouens soos die dood self.

           Die skeiding tussen kerk en staat is 'n nie-onderhandelbare beginsel.

    Sekerlik sal die kerk nooit vervolging soek nie, maar eerder as om kompromieë aan te gaan wat hierdie beginsel betref, sal hy vervolging in die gesig staar. Onaangenaam en pynlik soos dit mag wees, toon die geskiedenis keer op keer dat die kerk, soos ‘n wingerdstok onder 'n snoeiskêr, onder vervolging gedy.
    Dit beteken dat die staat se vyandskap die gemeente van Christus nooit in die diepste sin van die woord kan bedreig nie. Dit kan bloot die konteks verander waarin hy sy roeping moet vervul.

5.    Tog leer die Skrif nie dat die staat en die kerk niks met mekaar te doen het nie.
Die kerk skep nie kultuur nie, maar dit beïnvloed kultuur  -  en politiek is 'n belangrike deel van 'n samelewing se kultuur.
    Waar die evangelie ook al verkondig word, daar raak die samelewing gemeng, bestaande uit diegene in Christus en diegene in Adam. Daarom kan daar nie iets soos 'n Christelike kultuur wees nie (as kultuur dan die erfenis van 'n samelewing in sy geheel is). Daar kan slegs 'n kultuur wees waar die evangelie se invloed tot 'n meerdere of mindere mate waargeneem kan word.
    Nooit plaas die Nuwe Testament 'n sogenaamde Christelike kultuur teenoor 'n heidense kultuur nie. Dit leer dat die kerk en sy evangelie 'n suurdeeg is in welke kultuur dit ook al teenwoordig mag wees. Die Skrif is doodtevrede om die Christen se stem bloot by al die ander stemme in die kultuurkoor te plaas.
    Hieruit volg dat die kerk die evangelie positief moet verkondig, en uiters versigtig moet wees om as kerk enige politieke verklarings te maak. Waarskynlik is dit die heel beste as hy hom geheel-en-al daarvan weerhou. Nee, die kerk se spreke word gehoor in die stemme van sy lidmate in hulle hoedanigheid as burgers met godvrugtige waardes en oortuigings.

                                                              Nico van der Walt

Thursday, June 21, 2012

ANTIPAS HEROUT No.8 : DIE CHRISTENSOLDAAT SE SKOENE - 'n Bespreking van Efesiërs 6:15 en Filippense 4:1-9

    "en as skoene aan julle voete die bereidheid van die evangelie van vrede" (Ef 6:15, eie vertaling)

Sonder twyfel is dit 'n onuitspreeklike voorreg om in hierdie wêreld as 'n kind van God te leef. Tog het egte Christenskap altyd 'n komponent van stryd  -  teen die vlees, die wêreld en die Duiwel. Hulle wat deur God gered is, leef enduit as vreemdelinge in vyandelike gebied.
    Die bekende Ef 6:10-20 oor die Christen se wapenrusting is van die allergrootste belang om in hierdie stryd oorwinnend te bly. Ongelukkig is daar beswaarlik 'n Skrifgedeelte waaroor meer onsin verkondig word. Gevolglik heers baie verwarring oor hierdie lewensbelangrike waarhede. Een vers waaroor daar veral onsekerheid bestaan, is v.15  -  wat handel oor die Christensoldaat se skoene. Die verskillende opinies het grootliks te doen met twee uiteenlopende vertalingsmoontlikhede. Die Afrikaanse vertalings is wel eenstemmig, maar bykans al die standaard Engelse vertalings kies die ander opsie.
    Kom ons bekyk hierdie vers van naderby. Per slot van rekening, wat is meer nikswerd as 'n kaalvoet soldaat?

Efesiërs 6:15 van naderby

•    Die Griekse werkwoord kan letterlik soos volg vertaal word: "hebbende beskoen jouself". Uiteraard is behoorlike skoene vir 'n soldaat van lewensbelang. In die Romeinse kryger se geval was dit 'n soort sandaal met soolknoppe (amper soos 'n rugbystewel). Afgesien van skoene se ander funksies, het dit hom dus gehelp om vas te staan as hy handgemeen met die vyand was. Dis waarskynlik wat die apostel in die eerste instansie hier in gedagte het, want die hele gedeelte word beheers deur die noodsaak om staande te bly in die geestelike stryd (11, 13, 14).
    Let verder daarop dat dit die Christensoldaat se eie verantwoordelikheid is om die skoene aan te trek en voortdurend te dra.
   
•    Die woord wat ons Afrikaanse Bybels met "bereidheid" vertaal (Gr. hetoimasia), kom net een maal in die Nuwe Testament voor.
    In klassieke Grieks beteken hierdie selfstandige naamwoord vastigheid of fondament. Dit het egter geleidelik 'n betekenisverskuiwing ondergaan, sodat dit in Nuwe Testamentiese Grieks "gereedheid" beteken. ["Gereedmaking" en "toerusting" is ook mindere moontlikhede]. Die gesaghebbende woordeboek van Louw en Nida stel dit só: "a state of being ready for action".

•    Die kwalifikasie, "van vrede", wil sê dat die evangelie vrede as inhoud het. Dit dui op die goeie nuus van versoening in Christus tussen God en sondaars (2Kor 5:18-21).

•    Die verband tussen "gereedheid" en "die evangelie van vrede" is in die Grieks dubbelsinnig . Dit kan dus op twee maniere vertaal word: óf gereedheid vir die evangelie; óf gereedheid van die evangelie. Eg. praat dus van 'n gereedheid om die evangelie te verkondig. Lg. praat van 'n gereedheid, 'n paraatheid, wat die evangelie van vrede verleen om die aanslae van die vyand af te weer.
    Presies hier loop vertalings uiteen.
    Sekerlik is verkondiging van die evangelie die manier waarop die Here die koninkryk van Satan oorwin en mense uit die mag van die bose red (Hd 26:18). Vraag is egter of dít is waarom dit hier gaan? In geval van so 'n onsekerheid, moet die konteks altyd dikteer. So bekyk, pas die tweede moontlikheid perfek in, terwyl die eerste net nie sy lê wil kry nie.
    Dit gaan hier om vas staan teen die aanslae van die vyand. Presies dít wil die tweede moontlikheid tuisbring: die idee van paraatheid en stabiliteit onder aanslae.
    Ook is die klem deurgaans op die defensiewe, nie op die offensiewe nie.
    Verder pas so 'n vertolking by die ander stukke van die wapenrusting. Dié dui op verskillende, maar nou-verwante aspekte van ons erfenis in en verhouding met Christus. Nie wat ek vir die Here doen nie, maar wat Hy vir my doen, is waaroor dit gaan (ek moet die wapenrusting wel aantrek, toe-eien, ja). Eintlik is die wapenrustig niks anders as verskillende fasette van my erfenis in Christus nie! En hierby pas die tweede moontlikheid weereens perfek in.
    Les bes, hoe kan blote bereidwilligheid om die evangelie te verkondig (dus nie verkondiging self nie) veel effek hê in hierdie oorlog?

•    As ons dan die tweede moontlikheid aanvaar, ontstaan die vraag: hoe trek mens hierdie skoene aan? Hoe realiseer so 'n gereedheid in my lewe? Die evangelie vertel van 'n vrede wat bewerkstellig is. Maar dit het buite my gebeur (objektief). Om my toe te rus en gereed te kry vir die aanslae van die bose, vereis tog dat iets ook binne-in my moet gebeur (subjektief). Dit gebeur as ek die objektiewe feit van vrede met God in die geloof omhels en vashou. Die gevolg daarvan is dan dat die vrede van God binne-in my vestig. En dis hierdie innerlike vrede wat my in staat stel om vas te staan in die dag van onheil. Niks is beter om die aanslae van die vyand te 'kussing', as presies dit nie.

•    Die evangelie, die boodskap van versoening met God, en besonderlik die innerlike vrede, sekuriteit en gevestigdheid wat dit vir gelowiges bring, gee die verankering wat mens voorberei om onwankelbaar vas te staan in die dag van onheil (v.13)  -  as die vyand met alle mag aanval. Om die skoene van die wapenrusting aan te hê, is om die boodskap van die evangelie, die boodskap van vrede mét God te ken, te omhels en dan in Christus te rus - en om die vrede ván God wat daaruit spruit as 'n kosbare kleinood te koester.

Praktiese riglyne n.a.v. Filippense 4:1-9 

Sonder twyfel dink Paulus aan die Christen-soldaat se skoene as hy Fl 4:1-9 skryf. Die verband tussen die twee Skrifgedeeltes is onmiskenbaar.
    Ook hier begin hy met die idee van "vas staan" (v.1).
    En die Christelike vrede is prominent (v.7, 9). Dis 'n vrede wat "alle verstand te bowe gaan" en wat oor gelowiges se "harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus" (lett. bewaking deur 'n militêre garnisoen).
    In hierdie 9 verse gee die apostel 5 praktiese riglyne, wat almal in diens staan van belewing van die vrede van die Here. As sodanig werp dit betekenisvolle lig op hoe die gelowige sy skoene dra. Kom ons bekyk elkeen van hierdie riglyne.

1.    Verbly jou voortdurend in die Here (v.4)

•    Fl 4:1 begin met "daarom", wat op 'n verband met hoofstuk 3 dui. Inderdaad beveel die apostel reeds in 3:1 dat gelowiges hulle in die Here moet verbly. Dit gee sekerheid (Gr. asfales: struikel of kantel, met 'n negatiewe voorvoegsel). Verblyding in die Here bring dus stabiliteit, vastigheid, sekerheid. En dís waaroor dit gaan!

•    Wat beteken dit om jou in die Here te verbly?
    In 3:3 begin Paulus met "want". Hy gaan dit nou verduidelik. In die volgende verse sit hy dan die essensie van die Evangelie uiteen (veral v. 3 en 9): nie mý godsdienstige verdienste nie, maar die toegerekende geregtigheid van Christus, is die grond van my versoening met God. En dís die grond en inhoud van Christelike blydskap.
    Maar hier mag dit nie ophou nie  -  in die finale instansie gaan dit om verblyding in Hom persoonlik en die avontuur om Hom te ken (10).

•    Verlustiging in die Persoon en werk van Christus bring dus 'n vastigheid, 'n sekuriteit in my lewe. Só besorg die Evangelie van vrede die skoene waarmee die gelowige kan vas staan, sodat die vyand hom nie oorrompel of terugdryf nie. Om jou in die Here en Sy volmaakte versoeningswerk te verbly, is die heel eerste geheim van geestelike oorlogvoering! [Vergelyk ook in hierdie verband Op 12:10-12].
    Let op, dit gaan nie hier om blydskap sondermeer nie, maar om blydskap spesifiek in die Here. Wat meer is, dis blydskap wat begripvolle waarheidsinhoud het. Te veel mense vergeet hierdie kwalifikasies, en uiteindelik is daar min te onderskei tussen hulle "joy" en die entoesiasme van 'n intervarsity-paviljoen.

2.    Waak oor jou menseverhoudinge (v. 2-3; 5)

•    Let op hoe die apostel se gedagtes loop. In v.1 beveel hy sy lesers om vas te staan. Dan dink hy onmiddellik aan 'n situasie wat dit ondermyn  -  daar is onvrede in die gemeente van Filippi (v.2). Vrede is immers die skoene waarmee vas gestaan moet word. Ja, dit gaan primêr om die vrede met God, en die vrede van God wat dit bring. Maar daar is min dinge wat hierdie 'vertikale' vrede vinniger versteur as onvrede met my naaste, besonderlik my broers en susters in die Here.
    Satan maak amok in 'n gemeente waar verdeeldheid heers. Voortdurende restitusie, vergiffenis en versoening is só belangrik dat weiering betrokkenes tugwaardig maak (Mt 18:17). Trouens, mense wat in hierdie sonde volhard, gee aan die vyand so 'n houvas, dat hy hulle uiteindelik die ewige verdoemenis insleep (Mt 18:21-35).

•    Teenoor die negatiewe stel Paulus dan die positiewe in v.5: hy beveel sy lesers om "inskiklik" te wees teenoor "alle mense". Hierdie is 'n ryk begrip wat dui op vriendelikheid, welwillendheid, soepelheid, sagtheid. Dis om nie 'n moeilike mens te wees wat altyd op sy regte staan nie. Dis die gesindheid van Christus, soos in Fl 2:1-8 beskryf.
    Dis hoe 'n Christen, en 'n gemeente gesamentlik, die geestelike skoene dra.
   
3.    Bid gedurig oor alle nood en behoeftes (v. 6)

•    Daar is dosyne beloftes in die Woord dat die Vader in alle opsigte na Sy kinders omsien. En daar is talle uitnodigings, selfs bevele, dat hulle tot Hom moet nader  -  met "alles" (v.6). Dit is goed en reg en nodig  -  trouens, 'n moet dat hulle dit doen. Die Bybel laat geen twyfel dat die Vader 'n behae daarin het nie.
    Hierdie wonderlike voorreg is myne deur Christus wat vrede met God vir my bewerkstellig het. Daarom kan ek weer en weer met die grootste vrymoedigheid na die Vader se genadetroon gaan (Heb 4:16; 10:19-21). En dis een van dié maniere om die skoene waaroor ons praat, te dra.
    Daarenteen maak 'n gebrek aan vrymoedigheid van my 'n kaalvoet-soldaat. Dit lei tot allerlei kwellinge en speel in die hand van die vyand, omdat dit my innerlike vrede ondermyn, my aandag van Christus aftrek en my dus in die geestelike stryd destabiliseer.

•    Kleingeloof en wantroue is egter ons probleem. 'n Wonderlike kuur hiervoor is om die Bybel se beloftes oor die Vader se versorging van Sy kinders weer en weer te bepeins en te omhels  -  en om dan daarvolgens te lewe. Vergelyk byvoorbeeld hierdie twee heerlike beloftes in verband met ons materiële versorging: 2Kor 9:8 (met sy 5 positiewe beklemtonings - 5 maal 'alle') en Hb 13:5 (met sy 5 negatiewe versekerings in die Grieks). Lg. vers is só oorweldigend dat meeste vertalings nie eers probeer om reg daaraan te laat geskied nie (die Amplified Bible probeer, maar oordryf darem 'n bietjie). Die vyf negatiewe sou só weergegee kon word: Ek sal jou nie loslaat nie! Nooit! Nee! Nooit en op geen wyse sal Ek jou in die steek laat nie!

•    Ek moet die Vader ook vir Sy getroue voorsiening dank (6). Afgesien daarvan dat ek dit aan Hom verskuldig is, herinner dit aan Sy goedheid, en bou sodoende my geloof en vrymoedigheid voor Sy genadetroon.

•    Hierdie is 'n saak wat Paulus goed onder die knie gehad het. Die verse wat onmiddellik volg, Fl 4:10-14, is insiggewend. Die gedeelte word beheers deur v.10, waarin hy sy lesers bedank vir materiële gawes. Hy getuig egter dat hy in elk geval vergenoegdheid (OAV) in alle omstandighede ervaar. Wat is vergenoegdheid? Dis die afwesigheid van innerlike onrus. Dis niks anders nie as innerlike vrede.
    Omdat hy geleer het om sy Hemelse Vader in alles te vertrou, leef hy geestelik gesteweld en gespoor! En dit, let wel, stel hom in staat om selfs in die moeilikste omstandighede die mas op te kom (v.13). Dit stel hom dus in staat om in die geestelike oorlog te seëvier.

4.    Bepeins voortdurend die dinge van die Here (v. 8)

•    Die vyand rig sy voortdurende aanslae onder andere op ons gedagtes. Die Christen moet dit herken en weerstaan. Hoe vinnig verdryf sondige en negatiewe gedagtes nie ons vrede nie! Wat steel ons skoene vinniger as kritiese, siniese, suspisieuse, pessimistiese, hebsugtige, wellustige, naywerige, wraakgierige gedagtes?

•    Nee, beveel die apostel, bedink dit wat Bybels-positief is. Dissiplineer jouself, en vul jou denke met die dinge van die Here en die Here van die dinge.
    Hy praat ook elders hieroor: "bedink die dinge daarbo" (Kol 3:2) en "laat die Woord van Christus ryklik in julle woon" (Kol 3:16).

•    Geseënd is die gelowige wat die kuns van v.8 bemeester. Die geur van Christus hang soos 'n wolk om hom, hy beleef die vrede van die Here wat alle verstand te bowe gaan, en hy is 'n rots in 'n wêreld so onstabiel soos die water in die see.
    Om ons denke en lewensinstelling reg te rig, kom nie maklik nie  -  veral nie vir party nie. Maar ons móét eenvoudig waak oor dit waarmee ons ons gedagtes voed. Die Puriteinse spreekwoord is waar: Die vrede van die Here kom te voet en dit wyk te perd. Daarom moet mens versigtig wees om jou goedsmoeds bloot te stel aan enige fliek, TV-program, tydskrif, plek of geselskap.

5.    Lewe getrou aan die apostoliese leer en voorbeeld (v. 9)

•    Paulus verwys hier na dit wat die Filippense by die apostels geleer, en gevolglik as opdragte van die Here aanvaar het. Eintlik het hy dit in gedagte wat hulle by hóm gehoor en gesien het. Veral in die beginstadium was die apostels grootliks verantwoordelik vir die herderlike funksie in die vroeë kerk. As sodanig was hulle lering en lewensvoorbeeld van die allergrootste belang (vgl. 1Kor 11:1).
    Die vraag is nou, watter rol het dit gespeel in die geestelike stryd van individuele gelowiges? Die antwoord lê voor die hand. Niks bring meer innerlike vrede, verankerdheid en sekuriteit, as 'n duidelike greep op waarheid, as vaste gedragsnorme, as diepliggende oortuigings nie. Daarbenewens verleen dit 'n koersvastheid en onderskeidingsvermoë wat jou bewaar van die dwalinge en versoekinge van die vader van die leuen (Jh 8:44). As bedienaars van die God se Nuwe Testamentiese openbaring, wat die praktiese implikasies daarvan in hulle lewens gedemonstreer het, het die apostels uiteraard 'n onberekenbare rol gespeel in die gelowiges se heilige toewyding aan die Here.

•    Hoewel hulle 'n veel mindere rol as die apostels vervul, het gemeentelike voorgangers steeds hierdie funksie. Hulle moet die volle raad van God aan die gemeente bedien, dit met godvrugtige lewens demonstreer en die gemeente daarin lei (Hb 13:7,17; Hd 20:25-32; 1Pt 5:2-4). Geseënd is die kudde met sulke ouderling-herders. Dit bring vergenoegdheid, onderlinge vrede, sekuriteit en standvastigheid vir sowel individu as gemeente.

•    Dit verduidelik ook 2Ts 3:6 se opdrag dat gelowiges hulle moet onttrek aan elkeen in die gemeente wat leeglê en hom nie hou aan die apostels se opdragte nie. Sulke mense is "vrot appels in die kis", wat die onderlinge vrede kort voor lank met los tonge versteur. Hulle is die vyand se "vyfde kolonne" binne die stadsmure en maak die poorte skelm vir hom oop.

'n Laaste trooswoord

Bogenoemde vyf riglyne bied eintlik alles wat nodig is om te verseker dat die Christensoldaat as individu, en die gemeente gesamentlik, die skoene van vrede dra en sodoende onwankelbaar vas staan teen die aanslae van die bose.
    Maar Fl 4:9b het nog verdere troos vir diegene wat bogenoemde uitleef: Die God van vrede gee nie net aan Sy krygers die skoene wat nodig is om vas te staan nie; Hy trek saam op in die oorlog!
                                                               Nico van der Walt

                                                                               -o0o-