God het die mens na Sy beeld geskep. Hierdie beeld is ernstig deur die sondeval verwring, maar nie heeltemal vernietig nie (Gn 1:26-27; 5:1; 9:6). God los dit egter nie so nie, maar deur Sy verlossingswerk in Christus herstel Hy die mens na Sy beeld.
God se beeld
Wat behels God se beeld in die mens?
Allereers moet gesê word dat dit nie in die mens se liggaamlikheid sonder meer sit nie. God is gees (Jh 4:24) en het as sodanig nie 'n liggaam nie.
Die mens is as rentmeester in 'n unieke gesagsposisie op aarde geplaas. Hy moes vrugbaar wees, die aarde bewoon en bewerk, en oor die res van die skepping heers (Gn 1:28). Hy het dus 'n duidelike opdrag en doel gehad. Dit beteken dat hy nie net gehoorsaam moes wees nie, maar ook inisiatief moes neem. Hiervoor is die mens met 'n wil geskape - 'n wil wat ná die sondeval helaas nie meer in harmonie met God was nie. Die herskepping in Christus het dit egter reggestel.
Twee Nuwe Testamentiese uitsprake gee verdere lig. In beide gevalle het dit te doen met die herstel van God se beeld in die gevalle mens.
• Aan die Efesiërs word geskryf dat hulle hul "... met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid" (4:24, OAV). Die mens is 'n morele wese, en voor die sondeval het dit in volmaakte harmonie met God se wil en standaarde tot uitdrukking gekom. Die sondeval het dit egter tragies bederf. Maar in die mens se herskepping word dit reggestel.
• Aan die Kolossense word gesê: "Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper ..." (3:9-10, OAV). Die mens is 'n rasionele wese, met die vermoë om te dink en te verstaan. Deur die sondeval is hierdie vermoë helaas ernstig verbuig. Maar ook dit word deur die herskepping in Christus herstel.
• 'n Vierde aspek van die mens se skepping na die beeld van God sit in sy geslagtelikheid. Die mens is as man en vrou geskape.
Dis die tema van hierdie studiestuk.
"En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape." (Gn 1:27, OAV).
"Toe God die mense geskep het, het Hy hulle gemaak as beeld van Homself. Man en vrou het Hy hulle geskep en Hy het hulle geseën en hulle mens genoem toe hulle geskep is" (Gn 5:1-2).
Die beeld van God in die mens sit dus in sy wil, sy moraliteit, sy kennis en sy geslagtelikheid.
Die Westminster Shorter Catechism (Vr. 10) som bogemelde só op: "God created man male and female, after His own image, in knowledge, righteousness, and holiness, with dominion over the creatures."
God se beeld in ons geslagtelikheid
Die feit dat God, toe Hy die mens na Sy beeld geskape het, nie net een persoon gemaak het nie, maar twee afsonderlike en verskillende persone - man en vrou - bring 'n baie besondere aspek van God se beeld en wese na vore: die Drie-eenheid.
In Gen 1:26, onmiddellik voordat vertel word van die mens se skepping na God se beeld, vind ons die eerste sinspeling op die Drie-eenheid: "Toe het God gesê: 'Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld ...".
Die mens se skepping as man en vrou vertoon die drie-enige God se beeld op ten minste drie maniere:
• Eerstens kom dit tot uitdrukking in die man en vrou se verhouding, veral in die intimiteit binne die huwelik.
• Tweedens sit dit in hulle persoons- en statusgelykheid voor God.
• Derdens word dit gesien in die verskillende rolle wat hulle Skepper aan hulle toeken, en in die gepaardgaande gesagsonderskeid tussen hulle.
Eerstens: Liefdesgemeenskap
Net soos daar van ewigheid af gemeenskap, kommunikasie en samewerking tussen die drie persone van die Goddelike Drie-eenheid is, so is man en vrou ook geskep en vir mekaar gegee met die oog op liefdesgemeenskap, onderlinge kommunikasie en samewerking.
God het die mens nie geskape om 'n geïsoleerde bestaan te voer nie. Nie alleen is hy in staat tot interpersoonlike menseverhoudinge nie; hy het 'n onversadigbare behoefte daaraan. Veral in familie- en gemeenteverband kan hierdie verhoudinge baie sterk beleef word. Nooit kom dit egter tot intenser uitdrukking as in die verhouding tussen man en vrou nie - tot so 'n mate dat hulle "een word" (Gn 2:24). Hulle eenheid is nie net fisiek nie, dis ook emosioneel en geestelik - veral natuurlik in die geval van Christene.
Hierdie eenheid word op talle maniere in die Woord onderstreep en beklemtoon. Man en vrou is deur God saamgevoeg (Mt 19:6). Seksuele eenheid met iemand anders as jou eggenoot is 'n besonder afstootlike oortreding teen jou eie liggaam (1Kor 6:16, 18-20) - met ander woorde teen jou huweliksmaat wat één is met jou. Binne die huwelik het die man nie alleenseggenskap oor sy liggaam nie; hy deel dit met sy vrou - en natuurlik omgekeerd (1Kor 7:3-5). Mans moet hulle vrouens so lief hê soos hulle eie liggame (Ef 5:28). Die eenheid tussen man en vrou is lewenslank (Mal 2:14-16; Rm 7:2).
Teen hierdie voor die hand liggende vertolking van Skrifgegewens word beswaar aangeteken vanuit feministiese kringe. Waarom bestaan die huwelik dan uit net twee partye, as daar drie persone in die Godheid is, word gesê. Daar is ten minste drie moontlike verklarings - en al drie is bes moontlik geldig.
• Dit wil ons bes moontlik herinner dat die verhouding tussen man en vrou 'n flou afskynsel is van dit wat in die Godheid bestaan.
• Die eenheid binne die huwelik is onvolmaak as dit nie 'n eenheid in die Here is nie. Wanneer man en vrou egter gesamentlik met God wandel, is daar inderdaad drie partye.
• Nog 'n verklaring werk ook met drie partye. In die geval van 'n gesin is die liefdesgemeenskap tussen vader, moeder en kinders iets van 'n vergestalting van die verhouding tussen die Vader, die Seun en die Gees.
Tweedens: Statusgelykheid
Van ewigheid af - wat belangrikheid en goddelikheid betref - is daar volkome gelykheid tussen die drie Persone van die Goddelike Drie-eenheid. Netso is daar geen statusverskil tussen man en vrou voor hulle Skepper nie. Beide is eweveel na Sy beeld geskape; en hierdie beeld is sedert die sondeval nie in een méér verwring as in die ander nie. Tot in alle ewigheid is nie een vir Hom meer belangrik of waardevol as die ander nie. Die Bybel bied dus geen grond vir enige manlike of vroulike geslagshoogmoed nie.
Hierdie statusgelykheid van mans en vrouens vereis dat hulle mekaar moet respekteer en hulle onderlinge afhanklikheid altyd onthou.
Paulus word meermale as manlike chauvinis uitgekryt. Maar dis ten onregte: "Tog het die Here bepaal dat die vrou nie sonder die man sal bestaan nie, en die man nie sonder die vrou nie, want soos die vrou uit die man geneem is, so kom die man deur die vrou in die wêreld, maar alles is uit God" (1Kor 11:11-12).
Veel meer as enige kultuur, filosofie of godsdiens in die geskiedenis, bring die nuwe bedeling in Christus die gelyke waarde van man en vrou na vore.
In 'n antieke wêreld van skokkende diskriminasie teen vrouens, profeteer Joël reeds dat die Messias Sy Gees sal uitstort op sowel seuns as dogters, op sowel diensknegte as diensmaagde (2:28-29, OAV). En op die Pinksterdag verklaar Petrus dat die profesie vervul is (Hd 2:17-18).
Die gelykheid van man en vrou voor God word onmiskenbaar in die Nuwe Testamentiese gemeente onderstreep as beide geslagte gedoop word. Teenoor die Ou Verbond, waartydens net mans die verbondsteken ontvang het, wil die Heilige Gees ook hiermee kragtig getuig dat God nou in Christus begin het met die herstel van God se beeld in die mens - ná die verwringing wat met die sondeval ingetree het.
Statusgelykheid tussen man en vrou word onontkombaar duidelik gestel in Galasiërs: "... want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één" (3:27-28). Die apostel beklemtoon hier dat daar geen meerder- of minderwaardige kategorie mense in die gemeente is nie. Net so min as wat Jode die reg gehad het om op Grieke as tweederangse lidmate neer te sien, net so min kon mans op vrouens neersien. Hierdie Nuwe Testamentiese gelykheidsbeginsel het 'n rewolusie begin - waaraan vrouegelykheid in die moderne wêreld grootliks te danke is.
Derdens: Funksionele onderskeid
Terwyl daar van ewigheid af volkome gelykheid tussen die Persone van die Drie-eenheid bestaan, was daar ook nog altyd verskille in funksie en gesag tussen hulle.
Hoewel al drie Persone gelyk is in hulle goddelikheid, het die Vader groter gesag. Hy het 'n leierskaprol wat die ander twee Persone nie het nie. So was die Vader byvoorbeeld nog altyd die Váder in Sy verhouding met die Seun.
In feitlik alles wat in God se raadsplan gebeur, is al drie Persone betrokke. Maar sonder uitsondering het hulle verskillende rolle. Wat meer is, daar is ook 'n onmiskenbare orde te bespeur. Die Vader is altyd die inisiatiefnemer. Die Seun neem dan as 't ware oor om die Vader se besluite te implementeer en te vervolmaak. En les bes is die Heilige Gees baie dikwels die agent wat alles verwerklik en finaliseer.
In die skepping spreek die Vader inisiërend, die Seun skep, en die Heilige Gees onderhou deur Sy voortgaande teenwoordigheid (Gn 1:1-2; Jh 1:1-3; 1Kor 8:6; Kol 1:16-17; Hb 1:2).
In die herskepping verordineer die Vader sondaars tot die ewige lewe (Jh 6:37-39; Ef 1:3-6). Hy stuur die Seun om alles te doen wat nodig is vir hulle redding (Lk 22:42; Jh 6:38-40; Fl 2:6-8). En as die Seun na die hemel terugkeer, word die Heilige Gees deur beide die Vader en die Seun gestuur om die kerk te bou en toe te rus (Jh 16:7; Hd 1:8; 2:33).
God het soortgelyke funksionele en gesagsverskille tussen man en vrou daargestel. Ook hierin word iets van die Drie-eenheid se wondere weerspieël.
1Kor 11:3 stel dit so: "Ek wil egter hê julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en ’n man die hoof van sy vrou, en God die hoof van Christus."
'n Skeppingsverordening: Nie die sondeval se gevolg nie
Sommige voer aan dat die rol- en gesagsonderskeid tussen man en vrou ingestel is as straf ná die sondeval - en dus in Christus opgehef word. Dit het begin, word gesê, met die vloekuitspraak oor Eva: "Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring. Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers" (Gn 3:16).
Dis egter glashelder dat die rol- en gesagsonderskeid tussen man en vrou reeds vóór die sondeval volledig gevestig was. Sewe feite - wat almal reeds vóór die sondeval in plek was - bevestig dit.
Adam is eerste geskep; Eva eers daarna (Gn 2:7; 18-23)
Hierdie skeppingsorde was uniek. Geen dier is so geskep nie. Duidelik het God 'n spesifieke doel gehad.
Dat dit te doen gehad het met 'n rol- en gesagsonderskeid, word deur die geïnspireerde apostel bevestig as hy hierdie feit gebruik as begronding vir sy verbod op vroulike leierskap in die gemeente. Hy skryf in 1Tm 2:12-13: "Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva."
Eva is as helper vir Adam geskep (Gn 2:18, 20)
God het Eva in die eerste instansie vir Adam gemaak, nie Adam vir Eva nie. "Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n hulp maak wat by hom pas" (Gn 2:18, OAV).
Ook hierdie feit word deur die apostel gebruik as hy die noodsaak van 'n onderskeid tussen man en vrou tydens gemeentelike aanbidding motiveer: "Die man is ook nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man" (1Kor 11:9).
Adam het vir Eva haar naam gegee (Gn 2:23)
In die onmiddellik voorafgaande verse gee Adam name aan die diere (Gn 2:19-20) - en oefen so sy heerskappy oor hulle uit. Dwarsdeur die Ou Testament impliseer die reg om iemand te benaam ook gesag oor hom. So was dit God se prerogatief om Abram en Sarai se name na Abraham en Sara te verander (Gn 17:5, 15). En uiteraard is dit steeds ouers se reg.
Wat meer is, dit was altyd die idee dat 'n Hebreeuse naam iets moes sê oor 'n persoon se karakter en funksie in die lewe. Toe Adam dus die diere benaam het, het hy eintlik hulle karakter en funksie vasgemaak. Dis betekenisvol dat hy, as hy Eva "vrou" of "mannin" noem, sy reg daartoe begrond op die feit dat sy uit hom voortgekom het: "Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem" (Gn 2:23, OAV).
God noem die menslike geslag "Adam" (Gn 5:2)
"Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle "mens" (Hb. Adam) genoem, die dag toe hulle geskape is" (Gn 5:2, OAV). Die Skepper gebruik nie 'n geslags-neutrale naam nie, maar die manlike vorm. Dit impliseer dat Adam die leierskaprol sou vervul. Dis steeds so dat 'n vrou haar man se van aanneem wanneer sy trou. Sodoende onderwerp sy haar aan sy gesag, word sy in 'n baie besondere sin deel van sy familie, en moeder van sy nageslag (wat sý van dra).
Die slang het sy verleiding op Eva toegespits (Gn 3:1)
In sy slinksheid het Satan geweet die vrou sou minder bestand wees teen sy versoeking. Waarom? God het haar nie geskape om in die voorste loopgrawe te veg nie. Sy is by uitnemendheid toegerus vir 'n ondersteuningsrol.
Ook hierna verwys Paulus as hy die vrou van lering en regering in die gemeente uitsluit: "Dit is ook nie Adam wat verlei is nie, dit is die vrou wat haar laat verlei het en die gebod oortree het." (1Tm 2:14).
God het Adam aanspreeklik gehou vir die sondeval ‒ hoewel Eva eerste voor die duiwel geswig het (Gn 3:9; 17).
"En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie - vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe" (Gn 3:17, OAV). Hoewel alles by Eva begin het, word Adam verantwoordelik gehou. Waarom? Sonder uitsondering loop gesag en toerekeningsvatbaarheid saam.
Adam, nie Eva nie, het die menslike ras verteenwoordig
Eva het eerste gesondig. Maar die mensheid is aan erfsonde onderworpe - nie vanweë Eva se se sonde nie, maar as gevolg van Adam s'n. Dis in Ádam dat almal sterf. "Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word" (1Kor 15:22. Vgl. ook Rm 5:15).
Wat sê dit vir ons?
Ons fokus net op twee sake:
1. Die mens se skepping as man en vrou na God se beeld, is die hoeksteen-beginsel van die huwelik.
As die huwelik daarin slaag om die drie pilare - gemeenskap, gelykheid en funksionele onderskeid - in jukstaposisie staan te maak, is dit een van God se wonderlikste gawes aan die mens. En as afskynsel van God se wese, verheerlik dit Hom uitnemend.
Die sondeval het egter hierdie God-verheerlikende instelling ernstig beskadig. En deur die geskiedenis het min dinge meer pyn vir miljoene der miljoene gebring, as juis die huwelik wat God se skeppingsverordeninge geweld aandoen.
Die sondeval het meegebring dat die verhouding tussen man en vrou, asook hul onderskeie rolle, ernstig verwring is.
In God se afkondiginge van oordeel in Gen 3 - onder meer oor die huwelik - het Hy nie nuwe rolle ingestel nie, maar verklaar dat die uitvoering van bestaande rolle vorentoe met smarte gepaard sou gaan.
• As broodwinner sou Adam steeds die aarde moes bewerk, maar "in die sweet van sy aangesig" (OAV) sou hy met "dorings en dissels" moes worstel (3:18-19).
• As moeder sou Eva steeds kinders baar en grootmaak, maar nou sou dit met baie pyn gepaard gaan (3:16).
Die man en die vrou sou steeds saamleef, maar nou sou hulle verhouding vol konflik en hartseer wees. As God in v.16 vir Eva sê dat sy na haar man sal "hunker", gebruik Hy 'n Hebreeuse woord wat eerder op begeerte na oorheersing dui, as op seksuele begeerte. Immers was laasgenoemde na alle waarskynlikheid reeds vóór die sondeval teenwoordig.
En as God vir die vrou sê dat haar man oor haar gaan "heers", gebruik Hy 'n sterk begrip wat gewoonlik gebruik is om onderdrukkende regerings te beskryf. Die man sou dus sy krag en gesag misbruik om die vrou te onderdruk.
Verlossing in Christus bring egter 'n opheffing van die vloek en 'n terugkeer na die oorspronklike ordes mee. In plaas van naywer en rebellie, word die vrou in Christus beveel om haar man in blymoedige en lojale onderwerping te steun (Ef 5:22-24; Kol 3:18; 1Pt 3:1-6). In plaas van gevoellose onderdrukking van sy vrou, word die man in Christus opgeroep tot liefdevolle en koesterende regering in die huwelik (Ef 5:25-33; Kol 3:19; 1Pt 3:7). So word die Christelike huwelik nie net 'n afskynsel van die Goddelike Drie-eenheid nie, maar ook van die verhouding tussen Christus en Sy gemeente. Die vrou se rol in die huwelik is soos díé van die gemeente in sy verhouding met Christus. En die man moet vir sy vrou wees soos Christus vir Sy kerk.
Maar nooit mag ons die rolverdeling in die huwelik en die man se hoofskap beklemtoon nie, sonder om ook te onthou dat man en vrou "mede-erfgename van die genade van die lewe is" (1Pt 3:7, OAV). Daar is geen statusverskille tussen hulle nie, net soos nie een Persoon in die Goddelike Drie-eenheid minderwaardig is in vergelyking met die ander nie.
2. Die mens se skepping as man en vrou na God se beeld is die diepste rede waarom die Nuwe Testament nie die vrou toelaat om in die gemeente te regeer nie. Vir diegene wat oppervlakkig met Nuwe Testamentiese gegewens omgaan, lyk dit asof die apostel Paulus homself weerspreek: enersyds beklemtoon hy die gelykheid tussen man en vrou in die gemeente (Gl 3:26-29); andersyds maak hy baie van die verskille tussen manlike en vroulike lidmate (1Kor 11:2-16), en in die besonder lê hy 'n swyggebod op die vrou in gemeentelike byeenkomste (1Kor 14:34-36; 1Tm 2:9-15).
Maar die apostel het homself allermins weerspreek. Hy verstaan gewoon die fundamentele beginsel waarna ons in hierdie studiestuk kyk. En hy weet hoe lewensbelangrik is God se skeppingsverordeninge. Net so min as wat daar 'n innerlike teenstrydigheid in die drie-enigheid van God sit, net so min geld dit vir Nuwe Testamentiese voorskrifte oor die verhouding tussen man en vrou in die gemeente.
Waarin lê die funksionele verskil tussen man en vrou in die gemeente? Die vrou is 'n volwaardige lidmaat, en mag aan alles deelneem - behalwe om in die gemeente te regeer.
Amptelike en formele Woordverkondiging is 'n regeringsfunksie in die gemeente. Vandaar dat die apostels nie vrouens toelaat om te preek nie.
Let op dat regering - en dus amptelike prediking - ál is waarvan die apostels die vrou uitgesluit het. Volgens 1Kor 11:5 kon sy profeteer en bid. En sy kon lering gee vir jonger vrouens (Titus 2:3-5) - en sekerlik vir kinders.
Funksionele en gesagsverskille tussen man en vrou - ook in die gemeente - is 'n ewige beginsel wat tydens die skepping, vóór die sondeval, in die diepste wese van die mens ingegraveer is. En hier het ons met een van God se skeppingsverordeninge te doen.
As begronding vir sy standpunt beroep Paulus hom konsekwent op God se skeppingsverordeninge. Hiermee beklemtoon hy dat sy voorskrifte nie kultuurbepaald is nie, maar dat dit ewige, universele en ononderhandelbare beginsels is. En soos dit met al hierdie beginsels gaan, betaal ons 'n baie, baie duur prys as ons daarvan afwyk.
Hierdie is geen geringe saak nie. Só kom God se beeld, en Sy gepaardgaande verheerliking, al hoe duideliker in 'n gemeente tot uitdrukking. Só word die realiteite van die herskepping sigbaar in ons. Só gedy die kerk onder die seënende hand van die Here, want die uitnemende pad vir die mens is binne die grense van hulle Skepper se ordes en voorskrifte.
Kom ons sê dit reguit:
Die aftakeling van die rol- en gesagsonderskeid tussen man en vrou in die kerk is nie 'n sekondêre saak nie. Dis nie maar bloot ‘n kwessie van kulturele aanpassing nie. Nee, dis lynreg in stryd met God se skeppingsordes en wil - en dus 'n ernstige sonde!
Waarlik, die kerk wat met betrekking tot hierdie sake wegbreek van die pad van die historiese Christelike geloof, loop ‘n wesentlike gevaar om die geloof mettertyd heeltemal te versaak.
Wat moet daardie kerke doen wat 'n ernstige tekort ervaar aan mans om die wa te trek?
Hulle moet hulleself afvra waarom hulle so 'n probleem het. Baie dikwels het dit te doen met die sentimentalistiese en mensgesentreerde aanslag en boodskap wat vandag in talle kerke aan die orde is. Mans sukkel om te identifiseer met verwyfde predikante en 'n "pienk" evangelie. Die oplossing lê dus in 'n terugkeer na die robuuste en Godgesentreerde evangelie van die Nuwe Testament. Dan sal die mans spoedig weer hulle opwagting maak.
En allermins sal dit help om pragmaties te kapituleer deur maar voort te gaan om vrouens in te druk in ampte waar hulle nie hoort nie, en waar hulle ook nie regtig wil wees nie. Dit sal die kerk net nog méér na reukwater laat ruik.
Nee, die kerk moet weer Paulus se oproep in 1Kor 16:13 leer verstaan: "Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk" (OAV).
Slot
Ons het nie ruimte om daaraan aandag te gee nie, maar enige onderskeidende leser sal verstaan dat ons in hierdie studiestuk by die diepste begronding was van die Bybelse veroordeling van dinge soos voorhuwelikse seks, egbreek, homoseksualisme, en so meer.
Mag die Here ons help om Sy ordes te verstaan - en dit dan kompromieloos uit te leef.
Nico van der Walt
Skryfwerk van Nico van der Walt ter wille van Godgesentreerde, Christusgefokusde en Bybelgefundeerde waarheid, oortuiging en praktyk
Thursday, August 16, 2012
Sunday, August 12, 2012
ANTIPAS HEROUT No.37 - JH 1:14 - GOD SE HOOGSTE OPENBARING [5 van 5] - Vol genade en waarheid
God het sy enigste en innig-geliefde Seun gestuur om Sy hoogste en finale openbaring aan ons te wees. In hierdie openbaring sien ons absoluut betroubaar en akkuraat die essensie van wie en wat God is.
Wat sien ons as ons na die Seun kyk? Ons sien dat Hy "vol genade en waarheid" is. En daarom kan ons met absolute sekerheid weet dat ook die Vader vol genade en waarheid is; trouens, dat dit die wesenstrekke is van wie en wat Hy is. Per slot van rekening kies Johannes, van die duisend karaktertrekke van God wat hy sou kon gebruik, híérdie twee.
Hierdie deel van v.14 moet ons nie los van v.16-17 verklaar nie. Beide hierdie twee verse begin in die Grieks met die redegewende voegwoord, "want", wat uiteraard met die voorafgaande koppel.
Vers 16 sê dat ons uit Christus se volheid genade op genade ontvang het (kennelik Sy volheid van genade en waarheid volgens v.14).
Let ook op die verlede tyd wat gebruik word. Dit het reeds afgehandeld plaasgevind.
En v.17 stel hierdie genade en waarheid wat deur Hom gekom het naas die Ou Testamentiese wet van Moses - en dalk selfs daar teenoor.
Dit is betekenisvol dat die woord "genade" (Gr. "charis") - ten spyte daarvan dat dit aan die hart van die Nuwe Testamentiese boodskap lê - slegs 4 maal in die hele evangelie voorkom, en wel in die drie genoemde verse. Presies wat Johannes bedoel moet ons dus eerstens hieruit aflei, en tweedens uit die res van die Skrif.
Die woord "waarheid" daarenteen is een van die uitstaande begrippe in hierdie evangelie. Johannes gebruik dit 25 keer, en daarbenewens is dit swaar gelaai met betekenis.
Voorts moet ons hierdie twee begrippe, "genade" en "waarheid", nie los van mekaar probeer verklaar nie. Kennelik loop hulle hand-om-die-lyf, en dra hulle saam-saam één boodskap.
Ou Testamentiese wortels
In ons teks gaan dit oor God se selfopenbaring aan ons in die Persoon van die Woord, en oor die vertoning van Sy heerlikheid in wonderlike liefde, nederigheid en diensbaarheid. Dit laat onontkombaar mens se gedagtes loop na een van die mees uitstaande momente in die ganse Ou Testament: Eks 33-34.
Dit is ná die tragedie van die goue kalf. Moses begeer dan om God beter te leer ken (33:13). In die besonder wil hy God se heerlikheid sien (33:18). Uiteindelik lei dit dan daartoe dat die Here afkom na Moses toe en oor Homself uitroep: "Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag" (34:6-7).
Hoewel die Here ook oor Sy toorn teen sonde praat, is dit Sy onbeskryflike liefde wat voorop is in hierdie aangrypende stuk selfopenbaring. En uitstaande hierin is dat Hy Homself "vol liefde en trou" noem.
Hier is ons by twee begrippe wat óók saam-saam weer en weer in die Ou Testament gebruik word (Hb. "chesed" en "emet"). Vergelyk mens nou hierdie twee Hebreeuse begrippe met die twee woorde in ons teks - "genade" en "waarheid" - sien jy dat ons vir alle praktiese doeleindes sinonieme het. Dit word dan ook deur talle Skrifverklaarders aanvaar dat Johannes in 1:14 op Eks 34:6 sinspeel.
Wat beteken hierdie twee Ou Testamentiese woorde?
Kom ons benader dit só: ons kyk eers redelik uitvoerig na die eerste Hebreeuse begrip ("chesed"), asook sy Nuwe Testamentiese ekwiwalent ("genade"). Daarna kyk ons ietwat meer oorsigtelik na die tweede begrip ("emet") en sy Griekse ekwiwalent ("waarheid"). En uiteindelik besin ons dan oor 'n paar praktiese implikasies daarvan dat ons in Christus God se genade en waarheid by uitnemendheid sien.
God se verbondsliefde en ontfermingsgenade
"Chesed" is een van die skitter-begrippe in die woordeskat van die Ou Testament (240x). Dit word as 'n eienskap van menslike godsvrug genoem, maar veral is dit een van God se uitstaande karaktertrekke. Ps 136, wat as sentrale tema het dat daar aan Jahweh se liefde geen einde is nie, sê in elkeen van sy 26 verse dat die Here se "chesed" tot in ewigheid is.
Die OAV vertaal met "goedertierenheid", en die NAV gewoon met "liefde". Maar hierdie is 'n baie bepaalde soort liefde.
• Hierdie is nie maar 'n onpersoonlike soort liefde nie - liefde op 'n afstand nie. Dis verhoudingsliefde. Dit word ten nouste geassosiëer met die idee van verbond. In die geval van God is dit dus Sy verbondsliefde vir Sy geroepe en uitverkore volk - en veral vir diegene daarin wat erns maak met die verbondsbepalinge.
• Die begrip impliseer persoonlike betrokkenheid en toewyding wat bo die eise van plig, konvensie of wet uitstyg. Een woordeboek beklemtoon dat dit 'n liefde is wat gepaard gaan met krag en volharding - krag om die aandrange van die liefde te gehoorsaam; volharding om ten spyte van watter struikelblokke ook al daarmee vol te hou.
• Verder toon 'n studie van hierdie Hebreeuse begrip dat dit veral ook die idee van God se genade dra. Vandaar, waarskynlik, dat Johannes die Griekse woord vir "genade" in ons teks gebruik. En wie kan ontken dat die begrip "genade" aan die hart lê van die res van die Nuwe Testament? Tewens, haal genade uit die evangelie uit, en alles stort in duie.
"Chesed" dui dus op God se onwankelbare en vasbeslote toewyding aan die mense met wie Hy in 'n verbondsverhouding staan. J.I. Packer stel dit só: "it is essentially a matter of faithfulness to the covenant promise whereby He bound Himself to be Israel's God and to use all the resources of deity to bless them." Waarskynlik is die beste vertaling dus "verbondsliefde" of "ontfermingsgenade".
Genade
Soos reeds gesê, is "genade" nie 'n woord wat Johannes dikwels gebruik nie. Dis by uitstek Paulus se woord. Ruimte laat ons nie naastenby toe om op hierdie wonderlike en ryk begrip in te sak nie. Laat ons dus met 'n definisie volstaan:
God se genade is Sy vrye en ongedwonge liefdesguns in die gawe van die ewige lewe aan skuldige sondaars - wat nie alleen dit nié verdien nie, maar wat presies die teenoorgestelde daarvan verdien, naamlik die ewige oordeel.
God se genade is dus Sy soewereine en spontane goedheid, en reddende guns teenoor sondaars, wat daarin tot uitdrukking kom dat Hy (op grond van die versoeningswerk van Christus) hulle red van Sy toorn - en wel só dat Hy afstootlikes liefhet, hulle sondes vergewe, hulle aanneem as Sy kinders, Homself aan hulle openbaar, hulle in Sy volheid inlei, en alle struikelblokke in Sy pad oorkom om dit te bereik.
Genade op genade
Nou moet ons terugkeer na Jh 1. In v.15 val Johannes homself as 't ware in die rede. Die verbysterende stellings wat hy in v.14 maak, is nie oordrewe nie. Die gerespekteerde Johannes die Doper het soortgelyke dinge oor die mensgeworde Woord gesê, naamlik dat Hy van ewigheid af waarlik God was!
En indien die lesers steeds wonder of hulle nie dalk te doen het met 'n klompie wilde stellings van twee eksentrieke mans nie, herinner Johannes hulle dan in v.16 dat alle ware gelowiges proefondervindelik verstaan waarvan hy praat: want (Gr.) uit hierdie volheid drink hulle gedurig. En hy praat nie van 'n soebatstroompie nie; nee, hulle kry "genade op genade".
Hierdie uitdrukking is vol betekenis. Letterlik beteken dit genade in die plek van genade. Die beeld is die van branders wat onophoudelik een na die ander uitrol op 'n strand. Nooit droog die oorvloed van God se genade in Christus op nie. En vir elke situasie is daar meer as genoeg genade - keer op keer.
Voordat Johannes die duiselingwekkende wonder van God se selfopenbaring in Sy Seun in v.18 met 'n opsommende stelling saamvat, maak hy 'n finale stelling oor die genade en waarheid wat deur Christus gekom het: hoewel die heiliges van die Ou Verbond reeds al God se ontfermingsliefde (Sy "chesed") en Sy waarheid geken het, was dit soos 'n flou vlammetjie in vergelyking met die oorweldigende helder lig van Sy genade en waarheid wat nou uit Christus skyn.
God is waarheid
In die Griekse denke was waarheid (Gr. "aletheia") 'n intellektuele kwaliteit wat dui op werklikheid en egtheid teenoor valsheid, onrealiteit of blote skyn. Die Hebreeuse idee van waarheid, soos vervat in die begrip "emet", is egter baie ryker.
Sekerlik sluit dit die Griekse idee van die feitelike in. In die regspleging van Israel was dit byvoorbeeld kardinaal belangrik om seker te maak van die waarheid (die "emet") voordat 'n oordeel gefel is (Dt 13:14; 22:20; ens.).
Maar meestal het die woord ook 'n morele betekenis gedra - die van betroubaarheid en lojaliteit. So kon dit byvoorbeeld gebruik word vir 'n getuie, 'n vriend, 'n slaaf, 'n eggenoot. Iemand wat met "emet" optree, is iemand wat vertrou kan word - hy of sy is eerlik, lojaal en getrou (Gn 24:49; 42:16; Jos 2:14). Op 'n "emeth"-getuie kan jy staat maak en peil trek (Spr 14:25).
As die Bybel dus oor en oor van God sê dat Hy waarheid is, wil dit tuisbring dat Hy vertrou kan word. Sy optrede is nie onvoorspelbaar nie. Hy handel altyd in ooreenstemming met Sy karakter en beloftes. Mens weet presies waar jy met Hom staan. Sy ondernemings is vaster as die berge!
"Emet" praat van God se verbondsbetroubaarheid, Sy verbondslojaliteit!
Nou kan ons verstaan waarom Johannes die begrip "waarheid" so oor en oor gebruik. Sy Hoofkarakter is Jesus Christus - en hoe kan hy oor Hom praat sonder om aanmekaar te wys op die waarheid wat in Hom te vinde is. Nie alleen is Hyself eg en algeheel betroubaar nie; Hy openbaar God wat nie kan lieg nie. Trouens, Hy is bewys van God se betroubaarheid - want Hy was en is die vervulling van God se beloftes deur die eeue.
Luister na Johannes: Hy is "die ware lig" (1:9) - wat mens in Hom sien, wat Hy openbaar, stem absoluut ooreen met die werklikheid en onderstreep God se onkreukbare betroubaarheid. Hy is "die ware brood uit die hemel" (6:32) - wie Hom eet, wie in Hom invlug, kan sonder 'n sweem van twyfel daarop peil trek dat al God se beloftes in Hom ja en amen is.
En luister na die Here Jesus self: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe" (14:6). "Ek is die ware wingerdstok" (15:1).
Wat sê die feit van God se ontfermingsgenade en verbondsbetroubaarheid vir ons?
1. Niks is meer eie aan God se karakter as om genade in waarheid te betoon nie.
Van alles wat waar is oor God, kies Hy twee karaktertrekke om by uitnemendheid oor Homself aan ons te openbaar: Sy ontfermingsgenade en Sy verbondsbetroubaarheid. Hierin sit die wonderlikste troos en aanmoediging vir ons, Sy kinders. Hierin moet ek en jy onsself weer en weer verbly.
God self het vreugde in die bewaring van diegene aan wie Hy liefdesgenade betoon het, asook in die waarmaking van Sy beloftes in hulle lewens.
Om die Here aan te roep, sowel in tye van voorspoed as van nood, is nie om lastig en opdringerig te wees nie. Dis om Sy selfopenbaring in Christus ernstig op te neem. Te dikwels is ons bang om die Here te vertrou, omdat ons voel ons verdien nie Sy goedheid nie. Te maklik dink ons ons pla Hom met nietighede. Maar as die Here se verbondstrou van ons verdienste moes afhang, sou nie een van ons ooit iets van Hom ontvang het nie. Nee, goedheid en getrouheid vloei spontaan uit Hom uit. Ons is immers Sy geliefde kinders.
En dis nie ons wat onsself aan Hom opgedring het nie; dis Hy wat die inisiatief geneem het. Wat sê Jesus vir Sy dissipels? "Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee" (Lk 12:32).
Ons hele wandel met die Here moet deurweek wees met hierdie waarhede. Laat ons nie tevrede wees met 'n afgewaterde en derderangse Christenskap nie, maar die Here in gebed bly vasgryp sodat Sy verbondsliefde elke dag soos branders oor ons rol.
Ons hemelse Vader het vreugde daarin as ons op grond van Sy Seun se verdienste onsself met die grootste vrymoedigheid weer en weer knuppeldik drink uit Sy fonteine van heil. Niks verheerlik Hom meer nie. Niks versier die evangelie meer nie. Niks maak die kerk meer aantreklik nie.
Kan jy dus sien: vrees vir die toekoms, benoudheid oor jou versorging, en angs vir die dood, is mosies van wantroue in die Here. Dis om Sy selfopenbaring in Christus te bevraagteken. Dis ten minste kleingeloof, en baie dikwels rou ongeloof. Waarlik, almal van ons het rede om ons hieroor voor die Here te verootmoedig.
Laat ons nie moeg word om mekaar aan hierdie dinge te herinner nie.
Nou kan ons dalk beter as ooit verstaan waarom die Here kompromieloos daarop aandring dat ons verlossing van A tot Z van Hom moet kom - sonder enige menslike verdienste hoegenaamd.
Die Christelike geloof verskil wesentlik van die godsdienste van hierdie wêreld - insluitende "churchianity". Die godsdienste - almal van hulle, sonder uitsondering - werk met moraliteit wat jou vir God aanvaarbaar moet maak. Dis 'n opklim na God toe teen 'n leer van goeie werke en religieuse seremonies. Die Christelike geloof, daarenteen, maak volkome staat op God se vrye genade en ontfermingsguns - wat gewortel is in Christus se verdienste alleen.
Hierdie twee benaderings verskil só radikaal, só hemelsbreed, dat hulle nie eers in dieselfde asem genoem moet word nie. In hiérdie sin kan - tewens, móét - dus gesê word dat Christene glad nie godsdienstig, oftewel religieus is nie. Ons weier volstrek om op selfs net 'n greintjie eie verdienste aanspraak of staat te maak. Ons rus met ons volle gewig op Christus - en op Hom alleen. En sou God dan blyk nié 'n God van "chesed" en "emet" te wees nie, sal ons sonder enige hoop 'n duistere ewigheid ingaan. Maar as Hy, soos Hy belowe, inderdaad betroubaar is, sal Hy - die Here ons God, besonderlik die Here Jesus Christus, ons Verlosser - ál die eer kry vir ons ewige redding!
Elke mens staan voor 'n verskriklike, meedoënlose, vlymskerp en onvermydelike keuse. Dis 'n keuse wat jou ewige bestemming bepaal. Gaan jy dit sélf probeer maak; gaan jy maar hoop vir die beste? Of gaan jy jouself volledig werp op Christus - God wat persoonlik, liggaamlik en histories mens geword het, gekruisig is en opgestaan het uit die dood?
Ek sê die keuse is onvermydelik. Miskien is dit nie heeltemal akkuraat gestel nie. Maar dít staan vaster as die berge: voordat jy nie 'n besliste en finale keuse vir Christus gemaak het nie, is jy nog op jou eie - dan moet jy self sien kom reg. Want volgens die eenstemmige en konsekwente getuienis van die Nuwe Testament sal Hy slegs 'n Verlosser wees vir diegene wat Hom, en Hom alleen, vertrou. Diesulkes sal Hy sonder uitsondering red.
Redding is uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, deur geloof alleen.
2. Nooit kom God se genade en waarheid tot hoër uitdrukking as in die stuur van Sy Seun na hierdie wêreld toe nie.
Elkeen van ons het 'n eie aard wat ons eenvoudig móét bevredig en tot uitdrukking bring. Skrywers skryf, vrouens druk babatjies, en seuntjies klim boom.
So het God ook 'n wesensaard wat eie aan Hom is, en wat Hy tot uitdrukking móét bring. In respek gestel: God kan Homself as 't ware nie help nie - Hy móét eenvoudig in genade en waarheid optree. Niks is meer eie aan Sy wese en karakter nie. Niks gee Hom groter vreugde en vervulling nie.
Nooit kom hierdie wesensaard van God heerliker tot uitdrukking as in Christus se sending en versoeningswerk nie. En die voortgaande uitwerk van die implikasies daarvan - deur die eeue en tot in ewigheid - is 'n voortsetting daarvan.
'n Leeftyd van besinning en bepeinsing oor hierdie dinge bring jou nie tot 'n versadigingspunt nie. Inteendeel. Al wat dit doen, is om jou net meer en meer in verwondering en aanbidding te laat.
Dit moet ons egter nie verlei om die gestrenge kant van God se verbondstrou te vergeet nie. Die Bybel is vol daarvan dat die Here ook in Sy getrouheid die vloek van die verbond oor Sy volk bring indien hulle volhardend bly sondig. Ook dit is verbondstrou.
3. Laat ons in tye van swaarkry soos drenkelinge aan God se chesed-genade hang.
Laat ons in tye van krisis nie paniekerig van God se verbondsgenade en -trou vergeet nie. Onthou die verlede tyd in v.16 - ons het dit reeds afgehandeld ontvang! Hy sal ons deurdra. Male sonder tal het Hy dit trouens reeds gedoen; Hy sal dit weer en weer doen.
Selfs as ons hande dan tog gly, sal Hy ons nie in die steek laat nie. Want die Here se wese en die uitlewing daarvan is nie afhanklik van mý getrouheid nie. Dis van niks afhanklik nie! Hy het belowe, en daarby staan Hy. Mý ontrou kan Hom nie van hierdie wesenskaraktertrek beroof nie. Daarom kan Paulus vir Timoteus verseker: "as ons ontrou is - Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie" (2Tm 2:13).
4. Ons moet die Here navolg in die betoning van chesed-genade.
Hoewel in die eerste instansie karaktertrekke van God, beteken dit nie dat liefdesontferming en verbondstrou tot Hom beperk is nie. Op ons, oor wie Sy troue guns soos branders spoel, rus daar 'n onontkombare verantwoordelikheid om dit deurgaans aan andere te betoon. Hoe lieflik beoefen Dawid dit nie in die lewe van Mefiboset nie - op grond van sy verbond met Jonatan.
Soos die Here ons God, moet ook ons die menslik-onmoontlike beoefen: ook mý trou moenie afhang van andere se prestasie nie. Hoe sal ek dit regkry? Die Here se chesed-genade sal my daarvoor toerus - as ek Hom waarlik daarvoor vertrou.
Mense wat God vrees - wat met ander woorde ontsag vir God het - is mense van "emet" (Eks 18:21; Neh 7:2). Hulle is eikebome van betroubaarheid, lojaliteit en integriteit.
Talle kere word Israel opgeroep om in waarheid en trou te leef. In Jos 24:14 maak die Here hierdie appél op die volk wat pas in die Beloofde Land gevestig het: "Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou (Hb. "Emet")."
Laat ons daarom standvastige mense wees; mense op wie staat gemaak kan word; mense van onkreukbare integriteit; mense wie se "ja" inderdaad "ja" is, wie se "nee" vir seker "nee" is.
5. Hoe dieper die feit van God se genade en waarheid in ons harte wortel skiet, hoe meer vrymakend is dit.
In Jh 8:31-32 sê die Here Jesus: "As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak."
Ken ons dit nie uit ervaring nie, hierdie vrymaking? Maak Godgesentreerdheid, Godsverankerdheid, Godskennis nie gesond nie? Bring dit nie toenemende oorwinning en sekuriteit nie? Dis omdat dit ons oë van onsself wegneem. Dis omdat dit ons vestig in die wese van geloof, naamlik om jou oë op die Here vas te nael.
Selfbeheptheid en geloof is wedersyds uitsluitend. En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag!
Baie predikers dink hulle moet meer moets en moenies preek as hulle 'n gemeente wil laat groei in heiligheid. Nee! Die teendeel is waar! Niks het die opheffende effekte van Godgesentreerde en Christusgefokusde prediking nie. Niks laat gelowiges so groei nie. Niks bring soveel standvastigheid nie.
6. Hoeveel aanmoediging sit daar nie in die karakter van God vir sondaars nie.
Laat sondaars weet dat die God van genade 'n vreugde daarin het om mislukkings en rebelle te red. Sy Woord leer uitdruklik dat Hy geen behae in die dood van sondaars het nie. Hy wil hê dat hulle hul moet bekeer en lewe - nie dat hulle hul verhard en gevolglik verlore gaan nie (Eseg 18:23, 30-32, OAV).
Daarom kan mens met volle Skrifmandaat elke sondaar oproep om hom of haar op grond van die Here se verbondsbeloftes op Jesus Christus te werp: "Erken dat jy 'n sondaar is wat die ewige verdoemenis verdien. Neem standpunt in teen jou sonde, bely dit teenoor die Here en pleit by Hom om jou op grond van Christus se middelaarswerk te vergewe - en om jou te verlos van die krag en gevolge daarvan!"
Niks gee die Here méér vreugde, en niks verheerlik Hom meer, as om die vuilste sondaars te red nie! Laat sondaars dus weer en weer die boodskap hoor: "Kom na Hom toe en weet vir seker: Sy chesed-genade sal jou soos die verlore seun se pa omhels!"
7. Hoe meer mens God se genade en waarheid sien, hoe meer fassineer dit jou.
Wat sien mens as jy lank en diep en weer en weer na God in Sy selfopenbaring kyk? Wat sien jy as Jesus Christus voortdurend jou blikveld vul? Hoe langer jy kyk, hoe meer sien jy dit: Ontfermingsgenade! Verbondstrou!
En hoe duideliker jy dit sien, hoe meer fassineer dit jou. En hoe meer dit jou aanspreek, hoe meer kry jy Hom lief. Ja, die Bybel praat oor 'n geweldige verskeidenheid van sake, maar algaande lees jy alles al hoe meer in die lig van hierdie wesenstrekke van God. Preke waarvan dit nie die hart is nie, bevredig jou net nie behoorlik nie. En as jy self 'n prediker is, is dít wat jy wil preek - oor en oor. Ja, die gemeente moet oor baie dinge lering kry, maar jy kan nie wag vir die volgende keer wat jy weer hieroor kan preek nie.
So het ook die apostels dit kennelik beleef. Dis hoekom Paulus kan sê dat hy niks anders as Christus wil preek nie - want dis in Hóm wat ons hierdie karaktertrekke van God by uitnemendheid sien (1Kor 2:2).
Moet dit ons verbaas? Hoegenaamd nie! As ons met God se genade en waarheid besig is, is ons besig met die hart van wie en wat Hy is. En het die essensie van ons heiligmaking nie te doen met 'n steeds dieper kennis van God nie? Is dit nie ons hoogste roeping nie? En is dit nie die wese van die ewige lewe nie (Jh 17:3)?
Ten slotte
Sagaria 8:3 is 'n wonderlike vers. As God na Sion terugkeer om in die midde van Sy mense te woon, sal Jerusalem genoem word: "Stad van Trou (Hb. "Emet"), Berg van die Here die Almagtige, Heilige Berg."
O Here, maak elke gemeente wat regtig aan U behoort tog meer en meer ‘n "stad van trou"!

ANTIPAS HEROUT No.36 - Jh 1:14 - GOD SE HOOGSTE OPENBARING [4 van 5] - Die Enigste Seun se Heerlikheid
As ons die woord "heerlikheid" hoor, dink ons onmiddellik aan glans en mag, aan luister en majesteit. En dis nie verkeerd nie, aangesien die Bybel dikwels só daaroor praat. Begin mens egter nadink oor wat Johannes presies hiér bedoel, wonder jy of dit is wat hy in gedagte het.
Johannes bied immers "heerlikheid" in hierdie vers aan as aan die hart van wie Jesus was, maar in sy evangelie, anders as Matteus, Markus en Lukas, maak hy geen melding nie van die één en sekerlik onvergeetlike geleentheid waar hulle Jesus wel in glans en majesteit gesien het - op die berg van verheerliking.
Voorts is dit so dat die Here Jesus se lewe veeleerder gekenmerk is deur eenvoud en nederigheid as deur luister en vertoon. Dís tewens wat die apostels oor en oor beklemtoon.
Laat ons daarom deeglik na ons teks kyk.
Hy het onder ons gewoon
Johannes se werkwoord, "Hy het gewoon", is 'n insiggewende sleutel. Basies beteken dit om tent op te slaan, of in 'n tent te bly. Hy sê dus dat die Woord by ons in 'n tent kom uitkamp het.
Nou dink baie mense dat Johannes met hierdie woordkeuse wil sê dat Jesus net vir 'n kort tydjie by ons gebly het. Natuurlik was Hy net tydelik hier op aarde. Maar Johannes gebruik ook hierdie woord om van permanente bewoning te praat - spesifiek in die hemel. En wat is meer permanent as dit? (vgl. Op 7:15; 12:12; 13:6; 21:3).
God se "shekina"
Johannes se manier van sê sou die tipiese Jood nie laat dink het aan 'n tent nie, maar aan díé tent. Voor die tyd van die tempel het die tabernakel 'n sentrale rol gespeel in die godsdiens van Israel. En hierdie tabernakel was basies 'n tent wat op- en afgeslaan kon word. Trouens, daar is dikwels na verwys as die "tent van samekoms" (OAV) of "ontmoeting" (NAV) (Eks 40:34-38).
Die heerlikheid van die Here het die tabernakel sigbaar gevul toe dit in gebruik geneem is. Daarna het dit meermale gebeur (Lev 9:23; Num 14:10). In die Joodse gemoed was die tent van ontmoeting - en later die tempel (1Kon 8:10-11) - die plek waar die Here se heerlikheid gewoon het. Tot so 'n mate was die twee idees vir hulle onlosmaaklik verbonde dat daar in die buite-Bybelse Joodse wêreld 'n woord ontstaan het wat beide in 'n enkele idee saamvat. Dis die woord "shekina". Dit is enersyds nóú verwant aan die Hebreeuse woord vir tent, en dui andersyds op die heerlikheid van God soos aan mense gemanifesteer.
Presies hierdie twee begrippe word deur Johannes in v.14 saamgebind: "tent" en "heerlikheid". Daarmee sê hy dit:
Die heilige heerlikheid van die Here wat meermale in Ou Testamentiese tye in die tabernakel en tempel aan die volk getoon is, het ten volle oopgeblom in die persoon, lewe en werk van Jesus.
Die heerlikheid van nederigheid
Hoe sien ons God se heerlikheid in Christus? Wat het die dissipels beleef? Dit is wat Johannes in sy evangelie beskryf. En anders as wat mens dalk sou verwag, skets hy nie vir ons 'n magtige en glansryke vors van heerlikheid wat meedoënloos vyand na vyand onderwerp nie. Nee, hy (en ook die ander 3 evangeliste) teken vir ons 'n nederige man wat na jare van handearbeid in die armoedige platteland van Gallilea, Sy lewe in algehele selflose diensbaarheid neerlê vir Sy medemens.
Wat sien ons in die evangelie van Johannes? Ons sien hoe Jesus vreugde bring vir 'n klomp eenvoudige en arm arbeiders tydens 'n troue in Kana. Ons sien hoe Hy tyd deurbring om 'n veragtelike en onsedelike Samaritaanse vrou die pad na die ewige lewe te leer. Ons sien hoe Hy 'n sterwende seuntjie gesond maak, hoe Hy 'n blinde man laat sien, hoe Hy die dooie Lasarus weer lewendig maak. Ons sien hoe Hy kos gee vir duisende hongerige armes. En so kan ons aangaan.
Wanneer mense hulp nodig het, help Hy hulle. As hulle siek is, maak Hy hulle gesond. As hulle onkundig is, leer Hy hulle. As hulle honger is, gee Hy vir hulle kos.
Deurgaans soek Hy mense in nood - die wat weet hoe algeheel afhanklik hulle van God se genade is, die wat honger en dors na dit wat reg is. Deurgaans tref ons Hom tussen hulle aan. In paleise kry ons Hom nie. En die drumpels van selfvoldane rykes trap Hy nie deur nie. Nee, soos Lukas dit stel: Hy het "gekom om te soek en te red wat verlore is" (Lk 19:10. Vgl. ook Mt 18:11).
En reg aan die einde van Sy lewe gee Hy vir Sy dissipels 'n aanskouingsles wat hulle nooit weer sou vergeet nie. Die aand voor Sy kruisiging was Hy in die bovertrek hulle voete. Hy doen wat die geringste van 'n huishouding se slawe moes doen as daar gaste vir 'n maaltyd gekom het. Hierdie aand is daar nie so 'n slaaf nie, en die Here staan vir hom in. Maar dit gaan nie oor vuil voete sonder meer nie - Jesus se eie voete is oënskynlik nie gewas nie - dit gaan oor nederigheid en selfaflegging en diensbaarheid. Só stel hy dit vir Sy volgelinge: "Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. Dít verseker Ek julle: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en ’n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen" (Jh 13:12-17).
Die hoogste verheerliking
Dis hoogs betekenisvol dat die Here Jesus ten minste by twee geleenthede in Johannes na Sy komende kruisdood as Sy "verheerliking" verwys. In Jh 12:23 sê Hy: "Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word." En in Sy Hoëpriesterlike gebed bid Hy: "Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik" (Jh 17:1). Hoe moet ons dit verstaan?
Destyds is die kruis met afsku bejeen.
Die Romeine het slegs in uitsonderlike gevalle van hoogverraad hulle eie burgers op hierdie heel wreedste manier tereggestel. En wat heidene betref, het hulle dit beperk tot moordenaars, rebelle en gewapende rowers.
Die Jode het geen onderskeid gemaak tussen 'n boom en 'n kruis nie. Hulle het dus geglo dat die vloek van Dt 21:23 op elkeen rus wat gekruisig word: "wie opgehang word, is deur God vervloek." Dit verklaar waarom hulle nie kon aanvaar dat die Messias só sou sterf nie.
Nou is dit duidelik: nooit het die Here Jesus Sy mense met groter oorgawe en meer diepgaande effekte gedien as toe Hy Homself ter wille van hulle aan hierdie ergste van alle verskrikkinge oorgegee het nie.
Sien jy dit? Die heerlikheid wat die apostels in Jesus se lewe gesien het, was die heerlikheid van selflose liefde en diensbaarheid. Die kruis is dus nie 'n vloekhout nie; dis 'n verheerlikingstroon!
Wat sê dit vir ons?
Die boodskap is duidelik, die roeping onontkombaar. Ons word gered uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, deur geloof alleen. Maar ware, reddende geloof moet, nee, sal altyd uitmond in goeie werke. En as ons hierdie goeie werke in een woord moet saamvat, dan is dit die woord "liefdesdiens".
Hierdie waarheid is op die tafels van Johannes se hart gegrafeer. Hy het dit nooit vergeet nie. In sy eerste brief skryf hy: "Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het" (1Jh 2:6). Óf jy leef dit uit in integriteit, óf jy is 'n huigelaar - en jou geloof is oneg en daarom tevergeefs. Trouens, ons praat van meer as plig; ons praat hier oor 'n noodwendige merkteken van wedergeboorte: "Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood... Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê" (1Jh 3:14-16).
Dis waarom ons as Nuwe Testamentiese gelowiges nie meer die wolk van God se Shekina-heerlikheid sien nie. As Sy gemeente is ons nou die tabernakel in wie Hy in heerlikheid woon. En as Hy inderdaad in ons midde woon, sal ons gemeente-wees en ons lewens as lidmate by uitnemendheid gekenmerk word deur nederige diensbaarheid en selfaflegging. Beswaarlik is daar 'n meer betroubare merkteken vir ware kerkwees. Daarenteen, waar selfsug, faksies en allerlei onderstrominge nog heers, het jy nie 'n gemeente nie, maar 'n rowerspelonk.
Waarom sien ons Sy heerlikheid in so 'n gemeente? Waarom verheerlik so 'n gemeente Hom? Omdat net Hý die wonder van wonders kan doen: om 'n klomp selfsugtige sondaars só te herskep dat hulle hul lewens in liefde aflê vir mekaar.
Baie dikwels, as mense van "die bediening" praat, dink hulle in terme van status, geleerdheid, titels en ampsdrag. Maar as die Here iemand roep om 'n voorganger in Sy gemeente te word, bedoel Hy dat so 'n persoon sy lewe vrywillig moet slyt in slawerny - 'n begrip wat dikwels in die Nuwe Testament gebruik word vir Christelike diensbaarheid. En laat ons onthou, slawe het nie regte, of byvoordele nie. En allermins het hulle status. En nog minder is hulle heersers.
Laat dit in jou hart gegraveer wees: nooit kan jy tot hoër hoogtes uitstyg, as wanneer jy in die dieptes van nederige dienswerk insak nie. Ware heerlikheid word nie gevind in glans, vertoon en luister nie, maar in nederigheid en dienswerk.
'n Jong ouderling se voortvarendheid
Die woord wat die Nuwe Afrikaanse Vertaling met "enigste seun" vertaal, het vir baie drama in die geskiedenis gesorg.
Vroeg in die 4de eeu was 'n sekere Alexander biskop van Alexandria, die leidende gemeente in Egipte. Per geleentheid was Alexander besig met 'n lesing oor die leerstuk van die Drie-eenheid. Skielik is hy in die rede geval deur een van die jong ouderlinge, Arius. Hy het die ouer man daarvan beskuldig dat hy die onderskeid tussen die drie Persone onderspeel, en het aangevoer dat die Seun deur die Vader geskep is - weliswaar voor die begin van die tyd. Maar ewig is Hy nie. Hy was heeltemal bereid om toe te gee dat die Seun ver verhewe bo die mens is, maar hy het daarop gestaan dat Hy van 'n mindere orde as die Vader is (min of meer die standpunt van die Jehowa Getuies).
Arius het onmiddellik sy standpunte begin versprei, en spoedig het hy 'n sterk gevolg gehad.
Die Eniggeborene?
Elke ketter het sy letter.
Sentraal in hierdie nuwe beskouing was die begrip waarna ons kyk, die Griekse woord "monogenes". In baie Bybels, tot vandag toe, word dit vertaal met "Eniggeborene" (OAV), of "only begotten" (KJV; NKJ; NASB; Ampl ens.). Dis 'n goeie voorbeeld van hoe mens verkeerd kan loop as jy jou primêr deur 'n woord se etimologie laat lei, en nie deur die gebruik daarvan in die res van die Bybel nie. "Mono" beteken, heeltemal korrek, "enig". Maar die probleem het ingesluip by die res van die woord. Dis aangeneem dat dit teruggevoer moet word na "gennao" (voortbring of verwek) - vandaar "eniggeborene" - terwyl dit in werklikheid ontwikkel het uit genos (tipe of soort). Johannes wil dus sê dat Jesus die enigste van Sy klas of soort is; nie dat Hy deur die Vader verwek is nie.
Gaan kyk mens hoe die begrip elders in die Skrif gebruik word, bevestig dit bg. verstaan daarvan.
Die woord word 4 keer gebruik vir gewone mense. Dis belangrik, want dit werp besondere lig op die betekenis daarvan - en dus op die Here Jesus se unieke seunskap.
Elke keer word dit gebruik om die innige liefdesverhouding tussen ouers en 'n bepaalde kind te beklemtoon - 'n oogappel-verhouding. Daar is die weduwee van Nain wat op pad was om haar enigste seun te gaan begrawe toe Jesus hom opwek (Lk 7:12); Jesus wat Jaïrus se enigste dogtertjie lewend maak uit die dood (Lk 8:42); en die man wat by Jesus pleit om sy enigste seun van demoniese besetting te bevry (Lk 9:38). Les bes word dit gebruik vir Abraham wat sy enigste moes offer (Hb 11:17).
Laasgenoemde gebruik van die woord wys dat dit nie noodwendig praat van 'n enigste kind nie, aangesien Abraham nóg 'n seun gehad het - Ismael. Maar Ísak was die appel van sy oog.
Dit laat mens dink aan Gn 22:2 waar Abraham beveel word om sy seun, "sy enigste" te gaan offer (vgl. v.12). Die Hebreeuse woord, "yachid", dra die idee van innige vertedering en gehegtheid (vgl. Spr 4:3; Jer 6:26; Amos 8:10; Sag 12:10). Dis kennelik die Hebreeuse ekwiwalent van "monogenes".
Nou kan mens terugkeer na die 5 keer wat die woord vir die Here Jesus gebruik word, elke keer deur Johannes (Jh 1:14, 18; 3:16, 18; 1Jh 4:9). Veral in Jh 3:16 en 1Jh 4:9, waar gepraat word oor God se liefde vir sondaars, maak bg. verstaan van die woord 'n wonderlike nuwe perspektief oop: só lief het God sondaars, só belangrik is hulle redding vir Hom, dat Hy bereid was om Sy "monogenes" - die innig-geliefde appel van Sy oog - vir hulle as losprys op te offer. Wat is meer verstommend as dit?
Hierdie woord beklemtoon dus Christus se unieke seunskap. Baie ander mag ook kinders van God word, maar Jesus se seunskap is wesentlik anders. Die Seun, hoewel waarlik mens, bly ook waarlik God. Hy bly Skepper en die res van God se kinders skepsele. Dis net híér waar Arius die bal misgeslaan het.
God se man vir die oomblik
Algaande het die Arianisme soveel onrus in die kerk veroorsaak - en gedreig om dit uitmekaar te ruk - dat Keiser Konstantyn in 325nC 'n sinode in Nicea (naby Konstantinopel) byeengeroep het om eens en vir altyd klarigheid oor die kwessie te kry.
Alexander het 'n briljante jong diaken, Atanasius, as sekretaris saamgeneem - iemand wat ‘n reus in die kerkgeskiedenis sou word. Hoewel sonder spreekreg op die sinode, was hy eintlik die denker agter Alexander se kragtige vertoë.
Uiteindelik is 'n sterk besluit teen Arius-hulle se beskouing geneem. Reeds in hierdie eerste formulering van die bekende belydenis van Nikea is die Godheid van Christus baie sterk beklemtoon. Later sou die Sinode van Konstantinopel die belydenis in 381nC finaliseer.
'n Enkele lettertjie
'n Sleutelbeklemtoning in die belydenis is dat die Seun "van dieselfde wese" as die Vader is. Agter dit sit 'n hele stuk intrige. Die stryd met Arius het gegaan oor 2 Griekse woorde wat beroemd geraak het in die dogmageskiedenis: "homoousios" (van dieselfde natuur) en "homoiousios" (van 'n soortgelyke natuur). Die verskil sit in die twee voorvoegsels: "homo-" (dieselfde) en "homoi-" (soortgelyk). Al verskil tussen die twee woorde is die Griekse letter, "iota", oftewel 'n enkele vertikale strepie - die kleinste lettertjie in die Griekse alfabet.
Arius was heeltemal bereid om te sê dat die Seun "homoiousios" aan die Vader is (soortgelyk), maar nie dat Hy "homoousios" is nie (van dieselfde natuur). Maar Nicea het begryp hoe belangrik die verskil is. Want as Christus nie presies van dieselfde natuur as die Vader is nie, is Hy nie waarlik God nie. Die aanslag van Arius is egter afgeweer en "homoousios" is aanvaar.
'n Meedoënlose stryd
Dit was helaas nie die einde van Arianisme nie. Eintlik het die stryd toe eers begin.
Drie jaar later, in 328nC, het Atanasius die nuwe biskop van Alexandrië geword. En so het hy die speerpunt geraak in die felle stryd teen die Arianisme; trouens, dit sou sy lewe grootliks oorheers. Die stryd van die volgende amper 5 dekades lees soos 'n riller. Verskeie kere het dit gelyk asof Arianisme die oorhand gekry het. En steeds was Atanasius die onvermoeide stryder vir waarheid. Daarvoor het hy 'n duur prys betaal. Onder meer was hy etlike kere in ballingskap, en een keer moes hy vir 5 jaar in die woestyn voor die keiser se soldate vlug. Maar steeds het hy die ware evangelie tydig en ontydig verkondig.
Uiteindelik, 8 jaar na Atanasius se dood in 373nC, is Arianisme finaal die nek ingeslaan deur die Sinode van Konstantinopel (381nC). Niemand het 'n groter rol daarin gespeel as die Biskop van Alexandrië nie. Trouens, dit word algemeen aanvaar dat Arianisme die botoon sou gevoer het as dit nie vir Atanasius was nie.
Lewensbelangrik
Waarom is hierdie so ‘n belangrike saak? Waarom het Atanasius sy alles gegee om iets te verdedig wat in elk geval vir ons grootliks ‘n geheimenis is? Hy het verstaan wat op die spel was ‒ die suiwerheid van die evangelie; die realiteit van ons redding! Presies wie en wat Christus is, is fundamenteel en lewensbelangrik. Slegs iemand wat waarlik en in die volste sin van die woord én God én mens is, kan ‘n Verlosser van sondaars wees! Arius se Christus is nie waarlik God nie, en kan gevolglik nie ons sondeskuld dra sonder om self onder te gaan nie. ‘n Tweederangse God kan net ‘n tweederangse verlossing bewerkstellig.
Dwarsdeur sy lewe het dit vir Atanasius oor een saak gegaan: die eer en die heerlikheid van Christus. En hy het geweet die evangelie staan en val by die goddelikheid van Jesus Christus.
Wat sê dit vir ons?
Laat ons nie die dwase napraat wat sê dat 'n suiwere, puntenerige en eksakte formulering van waarheid onbelangrik is nie. Te dikwels kry mens die standpunt dat dit moontlik is om 'n wonderlike en volwasse Christen te wees sonder doktrine. As 'n organisasie of kerk vir my sê dat hulle hul nie besig hou met doktrine nie, sê hulle vir my hulle het nie die vaagste benul waaroor dit regtig gaan nie.
Geloof het inhoud, en ware geloof het waarheid as inhoud. En soms kan 'n klein vertikale strepie die verskil tussen lewe en dood beteken. Dan is dit nie onheilig om hand en tand daarvoor te baklei nie; inteendeel. By Nicea het dit gegaan oor die ware leer van die Drie-eenheid, teenoor 'n Godonterende en sielsvernietigende verwatering. Atanasius het dit verstaan. Daarom het hy sy lewe aan hierdie stryd gewy. Laat ons hom altyd dankbaar bly hiervoor.
Dis oor dinge soos hierdie dat die Nuwe Testament so oor en oor teen dwaalleraars waarsku.
As ons teks (Jh 1:14) leer dat Christus God se hoogste openbaring aan ons is, het ons nie 'n dowwe openbaring in Hom nie. Die Woord wat mens geword het, was in die volste sin die ewige Seun van God, self God. Wat ons in Hom sien, is presies hoe God is. Weliswaar het Hy nie alles aan ons geopenbaar nie, maar wat Hy geopenbaar het, is absoluut suiwer en betroubaar.
Dink vir 'n oomblik na oor die Christus wat die Bybel vir ons teken - besonderlik die evangelies. Wie sien jy? Wat sien jy? Was daar iemand so aangenaam, so bekoorlik, so beminlik? Was daar ooit 'n liefde soos Syne? Presies só is God! Presies só tot in ewigheid!
Hoe duidelik sien ons nie in die Here Jesus se lewe die liefdesverhouding tussen Hom en die Vader nie! Mens kan nie die Evangelies lees nie, veral Johannes, sonder om onder die indruk te kom dat niks in Jesus se lewe 'n groter rol gespeel het as Sy verhouding met Sy Vader nie.
Die Vader praat twee keer uit die hemel met Sy Seun. En elke keer is dit 'n liefdesverklaring. As Jesus gedoop word, kom 'n stem uit die hemel: "Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My" (Mk 1:11; Mt 3:17; Lk 3:22). Eweneens op die berg van verheerliking sê 'n stem: "Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom" (Mt 17:5; Mk 9:7; Lk 9:35).
Hierdie liefde tussen Vader en Seun is 'n ewige en onbeskryflik intieme liefde. Die slotvers van Johannes se proloog sê dat die Seun "in die boesem van die Vader is" (Jh 1:18). In Spr 8, wat algemeen aanvaar word as 'n poëtiese beskrywing van die Seun in Sy ewige bestaan, word dit aangrypend mooi gestel: "Ek het my kennis by Hom gekry, ek was elke dag Sy vreugde; die hele tyd het ek dit by Hom geniet" (30).
Ten slotte, in die Vader se liefdesverklaring op die berg van verheerliking, sê Hy uitdruklik vir ons wat ons moet doen om Hom te behaag: ons moet na die Séún luister; ons moet die appel van Sy oog gehoorsaam. Dis mos hoe ware liefde is: dit soek altyd maar weer die eer van die een wat jy liefhet. Selfs die Vader beleef Sy liefde so. Daarom, as Sy Seun die middelpunt van ons lewens is, is dit die Vader se hoogste genoegdoening.

Saturday, August 11, 2012
ANTIPAS HEROUT No.35 - JH 1:14 - GOD SE HOOGSTE OPENBARING [3 van 5] - Én God én Mens
Tydens die eerste twee eeue was die stryd tussen die waarheid en die leuen van 'n algemene aard. Tydens die 3de en 4de eeue het die konflik meer spesifiek geraak: oor die drie-eenheid van God. Uiteindelik het die Sinodes van Nicea (325nC) en Konstantinopel (381nC) klarigheid gebring deur die ortodokse geloof hieroor akkuraat te formuleer.
Die volgende aanslag van die bose het oor die Persoon van Jesus Christus gegaan - besonderlik oor Sy twee nature, die Goddelike en die menslike. Hoewel die hoofstroom van die kerk onseker was oor die presiese aard van die samehang van die twee nature van Christus, was daar min twyfel oor die feit dat Hy sowel ten volle God as ten volle mens is.
Vroeë worstelinge
Die stryd oor die aard van Christus se persoon het in die vierde eeu begin. Daar was veral 3 dwalinge wat die kerk bedreig het:
Appolinarianisme.
'n Biskop van Laodisea, Appolinarius (310-390), het na vore gekom met 'n teorie oor die samehang van Christus se twee nature. Ten einde Sy goddelikheid behoorlik te beklemtoon, het hierdie biskop Sy menslike natuur onderspeel - tot so 'n mate dat hy Christus voorgestel het as minder as menslik. Hy het aanvaar dat Jesus 'n normale liggaam en siel gehad het, maar dat Sy verstand die van God was.
Die sinode van Konstantinopel (381 n.C.) het hierdie beskouing as onbybels verwerp. Die Skrif leer immers duidelik dat die Here se mensheid volkome is. Behalwe my liggaam en siel, word ook my verstand deur Hom as Plaasvervanger eers vernuwe (Rm 12:1-2), en daarna volkome verlos.
Nestorianisme.
Die regsinnige beskouing oor Christus, wat eintlik al grootliks gevestig was, hoewel nog nie amptelik geformuleer nie, moes in die vyfde eeu nog 'n aanslag afweer. Nestorius (hy het iewers tussen 350 en 450 n.C. geleef), patriarg van Konstantinopel, het effektief begin leer dat Christus eintlik twee onderskeie Persone is, die een goddelik, en die ander menslik. Maar die Skrif leer dat Hy één geïntegreerde persoon is, hoewel Sy twee nature onvermeng is. Nêrens suggereer die Bybel enige skisofrenie in Christus nie. Jesus praat konsekwent van "Ek", nie van "Ons" nie, terwyl Hy wel, as Hy oor Homself en die Vader praat, "Ons" gebruik.
Na 'n lang stryd, het die Sinode van Efese Nestorius se dwaling uiteindelik in 431 n.C. veroordeel.
Eutigianisme, oftewel, Monofisitisme.
Hiervoor was 'n leraar van Konstantinopel, Eutiges (378-454 n.C.) verantwoordelik. Hy was so in reaksie teen die Nestorianisme, dat hy die twee nature van Christus ineen laat vloei het. Hy het geleer het dat Christus nie ware mens is nie, maar dat Hy slegs een natuur het, die goddelike. Die menslike natuur sou hierin opgelos het, wat Christus dan streng gesproke met 'n derde soort natuur sou laat. Dis soos 'n druppel ink wat in 'n glas water val. Maar ook hierdie beskouing sou die Here Jesus diskwalifiseer as ons Plaasvervanger.
Die grootste sinode tot op daardie tydstip (520 biskoppe), die van Galsedon (451 n.C.), het Eutigianisme nek ingeslaan en uiteindelik die ortodokse geloof in die bekende Belydenis van Galsedon geformuleer.
Hierdie uiteensetting kry ons presies weer terug in die groot belydenisskrifte van die 16de eeuse Reformasie.
'n Kort bespreking van die regsinnige beskouing oor Christus se twee nature
Van die vroegste tye af was die ware kerk gegrondves in die feit dat Christus sowel God as mens is. Daar is dus enersyds verstaan dat Hy waarlik en ten volle van ewigheid af God was - en dat Hy steeds God is en dit tot in ewigheid sal bly; en andersyds dat Hy waarlik en ten volle mens geword het - en tot in ewigheid volkome mens sal bly.
Die probleem was om die verhouding tussen Christus se twee nature, die Goddelike en die menslike, te verstaan en te formuleer.
Teen die tyd is dit sekerlik gevestig in ons gemoedere dat die vleeswording nie die ontstaan van ons Verlosser was nie. As die Woord was Hy van ewig af, en was Sy geboorte dus nie die begin van Sy persoonlike bestaan nie.
Hy wat geen begin gehad het nie, het nie opgehou om te wees wat Hy van ewigheid af was nie. Maar Hy het begin om vir die ewigheid daarna te wees wat Hy nooit vantevore was nie.
Die vleeswording is iets oorweldigends, aangesien dit die samevoeging in één Persoon beteken van alles wat eie is aan die Godheid, én alles wat eie is aan volkome mens-wees. Die Man wat gekruisig is, was die ewige Woord! Die skrynwerker van Nasaret was waarlik God! Die baba in die krip was die Een wat alles geskape het!
Dit sou 'n onbegryplike vernedering vir die Seun gewees het om selfs net 'n volmaakte mens te word, soos die mens voor die sondeval. Maar dit is nie wat gebeur het nie; die werklikheid is veel meer drasties. Die Woord is na 'n wêreld van sonde en ellende en dood gestuur! En daarmee moes Hy Hom volkome kom identifiseer. Hy het presies soos een van die mense in hierdie wêreld geword, onderworpe aan hartseer, pyn, lyding en selfs die dood. Daar is een, en net een uitsondering - Hy het nie sonde gehad nie.
As ons sê dat die Seun vlees geword het, sê ons onder meer dat die Een wat van ewig af bo-tyds was die tyd binnegekom het en Hom onderwerp het aan die beperkinge daarvan. Ons sê dat die Onveranderlike veranderlik geword het, dat die Onsigbare sigbaar geword het, dat alles se Onderhouer afhanklik geword het, dat die Almagtige onderworpe geword het aan swakheid, dat die Onsterflike sterflik geword het.
Die Sinode van Galsedon het tot 'n formulering gekom wat tot vandag toe as die regsinnige beskouing oor die twee nature van Christus aanvaar word. Daarom het ook die belydenisskrifte van die 16de eeuse Reformasie versigtig in hierdie spore bly loop.
As ons oor die verhouding tussen die goddelike en menslike nature van die Here Jesus praat, verwys ons na die "hupostatiese" eenheid van Christus. Kom ons probeer iets meer daarvan verstaan:
Die Here Jesus is sowel volkome God as volkome mens. Galsedon formuleer die eenheid van Sy persoon en die individualiteit van Sy twee nature só:
Die twee nature van Christus is onvermeng, onverander, ongedeel en ongeskeie.
Die twee nature van Christus mag dus nie verstaan word as 'n samevoeging tot 'n derde soort God-menslike natuur nie - dis onvermeng en onverander.
Maar dis ook nie 'n losse saambestaan van twee nature wat die eenheid van Christus se persoon in die gedrang bring nie - dis ongedeel en ongeskeie.
Kom ons by die Reformasie, word dieselfde waarheid net effens anders gestel: twee hele, ware en afsonderlike nature is onafskeidelik in Sy Persoon saamgevoeg, sonder verandering, vermenging of verwarring. Hierdie Persoon is dus ware God en ware mens, en tog is Hy net een Christus (vgl. NGB§19).
Die goddelike word dus nie vermenslik nie; en die menslike word nie vergoddelik nie - daar is nie verandering nie.
Voorts: die goddelike en die menslike vervloei ook nie so dat 'n derde soort natuur gevorm word nie - daar is nie vermenging nie.
Derdens: die goddelike en die menslike nature wissel mekaar nie bloot af nie, sodat die een natuur die een oomblik voorop is, en die ander die volgende oomblik ‒ daar is geen verwarring nie.
Waarlik, die twee nature van die Here Jesus is 'n diep en onpeilbare geheimenis. Verstáán sal ons dit nooit volkome nie; gló moet en wil ons dit egter, omdat God dit so in Sy Woord openbaar.
Daar is meer sulke onbegryplike waarhede in die Woord. Neem byvoorbeeld die drie-eenheid van God: een God, drie Persone. Wat is meer ondeurgrondelik as dit? Ook worstel ons om die samehang van God se algehele soewereiniteit en die mens se verantwoordelikheid te verstaan.
In die logika is daar 'n woord vir hierdie verskynsel. Ons praat van 'n antinomie. Dis wanneer ons twee (of meer) feite het wat elkeen onbetwyfelbaar vas staan, maar wat tog vir ons begrip mekaar oor en weer uitsluit. As die een waar is, kan die ander logies nie waar wees nie, en as die ander waar is, kan die een logies nie waar wees nie - en tog staan beide vaster as die berge.
Die samehang van Christus se twee nature is so 'n onbegryplike antinomie. Tog moet ons, sover dit binne ons vermoë is, suiwer daaroor dink. Want skeeftrekkings lei sonder uitsondering tot God-onterende en pastoraal vernietigende dwalinge - soos die kerkgeskiedenis oor en oor bevestig.
In 'n neutedop: Jesus Christus is waarlik God en waarlik mens - één Persoon, maar twee nature, sonder verandering, vermenging of verwarring.
Wat sê dit vir ons?
1. Die Seun se vleeswording verklaar al die ander wonders in die Nuwe Testament.
Derduisende wil baie mededelings in die Nuwe Testament nie glo nie: die wonderwerke, die opstanding van Christus, die hemelvaart, ensomeer. Maar as Jesus van Nasaret inderdaad die tweede Persoon van die goddelike Drie-eenheid is wat mens geword het, verval alle besware teen die bonatuurlike in Sy lewe. Kan daar iets té wonderbaar wees vir die lewende God?
Die vleeswording is waarlik 'n ondeurgrondelike geheimenis - maar dit maak sin van alle ander wonders in die Nuwe Testament.
2. Jesus Christus se mensheid is 'n voorvereiste vir die volheid en rykdom van ons redding.
Hebreërs werk dit uit in die tweede hoofstuk.
• Hb 2:5-8: Twee dinge is waar:
Eerstens, tydens die skepping is die heerskappy oor hierdie aarde aan die mens gegee.
Tweedens, ons sien egter niks van hierdie heerskappy nie.
• Hb 2:9-10: Dit beteken nie dat God se belofte misluk het nie. Nee, die belofte ís vervul! Die mens heers wel oor alles. Hoe dan so?
Sekerlik is die mensheid nog nie met eer en heerlikheid gekroon nie. Maar ons het 'n Hoof - volkome mens - wat volmaak aan God se eise voldoen het. Hy het rééds alle gesag in die hemel en op aarde. En Hy verteenwoordig ons.
In Hóm sit die waarborg dat ook ons wat met Hom verenig is, uiteindelik volmaakte heerlikheid en heerskappy sal geniet.
Ons sonde het ons gediskwalifiseer om met eer en heerlikheid gekroon te word. Voordat dit kon gebeur, sou ons eers weer in heiligheid voor God herstel moes word. Maar hoe? Sélf sou ons tot in ewigheid nie ons skuld kon betaal nie. Waarlik, ons het 'n Plaasvervanger nodig gehad.
Die enigste aanvaarbare plaasvervanger vir die mens, was nóg 'n mens - sondeloos, sodat hy nie nodig gehad het om vir sy eie sonde te sterf nie. Uit Adam se nageslag het niemand, helaas, hiervoor gekwalifiseer nie. Almal was vol sonde. En in elk geval is geen mens in staat om miljoene ander se sondeskuld te betaal nie.
Dis waarom God die Seun mens moes word! As mens kon en kan Hy vir ons instaan; as God kon Hy aan God se standaarde voldoen en die straf namens miljoene verduur.
• Hb 2:11-15: Die nuwe mensheid in Christus is een groot familie van broers en susters - met die Seun as oudste broer.
• Hb 2:16-18: Laat ons goed verstaan: die Seun móés een van ons word om namens ons voor God te kan staan.
3. Is die voortgaande en ewige mensheid van Christus onuitwisbaar in jou gemoed gegraveer?
Verreken jy ten volle die ewige mensheid van die Here Jesus in jou verhouding met Hom? Ons verval maklik in 'n oorreaksie teen die ongeloofsteologie van ons dag - wat Jesus as bloot 'n wonderlike mens beskou - en vergeet dat Hy, benewens waarlik God, inderdaad ook volkome mens is.
Baie Christene dink dat Hy destyds Sy mensheid hier op aarde agtergelaat het toe Hy na die hemel opgevaar het. Nee, daar is 'n verheerlikte, begripvolle en simpatieke Mens wat liefdevol in die hemelse troonkamers na ons belange omsien! (1Tm 2:5). Ons hemelse Hoëpriester is een van ons!
4. Jý is tot in ewigheid volkome mens.
As dit dan vir God so onuitspreeklik belangrik is dat die Verlosser ware mens sal wees en bly, is mý mensheid kennelik ook vir Hom van die allergrootste belang.
Is dit 'n sentrale aspek van jou salige hoop dat jy - indien jy inderdaad dan deur 'n ware geloof met Christus verenig is - onderweg is om dieselfde verheerlikte menslikheid as Hy te geniet? Kyk na Hom, veral nadat Hy opgestaan het, en sien hoe jy tot in alle ewigheid gaan wees! (Natuurlik is en bly Hy ook waarlik God, wat uiteraard nooit van ons sal geld nie.)
Besef jy deeglik dat jy steeds en vir ewig volkome mens sal wees soos Hy? Ons sal as mense - weliswaar verheerlik, maar tog waarlik mense - op hierdie aarde saam met Christus vir ewig heers. En die aarde - weliswaar herskep - sal steeds volkome aarde wees, nie soveel anders as wat baie van ons dink nie. 'n Volmaakte woonplek sal dit vir ons wees - selfs heerliker as die blyplek wat God oorspronklik vir die mens geskape het. (Dit sal wees soos wat die aarde uiteindelik sou word, indien Adam en Eva volkome gehoorsaam sou bly.)
En bo-oor alles, in glimmende goue letters, sal geskryf staan: "Die Here is daar!" (Eseg 48:35).

Subscribe to:
Posts (Atom)