Wednesday, June 8, 2011

ANTIPAS HEROUT No.13 : JESUS CHRISTUS, HOËPRIESTER VAN DIE NUWE VERBOND [1 van 3] - Enkele fondamentwaarhede

NIEMAND KAN DIE BYBELSE LEER VAN VERSOENING EN GOD SE VERLOSSINGSPLAN VERSTAAN, AS HY NIE BEHOORLIKE GREEP OP DIE WAARHEID VAN JESUS CHRISTUS SE MIDDELAARSKAP HET NIE. Hierdie enkele konsep lê aan die hart van die Godsopenbaring en is gevolglik een van die sleutels wat die evangelie oopsluit, trouens, die ganse Woord van God.
Die Bybel getuig van Christus. Dis 'n afwagtende profetiese getuienis in die Ou Testament; dis 'n terugkykende apostoliese getuienis in die Nuwe. En sentraal is die feit van Sy middelaarskap.

# 'n Middelaar is iemand in die middel. Hy is 'n tussenganger, 'n brug tussen twee (gewoonlik vyandige) partye. Hy het kontak met beide, simpatiseer met beide, en word deur beide vertrou. Sy taak is om elke party by die ander te verteenwoordig - en om sodoende versoening tussen hulle te bewerkstellig.

# Tussen God en mens is so 'n Middelaar noodsaaklik, omdat die sondeval vyandskap tussen hulle gebring het (Rom 5:10a). Gemeenskap is verbreek. Enersyds is die mens vyandiggesind teenoor God (Rom 8:7) en geslote vir Sy spreke (1Kor 2:6-16; 2Kor 4:4). Andersyds is God met toorn vervul oor die mens se sonde en eis Sy geregtigheid volle straf vir die skepsel se rebellie (Rom 1:18; 3:19; Ef 2:3b).

* Hierdie gebroke verhouding met sy Skepper is die mens se heel grootste probleem. Presies dit is Paulus se vertrekpunt as hy die heerlike waarheid van regverdiging deur die geloof in Romeine begin uiteensit (Rom 1:18).

# In die Ou Testament funksioneer God se verhouding met die verbondsvolk grootliks deur 3 soorte middelaars. Profete het namens Hom met die volk gepraat. Priesters het namens die volk voor Hom versoening gedoen. Konings moes die volk in gehoorsaamheid aan Hom lei - en sodoende Sy regering bemiddel.
Uiteindelik het hierdie 3 ampte wonderlik saamgeknoop in Christus.

Ou Testamentiese wortels

# Die oorspronge van alle groot Nuwe Testamentiese waarhede lê in die Ou Testament. Gesien in die lig van die progressiewe en geïntegreerde ontwikkeling van die Godsopenbaring is dit eintlik voor die hand liggend. Wie daarom Jesus Christus se middelaarskap, besonderlik dan nou Sy hoëpriesterskap, behoorlik wil verstaan, moet allereers die Ou Testamentiese wortels daarvan oopgrawe.

# Die verbondsvolk was meestal ongeletterde slawe toe hulle uit Egipte getrek het. God kommunikeer dus met hulle op 'n wyse wat hulle kan verstaan - met simbole en seremonies.

* Sentraal in die seremonies was die offerstelsel, met die Groot Versoendag as hoogtepunt. Die basiese boodskap hiervan was: redding kom deur plaasvervanging!

* Wanneer die gelowige Israeliet geoffer het, het hy effektief bely: Ek is 'n sondaar en verdien die dood. Maar ek glo daar is vergiffenis by U, my God. Ek pleit daarom: aanvaar hierdie offerdier as plaasvervanger. Wat daarmee gebeur, moet eintlik met my gebeur. Ek weet 'n diereoffer kan U nooit tevrede stel nie, maar hierdie handeling is 'n uitdrukking van my geloof dat U self (soos vir ons vader, Isak) die finale en hoogste plaasvervanger sal voorsien - die Lam van God!

* God se gunsgenote in die Ou bedeling het dus wel die vreugde van vergiffenis en versoening met Hom gesmaak. Waar kom dit duideliker na vore as in die Psalmboek?

* Hulle het weliswaar min verstaan. Nog net die eerste druppels van die Godsopenbaring het immers geval. Maar wie dít geglo het, só geglo het dat hy sy lewe daarvolgens ingerig het, is gered.

* Soos vandag, het regverdiging toe ook deur geloof alleen geskied (Gal 3:6, OAV). Paulus werk sterk hiermee as hy in Rom 4 beklemtoon dat hy nie 'n nuwe boodskap verkondig nie, maar die ou-ou verlossingsboodskap. "Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken" (Rom 4:3, OAV). Hierdie geregtigheid het hy nie deur werke verkry nie (v.6), ook nie deur die besnydenis nie (v.10), en ook nie deur wetsonderhouding nie (v.13).

* Ook in die Ou Testament was daar geen verlossingsheil buite Christus om nie. Voor Sy koms is die uitverkorenes se sondeskuld as 't ware teen Sy rekening afgeskryf. Mettertyd sou Hy dit wel kom vereffen (Rom 3:25; 1Kor 10:1-4; Heb 9:15).

# Uit wat hierbo gesê is, is dit duidelik dat die Ou Testamentiese offerdiens voorlopig was. En as sodanig was dit ook onvolmaak.

* Die wortelbetekenis van die Hebreeuse woord, versoening, is om te bedek. Die offers het dus die volk se sondes voor God bedek. Dit het egter nie die saak afgehandel nie; allermins! Die offerdiens was bloot 'n interim-maatreël.

* Hóé voorlopig en onvolmaak die Ou Testamentiese godsdiens werklik was, sou eers na die koms van Christus eksplisiet duidelik word.
Die Hebreërskrywer druk sterk daarop: Dit het bloedweinig bereik (7:18). Die priesters se werk was onvoldoende, omdat hulle sterflike mense was (7:23-24). Hulle moes immers ook vir hulle eie sonde offer (5:3; 7:27). Verder moes hulle offers oor en oor gebring word (10:1). En hierdie offers het niemand se gewete gereinig nie (9:9). Dit het allermins die ware probleem van sonde aangespreek (10:4, 11). En die onvoldoende aard daarvan het die heel duidelikste geblyk uit die feit dat dit nie toegang tot die allerheiligste verleen het nie (9:8). Niemand is dus volkome en finaal herstel in sy verhouding met God nie.

# Al het hy min verstaan, het die gelowige Israeliet wel geweet sy offers was bloot voorlopig (net 'n bedekking van sonde voor God se aangesig), dat elke offer profeties 'n Godsbelofte gedra het, en dat dit daarom 'n geloofshandeling was. Hy het daaraan vasgehou dat God wel mettertyd werk sou maak met sy sonde en die straf daarvoor - dat Hy self die volmaakte priesterskap sou instel en die volmaakte plaasvervanger sou gee. [1]

Die groot vervulling

# Soos die jare en geslagte voortgebeur het, het hoëpriester na hoëpriester gekom en gegaan (Heb 7:23). Die volk het gekreun onder hulle seremoniële pligte. Maar niks is ooit afgehandel nie; alles was voorlopig.
Eendag het 'n triomfantelike kreet egter 'n einde gebring aan die lang wag: "Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!" (Joh 1:29, 36). Die Groot Plaasvervanger het opgedaag! Die 'volheid van die tyd' het uiteindelik aangebreek (Gal 4:4).

# In veral die Evangelies is dit duidelik hoe Jesus se dissipels geworstel het om te verstaan hoe die Ou Testamentiese beloftes van 'n Messiaanse Middelaar in Hom vervul is. Vir die oorgrote meerderheid Jode, in hulle geestelike blindheid, was so 'n gedagte totaal onaanvaarbaar. Eers moes die Heilige Gees in Sy Pinkstervolheid kom om die Apostels 'in die hele waarheid' te lei (Joh 16:12-14). Eers toe die geheimenisse van die Nuwe Verbond [2] vir hulle oopgebreek is, het alles wonderlik in plek geval.

# Nêrens is meer volledig en in diepte oor die vervulling van die Ou Testamentiese offerstelsel geskryf, as in die Hebreërboek nie.

* Hebreërs is geskryf aan Joodse gelowiges vir wie die Christelike wedloop te moeilik begin word. Hulle oorweeg gevolglik om terug te keer na die Joodse godsdiens en seremonies. Dit vervul die skrywer met weersin en heilige verontwaardiging. Hierdie dwase mense wil terugdraai na iets wat nie meer bestaan nie - dinge wat in Christus vervul is! Wil hulle werklik nou God se genadegawe vertrap (Heb 6:6; 10:29)?

* Dis betekenisvol hoe die boek begin (1:1). Die Godsopenbaring is progressief. In Ou Testamentiese tye was God se spreke fragmentaries (veelmalig en veelsoortig), maar nou het Sy openbaring tot finale afronding gekom in Sy Seun se menswording en werk. Dit wat in die Ou Testament nog onvoltooid was, is nou afgehandel; dit wat voorlopig was, is nou finaal.

* In die res van die boek word hierdie uiters belangrike waarheid dan sistematies en met onontkombare logika uitgewerk. Die skrywer se tipiese werkswyse is om die mees verhewe dinge in die Joodse gemoed teenoor Christus te stel. In Sý lig vervaag een na die ander Ou Testamentiese ster dan tot 'n dowwe skaduwee.

* Maar hy wil ook seker maak sy lesers verstaan hom nie verkeerd nie. Die kontras tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament, waarmee hy so sterk werk, is nie die van valsheid en waarheid nie. Dis die kontras tussen beloftes en hulle vervulling; tussen skaduwees en hulle substansie; tussen die onvoltooide en die vervolmaking.
Daarom is die woord "beter" kenmerkend van die boek. Die Nuwe Testamentiese gelowige het in Christus 'n beter hoop (7:19); 'n beter verbond (7:22; 8:6), beter beloftes (8:6), en 'n beter Offer (9:23). Vergelyk ook 11:40 en 12:24.

* Die fundamentele argument van die Hebreërskrywer is dat God nou met Sy volk op 'n nuwe manier werk - in terme van 'n nuwe verbond (Heb 8:6-13). En die eintlike verskil tussen die Oue en die Nuwe is dat daar nou 'n nuwe Middelaar is - Profeet, Priester en Koning tegelyk!

* Sekerlik gee Hebreërs aandag aan Christus as God se Groot Profeet en Koning, maar die hoofklem is op Sy uitnemende en volmaakte priesterskap. Jesus Christus, Hoëpriester van die Nuwe Verbond, troon ver uit bokant Aäron, hoëpriester van die Ou Verbond. Hieraan word amper die helfte van die boek gewy (4:14-10:18).

* In 'n neutedop kan die Hebreërskrywer se dringende pastorale oproep só opgesom word: Kyk hoe bevoorreg is ons! Jesus Christus is die vervulling van 1500 Groot Versoendae. Miljoene diere is geslag. Eeu na eeu het die volk op God se Lam gewag. En nou het Hy gekom! Trouens, talle van ons het Hom self gesien! Kom tot stilstand, dink, begryp tog! Christus is soveel groter as die Levitiese priesterskap, soveel heerliker as Aäron. Hy is vervulling van die Seremoniële Wet. En julle wil omdraai - met só 'n Hoëpriester!

Die grondliggende amp

# Inderdaad is die Here Jesus Christus tegelyk Profeet, Hoëpriester en Koning van die Nuwe Verbond. En tussen hierdie drie verlossingsampte bestaan 'n onlosmaaklike en intieme verband. Tog is Sy Hoëpriesterskap die mees grondliggende van die drie.

* Vier maal haal die Hebreërskrywer Ps 110:4 aan: "Die Here het 'n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: 'Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek.'" (Heb 5:6; 6:20; 7:17; 7:21). En drie maal lewer die skrywer kommentaar op die feit dat God Sy Seun se Hoëpriesterskap met 'n eed bevestig het (Heb 6:17; 7:20-22; 7:28).
Sekerlik kan ons die gevolgtrekking maak dat die Hoëpriesterskap van ons Here Jesus Christus van die allergrootste belang is. En inderdaad is dit die diepste ankerpunt, die hart van ons redding. Die oorspronge van die evangelie lê in God se ewige raad. Die bekendmaking en geleidelike uitwerk daarvan geskied deur Christus se profetiese en koninklike ampte. Maar dis Sy Hoëpriesterskap wat die evangelie daargestel het.

* Niks laat Christus se amp as Profeet so oopblom as juis Sy Priesterskap nie. Want daar is bykans niks wat Hy as Profeet aan ons moet openbaar, wat nie wonderlik in Sy Hoëpriesterskap gedemonstreer en onderstreep word nie. Die Lam van God se hoëpriesterlike werk vorm tot 'n groot mate die inhoud van Sy profetiese verkondiging.
Hoeveel word nie daarin van God en Sy karakter geopenbaar nie! Sy soewereiniteit, Sy heiligheid, Sy geregtigheid, Sy Wet en volmaakte standaarde! Sy grootse raadsplan om Homself te verheerlik, Sy wysheid en almag! Sy liefdesgenade, Sy geduld, Sy versoenbaarheid!
Hoeveel skokkende onthullings oor die mens kom nie daarin na vore nie! Sy sonde en skuld, sy doemwaardigheid, sy volslae onvermoë om sy eie lot te verander!
Hoeveel helder lig word nie gewerp op die rykdomme van ons redding nie! Die objektiewe regsgeldigheid en onomkeerbare afgehandeldheid daarvan! Die toeganklikheid van God se genadetroon, die sekerheid van ons volharding, die onvervreembare sekuriteit van ons ewige erfenis!

* Sonder Christus se priesterskap sou Sy Koningskap ondenkbaar wees. Sy regeringsepter het Hy immers as priester verdien. Diegene wat Hy koninklik oorrompel en in Sy triomftog meevoer, is presies dieselfde mense wat Hy eers as priester moes loskoop. Die vyand wat Hy nou onder Sy voet verbrysel, se rug is oor die kruis geknak.

# Waarlik, die Here se priesterskap is grondliggend en sentraal. Golgota is die middelpunt van alles. Dis waarom Paulus oor niks anders wou praat as oor Jesus Christus nie - en spesifiek oor Hom as die gekruisigde (1Kor 2:2).

Enkele implikasies

Daar is geen wesensverskil tussen Ou en Nuwe Testamentiese redding nie.
Die reddingsbeginsel bly steeds regverdiging deur geloof alleen. Gelowiges in die ou bedeling het vorentoe gekyk - deur die bril van die Seremoniële Wet. Wat het hulle gesien? Die Lam van God! Al het hulle baie dof gesien, as hulle God se beloftes geglo het, is dit hulle tot geregtigheid gereken.
Sedert die koms van Christus kyk gelowiges terug - deur die bril van die Nuwe Testamentiese openbaring. Wat sien hulle? Die Lam van God! Al sien hulle baie duideliker, geld dit steeds: as hulle God glo, word dit hulle tot geregtigheid gereken.

Die Godsopenbaring in Ou en Nuwe Testament is wonderlik geïntegreerd.
Natuurlik is daar 'n diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond. Hoe duidelik maak die Hebreërskrywer dit nie! Maar, ewe belangrik, daar is ook 'n onverbreekbare kontinuïteit.
Dit het geweldige teologiese implikasies, wat ons nie nou kan uitwerk nie. Maar deur die eeue is dwalinge sonder tal te wyte aan wanbegrip van die verhouding tussen die twee Testamente.

Vergiffenis deur die offer van 'n strafdraende plaasvervanger lê aan die hart van God se verlossingsplan.
Die bloedspoor van 'n miljoen offers loop van die paradyshek af tot op Golgota. Maar daar stop dit. Hoe bevoorreg is ons nie! Ons is vry van die swaar juk van die offerdiens. Die finale Offer is eens en vir altyd geoffer. Dag na dag kan ons vrylik drink uit die fontein van Christus se volmaakte en afgehandelde werk as Hoëpriester.
Presies hier lê die verskil tussen die Christelike geloof en alle godsdienste - ook die churchianity van 'n formalistiese, dooie kerk. Alle godsdienste, kultusse en ketterye preek: Doen! Doen! Doen!. Die Evangelie jubel dit uit: Gedoen! Gedoen! Gedoen!

Hierdie plaasvervanging realiseer egter nie outomaties nie.
Weer en weer roep die Ou Testamentiese profete Israel op tot verootmoediging, hartsgebrokenheid en bekering. En tot vandag toe is dit nie anders nie. Dis die 'armes van gees' (Matt 5:3, OAV), die geestelike bedelaars, wat die Koninkryk ingaan. Dis diegene wat Christus vanuit hulle geestelike bankrotskap omhels en vir lewe en dood vashou - wat vrygespreek en met Sy geregtigheid beklee word.

So wesentlik belangrik is die tema van hierdie studiestuk (en die volgende twee), dat 'n evangelie wat iets anders as sentrale fokuspunt het, nie die ware evangelie is nie, maar 'n 'ander evangelie' (2Kor 11:2-4; Gal 1:6-10). Prediking wat nie weer en weer jubelend in die eens en vir altyd afgehandelde werk van Christus roem nie, red nie - dit verdoem (Rom 1:16-17; 1Kor 1:17-2:5). Hoe sterk beklemtoon die Hebreërskrywer dit nie in sy 6 pastorale waarskuwings nie! (2:1-4; 3:7-4:13; 5:11-6:12; 10:26-39; 12:14-17; 12:25-29).
Nóóit kan die leser hom oor 'n belangriker vraag verantwoord nie: Stel jy regtig al jou vertroue, vir lewe en vir sterwe, vir tyd en vir ewigheid, in Jesus Christus en Sy eens en vir altyd afgehandelde werk - beide as Priester en as Offer - en daarin alleen?

[1] As mens die Ou Testament lees, veral die profete, is dit duidelik hoe die verlange na God se Messiaanse Middelaar, Sy Groot Profeet, Priester en Koning, gegroei het.

[2] Daar is sprake van 3 groot verbonde in die Bybel. Eerstens is daar die Verlossingsverbond tussen die drie persone van die Goddelike Drie-eenheid - om tot hulle selfverheerliking saam te werk in die verlossing van sondaars (ook soms die Vredesraad genoem). Tweedens is daar die Werkverbond tussen God en Adam, asook daarna tussen God en die Laaste Adam - dat die mens deur gehoorsaamheid sy beloofde erfenis moes verwerf. Derdens is daar die Genadeverbond tussen God en die gevalle mens - dat elke sondaar wat hom bekeer en in algehele afhanklikheid sy geloofsvertroue in die verdienste van Christus alleen stel, deur God regverdig verklaar sal word. Hierdie Genadever-bond het 2 fases of komponente: die Ou Verbond en die Nuwe Verbond.
Die begrippe 'verbond' en 'testament' is in werklikheid alternatiewe vertalings van 'n enkele Hebreeuse woord, enersyds, en 'n enkele Griekse woord, andersyds. Mens kan dus, i.p.v. Ou en Nuwe Verbond, om 't ewe praat van Ou en Nuwe Testament.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment