Friday, August 31, 2012

ANTIPAS HEROUT No.28 - PINKSTER (3 van 3) - Hd2:42-47 - Merktekens van 'n Geesvervulde gemeente

In Hd 2:42-47 beskryf Lukas die eerste gemeente in Jerusalem nét na die uitstorting van die Heilige Gees. Ons kan aanvaar dat hy die wesenstrekke daarvan onderstreep  -  die dinge waaroor dit essensieel gegaan het. Dis 'n neutedopbeskrywing van 'n Geesvervulde gemeente. As sodanig hou dit vir ons uiters belangrike lesse in. Wat kenmerk dus 'n gemeente waarin die Heilige Gees heers? Wat is die merktekens van 'n kerk wat Jesus Christus behaag? Hier is die antwoord.

Die gemeente in Jerusalem het unieke kentrekke gehad

In jou vertolking van Pinkster kan jy maklik skeef loop as jy nie die uniekheid van die gebeure genoegsaam in ag neem nie. Veral twee dinge moet ons onthou as ons die eerste hoofstukke van Handelinge reg wil verstaan:

•     Die apostels, met hulle unieke roeping as oog- en oorgetuies van die Here Jesus se lering en werk, het 'n enorme en sentrale rol gespeel. Daarbenewens is hulle met krag uit die hoogte toegerus om merkwaardige wonders te doen ten einde die Goddelike mandaat en betroubaarheid van hulle unieke apostoliese getuienis te bevestig. In 2Kor 12:12 noem Paulus dit  -  die "tekens en wonders en kragtige dade"  -  "die dinge wat 'n apostel kenmerk" (vgl. ook Mk 16:20; Hd 14:3; Rm 15:18-19; 1Kor 2:4-5; Hb 2:3-4).

•     Samehangend hiermee het die Heilige Gees in die algemeen op 'n besondere wyse gewerk. Deur die eeue was daar meermale soortgelyke seisoene  -  herlewingstye  -  waartydens dinge gebeur het wat gelowiges van meer normale tye eenvoudig verstom.

Maar hulle het ook baie kentrekke gehad wat tipies was van elke Geesvervulde gemeente deur die eeue

Tog word die basiese karaktertrekke van die Jerusalemse gemeente weer en weer deur die eeue gesien wanneer dit goed gaan met die kerk  -  wanneer die kerk waarlik kerk is. Met vertroue kan gesê word dat iets van v.42-47 altyd weer beleef sal word in elke Geesvervulde gemeente.
     Wat sien ons in die verse onder ons vergrootglas?

•     Ons sien 'n merkwaardige gemeente wat deur niemand geïgnoreer kan word nie; inteendeel, die hele volk is hulle goedgesind (47).

•     Ons sien 'n gemeente waarin die Heilige Gees onteenseglik aan 't werk is.

•     Ons sien talle verdoemende aanklagte teen soveel uitdrukkings van kerkwees in ons dag.

•     Ons sien 'n stel lakmoestoetse waaraan enige gemeente homself kan en moet meet.

Wat sien ons, meer spesifiek, in hierdie gemeente? Wat bewerkstellig die Heilige Gees in elke gemeente waarin Hy heers? Ons sien ten minste vier dinge:

•     Dis 'n gemeente wat die Woord van God liefhet.
    "Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels" (42).
    Selfs die "wonders en tekens" (43) het ten diepste met die Woord te doen, aangesien dit gedien het as bevestiging van die gesag waarmee die apostels getuig het.

•     Dis 'n gemeente vol liefde vir mekaar.
    Hulle het hulle heelhartig toegelê op "die onderlinge verbondenheid" (OAV: "gemeenskap") (42).
    Hulle "was eensgesind en het alles met mekaar gedeel" (44-45).

•     Dis 'n gemeente wat die Here liefhet, eer en aanbid.
    Hulle het hulle heelhartig toegelê op "die gemeenskaplike maaltyd (die nagmaal) en die gebede" (42; 46).
    Met harte vol "diep ontsag" (43) het hulle "God geprys" (47).
    Hulle het nie net nou en dan voor die aangesig van die Here geleef nie, maar "elke dag"  -  sowel by "die tempel" as "van huis tot huis" (46).
    Dit alles het uit gelowige en vergenoegde harte gekom, want "blydskap" en "alle eenvoud" het hulle lewe as gemeente gekenmerk (46).

•     Dis 'n gemeente wat onvermoeid evangeliseer.
    Sekerlik is dit die Here wat dag na dag mense red en by die gemeente voeg. Maar ons weet uit die Woord en uit ervaring dat Hy middellik werk  -  dat Hy Sy dissipels en hulle evangelisering medewerkend met Hom gebruik (47).

•    Die feit dat die hele volk hulle goedgesind was, dui voorts daarop dat die gelowiges hulle nie afgeskei het nie. Hulle was betrokke by die wêreld om hulle (47).

'n Geesvervulde gemeente het die Woord van God lief

Die eerste ding wat Lukas noem, is dat die Jerusalemse gemeente "volhard het in die leer van die apostels" (OAV).
    Baie letterlik beteken "volhard" om sterk te wees na iets toe. Hulle was dus nie net baie gereeld besig met lering nie; hulle het doelgerig en gedissiplineerd daarmee volgehou. Kennelik het hulle 'n knaende aptyt vir die waarheid gehad en hulle daarin verlustig. Hulle was oortuig van die belangrikheid daarvan.
    Hierdie gemeente sou niks verstaan het van vandag se weersin in die gesonde leer en diepsinnige nadenke oor die Skrifopenbaring nie. Nee, hulle was leergierig; hulle wou verstaan  -  en sekerlik wou hulle weet hoe die beginsels van God se nuwe ryk in die praktyk uitgeleef word.
    Geesvervulde mense  -  altyd weer  -  het God se Woord innig lief. Hulle bestudeer dit, put daaruit, onderwerp hulle daaraan, leef dit uit, dra dit uit.
    Laat dit ons nie verbaas dat hierdie 'n eerste merkteken van Geesvervuldheid in 'n gemeente is nie. Het Jesus nie die aand voor Sy kruisiging ten minste drie keer na die Helper as "die Gees van die waarheid" verwys nie?
    Hoe betekenisvol is Hd 20:32 nie! Paulus groet die ouderlinge van Efese se gemeente. Hy weet hy gaan hulle nooit weer sien nie. Wat gaan van hulle word? Wie gaan na hulle omsien? God sal hulle bewaar  -  natuurlik! Maar Paulus vertrou hulle nie net aan God toe nie, maar ook aan Sy Woord  -  die Woord wat magtig is om hulle op te bou en hulle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het. Waarom óók die Woord? Die apostel weet dat dit, meer as enigiets anders, die instrument is wat die Here in die opbou en bewaring van Sy gemeente gebruik. Tot vandag toe is dit so. 'n Gemeente wat toelaat dat getroue en gereelde Skrifverklaring en -prediking uit die middelpunt van sy lewe verdwyn, het sy eie doodsvonnis geteken.

'n Geesvervulde gemeente is vol onderlinge liefde
 

Hulle het volhard "in die gemeenskap" (OAV). Hier is die tweede ding waarmee die gemeente volgens v.42 doelgerig en gedissiplineerd volhou: die "koinonia". Dit skets die dissipels se gemeenskaplikheid en gesamentlikheid. Die woord dui op iets wat mense saam en oor-en-weer beleef en doen.
    "Koinonia" kom in die Skrif veral op twee maniere tot uitdrukking:

•    Ware Christene het 'n gesamentlike deelgenootskap in die Drie-enige God.
    "En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus" (1Jh 1:3).
    'n Geesvervulde gemeente oefen hulle hierin. Maar hulle doen dit nie net as individue nie  -  hulle doen dit ook gesamentlik, en deel met mekaar wat hulle as individue hiervan ervaar. En so groei hulle nie net in kennis van God nie, maar ook in die onderlinge liefde. Alle ware gelowiges ken die ervaring! Ja, ons moet alle mense liefhê, maar as ons "die Here deel", kom daar 'n wonderlike verdieping in ons verhoudinge.

•     Ons gemeenskap kom ook tot uitdrukking in wat ons onder mekaar deel  -  in wat ons aan mekaar uitdeel en van mekaar ontvang.
    Paulus gebruik hierdie woord as hy verwys na die kollekte onder die Griekssprekende gemeentes vir die arm Christene in Judea (2Kor 8:4; 9:13).
    Die ooreenstemmende byvoeglike naamwoord (Gr. koinonikos) beskryf gulhartigheid en vrygewigheid.

Dis op hierdie tweede uitdrukking van gemeenskap wat Lukas uitbrei: hulle het hul besittings verkoop en die opbrengs onder mekaar verdeel volgens elkeen se behoefte (44-45).
    Hierdie gebeure in die Jerusalemse kerk het deur die eeue groot stryd in baie Christengemoedere veroorsaak. Hoe moet ons dit verstaan? Moet ons dit navolg  -  en indien wel, hoe?
    Eers is 4 kwalifikasies nodig:

•    Al drie Griekse werkwoorde in v.45 is in 'n vorm wat tydsverloop in die verlede beklemtoon (Gr. Imperfektum). Dit het dus per geleentheid plaasgevind  -  soos die nood van elke situasie dikteer het.

•    Dit was nie 'n totale ontslae raak van besittings nie. Hulle het immers nog huise gehad om in te vergader (46).

•    Hierdie offers van die gelowiges was heeltemal vrywillig. Dit sê Petrus baie duidelik aan Ananias in Hd 5:4.
    Die verskil tussen Jerusalem se gemeente en Kommunisme is dat laasgenoemde sê, "Joune is myne", terwyl Christene sê, "Myne is joune." En dit is geen geringe verskil nie!

•    Dit het nie gegaan oor gelykheid nie. Uitdeling het geskied "volgens elkeen se behoefte." Paulus stel dit so in 2Kor 8:15: "Dié met baie, het nie te veel gehad nie, en dié met 'n bietjie, nie te min nie."

    Maar ons mag nie by hierdie kwalifikasies vassteek nie. Sekerlik spreek hierdie verse ons selfsugtige en materialistiese lewens aan.
    Geen gelowige kan die verantwoordelikheid ontkom om homself en sy prioriteite ernstig in die lig van hierdie verse te ondersoek nie. En as dit nie lei tot diepgaande verstellings nie, laat dit rooi ligte flikker oor ons liefde vir ons broers en susters, en ons toewyding aan Jesus Christus. Waarlik, min dinge sal eendag so meedoënloos teen ons getuig as ons baie besittings en ons gemaksugtige en uitspattige lewenstyl.
    Tot die mate wat ons Geesvervuld is, tot daardie mate sal ons onderlinge liefde oopblom. En tot die mate wat ons mekaar liefhet, tot daardie mate sal ons ons goed met mekaar deel. Tot die mate wat ons deel, tot daardie mate sal dit ons liefde stimuleer en voed. En tot die mate wat ons liefde funksioneer, tot daardie mate sal die Heilige Gees kragtig in ons midde werk.
    Hd 4:32-37 praat ook oor hierdie saak. Vers 34 begin dan baie betekenisvol  -  met die redegewende voegwoord, "want" (Gr. "gar", vgl. OAV). Die Heilige Gees het kragtig in die gemeente gewerk, want in liefde het hulle ook materieel na mekaar omgesien. As ons maar hierdie les kan leer, sal dit beter gaan met die kerk van ons dag!
    Baie kerkmense redeneer dat hierdie 'n opsionele saak is. Dis nie waar nie. Johannes sê uitdruklik dat uitdelingsliefde een van die noodwendige merktekens van wedergeboorte is (1Jh 4:7; 3:14-18). Vrywilligheid is een saak, willekeur iets anders.

'n Geesvervulde gemeente aanbid die Here in gees en waarheid

In v.42c&d suggereer die lidwoord ("die") voor beide uitdrukkings dat Lukas van meer amptelike, formele geleenthede praat. Dit word algemeen aanvaar dat hy van die gemeentelike nagmaal en gebedsbyeenkomste praat.
    Hoe gereeld Jerusalem die nagmaal gevier het, weet ons nie (daar is geen eksplisiete Nuwe Testamentiese opdrag nie  -  vgl. 1Kor 11:25). Maar wat wel duidelik uit hierdie vers na vore kom, is dat hulle hul gesamentlike deelgenootskap aan die erfenis van die Nuwe Verbond oor en oor bevestig het. Sonder twyfel het hulle 'n baie hoë premie op gebed en die nagmaal gestel.
    Wat aanbidding betref, bring hierdie verse twee belangrike balanse na vore:

•     Die gemeente se byeenkomste was van sowel 'n formele as 'n informele aard  -  hulle het by die tempel én in huise bymekaar gekom. Vir 'n gesonde gemeentelewe is sowel meer waardige as meer spontane uitdrukkings van aanbidding goed en nodig. Die beheersende beginsel bly egter deurgaans dat dit "in gees" (in opregtheid, vanuit die hart) en "in waarheid" (in volle harmonie met die Skrifopenbaring) geskied (Jh 4:19-24).

•     Die gemeente se aanbidding was sowel blymoedig as vol respek. Hulle aanbidding was vol blydskap en eenvoud (46b), dus vrolik en onopgesmuk. Maar dit het ook in die vrese van die Here geskied (43a).
    Ons eredienste moet waardig verloop, maar "dooierigheid" is onverskoonbaar. Dis reg dat ons byeenkomste vol spontane blydskap is, maar ligsinnigheid hoort gladnie.
    Die hart van hulle aanbidding vind ons in v.47a: hulle het God geprys. Dit was Godgesentreerd  -  op Hom persoonlik gerig, vererend en vol dank.

'n Geesvervulde gemeente evangeliseer die wêreld om hom

As ons sou vassteek by v.42, laat ons 'n wesensbelangrike element van kerkwees buite rekening: uitreiking. Die gemeente in Jerusalem was nie so behep met mekaar dat hulle van die wêreld om hulle vergeet het nie.
    Hierdie evangeliseringsywer moet ons nie verbaas nie. Die Heilige Gees is nie net die Gees van die waarheid nie, Hy is ook die Gees van die oes. Is Hy nie op die Pinksterfees  -  die oesfees  -  uitgestort nie? Daarom is die uitdra van die Goeie Nuus die dominante tema van Handelinge. Sonder twyfel het die Heilige Gees die vroeë kerk uitgedryf om die evangelie wyer en wyer te verkondig.
    Vers 47 leer drie belangrike lesse:

•     Dis die verheerlikte Here Jesus Christus wat bekeerlinge bygevoeg het.
    Nooit mag ons vergeet nie dat dit die Hoof van die gemeente se alleen-prerogatief is om by Sy gemeente te voeg. Dit waarsku teen twee dwalinge:
    Eerstens moet ons menslike metodes en manipulering in ons evangelisering vermy. Die vermaaklikheidskultuur wat vandag so aan die orde is, moet ernstig bevraagteken word. Bloot omdat dit 'n skaretrekker is, beteken nie dat dit die toets van God se Woord slaag nie. Dis tragies dat groot dele van die institusionele kerk ten koste van Skrifbeginsels voor die aanslag van pragmatisme swig.
    Ook emosionele opsweping en manipulering het geen plek in 'n gemeente wat onder beheer van die Heilige Gees leef nie. Eerder bekeringsdroogte as kunsmatigheid en valsheid! Nee, volwasse en Geesvervulde gemeentes het geleer dat mens getrou jou kant bring  -  en dan op die Here wag.
    'n Tweede dwaling wat nie mag nie, is kieskeurigheid oor wie deel van die gemeente mag word. Natuurlik moet die herders van 'n gemeente daarteen waak om bokke in Christus se kudde op te neem. Maar geestelike snobisme moet hulle hand en tand beveg. Die Here roep Sy bruid uit elke kategorie van die samelewing. Trouens, hoe groter en meer uiteenlopend die verskeidenheid van mense wat in 'n gemeente as eenheid funksioneer, hoe meer word die Here verheerlik, en hoe meer beïndruk dit 'n wêreld wat so iets nooit kan namaak nie (Jh 17:21-23).
    Hoewel dit Christus is wat byvoeg by die gemeente, werk Hy middellik  -  Hy gebruik instrumente.
    Eerstens gebruik Hy die gebede, getuienis en prediking van Sy gemeente. Daarvan is Handelinge boordevol. Hierbenewens gebruik Hy die lewens van Sy dissipels om 'n appél op die omringende wêreld te maak. Dis waarop Lukas sinspeel as hy sê dat die hele volk die gemeente goedgesind was (47). Wat, kan mens vra, het die volk dan so beïndruk? Sonder twyfel was dit dinge soos die Christene se vriendelikheid, integriteit, liefdeswerke, ensovoorts.

•     Toe Hy mense by die gemeente gevoeg het, het die Here twee dinge gelyktydig gedoen:
    Die Here het geredde mense by die gemeente gevoeg. Hy het hulle dus nie by die gemeente gevoeg sonder om hulle te red nie. Nominale lidmaatskap  -  die verskynsel dat wêreldlinge se name bloot "op die boeke is", sonder dat hulle hart en siel deel van die gemeente is  -  is lynreg strydig met die Bybel. Die Nuwe Testament ken net één soort lidmaatskap: die van entoesiastiese, toegewyde dissipels.
    Voorts het die Here geredde mense by die gemeente gevoeg. Hy het hulle dus nie gered sonder om hulle in Sy kerk in te plant nie. Die Bybel ken nie so iets soos alleenloper-Christenskap nie. Nee, ware Christenskap het 'n sterk groepsdimensie. Die helfte van die genademiddele  -  daardie dinge waardeur die Here Sy instandhoudings- en vorderingsgenade in ons lewens laat invloei  -  hou verband met ons deelhê aan 'n liggaam: die gemeenskap van die heiliges, deelname aan die sakramente, gesamentlike gebed, die gereelde sit onder Bybelprediking, die bediening deur godvrugtige ouderlinge, ensovoorts.

•     Die Here het daagliks bygevoeg. Die beginsel lê nie in die feit dat dit dag na dag gebeur het nie, maar in die voortgaandheid daarvan (onthou, Jerusalem beleef "herlewing"). Dit wil vir ons twee dinge sê:
    Evangelisasie is nie beperk tot spesiale veldtogte of Sondae nie. Dit is elke dag se ding.
    Tweedens, 'n gemeente wat nie gereelde bekerings beleef nie, het rede om homself voor die Here te verootmoedig. Dit is so dat die grond waarin ons die evangelie moet saai soms baie hard is  -  en dat bekerings net drupsgewyse plaasvind. Maar onthou, selfs 'n druppende kraan drup aanmekaar. 'n Gemeente wat is wat hy moet wees, móét eenvoudig bekerings sien. Ons moet dit verwag, en bly verwag. Ons moet onvermoeid daarom bid. Só behaag dit die Here.

                                                                                                                            Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment