Saturday, August 11, 2012

ANTIPAS HEROUT No.35 - JH 1:14 - GOD SE HOOGSTE OPENBARING [3 van 5] - Én God én Mens

Tydens die eerste twee eeue was die stryd tussen die waarheid en die leuen van 'n algemene aard. Tydens die 3de en 4de eeue het die konflik meer spesifiek geraak: oor die drie-eenheid van God. Uiteindelik het die Sinodes van Nicea (325nC) en Konstantinopel (381nC) klarigheid gebring deur die ortodokse geloof hieroor akkuraat te formuleer.
     Die volgende aanslag van die bose het oor die Persoon van Jesus Christus gegaan  -  besonderlik oor Sy twee nature, die Goddelike en die menslike. Hoewel die hoofstroom van die kerk onseker was oor die presiese aard van die samehang van die twee nature van Christus, was daar min twyfel oor die feit dat Hy sowel ten volle God as ten volle mens is.

Vroeë worstelinge

Die stryd oor die aard van Christus se persoon het in die vierde eeu begin. Daar was veral 3 dwalinge wat die kerk bedreig het:

Appolinarianisme.
'n Biskop van Laodisea, Appolinarius (310-390), het na vore gekom met 'n teorie oor die samehang van Christus se twee nature. Ten einde Sy goddelikheid behoorlik te beklemtoon, het hierdie biskop Sy menslike natuur onderspeel  -  tot so 'n mate dat hy Christus voorgestel het as minder as menslik. Hy het aanvaar dat Jesus 'n normale liggaam en siel gehad het, maar dat Sy verstand die van God was.
     Die sinode van Konstantinopel (381 n.C.) het hierdie beskouing as onbybels verwerp. Die Skrif leer immers duidelik dat die Here se mensheid volkome is. Behalwe my liggaam en siel, word ook my verstand deur Hom as Plaasvervanger eers vernuwe (Rm 12:1-2), en daarna volkome verlos.

Nestorianisme.
Die regsinnige beskouing oor Christus, wat eintlik al grootliks gevestig was, hoewel nog nie amptelik geformuleer nie, moes in die vyfde eeu nog 'n aanslag afweer. Nestorius (hy het iewers tussen 350 en 450 n.C. geleef), patriarg van Konstantinopel, het effektief begin leer dat Christus eintlik twee onderskeie Persone is, die een goddelik, en die ander menslik. Maar die Skrif leer dat Hy één geïntegreerde persoon is, hoewel Sy twee nature onvermeng is. Nêrens suggereer die Bybel enige skisofrenie in Christus nie. Jesus praat konsekwent van "Ek", nie van "Ons" nie, terwyl Hy wel, as Hy oor Homself en die Vader praat, "Ons" gebruik.
     Na 'n lang stryd, het die Sinode van Efese Nestorius se dwaling uiteindelik in 431 n.C. veroordeel.

Eutigianisme, oftewel, Monofisitisme.
Hiervoor was 'n leraar van Konstantinopel, Eutiges (378-454 n.C.) verantwoordelik. Hy was so in reaksie teen die Nestorianisme, dat hy die twee nature van Christus ineen laat vloei het. Hy het geleer het dat Christus nie ware mens is nie, maar dat Hy slegs een natuur het, die goddelike. Die menslike natuur sou hierin opgelos het, wat Christus dan streng gesproke met 'n derde soort natuur sou laat. Dis soos 'n druppel ink wat in 'n glas water val. Maar ook hierdie beskouing sou die Here Jesus  diskwalifiseer as ons Plaasvervanger.
     Die grootste sinode tot op daardie tydstip (520 biskoppe), die van Galsedon (451 n.C.), het Eutigianisme nek ingeslaan en uiteindelik die ortodokse geloof in die bekende Belydenis van Galsedon geformuleer.
     Hierdie uiteensetting kry ons presies weer terug in die groot belydenisskrifte van die 16de eeuse Reformasie.

'n Kort bespreking van die regsinnige beskouing oor Christus se twee nature

     Van die vroegste tye af was die ware kerk gegrondves in die feit dat Christus sowel God as mens is. Daar is dus enersyds verstaan dat Hy waarlik en ten volle van ewigheid af God was  -  en dat Hy steeds God is en dit tot in ewigheid sal bly; en andersyds dat Hy waarlik en ten volle mens geword het  -  en tot in ewigheid volkome mens sal bly.
     Die probleem was om die verhouding tussen Christus se twee nature, die Goddelike en die menslike, te verstaan en te formuleer.
     Teen die tyd is dit sekerlik gevestig in ons gemoedere dat die vleeswording nie die ontstaan van ons Verlosser was nie. As die Woord was Hy van ewig af, en was Sy geboorte dus nie die begin van Sy persoonlike bestaan nie.

Hy wat geen begin gehad het nie, het nie opgehou om te wees wat Hy van ewigheid af was nie. Maar Hy het begin om vir die ewigheid daarna te wees wat Hy nooit vantevore was nie.

Die vleeswording is iets oorweldigends, aangesien dit die samevoeging in één Persoon beteken van alles wat eie is aan die Godheid, én alles wat eie is aan volkome mens-wees. Die Man wat gekruisig is, was die ewige Woord! Die skrynwerker van Nasaret was waarlik God! Die baba in die krip was die Een wat alles geskape het!
     Dit sou 'n onbegryplike vernedering vir die Seun gewees het om selfs net 'n volmaakte mens te word, soos die mens voor die sondeval. Maar dit is nie wat gebeur het nie; die werklikheid is veel meer drasties. Die Woord is na 'n wêreld van sonde en ellende en dood gestuur! En daarmee moes Hy Hom volkome kom identifiseer. Hy het presies soos een van die mense in hierdie wêreld geword, onderworpe aan hartseer, pyn, lyding en selfs die dood. Daar is een, en net een uitsondering  -  Hy het nie sonde gehad nie.
     As ons sê dat die Seun vlees geword het, sê ons onder meer dat die Een wat van ewig af bo-tyds was die tyd binnegekom het en Hom onderwerp het aan die beperkinge daarvan. Ons sê dat die Onveranderlike veranderlik geword het, dat die Onsigbare sigbaar geword het, dat alles se Onderhouer afhanklik geword het, dat die Almagtige onderworpe geword het aan swakheid, dat die Onsterflike sterflik geword het.
     Die Sinode van Galsedon het tot 'n formulering gekom wat tot vandag toe as die regsinnige beskouing oor die twee nature van Christus aanvaar word. Daarom het ook die belydenisskrifte van die 16de eeuse Reformasie versigtig in hierdie spore bly loop.
     As ons oor die verhouding tussen die goddelike en menslike nature van die Here Jesus praat, verwys ons na die "hupostatiese" eenheid van Christus. Kom ons probeer iets meer daarvan verstaan:
     Die Here Jesus is sowel volkome God as volkome mens. Galsedon formuleer die eenheid van Sy persoon en die individualiteit van Sy twee nature só:

Die twee nature van Christus is onvermeng, onverander, ongedeel en ongeskeie.

Die twee nature van Christus mag dus nie verstaan word as 'n samevoeging tot 'n derde soort God-menslike natuur nie  -  dis onvermeng en onverander.
     Maar dis ook nie 'n losse saambestaan van twee nature wat die eenheid van Christus se persoon in die gedrang bring nie  -  dis ongedeel en ongeskeie.
     Kom ons by die Reformasie, word dieselfde waarheid net effens anders gestel: twee hele, ware en afsonderlike nature is onafskeidelik in Sy Persoon saamgevoeg, sonder verandering, vermenging of verwarring. Hierdie Persoon is dus ware God en ware mens, en tog is Hy net een Christus (vgl. NGB§19).
     Die goddelike word dus nie vermenslik nie; en die menslike word nie vergoddelik nie  -  daar is nie verandering nie.
     Voorts: die goddelike en die menslike vervloei ook nie so dat 'n derde soort natuur gevorm word nie  -  daar is nie vermenging nie.
     Derdens: die goddelike en die menslike nature wissel mekaar nie bloot af nie, sodat die een natuur die een oomblik voorop is, en die ander die volgende oomblik ‒ daar is geen verwarring nie.
     Waarlik, die twee nature van die Here Jesus is 'n diep en onpeilbare geheimenis. Verstáán sal ons dit nooit volkome nie; gló moet en wil ons dit egter, omdat God dit so in Sy Woord openbaar.
     Daar is meer sulke onbegryplike waarhede in die Woord. Neem byvoorbeeld die drie-eenheid van God: een God, drie Persone. Wat is meer ondeurgrondelik as dit? Ook worstel ons om die samehang van God se algehele soewereiniteit en die mens se verantwoordelikheid te verstaan.
     In die logika is daar 'n woord vir hierdie verskynsel. Ons praat van 'n antinomie. Dis wanneer ons twee (of meer) feite het wat elkeen onbetwyfelbaar vas staan, maar wat tog vir ons begrip mekaar oor en weer uitsluit. As die een waar is, kan die ander logies nie waar wees nie, en as die ander waar is, kan die een logies nie waar wees nie  -  en tog staan beide vaster as die berge.
     Die samehang van Christus se twee nature is so 'n onbegryplike antinomie. Tog moet ons, sover dit binne ons vermoë is, suiwer daaroor dink. Want skeeftrekkings lei sonder uitsondering tot God-onterende en pastoraal vernietigende dwalinge  -  soos die kerkgeskiedenis oor en oor bevestig.

In 'n neutedop: Jesus Christus is waarlik God en waarlik mens  -  één Persoon, maar twee nature, sonder verandering, vermenging of verwarring.


Wat sê dit vir ons?

1.      Die Seun se vleeswording verklaar al die ander wonders in die Nuwe Testament.
Derduisende wil baie mededelings in die Nuwe Testament nie glo nie: die wonderwerke, die opstanding van Christus, die hemelvaart, ensomeer. Maar as Jesus van Nasaret inderdaad die tweede Persoon van die goddelike Drie-eenheid is wat mens geword het, verval alle besware teen die bonatuurlike in Sy lewe. Kan daar iets té wonderbaar wees vir die lewende God?
     Die vleeswording is waarlik 'n ondeurgrondelike geheimenis  -  maar dit maak sin van alle ander wonders in die Nuwe Testament.

2.     Jesus Christus se mensheid is 'n voorvereiste vir die volheid en rykdom van ons redding.
Hebreërs werk dit uit in die tweede hoofstuk.

•     Hb 2:5-8: Twee dinge is waar:
Eerstens, tydens die skepping is die heerskappy oor hierdie aarde aan die mens gegee.
    Tweedens, ons sien egter niks van hierdie heerskappy nie.

•     Hb 2:9-10: Dit beteken nie dat God se belofte misluk het nie. Nee, die belofte ís vervul! Die mens heers wel oor alles. Hoe dan so?
     Sekerlik is die mensheid nog nie met eer en heerlikheid gekroon nie. Maar ons het 'n Hoof  -  volkome mens  -  wat volmaak aan God se eise voldoen het. Hy het rééds alle gesag in die hemel en op aarde. En Hy verteenwoordig ons.
     In Hóm sit die waarborg dat ook ons wat met Hom verenig is, uiteindelik volmaakte heerlikheid en heerskappy sal geniet.
     Ons sonde het ons gediskwalifiseer om met eer en heerlikheid gekroon te word. Voordat dit kon gebeur, sou ons eers weer in heiligheid voor God herstel moes word. Maar hoe? Sélf sou ons tot in ewigheid nie ons skuld kon betaal nie. Waarlik, ons het 'n Plaasvervanger nodig gehad.
     Die enigste aanvaarbare plaasvervanger vir die mens, was nóg 'n mens  -  sondeloos, sodat hy nie nodig gehad het om vir sy eie sonde te sterf nie. Uit Adam se nageslag het niemand, helaas, hiervoor gekwalifiseer nie. Almal was vol sonde. En in elk geval is geen mens in staat om miljoene ander se sondeskuld te betaal nie.

Dis waarom God die Seun mens moes word! As mens kon en kan Hy vir ons instaan; as God kon Hy aan God se standaarde voldoen en die straf namens miljoene verduur.

•     Hb 2:11-15: Die nuwe mensheid in Christus is een groot familie van broers en susters  -  met die Seun as oudste broer.

•     Hb 2:16-18: Laat ons goed verstaan: die Seun móés een van ons word om namens ons voor God te kan staan.

3.     Is die voortgaande en ewige mensheid van Christus onuitwisbaar in jou gemoed gegraveer?
     Verreken jy ten volle die ewige mensheid van die Here Jesus in jou verhouding met Hom? Ons verval maklik in 'n oorreaksie teen die ongeloofsteologie van ons dag  -  wat Jesus as bloot 'n wonderlike mens beskou  -  en vergeet dat Hy, benewens waarlik God, inderdaad ook volkome mens is.
     Baie Christene dink dat Hy destyds Sy mensheid hier op aarde agtergelaat het toe Hy na die hemel opgevaar het. Nee, daar is 'n verheerlikte, begripvolle en simpatieke Mens wat liefdevol in die hemelse troonkamers na ons belange omsien! (1Tm 2:5). Ons hemelse Hoëpriester is een van ons!

4.     Jý is tot in ewigheid volkome mens.
As dit dan vir God so onuitspreeklik belangrik is dat die Verlosser ware mens sal wees en bly, is mý mensheid kennelik ook vir Hom van die allergrootste belang.
     Is dit 'n sentrale aspek van jou salige hoop dat jy  -  indien jy inderdaad dan deur 'n ware geloof met Christus verenig is  -  onderweg is om dieselfde verheerlikte menslikheid as Hy te geniet? Kyk na Hom, veral nadat Hy opgestaan het, en sien hoe jy tot in alle ewigheid gaan wees! (Natuurlik is en bly Hy ook waarlik God, wat uiteraard nooit van ons sal geld nie.)
     Besef jy deeglik dat jy steeds en vir ewig volkome mens sal wees soos Hy? Ons sal as mense  -  weliswaar verheerlik, maar tog waarlik mense  -  op hierdie aarde saam met Christus vir ewig heers.    En die aarde  -  weliswaar herskep  -  sal steeds volkome aarde wees, nie soveel anders as wat baie van ons dink nie. 'n Volmaakte woonplek sal dit vir ons wees  -  selfs heerliker as die blyplek wat God oorspronklik vir die mens geskape het. (Dit sal wees soos wat die aarde uiteindelik sou word, indien Adam en Eva volkome gehoorsaam sou bly.)

En bo-oor alles, in glimmende goue letters, sal geskryf staan: "Die Here is daar!" (Eseg 48:35).
                                                                                                                              Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment