Thursday, August 16, 2012

ANTIPAS HEROUT No.32 - GOD SE BEELD IN DIE MENS AS MAN EN VROU - Liefdesgemeenskap, statusgelykheid, rol- en gesagsonderskeid

God het die mens na Sy beeld geskep. Hierdie beeld is ernstig deur die sondeval verwring, maar nie heeltemal vernietig nie (Gn 1:26-27; 5:1; 9:6). God los dit egter nie so nie, maar deur Sy verlossingswerk in Christus herstel Hy die mens na Sy beeld.

God se beeld

Wat behels God se beeld in die mens?
    Allereers moet gesê word dat dit nie in die mens se liggaamlikheid sonder meer sit nie. God is gees (Jh 4:24) en het as sodanig nie 'n liggaam nie.
    Die mens is as rentmeester in 'n unieke gesagsposisie op aarde geplaas. Hy moes vrugbaar wees, die aarde bewoon en bewerk, en oor die res van die skepping heers (Gn 1:28). Hy het dus 'n duidelike opdrag en doel gehad. Dit beteken dat hy nie net gehoorsaam moes wees nie, maar ook inisiatief moes neem. Hiervoor is die mens met 'n wil geskape  -  'n wil wat ná die sondeval helaas nie meer in harmonie met God was nie. Die herskepping in Christus het dit egter reggestel.
     Twee Nuwe Testamentiese uitsprake gee verdere lig. In beide gevalle het dit te doen met die herstel van God se beeld in die gevalle mens.

•    Aan die Efesiërs word geskryf dat hulle hul "... met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid" (4:24, OAV). Die mens is 'n morele wese, en voor die sondeval het dit in volmaakte harmonie met God se wil en standaarde tot uitdrukking gekom. Die sondeval het dit egter tragies bederf. Maar in die mens se herskepping word dit reggestel.

•    Aan die Kolossense word gesê: "Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper ..." (3:9-10, OAV). Die mens is 'n rasionele wese, met die vermoë om te dink en te verstaan. Deur die sondeval is hierdie vermoë helaas ernstig verbuig. Maar ook dit word deur die herskepping in Christus herstel.

•    'n Vierde aspek van die mens se skepping na die beeld van God sit in sy geslagtelikheid. Die mens is as man en vrou geskape.
    Dis die tema van hierdie studiestuk.
    "En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape." (Gn 1:27, OAV).
    "Toe God die mense geskep het, het Hy hulle gemaak as beeld van Homself. Man en vrou het Hy hulle geskep en Hy het hulle geseën en hulle mens genoem toe hulle geskep is" (Gn 5:1-2).

Die beeld van God in die mens sit dus in sy wil, sy moraliteit, sy kennis en sy geslagtelikheid.
    Die Westminster Shorter Catechism (Vr. 10) som bogemelde só op: "God created man male and female, after His own image, in knowledge, righteousness, and holiness, with dominion over the creatures."

God se beeld in ons geslagtelikheid

Die feit dat God, toe Hy die mens na Sy beeld geskape het, nie net een persoon gemaak het nie, maar twee afsonderlike en verskillende persone  -  man en vrou  -  bring 'n baie besondere aspek van God se beeld en wese na vore: die Drie-eenheid.
    In Gen 1:26, onmiddellik voordat vertel word van die mens se skepping na God se beeld, vind ons die eerste sinspeling op die Drie-eenheid: "Toe het God gesê: 'Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld ...".
    Die mens se skepping as man en vrou vertoon die drie-enige God se beeld op ten minste drie maniere:

•    Eerstens kom dit tot uitdrukking in die man en vrou se verhouding, veral in die intimiteit binne die huwelik.

•    Tweedens sit dit in hulle persoons- en statusgelykheid voor God.    

•    Derdens word dit gesien in die verskillende rolle wat hulle Skepper aan hulle toeken, en in die gepaardgaande gesagsonderskeid tussen hulle.

Eerstens: Liefdesgemeenskap
    Net soos daar van ewigheid af gemeenskap, kommunikasie en samewerking tussen die drie persone van die Goddelike Drie-eenheid is, so is man en vrou ook geskep en vir mekaar gegee met die oog op liefdesgemeenskap, onderlinge kommunikasie en samewerking.
    God het die mens nie geskape om 'n geïsoleerde bestaan te voer nie. Nie alleen is hy in staat tot interpersoonlike menseverhoudinge nie; hy het 'n onversadigbare behoefte daaraan. Veral in familie- en gemeenteverband kan hierdie verhoudinge baie sterk beleef word. Nooit kom dit egter tot intenser uitdrukking as in die verhouding tussen man en vrou nie  -  tot so 'n mate dat hulle "een word" (Gn 2:24). Hulle eenheid is nie net fisiek nie, dis ook emosioneel en geestelik  -  veral natuurlik in die geval van Christene.
    Hierdie eenheid word op talle maniere in die Woord onderstreep en beklemtoon. Man en vrou is deur God saamgevoeg (Mt 19:6). Seksuele eenheid met iemand anders as jou eggenoot is 'n besonder afstootlike oortreding teen jou eie liggaam (1Kor 6:16, 18-20)  -  met ander woorde teen jou huweliksmaat wat één is met jou. Binne die huwelik het die man nie alleenseggenskap oor sy liggaam nie; hy deel dit met sy vrou  -  en natuurlik omgekeerd (1Kor 7:3-5). Mans moet hulle vrouens so lief hê soos hulle eie liggame (Ef 5:28). Die eenheid tussen man en vrou is lewenslank (Mal 2:14-16; Rm 7:2).
    Teen hierdie voor die hand liggende vertolking van Skrifgegewens word beswaar aangeteken vanuit feministiese kringe. Waarom bestaan die huwelik dan uit net twee partye, as daar drie persone in die Godheid is, word gesê. Daar is ten minste drie moontlike verklarings  -  en al drie is bes moontlik geldig.

•     Dit wil ons bes moontlik herinner dat die verhouding tussen man en vrou 'n flou afskynsel is van dit wat in die Godheid bestaan.

•     Die eenheid binne die huwelik is onvolmaak as dit nie 'n eenheid in die Here is nie. Wanneer man en vrou egter gesamentlik met God wandel, is daar inderdaad drie partye.

•     Nog 'n verklaring werk ook met drie partye. In die geval van 'n gesin is die liefdesgemeenskap tussen vader, moeder en kinders iets van 'n vergestalting van die verhouding tussen die Vader, die Seun en die Gees.

Tweedens: Statusgelykheid
    Van ewigheid af  -  wat belangrikheid en goddelikheid betref  -  is daar volkome gelykheid tussen die drie Persone van die Goddelike Drie-eenheid. Netso is daar geen statusverskil tussen man en vrou voor hulle Skepper nie. Beide is eweveel na Sy beeld geskape; en hierdie beeld is sedert die sondeval nie in een méér verwring as in die ander nie. Tot in alle ewigheid is nie een vir Hom meer belangrik of waardevol as die ander nie. Die Bybel bied dus geen grond vir enige manlike of vroulike geslagshoogmoed nie.
    Hierdie statusgelykheid van mans en vrouens vereis dat hulle mekaar moet respekteer en hulle onderlinge afhanklikheid altyd onthou.
    Paulus word meermale as manlike chauvinis uitgekryt. Maar dis ten onregte: "Tog het die Here bepaal dat die vrou nie sonder die man sal bestaan nie, en die man nie sonder die vrou nie, want soos die vrou uit die man geneem is, so kom die man deur die vrou in die wêreld, maar alles is uit God" (1Kor 11:11-12).
    Veel meer as enige kultuur, filosofie of godsdiens in die geskiedenis, bring die nuwe bedeling in Christus die gelyke waarde van man en vrou na vore.
    In 'n antieke wêreld van skokkende diskriminasie teen vrouens, profeteer Joël reeds dat die Messias Sy Gees sal uitstort op sowel seuns as dogters, op sowel diensknegte as diensmaagde (2:28-29, OAV). En op die Pinksterdag verklaar Petrus dat die profesie vervul is (Hd 2:17-18).
    Die gelykheid van man en vrou voor God word onmiskenbaar in die Nuwe Testamentiese gemeente onderstreep as beide geslagte gedoop word. Teenoor die Ou Verbond, waartydens net mans die verbondsteken ontvang het, wil die Heilige Gees ook hiermee kragtig getuig dat God nou in Christus begin het met die herstel van God se beeld in die mens  -  ná die verwringing wat met die sondeval ingetree het.
    Statusgelykheid tussen man en vrou word onontkombaar duidelik gestel in Galasiërs: "... want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één" (3:27-28). Die apostel beklemtoon hier dat daar geen meerder- of minderwaardige kategorie mense in die gemeente is nie. Net so min as wat Jode die reg gehad het om op Grieke as tweederangse lidmate neer te sien, net so min kon mans op vrouens neersien. Hierdie Nuwe Testamentiese gelykheidsbeginsel het 'n rewolusie begin  -  waaraan vrouegelykheid in die moderne wêreld grootliks te danke is.

Derdens: Funksionele onderskeid
    Terwyl daar van ewigheid af volkome gelykheid tussen die Persone van die Drie-eenheid bestaan, was daar ook nog altyd verskille in funksie en gesag tussen hulle.
    Hoewel al drie Persone gelyk is in hulle goddelikheid, het die Vader groter gesag. Hy het 'n leierskaprol wat die ander twee Persone nie het nie. So was die Vader byvoorbeeld nog altyd die Váder in Sy verhouding met die Seun.
    In feitlik alles wat in God se raadsplan gebeur, is al drie Persone betrokke. Maar sonder uitsondering het hulle verskillende rolle. Wat meer is, daar is ook 'n onmiskenbare orde te bespeur. Die Vader is altyd die inisiatiefnemer. Die Seun neem dan as 't ware oor om die Vader se besluite te implementeer en te vervolmaak. En les bes is die Heilige Gees baie dikwels die agent wat alles verwerklik en finaliseer.
    In die skepping spreek die Vader inisiërend, die Seun skep, en die Heilige Gees onderhou deur Sy voortgaande teenwoordigheid (Gn 1:1-2; Jh 1:1-3; 1Kor 8:6; Kol 1:16-17; Hb 1:2).
    In die herskepping verordineer die Vader sondaars tot die ewige lewe (Jh 6:37-39; Ef 1:3-6). Hy stuur die Seun om alles te doen wat nodig is vir hulle redding (Lk 22:42; Jh 6:38-40; Fl 2:6-8). En as die Seun na die hemel terugkeer, word die Heilige Gees deur beide die Vader en die Seun gestuur om die kerk te bou en toe te rus (Jh 16:7; Hd 1:8; 2:33).
    God het soortgelyke funksionele en gesagsverskille tussen man en vrou daargestel. Ook hierin word iets van die Drie-eenheid se wondere weerspieël.
    1Kor 11:3 stel dit so: "Ek wil egter hê julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en ’n man die hoof van sy vrou, en God die hoof van Christus."

'n Skeppingsverordening: Nie die sondeval se gevolg nie


Sommige voer aan dat die rol- en gesagsonderskeid tussen man en vrou ingestel is as straf ná die sondeval  -  en dus in Christus opgehef word. Dit het begin, word gesê, met die vloekuitspraak oor Eva: "Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring. Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers" (Gn 3:16).
    Dis egter glashelder dat die rol- en gesagsonderskeid tussen man en vrou reeds vóór die sondeval volledig gevestig was. Sewe feite  -  wat almal reeds vóór die sondeval in plek was  -  bevestig dit.

Adam is eerste geskep; Eva eers daarna (Gn 2:7; 18-23)
    Hierdie skeppingsorde was uniek. Geen dier is so geskep nie. Duidelik het God 'n spesifieke doel gehad.
    Dat dit te doen gehad het met 'n rol- en gesagsonderskeid, word deur die geïnspireerde apostel bevestig as hy hierdie feit gebruik as begronding vir sy verbod op vroulike leierskap in die gemeente. Hy skryf in 1Tm 2:12-13: "Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva."

Eva is as helper vir Adam geskep (Gn 2:18, 20)
    God het Eva in die eerste instansie vir Adam gemaak, nie Adam vir Eva nie. "Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n hulp maak wat by hom pas" (Gn 2:18, OAV).
    Ook hierdie feit word deur die apostel gebruik as hy die noodsaak van 'n onderskeid tussen man en vrou tydens gemeentelike aanbidding motiveer: "Die man is ook nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man" (1Kor 11:9).

Adam het vir Eva haar naam gegee (Gn 2:23)
    In die onmiddellik voorafgaande verse gee Adam name aan die diere (Gn 2:19-20)   -  en oefen so sy heerskappy oor hulle uit. Dwarsdeur die Ou Testament impliseer die reg om iemand te benaam ook gesag oor hom. So was dit God se prerogatief om Abram en Sarai se name na Abraham en Sara te verander (Gn 17:5, 15). En uiteraard is dit steeds ouers se reg.
    Wat meer is, dit was altyd die idee dat 'n Hebreeuse naam iets moes sê oor 'n persoon se karakter en funksie in die lewe. Toe Adam dus die diere benaam het, het hy eintlik hulle karakter en funksie vasgemaak. Dis betekenisvol dat hy, as hy Eva "vrou" of "mannin" noem, sy reg daartoe begrond op die feit dat sy uit hom voortgekom het: "Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem" (Gn 2:23, OAV).

God noem die menslike geslag "Adam" (Gn 5:2)
    "Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle "mens" (Hb. Adam) genoem, die dag toe hulle geskape is" (Gn 5:2, OAV). Die Skepper gebruik nie 'n geslags-neutrale naam nie, maar die manlike vorm. Dit impliseer dat Adam die leierskaprol sou vervul. Dis steeds so dat 'n vrou haar man se van aanneem wanneer sy trou. Sodoende onderwerp sy haar aan sy gesag, word sy in 'n baie besondere sin deel van sy familie, en moeder van sy nageslag (wat sý van dra).

Die slang het sy verleiding op Eva toegespits (Gn 3:1)
    In sy slinksheid het Satan geweet die vrou sou minder bestand wees teen sy versoeking. Waarom? God het haar nie geskape om in die voorste loopgrawe te veg nie. Sy is by uitnemendheid toegerus vir 'n ondersteuningsrol.
    Ook hierna verwys Paulus as hy die vrou van lering en regering in die gemeente uitsluit: "Dit is ook nie Adam wat verlei is nie, dit is die vrou wat haar laat verlei het en die gebod oortree het." (1Tm 2:14).

God het Adam aanspreeklik gehou vir die sondeval ‒ hoewel Eva eerste voor die duiwel geswig het (Gn 3:9; 17).
    "En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie  -  vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe" (Gn 3:17, OAV). Hoewel alles by Eva begin het, word Adam verantwoordelik gehou. Waarom? Sonder uitsondering loop gesag en toerekeningsvatbaarheid saam.

Adam, nie Eva nie, het die menslike ras verteenwoordig
    Eva het eerste gesondig. Maar die mensheid is aan erfsonde onderworpe  -  nie vanweë Eva se se sonde nie, maar as gevolg van Adam s'n. Dis in Ádam dat almal sterf. "Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word" (1Kor 15:22. Vgl. ook Rm 5:15).

Wat sê dit vir ons?

Ons fokus net op twee sake:

1.    Die mens se skepping as man en vrou na God se beeld, is die hoeksteen-beginsel van die huwelik.
    As die huwelik daarin slaag om die drie pilare  -  gemeenskap, gelykheid en funksionele onderskeid  -  in jukstaposisie staan te maak, is dit een van God se wonderlikste gawes aan die mens. En as afskynsel van God se wese, verheerlik dit Hom uitnemend.
    Die sondeval het egter hierdie God-verheerlikende instelling ernstig beskadig. En deur die geskiedenis het min dinge meer pyn vir miljoene der miljoene gebring, as juis die huwelik wat God se skeppingsverordeninge geweld aandoen.
    Die sondeval het meegebring dat die verhouding tussen man en vrou, asook hul onderskeie rolle, ernstig verwring is.
    In God se afkondiginge van oordeel in Gen 3  -  onder meer oor die huwelik  -  het Hy nie nuwe rolle ingestel nie, maar verklaar dat die uitvoering van bestaande rolle vorentoe met smarte gepaard sou gaan.

•    As broodwinner sou Adam steeds die aarde moes bewerk, maar "in die sweet van sy aangesig" (OAV) sou hy met "dorings en dissels" moes worstel (3:18-19).

•    As moeder sou Eva steeds kinders baar en grootmaak, maar nou sou dit met baie pyn gepaard gaan (3:16). 

Die man en die vrou sou steeds saamleef, maar nou sou hulle verhouding vol konflik en hartseer wees. As God in v.16 vir Eva sê dat sy na haar man sal "hunker", gebruik Hy 'n Hebreeuse woord wat eerder op begeerte na oorheersing dui,  as op seksuele begeerte. Immers was laasgenoemde na alle waarskynlikheid reeds vóór die sondeval teenwoordig.
    En as God vir die vrou sê dat haar man oor haar gaan "heers", gebruik Hy 'n sterk begrip wat gewoonlik gebruik is om onderdrukkende regerings te beskryf.  Die man sou dus sy krag en gesag misbruik om die vrou te onderdruk.
     Verlossing in Christus bring egter 'n opheffing van die vloek en 'n terugkeer na die oorspronklike ordes mee. In plaas van naywer en rebellie, word die vrou in Christus beveel om haar man in blymoedige en lojale onderwerping te steun (Ef 5:22-24; Kol 3:18; 1Pt 3:1-6). In plaas van gevoellose onderdrukking van sy vrou, word die man in Christus opgeroep tot liefdevolle en koesterende regering in die huwelik (Ef 5:25-33; Kol 3:19; 1Pt 3:7). So word die Christelike huwelik nie net 'n afskynsel van die Goddelike Drie-eenheid nie, maar ook van die verhouding tussen Christus en Sy gemeente. Die vrou se rol in die huwelik is soos díé van die gemeente in sy verhouding met Christus. En die man moet vir sy vrou wees soos Christus vir Sy kerk.
    Maar nooit mag ons die rolverdeling in die huwelik en die man se hoofskap beklemtoon nie, sonder om ook te onthou dat man en vrou "mede-erfgename van die genade van die lewe is" (1Pt 3:7, OAV). Daar is geen statusverskille tussen hulle nie, net soos nie een Persoon in die Goddelike Drie-eenheid minderwaardig is in vergelyking met die ander nie.

2.    Die mens se skepping as man en vrou na God se beeld is die diepste rede waarom die Nuwe Testament nie die vrou toelaat om in die gemeente te regeer nie.    Vir diegene wat oppervlakkig met Nuwe Testamentiese gegewens omgaan, lyk dit asof die apostel Paulus homself weerspreek: enersyds beklemtoon hy die gelykheid tussen man en vrou in die gemeente (Gl 3:26-29); andersyds maak hy baie van die verskille tussen manlike en vroulike lidmate (1Kor 11:2-16), en in die besonder lê hy 'n swyggebod op die vrou in gemeentelike byeenkomste (1Kor 14:34-36; 1Tm 2:9-15).
    Maar die apostel het homself allermins weerspreek. Hy verstaan gewoon die fundamentele beginsel waarna ons in hierdie studiestuk kyk. En hy weet hoe lewensbelangrik is God se skeppingsverordeninge. Net so min as wat daar 'n innerlike teenstrydigheid in die drie-enigheid van God sit, net so min geld dit vir Nuwe Testamentiese voorskrifte oor die verhouding tussen man en vrou in die gemeente.
    Waarin lê die funksionele verskil tussen man en vrou in die gemeente? Die vrou is 'n volwaardige lidmaat, en mag aan alles deelneem  -  behalwe om in die gemeente te regeer.
    Amptelike en formele Woordverkondiging is 'n regeringsfunksie in die gemeente. Vandaar dat die apostels nie vrouens toelaat om te preek nie.
    Let op dat regering  -  en dus amptelike prediking  -  ál is waarvan die apostels die vrou uitgesluit het. Volgens 1Kor 11:5 kon sy profeteer en bid. En sy kon lering gee vir jonger vrouens (Titus 2:3-5)  -  en sekerlik vir kinders.

    Funksionele en gesagsverskille tussen man en vrou  -  ook in die gemeente  -  is 'n ewige beginsel wat tydens die skepping, vóór die sondeval, in die diepste wese van die mens ingegraveer is. En hier het ons met een van God se skeppingsverordeninge te doen.
   
As begronding vir sy standpunt beroep Paulus hom konsekwent op God se skeppingsverordeninge. Hiermee beklemtoon hy dat sy voorskrifte nie kultuurbepaald is nie, maar dat dit ewige, universele en ononderhandelbare beginsels is. En soos dit met al hierdie beginsels gaan, betaal ons 'n baie, baie duur prys as ons daarvan afwyk.
    Hierdie is geen geringe saak nie. Só kom God se beeld, en Sy gepaardgaande verheerliking, al hoe duideliker in 'n gemeente tot uitdrukking. Só word die realiteite van die herskepping sigbaar in ons. Só gedy die kerk onder die seënende hand van die Here, want die uitnemende pad vir die mens is binne die grense van hulle Skepper se ordes en voorskrifte.
    Kom ons sê dit reguit:

    Die aftakeling van die rol- en gesagsonderskeid tussen man en vrou in die kerk is nie 'n sekondêre saak nie. Dis nie maar bloot ‘n kwessie van kulturele aanpassing nie. Nee, dis lynreg in stryd met God se skeppingsordes en wil  -  en dus 'n ernstige sonde!

Waarlik, die kerk wat met betrekking tot hierdie sake wegbreek van die pad van die historiese Christelike geloof, loop ‘n wesentlike gevaar om die geloof mettertyd heeltemal te versaak.
    Wat moet daardie kerke doen wat 'n ernstige tekort ervaar aan mans om die wa te trek?
    Hulle moet hulleself afvra waarom hulle so 'n probleem het. Baie dikwels het dit te doen met die sentimentalistiese en mensgesentreerde aanslag en boodskap wat vandag in talle kerke aan die orde is. Mans sukkel om te identifiseer met verwyfde predikante en 'n "pienk" evangelie. Die oplossing lê dus in 'n terugkeer na die robuuste en Godgesentreerde evangelie van die Nuwe Testament. Dan sal die mans spoedig weer hulle opwagting maak.
    En allermins sal dit help om pragmaties te kapituleer deur maar voort te gaan om vrouens in te druk in ampte waar hulle nie hoort nie, en waar hulle ook nie regtig wil wees nie. Dit sal die kerk net nog méér na reukwater laat ruik.
    Nee, die kerk moet weer Paulus se oproep in 1Kor 16:13 leer verstaan: "Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk" (OAV).

Slot

Ons het nie ruimte om daaraan aandag te gee nie, maar enige onderskeidende leser sal verstaan dat ons in hierdie studiestuk by die diepste begronding was van die Bybelse veroordeling van dinge soos voorhuwelikse seks, egbreek, homoseksualisme, en so meer.
    Mag die Here ons help om Sy ordes te verstaan  -  en dit dan kompromieloos uit te leef.

                                                                                                                         Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment