Thursday, June 16, 2011

ANTIPAS HEROUT No.47 : DIE UITVERKIESING - Deel 3 van 3 - Uitverkiesing en menslike verantwoordelikheid

Die twee vriende van Jh 6

# C.H. Spurgeon is eenmaal gevra om die twee gedeeltes van Jh 6:37 met mekaar te versoen: "Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom" en "Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie."
Kennelik kon die vraestellers nie God se soewereine inisiatiefneming in die redding van mense, wat in die eerste deel van die sin beklemtoon word, en die verantwoordelikheid van mense om hulle verlossing in Christus te soek, waarop die tweede deel van die vers sinspeel, met mekaar gerym kry nie.
Spurgeon se antwoord was eenvoudig, maar diepsinnig: "Ek verstaan nie julle probleem nie. Dis mos nie nodig om vriende met mekaar te versoen nie."

# Die Here Jesus het baie goed geweet wat Hy sê. Want Hy gaan voort om Sy dubbele en oënskynlik teenstrydige stelling in die volgende drie verse uit te bou.

* In v.38-39 verduidelik Jesus v.37a. Die Vader het voor Sy menswording bepaalde mense aan Hom toevertrou om alles te kom doen wat vir hulle redding nodig sou wees. En hierdie redding sou uiteindelik tot afronding kom in elkeen van dié mense se opstanding in heerlikheid. God se soewereine inisiatiefneming in die redding van sondaars kan beswaarlik duideliker onderstreep word.

* In v.40 lewer Jesus kommentaar op v.37b. Hy gee die versekering dat enigeen, wie ook al, wat in geloofsvertroue sy of haar oë op die Seun vasnael, die ewige lewe sal hê en uiteindelik op die laaste dag sal opstaan.
Reeds in v.37b word hierdie versekering sterk beklemtoon. Die Grieks het 'n dubbele negativering wat mens vry só in Afrikaans kan vertaal: Ek sal hom wat na My toe kom nooit, maar nooit verwerp nie.

* Die Here Jesus wil dit kennelik by Sy luisteraars tuisbring dat ook Hý God se soewereiniteit en die mens se verantwoordelikheid as vriende beskou. Hy doen dit deur v.38-39 en v.40 op twee maniere onlosmaaklik saam te bind.
Eerstens sê Hy in beide gedeeltes dat dit oor die wil van die Vader gaan.
Tweedens beklemtoon Hy in elke stelling dat sowel die Vader se uitverkiesing as die mens se geloofshandeling in die opstanding uit die dood sal uitmond.

# Lees mens die hele hoofstuk, word dit vir die ware gelowige onuitspreeklik kosbaar. Jh 6:35-71 bevat ten minste 5 onmoontlikhede.

* Dis onmoontlik vir diegene wat die Vader aan Sy Seun gegee het, om nié na Hom toe te kom nie (v.37a).

* Dis onmoontlik vir diegene wat opreg kom, om verwerp te word (v.37b).

* Dis onmoontlik om na die Seun toe te kom as die Vader jou nie trek nie (v.44, 65) [1].

* Dis onmoontlik vir diegene wat die Vader aan Sy Seun gegee het - húlle wat deur die Vader getrek is en dus opreg na Christus toe gekom het - om in die graf vergeet te word (v.39, 40, 44, 54).

* Dis onmoontlik dat diegene wat huigelagtig kom, enduit by Christus sal bly (v.60-71).

Hoe op aarde kry mens die kloutjie by die oor?

# Johannes 6, trouens, die hele Bybel, leer dus in die allerduidelikste taal twee waarhede: God is soewerein en die mens is verantwoordelik.

# Mense sukkel om vrede te maak met hierdie oënskynlike teenstrydigheid. Hulle worstel met allerlei vrae. As God dan volkome soewerein is, wat sê dit oor die mens se verantwoordelikheid? Impliseer dit nie fatalisme nie? Hoe kan God mense nog verkwalik as hulle in sonde bly volhard? Maak dit nie gebed en evangelisering onnodig, selfs futiel nie? Wat van al die oproepe, bevele en waarskuwings in die Skrif? Dit lyk of die Bybel homself weerspreek!

# Om intelligent oor bogenoemde vrae te besin, moet mens drie begrippe verreken [2].

* Teenstrydigheid. Daar is sekere mededelings in die Bybel wat op die oog af vir ons na teenstrydighede lyk. Veral sukkel ons met die drie-enigheid van God, die twee nature van Christus, en ons tema - die samehang van God se soewereiniteit en die mens se verantwoordelikheid in die redding van sondaars.
'n Teenstrydigheid is om te sê dat iets in dieselfde sin wáár is, en terselfdertyd ook nié waar is nie (Eng.: contradiction; Latyn: contra, teen + dico, praat). Dis om byvoorbeeld te praat van 'n vierkantige sirkel. Dis absolute onsin. Dit doen die wette van die logika geweld aan.
In die Bybel is daar geen teenstrydighede nie. En om God daarvan te beskuldig, is lasterlik.
Wat God se drie-enigheid, byvoorbeeld, betref, is Hy in een opsig één (in Sy wese), maar in 'n ander opsig drié (Hy is drie persone). Wesensmatig is God enkelvoudig; persoonsmatig is Hy drievoudig (Latyn, "una substantia tres personae".) Wat ons hier moet raaksien, is dat, hoewel dit vir ons onbegryplik is, daar geen logiese teenstrydigheid in die drie-enigheid van God sit nie - want Hy is in verskillende opsigte terselfdertyd een en drie.
As ek sou sê dat een en dieselfde deurgesnyde waatlemoen in sy snit óf sirkelvormig óf ovaalvormig kan wees, is dit geen teenstrydigheid nie. As ek hom op sy langs-as sny, is die snit ovaalvormig; as ek hom dwars op sy langs-as sny, is die snit sirkelvormig. In verskillende opsigte kan hy dus meteen ovaal- én sirkelvormig wees. Maar as ek sou sê dat 'n deurgesnyde waatlemoen in 'n bepaalde snit sowel sirkelvormig as ovaalvormig is, is dit 'n teenstrydige stelling.
God se soewereiniteit en die mens se verantwoordelikheid is nié logies teenstrydig nie - want die mens se verantwoordelikheid lê op 'n mindere vlak as God se soewereiniteit. Laasgenoemde omvat eersgenoemde; eersgenoemde is ondergeskik aan laasgenoemde.

* Paradoks (Grieks, para, om langsaan iets te wees + dokeo, om te skyn, om na iets te lyk). 'n Paradoks lýk dus met die eerste oogopslag na 'n teenstrydigheid - maar dis net skynbaar so. Gegee die nodige begrip, is die aanvanklike raaisel oplosbaar.

* Misterie of geheimenis (Grieks, musterion). Dis 'n verskynsel of 'n waarheid wat té diepsinnig is om self te ontrafel. Dis nie 'n illusie nie, maar 'n realiteit wat jou verstand te bowe gaan.
'n Geheimenis hoef nie 'n misterie te bly nie. As jy jou eerste rekenaar koop, is die werkinge daarvan vir jou 'n geheimenis. Maar gegee die nodige opleiding, is jy gou-gou gekonfyt.
Die Griekse woord, musterion (OAV, verborgenheid; NAV, geheimenis), is 'n baie belangrike tegniese begrip in die Nuwe Testament. Konsekwent dui dit op waarheid wat in Ou Testamentiese tye 'n misterie was, maar wat in Nuwe Testamentiese tye in Christus verduidelik, oftewel geopenbaar is. Rm 16:25-26 bring dit mooi na vore: "God is magtig om julle te laat vasstaan ooreenkomstig die evangelie van Jesus Christus wat ek verkondig, en ooreenkomstig die openbaring van die geheimenis. Eeue lank het dit geheim gebly, maar nou is dit geopenbaar."
Die samehang van God se soewereiniteit en die mens se verantwoordelikheid is nie 'n teenstrydigheid nie. Dis egter wel 'n geheimenis. Ons sou dit nooit self kon uitdink nie. Maar God hét dit aan ons geopenbaar.
Onkundiges dink die uitverkiesing is 'n teenstrydigheid. Maar dis vir hulle net 'n paradoks - totdat die nodige Bybellering die geheimenis vir hulle opklaar.

God werk middellik - Hy gebruik instrumente

# As God verordineer het dat ek moet leef, sê ek nie dis daarom onsinnig om asem te haal nie. As 'n boer glo dat God bepaal het dat hy 'n oes sal inbring, sê hy nie dis onnodig om te ploeg, te saai en te besproei nie.
Hierdie is 'n beginsel wat ons behoorlik moet vasvat. Die Here betrek Sy kinders as medewerkers in die inbring van die uitverkorenes wie se oomblik van redding aangebreek het. Verstommend soos dit mag wees, het die almagtige God besluit om ons stamelende, strompelende en struikelende stukkies gehoorsaamheid te gebruik in die insameling van Sy oes.
Hoe betrek Hy ons? Daar is veral drie maniere.

# Die Here gebruik sy kinders se godvrugtige lewens en goeie werke om 'n appèl op mense te maak. Dis waarom die Here Jesus in Mt 5:16 sê: "Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik."

# Die Here gebruik sy kinders se gebede in die uitwerk van Sy raadsplan in die algemeen, en Sy verlossingsplan in die besonder. Vandaar die belofte in 1Jh 5:14-17: "En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra ... As iemand sy broer sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid en God sal die broer die ewige lewe gee."
Calvyn het gesê:"Gebed is om die skatte op te grawe wat God lank tevore reeds vir ons voorberei het."

# Die Here gebruik by uitnemendheid ook Sy kinders se evangelieverkondiging om Sy uitverkorenes in die kudde van Jesus Christus in te bring. Dis tog presies waarop Paulus in Rm 10 sinspeel as hy skryf: "... hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? ... Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor ..." (13-17). Vergelyk ook: Jh 17:17, 20; 1Kor 1:21; 2Ts 2:14; Jk 1:18; 1Pt 1:23.

# In Hand 18:9-10 lees ons hoe die Here in 'n gesig aan Paulus verskyn om hom te versterk en te bemoedig om voort te gaan met sy moeilike taak in Korinte: "Een nag het die Here in 'n gesig vir Paulus gesê: 'Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie, want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval of jou kwaad aandoen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.'"
As die apostel verneem dat daar tog wel baie uitverkorenes in die stad is wat nog tot bekering moet en sal kom, vra hy nie hulle name en adresse nie. Dit sou immers baie tyd en moeite spaar as hy hulle een na die ander kon byloop om hulle na Christus toe te lei. Ook pak hy nie sy goed, verlig dat hulle sonder hom tot geloof gaan kom nie.
Nee, nee! Hy gaan met nuwe ywer voort om te preek. Want hy verstaan dat sy verkondiging - soos ook sy lewe en sy gebede - ingeweef is in die uitwerk van God se raads- en verlossingsplan. Hy bly uiteindelik agtien maande daar, met 'n gemeente tot gevolg.

# Niks is 'n groter aansporing tot evangelistiese ywer as die wete dat bekering-sukses uiteindelik 'n noodwendigheid is nie. En die waarheid van uitverkiesing alleen bring hierdie versekering.
J.I. Packer stel dit so: "So far from making evangelism pointless, the sovereignty of God in grace is the one thing that prevents evangelism from being pointless.... Were it not for the sovereign grace of God, evangelism would be the most futile and useless enterprise that the world has ever seen ..."
Sonder God se uitverkiesing en almagtige genade sou ons prediking en evangelisering tevergeefs gewees het - net so futiel soos om in 'n lykshuis vir 'n lyk te skreeu, "Staan op en leef!"

As dit nie vir God se soewereine en uitverkiesende genade was nie, sou niemand ooit tot bekering gekom het nie. Maar omdat Hy wel ontelbaar baie uitverkies het, sál bekerings aan die orde van die dag wees totdat die Here Jesus terugkom. En as ek volhardend en getrou die suiwer evangelie verkondig, sal ook ek die vreugde van evangeliseringsvrug smaak.

Mens kan aan enige kant van 'n perd afval

# Dit is kardinaal belangrik om die fyn en sensitiewe balans tussen God se soewereiniteit en die mens se verantwoordelik in die reddingsproses vas te hou. Mislukking wat dit betref, na enige kant toe, lei tot teologiese en praktiese skeeftrekking - met allerlei ellendes tot gevolg.

# Aan die een kant dwaal diegene wat 'n eensydige klem op die mens se verantwoordelikheid plaas. Daar is derduisende onkundige en mensgesentreerde Christene wat voet by stuk hou dat die finale inisiatief vir sy redding al dan nie, by die mens berus. Ja, ja, sê hulle, natuurlik is God by magte om enigeen teen sy wil die saligheid binne te sleep. Maar dít sal Hy nooit doen nie. Hy het gekies om Hom by die mens se wil en besluitneming te berus. Só staan Hy daarby dat "Hy vir jou niks kan doen as jy Hom nie kies en toelaat nie."
Daar is niks wat God nié kan doen nie! En nog nooit het die Here geabdikeer nie. Les bes is dit allermins wat die Skrif leer - soos ons by herhaling in hierdie, asook die vorige twee Heroute gesien het.
Soos dit met alle skeeftrekkings van Bybelse waarheid gaan, lewer ook hierdie dwaling sy kwota bitter en Godonterende vrug op.

# Aan die ander kant dwaal diegene wat die mens se verantwoordelikheid verwaarloos en 'n eensydige klem op God se soewereiniteit laat val. Ons praat hier van die dodelike siekte van Hiper-Calvinisme [3].
Baie het deur die geskiedenis in hierdie fatale slaggat getrap. Hulle redeneer só: As God dan sekeres uitverkies, en die ander in hulle sonde los - en die Skrif leer dit onmiskenbaar - hoe kan ons die evangelie as 'n oop uitnodiging aan álle mense rig, terwyl ons weet dat talle van hulle nie uitverkies is nie? Dit kan tog nie in integriteit gebeur nie! Hoe kan ons mense wat nie uitverkies is nie, sonder meer verseker dat die water van die lewe verniet is, en daar is vir enigeen om te drink (Op 22:17)?
Die gevolg is dat diegene wat so redeneer spoedig geïnhibeer word om die evangelie aan alle mense, voor die voet, te verkondig. En veral sal hulle nie 'n oop evangelie-uitnodiging rig nie - in elk geval nie voordat hulle seker is dat die Gees in betrokke mense aan 't werk is nie. Hulle redeneer voorts só: Aangesien reddende geloof 'n gawe van God is, kan dit mos nie as 'n plig aan sondaars voorgehou word nie. Mense moet eenvoudig wag totdat hulle die gawe ontvang. Uiters kan evangeliserende prediking ontdekkend wees - sodat diegene in wie die Here werk, dit kan herken. Aan hulle kan die uitnodiging dan gerig word. Anders preek jy pligpleging - duty-faith.
So 'n benadering maak die kerk dood. Dit versmoor evangelisering. En dit veroorsaak tragiese pastorale ellendes. Mense sit jarelank in die kerk sonder geloofsekerheid. Hulle wag vir iets om met hulle te gebeur. En gevolglik raak hulle sieklik introspektief. Die probleem is dat mens nie gedurig na binne kan kyk, sonder om oorweldig te raak deur die feit van jou eie verdorwenheid nie. Dit vererger natuurlik net die probleem. Sulke mense sit dan jarelank getrou in die kerk, in die hoop dat die wederbarende evangelie tog ook een dag húlle harte sal deurboor.
Hiper-calvinisme is dus 'n passiewe stuk fatalisme; 'n stuk dwase en onbybelse miskenning van menslike verantwoordelikheid.
Kerke wat prooi word van hierdie dwaling, kwyn en sterf mettertyd - soos die laaste "begenadigdes" heengaan [4].

* Wat is die antwoord op bg. probleem? Mense moet na die balanse van die Skrif terugkeer en hul verantwoordelikheid in terme van God se Woord opneem en nakom! As hulle dan nie geloofsekerheid het nie, moet hulle eenvoudig die water van die lewe in die geloof begin drink. Dis vrylik beskikbaar en dis verniet!

* Daar is 4 redes waarom ons ten alle koste aan 'n oop evangelie-aanbod moet vashou, waarom ons sondaars daarvan kan verseker dat God se heilsuitnodiging en genade-aanbod eerlik en opreg is, en waarom ons skuldig staan as ons nie die evangelie aan alle mense verkondig nie.
Eerstens, die Skrif leer duidelik die verantwoordelikheid en aanspreeklikheid van elke mens voor God - ook wat bekering betref.
Tweedens, die Skrif rig talle oop uitnodigings aan sondaars - en beveel die kerk om voort te gaan daarmee.
Derdens, die reg tot geloofsbeoefening, geloofsbelydenis en geloofsekerheid is gesetel in die verbondsbeloftes van God - en nie in my belewinge daarvan nie.
Vierdens, die Bybel leer God se opregte liefde vir sondaars, asook Sy behae daarin dat hulle na Hom toe sal kom vir redding (vgl. Eseg 18:23; 30-32, OAV).

Dubbele uitverkiesing?

# As daar dan so iets soos uitverkiesing is, en as dit nie alle mense insluit nie, kan ons eenvoudig nie die implikasie ontkom dat voorverordinering of predestinasie twee kante het nie (vgl. Rm 9:22; 1Pt 2:8). Ons durf nie net van Jakob praat nie; wat van Esau?
Daarbenewens moet ons nadere aandag gee aan die hele kwessie van verharding - soos in die geval van Farao (Rm 9:17-18).

# Daar is verskillende beskouinge oor die dubbele karakter van predestinasie. Sommige wil dit simmetries benader, en sien dit dan só: net soos God in die lewens van sommige ingryp en geloof in hulle skep, so skep Hy ongeloof in die harte van die verworpelinge. Hierdie dwaling is nie net afstootlik nie, dis ook lasterlik, aangesien dit God die outeur van die verloregaandes se sonde maak.
Hierdie is nié die Bybelse standpunt nie!

# Dit is kardinaal belangrik om te verstaan dat sommige van God se raadsbesluite positief of aktief is, en andere weer negatief of passief.
Wat die uitverkiesing betref, werk God aktief in die uitverkorenes, sodat hulle kan sien en glo en kies en gehoorsaam.
Wat die verloregaandes betref, het God besluit om passief by hulle verby te gaan, en hulle in hul sonde te los. Hy skep dus nie ongeloof in hulle harte nie - dis reeds daar. Sedert die sondeval is die natuurlike mens immers radikaal verdorwe en in Adam verlore (Rm 5:12-21) (vgl. AH 45 en 46). God dwing mense nie om te sondig nie, hulle besluit self om te sondig - na hartelus.

# Hoe moet ons nou die Bybelse uitsprake verstaan dat God onder meer vir Farao verhard het? (Eks 4:21; 7:3; 9:12,16; 10:1-2; 11:9-10; 14:4; 1Sam 6:6).
Hoe het God sy hart verhard? Daar is net 2 maniere waarop Hy dit kon doen: aktief of passief.

* In eg. geval sou dit daarop neerkom dat God doelbewus in Farao se hart gewerk het om 'n verdere boosheid daar te skep. Sekerlik sou God op hierdie manier Sy doel bereik het, maar dit sou Hom meteen die outeur van Farao se sonde gemaak het.

* Passiewe verharding is radikaal anders. Al wat nodig is vir die verharding van 'n sondaar se hart, is om hom aan sy eie sondegeneigdheid oor te laat. Hierdie oordeelshandeling van God kom weer en weer in die Skrif voor.
Om dit te verstaan, moet ons die konsep van God se algemene genade in gedagte hou. Dit is Sy liefdesguns oor alle mense, wat op talle maniere tot uitdrukking kom. So laat Hy byvoorbeeld reën oor regverdig en onregverdig. Hy sorg vir almal en gee ook aan ongelowiges verhewe gawes. Nog 'n kardinaal belangrike aspek van algemene genade is God se weerhouding van hierdie gevalle wêreld om in die volle diepte van sy eie verdorwenheid in te sink. Wat ons nou moet raaksien, is dat dit ál is wat mense daarvan weerhou om net so sleg en boos soos demone te word. Tot die mate dus wat God 'n man of vrou, of selfs 'n samelewing, se leisels laat skiet, tot daardie mate sal so 'n persoon of groep versleg. Om nog 'n spreekwoord te gebruik: elkeen wat genoeg tou kry, sal homself ophang - op aandrang van sy eie verdorwe hart. Wee hom wat aan homself oorgelaat word!
God het dus Farao se wil geen geweld aangedoen nie. Hy het hom bloot meer vryheid gegee. En vir sy optrede was die Egiptenaar volledig self verantwoordelik - God was nie aandadig aan sy sonde nie.

* God gee dus genade aan Sy uitverkorenes deur aan hulle nuwe harte te gee, met alles wat daaruit voortvloei. Daarenteen gee Hy reg en geregtigheid aan die res deur hulle in hulle eie sonde te los. Eersgenoemde groep ontvang Sy liefdesguns, die ander sy reg. Niemand is die prooi van onreg nie, niemand kan God van ongeregtigheid beskuldig nie.

Die effekte van 'n God-gesentreerde teologie in mense se lewens

# Hierdie effekte is nie akademies en denkbeeldig nie; dis ingrypend en lewensveranderend. Die gelowige wat die waarhede van God se soewereiniteit en uitverkiesende genade omhels en hom voorneem om die implikasies daarvan uit te leef, sal nooit weer dieselfde wees nie. Die gemeente waarvan dit waar is, verander totaal en wonderlik ten goede [5].

# Dit bring 'n diep dankbaarheid en blydskap in die Here. Anders as wat baie meen, gaan diep emosies met hierdie waarhede gepaard. Maar dis nie emosies sondermeer nie; dis veranker in die waarheid en het gevolglik inhoud. Baie, as hulle aan Fil 4:4 dink, dink bloot aan blydskap sonder meer - maar dis blydskap "in die Here".

# Dit bring 'n diep nederigheid voor die Here. Paulus se woorde in 1Kor 4:7 is 'n deurleefde werklikheid: "Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?"

# Dit bring 'n diep geloofsekerheid en vrymoedigheid voor die Here. Dis gewortel in verse soos Lk 12:32: "Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee." As in gebed tot die genadetroon gegaan word, leef Jh 10:27-30, Rm 8:28-39 en talle ander beloftes diep in die hart.

# Dit bring 'n lewenstabiliteit, 'n innerlike gevestigdheid, en 'n oortuigingsvastigheid wat kosbaarder is as al die goud in die wêreld. Mense in wie se harte hierdie waarhede leef, verstaan die wêreld om hulle en kan een en elkeen vierkantig in die oë kyk. Hulle weet wat hulle glo, hulle is veranker, hulle word nie sommer omgestoot nie, hulle word nie deur elke golf van lering geskud nie - en hulle maak uitstekende martelare!

# Dit bring 'n besondere gespierdheid in die stryd teen sonde. 1Kor 6:17-20 is 'n toenemende realiteit: "Maar wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom ... Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik."

# Dit bied kosbare troos tydens beproewinge. Rm 8:28, Hb 12:4-12; 13:5b en talle ander Skrifgedeeltes stut 'n Godgesentreerde gelowige steeds onwankelbaar nadat alle menslike hulpmiddels daarmee heen is. Sal die Almagtige, wat Sy lewe vir my neergelê het, my nou laat los? 1Kor 10:13 staan immers swart op wit geskryf: "Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan."

# Dit bring ywer, koersvastheid, vasberadenheid en volharding in dienswerk mee. 1 Kor 15:58 word 'n werklikheid: "Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie."

# Dit alles bewerkstellig 'n waardigheid, 'n nugterheid, 'n volwassenheid, 'n betroubaarheid en 'n stabiliteit wat respek in die samelewing afdwing, en sodoende die Here se naam verheerlik, Sy evangelie versier, en agting vir Sy gemeente vestig.


[1] Wat beteken "trek"? Dis 'n baie sterker begrip as lok. Dit beteken om 'n voorwerp van punt A na punt B te verskuif. Daarom word dit dikwels met "sleep" vertaal (vgl. Jh 12:32; 18:10; 21:6,11; Hd 16:19; 21:30; Jk 2:6. Dis ál die plekke waar dit in die Nuwe Testament voorkom).

[2] Soos die begrippe hier gedefinieer word, mag dit verskil van hedendaagse woordeboeke. Dis omdat woordeboeke begrippe omskryf volgens omgangstaal. Hier word dit egter in die klassieke en tegniese sin gebruik.

[3] Nie te verwar met gesonde en Bybelse "Calvinisme" nie.

[4] Onlangs het 'n goed-ingeligte Britse vriend my meegedeel dat talle sulke hiper-calvinistiese gemeentetjies in Engeland minder as 10 lidmate oor het.

[5] Ek kan persoonlik hiervan getuig. En die gemeente waarvan ek deel is, sê male sonder tal vir mekaar dat hulle die Here ewig dankbaar is dat Hy hierdie waarhede op die tafels van hulle harte geskryf het.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment