Tuesday, August 7, 2012

ANTIPAS HEROUT No.33 - Jh 1:14 - GOD SE HOOGSTE OPENBARING [1 van 5] - Ten volle God

Sonder twyfel is Jh 1:14 een van die merkwaardigste verse in die ganse Bybel. Dit breek verbysterende waarhede vir ons oop. Só ryk is die vers dat ons meer as een studie daaraan moet wy. Kom ons begin dan van 'n kant af en werk stapsgewyse deur die vers. Eerstens kyk ons na die begrip, "die Woord".

Die Woord : Waarlik en ten volle God

Ons kan nie v.14 verstaan as ons nie ook met v.1 rekening hou nie  -  veral met die uiters belangrike begrip "die Woord".
     Beskou mens v.2-13 by wyse van spreke as tussen hakies, sien jy die apostel se gedagtegang baie duidelik: "In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God ... en die Woord het vlees geword."
     Volgens Jh 20:30-31 wil Johannes met hierdie geskrif van hom sowel Jode as nie-Jode tot die geloof lei, sodat hulle deur te glo die lewe kan hê. Die Jode wil hy oortuig dat Jesus die Christus is  -  die beloofde Messias, God se Gesalfde. En by die heidene wil hy tuisbring dat Jesus die Seun van God is en God die Seun.
     Die apostel wil sy grootse tema onmiddellik aan die orde stel. Maar hy sit met 'n yslike dilemma. Die uitdrukkings "Christus" en "Seun van God" is vir sy lesers gelaaide begrippe. En allermins wil hy hulle reeds hier aan die begin verloor, of skewe idees by hulle vestig.
     Ja, die Jode sal sekerlik die ene ore wees as hulle lees dat hy oor die Christus skryf. Hulle wag immers al eeue vir die Christus, of die Messias, soos hulle Hom in Hebreeus of Aramees genoem het. Die probleem is egter dat hulle 'n bloot menslike Messias, met 'n gewoon binne-wêreldse missie verwag. Maar Johannes weet dat dit lewensbelangrik is dat hulle besef Hy is nie net volkome mens nie, maar ook waarlik God.
     En wat die heidene betref, gaan hulle in terme van die Griekse mitologie dink as hulle hoor hy praat oor "die Seun van God". Waarskynlik sal hulle dink aan iemand wat kwansuis gebore is uit gemeenskap tussen een van hulle gode en 'n menslike vrou. En wat kan meer godslasterlik wees as dit!
     Nee, Johannes wil seker maak sy lesers moet reg van die begin af baie goed verstaan dat die Een oor wie hy skryf absoluut uniek en verhewe is  -  dat Hy nie net nóg een van baie is nie. Daar mag geen misverstand wees nie: Hy is nie net nóg 'n messias nie; Hy is nie net nóg 'n christus nie. En allermins is Hy net nóg 'n heidense afgod.
     Daarom, voordat die apostel begin verduidelik dat die Here Jesus die Christus en die Seun van God is, wil hy eers die spyker goed en diep inslaan:

     Die Persoon oor wie hy skryf, is volkome en van ewig af waarlik en ten volle God!

Daarom moet hy, ten einde alle misverstande te vermy, eers 'n ander naam vir sy Hoofkarakter gebruik  -  iets anders as "Christus" en "Seun van God". En op hierdie punt lei die Heilige Gees Johannes dan tot 'n briljante woordkeuse. Hy noem sy hoofkarakter "die Woord" (Gr. Logos).  Waarom is hierdie woordkeuse dan so briljant? Dis omdat ook hierdie begrip vir sowel Jood as heiden bekend en swaar gelaai is. Maar oor die Logos het beide groepe die mees verhewe idees.
     Wat die heidene betref, was die Logos algemeen bekend. Die Griekse filosoof, Heraklitus (sesde eeu v.C.) het geleer dat die Logos die siel van die heelal is  -  die skeppende energie waaruit alles ontstaan het, wat alles orden, en wat alles in stand en in balans hou.
     En vir die latere Stoïsyne was die Logos die alomteenwoordige wysheid waardeur alles geskep en gestuur word.
     Die heidene het die Logos dus met die allerhoogste God geassosieer. Johannes weet daarom dat hy met hierdie woordkeuse verseker dat sy heidense lesers verstaan dat hy vir hulle skryf oor die algenoegsame eerste oorsprong van alles  -  die onveroorsaakte oorsaak van alle dinge.
     Die Jode het eintlik nog sterker assosiasies met die idee van die Logos gehad.
     Johannes se openingswoorde sou hulle onmiddellik herinner aan Gn 1:1: "In die begin ..." En natuurlik sou die begrip Logos hulle laat dink aan die skeppingsgebeure. Die uitdrukking "En God het gesê" kom immers 9 maal in Gn 1 voor. Trouens, vir die Jode het Logos inderdaad gestaan vir God se almagtige, skeppende woord. 
       Ps 33:6, 9 sê: "Deur die woord van die Here is die hemele gemaak, deur sy bevel al die hemelliggame. ...want Hy het gepraat en dit was so, Hy het beveel en dit was daar."
      En Jes 55:11: "So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het."
    As God dus spreek, doen Hy iets. En so het die begrip Logos ook vir die Jode gesinspeel op 'n Goddelike handeling.
     Nog meer, vir die Jood was die begrippe "woord", "wysheid" en "wet" baie na aan mekaar. Sulke swaar gelaaide idees was dit, dat dit soms gepersonifiseer is in die Ou Testament. 'n Klassieke voorbeeld tref ons in Spreuke 8 aan, waar die wysheidwoord so verpersoonlik word: "Die Here het my geskep, Hy het met my begin; ek is die eerste wat Hy gemaak het, lank, lank gelede. Ek is lankal daar, van die begin af, voor die aarde daar was ... Daarom, kinders, luister na my, dit sal goed gaan met dié wat op my pad bly. Luister na wat ek julle leer, moet dit nie verontagsaam nie, dan sal julle ook wysheid hê ... Wie my vind, vind die lewe self ..." (22-23; 32-33; 35).
     Les bes, uit respek vir God wou die Jode nie die Godsnaam gebruik nie. As hulle na Hom verwys het, het hulle veel eerder gepraat van "die Heilige", of "die Naam", of "die Woord".
     Met sy woordkeuse sê Johannes dus vir die Jode: dis oor Hóm wat ek skryf  -  oor die almagtige en heilige Skepper van hemel en aarde.

Die verhewenheid van die Woord

In die verse voor v.14 maak Johannes ten minste 8 stellings oor die Woord se verhewenheid. En met elkeen kon denkende Jode en Grieke saamstem. Per slot van rekening is dit oor die Logos, die Woord, wat Johannes skryf.
     Wat ons moet raaksien, is dat Johannes die goddelike verhewenheid van sy Hoofkarakter baie diep en stewig in sy lesers se gemoedere wil vasbeton. Eers as hy tevrede is dat hy dit bereik het, sal hy sy bom in die Joods-godsdienstige en Grieks-filosofiese wêrelde laat ontplof:

     Hierdie Woord, niemand anders nie, net Hý, het mens geword en tussen ons kom woon!

•     In die begin was die Woord (1). Die werkwoord is in 'n vorm wat dui op tydsverloop in die verlede (die imperfektum in Grieks). Met ander woorde, toe die tyd en alles wat bestaan, begin het, was Hy reeds daar. Hy was van alle ewigheid af altyd daar.

•     Die Woord was by God (1) (weer die imperfektun). Die Woord was maar altyd by God. Daar is van ewigheid af 'n intieme verbintenis en gemeenskap tussen die Woord en God.

•     Die Woord was God (1) (nogeens die imperfektum; dus tydsverloop in die verlede). Ja, die Woord is onderskeie van God, maar tog is Hy nie 'n skepsel nie; trouens, Hy is van ewigheid af self ook God. Hier stel Johannes die geheimenis van persoonlike onderskeide binne die eenheid van die Godheid aan die orde. Vir sommige van sy lesers sou dit dalk 'n nuwe gedagte wees. Maar dit sou hulle eerder fassineer as aanstoot gee.

•     Alles het deur Hom tot stand gekom (3, 10). Ook die feit dat Hy Skepper van die heelal was, sou Jode en Grieke nie gepla het nie. Presies dit is wat die Ou Testament leer; dit is wat hulle wyse manne nog altyd sê.

•     In Hom was daar lewe (4). As lewegewende krag en bron is daar niks binne die skepping wat nie lewe van Hom ontvang nie. "Juis, juis", sou Johannes se lesers mompel.

•     Dié lewe was die lig vir die mense (4, 9). Hier sinspeel Johannes reeds op die Woord as openbaarder van God. Maar die heidene sou dit filosofies verstaan, en die Jode i.t.v. Spr 8 se personifisering van die wysheid.

•     Baie mense neem Hom nie aan nie (11). Ja, sou die lesers dink, daar is altyd die stiksienige dwase wat nooit iets begryp nie.

•     Daar is wel diegene wat Hom aanneem (12). "Inderdaad!", sou die lesers hulleself op die skouer klop.

Waarlik, geen skrywer kan sy hoofkarakter meer subtiel en tog in meer verhewe terme aan sy lesers voorstel nie!

Wat sê dit vir ons?

Laat ons nie die Skrif se sterk beklemtoning van Jesus Christus se goddelikheid miskyk nie.
Té maklik is ons geneig om slegs aan Hom as die wonderlike man van Nasaret te dink. Té dikwels is Hy met Sy liefdevolle lewe slegs maar vir ons die uitnemende voorbeeld. Ja, die Woord hét vléés geword, en Hy was en bly volkome mens, maar sonder hierdie eerste en sterk aksent van Johannes verwater ons Christologie tot 'n humanistiese karikatuur wat onversoenbaar is met die Bybelse openbaring.
     Laat ons onthou dat die bleek en verwyfde Jesus van die kuns, en die sentimentele Jesus van sóveel kontemporêre prediking, niemand kan red nie.

Die volle raad van God is altyd waarheid in balans.
Daar is egter 'n balans wat ons versigtig moet vashou. Die Nuwe Testamentiese skrywers hou die Here Jesus nie net as ware God aan ons voor nie, maar ook as 'n lewende en menslike Persoon.
     In die geskiedenis was daar mense wat so opgegaan het in Sy goddelikheid, dat hulle Hom effektief gereduseer het tot bloot 'n onpersoonlike beginsel of krag. En so het hulle in 'n duisternis verval wat net so erg is as dié van Johannes se heidense geadresseerdes.

Die apostels het nie bloot óór Christus gepreek nie; hulle het Hóm gepreek!
Ook Lukas noem Jesus "die Woord". Van die apostels word gesê dat hulle "van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord" was (Lk 1:2). 'n Vraag ontstaan nou: gaan dit oor Christus as Persoon, of gaan dit bloot oor die evangeliewoord wat oor Hom praat? Die NAV het 'n hoofletter "W", en die OAV 'n kleinlettertjie. Ek is oortuig dat die NAV reg is.
     As Lukas die apostels "ooggetuies" van die Woord noem, lyk dit asof hy van Jesus Christus self praat. Maar die feit dat hulle "dienaars" (of bedienaars) daarvan is, kan dalk gewoon op die evangelie sinspeel.
     Vir die vroeë Christene was dit egter nie 'n kwessie nie. Vir hulle was daar eintlik nie 'n onderskeid nie. Die inhoud van die evangelie  -  die boodskap  -  was meteen die persoon van Christus!
     Dis presies wat Paulus bedoel: "Die Jode vra wondertekens, en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is" (1Kor 1:22-23). En: "... ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde" (1Kor 2:2, OAV). Les bes: "Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as 't ware aan die kruis kon sien hang!" (Gl 3:1).

Een van die grootste avonture in elke ware Christen se lewe is om Jesus Christus al hoe meer lief te hê en te ken.
Laat ons dit voortdurend van die Here afbid  -  om die Here Jesus Christus al hoe beter te leer ken  -   en Hy sal ons gewis voetjie vir voetjie deur die newels van ons stiksienigheid lei. En so sal ons ons al hoe meer in Hom verlustig. En om Hom te verkondig, sal 'n steeds groter avontuur en vreugde word.
     Op hierdie pad van ontdekking is daar geen terminus, geen versadigingspunt nie. Want Christus is soos 'n volmaak geslypte diamant met ontelbaar baie fasette.
     Ken jy iets van hierdie ervaring? Beslis is dit een van die sekerste bewyse dat jy op die regte pad is  -  dat die Heilige Gees besig is om in jou te werk. Want is Sy primêre funksie dan nie om Jesus Christus te verheerlik nie? (Jh 16:14).
     Die bekende teoloog en skrywer, J.I. Packer, stel dit iewers min of meer só: die Gees staan as 't ware skuins agter my en lig met 'n kollig oor my skouer op die Here Jesus. Dan fluister Hy in my oor: "Sien jy Hom? Gaan na Hom toe; glo in Hom; luister na Hom; ken, dien en eer Hom; verheerlik Hom!"
     Waarlik, waar die Heilige Gees werk, sal Jesus Christus as Profeet, Priester en Koning steeds meer en meer in die middelpunt skuif  -  in ons denke, oortuigings, emosies, toewyding, gehoorsaamheid en getuienis.

Onthou dit en vergeet dit nooit nie: Christenskap is nie in die eerste instansie 'n manier van lewe nie; dis 'n heilige beheptheid met 'n Persoon  -  die Woord van God, die eerste oorsprong van alles, die hoogste openbaring van God aan ons, die Seun van God en God die Seun.
                                                                                                                             Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment