Thursday, August 2, 2012

ANTIPAS HEROUT No.52 - DIE LYDING VAN CHRISTUS - Enkele perspektiewe

Wie sal ooit die diepgange van Jesus Christus se lyding kan deurgrond  -  Sy lyding in die plek van die mense wat deur die Vader aan Hom vir verlossing toevertrou is? Hoe sal ons ooit begryp wat dit beteken dat Hy die ewige straf wat hulle toegekom het op Hom geneem het?
    Ons tema is uiteraard omvangryk en mens sou lank daarby kon stilstaan. Maar kom ons kyk tog vir 'n oomblik daarna.
    Net nog een inleidende opmerking: die Here Jesus het van Sy ontvangenis af in Sy staat van vernedering gely. Maar ons sal nou konsentreer op Sy laaste ure, toe Sy lyding sekerlik tot 'n verskriklike klimaks gekom het.

Die ergste uitstorting van God se toorn

Dis 'n baie algemene persepsie dat die God van die Ou Testament iesegrimmig, toornig, gewelddadig en wreed was. Daarteenoor sou die God van die Nuwe Testament liefdevol en vergewensgesind in die oortreffende trap wees. 'n Baie groot persentasie kerkmense werk dus effektief met 'n Bybel van twee gode  -  met 'n bi-teïsme. Niks kan egter méér Godonterend en lasterlik wees nie.
    Die God wat Homself in die Ou Testament aan ons openbaar, is presies dieselfde God van wie ons in die Nuwe Testament lees. Trouens, die ergste uitgietings van God se toorn kry ons in die Nuwe Testament.
    Wat is erger as Openbaring se seëls en trompette en bakke vol toorn? Dit laat mens sidder as jy lees hoe die mense by die berge pleit om op hulle te val om hulle van die Lam se toorn te bedek.
    Maar die ergste uitstorting van God se toorn in die Nuwe Testament vind ons nie in Openbaring nie. Daarvoor moet ons Golgota toe gaan!
    As daar ooit 'n man was wat kon kla oor die behandeling wat Hy van God gekry het, was dit Jesus Christus. Hý was immers die enigste mens wat ooit volkome onskuldig deur hierdie lewe gegaan het.
    Inderdaad sou God onregverdig gewees het as die Here Jesus nie vrywillig ons sonde op Homself geneem het nie. Maar met Sy hele hart het Hy onder die straf ingeklim waarmee die uitverkorenes tot in ewigheid nie sou klaargekry het nie. En toe die toorn van God genadeloos, golf na woedende golf, met meedoënlose intensiteit oor Hom gebreek het, het Hy nie vir 'n oomblik gemurmureer nie.
    Wat ons moet raaksien, is dat Christus nie ten diepste onder die hande van mense gely het nie. Nee, Hy het onder Sy Vader se toorn as strafdraende Plaasvervanger namens ons gesterf. Só haat God sonde, só streng en onkreukbaar is Sy geregtigheid, dat Sy Seun, die oomblik toe Hy ons skuld op Hom geneem het, geensins oorgesien kon word nie. Dis waarom Jesaja profeties kon skryf: "Dit was die wil van die Here om Hom te verbrysel, om Hom die pyn te laat ly" (53:10).

Getsemane (Mt 26:36-46)

Al in Getsemane begin mens 'n idee kry van wat Jesus deurgemaak het. Hoewel nog nie die kruis self nie, word Sy vrees en benoudheid hier in die tuin iets van 'n venster waardeur ons na Sy latere lyding kan kyk.
    Voordat die Here begin bid, sê Hy vir Sy dissipels, "Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My" (Mt 26:38). Dan stap Hy 'n entjie verder, gaan lê op die grond en bid: "My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil" (Mt 26:39).
     As Hy klaar gebid het, gaan Hy terug na Sy dissipels toe en kry hulle vas aan die slaap.
    Hy gaan bid dan vir 'n tweede keer: "My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied" (Mt 26:42). Dis 'n gebed van oorgawe, en duidelik is Jesus besig om Sy vrese te bemeester.
    Terug by Sy dissipels is hulle steeds aan die slaap. Dis duidelik: alleen, heeltemal alleen, sal Hy die lydenspad moet stap.
    Hy gaan bid dan 'n derde keer. Nou is Sy oorgawe totaal en finaal. Dan sê Hy met beslistheid: "Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby" (Mt 26:46).

Jesus se intense belewinge
Die sterkste woorde in die Griekse taal word gebruik in 'n poging om te beskryf waardeur die Verlosser gegaan het. Tewens, só erg was Sy doodsangs dat Lukas skryf: "Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val" (Lk 22:44).
     Die evangeliste gebruik vier woorde om die Here Jesus se intense emosies en belewinge uit te druk.

    •     Die eerste woord (Gr. ademoneo) word vertaal met "benoud wees" (OAV) of met "beangs wees" (NAV). Dit dui op die terugdeins van 'n onvermydelike verskrikking wat voorlê (Mt 26:37; Mk 14:33).

    •     Die volgende woord (Gr. perilupos) word deur die OAV vertaal met "diep bedroef tot die dood toe". Die NAV praat van "doodsbenoud". Letterlik beteken dit om van hartseer omring te wees, om deur benoudheid oorweldig te word (Mt 26:38).

    •     Die derde woord (Gr. ekthambeisthai) word deur beide vertalings met "ontsteld" vertaal. Letterlik is dit om in die greep van 'n afskuwelike verskrikking waardeur jy moet gaan, te wees (Mk 14:33).

    •     Die laaste woord (Gr. agonia) word deur die OAV met "sware stryd" vertaal, en deur die NAV met "doodsangs". Dit dui op die uiterste innerlike konflik (Lk 22:44).

Die skrikwekkende vooruitsig

Wat wek sulke intense emosies in die Here Jesus? Wat lê vir Hom voor? In Sy gebed praat Hy van die "lydensbeker". Wat is hierdie beker?
    Daar het liggaamlike lyding op Hom gewag  -  geseling en die onuitspreeklike foltering van die kruis. Geen teregstellingswyse was deur die eeue meer wreed en pynlik nie. En die dood het stadig gekom. Mense kon vir dae aan hierdie vloekhout oorleef.
    Voorts moes die onreg van Sy teregstelling, die hoon van die mense en die verraad van Sy dissipels soos swaarde deur Sy siel gesteek het.
     Daar is egter meer. Hoe rym mens die Here Jesus se benoudheid in Getsemane met die feit dat Hy dwarsdeur Sy lewe oënskynlik geen vrees vir mense gehad het nie?
    Het Hy minder moed gehad as Sy volgelinge wat ná Hom vir hulle geloof tereggestel sou word? Dwarsdeur die kerkgeskiedenis is dit as 'n wonderlike voorreg gesien om 'n marteldood vir jou geloof te sterf. So, byvoorbeeld, het Ignatius, die voorganger van die gemeente in Antiogië in Sirië, aan die begin van die tweede eeu by die gemeentes gepleit om niks ter wille van sy vrylating te doen en hom so die eer van 'n marteldood te ontneem nie. Waarom sou ontelbaar baie deur die eeue só deur die Heilige Gees versterk word dat hulle die skavot of die brandstapel met lofliedere op hulle lippe tegemoet kon gaan  -  maar die Seun van God kan dit nie hanteer nie? Waarom sou Hy wat tot nou toe die kruis met onstuitbare beslistheid as Sy eintlike lewensdoel beskou het, skielik begin terugdeins?
    Nee, erg soos Sy liggaamlike en emosionele smarte was, was die lydensbeker kennelik iets veel erger.
    Die rede hiervoor word duidelik as mens mens die dramatiese lydensgebeure in die lig van die res van die Nuwe Testament vertolk.

Die onuitspreeklike verskrikking vir die Here Jesus het daarin gelê dat die totale sondeskuld van een en elkeen wat die Vader vir Hom gegee het (Jh 6:37, 39)  -  aan Hom toevertrou het  -  op Hom gestapel is. Hy moes die volle toorn van God daarvoor verduur. En die innige en ewige gemeenskap wat Hy tot op daardie oomblik met die Vader geniet het, moes Hy vir 'n tyd lank verbeur.

'n Bevestiging vir só 'n verstaan van Jesus se benoudheid en lyding, is die feit dat die begrip "beker" (wat Hy gebid het by Hom moes verbygaan) dikwels in die Ou Testament geassosieer word met God se toorn en straf (Job 21:20; Ps 75:8; Jes 51:17-22; Jer 25:15-29; Eseg 23:32-34). Dit geld ook die Openbaringboek (14:9-10; 18:6).
    Hoe aangrypend is dit egter nie dat daar geen rebellie by Jesus te bespeur is nie. Elke gebed van Hom begin met die woorde, "My Vader"; en elke keer sluit Hy af met die oorgawe, "nie My wil nie, maar U wil."
    En na die stryd, nadat die Here Jesus deurgebid het, is Hy sterk, vol vrede en vergenoegd  -  in volle oorgawe. Daarom, as Petrus Sy inhegtenisname wil verhoed, sê Hy vir die apostel: "Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?" (Jh 18:11). Om die wil van die Vader te doen, sou steeds Sy voedsel bly.

Die kruiswoorde

Nou kan ons na die kruis self toe gaan. Die beskrywing van die gebeure op daardie verskriklike dag gryp mens se verbeelding aan.
    Daar was sewe kruiswoorde  -  versprei deur al vier evangelies.

•    Die eerste drie woorde gaan oor die belange van die omstanders.
    Eerstens doen Jesus voorbidding vir sondaars  -  in hierdie geval Sy teregstellers: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie" (Lk 23:34). Die Griekse werkwoord sê Hy het aanmekaar so gebid (Gr. Imperfektum).
    Tweedens gee Hy 'n wonderlike belofte vol troos vir 'n sondaar wat homself verootmoedig  -  'n misdadiger wat saam met Hom gekruisig word: "Ek verseker jou: vandag sal jy saam met My in die paradys wees" (Lk 23:43).
    Derdens sien Hy om na die belange van Sy moeder, Maria, deur haar en Johannes aan mekaar toe te vertrou: "Daar is u seun ... Daar is jou moeder" (Jh 19:26-27).

•    'n Stilte van drie uur volg. Dan word die laaste vier kruiswoorde uitgespreek, kort na mekaar. Nou gaan dit oor Jesus se lyding en Sy verhouding met Sy Vader.
    Die vierde kruiswoord, waarna ons in meer besonderhede gaan kyk, word gevolg deur drie kort sinnetjies. Die vyfde woord: "Ek is dors" (Jh 19:28). Die sesde woord: "Dit is volbring" (Jh 19:30). En die sewende en laaste woord: "Vader, in u hande gee Ek my gees oor" (Lk 23:46).
    Dat die Here nou met Homself en Sy hemelse Vader besig is, is natuurlik en tipies. As 'n sterwende al sy aardse belange afgehandel het, draai hy by wyse van spreke sy gesig na die muur toe om die dood tegemoet te gaan, en om met God alleen besig te wees.
    Die kruisiging van Christus is sekerlik die mees uitsonderlike gebeurtenis in die geskiedenis van hierdie wêreld  -  die skepsel maak sy Skepper dood! En die vierde kruiswoord, "My God, my God, waarom het U my verlaat?" (Mk 15:34), is kennelik die dieptepunt van die Here Jesus se lyding. Die ewige en onuitspreeklik wonderlike gemeenskap tussen die eerste en tweede Persone van die Goddelike Drie-eenheid word verbreek!
    Dat onskuldiges veroordeel word en dat die een wat goed doen deur sy begunstigdes vermoor word, is sekerlik niks nuuts in die geskiedenis van die wêreld nie. Maar Hy wat aan die kruis hang, is geen gewone mens nie  -  Hy is die volkome en die volmaakte mens! Alle ander mense wat deur hulle vervolgers tereggestel is, het talle foute gehad. Niemand se saak is immers waterdig nie. Maar van hierdie Een het selfs 'n heidense regter gesê: "Ek vind geen skuld in hierdie man nie" (Lk 23:4)!
    Maar dis nie al nie. Nog meer verstommend is die feit dat híérdie tereggestelde nie net 'n volmaakte mens is nie  -  Hy is meteen die Seun van God en God die Seun!
    As ons nie kan begryp dat God die Seun Homself aan so iets onderwerp nie, wat sal ons sê van die Skrifopenbaring dat dit God die Vader was wat Sy Seun oorgegee het om so 'n skandelike en pynlike dood te sterf?

Die vierde kruiswoord

Dis reeds vir drie uur donker. Nou is dit die negende uur, oftewel drie-uur die middag. Dis 'n middag-middernag. Jesus is sterwende. "Eloï, Eloï, lemá sabagtani?" "My God, my God, waarom het U My verlaat?"
    Wat het deur Jesus se gemoed gegaan tydens daardie 3 uur van stilte in die duisternis? Beleef Hy dalk ekstatiese gemeenskap met Sy Hemelse Vader? Dit sou tipies wees van 'n sterwende gelowige.
    Maar so was dit nie in ons Here Jesus se geval nie! Inteendeel.
    Die rou kreet waarmee Hy die stilte verbreek, is uitdrukking van dit wat Hy in die voorafgaande ure van duisternis beleef het.
    Psalm 22:2, die Messiaanse profesie van 'n duisend jaar vantevore, waar hierdie woorde net so geskryf staan, sê dit was soos 'n "gebrul" (OAV). Die Hebreeuse woord dui op die roggelende en benoude gebrul van 'n dier in doodsangs. Nooit was daar 'n uitroep soos dié in die geskiedenis nie; nooit sal daar ooit weer só 'n gil wees nie.
    En die Vader stuur nie 'n engel om Hom te versterk nie. Hy doen nie 'n wonderwerk en haal Hom dramaties van die kruis af nie. Hy laat Hom eenvoudig oor aan Sy lot. Vir die eerste maal in die ewigheid is daar tussen Vader en Seun geen gemeenskap nie. Jesus is alleen!

Want tot in der ewigheid sal God met sonde geen gemeenskap hê nie  -  en die sonde van miljoene is op die Seun gestapel!

Wat ons baie goed moet verstaan, is dat Jesus se geskeidenheid van God nie bloot Sy verbeelding was nie. Nee, dit was werklik. God het Hom regtig verlaat.

    •     Wat die Here Jesus hier ervaar, is die vervulling van wat 'n duisendvyfhonderd Groot Versoendae geprofeteer het (Lev 16). Hy vervul dit waarvan onder meer die twee bokke gespreek het  -  die bok "vir die Here" wat met vuur verbrand is, en die bok "vir Asasel" wat met die volk se sonde op hom die woestyn in gejaag is om daar verdwaald en alleen van honger, dors en ontbering om te kom.

    •     Jesus ondergaan hier die marteling van 'n doemeling. God handel met Hom, nie soos 'n liefdevolle vader met sy seun nie, maar soos 'n gekrenkte en regverdige regter met 'n misdadiger. Dis dermiljoene se sonde wat Jesus hier vergruis. Dis die bliksemstrale van God se heilige toorn wat meedoënloos, een na die ander, op Hom inbrand! Dis die ewige verdoemenisse van ontelbaar baie begenadigdes wat op Hóm gestapel is en Hom verbrysel. En Hy is alleen!
    Maar is dit regverdig? Was Hy nie in hierdie oomblikke juis by uitnemendheid gehoorsaam aan Sy Vader nie? Presies dit is die punt. Hy het ons sonde op Hom geneem sodat die Vader dit aan Hom kon straf. Só bevredig Hy die onkreukbare geregtigheid van God. Wat ons hier sien, is hoe Hy elke stukkie sondeskuld van elke uitverkorene deur die ganse geskiedenis betaal!

Woord vir woord     

•    "My God, my God". In die eerste en laaste kruiswoord praat Jesus met God as Sy "Vader". Maar hier noem Hy Hom net "God". Is die intimiteit tussen hulle verbreek?
    Die Aramese Godsnaam wat die Here Jesus waarskynlik hier gebruik, is "El". Dis die basiese Godsnaam en kom van die stam "om sterk te wees". Dit dui dus op God as die almagtige. Die band tussen Vader en Seun word dus nie verbreek omdat die Vader nie meer Sy gefolterde Seun kan vashou nie. Nee, wat hier gebeur, is presies wat reeds in die ewigheid voor die skepping tussen die drie Persone van die Goddelike Drie-eenheid besluit is  -  dat die Seun só in die plek van God se uitverkorenes sou kom sterf.

•    "Waarom?". Wat tog is die rede dat God Sy enigste Seun nou verlaat  -  hier in Sy uur van grootste nood? Hy het tog geen aanleiding daartoe gegee nie. Was Hy nie in alles deurgaans getrou en gehoorsaam nie? Natuurlik weet Jesus presies wat aan die gang is, maar hier sien ons Hom in Sy menslike swakheid.

•    "Het". Dis verlede tyd; dit het reeds gebeur. Hier is nie bloot 'n dreigende vooruitsig nie; dis reeds 'n voldonge feit! Dis die verskriklikste oomblik in God se ewigheid! Gemeenskap tussen die eerste en tweede Persone van die Drie-enige God is verbreek!

•    "U". Was die klem in die sin dalk op hierdie woord? Dis asof Jesus wil sê: "Ek ken verwerping. My broers het My vroeg reeds verwerp. Nasaret het My verwerp. Hulle wou My selfs vermoor. My volk het My die rug toegekeer. Meeste van My volgelinge het aanstoot aan My geneem. Judas het My verraai, Petrus het My verloën, My dissipels het gevlug."
    Het dít dalk deur Sy gedagtes gespoel: "Dit alles kon Ek verduur  -  want Ek het U gehad. Dis waarom ek kon sê: Kyk, daar kom 'n tyd ... dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is" (Jh 16:32)? Sit daar in hierdie vraag dalk iets van 'n verdwaasdheid: "Vader, het Ú My nou ook verlaat?"

•    "My". Of is die klem dalk op híérdie kort woordjie? Dan is dit 'n roep tot die Vader: "Die mens is die kroon van U skepping, maar hy het in sonde geval. Daarom is alle mense sondig. Dat U dus die mens verwerp, is verstaanbaar. Maar Ék! Het Ek nie die werkverbond volkome gehou nie? Was Ek nie elke oomblik van elke dag in optrede, woord en gedagte volmaak gehoorsaam aan U nie? Het U nie gesê nie, "Dit is My geliefde Seun in Wie Ek 'n behae het"? Waarom verlaat U Mý dan nou?"

•    "Verlaat". Was die Vader en die Seun nie van altyd af sielsgenote nie? Was die eenheid tussen hulle  -  en die liefde, die onderlinge behae, die intieme gemeenskap  -  nie meer en dieper as wat woorde kan uitdruk nie? Was dit nie van alle ewigheid af so nie? Maar nóú, as die Seun Sy Vader nodiger het as ooit, is Hy skielik alleen. Die Vader is net weg!

Implikasies

1.    In die Here Jesus se benoudheidskreet sien ons die verskriklikheid van sonde.

Waar was daar ooit soveel haat saamgetrek soos daar op Golgota?

•     Waar sien jy die mens se weersin in God meer as hier? Die skepsel vermoor sy Skepper!
    Goed, miskien besef die mense nie dat hulle met die Seun van God te doen het nie. Maar was Sy persoon en leer en lewe nie deurgaans deurtrek van Godsteenwoordigheid nie? Het Hy nie dag in en dag uit die liefde van God in hulle midde uitgeleef nie? Het Hy nie oor en oor, op allerlei wyses, vir hulle gesê wie Hy is en wie Hy verteenwoordig nie?
    Maar hulle kies Barabbas!

•     Sonder twyfel is ook die Duiwel aktief op Golgota. En hierdie vierde kruiswoord is die mooiste woorde wat hy ooit gehoor het.
    Maar terwyl hy sy hande selfvoldaan vryf, word sy lot onomkeerbaar en finaal verseël!

•     Die volk en die duiwel se haat is egter niks in vergelyking met 'n ander haat nie  -  'n haat wat die Golgota-gebeure van A tot Z beheers. En niks beklemtoon hierdie haat soos die vierde kruiswoord nie. Ons praat van Gód se haat vir sonde.
    Só vasbeslote is die Vader dat geen, maar géén sonde ongestraf sal bly nie, dat Sy innig-geliefde Seun plaasvervangend moet instaan vir die uitverkorenes. Daar is geen ander manier om hierdie begenadigdes te red nie, want nie 'n kriesel van hulle sondeskuld sal onder die mat ingevee word nie. Elke onsuiwer motief, elke onbedagsame woord, elke selfsugtige daad van 'n honderd miljoen lewens, of baie meer, sal ten volle gestraf word. Waarlik, God is 'n God van volkome geregtigheid!

O, as ons maar méér kan verstaan van hierdie Godshaat vir sonde! As ons maar 'n dieper insig kan verkry in die helse smarte wat God se geliefde Seun in ons plek moes verduur! As dit maar ons harte meer wil omdolwe en ons gemoedere meer beheers! 'n Beter oplossing vir 'n geflankeerdery met sonde is daar nie. As dít die prys is vir my verlossing, móét ek mos elke dag bid dat God my waarlik heilig sal maak.
    Daarenteen, kan daar iets méér veragtelik wees as om God te aanbid terwyl jy sonde soos 'n suiglekker in jou kies rondrol?


2.    In Jesus se benoudheidskreet sien ons die verskriklike lot van diegene wat op eie meriete die ewigheid binnegaan.

Dis duidelik soos daglig:

 As God Sy geliefde Seun nie gespaar het nie, hoe sal hy jou en my laat wegkom as ons Sy genade-uitnodigings en bekeringsbevele in die wind slaan?

As die Seun volkome deur die Vader verlaat is toe Hy sonde vir ons geword het, hoe sal ek en jy dan God se genadeguns bly ervaar as ons aanhou om te flankeer met opinies, gesindhede en praktyke wat God haat? (Hb 12:14).
    Nee, nee! Moenie die verleiers glo nie wat  -  deur wat hulle sê, of nié sê nie  -  aan jou suggereer dat alles uiteindelik vir almal goed sal uitwerk. Helaas, hoeveel kansels is bereid om oor die verskrikkinge van God se ewige oordele te praat?
    Ek kan hierdie huiwering verstaan. In ons mensgesentreerde wêreld is mense skaam vir 'n God van toorn. En dis mos lekker om 'n goedvoel-tyding te bring: Sing-sing stap ons hand aan hand, almal saam na die lekkerte van Glimlagland!
    Maar ek durf nie so 'n eensydige en misleidende boodskap preek nie. My Koning het nie so 'n boodskap gepreek nie! Trouens, niemand in die Bybel het so dikwels teen die ewige verdoemenis gewaarsku as Hy nie. En wie het beter geweet as Hy?
    Nee, daar is maar één manier om gered te word van dit wat jy deur en deur verdien  -  draai jou rug op sonde en vlug in geloofsvertroue vir tyd en ewigheid in Christus in. Dan, belowe God se Woord, sal jy beklee word met Christus se geregtigheid  -  Sý volkome gehoorsaamheid aan Sy hemelse Vader.

3.    In die Here Jesus se benoudheidskreet hoor ons 'n onontkombare roeping tot dankbaarheid en gehoorsaamheid.
Lees mens die Nuwe Testament, kom jy gou-gou onder die indruk dat niks vir Jesus belangriker was as Sy kruiswerk nie. Ja, in Sy liefde moes Hy baie vreugde geput het uit Sy goeie werke  -  werke wat vir soveel duisende lewensverligting gebring het. En as God se groot profeet, was dit vir Hom baie belangrik om onvermoeid die mense te leer. Maar in die eerste instansie het Hy as Verlosser gekom. Hy het gekom om ewige en volmaakte redding vir dermiljoene te bewerkstellig. En dit kon net aan die kruis gebeur.

Jesus het gelewe om te sterf!

As Sy versoeningsdood dan die Here Jesus se allererns was, en as die dieptepunt daarvan hierdie vierde kruiswoord was  -  hoedanig moet óns erns dan nie wees om die implikasies daarvan te omhels en uit te leef nie? Hoe hemelskreiend selfgesentreerd is dit nie om fluit-fluit daarby verby te huppel nie?

As jy jouself 'n Christen noem, moet jy weet dat waarhede soos hierdie enorme verantwoordelikhede op jou stapel!
Dis nie dat ons kan of moet probeer vergoed nie. Genade kan ons nooit in die skuld by God dompel nie. Dit sou impliseer dat ons moet terugbetaal  -  en dan is dit nie meer genade nie.
    Genade is per definisie guns wat betoon word aan iemand wat algeheel magteloos is om te kompenseer.

Christus is óf 'n sondaar se volkome alleen-Redder, óf glad nie. Hy deel Sy eer met niemand nie!

Maar daar is so iets soos integriteit en dankbaarheid  -  en die beloftes van loon vir gehoorsaamheid en getrouheid. En as ek nie Sy beloftes met alles in my najaag nie, glo ek mos nie regtig nie.
    Laat daar geen illusie oor wees nie: tot die mate wat ek hierdie waarhede begryp en aangryp, en tot die mate wat ek dit na waarde skat, tot daardie mate sal dit my lewe beheer.

As Hý so 'n prys betaal het om my van die ewige verdoemenis te red, dan is dit mos krimineel in die oortreffende trap as ek nie my hele lewe daaraan wy om Hom te behaag en te verheerlik nie.

4.    Christus was verlate sodat ons wat met hom verenig is nooit weer in die absolute sin verlate hoef te wees nie.
Tot 'n mate ken elkeen van ons eensaamheid en verwerping. En dis veral in sulke tye dat mens stewig in die geloof daaraan moet vashou dat jy nie van Gód verlate is nie. Die grondoorsaak en rede daarvoor sit in hierdie vierde kruiswoord.
    Omdat Christus van God verlate was, sal diegene wat deur 'n ware geloof met Hom verenig is, tot in ewigheid nooit weer in die absolute sin van die woord alleen wees nie. Waarom nie?

•    Kort na die Here Jesus se benoudheidskreet van verlatenheid, het Hy triomferend uitgeroep: "Dit is volbring!" (Jh 19:30). Dit is die vertaling van 'n enkele Griekse woord wat vir elke Christen onbeskryflik kosbaar is: tetelestai ! Dis 'n woord wat uit die handelswêreld gekom het. As iemand geld geskuld het, en uiteindelik sy verpligting finaal nagekom het, het die skuldeiser hierdie woord dwarsoor die rekeningstaat geskryf  -  met die betekenis: die skuld is ten volle vereffen! So 'n gekanselleerde staat het dan as kwitansie gedien.
    Dis wat Jesus hier met Sy sesde kruiswoord uitroep.

Al die sondeskuld van diegene vir wie Hy hier plaasvervangend ly en sterf, is afbetaal. Niks is uitstaande nie! Daar is geen skuld meer nie!
•    Dit beteken dat daar in beginsel niks, maar niks meer in die pad staan van volkome gemeenskap tussen God en diegene in Christus nie. Want dis sonde wat skeiding maak tussen die Here en sondaars (Jes 59:2). Van God verlate hóéf ons dus nooit weer te wees nie. Want al ons sondeskuld, elke kriesel daarvan, is betaal.

In God se boeke het ons wat geregverdig is, die status van mense wat nooit gesondig het nie.

•    Tog voel mens wel soms van God verlate, nie waar nie. Want soms beproef die Here ons geloof deur die belewing van Sy teenwoordigheid te onttrek. En natuurlik, dikwels is dit wel die gevolg van sonde  -  al is dit net die sonde van kleingeloof. Maar dan hoef 'n geregverdigde wat met Christus verenig is net die sonde in opregtheid te bely, en die belewing van gemeenskap met die Here word gou-gou herstel.
    Dis soos 'n man en 'n vrou wat 'n uitval gehad het. Hulle is dan skaamkwaad en ongemaklik in mekaar se geselskap. Maar hulle blý getroud. En al wat nodig is om die genot van hulle liefdesverhouding te herstel, is die selfvernedering van apologie.

'n Laaste trooswoord

Die Here se wanhoopskreet was 'n vraag: "Waarom het U My verlaat?" Toe Hy in die paradys aankom, was die eggo's daarvan dalk nog hoorbaar. Het Hy 'n antwoord op hierdie vraag gekry?
    Wat tref die Here Jesus in die hemel aan as Hy daar aankom? Ek kan my verbeel: ontelbaar baie Ou Testamentiese heiliges met feesbaniere langs die strate wat Hom vol dankbare blydskap verwelkom. Hy het hulle verlossing so pas formeel gefinaliseer (nie dat daar ooit twyfel oor was nie!). Ja, ook hulle is soos Abraham destyds deur die geloof alleen geregverdig (Rm 4:3). Tog sê die Skrif dat hulle sondes tydens die ou bedeling "tydelik ongestraf" gebly het (Rm 3:25). Dit moes wag vir Christus om die straf te kom dra  -  om God se toorn finaal te kom bevredig.
    Maar natuurlik, toe die Seun aan die kruis van God verlate was, was daar dermiljoene toekomstige mense wie se verlossing Hy óók moes verseël. En ook dít het Hy onomkeerbaar gedoen.
    Kan ons peil trek op iets wat tweeduisend jaar gelede gebeur het? Het die onbeskryflike smarte van die Seun bewerkstellig wat dit moes? Was dit nie dalk tevergeefs nie?
    Mens sou sekerlik lank kon antwoord op hierdie kort, maar lewensbelangrike vrae. Maar kom ons sluit af met iets wat ons net weer daaraan herinner dat ons te doen het met die ewige God  -  die Een in wie se raadsplan een dag soos 'n duisend jaar is en 'n duisend jaar soos een dag, die Een wie se Woord 'n geïntegreerde en algeheel betroubare eenheid is.
    Die eeue-oue Psalm wat Jesus in Sy vierde kruiswoord aanhaal, sluit wonderlik vertroostend af. Psalm 22:23-32 beskryf die verlossingsvreugde en ewige sekuriteit van God se begenadigdes. En dan eindig die Psalm, wat begin met "My God, my God, waarom het U my verlaat?", met 'n enkele Hebreeuse woord  -  vertaal met, "Hy het dit gedoen!" (OAV).
    En dan kom die (weliswaar ongeïnspireerde) Septuaginta  -  die Griekse vertaling van die Ou Testament  -  eeue later, maar tog ook meer as twee eeue vóór die Here Jesus se kruisdood, en vertaal hierdie enkele Hebreeuse woord met 'n enkele Griekse woord: "tetelestai!"  -  die sesde kruiswoord!
                                                                                                                            Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment