Thursday, June 16, 2011

ANTIPAS HEROUT No.46 : DIE UITVERKIESING - Deel 2 van 3 - Uitverkiesing en die mens se wil

HOEVEEL MAAL HOOR 'N MENS NIE ALLERLEI MURMURERINGE TEEN DIE BYBELSE LEER OOR DIE UITVERKIESING NIE. Daar is beswaarlik 'n aspek van die historiese Christelike geloof wat tot meer aanstoot vir ongelowiges is. Selfs talle wat hulleself sonder skroom Bybelse Christene noem, doen alles in hulle vermoë om God se soewereiniteit in sondaars se redding te onderbeklemtoon. Solank die mens net in beheer bly van sy eie heil, glo hulle, sal God se eer nie geweld aangedoen word nie.
"Die mens het tog 'n wil", sê hulle, "en die Bybel hou volledig rekening daarmee. Maar die uitverkiesingsleer maak van die mens 'n willose outomaat. Afgesien daarvan dat dit nie naastenby ooreenstem met ons ervaring en waarneming nie, onteer dit God se Naam op 'n skreiende manier!"
As die uitverkiesing inderdaad 'n Bybelse openbaring is - soos in die vorige Herout aangevoer is - is hierdie 'n ernstige aanklag waaraan ons deeglike aandag moet gee. Wat maak ons dan van die mens se wil?

Die gevalle mens se onvermoë om sy lot te verander

# Die waarheid van menslike onvermoë word oor en oor deur die Bybel geleer. So min as wat 'n mens homself aan sy eie skoenveters kan optel, so min kan hy sy eie hart verander of strydig daarmee besluit of optree. Jer 13:23 stel dit so: "Kan 'n Kussiet (Etiopiër) sy vel verander of 'n luiperd sy vlekke? Sou julle kon doen wat goed is, julle wat so gewoond is aan die kwaad?"

# 'n Uitspraak van die Jesus in Mt 12:33-37 is baie insiggewend:
"As julle sê 'n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is goed; en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. 'n Boom word tog aan sy vrugte geken. Julle slange! Hoe kan julle wat sleg is, iets goeds sê? Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart; die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart. Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word." (Vergelyk ook Mt 7:16-20 en Lk 6:43-45).

* Woorde en dade is die vrug van 'n persoon se natuur. Dit openbaar sy ware aard - wie hy werklik in sy hart is. Soos goeie bome goeie vrugte dra, so sal 'n goeie hart goeie woorde voortbring. En omgekeerd, in die geval van die slegte.
Let op hoe sowel "goeie" as "slegte" drie maal in Mt 12:35 herhaal word.

* Soos 'n slegte boom nie goeie vrugte kan dra nie, so kán 'n slegte hart nie die goeie voortbring nie (Mt 7:18; 12:34). Maar let op, hierdie onvermoë, hierdie gebondenheid, is te wyte aan 'n mens se eie hart. So 'n persoon word dus gebind deur wat hy self is en wil hê; hy is onder geen eksterne dwang nie.

Slegte mense is totaal vry om te doen wat hulle wil - maar nie om te doen wat hulle móét nie, naamlik God se wil.

* Omdat die mens se keuses in sy eie hart ontspring, word sy verantwoordelikheid voor God nie in die minste opgehef nie. Omdat my woorde 'n weerspieëling is van my hartsgesteldheid, sal 'n beoordeling van my woorde meteen 'n beoordeling van my hart, en dus my ware natuur wees (Mt 12:36-37).

* In Mt 12:35 gebruik die Here Jesus 'n ander beeld om dieselfde waarheid tuis te bring. Iemand wat sy hand in 'n skatkis insteek, kan net daaruit haal wat reeds daarin is - of dit nou goud en of dit gruis is, maak nie saak nie. Net so kom goeie werke uit goeie harte voort, en slegtes uit slegte harte.

# Ook Jh 6:44,45,65 is hoogs betekenisvol:
"Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. By een van die profete staan daar geskrywe: 'En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.' Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe."
"Verder het Hy gesê: 'Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie."
Jesus praat hier van 'n koms na Hom toe. Dis die handeling van daardie geloof wat redding bring - 'n redding waarvan opstanding uit die dood die vervolmaking is (37-40). Bogemelde verse praat dus sonder twyfel van reddende geloof.

* Om in Jesus Christus te glo, is nie net God se heel eerste opdrag aan elke sondaar nie; dit is ook die sleutel tot gehoorsaamheid aan alle ander opdragte van God. Maar selfs hierdie eerste opdrag is onmoontlik vir die mens. "Kan" in sowel v.44 as v.65 dui op vermoë, nie op toestemming nie.

* Net een ding kan die mens in staat stel om te gehoorsaam, om te glo, om gered te word: die Vader moet hom trek, die Vader moet dit vir hom gee.
Wat beteken "trek"? Dis 'n baie sterker begrip as lok. Dit beteken om 'n voorwerp van punt A na punt B te verskuif. Daarom word dit dikwels met "sleep" vertaal (vgl. ook Jh 12:32; 18:10; 21:6,11; Hd 16:19; 21:30; Jk 2:6. Dis al die plekke waar dit in die NT voorkom).
En let op dat dit sonder uitsondering geld. "Niemand" kom sonder die Vader se ingrype nie.

# Waarin lê die natuurlike mens se onvermoë?

* Negatief: waarin lê dit nié?
Dit lê nie in die mens se natuur soos hy oorspronklik geskape is nie. Voor die sondeval was hy volledig in staat om God te behaag. As dit nie so was nie, sou dit beteken het dat God se skepping gebrekkig was en dat Hy inderdaad die outeur van sonde was.
Dit lê nie in sy geskapenheid as sodanig nie. Dit gaan dus nie om iets soos 'n fisieke onvermoë nie.
Dit lê nie in verlies aan die vermoë om keuses uit te oefen nie. Dít doen hy immers 'n duisend keer elke dag. Van vanmôre af as hy moet besluit watter skoen om eerste aan te trek, tot vanaand toe as hy moet besluit wanneer hy gaan slaap.
Dit lê nie in 'n onvermoë tot natuurlike en maatskaplike deug nie. Daarvan sien mens tog baie. Van die mooiste, ordentlikste en vriendelikste mense wat jy ken, is dikwels nie Christene nie.

* Positief: waarin kom dit wel tot uitdrukking? Wat is hierdie onvermoë? Dit is 'n onvermoë om die dinge wat God behaag en vereis te onderskei, lief te hê, te kies en te doen. Só diepliggend en bepalend is hierdie ellendige toestand dat die Skrif die gevalle mens as geestelik dood beskryf (Ef 2:1).
Die gevalle mens het nie insig in die dinge van die Here nie - hy is geestelik blind (Mt 11:25-27; Jh 3:3,5; Rm 1:21-22; 1Kor 2:14; 2Kor 4:3,4,6).
Die gevalle mens het geen liefde vir die Here en Sy dinge nie. Hy is vyandiggesind teen God (Rm 8:7-8), sonder enige ywer vir Sy eer. Aan selfbevrediging, selfhandhawing en selfverheffing is hy egter verknog (1Jh 2:16).
Die gevalle mens is nie in staat om die Here en Sy wil te kies nie (Mt 23:37).
Die gevalle mens is vanweë sy sondige natuur ook nie in staat om gehoorsaam aan die Here te leef nie.

* Al vier bogenoemde onvermoëns van die gevalle mens word deur God se genade in Christus en deur die werk van die Heilige Gees aangespreek (Fl 2:13).

* Meeste evangeliese Christene het geen probleme om drie van bogenoemde te verstaan nie, maar baie sukkel met die derde - die mens se wil en keuses. Hierna moet ons nou vinnig kyk.

Die vryheid en gebondenheid van die wil

# Baie dik en ingewikkelde boeke is al oor hierdie fassinerende onderwerp geskryf. Miskien is die bekendste, Luther se Die Gebondenheid van die Wil, asook Jonathan Edwards se werke.
Om enigsins te verstaan, moet mens twee waarhede behoorlik onder die knie hê.

# Die mens, ook die gevalle mens, is vry om te besluit en te doen net wat hy wil. Hy het dus natuurlike vryheid; hy is 'n vrye agent.

* Dit bring mee dat elke mens aanspreeklik is vir sy keuses en dade. Vryheid bring immers verantwoordelikheid mee. Dit geld in die algemeen, maar vir ons doel is dit belangrik om te beklemtoon dat dit die basis is van elke mens se toerekeningsvatbaarheid voor God.

* As mens sondig, is sulke aanspreeklikheid uiteraard iets wat jy baie graag wil ontken en ontkom. Die Bybel laat jou egter nie so maklik wegkom nie.
As jy onkunde pleit, toon die Skrif dat God Homself aan alle mense openbaar - ten minste sodanig dat elkeen toerekeningsvatbaar is. In die skepping betoon Hy Homself as die Almagtige (Rm 1:19-20; Hd 14:15). En in Sy algemene genade betoon Hy Homself as die Algoeie Versorger (Hd 14:17; Mt 5:45; Lk 6:35). En om wegkomkans heeltemal uit te skakel, onderstreep die Bybel ook nog, aan die hand van die universele verskynsel van die gewete, dat die eise van God se morele wet in die harte van alle mense geskryf is (Rm 2:14-15).
Die ander tipiese manier om skuld te probeer ontduik, is natuurlik om die blaam op iets of iemand anders te plaas. Maar as ek aanvoer dat ek verlei is, antwoord die Bybel met Jk 1:13-15: "Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: 'Ek word deur God versoek' nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood."
Ons teenskuif is dan soos klokslag: maar ek het dit teen my wil gedoen. Daarmee kom niemand egter weg nie. Want eintlik doen niemand ooit iets teen sy wil nie; inteendeel, elke mens doen altyd wat hy wil, en nét wat hy wil.
Nooit is 'n mens se dade los te maak van sy wil nie. Sy dade is dus nie outonoom, onafhanklik of selfstandig nie. Nee, dit vloei voort uit sy wil en besluite. Hy mag iets doen wat hy haat, maar as hy dit doen, is dit omdat hy dit gewil en gekies het. Mens doen slegs wat jy wil. Twee illustrasies behoort dit duidelik te maak.
'n Rower spring in jou bakkie en druk 'n rewolwer teen jou borskas. Jy kan die banksak met loongeld nie vinnig genoeg in sy hande druk nie. Was dit nie teen jou wil nie? Nee, jy het volledig volgens jou wil en besluit opgetree - jy wóú lewe!
'n Bord vol afval word voor jou neergesit. Jy kan afval nie verdra nie. Tog eet jy dit - teen jou wil? Nee, jy wil jou gasheer nie aanstoot gee nie. Was dit egter dodelike sampioene, sou niks jou sover kon kry om dit te eet nie. Waarom nie? Omdat jy dit nie wil eet nie. Waarom nie? Omdat jy wil lewe! Daar is natuurlik wél 'n manier om die sampioene in jou liggaam te kry: dit word in jou keel afgedruk terwyl jy vasgedruk word. Maar dan is dit uiteraard nie jý wat dit eet nie. Waarom nie? Omdat jy nie wil nie! [1].

* "My voete loop na Wellington, maar ek wil Worcester toe", mag vir 'n liedjie deug, maar eintlik, in absolute terme, is dit 'n onsinnige stelling.

# Die mens, ook die wedergebore mens, se wil is nie vry nie; dis gebonde aan en deur sy eie hart.

* Dis 'n algemene persepsie dat die wil vry is - dat dit volledig outonoom, selfstandig, onafhanklik is. Dis nie waar nie.
Sonder uitsondering word die wil beheer en voorgeskryf deur iets meer diepliggend in die mens - deur die kompleks van begeertes, motiewe, natuurlike geneigdhede en oortuiginge wat die Bybel "die hart" van die mens noem.

* 'n Wil wat onafhanklik van die hart funksioneer sou 'n monster wees. In 'n restaurant sou dit vir jou kos kon bestel wat jy gladnie kan hanteer nie. Dit sou vir jou vriende kon kies wat jy verag. 'n Wil wat strydig met jou diepste begeertes, motiewe, geneigdhede en oortuigings kon besluit, sou jou psigiatries sertifiseerbaar maak.

* Na aanleiding van Mt 12:35 kan dus gesê word dat die wil bloot die arm is wat in die kis van die hart inreik - en dit wat daarin is te voorskyn bring. Net soos die arm geensins die vermoë het om die inhoud van die kis te bepaal nie, net so min kan die wil die inhoud van die hart bepaal. Al wat dit kan doen, is om die hart se inhoud te openbaar - en dit doen dit inderdaad onfeilbaar getrou.
Omdat mense verskillende harte met verskillende inhoude het, neem hulle verskillende besluite.

# Opsommerderwys:

* Daar is 'n onlosmaaklike band tussen die mens se hart en sy wil. Sy wil is gebonde aan en deur sy hart. Wat hy in sy hart is, sal hy wil en kies en wees - onontkombaar, sonder uitsondering.

* Daar is 'n onlosmaaklike band tussen die mens se wil en sy dade. Nie alleen kán hy kies, en dus doen of nalaat net wat hy wil nie - hy sál altyd, onontkombaar, presies kies en dus doen of nalaat wat hy wil. Presies dit maak hom toerekeningsvatbaar.

* Gevolglik is sy dade 'n onfeilbare barometer van wat in sy hart aangaan. Presies dit is die waarheid waarmee die Bybel so sterk werk - en illustreer met die beeld van die boom en sy vrug.

* Hier lê die gevalle mens se verskriklike dilemma: Sy hart is verdorwe. Hy kán dus nie anders as om sonde te kies nie en gevolglik in sonde te leef nie; hy is verslaaf daaraan (Rom 6:20; Ef 2:1-3).

* Omdat geen mens in staat is om sy eie hart, sy diepste aard te verander nie, is geen sondegevalle mens self in staat om God se wil te wil nie - of om God se Seun te kies nie. Sélf kan hy nooit sy lot onder God se toorn verander nie [2].

Presies hier, net hier, lê die gevalle mens se nood aan genade - verkiesende, soekende, roepende, herskeppende genade!
Nét hier lê die noodsaak van uitverkiesing tot redding, van die wedergeboorte tot 'n nuwe hart, van die vrymaking van my wil - "om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae" (Fl 2:12-13, OAV).


[1] Sou iets met iemand gebeur wat strydig is met sy wil, omdat hy 'n slagoffer is van kragte wat groter is as hyself, is hy uiteraard nie aanspreeklik nie.

[2] Die omgekeerde waarheid geld natuurlik ook: 'n Wedergebore mens se lewe móét deur geregtigheid gekenmerk word; hy kán nie in sonde volhard nie (1Joh 2:29; 3:9, OAV). 'n Nuwe lewensbeginsel, 'God se saad', is in hom ingeplant. Hy het 'n nuwe hart ontvang - met God se wet daarop gegraveer (Jer 31:33; Eseg 36:26).
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment