Saturday, June 11, 2011

ANTIPAS HEROUT No.31 : DIE MENS SE VERANTWOORDELIKHEID - 'n Bespreking van Eseg 18

DIS DIE BABILONIESE BALLINGSKAP, AMPER 600 JAAR VOOR CHRISTUS. Onder die Joodse ballinge in die vreemde is daar ‘n gesegde: "Die pa’s eet groen druiwe, en dan word die kinders se tande stomp." (18:2). Ook in Palestina word dit gebruik (Jer 31:29-30).
Sekerlik het die ballinge baie bespiegel oor die redes vir die ballingskap. Oënskynlik was 'n algemene opinie dat dit te wyte was aan die voorgeslagte se sondes. Per slot van rekening, as die vadere gehoor gegee het aan die profete se oproepe om hulle te bekeer, sou hulle nageslag nie nou in ellende gesit het nie. Dus wil die spreekwoord te kenne gee dat die voorgeslagte gesondig het, maar dat hulle kinders - die huidige geslag - nou die spit moet afbyt.
Na alle waarskynlikheid het diegene met so 'n opinie ook die Tweede Gebod as ondersteuning nader getrek: "Ek ... is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat" (Eks 20:5, OAV).
Let op hoe sterk die Here aanstoot neem aan hierdie spreekwoord (18:3). Waarom?

* Dis 'n implisiete beskuldiging dat God onregverdig is - deur die huidige geslag te straf vir andere se sondes (v.25, 29).

* Dis subtiele self-verontskuldiging: nie ons nie, maar ons ouers is die eintlike skuldiges. En so word een van die belangrikste doelwitte van die ballingskap ondermyn: ware verootmoediging en bekering.

* Dit lei tot 'n baie logiese maar verkeerde afleiding: as mens so maklik die gevolge van jou ouers se sonde dra, kan jy sekerlik ook op godvrugtige ouers se louere rus. Dan is geregtigheid - en die loon daarvoor - as 't ware oorerflik!

Ons verantwoordelikheid

# In Eseg 18:4 plaas die Here dan die fundamentele beginsel in plek: elke individu is vir hom- of haarself verantwoordelik! Só werk God deurgaans met mense.
Elke siel behoort aan die Here (4a, OAV). Hy is elkeen se Skepper. Voor Hom is elkeen dus gelyk. En uiteraard is elkeen teenoor Hom verantwoordelik. Daarom sal slegs diegene sterf wat sondig.

# In v.5-19 (vgl. OAV & NIV) werk die profeet hierdie beginsel nou aan die hand van drie praktiese voorbeelde uit. Hy kyk na 'n oupa, 'n pa, en 'n seun.

* Verse 5-9 beskryf 'n regverdige man. Vers 9 som dit op: sy lewe word gekenmerk deur gehoorsaamheid aan God se wet. Hy sal sekerlik lewe!

* Verse 10-13 beskryf dan die man se seun. Hy leef in sonde! Wat sy pa doen, dit laat hy na; wat sy pa nalaat, dit doen hy. Sal so 'n man lewe? Natuurlik nie! Van die begin af geld dit immers dat die loon van die sonde die dood is. Dis dus sy eie sonde - niemand anders s’n nie - wat hom laat sterf.

* Verse 14-19 beskryf dan die eerste man se kleinseun. Op sy beurt leef hy weer soos sy oupa. Sal hy ewig lewe? Natuurlik sal hy!

# Waarskynlik het almal besef dat Esegiël hier sinspeel op Juda se pas afgelope politieke geskiedenis.

* Die Assiriese ballingskap van die noordelike tien stamme (136 jaar voor die Babiloniese ballingskap) laat Juda en Benjamin groot skrik - en daar is grondige reformasie onder Hiskia.

* Sy seun en kleinseun - Manasse en Amon - vertrap egter hierdie reformasie in die volgende halfeeu, as hulle die volk tot afgodery verlei.

* Amon se seun - Josia - dien egter weer die Here en hy lei die volk in reformasie.

* Josia word dan opgevolg deur drie van sy seuns en 'n kleinseun (Joahas, Jojakim, Jojagin en Sedekia) - en elkeen van hulle verlei die volk tot sonde.

# Vers 20 formuleer weereens die beginsel - nou meer volledig: "Die mens wat sondig, sal sterwe. 'n Seun sal nie die straf op sy pa se sonde dra nie, en 'n pa sal nie die straf op sy seun se sonde dra nie. Wie leef volgens my wil, sal die vrugte daarvan pluk. Wie goddeloos is, sal die straf daarvoor dra."

# In verse 21-24 word twee verdere moontlikhede bespreek. Wat gebeur as 'n goddelose hom bekeer? En wat van 'n regverdige wat in sonde verval?

* Die eerste vraag word in v.21-23 behandel.
As 'n sondaar hom (of haar) bekeer, sal hy sekerlik lewe! Sy sonde sal hom nie toegereken word nie; dit sal in die see van ewige vergetelheid gegooi word.
Die implikasie is duidelik: as mens na bekering nie eers die gevolge van jou eie voorafgaande sonde dra nie, hoe op aarde sal jy die gevolge van jou voorouers se sonde dra?
Vanwaar kom hierdie wonderlike genade - dat mens so maklik die gevolge van opgehoopte skuld kan ontkom wanneer jy jou bekeer? Dit kom uit die diepste wese van God se karakter! (v.23).
Letterlik staan daar: "Behae, het Ek behae? Ek het hoegenaamd geen begeerte dat goddeloses moet sterf nie!"
Dit is uiters belangrik dat ons God reg sal ken: nie straf nie, maar genade; nie die dood nie, maar die lewe - dit is God se einddoel met die mens. Dít is Sy behae. Dít is Sy vreugde!

* Maar v.24 bring dan 'n noodsaaklike, balanserende korrektief: terwyl God 'n God van genade is, is dit altyd regvérdige genade! As 'n regverdige in sonde verval en daarin bly lê - sal hý lewe? Natuurlik nie!
Laat ons nooit vergeet nie: God se genade is altyd in volmaakte harmonie met Sy geregtigheid.

Agt beginsels

Die beginsel van menslike verantwoordelikheid wat Eseg 18:1-24 so deeglik uiteensit, kan oopgevou word in 'n aantal ondergeskikte beginsels. In terme hiervan het God nog altyd met die mens gewerk - ongeag of dit in die Ou Verbond is, of die Nuwe.

# As enigeen, wie ook al (selfs 'n kind van bose ouers), hom (of haar) bekeer en regverdig lewe, sal hy sekerlik die ewige lewe beërf.

# As enigeen, wie ook al (selfs 'n kind van godvrugtige ouers), onbekeerlik in sonde lewe, is die ewige verdoemenis sekerlik sy lot.

# 'n Kind sal nooit die straf van sy ouers se sonde dra nie; ook sal die ouers nie die straf van hulle kinders se sonde dra nie.

# Niemand sal die ewige lewe ontvang nie, tensy hy sélf regverdig lewe. En niemand sal die ewige verdoemenis ontvang nie, tensy hy dit sélf verdien as gevolg van sy eie sonde en rebellie teen God.

# Enige sondaar, wie ook al, wat hom bekeer, deur sy rebellie teen God te staak en sy lewe volgens God se wil in te rig, sal lewe.

# Daar kom nooit 'n stadium in 'n regverdige se lewe dat hy maar kan verslap in die najaging van 'n heilige lewe nie. Só haat God sonde, dat enigeen wat daarin sterf, selfs na jare van gehoorsaamheid, deur Hom verwerp sal word.

# God put geen behae uit die dood van 'n sondaar nie; inteendeel, dit is Sy vreugde as hy hom bekeer en lewe.

# Só genadig is God, dat dit nooit te laat is vir enige sondaar om hom te bekeer nie - ongeag hoe erg die sonde en hoeveel perverse jare ook al agter die rug mag wees.

Steeds geldig

# Laat ons duidelik verstaan: hierdie beginsels staan steeds vas. Die Nuwe Testament verfyn en bou dit weliswaar uit - en verduidelik wat God in Christus vir sondaars doen, sodat hulle daarvolgens gered kan word.

# Een van die verskille tussen die Ou Testament en die Nuwe, is dat eersgenoemde waarheid gewoonlik op 'n fenomenologiese, oftewel belewingsvlak deurgee. Dit beskryf gebeure en beginsels dus soos mense dit ervaar. Daarenteen word 'n groot deel van die Nuwe Testament aan ontologiese, oftewel wesenswaarheid gewy. Hier gaan dit oor die eintlike verduideliking vir dinge - van God se hoek gesien. Dis "die storie agter die storie".
'n Illustrasie mag verhelderend wees: As ons sê, "Die son gaan onder", is dit belewingswaarheid. Dis soos dit vir ons lyk. Maar die wesenswaarheid is natuurlik dat die aarde draai en die son gevolglik agter die horison verdwyn.
Eseg 18 se beginsels word as belewingswaarheid aangebied. Dit beteken nie dat dit net bluf is nie. Allermins! Maar geen verduideliking word byvoorbeeld gegee vir wat agter 'n regverdige man se toewyding sit nie, of agter 'n sondaar se bekering. Eers in die Nuwe Testament word dit verduidelik.

# Waar lê volgens die Nuwe Testament die oorspronge van ‘n gehoorsame en heilige lewe? Dit lê in die Here se inisiatiefnemende herskeppingswerk in sondaarsharte!

Lewensveranderend en blywend

# As die Here God in Sy soewereine genade reddend ingryp in 'n sondaar se lewe, doen Hy dit deur aan so ‘n persoon 'nuwe hart te gee. Uiteraard praat ons nie van die orgaan wat bloed pomp nie, maar van die sentrum van jou menswees en persoonlikheid. Dit is daardie kompleks van innerlike begeertes, motiewe, natuurlike geneigdhede en oortuigings wat elke mens het. As dit dan nuut gemaak of herskep word, noem die Skrif dit die wedergeboorte of 'n geboorte uit God.

# Nou lê dit voor die hand dat so 'n innerlike verandering mens se hele lewe ingrypend sal raak.
Johannes skryf sy eerste brief sodat sy gelowige lesers kan weet hulle het die ewige lewe (5:13). Hy gee vir hulle 'n aantal merktekens van die wedergeboorte, waaraan hulle die egtheid van hulle redding kan meet [1]: ware geloof (5:1) [2]; 'n lewe wat nie in sonde bly lê nie, maar volhard in heilige gehoorsaamheid (3:9; 2:29) [3]; liefde vir die Here en mede-gelowiges (4:7; 3:14-17); oorwinnig oor die sleurkragte van die God-vyandiggesinde wêreldstelsel waarin ons leef (5:4); lewenslange volharding tot die dood toe (5:18).

# Daar is dus 'n wonderlike en konsekwente onderlinge samehang wat God se verlossingswerk in ‘n mens kenmerk. Waar Hy red, is daar altyd ware geloof; en waar daar ware geloof is, is daar altyd heilige en lewenslange gehoorsaamheid. Dit is die wesensw aarheid wat in die Nuwe Testament vir ons uiteengesit word. Die belewingswaarheid van Eseg 18 - wie heilig leef, sal gered word; wie onheilig leef, sal nie gered word nie - wil dus nie sê dat 'n heilige lewe die grond van redding is nie, maar dat dit die merkteken van redding, oftewel die watermerk van egtheid is.

# Nou is ons in 'n posisie om te verstaan waarom Eseg 18 impliseer dat 'n persoon wat vir jare regverdig gelewe het, maar dan in sonde verval en in sonde sterf, nie gered sal word nie. Dit voel vir ons nie regverdig nie, want ons is geneig om te redeneer dat jare se geregtigheid tog baie swaarder moet weeg as maande se sonde.

* Kennelik het so 'n persoon se geregtigheid nie uit 'n herskepte hart gekom nie. Sy of haar geloof was nooit eg nie. Dis waarom dit opgedroog het.

* Dis waarom die apostel ons oproep om onsself voortdurend (Grieks) te ondersoek of ons in die geloof is (2Kor 13:5, OAV).
Laat ons nooit vergeet nie: egte geregtigheid, enersyds, en bloot godsdienstige vroomheid, andersyds, lyk verraderlik eenders.

* Ons redding hang nie van die kwantiteit van ons geloof af nie, maar van die kwaliteit daarvan. Die vraag is nie of ek genoeg geloof het nie (diegene in Mt 7:21-23 het baie geloof); die vraag is of ek die ware Jakob het. Embrionaal min dáárvan is genoeg (soos dié van die misdadiger aan die kruis).

Die res van die hoofstuk (Eseg 18:25-32)

# In die voorafgaande verse word uiteengesit dat al die Here se handele met mense onkreukbaar regverdig is. Hy gee vir elkeen presies net wat hy, en hy alleen, verdien. Ter wille van beklemtoning word van hierdie beginsels dan weer in v.26-28 herhaal. Nogtans wil die volk dit nie aanvaar nie. Die Here doen nie reg nie, is hulle beskuldiging (v.25, 29).
Omdat hulle nie wil skuld erken nie, en omdat hulle God van onreg beskuldig, sal Hy hulle oordeel! Maar niemand sal kry wat hy nie verdien nie. Elkeen sal volgens sy eie optrede gestraf word (v.30a).

# Dan, selfs op hierdie dreigende moment, sluit die hoofstuk af met een van die mees aangrypende oproepe tot bekering in die ganse Bybel (v.30b-32). Selfs op hierdie laat stadium is omdraai nog moontlik.
Weereens is daar die versekering dat God geen "behae" (OAV), geen genot daaruit put as 'n sondaar verlore gaan nie (v.32).

# Nog iets in hierdie oproep val amper skokkend op ons ore. Letterlik staan daar in v.31: "maak vir julleself 'n nuwe hart en 'n nuwe gees!" (vgl. OAV, NASB, Amplified, KJV). Hoe moet mens dit verstaan?
Esegiël het geen illusies oor God se soewereiniteit nie. Hy gebruik die Godsnaam, Elohim (die soewereine God), 217 keer. In Eseg 16:4-6 kry ons een van die aangrypendste beskrywings van soewereine genade in die Bybel. Les bes stel hoofstukke 36:24-28 en 37:1-14 dit bo alle twyfel: God alleen kan wederbaar en red!
Weliswaar kan die werkwoord, "maak", ook soms vertaal word met "bekom" (die NAV en NIV volg hierdie sagter opsie). Hoe ook al, wat Esegiël hier sê, is dat mense selfs in hulle onwedergebore staat verantwoordelik is om in nederigheid die gawe van 'n nuwe hart en lewe by die Here te soek. Niemand sal op die oordeelsdag kan wegkruip agter die feit dat hy in sy geestelike verstorwenheid nie in staat was om die Here te soek nie.

Enkele implikasies

# Ons het geen grond hoegenaamd nie as ons ons aanspreeklikheid voor God probeer ontduik. Ongelowiges kan dit nie doen nie, hoeveel te minder ons wat sê dat ons wedergebore is!
As ons rekening hou met die wonder van God se herskepping in ons, besef ons dat ons geen verskoning vir sonde het nie.
Nooit kan ons iemand of iets anders blameer vir ons mislukkings voor die Here of ons medemens nie - nie ons ouers, kinders of enigiemand anders nie; ook nie ons verlede of omstandighede nie.

# Al glo ons hartstogtelik in die uitverkiesing (en dis onvermydelik as jy erns maak met die Bybel), moet ons ons onbeskroomd rig tot individue se verantwoordelikheid en wil wanneer ons evangeliseer. Die feit van die uitverkiesing bring dit hoegenaamd nie in gedrang dat ek dit mag en moet doen nie.

* God se uitnodiging tot redding aan die sondaar is opreg.

* God se bevel tot bekering en onderwerping is eg - nie net 'n skynspel nie.

* God se beloftes om ootmoedige sondaars te red wat om genade in Christus pleit, is algeheel betroubaar.

* God se uitnodigings, bevele en beloftes - en daarom ook ons evangelistiese uitreikings - spruit voort uit Sy ware liefde wat geen behae daarin het as 'n sondaar volgens die eise van Sy geregtigheid verlore gaan nie.

* Die Heilige Skrif plaas so 'n gesindheid konsekwent as 'n opdrag voor ons - deur die voorbeeld van die Here en Sy apostels, en deur eksplisiete bevele.

* Die mens(e) teenoor wie ons getuig, is inderdaad persoonlik verantwoordelik en aanspreeklik.

* Dus, terwyl ons weet dat geen geestelike lewe vóór wedergeboorte moontlik is nie - geen geloof of bekering of heiligmaking nie - hoef ons nie te huiwer om vir mense te sê dat hulle 'n plan moet maak om wedergebore te word nie. Dis presies wat die Here Jesus gedoen het toe Hy vir Nikodemus gesê het dis nodig dat hy wederbaar word (Jh 3:3; 5-7). Ons mag nooit dat ons oortuigings oor die soewereiniteit van God en die werklikheid van uitverkiesing ons inhibeer om met alles waaroor ons beskik op mense se verantwoordelikheid en wil aanspraak te maak nie!

# Bogenoemde lyk vir ons logies heeltemal teenstrydig. Dit wil nie sin maak nie. Hoe kry mens die kloutjie by die oor? Ons het met die geheimenisse van 'n antinomie te doen. Dis 'n verskynsel in die logika waar mens met twee (of meer) waarhede te doen het wat beide onteenseglik waar is, maar wat vir ons logika wedersyds uitsluitend is. So sê die Bybel vir ons dat redding 'n gawe van God is (Ef 2:8) - en tog kom die opdrag weer en weer tot ongelowiges dat hulle moet glo. Of in Jh 6 sê Jesus dat niemand na Hom toe kan kom as die Vader hom nie trek nie (Jh 6:44,65) - en tog rig Hy weer en weer die uitnodiging: "Kom na My toe ...!"
Bybelse antinomieë spruit voort uit die feit dat God in dimensies leef wat aan ons totaal onbekend is. In terme van ons ervaringswêreld lyk dit na teenstrydighede, maar in die geloof aanvaar ons dat die probleem in Sý dimensies nie bestaan nie.
Volwasse Christene het geleer om met Bybelse antinomieë saam te leef - met die ewewig van Bybelse waarheid. As dit nodig is om één kant van die waarheid te gebruik, doen hulle dit. En as die ander kant nodig is, gebruik hulle dít.
'n Klassieke voorbeeld hiervan word in Hd 27 aangetref. Kyk hoe Paulus homself "weerspreek" as hy eers in v.22-26 die versekering gee dat God soewerein besluit het dat daar geen lewensverlies sal wees nie, maar dit kort daarna in v.31 totaal afhanklik maak van die soldate se gedrag.
In die finale analise gehoorsaam ons bloot die Here in ons evangelisering (en ander dinge), in die wete dat die Gees Sy grootse herskeppingswerk juis middellik doen - deur ons verkondiging van die evangelie (Jh 17:17,20; Rm 1:16-17; 10:13-15; 1Kor 1:21; 2Ts 2:14; Jk 1:18; 1Pt 1:23). Van die begin af skep God immers deur die woord (Gn 1:3, 6, 9, 11, 14, 20, 24, 26).
Ook Esegiël onderstreep hierdie beginsel in h.37 (v.4, 7, 9, 10).

# Hoe moet Eseg 18 met die Tweede Gebod (Eks 20:4-6; Dt 5:8-10) gerym word? Sê God nie dáár dat Hy Sy haters se misdade aan hulle kinders - tot in die vierde geslag - besoek nie? Dui dit nie op onregverdigheid by God nie? Is dit nie strydig met persoonlike verantwoordelikheid en Eseg 18 nie?

* Ten minste beklemtoon die Tweede Gebod dat kinders inderdaad deur hulle ouers se sonde geaffekteer word. Daar is kontinuïteit tussen opeenvolgende geslagte.
In die lig van die res van die Skrifopenbaring kan egter met stelligheid gesê word dat daar geen meganiese noodwendigheid in sit nie. So iets sou lynreg strydig wees met onder meer Eseg 18 (vgl. ook Dt 24:16; Jer 31:29-34).

* Ons durf egter nie die Tweede Gebod se waarskuwing ligtelik opneem nie. Ouers se sonde kring op ten minste twee maniere na hulle kinders uit:
Ouers is modelle vir hulle kinders. Kinders leer by hulle en doen soortgelyk. Sonde steek as 't ware aan; trouens, dit het die neiging om te vererger soos dit voortplant. Dit is dus nie snaaks nie as ouers se minagting vir God se ordes etlike geslagte later steeds sy tol eis nie.
Voorts, een geslag skep as 't ware die wêreld waarin volgende geslagte moet leef. As ons vandag God se Woord, Sy norme en die evangelie geweld aandoen, moet ons nie verwag dat ons kinders en kleinkinders die Here sal dien nie. Die kerk wat ons nageslag op ewigheidspaaie moet lei, word vandag gevorm.

* Die Tweede Gebod wil dus nie suggereer dat volgende geslagte gestraf sal word vir hulle ouers en grootouers se sonde nie. Nee, wat dit sê, is dat hulle as ‘n reël hulle voorgeslagte se sonde sal navolg — en as sodanig God se oordele oor hulleself sal haal.

* Laat ons nooit uit die oog verloor nie: ongeag die erns van 'n familie of samelewing se morele verval, kan enige individu enige tyd die tuimelgang ontkom deur hom of haar hartgrondig tot die Here en Sy Woord te bekeer.

* Die tweede Gebod sluit af met 'n heerlike belofte wat God se goedheid beklemtoon: "Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag". Hoewel Hy dus 'n gestrenge God is, is Hy veel, veel meer 'n God van barmhartigheid.
Die NAV vat die idee hier beter vas as die OAV. Waarskynlik gaan dit nie oor duisende mense nie, maar oor 'n duisend geslagte. Die belofte wil dus sê: God se toorn kring weliswaar uit tot vier geslagte, maar Sy liefdesguns tot 'n duisend!

# Verwaarlosing van individuele verantwoordelikheid masel uit in talle pastorale en ander uitwasse in die kerk.

* Die idee dat gelowiges se kinders min of meer vanself gered word, veroorsaak die waan in derduisende lewens dat hulle ewige heil verseker is, terwyl dit hoegenaamd nie die geval is nie. Nie alleen immuniseer dit mense teen die ware evangelie nie, dit vul ook kerke met menigtes sonder enige hartstog vir God se diens en eer. Dit lê nie net die kerk lam nie, dit lewer ook 'n uiters negatiewe getuienis teenoor die ongelowiges.

* Dis mode om vandag min of meer elke afwykende gedragspatroon te verduidelik in terme van onregte wat die oortreder in die verlede moes verduur het. Terwyl dit wel so is dat sekere ervaringe tot ellendige gevolge later in 'n mens se lewe kan lei, hef dit nie so 'n persoon se verantwoordelikheid en toere-keningsvatbaarheid op nie. Dis juis waarteen die Tweede Gebod waarsku. As ons villains as victims begin beskou, is dit laat in die dag. Ons mag nooit ophou om sonde "sonde" te noem nie. Ons mag nie slimmer as God probeer wees nie.

* Soortgelyk aan bogenoemde raak dit 'n algemene neiging om sonde op grond van genetiese swakhede te verontskuldig. Sekerlik speel genetika 'n beduidende rol in baie sondige ellendes. Maar dit verander niks aan Bybelse uitsprake wat hierdie dinge as sonde verklaar nie. Verontskuldig die genetiese wortels van wellus, humeurigheid, gewelddadigheid en moordsug my as ek my daaraan skuldig maak? Het ek nie my ganse sondige natuur in elk geval by my ouers geërf nie?
Waarlik, verantwoordelik bly ek verantwoordelik!

* Talle pastorale deurbrake vind eers plaas die dag as jy jou verantwoordelikheid opneem. Duisende bly gevangenes van hulle sondes, omdat hulle nie kans sien om openlik en eerlik te erken dat hulle sélf verantwoordelik is vir die gemors waarin hulle hul bevind nie.

* Laat ons wat weet dat die Here waarlik in Sy genade in ons lewens ingegryp het, daarom ons verantwoordelikheid opneem en nugter, volwasse en met vaste tred die pad van rentmeesterskap loop!
"Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien" (2Pt 1:3). 'n Lewe van Bybels-prinsipiële gehoorsaamheid in die lig van die ewigheid is waartoe Hy ons roep. En uiteindelik sal ons nie net aan Hom verantwoording doen nie, maar ook van Hom loon ontvang.

[1] Slaan dit na in die OAV of enige goeie Engelse vertaling. Vergelyk ook die N.G.B.§29 se beskrywing van die merktekens van ware Christene.

[2] Nie bloot intellektuele geloof nie, maar geloof soos Johannes dit in sy geskrifte definiëer: die dinamiese, bewustelike en inspannende skuil in Christus as plaasvervangende Saligmaker.

[3] Die Grieks dui op tipiese of voortgaande handeling. Vergelyk die NIV of Amplified Bible.


Nico van der Walt

Wednesday, June 8, 2011

ANTIPAS HEROUT No.13 : JESUS CHRISTUS, HOËPRIESTER VAN DIE NUWE VERBOND [1 van 3] - Enkele fondamentwaarhede

NIEMAND KAN DIE BYBELSE LEER VAN VERSOENING EN GOD SE VERLOSSINGSPLAN VERSTAAN, AS HY NIE BEHOORLIKE GREEP OP DIE WAARHEID VAN JESUS CHRISTUS SE MIDDELAARSKAP HET NIE. Hierdie enkele konsep lê aan die hart van die Godsopenbaring en is gevolglik een van die sleutels wat die evangelie oopsluit, trouens, die ganse Woord van God.
Die Bybel getuig van Christus. Dis 'n afwagtende profetiese getuienis in die Ou Testament; dis 'n terugkykende apostoliese getuienis in die Nuwe. En sentraal is die feit van Sy middelaarskap.

# 'n Middelaar is iemand in die middel. Hy is 'n tussenganger, 'n brug tussen twee (gewoonlik vyandige) partye. Hy het kontak met beide, simpatiseer met beide, en word deur beide vertrou. Sy taak is om elke party by die ander te verteenwoordig - en om sodoende versoening tussen hulle te bewerkstellig.

# Tussen God en mens is so 'n Middelaar noodsaaklik, omdat die sondeval vyandskap tussen hulle gebring het (Rom 5:10a). Gemeenskap is verbreek. Enersyds is die mens vyandiggesind teenoor God (Rom 8:7) en geslote vir Sy spreke (1Kor 2:6-16; 2Kor 4:4). Andersyds is God met toorn vervul oor die mens se sonde en eis Sy geregtigheid volle straf vir die skepsel se rebellie (Rom 1:18; 3:19; Ef 2:3b).

* Hierdie gebroke verhouding met sy Skepper is die mens se heel grootste probleem. Presies dit is Paulus se vertrekpunt as hy die heerlike waarheid van regverdiging deur die geloof in Romeine begin uiteensit (Rom 1:18).

# In die Ou Testament funksioneer God se verhouding met die verbondsvolk grootliks deur 3 soorte middelaars. Profete het namens Hom met die volk gepraat. Priesters het namens die volk voor Hom versoening gedoen. Konings moes die volk in gehoorsaamheid aan Hom lei - en sodoende Sy regering bemiddel.
Uiteindelik het hierdie 3 ampte wonderlik saamgeknoop in Christus.

Ou Testamentiese wortels

# Die oorspronge van alle groot Nuwe Testamentiese waarhede lê in die Ou Testament. Gesien in die lig van die progressiewe en geïntegreerde ontwikkeling van die Godsopenbaring is dit eintlik voor die hand liggend. Wie daarom Jesus Christus se middelaarskap, besonderlik dan nou Sy hoëpriesterskap, behoorlik wil verstaan, moet allereers die Ou Testamentiese wortels daarvan oopgrawe.

# Die verbondsvolk was meestal ongeletterde slawe toe hulle uit Egipte getrek het. God kommunikeer dus met hulle op 'n wyse wat hulle kan verstaan - met simbole en seremonies.

* Sentraal in die seremonies was die offerstelsel, met die Groot Versoendag as hoogtepunt. Die basiese boodskap hiervan was: redding kom deur plaasvervanging!

* Wanneer die gelowige Israeliet geoffer het, het hy effektief bely: Ek is 'n sondaar en verdien die dood. Maar ek glo daar is vergiffenis by U, my God. Ek pleit daarom: aanvaar hierdie offerdier as plaasvervanger. Wat daarmee gebeur, moet eintlik met my gebeur. Ek weet 'n diereoffer kan U nooit tevrede stel nie, maar hierdie handeling is 'n uitdrukking van my geloof dat U self (soos vir ons vader, Isak) die finale en hoogste plaasvervanger sal voorsien - die Lam van God!

* God se gunsgenote in die Ou bedeling het dus wel die vreugde van vergiffenis en versoening met Hom gesmaak. Waar kom dit duideliker na vore as in die Psalmboek?

* Hulle het weliswaar min verstaan. Nog net die eerste druppels van die Godsopenbaring het immers geval. Maar wie dít geglo het, só geglo het dat hy sy lewe daarvolgens ingerig het, is gered.

* Soos vandag, het regverdiging toe ook deur geloof alleen geskied (Gal 3:6, OAV). Paulus werk sterk hiermee as hy in Rom 4 beklemtoon dat hy nie 'n nuwe boodskap verkondig nie, maar die ou-ou verlossingsboodskap. "Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken" (Rom 4:3, OAV). Hierdie geregtigheid het hy nie deur werke verkry nie (v.6), ook nie deur die besnydenis nie (v.10), en ook nie deur wetsonderhouding nie (v.13).

* Ook in die Ou Testament was daar geen verlossingsheil buite Christus om nie. Voor Sy koms is die uitverkorenes se sondeskuld as 't ware teen Sy rekening afgeskryf. Mettertyd sou Hy dit wel kom vereffen (Rom 3:25; 1Kor 10:1-4; Heb 9:15).

# Uit wat hierbo gesê is, is dit duidelik dat die Ou Testamentiese offerdiens voorlopig was. En as sodanig was dit ook onvolmaak.

* Die wortelbetekenis van die Hebreeuse woord, versoening, is om te bedek. Die offers het dus die volk se sondes voor God bedek. Dit het egter nie die saak afgehandel nie; allermins! Die offerdiens was bloot 'n interim-maatreël.

* Hóé voorlopig en onvolmaak die Ou Testamentiese godsdiens werklik was, sou eers na die koms van Christus eksplisiet duidelik word.
Die Hebreërskrywer druk sterk daarop: Dit het bloedweinig bereik (7:18). Die priesters se werk was onvoldoende, omdat hulle sterflike mense was (7:23-24). Hulle moes immers ook vir hulle eie sonde offer (5:3; 7:27). Verder moes hulle offers oor en oor gebring word (10:1). En hierdie offers het niemand se gewete gereinig nie (9:9). Dit het allermins die ware probleem van sonde aangespreek (10:4, 11). En die onvoldoende aard daarvan het die heel duidelikste geblyk uit die feit dat dit nie toegang tot die allerheiligste verleen het nie (9:8). Niemand is dus volkome en finaal herstel in sy verhouding met God nie.

# Al het hy min verstaan, het die gelowige Israeliet wel geweet sy offers was bloot voorlopig (net 'n bedekking van sonde voor God se aangesig), dat elke offer profeties 'n Godsbelofte gedra het, en dat dit daarom 'n geloofshandeling was. Hy het daaraan vasgehou dat God wel mettertyd werk sou maak met sy sonde en die straf daarvoor - dat Hy self die volmaakte priesterskap sou instel en die volmaakte plaasvervanger sou gee. [1]

Die groot vervulling

# Soos die jare en geslagte voortgebeur het, het hoëpriester na hoëpriester gekom en gegaan (Heb 7:23). Die volk het gekreun onder hulle seremoniële pligte. Maar niks is ooit afgehandel nie; alles was voorlopig.
Eendag het 'n triomfantelike kreet egter 'n einde gebring aan die lang wag: "Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!" (Joh 1:29, 36). Die Groot Plaasvervanger het opgedaag! Die 'volheid van die tyd' het uiteindelik aangebreek (Gal 4:4).

# In veral die Evangelies is dit duidelik hoe Jesus se dissipels geworstel het om te verstaan hoe die Ou Testamentiese beloftes van 'n Messiaanse Middelaar in Hom vervul is. Vir die oorgrote meerderheid Jode, in hulle geestelike blindheid, was so 'n gedagte totaal onaanvaarbaar. Eers moes die Heilige Gees in Sy Pinkstervolheid kom om die Apostels 'in die hele waarheid' te lei (Joh 16:12-14). Eers toe die geheimenisse van die Nuwe Verbond [2] vir hulle oopgebreek is, het alles wonderlik in plek geval.

# Nêrens is meer volledig en in diepte oor die vervulling van die Ou Testamentiese offerstelsel geskryf, as in die Hebreërboek nie.

* Hebreërs is geskryf aan Joodse gelowiges vir wie die Christelike wedloop te moeilik begin word. Hulle oorweeg gevolglik om terug te keer na die Joodse godsdiens en seremonies. Dit vervul die skrywer met weersin en heilige verontwaardiging. Hierdie dwase mense wil terugdraai na iets wat nie meer bestaan nie - dinge wat in Christus vervul is! Wil hulle werklik nou God se genadegawe vertrap (Heb 6:6; 10:29)?

* Dis betekenisvol hoe die boek begin (1:1). Die Godsopenbaring is progressief. In Ou Testamentiese tye was God se spreke fragmentaries (veelmalig en veelsoortig), maar nou het Sy openbaring tot finale afronding gekom in Sy Seun se menswording en werk. Dit wat in die Ou Testament nog onvoltooid was, is nou afgehandel; dit wat voorlopig was, is nou finaal.

* In die res van die boek word hierdie uiters belangrike waarheid dan sistematies en met onontkombare logika uitgewerk. Die skrywer se tipiese werkswyse is om die mees verhewe dinge in die Joodse gemoed teenoor Christus te stel. In Sý lig vervaag een na die ander Ou Testamentiese ster dan tot 'n dowwe skaduwee.

* Maar hy wil ook seker maak sy lesers verstaan hom nie verkeerd nie. Die kontras tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament, waarmee hy so sterk werk, is nie die van valsheid en waarheid nie. Dis die kontras tussen beloftes en hulle vervulling; tussen skaduwees en hulle substansie; tussen die onvoltooide en die vervolmaking.
Daarom is die woord "beter" kenmerkend van die boek. Die Nuwe Testamentiese gelowige het in Christus 'n beter hoop (7:19); 'n beter verbond (7:22; 8:6), beter beloftes (8:6), en 'n beter Offer (9:23). Vergelyk ook 11:40 en 12:24.

* Die fundamentele argument van die Hebreërskrywer is dat God nou met Sy volk op 'n nuwe manier werk - in terme van 'n nuwe verbond (Heb 8:6-13). En die eintlike verskil tussen die Oue en die Nuwe is dat daar nou 'n nuwe Middelaar is - Profeet, Priester en Koning tegelyk!

* Sekerlik gee Hebreërs aandag aan Christus as God se Groot Profeet en Koning, maar die hoofklem is op Sy uitnemende en volmaakte priesterskap. Jesus Christus, Hoëpriester van die Nuwe Verbond, troon ver uit bokant Aäron, hoëpriester van die Ou Verbond. Hieraan word amper die helfte van die boek gewy (4:14-10:18).

* In 'n neutedop kan die Hebreërskrywer se dringende pastorale oproep só opgesom word: Kyk hoe bevoorreg is ons! Jesus Christus is die vervulling van 1500 Groot Versoendae. Miljoene diere is geslag. Eeu na eeu het die volk op God se Lam gewag. En nou het Hy gekom! Trouens, talle van ons het Hom self gesien! Kom tot stilstand, dink, begryp tog! Christus is soveel groter as die Levitiese priesterskap, soveel heerliker as Aäron. Hy is vervulling van die Seremoniële Wet. En julle wil omdraai - met só 'n Hoëpriester!

Die grondliggende amp

# Inderdaad is die Here Jesus Christus tegelyk Profeet, Hoëpriester en Koning van die Nuwe Verbond. En tussen hierdie drie verlossingsampte bestaan 'n onlosmaaklike en intieme verband. Tog is Sy Hoëpriesterskap die mees grondliggende van die drie.

* Vier maal haal die Hebreërskrywer Ps 110:4 aan: "Die Here het 'n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: 'Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek.'" (Heb 5:6; 6:20; 7:17; 7:21). En drie maal lewer die skrywer kommentaar op die feit dat God Sy Seun se Hoëpriesterskap met 'n eed bevestig het (Heb 6:17; 7:20-22; 7:28).
Sekerlik kan ons die gevolgtrekking maak dat die Hoëpriesterskap van ons Here Jesus Christus van die allergrootste belang is. En inderdaad is dit die diepste ankerpunt, die hart van ons redding. Die oorspronge van die evangelie lê in God se ewige raad. Die bekendmaking en geleidelike uitwerk daarvan geskied deur Christus se profetiese en koninklike ampte. Maar dis Sy Hoëpriesterskap wat die evangelie daargestel het.

* Niks laat Christus se amp as Profeet so oopblom as juis Sy Priesterskap nie. Want daar is bykans niks wat Hy as Profeet aan ons moet openbaar, wat nie wonderlik in Sy Hoëpriesterskap gedemonstreer en onderstreep word nie. Die Lam van God se hoëpriesterlike werk vorm tot 'n groot mate die inhoud van Sy profetiese verkondiging.
Hoeveel word nie daarin van God en Sy karakter geopenbaar nie! Sy soewereiniteit, Sy heiligheid, Sy geregtigheid, Sy Wet en volmaakte standaarde! Sy grootse raadsplan om Homself te verheerlik, Sy wysheid en almag! Sy liefdesgenade, Sy geduld, Sy versoenbaarheid!
Hoeveel skokkende onthullings oor die mens kom nie daarin na vore nie! Sy sonde en skuld, sy doemwaardigheid, sy volslae onvermoë om sy eie lot te verander!
Hoeveel helder lig word nie gewerp op die rykdomme van ons redding nie! Die objektiewe regsgeldigheid en onomkeerbare afgehandeldheid daarvan! Die toeganklikheid van God se genadetroon, die sekerheid van ons volharding, die onvervreembare sekuriteit van ons ewige erfenis!

* Sonder Christus se priesterskap sou Sy Koningskap ondenkbaar wees. Sy regeringsepter het Hy immers as priester verdien. Diegene wat Hy koninklik oorrompel en in Sy triomftog meevoer, is presies dieselfde mense wat Hy eers as priester moes loskoop. Die vyand wat Hy nou onder Sy voet verbrysel, se rug is oor die kruis geknak.

# Waarlik, die Here se priesterskap is grondliggend en sentraal. Golgota is die middelpunt van alles. Dis waarom Paulus oor niks anders wou praat as oor Jesus Christus nie - en spesifiek oor Hom as die gekruisigde (1Kor 2:2).

Enkele implikasies

Daar is geen wesensverskil tussen Ou en Nuwe Testamentiese redding nie.
Die reddingsbeginsel bly steeds regverdiging deur geloof alleen. Gelowiges in die ou bedeling het vorentoe gekyk - deur die bril van die Seremoniële Wet. Wat het hulle gesien? Die Lam van God! Al het hulle baie dof gesien, as hulle God se beloftes geglo het, is dit hulle tot geregtigheid gereken.
Sedert die koms van Christus kyk gelowiges terug - deur die bril van die Nuwe Testamentiese openbaring. Wat sien hulle? Die Lam van God! Al sien hulle baie duideliker, geld dit steeds: as hulle God glo, word dit hulle tot geregtigheid gereken.

Die Godsopenbaring in Ou en Nuwe Testament is wonderlik geïntegreerd.
Natuurlik is daar 'n diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond. Hoe duidelik maak die Hebreërskrywer dit nie! Maar, ewe belangrik, daar is ook 'n onverbreekbare kontinuïteit.
Dit het geweldige teologiese implikasies, wat ons nie nou kan uitwerk nie. Maar deur die eeue is dwalinge sonder tal te wyte aan wanbegrip van die verhouding tussen die twee Testamente.

Vergiffenis deur die offer van 'n strafdraende plaasvervanger lê aan die hart van God se verlossingsplan.
Die bloedspoor van 'n miljoen offers loop van die paradyshek af tot op Golgota. Maar daar stop dit. Hoe bevoorreg is ons nie! Ons is vry van die swaar juk van die offerdiens. Die finale Offer is eens en vir altyd geoffer. Dag na dag kan ons vrylik drink uit die fontein van Christus se volmaakte en afgehandelde werk as Hoëpriester.
Presies hier lê die verskil tussen die Christelike geloof en alle godsdienste - ook die churchianity van 'n formalistiese, dooie kerk. Alle godsdienste, kultusse en ketterye preek: Doen! Doen! Doen!. Die Evangelie jubel dit uit: Gedoen! Gedoen! Gedoen!

Hierdie plaasvervanging realiseer egter nie outomaties nie.
Weer en weer roep die Ou Testamentiese profete Israel op tot verootmoediging, hartsgebrokenheid en bekering. En tot vandag toe is dit nie anders nie. Dis die 'armes van gees' (Matt 5:3, OAV), die geestelike bedelaars, wat die Koninkryk ingaan. Dis diegene wat Christus vanuit hulle geestelike bankrotskap omhels en vir lewe en dood vashou - wat vrygespreek en met Sy geregtigheid beklee word.

So wesentlik belangrik is die tema van hierdie studiestuk (en die volgende twee), dat 'n evangelie wat iets anders as sentrale fokuspunt het, nie die ware evangelie is nie, maar 'n 'ander evangelie' (2Kor 11:2-4; Gal 1:6-10). Prediking wat nie weer en weer jubelend in die eens en vir altyd afgehandelde werk van Christus roem nie, red nie - dit verdoem (Rom 1:16-17; 1Kor 1:17-2:5). Hoe sterk beklemtoon die Hebreërskrywer dit nie in sy 6 pastorale waarskuwings nie! (2:1-4; 3:7-4:13; 5:11-6:12; 10:26-39; 12:14-17; 12:25-29).
Nóóit kan die leser hom oor 'n belangriker vraag verantwoord nie: Stel jy regtig al jou vertroue, vir lewe en vir sterwe, vir tyd en vir ewigheid, in Jesus Christus en Sy eens en vir altyd afgehandelde werk - beide as Priester en as Offer - en daarin alleen?

[1] As mens die Ou Testament lees, veral die profete, is dit duidelik hoe die verlange na God se Messiaanse Middelaar, Sy Groot Profeet, Priester en Koning, gegroei het.

[2] Daar is sprake van 3 groot verbonde in die Bybel. Eerstens is daar die Verlossingsverbond tussen die drie persone van die Goddelike Drie-eenheid - om tot hulle selfverheerliking saam te werk in die verlossing van sondaars (ook soms die Vredesraad genoem). Tweedens is daar die Werkverbond tussen God en Adam, asook daarna tussen God en die Laaste Adam - dat die mens deur gehoorsaamheid sy beloofde erfenis moes verwerf. Derdens is daar die Genadeverbond tussen God en die gevalle mens - dat elke sondaar wat hom bekeer en in algehele afhanklikheid sy geloofsvertroue in die verdienste van Christus alleen stel, deur God regverdig verklaar sal word. Hierdie Genadever-bond het 2 fases of komponente: die Ou Verbond en die Nuwe Verbond.
Die begrippe 'verbond' en 'testament' is in werklikheid alternatiewe vertalings van 'n enkele Hebreeuse woord, enersyds, en 'n enkele Griekse woord, andersyds. Mens kan dus, i.p.v. Ou en Nuwe Verbond, om 't ewe praat van Ou en Nuwe Testament.
Nico van der Walt

ANTIPAS HEROUT No.14 : JESUS CHRISTUS, HOËPRIESTER VAN DIE NUWE VERBOND [2 van 3] - Sy afgehandelde werk

Vraag 1: As jy, as ware Christen, kon kies waar om te bly - in Adam se paradys voor die sondeval, met sy sondelose bestaan in gemeenskap met God, of in ons huidige wêreld met sy sonde, geweld, ellende en hartseer - waar sou dit wees?

Vraag 2: As jy inderdaad 'n Christen is, wat is die diepste grond vir jou redding? Kies een van 3 opsies: onderhouding van God se Wet; geloof in Jesus Christus; enigiets anders.


Die omvang van Christus se hoëpriesterlike werk

# God se Woord leer weer en weer dat die Vader voor die grondlegging van die aarde 'n baie groot aantal sondaars uitverkies het tot die ewige lewe. Hulle sou dus nie die ewige dood kry, soos hulle verdien nie (Hand 13:48; 18:9-10; Rom 8:28-39; 9; Ef 1:3-14; 1Tess 5:9; 2Tess 2:13-15 (OAV); 2Tim 1:8-9; 1Pet 1:2; Op 13:8). In die ewige raad van God is hierdie mense aan die Seun "gegee" (Joh 6:37, 39; 10:29; 17:6, 9, 24), met die oog daarop dat Hy alles moes doen wat vir hulle verlossing nodig sou wees.

# Vanuit die Nuwe Testament is dit duidelik dat die Seun se taak twee groot komponente het.
Eerstens moes Hy die objektiewe regsbasis vir hierdie mense se verlossing kom daarstel. Dit het gebeur tydens Sy vernedering hier op aarde en is gevolglik 'n afgehandelde saak. In die teologie word hierna as die genoegdoening verwys.
Tweedens moet Hy hierdie verlossing in hulle lewens verwerklik, of toepas. Dit gebeur in die lewe van elke betrokke individu. Dit is dus 'n proses wat deur die eeue tot en met die wederkoms strek. As dit oor Sy hoëpriesterskap gaan, word hierdie voortgaande werk van Christus Sy voorspraak genoem.

# Nou eers: Jesus Christus se afgehandelde genoegdoening.

Sy gehoorsaamheid

# Christus se genoegdoening is so geskakeerd dat die Bybel verskeie idees en uitdrukkings gebruik om dit te omskryf. So praat die Nuwe Testament van Sy offer, Sy verlossings-, Sy versoenings- en Sy middelaarswerk.
Die vraag ontstaan nou, is daar nie 'n allesinsluitende idee wat al hierdie fasette van Sy werk saambind nie? Inderdaad. Hierdie onderliggende en omvattende beginsel is te vind in Jesus Christus se gehoorsaamheid aan Sy Hemelse Vader.

Jesus Christus stel die regsbasis vir die redding van sondaars daar deur as Hoëpriester Homself in totale gehoorsaamheid aan Sy Vader te offer - as die ewige Lam van God.

* Dit was dus die gehoorsaamheidsoffer (niks minder nie) van Sy Seun wat die Vader in Sy heiligheid, geregtigheid en toorn bevredig en met sondaars versoen het.

# Presies dit is die Hebreërskrywer se argument (10:5-10) as hy Ps 40 aanhaal: "Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: 'Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het. Brandoffers en sondeoffers het U nie behaag nie! Toe het Ek gesê: Kyk, Ek het gekom, o God, om u wil te doen. In die boekrol is dit van My geskrywe.' Eers sê Hy: 'Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie,' hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. Daarna sê Hy: 'Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.' Hy skaf dus die eerste offers af om 'n ander offer in die plek daarvan te stel. Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd."

# Dis verder betekenisvol dat die duidelikste Messiaanse gedeelte in die Ou Testament na die komende Een verwys as God se Dienaar (Jes 52:13-53:12). Vergelyk ook Joh 6:38; 10:17-18; Rom 5:19; Fil 2:7-8; Heb 5:8-9.

Die gevalle mens se probleem

# Voor die sondeval was die mens in 'n werkverbond met God. Adam het kennis, geregtigheid en vryheid gehad, maar hy moes die ewige lewe verdien - deur persoonlike en volmaakte gehoorsaamheid (Gen 2:16-17). Waarskynlik sou daar 'n proeftydperk wees en is die boom van die lewe - en waarvoor dit staan - vir hom as beloning voorgehou (Gen 2:9; 3:22). Die prominente plek wat die boom van die lewe in Openbaring se beloftes aan oorwinnaars in Christus inneem (2:7; 22:2,14), bevestig so 'n vertolking.
In 'n neutedop het die werkverbond hierop neergekom: Wees gehoorsaam - en beërf die ewige lewe; wees ongehoorsaam - en sterf vir ewig.

# Adam, verbondshoof van die mensheid, het misluk. Hy het gesterf - en saam met hom sy nageslag, die ganse mensheid wat uit sy lendene gebore is. Die verskriklike gevolg is dat die gevalle mens 'n dubbele probleem voor sy heilige Skepper het - sy skuld en sy onvermoë.

* Hy is in skuld by God oor sy mislukking en rebellie. En God se heilige geregtigheid vereis dat dit betaal moet word. Tydens die daarstelling van die verbond al, is die boete duidelik uitgespel - die ewige dood!

* Maar selfs al sou die skuld opgehef of vereffen word, los dit nie die mens se dilemma op nie. Dit sou hom in presies dieselfde posisie laat as waarin Adam voor die sondeval was. Hy sou steeds die ewige lewe moes verdien - deur volgehoue gehoorsaamheid. Dit is en bly immers die absolute en ononderhandelbare voorwaarde vir die ewige lewe. En as Adam nie kon slaag nie, hoeveel te minder die gevalle mens!

Verlossing in Christus

# God kon die mensheid in sy gevalle staat en in die ewige dood gelos het. Dit sou Sy onbetwisbare reg gewees het. Hy het dit immers met die gevalle engele gedoen! Maar vir die gevalle mens, kroon van Sy skepping, het God 'n verlossingsplan in werking gestel.

* Hy sou opnuut met 'n Adam begin - Sy eie Seun, die Tweede Mens, die Laaste Adam (1Kor 15:45-47).

* Die Laaste Adam was weer in 'n werkverbond met God. Tot vandag toe het God nie Sy voorwaarde vir die ewige lewe verander nie!

* Waar die eerste een misluk het, was die Laaste Adam egter volmaak getrou en gehoorsaam. En sodat niemand kan twyfel dat Hy die offer van Sy Seun se gehoorsaamheid aanvaar het nie, het die Vader dit onbetwisbaar geproklameer - deur Hom uit die dood op te wek.

# Die laaste Adam se getrouheid het duiselingwekkende implikasies. Hy het immers gekom met die oog op 'n nuwe skepping, besonderlik 'n nuwe mensheid. Hiervoor sou Sy verbondsgehoorsaamheid die regsbasis bied. Dit sou die gevalle mens se dubbele dilemma - sy skuld en sy onvermoë - volmaak aanspreek.

Regverdiging

# Elke mens se grootste probleem is dat hy deel van die gevalle mensheid onder God se toorn is (Rom 1:18; Ef 2:3b, OAV). Wat is die oplossing? Om uit te kom uit die gevalle mensheid, waarvan Adam die hoof is, en deel te word van die nuwe mensheid, waarvan Christus die Hoof is (Rom 5:12-21).

# Hoe op aarde kan dit gebeur? Deur goeie werke? Baie het so gedink, en dink steeds so. Maar die regte antwoord is so eenvoudig dat godsdienstiges aanstoot neem en ongelowiges lag (1Kor 1:23). Die evangelie beier die vreugdeboodskap klokhelder uit: deur die geloof alleen word 'n sondaar met Christus verenig! En let op, beide begrippe is kardinaal belangrik: geloof én alleen. Christus red óf volkome, óf glad nie.

# Wanneer 'n sondaar sy volle geloofsvertroue in Jesus Christus alleen stel, word hy geregverdig (die NAV se 'vrygespreek' is onbevredigend, soos hieronder sal blyk). Hoe werk dit? Om te verstaan, moet 2 basiese begrippe begryp en vasgehou word.

* Plaasvervanging deur strafdraende bloedvergieting is aan die hart van God se verlossingsplan. As daar iets is wat die Ou Testamentiese offerdiens wou tuisbring, dan is dit hierdie waarheid. As sulks het dit profeties vooruitgewys na die Lam van God. Toe Jesus as Hoëpriester Homself in gehoorsaamheid aan Sy Vader geoffer het, het Hy die offerdiens vervul - en plaasvervangend vir die nuwe mensheid opgetree.

* Toerekening is 'n boekhou-begrip en dui op 'n inskrywing in 'n rekeningboek - om te debiteer of te krediteer (Vgl. Rom 4, OAV, waar die begrip 11 keer gebruik word).

# Regverdiging is dus 'n dubbelkuur - vanweë sondaars se dubbele probleem.

* Enersyds word die probleem van skuld aangespreek. Wanneer 'n sondaar glo, word sy skuld aan Christus toegereken, gedebiteer. Hierdie skuld het die Seun in Sy vernedering kom betaal, besonderlik op Golgota. Dit laat die gelowige skuldvry. In God se boeke het hy nou die status van iemand wat nooit gesondig het nie. So red hulle Hoëpriester en Verbondshoof se passiewe gehoorsaamheid die nuwe mensheid van die ewige verdoemenis.

* Andersyds word die probleem van onvermoë aangespreek. Christus se lewenslange gehoorsaamheid word aan elkeen wat glo, toegereken, gekrediteer. Dit maak die gelowige regverdig voor God en besorg aan hom in God se boeke die status van iemand wat die Wet volmaak onderhou het. So verleen hulle Hoëpriester en Verbondshoof se aktiewe gehoorsaamheid aan die nuwe mensheid toegang tot die ewige lewe.

Jesus het Homself geoffer

# Hierbo is die uitdrukkings passiewe gehoorsaamheid en aktiewe gehoorsaamheid gebruik. Dis standaard terme, wat nuttig is om te onderskei tussen die twee aspekte van Christus se gehoorsaamheid aan Sy Hemelse Vader. Dis egter nie Bybelse begrippe nie. Ook kan dit maklik aanleiding gee tot allerlei skewe idees oor Christus se versoeningswerk. 'n Paar punte van kwalifikasie is dus nodig.

# Wat Christus se sg. passiewe gehoorsaamheid betref, moet ten minste twee dinge vasgehou word.

* Christus se lyding het nie in Getsemane en op Golgota vir die eerste maal begin nie. Dit het begin toe Hy Homself verneder het om 'n mens te word (Fil 2:6-8). Dink daaraan: Hy, deur wie God alles geskape het (Kol 1:15-20), word 'n hulpelose babatjie! Nee, reg van die begin af, en regdeur Sy lewe hier op aarde, het Hy gely - en dus swaar betaal aan my sondeskuld.

* Om na 'n aspek van Jesus se gehoorsaamheid as 'passief' te verwys, is eintlik hoogs onbevredigend. In die kruisgebeure was Hy allermins passief - onbetrokke, gedienstig, gedweë. Die teendeel word besonder sterk deur die Nuwe Testament onderstreep. Joh 10 is veral duidelik: "Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het." (v.17-18; ook v.11,15).
God se Groot Hoëpriester is nie geoffer nie; Hy het Homself geoffer - beslis en doelgerig! (Heb 9:24-26). Vgl. ook Jes 53:12; Matt 20:28; Gal 2:20; Ef 5:2,25; Heb 1:3.

# Wat Christus se sogenaamde aktiewe gehoorsaamheid betref, hou dit nie op wanneer die klem sterker op Sy passiewe gehoorsaamheid val nie. Nee, dit kom juis tot hoogste uitdrukking in die kruisgebeure. Nooit styg Sy hartstog om Sy Vader volkome te behaag tot hoër hoogtes, as wanneer Hy aktief Homself gee vir sondaars nie.

❏ Die sg. passiewe en aktiewe gehoorsaamheid van Jesus is dus só vervleg, dat ons dit net kan onderskei, maar nooit kan skei nie. Daarbenewens was Hy in geen aspek van Sy gehoorsaamheid werklik passief nie.

Toepassing

1. Dis uiters belangrik om te onthou: regverdiging is 'n juridiese gebeurtenis, dit gebeur as't ware in God se boeke - dus buite my. Dis objektief.
Natuurlik moet ons onsself voortdurend in die standaarde van God se Woord spieël. En die apostel beveel: "Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe." (2Kor 13:5).
Maar baie Christene val in die slaggat van oordrewe introspeksie - 'n voortdurende besig-wees met hoe jy as Christen vaar. Dis 'n resep vir moedeloosheid en lam geloofsknieë. Dit stroop spoedig van geloofsekerheid, asook van vrymoedigheid om te bid en te getuig. Waarom? Almal van ons se heiligmaking is pateties onvolmaak. Wie van ons haal naastenby die volmaakte standaarde van God se wet? As ons morele en godsdienstige prestasies ons vir God aanvaarbaar moes maak, wie sou gered kon word?
Nee, redding is ten diepste objektief van aard, nie subjektief nie. Die essensie van saligmakende geloof is om volledig, nie gedeeltelik nie, staat te maak op jou Plaasvervanger se middelaarswerk - namens jou en dus búite jou. Dis jou status (jou saldo) in God se boeke wat jou redding bepaal!
Hierdie waarheid word wonderlik in die Ou Testament verbeeld. In Num 21 raak die volk opstandig teen God. Hy stuur dan giftige slange onder hulle in en baie mense sterf. As hulle hul sonde bely, beveel die Here vir Moses om 'n koperslang te maak en dit op 'n paal te sit. Elkeen wat gepik was en na die koperslang opgekyk het, is toe genees. Let op, die antwoord het nie in menslike pogings en middele gelê nie; nee, hulle moes bloot hulle oë op die koperslang vasnael! (v.4-9).
As Jesus eeue later met Nikodemus oor die ewige lewe praat, gebruik Hy juis hierdie gebeurtenis om na Sy komende kruisdood te verwys. En die parallel wat die Here trek, maak dit duidelik: om te glo is soos om te kyk (Joh 3:14-15).

Om in Christus te glo, is om op te kyk na die Gekruisigde
en om jou oë in afhanklike vertroue op Hom en op Hom alleen vas te nael.

Dis waarom "die bloed van die Lam" sonder uitsondering die "aanklaer van die broeders" skaakmat plaas. (Op 12:10-11). Na tweeduisend jaar het hy steeds geen antwoord op hierdie onweerspreekbare argument nie. Christus se versoeningswerk is finaal en onomkeerbaar afgehandel!
Van elkeen in Christus geld dit op hierdie oomblik: tot in ewigheid sal jy nie 'n heerliker status in God se boeke geniet as tans nie, want jou saldo, nou reeds, is dié van jou volmaakte Plaasvervanger. Wat meer is, nie 'n enkele persoon wat met Christus verenig is, het 'n hoër status as die res nie, want almal het presies dieselfde saldo - die van die Middelaar.

2. As jy deur geloof met Christus verenig is, is daar nie 'n enkele letter van die Wet wat opgeroep kan word om teen jou te getuig nie.
Stel jou 'n tipiese gesprek voor tussen die Wet en 'n ware Christen:

Wet: "Het jy my gebooie gehou?"
Christen: "Nee, helaas nie!"
Wet: "Wel, het jy die straf vir ongehoorsaamheid betaal?"
Christen: "Nee, nie self nie. Maar Christus het dit vir my betaal!"
Wet: "En die voorwaardes vir die ewige lewe - het jy die toets geslaag?"
Christen: "Nee. Ek sal dit nooit kon regkry nie. Maar Christus het dit vir my gedoen! En ek is daarmee gekrediteer in God se boeke!"
Hier kom die gesprek elke keer summier tot 'n einde. Die laaste woord is gespreek.

3. Aan die begin is gevra: wat is die diepste grond van jou redding?
Het jy dalk in die slagyster getrap deur 'geloof' te kies? Dis 'n fatale flater! Dis diskwalifiserend! Nooit ooit kan iets in my die diepste grond vir my redding wees nie. Geloof is net die hande waarmee ek Christus se verdienste vasgryp - niks meer nie! Nee, die antwoord is wetsgehoorsaamheid! Nie myne nie, maar Christus s'n!

4. En waar sou jy wou bly?
Die keuse is voor die hand liggend. Adam se paradys was 'n volmaakte plek, met die ewige lewe as 'n werklike moontlikheid - maar nét as 'n moontlikheid. Die Christen se huidige wêreld is 'n baie onvolmaakte plek, maar met die ewige lewe as 'n onaantasbare en onomkeerbare feit!

5. Is jou volle sekuriteit - vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid - in Jesus Christus en in Hom alleen?
Indien jou dankbaarheid vir volkome verlossing in Christus só werklik is dat dit jou dring om jou Verlosser met alles wat jy is en het te dien, het jy alle rede om te glo dat jy geregverdig is, dat die dubbelkuur op jou van toepassing is.
As jy nog nie in hierdie genadetyd in Christus ingevlug het nie, weet dit, die uitnodiging, maar ook die bevel, is steeds geldig: "... elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!" (Op 22:17).
Nico van der Walt

ANTIPAS HEROUT No.15 : JESUS CHRISTUS, HOËPRIESTER VAN DIE NUWE VERBOND [3 van 3] - Sy voortgaande werk

Afgehandel?

Is Christus se middelaarswerk op Golgota afgehandel? Ja en nee!

# Die Woord beklemtoon keer op keer dat ware gelowiges se redding onomkeerbaar op Golgota verseël is. Die regsbasis is onvernietigbaar gelê - eens en vir altyd, soos die Hebreërboek dit so sterk beklemtoon.

# Maar die redding wat op Golgota vir ons bewerkstellig is, moet in ons lewens verwerklik word. Hiervoor sorg Christus se voortgaande hoëpriesterlike werk. Sonder Sy dood is daar geen redding nie; te min besef dat dit sonder Sy lewe ewe onmoontlik is!

# In AH 14 is gekyk na Christus se afgehandelde hoëpriesterlike genoegdoening op aarde. Nou is Sy voortgaande hoëpriesterlike voorspraak in die hemel aan die orde.

'n Ewige Hoëpriester

# "Die hoofsaak van wat gesê is, is dit: ons het 'n Hoëpriester, Een wat gaan sit het aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemel." (Heb 8:1). Christus is steeds hoëpriesterlik besig; trouens, Sy priesterskap is ewig. (Heb 7:24-25). Die Nuwe Testament het nie baie besonderhede hieroor nie, maar dit openbaar genoeg om ons elke dag te bemoedig en lewenslank te vertroos.

# In hierdie verband maak die Hebreërskrywer baie van die feit dat die Here 'n ewige priester volgens die orde van Melgisedek is (5:6, 10; 6:20; 7:21).
In 7:1-17 antisipeer en antwoord hy 'n vraag wat waarskynlik in sy Joodse lesers se gemoedere leef: hoe kan Jesus 'n priester wees, aangesien Hy uit die stam van Juda, en nie uit Levi is nie? (7:13-14). Dis juis die punt wat begryp moet word, sê hy dan. Jesus is nie net 'n priester nie, Hy is 'n koninklike-priester - van 'n hoër priesterorde as die van Aäron en die Leviete.
Melgisedek was koninklike priester van Salem in die tyd van Abraham. Hy verskyn en verdwyn ewe skielik (Gen 14:18-20). Die Ou Testament verwys net nog een maal na hom, en wel in die Messiaanse profesie van Ps 110:4.
As priester van die Allerhoogste God (7:1) was hy 'n skaduagtige vooruitwysing na die Messias. Die Hebreërskrywer werk met veral 3 dinge om sy punt tuis te bring:

* Abraham het 'n tiende aan Melgisedek betaal, en dié het as priester vir Abraham geseën. Op daardie stadium was die hele stam van Levi nog by wyse van spreke in Abraham se lendene. Deur hulle familiehoof het die Leviete dus tiendes aan Melgisedek betaal en is hulle deur hom geseën. Dis gevolglik voor die hand liggend watter priesterorde die hoogste is (7:2, 4-10).

* Melgisedek se priesterskap is ewig, anders as die van die Leviete. Mens lees per slot van sake niks van sy vader of moeder, of van sy geboorte of afsterwe nie (7:3).

* Salem het later die Stad van Dawid geword - Jerusalem. Dawid is gevolglik erfgenaam van die dinastie van Melgisedek. En Dawid is uit die stam van Juda - soos ook Jesus! Christus is dus 'n priesterlike koning en 'n koninklike priester.

Christus tree in die hemel op - ter wille van ons

Heb 9:24b verseker ons dat Jesus Christus in die hemel self ingegaan het om nou ter wille van ons voor God te verskyn. Heb 7:25 sê Hy lewe vir altyd om vir die gelowiges by God in te tree. Heb 2:17-18 en 4:14-16 bemoedig ons om in getrouheid en gebed te volhard omdat ons 'n Hoëpriester vol medelye in die hemel het.

Ou Testamentiese wortels

Eks 28:9-30 (vgl. ook Eks 39) sê dat Ou Testamentiese hoëpriesters met 2 stene op die skouers en 12 op die bors voor God verskyn het. Op beide hierdie stelle stene is die name van Israel se 12 stamme gegrafeer. So is die stamme se name dan in die teenwoordigheid van die Here ingedra om Hom aan hulle te herinner (28:12, 29, 30).
Duidelik sinspeel die Hebreërskrywer hierop as hy sê dat Christus nou ter wille van ons voor God verskyn (9:24). Hy dra as 't ware diegene wat deur die geloof met Hom verenig is op Sy sterk skouers en liefdevolle hart weer en weer tot reg voor die Vader se genadetroon om Hom aan hulle te herinner.

Die dubbele gerigtheid van Christus se voorspraak

Die Nuwe Testament in die algemeen, en Hebreërs in die besonder, dui op 2 gerigthede in ons Here se voorspraak vir Sy aardse heiliges: hulle bewaring en hulle vervolmaking.

Een, Sy voorspraak is gerig op die instandhouding en bewaring van Sy geliefdes in 'n bose en vyandige wêreld.

# Heb 2:17-18 is veral betekenisvol in hierdie verband: "Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word."

* Die Here se voorspraak geskied in diepe meegevoel en solidariteit met ons, aangesien Hy in Sy vernederde staat ook deur swaarkry, vervolging en versoeking moes gaan. Een van die redes waarom Hy moes mens word en 'n tydlank op aarde tussen mense leef, was om Hom voor te berei vir hierdie voortgaande bediening.

* Hierin lê wonderlike troos vir die Christen-pelgrim: ons het 'n simpatieke verteenwoordiger in die hemelse troonkamer. As Hy oor die afsterwe van Lasarus gehuil het, hoe sou Hy klinies-afsydig kon staan as ek op my sterfbed worstel?

* Laat ons nooit vergeet nie: Sy bewarende meegevoel is almagtig (1Joh 5:18) en Sy voorbidding absoluut effektief (Joh 11:42).

# In Rom 8:31-39 jubel Paulus dat diegene wat met Christus deur die geloof verenig is, nooit van Sy liefde geskei kan word nie. En een van die redes daarvoor is die feit dat Christus by God vir hulle pleit (v.34).

# In 1Joh 1:8-2:2 moedig die apostel gelowiges aan om teen sonde te stry, maar om ook met vrymoedigheid om vergiffenis te bid wanneer hulle geswig het - omdat ons in Christus 'n voorspraak by die Vader het.
Hy tree dus nie net vir ons in as ons met lyding, versoekinge en vyandskap worstel nie, maar ook wanneer ons per geleentheid in die stryd misluk.

# 'n Voorbeeld van sulke voorbidding word in Luk 22:31-32 beskryf. Voor Petrus se val bid die Here dat sy geloof hom nie sal begewe nie en dat hy na sy inkeer 'n sinvolle bediening sal hê. Let wel, Jesus het nie gebid dat Petrus nie moet val nie (dit was oënskynlik baie nodig vir sy heiligmaking), maar dat hy nie moes bly lê nie. Let verder op dat die Here kennelik nie vir Judas Iskariot gebid het nie.

Twee, Sy voorspraak is gerig op die voltooing en vervolmaking van ons verlossing - ons wat deur die Vader aan Hom toevertrou is.

# Oor Jesus Christus as hemelse Hoëpriester sê die Hebreërboek: "... maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit 'n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree." (7:24-25, OAV). Hierdie verse kan inderdaad op twee maniere vertaal word, soos die NAV en NIV voetnota toon, maar die OAV en NIV se vertalingskeuse pas waarskynlik beter in die konteks. Daar sit beweging in die Grieks: Hy red diegene wat deur Hom na God gaan - in volkomenheid in. En Hy doen dit as Priester wat vir altyd leef om vir hulle by God in te tree.

* Die verlossing van 'n sondaar is 'n proses en die Nuwe Testament praat daarvan in 3 tye. Ons is gered (verlede tyd: Luk 7:50; Ef 2:5, 8); ons word gered (teenwoordige tyd: 1Kor 1:18; 2Kor 2:15); ons sal gered word (toekomstige tyd: Rom 13:11; 1Pet 1:5). Hierdie proses word voortgestu deur die voorspraak van ons hemelse Hoëpriester!

* Die Here was baie bewus daarvan dat die uitverkorenes as rentmeesterskap deur die Vader aan Hom gegee is - met die verantwoordelikheid om alles te doen wat vir hulle redding en herskepping nodig sou wees. En voordat een en elkeen van hulle nie uit die dood opgewek is nie, sal Sy taak nie voltooid wees nie (Joh 6:38-40, 44, 54; 10:25-30). Eers na afhandeling van hierdie grootse en kosmiese missie, sal Hy die koningskap weer aan die Vader oordra (1Kor 15:20-28).

# Terwyl dit Christus se voorspraak is wat die uitverkorenes se verlossingsproses voortstu, is dit die Heilige Gees wat dit in hulle lewens verwerklik. Die aand voor Sy kruisiging belowe die Here Jesus dan ook dat Hy Sy dissipels nie as weeskinders sal agterlaat nie, maar dat Hy die Vader sal vra om na Sy vertrek 'n ander Voorspraak vir hulle te stuur (Joh 14:16-18). Die antwoord op hierdie gebed vind op die Pinksterdag plaas met die uitstorting van die Heilige Gees nadat die verheerlikte en verhoogde Christus die belofte, waarop eeue gewag is, van die Vader ontvang het (Hand 2:33). En sonder die daaropvolgende werk van die Gees is die voortgang en volvoering van die verlossingsplan ondenkbaar.

Die Hoëpriesterlike gebed in Johannes 17

Christus se gebed is aangrypend en betekenisvol. Enkele sake staan uit.

# Hy bid nie vir die wêreld nie, maar net vir diegene wat die Vader vir Hom gegee het (v. 2, 6, 9, 24).

# Hy bid onder meer vir hulle bewaring in 'n bose omgewing (v. 11-12, 14-16), vir hulle onderlinge eenheid (v. 21-23) en vir hulle uiteindelike verheerliking (v.24).

# Hy het hierdie gebed spesifiek gebid terwyl Sy dissipels nog by Hom was sodat hulle Sy blydskap in alle volheid in hulle kon hê (v. 13). Hy het dus bedoel dat die dissipels die gebed moes hoor. Waarom? Die Here wil hê dat ons wat aan Hom behoort ons in Sy voorspraak moet verlustig en weer en weer troos en sekuriteit daaruit put.

Toepassing

Wat beteken dit alles vir ons vandag?

1. Elke stukkie werklikheid en egte belewing van my Christenskap is 'n uitvloeisel, nie net van ons Hoëpriester se afgehandelde genoegdoening nie, maar ook van Sy voortgaande voorspraak.
Dit sluit roeping en wedergeboorte, geloof en bekering, heiligmaking en volharding in. Hier is die oorsprong van elke stukkie insig en oortuiging; van my aanbidding, liefde en ywer; van my gehoorsaamheid en vrug; van my heiligmaking en gebedsverhoring.
Ons Middelaar is persoonlik en puntenerig ingestel op elkeen wat die Vader aan Hom toevertrou het. Hy sal nie Sy voorspraak staak voordat elkeen van Sy kosbares tuisgekom het nie. Hy sal aanhou totdat Hy en Sy hele bruid finaal verenig is.
Luister wat bid die Here in Joh 17:24: "Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle My heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het."
Leef jy met 'n blymoedige hart dag na dag in hierdie sekuriteit? Hou jy soos 'n drenkeling aan hierdie waarheid vas wanneer beproewinge jou wil verswelg?

2. Kan jy nou sien waarom Paulus sê alles - ons geloof en ons prediking - is tevergeefs as Christus nie opgestaan het nie (1Kor 15:12-19)?
Sy voortgaande voorspraak is nie die enigste rede waarom Hy persoonlik, fisies en histories moes opstaan nie, maar daarsonder was ek gewis steeds geestelik dood en verlore.

3. In watter verskriklike en ellendige toestand verkeer die ongelowiges nie!
In Joh 17:9 sê die Here Jesus uitdruklik: "Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort."

# Hierdie mense is sonder God en sonder hoop in die wêreld. En hulle gaan God se Regterstoel tegemoet sonder 'n Middelaar en 'n Advokaat. Hulle skuld is nie gedelg nie; hulle het net hulle eie geregtigheid (of gebrek daaraan!) om aan die Driemaal-Heilige te bied. Van diegene wat op die oordeelsdag só voor die Groot Regter verskyn, sê God se Woord duidelik dat hulle onvermydelike eindbestemming die poel van vuur is! (Op 20:11-15).

# Is dit al wat mens dus vir iemand kan sê wat nie deur die geloof met Christus verenig is nie? Nee! 'n Duisend maal, nee! In Sy Hoëpriesterlike gebed bid Christus ook vir diegene wat deur die apostoliese getuienis - die Nuwe Testamentiese evangelie - tot geloof in Hom sal kom (Joh 17:20). Vir elkeen wat dus wegdraai van sy sonde en in Christus invlug, is daar die sekere belofte dat die Hoëpriester se afgehandelde en voortgaande werk ook op hom of haar van toepassing sal wees.

4. Die Hebreërboek beklemtoon dat die Hoëpriester se voortgaande werk ingrypende implikasies vir ons eie gebedslewe het.
Die een groot effek wat dit op ons behoort te hê, is die van heerlike vrymoedigheid om weer en weer die genadetroon van ons hemelse Vader op te soek.
Luister wat sê die Hebreërskrywer: "Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word." (4:14-16).
En: "Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op 'n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water." (10:19-22).

* Wat is vrymoedigheid? Die Griekse woord (parresia) is vol betekenis: openlik, nie bang, beskeie of terughoudend nie, maar in vryheid en versekering - met heilige vrypostigheid.

* Dit behoort nou vir elkeen duidelik te wees dat gebedsvrymoedigheid en gebed in die Naam van Jesus Christus onlosmaaklik hand-aan-hand loop.

* Hierdie vrymoedigheid is geen ligtelike of opsionele saak nie. Dit lê aan die hart van ware gebed. Wat meer is, ons moet dit onder geen omstandighede prysgee nie, maar ons daarin oefen - aangesien dit 'n groot beloning inhou (Heb 10:35, OAV).

* Onthou dan, as jy in Christus is, staan jy voor God op grond van Sy eie Seun se verdienste. Wat meer is, in Hom - jou Middelaar, die mens Christus Jesus (1Tim 2:5) - het jy 'n Hoëpriester in die hemelse troonkamers. Maak staat op Sy voorspraak. Vir Hom sê die Vader nooit nee nie. Daarom is 'n enkele versoek uit Sy mond meer werd as die pleidooie van 'n legioen engele.

# Dis nou duidelik dat ons gebede in volle harmonie met Christus se voorspraak moet wees. Hoe kan ek in Sy Naam bid, as my gebedsvertoë uit pas is met Sy wil? Hoe kan ek weet wat Sy wil is? Daar is maar een antwoord: die Woord van God! Hoe beter ek God ken - Sy Woord, Sy waarheid, Sy weë Sy wysheid - hoe sekerder sal my gebede 'n eggo wees van my hemelse Hoëpriester se voorspraak. En dis waarom gebed gaan: om ook hierin 'n medewerker van my Verlosser te wees.

5. As Christus vir ewig lewe om t.w.v. my in die hemel by die Vader in te tree, kan ek dan anders as om hier op aarde teenoor mense vir Hom te getuig?
As Hy nie huiwer om my naam op Sy bors en skouers in die Allerheiligste in te dra nie; hoe kan ek my dan vir Sy Naam en evangelie in 'n vyandige wêreld skaam? Luister wat sê Hy in Matt 10:32-33: "Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is."
Nico van der Walt

Monday, June 6, 2011

ANTIPAS HEROUT No.21 : OM GOD TE KEN - Ons heel hoogste roeping

NIKS IS BELANGRIKER VIR DIE INDIVIDUELE GELOWIGE, DIE KERK EN DIE TEOLOGIE AS WARE KENNIS VAN DIE DRIE-ENIGE GOD NIE.
Enersyds is dit waar dat onwaardige opinies oor God aan die wortel van feitlik alle gebreke en dwalinge in die kerk lê. Andersyds is dit ewe waar dat daar nooit 'n egte herlewing was waarin 'n diep ontsag vir God nie 'n fundamentele rol gespeel het nie. En ontsag vir God is 'n uitvloeisel van die kennis van God.
Niks gee dus dieper insig in 'n gemeente, 'n persoon of 'n prediker nie, as die hartsoortuiginge wat oor God gehuldig word. En, laat ons onthou, hierdie oortuiginge kom onfeilbaar tot uitdrukking - óf in woorde en dade, óf in swye en nalatings.

'n Wesensbelangrike saak

# Dis 'n alledaagsheid om te hoor dat Christene los en vas praat oor 'n persoonlike verhouding met God. Bestaan daar so iets? En wat beteken dit in praktiese terme?
Die Bybel praat nie in soveel woorde van 'n persoonlike verhouding met God nie. Maar die saak lê gewis aan die hart van Christen-wees en die nuwe lewe wat gelowiges van God ontvang. Die Bybel gebruik daarvoor die uitdrukking, om God te ken.

# Keer op keer en konsekwent beklemtoon die Bybel die belangrikheid van die kennis van die Here:

* Jer 9:23-24 (OAV): "So sê die Here: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die Here is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek 'n behae ...".

* Hosea praat baie hieroor. Ons kyk na die OAV:
In 2:17-19 belowe die Here: "Verder sluit Ek in dié dag vir hulle 'n verbond ... Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming. En Ek sal My met jou verloof in trou; dan sal jy die HERE ken". Dan treur die profeet omdat sy volk te gronde gaan weens 'n gebrek aan kennis (4:6). Van watse kennis praat hy? Enkele verse vroeër verskaf hy die antwoord: "... die Here het 'n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie" (4:1). Uiteindelik rig Hosea 'n dringende oproep tot sy volksgenote in 6:3: "En laat ons ken - laat ons dit najaag om die Here te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei." En hy rugsteun die oproep met 'n versekering van die Here: "Want Ek het 'n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers" (6:6).

* In Sy hoëpriesterlike gebed sê die Here Jesus: "En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is" (Jh 17:3).

# As mens na die Bybel se talle uitsprake oor die waarde en noodsaaklikheid van die kennis van die Here kyk, sien jy o.a. die volgende:

* Dis die wese van die ewige lewe (Jh 17:3).

* Dis die mens se hoogste roeping (Hos 6:3; Miga 6:8; Fil 3:8-10).

* Dis die hart van die lewe in die Nuwe Verbond (Hos 2:17-19).

* Dis wat God behaag (Hos 4:1, 6; 6:6; Mal 3:16-17).

* Dis ons hoogste roem en voorreg (Jer 9:23-24).

* Dis ware geleerdheid en die hoeksteen van waarheidsteologie (Spr 9:10, OAV).

* Dis altyd intiem verweefd met ware wysheid en onderskeidingsvermoë (Eks 33:13).

* Dis 'n kanaal waardeur genade, vrede en godsvrug in ons lewens invloei (2Pt 1:2-3, OAV).

* Dis 'n sleutel tot Christelike gehoorsaamheid en liefde (1Jh 2:3-4; 4:7-8).

Wat is die kennis van God?


# Allereers moet twee penne stewig ingeslaan word:

* Eerstens: sowel die Hebreeus as die Grieks vir "ken" is vol en gelaaide begrippe: om deur waarneming, oordenking en ervaring te ken. Dit het dus te doen met sowel objektiewe kennis as subjektiewe belewing.
Die Bybelse begrip "om te ken" dui dikwels op 'n intieme verhouding en gemeenskap tussen persone. In Gen 4:1word die woord gebruik:"En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword ..." (OAV).

* Tweedens: as mens Bybels wil omskryf wat die kennis van God behels, val dit op hoe dikwels dit in verband gebring word met 'n begrip en 'n belewing van Sy attribute, oftewel, die uitnemendhede van Sy karakter. Kyk byvoorbeeld weer na Jer 9:24 (OAV) en Hos 2:18-19, hierbo aangehaal.

# Kennis van God het drie onderskeibare, maar onskeibare elemente. Tot die mate wat dit 'n werklikheid in my lewe is, tot daardie mate kén ek God.

Kennis van God is
begrip van wat God Drie-enig
oor Homself openbaar,
wat saamhang met
'n voortgaande, bewustelike
en persoonlike wandel met Hom,
wat meebring
insig in Sy wil en weë.

# Die eerste element het te doen met begrip van dit wat God oor Homself in die Skrif geopenbaar het. Dit het daarom te doen met denke en studie.
In1Jh 5:20 skryf die apostel: "En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken ...".

* Omdat die kennis van God méér is as op hoogte wees met feite oor Hom, reken sommige hulle kan wegkom daarsónder. Omdat intellektuele kennis nie genoeg is nie, reken hulle dis nie nodig nie - en dis 'n fatale fout! Hoe kan kennis ooit moontlik wees sonder begrip; trouens, kennis neem toe met begrip.

* Sonder gedissiplineerde, intellektuele (en biddende) bestudering van wat God oor Homself in die Skrif openbaar, verval ons in 'n moeras van subjektiewe en eensydige willekeur. En misleiding is onvermydelik: ons skep 'n god na óns beeld. Dit lei dus tot effektiewe afgodery en al die verwronge lewensuitinge wat noodwendig daaruit voortkom.
Wie in 'n denkbeeldige god glo, sal met 'n denkbeeldige verlossing tevrede moet wees.

* J.I.Packer sê oor die bestudering van God se karakter in die Skrif: "No topic is greater, grander, or more important, and by the same token none is more demanding. It is the theological Mount Everest, and no one ever masters it or does it full justice."

# Die tweede element het te doen met gemeenskap met God. Henog van ouds "het met God gewandel" (Gen 5:22, 24, OAV).
Om God te ken is dus ook 'n persoonlike verhoudingservaring.

My wandel met God kom tweeërlei tot uitdrukking:
in gelowige herkenning, dankbare belewing en vererende erkenning van Sy attribute
in aksie in my lewe
en
in geloofsvertroue in, asook liefdestoewyding en dankbare gehoorsaamheid aan Hom.

* Dis goed, trouens, baie nodig om oor God na te dink in filosofiese en objektiewe terme. Maar ons mag nooit by die bloot teologiese ophou nie. God het Homself nie aan die mens geopenbaar met die oog op die intellektuele en die spekulatiewe nie. Nee, Hy het Homself aan ons geopenbaar sodat ons Hom daarvolgens sal aanbid, liefhê en dien. Dis waarom die Bybel, as dit oor God praat, nie volstaan met abstrakte mededelings oor Hom nie, maar soos klokslag deursteek na die belewing van Sy attribute in persoonlike en alledaags-menslike terme.

Nooit beskou die Bybel 'n waarheid as geken, voordat dit nie die leerling se lewe beheers nie. En van niks geld dit meer as van die kennis van die Here nie.

* Dit is dus nodig om hierdie kant van die kennis van die Here te beklemtoon, ten einde nie in 'n bloot serebrale en skolastiese Godsbeskouing te verval nie - iets wat leerstellig baie suiwer mag wees, dog terselfdertyd emosioneel en geestelik morsdood.
Maar dis ewe belangrik om te onthou - bogenoemde definisie maak dit duidelik - dat die rykdom en diepgang van my wandel met die Here afhanklik is van die begripsgreep wat ek op Sy selfopenbaring en beloftes het.

* Om met God te wandel, is nie 'n subjektivistiese, mistieke dialoog - soos sommige voorgee om te geniet nie.
Enersyds is dit om gelowig deur die steeds beter gepoleerde bril van die Woord na my ganse lewe te kyk. So sien ek dan in my omstandighede en lewensvoortgang God se intieme betrokkenheid by my raak.
Andersyds is dit om gelowig al die praktiese implikasies uit te leef van dit wat die Here oor Homself geopenbaar het, en dit wat Hy uitdruklik in Sy Woord aan my beveel het. Dis met ander woorde my respons op Sy reddende inisiatiewe, Sy voortgaande liefdestrou en Sy soewereine regering in my lewe.
Só word die hart van die genadeverbond - dat die Here vir my 'n Vader sal wees en dat ek vir Hom 'n kind moet wees - 'n daaglikse ervaringswerklikheid.

* Luther het gesê: "Godsdiens is 'n saak van persoonlike voornaamwoorde." Dit word pragtig geïllustreer in Dawid se lewe - veral soos dit in die Psalms tot uitdrukking kom.
Neem byvoorbeeld Ps 139: hy skryf oor God se verhewe karaktertrekke - Sy alwetenheid, alomteenwoordigheid en almag. Maar hy doen dit nie in abstrakte terme soos mens dalk sou verwag nie; hy doen dit aan die hand van sy persoonlike ervaringe daarvan.
Die Naam van die Here word 6 maal genoem; en persoonlike voornaamwoorde wat na Hom verwys ongeveer 30 keer. En na homself verwys Dawid 'n stuk of 50 keer.
Dus, in Dawid se diepste godsdiens-belewinge is daar eintlik net twee betrokkenes - hyself, en die Here. Daarom praat hy nie van "Hy" nie, maar van "U"; nie van "mense" nie, maar van "ek".

# Die derde element het te doen met 'n insig in God se wil en weë.
Volgens die NIV pleit Moses só in Eks 33:13 by die Here: "If you are pleased with me, teach me your ways so I may know you and continue to find favour with you."
Ps 103:7 (OAV) sê dan: "Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade."

* Dit gaan hier oor 'n wysheid en 'n voortgaande vernuwing van denke wat my help om mý rol in die uitwerk van God se wil vir my lewe duidelik te onderskei. Rm 12:2 vat dit presies raak: "Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is."

* Hierdie saak het egter met meer as my persoonlike gehoorsaamheid te doen. Dis ook 'n insig in hoe die Here normaalweg in hierdie wêreld, in Sy kerk en met mense werk of nie werk nie. Dis 'n begrip van Sy ordes en die toepassing van Sy universele beginsels. Dis 'n verstaan van Sy voorkeure en afkeure - van dit wat Hom behaag en dit wat Hom vertoorn.

* Hierdie aspek van die kennis van God neem geleidelik gestalte aan tot die mate wat die eerste twee toenemend 'n werklikheid in my lewe word.

Enkele riglyne onderweg na die kennis van die Here


# Allereers moet ek aanvaar dat ek geen hoër roeping het nie as om die kennis van God - omvangryk verstaan soos hierbo - na te jaag.

* Miga 6:8: "Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?" (OAV).
Fl 3:8-10: "... om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde ... Al wat ek wens, is om Christus te ken ..."

* Die Westminster Shorter Catechism, vraag en antwoord 1: "What is the chief end of man? Man's chief end is to glorify God, and to enjoy him forever."

# Laat ek dit met beide arms omhels: God wíl Homself aan my openbaar en met my wandel. Dit lê tewens aan die hart van Sy beloftes vir die Nuwe Verbond (Hos 2:18-19; Jer 31:31-34).

# My gerigtheid moet God persóónlik wees - dus die Gewer, en nie bloot Sy gawes nie! Wat kan 'n groter belediging wees as om net in iemand belang te stel ter wille van wat jy uit hom kan kry?

# God kan slegs in en deur Jesus Christus geken word.

* Enersyds is die mens-geworde Woord God se hoogste, volmaakte en finale openbaring aan ons (Jh 1:14; 14:8-9). Mens kan God nie na behore ken as jy nie lank en intens en weer en weer na die Here Jesus kyk nie. Hb 1:3 stel dit só: "Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God."

Christus is die helderste venster waardeur ons sien wie en wat God is!

* Andersyds is Christus die enigste Middelaar tussen God en mense. Sonder Hom kan daar geen gemeenskap met God wees nie (Jh 14:6; Hd 4:12; 1Tm 2:5).

# Hierdie openbaring geskied deur Woord en Gees.

* Natuurlik kan God se ewige krag en goddelikheid in die algemene openbaring - die natuur - gesien word (Rm 1:20). Maar dis nie naastenby genoegsaam om ons tot 'n lewende verhoudingskennis van God te lei nie. Daarvoor is ons gans en al van Sy besondere openbaring in die Woord afhanklik - die Skriftuur wat as sentrale tema God se selfopenbaring in Christus het. Daarin het ons alles wat mag nodig wees om God te ken soos ons moet.

* Dit beteken nie dat ek nou maar die Bybel soos enige boek kan bestudeer ten einde te begryp wat dit wil kommunikeer nie. God se waarheid - veral die geheimenisse van die Nuwe Verbond - bly geslote vir ons tensy die Heilige Gees ons innerlik verlig. Ja, dis ék wat die kennis van God moet soek, maar dit sal slegs tot iets kom indien dit in biddende afhanklikheid geskied. Ek kan God nét ken in soverre Hy Homself deur Sy Gees aan my openbaar (Mt 11:27; 16:15-17; 1Kor 2:6-16).

# Sonder gereelde, gedissiplineerde en volhardende gebed vorder ons nie 'n duim op hierdie pad van die hoogste roeping nie. Dis immers wanneer ons gemeenskap met God op sy innigste beleef.

* Vraag en antwoord 116 van die Heidelbergse Kategismus: Waarom is gebed vir die Christene nodig? Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons vorder, en omdat God sy genade en die Heilige Gees alleen aan diegene wil gee wat Hom met hartlike sugte sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.
Is vordering in die kennis van die Here nie deur en deur genade nie? En kan daar sonder die Heilige Gees enige sprake van vordering wees?

# Die kennis van God - in die besonder die wandel met Hom - lewer sonder uitsondering sy kwota emosionele ervarings op. Kan 'n verhouding daarsonder 'n liéfdesverhouding wees? Maar, die norm vir alle Christelike belewing geld ook hier: dis nét eg indien dit Bybelse waarheid as groeibodem het.

# God openbaar Homself net aan nederige, kinderlike en diep afhanklike geloof (Mt 11:25-30). Hooghartige beterweterigheid sal niks vorder nie; kieskeurigheid is tot mislukking gedoem.

# Die kennis van God is nie vir terloopse en dubbelhartige soekers nie. Dis iets wat mens doelgerig, gedissiplineerd en volhardend moet "najaag" (Hos 6:3, OAV).

* Jer 29:13: "En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart" (OAV).

# Die kennis van God is vir hulle wat die Here in toegewyde liefdesgehoorsaamheid dien.

* Jh 14:21, 23: "Wie my opdragte het en dit uitvoer - dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar... As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon."

# Wie God wil leer ken, moet tevrede wees om nie net die aangename uit Sy hand te ontvang nie, maar ook Sy dissipline en tugtiging (Hb 12:4-12).

# Les bes moet die bergpad na die hoogtes van Godskennis sélf geloop word.

* Weliswaar sal min dinge my méér help as om by broers en susters met dieselfde hartstog in te haak.

* Maar in die finale analise moet elkeen sy eie pak dra. En groot dele van die roete is in elk geval op rotslysies waar net een op 'n slag kan beweeg. En hoe hoër mens vorder, hoe meer is dit die geval.
Nico van der Walt