Saturday, June 18, 2011

ANTIPAS HEROUT No.18 : DIE EERSTE GEBOD - Die hoeksteen van alle etiek: om die enige en ware God te aanbid en lief te hê

"Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie."(OAV)
"Jy mag naas My geen ander gode hê nie." (NAV)
Eks 20:3 & Dt 5:7

ENIGEEN MET 'N BEHOORLIKE GREEP OP DIE SKRIFOPENBARING SAL WEET DAT DIE TIEN GEBOOIE DEURGAANS EN KONSEKWENT - IN SOWEL OU AS NUWE TESTAMENT - DIE TIEN PILARE IS WAAROP GOD SE MORELE VOORSKRIFTE VIR DIE MENS RUS. Aangesien die Wet ten diepste 'n uitdrukking van God se karakter is, is dit onveranderlik, tydloos en universeel geldig.
En as die Tien Gebooie die basis van alle etiek is, is die Eerste Gebod die hoeksteen van daardie fondament. Dis bepalend vir alle ware godsdiens en godsvrug. Dit bestryk die volle spektrum van 'n mens se lewe. As hierdie gebod jou hartserns is, sal elkeen van die daaropvolgende nege gebooie ook vir jou van die allergrootste belang wees. Omgekeerd, tot die mate wat hierdie gebod 'n mindere rol in jou lewe speel, tot daardie mate sal jy traak-my-nie-agtig wees oor die ander. Waarom? Die Eerste Gebod is 'n bevel om God te aanbid, lief te hê en te behaag. En die volgende gebooie vertel ons hóé om dit te doen.

Twee formele opmerkings

# Letterlik staan daar: "Daar sal nie vir jou ander gode voor My gesig wees nie."

* Hierdie antropomorfisme ('n menslike manier om oor God te praat) kom dikwels in die Ou Testament voor. Dit dui op God se teenwoordigheid (nie bloot Sy alwetenheid nie). En aangesien Hy alomteenwoordig is, geld hierdie gebod oral en altyd - sonder uitsondering.

* Hierdie uitdrukking wil ons dus herinner dat 'n groot deel van die gruwel van sonde daarin lê dat dit altyd in God se teenwoordigheid gepleeg word. As sulks het alle sonde 'n arrogante, uitdagende en beledigende dimensie voor die Here.

# Die Hebreeuse formulering van v.3 beklemtoon die verbod baie sterk. Daar is geen ruimte hoegenaamd vir ongehoorsaamheid nie. God dring kompromieloos aan op enkelhartige en totale alleen-verering.

Negatief : wat die eerste gebod verbied

In 'n enkele woord saamgevat, verbied die Eerste Gebod afgodery!

# As gevra word hoe die Bybel afgodery beskou, ontstaan 'n probleem terstond.

* Die Bybel praat van baie gode.
Daar is die Egiptiese afgode van waar die Israeliete kom, daar is die Baäls van Kanaan waarheen hulle op pad is (Rig 2:11; 3:7; 8:33). En as Salomo eeue later in afgodery verval, dien hy Astarte, godin van die Sidoniërs, Milkom van die Ammoniete, Kemos van die Moabiete en Molek van die Ammoniete (1Kon 11:4-8). Die Eerste Gebod verbied verering van hierdie en alle ander gode.
Beteken dit Bybelse erkenning dat sulke gode wel bestaan? Hoewel God verklaar dat die hele aarde aan Hom behoort (Eks 19:5), sou dit impliseer dat Hy nie in volle beheer is nie, aangesien sekere areas deur hierdie gode geregeer word? Dit kan tog nie!

* Die Bybel ontken die bestaan van ander gode naas God.
Hoewel mense hulle gode noem, is hulle net mensgemaak. Hulle is van hout en klip; hulle kan nie sien, hoor, eet of ruik nie (Dt 4:28). Elia en Jesaja spot met hierdie afgode (1Kon 18:27; Jes 40:18-20; 45:20). Hulle beteken niks nie en is gou-gou iets van die verlede (Jes 2:8, 18, 20).
Beteken dit dus dat die Eerste Gebod teen 'n denkbeeldige gevaar waarsku? Allermins! Die Skrif is vol waarskuwings teen afgodery. Selfs 'n Nuwe Testamentiese brief word afgesluit met 'n vermaning teen afgodery (1Joh 5:21).

* Hoe kry mens die kloutjie by die oor? Waarom waarsku die Skrif teen iets wat nie werklik bestaan nie - teen dinge wat nie regtig gode is nie; net sogenaamde gode (1Kor 8:4-7)?
Die antwoord lê in die feit dat die mens nog altyd ongeneeslik religieus was. As hy dus nie die ware God ken nie, maak hy vir homself gode van dit wat hy kan waarneem - meestal van kragte in die skepping wat groter as hyself is.
Afgodery kom op 'n duisend maniere tot uitdrukking: aanbidding van sintuiglik waarneembare voorwerpe; 'n beheptheid met die erotiese, of plesier; 'n sug na mag en besittings; 'n verering van die natuur, of die mens se rede, of tradisie; 'n verabsolutering van die volk - ensovoorts.

* Die merkwaardige is dat hierdie afgode, hoewel in 'n sin denkbeeldig, 'n verbysterende houvas op mense kan hê. Waarin lê dit? Dit lê in twee waarhede:
Dit lê in iets in die mens self - sy vrees vir sy afgod, of sy verknogtheid daaraan, of sy gewaande afhanklikheid daarvan.
Dit lê in die realiteit van Satan en sy gevalle engele wat hierdie kragte misbruik om God te probeer onteer en mense te vernietig (1Kor 10:21).

* Is daar dus ander gode naas God? Die antwoord is ja en nee. Baäl, Astarte, Kemos en Molek bestaan nie meer nie. Zeus, Neptunus, Osiris en Isis is iets van die verlede. Maar die groot wêreldgodsdienste is so springlewendig soos altyd. En, wat meer is, almal van ons moet aanmekaar stoei met selfvertroue, hebsug, brassery en soortgelyke dinge.
Dis een ding om soos Elia en Jesaja met afgode te spot; dis iets anders om afgodery ligtelik op te neem!

# Die Eerste Gebod verbied ons om - selfs net gedeeltelik - op enige persoon of ding daardie hartslojaliteit, liefdesverering en afhanklikheid te rig wat die ware en lewende God alleen toekom.

* Die Heidelbergse Kategismus stel dit só: "Afgodery is om in die plek van die enige ware God wat Hom in Sy Woord geopenbaar het, of naas Hom, iets anders te versin of te hê waarop die mens sy vertroue stel" (Ef 5:5; 1Kron 16:26; Fl 3:19; Gl 4:8; Ef 2:12; 1Jh 2:23; 2Jh 9).

# Oortredinge teen die Eerste Gebod manifesteer in ons dag op talle wyses.

* Ateïsme.
Dit kan op twee maniere tot uitdrukking kom.
Teoretiese ateïsme - in 'n verskeidenheid filosofiese strominge. Die mees bekende hiervan is Ewolusionisme.
Praktiese ateïsme - wanneer mense leef asof daar geen God is nie.

* Valse godsdienste en sinkretisme (godsdiensvermenging).
Dermiljoene mense het deur die eeue vals gode aanbid, en doen dit vandag nog steeds.
Omdat God alle lojaliteit, toewyding en vertroue opeis, is godsdienstige vermenging vir Hom verwerplik. Dit geld die deurmekaarroer van tradisionele Afrika-godsdienste (met hulle voorvaderaanbidding) - en die Christelike geloof. En dit geld die New-Age Beweging en sy bedmaat, Post-moderne Pluralisme, wat die legitimiteit van alle godsdienste verkondig.

* Okkultiese praktyke.
Dit kom van die vroegste tye af voor en word weer en weer skerp in die Bybel veroordeel (vgl. onder meer Dt 18:9-14).
Okkultiese praktyke kan in drie groot kategorieë verdeel word: spiritisme (pogings om met afgestorwenes kontak te maak); fortuinvertellery of waarsêery (pogings om die toekoms te voorspel); heksery of towery (pogings om allerlei bonatuurlike effekte te bewerkstellig).
Hierdie praktyke is deurgaans oortredinge op die gebied van God se soewereine prerogatiewe en as sulks buite perke vir die mens. Die waarsêer gee voor hy het iets van God se alwetenheid. Die towenaar maak of hy iets van God se almag het.

* Bygelowigheid.
Dit veronderstel en verwag bonatuurlike kragte van natuurlike dinge.

* Wêreldgelykvormigheid.
Dit vind plaas wanneer die ontsag, vertroue, toewyding en lojaliteit wat God alleen toekom, tot 'n mindere of meerdere mate ook op die binne-wêreldse gerig word. Uitdrukkings hiervan kan vermenigvuldig word. Die volgende is tipiese voorbeelde:
Mensverheerliking. Sport-, film-, pop- en politieke helde word op 'n ongeëwenaarde wyse verafgod. En 'n nóg groter gruwel is om toe te laat dat mense jou so vereer (vgl. Hd 12:21-23).
Plesier- en hebsug. Dit neem verskeie tipiese vorme aan: materialisme (Kol 3:5: "Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is." Vgl. ook Job 31:24.); genot en vermaak (2Tm 3:4); sinlikheid en brassery (Fl 3:19: "Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind."). In sy boek, I want to be a Christian, praat J.I. Packer van "Sex, Shekels and the Stomach", van "Pleasure, Possessions and Position", van "Football, the Firm, Freemasonry and the Family" (p. 204).
Selfgesentreerdheid - in enkelinge en groepe. Selfsug (selfbevrediging, selfbevoordeling en selfverheffing) verdring God uit die lojaliteitsmiddelpunt. Selfvertroue is 'n onafhanklike gesindheid wat weier om uit en onder God se hand te leef (Hab 1:11: "Vir hierdie sondige nasie is sy eie mag sy god").
Vroeë Skrifverklaarders het die wêreldgelykvormigheid waarteen Johannes waarsku 'n drie-koppige monster genoem: die begeerlikheid van die vlees; die begeerlikheid van die oë; die grootsheid van die lewe (1Jh 2:16, OAV). Praat Johannes hier dalk van die najaging van sinlike bevrediging, van 'n afgodiese beheptheid met die estetiese, van 'n onversadigbare sug na mag?

* 'Christelik-godsdienstige' afgodery.
Rooms-Katolisisme bid tot Maria. Pous Pius XII het haar 'die koningin van die hemel' verklaar (ten spyte van Jer 7:18). Daarbenewens glo hulle dat die pous mag het om sondes te vergewe.
Sekere leiers in sekere kerkkringe beskou hulleself as onaantasbaar en verhewe bo kritiek. Hulle is "gesalfdes" en as 't ware tussengangers tussen God en Sy gemeente.
Leringe wat Satan as meer as net 'n skepsel voorhou en hom op dieselfde vlak as God stel - as 'n onafhanklike opponent en anti-god. Maar Satan is nie God se skaak-opponent nie; hy is 'n pion op die skaakbord van God se raadsplan.

Positief : wat die eerste gebod gebied

# Omdat God is wie en wat Hy is - naamlik Skepper (en dus soewereine Heerser) en Herskepper (genadige Verlosser vanuit die verskrikking van die ewige dood), dring Hy aan op onverdeelde trou, gehoorsaamheid en verering. Meer nog, omdat Hy die somtotaal van skoonheid en etiese volmaaktheid is, dring Hy aan op onverdeelde liefde - sterker, dieper, hoër en groter as enigiets anders. Niks is meer logies, sinvol en onontkombaar as hierdie aansprake van Hom nie. Daarom duld Hy geen gewaande mededingers nie. En daarom is dit waansin om jou teen die Eerste Gebod te verset.

# Wat is ons dus aan God verskuldig - elke mens aan sy Skepper, maar in die besonder elke Christen aan sy Herskepper? Ons moet Hom aanbid!
Aanbidding is gebed. Maar dis ook veel meer. Dis so wyd soos die lewe self. Niks is uitgesluit nie. Tot die mate wat ek 'n aanbidder is, tot daardie mate sal my gebedslewe deur onderstaande sewe dinge deurtrek wees - en sal my lewe van A tot Z daardeur bepaal word:

* 'n Aanbidder jaag dit na om God te ken - Sy karakter, Sy wil, Sy weë - soos Hy Homself in Woord en werke aan ons openbaar.

* 'n Aanbidder het God lief - deur te dors na Sy gemeenskap, deur vreugde en vergenoegdheid in Hom te vind, deur alles in te span om Hom te behaag en te verheerlik.

* 'n Aanbidder vrees God - deur ontsag te hê vir Sy heilige majesteit en geregtigheid.

* 'n Aanbidder gehoorsaam en dien God - deur sewe dae 'n week volgens Sy geopenbaarde wil te leef.
Dit volg noodwendig uit wat hierbo genoem is: liefde is die dryfveer van gehoorsaamheid; vrees is die weerhouding van ongehoorsaamheid.

* 'n Aanbidder vertrou God - deur dag na dag afhanklik van Hom te leef en alle sekuriteit in Hom te vind.

* 'n Aanbidder dank God - weer en weer vir Sy onfeilbare verbondstrou.

* 'n Aanbidder bely God - deur skaamtelose en openlike solidariteit met Sy persoon, waarheid en doel.

# Ons het reeds na liefde vir God verwys, maar dis nodig om ietwat dieper op hierdie kern van aanbidding in te sak.
Geen aanbidding is vir God aanvaarbaar as liefde vir Hom nie aan die hart daarvan lê nie. En hierop werp Dt 6:4-9 besondere lig. Die Shema (v.4-5) moes daagliks in die volk se godsdiensoefening gelees word: "Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag."

* As die Here Jesus later gevra word na die grootste gebod, antwoord Hy deur die Shema aan te haal - die gebod om die Here met alles in jou lief te hê (Mt 22:34-40). Hier is die Groot Profeet se neutedop-kommentaar op die Eerste Gebod!

* Wat hou liefde vir God alles in?
Sekerlik het ware liefde vir die Here 'n emosionele kant. Daaroor is die Skrif boordevol. Die Psalmboek is waarskynlik die beste voorbeeld.
Daarbenewens is ons liefde 'n respons op dié van God vir ons. En hieroor praat die Bybel ook in roerende terme.
Maar ons durf nie hier stop nie.
Die Shema staan vierkantig in 'n verbondskonteks. Liefde vir God is daarom méér as emosie en gevoel. Dis verbondsliefde - en dus 'n voortdurende keuse vir Hom, deur dik en dun. Dis om te volhard in jou toewyding - of dit nou goed voel of nie. En, daarvan kan ons seker wees, liefde word altyd tot breekpunt toe getoets. Uiteindelik kan mens van emosionele gevoelens nie veel meer sê as net dít nie: dit maak liefde houdbaar; dit maak die keuse makliker.
Dis die rede waarom dit 'n bevel kan wees om lief te hê. En daarom kan ek selfs my vyande liefhê.
Maar die Shema bring nóg 'n dimensie van liefde na vore. Dt 6:6 gaan voort: "Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet ...". Om God lief te hê beteken om Sy gebooie te gehoorsaam. En die Shema veronderstel dat dit oor die volle spektrum van ons lewens moet geskied - in ons huise en op pad, of jy gaan slaap en of jy opstaan (v.7-9).
Hierdie aspek van liefde word oor en oor in die Nuwe Testament beklemtoon (vgl. bv. Jh 14:21, 23-24; 1Jh 5:2-3).
'n Verdere, en uiters belangrike aspek van liefde vir God gaan ongelukkig in die NAV se weergawe van die Shema verlore. Die opdrag is om die Here jou God lief te hê met jou hele hart, jou hele siel en al jou krag (vgl. OAV). Dis presies wat ons by die Eerste Gebod gevind het: ons moet God onverdeeld en enkelhartig liefhê! Dit sluit alle liefdesverdeling uit.
Van Noag word in Gen 6:9 gesê dat hy onberispelik was in sy toewyding aan God. Sommige Engelse Bybels vertaal dit met perfect. In die Hebreeus dui die begrip op heelheid. Noag se hart was onverdeeld op God gerig.
In 1Kon 9:4 getuig die Here van Dawid dat hy Hom met 'n volkome hart gedien het (OAV). Hoewel hy meermale tragies misluk het, was sy hart onverdeeld op die Here gerig. En dis waarom hy 'n man na God se hart was.

# 'n Laaste perspektief is onmisbaar. Sommige sê dis onmoontlik om God lief te hê, aangesien mens Hom nie kan sien nie.

* Ons kán Hom egter sien en verstaan - en met Hom identifiseer. Het die tweede persoon van die Goddelike Drie-eenheid nie mens geword nie? Johannes skryf: "Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekendgemaak" (Jh 1:18). Dis waarom Jesus kon sê: "Wie My sien, sien die Vader" (Jh 14:9; vgl. Kol 1:15; Hb 1:3).
Vervulling van die Eerste Gebod is gevolglik om Jesus Christus met jou hele hart lief te hê! Sy radikale oproepe tot dissipelskap - tot toewyding aan Hom - is dus niks anders as oproepe om die Eerste Gebod te gehoorsaam nie.

* Wie Christus liefhet, het noodwendig Sy evangelie lief. Hý is immers die inhoud daarvan. Gehoorsaamheid aan die Eerste Gebod het alles te doen met 'n hartstog vir die Godgesentreerde en Christusgefokusde waarheidsevangelie - vir 'n steeds diepere begrip daarvan, vir 'n wêreldwye uitdra daarvan!

* Ten slotte: sommige sal die beswaar hê dat ons Christus nie meer kan sien nie, aangesien Hy in die hemel is. Hierop gee 1Jh 4:12 'n antwoord: in ons onderlinge liefde word Christus sigbaar! Die onontkombare implikasie hiervan is dit: ek het Jesus Christus niks meer lief as wat ek sy liggaam liefhet het nie. Gehoorsaamheid aan die Eerste Gebod hou dus ook in dat ek my broers en susters in liefde dien. Toewyding aan die Here en toewyding aan Sy gemeente is onlosmaaklik verbonde!
Presies dit sê Johannes uitdruklik: "As iemand sê: 'Ek het God lief,' en hy haat sy broer, is hy 'n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê." (1Jh 4:20-21).
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment