Wednesday, June 8, 2011

ANTIPAS HEROUT No.15 : JESUS CHRISTUS, HOËPRIESTER VAN DIE NUWE VERBOND [3 van 3] - Sy voortgaande werk

Afgehandel?

Is Christus se middelaarswerk op Golgota afgehandel? Ja en nee!

# Die Woord beklemtoon keer op keer dat ware gelowiges se redding onomkeerbaar op Golgota verseël is. Die regsbasis is onvernietigbaar gelê - eens en vir altyd, soos die Hebreërboek dit so sterk beklemtoon.

# Maar die redding wat op Golgota vir ons bewerkstellig is, moet in ons lewens verwerklik word. Hiervoor sorg Christus se voortgaande hoëpriesterlike werk. Sonder Sy dood is daar geen redding nie; te min besef dat dit sonder Sy lewe ewe onmoontlik is!

# In AH 14 is gekyk na Christus se afgehandelde hoëpriesterlike genoegdoening op aarde. Nou is Sy voortgaande hoëpriesterlike voorspraak in die hemel aan die orde.

'n Ewige Hoëpriester

# "Die hoofsaak van wat gesê is, is dit: ons het 'n Hoëpriester, Een wat gaan sit het aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemel." (Heb 8:1). Christus is steeds hoëpriesterlik besig; trouens, Sy priesterskap is ewig. (Heb 7:24-25). Die Nuwe Testament het nie baie besonderhede hieroor nie, maar dit openbaar genoeg om ons elke dag te bemoedig en lewenslank te vertroos.

# In hierdie verband maak die Hebreërskrywer baie van die feit dat die Here 'n ewige priester volgens die orde van Melgisedek is (5:6, 10; 6:20; 7:21).
In 7:1-17 antisipeer en antwoord hy 'n vraag wat waarskynlik in sy Joodse lesers se gemoedere leef: hoe kan Jesus 'n priester wees, aangesien Hy uit die stam van Juda, en nie uit Levi is nie? (7:13-14). Dis juis die punt wat begryp moet word, sê hy dan. Jesus is nie net 'n priester nie, Hy is 'n koninklike-priester - van 'n hoër priesterorde as die van Aäron en die Leviete.
Melgisedek was koninklike priester van Salem in die tyd van Abraham. Hy verskyn en verdwyn ewe skielik (Gen 14:18-20). Die Ou Testament verwys net nog een maal na hom, en wel in die Messiaanse profesie van Ps 110:4.
As priester van die Allerhoogste God (7:1) was hy 'n skaduagtige vooruitwysing na die Messias. Die Hebreërskrywer werk met veral 3 dinge om sy punt tuis te bring:

* Abraham het 'n tiende aan Melgisedek betaal, en dié het as priester vir Abraham geseën. Op daardie stadium was die hele stam van Levi nog by wyse van spreke in Abraham se lendene. Deur hulle familiehoof het die Leviete dus tiendes aan Melgisedek betaal en is hulle deur hom geseën. Dis gevolglik voor die hand liggend watter priesterorde die hoogste is (7:2, 4-10).

* Melgisedek se priesterskap is ewig, anders as die van die Leviete. Mens lees per slot van sake niks van sy vader of moeder, of van sy geboorte of afsterwe nie (7:3).

* Salem het later die Stad van Dawid geword - Jerusalem. Dawid is gevolglik erfgenaam van die dinastie van Melgisedek. En Dawid is uit die stam van Juda - soos ook Jesus! Christus is dus 'n priesterlike koning en 'n koninklike priester.

Christus tree in die hemel op - ter wille van ons

Heb 9:24b verseker ons dat Jesus Christus in die hemel self ingegaan het om nou ter wille van ons voor God te verskyn. Heb 7:25 sê Hy lewe vir altyd om vir die gelowiges by God in te tree. Heb 2:17-18 en 4:14-16 bemoedig ons om in getrouheid en gebed te volhard omdat ons 'n Hoëpriester vol medelye in die hemel het.

Ou Testamentiese wortels

Eks 28:9-30 (vgl. ook Eks 39) sê dat Ou Testamentiese hoëpriesters met 2 stene op die skouers en 12 op die bors voor God verskyn het. Op beide hierdie stelle stene is die name van Israel se 12 stamme gegrafeer. So is die stamme se name dan in die teenwoordigheid van die Here ingedra om Hom aan hulle te herinner (28:12, 29, 30).
Duidelik sinspeel die Hebreërskrywer hierop as hy sê dat Christus nou ter wille van ons voor God verskyn (9:24). Hy dra as 't ware diegene wat deur die geloof met Hom verenig is op Sy sterk skouers en liefdevolle hart weer en weer tot reg voor die Vader se genadetroon om Hom aan hulle te herinner.

Die dubbele gerigtheid van Christus se voorspraak

Die Nuwe Testament in die algemeen, en Hebreërs in die besonder, dui op 2 gerigthede in ons Here se voorspraak vir Sy aardse heiliges: hulle bewaring en hulle vervolmaking.

Een, Sy voorspraak is gerig op die instandhouding en bewaring van Sy geliefdes in 'n bose en vyandige wêreld.

# Heb 2:17-18 is veral betekenisvol in hierdie verband: "Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word."

* Die Here se voorspraak geskied in diepe meegevoel en solidariteit met ons, aangesien Hy in Sy vernederde staat ook deur swaarkry, vervolging en versoeking moes gaan. Een van die redes waarom Hy moes mens word en 'n tydlank op aarde tussen mense leef, was om Hom voor te berei vir hierdie voortgaande bediening.

* Hierin lê wonderlike troos vir die Christen-pelgrim: ons het 'n simpatieke verteenwoordiger in die hemelse troonkamer. As Hy oor die afsterwe van Lasarus gehuil het, hoe sou Hy klinies-afsydig kon staan as ek op my sterfbed worstel?

* Laat ons nooit vergeet nie: Sy bewarende meegevoel is almagtig (1Joh 5:18) en Sy voorbidding absoluut effektief (Joh 11:42).

# In Rom 8:31-39 jubel Paulus dat diegene wat met Christus deur die geloof verenig is, nooit van Sy liefde geskei kan word nie. En een van die redes daarvoor is die feit dat Christus by God vir hulle pleit (v.34).

# In 1Joh 1:8-2:2 moedig die apostel gelowiges aan om teen sonde te stry, maar om ook met vrymoedigheid om vergiffenis te bid wanneer hulle geswig het - omdat ons in Christus 'n voorspraak by die Vader het.
Hy tree dus nie net vir ons in as ons met lyding, versoekinge en vyandskap worstel nie, maar ook wanneer ons per geleentheid in die stryd misluk.

# 'n Voorbeeld van sulke voorbidding word in Luk 22:31-32 beskryf. Voor Petrus se val bid die Here dat sy geloof hom nie sal begewe nie en dat hy na sy inkeer 'n sinvolle bediening sal hê. Let wel, Jesus het nie gebid dat Petrus nie moet val nie (dit was oënskynlik baie nodig vir sy heiligmaking), maar dat hy nie moes bly lê nie. Let verder op dat die Here kennelik nie vir Judas Iskariot gebid het nie.

Twee, Sy voorspraak is gerig op die voltooing en vervolmaking van ons verlossing - ons wat deur die Vader aan Hom toevertrou is.

# Oor Jesus Christus as hemelse Hoëpriester sê die Hebreërboek: "... maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit 'n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree." (7:24-25, OAV). Hierdie verse kan inderdaad op twee maniere vertaal word, soos die NAV en NIV voetnota toon, maar die OAV en NIV se vertalingskeuse pas waarskynlik beter in die konteks. Daar sit beweging in die Grieks: Hy red diegene wat deur Hom na God gaan - in volkomenheid in. En Hy doen dit as Priester wat vir altyd leef om vir hulle by God in te tree.

* Die verlossing van 'n sondaar is 'n proses en die Nuwe Testament praat daarvan in 3 tye. Ons is gered (verlede tyd: Luk 7:50; Ef 2:5, 8); ons word gered (teenwoordige tyd: 1Kor 1:18; 2Kor 2:15); ons sal gered word (toekomstige tyd: Rom 13:11; 1Pet 1:5). Hierdie proses word voortgestu deur die voorspraak van ons hemelse Hoëpriester!

* Die Here was baie bewus daarvan dat die uitverkorenes as rentmeesterskap deur die Vader aan Hom gegee is - met die verantwoordelikheid om alles te doen wat vir hulle redding en herskepping nodig sou wees. En voordat een en elkeen van hulle nie uit die dood opgewek is nie, sal Sy taak nie voltooid wees nie (Joh 6:38-40, 44, 54; 10:25-30). Eers na afhandeling van hierdie grootse en kosmiese missie, sal Hy die koningskap weer aan die Vader oordra (1Kor 15:20-28).

# Terwyl dit Christus se voorspraak is wat die uitverkorenes se verlossingsproses voortstu, is dit die Heilige Gees wat dit in hulle lewens verwerklik. Die aand voor Sy kruisiging belowe die Here Jesus dan ook dat Hy Sy dissipels nie as weeskinders sal agterlaat nie, maar dat Hy die Vader sal vra om na Sy vertrek 'n ander Voorspraak vir hulle te stuur (Joh 14:16-18). Die antwoord op hierdie gebed vind op die Pinksterdag plaas met die uitstorting van die Heilige Gees nadat die verheerlikte en verhoogde Christus die belofte, waarop eeue gewag is, van die Vader ontvang het (Hand 2:33). En sonder die daaropvolgende werk van die Gees is die voortgang en volvoering van die verlossingsplan ondenkbaar.

Die Hoëpriesterlike gebed in Johannes 17

Christus se gebed is aangrypend en betekenisvol. Enkele sake staan uit.

# Hy bid nie vir die wêreld nie, maar net vir diegene wat die Vader vir Hom gegee het (v. 2, 6, 9, 24).

# Hy bid onder meer vir hulle bewaring in 'n bose omgewing (v. 11-12, 14-16), vir hulle onderlinge eenheid (v. 21-23) en vir hulle uiteindelike verheerliking (v.24).

# Hy het hierdie gebed spesifiek gebid terwyl Sy dissipels nog by Hom was sodat hulle Sy blydskap in alle volheid in hulle kon hê (v. 13). Hy het dus bedoel dat die dissipels die gebed moes hoor. Waarom? Die Here wil hê dat ons wat aan Hom behoort ons in Sy voorspraak moet verlustig en weer en weer troos en sekuriteit daaruit put.

Toepassing

Wat beteken dit alles vir ons vandag?

1. Elke stukkie werklikheid en egte belewing van my Christenskap is 'n uitvloeisel, nie net van ons Hoëpriester se afgehandelde genoegdoening nie, maar ook van Sy voortgaande voorspraak.
Dit sluit roeping en wedergeboorte, geloof en bekering, heiligmaking en volharding in. Hier is die oorsprong van elke stukkie insig en oortuiging; van my aanbidding, liefde en ywer; van my gehoorsaamheid en vrug; van my heiligmaking en gebedsverhoring.
Ons Middelaar is persoonlik en puntenerig ingestel op elkeen wat die Vader aan Hom toevertrou het. Hy sal nie Sy voorspraak staak voordat elkeen van Sy kosbares tuisgekom het nie. Hy sal aanhou totdat Hy en Sy hele bruid finaal verenig is.
Luister wat bid die Here in Joh 17:24: "Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle My heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het."
Leef jy met 'n blymoedige hart dag na dag in hierdie sekuriteit? Hou jy soos 'n drenkeling aan hierdie waarheid vas wanneer beproewinge jou wil verswelg?

2. Kan jy nou sien waarom Paulus sê alles - ons geloof en ons prediking - is tevergeefs as Christus nie opgestaan het nie (1Kor 15:12-19)?
Sy voortgaande voorspraak is nie die enigste rede waarom Hy persoonlik, fisies en histories moes opstaan nie, maar daarsonder was ek gewis steeds geestelik dood en verlore.

3. In watter verskriklike en ellendige toestand verkeer die ongelowiges nie!
In Joh 17:9 sê die Here Jesus uitdruklik: "Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort."

# Hierdie mense is sonder God en sonder hoop in die wêreld. En hulle gaan God se Regterstoel tegemoet sonder 'n Middelaar en 'n Advokaat. Hulle skuld is nie gedelg nie; hulle het net hulle eie geregtigheid (of gebrek daaraan!) om aan die Driemaal-Heilige te bied. Van diegene wat op die oordeelsdag só voor die Groot Regter verskyn, sê God se Woord duidelik dat hulle onvermydelike eindbestemming die poel van vuur is! (Op 20:11-15).

# Is dit al wat mens dus vir iemand kan sê wat nie deur die geloof met Christus verenig is nie? Nee! 'n Duisend maal, nee! In Sy Hoëpriesterlike gebed bid Christus ook vir diegene wat deur die apostoliese getuienis - die Nuwe Testamentiese evangelie - tot geloof in Hom sal kom (Joh 17:20). Vir elkeen wat dus wegdraai van sy sonde en in Christus invlug, is daar die sekere belofte dat die Hoëpriester se afgehandelde en voortgaande werk ook op hom of haar van toepassing sal wees.

4. Die Hebreërboek beklemtoon dat die Hoëpriester se voortgaande werk ingrypende implikasies vir ons eie gebedslewe het.
Die een groot effek wat dit op ons behoort te hê, is die van heerlike vrymoedigheid om weer en weer die genadetroon van ons hemelse Vader op te soek.
Luister wat sê die Hebreërskrywer: "Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word." (4:14-16).
En: "Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op 'n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water." (10:19-22).

* Wat is vrymoedigheid? Die Griekse woord (parresia) is vol betekenis: openlik, nie bang, beskeie of terughoudend nie, maar in vryheid en versekering - met heilige vrypostigheid.

* Dit behoort nou vir elkeen duidelik te wees dat gebedsvrymoedigheid en gebed in die Naam van Jesus Christus onlosmaaklik hand-aan-hand loop.

* Hierdie vrymoedigheid is geen ligtelike of opsionele saak nie. Dit lê aan die hart van ware gebed. Wat meer is, ons moet dit onder geen omstandighede prysgee nie, maar ons daarin oefen - aangesien dit 'n groot beloning inhou (Heb 10:35, OAV).

* Onthou dan, as jy in Christus is, staan jy voor God op grond van Sy eie Seun se verdienste. Wat meer is, in Hom - jou Middelaar, die mens Christus Jesus (1Tim 2:5) - het jy 'n Hoëpriester in die hemelse troonkamers. Maak staat op Sy voorspraak. Vir Hom sê die Vader nooit nee nie. Daarom is 'n enkele versoek uit Sy mond meer werd as die pleidooie van 'n legioen engele.

# Dis nou duidelik dat ons gebede in volle harmonie met Christus se voorspraak moet wees. Hoe kan ek in Sy Naam bid, as my gebedsvertoë uit pas is met Sy wil? Hoe kan ek weet wat Sy wil is? Daar is maar een antwoord: die Woord van God! Hoe beter ek God ken - Sy Woord, Sy waarheid, Sy weë Sy wysheid - hoe sekerder sal my gebede 'n eggo wees van my hemelse Hoëpriester se voorspraak. En dis waarom gebed gaan: om ook hierin 'n medewerker van my Verlosser te wees.

5. As Christus vir ewig lewe om t.w.v. my in die hemel by die Vader in te tree, kan ek dan anders as om hier op aarde teenoor mense vir Hom te getuig?
As Hy nie huiwer om my naam op Sy bors en skouers in die Allerheiligste in te dra nie; hoe kan ek my dan vir Sy Naam en evangelie in 'n vyandige wêreld skaam? Luister wat sê Hy in Matt 10:32-33: "Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is."
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment