Saturday, June 11, 2011

ANTIPAS HEROUT No.31 : DIE MENS SE VERANTWOORDELIKHEID - 'n Bespreking van Eseg 18

DIS DIE BABILONIESE BALLINGSKAP, AMPER 600 JAAR VOOR CHRISTUS. Onder die Joodse ballinge in die vreemde is daar ‘n gesegde: "Die pa’s eet groen druiwe, en dan word die kinders se tande stomp." (18:2). Ook in Palestina word dit gebruik (Jer 31:29-30).
Sekerlik het die ballinge baie bespiegel oor die redes vir die ballingskap. Oënskynlik was 'n algemene opinie dat dit te wyte was aan die voorgeslagte se sondes. Per slot van rekening, as die vadere gehoor gegee het aan die profete se oproepe om hulle te bekeer, sou hulle nageslag nie nou in ellende gesit het nie. Dus wil die spreekwoord te kenne gee dat die voorgeslagte gesondig het, maar dat hulle kinders - die huidige geslag - nou die spit moet afbyt.
Na alle waarskynlikheid het diegene met so 'n opinie ook die Tweede Gebod as ondersteuning nader getrek: "Ek ... is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat" (Eks 20:5, OAV).
Let op hoe sterk die Here aanstoot neem aan hierdie spreekwoord (18:3). Waarom?

* Dis 'n implisiete beskuldiging dat God onregverdig is - deur die huidige geslag te straf vir andere se sondes (v.25, 29).

* Dis subtiele self-verontskuldiging: nie ons nie, maar ons ouers is die eintlike skuldiges. En so word een van die belangrikste doelwitte van die ballingskap ondermyn: ware verootmoediging en bekering.

* Dit lei tot 'n baie logiese maar verkeerde afleiding: as mens so maklik die gevolge van jou ouers se sonde dra, kan jy sekerlik ook op godvrugtige ouers se louere rus. Dan is geregtigheid - en die loon daarvoor - as 't ware oorerflik!

Ons verantwoordelikheid

# In Eseg 18:4 plaas die Here dan die fundamentele beginsel in plek: elke individu is vir hom- of haarself verantwoordelik! Só werk God deurgaans met mense.
Elke siel behoort aan die Here (4a, OAV). Hy is elkeen se Skepper. Voor Hom is elkeen dus gelyk. En uiteraard is elkeen teenoor Hom verantwoordelik. Daarom sal slegs diegene sterf wat sondig.

# In v.5-19 (vgl. OAV & NIV) werk die profeet hierdie beginsel nou aan die hand van drie praktiese voorbeelde uit. Hy kyk na 'n oupa, 'n pa, en 'n seun.

* Verse 5-9 beskryf 'n regverdige man. Vers 9 som dit op: sy lewe word gekenmerk deur gehoorsaamheid aan God se wet. Hy sal sekerlik lewe!

* Verse 10-13 beskryf dan die man se seun. Hy leef in sonde! Wat sy pa doen, dit laat hy na; wat sy pa nalaat, dit doen hy. Sal so 'n man lewe? Natuurlik nie! Van die begin af geld dit immers dat die loon van die sonde die dood is. Dis dus sy eie sonde - niemand anders s’n nie - wat hom laat sterf.

* Verse 14-19 beskryf dan die eerste man se kleinseun. Op sy beurt leef hy weer soos sy oupa. Sal hy ewig lewe? Natuurlik sal hy!

# Waarskynlik het almal besef dat Esegiël hier sinspeel op Juda se pas afgelope politieke geskiedenis.

* Die Assiriese ballingskap van die noordelike tien stamme (136 jaar voor die Babiloniese ballingskap) laat Juda en Benjamin groot skrik - en daar is grondige reformasie onder Hiskia.

* Sy seun en kleinseun - Manasse en Amon - vertrap egter hierdie reformasie in die volgende halfeeu, as hulle die volk tot afgodery verlei.

* Amon se seun - Josia - dien egter weer die Here en hy lei die volk in reformasie.

* Josia word dan opgevolg deur drie van sy seuns en 'n kleinseun (Joahas, Jojakim, Jojagin en Sedekia) - en elkeen van hulle verlei die volk tot sonde.

# Vers 20 formuleer weereens die beginsel - nou meer volledig: "Die mens wat sondig, sal sterwe. 'n Seun sal nie die straf op sy pa se sonde dra nie, en 'n pa sal nie die straf op sy seun se sonde dra nie. Wie leef volgens my wil, sal die vrugte daarvan pluk. Wie goddeloos is, sal die straf daarvoor dra."

# In verse 21-24 word twee verdere moontlikhede bespreek. Wat gebeur as 'n goddelose hom bekeer? En wat van 'n regverdige wat in sonde verval?

* Die eerste vraag word in v.21-23 behandel.
As 'n sondaar hom (of haar) bekeer, sal hy sekerlik lewe! Sy sonde sal hom nie toegereken word nie; dit sal in die see van ewige vergetelheid gegooi word.
Die implikasie is duidelik: as mens na bekering nie eers die gevolge van jou eie voorafgaande sonde dra nie, hoe op aarde sal jy die gevolge van jou voorouers se sonde dra?
Vanwaar kom hierdie wonderlike genade - dat mens so maklik die gevolge van opgehoopte skuld kan ontkom wanneer jy jou bekeer? Dit kom uit die diepste wese van God se karakter! (v.23).
Letterlik staan daar: "Behae, het Ek behae? Ek het hoegenaamd geen begeerte dat goddeloses moet sterf nie!"
Dit is uiters belangrik dat ons God reg sal ken: nie straf nie, maar genade; nie die dood nie, maar die lewe - dit is God se einddoel met die mens. Dít is Sy behae. Dít is Sy vreugde!

* Maar v.24 bring dan 'n noodsaaklike, balanserende korrektief: terwyl God 'n God van genade is, is dit altyd regvérdige genade! As 'n regverdige in sonde verval en daarin bly lê - sal hý lewe? Natuurlik nie!
Laat ons nooit vergeet nie: God se genade is altyd in volmaakte harmonie met Sy geregtigheid.

Agt beginsels

Die beginsel van menslike verantwoordelikheid wat Eseg 18:1-24 so deeglik uiteensit, kan oopgevou word in 'n aantal ondergeskikte beginsels. In terme hiervan het God nog altyd met die mens gewerk - ongeag of dit in die Ou Verbond is, of die Nuwe.

# As enigeen, wie ook al (selfs 'n kind van bose ouers), hom (of haar) bekeer en regverdig lewe, sal hy sekerlik die ewige lewe beërf.

# As enigeen, wie ook al (selfs 'n kind van godvrugtige ouers), onbekeerlik in sonde lewe, is die ewige verdoemenis sekerlik sy lot.

# 'n Kind sal nooit die straf van sy ouers se sonde dra nie; ook sal die ouers nie die straf van hulle kinders se sonde dra nie.

# Niemand sal die ewige lewe ontvang nie, tensy hy sélf regverdig lewe. En niemand sal die ewige verdoemenis ontvang nie, tensy hy dit sélf verdien as gevolg van sy eie sonde en rebellie teen God.

# Enige sondaar, wie ook al, wat hom bekeer, deur sy rebellie teen God te staak en sy lewe volgens God se wil in te rig, sal lewe.

# Daar kom nooit 'n stadium in 'n regverdige se lewe dat hy maar kan verslap in die najaging van 'n heilige lewe nie. Só haat God sonde, dat enigeen wat daarin sterf, selfs na jare van gehoorsaamheid, deur Hom verwerp sal word.

# God put geen behae uit die dood van 'n sondaar nie; inteendeel, dit is Sy vreugde as hy hom bekeer en lewe.

# Só genadig is God, dat dit nooit te laat is vir enige sondaar om hom te bekeer nie - ongeag hoe erg die sonde en hoeveel perverse jare ook al agter die rug mag wees.

Steeds geldig

# Laat ons duidelik verstaan: hierdie beginsels staan steeds vas. Die Nuwe Testament verfyn en bou dit weliswaar uit - en verduidelik wat God in Christus vir sondaars doen, sodat hulle daarvolgens gered kan word.

# Een van die verskille tussen die Ou Testament en die Nuwe, is dat eersgenoemde waarheid gewoonlik op 'n fenomenologiese, oftewel belewingsvlak deurgee. Dit beskryf gebeure en beginsels dus soos mense dit ervaar. Daarenteen word 'n groot deel van die Nuwe Testament aan ontologiese, oftewel wesenswaarheid gewy. Hier gaan dit oor die eintlike verduideliking vir dinge - van God se hoek gesien. Dis "die storie agter die storie".
'n Illustrasie mag verhelderend wees: As ons sê, "Die son gaan onder", is dit belewingswaarheid. Dis soos dit vir ons lyk. Maar die wesenswaarheid is natuurlik dat die aarde draai en die son gevolglik agter die horison verdwyn.
Eseg 18 se beginsels word as belewingswaarheid aangebied. Dit beteken nie dat dit net bluf is nie. Allermins! Maar geen verduideliking word byvoorbeeld gegee vir wat agter 'n regverdige man se toewyding sit nie, of agter 'n sondaar se bekering. Eers in die Nuwe Testament word dit verduidelik.

# Waar lê volgens die Nuwe Testament die oorspronge van ‘n gehoorsame en heilige lewe? Dit lê in die Here se inisiatiefnemende herskeppingswerk in sondaarsharte!

Lewensveranderend en blywend

# As die Here God in Sy soewereine genade reddend ingryp in 'n sondaar se lewe, doen Hy dit deur aan so ‘n persoon 'nuwe hart te gee. Uiteraard praat ons nie van die orgaan wat bloed pomp nie, maar van die sentrum van jou menswees en persoonlikheid. Dit is daardie kompleks van innerlike begeertes, motiewe, natuurlike geneigdhede en oortuigings wat elke mens het. As dit dan nuut gemaak of herskep word, noem die Skrif dit die wedergeboorte of 'n geboorte uit God.

# Nou lê dit voor die hand dat so 'n innerlike verandering mens se hele lewe ingrypend sal raak.
Johannes skryf sy eerste brief sodat sy gelowige lesers kan weet hulle het die ewige lewe (5:13). Hy gee vir hulle 'n aantal merktekens van die wedergeboorte, waaraan hulle die egtheid van hulle redding kan meet [1]: ware geloof (5:1) [2]; 'n lewe wat nie in sonde bly lê nie, maar volhard in heilige gehoorsaamheid (3:9; 2:29) [3]; liefde vir die Here en mede-gelowiges (4:7; 3:14-17); oorwinnig oor die sleurkragte van die God-vyandiggesinde wêreldstelsel waarin ons leef (5:4); lewenslange volharding tot die dood toe (5:18).

# Daar is dus 'n wonderlike en konsekwente onderlinge samehang wat God se verlossingswerk in ‘n mens kenmerk. Waar Hy red, is daar altyd ware geloof; en waar daar ware geloof is, is daar altyd heilige en lewenslange gehoorsaamheid. Dit is die wesensw aarheid wat in die Nuwe Testament vir ons uiteengesit word. Die belewingswaarheid van Eseg 18 - wie heilig leef, sal gered word; wie onheilig leef, sal nie gered word nie - wil dus nie sê dat 'n heilige lewe die grond van redding is nie, maar dat dit die merkteken van redding, oftewel die watermerk van egtheid is.

# Nou is ons in 'n posisie om te verstaan waarom Eseg 18 impliseer dat 'n persoon wat vir jare regverdig gelewe het, maar dan in sonde verval en in sonde sterf, nie gered sal word nie. Dit voel vir ons nie regverdig nie, want ons is geneig om te redeneer dat jare se geregtigheid tog baie swaarder moet weeg as maande se sonde.

* Kennelik het so 'n persoon se geregtigheid nie uit 'n herskepte hart gekom nie. Sy of haar geloof was nooit eg nie. Dis waarom dit opgedroog het.

* Dis waarom die apostel ons oproep om onsself voortdurend (Grieks) te ondersoek of ons in die geloof is (2Kor 13:5, OAV).
Laat ons nooit vergeet nie: egte geregtigheid, enersyds, en bloot godsdienstige vroomheid, andersyds, lyk verraderlik eenders.

* Ons redding hang nie van die kwantiteit van ons geloof af nie, maar van die kwaliteit daarvan. Die vraag is nie of ek genoeg geloof het nie (diegene in Mt 7:21-23 het baie geloof); die vraag is of ek die ware Jakob het. Embrionaal min dáárvan is genoeg (soos dié van die misdadiger aan die kruis).

Die res van die hoofstuk (Eseg 18:25-32)

# In die voorafgaande verse word uiteengesit dat al die Here se handele met mense onkreukbaar regverdig is. Hy gee vir elkeen presies net wat hy, en hy alleen, verdien. Ter wille van beklemtoning word van hierdie beginsels dan weer in v.26-28 herhaal. Nogtans wil die volk dit nie aanvaar nie. Die Here doen nie reg nie, is hulle beskuldiging (v.25, 29).
Omdat hulle nie wil skuld erken nie, en omdat hulle God van onreg beskuldig, sal Hy hulle oordeel! Maar niemand sal kry wat hy nie verdien nie. Elkeen sal volgens sy eie optrede gestraf word (v.30a).

# Dan, selfs op hierdie dreigende moment, sluit die hoofstuk af met een van die mees aangrypende oproepe tot bekering in die ganse Bybel (v.30b-32). Selfs op hierdie laat stadium is omdraai nog moontlik.
Weereens is daar die versekering dat God geen "behae" (OAV), geen genot daaruit put as 'n sondaar verlore gaan nie (v.32).

# Nog iets in hierdie oproep val amper skokkend op ons ore. Letterlik staan daar in v.31: "maak vir julleself 'n nuwe hart en 'n nuwe gees!" (vgl. OAV, NASB, Amplified, KJV). Hoe moet mens dit verstaan?
Esegiël het geen illusies oor God se soewereiniteit nie. Hy gebruik die Godsnaam, Elohim (die soewereine God), 217 keer. In Eseg 16:4-6 kry ons een van die aangrypendste beskrywings van soewereine genade in die Bybel. Les bes stel hoofstukke 36:24-28 en 37:1-14 dit bo alle twyfel: God alleen kan wederbaar en red!
Weliswaar kan die werkwoord, "maak", ook soms vertaal word met "bekom" (die NAV en NIV volg hierdie sagter opsie). Hoe ook al, wat Esegiël hier sê, is dat mense selfs in hulle onwedergebore staat verantwoordelik is om in nederigheid die gawe van 'n nuwe hart en lewe by die Here te soek. Niemand sal op die oordeelsdag kan wegkruip agter die feit dat hy in sy geestelike verstorwenheid nie in staat was om die Here te soek nie.

Enkele implikasies

# Ons het geen grond hoegenaamd nie as ons ons aanspreeklikheid voor God probeer ontduik. Ongelowiges kan dit nie doen nie, hoeveel te minder ons wat sê dat ons wedergebore is!
As ons rekening hou met die wonder van God se herskepping in ons, besef ons dat ons geen verskoning vir sonde het nie.
Nooit kan ons iemand of iets anders blameer vir ons mislukkings voor die Here of ons medemens nie - nie ons ouers, kinders of enigiemand anders nie; ook nie ons verlede of omstandighede nie.

# Al glo ons hartstogtelik in die uitverkiesing (en dis onvermydelik as jy erns maak met die Bybel), moet ons ons onbeskroomd rig tot individue se verantwoordelikheid en wil wanneer ons evangeliseer. Die feit van die uitverkiesing bring dit hoegenaamd nie in gedrang dat ek dit mag en moet doen nie.

* God se uitnodiging tot redding aan die sondaar is opreg.

* God se bevel tot bekering en onderwerping is eg - nie net 'n skynspel nie.

* God se beloftes om ootmoedige sondaars te red wat om genade in Christus pleit, is algeheel betroubaar.

* God se uitnodigings, bevele en beloftes - en daarom ook ons evangelistiese uitreikings - spruit voort uit Sy ware liefde wat geen behae daarin het as 'n sondaar volgens die eise van Sy geregtigheid verlore gaan nie.

* Die Heilige Skrif plaas so 'n gesindheid konsekwent as 'n opdrag voor ons - deur die voorbeeld van die Here en Sy apostels, en deur eksplisiete bevele.

* Die mens(e) teenoor wie ons getuig, is inderdaad persoonlik verantwoordelik en aanspreeklik.

* Dus, terwyl ons weet dat geen geestelike lewe vóór wedergeboorte moontlik is nie - geen geloof of bekering of heiligmaking nie - hoef ons nie te huiwer om vir mense te sê dat hulle 'n plan moet maak om wedergebore te word nie. Dis presies wat die Here Jesus gedoen het toe Hy vir Nikodemus gesê het dis nodig dat hy wederbaar word (Jh 3:3; 5-7). Ons mag nooit dat ons oortuigings oor die soewereiniteit van God en die werklikheid van uitverkiesing ons inhibeer om met alles waaroor ons beskik op mense se verantwoordelikheid en wil aanspraak te maak nie!

# Bogenoemde lyk vir ons logies heeltemal teenstrydig. Dit wil nie sin maak nie. Hoe kry mens die kloutjie by die oor? Ons het met die geheimenisse van 'n antinomie te doen. Dis 'n verskynsel in die logika waar mens met twee (of meer) waarhede te doen het wat beide onteenseglik waar is, maar wat vir ons logika wedersyds uitsluitend is. So sê die Bybel vir ons dat redding 'n gawe van God is (Ef 2:8) - en tog kom die opdrag weer en weer tot ongelowiges dat hulle moet glo. Of in Jh 6 sê Jesus dat niemand na Hom toe kan kom as die Vader hom nie trek nie (Jh 6:44,65) - en tog rig Hy weer en weer die uitnodiging: "Kom na My toe ...!"
Bybelse antinomieë spruit voort uit die feit dat God in dimensies leef wat aan ons totaal onbekend is. In terme van ons ervaringswêreld lyk dit na teenstrydighede, maar in die geloof aanvaar ons dat die probleem in Sý dimensies nie bestaan nie.
Volwasse Christene het geleer om met Bybelse antinomieë saam te leef - met die ewewig van Bybelse waarheid. As dit nodig is om één kant van die waarheid te gebruik, doen hulle dit. En as die ander kant nodig is, gebruik hulle dít.
'n Klassieke voorbeeld hiervan word in Hd 27 aangetref. Kyk hoe Paulus homself "weerspreek" as hy eers in v.22-26 die versekering gee dat God soewerein besluit het dat daar geen lewensverlies sal wees nie, maar dit kort daarna in v.31 totaal afhanklik maak van die soldate se gedrag.
In die finale analise gehoorsaam ons bloot die Here in ons evangelisering (en ander dinge), in die wete dat die Gees Sy grootse herskeppingswerk juis middellik doen - deur ons verkondiging van die evangelie (Jh 17:17,20; Rm 1:16-17; 10:13-15; 1Kor 1:21; 2Ts 2:14; Jk 1:18; 1Pt 1:23). Van die begin af skep God immers deur die woord (Gn 1:3, 6, 9, 11, 14, 20, 24, 26).
Ook Esegiël onderstreep hierdie beginsel in h.37 (v.4, 7, 9, 10).

# Hoe moet Eseg 18 met die Tweede Gebod (Eks 20:4-6; Dt 5:8-10) gerym word? Sê God nie dáár dat Hy Sy haters se misdade aan hulle kinders - tot in die vierde geslag - besoek nie? Dui dit nie op onregverdigheid by God nie? Is dit nie strydig met persoonlike verantwoordelikheid en Eseg 18 nie?

* Ten minste beklemtoon die Tweede Gebod dat kinders inderdaad deur hulle ouers se sonde geaffekteer word. Daar is kontinuïteit tussen opeenvolgende geslagte.
In die lig van die res van die Skrifopenbaring kan egter met stelligheid gesê word dat daar geen meganiese noodwendigheid in sit nie. So iets sou lynreg strydig wees met onder meer Eseg 18 (vgl. ook Dt 24:16; Jer 31:29-34).

* Ons durf egter nie die Tweede Gebod se waarskuwing ligtelik opneem nie. Ouers se sonde kring op ten minste twee maniere na hulle kinders uit:
Ouers is modelle vir hulle kinders. Kinders leer by hulle en doen soortgelyk. Sonde steek as 't ware aan; trouens, dit het die neiging om te vererger soos dit voortplant. Dit is dus nie snaaks nie as ouers se minagting vir God se ordes etlike geslagte later steeds sy tol eis nie.
Voorts, een geslag skep as 't ware die wêreld waarin volgende geslagte moet leef. As ons vandag God se Woord, Sy norme en die evangelie geweld aandoen, moet ons nie verwag dat ons kinders en kleinkinders die Here sal dien nie. Die kerk wat ons nageslag op ewigheidspaaie moet lei, word vandag gevorm.

* Die Tweede Gebod wil dus nie suggereer dat volgende geslagte gestraf sal word vir hulle ouers en grootouers se sonde nie. Nee, wat dit sê, is dat hulle as ‘n reël hulle voorgeslagte se sonde sal navolg — en as sodanig God se oordele oor hulleself sal haal.

* Laat ons nooit uit die oog verloor nie: ongeag die erns van 'n familie of samelewing se morele verval, kan enige individu enige tyd die tuimelgang ontkom deur hom of haar hartgrondig tot die Here en Sy Woord te bekeer.

* Die tweede Gebod sluit af met 'n heerlike belofte wat God se goedheid beklemtoon: "Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag". Hoewel Hy dus 'n gestrenge God is, is Hy veel, veel meer 'n God van barmhartigheid.
Die NAV vat die idee hier beter vas as die OAV. Waarskynlik gaan dit nie oor duisende mense nie, maar oor 'n duisend geslagte. Die belofte wil dus sê: God se toorn kring weliswaar uit tot vier geslagte, maar Sy liefdesguns tot 'n duisend!

# Verwaarlosing van individuele verantwoordelikheid masel uit in talle pastorale en ander uitwasse in die kerk.

* Die idee dat gelowiges se kinders min of meer vanself gered word, veroorsaak die waan in derduisende lewens dat hulle ewige heil verseker is, terwyl dit hoegenaamd nie die geval is nie. Nie alleen immuniseer dit mense teen die ware evangelie nie, dit vul ook kerke met menigtes sonder enige hartstog vir God se diens en eer. Dit lê nie net die kerk lam nie, dit lewer ook 'n uiters negatiewe getuienis teenoor die ongelowiges.

* Dis mode om vandag min of meer elke afwykende gedragspatroon te verduidelik in terme van onregte wat die oortreder in die verlede moes verduur het. Terwyl dit wel so is dat sekere ervaringe tot ellendige gevolge later in 'n mens se lewe kan lei, hef dit nie so 'n persoon se verantwoordelikheid en toere-keningsvatbaarheid op nie. Dis juis waarteen die Tweede Gebod waarsku. As ons villains as victims begin beskou, is dit laat in die dag. Ons mag nooit ophou om sonde "sonde" te noem nie. Ons mag nie slimmer as God probeer wees nie.

* Soortgelyk aan bogenoemde raak dit 'n algemene neiging om sonde op grond van genetiese swakhede te verontskuldig. Sekerlik speel genetika 'n beduidende rol in baie sondige ellendes. Maar dit verander niks aan Bybelse uitsprake wat hierdie dinge as sonde verklaar nie. Verontskuldig die genetiese wortels van wellus, humeurigheid, gewelddadigheid en moordsug my as ek my daaraan skuldig maak? Het ek nie my ganse sondige natuur in elk geval by my ouers geërf nie?
Waarlik, verantwoordelik bly ek verantwoordelik!

* Talle pastorale deurbrake vind eers plaas die dag as jy jou verantwoordelikheid opneem. Duisende bly gevangenes van hulle sondes, omdat hulle nie kans sien om openlik en eerlik te erken dat hulle sélf verantwoordelik is vir die gemors waarin hulle hul bevind nie.

* Laat ons wat weet dat die Here waarlik in Sy genade in ons lewens ingegryp het, daarom ons verantwoordelikheid opneem en nugter, volwasse en met vaste tred die pad van rentmeesterskap loop!
"Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien" (2Pt 1:3). 'n Lewe van Bybels-prinsipiële gehoorsaamheid in die lig van die ewigheid is waartoe Hy ons roep. En uiteindelik sal ons nie net aan Hom verantwoording doen nie, maar ook van Hom loon ontvang.

[1] Slaan dit na in die OAV of enige goeie Engelse vertaling. Vergelyk ook die N.G.B.§29 se beskrywing van die merktekens van ware Christene.

[2] Nie bloot intellektuele geloof nie, maar geloof soos Johannes dit in sy geskrifte definiëer: die dinamiese, bewustelike en inspannende skuil in Christus as plaasvervangende Saligmaker.

[3] Die Grieks dui op tipiese of voortgaande handeling. Vergelyk die NIV of Amplified Bible.


Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment