Wednesday, August 8, 2012

ANTIPAS HEROUT No.34 - Jh1:14 - GOD SE HOOGSTE OPENBARING [2 van 5] - Ten volle Mens

Hoe kan ons ooit gemeenskap hê met die allerhoogste, driemaal heilige en ewige God van hemel en aarde? Voor die sondeval, ja, toe kon dit dalk nog. Maar ons is so gering, sondig en verwerplik  -  sukkelende mislukkings.
     As ons Hom net kon sien. Maar Hy is die verskuilde God (die Deus absconditus). Al wat ons van Hom kan sien, is Sy werke.
     Of is dit?
     Presies hier is ons by die wonderlike goeie nuus van Jh 1:14. God het mens geword in Sy Seun, Jesus Christus! En met Hóm kan ons identifiseer. Want Hy was soos een van ons. En dis nie net die rykes en magtiges wat Hom kan waardeer nie, want Hy het nie gekom soos mens sou verwag nie. Hy het nie in glans en majesteit geleef  -  soos dit vir ons gevoel eintlik gehoort het nie. Hy het nie aangedring op allerlei gunste en gawes nie. Inteendeel! Hy was soos 'n liefdesslaaf tot alle mense se beskikking. Ja waarlik, Hóm kan elkeen van ons verstaan. Met Hóm kan ek gemeenskap hê!
     Maar hoe kan mens iemand verstaan wat 2000 jaar gelede geleef het? Dink vir 'n oomblik daaroor. Hy is die één Persoon in die Nuwe Testament wat bo die tyd uitstyg. Waarom? Omdat Hy die essensiële Mens is! Hy is universeel en tydloos. Sekerlik was Hy 'n Jood, maar die Heilige Gees het Hom laat beskryf op 'n wyse wat deur almal verstaan kan word  -  ongeag kultuur, geslag, ouderdom en intellek. O, heerlike waarheid: Hy was soos een van ons!

'n Lewensbelangrike en troosryke waarheid

"Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie ..." (1Jh 4:2-3; vgl. ook 2Jh 9-10).

     Die erns van dwaling oor die leerstuk van Christus kan beswaarlik oorskat word.

Die stelling "die Woord het vlees geword" is uniek in die Bybel. Daar is ander uitsprake wat min of meer dieselfde sê, maar hier is daar 'n bondigheid en 'n balans wat dit die klassieke uitspraak maak.
     Hierdie stelling bestaan in die Griekse teks van Jh 1:14 uit net twee woorde. Omdat ons beide woorde maklik verkeerd kan verstaan, moet ons voortdurend die res van die Skrifgetuienis in ag neem as ons dit vertolk.
     Ander uitsprake in hierdie verband, is onder meer: Rm 1:3: Hy is gebore "na die vlees uit die geslag van Dawid". Gl 4:4: Hy is "gebore uit 'n vrou, gebore onder die wet." Fl 2:7 sê dat Hy Homself ontledig het en aan die mense gelyk geword het. 1Tm 3:16 sê dat Hy geopenbaar is in die vlees. Hb 2:14 sê dat Hy vlees en bloed deelagtig geword het. En 1Jh 4:2 sê dat Christus in die vlees gekom het.
     Die eerste woord is "vlees" (OAV), of "mens" (NAV). In 'n sin is dit tog jammer dat die vertaling "vlees" in die OAV vervang is met "mens" in die NAV. Johannes sê nie bloot dat die Woord mens geword het nie; ook nie dat Hy bloot 'n liggaam aangeneem het nie. Nee, hy gebruik 'n Griekse woord wat amper skokkend is, amper té kru om van toepassing te maak op die ewige Woord: Hy het "vlees" geword, of as jy wil, "vleis". Die woord dui op menslikheid in sy swakheid, afhanklikheid en sterflikheid.

     Die Skepper van hemel en aarde het die fisiese en mundane lewe van gewone sterflinge binnegekom. Hy het een van ons geword!

Die tweede woord is "geword". Hierdie is 'n gewone woord en die werkwoord dui op 'n spesifieke gebeurtenis in die verlede. Bloot na v.14 gekyk, sou hierdie uitspraak verkeerd verstaan kon word.

•     Mens sou kon aflei dat die Woord nie vantevore bestaan het nie. Maar so 'n misverstand het Johannes reeds ondervang in v.1: die Woord bestaan van ewigheid af.

•     Dit sou ook verstaan kon word as dat die Woord opgehou het om te wees wat Hy vantevore was. Mens sou dus kon dink aan vermindering of uitruiling  -  dat die Seun Sy goddelike karakter verruil het vir 'n menslike, dat Hy Sy goddelike attribute en soewereine prerogatiewe afgestaan het. Maar Johannes gaan onmiddellik voort: "ons het Sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom" (14c). En in v.18 noem hy Hom "die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is". En die res van die Bybel verseker ons oor en oor dat Hy in elke opsig God was, en tot in ewigheid sal bly.

•     Nee, die enigste manier om hierdie proloog van Johannes te verstaan, is in terme van byvoeging en samevoeging. Die Seun het niks van Sy goddelikheid afgestaan of ingeboet nie, maar het 'n menslike natuur bygekry. Wat Hy van ewigheid af was, is Hy steeds. Hy het egter bygekry wat Hy nooit vantevore was nie, en sal dit nooit weer verloor nie. Atanasius het dit 1500 jaar gelede só gestel: "Hy het geword wat Hy nooit vantevore was nie; en Hy het voortgegaan om te wees wat Hy altyd was."

     Kompromieloos moet ons dus vashou: Jesus is sowel volkome God as volkome mens,      sonder enige aantasting van óf die goddelike óf die menslike. Hy is nie goddelike mens, of menslike God nie.

Baie van die wroeginge om die Persoon van Christus behoorlik te verstaan, mag vir ons na haarklowery klink. Maar 'n helder begrip van en geloof oor die fundamentele waarhede met betrekking tot die Persoon van Christus is noodsaaklik om die fyn balanse van ortodoksie en ortopraksie te handhaaf. Die geskiedenis lê besaai met die wrakke van mense en kerke wat hier die spoor byster geraak het. En onthou, wie die geskiedenis ignoreer, val maar net weer in die slaggate van die vaders.

Die maagdelike geboorte

Ons praat van die maagdelike geboorte. Dis in orde so, maar laat ons onthou dat net die Seun se verwekking bonatuurlik was  -  nie die swangerskap of geboorte self nie. Die Kind is gebore toe Maria se tyd gekom het (Lk 2:6), waarskynlik na 'n normale 40 weke.
     Die bo-natuurlike van die maagdelike geboorte sit in 3 waarhede ‒ en daarin alleen:

•     Die verwekking was bonatuurlik. Geen manlike saad is in Maria se moederskoot gestort nie. Die Gees het die lewe verwek (Mt 1:20; Lk 1:35). Maar ewe belangrik is dat Maria in elke opsig Jesus se biologiese moeder was. Dit is háár eiersel wat bevrug is.

•      Die Baba wat verwek is, was bonatuurlik. Dit was nie bloot 'n gewone baba wat net bonatuurlik verwek is nie. Dit was die ewige Seun van God, die tweede Persoon van die Goddelike Drie-eenheid, die Woord  -  reg van die eerste oomblik van swangerskap af. Die fetus wat ontwikkel het, was vandat Hy net mikroskopies klein was, waarlik God. Dit was God wat deur al die ontwikkelingsfases gegaan het, en wat bebloed, weerloos en doodnatuurlik gebore is.

•      Die baba is bonatuurlik bewaar van enige sondebesoedeling vanaf die baarmoeder. Of hierdie bewaring volledig tydens verwekking plaasgevind het, en of dit dwarsdeur die 40 weke van swangerskap geduur het, weet ons nie. Maar dat dit bonatuurlik en volkome was, staan vas.

Waarlik en ten volle mens

Talle van die stuk of 300 Ou Testamentiese profesieë oor die komende Messias maak dit duidelik dat Hy 'n mens sou wees.
     Hy sou 'n menslike geboorte hê (Jes 7:14; 9:6), vanuit die stam van Juda en die familie van Dawid (Jer 23:5-6). Hy sou onderworpe wees aan God se wet en dit volmaak gehoorsaam (Ps 40:7-11). Hy sou sterf, begrawe word en vir 'n tyd lank in die greep van die dood verkeer (Jes 53; Ps 16:9-11; 22; 118:17-23). Hy sou geslaan, gemartel en bespuug word (Jes 50:6). Ensovoorts.
     Nooit moet ons toelaat dat die bonatuurlike aard van Christus se ontvangenis in die moederskoot ons verlei om te dink dat Hy nie 'n ware menslike natuur gehad het nie. Uitgesonderd die sonde, het Hy waarlik een van ons geword. Die Hebreërskrywer stel dit só: "Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. ...Dit is duidelik dat dit vir Hom nie om die engele gaan nie, maar om die nageslag van Abraham. Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word ..." (2:14-17).
     Ja, Hy was meer as mens, maar óók volkome mens  -  met 'n menslike liggaam, innerlike en verstand.
     Ons sien Sy menslikheid veral in vier areas:

•     Sy fisies-liggaamlike lewe. Hy is normaal uit 'n normale vrou gebore. Op agt dae is Hy soos enige Joodse seuntjie besny. Hy het op 'n normale wyse gegroei en ontwikkel (Lk 2:40, 52). Lukas 2 beskryf Jesus agtereenvolgens as 'n baba (16), 'n kind (40) en 'n seun (43) (vgl. NIV). Hy het honger geword en geëet; Hy het moeg geword en geslaap.
     Dis omdat Hy volkome mens was dat die inwoners van Nasaret, tussen wie Hy groot geword het, in verdwasing oor Sy gesag en wonders gesê het: "Is hy dan nie 'n timmerman, 'n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?" (Mk 6:3).

•     Sy emosionele lewe. Jesus het nie net 'n menslike liggaam gehad nie, maar ook 'n menslike psige. As sodanig het Hy tipiese menslike emosies beleef. Hy het lief gehad (Jh 11:3, 5); kwaad geword (Mk 3:5; Jh 11:33); hartseer geword (Jh 11:35; Lk 19:41); vreugde ervaar (Lk 10:21). Oor en oor word Sy empatie met ellendiges beskryf. En in Getsemane het Hy skok, vrees, verwarring en emosionele pyn ervaar.

•     Sy natuurlike lewe. Hoewel Hy nie ons sondegeneigdheid gehad het nie, was Hy onderworpe aan al ons natuurlike beperkinge. Toe Hy gebore is, kon Hy nie staan nie. Hy kon nie 3m hoog spring nie; sy vel was nie teen spykers bestand nie. Daar was dinge wat Hy nie geweet het nie: "Wie het aan my klere geraak?" (Mk 5:30; vgl. Mk 6:38).
     In Jh 11:34 vra Hy vir Marta en Maria: "Waar het julle hom begrawe?" Tog wek Hy Lasarus enkele oomblikke later uit die dood op! Hy was dus gelyktydig beperk en onbeperk, onkundig en alwetend, kragteloos en almagtig.
     Wanneer Jesus bonatuurlik opgetree het, was dit in die krag van die Gees, en net as dit die Vader se wil was  -  en dan altyd om Sy goddelike sending en mandaat te bevestig, nooit in eiebelang nie.

•     Sy geestelike lewe. Hy is versoek. Hy het gebid, die Skrif bestudeer, gevas, God vertrou.

Die Here het dikwels na Homself as "die Seun van die mens" verwys (dis 'n stuk of 80 keer so opgeteken). Wat het Hy daarmee bedoel? Die antwoord is in die Ou Testament. In Ps 8:5 en 146:3 onderstreep die uitdrukking menslike nietigheid. In Esegiël word die profeet oor en oor so aangespreek  -  waarmee God hom aan sy geringheid herinner. En in Dn 7:13 verskyn iemand "soos die Seun van die mens" voor "die Oue van dae" (OAV). Dis 'n Messiaanse profesie wat vooruit kyk na Christus se ontvangs van alle gesag in die hemel en op aarde  -  maar wat beklemtoon dat dit in Sy hoedanigheid as die mens Christus Jesus is wat dit met Hom gebeur.
     Met die benaming "die Seun van die mens" wil die Here Jesus dus Sy menslikheid onderstreep.
     In Rm 8:3 maak Paulus 'n skokkende stelling: Christus het in die "gelykheid" van die sondige vlees gekom (OAV). Sekerlik kan die apostel dit sagter stel, maar hy wil nie. Hy wil 'n punt tuisbring. Hy het nie met 'n sondige vlees gekom nie, dit het net so gelyk. Die Seun se menswording was dus totaal  -  behalwe op een punt: Hy het geen sonde gehad nie.
    Waarom gebruik Paulus die woorde, "sondige vlees"? Omdat hy wil beklemtoon dat Jesus op 'n manier gekom het wat van Hom 'n volkome mens gemaak het. Sy identifisering en solidariteit met ons is so te sê absoluut. Hy het so na aan die sondige mensheid gekom soos wat moontlik was  -  sonder om self 'n sondaar te wees. Dis soos die Hebreërskrywer sê: "Want ons het nie 'n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde" (Hb 4:15).
     Laat ons vier dinge verstaan:

•     Ten einde ons volkome Plaasvervanger te wees, moes Hy in elke opsig word wat ons is. Was daar elemente van ons mens-wees nie in Hom teenwoordig nie, was dit uitgesluit van Sy verlossingswerk. Maar God wil ons volkome red. Niks, maar niks, van ons ware mens-wees mag agterbly nie.

•     Maar wat dan van ons sonde? Dis so 'n integrale deel van ons! Nee, nee! Sonde is ten diepste níé deel van ons mens-wees nie. Ons was nie oorspronklik so nie. Dit het later bygekom. Dis in werklikheid heeltemal onnatuurlik. En dis my oorspronklike menswees wat Jesus verlos en herstel!

•     Wat dan wel van ons sonde? Dis juis om ons, wat waarlik met Hom verenig is, van hierdie vreemde en onnatuurlike kanker te genees, dat Hy dit alles op Homself geneem het  -  om dit volkome, finaal en vir ewig te vernietig.

•     Les bes, onthou dat Jesus ten diepste as die eerste mens, Ádam, se Plaasvervanger en Opvolger gekom het. Dis waarom Hy die "laaste Adam" genoem word (1Kor 15:45-47). Hy is die Hoof van 'n nuwe mensheid en skepping.

     O, wat 'n Verlosser, wat 'n Verlosser! En met Hóm kan ons gemeenskap hê!

Laat ons dus reg dink oor ons Here Jesus. Dis lewensbelangrik!
     Vir baie naïewe en sentimentele kerkmense is Hy steeds die babatjie in die krip. Wat beteken so 'n Christus vir sondaars soos ek en jy?
     Vir miljoene godsdienstiges hang Hy steeds aan die kruis. Maar dan bly Hy 'n patetiese en hulpbehoewende Christus. Dan is Hy allermins in staat om jou te help  -  nóg in hierdie lewe, nóg eendag. Is dit verbasend dat diegene wat Hom steeds aan die kruis voorstel, uiteindelik toe maar op Maria as middelaar begin staat maak het?
     Nee, tussen ons en God is daar 'n volmaakte Middelaar  -  die mens Christus Jesus (1Tm 2:5).
     As ons groot Profeet lei Hy ons steeds as waarlik God en mens in die paaie van waarheid  -  wat Hy self so puntenerig en volmaak bewandel het.
     As ons groot Priester het Hy as waarlik God en waarlik mens Homself vir ons geoffer, en tree Hy voortdurend vir ons by die Vader in.
     As ons groot Koning sal Hy ons verlossing vervolmaak, al Sy vyande onder Sy voete werp, en vir ewig na ons omsien.
                                                                                                                            Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment