Sunday, August 12, 2012

ANTIPAS HEROUT No.36 - Jh 1:14 - GOD SE HOOGSTE OPENBARING [4 van 5] - Die Enigste Seun se Heerlikheid

As ons die woord "heerlikheid" hoor, dink ons onmiddellik aan glans en mag, aan luister en majesteit. En dis nie verkeerd nie, aangesien die Bybel dikwels só daaroor praat. Begin mens egter nadink oor wat Johannes presies hiér bedoel, wonder jy of dit is wat hy in gedagte het.
     Johannes bied immers "heerlikheid" in hierdie vers aan as aan die hart van wie Jesus was, maar in sy evangelie, anders as Matteus, Markus en Lukas, maak hy geen melding nie van die één en sekerlik onvergeetlike geleentheid waar hulle Jesus wel in glans en majesteit gesien het  -  op die berg van verheerliking.
     Voorts is dit so dat die Here Jesus se lewe veeleerder gekenmerk is deur eenvoud en nederigheid as deur luister en vertoon. Dís tewens wat die apostels oor en oor beklemtoon.
     Laat ons daarom deeglik na ons teks kyk.

Hy het onder ons gewoon

Johannes se werkwoord, "Hy het gewoon", is 'n insiggewende sleutel. Basies beteken dit om tent op te slaan, of in 'n tent te bly. Hy sê dus dat die Woord by ons in 'n tent kom uitkamp het.
     Nou dink baie mense dat Johannes met hierdie woordkeuse wil sê dat Jesus net vir 'n kort tydjie by ons gebly het. Natuurlik was Hy net tydelik hier op aarde. Maar Johannes gebruik ook hierdie woord om van permanente bewoning te praat  -  spesifiek in die hemel. En wat is meer permanent as dit? (vgl. Op 7:15; 12:12; 13:6; 21:3).

God se "shekina"

Johannes se manier van sê sou die tipiese Jood nie laat dink het aan 'n tent nie, maar aan díé tent. Voor die tyd van die tempel het die tabernakel 'n sentrale rol gespeel in die godsdiens van Israel. En hierdie tabernakel was basies 'n tent wat op- en afgeslaan kon word. Trouens, daar is dikwels na verwys as die "tent van samekoms" (OAV) of "ontmoeting" (NAV) (Eks 40:34-38).
     Die heerlikheid van die Here het die tabernakel sigbaar gevul toe dit in gebruik geneem is. Daarna het dit meermale gebeur (Lev 9:23; Num 14:10). In die Joodse gemoed was die tent van ontmoeting  -  en later die tempel (1Kon 8:10-11)  -  die plek waar die Here se heerlikheid gewoon het. Tot so 'n mate was die twee idees vir hulle onlosmaaklik verbonde dat daar in die buite-Bybelse Joodse wêreld 'n woord ontstaan het wat beide in 'n enkele idee saamvat. Dis die woord "shekina". Dit is enersyds nóú verwant aan die Hebreeuse woord vir tent, en dui andersyds op die heerlikheid van God soos aan mense gemanifesteer.
     Presies hierdie twee begrippe word deur Johannes in v.14 saamgebind: "tent" en "heerlikheid". Daarmee sê hy dit:

Die heilige heerlikheid van die Here wat meermale in Ou Testamentiese tye in die tabernakel en tempel aan die volk getoon is, het ten volle oopgeblom in die persoon, lewe en werk van Jesus.

Die heerlikheid van nederigheid

Hoe sien ons God se heerlikheid in Christus? Wat het die dissipels beleef? Dit is wat Johannes in sy evangelie beskryf. En anders as wat mens dalk sou verwag, skets hy nie vir ons 'n magtige en glansryke vors van heerlikheid wat meedoënloos vyand na vyand onderwerp nie. Nee, hy (en ook die ander 3 evangeliste) teken vir ons 'n nederige man wat na jare van handearbeid in die armoedige platteland van Gallilea, Sy lewe in algehele selflose diensbaarheid neerlê vir Sy medemens.
     Wat sien ons in die evangelie van Johannes? Ons sien hoe Jesus vreugde bring vir 'n klomp eenvoudige en arm arbeiders tydens 'n troue in Kana. Ons sien hoe Hy tyd deurbring om 'n veragtelike en onsedelike Samaritaanse vrou die pad na die ewige lewe te leer. Ons sien hoe Hy 'n sterwende seuntjie gesond maak, hoe Hy 'n blinde man laat sien, hoe Hy die dooie Lasarus weer lewendig maak. Ons sien hoe Hy kos gee vir duisende hongerige armes. En so kan ons aangaan.
     Wanneer mense hulp nodig het, help Hy hulle. As hulle siek is, maak Hy hulle gesond. As hulle onkundig is, leer Hy hulle. As hulle honger is, gee Hy vir hulle kos.
     Deurgaans soek Hy mense in nood  -  die wat weet hoe algeheel afhanklik hulle van God se genade is, die wat honger en dors na dit wat reg is. Deurgaans tref ons Hom tussen hulle aan. In paleise kry ons Hom nie. En die drumpels van selfvoldane rykes trap Hy nie deur nie. Nee, soos Lukas dit stel: Hy het "gekom om te soek en te red wat verlore is" (Lk 19:10. Vgl. ook Mt 18:11).
     En reg aan die einde van Sy lewe gee Hy vir Sy dissipels 'n aanskouingsles wat hulle nooit weer sou vergeet nie. Die aand voor Sy kruisiging was Hy in die bovertrek hulle voete. Hy doen wat die geringste van 'n huishouding se slawe moes doen as daar gaste vir 'n maaltyd gekom het. Hierdie aand is daar nie so 'n slaaf nie, en die Here staan vir hom in. Maar dit gaan nie oor vuil voete sonder meer nie  -  Jesus se eie voete is oënskynlik nie gewas nie  -  dit gaan oor nederigheid en selfaflegging en diensbaarheid. Só stel hy dit vir Sy volgelinge: "Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. Dít verseker Ek julle: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en ’n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen" (Jh 13:12-17).

Die hoogste verheerliking

Dis hoogs betekenisvol dat die Here Jesus ten minste by twee geleenthede in Johannes na Sy komende kruisdood as Sy "verheerliking" verwys. In Jh 12:23 sê Hy: "Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word." En in Sy Hoëpriesterlike gebed bid Hy: "Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik" (Jh 17:1). Hoe moet ons dit verstaan?
     Destyds is die kruis met afsku bejeen.
     Die Romeine het slegs in uitsonderlike gevalle van hoogverraad hulle eie burgers op hierdie heel wreedste manier tereggestel. En wat heidene betref, het hulle dit beperk tot moordenaars, rebelle en gewapende rowers.
     Die Jode het geen onderskeid gemaak tussen 'n boom en 'n kruis nie. Hulle het dus geglo dat die vloek van Dt 21:23 op elkeen rus wat gekruisig word: "wie opgehang word, is deur God vervloek." Dit verklaar waarom hulle nie kon aanvaar dat die Messias só sou sterf nie.
    Nou is dit duidelik: nooit het die Here Jesus Sy mense met groter oorgawe en meer diepgaande effekte gedien as toe Hy Homself ter wille van hulle aan hierdie ergste van alle verskrikkinge oorgegee het nie.

Sien jy dit? Die heerlikheid wat die apostels in Jesus se lewe gesien het, was die heerlikheid van selflose liefde en diensbaarheid. Die kruis is dus nie 'n vloekhout nie; dis 'n verheerlikingstroon!

Wat sê dit vir ons?

Die boodskap is duidelik, die roeping onontkombaar. Ons word gered uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, deur geloof alleen. Maar ware, reddende geloof moet, nee, sal altyd uitmond in goeie werke. En as ons hierdie goeie werke in een woord moet saamvat, dan is dit die woord "liefdesdiens".
     Hierdie waarheid is op die tafels van Johannes se hart gegrafeer. Hy het dit nooit vergeet nie. In sy eerste brief skryf hy: "Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het" (1Jh 2:6). Óf jy leef dit uit in integriteit, óf jy is 'n huigelaar  -  en jou geloof is oneg en daarom tevergeefs. Trouens, ons praat van meer as plig; ons praat hier oor 'n noodwendige merkteken van wedergeboorte: "Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood... Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê" (1Jh 3:14-16).
     Dis waarom ons as Nuwe Testamentiese gelowiges nie meer die wolk van God se Shekina-heerlikheid sien nie. As Sy gemeente is ons nou die tabernakel in wie Hy in heerlikheid woon. En as Hy inderdaad in ons midde woon, sal ons gemeente-wees en ons lewens as lidmate by uitnemendheid gekenmerk word deur nederige diensbaarheid en selfaflegging. Beswaarlik is daar 'n meer betroubare merkteken vir ware kerkwees. Daarenteen, waar selfsug, faksies en allerlei onderstrominge nog heers, het jy nie 'n gemeente nie, maar 'n rowerspelonk.
     Waarom sien ons Sy heerlikheid in so 'n gemeente? Waarom verheerlik so 'n gemeente Hom? Omdat net Hý die wonder van wonders kan doen: om 'n klomp selfsugtige sondaars só te herskep dat hulle hul lewens in liefde aflê vir mekaar.
     Baie dikwels, as mense van "die bediening" praat, dink hulle in terme van status, geleerdheid, titels en ampsdrag. Maar as die Here iemand roep om 'n voorganger in Sy gemeente te word, bedoel Hy dat so 'n persoon sy lewe vrywillig moet slyt in slawerny  -  'n begrip wat dikwels in die Nuwe Testament gebruik word vir Christelike diensbaarheid. En laat ons onthou, slawe het nie regte, of byvoordele nie. En allermins het hulle status. En nog minder is hulle heersers.

Laat dit in jou hart gegraveer wees: nooit kan jy tot hoër hoogtes uitstyg, as wanneer jy in die dieptes van nederige dienswerk insak nie. Ware heerlikheid word nie gevind in glans, vertoon en luister nie, maar in nederigheid en dienswerk.

'n Jong ouderling se voortvarendheid

Die woord wat die Nuwe Afrikaanse Vertaling met "enigste seun" vertaal, het vir baie drama in die geskiedenis gesorg.
     Vroeg in die 4de eeu was 'n sekere Alexander biskop van Alexandria, die leidende gemeente in Egipte. Per geleentheid was Alexander besig met 'n lesing oor die leerstuk van die Drie-eenheid. Skielik is hy in die rede geval deur een van die jong ouderlinge, Arius. Hy het die ouer man daarvan beskuldig dat hy die onderskeid tussen die drie Persone onderspeel, en het aangevoer dat die Seun deur die Vader geskep is  -  weliswaar voor die begin van die tyd. Maar ewig is Hy nie. Hy was heeltemal bereid om toe te gee dat die Seun ver verhewe bo die mens is, maar hy het daarop gestaan dat Hy van 'n mindere orde as die Vader is (min of meer die standpunt van die Jehowa Getuies).
     Arius het onmiddellik sy standpunte begin versprei, en spoedig het hy 'n sterk gevolg gehad.

Die Eniggeborene?

Elke ketter het sy letter.
     Sentraal in hierdie nuwe beskouing was die begrip waarna ons kyk, die Griekse woord "monogenes". In baie Bybels, tot vandag toe, word dit vertaal met "Eniggeborene" (OAV), of "only begotten" (KJV; NKJ; NASB; Ampl ens.). Dis 'n goeie voorbeeld van hoe mens verkeerd kan loop as jy jou primêr deur 'n woord se etimologie laat lei, en nie deur die gebruik daarvan in die res van die Bybel nie. "Mono" beteken, heeltemal korrek, "enig". Maar die probleem het ingesluip by die res van die woord. Dis aangeneem dat dit teruggevoer moet word na "gennao" (voortbring of verwek)  -  vandaar "eniggeborene"  -   terwyl dit in werklikheid ontwikkel het uit genos (tipe of soort). Johannes wil dus sê dat Jesus die enigste van Sy klas of soort is; nie dat Hy deur die Vader verwek is nie.
     Gaan kyk mens hoe die begrip elders in die Skrif gebruik word, bevestig dit bg. verstaan daarvan.
     Die woord word 4 keer gebruik vir gewone mense. Dis belangrik, want dit werp besondere lig op die betekenis daarvan  -  en dus op die Here Jesus se unieke seunskap.
     Elke keer word dit gebruik om die innige liefdesverhouding tussen ouers en 'n bepaalde kind te beklemtoon  -  'n oogappel-verhouding. Daar is die weduwee van Nain wat op pad was om haar enigste seun te gaan begrawe toe Jesus hom opwek (Lk 7:12); Jesus wat Jaïrus se enigste dogtertjie lewend maak uit die dood (Lk 8:42); en die man wat by Jesus pleit om sy enigste seun van demoniese besetting te bevry (Lk 9:38). Les bes word dit gebruik vir Abraham wat sy enigste moes offer (Hb 11:17).
     Laasgenoemde gebruik van die woord wys dat dit nie noodwendig praat van 'n enigste kind nie, aangesien Abraham nóg 'n seun gehad het  -  Ismael. Maar Ísak was die appel van sy oog.
     Dit laat mens dink aan Gn 22:2 waar Abraham beveel word om sy seun, "sy enigste" te gaan offer (vgl. v.12). Die Hebreeuse woord, "yachid", dra die idee van innige vertedering en gehegtheid (vgl. Spr 4:3; Jer 6:26; Amos 8:10; Sag 12:10). Dis kennelik die Hebreeuse ekwiwalent van "monogenes".
     Nou kan mens terugkeer na die 5 keer wat die woord vir die Here Jesus gebruik word, elke keer deur Johannes (Jh 1:14, 18; 3:16, 18; 1Jh 4:9). Veral in Jh 3:16 en 1Jh 4:9, waar gepraat word oor God se liefde vir sondaars, maak bg. verstaan van die woord 'n wonderlike nuwe perspektief oop: só lief het God sondaars, só belangrik is hulle redding vir Hom, dat Hy bereid was om Sy "monogenes"  -  die innig-geliefde appel van Sy oog  -  vir hulle as losprys op te offer. Wat is meer verstommend as dit?
     Hierdie woord beklemtoon dus Christus se unieke seunskap. Baie ander mag ook kinders van God word, maar Jesus se seunskap is wesentlik anders. Die Seun, hoewel waarlik mens, bly ook waarlik God. Hy bly Skepper en die res van God se kinders skepsele. Dis net híér waar Arius  die bal misgeslaan het.

God se man vir die oomblik

Algaande het die Arianisme soveel onrus in die kerk veroorsaak  -  en gedreig om dit uitmekaar te ruk  -  dat Keiser Konstantyn in 325nC 'n sinode in Nicea (naby Konstantinopel) byeengeroep het om eens en vir altyd klarigheid oor die kwessie te kry.
     Alexander het 'n briljante jong diaken, Atanasius, as sekretaris saamgeneem  -  iemand wat ‘n reus in die kerkgeskiedenis sou word. Hoewel sonder spreekreg op die sinode, was hy eintlik die denker agter Alexander se kragtige vertoë.
     Uiteindelik is 'n sterk besluit teen Arius-hulle se beskouing geneem. Reeds in hierdie eerste formulering van die bekende belydenis van Nikea is die Godheid van Christus baie sterk beklemtoon. Later sou die Sinode van Konstantinopel die belydenis in 381nC finaliseer.

'n Enkele lettertjie

'n Sleutelbeklemtoning in die belydenis is dat die Seun "van dieselfde wese" as die Vader is. Agter dit sit 'n hele stuk intrige. Die stryd met Arius het gegaan oor 2 Griekse woorde wat beroemd geraak het in die dogmageskiedenis: "homoousios" (van dieselfde natuur) en "homoiousios" (van 'n soortgelyke natuur). Die verskil sit in die twee voorvoegsels: "homo-" (dieselfde) en "homoi-" (soortgelyk). Al verskil tussen die twee woorde is die Griekse letter, "iota", oftewel 'n enkele vertikale strepie  -  die kleinste lettertjie in die Griekse alfabet.
    Arius was heeltemal bereid om te sê dat die Seun "homoiousios" aan die Vader is (soortgelyk), maar nie dat Hy "homoousios" is nie (van dieselfde natuur). Maar Nicea het begryp hoe belangrik die verskil is. Want as Christus nie presies van dieselfde natuur as die Vader is nie, is Hy nie waarlik God nie. Die aanslag van Arius is egter afgeweer en "homoousios" is aanvaar.

'n Meedoënlose stryd

Dit was helaas nie die einde van Arianisme nie. Eintlik het die stryd toe eers begin.
     Drie jaar later, in 328nC, het Atanasius die nuwe biskop van Alexandrië geword. En so het hy die speerpunt geraak in die felle stryd teen die Arianisme; trouens, dit sou sy lewe grootliks oorheers.  Die stryd van die volgende amper 5 dekades lees soos 'n riller. Verskeie kere het dit gelyk asof Arianisme die oorhand gekry het. En steeds was Atanasius die onvermoeide stryder vir waarheid. Daarvoor het hy 'n duur prys betaal. Onder meer was hy etlike kere in ballingskap, en een keer moes hy vir 5 jaar in die woestyn voor die keiser se soldate vlug. Maar steeds het hy die ware evangelie tydig en ontydig verkondig.
     Uiteindelik, 8 jaar na Atanasius se dood in 373nC, is Arianisme finaal die nek ingeslaan deur die Sinode van Konstantinopel (381nC). Niemand het 'n groter rol daarin gespeel as die Biskop van Alexandrië nie. Trouens, dit word algemeen aanvaar dat Arianisme die botoon sou gevoer het as dit nie vir Atanasius was nie.

Lewensbelangrik

Waarom is hierdie so ‘n belangrike saak? Waarom het Atanasius sy alles gegee om iets te verdedig wat in elk geval vir ons grootliks ‘n geheimenis is? Hy het verstaan wat op die spel was ‒ die suiwerheid van die evangelie; die realiteit van ons redding! Presies wie en wat Christus is, is fundamenteel en lewensbelangrik. Slegs iemand wat waarlik en in die volste sin van die woord én God én mens is, kan ‘n Verlosser van sondaars wees! Arius se Christus is nie waarlik God nie, en kan gevolglik nie ons sondeskuld dra sonder om self onder te gaan nie. ‘n Tweederangse God kan net ‘n tweederangse verlossing bewerkstellig.
     Dwarsdeur sy lewe het dit vir Atanasius oor een saak gegaan: die eer en die heerlikheid van Christus. En hy het geweet die evangelie staan en val by die goddelikheid van Jesus Christus.

Wat sê dit vir ons?

Laat ons nie die dwase napraat wat sê dat 'n suiwere, puntenerige en eksakte formulering van waarheid onbelangrik is nie. Te dikwels kry mens die standpunt dat dit moontlik is om 'n wonderlike en volwasse Christen te wees sonder doktrine. As 'n organisasie of kerk vir my sê dat hulle hul nie besig hou met doktrine nie, sê hulle vir my hulle het nie die vaagste benul waaroor dit regtig gaan nie.
     Geloof het inhoud, en ware geloof het waarheid as inhoud. En soms kan 'n klein vertikale strepie die verskil tussen lewe en dood beteken. Dan is dit nie onheilig om hand en tand daarvoor te baklei nie; inteendeel. By Nicea het dit gegaan oor die ware leer van die Drie-eenheid, teenoor 'n Godonterende en sielsvernietigende verwatering. Atanasius het dit verstaan. Daarom het hy sy lewe aan hierdie stryd gewy. Laat ons hom altyd dankbaar bly hiervoor.
     Dis oor dinge soos hierdie dat die Nuwe Testament so oor en oor teen dwaalleraars waarsku.
     As ons teks (Jh 1:14) leer dat Christus God se hoogste openbaring aan ons is, het ons nie 'n dowwe openbaring in Hom nie. Die Woord wat mens geword het, was in die volste sin die ewige Seun van God, self God. Wat ons in Hom sien, is presies hoe God is. Weliswaar het Hy nie alles aan ons geopenbaar nie, maar wat Hy geopenbaar het, is absoluut suiwer en betroubaar.
     Dink vir 'n oomblik na oor die Christus wat die Bybel vir ons teken  -  besonderlik die evangelies. Wie sien jy? Wat sien jy? Was daar iemand so aangenaam, so bekoorlik, so beminlik? Was daar ooit 'n liefde soos Syne? Presies só is God! Presies só tot in ewigheid!
     Hoe duidelik sien ons nie in die Here Jesus se lewe die liefdesverhouding tussen Hom en die Vader nie! Mens kan nie die Evangelies lees nie, veral Johannes, sonder om onder die indruk te kom dat niks in Jesus se lewe 'n groter rol gespeel het as Sy verhouding met Sy Vader nie.
     Die Vader praat twee keer uit die hemel met Sy Seun. En elke keer is dit 'n liefdesverklaring. As Jesus gedoop word, kom 'n stem uit die hemel: "Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My" (Mk 1:11; Mt 3:17; Lk 3:22). Eweneens op die berg van verheerliking sê 'n stem: "Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom" (Mt 17:5; Mk 9:7; Lk 9:35).
     Hierdie liefde tussen Vader en Seun is 'n ewige en onbeskryflik intieme liefde. Die slotvers van Johannes se proloog sê dat die Seun "in die boesem van die Vader is" (Jh 1:18). In Spr 8, wat algemeen aanvaar word as 'n poëtiese beskrywing van die Seun in Sy ewige bestaan, word dit aangrypend mooi gestel: "Ek het my kennis by Hom gekry, ek was elke dag Sy vreugde; die hele tyd het ek dit by Hom geniet" (30).
     Ten slotte, in die Vader se liefdesverklaring op die berg van verheerliking, sê Hy uitdruklik vir ons wat ons moet doen om Hom te behaag: ons moet na die Séún luister; ons moet die appel van Sy oog gehoorsaam. Dis mos hoe ware liefde is: dit soek altyd maar weer die eer van die een wat jy liefhet. Selfs die Vader beleef Sy liefde so. Daarom, as Sy Seun die middelpunt van ons lewens is, is dit die Vader se hoogste genoegdoening.
                                                                                                                               Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment