Thursday, June 2, 2011

ANTIPAS HEROUT No.19 : GOD SE SOEWEREINE REGERING

IS DAAR SIN IN DIE LEWE? IS DAAR KOERS IN DIE GESKIEDENIS? Alle denkende mense het deur die eeue hiermee geworstel.

'n God van orde het 'n plan

# Dit is ondenkbaar dat 'n ewige God van onbeperkte wysheid, kennis en vermoë 'n heelal sou skep sonder 'n uitgewerkte plan en doel daarmee.
Dat so 'n plan en doel 'n werklikheid is, word in die allerduidelikste taal in die Bybel geleer.

* Selfs die mens, in al sy beperktheid, beplan voordat hy handel en bou. Iemand van wie dit nie waar is nie, is dwaas. Enige intelligente wese besluit éérs oor sy doelwit, oor wat hy wil bereik, en dán besin hy oor wat hy moet doen en hoe hy te werk moet gaan om dit te bewerkstellig. En, uiteraard, hoe groter die saak ter sprake, hoe belangriker is deeglike beplanning.

* Enige mens, soveel te meer enige natuurwetenskaplike, weet dat daar verbysterende ontwerp, orde en planmatigheid dwarsdeur die geskape werklikheid is. Sover ons mikroskope en teleskope ook al kan tuur, is die indruk onontkombaar dat 'n onbeskryflik geniale, almagtige en sistematiese Skepper vir alles verantwoordelik is. Só waar is dit dat ons, tot die mate wat ons die wetmatighede verstaan en matematies kan formuleer, in staat is om met verstommende akkuraatheid die kragte en prosesse van die skepping te antisipeer en te harnas.
Die standpunt dat die makro- en mikrokosmos toevallig ontstaan het, verg veel meer geloof - en 'n geloof is dit inderdaad - as dat 'n almagtige en alwyse God alles geskape het.
Nee, wie chaos soek, sal dit nie in God se handewerk vind nie! Waar daar wel wanorde is, is dit die bitter vrug van sondegevallenheid.

# God se Woord leer dat Sy rol nie tot die ontwerp en skepping van die heelal beperk is nie - Hy reguleer ook volledig die instandhouding en voortgang daarvan. Anders as die Deïsme, wat bloot 'n onpersoonlike en onbetrokke Eerste Oorsprong erken, leer die Skrif dat God dag na dag aktief regeer.

* Hierdie planmatigheid en betrokkenheid van God geld nie net die natuur nie, maar besonderlik ook die verloop van die geskiedenis. God se plan het 'n spesifieke einddoel (Ef 1:9-11). Die historiese gang van ons wêreld het dus 'n lineêre karakter, eerder as 'n sikliese. Daar is voortgang en gerigtheid.
Die Spreukedigter het hierdie waarheid duidelik verstaan: "Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here; soos 'n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies" (Spr 21:1).

* Nog meer verstommend is die Skrifopenbaring dat God se plan en heerskappy nie net die globale raak nie, maar ook intens persoonlik is. Elke mens se lewensloop is daarby inbegrepe.

* En dis nie al nie. Sonder blik of bloos leer die Skrif dat God se plan die fynste besonderhede bestryk: "Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel." (Mt 10:29-30. Vgl. ook Ps 135:5-7; Spr 16:33).

* Selfs sonde, asook die tragedie en lyding wat daarop volg, is inbegrepe in God se raadsplan. Vergelyk bv. die volgende Skrifgedeeltes: Gen 45:7-8 en 50:19-20; Eks 7:2-5, 9:12, 9:16 en Rom 9:17; 2Sam 24:1, 24:10-15 en 1Kron 21:1; Klaagl 2:11 en 3:37-38; Deut 2:30, Rig 14:4, 1Sam 2:25b, 1Kon 22:19-23, Jes 45:7, Amos 3:6, Op 17:16-17.

* By die lees van bogenoemde Skrifgedeeltes ontstaan die vraag of God dan nie die Outeur van die betrokke mense se sonde is nie?
Die sleutel tot die antwoord lê in die radikaliteit van die mens se sonde. Dit is net God se algemene genade - te onderskei van Sy besondere of reddende genade - wat elke mens daarvan weerhou om tot die dieptepunt van sonde te versink. As God ons nie vasgehou het nie, sou niks ons daarvan weerhou het om so boos soos die demone te word nie. Dis soos 'n klip wat aan 'n tou van 'n skip af hang. Laat skiet die tou en dit sink al hoe dieper. Los die tou en dit sink bodem toe. En vanself kom dit nooit na die oppervlak nie (vgl. Rm 1:24, 26, 28).
As van bogenoemde Skrifgedeeltes dan sê dat God sondaars verhard het om nog meer te sondig, sou ons kon dink in terme van aktiewe verharding, of van passiewe verharding. Indien Farao, byvoorbeeld, se natuurlike neiging was om goed te doen, maar die Here dan só in hom gewerk het dat hy al hoe meer sondig, sou dit 'n aktiewe verharding gewees het. En dit sou God die Outeur van sy sonde gemaak het - 'n ondenkbare en lasterlike gedagte. Maar Farao was radikaal verdorwe - soos alle onwedergebore mense - en die neiging van sy hart was om al hoe dieper in sonde in te graviteer. Al wat dus gebeur het, is dat God hom meer aan sy sonde oorgegee het. Hy het as 't ware sy tou ietwat laat skiet. En dis 'n passiewe verharding - wat God nie die Outeur van Farao se sonde maak nie. Die Egiptiese vors het self gesondig - omdat hy self wou en self so gekies het.
Die uitsprake in 2Sam en 1Kron oor Dawid se sonde moet net so verklaar word. God wou die volk straf omdat die vólk sondig was. Maar Dawid het kennelik ook 'n groeiende trots en ambisie oor sy mag in hom omgedra. God laat dan 'sy tou skiet'. Maar eers laat Hy Satan 'se tou skiet' - sodat dié vir Dawid kan verlei (vgl. Job se ervaring).
Twee belangrike waarhede kom hier na vore: Eerstens, God werk normaalweg middellik - Hy gebruik instrumente. Tweedens, Satan is nie God se opponent in 'n kosmiese skaakspel nie - hy is 'n pion op die skaakbord.

* Van die mees dramatiese en sprekende Skrifuitsprake oor God se allesomvattende regering word in Handelinge aangetref - in enkele verse wat oor die kruisiging van Jesus Christus gaan. Golgota was nie net 'n skarnier waarop die wêreldgeskiedenis gedraai het nie, dit was meteen die verskriklikste sonde van alle tye:
"Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring ..." (2:23, OAV).
"Nou weet ek, broers, dat julle net soos julle leiers in onkunde gehandel het. Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur." (3:17-18).
"Die konings van die aarde het in opstand gekom, en die heersers het saamgespan teen die Here en teen sy Gesalfde. Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het." (4:26-28).
Herodus én Pilatus én die Jode én die Romeine het as verantwoordelike mense opgetree. Hulle was skuldig en sal daarvoor gestraf word. Máár die kruisiging was van voor die tyd af vasgelê in God se raadsplan.
Lk 22:22 stel dit so: "Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is, maar wee die man deur wie Hy verraai word!"
Nou volg dit onontkombaar, as die kruisiging van Sy Seun verordineer is in God se ewige raadsplan, geld dit ook van die sondeval! Die kruisiging se doel was tog om die effekte van die sondeval op te hef.
Ook ander Skrifgedeeltes impliseer hierdie diepsinnige waarheid: "... julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus ... Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem ..." (1Pt 1:19-20). Vgl. ook Ef 1:4; 2Tm 1:9.
Meer kan ons nie sê nie. Ons durf nie probeer indring in wat God besluit het om nié aan ons te openbaar nie.

# Het God dan nie soms berou gekry (NAV: 'bedroef geraak') oor wat Hy gedoen het nie?
Inderdaad is daar talle Skrifuitsprake wat dit so stel (vgl. o.a. Gen 6:5-6).
Die Bybel praat dikwels oor God asof Hy 'n mens is. So, byvoorbeeld, word Hy beskryf as iemand met hande, oë ensovoorts. Dit beteken nie dat Hy werklik 'n liggaam soos ons het nie, maar Hy is só gansanders dat Hy dit nodig vind om in Sy selfopenbaring beelde te gebruik wat ons in ons tyd-ruimtelike beperktheid kan verstaan. Hy praat dus met ons asof Hy self 'n mens is.
God se 'berou' is so 'n antropomorfisme. Dit beteken bloot dat sekere van Sy handelinge vir ons lyk na die van 'n mens wat hom bekeer.

* 1Sam 15 is wonderlik verhelderend oor hierdie saak.
Eers sê v.10-11: "Toe het die woord van die Here tot Samuel gekom: Ek is bedroef daaroor dat Ek vir Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai ..." (vgl. ook v.35).
Maar dan sê een en dieselfde hoofstuk - as 't ware in dieselfde asem - in v. 29: "Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie." (Num 23:19).
In v.11 en 35 gee die Bybel vir ons belewingswaarheid (fenomenologiese waarheid). Dis soos die mens dit ervaar; dis hoe God dit op 'n menslik-bevatlike wyse aan ons meedeel. In v.29 het ons wesenswaarheid (ontologiese waarheid). Dit is "die storie agter die storie".
Hierdie twee maniere om waarheid te formuleer is goed bekend aan ons. As ek teen laatmiddag sê dat die son onder gaan, sal niemand my beskuldig van 'n leuen nie. Dis belewingswaarheid. Maar die feit van die saak is dat dit eintlik nie die son is wat sak nie, maar die aarde wat draai. En dis die wesenswaarheid.

Wat behels God se plan?

# Die vraag ontstaan nou onwillekeurig: Het ons 'n idee waaroor hierdie plan van God gaan? [1] . In 'n sin is dít die tema van die Bybel.

* Te min Christene lees die Bybel soos dit moet. Almal weet dat mens nie finaal kan sê jy verstaan die boodskap van 'n boek voordat jy dit nie van hoek tot kant deurgelees het nie. Tog is dit alles behalwe hoe die tipiese gelowige van ons dag met die Bybel omgaan. Iewers het die ellendige idee ontstaan dat die Bybel nie 'n eenheid is nie, maar 'n onsamehangende versameling van stories, profesieë, gedigte, oordenkings en gesegdes. Die gevolg is dat dit lukraak en selektief gelees word - hier 'n stukkie, dan weer daar 'n stukkie. Groot gedeeltes word nooit aangeraak nie. En die huidige stortvloed 'Bybelse' dagboeke help beswaarlik om die probleem op te los.
Nee, die Bybel is nie 'n kardoes vol Allsorts-lekkers waaruit mens soms 'n trosie kan opdiep nie! Dit het één Outeur, één tema, één boodskap. En dis gerig tot rasionele wesens, mense met verstand. Daarom is dit 'n boodskap wat niemand ooit sal verstaan as hy nie 'n poging aanwend om die geheelbeeld onder die knie te kry nie - en allermins as hy te lui is om daaroor na te dink.

* In hierdie verband geld 'n wonderlike paradoks: Enersyds is die Bybel so allesomvattend, so diepsinnig, so verhewe, dat niemand dit kan verstaan sonder die verligtende werk van die Heilige Gees nie. Selfs dan is 'n leeftyd nie genoeg om by die bodem van die skatte uit te kom nie. Andersyds is dit gerig tot alle soorte mense - ook die eenvoudigstes. Trouens, as jy nie kinderlik gelowig is nie, kan jy dit nie begryp nie.
'n Ou kerkvader het dit min of meer so gestel: "Die Woord van God is soos 'n groot rivier. In die middel kan die reuse swem; in die vlak watertjies kan die kinders speel." En die merkwaardige is dat die essensie van die Bybelboodskap - dit wat nodig is om godvrugtig te lewe en salig te sterwe - so eenvoudig is dat selfs 'n kind dit kan verstaan.

# Wat vind mens as jy die Bybel as 'n eenheid lees? Allereers dat God - en nie die mens nie - die Hoofkarakter is. Dit gaan oor Hom. Dis 'n wonderlike kroniek van Sy werk in hierdie wêreld - verlede, hede en toekoms - met verduidelikende kommentaar deur geïnspireerde profete en apostels. En die hooftema is nie die redding van mense nie, maar Sý grootse plan en handele om Sy wil te volbring - naamlik dat Hy tot in alle ewigheid in en voor Sy skepsele verheerlik sal word (Rm 9:22-24; Ef 1:6,12,14, OAV).
Ja, die evangelie - dat God sondaars red - lê aan die hart van hierdie grootse plan. Maar Hy doen dit ten diepste nie ter wille van hulle nie, maar ter wille van Homself en Sy eie eer (Ef 2:7).

# Hoewel hierdie plan soewerein deur God verordineer is en onstuitbaar deur Hom voortgestuur word, geskied dit nie sonder die mens se verantwoordelike, bewustelike en inspannende betrokkenheid nie. Die mens se rol is op 'n wonderlike en grootliks geheimenisvolle wyse ingeweef in God se raadsplan. Dit is, tewens, nie oordrewe nie om te sê dat God tot 'n baie groot mate Sy kosmiese projek van selfverheerliking uitwerk deur die lompe gehoorsaamheid van Sy kinders en die dwase rebellie van Sy vyande.

* Vervleg met die hooftema is die boodskap aan die sondegevalle mens dat hy uit pas is met God se plan. Deurgaans weerklink die oproep: vlug vir die komende toorn, soek God, roep Hom aan om Sy genade. En in die Nuwe Testament word dit dan glashelder dat hierdie genade in Christus gegee word. In Hom, en in Hom alleen, werk God Sy plan uit. Slegs in Hom is die betekenis en sin van hierdie lewe te vind. Net hulle wat met Hom verenig is - en dit geskied deur die geloof alleen - kan regtig in pas wees met God se plan.

God se soewereiniteit

# Die soewereine heerskappy van God is die onderliggende uitgangspunt van die Bybelse boodskap. Gelowige omhelsing hiervan is 'n lopersleutel om die Bybel te verstaan.

God se soewereiniteit dui op Sy reg én vermoë om as Skepper, Onderhouer - en dus onbetwisbare Eienaar - die ganse heelal en al Sy skepsele (in die hemel en op aarde) te regeer net soos Hy wil, sonder enige aanspreeklikheid hoegenaamd aan iemand anders.

# Dis belangrik om te onthou dat God oor alle kennis en mag beskik om dit wat Hy besluit het tot in die fynste besonderhede uit te voer. Niks kan Hom stuit of pla of verras nie. Hy gaan onverstoorbaar voort.
Wie nog oor God se almag twyfel, moet vir 'n slag goed na die ontsagwekkende skepping rondom hom kyk. 'n Mens is 'n stoffie op die aarde, wat 'n stoffie in die sonnestelsel is, wat 'n stoffie in die melkweg is, wat 'n stoffie in die heelal is - wat 'n stoffie in die palm van God se hand is.

# Hoewel God se soewereiniteit universeel en absoluut is, is dit nie bloot 'n blinde krag nie. Dit is gekoppel en funksioneer altyd in volle harmonie met al Sy ander attribute - Sy volmaakte heiligheid, wysheid, liefde, alwetenheid, almag, onveranderlikheid, ensomeer.
Vir die gelowige sit daar dus geen bedreiging in God se soewereine regering nie; inteendeel, hy put wonderlike troos daaruit. Dat só 'n God mý liefdevolle Vader is! Ek vertrou Hom 'n duisend maal meer as myself!

# Elke mens moet een ding baie duidelik verstaan en hom aan die onontkombaarheid daarvan onderwerp: As Skepper is God sy Eienaar - met die gevolglike reg en vermoë om met hom te maak net soos Hy wil. Om 'n bekende Bybelse beeld te gebruik: God is die Pottebakker; ek is die klei. En "het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?" (Rm 9:21).

# Dit is God se soewereine prerogatief om te skep - of om nié te skep nie.

* Elke geboorte is die gevolg van 'n bepaalde vroulike eiersel wat deur 'n bepaalde manlike eiersel bevrug is.
My genetiese samestelling hang deels af van wátter spermsel my moeder bevrug het. So 'n bevrugting vind nie elke keer plaas nie, maar as dit wel gebeur, is dit deur een van die miljoene spermselle wat by 'n gegewe geleentheid teenwoordig is - en elkeen van hulle sou dit eweneens kon doen. Dink daaraan: as dit 'n ander sperm was, het iemand anders met 'n ander genetika ontstaan!

* In 'n proses van ongelooflike presisie word 'n bevrugte eiersel d.m.v. chromosome en gene van 'n chemiese bloudruk voorsien wat die verdere ontwikkeling van daardie mens vorentoe grootliks beheer. Dit bepaal hoe die selle sal verdeel en vermenigvuldig, hoe hulle in weefsel, bene, ledemate, organe en sintuie sal ontwikkel. Dit bepaal of so 'n mens manlik of vroulik sal wees, wit of swart, groot of klein, slim of dom, atleties of lomp. Dit bepaal die persoonlikheidstrekke, besondere aanlegte en temperamentele geneigdhede. Dit maak van so 'n persoon die unieke, unieke, unieke mens wat hy of sy is!

* Wat meer is, wie en wat ek is word nie slegs bepaal deur die fyn en eksakte detail van my bevrugting nie. Dink net aan alles wat dit moes vooraf gaan sodat ek die mens kan wees wat ek is! As groot-oupagrootjie sy verlowing met groot-oumagrootjie verbreek het om met 'n ander jeugliefde te trou, het ék nie vandag bestaan nie. En niemand sou my gemis het nie!

* Elke keer as een bepaalde spermsel 'n bepaalde eiersel bevrug, ontstaan 'n mens wat tot in ewigheid sal bestaan. Dit geld nie net die onuitspreeklik bevoorregtes wat die ewige saligheid sal beërf nie; dit geld ook (oorweldigend!) alle ander mense (Jh 5:28-29). By hierdie skepping van 'n mens is ander mense as medewerkers betrokke - die ouers (en voorouers!). Hoe hierdie menslike medewerking ook al geskied - in heiligheid of in sondige wellus - God regeer onverstoorbaar soewerein bo-oor alles!
Op laasgenoemde werp die Here Jesus se geslagsregister in Matt 1 insiggewende lig. Slegs vier vrouens (voor Maria) word genoem, en oor elkeen hang 'n vraagteken van behoorlikheid: Tamar (Gen 38); Ragab (Jos 2); Rut (darem net 'n heiden); Batseba ("die vrou van Urija", sodat ons nie vergeet nie) (2Sam 11).

# Dit staan so vas soos die berge: óf God is volledig in beheer van alles, tot in die fynste besonderhede; óf Hy moet met 'krisisbestuur' poog om die geskiedenis te stuur volgens Sy wil.
Per definisie kan die verloop van die geskiedenis net vasgelê wees indien één Soewerein regeer. Die oomblik as 'n tweede onafhanklik begin werk - wat staan nog miljoene - het selfs God nie absolute beheer oor die verloop van sake nie. En dan kan ook Hy nie presies weet waar en wanneer alles gaan eindig nie.

* Baie mense aanvaar dat God inderdaad die groot, histories-bepalende gebeure beheers. Dat Hy egter by die nietige betrokke is, kan hulle nie aanvaar nie. Maar uit bogenoemde volg dit onontkombaar: as God nie die geringe beheers nie, het Hy ook nie volkome beheer oor die groot dinge nie. Iets so infinitesimaals klein soos die bymekaarbring van 'n bepaalde spermsel en 'n bepaalde eiersel kan immers enorme historiese betekenis hê.
Dink net: as in Adolf Hitler se geval 'n ander van die miljoene spermselle die bepaalde eiersel bevrug het, het ons bes moontlik nie 'n Tweede Wêreldoorlog gehad nie. Hoe anders sou die geskiedenis nie verloop het nie!

* Nog meer duiselingwekkend: God se verbysterende detail-regering strek terug oor die ontvangenis en lewens van al my voorsate - regdeur tot by Sy uitverkiesende raadsbesluit voor die grondlegging van die aarde!

# Hierdie dinge gaan ons verstand te bowe. In die finale analise is dit 'n kwessie van geloof. Óf ek aanvaar die Skrifgetuienis kinderlik-gelowig, óf ek verwerp dit. Maar as ek dit verwerp, bly daar maar 'n enkele alternatief oor - om my knieë voor die god van toeval en noodlot te buig.

* Laat ons onthou wie ons is - skepsele, nie klein godjies nie. God se gedagtes is nie ons gedagtes nie (Jes 55:9). Daarbenewens het Hy ook nie alles aan ons geopenbaar nie (Deut 29:29). Ja, Hy het alles geopenbaar wat nodig is om gered te word en tot Sy eer te lewe - en in hierdie sin is die Bybel genoegsaam - maar van Sy raadsplan en redes daarvoor weet ons bloedweinig.

* Die boek Job is hier 'n ligpunt. Terwyl Job ly, is hy totaal onbewus van die drama wat in die hemelse sfere afspeel (Job 1:6-12; 2:1-6). Wat sy krisis betref, het hy net belewingswaarheid, nie wesenswaarheid nie - in elk geval nie volledig nie. Hy weet wel dat God liefdevol, regverdig en getrou is. En daaraan hou hy vir lewe en dood vas. Maar van die eintlike intrige agter die skerms het hy geen benul nie.

# In Sy soewereine alwysheid het God besluit om die mens as 'n denkende en verantwoordelike wese met 'n wil te skep. Die feit dat die sondeval hom in elke opsig 'verbuig' het, hef nie sy aanspreeklikheid voor sy Skepper op nie.

Die Woord van God leer twee waarhede wat altyd in balans gehou moet word: God is soewerein, enersyds. Die mens is verantwoordelik, andersyds. Eensydige beklemtoning van enige van hierdie twee waarhede ten koste van die ander het katastrofiese gevolge - teologies, pastoraal en prakties.

* Hier lê die verskil tussen die Bybelse waarheid oor die soewereiniteit van God en fatalisme. Lg. ontken dat die mens 'n vrye agent is wat kan kies wat hy wil. Dit misken dus menslike verantwoordelikheid.

* Die Christen het 'n addisionele verantwoordelikheid. Hy is immers geestelik lewend gemaak, hy is wedergebore, hy is herskep. En deur God se genade verstaan hy dit. Daarom sien hy sy lewe as 'n stuk rentmeesterskap uit die hand van die Here. En wie dit regtig verstaan, se lewe word daardeur beheers. Presies dit is wat die gelykenisse van die muntstukke in Mt 25:14-30 en Lk 19:11-28 wil beklemtoon. Daarmee wil die Here Jesus op ons hart druk hoe noodsaaklik dit is om in die lig van die ewigheid te leef - want ons sal aan ons Skepper en Herskepper moet verantwoording doen oor wat ons met hierdie rentmeesterskap gedoen het.

# Wat God se soewereine heerskappy in die lewens van die kroon van Sy skepping betref, beklemtoon die Bybel Sy volmag in veral drie areas:

* Hy is soewerein in die betoning van Sy barmhartigheid - Sy algemene, versorgende en instandhoudende liefde vir alle mense. Sommige kry meer daarvan as ander. Party is ryk, ander arm; party is begaafd, ander maar dom; party leef lank, ander baie kort, ensovoorts.

* Hy is soewerein in die betoning van Sy genade - Sy besondere, reddende liefde vir die uitverkorenes. Of ons nou daarvan hou of nie, dit is 'n onontkombare feit dat niemand gered kan word sonder God se inisiatiefnemende bemoeienis nie. Alle Christene weet dit. Dis waarom ons almal min of meer só bid vir 'n dierbare wat nog nie gered is nie: "Ag, Here, red hom asseblief! Per slot van sake kan net U dit doen!"

* Hy is soewerein in sy roepinge tot diens. Hý meet ons lewensbaan uit; Hý gee bekwaamhede en geleenthede; Hý het die goeie werke voorberei waarin elkeen van ons moet wandel (Ef 2:10).

Die finale doel: God se eer

# Daar kan geen twyfel wees nie: die Woord van God leer ondubbelsinnig dat God alles geskape het, alles regeer en alles toelaat vir net een uiteindelike rede: die verheerliking van Homself. Dit is Sy doel met absoluut alles - voor die tyd, in die tyd, en na die tyd. Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge (Rm 11:36). Hy bestaan nie ter wille van ons nie; ons bestaan ter wille van Hom.

* Ons vind dit nie maklik om hierdie allesoorheersende prioriteit van God te aanvaar nie. Is dit Hom nie onwaardig nie? Is selfgerigtheid in mense dan nie afstootlik nie? Sulke vrae is egter kortsigtig.
Dit is wel so dat dit sonde is as 'n mens vir homself lewe. Maar hy is 'n skepsel en nie God nie. In God se geval is dit anders. Hy en net Hy is God - en daar is niks of niemand hoër as Hy wie se eer Hy kan najaag nie. Daarom is dit reg, trouens onvermydelik, dat Hy Sy eie eer moet en sal soek.
As dit rég is vir 'n mens om God se eer as hoogste ambisie te hê, kan dit mos nie verkeerd wees as dit ook God se gerigtheid is nie. En as dit verkeerd is as 'n mens 'n mindere saak as God se eer najaag, moet dit mos vir God ook verkeerd wees.

# Die Hebreeuse woord heerlikheid het oorspronklik gewig beteken. Op 'n persoon van toepassing gemaak, beteken dit dat hy gewigtig is in ander se oë. Hy het status en aansien. So word die woord gebruik om van Jakob se rykdom te praat (Gen 31:1) en van Josef se mag in Egipte (Gen 45:13) - dit was gewigtig.

* Die woord het op twee maniere betrekking op God:
In Sy selfopenbaring toon God aan ons Sy heerlikheid. So sien ons Sy majesteit in die skepping (Ps 19:1; Jes 6:3); in Goddelike verskynings in Bybelse tye (Eks 40:34; Eseg 1:28 ens.); in Jesus Christus (2Kor 4:6); in Sy magtige dade in die geskiedenis; in Sy attribute in aksie in ons lewens.
In ons godsdiensbeoefening gee ons aan God heerlikheid. Dit geskied in reaksie op die selfopenbaring van Sy heerlikheid. Dit gebeur as ons Hom loof (Ps 50:23; 96:8; Rm 15:9); as ons Sy Woord glo en Sy beloftes vertrou (Rm 4:20); as ons Christus as Here bely (Fl 2:11); as ons die Here gehoorsaam (Fl 1:11) - as ons in liefdevolle onderwerping met ons hele lewe dit najaag om Hom groot te maak.

* Nou kan ons verstaan wat dit beteken dat God Sy eie eer soek.

God wil tot in ewigheid die gewig en heerlikheid van Sy karakter en dade aan Sy rasionele skepsele toon - sodat hulle Hom kan ken en gevolglik ewig sal verheerlik met vererende, dankbare en lojale liefde, lof, vertroue en gehoorsaamheid.

# Op geen wyse word hierdie allesoorheersende doel van God - naamlik om Homself te verheerlik - meer uitnemend bereik as in Sy reddingsplan nie. Hierin word van Sy attribute gedemonstreer wat ons nie op 'n ander manier sou kon ken nie. Wat het Adam per slot van sake vóór die sondeval van God se genade geken - of van Sy toorn, of van verskeie ander van sy karaktertrekke? Genade is immers iets wat net aan mense betoon kan word wat die teendeel verdien - aan sondaars.
Hier gaan daar dus tog 'n skrefie oop waardeur ons iets van die sondeval se sin kan begryp.

* Paulus stel dit onomwonde: die soewereine God het die reg om in sowel redding as toorn Homself te verheerlik. En Hy doen dit inderdaad!
"Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: 'Waarom het jy my so gemaak?' Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie? En as God dieselfde wou doen? Hy wou sy toorn laat sien en sy mag bekend maak. Daarom het Hy die voorwerpe van sy toorn, die mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra. So sou Hy ook die rykdom van sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van sy ontferming, die mense wat Hy vantevore voorberei het om aan sy heerlikheid deel te hê." (Rm 9:20-23).
Ook Ef 2:7 is besonder insiggewend: God se groot verlossing in Christus (Ef 2:4-6) het 'n besondere doel - "sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het."
Vergelyk ook Ef 1:6,12,14 (OAV); 1Kor 1:26-31 en 2Kor 4:7.

* Sonder 'n sondeval sou ons niks begryp het van God se barmhartigheid, liefde, genade en verbondstrou nie. Selfs die eenvoudigste Christen verstaan vandag meer daarvan as Adam en Eva voordat hulle uit die tuin van Eden geban is - nie net teoreties nie, maar veral proefondervindelik. En wat sou ons geweet het van God se geregtigheid en Sy heilige toorn teen sonde? Kortom, sonder die sondeval sou ons God steeds nie geken het soos dit moet nie - in elk geval sou ons niks van Sy kosbaarste en mees verhewe attribute begryp het nie. En gevolglik sou ons Hom nie naastenby verheerlik het soos ons moet nie.

* Bostaande geld nie net vir ons nie, maar ook vir die engele-wêreld:
"Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring." (Ef 3:10-11).
In 1Pt 1:12 skryf die apostel dat die engele begerig is om insig te kry in God se groot verlossingsdade. Sy Grieks is baie ryk en beskrywend: hulle leun intens-geïnteresseerd en stip-starend vooroor [2] om meer te wete te kom van die Here se genade en verbondstrou in die lewens van Sy geliefdes hier op aarde. Waar anders sou hulle iets oor God se genade kon leer? Soos die ou Puriteine gesê het: die kerk is God se universiteit vir die engele - dit rus hulle toe om Hom tot in ewigheid te verheerlik soos dit hoort!

Slotwoord

Geagte leser, is jou lewe in pas met wat God besig is om te doen in hierdie wêreld en sy geskiedenis? Is jy oor die volle spektrum van jou bestaan onderworpe aan Sy geopenbaarde wil? Is die speerpunt van dit alles - naamlik Sy verheerliking deur middel van Sy Seun se volmaakte middelaarswerk - die sentrale hartstog van jou lewe? Is jy deur 'n ware geloof met Christus verenig? Word die egtheid daarvan deur 'n polsende dankbaarheidslewe vertoon?
Wat van diegene wat verkies om God se roeping te ignoreer? Hulle Skepper respekteer hul keuse. Hy gee hulle presies wat hul kies - 'n lewe, 'n dood, 'n ewigheid sonder God!
Diegene wat in pas met God leef se lot is radikaal anders: Hulle het 'n sinvolle lewensdoel, die eer van God; 'n vreugdevolle lewensreël, die wet van God; 'n onfeilbare Vriend in lewe en dood, die Seun van God; 'n wonderlike troos in beproewing, die wete dat God besig is om Christus se beeld in hulle te vorm; 'n onwankelbare sekuriteit, God se beloftes van die ewige lewe.
Kortom, hulle het die lewe wat ware lewe is - tot in alle ewigheid!

[1] Van die gedagtes wat volg is ontleen aan J.I. Packer se boekie, The Plan of God.

[2]
Wuest's Word Studies from the Greek New Testament, Vol 3 (Golden Nuggets, p.32-33).

Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment