Wednesday, June 8, 2011

ANTIPAS HEROUT No.14 : JESUS CHRISTUS, HOËPRIESTER VAN DIE NUWE VERBOND [2 van 3] - Sy afgehandelde werk

Vraag 1: As jy, as ware Christen, kon kies waar om te bly - in Adam se paradys voor die sondeval, met sy sondelose bestaan in gemeenskap met God, of in ons huidige wêreld met sy sonde, geweld, ellende en hartseer - waar sou dit wees?

Vraag 2: As jy inderdaad 'n Christen is, wat is die diepste grond vir jou redding? Kies een van 3 opsies: onderhouding van God se Wet; geloof in Jesus Christus; enigiets anders.


Die omvang van Christus se hoëpriesterlike werk

# God se Woord leer weer en weer dat die Vader voor die grondlegging van die aarde 'n baie groot aantal sondaars uitverkies het tot die ewige lewe. Hulle sou dus nie die ewige dood kry, soos hulle verdien nie (Hand 13:48; 18:9-10; Rom 8:28-39; 9; Ef 1:3-14; 1Tess 5:9; 2Tess 2:13-15 (OAV); 2Tim 1:8-9; 1Pet 1:2; Op 13:8). In die ewige raad van God is hierdie mense aan die Seun "gegee" (Joh 6:37, 39; 10:29; 17:6, 9, 24), met die oog daarop dat Hy alles moes doen wat vir hulle verlossing nodig sou wees.

# Vanuit die Nuwe Testament is dit duidelik dat die Seun se taak twee groot komponente het.
Eerstens moes Hy die objektiewe regsbasis vir hierdie mense se verlossing kom daarstel. Dit het gebeur tydens Sy vernedering hier op aarde en is gevolglik 'n afgehandelde saak. In die teologie word hierna as die genoegdoening verwys.
Tweedens moet Hy hierdie verlossing in hulle lewens verwerklik, of toepas. Dit gebeur in die lewe van elke betrokke individu. Dit is dus 'n proses wat deur die eeue tot en met die wederkoms strek. As dit oor Sy hoëpriesterskap gaan, word hierdie voortgaande werk van Christus Sy voorspraak genoem.

# Nou eers: Jesus Christus se afgehandelde genoegdoening.

Sy gehoorsaamheid

# Christus se genoegdoening is so geskakeerd dat die Bybel verskeie idees en uitdrukkings gebruik om dit te omskryf. So praat die Nuwe Testament van Sy offer, Sy verlossings-, Sy versoenings- en Sy middelaarswerk.
Die vraag ontstaan nou, is daar nie 'n allesinsluitende idee wat al hierdie fasette van Sy werk saambind nie? Inderdaad. Hierdie onderliggende en omvattende beginsel is te vind in Jesus Christus se gehoorsaamheid aan Sy Hemelse Vader.

Jesus Christus stel die regsbasis vir die redding van sondaars daar deur as Hoëpriester Homself in totale gehoorsaamheid aan Sy Vader te offer - as die ewige Lam van God.

* Dit was dus die gehoorsaamheidsoffer (niks minder nie) van Sy Seun wat die Vader in Sy heiligheid, geregtigheid en toorn bevredig en met sondaars versoen het.

# Presies dit is die Hebreërskrywer se argument (10:5-10) as hy Ps 40 aanhaal: "Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: 'Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het. Brandoffers en sondeoffers het U nie behaag nie! Toe het Ek gesê: Kyk, Ek het gekom, o God, om u wil te doen. In die boekrol is dit van My geskrywe.' Eers sê Hy: 'Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie,' hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. Daarna sê Hy: 'Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.' Hy skaf dus die eerste offers af om 'n ander offer in die plek daarvan te stel. Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd."

# Dis verder betekenisvol dat die duidelikste Messiaanse gedeelte in die Ou Testament na die komende Een verwys as God se Dienaar (Jes 52:13-53:12). Vergelyk ook Joh 6:38; 10:17-18; Rom 5:19; Fil 2:7-8; Heb 5:8-9.

Die gevalle mens se probleem

# Voor die sondeval was die mens in 'n werkverbond met God. Adam het kennis, geregtigheid en vryheid gehad, maar hy moes die ewige lewe verdien - deur persoonlike en volmaakte gehoorsaamheid (Gen 2:16-17). Waarskynlik sou daar 'n proeftydperk wees en is die boom van die lewe - en waarvoor dit staan - vir hom as beloning voorgehou (Gen 2:9; 3:22). Die prominente plek wat die boom van die lewe in Openbaring se beloftes aan oorwinnaars in Christus inneem (2:7; 22:2,14), bevestig so 'n vertolking.
In 'n neutedop het die werkverbond hierop neergekom: Wees gehoorsaam - en beërf die ewige lewe; wees ongehoorsaam - en sterf vir ewig.

# Adam, verbondshoof van die mensheid, het misluk. Hy het gesterf - en saam met hom sy nageslag, die ganse mensheid wat uit sy lendene gebore is. Die verskriklike gevolg is dat die gevalle mens 'n dubbele probleem voor sy heilige Skepper het - sy skuld en sy onvermoë.

* Hy is in skuld by God oor sy mislukking en rebellie. En God se heilige geregtigheid vereis dat dit betaal moet word. Tydens die daarstelling van die verbond al, is die boete duidelik uitgespel - die ewige dood!

* Maar selfs al sou die skuld opgehef of vereffen word, los dit nie die mens se dilemma op nie. Dit sou hom in presies dieselfde posisie laat as waarin Adam voor die sondeval was. Hy sou steeds die ewige lewe moes verdien - deur volgehoue gehoorsaamheid. Dit is en bly immers die absolute en ononderhandelbare voorwaarde vir die ewige lewe. En as Adam nie kon slaag nie, hoeveel te minder die gevalle mens!

Verlossing in Christus

# God kon die mensheid in sy gevalle staat en in die ewige dood gelos het. Dit sou Sy onbetwisbare reg gewees het. Hy het dit immers met die gevalle engele gedoen! Maar vir die gevalle mens, kroon van Sy skepping, het God 'n verlossingsplan in werking gestel.

* Hy sou opnuut met 'n Adam begin - Sy eie Seun, die Tweede Mens, die Laaste Adam (1Kor 15:45-47).

* Die Laaste Adam was weer in 'n werkverbond met God. Tot vandag toe het God nie Sy voorwaarde vir die ewige lewe verander nie!

* Waar die eerste een misluk het, was die Laaste Adam egter volmaak getrou en gehoorsaam. En sodat niemand kan twyfel dat Hy die offer van Sy Seun se gehoorsaamheid aanvaar het nie, het die Vader dit onbetwisbaar geproklameer - deur Hom uit die dood op te wek.

# Die laaste Adam se getrouheid het duiselingwekkende implikasies. Hy het immers gekom met die oog op 'n nuwe skepping, besonderlik 'n nuwe mensheid. Hiervoor sou Sy verbondsgehoorsaamheid die regsbasis bied. Dit sou die gevalle mens se dubbele dilemma - sy skuld en sy onvermoë - volmaak aanspreek.

Regverdiging

# Elke mens se grootste probleem is dat hy deel van die gevalle mensheid onder God se toorn is (Rom 1:18; Ef 2:3b, OAV). Wat is die oplossing? Om uit te kom uit die gevalle mensheid, waarvan Adam die hoof is, en deel te word van die nuwe mensheid, waarvan Christus die Hoof is (Rom 5:12-21).

# Hoe op aarde kan dit gebeur? Deur goeie werke? Baie het so gedink, en dink steeds so. Maar die regte antwoord is so eenvoudig dat godsdienstiges aanstoot neem en ongelowiges lag (1Kor 1:23). Die evangelie beier die vreugdeboodskap klokhelder uit: deur die geloof alleen word 'n sondaar met Christus verenig! En let op, beide begrippe is kardinaal belangrik: geloof én alleen. Christus red óf volkome, óf glad nie.

# Wanneer 'n sondaar sy volle geloofsvertroue in Jesus Christus alleen stel, word hy geregverdig (die NAV se 'vrygespreek' is onbevredigend, soos hieronder sal blyk). Hoe werk dit? Om te verstaan, moet 2 basiese begrippe begryp en vasgehou word.

* Plaasvervanging deur strafdraende bloedvergieting is aan die hart van God se verlossingsplan. As daar iets is wat die Ou Testamentiese offerdiens wou tuisbring, dan is dit hierdie waarheid. As sulks het dit profeties vooruitgewys na die Lam van God. Toe Jesus as Hoëpriester Homself in gehoorsaamheid aan Sy Vader geoffer het, het Hy die offerdiens vervul - en plaasvervangend vir die nuwe mensheid opgetree.

* Toerekening is 'n boekhou-begrip en dui op 'n inskrywing in 'n rekeningboek - om te debiteer of te krediteer (Vgl. Rom 4, OAV, waar die begrip 11 keer gebruik word).

# Regverdiging is dus 'n dubbelkuur - vanweë sondaars se dubbele probleem.

* Enersyds word die probleem van skuld aangespreek. Wanneer 'n sondaar glo, word sy skuld aan Christus toegereken, gedebiteer. Hierdie skuld het die Seun in Sy vernedering kom betaal, besonderlik op Golgota. Dit laat die gelowige skuldvry. In God se boeke het hy nou die status van iemand wat nooit gesondig het nie. So red hulle Hoëpriester en Verbondshoof se passiewe gehoorsaamheid die nuwe mensheid van die ewige verdoemenis.

* Andersyds word die probleem van onvermoë aangespreek. Christus se lewenslange gehoorsaamheid word aan elkeen wat glo, toegereken, gekrediteer. Dit maak die gelowige regverdig voor God en besorg aan hom in God se boeke die status van iemand wat die Wet volmaak onderhou het. So verleen hulle Hoëpriester en Verbondshoof se aktiewe gehoorsaamheid aan die nuwe mensheid toegang tot die ewige lewe.

Jesus het Homself geoffer

# Hierbo is die uitdrukkings passiewe gehoorsaamheid en aktiewe gehoorsaamheid gebruik. Dis standaard terme, wat nuttig is om te onderskei tussen die twee aspekte van Christus se gehoorsaamheid aan Sy Hemelse Vader. Dis egter nie Bybelse begrippe nie. Ook kan dit maklik aanleiding gee tot allerlei skewe idees oor Christus se versoeningswerk. 'n Paar punte van kwalifikasie is dus nodig.

# Wat Christus se sg. passiewe gehoorsaamheid betref, moet ten minste twee dinge vasgehou word.

* Christus se lyding het nie in Getsemane en op Golgota vir die eerste maal begin nie. Dit het begin toe Hy Homself verneder het om 'n mens te word (Fil 2:6-8). Dink daaraan: Hy, deur wie God alles geskape het (Kol 1:15-20), word 'n hulpelose babatjie! Nee, reg van die begin af, en regdeur Sy lewe hier op aarde, het Hy gely - en dus swaar betaal aan my sondeskuld.

* Om na 'n aspek van Jesus se gehoorsaamheid as 'passief' te verwys, is eintlik hoogs onbevredigend. In die kruisgebeure was Hy allermins passief - onbetrokke, gedienstig, gedweë. Die teendeel word besonder sterk deur die Nuwe Testament onderstreep. Joh 10 is veral duidelik: "Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het." (v.17-18; ook v.11,15).
God se Groot Hoëpriester is nie geoffer nie; Hy het Homself geoffer - beslis en doelgerig! (Heb 9:24-26). Vgl. ook Jes 53:12; Matt 20:28; Gal 2:20; Ef 5:2,25; Heb 1:3.

# Wat Christus se sogenaamde aktiewe gehoorsaamheid betref, hou dit nie op wanneer die klem sterker op Sy passiewe gehoorsaamheid val nie. Nee, dit kom juis tot hoogste uitdrukking in die kruisgebeure. Nooit styg Sy hartstog om Sy Vader volkome te behaag tot hoër hoogtes, as wanneer Hy aktief Homself gee vir sondaars nie.

❏ Die sg. passiewe en aktiewe gehoorsaamheid van Jesus is dus só vervleg, dat ons dit net kan onderskei, maar nooit kan skei nie. Daarbenewens was Hy in geen aspek van Sy gehoorsaamheid werklik passief nie.

Toepassing

1. Dis uiters belangrik om te onthou: regverdiging is 'n juridiese gebeurtenis, dit gebeur as't ware in God se boeke - dus buite my. Dis objektief.
Natuurlik moet ons onsself voortdurend in die standaarde van God se Woord spieël. En die apostel beveel: "Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe." (2Kor 13:5).
Maar baie Christene val in die slaggat van oordrewe introspeksie - 'n voortdurende besig-wees met hoe jy as Christen vaar. Dis 'n resep vir moedeloosheid en lam geloofsknieë. Dit stroop spoedig van geloofsekerheid, asook van vrymoedigheid om te bid en te getuig. Waarom? Almal van ons se heiligmaking is pateties onvolmaak. Wie van ons haal naastenby die volmaakte standaarde van God se wet? As ons morele en godsdienstige prestasies ons vir God aanvaarbaar moes maak, wie sou gered kon word?
Nee, redding is ten diepste objektief van aard, nie subjektief nie. Die essensie van saligmakende geloof is om volledig, nie gedeeltelik nie, staat te maak op jou Plaasvervanger se middelaarswerk - namens jou en dus búite jou. Dis jou status (jou saldo) in God se boeke wat jou redding bepaal!
Hierdie waarheid word wonderlik in die Ou Testament verbeeld. In Num 21 raak die volk opstandig teen God. Hy stuur dan giftige slange onder hulle in en baie mense sterf. As hulle hul sonde bely, beveel die Here vir Moses om 'n koperslang te maak en dit op 'n paal te sit. Elkeen wat gepik was en na die koperslang opgekyk het, is toe genees. Let op, die antwoord het nie in menslike pogings en middele gelê nie; nee, hulle moes bloot hulle oë op die koperslang vasnael! (v.4-9).
As Jesus eeue later met Nikodemus oor die ewige lewe praat, gebruik Hy juis hierdie gebeurtenis om na Sy komende kruisdood te verwys. En die parallel wat die Here trek, maak dit duidelik: om te glo is soos om te kyk (Joh 3:14-15).

Om in Christus te glo, is om op te kyk na die Gekruisigde
en om jou oë in afhanklike vertroue op Hom en op Hom alleen vas te nael.

Dis waarom "die bloed van die Lam" sonder uitsondering die "aanklaer van die broeders" skaakmat plaas. (Op 12:10-11). Na tweeduisend jaar het hy steeds geen antwoord op hierdie onweerspreekbare argument nie. Christus se versoeningswerk is finaal en onomkeerbaar afgehandel!
Van elkeen in Christus geld dit op hierdie oomblik: tot in ewigheid sal jy nie 'n heerliker status in God se boeke geniet as tans nie, want jou saldo, nou reeds, is dié van jou volmaakte Plaasvervanger. Wat meer is, nie 'n enkele persoon wat met Christus verenig is, het 'n hoër status as die res nie, want almal het presies dieselfde saldo - die van die Middelaar.

2. As jy deur geloof met Christus verenig is, is daar nie 'n enkele letter van die Wet wat opgeroep kan word om teen jou te getuig nie.
Stel jou 'n tipiese gesprek voor tussen die Wet en 'n ware Christen:

Wet: "Het jy my gebooie gehou?"
Christen: "Nee, helaas nie!"
Wet: "Wel, het jy die straf vir ongehoorsaamheid betaal?"
Christen: "Nee, nie self nie. Maar Christus het dit vir my betaal!"
Wet: "En die voorwaardes vir die ewige lewe - het jy die toets geslaag?"
Christen: "Nee. Ek sal dit nooit kon regkry nie. Maar Christus het dit vir my gedoen! En ek is daarmee gekrediteer in God se boeke!"
Hier kom die gesprek elke keer summier tot 'n einde. Die laaste woord is gespreek.

3. Aan die begin is gevra: wat is die diepste grond van jou redding?
Het jy dalk in die slagyster getrap deur 'geloof' te kies? Dis 'n fatale flater! Dis diskwalifiserend! Nooit ooit kan iets in my die diepste grond vir my redding wees nie. Geloof is net die hande waarmee ek Christus se verdienste vasgryp - niks meer nie! Nee, die antwoord is wetsgehoorsaamheid! Nie myne nie, maar Christus s'n!

4. En waar sou jy wou bly?
Die keuse is voor die hand liggend. Adam se paradys was 'n volmaakte plek, met die ewige lewe as 'n werklike moontlikheid - maar nét as 'n moontlikheid. Die Christen se huidige wêreld is 'n baie onvolmaakte plek, maar met die ewige lewe as 'n onaantasbare en onomkeerbare feit!

5. Is jou volle sekuriteit - vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid - in Jesus Christus en in Hom alleen?
Indien jou dankbaarheid vir volkome verlossing in Christus só werklik is dat dit jou dring om jou Verlosser met alles wat jy is en het te dien, het jy alle rede om te glo dat jy geregverdig is, dat die dubbelkuur op jou van toepassing is.
As jy nog nie in hierdie genadetyd in Christus ingevlug het nie, weet dit, die uitnodiging, maar ook die bevel, is steeds geldig: "... elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!" (Op 22:17).
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment