Monday, June 6, 2011

ANTIPAS HEROUT No.21 : OM GOD TE KEN - Ons heel hoogste roeping

NIKS IS BELANGRIKER VIR DIE INDIVIDUELE GELOWIGE, DIE KERK EN DIE TEOLOGIE AS WARE KENNIS VAN DIE DRIE-ENIGE GOD NIE.
Enersyds is dit waar dat onwaardige opinies oor God aan die wortel van feitlik alle gebreke en dwalinge in die kerk lê. Andersyds is dit ewe waar dat daar nooit 'n egte herlewing was waarin 'n diep ontsag vir God nie 'n fundamentele rol gespeel het nie. En ontsag vir God is 'n uitvloeisel van die kennis van God.
Niks gee dus dieper insig in 'n gemeente, 'n persoon of 'n prediker nie, as die hartsoortuiginge wat oor God gehuldig word. En, laat ons onthou, hierdie oortuiginge kom onfeilbaar tot uitdrukking - óf in woorde en dade, óf in swye en nalatings.

'n Wesensbelangrike saak

# Dis 'n alledaagsheid om te hoor dat Christene los en vas praat oor 'n persoonlike verhouding met God. Bestaan daar so iets? En wat beteken dit in praktiese terme?
Die Bybel praat nie in soveel woorde van 'n persoonlike verhouding met God nie. Maar die saak lê gewis aan die hart van Christen-wees en die nuwe lewe wat gelowiges van God ontvang. Die Bybel gebruik daarvoor die uitdrukking, om God te ken.

# Keer op keer en konsekwent beklemtoon die Bybel die belangrikheid van die kennis van die Here:

* Jer 9:23-24 (OAV): "So sê die Here: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die Here is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek 'n behae ...".

* Hosea praat baie hieroor. Ons kyk na die OAV:
In 2:17-19 belowe die Here: "Verder sluit Ek in dié dag vir hulle 'n verbond ... Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming. En Ek sal My met jou verloof in trou; dan sal jy die HERE ken". Dan treur die profeet omdat sy volk te gronde gaan weens 'n gebrek aan kennis (4:6). Van watse kennis praat hy? Enkele verse vroeër verskaf hy die antwoord: "... die Here het 'n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie" (4:1). Uiteindelik rig Hosea 'n dringende oproep tot sy volksgenote in 6:3: "En laat ons ken - laat ons dit najaag om die Here te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei." En hy rugsteun die oproep met 'n versekering van die Here: "Want Ek het 'n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers" (6:6).

* In Sy hoëpriesterlike gebed sê die Here Jesus: "En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is" (Jh 17:3).

# As mens na die Bybel se talle uitsprake oor die waarde en noodsaaklikheid van die kennis van die Here kyk, sien jy o.a. die volgende:

* Dis die wese van die ewige lewe (Jh 17:3).

* Dis die mens se hoogste roeping (Hos 6:3; Miga 6:8; Fil 3:8-10).

* Dis die hart van die lewe in die Nuwe Verbond (Hos 2:17-19).

* Dis wat God behaag (Hos 4:1, 6; 6:6; Mal 3:16-17).

* Dis ons hoogste roem en voorreg (Jer 9:23-24).

* Dis ware geleerdheid en die hoeksteen van waarheidsteologie (Spr 9:10, OAV).

* Dis altyd intiem verweefd met ware wysheid en onderskeidingsvermoë (Eks 33:13).

* Dis 'n kanaal waardeur genade, vrede en godsvrug in ons lewens invloei (2Pt 1:2-3, OAV).

* Dis 'n sleutel tot Christelike gehoorsaamheid en liefde (1Jh 2:3-4; 4:7-8).

Wat is die kennis van God?


# Allereers moet twee penne stewig ingeslaan word:

* Eerstens: sowel die Hebreeus as die Grieks vir "ken" is vol en gelaaide begrippe: om deur waarneming, oordenking en ervaring te ken. Dit het dus te doen met sowel objektiewe kennis as subjektiewe belewing.
Die Bybelse begrip "om te ken" dui dikwels op 'n intieme verhouding en gemeenskap tussen persone. In Gen 4:1word die woord gebruik:"En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword ..." (OAV).

* Tweedens: as mens Bybels wil omskryf wat die kennis van God behels, val dit op hoe dikwels dit in verband gebring word met 'n begrip en 'n belewing van Sy attribute, oftewel, die uitnemendhede van Sy karakter. Kyk byvoorbeeld weer na Jer 9:24 (OAV) en Hos 2:18-19, hierbo aangehaal.

# Kennis van God het drie onderskeibare, maar onskeibare elemente. Tot die mate wat dit 'n werklikheid in my lewe is, tot daardie mate kén ek God.

Kennis van God is
begrip van wat God Drie-enig
oor Homself openbaar,
wat saamhang met
'n voortgaande, bewustelike
en persoonlike wandel met Hom,
wat meebring
insig in Sy wil en weë.

# Die eerste element het te doen met begrip van dit wat God oor Homself in die Skrif geopenbaar het. Dit het daarom te doen met denke en studie.
In1Jh 5:20 skryf die apostel: "En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken ...".

* Omdat die kennis van God méér is as op hoogte wees met feite oor Hom, reken sommige hulle kan wegkom daarsónder. Omdat intellektuele kennis nie genoeg is nie, reken hulle dis nie nodig nie - en dis 'n fatale fout! Hoe kan kennis ooit moontlik wees sonder begrip; trouens, kennis neem toe met begrip.

* Sonder gedissiplineerde, intellektuele (en biddende) bestudering van wat God oor Homself in die Skrif openbaar, verval ons in 'n moeras van subjektiewe en eensydige willekeur. En misleiding is onvermydelik: ons skep 'n god na óns beeld. Dit lei dus tot effektiewe afgodery en al die verwronge lewensuitinge wat noodwendig daaruit voortkom.
Wie in 'n denkbeeldige god glo, sal met 'n denkbeeldige verlossing tevrede moet wees.

* J.I.Packer sê oor die bestudering van God se karakter in die Skrif: "No topic is greater, grander, or more important, and by the same token none is more demanding. It is the theological Mount Everest, and no one ever masters it or does it full justice."

# Die tweede element het te doen met gemeenskap met God. Henog van ouds "het met God gewandel" (Gen 5:22, 24, OAV).
Om God te ken is dus ook 'n persoonlike verhoudingservaring.

My wandel met God kom tweeërlei tot uitdrukking:
in gelowige herkenning, dankbare belewing en vererende erkenning van Sy attribute
in aksie in my lewe
en
in geloofsvertroue in, asook liefdestoewyding en dankbare gehoorsaamheid aan Hom.

* Dis goed, trouens, baie nodig om oor God na te dink in filosofiese en objektiewe terme. Maar ons mag nooit by die bloot teologiese ophou nie. God het Homself nie aan die mens geopenbaar met die oog op die intellektuele en die spekulatiewe nie. Nee, Hy het Homself aan ons geopenbaar sodat ons Hom daarvolgens sal aanbid, liefhê en dien. Dis waarom die Bybel, as dit oor God praat, nie volstaan met abstrakte mededelings oor Hom nie, maar soos klokslag deursteek na die belewing van Sy attribute in persoonlike en alledaags-menslike terme.

Nooit beskou die Bybel 'n waarheid as geken, voordat dit nie die leerling se lewe beheers nie. En van niks geld dit meer as van die kennis van die Here nie.

* Dit is dus nodig om hierdie kant van die kennis van die Here te beklemtoon, ten einde nie in 'n bloot serebrale en skolastiese Godsbeskouing te verval nie - iets wat leerstellig baie suiwer mag wees, dog terselfdertyd emosioneel en geestelik morsdood.
Maar dis ewe belangrik om te onthou - bogenoemde definisie maak dit duidelik - dat die rykdom en diepgang van my wandel met die Here afhanklik is van die begripsgreep wat ek op Sy selfopenbaring en beloftes het.

* Om met God te wandel, is nie 'n subjektivistiese, mistieke dialoog - soos sommige voorgee om te geniet nie.
Enersyds is dit om gelowig deur die steeds beter gepoleerde bril van die Woord na my ganse lewe te kyk. So sien ek dan in my omstandighede en lewensvoortgang God se intieme betrokkenheid by my raak.
Andersyds is dit om gelowig al die praktiese implikasies uit te leef van dit wat die Here oor Homself geopenbaar het, en dit wat Hy uitdruklik in Sy Woord aan my beveel het. Dis met ander woorde my respons op Sy reddende inisiatiewe, Sy voortgaande liefdestrou en Sy soewereine regering in my lewe.
Só word die hart van die genadeverbond - dat die Here vir my 'n Vader sal wees en dat ek vir Hom 'n kind moet wees - 'n daaglikse ervaringswerklikheid.

* Luther het gesê: "Godsdiens is 'n saak van persoonlike voornaamwoorde." Dit word pragtig geïllustreer in Dawid se lewe - veral soos dit in die Psalms tot uitdrukking kom.
Neem byvoorbeeld Ps 139: hy skryf oor God se verhewe karaktertrekke - Sy alwetenheid, alomteenwoordigheid en almag. Maar hy doen dit nie in abstrakte terme soos mens dalk sou verwag nie; hy doen dit aan die hand van sy persoonlike ervaringe daarvan.
Die Naam van die Here word 6 maal genoem; en persoonlike voornaamwoorde wat na Hom verwys ongeveer 30 keer. En na homself verwys Dawid 'n stuk of 50 keer.
Dus, in Dawid se diepste godsdiens-belewinge is daar eintlik net twee betrokkenes - hyself, en die Here. Daarom praat hy nie van "Hy" nie, maar van "U"; nie van "mense" nie, maar van "ek".

# Die derde element het te doen met 'n insig in God se wil en weë.
Volgens die NIV pleit Moses só in Eks 33:13 by die Here: "If you are pleased with me, teach me your ways so I may know you and continue to find favour with you."
Ps 103:7 (OAV) sê dan: "Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade."

* Dit gaan hier oor 'n wysheid en 'n voortgaande vernuwing van denke wat my help om mý rol in die uitwerk van God se wil vir my lewe duidelik te onderskei. Rm 12:2 vat dit presies raak: "Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is."

* Hierdie saak het egter met meer as my persoonlike gehoorsaamheid te doen. Dis ook 'n insig in hoe die Here normaalweg in hierdie wêreld, in Sy kerk en met mense werk of nie werk nie. Dis 'n begrip van Sy ordes en die toepassing van Sy universele beginsels. Dis 'n verstaan van Sy voorkeure en afkeure - van dit wat Hom behaag en dit wat Hom vertoorn.

* Hierdie aspek van die kennis van God neem geleidelik gestalte aan tot die mate wat die eerste twee toenemend 'n werklikheid in my lewe word.

Enkele riglyne onderweg na die kennis van die Here


# Allereers moet ek aanvaar dat ek geen hoër roeping het nie as om die kennis van God - omvangryk verstaan soos hierbo - na te jaag.

* Miga 6:8: "Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?" (OAV).
Fl 3:8-10: "... om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde ... Al wat ek wens, is om Christus te ken ..."

* Die Westminster Shorter Catechism, vraag en antwoord 1: "What is the chief end of man? Man's chief end is to glorify God, and to enjoy him forever."

# Laat ek dit met beide arms omhels: God wíl Homself aan my openbaar en met my wandel. Dit lê tewens aan die hart van Sy beloftes vir die Nuwe Verbond (Hos 2:18-19; Jer 31:31-34).

# My gerigtheid moet God persóónlik wees - dus die Gewer, en nie bloot Sy gawes nie! Wat kan 'n groter belediging wees as om net in iemand belang te stel ter wille van wat jy uit hom kan kry?

# God kan slegs in en deur Jesus Christus geken word.

* Enersyds is die mens-geworde Woord God se hoogste, volmaakte en finale openbaring aan ons (Jh 1:14; 14:8-9). Mens kan God nie na behore ken as jy nie lank en intens en weer en weer na die Here Jesus kyk nie. Hb 1:3 stel dit só: "Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God."

Christus is die helderste venster waardeur ons sien wie en wat God is!

* Andersyds is Christus die enigste Middelaar tussen God en mense. Sonder Hom kan daar geen gemeenskap met God wees nie (Jh 14:6; Hd 4:12; 1Tm 2:5).

# Hierdie openbaring geskied deur Woord en Gees.

* Natuurlik kan God se ewige krag en goddelikheid in die algemene openbaring - die natuur - gesien word (Rm 1:20). Maar dis nie naastenby genoegsaam om ons tot 'n lewende verhoudingskennis van God te lei nie. Daarvoor is ons gans en al van Sy besondere openbaring in die Woord afhanklik - die Skriftuur wat as sentrale tema God se selfopenbaring in Christus het. Daarin het ons alles wat mag nodig wees om God te ken soos ons moet.

* Dit beteken nie dat ek nou maar die Bybel soos enige boek kan bestudeer ten einde te begryp wat dit wil kommunikeer nie. God se waarheid - veral die geheimenisse van die Nuwe Verbond - bly geslote vir ons tensy die Heilige Gees ons innerlik verlig. Ja, dis ék wat die kennis van God moet soek, maar dit sal slegs tot iets kom indien dit in biddende afhanklikheid geskied. Ek kan God nét ken in soverre Hy Homself deur Sy Gees aan my openbaar (Mt 11:27; 16:15-17; 1Kor 2:6-16).

# Sonder gereelde, gedissiplineerde en volhardende gebed vorder ons nie 'n duim op hierdie pad van die hoogste roeping nie. Dis immers wanneer ons gemeenskap met God op sy innigste beleef.

* Vraag en antwoord 116 van die Heidelbergse Kategismus: Waarom is gebed vir die Christene nodig? Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons vorder, en omdat God sy genade en die Heilige Gees alleen aan diegene wil gee wat Hom met hartlike sugte sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.
Is vordering in die kennis van die Here nie deur en deur genade nie? En kan daar sonder die Heilige Gees enige sprake van vordering wees?

# Die kennis van God - in die besonder die wandel met Hom - lewer sonder uitsondering sy kwota emosionele ervarings op. Kan 'n verhouding daarsonder 'n liéfdesverhouding wees? Maar, die norm vir alle Christelike belewing geld ook hier: dis nét eg indien dit Bybelse waarheid as groeibodem het.

# God openbaar Homself net aan nederige, kinderlike en diep afhanklike geloof (Mt 11:25-30). Hooghartige beterweterigheid sal niks vorder nie; kieskeurigheid is tot mislukking gedoem.

# Die kennis van God is nie vir terloopse en dubbelhartige soekers nie. Dis iets wat mens doelgerig, gedissiplineerd en volhardend moet "najaag" (Hos 6:3, OAV).

* Jer 29:13: "En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart" (OAV).

# Die kennis van God is vir hulle wat die Here in toegewyde liefdesgehoorsaamheid dien.

* Jh 14:21, 23: "Wie my opdragte het en dit uitvoer - dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar... As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon."

# Wie God wil leer ken, moet tevrede wees om nie net die aangename uit Sy hand te ontvang nie, maar ook Sy dissipline en tugtiging (Hb 12:4-12).

# Les bes moet die bergpad na die hoogtes van Godskennis sélf geloop word.

* Weliswaar sal min dinge my méér help as om by broers en susters met dieselfde hartstog in te haak.

* Maar in die finale analise moet elkeen sy eie pak dra. En groot dele van die roete is in elk geval op rotslysies waar net een op 'n slag kan beweeg. En hoe hoër mens vorder, hoe meer is dit die geval.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment