Saturday, July 9, 2011

ANTIPAS HEROUT No.40 : 'N KAMEEL KÁN DEUR DIE OOG VAN 'N NAALD - 'n Bespreking van Jesus se ontmoeting met die ryk jongman

DIE HERE JESUS SE ONTMOETING MET DIE RYK JONGMAN KOM IN AL DRIE SINOPTIESE EVANGELIES VOOR: Mt 19:16-30; Mk 10:17-31; Lk 18:18-30 [1].

# Hierdie jongman toon wonderlike Koninkrykspotensiaal: Hy is ywerig - hy hardloop na Jesus toe. Hy is nederig - hy val op sy knieë. Hy is moedig - hy kom nie in die donker soos Nikodemus nie. Hy is "geestelik" - hy verlang oënskynlik opreg na die ewige lewe. Hy is moreel - hy probeer met toewyding van kleins af die Wet onderhou.
Hier het ons dus 'n model van 'n jongman. Voor ons sien ons leierskapmateriaal, 'n trofee vir elke gemeente.

# En hy is 'n evangelis se droom. Enige hedendaagse sielewenner sou binne minute van hom 'n Christen kon maak. Hoe lank vat dit immers om 'n kort sondaarsgebed te herhaal?
Maar Jesus laat hom tussen Sy vingers deurglip!

# Hier is lesse wat ons nie moet miskyk nie. Kom ons kyk vir eers deur Markus se lens.

Die evangelie begin by God

# Die eerste sleutel is in v.18. Jesus stel die jongman dadelik voor God. Voor mens oor die ewige lewe kan praat, sê Hy effektief vir hom, moet jy eers rekening hou met die algoeie en heilige God en alles wat dit impliseer.
Die evangelie begin met God. Dit kan slegs na behore verstaan word as mens die skitterglans van Sy volmaaktheid en die tragedie van menslike verdorwenheid teenoor mekaar stel.

# Mense het baie probleme. Maar die oomblik as jy God sien, raak jy in 'n oogwink daarvan ontslae. Dan besef jy hoe gering en tydelik dit alles is.
Maar onmiddellik kry jy 'n nuwe las, duisend maal swaarder - die las van die ewigheid en ons aanspreeklikheid voor God.
Al wat hierdie las kan verlig, is die evangelie en jou omhelsing van Christus.
As jy nie eers die las van God se geregtigheid, enersyds, en jou doemwaardigheid, andersyds, ervaar het nie, bly Christus vir jou bloot van akademiese belang. Reddende geloof is immers wesentlik iets anders as 'n bloot intellektuele opinie oor God. Ja, geloof begin met kennis en oortuiging, maar word afgerond deur 'n desperate en persoonlike vlugtog in Christus in.

# Vir te veel goeie kerkmense is God beswaarlik meer as 'n welwillende en saghartige oupa.
Ja, duisend maal, ja - Hy is 'n barmhartige God van vergiffenis en genade. Maar Hy is ook 'n God van heiligheid en geregtigheid.
Onthou, en vergeet dit nooit nie, as jy 'n denkbeeldige God dien, sal jy tevrede moet wees met 'n denkbeeldige redding.

Die Wet - 'n Kragtige stuk gereedskap in Jesus se evangelisering

# Die volgende sleutel kry ons in v.19-21. Vir die meeste moderne evangeliste is dit 'n baie vreemde verwikkeling in hierdie verhaal.
Mens sou verwag dat Jesus sal begin praat oor regverdiging deur geloof alleen, en dat jy Hom net as persoonlike Saligmaker moet aanneem.
Maar Jesus beweeg in presies die teenoorgestelde rigting: van alle dinge praat Hy oor die wet!

# Twee maal lees ons in die evangelies dat iemand Jesus kom vra hoe mens die ewige lewe kan beërf. Benewens hier, vra 'n wetgeleerde die vraag - wat dan tot die gelykenis van die barmhartige Samaritaan lei (Lk 10:25).
Nou kan dit nie anders as uiters betekenisvol wees nie: in beide gevalle vat Jesus die vraagsteller na die wet toe. Waarom? Elders in die Nuwe Testament kry ons die antwoord: "Deur die wet leer 'n mens wat sonde is" (Rm 3:20). "Sonde is immers oortreding van die wet van God" (1Jh 3:4).
Wat sê dit vir ons? Die konsep van sonde is inhoudloos sonder God se wet. En die man of vrou wat sonde nie kan verstaan nie, kan die kruis nie verstaan nie - en daarom ook nie die evangelie nie, want redding is vir die desperates en slegs vir hulle (Mt 5:3).

# Té dikwels is die hedendaagse aanbieding van die evangelie mensgesentreerd. Die verlossingsplan word aangebied as ten diepste ter wille van die mens: "Glimlag, God het jou lief en het 'n wonderlike plan vir jou lewe. Hy wil jou seën en gelukkig en welvarend sien. Soek jy vrede en 'n vriend? Kom na Jesus toe - Hy brand om jou behoeftes te vervul."
Natuurlik ervaar ware gelowiges baie van hierdie dinge. Maar in die reddingsplan gaan dit ten diepste oor God en Sy eer. En natuurlik word baie mense op so 'n skewe manier gered. Maar, tensy die Here hulle op gesonder paaie lei, ontgroei hulle nooit hul doeke nie. En meeste verdwaal langs die pad.

# In 'n neutedop kan hierdie tweede sleutel só saamgevat word: die wet toon mens jou sonde; en tot die mate wat jy jou sonde sien, tot daardie mate sien jy jouself as van God vervreemd.
Dikwels lei dit dan eers tot 'n periode van godsdienstige inspanning en vroomheid. Maar omdat niemand die wet sonder God se genade naastenby kan uitleef nie, lei dit al hoe meer tot wanhoop. Algaande maak dit van jou 'n bedelaar om God se genade. En só kwalifiseer dit jou vir die koninkryk van God. Uiteindelik wys die Heilige Gees jou dan Jesus Christus die Gekruisigde.
Die ou Puriteine het dit verstaan: "Die skerp naald van die Wet maak 'n pad vir die rooi garingdraad van die evangelie."

# Die ryk jongman het egter 'n baie oppervlakkige siening van die wet: dit alles onderhou ek sedert my jeug! (Mk 10:20).
Daarom vind die Here Jesus dit nodig om die wet toe te pas. En in die proses skiet hy op die man se Achilleshiel. Hy pas die hele tweede tafel van die wet toe, en veral die tiende gebod. Want die man is baie materialisties. "Gaan verkoop ... gee vir die armes!"
Die ryke is hartseer daar weg, maar helaas nie oor sy sonde nie. Dis omdat hy besef hy moet 'n keuse maak, en hy sien nie kans om van sy besittings afstand te doen nie.
Die jongman is nog nie gereed vir die koninkryk nie. Die ploeg van die lewe en van God se standaarde het nog werk om te doen - sy harde pad, sy klipbanke, sy doringvelde moet nog omgedolwe word.

# Let wel, die Here Jesus hardloop nie agter die man aan nie. Hy weet sekere dinge in die lewe neem tyd. Miskien sal die ploeg hom gereed maak vir 'n volgende keer.
Jesus laat hom met ander woorde rustig oor aan die oortuigingswerk van die Heilige Gees. Hy weet dat hierdie werk van die Gees 'n einde maak aan alle selfvoldaanheid en argumente. As Hý eers in diepte met jou gewerk het - jou oortuig het van sonde, geregtigheid en oordeel (Jh 16:8-11, OAV) - is selfregverdiging en rasionalisering iets van die verlede.

Evangelisering behels 'n oproep tot bekering

# 'n Volgende sleutel kry ons in v.21. Die Here het die man voorberei deur hom te konfronteer met God se standaarde. Nou praat Hy reguit met hom: "Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!"
Wat Jesus dus vir hom sê, is dit: Jy vra My hoe om by die ewige lewe uit te kom? Ek is die enigste pad en die enigste gids. Kom val by My in. Daar is egter nog afgode wat jou vashou. Raak eers daarvan ontslae.

# Weer en weer spel die Here Jesus die voorwaardes vir egte dissipelskap uit. Hy doen dit nie in fyndruk nie. Inteendeel, Hy doen dit openlik en reguit: verloën jouself, neem jou kruis op, en volg My.
God se genade is gratis; maar dis nooit goedkoop nie. 'n Mens neem Hom tevergeefs aan as jy Hom net as Verlosser wil hê, maar jou nie volkome aan Sy koningskap onderwerp nie.
Dit kom dus hierop neer: onderwerp jou aan My voorwaardes, of gaan terug en geniet jou lewe voluit - want daar wag 'n baie lang, lang ewigheid.

# Waarom sukkel soveel goeie kerkmense om te verstaan dat diepgaande bekering 'n ononderhandelbare Bybelse noodsaaklikheid is. Bekering red nie, maar sonder bekering is daar geen redding nie. Die koninkryk van die hemele is steeds 'n skat in die saailand waarvoor mens alles moet verkoop om dit in besit te kry.

Evangelisering behels 'n oproep tot die navolging van Jesus Christus.

# Hierna is reeds heelwat verwys, maar dis nodig om dit spesifiek uit te lig. As 'n negatiewe wegdraai van sonde noodsaaklik is vir egte Christenskap, is 'n positiewe heendraai na en navolging van Christus ewe onmisbaar. Dis twee kante van dieselfde munt. Die een kan nie sonder die ander nie.

# Waartoe roep Jesus hierdie man en elkeen van ons? Kom, sê Hy, gee my jou hart, emosies, verstand en liggaam - jou hele lewe. Gee My jou lojaliteite, jou energie, jou toewyding, jou drome, jou ambisies, jou potensiaal. Gee My jou besittings, jou geleerdheid, jou gawes, jou verlede en jou toekoms. Kom dan, dien My onvoorwaardelik. En Ek sal jou verliese honderdvoudig kompenseer. En daarbenewens sal jy die ewige lewe kry (29-31).
Wat 'n opwindende uitnodiging! Wat 'n skrikwekkende opdrag!

# Elkeen van ons gaan eendag voor die Regterstoel van die Allerhoogste staan. Volgens die Bybel sal die Regter nie bloot konsentreer op my regte verstaan van en geloof in die waarheid nie - noodsaaklik soos dit is. Nee, dit sal gaan oor die uitlewing van Sy opdragte! Onder die loep sal geneem word my gehoorsaamheid terwyl ek in hierdie lewe was. Ons gaan volgens ons werke geoordeel word! [2].
Maklik en dikwels word so erg oorreageer teen die dodelike dwaling van redding deur werke, dat in die slagyster van die ewe bedenklike kettery van redding sonder werke getrap word!

# Besef ons hoe belangrik hierdie saak is? Navolging van Christus is ononderhandelbaar. Luister net wat skryf Johannes: "Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het" (1Jh 2:6).
Destyds kon die Here Jesus nie dubbelhartiges verduur nie. Waarom sou dit nou anders wees? Hy spoeg steeds die louwarmes uit.
Nie een van ons het die gesag om Sy standaarde te verlaag nie. Tog word dit so dikwels gedoen. Die ryk jongman sou hom gemaklik kon tuismaak in feitlik elke gemeente van ons dag - en spoedig sou hy dalk nog in die kerkraad ook gedien het.
Maar Jesus Christus kan ons nie kry nie, as ons nie die wêreld versaak nie.

# Iemand het Jesus gevra: "Sal min gered word?" (Lk 13:23vv). Wat antwoord Hy? "Span al jul kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie."
Sonder vrees vir teëspraak kan mens sê dat baie min kerkgangers afsydig staan teenoor hul ewige lot. Maar dit beteken nie dat hulle sonder meer gered is nie. Want benewens hulle wat gered is, en hulle wat duidelik ongered is, is daar 'n derde kategorie - 'n baie groot kategorie. Dit is die "baie" wat sal probeer ingaan, maar dit nie regkry nie.

Die kameel en die naald

# Tot nou toe het ons gekonsentreer op Jesus se hantering van hierdie jongman, en op die implikasies daarvan vir ons evangelisering. Kom ons kyk nou na wat voortspruit uit hierdie ontmoeting en wat dit prakties vir ons inhou (24vv).
Die man is nou weg, en nou is dit 'n gesprek tussen die Here Jesus en Sy dissipels.

# Jesus sê weliswaar hier dat dit vir 'n ryk man baie moeilik is om die koninkryk in te gaan. Maar Hy kon net sowel gepraat het van 'n bitter en onvergewensgesinde persoon - of van 'n egbreker en wellusteling, of van 'n ongehoorsame kind, of van 'n oneerlike en 'n leuenaar. Hier gaan dit spesifiek oor hebsug, maar die beginsels geld vir enige sonde.

# Nou gaan die Here voort om te beklemtoon hóé moeilik dit vir 'n ryk man is om gered te word. 'n Kameel gaan makliker deur die oog van 'n naald, sê Hy!
Deur die eeue was daar meer as een poging om hierdie verskriklike stelling van Jesus af te water, maar nie een daarvan het nog ooit werklik oortuig nie.
In elk geval verstaan die dissipels Jesus letterlik. "Wie kan dan gered word?", vra hulle. Dit kan hulle wel vra, want die illustrasie wat die Here gebruik, dui op iets wat algeheel onmoontlik is. Daar is egter een, en net een uitsondering: as die almagtige God dit doen, kan dit wel gebeur!

'n Heerlike belofte

# Waarskynlik verstaan die dissipels bloedweinig van wat Jesus presies bedoel, maar hulle aanvaar wat Hy sê. En dan dink hulle met groot verligting daaraan dat húlle al hulle besittings agter gelaat het, al was dit nie veel nie.
Hoewel Jesus nie direk op hulle aanspraak reageer nie, erken Hy per implikasie dat hulle reg is. Want Hy gee in respons vir hulle een van die wonderlikste en rykste beloftes in die Skrif.

# Dis betekenisvol dat Jesus nou nie meer net van besittings praat nie, maar veral van dierbares wat agter gelaat word. Die implikasie is duidelik: dit gaan oor meer as materiële besittings. Enige opregte opoffering ter wille van die Here, Sy evangelie (Mk 10:29), Sy koninkryk en Sy eer, sal ryklik beloon word.

# Daar sit groot troos in hierdie belofte. In hierdie lewe reeds sal dissipels baie keer soveel terug ontvang. Die dividende is uitmuntend! Honderdvoudig - met ander woorde baie, baie meer! (Mt, Mk). En dis nie iets totaal anders as wat hulle opgegee het nie. Volgens Markus is die kompensasie dieselfde soort dinge as dit wat hulle agter gelaat het - en indien nie identies dieselfde nie, ten minste soortgelyk.
Om alles te kroon sal die loon tot sy hoogtepunt kom in die ontvangs van die ewige lewe. Kan die prysgee van enigiets hierteen opweeg? Wat kan belangriker wees as die ewige lewe? Wat kan meer waterdigte sin maak as Jesus se oproep om jou hand af te kap of jou oog uit te ruk as dit dreig om jou die ewige lewe te kos? (Mt 18:8-9). Want daar is niks, maar niks hoër en heerliker as dit nie!
Hierdie wonderlike belofte hou egter één verrassing in: saam met al die heerlikhede kom ook vervolging! (Mk 10:30). Terwyl die dinge wat ons opgee op 'n manier na ons toe sal terugkom, selfs honderdvoudig, is dit nie 'n geval van quid pro quo nie. Dis nie tit for tat nie. Dis nie 'n transaksie nie. Ek het geen aanspraak op die Here se kompensasies nie. Trouens, as dít is waaroor dit vir jou gaan, is jou motiewe nie suiwer genoeg nie.
Laat ons nooit vergeet nie: die Here Jesus het nooit iemand probeer omkoop om Hom te volg en dien nie. En so is dit tot vandag toe. Jy val agter Hom in op Sy terme, of jy loop jou eie pad. En soos in die geval van die ryk jongman, sal Hy nie agter jou aan hardloop nie. Hy is oor niemand verleë nie!
Nee, Jesus het nie mense omgekoop om Hom te volg nie - Hy het hulle uitgedaag. Ja, ja, het Hy gesê, daar is loon, maar dit gaan jou alles kos om dit in besit te kry. Die koninkryk is nie vir lafharte en opportuniste nie. Nee, "bestormers gryp dit met geweld" (Mt 11:12, OAV); "forceful men lay hold of it" (NIV).

Wat sê dit alles vir ons?

1. 'n Hele morsige lewe van sonde is nie nodig om verlore te gaan nie; nee, 'n enkele, net één, boesemsonde waaraan mens vasklou, kan jou en my in die ewige verdoemenis laat beland.
Alles dui daarop dat hierdie jongman 'n uitnemende morele lewe gelei het. Dis net dat hy baie lief was vir sy goed. Só verknog was hy aan sy besittings dat dit vir hom belangriker was as om die Here Jesus as Verlosser te omhels, en gevolglik radikaal, enkelhartig en lewenslank as Koning te dien. Baie, baie mense is werklik opreg en ernstig bereid om alles op te gee vir Jesus, behalwe één boesemsonde, wat dit ook al mag wees. Maar daardie één ding kos hulle dan die ewige lewe.
Ons lees dat Herodus 'n ontsag vir Johannes die Doper gehad het, sy woorde en vermaninge ernstig opgeneem het, en gereeld in 'n tweestryd was wanneer hy na die prediker geluister het - maar dat hy nie kans gesien het om afstand te doen van Herodias, sy broer se vrou nie. Saam met hierdie vrou is hy die ewige verdoemenis in (Mk 6:20).
Ons is geneig om te dink as ons vroomheid darem net 'n bietjie swaarder weeg as ons verkleefdheid aan die wêreld, sal ons dit maak hemel toe. Maar nee, een lekkasie, net één, is nodig om 'n groot skip te laat sink. Een sonde, net één, waarvan ek my nie wil bekeer nie, kan my my siel kos. Laat ek vlymskerp eerlik met myself wees!
Let wel, die Bybel sê nie dat mense wat waarlik gered is, nie 'n stryd teen sonde sal hê nie. Inteendeel, die Skrif leer dat hulle elke dag in 'n intense en meedoënlose oorlog teen die vlees, die wêreld en die duiwel gewikkel sal wees. Die Bybel leer ook nie dat hulle nie meermale in hierdie stryd die onderspit sal delf nie. Maar wat die Bybel wel leer, is dat hulle die sonde met 'n felle haat sal haat, dit nooit sal goedpraat nie, en tog as 'n reël daaroor sal heers.

2. In hierdie verse sien ons die almag van God se genade in Christus.
As dit makliker vir 'n kameel is om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die hemel te kom, is dit inderdaad onmoontlik vir 'n ryk man om gered te word. En presies dieselfde geld vir enige mens met 'n boesemsonde waarvan hy of sy weier om afstand te doen.
Maar as dit dan vir 'n mens onmoontlik is, is dit wel vir God moontlik om so iemand te red. Dis maklik om te verstaan, sê jy. God is die Regter, en Hy is soewerein. Al wat Hy hoef te doen, is om so iemand kwyt te skeld - om die sonde nie teen hom of haar te hou nie. Wie sal Hom beskuldig as Hy die ewige lewe gee vir wie Hy wil?
Iets hiervan is natuurlik waar. Maar heeltemal só eenvoudig is dit nie - verre daarvandaan. God red niemand ten spyte van sy sonde nie. Hy red niemand in sy sonde nie. Nee, as Hy jou red, loop dit altyd uit op 'n felle haat teen sonde in jou lewe - alle sonde. Sonder uitsondering word dit een van jou grootste begeertes om eens en vir altyd klaar te kry met elke kriesel sonde. Presies dit is waarom jy so 'n voortgaande stryd voer teen die sonde in jou.
In die geval van die ryk jongman is sy boesemsonde hebsug. In net die volgende hoofstuk van Lukas lees ons hoe die Here nóg 'n ryk man van hebsug verlos. Ons praat van Saggeus (Lk 19:1-10). Presies hóé dit gebeur het, word nie aan ons geopenbaar nie, maar ons sien hoe hierdie skelm tollenaar totaal strydig met sy persoonlikheid tot nou toe, hom voorneem om restitusie te doen teenoor almal wat hy al in die verlede ingeloop het. Nie alleen wil hy dit veel deegliker doen as wat die Ou Testamentiese wet vereis nie (hy wil vierdubbel teruggee); hy wil die helfte van sy goed vir die armes gee.
As die Here Jesus dan sien dat die doodsgreep van hebsug in Saggeus gebreek is, herken Hy die herskeppende werk van die Heilige Gees in hom: redding het gekom; ook hý is 'n kind van Abraham! Siedaar, die kameel is dwarsdeur die naald se oog!
Sien jy? Al weet ons dat ons deur God se genade alleen gered word, op grond van Christus se verdienste alleen, deur die geloof alleen, neem die Here se redding altyd 'n bepaalde vorm aan. Dit word sigbaar in bekering en 'n opregte standpunt-inneming teen die sonde wat tot nou toe jou lewe beheers het.
Dit beteken egter nie dat hierdie sonde nie meer vir jou gevaar inhou nie. Dis soos 'n slang waarvan jy die rug gebreek het met jou kierie. Bly jy op 'n veilige afstand, is hy magteloos. Maar speel jy met hom, kan hy jou steeds noodlottig pik. Mense wat wedergebore is, ervaar so 'n afsku van sonde dat hulle niks meer te doen wil hê nie met daardie sondes waarmee hulle eens so hand om die lyf geloop het.
Dis omdat die wedergeboorte 'n hartsverandering is. En die hart is die sentrum van jou persoonlikheid. Word jy in jou hart - die beheerkamer van jou lewe - verander, moet en sal jou lewensuitinge ook verander. Dis 'n nuwe lewensbeginsel wat in jou geplant word. Alles verander (2Kor 5:17, OAV). Jy het 'n nuwe lewensgerigtheid, nuwe hartstogte, nuwe belangstellings, nuwe voorkeure en afkeure.
Sien jy? Redding en wedergeboorte kan nie onder 'n maatemmer weggesteek word nie. Sonder uitsondering word dit sigbaar in bekering en heiligmaking [3].

3. Die geskiedenis van die ryk jongman en Saggeus leer ons die wonder van God se genade.
Wie kan dan gered word?, vra die dissipels. Vir God is alles moontlik, antwoord Jesus. En inderdaad, selfs die opperste bedrieër, Saggeus, word 'n nuwe skepsel.
Onthou, die Woord vertel ons van baie ryk mense wat kinders van God was: Abraham, Job, Dawid en talle meer. Maar hulle het een en almal die Here enkelhartig gedien. In geen geval was hulle geld en besittings hulle baas nie. Dink maar aan hoe die Skrif hulle vir ons skets. Is hulle rykdom ooit voorop in hulle lewens? Nee, veel eerder was hulle mense wat met beide hande uitgedeel het - omdat die Here hulle harte bevry het van die wurggreep van hebsug, en dit vervang het met 'n allesoorheersende liefdesempatie vir diegene wat gebrek ly.
En wat hier vir hebsug geld, geld netso vir enige ander sonde waaraan jy in hierdie oomblik mag dink.
O, niemand, maar niemand is buite bereik van God se herskeppende genade nie. Geen sonde kan jou vashou as die Here jou eenmaal gegryp het nie.
Sit jy dus tans nog met 'n doodsonde wat jou magteloos in sy greep het? Maak nie saak wat dit is nie: hebsug, wellus en onsedelikheid, woede en bitterheid, jaloesie, verslawing, luiheid, trots, ongeloof, liefdeloosheid, of wat ook al - vat dit nou in nederigheid en eerlikheid na die Here toe. Verootmoedig jou in opregte gebrokenheid voor Hom. Draai jou rug met beslistheid op jou sonde - neem standpunt in daarteen. Bely dit sonder om terug te hou. En vra Hom dan om jou te vergewe, en om jou te verlos uit die wurggreep. En Hy sal dit doen, al verg dit ook van jou 'n lang en uitgerekte stryd. Want niks behaag en verheerlik Hom meer as om sondaars te red nie.


[1] In die eerste helfte van hierdie Herout loop ek in pas met Walter Chantry se Today's Gospel. Ek is oortuig dis die enigste manier om hierdie stukkie geskiedenis reg te verstaan.

[2] Mt 16:27; 25:31-46; Rm 2:5-11; 2Kor 5:10; Op 19:8; 20:12-13; 22:12-15.
Sien AH 2 en 3 vir 'n bespreking van die verband tussen redding deur geloof alleen, enersyds, en die noodsaaklikheid van gehoorsaamheid en goeie werke, andersyds.

[3] Vergelyk die merktekens van wedergeboorte soos Johannes dit in sy eerste brief beskryf. Lees die OAV: 5:1; 3:9; 2:29; 4:7 (3:14-17); 5:4.
Nico van der Walt

Monday, June 27, 2011

ANTIPAS HEROUT No.17 : DIE VERHOUDING TUSSEN OU EN NUWE VERBOND - Enkele perspektiewe en implikasies

IEMAND HET EENKEER GESÊ: "MY SEUN, DIE DAG AS JY DIE VERHOUDING TUSSEN OU EN NUWE VERBOND VERSTAAN, MAG JY JOUSELF 'N TEOLOOG NOEM."
Dit was wyse woorde. Want talle van die grootste en ernstigste dwalinge in teologie en kerk deur die eeue was te wyte aan 'n gebrekkige begrip van die verhouding tussen die twee fases van die genadeverbond [1]. Dis 'n toestand wat ongelukkig voortduur - met talle ernstige ellendes in die kerk tot gevolg.
Hierdie studiestuk maak nie aanspraak op volledigheid nie; inteendeel. Dit bied bloot 'n paar fundamentele perspektiewe.

Die genadeverbond

# God se genadeverbond met die gevalle mens loop soos 'n ruggraat dwarsdeur Sy Woord. Begrip en verrekening van hierdie verbond is nodig om die boodskap van die Heilige Skrif reg te verstaan, om God behoorlik te ken, om die evangelie te begryp en reg te verkondig, en om die Christelike lewe te leef soos dit moet.

# 'n Verbond kan in die algemeen soos volg gedefinieer word: Dis 'n onderlinge en baie gewigtige ooreenkoms tussen twee partye, wat hulle absoluut en gewoonlik permanent verbind om sekere dinge vir mekaar te wees en te doen.

* Die Skrif bevat talle beskrywings van sulke verbonde tussen mense (Gen 21:22-34; 31:44-55; Jos 9; 1Sam 18:3; 2Sam 3:6-21; 5:3; 1Kon 5).

# God het hierdie algemene begrip in die antieke wêreld geneem om Sy ewige en onverbreekbare verhouding met diegene wat Hy na die sondeval as nuwe mensheid sou red, te omskryf en te reguleer. Die verbond is dus die 'konstitusie' van God se reddingsplan.

# Die genadeverbond het 'n sterk ontwikkelingsgang in die Ou Testament; trouens, in die hele Skrif.
Embrionaal is dit reeds in die moederbelofte (Gen 3:15) teenwoordig. Dan kry dit verdere gestalte in die verbond met Noag (Gen 9:1-17).
Veral in God se verbondsluiting met Abraham kom dit behoorlik na die oppervlak (Gen 12:1-3; 15; 17; 22:1-19). Hierdie verbond word herbevestig met Abraham se nageslag, Isak (Gen 26:2-5) en Jakob (Gen 28:10-22).
Verder word die verbond herbevestig en -bekragtig met Dawid, maar veral met Moses tydens die uittog, oftewel met die volk wat uit Egipte gered is. Dit gebeur by Sinaï en word ongeveer veertig jaar later herbevestig, net voordat Israel Kanaän inneem. Laasgenoemde gebeurtenis is vervat in die Deuteronomiumboek, wat die struktuur vertoon van 'n tipiese verbondsdokument. Die Sinaïtiese verbond, naas die verbond met Abraham, is van die allergrootste belang en oorheers die lewe van die verbondsvolk daarna.

# Die daarstelling van die verbond is eensydig. God, en Hy alleen, neem die soewereine inisiatief daarin, en bepaal die aard van die verhouding eensydig. Die uitvoering of instandhouding van die verbond is egter tweesydig. Beide partye, God en mens, is dus aktief betrokke by die uitlewing daarvan. Die Here beloof immers sekere dinge aan die mens as voorregte (iets wat Hy doen), terwyl Hy ander dinge as verantwoordelikhede voorskryf (iets wat die mens moet doen).

# Volgens die verbondsvoorskrifte is die verhouding tussen die twee partye nie bloot onpersoonlik, formeel en juridies nie. Dis 'n verhouding van eenheid en gemeenskap, gekenmerk deur wedersydse bande van intieme liefde en lojale trou. Veral twee alledaagse en baie sprekende beelde word gebruik om dit te beklemtoon: die verhouding tussen man en vrou binne die huwelik (Jes 54:5; Jer 31:31-32; Eseg 16:1-14; Hos 1:2; 3:1; Ef 5:24-25, 32; Op 21:9); en die verhouding tussen ouer en kind (Eks 4:22; Deut 1:31; 8:5; Hos 11:1; Rm 8:15; 2Kor 6:18; 1Jh 3:1).

* Die tipiese verbondsformule, "Ek sal vir julle 'n God wees, en julle moet vir My 'n volk wees", bring hierdie heerlike waarheid uitnemend na vore. Dit kom regdeur die Bybel voor en geld tot in ewigheid (onder meer Gen 17:8; Jer 24:7; 31:33; 32:38; Eseg 11:20; 14:11; 36:28; 37:23, 27; 2Kor 6:16; Hb 8:10; Op 21:3).

# 'n Paar verdere sake oor die genadeverbond is ter sake:

* Aan die hart van God se verbond met Abraham is die uitspraak van Gen 15:6: "En hy het in die Here geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken" (OAV). Dit, sê die Nuwe Testament oor en oor, toon dat regverdiging alleen deur geloof kom - en dat dit van die begin af so was (Rm 4:3, 9, 22; Gl 3:6; Jk 2:23).

* Hoewel God se morele wet, soos in die Tien Gebooie gekonsentreer, aan die hart van die Sinaïtiese verbond was, gee Hy daar ook 'n massa seremoniële voorskrifte wat die Israelitiese godsdiens daarna oorheers. Die Nuwe Testament beklemtoon dat die morele wet, as uitlewingsriglyn vir die verbondsvolk se dankbaarheidsliefde en gehoorsaamheids-trou, ewig geldig bly (Mt 5:17-20). Daarenteen dring dit daarop aan dat die seremoniële wette met die koms van Christus vervul is en nie meer betrekking op die verbondsvolk het nie. Veral Galasiërs en Hebreërs onderstreep dit - as ernstig gewaarsku word teen 'n voortgaande handhawing daarvan. Dis nie net onnodig nie; dis dodelik sondig (vgl. o.a. Gl 5:1-10; Hb 6:4-8; 10:26-31).

* In Gl 3 en 4 verduidelik Paulus dat God reeds 430 jaar voor Sinaï, tydens die verbondsluiting met Abraham, die fundamentele en onveranderlike verbondsbeginsel van regverdiging deur die geloof alleen vasgelê het (Gl 3:15-18). Die seremoniële wet was bloot gegee as 'n kinderoppasser (die sin van die Grieks in 3:24) wat die Godsvolk en die verbondsopenbaring moes bewaar totdat die geloof gekom het (3:23-25) - die volle openbaring van God in Christus. Israel was dus soos klein kindertjies wat nie na hulleself kon omsien nie - maar die seremoniële wet het hulle opgepas en deur die eeue begelei. Met die aanbreek van die volheid van die Nuwe Verbond, en die volwassenheid wat dit vir God se verbondsvolk meebring, het die noodsaak daarvoor egter verval (4:1-7).
Die seremoniële wet het dus die funksie van steierwerk gehad tydens die oprigting van God se verbondsgebou. Dit was nooit doel op sigself nie, maar bloot middel tot 'n doel. En toe die doel bereik is, moes die steierwerk weg.

* Die besnydenis was in die sentrum van Israel se seremoniële verbondsverpligtinge. Dit was teken van die verbond, en ongehoorsaamheid was 'n uiters ernstige oortreding (Gen 17:14). Wat het dit beteken?

~ Soos tipies by verbond-sluitings, was dit 'n selfveroordelingseed: as ek my nie hou aan hierdie verbond nie, mag ook my bloed vloei en ek afgesny word uit die volk van God.

~ Waarom is spesifiek die manlike geslagsorgaan besny? Sekerlik het dit daarop gedui dat verbondsaanwas primêr deur natuurlike geboorte sou plaavind. Nasionale Israel was immers die verbondsvolk (in die ruim sin). Mens is destyds in die verbond in gebore. Dat dit al vereiste was, is duidelik uit die feit dat die teken al op die ouderdom van agt dae aangebring is.

~ Dit was waarlik 'n verbond van genade, want wie het enige beheer oor wie sy ouers is en watter volk hy in gebore word? Soos hieronder aangetoon, was dit wel genoegsaam vir heerlike voorregte in hierdie lewe, maar die ewige lewe het nie sondermeer gevolg nie.

~ Die besnydenis was deel van die steierwerk wat met die koms van Christus afgetakel is. Niemand wat Paulus se briewe lees, kan daaroor twyfel nie. Maar dat dit al eeue voor Sinaï ingestel is, is sekerlik nie sonder betekenis nie. Waarom? God het dit as teken ingestel om Sy volk van die heidene af te sonder. Kennelik het Hy 'n verbondsmerk as uiters belangrik geag. Daarom is dit nie verbasend nie dat ook die Nuwe Testament voortgaan met 'n uiterlike teken van verbondstoetrede - die doop.

* Dit is van die allergrootste belang om te verstaan dat God net een genadeverbond het. Gl 3:16 is in hierdie verband 'n sleutel: "God het sy beloftes aan Abraham en aan sy nakomeling gegee. Daar staan nie 'aan nakomelinge', meer as een nie, maar: 'en aan jou nakomeling', net een, en hierdie nakomeling is Christus." Ten diepste is die verbond dus 'n verbond tussen God die Vader en God die Seun - en wel in Sy hoedanigheid as die mens Christus Jesus (1Tm 2:5), die Adam en Verbondshoof van die nuwe mensheid (1Kor 15:45,47).

~ Hoe kry 'n sondaarmens dan deel aan hierdie verbond? As hy deur die geloof met Christus verenig word - en sodoende ook 'n kind van Abraham word (Gl 3:6-7, 29). Deur die geloof word hy dus uit die ou Adam uitgehaal en in die laaste Adam ingeplant (vgl. Rm 5:12-21).

~ Dis belangrik om te verstaan dat ook Ou Testamentiese gelowiges deur die geloof alleen gered is (Rm 4). Wat sê dit? Ook húlle moes met Christus verenig word ten einde deel te kry aan die verbond! Hulle moes glo in wat Hy sou doen; soos ons moet glo in wat Hy gedoen het. Wat het hulle geloof behels? Dit het tot uitdrukking gekom in onderhouding van die seremoniële wette - begripvol (volgens God se openbaring tot op daardie stadium), nederig (in die bewussyn van eie sondigheid), opreg (meer as bloot uiterlike ritueel) en gelowig (in die vertroue dat die Lam wat Gód sou voorsien uiteindelik as finale offer vir sondaars sou sterf). En dit alles moes verpak wees in bekeerde en bekerende lewens voor die aangesig van hulle Verbondsgod - as bewys van die egtheid van hulle geloof.

~ Sedert die sondeval was daar gevolglik nog nooit sprake van enige redding, anders as deur geloof in Christus nie - die Hoof van God se nuwe skepping en mensheid. In Ou Testamentiese tye het hierdie geloof tot uitdrukking gekom in 'n vasgryp van God se beloftes oor Hom. Om met Hom deur die geloof verenig te word, was dus nog altyd die enigste manier om te ontvlug vanuit die gevalle mensheid in Adam en gevolglike veroordeling deur God (Rm 5:12-21; 1Kor 15:21-22).
Die ou Puritein, Thomas Goodwin (1600-1680), het dit kostelik gestel: "There are but two men standing before God, Adam and Christ, and these two men have all other men hanging on their girdles."

* Samehangend met God se openbaring in die Woord, het Sy heilshandele met Sy verbondsvolk 'n progressiewe, of ontwikkelende karakter gehad - totdat dit uiteindelik in die koms en werk van Jesus Christus gekulmineer het. Afgesien van gereelde verbondsvernuwing en -ontwikkeling in die Ou Testament, is vir ons doel veral belangrik dat dit in twee duidelike fases uiteenval: die Ou Verbond (of Testament) en die Nuwe Verbond (of Testament). In hierdie verband is twee samehangende waarhede van die allergrootste belang:

~ Daar is net één genadeverbond. Dit is onteenseglik duidelik uit wat hierbo verduidelik is. Diegene wat voor Sy koms deur geloof met Christus verenig is, en diegene met wie dit daarna gebeur, sal uiteindelik sáám die vervolmaking van hulle verbondserfenis ontvang (Heb 11:39-40). Die kardinale punt is dit: daar is 'n onverbreekbare eenheid, 'n onmiskenbare kontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.

~ Tog praat die Bybel ook in eksplisiete terme van die Ou Verbond en van die Nuwe Verbond (Heb 8, veral v.13). Kennelik is daar 'n verskil tussen die twee. Die volgende kardinale punt is dit: daar is 'n onderskeid, 'n diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.

# Die kontinuïteit en eenheid tussen Ou en Nuwe Verbond is reeds beklemtoon en verduidelik. Nou moet nader gekyk word na die ander kant van die saak: die diskontinuïteit, oftewel die onderskeid.

Die dubbele karakter van die Ou Verbond

# Hierdie dubbele karakter kom tweërlei tot uitdrukking. Enersyds het dit in die aard van sowel die verbondsvoorregte as die verbondsverpligtinge gelê. Andersyds het dit tot 'n tweedeling van die verbondsvolk self gelei.

# Eerstens het die verbondsvoorregte en -verpligtinge 'n dubbele karakter gehad. Dis op meer as een manier te sien:

* Vanuit die tydelike en voorlopige aard van die Ou Verbond het sekere van die volk se voorregte en verpligtinge na vore gewys. Ware geloof het dus in 'n toekomsgerigtheid tot uitdrukking gekom.

~ As voorreg het hulle die beloofde land, Kanaan, ontvang. Dit was egter ook 'n voorafskaduing van die ewige Kanaan wat hulle wat waarlik geglo het, sou ontvang (Heb 11:8-10; 13-16).

~ As verpligting moes hulle die offerdiens in stand hou. Dit was egter ook 'n voorafskaduing van die groot en finale offer van die Lam van God, aan Wie elkeen sou deel kry wat waarlik glo.

* Vanuit die hoofsaaklik uiterlike aard van die Ou Verbond, het sekere aspekte daarvan na binne gewys. Ware geloof het dus ook in hartsopregtheid tot uitdrukking gekom.

~ Die offer van 'n dier moes die mense daaraan herinner dat dit eintlik húlle was wat moes sterf. Hierdie handeling moes dus veel meer as 'n blote ritueel wees. Ten einde vir God aanvaarbaar te wees, moes die offeraar se handeling met innerlike verootmoediging en berou gepaard gaan. En die egtheid daarvan sou blyk uit 'n bekeerde en bekerende lewe volgens God se Wet.

~ Die besnydenis was iets uiterliks, aan die manlike geslagsorgaan. Maar dit het ook na binne gewys en moes die volk herinner aan die noodsaak van die besnydenis van die hart (Deut 10:16; 30:6; Jer 4:4 ens.). Wat mense dus eintlik vir God aanvaarbaar gemaak het, was 'n heilige hartsgesteldheid - wat noodwendig tot 'n bekeerde en bekerende lewe lei.

# Tweedens het gehoorsaamheid aan bogenoemde - al dan nie - 'n tweedeling in die volk te weeg gebring.

* Die Ou Testament self maak toenemend duidelik dat net die gelowiges en opregtes (dus die bekeerdes en bekerendes - die besnedenes van hart) eintlik die ware verbondsvolk is en dus aan God behoort en die ewige lewe sal beërf. Regverdiging was immers van die begin af deur geloof alleen. Hierdie mense is die oorblyfsel, die seweduisend wat Baäl nie aanbid nie (1Kon 18:18).
Dis sekerlik ook nie sonder betekenis nie dat hierdie tema al hoe meer aandag kry soos die Ou Testamentiese Godsopenbaring vorder. Vergelyk byvoorbeeld Deut 4:23-31; Jes 6:13; 10:20-22; Eseg 5:1-4.

* Die Nuwe Testament is duidelik: die oorgrote meerderheid van die Ou Testamentiese verbondsvolk is nooit gered nie, maar het onder God se toorn gesterf (1Kor 10:1-5; Hb 3:7-9; Jud 5). Waarom? Van die toekomstige en innerlike aspekte van die verbond het hulle niks verstaan nie! Anders as die oorblyfsel, God se uitverkorenes en gunsgenote, was hulle ongelowig, onopreg en ongehoorsaam!

Romeine 9 : die ware Israel

# Die Nuwe Testament bevestig hierdie dubbele karakter van die Ou Verbond in duidelike taal. Rom 9:6 en konteks is veral eksplisiet in hierdie verband:

* In die eerste verse van Rom 9 antwoord Paulus 'n vraag wat hy by sy lesers antisipeer. In Rom 8 gee hy die versekering dat die volharding en redding van God se uitverkorenes gewaarborg is, want dit is in God se ewige raadsplan gewortel. Die vraag kom nou asof vanself: Wat dan van die Jode? Was hulle nie God se uitverkore verbondsvolk nie? Tog het hulle Christus verwerp en is hulle gevolglik onder God se toorn (v.4-5).

* Dit beteken egter nie dat God se verlossingsplan en genadeverbond verydel is nie. Hoe so? "Immers nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie ..." (v.6). Daar is dus 'n ware en ewige Israel binne die uiterlike en tydelike Israel (nasionale Israel). En die verbondsbeloftes waarvan Rom 8 praat, is net van toepassing op hierdie ware Israel.

* In v.7-13 verduidelik en illustreer die apostel sy skokkende stelling in v.6. Hy gebruik twee voorbeelde: in v.7-9 die van Ismael en Isak, Abraham se kinders; en in v.10-13 die van Esau en Jakob, Isak en Rebekka se kinders.

~ V.7-9: Daar is soiets soos 'n nageslag én 'n nageslag; kinders én kinders. En daar is die wêreld se verskil tussen die twee. Daar is 'n nageslag in die natuurlike sin; maar dan is daar 'n nageslag deur wie God se verbond voortgedra word. Daar is die kinders van die vlees; en daar is die kinders van die belofte - die kinders van God. As dit dus by die verbond kom, is net sekeres kinders. Ismael het geen deel aan die genadeverbond gehad nie; Isak egter wel - en in hom, as God se uitverkorene en deel van die oorblyfsel, word die plan van God voortgedra.

~ V.10-13: Paulus antisipeer 'n beswaar. Ja, maar Ismael en Isak het twee verskillende ma's gehad. En in Ismael se geval het Abraham 'in die vlees' opgetree.
Goed, sê Paulus, kom ons kyk na Esau en Jakob. Hulle het dieselfde pa en ma gehad; trouens, hulle was 'n tweeling. Tog, toe hulle nog in die moederskoot was, het God al 'n keuse uitgeoefen! Net Jakob sou deel hê aan die genadeverbond. In hóm word die plan van God voortgedra.

* Dus, daar was 'n ware, uitverkore Israel binne die volk Israel. Almal was volledig betrokke by die tydelike en uiterlike aspekte van die verbond, maar nét die ware Israel was gunsgenote van die verbond.

# Ander Nuwe Testamentiese Skrifgedeeltes wat op dieselfde waarheid sinspeel, is Rom 2:28-29 en Fil 3:3.

Johannes die Doper

# Johannes was die Messias se wegbereider. Hy het as 't ware met die een voet in die Ou Testament gestaan, en met die ander in die Nuwe. As sulks is sy prediking van die allergrootste openbaringshistoriese belang. Tewens, dit bevat die sleutel om die verhouding tussen die twee Testamente te verstaan. Matt 3:1-12 is gevolglik wonderlik verhelderend.

* V.2-3: Bekeer julle! Waarom? Die Koninkryk van die hemele het naby gekom! 'n Nuwe bedeling is op hande - die regering van die Messias.

* V.5-6: Diegene wat hierdie profesie in die geloof omhels, word deur hom gedoop - met sondebelydenis.

* V.7-9: Die eiegeregtige Fariseërs en ongelowige Sadduseërs wil ook gedoop word. As kwalifikasie hiervoor beroep hulle hul op afstamming van Abraham. Maar dis nie voldoende nie. Daar is maar één kwalifikasie: bekeringsvrug!

* V.10 en 12: Die ou bedeling se einde is op hande. Nie langer gaan die dubbelslagtigheid van die Ou Testamentiese verbondsvolk voortduur nie! Die Koning gaan 'n skeiding bring!

~ Israel was tot nou toe soos 'n vrugteboord met twee soorte bome: die wat goeie vrugte dra en die wat niks dra nie. Maar hieraan gaan die Koning nou 'n einde bring. Sy byl is reeds in Sy hand. Élke boom wat nie vrug dra nie (bekeringsvrug, vanuit die konteks) gaan uitgekap en verbrand word. Van nou af sal daar in die Koning se boord nét bome wees wat vrug dra!

~ Om seker te maak die punt word nie gemis nie, herhaal Johannes dit aan die hand van 'n ander beeld. Israel was tot nou toe soos 'n dorsvloer waarop sowel koring as kaf lê. Aan hierdie vermenging gaan die Koning nou 'n einde bring. Sy skop is reeds in Sy hand. Die koring gaan Hy bewaar en die kaf verbrand. Daar sal géén vermenging meer wees nie - Hy gaan die vloer deur en deur skoonmaak.

* V.11: Presies hóé gaan die Koning die skeiding te weeg bring? Ten einde dit volkome en finaal te maak, gaan hy dubbeld te werk gaan - negatief en positief. Wat meer is, die nuwe bedeling gaan baie heerliker as die oue wees.

~ Die bloot tydelike en uiterlike elemente van die Ou Verbond, asook diegene wie se verbondsonderhouding niks verder as dit gekom het nie, sal deur die vuur [2] van Sy oordeel vernietig word [3].

~ Die ware Israel, diegene wat deur geloof met Hom verenig is, sal deur die Koning oorspoel word met die oorvloedige werk van die Heilige Gees - ten einde die Ou Testamentiese beloftes oor die Nuwe Verbond in hulle te verwerklik (onder meer Deut 30:6; Jer 24:7; 31:31-34; Eseg 11:19-20; 36:22-32; Hos 2:13-22; Joël 2:28-32).

# Die skeiding sou dus dramaties en totaal wees. Diegene vir wie dit in die Ou Testament net om die uiterlike en tydelike gegaan het, sou finaal verwyder word uit God se verbondsopset. En diegene wat inderdaad aan Hom behoort, sou deur veel ryker begenadiging ver bo die belewinge van die Ou Testament se ware Israel uitgelig word.

Hebreërs

# In die Hebreërboek rig die geïnspireerde skrywer hom tot Joodse Christene wat lam in die knieë is. Die eise van dissipelskap het te veel begin raak en hulle oorweeg dit om terug te keer na Ou Testamentiese seremoniële godsdiens.

# Hebreërs se waarskuwings teen so 'n omkeer kom met 'n dringendheid en 'n heilige verontwaardiging wat beswaarlik elders in die Nuwe Testament geëwenaar word. Dit word op elke denkbare manier verduidelik dat die seremonies van die Joodse godsdiens in Jesus Chrisus vervul is. Die geadresseerdes wil dus terugkeer na iets wat nie meer bestaan nie!

* Die ses pastorale waarskuwings in die boek vul enige Christen met die vrese van die Here (2:1-4; 3:7-4:13; 5:11-6:12; 10:26-39; 12:14-17; 12:25-29). So 'n terugdraai, word onmiskenbaar duidelik gesê, kom neer op 'n miskenning van wat God finaal en volmaak in Christus gedoen het. Dit word in skokkende sterk taal gesê. Dis so goed soos om die Seun van God weer te kruisig en te verag; om Hom openlik te bespot; om die bloed van die verbond te minag (Heb 6:6: 10:29). Só 'n ernstige saak is dit, dat diegene wat hulle daaraan skuldig maak, net een uiteinde het - die verskriklike toorn van God.

# Hebreërs se hele argument is gebaseer op die onderskeid tussen Ou en Nuwe Verbond - en besonderlik op die feit dat Ou Testamentiese seremonies in Jesus Christus vervul is.
Die skrywer werk sterk met die Messiaanse belofte van Jer 31 (Heb 8:8-13; 10:15-18) om te toon dat die koms van die Nuwe Verbond 'n einde gebring het aan die uiterlike en skaduagtige elemente van die Ou Verbond (8:13). Diegene wat aan die Nuwe Verbond deel het, het nou die morele Wet in hulle denke en harte (8:10). Hulle is vrygespreek en almal ken die Here [4] (8:11-12).

Gevolgtrekkings

# God het net een genadeverbond, en net een ewige Godsvolk - waaraan mens deel kry deur geloof in Christus, die Verbondshoof en Adam van die nuwe mensheid. Hierin lê die samebindende van God se raadsplan, van Sy verlossingsplan, en van die Woord as Sy besondere openbaring aan die mens.
Daar is dus 'n kontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.

# Tog is daar 'n dramatiese en uiters betekenisvolle onderskeid tussen Ou en Nuwe Verbond - en daarom tussen die dubbelslagtige Ou Testamentiese verbondsvolk en die Nuwe Testamentiese gemeente van toegewyde gelowiges. Hierdie twee verbondsbedelinge word geskei deur die vleeswording en werk van Christus, en die daarmee gepaardgaande uitstorting van die Heilige Gees.
Daar is dus 'n diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.

* Die Ou Verbond het in die teken van verwagting gestaan; die Nuwe staan in die teken van vervulling.

* Mense het deur natuurlike geboorte deel gekry aan die Ou Verbond - maar dit het op sigself nie die ewige saligheid beteken nie. Daarvoor was besnydenis van die hart nodig. Aan die Nuwe Verbond kry mens egter deel, nie deur natuurlike geboorte nie, maar deur die wedergeboorte - en dit waarborg terselfdertyd die ewige saligheid.

* Die Nuwe Verbond is kwalitatief baie ryker as die Oue. Hierdie feit lê aan die hart van die Ou Testamentiese beloftes. Die Heilige Gees, as groot gawe van die eindtyd (die tydperk tussen Christus se eerste en tweede koms), het dit kom realiseer. Die Nuwe Verbond laat dus geen ruimte meer vir die dubbele karakter van die Ou Verbond nie.

# As dit gaan oor die verhouding tussen Ou en Nuwe Verbond, staar twee gevare ons in die gesig - gevare wat teologies verwringend is, en daarom katastrofies vir prediking, pastoraat en praktyk:

* 'n Verwaarlosing van die kontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.
Diegene wat die wonderlike geïntegreerdheid van God se verlossingsplan en Woord miskyk, betaal 'n duur teologiese en pastorale prys daarvoor. Hulle kan geringskatting van die Ou Testament beswaarlik vermy, en mis sodoende groot stukke Godsopenbaring wat noodsaaklik is vir volwasse Christenskap. Ergste van alles is dat uiters belangrike aspekte van God se karakter en wese, wat net in die Ou Testament geopenbaar word, by hulle verbygaan. Uiteindelik masel hierdie dwaling uit in 'n eensydige beklemtoning van God se goedheid - ten koste van die ewe belangrike belewing van Sy strengheid, en die gepaardgaande vrese van die Here (Rom 11:22).

* 'n Verwaarlosing van die diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.
Hierdie is geen ligtelike teologiese mistasting nie. Dit bring 'n subtiele veroutestamentisering van talle Nuwe Testamentiese waarhede mee. Nêrens het dit gevaarliker en meer Godonterende gevolge as in die soteriologie (verlossingsleer) en die ekklesiologie (die leer oor die kerk) nie.

Drie praktiese implikasies

# Waar die verhouding tussen Ou en Nuwe Verbond reg verstaan word, sal die noodsaak van wedergeboorte - en dit wat daarmee saamhang - uiteraard sterk beklemtoon word (Jh 3:3-8). Die volle evangelie sal nie net na buite verkondig word nie, maar ook binne die gemeente. Gelowiges sal hulleself gereeld ondersoek of hulle in die geloof lewe (2Kor 13:5); hulle sal hulle heil uitwerk met vrees en bewing (Fl 2:12-13; 2Pt 1:10-11, OAV). Die prediking sal huigelaars vir hulleself ontbloot. En gemeentekinders sal weet dat hulle nie op hulle ouers se geloof kan staatmaak vir redding nie, maar dat hulle self voor die Here aanspreeklik is.
Waar die verskil tussen Ou en Nuwe verbond egter verwaarloos word, sal dit amper sonder uitsondering gepaard gaan met susprediking - en dikwels met dodelike dwalings soos die wederbarende werking van die doop (baptismal regeneration), en die veronderstelde wedergeboorte van verbondskinders. En talle wat onderweg is na die ewige verdoemenis, sal hulleself wysmaak dat hulle met God versoen is!

# Beide Ou en Nuwe Verbond het 'n verbondsteken wat volg op die deelkry daaraan: die besnydenis en die doop onderskeidelik. Wat die besnydenis vir die Ou Verbond was, is die doop vir die Nuwe. Die doop het dus in die plek van die besnydenis gekom.
As die diskontinuïteit tussen Oue en Nuwe egter verwaarloos word, word hierdie analogie verskraal tot 'n simplistiese gelykstelling - met die kinderdoop tot gevolg.
As die verhouding egter reg verstaan word, lei dit glashelder duidelik tot die Nuwe Testamentiese doop - die doop van gelowiges, oftewel die belydenisdoop. Waar mens Ou Testamenties deel gekry het aan die Genadeverbond (in die ruimer sin) deur geboorte, kry jy immers nou daaraan deel deur die wedergeboorte. Dít is die kwalifikasie wat die analogie tussen doop en besnydenis beheers.

# Die Nuwe Testament praat in die mees verhewe terme oor die sentrale en Godverheerlikende rol van die ware gemeente in die Here se raadsplan (vgl. onder meer Jh 17:20-23; 2Kor 11:2-4; Ef 1:23; 3:9-11, 20-21; 4:1-16; 5:25-27, 32; Op 1-3; 19:7-8). Die uitlewing van hierdie grootse roeping hang egter ten nouste af van die kerk se suiwerheid en getrouheid. Wat bring méér oneer oor die Here se Naam as 'n wêreldgelykvormige instituut wat homself die kerk van Christus noem?
As die diepgaande verskille tussen die Ou en Nuwe Verbond verwaarloos word, bring dit noodwendig 'n veroutestamentisering van die kerk mee. Gou-gou lyk die gemeente dan soos Ou Testamentiese Israel - met 'n groot komponent (dikwels die meerderheid!) ongeredde lidmate. As dit eers die geval is, is ware kerkwees per definisie onmoontlik - want mense sonder die Gees kan nie eers begin om Nuwe Testamentiese standaarde te haal nie.
As die verhouding tussen Ou en Nuwe Verbond egter reg verstaan word, word begryp dat die ware kerk 'n uit-die-wêreld-geroepte gemeente van gelowiges is. Nog meer, dan word begryp hoe kardinaal belangrik ware kerkwees is vir effektiewe evangelisering, vir die opbou van gelowiges, en vir die eer van God.

1. Daar is sprake van 3 groot verbonde in die Bybel. Eerstens is daar die Verlossingsverbond tussen die drie persone van die Goddelike Drie-eenheid - om tot hulle selfverheerliking saam te werk in die verlossing van sondaars (ook soms die Vredesraad genoem). Tweedens is daar die Werkverbond tussen God en Adam, asook daarna tussen God en die Laaste Adam - dat die mens deur gehoorsaamheid sy beloofde erfenis moes verwerf. Derdens is daar die Genadeverbond tussen God en die gevalle mens - dat elke sondaar wat hom bekeer en in algehele afhanklikheid sy geloofsvertroue in die verdienste van Christus alleen stel, deur God regverdig verklaar sal word. Hierdie Genadever-bond het 2 fases of komponente: die Ou Verbond en die Nuwe Verbond.
Die begrippe verbond en testament is in werklikheid alternatiewe vertalings van 'n enkele woord in sowel Hebreeus as Griekse. Mens kan dus, i.p.v. Ou en Nuwe Verbond, om 't ewe praat van Ou en Nuwe Testament.

2. Vanuit die konteks wys vuur duidelik op oordeel (v.10, 12).

3. Die vernietiging van die bloot uiterlike en seremoniële komponent van die Ou Verbond word dramaties gedemonstreer en verseël as God die voorhangsel tydens die kruisiging skeur (Mt 27:51). En histories is dit finaal bekragtig toe Jerusalem en die tempel in 70 nC deur die Romeine vernietig is.

4. Afrikaans vertaal 'klein en groot', en Engels 'gering en belangrik'. Taalkundig is beide moontlik.
Nico van der Walt

Saturday, June 18, 2011

ANTIPAS HEROUT No.18 : DIE EERSTE GEBOD - Die hoeksteen van alle etiek: om die enige en ware God te aanbid en lief te hê

"Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie."(OAV)
"Jy mag naas My geen ander gode hê nie." (NAV)
Eks 20:3 & Dt 5:7

ENIGEEN MET 'N BEHOORLIKE GREEP OP DIE SKRIFOPENBARING SAL WEET DAT DIE TIEN GEBOOIE DEURGAANS EN KONSEKWENT - IN SOWEL OU AS NUWE TESTAMENT - DIE TIEN PILARE IS WAAROP GOD SE MORELE VOORSKRIFTE VIR DIE MENS RUS. Aangesien die Wet ten diepste 'n uitdrukking van God se karakter is, is dit onveranderlik, tydloos en universeel geldig.
En as die Tien Gebooie die basis van alle etiek is, is die Eerste Gebod die hoeksteen van daardie fondament. Dis bepalend vir alle ware godsdiens en godsvrug. Dit bestryk die volle spektrum van 'n mens se lewe. As hierdie gebod jou hartserns is, sal elkeen van die daaropvolgende nege gebooie ook vir jou van die allergrootste belang wees. Omgekeerd, tot die mate wat hierdie gebod 'n mindere rol in jou lewe speel, tot daardie mate sal jy traak-my-nie-agtig wees oor die ander. Waarom? Die Eerste Gebod is 'n bevel om God te aanbid, lief te hê en te behaag. En die volgende gebooie vertel ons hóé om dit te doen.

Twee formele opmerkings

# Letterlik staan daar: "Daar sal nie vir jou ander gode voor My gesig wees nie."

* Hierdie antropomorfisme ('n menslike manier om oor God te praat) kom dikwels in die Ou Testament voor. Dit dui op God se teenwoordigheid (nie bloot Sy alwetenheid nie). En aangesien Hy alomteenwoordig is, geld hierdie gebod oral en altyd - sonder uitsondering.

* Hierdie uitdrukking wil ons dus herinner dat 'n groot deel van die gruwel van sonde daarin lê dat dit altyd in God se teenwoordigheid gepleeg word. As sulks het alle sonde 'n arrogante, uitdagende en beledigende dimensie voor die Here.

# Die Hebreeuse formulering van v.3 beklemtoon die verbod baie sterk. Daar is geen ruimte hoegenaamd vir ongehoorsaamheid nie. God dring kompromieloos aan op enkelhartige en totale alleen-verering.

Negatief : wat die eerste gebod verbied

In 'n enkele woord saamgevat, verbied die Eerste Gebod afgodery!

# As gevra word hoe die Bybel afgodery beskou, ontstaan 'n probleem terstond.

* Die Bybel praat van baie gode.
Daar is die Egiptiese afgode van waar die Israeliete kom, daar is die Baäls van Kanaan waarheen hulle op pad is (Rig 2:11; 3:7; 8:33). En as Salomo eeue later in afgodery verval, dien hy Astarte, godin van die Sidoniërs, Milkom van die Ammoniete, Kemos van die Moabiete en Molek van die Ammoniete (1Kon 11:4-8). Die Eerste Gebod verbied verering van hierdie en alle ander gode.
Beteken dit Bybelse erkenning dat sulke gode wel bestaan? Hoewel God verklaar dat die hele aarde aan Hom behoort (Eks 19:5), sou dit impliseer dat Hy nie in volle beheer is nie, aangesien sekere areas deur hierdie gode geregeer word? Dit kan tog nie!

* Die Bybel ontken die bestaan van ander gode naas God.
Hoewel mense hulle gode noem, is hulle net mensgemaak. Hulle is van hout en klip; hulle kan nie sien, hoor, eet of ruik nie (Dt 4:28). Elia en Jesaja spot met hierdie afgode (1Kon 18:27; Jes 40:18-20; 45:20). Hulle beteken niks nie en is gou-gou iets van die verlede (Jes 2:8, 18, 20).
Beteken dit dus dat die Eerste Gebod teen 'n denkbeeldige gevaar waarsku? Allermins! Die Skrif is vol waarskuwings teen afgodery. Selfs 'n Nuwe Testamentiese brief word afgesluit met 'n vermaning teen afgodery (1Joh 5:21).

* Hoe kry mens die kloutjie by die oor? Waarom waarsku die Skrif teen iets wat nie werklik bestaan nie - teen dinge wat nie regtig gode is nie; net sogenaamde gode (1Kor 8:4-7)?
Die antwoord lê in die feit dat die mens nog altyd ongeneeslik religieus was. As hy dus nie die ware God ken nie, maak hy vir homself gode van dit wat hy kan waarneem - meestal van kragte in die skepping wat groter as hyself is.
Afgodery kom op 'n duisend maniere tot uitdrukking: aanbidding van sintuiglik waarneembare voorwerpe; 'n beheptheid met die erotiese, of plesier; 'n sug na mag en besittings; 'n verering van die natuur, of die mens se rede, of tradisie; 'n verabsolutering van die volk - ensovoorts.

* Die merkwaardige is dat hierdie afgode, hoewel in 'n sin denkbeeldig, 'n verbysterende houvas op mense kan hê. Waarin lê dit? Dit lê in twee waarhede:
Dit lê in iets in die mens self - sy vrees vir sy afgod, of sy verknogtheid daaraan, of sy gewaande afhanklikheid daarvan.
Dit lê in die realiteit van Satan en sy gevalle engele wat hierdie kragte misbruik om God te probeer onteer en mense te vernietig (1Kor 10:21).

* Is daar dus ander gode naas God? Die antwoord is ja en nee. Baäl, Astarte, Kemos en Molek bestaan nie meer nie. Zeus, Neptunus, Osiris en Isis is iets van die verlede. Maar die groot wêreldgodsdienste is so springlewendig soos altyd. En, wat meer is, almal van ons moet aanmekaar stoei met selfvertroue, hebsug, brassery en soortgelyke dinge.
Dis een ding om soos Elia en Jesaja met afgode te spot; dis iets anders om afgodery ligtelik op te neem!

# Die Eerste Gebod verbied ons om - selfs net gedeeltelik - op enige persoon of ding daardie hartslojaliteit, liefdesverering en afhanklikheid te rig wat die ware en lewende God alleen toekom.

* Die Heidelbergse Kategismus stel dit só: "Afgodery is om in die plek van die enige ware God wat Hom in Sy Woord geopenbaar het, of naas Hom, iets anders te versin of te hê waarop die mens sy vertroue stel" (Ef 5:5; 1Kron 16:26; Fl 3:19; Gl 4:8; Ef 2:12; 1Jh 2:23; 2Jh 9).

# Oortredinge teen die Eerste Gebod manifesteer in ons dag op talle wyses.

* Ateïsme.
Dit kan op twee maniere tot uitdrukking kom.
Teoretiese ateïsme - in 'n verskeidenheid filosofiese strominge. Die mees bekende hiervan is Ewolusionisme.
Praktiese ateïsme - wanneer mense leef asof daar geen God is nie.

* Valse godsdienste en sinkretisme (godsdiensvermenging).
Dermiljoene mense het deur die eeue vals gode aanbid, en doen dit vandag nog steeds.
Omdat God alle lojaliteit, toewyding en vertroue opeis, is godsdienstige vermenging vir Hom verwerplik. Dit geld die deurmekaarroer van tradisionele Afrika-godsdienste (met hulle voorvaderaanbidding) - en die Christelike geloof. En dit geld die New-Age Beweging en sy bedmaat, Post-moderne Pluralisme, wat die legitimiteit van alle godsdienste verkondig.

* Okkultiese praktyke.
Dit kom van die vroegste tye af voor en word weer en weer skerp in die Bybel veroordeel (vgl. onder meer Dt 18:9-14).
Okkultiese praktyke kan in drie groot kategorieë verdeel word: spiritisme (pogings om met afgestorwenes kontak te maak); fortuinvertellery of waarsêery (pogings om die toekoms te voorspel); heksery of towery (pogings om allerlei bonatuurlike effekte te bewerkstellig).
Hierdie praktyke is deurgaans oortredinge op die gebied van God se soewereine prerogatiewe en as sulks buite perke vir die mens. Die waarsêer gee voor hy het iets van God se alwetenheid. Die towenaar maak of hy iets van God se almag het.

* Bygelowigheid.
Dit veronderstel en verwag bonatuurlike kragte van natuurlike dinge.

* Wêreldgelykvormigheid.
Dit vind plaas wanneer die ontsag, vertroue, toewyding en lojaliteit wat God alleen toekom, tot 'n mindere of meerdere mate ook op die binne-wêreldse gerig word. Uitdrukkings hiervan kan vermenigvuldig word. Die volgende is tipiese voorbeelde:
Mensverheerliking. Sport-, film-, pop- en politieke helde word op 'n ongeëwenaarde wyse verafgod. En 'n nóg groter gruwel is om toe te laat dat mense jou so vereer (vgl. Hd 12:21-23).
Plesier- en hebsug. Dit neem verskeie tipiese vorme aan: materialisme (Kol 3:5: "Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is." Vgl. ook Job 31:24.); genot en vermaak (2Tm 3:4); sinlikheid en brassery (Fl 3:19: "Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind."). In sy boek, I want to be a Christian, praat J.I. Packer van "Sex, Shekels and the Stomach", van "Pleasure, Possessions and Position", van "Football, the Firm, Freemasonry and the Family" (p. 204).
Selfgesentreerdheid - in enkelinge en groepe. Selfsug (selfbevrediging, selfbevoordeling en selfverheffing) verdring God uit die lojaliteitsmiddelpunt. Selfvertroue is 'n onafhanklike gesindheid wat weier om uit en onder God se hand te leef (Hab 1:11: "Vir hierdie sondige nasie is sy eie mag sy god").
Vroeë Skrifverklaarders het die wêreldgelykvormigheid waarteen Johannes waarsku 'n drie-koppige monster genoem: die begeerlikheid van die vlees; die begeerlikheid van die oë; die grootsheid van die lewe (1Jh 2:16, OAV). Praat Johannes hier dalk van die najaging van sinlike bevrediging, van 'n afgodiese beheptheid met die estetiese, van 'n onversadigbare sug na mag?

* 'Christelik-godsdienstige' afgodery.
Rooms-Katolisisme bid tot Maria. Pous Pius XII het haar 'die koningin van die hemel' verklaar (ten spyte van Jer 7:18). Daarbenewens glo hulle dat die pous mag het om sondes te vergewe.
Sekere leiers in sekere kerkkringe beskou hulleself as onaantasbaar en verhewe bo kritiek. Hulle is "gesalfdes" en as 't ware tussengangers tussen God en Sy gemeente.
Leringe wat Satan as meer as net 'n skepsel voorhou en hom op dieselfde vlak as God stel - as 'n onafhanklike opponent en anti-god. Maar Satan is nie God se skaak-opponent nie; hy is 'n pion op die skaakbord van God se raadsplan.

Positief : wat die eerste gebod gebied

# Omdat God is wie en wat Hy is - naamlik Skepper (en dus soewereine Heerser) en Herskepper (genadige Verlosser vanuit die verskrikking van die ewige dood), dring Hy aan op onverdeelde trou, gehoorsaamheid en verering. Meer nog, omdat Hy die somtotaal van skoonheid en etiese volmaaktheid is, dring Hy aan op onverdeelde liefde - sterker, dieper, hoër en groter as enigiets anders. Niks is meer logies, sinvol en onontkombaar as hierdie aansprake van Hom nie. Daarom duld Hy geen gewaande mededingers nie. En daarom is dit waansin om jou teen die Eerste Gebod te verset.

# Wat is ons dus aan God verskuldig - elke mens aan sy Skepper, maar in die besonder elke Christen aan sy Herskepper? Ons moet Hom aanbid!
Aanbidding is gebed. Maar dis ook veel meer. Dis so wyd soos die lewe self. Niks is uitgesluit nie. Tot die mate wat ek 'n aanbidder is, tot daardie mate sal my gebedslewe deur onderstaande sewe dinge deurtrek wees - en sal my lewe van A tot Z daardeur bepaal word:

* 'n Aanbidder jaag dit na om God te ken - Sy karakter, Sy wil, Sy weë - soos Hy Homself in Woord en werke aan ons openbaar.

* 'n Aanbidder het God lief - deur te dors na Sy gemeenskap, deur vreugde en vergenoegdheid in Hom te vind, deur alles in te span om Hom te behaag en te verheerlik.

* 'n Aanbidder vrees God - deur ontsag te hê vir Sy heilige majesteit en geregtigheid.

* 'n Aanbidder gehoorsaam en dien God - deur sewe dae 'n week volgens Sy geopenbaarde wil te leef.
Dit volg noodwendig uit wat hierbo genoem is: liefde is die dryfveer van gehoorsaamheid; vrees is die weerhouding van ongehoorsaamheid.

* 'n Aanbidder vertrou God - deur dag na dag afhanklik van Hom te leef en alle sekuriteit in Hom te vind.

* 'n Aanbidder dank God - weer en weer vir Sy onfeilbare verbondstrou.

* 'n Aanbidder bely God - deur skaamtelose en openlike solidariteit met Sy persoon, waarheid en doel.

# Ons het reeds na liefde vir God verwys, maar dis nodig om ietwat dieper op hierdie kern van aanbidding in te sak.
Geen aanbidding is vir God aanvaarbaar as liefde vir Hom nie aan die hart daarvan lê nie. En hierop werp Dt 6:4-9 besondere lig. Die Shema (v.4-5) moes daagliks in die volk se godsdiensoefening gelees word: "Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag."

* As die Here Jesus later gevra word na die grootste gebod, antwoord Hy deur die Shema aan te haal - die gebod om die Here met alles in jou lief te hê (Mt 22:34-40). Hier is die Groot Profeet se neutedop-kommentaar op die Eerste Gebod!

* Wat hou liefde vir God alles in?
Sekerlik het ware liefde vir die Here 'n emosionele kant. Daaroor is die Skrif boordevol. Die Psalmboek is waarskynlik die beste voorbeeld.
Daarbenewens is ons liefde 'n respons op dié van God vir ons. En hieroor praat die Bybel ook in roerende terme.
Maar ons durf nie hier stop nie.
Die Shema staan vierkantig in 'n verbondskonteks. Liefde vir God is daarom méér as emosie en gevoel. Dis verbondsliefde - en dus 'n voortdurende keuse vir Hom, deur dik en dun. Dis om te volhard in jou toewyding - of dit nou goed voel of nie. En, daarvan kan ons seker wees, liefde word altyd tot breekpunt toe getoets. Uiteindelik kan mens van emosionele gevoelens nie veel meer sê as net dít nie: dit maak liefde houdbaar; dit maak die keuse makliker.
Dis die rede waarom dit 'n bevel kan wees om lief te hê. En daarom kan ek selfs my vyande liefhê.
Maar die Shema bring nóg 'n dimensie van liefde na vore. Dt 6:6 gaan voort: "Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet ...". Om God lief te hê beteken om Sy gebooie te gehoorsaam. En die Shema veronderstel dat dit oor die volle spektrum van ons lewens moet geskied - in ons huise en op pad, of jy gaan slaap en of jy opstaan (v.7-9).
Hierdie aspek van liefde word oor en oor in die Nuwe Testament beklemtoon (vgl. bv. Jh 14:21, 23-24; 1Jh 5:2-3).
'n Verdere, en uiters belangrike aspek van liefde vir God gaan ongelukkig in die NAV se weergawe van die Shema verlore. Die opdrag is om die Here jou God lief te hê met jou hele hart, jou hele siel en al jou krag (vgl. OAV). Dis presies wat ons by die Eerste Gebod gevind het: ons moet God onverdeeld en enkelhartig liefhê! Dit sluit alle liefdesverdeling uit.
Van Noag word in Gen 6:9 gesê dat hy onberispelik was in sy toewyding aan God. Sommige Engelse Bybels vertaal dit met perfect. In die Hebreeus dui die begrip op heelheid. Noag se hart was onverdeeld op God gerig.
In 1Kon 9:4 getuig die Here van Dawid dat hy Hom met 'n volkome hart gedien het (OAV). Hoewel hy meermale tragies misluk het, was sy hart onverdeeld op die Here gerig. En dis waarom hy 'n man na God se hart was.

# 'n Laaste perspektief is onmisbaar. Sommige sê dis onmoontlik om God lief te hê, aangesien mens Hom nie kan sien nie.

* Ons kán Hom egter sien en verstaan - en met Hom identifiseer. Het die tweede persoon van die Goddelike Drie-eenheid nie mens geword nie? Johannes skryf: "Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekendgemaak" (Jh 1:18). Dis waarom Jesus kon sê: "Wie My sien, sien die Vader" (Jh 14:9; vgl. Kol 1:15; Hb 1:3).
Vervulling van die Eerste Gebod is gevolglik om Jesus Christus met jou hele hart lief te hê! Sy radikale oproepe tot dissipelskap - tot toewyding aan Hom - is dus niks anders as oproepe om die Eerste Gebod te gehoorsaam nie.

* Wie Christus liefhet, het noodwendig Sy evangelie lief. Hý is immers die inhoud daarvan. Gehoorsaamheid aan die Eerste Gebod het alles te doen met 'n hartstog vir die Godgesentreerde en Christusgefokusde waarheidsevangelie - vir 'n steeds diepere begrip daarvan, vir 'n wêreldwye uitdra daarvan!

* Ten slotte: sommige sal die beswaar hê dat ons Christus nie meer kan sien nie, aangesien Hy in die hemel is. Hierop gee 1Jh 4:12 'n antwoord: in ons onderlinge liefde word Christus sigbaar! Die onontkombare implikasie hiervan is dit: ek het Jesus Christus niks meer lief as wat ek sy liggaam liefhet het nie. Gehoorsaamheid aan die Eerste Gebod hou dus ook in dat ek my broers en susters in liefde dien. Toewyding aan die Here en toewyding aan Sy gemeente is onlosmaaklik verbonde!
Presies dit sê Johannes uitdruklik: "As iemand sê: 'Ek het God lief,' en hy haat sy broer, is hy 'n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê." (1Jh 4:20-21).
Nico van der Walt

Thursday, June 16, 2011

ANTIPAS HEROUT No.45 : DIE UITVERKIESING - Deel 1 van 3 - 'n Paar Skrifperspektiewe

SOMS, AS 'N TELEVISIEPROGRAM OF FLIEK BEGIN, WORD KYKERS GEWAARSKU dat dit wat vertoon gaan word tot aanstoot sal wees vir sommige. Net so moet 'n mens diegene wat met erns en eerlikheid na die Bybelse openbaring oor die uitverkiesing wil kyk, daarop bedag maak dat hulle wil inbeweeg in 'n veld waar mensgesentreerde bleeksiele en sentimentele wintermuskiete dit nie maak nie.
Male sonder tal hoor mens die beswaar dat die uitverkiesingsleer te moeilik is om te verstaan. Dis nie waar nie. Mense sukkel daarmee, omdat hulle sekere basiese Skrifwaarhede nie onder die knie het nie. Óf hulle verstaan hierdie waarhede nie, óf hulle wíl dit nie verstaan nie. Want om dit te verteer, verg absolute onderwerping aan die Woord van God en aan die God van die Woord. Maar as jy eenmaal jou kop ingelig het, jou nek gebuig het, jou hart oopgestel het, en jou hartstogte gerig het op die eer van God, hou hierdie geopenbaarde geheimenis op om moeilik te wees - trouens, dan word dit een van die kosbaarste waarhede in die ganse Woord.
Dis nie 'n waarheid waarmee jy leedvermakerig loop en spog nie, allermins, allermins! Maar dis 'n waarheid wat jou weer en weer in geborgde verwondering op jou gesig voor die allerhoogste God van hemel en aarde laat lê.

Ons aanslag

# Die tema wat ons aanpak, is omvangryk. Daarom is hierdie nie die enigste Herout wat aan hierdie tema gewy sal word nie.

# In hiérdie studie gaan ons eers kortliks enkele Skrifbeginsels aansny. Dan gaan ons meer in diepte na twee Skrifgedeeltes kyk (daar is uiteraard baie ander waarna ons ook sou kon kyk). En uiteindelik sal ons volstaan met 'n aantal konkluderende stellings.

Bybelse grondwaarhede waarsonder die uitverkiesing nie verstaan kan word nie.

# God se Woord alleen moet jou norm wees.
Sola Scriptura (die Skrif alleen) moet kompromieloos veranker wees in jou gemoed. Geen vooropgestelde idees, vleeslike logika, emosionele blokkasies, sentimentele vooroordele en allerlei mensgemaakte slimmighede mag jou beoordeling stuur nie.

# Jy moet dit vierkantig in die oë kyk dat die Skrif weer en weer van God se uitverkiesende genade praat.
Sonder twyfel het ons nie hier te doen met iets wat mense uit die duim suig nie. Ongeag hoe jy dit verstaan, moet jy toegee dat dit iets is waarvan God se Woord baie maak. Verskillende begrippe word weliswaar gebruik, maar die saak kom gereeld aan die orde. Neem byvoorbeeld (om maar by die Nuwe Testament te bly): Jh 6:35-40; Jh 10:27-30; Jh 17:2, 6, 9, 24; Hd 13:48; Rm 8:28-30; 9:6-29; Ef 1:3-6; 1:11-14; 1Ts 5:9; 2Ts 2:13-14; 2Tm 1:8-9; 1Pt 1:2; Op 13:8; 17:8.

# Solank jy God geringer ag, en die mens meer verhewe, as wat die Skrif doen, sal jy probleme hê met die uitverkiesing.
Selfs in talle kerkmense se agterkoppe sit die idee dat God eintlik daar is ter wille van die mens; dat óns belange die primêre is waarmee Hy Homself besig hou.
'n Duisend maal, nee! Presies die teenoorgestelde is waar. Ons is daar ter wille van Hom!

* Eerstens moet jy onthou dat die drie-enige God oneindig groter en heerliker is as die mens. Hy leef in dimensies waarvan ons nie die vaagste benul het nie.
In die besonder moet mens vrede maak met God se onbetwisbare en algehele soewereiniteit. Hy is die Pottebakker en ons die klei (Rm 9:21 en konteks) - wat beteken dat Hy algehele vrymag het wat ons lewens en ewige bestemming betref.
Nee, God doen alles ter wille van Sy eie verheerliking (Ef 1:6, 12, 14 en konteks; OAV).

* Tweedens moet jy onthou dat die Bybel - in geen onduidelike taal nie - leer dat die natuurlike mens radikaal verdorwe is. Vir ons doel het dit minstens twee implikasies.
Eerstens is die gevalle mens dood in sy sonde (Ef 2:1). Geloof in Christus vereis gevolglik 'n voorafgaande genadewerk van die Heilige Gees (Jh 1:12-13; 3:3-8).
Tweedens verdien geen mens enige genade van God nie; inteendeel. Hieroor draai Rm 1:18-3:20 geen doekies om nie.

# Jy moet rekening hou met die mens se verantwoordelikheid.
Die Bybel plaas 'n onmiskenbare aksent op die mens se verantwoordelikheid om die evangelie te glo, hom te bekeer, gehoorsaam aan God te leef, en enduit te volhard.
Party mense omhels God se soewereiniteit op so 'n simplistiese en eensydige wyse dat hulle noodwendig verval in 'n Godonterende en sielsvernietigende fatalisme - ook genoem hipercalvinisme [1].
Terwyl God vrymagtig soewerein is in ons redding en lewens, maak Hy nooit van ons outomate of robots nie. Ons bly bewustelik betrokke en aanspreeklik. Hoe hierdie twee kante van ons verhouding met God logies saamhang, sal ons nooit dié kant van die graf in diepte verstaan nie - maar beide waarhede word deur die Skrif beklemtoon.
'n Beeld wat ek dikwels gebruik om te illustreer hoe God en mens beide eenhonderd persent betrokke is in die reddingsproses - dus nie vyftig-vyftig nie - is die van 'n windpomp [2]. Ondergrondse water word opgepomp tot in 'n sementdam. Daarvoor is die windpomp - soos ek - eenhonderd persent verantwoordelik. Elke milliliter vloei deur sy silinder en pype. Maar sonder die wind kan dit ook nie. Trouens, die wind - soos die Heilige Gees - verskaf eenhonderd persent van die energie vir die styging van elke druppel water [3].

# Onthou dat God in Sy handele - veral ook in Sy reddende werk - baie dikwels middellik werk.
God gebruik instrumente. Romeine sê: "En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?" (10:14). In diegene wie se oomblik van redding gekom het, werk die Here se herskeppende krag deur die evangelie wat op een of ander manier aan hulle verkondig is of word (Jh 17:17, 20; Rm 10:17; 1Kor 1:21; 2Ts 2:14; Jk 1:18; 1Pt 1:23).

# Hou steeds in gedagte dat die Skrif die feit van die uitverkiesing deurgaans aanbied as goeie nuus en innige vertroosting vir God se kinders.
Die Bybel slinger hierdie waarheid nooit verwytend teen die koppe van ongelowiges nie. Ewemin wil dit ons kniehalter in ons verkondiging van die evangelie. Nee, God se Woord fluister die feit van Sy ewige en uitverkiesende liefde in die ore van húlle wat reeds deur 'n ware geloof met Sy Seun verenig is.

Handelinge 13:48

Dis tydens die eerste sendingreis. Paulus preek in Antiogië in Pisidië (Hd 13:14vv).

# Inleiding: Ou Testamentiese voorbereiding (Hd 13:16-25).
Paulus beklemtoon God se genade-inisiatiewe deur die eeue. Hý is die onderwerp van feitlik al die werkwoorde. Dis Hý wat die Joodse voorvaders uitgekies het (17). Dis Hý wat hulle in die woestyn verdra het (18) en die Beloofde Land vir hulle gegee het (19). Dis Hý wat vir hulle rigters en koning Saul gegee het - en uiteindelik Dawid (20-22).
Dan spring Paulus na Christus toe (23).

# Preekfokus: Jesus se dood en opstanding (Hd 13:26-37).
Nou vertel Paulus die verhaal van die Here Jesus. Die Jode en heidene het Hom tereggestel, soos reeds vantevore oor Hom geskryf is. Maar Hy het as vervulling van die beloftes opgestaan. Só konsentreer die apostel op die twee fokuspunte van Christus se verlossingswerk: kruis en opstanding.

# Konklusie: die keuse tussen lewe en dood (Hd 13:38-41).
As hy dan getoon het hoe die Ou Testamentiese profesieë in Christus se kruisiging en opstanding vervul is, maak Paulus 'n appél op sy hoorders. Die keuse wat hy voor die Jode stel, is vlymskerp. Aan die een kant is daar die belofte van sondevergiffenis en regverdiging (38-39). Aan die ander kant is daar die verskrikking van God se oordele soos reeds deur die profete beskryf (40-41).

# Reaksie (Hd 13:42-52).
Die meeste mense reageer verstommend goed op die prediking - prediking wat sowel God se soewereiniteit as die mens se verantwoordelikheid beklemtoon. Dit vervul die Joodse leiers met afguns. Paulus-hulle draai nie doekies om nie: die Woord móét eers aan die Jode verkondig word. Maar aangesien hulle dit verwerp, sal die apostels van nou af na die heidene gaan met die evangelie (46). Christus het immers gekom as 'n lig vir die nasies (47).
As die heidene dit hoor, is hulle verheug. En van hulle word dan gelowig - die wat vir die ewige lewe bestem was, almal wat as sodanig verordineer was (48, OAV en NAV).

# Die werkwoord (NAV: bestem; OAV: "verordineer"), is baie betekenisvol.
Die woord beteken om iets te orden, te rangskik, in posisie te plaas, aan te wys. 'n Paar voorbeelde sal dit duidelik maak:
Mt 28:16: die dissipels moet vir Christus se hemelvaart na die berg toe gaan "waar Jesus hulle bestel het" (OAV).
Lk 7:8: die hoofman van Kapernaum is self 'n man wat onder gesag gestel is.
Hd 22:10: Paulus moet Damaskus toe te gaan waar vir hom gesê sal word wat God vir hom bepaal het.
Duidelik praat die begrip dus van iets wat vooraf gesagvol en soewerein besluit, vasgelê en vasgemaak is.
In buite-Bybelse Grieks is daar gevalle waar die woord gebruik word vir die optekening van 'n gewigtige besluit in 'n amptelike boek. Bes moontlik sinspeel Lukas dus op die optekening van sekere mense se name in die boek van die lewe, waarvan ons meermale in die Bybel lees (Eks 32:32-33; Ps 69:29; Jes 4:3; Dn 12:1; Lk 10:20; Fl 4:3; Op 13:8; 20:12-15; 21:27). Die gerespekteerde teoloog, F.F. Bruce, stel dit só: "many of them believed the gospel - all, in fact, who had been enrolled for eternal life in the records of heaven ..." [4]

# Die werkwoord is in 'n baie betekenisvolle vorm gegiet.
Die perfektum passief partisipium suggereer minstens twee dinge:

* Die passief sê dat hierdie verordinering nie iets is wat die betrokke mense aan of vir hulleself gedoen het nie. Nee, hulle was passief in die hele proses - uiteraard, want dit gebeur volgens ander Skrifuitsprake voor hulle skepping. Die handeling is dus aan of vir hulle gedoen.

* Die perfektum verwys na 'n handeling in die verlede waarvan die gevolge steeds geld. Die mense is destyds in God se boeke opgeteken vir hierdie besondere voorreg, en steeds staan dit vas.

# Die mense is vir 'n wonderlike voorreg bestem: die "ewige lewe".
Dit gaan dus om redding in Christus en alles wat daarmee saamhang.

# "Almal" wat vir die ewige lewe bestem is, het tot geloof gekom.
Duidelik word nie bedoel dat geeneen van die ander later tot bekering sal kan kom nie. Lukas wil sê dat nie een van die wat tot geloof gekom het, iets anders as uitverkies was nie. Daar is 'n onlosmaaklike verband tussen uitverkiesing en geloof. Nét uitverkorenes kom tot ware geloof.

Romeine 9:6-29

# In Rm 8, veral vanaf v.28, gee die apostel Paulus die versekering dat die volharding en uiteindelike redding van God se uitverkorenes gewaarborg is, omdat dit in God se ewige raadsplan gewortel is. Die vraag kom nou asof vanself - en dis die problematiek wat Paulus in Rm 9-11 aanspreek: Wat dan van die Jode? Was hulle nie God se uitverkore verbondsvolk nie? Kyk net na die voorregte wat hulle onder die Ou Verbond geniet het. Tog het hulle Christus verwerp en is hulle gevolglik onder God se toorn (v.4-5).

# In Rm 9:1-29 toon die apostel dat die verwerping van die Jode nie 'n mislukking van God se verbondstrou is nie. Die beloftes aan Abraham met betrekking tot sy nageslag het nie vir alle biologiese kinders sonder meer gegeld nie; dit het net betrekking gehad op diegene wat uitverkies is in God se genade. Die Here was besig om hierdie uitverkore Jode saam met die uitverkore heidene tot die lewe te roep - net soos Hy belowe en die profete voorspel het.

# Kom ons kyk nader na Paulus se argument.
Die mislukking van die Jode beteken nie dat God se verlossingsplan verydel is nie. Hoe so? Nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie! (v.6). Daar is dus 'n ware en ewige Israel binne die uiterlike en tydelike Israel (nasionale Israel). En die beloftes waarvan Rom 8 praat, is net van toepassing op hierdie ware Israel - op die uitverkorenes binne die Joodse volk.
In 9:7-13 word hierdie stelling in v.6 dan verduidelik. Paulus gebruik twee voorbeelde: in v.7-9 die van Ismael en Isak, Abraham se kinders; en in v.10-13 die van Esau en Jakob, Isak en Rebekka se kinders.

* V.7-9: Die Jode het op 'n simplistiese wyse aanvaar hulle nageslag word voor die voet gered. Maar, sê Paulus, daar is so iets soos 'n nageslag én 'n nageslag; kinders én kinders. En daar is die wêreld se verskil tussen die twee. Daar is 'n nageslag in die natuurlike sin; maar dan is daar 'n nageslag deur wie God se verbond voortgedra word. Daar is die kinders van die vlees; en daar is die kinders van die belofte - God se uitverkorenes. So was Isak dan God se uitverkorene, nie Ismael nie.

* V.10-13: Paulus antisipeer 'n beswaar. Ja, maar Ismael en Isak het twee verskillende ma's gehad. En in Ismael se geval het Abraham in ongeloof opgetree.
Goed, sê Paulus, kom ons kyk na Esau en Jakob. Hulle het immers dieselfde pa en ma gehad; trouens, hulle was 'n tweeling. Tog, toe hulle nog in die moederskoot was, het God reeds 'n keuse uitgeoefen! Jakob sou Syne wees, nie Esau nie.

* V.11-12 is glashelder: Op geen wyse is hier sprake van enige vooruitgesiene verdienste as grond vir verkiesing nie. Dit berus volledig by God en by Hom alleen. V.15-16 sê dieselfde ding nog meer eksplisiet: God is barmhartig oor wie Hy wil en as sodanig hang dit nie van die mens se wil of inspanning af nie.

# In 9:14, 19 opper Paulus twee vrae wat al in miljoene harte gespook het. Trouens, as iemand nog nie daarmee gestoei het nie, het hy waarskynlik nog nooit behoorlike oorweging aan God se openbaring oor Sy soewereine genade geskenk nie. En die prediker van God se soewereine uitverkiesing wie se luisteraars nie soms in verontwaardiging beswaar maak nie, preek waarskynlik nie so Bybels soos hy moet nie.

* V.14: Is God nie onregverdig nie? Paulus se reaksie op so 'n suggestie is vurig en verontwaardig. Beslis nie!
Hy is God en sal barmhartig wees oor wie Hy barmhartig wil wees. Dít het Hy al vir Moses gesê (Eks 33:19). Dit hang dus nie af van die mens se pogings en inisiatiewe nie, maar van God se genadige ingrype (15-16, 18).
Trouens, gaan Paulus verder, God gebruik ook soms Sy soewereine prerogatief om sondaars nog meer te verhard as wat hulle reeds is - soos in die geval van Farao (17-18).

* V.19: Waarom verwyt God sondaars dan? Hoe kan Hy hulle hoegenaamd aanspreeklik hou? Wie kan enigsins teen Sy wil ingaan? Mens is eenvoudig uitgelewer aan Hom.
Paulus gee 'n tweeledige antwoord in v.20-23.
Een, dit is totaal onvanpas en lasterlik dat 'n skepsel sy Skepper bevraagteken. Dis omdat mense in hulle arrogansie dink dat God onder verpligting staan om genade aan hulle te betoon. Maar die teendeel is waar. Hy is aan niemand enigiets verskuldig nie. Álmal is sondaars en het álle aanspraak op God se guns totaal verbeur. Gevolglik is dit Sy prerogatief om een persoon te spaar en net die volgende een nie. Hy, as die soewereine Skepper en dus Eienaar, het dieselfde reg as 'n pottebakker om uit een bol klei verskillende voorwerpe te maak - die een goed en die ander sleg, die een mooi en die ander lelik, die een nuttig en die ander onbruikbaar. Nee, God is nie skuldig aan onreg as Hy één sondaar uit vrye genade red, terwyl Hy 'n ánder gewoon in sy sonde los om te kry wat hy nog altyd verdien het nie.
Twee, as God sommige van Sy sondige skepsele straf en ander vergewe, doen Hy niks onredeliks nie. Waarom nie? In beide gevalle dien dit 'n verhewe doel - om God se heerlikheid te demonstreer. Die straf van sondaars toon Sy heilige en regverdige toorn teen sonde, soveel te meer as dit geskied nadat Hy hulle hóé lank geduldig verdra het (sien ook v.17). En, natuurlik, niks vertoon die rykdomme van Sy heerlikheid en barmhartigheid méér uitnemend as die genadige redding van Sy uitverkorenes nie.

# Sommige voer aan dat hierdie hoofstuk niks wil sê oor die verkiesing van individue nie, maar handel oor die lotgevalle van nasies in God se raadsplan - die Israeliete (afstammelinge van Jakob) en die Edomiete (afstammelinge van Esau).
In 'n sin is dit natuurlik waar. Maar bestaan volkere nie uit individue nie? Was Jakob en Esau nie enkelinge nie? Trouens, Paulus spreek júis die probleem hier aan dat Israel nie gesamentlik as volk uitverkies is nie. Want sommige glo en ander nie - individue.

'n Aantal opsommende stellings

# Dit is God self wat gekies het (Mk 13:20; 1Ts 1:4; 2Ts 2:13).
Sy uitverkiesende barmhartigheid lê volledig in Sy eie soewereine wil. Hoewel my wil en besluitneming volledig betrokke was toe ek 'n Christen geword het, het ek geensins inisiatief daarin geneem nie (Eks 33:19; Dt 7:6-7; Mt 20:15; Rm 9:10-24; 11:4-6; 11:33-36; Ef 1:5).

# Hierdie keuse is gemaak voordat die aarde geskep is (Ef 1:4; 2Tm 1:9; Op 13:8; 17:8).

# God het bepaalde individue tot die ewige saligheid verkies (soos gesien in onder meer die gedeeltes waarna ons gekyk het.)

# God se keuse was totaal onafhanklik van en voorafgaande aan enige moontlike geloof, verdienste of goeie werke in diegene wat verkies is (Hd 13:48; 18:27; Rm 9:11-13; 9:16; 10:20; 1Kor 1:27-29; Fl 1:29; 2:12-13; 1Ts 1:4-5; 2Ts 2:13-14; 2Tm 1:9; Jk 2:5).
Sy keuse was dus nie gebaseer op enige vooruitgesiene geloof in diegene wat verkies is nie. Nee, Hy het Sy hart op sekere sondaars gesit en hulle vir Homself uitgekies.

* Baie mense het die idee, op grond van Bybelse uitsprake dat God Sy uitverkorenes vooraf geken het [5], dat Hy by wyse van spreke in die gange van die tyd afgekyk het en gesien het wie gaan glo. Diesulkes sou Hy dan uitverkies en hulle name gevolglik in die boek van die lewe opgeskryf het.
Besin vir 'n oomblik oor hierdie argument waarmee mense poog om die verlossingsinisiatief uit God se hand te wring. As so 'n persoon gebore word, is sy naam mos reeds in die boek van die lewe, nie waar nie. Hy gáán immers glo. God het dit dan gesien. Maar onmiddellik ontstaan die vraag: het só 'n uitverkorene dan nog die vrye keuse waaroor die aanhangers van hierdie teorie so sterk voel - sy naam is dan klaar opgeskryf?
Nee, hierdie is 'n naïewe wolhaarstorie.

# Geloof, goeie werke en 'n heilige lewe - waarby ek eenhonderd persent betrokke is - is die uitvloeisel en bewys van uitverkiesing (Ef 1:4, 2:10; 2Pt 1:10-11).
Niemand kan uitverkiesing aanvoer as verskoning om geloof, bekering en gehoorsaamheid te verwaarloos nie.

# Uitverkiesing is 'n verkiesing tot redding en nooit die oorsaak dat iemand verlore gaan nie.
Sonder uitverkiesing sou niemand gered geword het nie.

* God kon besluit het om alle mense te red. Hy het die krag en gesag om dit te doen. Of Hy kon besluit het om niemand te red nie, want Hy is onder geen verpligting om enigeen te red nie. Tog het Hy nie op een van hierdie twee opsies besluit nie. Hy red sommige en los ander in hulle sonde.
Onregverdig? Dink só daaraan: Kan jy God verwyt omdat Hy geen demoon red nie? Nee! Net so was Hy onder geen verpligting om enige mens te red nie. En as Hy, die soewereine Skepper en Eienaar, dan wél sommige uit genade red, en die ander laat kry wat hulle verdien?
Uitverkiesing verontreg dus niemand nie. Dit werp geen skadukol op God se geregtigheid nie - maar belig sy liefdevolle genade meer as enigiets anders!

* Die gelykenis van die groot maaltyd in Lk 14:15-24 is insiggewend. 'n Groot fees is gereedgemaak en mense is genooi. "Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak" (v.18). Dan word die slaaf na die paaie en lanings uitgestuur om die armes, kreupeles, blindes en verlamdes te dwing (OAV) om in te kom.
Sonder Christus was daar nie 'n fees nie; sonder die Heilige Gees was daar nie gaste nie!

* Uitverkiesing gaan nie oor vooruitgesiene geloof nie; dit gaan oor vooruitgesiene ongeloof. As die Here niks gedoen het nie, was ons almal hopeloos verlore - soos die demone.
Dit verg nie 'n spesiale besluit van God voordat iemand verlore gaan nie. Daar is nie 'n spesiale uitverkiesing tot die ewige verdoemenis nie. Waarom nie? Omdat alle mense in elk geval van nature verlore is. Só is hulle gebore. Mense word nie neutraal gebore nie, maar verdorwe - en in Adam. God sorteer nie die mensheid arbitrêr uit nie - een dié kant toe, een dáárdie kant toe nie. Nee, nee, nee!

# Uitverkiesing staan nooit in die pad van iemand wat opreg begeer om gered te word nie.
So 'n begeerte is immers die gevolg van die Gees se oortuigingswerk - en só werk Hy net in die uitverkorenes.

# Laat ons nederig en kinderlik-gelowig voor God se selfopenbaring buig.
Al verstaan ons nie goed hoe God se soewereine reddingsinisiatiewe en die mens se verantwoordelikheid saamhang nie, moet ons aanvaar dat beide ewe waar is. Vol is die Bybel oor die een; vol is die Bybel oor die ander.
Kom, laat God God wees in ons denke en oortuigings. En laat ons nederig voor Hom wees in ons algehele afhanklikheid.

Ten slotte: 'n sprokie

Eendag, lank, lank gelede, ry 'n prins se goue koets die mees afgeleë en agterlike gehuggie van sy pa se koninkryk binne. Hy hou stil en klim uit. 'n Swetterjoel vuil kinders in vodde loer om krot-hoeke. Dan stap hy reguit na een van die meisiekinders toe - vuilste en lelikste van die klomp - vat haar sagkens aan die hand en fluister in haar oor: "Ek het jou as my bruid gekies!"
Het die prins immoreel opgetree? En wat het die meisiekind beslis nié gesê nie? "Dis onregverdig! Wat van Truia en Sophie en Nonnie?"


[1] Ware Calvinisme verwaarloos nie menslike verantwoordelikheid nie; inteendeel. Baie onkundige mense, in hulle weerstand teen Bybelse uitverkiesing, baklei teen 'n karikatuur van Calvinisme, oftewel die strooipop van hiper-Calvinisme.
Hoewel hierdie Herout nie enige "isme" wil verdedig nie, het ek min twyfel dat Calvyn (en natuurlik tallose mense voor en na hom) hartlik eens sou wees met die inhoud hiervan.
AH 31 is gewy aan die verantwoordelikheid van die mens.

[2] Onthou dat geen illustrasie 'n volledige verduideliking gee nie. Moet dus nie te veel hierin lees nie.

[3] Die woord wat ons in sowel die Ou Testament as die Nuwe Testament met "Gees" vertaal (Hb: ruach en Gr: pneuma), beteken oorspronklik wind of asem.

[4] F.F. Bruce, Commentary on the Book of the Acts, New London Commentaries, Marshall, Morgan & Scott, 1977, p.283.

[5] "Om te ken" dui in die Bybel ten diepste op liefhê, eerder as op verstandelike kennis. [Gn 4:1: "die mens het sy vrou, Eva, bekén"]. Ander gedeeltes waarin dit duidelik blyk, is o.m. Eks 2:25; Amos 3:2; Jer 1:5; Mt 7:22-23 (Jesus sê nie Hy het nie van hulle geweet nie; Hy het juis te veel van hulle geweet!); 1Kor 8:3; 2Tm 2:19. Vgl. Jh 17:3.
Die bepaalde begrip, "vooraf ken", word op vyf plekke in die Nuwe Testament met God as subjek gebruik: Hd 2:23 en 1Pt 1:20 (Christus as objek); Rm 11:2 (Jode as objek); Rm 8:29; 1Pt 1:2 (uitverkorenes as objek). Duidelik beteken dit meer as om bloot vooraf van iets of iemand kennis te dra; dit dui op vooraf liefhê - op verkiesing.
Nico van der Walt