Monday, August 6, 2012

ANTIPAS HEROUT 39 - ONS BARMHARTIGHEIDSROEPING - Wat moet mens doen om die ewige lewe te verkry?

Die storie van die barmhartige Samaritaan (Lk 10:25-37) — dalk met die uitsondering van dié oor die verlore seun — is sekerlik die Here Jesus se bekendste gelykenis. Meeste van ons ken dit van kleins af. Ons is egter so gewoond daaraan dat ons die diepte-boodskap daarvan totaal miskyk. En dit mag eenvoudig nie.

LEWENSBELANGRIKE LERING

❏     'n Wetgeleerde het eenmaal 'n vraag aan Jesus gestel: "Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?" Hoewel in hierdie geval 'n strikvraag vanuit verkeerde motiewe, kan niemand ooit 'n gewigtiger vraag stel nie. Dit gee dan aanleiding tot 'n eenvoudige, maar aangrypende verhaal wat deur die eeue 'n onuitwisbare indruk op mense se gewetens gemaak het.

❏    Hierdie vraag is by net een ander geleentheid aan die Here Jesus gestel — deur die ryk jongman (Mt 19:16; Mk 10:17; Lk 18:18). Dié kry dan die bevel om sy besittings te verkoop, die opbrengs onder die armes te verdeel en Jesus te volg.
    Dit is sekerlik van die allergrootste betekenis dat die Here in beide gevalle op presies dieselfde manier reageer. Strydig met ons verwagting, verwys Hy die twee mans elke keer na die tweede gedeelte van die Morele Wet — waarvan naasteliefde die essensie is (Mt 22:34-40). In antwoord op die vraag hoe mens die ewige lewe verkry, roep Jesus beide op tot 'n radikale liefdesaflegging ter wille van mense in nood.
    Dis moeilik om die konklusie te ontkom dat Jesus wil sê dat die pad na die ewige lewe langs die weg van goeie werke loop! Hy sê dan uitdruklik aan die wetgeleerde dat hy sal lewe indien hy die Samaritaan navolg (Lk 10:28). Maar hoe rym ons dit met die res van die Skrif wat kompromieloos daarop aandring dat redding uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, deur geloof alleen kom — sonder die werke van die wet?
    Hier is iets wat ons nie ligtelik moet verbygaan nie!

WIE IS MY NAASTE?

As Jesus vir die wetgeleerde sê hy moet die wet uitleef om gered te word, tref dit op 'n plek wat seermaak. Met vinnige voetwerk probeer die man uit die hoek kom: "Wie is my naaste?"

DIE GELYKENIS

❏    Op die ongerepte woestynpad tussen Jerusalem en Jerigo word 'n reisiger beroof en ernstig beseer. Twee medereisigers — 'n priester en 'n Leviet — maak of hulle niks sien nie en haas hulle verby die ernstig beseerde slagoffer. Beide vergeet gerieflikheidshalwe die Ou Testamentiese beginsel dat die Here eerder gehoorsaamheid wil hê as offers (1Sam 15:22).

❏    Dan is daar 'n skokkende wending. 'n Gehate Samaritaan help die beseerde Jood (Jh 8:48). Hy trotseer die gevare en sien so goed hy kan na die beseerde om. Trouens, hy doen veel meer as wat enige redelike mens sou verwag. As iemand ooit 'n tweede myl gestap het, was dit hierdie Samaritaan!
    Waarom doen hy dit? Hy het innig jammer vir die slagoffer gevoel!

'N PAAR OPMERKINGS

❏    Die slagoffer ontmoet drie soorte mense op pad.
    Die rowers sê: joune is myne!
    Die godsdienstiges sê: joune is joune en myne is myne! Die rabbi's het immers die mens se morele plig só saamgevat: moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Helaas hang die koudste harte soms minder as 'n halfmeter onder die suiwerste ortodoksie!
    Die Samaritaan sê: myne is joune! Presies dit is wat die Here sê — positief: doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê (Lk 6:31).

❏    Jy vra die verkeerde vraag, sê Jesus dan per implikasie vir die wetgeleerde (36). Jou vraag oor wie jou naaste is, poog om soveel moontlik mense uit te skakel, want jy wil weet wie regtig kwalifiseer. Jy stel eintlik net belang in hoeveel mense jy maar kan verbygaan.
    Maar die regte vraag is: is ék 'n naaste vir my medemens? Doen ek wat ek kan vir diegene om my — veral vir diegene in nood?
    Selfvoldane godsdienstiges vra: wie moet ek liefhê? Jesus vra: het jy lief — voor die voet?

❏    Goed, sê die Here uiteindelik, jy het My gevra hoe om die ewige lewe te beërf. Jy het laat blyk jy ken die essensie van die Wet. Ek het nou die praktiese implikasies daarvan vir jou uitgespel. Gaan dus heen; leef dit uit! (37). Die wetgeleerde wou Jesus uitvang met 'n strikvraag, maar hy gaan druipstert huis toe.

REGVERDIGING DEUR WERKE ?

❏     Hoe kry ons die kloutjie by die oor? Leer die Here Jesus nou dat mens op eie stoom die saligheid moet verwerf? Besef Hy dan nie dis onmoontlik nie? Moes Paulus Sy misvatting kom regstel met sy klem dat niemand deur wetsonderhouding gered kan word nie, en dat 'n ander pad dus noodsaaklik is?
    Nee! Hier sit iets baie rykers in!

❏     Die Here Jesus weet die selfvoldane wetsgeleerde — soos die ryk jongman — is nog nie gereed vir die koninkryk van die hemel nie. Daarvoor is geestelike bedelaarskap 'n absolute voorvereiste (Mt 5:3). Want daarsonder gryp jy nie die Plaasvervanger vas nie, die énigste Middelaar tussen God en sondaars (1Tm 2:5). Die Here stuur die man dus terug na die Wet toe — sodat dié hom kan stroop van sy selfversekerdheid. God se standaarde moet hom verinneweer totdat hy wanhopig om die Here se genade roep, soos die tollenaar (Lk 18:13). Eers dan kan daar sprake wees van reddende geloof.

❏    Die feit dat die Here Jesus met sowel die ryk jongman as die wetsgeleerde presies dieselfde strategie volg, moet ons waarsku om die belangrikheid daarvan nie mis te kyk nie. Die koninkryk van die hemele word op net één manier binnegestap — met bedelaarskoene aan! En voordat jy nie moedeloos gespook is met die onbereikbaarheid van God se volmaakte standaarde nie, sal jou trots jou nooit toelaat om hierdie skoene aan te trek nie.

Wat die Here met sowel die wetsgeleerde as die ryk jongman doen, is om hulle met die liefde wat God vereis tot nederigheid in te breek — sodat hulle die liefde wat God gee uiteindelik kan ontvang.

DIS NIE AL NIE

❏     Die belangrikheid van wat ons hierbo bespreek het, kan nie oorbeklemtoon word nie. Maar hier durf ons nie stop nie. Mag die Here ons bewaar van 'n goedkoop evangelie wat nou 'n sug van verligting slaak en agteroor sit!
    Omdat ons nie deur werke gered word nie, dink te veel mense werke is onbelangrik. Dis 'n noodlottige dwaling!
     Ja, die essensie van ware geloof is afhanklikheidsvertroue — maar die Bybel is ook boordevol getuienis dat dit 'n spesifieke vrug dra. Trouens, dis al waaraan jy die ware Jakob kan uitken (Jk 2:14-26). En wat is hierdie vrug? Dis 'n hartstog om die werke van die wet te doen (Jer 31:33) — 'n hartstog wat jou lewe onontkombaar en onmiskenbaar vorm vanaf die dag wat jy dit ontvang. En natuurlik, as ons oor die wet praat, praat ons oor die liefdesgebod (Mt 12:33-37).

❏     In die Skrifgedeelte waarna ons kyk, illustreer Jesus die essensie van die wet — besonderlik die tweede tafel daarvan, die gedeelte oor naasteliefde. Hy doen presies dieselfde in Sy gesprek met die ryk jongman. En omdat ware geloof gepaard gaan met 'n hartstog om God se wet te gehoorsaam, beteken dit dat elkeen in wie dit teenwoordig is, iets sal vertoon van wat Jesus die wetsgeleerde en die ryk jongman beveel. Ware gelowiges klim dus van donkies af; hulle help diegene in nood; hulle deel uit en volg Christus in Sy barmhartigheidsbetoning!

❏    Iemand sonder 'n hartstog om God te behaag, en sonder omgee-liefde vir die naaste, is iemand sonder 'n nuwe hart. Hy is daarom sonder ware geloof — en sal dus nie die koninkryk ingaan nie.
    Dis waarom Jesus sê dis makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryk man om die koninkryk in te gaan (Lk 18:24-25). Meeste rykes vergader immers eerder skatte as om God se wet te gehoorsaam. Om behoeftiges lief te hê en te versorg, is nie vir hulle 'n prioriteit nie. Dis waarvan Jakobus praat as hy die rykes so dringend waarsku (Jk 5:1-6).
    Die dissipels se vraag is begryplik: wie kan dan gered word? (Lk 18:26). Die antwoord is bemoedigend, maar geheimenisvol: "Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik." Hoe doen Hy dit? Jesus sê nie. Tog ken die dissipels iets van so 'n genadewerk: húlle het van hul besittings afgesien en Jesus gevolg (Lk 18:28). En spoedig sou hulle dit weer dramaties sien gebeur.

❏    In Lk 19:1-10 glip 'n kameel deur 'n naald se oog. 'n Ryk man, Saggeus, word 'n uitbundige uitdeler (8). As Jesus dit sien, weet Hy nóg 'n man het 'n nuwe hart by God gekry (9). En Hy weet dis gewortel in Sý Middelaarswerk! (10).

❏     Sien ons nie in hierdie barmhartige Samaritaan iets van Jesus Christus se totale self-aflegging ter wille van ons nie? In Hom vind ons immers volmaakte liefde vir hulpelose en gestroopte sondaars. Hy verbind ons, dra ons, versorg ons. En Sy volmaakte liefdeswerk ter wille van ons is die grond vir ons onontkombare roeping tot die lewensingesteldheid van die barmhartige Samaritaan.

BARMHARTIGHEID DEUR DIE EEUE

❏    Voor die sondeval was daar geen gebrokenheid en nood nie. Maar die sondeval bring onmiddellik ellendes: siekte, honger, rampe, sosiale ongeregtigheid, vyandskap, dood.
    Onmiddellik na die eerste sonde raak die mens en sy vrou bewus van hulle naaktheid (Gn 3:7-10). Dan maak God vir hulle velklere (3:21). Dalk het ons reeds hier 'n sinspeling op die komende offerstelsel en dus die kruis van Christus. Maar dis meteen ook die eerste daad van barmhartigheid in die geskiedenis. God spreek Adam en Eva se verleentheid en skaamte aan. Hy gee hulle 'n sekere waardigheid terug. En Hy doen iets aan hulle uitgelewerdheid aan die elemente.

❏    Selfs voor Sinaï het die mens geweet dat God barmhartigheid wil hê. Die boek Job is vol daarvan (Job 24:1-12; 29:11-17; 31:16-22).

❏    By Sinaï skep God met talle voorskrifte 'n geloofsgemeenskap waarin sosiale geregtigheid net so belangrik is as persoonlike moraliteit. Die Israeliete word verbied om oestyd hulle lande so kaal te stroop dat daar niks vir die armes oorbly nie. En een van die groot redes vir handhawing van die Sabbat is dat die arbeiders en diere behoorlik kan rus (Eks 23:10-11). 'n Verskeidenheid wette word in plek geplaas om diegene te help wat materieel nie kop bo water kan hou nie (Lev 25:25; 35-38; Dt 15:7-11). En vanuit die tiendes moet die priesters gee aan vreemdelinge, weduwees en wese (Dt 14:28-29).

❏    Die Mosaïese wette is grootliks die basis van die latere profete se veroordeling van die Israeliete se liefdeloosheid en ontrouheid aan die Here. En 'n saak wat hulle oor en oor aanspreek, is gevoelloosheid teenoor die armes. Hebsug en ignorering van die behoeftiges se lot is verbondsbreuk — en so afstootlik soos afgodery.
    Weer en weer roep die profete die Godsvolk op tot barmhartigheid.

❏    Johannes die Doper beveel die volk om hulle te bekeer met die oog op die messiaanse Koning se koms. As hulle hom dan vra wat so 'n bekering behels, spel hy dit uit in terme van barmhartigheid: deel jou kos en klere met die armes; moenie die swakkes uitbuit nie; moenie jou mag misbruik nie (Lk 3:10-14).

❏    Reg aan die begin van Sy openbare bediening gaan die Here Jesus na Sy grootword-dorp. As Hy die Woord in die sinagoge bedien, haal Hy aan uit Jes 61:1-2 as 'n kernagtige opsomming van Sy bediening: "Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig" (Lk 4:18-19).
    Die uitdrukking, "die genadejaar van die Here" in Lk 4:19, is 'n sinspeling op die Ou Testamentiese sabbats- en jubeljare. En die sentrale doel hiervan was destyds die gereelde gelykmaking van die ekonomiese speelveld vir die swakkes wat nie die mas kon opkom in 'n mededingende samelewing nie (Eks 21:1-6; 23:10-11; Lev 25:1-55; Dt 15:1-18).

❏    Hierna is die Here Jesus se lering aan Sy dissipels vol voorskrifte om na die swakkes, die behoeftiges en die ellendiges om te sien.

❏    Die vroeë kerk het die Here se opdragte ernstig opgeneem. Hulle het hul besittings gedeel, sodat Lukas kon skryf dat niemand in die gemeente gebrek gely het nie (Hd 2:44-45; 4:32-37). Baie duidelik is die vroeë dissipels gedring deur die liefde wat die Heilige Gees in hulle harte uitgestort het, en hulle het verstaan dat barmhartigheid aan die hart van ware godsdiens lê (Jk 1:27). Hulle het geweet barmhartigheid is 'n merkteken van die egtheid van jou geloof (Jk 2:14-17; 1Jh 3:14-17), en dat dit 'n sentrale rol gaan speel in die finale oordeel (Mt 25:31-46).

❏    Geen Christen durf die roeping tot barmhartigheid geringskat nie. Wie nog hieroor twyfel, moet Jk 5:1-6 lees. Let daarop dat Jakobus die hardvogtige mense verwyt dat hulle skatte bymekaar maak in die laaste dae (3). Die "laaste dae" dui in die Nuwe Testament op die hele bedeling tussen Christus se eerste koms en die wederkoms. Wat Jakobus dus hier sê, is dat, as dit tot op daardie stadium 'n skreiende sonde was om hardvogtig te wees, geld dit des te meer nou ná Christus se koms. Want ons geniet as die Here se kinders nou meer voorregte as almal voor ons, en ons verantwoordelikheid om Sy wil uit te leef, is gevolglik soveel groter. En aan die hart van Sy wil vir ons is ons roeping om barmhartig te wees teenoor almal met nood rondom ons.

MOTIVERING IS BELANGRIK

❏    Soos met alles in die Christelike lewe is die motivering wat ons barmhartigheid dryf van die grootste belang. Slaag skuldgevoelens, pligbesef of vertonerigheid die toets? Duidelik nie.
    Nee, egte barmhartigheid, en die verband tussen barmhartigheid en ware geloof lê dieper. Dit hou verband met hoe jy die geloof gekry het en met die innerlike herskepping wat dit voorafgaan.
    2Kor 8:1-5 is insiggewend. Ten spyte daarvan dat hulle net so arm was as die Christene in Judea, het die gemeentes in Masedonië baie ruim gegee (1-2a). Hulle het egter 'n diep innerlike motivering gehad: oorvloedige blydskap wat opgewel het in uitsonderlike vrygewigheid (2). Wat was die geheim? Dit het verband gehou met hulle verhouding met die Here. Hulle dankbaarheid teenoor en toewyding aan Hom was primêr. Wat hulle gedoen het, het hulle van harte gedoen, soos vir die Here. En só wil die Here dit hê (5).
    Egte Christelike barmhartigheid is ten diepste nie 'n respons op die nood voorhande nie, maar dit ontspring vanuit 'n ontmoeting met die Here, gepaardgaande innerlike herskepping, en dankbaarheid en toewyding teenoor Hom.

❏    Vanuit bogenoemde kan ons nou 'n aantal dryfvere van egte Christelike barmhartigheid onderskei:

    •    Iemand wat 'n naaste vir andere is, se barmhartigheid word gedring deur diep dankbaarheid vir God se genade in Christus.
    Baie mense is begaan dat slegs behoeftiges wat dit verdien, hulp moet kry. Natuurlik moet mens diskresie aan die dag lê. Maar laat ons maar versigtig wees met die woord verdien. Het ek en jy God se barmhartigheid verdien? Nee, iemand wat genade verstaan — en net Christene verstaan dit regtig — dring nie so vinnig aan op verdienste by diegene in nood nie. Ewemin verwyt hulle andere maklik van slegtigheid. Presies dit is wat die gesegde wil sê: There go I, but for the grace of God! (vgl. Lk 6:27-36; Mt 18:21-35, veral v.33, OAV).
    Die bloot godsdienstige glo dat God 'n mens begunstig oor jou verdienste. Maar die taal van 'n Christen se hart is anders: ek is wat ek is deur God se vrye en onverdiende genade! Daarom is so 'n persoon se barmhartigheid 'n lofoffer. Presies dit is wat Lk 7:36-50 leer. Vers 47 sê, "omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde." (Fl 4:18; Hb 13:15-16).

    •    Iemand wat 'n naaste vir andere is, se barmhartigheid word gedring deur innige bewoënheid en liefde teenoor diegene in nood.
    Soos dit keer op keer van Jesus gesê word, het ook die Samaritaan die gewonde man "innig jammer gekry". Niks het regtig vereis dat hy stop en help nie. Maar sy hart wou hom nie toelaat om anderkant verby te stap nie. Elke nuwe hart kom immers gelaai met liefde as kragbron. Trouens, dis dwaas om te aanvaar jy is wedergebore as jy nie 'n nuwe hart vol liefde het nie (1Jh 3:14-19; 4:7).

    •    Iemand wat 'n naaste vir andere is, se barmhartigheid word gedring deur 'n ywer vir God se eer en die koms van die koninkryk.
    In Mt 5:16 leer die Here Jesus ons om ons lig só te laat skyn dat mense ons goeie werke kan sien en ons hemelse Vader verheerlik.
    In 2Kor 9:10-15 sê Paulus herhaaldelik dat die Korintiërs se barmhartigheid meegebring het dat God gedank en verheerlik word.

    •    Iemand wat 'n naaste vir andere is, se barmhartigheid word gedring deur integriteit.
    Johannes maak hierdie verbysterende stelling: "Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het." En was Jesus se lewe nie vol barmhartigheid nie (Hd 10:38)? Dit was altyd dieselfde. Hy het gesien, Hy het gevoel en Hy het gedoen.
    Hoe kan ek dan in integriteit sê ek is 'n Christen as my lewe nie ook deur barmhartigheid oorheers word nie? B.B. Warfield, het een keer dít gesê in 'n preek: "Oh, my dear Christians! If you would be like Christ, give much, give often, give freely, to the vile and poor, the thankless and the undeserving."

    •    Iemand wat 'n naaste vir andere is, se barmhartigheid word voortgestu deur sy of haar wete dat ons eendag aan die Here verantwoording moet doen.
    Hier is twee komponente: die vrese van die Here, en my gerigtheid op die loon wat die Here vir getrouheid sal gee. Wek die gelykenis van die skape en die bokke nie die vrese van die Here in 'n mens nie? (Mt 25:31-46). En die Skrif is vol beloftes van loon. Byvoorbeeld: "Wie hom oor 'n arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed" (Spr 19:17).

'n Diep bekering en 'n nuwe hart laat die vraag vervaag oor wie my naaste is, en wie kwalifiseer. Maar dit laat meteen die vraag lewensgroot voor my kom staan: is ek 'n naaste vir diegene om my?

HOE VER MOET EK GAAN?

❏    Die Samaritaan belowe hy sal die uitstaande rekening betaal wanneer hy terugkom. Maar sê nou, wanneer hy terugkom, het sy vriend die kroeg omtrent leeggedrink, die herberg se beddegoed verkoop vir rookgoed, en een van die skoonmakers tot in die hospitaal geslaan?
    Die antwoord is eenvoudig. Dis nie waaroor die gelykenis gaan nie. Jesus wil 'n selfvoldane godsdienstige tot sy sinne ruk. Hy wil nie 'n volledige uiteensetting gee oor 'n barmhartigheidsbediening nie. Daarvoor is dit nodig om ook na die talle ander Skrifuitsprake te kyk.
    Maar almal wat erns maak met barmhartigheid sal weet dat misbruik van mens se goedheid algemeen is. Meeste van ons het al geworstel met die vraag: hoe ver moet ek gaan? Waar trek ek die streep? Is daar voorwaardes waaraan diegene in nood moet voldoen? Is daar 'n punt waar ek met reg "nee" kan sê.
    Soos in alles moet God se Woord ons allernorm wees.

BYBELSE GRENSE

❏    Ons het reeds gesien dat die Bybel ons oproep om selfs teenoor ons vyande barmhartig te wees. Ons het voorts gesien dat die maatstaf vir my barmhartigheid die reddende barmhartigheid van my hemelse Vader in my eie lewe is. Hy het my gered toe ek nog Sy vyand was — sonder dat ek iets vooraf vir Hom gedoen het.
    Tog is daar minstens een belangrike kwalifikasie in die Skrif: "As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie" (2Ts 3:10). Die Grieks is duidelik dat Paulus hier praat van 'n voortgaande luiheid. Ons moet dus nie aanhou sorg vir mense wat geen aanstaltes maak om vir hulleself te sorg nie. Helaas is daar baie mense wat op jou sal bly teer solank jy vir hulle sorg. Maar hier moet mens ferm standpunt inneem. Diesulkes moet mettertyd aan hulleself oorgelaat word.

❏    Dit kom dus op 'n aantal beginsels neer:

    •    Tensy ons duidelik met 'n swendelaar te doen het, moet ons aanvanklike hulp onvoorwaardelik wees. Dikwels is dit wysheid om vir 'n onbekende nie geld te gee nie, maar iets anders wat hy of sy nie verkeerd kan aanwend nie. Maar as so 'n persoon my gawe tóg misbruik, dan is dit vir sy of haar rekening. Ek het gedoen wat in beginsel reg is.

    •    Veral as dit by finansies kom, het niemand van ons onuitputlike bronne nie. Meeste van ons wens gedurig dat ons meer gehad het om te gee. Maar troosryk — en ewe uitdagend — is die Here se ontmoeting met die arm weduwee (Lk 21:1-4). Teenoor die groot bydraes van die rykes het sy net twee klein muntstukkies ingegooi. Tog sê Jesus dat sy méér ingegooi het as enige van die ander. Hoe werk dit? Hulle het vanuit hulle oorvloed gegee; sy het alles gegee wat sy gehad het. In die koninkryk van God werk dit anders as in hierdie wêreld. In die koninkryk word die grootte van jou gawe bepaal deur wat in jou sak agter bly!

    •    Hoewel ons hulp aan mense in nood dikwels eenmalig is, kan dit ook soms oor 'n langer termyn strek. Maar dan moet dit op die herstel van sulke mense gerig wees. Ons ken die spreekwoord: moenie iemand net vis gee nie; help hom vis vang. Dis 'n Bybelse beginsel. Volgens Dt 15:12-15 moes slawe wat vrygestel is, deur hulle eerstydse base op hul voete gehelp word. Ps 41:2 spreek 'n wonderlike seën uit oor hulle wat "omsien" na die swakkes. Hierdie werkwoord dui in die Hebreeus op noukeurige nadenke en oorweging met die oog op 'n plan. Dit gaan dus oor rehabilitasie (en indien moontlik, bekering tot Christus).
    In die geval van die ryk man en Lasarus (Lk 16:19vv), het ons nie 'n terloopse bedelaar op 'n straathoek nie. Nee, die ergste van die ryk man se sonde was dat hy Lasarus dag na dag daar sien lê het en niks gedoen het nie. Hy het voortgegaan om gevoelloos in weelde te leef, ten spyte van die nood om hom.
    As mens oor 'n langer termyn by iemand betrokke is, het jy alle reg om mettertyd op 'n positiewe respons aan te dring. Natuurlik moet jy redelik wees. Nie almal is tot dieselfde respons in staat nie. Maar as daar nie opregte dankbaarheid is nie, as daar nie samewerking en groei in verantwoordelikheidsin is nie, as daar nie 'n inbeweeg in God se ordes is nie, het jy bes moontlik met 'n gewetenlose uitbuiter te doen.     En omdat mens uiteraard die evangelie met so 'n langtermyn-geval sal deel, is dit nie onredelik nie om mettertyd aan te dring op opregte bekering.
    Hoewel ons geduldig met mense moet wees — soos die Here met ons was en steeds is — het mens alle reg om jou met verloop van tyd aan iemand te onttrek as daar geen dankbare en positiewe respons is nie. Dis net soos met die verkondiging van die evangelie: indien daar 'n volgehoue weerstand is, hou mens op om jou pêrels voor die swyne te gooi, en skud jy die stof van jou voete af.
    Dit lei noodwendig tot die vraag: hoe weet ek wanneer het ek lank genoeg aangehou? Aangesien ons almal geneig is om te gou handdoek in te gooi, moet mens baie eerlik met jouself wees. Selfbejammering, frustrasie en woede mag geen rol speel nie. Die goue reël is dat barmhartigheid deur barmhartigheid beperk moet word. Liefde moet liefde aan bande lê. Wanneer my barmhartigheid meer skade doen as goed, wanneer dit mense in hulle kwaad sterk, moet ek summier daarmee ophou. Kom jy dus agter dat jou hulp bloot bydrae tot iemand se dranksug, of luiheid, of verset teen God, durf jy mos nie medepligtig raak deur aan te hou gee nie. Dit is soms nodig om mense oor te gee aan die gevolge van hulle sonde, sodat hulle kan besef dat hulle besig is om hulleself te vernietig (vgl. 1Kor 5:3-5).
    Ons leef in 'n gebroke wêreld. En in hierdie wêreld moet ons alle mense om ons liefhê soos ons Hemelse Vader ons in Christus liefhet. Maar laat ons in die proses onthou dat die Here ook verheerlik word in Sy oordele. Daar is iets soos God se goedheid, maar daar is ook iets soos Sy strengheid (Rm 11:22). En Sy eer is uiteindelik veel belangriker as die bloot tydelike welsyn van sondaars.

SLOTWOORD

Uiteindelik is die vraag nie hoe goed ek die kwalifikasies vir my barmhartigheidswerk verstaan en toepas nie. As ek hierop sou konsentreer, sal dit my verlei tot 'n negatiewe soek van verskonings en die uitlewing van my barmhartigheidsroeping totaal ondermyn. Nee, die vraag is, is ek diep bewus van my roeping om Christus se liefde aan die ellendiges om my te betoon? Word my lewe dus positief en voortdurend deur barmhartigheid gekenmerk? Is ek 'n naaste vir diegene met wie ek daagliks te doen kry? Klim ek weer en weer van my donkie af?

                                                                                                                           Nico van der Walt

   






No comments:

Post a Comment