Thursday, June 16, 2011

ANTIPAS HEROUT No.45 : DIE UITVERKIESING - Deel 1 van 3 - 'n Paar Skrifperspektiewe

SOMS, AS 'N TELEVISIEPROGRAM OF FLIEK BEGIN, WORD KYKERS GEWAARSKU dat dit wat vertoon gaan word tot aanstoot sal wees vir sommige. Net so moet 'n mens diegene wat met erns en eerlikheid na die Bybelse openbaring oor die uitverkiesing wil kyk, daarop bedag maak dat hulle wil inbeweeg in 'n veld waar mensgesentreerde bleeksiele en sentimentele wintermuskiete dit nie maak nie.
Male sonder tal hoor mens die beswaar dat die uitverkiesingsleer te moeilik is om te verstaan. Dis nie waar nie. Mense sukkel daarmee, omdat hulle sekere basiese Skrifwaarhede nie onder die knie het nie. Óf hulle verstaan hierdie waarhede nie, óf hulle wíl dit nie verstaan nie. Want om dit te verteer, verg absolute onderwerping aan die Woord van God en aan die God van die Woord. Maar as jy eenmaal jou kop ingelig het, jou nek gebuig het, jou hart oopgestel het, en jou hartstogte gerig het op die eer van God, hou hierdie geopenbaarde geheimenis op om moeilik te wees - trouens, dan word dit een van die kosbaarste waarhede in die ganse Woord.
Dis nie 'n waarheid waarmee jy leedvermakerig loop en spog nie, allermins, allermins! Maar dis 'n waarheid wat jou weer en weer in geborgde verwondering op jou gesig voor die allerhoogste God van hemel en aarde laat lê.

Ons aanslag

# Die tema wat ons aanpak, is omvangryk. Daarom is hierdie nie die enigste Herout wat aan hierdie tema gewy sal word nie.

# In hiérdie studie gaan ons eers kortliks enkele Skrifbeginsels aansny. Dan gaan ons meer in diepte na twee Skrifgedeeltes kyk (daar is uiteraard baie ander waarna ons ook sou kon kyk). En uiteindelik sal ons volstaan met 'n aantal konkluderende stellings.

Bybelse grondwaarhede waarsonder die uitverkiesing nie verstaan kan word nie.

# God se Woord alleen moet jou norm wees.
Sola Scriptura (die Skrif alleen) moet kompromieloos veranker wees in jou gemoed. Geen vooropgestelde idees, vleeslike logika, emosionele blokkasies, sentimentele vooroordele en allerlei mensgemaakte slimmighede mag jou beoordeling stuur nie.

# Jy moet dit vierkantig in die oë kyk dat die Skrif weer en weer van God se uitverkiesende genade praat.
Sonder twyfel het ons nie hier te doen met iets wat mense uit die duim suig nie. Ongeag hoe jy dit verstaan, moet jy toegee dat dit iets is waarvan God se Woord baie maak. Verskillende begrippe word weliswaar gebruik, maar die saak kom gereeld aan die orde. Neem byvoorbeeld (om maar by die Nuwe Testament te bly): Jh 6:35-40; Jh 10:27-30; Jh 17:2, 6, 9, 24; Hd 13:48; Rm 8:28-30; 9:6-29; Ef 1:3-6; 1:11-14; 1Ts 5:9; 2Ts 2:13-14; 2Tm 1:8-9; 1Pt 1:2; Op 13:8; 17:8.

# Solank jy God geringer ag, en die mens meer verhewe, as wat die Skrif doen, sal jy probleme hê met die uitverkiesing.
Selfs in talle kerkmense se agterkoppe sit die idee dat God eintlik daar is ter wille van die mens; dat óns belange die primêre is waarmee Hy Homself besig hou.
'n Duisend maal, nee! Presies die teenoorgestelde is waar. Ons is daar ter wille van Hom!

* Eerstens moet jy onthou dat die drie-enige God oneindig groter en heerliker is as die mens. Hy leef in dimensies waarvan ons nie die vaagste benul het nie.
In die besonder moet mens vrede maak met God se onbetwisbare en algehele soewereiniteit. Hy is die Pottebakker en ons die klei (Rm 9:21 en konteks) - wat beteken dat Hy algehele vrymag het wat ons lewens en ewige bestemming betref.
Nee, God doen alles ter wille van Sy eie verheerliking (Ef 1:6, 12, 14 en konteks; OAV).

* Tweedens moet jy onthou dat die Bybel - in geen onduidelike taal nie - leer dat die natuurlike mens radikaal verdorwe is. Vir ons doel het dit minstens twee implikasies.
Eerstens is die gevalle mens dood in sy sonde (Ef 2:1). Geloof in Christus vereis gevolglik 'n voorafgaande genadewerk van die Heilige Gees (Jh 1:12-13; 3:3-8).
Tweedens verdien geen mens enige genade van God nie; inteendeel. Hieroor draai Rm 1:18-3:20 geen doekies om nie.

# Jy moet rekening hou met die mens se verantwoordelikheid.
Die Bybel plaas 'n onmiskenbare aksent op die mens se verantwoordelikheid om die evangelie te glo, hom te bekeer, gehoorsaam aan God te leef, en enduit te volhard.
Party mense omhels God se soewereiniteit op so 'n simplistiese en eensydige wyse dat hulle noodwendig verval in 'n Godonterende en sielsvernietigende fatalisme - ook genoem hipercalvinisme [1].
Terwyl God vrymagtig soewerein is in ons redding en lewens, maak Hy nooit van ons outomate of robots nie. Ons bly bewustelik betrokke en aanspreeklik. Hoe hierdie twee kante van ons verhouding met God logies saamhang, sal ons nooit dié kant van die graf in diepte verstaan nie - maar beide waarhede word deur die Skrif beklemtoon.
'n Beeld wat ek dikwels gebruik om te illustreer hoe God en mens beide eenhonderd persent betrokke is in die reddingsproses - dus nie vyftig-vyftig nie - is die van 'n windpomp [2]. Ondergrondse water word opgepomp tot in 'n sementdam. Daarvoor is die windpomp - soos ek - eenhonderd persent verantwoordelik. Elke milliliter vloei deur sy silinder en pype. Maar sonder die wind kan dit ook nie. Trouens, die wind - soos die Heilige Gees - verskaf eenhonderd persent van die energie vir die styging van elke druppel water [3].

# Onthou dat God in Sy handele - veral ook in Sy reddende werk - baie dikwels middellik werk.
God gebruik instrumente. Romeine sê: "En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?" (10:14). In diegene wie se oomblik van redding gekom het, werk die Here se herskeppende krag deur die evangelie wat op een of ander manier aan hulle verkondig is of word (Jh 17:17, 20; Rm 10:17; 1Kor 1:21; 2Ts 2:14; Jk 1:18; 1Pt 1:23).

# Hou steeds in gedagte dat die Skrif die feit van die uitverkiesing deurgaans aanbied as goeie nuus en innige vertroosting vir God se kinders.
Die Bybel slinger hierdie waarheid nooit verwytend teen die koppe van ongelowiges nie. Ewemin wil dit ons kniehalter in ons verkondiging van die evangelie. Nee, God se Woord fluister die feit van Sy ewige en uitverkiesende liefde in die ore van húlle wat reeds deur 'n ware geloof met Sy Seun verenig is.

Handelinge 13:48

Dis tydens die eerste sendingreis. Paulus preek in Antiogië in Pisidië (Hd 13:14vv).

# Inleiding: Ou Testamentiese voorbereiding (Hd 13:16-25).
Paulus beklemtoon God se genade-inisiatiewe deur die eeue. Hý is die onderwerp van feitlik al die werkwoorde. Dis Hý wat die Joodse voorvaders uitgekies het (17). Dis Hý wat hulle in die woestyn verdra het (18) en die Beloofde Land vir hulle gegee het (19). Dis Hý wat vir hulle rigters en koning Saul gegee het - en uiteindelik Dawid (20-22).
Dan spring Paulus na Christus toe (23).

# Preekfokus: Jesus se dood en opstanding (Hd 13:26-37).
Nou vertel Paulus die verhaal van die Here Jesus. Die Jode en heidene het Hom tereggestel, soos reeds vantevore oor Hom geskryf is. Maar Hy het as vervulling van die beloftes opgestaan. Só konsentreer die apostel op die twee fokuspunte van Christus se verlossingswerk: kruis en opstanding.

# Konklusie: die keuse tussen lewe en dood (Hd 13:38-41).
As hy dan getoon het hoe die Ou Testamentiese profesieë in Christus se kruisiging en opstanding vervul is, maak Paulus 'n appél op sy hoorders. Die keuse wat hy voor die Jode stel, is vlymskerp. Aan die een kant is daar die belofte van sondevergiffenis en regverdiging (38-39). Aan die ander kant is daar die verskrikking van God se oordele soos reeds deur die profete beskryf (40-41).

# Reaksie (Hd 13:42-52).
Die meeste mense reageer verstommend goed op die prediking - prediking wat sowel God se soewereiniteit as die mens se verantwoordelikheid beklemtoon. Dit vervul die Joodse leiers met afguns. Paulus-hulle draai nie doekies om nie: die Woord móét eers aan die Jode verkondig word. Maar aangesien hulle dit verwerp, sal die apostels van nou af na die heidene gaan met die evangelie (46). Christus het immers gekom as 'n lig vir die nasies (47).
As die heidene dit hoor, is hulle verheug. En van hulle word dan gelowig - die wat vir die ewige lewe bestem was, almal wat as sodanig verordineer was (48, OAV en NAV).

# Die werkwoord (NAV: bestem; OAV: "verordineer"), is baie betekenisvol.
Die woord beteken om iets te orden, te rangskik, in posisie te plaas, aan te wys. 'n Paar voorbeelde sal dit duidelik maak:
Mt 28:16: die dissipels moet vir Christus se hemelvaart na die berg toe gaan "waar Jesus hulle bestel het" (OAV).
Lk 7:8: die hoofman van Kapernaum is self 'n man wat onder gesag gestel is.
Hd 22:10: Paulus moet Damaskus toe te gaan waar vir hom gesê sal word wat God vir hom bepaal het.
Duidelik praat die begrip dus van iets wat vooraf gesagvol en soewerein besluit, vasgelê en vasgemaak is.
In buite-Bybelse Grieks is daar gevalle waar die woord gebruik word vir die optekening van 'n gewigtige besluit in 'n amptelike boek. Bes moontlik sinspeel Lukas dus op die optekening van sekere mense se name in die boek van die lewe, waarvan ons meermale in die Bybel lees (Eks 32:32-33; Ps 69:29; Jes 4:3; Dn 12:1; Lk 10:20; Fl 4:3; Op 13:8; 20:12-15; 21:27). Die gerespekteerde teoloog, F.F. Bruce, stel dit só: "many of them believed the gospel - all, in fact, who had been enrolled for eternal life in the records of heaven ..." [4]

# Die werkwoord is in 'n baie betekenisvolle vorm gegiet.
Die perfektum passief partisipium suggereer minstens twee dinge:

* Die passief sê dat hierdie verordinering nie iets is wat die betrokke mense aan of vir hulleself gedoen het nie. Nee, hulle was passief in die hele proses - uiteraard, want dit gebeur volgens ander Skrifuitsprake voor hulle skepping. Die handeling is dus aan of vir hulle gedoen.

* Die perfektum verwys na 'n handeling in die verlede waarvan die gevolge steeds geld. Die mense is destyds in God se boeke opgeteken vir hierdie besondere voorreg, en steeds staan dit vas.

# Die mense is vir 'n wonderlike voorreg bestem: die "ewige lewe".
Dit gaan dus om redding in Christus en alles wat daarmee saamhang.

# "Almal" wat vir die ewige lewe bestem is, het tot geloof gekom.
Duidelik word nie bedoel dat geeneen van die ander later tot bekering sal kan kom nie. Lukas wil sê dat nie een van die wat tot geloof gekom het, iets anders as uitverkies was nie. Daar is 'n onlosmaaklike verband tussen uitverkiesing en geloof. Nét uitverkorenes kom tot ware geloof.

Romeine 9:6-29

# In Rm 8, veral vanaf v.28, gee die apostel Paulus die versekering dat die volharding en uiteindelike redding van God se uitverkorenes gewaarborg is, omdat dit in God se ewige raadsplan gewortel is. Die vraag kom nou asof vanself - en dis die problematiek wat Paulus in Rm 9-11 aanspreek: Wat dan van die Jode? Was hulle nie God se uitverkore verbondsvolk nie? Kyk net na die voorregte wat hulle onder die Ou Verbond geniet het. Tog het hulle Christus verwerp en is hulle gevolglik onder God se toorn (v.4-5).

# In Rm 9:1-29 toon die apostel dat die verwerping van die Jode nie 'n mislukking van God se verbondstrou is nie. Die beloftes aan Abraham met betrekking tot sy nageslag het nie vir alle biologiese kinders sonder meer gegeld nie; dit het net betrekking gehad op diegene wat uitverkies is in God se genade. Die Here was besig om hierdie uitverkore Jode saam met die uitverkore heidene tot die lewe te roep - net soos Hy belowe en die profete voorspel het.

# Kom ons kyk nader na Paulus se argument.
Die mislukking van die Jode beteken nie dat God se verlossingsplan verydel is nie. Hoe so? Nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie! (v.6). Daar is dus 'n ware en ewige Israel binne die uiterlike en tydelike Israel (nasionale Israel). En die beloftes waarvan Rom 8 praat, is net van toepassing op hierdie ware Israel - op die uitverkorenes binne die Joodse volk.
In 9:7-13 word hierdie stelling in v.6 dan verduidelik. Paulus gebruik twee voorbeelde: in v.7-9 die van Ismael en Isak, Abraham se kinders; en in v.10-13 die van Esau en Jakob, Isak en Rebekka se kinders.

* V.7-9: Die Jode het op 'n simplistiese wyse aanvaar hulle nageslag word voor die voet gered. Maar, sê Paulus, daar is so iets soos 'n nageslag én 'n nageslag; kinders én kinders. En daar is die wêreld se verskil tussen die twee. Daar is 'n nageslag in die natuurlike sin; maar dan is daar 'n nageslag deur wie God se verbond voortgedra word. Daar is die kinders van die vlees; en daar is die kinders van die belofte - God se uitverkorenes. So was Isak dan God se uitverkorene, nie Ismael nie.

* V.10-13: Paulus antisipeer 'n beswaar. Ja, maar Ismael en Isak het twee verskillende ma's gehad. En in Ismael se geval het Abraham in ongeloof opgetree.
Goed, sê Paulus, kom ons kyk na Esau en Jakob. Hulle het immers dieselfde pa en ma gehad; trouens, hulle was 'n tweeling. Tog, toe hulle nog in die moederskoot was, het God reeds 'n keuse uitgeoefen! Jakob sou Syne wees, nie Esau nie.

* V.11-12 is glashelder: Op geen wyse is hier sprake van enige vooruitgesiene verdienste as grond vir verkiesing nie. Dit berus volledig by God en by Hom alleen. V.15-16 sê dieselfde ding nog meer eksplisiet: God is barmhartig oor wie Hy wil en as sodanig hang dit nie van die mens se wil of inspanning af nie.

# In 9:14, 19 opper Paulus twee vrae wat al in miljoene harte gespook het. Trouens, as iemand nog nie daarmee gestoei het nie, het hy waarskynlik nog nooit behoorlike oorweging aan God se openbaring oor Sy soewereine genade geskenk nie. En die prediker van God se soewereine uitverkiesing wie se luisteraars nie soms in verontwaardiging beswaar maak nie, preek waarskynlik nie so Bybels soos hy moet nie.

* V.14: Is God nie onregverdig nie? Paulus se reaksie op so 'n suggestie is vurig en verontwaardig. Beslis nie!
Hy is God en sal barmhartig wees oor wie Hy barmhartig wil wees. Dít het Hy al vir Moses gesê (Eks 33:19). Dit hang dus nie af van die mens se pogings en inisiatiewe nie, maar van God se genadige ingrype (15-16, 18).
Trouens, gaan Paulus verder, God gebruik ook soms Sy soewereine prerogatief om sondaars nog meer te verhard as wat hulle reeds is - soos in die geval van Farao (17-18).

* V.19: Waarom verwyt God sondaars dan? Hoe kan Hy hulle hoegenaamd aanspreeklik hou? Wie kan enigsins teen Sy wil ingaan? Mens is eenvoudig uitgelewer aan Hom.
Paulus gee 'n tweeledige antwoord in v.20-23.
Een, dit is totaal onvanpas en lasterlik dat 'n skepsel sy Skepper bevraagteken. Dis omdat mense in hulle arrogansie dink dat God onder verpligting staan om genade aan hulle te betoon. Maar die teendeel is waar. Hy is aan niemand enigiets verskuldig nie. Álmal is sondaars en het álle aanspraak op God se guns totaal verbeur. Gevolglik is dit Sy prerogatief om een persoon te spaar en net die volgende een nie. Hy, as die soewereine Skepper en dus Eienaar, het dieselfde reg as 'n pottebakker om uit een bol klei verskillende voorwerpe te maak - die een goed en die ander sleg, die een mooi en die ander lelik, die een nuttig en die ander onbruikbaar. Nee, God is nie skuldig aan onreg as Hy één sondaar uit vrye genade red, terwyl Hy 'n ánder gewoon in sy sonde los om te kry wat hy nog altyd verdien het nie.
Twee, as God sommige van Sy sondige skepsele straf en ander vergewe, doen Hy niks onredeliks nie. Waarom nie? In beide gevalle dien dit 'n verhewe doel - om God se heerlikheid te demonstreer. Die straf van sondaars toon Sy heilige en regverdige toorn teen sonde, soveel te meer as dit geskied nadat Hy hulle hóé lank geduldig verdra het (sien ook v.17). En, natuurlik, niks vertoon die rykdomme van Sy heerlikheid en barmhartigheid méér uitnemend as die genadige redding van Sy uitverkorenes nie.

# Sommige voer aan dat hierdie hoofstuk niks wil sê oor die verkiesing van individue nie, maar handel oor die lotgevalle van nasies in God se raadsplan - die Israeliete (afstammelinge van Jakob) en die Edomiete (afstammelinge van Esau).
In 'n sin is dit natuurlik waar. Maar bestaan volkere nie uit individue nie? Was Jakob en Esau nie enkelinge nie? Trouens, Paulus spreek júis die probleem hier aan dat Israel nie gesamentlik as volk uitverkies is nie. Want sommige glo en ander nie - individue.

'n Aantal opsommende stellings

# Dit is God self wat gekies het (Mk 13:20; 1Ts 1:4; 2Ts 2:13).
Sy uitverkiesende barmhartigheid lê volledig in Sy eie soewereine wil. Hoewel my wil en besluitneming volledig betrokke was toe ek 'n Christen geword het, het ek geensins inisiatief daarin geneem nie (Eks 33:19; Dt 7:6-7; Mt 20:15; Rm 9:10-24; 11:4-6; 11:33-36; Ef 1:5).

# Hierdie keuse is gemaak voordat die aarde geskep is (Ef 1:4; 2Tm 1:9; Op 13:8; 17:8).

# God het bepaalde individue tot die ewige saligheid verkies (soos gesien in onder meer die gedeeltes waarna ons gekyk het.)

# God se keuse was totaal onafhanklik van en voorafgaande aan enige moontlike geloof, verdienste of goeie werke in diegene wat verkies is (Hd 13:48; 18:27; Rm 9:11-13; 9:16; 10:20; 1Kor 1:27-29; Fl 1:29; 2:12-13; 1Ts 1:4-5; 2Ts 2:13-14; 2Tm 1:9; Jk 2:5).
Sy keuse was dus nie gebaseer op enige vooruitgesiene geloof in diegene wat verkies is nie. Nee, Hy het Sy hart op sekere sondaars gesit en hulle vir Homself uitgekies.

* Baie mense het die idee, op grond van Bybelse uitsprake dat God Sy uitverkorenes vooraf geken het [5], dat Hy by wyse van spreke in die gange van die tyd afgekyk het en gesien het wie gaan glo. Diesulkes sou Hy dan uitverkies en hulle name gevolglik in die boek van die lewe opgeskryf het.
Besin vir 'n oomblik oor hierdie argument waarmee mense poog om die verlossingsinisiatief uit God se hand te wring. As so 'n persoon gebore word, is sy naam mos reeds in die boek van die lewe, nie waar nie. Hy gáán immers glo. God het dit dan gesien. Maar onmiddellik ontstaan die vraag: het só 'n uitverkorene dan nog die vrye keuse waaroor die aanhangers van hierdie teorie so sterk voel - sy naam is dan klaar opgeskryf?
Nee, hierdie is 'n naïewe wolhaarstorie.

# Geloof, goeie werke en 'n heilige lewe - waarby ek eenhonderd persent betrokke is - is die uitvloeisel en bewys van uitverkiesing (Ef 1:4, 2:10; 2Pt 1:10-11).
Niemand kan uitverkiesing aanvoer as verskoning om geloof, bekering en gehoorsaamheid te verwaarloos nie.

# Uitverkiesing is 'n verkiesing tot redding en nooit die oorsaak dat iemand verlore gaan nie.
Sonder uitverkiesing sou niemand gered geword het nie.

* God kon besluit het om alle mense te red. Hy het die krag en gesag om dit te doen. Of Hy kon besluit het om niemand te red nie, want Hy is onder geen verpligting om enigeen te red nie. Tog het Hy nie op een van hierdie twee opsies besluit nie. Hy red sommige en los ander in hulle sonde.
Onregverdig? Dink só daaraan: Kan jy God verwyt omdat Hy geen demoon red nie? Nee! Net so was Hy onder geen verpligting om enige mens te red nie. En as Hy, die soewereine Skepper en Eienaar, dan wél sommige uit genade red, en die ander laat kry wat hulle verdien?
Uitverkiesing verontreg dus niemand nie. Dit werp geen skadukol op God se geregtigheid nie - maar belig sy liefdevolle genade meer as enigiets anders!

* Die gelykenis van die groot maaltyd in Lk 14:15-24 is insiggewend. 'n Groot fees is gereedgemaak en mense is genooi. "Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak" (v.18). Dan word die slaaf na die paaie en lanings uitgestuur om die armes, kreupeles, blindes en verlamdes te dwing (OAV) om in te kom.
Sonder Christus was daar nie 'n fees nie; sonder die Heilige Gees was daar nie gaste nie!

* Uitverkiesing gaan nie oor vooruitgesiene geloof nie; dit gaan oor vooruitgesiene ongeloof. As die Here niks gedoen het nie, was ons almal hopeloos verlore - soos die demone.
Dit verg nie 'n spesiale besluit van God voordat iemand verlore gaan nie. Daar is nie 'n spesiale uitverkiesing tot die ewige verdoemenis nie. Waarom nie? Omdat alle mense in elk geval van nature verlore is. Só is hulle gebore. Mense word nie neutraal gebore nie, maar verdorwe - en in Adam. God sorteer nie die mensheid arbitrêr uit nie - een dié kant toe, een dáárdie kant toe nie. Nee, nee, nee!

# Uitverkiesing staan nooit in die pad van iemand wat opreg begeer om gered te word nie.
So 'n begeerte is immers die gevolg van die Gees se oortuigingswerk - en só werk Hy net in die uitverkorenes.

# Laat ons nederig en kinderlik-gelowig voor God se selfopenbaring buig.
Al verstaan ons nie goed hoe God se soewereine reddingsinisiatiewe en die mens se verantwoordelikheid saamhang nie, moet ons aanvaar dat beide ewe waar is. Vol is die Bybel oor die een; vol is die Bybel oor die ander.
Kom, laat God God wees in ons denke en oortuigings. En laat ons nederig voor Hom wees in ons algehele afhanklikheid.

Ten slotte: 'n sprokie

Eendag, lank, lank gelede, ry 'n prins se goue koets die mees afgeleë en agterlike gehuggie van sy pa se koninkryk binne. Hy hou stil en klim uit. 'n Swetterjoel vuil kinders in vodde loer om krot-hoeke. Dan stap hy reguit na een van die meisiekinders toe - vuilste en lelikste van die klomp - vat haar sagkens aan die hand en fluister in haar oor: "Ek het jou as my bruid gekies!"
Het die prins immoreel opgetree? En wat het die meisiekind beslis nié gesê nie? "Dis onregverdig! Wat van Truia en Sophie en Nonnie?"


[1] Ware Calvinisme verwaarloos nie menslike verantwoordelikheid nie; inteendeel. Baie onkundige mense, in hulle weerstand teen Bybelse uitverkiesing, baklei teen 'n karikatuur van Calvinisme, oftewel die strooipop van hiper-Calvinisme.
Hoewel hierdie Herout nie enige "isme" wil verdedig nie, het ek min twyfel dat Calvyn (en natuurlik tallose mense voor en na hom) hartlik eens sou wees met die inhoud hiervan.
AH 31 is gewy aan die verantwoordelikheid van die mens.

[2] Onthou dat geen illustrasie 'n volledige verduideliking gee nie. Moet dus nie te veel hierin lees nie.

[3] Die woord wat ons in sowel die Ou Testament as die Nuwe Testament met "Gees" vertaal (Hb: ruach en Gr: pneuma), beteken oorspronklik wind of asem.

[4] F.F. Bruce, Commentary on the Book of the Acts, New London Commentaries, Marshall, Morgan & Scott, 1977, p.283.

[5] "Om te ken" dui in die Bybel ten diepste op liefhê, eerder as op verstandelike kennis. [Gn 4:1: "die mens het sy vrou, Eva, bekén"]. Ander gedeeltes waarin dit duidelik blyk, is o.m. Eks 2:25; Amos 3:2; Jer 1:5; Mt 7:22-23 (Jesus sê nie Hy het nie van hulle geweet nie; Hy het juis te veel van hulle geweet!); 1Kor 8:3; 2Tm 2:19. Vgl. Jh 17:3.
Die bepaalde begrip, "vooraf ken", word op vyf plekke in die Nuwe Testament met God as subjek gebruik: Hd 2:23 en 1Pt 1:20 (Christus as objek); Rm 11:2 (Jode as objek); Rm 8:29; 1Pt 1:2 (uitverkorenes as objek). Duidelik beteken dit meer as om bloot vooraf van iets of iemand kennis te dra; dit dui op vooraf liefhê - op verkiesing.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment